SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.36 issue1Resensies/Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.36 n.1 Bloemfontein Jun. 2016

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v36i1.12 

ARTICLES

 

Die naam "Nederduitse Gereformeerde Kerk"

 

 

P.J. Strauss

Prof. P.J. Strauss, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika. E-pos: StraussP@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Nederduitse Gereformeerde Kerk, Geskiedenins, Tradisie


ABSTRACT

An investigation into the name of the Dutch Reformed Church (DRC) reveals that it is a reformed church in the Dutch tradition with the cultural side of it's origin in the Netherlands. The acceptance of this name indicates that the DRC should never stop an internal, ongoing process of reformation. The fact that the DRC officially took the name is owned to it's General Synod to which decisions over this kind of thing, is given. The name "Dutch Reformed" was thus accepted in 1962. Both the terms "reformed" and "Dutch" in connection with the DRC, has a history to which the present DRC still adds meaning.

Keywords: Dutch Reformed Church, History, Tradition


 

 

1. INLEIDING

Daar is 'n neiging by die Christelike kerke om die geloofs- en godsdienstige tradisie waaruit hulle kom in hulle name te verwoord: Rooms-Katoliek, Luthers, Gereformeerd of Pinkster-Charismaties. Tradisioneel word kerke aan die hand van hierdie tradisies of kerklike rigtings in groepe verdeel (De Jong 1987:155-394).

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) is in hierdie opsig geen uitsondering nie. Maar, waar die term "gereformeerd" op sy geloofs- en godsdienstige tradisie dui, gee "Nederduitse" ook sy land van herkoms en die kultuurgemeenskap waaruit hy (dus aanvanklik) kom, weer. Hierdie twee sake word in hierdie stuk ondersoek.

By die totstandkoming van die eerste Algemene Sinode van die NGK in 1962 is daar besluit dat die naam van hierdie kerk of sinodale verband bloot die NGK ("Nederduitse Gereformeerde Kerk") sal wees (NGK 1962:232). Hierdie naam is verkies bo die ander name wat voorgestel is, naamlik "Ned Geref Kerk van Suid-Afrika" en "Die Ned Geref Kerk in Afrika" (NGK 1962:39, 135). Enige geografiese agtervoegsel - soos by ander gereformeerde kerke1 - is dus weggelaat.

Die vraag wat ontstaan is: wat wou die Algemene Sinode as die ter sake besluitnemer van die NGK in algemene sinodale verband, met hierdie naam sê? Wat is die kerkhistoriese, ekklesiologiese en taalkundige agtergronde by die keuse van hierdie naam? Hierdie kwessie is elders nog nie deeglik ondersoek nie (vgl die poging van Strauss 2008:786-787).

Dit is op hierdie vrae wat hierdie artikel ingaan.

 

2. KERKGRENSE NIE DEUR STAATSGRENSE BEPERK

Hoewel die besluit van 1962 nie in die handelinge van die konvensie wat hierdie Algemene Sinode vooraf gegaan het, gemotiveer is nie2, loop daar kerkhistories 'n sterk oortuiging dat die uitkoms van die Loedolffsaak in 1862 'n rol gespeel het in die keuse van die naam "NGK" in 1962. Deur die impak van hierdie saak wat die Kaapse NGK tot die staatkundig-geografiese grense van die Kaapkolonie beperk het, vorm daar in die volgende eeu in die NGK ses afsonderlike sinodale verbande binne staatkundig-bepaalde grense: die Kaapse Kerk (NGK in Suid-Afrika, 1824), die Vrystaatse Kerk (NGK in die Oranje-Vrystaat, 1864), die Natalse Kerk (NGK van Natal, 1864), die Transvaalse Kerk (eventueel die NGK van Transvaal, 1866), die NGK in Suidwes-Afrika (1957) en Midde-Afrika (1957). Die Kaapse en Transvaalse Kerke verdeel later in meer sinodale verbande, terwyl Midde-Afrika in 2004 by die Sinode van Noord-Transvaal (nou die Noordelike Sinode) ingetrek word (Van Der Watt 1973:129; 1987:17-21; Strauss 2008:786). Hierdie verbande sou die Algemene Sinode van 1962 vorm en die omvattende sinodale verband van 1862 in die NGK herstel (Van der Watt 1987:15).

In sy staatkundig-historiese konteks dui hierdie naam van die NGK soos gekies deur die Algemene Sinode van 1962 op duidelike standpuntinnames. Standpuntinnames wat volg op 'n lang geskiedenis van kerklike stryd.

