SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 issue2An (auto)biographical theologia habitus - futures perspectives for the workplace author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 n.2 Bloemfontein  2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i2.1 

ARTICLES

 

Kerklike gesag herbesoek: met verwysing na die kerklike proses om 'n belydenis of belydenisgrondslag te wysig

 

Church authority revisited: with reference to the process to change a church's confession or confessional base

 

 

Dr. A. Celliers

Departement Ekklesiologie, Universiteit van die Vrystaat. bertus9@mymtnmail.co.za

 

 


Trefwoorde:: Burgerlike hof, Burgerlike hof, Christokrasie, Kerklike gesag


ABSTRACT

This article will show that the Christocratical understanding of church authority means that each of the official governing bodies of the church can make its own decisions based on the norm of the Word of God. This implies that the congregation or individual members of the congregation only have an advisory role in important church matters. This also means that synod and the General Synod cannot be held captive by lesser governing bodies. In any process in the Dutch Reformed Church to change Article 1 of their Church Order to include another Confession, for example the Belhar Confession, in their confessional base, this viewpoint on church authority should have an impact on the way in which church-governing bodies come to decisions on matters at hand. The civil court can revise decisions of church-governing bodies. Therefore, the church must confirm the correct formulation of relevant articles in the church order in order to ensure the Christological understanding of Church authority.

Keywords:: Civil court, Church governing bodies, Christocracy, Church authority


 

 

1. INLEIDING

Kerklike ordening is dinamies. Nuwe situasies ontlok onwillekeurig nuwe vrae, en dit stel nuwe eise aan 'n werkende kerkorde en die kerkregwetenskap wat aan die grondslag daarvan lê. Een so 'n nuwe situasie is die besluit van die Algemene Sinode (AS) van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in 2011 om die proses te begin om die Belydenis van Belhar in haar belydenisgrondslag op te neem (NG Kerk AS 2011:105). Die proses word gereël deur Kerkordeartikel 44.1 wat bepaal:

Die wysiging van die Belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik met 'n tweederdemeerderheid én twee derdes van alle kerkrade elk met 'n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het1 (NG Kerkorde Vrystaat 2013:22).

In 2013 is 'n reglement (Reglement 24) goedgekeur wat die proses wat kerkrade moet volg, reël (NG Kerk AS 2013:26). Met hierdie reglement het die gemeente meteens ook 'n bepaalde seggenskap verkry:

Die kerkraad lê sy aanbeveling oor die voorstel van die Algemene Sinode oor die wysiging van belydenis éérs aan die gemeente voor vir die instemming van die belydende lidmate. Nadat die instemming van twee derdes van die lidmate verkry is, finaliseer die kerkraad sy besluit met 'n tweederdemeerderheid, waarna die finale besluit wéér op twee agtereenvolgende Sondae aan die gemeente vir approbasie voorgelê word (NG Kerkorde Vrystaat 2013:112).

In die uitvoering van die proses blyk sekere vrae te ontwikkel wat soek om dringende antwoorde. Wat is die kerkraad se posisie indien die gemeente nie instem met sy aanvanklike aanbeveling oor die verandering van die belydenis nie? Mag die kerkraad by sy aanvanklike aanbeveling bly? Indien die kerkraad dit wel doen, wat is die gemeente se reg in die verband? Wat is 'n sinode se posisie indien tweedederdes (of meer) van die kerkrade in sy gebied 'n bepaalde standpunt oor die verandering in die belydenis huldig? Mag die sinode anders besluit?

Wat die eerste drie vrae betref wil dit uit 'n skrywe van die Moderamen van die Algemene Sinode (ASM) aan die voorsitters en skribas van die moderamens van die tien sinodes, gedateer 4 Junie 2014 blyk dat kerkrade volgens die ASM geen keuse het as om die gemeente se keuse te volg nie. In punt 4.2.2 van die brief staan uitdruklik as deel van die verloop van die proses om die voorstel van die AS oor die wysiging van Artikel 1 van die Kerkorde,

Kerkrade is verplig om die voorstel aan die lidmate van die gemeente vir hulle instemming voor te lê en hulle finale kerkraadsbesluit in ooreenstemming met die uitslag daarvan te neem (NG Kerk Vrystaat 2014:16).

Indien hierdie standpunt kerkordelik korrek is, is die antwoord op die eerste drie vrae vanselfsprekend.

Op 'n meer prinsipiële vlak kom die vraag egter na vore of met die stand-punt wat in hierdie sin verwoord word, saamgelees met Reglement 24, nie aan gemeentes 'n bepaalde kerklike gesag verleen word wat vreemd is aan die Gereformeerde Kerkreg tot op datum nie2. Bring dit nie 'n nuwe dimensie in die NG Kerk se kerklike ordening in nie, wat mettertyd algemeen sal geld vir alle besluite wat die kerkraad (en meerdere vergaderinge) neem en as sulks sal lei tot wesenlike veranderings aan die werkende Kerkorde? Is dit nie dalk 'n ernstige skeeftrekking van Gereformeerde kerkregtelike beginsels wat liewer vroeër as later reggestel behoort te word nie?

