SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 issue1Resensies/Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 n.1 Bloemfontein Jun. 2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i1.15 

RESENSIES REVIEWS

 

Heel israel zal behouden worden: Een kritisch onderzoek van de gangbare exegese Van Romeinen 11

 

 

H.C. van Zyl

Prof Hermie C van Zyl (emeritus), Departement Nuwe Testament, Universiteit van die Vrystaat

 

 

B. Maljaars, Heel Israel zal behouden worden. Een kritisch onderzoek van de gangbare exegese van Romeinen 11, speciaal vs. 26. Soesterberg: Uitgeverij Aspekt. ISBN 9789461536167

Rom 11:25-26a lui (1983-Afrikaanse Vertaling): "25Ons staan hier voor 'n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor 'n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word."

Dit gaan oor die interpretasie van "... en op hierdie manier sal die hele Israel gered word." Volgens Bram Maljaars vorm hierdie frase, veral die woorde "die hele Israel", die sleutel tot die verstaan van Rom 11. Hy is passievol daaroor dat daar afstand gedoen moet word van die huidige gangbare eksegese van Rom 11:26 en teruggekeer word na die tradisionele interpretasie. Daarom sê hy in sy voorwoord dat sy boek noodwendig polemies van aard is - gemik daarop om die gangbare eksegese te bestry - maar dat dit tog ook op 'n ewewigtige manier al die relevante standpunte aan die orde wil stel en sy leser op 'n wetenskaplike manier van sy interpretasie wil oortuig.

Volgens Maljaars is die gangbare eksegese vandag dat "die hele Israel" (πας Ισραήλ) verwys na die volk Israel in die nasionale sin van die woord en dat daar vir Israel steeds 'n eskatologiese hoop van redding in die toekoms is, iets soos 'n massale volksbekering. Maljaars is egter van mening dat daar teruggekeer moet word na die tradisionele siening dat πας Ισραήλ verwys na geestelike Israel, wat uit beide die gelowige oorblyfsel van Israel (die Jode wat in Christus glo) en die gelowiges uit die heidendom bestaan, wat saam die kerk van Christus uitmaak, van wie Abraham die vader, die hemelse Jerusalem die moeder en Christus die Hoof is wat die eenheid tussen alle gelowiges bewerkstellig.

Maljaars gaan van die standpunt uit dat Paulus in die Romeinebrief deurgaans 'n onderskeid tref tussen twee soorte Israel - etniese Israel en geestelike Israel - en dat hierdie twee mekaar nie volledig oorvleuel nie. Eersgenoemde bestaan uit almal wat Israeliete of Jode is kragtens geboorte; laasgenoemde is diegene in Israel wat hulle spesifiek deur geloof en lewenswandel verbind aan die Verbondsgod, en in die nuwe bedeling in Christus as die Messias glo. In hierdie sin van die woord kan almal, ook nie-Jode, deel word van geestelike Israel. Maljaars toon uitvoerig aan hoe die onderskeid tussen die twee Israel's nie net steek hou vir die Romeinebrief nie, maar ook steun vind in die res van die Nuwe Testament. Verder, dit bou ook voort op die Ou Testament waar Paulus die grondgedagtes vir sy siening oor die twee Israel's kry.

Uitgaande van sy siening oor die twee Israel's voer Maljaars aan dat die huidige gangbare eksegese nie rekening hou met bepaalde teksverskynsels in Rom 11 nie en daarom allerlei teenstrydighede en inkonsekwenthede tot gevolg het. Hy lig die volgende uit:

  • Waarom sê Paulus: En so sal die hele Israel gered word, en nie net bloot: en so sal Israel gered word, nie? Waarom voeg hy "die hele" by? Volgens Maljaars bedoel Paulus met "hele Israel" 'n andersoortige Israel as etniese Israel. Dis 'n teruggrype na Rom 9:6 waar Paulus sê dat nie almal wat van Israel afstam, werklik Israel is nie. Die moontlikheid moet oopgehou word dat Paulus met "die hele Israel" 'n geykte formulering aanwend, te midde van 'n hoofstuk waar deurgaans net na "Israel" verwys word. Hierdie formulering sou dan na geestelike Israel verwys.