Die eerste is dat kerklike en staatkundige grense nie identies hoef te wees nie. Die grense van die kerk as 'n geloofsverband wat sy eenheid bou op gemeenskaplike belydenisse van geloof, word nie deur die grense van die staat bepaal wat deur die regsbeheer oor sy gebied op grond van sy beheer oor die fisiese swaardmag in die gebied (die van die polisie en weermag), bepaal word nie. Hierdie motivering is by implikasie aangeraak in die besluit van die Kaapse Sinode van 1957 om Ordonansie 7 van 1843 wat deur die Kaapse Hooggeregshof in 1862 as basis vir sy uitspraak gebruik is, geskrap te kry. Die woorde dat die NGK "in eie kring 'n selfstandige bestaan gevoer het" is ondermeer deur die Sinode van 1957 gebruik (Van der Watt 1987:12). Die belydenis van een heilige algemene Christelike kerk (Apostolicum) wat hom uitdruk in 'n kerk wat oor staatkundige grense heen strek, word deur die hofuitspraak van 1862 weerspreek. Die heersende standpunt in die NGK was immers nog altyd dat die uitbreiding van die Christelike geloof nie staatkundig beperk kan word nie. 'n Bepaalde kerk kan ook sendingwerk doen in lande waar hy nie voorkom of bestaan nie.

Die tweede standpuntinname dui op 'n bewuste en amptelike erkenning van die naam NGK téénoor Nederduitse Hervormde Kerk (NHK) of enige ander naam wat in die verlede vir hierdie kerk gebruik is. Die besluit van die Kaapse Sinode van 1842 dat die naam amptelik NGK in Suid-Afrika, dus NGK, sal wees, is gehandhaaf (NGK in SA 1858: 199). Deur hierdie naam het die Algemene Sinode gekies vir 'n sekere verstaan van gereformeerdwees, vir die erkenning van sy Nederlandse herkoms en vir 'n keuse tussen gereformeerd en hervormd in die kerklike debat. 'n Debat wat deur sommige na die invloed van die Verligting van 1650 en die slagkreet van vryheid, gelykheid en broederskap van die Franse Rewolusie van 1779 teruggevoer word (NH of G Kerk 1882:30-53). Die Algemene Sinode van 1962 het ook kleur gewys deur aansoek te doen om lidmaatskap van die Nederlandsgeoriënteerde Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES), terwyl lidmaatskap van die groter en meer algemene gereformeerde Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) eers in 1966 volg. Hy het hiermee vir die vertolking van die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN) van gereformeerdwees deur die jare heen gekies. 'n Keuse vir die naam NGK wat vanweë die funksioneringskonteks van "gereformeerd" en "hervormd", histories en prinsipieel verskil van "Nederlands Hervormd" en in die Nederlandse kerkgeskiedenis 'n duidelike rol gespeel het (Kleynhans 1974:342-343; Strauss 2002:184). By implikasie het die besluit oor die naam van die NGK in 1962 dus ook die NGK se houding as 'n gereformeerde kerk verwoord. 'n Saak wat hierin ook ondersoek word.

Die voorgestelde naam NGK is op 11 Oktober 1962 by die Konvensie van 1962 eers na 'n komitee wat met taalkundiges oorleg moes pleeg, verwys voordat dit aanvaar is (NGK 1962:225). So is daar waarskynlik ook klarigheid verkry oor die keuse tussen die byvoeglike naamwoorde "Nederduitse" of "Nederduits" (op spoor van die Nederlandse "Nederduitsch"?) wat in die omgang soms willekeurig hanteer word.

Die vraag is dus: wat beteken die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk?

 

3. DIE GEREFORMEERDWEES VAN DIE NGK

3.1 Belydenisskrifte

Meer bepalend en koersgewend as die "Nederduitse" moet die "Gerefor-meerde" in die naam van die NGK wees. Die kerk is in beginsel immers 'n belydeniskerk waarin die kernwaarhede van die Bybel oor God en sy verlossing, die kernwaarhede van die Christelike geloof3, die toon aangee.

Die NGK as die groot kerk onder veral Afrikaners, huisves meer as een geestelike of geloofstradisie. Tradisies wat dieper sny as blote aksent-verskille vanuit dieselfde kernwaarhede van die geloof as belydenis-waarhede. Verskille wat kan ontwikkel uit verskille van 'n belydenisaard en in die jongste tyd spruit uit verskille oor byvoorbeeld punte in sy aanvaarde Drie Formuliere van Eenheid of drie gereformeerde belydenisskrifte (Strauss 2013:148-150; 2015:74, 75, 102).