Om die saak ingewikkelder te maak, is die verandering van belydenis-grondslag al in minstens twee hofsake betrek by die kwessie van kerkverband. Soos algemeen bekend het die burgerlike hof reeds meermale beslis dat 'n kerk of 'n gemeente alleen opgehef kan word as al sy lede toestemming daartoe verleen (Van der Watt 1980:180; vgl. Vivier 1998:34evv en Musi 2006:468evv). In sulke hofsake het dit baie keer gegaan oor die verandering van kerkverband waar die eiendomme en ander bates van gemeentes ter sprake is. Regter Musi het in so 'n saak tussen Die Koppies gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika teen Die Koppiesgemeente van die Verenigde Kerk in Suider-Afrika 2006 ook die verandering van die belydenisgrondslag in sy uitspraak aangeraak (Musi 2006:467). Weliswaar was dit binne die konteks waar 'n kerkraad met sy besluit om van kerkverband te verander, ook die belydenisgrondslag van die gemeente verander en so sy bevoegdheid oorskry het (vgl. Kleynhans 2009:201ev). Indien dit saamgelees word met wat Regter Vivier in die saak tussen die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika (OVS) en ander teen die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 1998, 'n saak waarna Regter Musi meermale verwys in sy uitspraak, oor die belydeniskwessie sê, bring dit sy eie vrae in die prentjie in. Wanneer Regter Vivier (1998:33) sê dat die Algemene Sinode nie jurisdiksie het oor die gemeente se bates of om besluite te neem wat eensydig die gemeente se aard of identiteit te verander of te ontbind nie, kan dit moontlik verband hou met twee stellings vroeër in sy uitspraak. In die eerste stelling sê hy dat kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, nie moontlik is nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by kerkverband is (Vivier 1998:17). In die tweede stelling sê hy dat die belydenis as die grondslag en beleid van die kerk by uitnemendheid, beskryf kan word (Vivier 1998:27). Indien hy dus die identiteit van die gemeente direk verbind aan die belydenisgrondslag wat die gemeente onderskryf, sou 'n verandering daarvan, net soos in die geval van 'n verandering in kerkverband, nie sonder die instemming van die gemeente kan geskied nie. Dit moet in gedagte gehou word dat die burgerlike hof die kerk beskou as 'n vrywillige vereniging en nie skroom om in sake waar sogenaamde burgerlike regte van lidmate ter sprake kom, ook die burgerlike reg in sy beoordeling in te bring nie (Musi 2006:465; vgl. Harmse 1998:2ev). Die vraag is hoe die kerk hierdie standpunte van die burgerlike hof moet verreken in sy eie kerklike ordening? Het ons nie hier te doen met onversoenbare uitgangspunte wat dit vir die kerk oneindig moeiliker maak om prakties uitvoering te gee aan sy eie standpunt oor kerklike gesag nie soos verwoord in artikel 20 van sy kerkorde (NG Kerkorde Vrystaat 2013:13)?

Alhoewel verskillende standpunte oor kerklike gesag ter sprake sal kom en sommige selfs meer uitvoerig bespreek sal word, is die doel van die artikel nie om die wiel van voor af uit te vind nie. Die onderwerp is sedert die sestiende eeu van tyd tot tyd in Gereformeerde kringe, en meer spesifiek in Suid-Afrika die afgelope vyf dekades of wat, deur verskeie geleerdes, waarvan baie uit NG Kerkgeledere, deeglik genoeg geargumenteer (vgl. die bronnelys van hierdie artikel vir 'n aantal voorbeelde). Bogenoemde vrae, asook die vinnig veranderende wêreldbeskouing van lidmate verseker egter dat die debat nog nie uitgeput is nie (Strauss 1992:196). Hierdie bydrae wil poog om vanuit heersende standpunte binne die NG Kerk aan die voortgaande gesprek deel te neem en so koers te help gee aan 'n kwessie wat hardnekkig weier om tot rus te kom.

In hierdie gesprek het Prof Piet Strauss 'n wesenlike bydrae gelewer, soos die bronnelys getuig. Daarom word hierdie artikel aan hom opgedra uit erkentlikheid vir sy reusebydrae tot die onderwerp spesifiek, en meer algemeen tot Gereformeerde kerkreg en kerkregering in Suidelike Afrika.

 

2. KERKLIKE GESAG AS CHRISTUSGESAG

Die NG Kerk het met die eerste konstituering van die AS in 1962 sy standpunt oor kerklike gesag uitgedruk in Artikels 18-21 van sy Kerkorde (in NG Kerkorde 1986:5ev). Dit is uit verskeie bydraes en kerklike besluite duidelik dat hierdie kerkordeartikels Christokraties gelees moet word. Wat eweneens duidelik is uit die geskiedenis van die NG Kerk die afgelope vyf dekades of wat, is dat daar nie áltyd eenstemmigheid was oor die verstaan hierdie gesag nie. Strauss (2008a:240evv) praat selfs van 'n hedendaagse omstredenheid wat daartoe kan lei dat hoewel die artikels nog formeel bly staan, dit nie altyd in die praktyk eerbiedig of toegepas word nie3. Dat verskille en omstredenheid hieroor, verreikende implikasies kan hê vir hantering van bogenoemde vrae oor enige proses om die Belydenis of Belydenisgrondslag van die kerk te verander, soos byvoorbeeld die onlangse poging om Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk te verander, is nie vergesog nie.

Iets hiervan het duidelik geword in die spanning wat in die NG Kerk ontstaan het na aanleiding van die aanvaarding van Kerk en Samelewing deur die AS van 1986 en die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) wat daaruit voortgespruit het. Dit is veral die gesag van die Algemene Sinode wat onder die loep gekom het. Een van die kernprobleme wat die beswaardes gehad het, was die feit dat die Algemene Sinode besluite geneem het wat gemeentes bind. Die feit dat die Algemene Sinode 'n synodus contracts is waar nie al die gemeentes direk verteenwoordig is nie, was die grootste struikelblok4. In Geloof en Protes (1987:9ev) word dit so geformuleer in 'n hoofstuk wat gaan oor die Kerk en sy Orde:

Ons glo die wesenlike gevaar vir die N.G Kerk lê daarin dat 'n verskraalde meerdere vergadering die beginsel van direkte af-vaardiging deur plaaslike kerke versaak, d.w.s. dat nie alle plaaslike kerke sittingsreg (met reg van weerspreking van voorstelle) geniet nie... Ons glo, in die lig van die voorafgaande, dat besluite van so 'n verskraalde sinode nie bindende gesag mag besit nie, maar slegs adviserend van aard kan wees... Ons glo dat die Algemene Sinode steeds daarteen moet waak dat sy besluite die outonomie van die plaaslike kerk sal aantas of bedreig.5

Dat hierdie siening nie net beperk was tot lidmate wat in dieselfde jaar (1987) die APK gestig het en dus die NG Kerk verlaat het nie blyk uit 'n beskrywingspunt van die Sinode van Namibië aan die Algemene Sinode van 1990 (NG Kerk AS 1990:425). Alhoewel dit uit 'n tweede beskrywingspunt blyk dat dieselfde sinode van mening was dat die AS van 1986 nie sy terrein en gesag oorskry het met besluite oor 'oop lidmaatskap' nie (NG Kerk AS 1990:425), blyk dit uit die eerste beskrywingspunt dat die sinode wel van mening is dat die kerkregtelike posisie van die Algemene Sinode as synodus contracts nie in ooreenstemming is met gereformeerde kerkregtelike beginsels nie.

