SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 issue1Resensies/Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 n.1 Bloemfontein Jun. 2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i1.17 

RESENSIES REVIEWS

 

Liefde voor Israël nader bekeken: Voor het evangelie zijn alle volken gelijk

 

 

P. Verster

Prof Pieter Verster, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat

 

 

S. Paas, Liefde voor Israël nader bekeken: Voor het Evangelie zijn alle volken gelijk. Kampen: Brevier, 2015), pp 207. Prys onbekend, ISBN 978-9-49158-372-8 (Sagteband)

Die vraag hoedat die Bybel - en in besonder die Nuwe Testament - die Jode hanteer, is al indringend bespreek. Hoe die kerk Jode moet benader het deur die eeu uiteenlopende reaksies ontlok. Steven Paas hanteer hierdie sake op bevatlike wyse in hierdie werk. Alhoewel dit in baie opsigte populêr aangebied word, kom daar wel indringende bespreking van veral Luther se standpunt voor. Hy poog ook om 'n duidelike eie standpunt daar te stel.

Heel aan die begin vra hy die vraag of die Jode, dus die na-Bybels Israel, die uitverkore volk van God is. Hy is van mening dat hierdie vraag die plek van Israel in die kerk raak asook die persoonlike geloof en die teologie. Indien God twee uitverkore volke het, is die sending onder Jode meteens nie meer nodig nie.

'n Ander saak wat hy dan ook dadelik aan die orde stel, is die berugte anti-Semitisme (Jodehaat) wat reeds van die vroegste tye voorkom, maar wat veral in die 19de en 20ste eeue verskriklike afmetings aangeneem het, en met nuwe herlewing daarvan in die 21ste eeu veral onder radikale Moslems voorkom. Dit lei tot nuwe benaderings aangaande die Jode waar hulle veral as slagoffers beskou word.

Paas wil veral 'n duidelike onderskeid tussen anti-Judaïsme en antisémitisme tref. Hy is van mening dat anti-Judaïsme iets heel anders veronderstel as anti-Semitisme. Anti-Judaïsme handel ten diepste oor die verskil tussen 'n wettiese religie en die Christelike evangelie en moet gehandhaaf word, anders sal die fondamente van die Christelike geloof geskud word. Hoeseer anti-Semitisme ookal afgewys moet word, is dit onmoontlik om nie die Judaïsme as wettiese godsdiens af te wys sonder om met die aanvaarding daarvan die Christelike evangelie te misken nie.

Luther se uitsprake, afwysing en selfs radikale verwerping van die Jode kom dan aan die orde. Vir Luther is Christus die een-en-al van die hele Bybel. Christus is die waarborg van die waarheid en die hele Skrif word daardeur bepaal. Die Ou Testament is ook boek van Christus wat die leser rig op Christus en ook van Hom getuig. Die Ou Testament is ook boek van Israel, maar die Mosaïese wet en geskiedenis van Israel is in Christus vervul. Die sleutel tot die Heilige Skrif is in die persoon van Christus alleen te vind.

Paas dui aan dat in die lig hiervan en die Joodse wettisme dat Luther hom verset teen die Judaïsme. In sy werke kom sulke skerp uitsprake voor dat hy as voorloper van die Nazisme beskou word. Alhoewel dit duidelik is dat Luther kind van sy tyd is en dat hy die Roomse kerk, die Islam en Jode almal as vyande van die ware evangelie beskou, kan verskeie van sy uitsprake nie aanvaar word nie en sou dit as onchristelik afgewys moet word. Dit raak egter nie sy wonderbaarlike beklemtoning van die redding uit genade nie.

Die sterk anti-Semitisme wat later voorkom, word ook deur Paas afgewys. Wanneer daar egter pogings is om die Judaïsme op 'n nuwe wyse te waardeer soos voorkom by onder andere Sanders, is Paas tog van mening dat reg aan Paulus nie geskied nie.

Paas self wil vanuit die genadeverbond van God in Christus riglyne gee. Dit beteken dat hy die Judaïsme nie kan aanvaar nie maar dat hy ewe-eens die anti-Semitisme radikaal afwys. God neem in die genadeverbond die inisiatief. God se liefde vir alle mense in Christus is die dryfveer van sy genadeverbond, maar tog is die genadeverbond voorwaardelik. In Christus word die heil aangekondig wat die verlossing bepaal. Alhoewel die heil vir almal is, is dit radikaal in Christus en kan die Jode nie meer aanspraak maak op die status van uitverkore volk van God te wees nie.

Hierdie werk bied heelwat stof tot nadenke. Deeglike besinning maak dit baie waardevol. Die gedeelte oor Luther is van hoogstaande gehalte. Sy onderskeid tussen anti-Judaïsme en anti-Semitisme is ook aanvaarbaar. Daar is egter die leemte dat hy nie aandui hoe Jode self oor sy standpunt sal voel nie en ook dat hy om daardie rede nie die dialoog met die Jode ver genoeg voer nie. Daar sal ook geluister moet word na aansprake dat Judaïsme nie reg verstaan word indien dit as wettiese godsdiens beskou sou word nie. Die gesprek oor die interpretasie van Paulus sal ook nog diepgaande eise stel. Paas het egter die tafel gedek vir die verdere indringende dialoog oor die essensiële saak.

Die werk is nie slegs vir akademici bedoel nie maar kan ook met vrug deur ander lidmate gelees word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License