Die geskiedenis van die NGK van 1652-2015 gee blyke van 'n lewende én 'n verstarde naleef van die Dordtse of Nederlandse gereformeerde tradisie, van die invloed van 'n modernistiese, liberale (met redelikheid as norm) beskouing oor Skrif en belydenis, 'n gevoelsgodsdiens wat hom oopstel vir 'n pinksterse "second blessing" en spruit uit die invloed van die Nederlandse Nadere Reformasie met sy "bevindelijkheid van de godsdienst" en die Skotse metodisme met 'n tweede stap in die geloof én van 'n vrysinnigheid (Strauss 2013:53-56,74-75). Om hierdie uiteenlopende rigtings te akkommodeer moet 'n kerk verdraagsaam en minder op leertug ingestel wees. 'n Stelling wat soms - téén die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29 in met sy gedagte van die ware kerk wat suiwer in die bediening van die Woord, die sakramente en die tug is (NGK-Uitgewers 1982:29-30) - uit die praktyk van die NGK blyk (Strauss 2013: 102). Daarop word teruggekom.

Hierdie kerklike praktyk is nie noodwendig waarneembaar in wat bevoegde vergaderings in die NGK in die verlede oor geloof en godsdiens - oor die Bybel - besluit het nie. Inteendeel, waar die NGK slegs bindende besluite deur sy amptelike vergaderings neem, besluite deur kerkrade, ringe, sinodes en, sedert 1962, die Algemene Sinode is 'n skerp en duidelike ontsporing van gereformeerdwees nouliks waarneembaar.

In die NG Kerkorde (NGKO) van 1962 word die naam van die NGK aangevul met die volgende oor die eerste en tweede norme van die NGK as 'n gereformeerde kerk: bepalings oor Skrif en belydenis. Bepalings waarin die Skrif as die onfeilbare eerste norm (as norma normans of norm van die norme) en die belydenis as die hieraan ondergeskikte tweede norm (as norma normata) funksioneer. NGKO artikel 1 noem die Bybel sondermeer die "heilige en onfeilbare Woord van God". Daarmee word die objektiewe (buite die stemming of emosies van die mens om) gesag van die Bybel as die goddellike Woord gehandhaaf (NGKO 1964:2). Latere Algemene Sinodes oordeel dat die menslike karakter van die Bybel nie sy gesag as Woord van God ondermyn nie en dat die Skrif 'n tendensboek is met die gesag van God in sy boodskap: dit is in kennis wat "tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus". 'n Gesag wat nie noodwendig in sy geografiese en historiese verwysings - in die Bybel as 'n geografiese of historiese bron - lê nie (NGK 2002H:548; NGK 2004A:130-131).

Ten opsigte van die basis van aanvaarding van sy belydenisskrifte sluit die NGKO 1962 aan by Dordt 1618-1619 sowel as ander gereformeerde kerke in die Dordtse tradisie.

Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met Gods Woord bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Enigheid soos vas-gestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik... (NGKO 1964:2).

Hierdie benadering word in 2007 ook verwoord in die legitimasie-verklaring wat voornemende predikante aflê. Hierin verklaar hulle dat hulle glo in die "leer soos vervat in" die drie algemene en die drie gereformeerde belydenisskrifte "omdat dit ooreenkom met die Woord van God" (NGKO 2007:95). Die terme "uitgedruk in" of "vervat in" word hier dus as ekwiwalente gebruik vir Dordt 1618-1619 se "leer begrepen in" (Donner en Van der Hoven sa:325).

Volgens die Algemene Sinode van 1998 beteken hierdie verklaring dat die verklaarder glo dat die belydenisskrifte 'n gesagvolle uitdrukking is van die "gereformeerde geloofsoortuiging" omdat hulle in hulle formulering van die geloof ooreenstem met die Bybel. Hulle is dus Bybels in dit wat hulle bedoel is om te wees: geloofsbelydenisse. Die saak of geloofsoortuiging wat deur die belydenisskrifte verwoord word, is Skriftuurlik en berus op die gesag van die Skrif (NGK 1998H:414,465,517,520). Dieselfde norm geld nie vir elke verwysing, sinspeling of verwysing wat "toevallig" daarin voorkom nie. In hierdie opsig sluit die NGK aan by 'n ander gereformeerde kerk in dieselfde tradisie: die Christian Reformed Church in North America (Engelhard en Hofman 2001:50-51).