Die reg van elke plaaslike kerk om met gesag mee te spreek mag hom, soos met die totstandkoming van 'n synodus contracts, nie ontneem word nie (NG Kerk AS 1990:425)6.

Volgens die beskrywingspunt is die sleutelmag immers aan die ouderlinge van die plaaslike kerk gegee met verwysing na Matteus 16:19, 18:18 en Johannes 20:23. Hierdie beskrywingspunt is deur die Algemene Sinode verwys na die Algemene Regskommissie (ARK) met die opdrag om verslag te doen aan die volgende AS (NG Kerk AS 1990:663). In sy verslag hieroor het ARK geoordeel dat die beskrywingspunt van die standpunt uitgaan dat kerklike gesag "per definisie kerkraadsgesag" is wat setel "in die 'ouderlinge van die plaaslike kerk'" (NG Kerk AS 1994:157).

Teenoor hierdie verabsolutering van die gesag van die gemeente, bring die ARK die Christokrasie in die prentjie in.

Volgens die Christokrasie is meerdere vergaderings en dus die Algemene Sinode van die NG Kerk op hulle eie terreine bedienaars van Christus en Christus alleen (NG Kerk AS 1994:157).

Dit gaan dus volgens die ARK "om die gelding van God se wil en sy Woord waaruit Christus se heerskappy as Hoof van die kerk duidelik sal blyk". In dieselfde verslag word ook duidelik gemaak dat die trapsgewyse afvaardiging na meerdere vergaderings wat in die meeste gereformeerde kerke in die wêreld geld, nie hierdie beginsel in gedrang bring nie. Met sy verwerping van die beskrywingspunt, asook die aanvaarding van 'n bykomende voorstel van die vloer af dat die AS sy besluitnemingsbevoegdheid ontleen "aan 'n Christus-gebonde gesag vanuit die Woord van God soos bevestig in Artikel 20 van die Kerkorde" het die AS bevestig dat die ARK die geldende standpunt oor kerklike gesag gehandhaaf het in sy verslag (NG Kerk AS 1994:439). Interessant genoeg het dieselfde AS 'n aanbeveling van die ARK goedgekeur dat "indien die Algemene Sinode vermoed dat sekere besluite of standpunte moontlik tot groot verdeeldheid onder kerklidmate kan lei", dit hom vrystaan "om voor finale besluitneming, die advies van mindere kerkvergaderinge in te win ten einde groter konsensus oor die betrokke sake in die NG Kerkverband as geheel te kry (NG Kerk 1994:439). Die besluit stel dit egter duidelik dat dit in die finale instansie die AS se eie oortuiging in die lig van God se wil is wat die deurslag moet gee. "Dit gaan steeds om die Christokrasie - ook by die mees omstrede kwessies" (NG Kerk AS 1994:439). Die verandering van Artikel 21 van die Kerkorde van die NG Kerk deur die AS 1998 onderstreep hierdie standpunt. Die artikel het aanvanklik gelui: Die vergaderinge behandel alleen kerklike sake en wel op kerklike wyse. Die AS 1998 het dit as volg geherformuleer: "Die kerkvergaderinge behandel sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse" (NG Kerk AS 1998:406). Die byvoeging dat sake in die lig van die Woord van God (my kursivering - AC) behandel word, sluit nou aan by die Christokratiese beskouing van kerklike gesag. Alles wat bespreek en besluit word, moet gestempel word deur die normatiewe en rigtinggewende gesag van die Woord (vgl Strauss 2010:61), of te wel dat die kerk "hom deur die Woord van God sal rig" (NG Kerk Handelinge AS 1998:128). Die Algemene Sinode het hiermee onderstreep dat die Woord, waardeur alle kerklike besluite gekontroleer moet word, die grens vir alle kerklike gesag is (vgl. Jonker 1965:12, 26ev).

Hiermee is AS 1994 en 1998 in lyn met hoe Kerkordeartikel 18-21 verstaan is deur die Kommissie van Aktuarii wat die opdrag gehad het om 'n kerkorde op te stel vir die beoogde Algemene Sinode van die Ned Gerf Kerk in 1962. Die kommissie het doelbewus gekies om nie 'n splinternuwe kerkorde te ontwerp nie, maar die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN), goedgekeur deur die Sinode van Assen in 1957 en amptelik van krag sedert 1 Januarie 1959 (Nauta 1971:37), aan te pas vir die situasie in Suid-Afrika (Strauss 2008b:278). Die duidelike ooreenkoms tussen die GKN en die NG Kerk se Kerkordes wat hierdie artikel betref, maak Nauta (1971:121evv) se kommentaar hieroor relevant vir die NG se eie verstaan van die artikels. Volgens hom beteken hierdie artikel dat anders as by die independentisme of kongregasionalisme, al vier kerkvergaderinge aan wie die regering van en die opsig en tug in die kerk opgedra is, kerklike gesag het wat deur Christus aan hulle verleen is. Die kerkraad, klassis, sinode en generale sinode tree dus almal op met dieselfde gesag, die van Christus. Hy gee 'n interessante voorbeeld wat goed inpas by die vraagstuk waaroor hierdie artikel gaan. Indien die kerkraad met 'n gesag wat deur Christus aan hom verleen is, optree, maar nie die meerdere vergaderings nie, kan jy die absurde situasie kry waar die kerkraad op gesag van Christus besluit om iemand tot die nagmaal toe te laat, maar die sinode wat die geloofsbelydenis vasstel doen dit sonder dieselfde Christusverleende gesag.

Jonker (1960:34), wat die Transvaalse sinodes op bogenoemde Kommissie van Aktuarii verteenwoordig het, begin sy rigtinggewende professorale intreerede by die Universiteit van Suid-Afrika met 'n baie sterk stelling wat sy hele denke oor kerklike gesag stempel:

Dat Jesus Christus die Hoof en Here van sy kerk is en as Koning direk en persoonlik oor Sy kerk regeer, is die grondwaarheid waarvan die kerkreg moet uitgaan (Jonker 1965:3).