  • Die OT aanhaling in Rom 11:26b-27 ondersteun nie die gedagte dat die hele etniese Israel gered sal word nie. Beide Jes 59:20 en Jer 31:33 -die OT gedeeltes wat Rom 11:26b-27 onderlê - het op die oog mense uit Israel wat hulle tot God bekeer en nie die hele etniese Israel nie.

  • Die huidige gangbare eksegese laat nie reg geskied aan die woord "so, op hierdie manier" (ούτως, 'n bywoord van wyse) in Rom 11:26 nie, maar moet dit noodwendig met 'n bywoord van tyd ("hierna", "vervolgens") vertaal. Vir laasgenoemde gebruik Paulus egter ander Griekse woorde as ούτως. Die bywoord van wyse, ούτως, veroorsaak egter dat die frase "en op hierdie manier sal die hele Israel gered word" noodwendig terugverwys na "... en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het Die redding van die Jode is dus nie iets wat eers ná die redding van die heidene gebeur nie, maar vind op dieselfde manier plaas as die heidene se redding. En beide heidene en Jode se redding het reeds plaasgevind of is besig om te gebeur. Vir beide groepe is dit nie iets wat eers êrens in die toekoms voltrek sal word nie.

  • Die gangbare eksegese van Rom 11:26 keer die volgorde van redding om: eers die heidene, dan die Jode. Maar dit is duidelik uit Paulus se argumentasie in Romeine dat die volgorde eerder is: eers die Jode, dan die heidene (vgl Rom 1:16; 2:10; kyk ook Hand 3:26; 13:46). 'n Latere, massale bekering van die Jode as etniese volk tot God is daarom teen die heilshistoriese orde soos deur Paulus beskryf en soos dit in feite plaasvind.

In dieselfde trant toon Maljaars nog ander inkonsekwenthede en teenstrydighede van die gangbare eksegese in Romeine aan. Hy beperk hom egter nie net tot die argument in Romeine self nie, maar wys ook uitvoerig daarop dat die konsep van 'n massale bekering van etniese Israel aan die einde van die tyd nie steek hou met die res van die Nuwe-Testamentiese eskatologie of Ou-Testamentiese profesieë omtrent Israel se toekoms nie. Nêrens in die Bybel tref mens die gedagte aan dat Israel op 'n ander manier as die heidene deel kry aan God se redding nie. Om etniese Israel se toekomstige massale bekering dus in Rom 11:26 in te voer, sou in stryd wees met die algemene trant van 'n Bybelse eskatologie.

Dit is duidelik dat Maljaars hom deeglik in die onderwerp ingegrawe het. Sy uitgebreide bibliografie en die manier waarop dit in die boek figureer, getuig van groot belesenheid oor die onderwerp. Hy voer 'n omvattende, konsekwente en sluitende argument, en daarvoor moet hy volle krediet kry. Enigeen wat hom met hierdie onderwerp wil bemoei, sal moeilik hierdie studie kan verbygaan. Tog het mens die ongemaklike gevoel dat daar net te konsekwent op elke slakkie van die sogenaamde gangbare eksegese sout gegooi word. Nie al Maljaars se argumente is ewe oortuigend nie; sommige sou ook ewe goed ten gunste van die gangbare eksegese aangewend kon word. Mens het ook die gevoel dat Maljaars se eksegetiese benadering so 'n bietjie uit die "ou skool" kom. Op 'n polemiese manier, weliswaar getemper, word 'n bepaalde standpunt met akademiese en retoriese drif beredeneer. Maar daar word min ruimte gelaat vir onsekerhede en dubbelsinnighede in die teks self. Móét Paulus altyd met Paulus saamstem? Is daar nie 'n stuk emosie en misterie in Paulus se hantering van sy Joodse volksgenote wat aan die einde van Rom 11 deurslaan wat ook verreken moet word nie? Mens mis bietjie hierdie "eksegetiese empatie" in Maljaars se ondersoek. Die Jode se redding hoef nie in terme van 'n massale bekering êrens in die toekoms te manifesteer nie, maar Paulus se wroeging oor sy volksgenote se heil mag ook nie in die eksegese weggeredeneer word nie. Die teks self laat ruimte vir meer as net die een siening wat Maljaars so sterk bepleit.

Nietemin, Maljaars moet gelukgewens word met die kritiese vrae wat hy aan die gangbare eksegese van Rom 11:26 stel. Dis 'n deeglike studie waarvan kennis geneem sal moet word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License