Jonker waarsku dat indien hierdie belydenis verwaarloos word of die verhouding tussen Christus en sy kerk nie behoorlik verdiskonteer word nie, dit daartoe lei dat "regering van die kerk op een of ander wyse aan Christus ontneem en in die hande van mense gelê" word (Jonker 1965:4). Christus maak wel in sy regering van die kerk van die diens van mense gebruik, maar op so wyse dat hulle daar is om Sy regering in die kerk te dien (Jonker 1965:7ev). Vir Jonker geld die beginsel dat Christus sy kerk deur Sy Woord en Gees regeer ook onverdun. Hy verwys na die Lutherse belydenisskrifte met die stelling:

Die bediening van die Woord en sakramente is die enigste vorm van regering in die kerk, die inbegrip van alle kerklike mag, die volledige sleutelmag7 (Jonker 1965:8ev).

Alle gesag in die kerk is volgens hom Woordgesag (Jonker 1965:10). Daarom mag die regering van die kerk volgens hom nooit uitgeoefen word op 'n wêreldse manier of in ooreenstemming met aardse gesagsinstellings nie.

Kerkregering is diens aan en van die Woord, is getuienis en verkondiging wat voor 'n beslissing met betrekking tot Christus stel... Juis daarom is dit voortdurend onderworpe aan die kontrole deur Gods Woord (Jonker 1965:12)

of te wel oop te wees vir "die onrus van die Woord" soos hy dit pragtig verwoord (Jonker 1965:18). Hy word meer prakties wanneer hy verduidelik wat dit beteken dat die Woord van God die grens van alle kerkregering is. Dit hou in dat

ampsdraers en kerkvergaderinge onder geen omstandighede die reg of bevoegdheid het om die kerk op hulle eie te regeer en die grens van God se Woord te oorskry nie. Daarom moet die kerkorde

dit duidelik maak dat geen ampsdraer of kerkvergadering die laaste sê in die kerk het nie. Dit kom aan die Woord van God alleen toe (Jonker 1965:26ev).

(Is dit nie juis wat met Artikel 20.1 geïmpliseer word nie?) Jonker verwys ook na die Reformatore se klem in hulle kerkreg op die plaaslike gemeente wat rondom Woord en sakramente vergader is. Sy opmerking dat hierdie klem nie gelê was

vanuit demokratiese motiewe of vanuit die gedagtegang van die latere indiwidualisme wat veral die 'regte' van die indiwiduele lidmaat en dus ook die indiwiduele gemeente teenoor die res van die kerk wil beskerm

nie, gee rigting aan die saak waaroor dit in hierdie artikel gaan (Jonker 1965:14).

Hierdie bydra van Jonker stempel die standpunte van verskeie kerk-regtelikes in Ned Geref geledere. Vir Coertzen (1992:49), emeritusprofessor in kerkreg aan die US en jarelange aktuarius van die Algemene Sinode is die feit van Christus se direkte en persoonlike hoofskap oor sy kerk kerkregtelik gesproke dié fundamentele grens van enige kerkreg en kerkregering8. Die kerk moet hom dus vrymaak van alle ander magte wat hom wil beheer9. Art 20 van die Kerkorde van die NG Kerk verwoord dan ook die hoofskap van Christus eksplisiet (Coertzen 1992:47). Strauss, professor in Ekklesiologie aan die Universiteit van die Vrystaat, vorige moderator van die AS van die NG Kerk en jarelange lid van die ARK (hedendaags Algemene Taakspan Regte) het verskeie bydraes oor die onderwerp die lig laat sien. Hy bly konsekwent by die standpunt dat die gesag van kerkvergaderings Christokraties van aard is (Strauss 1999:45, 2010:52).

Hoewel kernagtig weergegee, plaas Artikel 20.1 van die NGK-KO van 2004 die vraag na die gesag van kerkvergaderings in 'n broodnodige Bybels-Christokratiese perspektief (Strauss 2008a:247).

Volgens die Christokrasie is meerdere vergaderings10 en dus ook die sinode almal op hulle terreine bedienaars van die gesag van Christus en Christus alleen (Strauss 1992:194).

Hy bly ook konsekwent by die standpunt dat Christusgesag, Woord-gesag is (Strauss 2010:52). Kerklike gesag is in sy kern die gesag van die Woord van God wat die legitimering, fundering en begrensing daarvan verskaf (Strauss 2008a:250).

Vir hom is dit belangrik dat kerklike gesag uit hierdie hoek nie neerkom op kerklike mag wat soos staatsgesag dwing nie, maar "deur innerlike oorreding... bevestig word" (Strauss 2008a:249; vgl. Nauta 1971:123). Op die vraag of lidmate enige inspraak in kerklike besluite mag hê, sê hy dat hulle geraadpleeg mag word, maar dat die kerkvergaderings die finale besluit moet neem in die lig van die Woord van God (Strauss 2008a:247; vgl. Van Staden 1973:431evv, Van der Watt 1983:11 en Kleynhans 1985:152e vir soortgelyke standpunte).

Uit die bespreking hierbo het dit onteenseglik duidelik geword dat met Artikel 20 die NG Kerk gekies het vir die standpunt dat kerklike gesag nie in mense gesetel is nie, maar in Christus wat deur middel van kerklike vergaderinge sy kerk deur Woord en Gees regeer (vgl. Spoelstra 1989b:70 en 1991:57ev)11. Die NG Kerk volg die gereformeerde denktradisie wanneer hy in sy Kerkorde bepaal dat slegs die kerkrade, ringe, sinodes en AS oor kerklike gesag beskik12. Binne hierdie tradisie is die vergadering van die drie besondere ampte, die amptelike liggaam of struktuur waardeur Christus self sy kerk regeer, versorg en bewaar (Calvyn 1991:1509; Coertzen 1991:122; Kleynhans 1985:33ev)13. Terwyl die kerkraad alle sake hanteer, en die meerdere vergaderings slegs bepaalde sake soos kerkordelik ooreengekom, hanteer al vier vergaderinge dit met dieselfde gesag, naamlik 'n gesag wat deur Christus aan hulle verleen word in onderworpenheid aan die Woord onder leiding en bestuur van die Heilige Gees (vgl. Calvyn 1991:1334, 1430, 1436evv, 1454evv). Lede van 'n kerklike vergadering verteenwoordig dus vir Christus op die vergadering. Dit is Sy wil wat biddend onder leiding van die Gees gesoek moet word en Sy Woord waarvoor gebuig moet word.

 

3. KERKLIKE GESAG IN DIE PRAKTYK VAN DIE KERKLIKE LEWE

Die feit dat Reglement 24 aan die gemeentes, en dan spesifiek individuele belydende lidmate met hulle stem, 'n kerklike inspraak gee, gee dus nie aan hulle enige kerklike gesag nie. Die kerk is nie 'n demokrasie nie, maar funksioneer volgens Christokratiese beginsels. Dit beteken eenvoudig dat 'n kerkraad in sy besluit oor die verandering van Artikel 1 van die Kerkorde in die eerste plek moet buig voor die Woord. Die stem van die gemeente het nie die eerste en laaste sê nie14. Die reëling in die ASM se brief van 4 Junie 2014 is dus 'n interpretasie van Reglement 24 wat afwyk van die heersende standpunt in die NG Kerk oor kerklike gesag soos uitgedruk in artikels 20-22 van die Kerkorde van die Ned Geref Kerk, en wat daarom nie afdwingbaar kan wees nie.

Dit beteken egter nie dat die gemeente (lidmate) se inspraak in die besluit soos Reglement 24 dit reël ongesond, ongewens en selfs neerkom op 'n onkerklike demokrasie wat in die kerk ingesluip het nie. Jonker (1965:28) is besonder helder hieroor:

Geen kerkvergadering mag dit vir homself opeis dat hy die Woord van God onfeilbaar geïnterpreteer het of in sy beslissings vanselfsprekend binne die grense van die Woord van God gebly het nie. Die leiding van die Heilige Gees is aan die kerk as sodanig belowe, maar beteken nie vanselfsprekend dat kerklike vergaderinge sonder meer in alles deur die Gees gelei word nie. Daarom mag die kerk nooit wegskram van die toetsing deur die Woord van God van die kant van die hele gemeente nie... die kerk mag nie... die profetiese vryheid van die lidmate van die kerk inperk nie.

Sy waarskuwing 'n paragraaf of wat later dat daar in so openheid altyd die gevaar is dat

die kerk in independentistiese vaarwaters kan beland as elkeen op sy eie of selfs die plaaslike kerkrade net dié besluite as bindend aanvaar, wat volgens hulle eie oordeel met die Skrif ooreenkom (Jonker 1965:30)

moet eweneens ernstig geneem word. Van 'n ratifiseringsreg by kerk-rade kan daar nie sprake wees nie. Dit gaan immers om die heerskappy van Christus deur sy Woord. Die inspraak wat aan gemeentes (lidmate), kerkrade en sinodes gegee word in die proses om Artikel 1 te verander is dus kerklik gesond, maar neem niks weg van die kerklike gesag van die kerkraad, die sinode en aan die eindpunt van die kerklike proses, die AS om die finale besluit te neem nie. Hierdie kerkvergaderings neem immers elkeen sy besluit op gesag van Christus oor 'n saak wat op sy agenda lê, en in die geval van die AS 'n saak wat op sy agenda lê om af te handel (vgl. Jonker 1965:31). Die finale deurslag mag dus nie die aantal lidmate, kerkrade of al die sinodes se besluit wees nie, maar die norm van die Woord. Wanneer hierdie beginsel deurgetrek word na die AS se uiteindelik besluit, beteken dit dat selfs al sou tweederdes van alle kerkrade met 'n tweederde meerheid en al die sinodes met 'n tweederde meerheid soos artikel 44 vereis, ten gunste van die verandering stem, die AS steeds teen die verandering kan besluit. Dit gaan immers oor 'n proses waar gemeentes in sinodale en Algemene Sinodale verband saamluister na die Woord, en die AS uiteindelik kragtens sy bevoegdheid met die gesag deur Christus aan hom verleen, 'n finale besluit neem in die lig van die Woord onder leiding van die Heilige Gees (vgl. artikels 20 en 43.1.6 van die Kerkorde van die Ned Geref Kerk).

Uit die aard van die saak moet kerkrade en meerdere vergaderings in hulle besluitneming daarteen waak om "sinodokraties" op te tree. 'n Kerkraad, die sinode en die AS sal nie die lidmate of gemeentevergaderings, kerkrade en sinodes se besluite mag ignoreer of ligtelik hanteer nie. Dié sal baie goed en verantwoordelik geweeg moet word in die lig van die Woord15, en soveel so dat daar net met baie gewigte redes anders besluit kan word. Besluite wat ingaan teen die meerderheid van lidmate, kerkrade of al die sinodes s'n sal moet getuig van 'n diep respek vir diegene van wie verskil word, dit sal baie goed verantwoord moet wees en 'n inherente en byna vanselfsprekende oortuigingskrag moet hê. Dit lê in die aard van 'n kerklike wyse van doen "om te oorreed of te oortuig eerder as om te oordonder" (Strauss 2001:403). In hierdie weegproses sal dit uiteraard nie net gaan oor die lig van die Woord op die spesifieke saak waaroor dit gaan nie (in hierdie geval die verandering van die belydenisgrondslag), maar ook die lig van die Woord op die implikasies wat die saak voorhande vir die eenheid van die gemeente en kerkverband het, wat onderlinge liefde vra en wanneer 'n skeuring geregverdig is, die roeping van die gemeente en kerkverband, die verhouding met ander lede van die NG Kerkfamilie en die gereformeerde susterkerke en dies meer. Engelhardt en Hofman (2001:231) het 'n wyse woord hieroor:

In order for decisions made at a congregational meeting to become final, the council must adopt them as its own. If for any reason the council cannot do so or feels it unwise to do so, the council should defer action and seek a more appropiate course to be represented to the congregation at a later meeting. This may well be the wise course when an important decision is made by a narrow majority.

By 'n belangrike besluit soos 'n belydenisverandering sou dit dus onwys wees om 'n te kort tydsraamwerk vir besluitneming vas te stel. Niemand moet gedruk word om tot 'n besluit te kom nie en genoeg ruimte en geleentheid vir beraadslaging en gesprek moet geskep word.

Die moontlikheid dat die burgerlike hof genader kan word om kerklike besluite oor wesenlike sake soos die verandering van kerkverband of belydenisgrondslag te hersien, mag nooit uit die oog verloor word nie. Alhoewel die hofuitsprake waarna hierbo verwys is, nie eksplisiet die verandering in belydenisgrondslag op dieselfde basis plaas as die verandering in kerkverband nie, is daar tog implisiete verwysings wat gevaarligte laat flikker. Dit is jammer dat regter Vivier (1998:37ev) nie sy opmerking dat die individuele lidmaat se reg om by verandering van kerkverband, steeds lidmaat van die oorspronklike gemeente te bly, moontlik gekwalifiseer moet word in die lig van die huidige bepalings dat die kerkraad die "gesagsorgaan is wat namens die gemeente optree" (vgl. Strauss 1999:46, 50), verder uitgewerk het nie. Dit laat die kerk steeds onseker oor die moontlikheid dat individuele lidmate in 'n hofsaak die laaste sê kan hê oor die verandering in belydenisgrondslag. Hierdie onsekerheid kan lei tot die haglike situasie dat die Christokrasie en die norm van die Woord verdring word uit vrees vir hersiening deur die regbank, waarvan die brief van die ASM (waarna hierbo verwys word) moontlik 'n voorbeeld kan wees. Om te vermy dat aardse gesagsinstellings 'n onchristokratiese stempel plaas op die kerk se interne handelinge, moet die kerk sorgdra dat kerkordeartikels, reglemente en besluite so helder en duidelik geformuleer word dat daar geen misverstand is oor die Christokratiese verstaan van kerklike gesag nie, ook waar dit by verandering in die belydenisgrondslag en kerkverband kom. Die burgerlike hof vra immers onder andere of die kerk by sy Kerkorde gebly het (Viviers 1998:12ev) en het in die twee hofsake waarna hierbo verwys is, tekens getoon om iets van die denkraamwerk waaruit die kerkorde kom, te verstaan en te verreken (vgl. Viviers 1998:14evv en Musi 2006:465).

 

BIBLIOGRAFIE

BlESTERVELD, P. & KUYPER, H.H. 1905. Kerkelijk handboekje bevattende de bepalingen der Nederlandsche synoden en andere stukken van beteekenis voor de regeering der kerken. Kampen: JH Bos.         [ Links ]

BORCHARD, C.F. 1988. Luther en Calvyn oor feilbaarheid van kerklike vergaderinge. Ned Geref Teologiese Tydskrif 29(4):326-333.         [ Links ]

CALVYN, J. 1991. Institusie van die Christelike godsdiens. Potchefstroom: CJBF (Vertaal deur Prof H.W. Simpson).         [ Links ]

COERTZEN, P. 1991. Die kerkraad. In: P.J. Strauss (red.), Byderwets en gereformeerd, (Bloemfontein: Pro Christo-Publikasies), pp. 118-128.         [ Links ]

_______ 1992. Christus se gesag in die kerk. Ned Geref Teologiese Tydskrif 33(1):37-50.         [ Links ]

Dingemans, G.D.J. 1987. Een huis om in te wonen. Schetsen en bouwstenen voor een kerk en een kerkorde van de toekoms. 's-Gravenhage: Uitgeverij Boekencentrum B.V.         [ Links ]

Engelhard, D.h. & Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Geloof en Protes. 1987. Geloof en protes. 'n Antwoord namens beswaarde lidmate op sekere aspekte van "Kerk en Samelewing". Pretoria: Die Voortsettingskomitee.         [ Links ]

Harmse, L.T.C. 1998. Die hoogste hof van appèl. Saaknommer: 536/96. Uitspraak: Harmse, LTC.         [ Links ]

Jonker, W.D. 1960. Die bevoegdheid van die streeksinodes volgens Art. 35 van die nuwe konsep-kerkorde. Ned Gerei Teologiese Tydskrif 1(2):33-37.         [ Links ]

_______ 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria:Universiteit van Suid-Afrika.         [ Links ]

_______ 2008. Die relevansie van die kerk. Wellington: Bybel-Media.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. 1985. Gereformeerde kerkreg. Deel 3: Kerkverband en kerkvergaderinge. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

_______ 1986. Die bevoegdheid en gesag van kerkvergaderinge. Ned Gerei Teologiese Tydskrif 27(1): 38-46.         [ Links ]

Kleynhans, H.J. 2009. Kerkbegrip, belydenis en kerkorde in die kerkherenigingsproses van die NG Kerkiamilie in Suid-Afrika. Ongepubliseerde DTh proefskrif. Bloemfontein: UV.         [ Links ]

Koffeman, L. 2009. Het goed recht van de kerk. Een teologische inleiding op het kerkrecht. Kampen: Uitgeverij Kok.         [ Links ]

Musi, C.J. 2006. In die hooggereghof van Suid-Afrika (Oranje-Vrystaatse Provinsiale afdeling). Saaknommer: 2287/1999. In: H.J. Kleynhans. Kerkbegrip, belydenis en kerkorde in die kerkherenigingsproses van die NG Kerkiamilie in Suid-Afrika, Ongepubliseerde DTh proefskrif (Bloemfontein: UV), pp. 445-481.         [ Links ]

Nauta, d. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: J.H. Kok.         [ Links ]

NG Kerk AS 1990. Handelinge van die agste vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gehou in Bloemfontein 16 Oktober tot 25 Oktober.         [ Links ]

_______ 1994. Handelinge van die negende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gehou in Pretoria 11 Oktober tot 20 Oktober.         [ Links ]

_______ 1998. Handelinge van die tiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria 11 Oktober tot 17 Oktober.         [ Links ]

_______ 2004. Handelinge van die twaalfde vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Hartenbos 10 Oktober tot 15 Oktober.         [ Links ]

_______ 2011. Handelinge van die veertiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria 10 Oktober tot 14 Oktober.         [ Links ]

_______ 2013. Handelinge van die vyftiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Port Elizabeth 6 Oktober tot 10 Oktober.         [ Links ]

NG Kerke Vrystaat 1960. Handelinge van die agt en dertigste vergadering van die hoogeerwaarde sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat op Woensdag 20 April 1960 en volgende dae.         [ Links ]

_______ 2014. 'n Buitengewone vergadering van die Sinode van die NG Kerk Vrystaat 29 Julie 2014 in Bloemfontein. Notule.         [ Links ]

NG Kerkorde 1986. Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

_______ 2004. Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

NG Kerkorde Vrystaat 2013. Die Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk soos vasgestel deur die Algemene Sinode Oktober 2013, asook besluite en aantekeninge by die artikels van die Kerkorde tesame met Reglemente, handleidings en vorms soos vasgestel deur die Sinode van die NG Kerk Vrystaat in Junie 2013.         [ Links ]

Niemandt, C.P. 2013. Nuwe leiers vir nuwe werklikhede. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1989a. Gereformeerde kerkreg en kerkregering. Handboek by die kerkorde. Hammanskraal:Die Hammanskraalse Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.         [ Links ]

_______ 1989b. Het ons kerkwees in strukture gestol. Ned Geref Teologiese Tydskrif 30(1):64-74.         [ Links ]

_______ 1991. Presbiterale kerkregering en presbiterianisme. Ned Geref Teologiese Tydskrif 32(1): 57-67.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1992. Die Sinode: 'n eie kerklike gesag? Ned Geref Teologiese Tydskrif 33(2):188-197.         [ Links ]

_______ 1997. Die krisis rondom "meerdere" vergaderings en die Ned Geref Kerk - enkele aantekeninge en raakpunte met teologiese opleiding. Ned Geref Teologiese Tydskrif 38(3):171-179.         [ Links ]

_______ 1999. Die goedkeuring van kerkrade vir 'n nuwe verband in die NG Kerkfamilie? Acta Theologica 19(2):32-54.         [ Links ]

_______ 2001. Kerkverband in die Ned Geref Kerk vandag. Ned Geref Teologiese Tydskrif 42(3 & 4):395-405.         [ Links ]

_______ 2008a. Die "kerklike gesag" van kerkvergaderings soos in die kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In die Skriflig 42(2):239-252.         [ Links ]

_______ 2008b. Die NG Kerkorde - 1962: Die Dordtse kerkorde aangepas by die eise van die dag. Ned Geref Teologiese Tydskrif 49(3 & 4):274-285.         [ Links ]

_______ 2010. Kerk en orde vandag. Met klem op die NG Kerk. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Vivier, W. 1998. Die hoogste hof van appèl. Saaknommer: 536/96. Uitspraak: Viviers, W.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1980. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerkboek-handel Transvaal.         [ Links ]

_______ 1983. Kerkregering deur kerkvergaderinge. Kaapstad: N.G. Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Van Staden, F.A.H. 1973. Kerkorde in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk(e) in Suid-Afrika 1652-1970. (Ongepubliseerde DD Proefskrif), Pretoria: UP.         [ Links ]

 

 

1 Die artikel het aanvanklik (met die totstandkoming van die Algemene Sinode van die NG Kerk in 1962) nie die kerkrade se goedkeuring ingesluit nie. Dit is tydens die Algemene Sinode van 2004 bygevoeg (NG Kerk 2004:330; vgl. NG Kerkorde 2004:19).
2 In Artikel 20 van die Kerkorde van die Ned Geref Kerk word kerklike gesag soos dit in Ned Geref Kerk verstaan word, omskryf. Hierdie soort gesag word beperk tot die kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode (vgl. Artikel 36 van die Kerkorde van Dordt in Biesterveld en Kuyper 1905:235), en word verder beperk tot elkeen van die hierdie vergaderings se eie aard en funksie. In wese is kerklike gesag niks anders as gesag wat deur Christus verleen word nie, of te wel Hy wat in sy regering van sy kerk van hierdie vergaderinge gebruik maak.
3 Strauss (1997:172; 2001:395ev, 398evv; 2008a:242ev) wys benewens 'n gebrek aan kennis oor die aard van kerkverband onder lidmate en predikante in die NG Kerk, ook op 'n verskeidenheid moderne strominge wat 'n invloed op lidmate se siening oor kerklike gesag het, en wat bogenoemde klem op die outonomie van die gemeente kan versterk en neig tot 'n "bedekte" independentisme en kongregasionalisme. Ons leef in 'n tydsgewrig waar demokratisering, individualisme, individuele menseregte, sekularisme, modernisme en post-modernisme, 'n wantroue in gesagsi nstansies (sinodes en Algemene Sinode ingesluit) en 'n sektariese self-genoegsaamheid mense se wêreldbeskouing stempel (vgl. Jonker 2008:14ev en Niemandt 2013:46ev). Daarom word die deelname van lidmate en gemeentes aan besluite wat kerkvergaderings neem, asook die instemming tot hierdie besluite, as 'n vanselfsprekende deel van moderne kerkwees beskou. Lidmate wil gehoor word en die wil van die meerderheid behoort te geld. Dit verteenwoordig 'n siening dat kerklike gesag in die mondige lidmaat en gemeente gesetel is en sluit baie nou aan by die baie ouer standpunte van die independentisme en kongregasionalisme hieroor (Coertzen 1992:43ev).
4 Spore van hierdie kerkregtelike beswaar teen die gesag van die Algemene Sinode word reeds opgemerk in die reaksie van die Raad van Kerke in 1951 op 'n verslag van 'n kommissie wat organiese kerkvereniging tussen die vyf Suider-Afrikaanse NG Kerke moes ondersoek. Van Staden (1973:418) meld "dat daar skynbaar geen sterk begeerte tot organiese kerkvereniging in die Kerke aanwesig was nie. Blykbaar het die hele kwessie van 'n synodus contracta die Kerke nie geval nie". Dieselfde bedenkinge was ook sigbaar toe die Vrystaatse Sinode van 1960 moes besluit oor die vorming van een algemene sinodale verband in die NG Kerk. In 'n amendement is beswaar gemaak teen die Algemene Sinode as 'n synodus contracta terwyl die sinodes "suiwerder kerkregtelik die outonomie van die plaaslike kerkrade erken in die direkte verteenwoordiging van elke kerkraad" op die sinode (NG Kerk Vrystaat 1960:205; vgl. ook die ooreenstemmende redes waarom die predikant van Waterbron sy minderheidstem laat aanteken het teen die besluit om tot Algemene Sinodale verband toe te tree in NG Kerk Vrystaat 1960:205ev).
5 Die (oordrewe?) klem op die outonomie van die gemeente (plaaslike kerk) is nie vreemd in die Gereformeerde kerkregtelike denke nie. Die Doleansiekerkreg het, in oorreaksie op die kollegialistiese Algemene Reglement van 1816 dit reeds sterk beklemtoon (Kleynhans 1986:42ev; vgl. Strauss 1992:191ev). Hiervolgens het die kerkraad as vergadering van die ampsdraers van die gemeente as komplete kerk, die eintlike gesag. Meerdere vergaderings het slegs afgeleide gesag. Dit bring iemand soos Spoelstra (1989a:220), kerkregtelike en kerkhistorikus van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) by die ratifiseringsreg van die kerkrade. "Wanneer 'n meerdere vergadering besluit, word dit nie ipso facto besluit van 'n kerkraad nie. 'n Kerkraad moet self sy besluite wysig en herroep en in ooreenstemming met dié van meerdere vergaderings bring. Meerdere vergaderings se besluite het dus eers plaaslike gesag wanneer die kerkraad dit goedkeur of daarmee instem.
6 Regter Vivier (1998:24, 27ev) het in die saak tussen die NGKA (OVS) en die VGKSA 1998 'n soortgelyke standpunt ingeneem. Dit plaas die vraag of die burgerlike hof se uitgangspunte in alle gevalle te rym is met dié van die kerk weereens op die tafel.
7 In 'n artikel oor Luther en Calvyn se beskouing oor die feilbaarheid van kerklike vergaderinge, kom Borchard (1988:333), in lewe professor in Algemene Kerk-geskiedenis aan UP tot die volgende insiggewende gevolgtrekking: "Ons erfenis wat van Luther en Calvyn kom, is dat enige gelowige die reg het om besluite van kerklike vergaderings aan die toets van die Woord te onderwerp. Maar dan moet dit die Woord wees wat ons maatstaf is en nie die uitsprake van voorgeslagte nie, al was hulle hoe vroom, want dit is Rooms om so te redeneer"
8 In 'n kort bespreking oor Karl Barth se siening oor die orde van die kerk, lig Coertzen (1992:45) uit dat Barth as basiese vertrekpunt vir die orde waarbinne die opbou van die gelowiges moet plaasvind dit beklemtoon dat Jesus Christus as die hoof van die sy liggaam, die primêre handelende Subjek moet wees in vergelyking met die sekondêre handelinge van die menslike gemeenskap van gelowiges (vgl. Jonker 1960:3).
9 Coertzen (1992:45ev) sluit aan by Karl Barth en Antonie van Ruler wanneer hy enige poging om kerklike gesag te demokratiseer of in menshande te plaas duidelik afwys en tot die gevolgtrekking kom dat Christus nie vervang mag word met of ampsdraers of lidmate in die regering van die kerk nie.
10 "Meerdere vergaderings, nie omdat hulle 'meer' gesag het of 'hoër' is as kerkrade nie, maar omdat meer as een gemeente daarop verteenwoordig is (Strauss 2010:51).
11 Alhoewel die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) wel in Artikel 6 van sy Kerkorde gehoorsaamheid aan Christus, die Hoof van die kerk as teenvoeter vir enige vorm van hiërargie inbring (in Koffeman 2009:77), blyk dit uit Koffeman se bespreking van kerkvergaderings as amptelike vergaderings, dat hy kerklike gesag verstaan as ampsgesag, "Het karakter van de amptelijke vergaderingen wordt bepaald door een theologische visie op wat 'ambt' is" (Koffeman 2009:72). Hy raak ook nie aan die kwessie van Woordgesag nie.
12 Dingemans (1987:81-86) is hierteenoor oortuig dat die gemeente die enigste gesagsliggaam in die kerk is. "... er zal als regel ook een 'kerkeraad' zij, die als 'stuurgroep' de dagelijkse gang van zaken aangeeft - maar de besluiten, de richting, de algemene gang van zaken berust bij te gemeentevergadering". Gemeentes kan wel saam met ander gemeentes in klassisse en sinodes saamkom om oor gemeenskaplike sake te gesels, maar besluite moet so geneem word dat dit as 'n soort gemeenskaplike verklaring van al die gemeentes saam gesien kan word. Die sinode begin 'n gesprek oor 'n saak wat in die gemeentes voorgesit word totdat so 'n gemeenskaplike verklaring moontlik is.
13 Koffeman (2009:72) sê bloot dat "de drie ambten zijn samen verantwoordelijk voor de leiding van de gemeente en van de kerk in haar bredere verbanden". Die PKN praat nie van kerklike vergaderings nie, maar van amptelike vergaderings.
14 Die Reformed Church of America (RCA) maak in hulle Kerkorde voorsiening vir 'n gemeentevergadering. Hoewel hulle dit noodsaaklik ag, ken hulle geen kerklike gesag aan sodanige vergadering toe nie. Die agenda van die gemeentevergadering en die finale besluit berus steeds by die kerkraad (Engelhard en Hofman 2001:229). Die gemeentevergadering gee egter aan die kerkraad "opportunity to seek the judgment or advice of the members on various matters... " (Engelhard en Hofman 2001:230). Die gemeentevergadering het dus slegs 'n adviserende stem.
15 Calvyn (1991:1455) se raak opmerking kan gerus as rigtingwyser dien: "Want wanneer menings bloot getel en nie oorweeg word nie, moes die beter groep noodwendig baie dikwels deur die meerderheid oorweldig word".

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License