In 1962, 1998 en 2007 staan die NGK nog waar sy Buitengewone Kaapse Sinode van 1837 gestaan het. Anders as die Algemene Sinode van 1998 formuleer die Sinode van 1837 minder noukeurig. Hy bly by Dordt as hy ongekwalifiseerd verklaar dat die Drie Formuliere Van Eenheid "overeenkomstig" Gods Woord is. Hierdie woorde klink nie presies soos Dordt 1618-1619 se "begrepen in" nie, maar wil tog Dordt se quia- of omdat-standpunt handhaaf. Ten diepste gaan dit om die saak wat in die NGK se legitimasieverklaring van 2007 voorkom: "omdat" hierdie belydenisskrifte as belydenisse met God se Woord ooreenkom... (NGK in ZA 1858:141,186).

3.2 Gereformeerdwees as 'n kerklike benadering

Die uitdrukking van NGKO 1962 dat die geloof van die NGK "uitgedruk" word in die Drie Formuliere van Eenheid, word soos by die Kaapse Sinode van 1837 gebruik sonder om hierdie bewoording nader te omskryf: as 'n teoretiese stuk of 'n verwysing na die NGK praktyk. By die eerste Algemene Sinode van die NGK was die problematiek oor die kwessie waarskynlik nog nie so helder as by die Algemene Sinode van 1998 en later nie. Gesien in die lig van ons historiese snit van verskeie geloofsinvloede op die NGK, sal NGKO 1962 waarskynlik nie ontken dat dat die praktyk van die NGK verskillende kante het nie, maar aanvoer dat alle kante nie amptelik gesanksioneer kan word nie. Dat die Algemene Sinode dit in die grond van die saak - wanneer dit gaan om sy houding oor Skrif en belydenis - met mekaar eens is.

Teen 2004 het hierdie situasie verander.

Die Algemene Sinode van 2004 gee aan sy Taakspan vir Leer en Aktuele Sake opdrag om 'n studie te doen oor, wat genoem word, die "ingrypende meningsverskil" in die NGK oor die gesag, inhoud en verstaan van die gereformeerde belydenisse en spiritualiteit. Daar moet gekyk word na die gesag én inhoud van Skrif en belydenis, gereformeerde kerkinrigting (in erediens, liturgie en sakramente) en kerkregering (die gesag van die Algemene Sinode en sy verhouding tot sinodes) (NGK 2007A:11).

Hierdie meningsverskil(le) sny so diep dat dit nou "ingrypend" genoem word. 'n Meningsverskil oor Skrif en belydenis wat - anders as in 1962 -die wesenlike of primêre eenheid van die NGK bedreig.

In sy gevolgtrekkings of stellings oor die situasie in die NGK, neem die taakspan standpunte in (NGK 2007A:13-17) wat voor en na 1962 op die NGK toegepas kan word. Stellings wat nie teenoor die verwoordings (amptelik) van NGKO 1962, die Kaapse Sinode van 1837 en die Algemene Sinodes van 1962 en 1998 staan nie. Van 'n ontleding van die "ingrypende meningsverskil" oor Skrif en belydenis is daar egter nie sprake nie. Die taakspan konsentreer op dit wat die NGK se gereformeerdwees syns insiens in beginsel moet wees én is.

Vir die Taakspan is die bekende solas van die Reformasie 'n bondige manier om die kernsake van gereformeerdwees - dus ook vir die NGK - uit te druk. Dit gaan oor die sola scriptura (deur die Woord alleen) wat destyds teen die beweerde gesagvolle Roomse kerklike tradisie in leeruitsprake -soms téénoor die Skrif - gebruik is. 'n Tradisie wat hierdie uitsprake gelyk met en ewe gesagvol as die Bybel stel en die leer van die verlossing van die mens deur die genade, die Woord en die Gees alleen (sola gratia, sola scriptura en die Heilige Gees) verduister. Teenoor die bemiddeling van die Roomse priester stel die Reformasie Christus alleen (solus Christus). 'n Verlossingsboodskap wat die mens alleen deur die geloof (sola fide) sy eie maak.

Die Taakspan plaas hierdie vier solas onder 'n vyfde: soli Deo Gloria. Dit beteken aan God alleen die eer.

Daarby verstaan die Taakspan die werk van die Woord en die Gees as 'n eenheid en die erediens as 'n byeenkoms van Godgeroepe gelowiges waarin die Woord sentraal staan. 'n Byeenkoms wat 'n Woord-weerwoord of 'n Woord-antwoordkarakter het. Die kerk as 'n instelling van die Christelike geloof is vir die Taakspan nie die hele koninkryk van God nie, maar 'n teken daarvan. Daarom het sy boodskap normerende implikasies vir die lewensomvattende koninkryk van God.

Volgens die Taakspan bestaan die eenheid van die NGK nie uit 'n eendersheid in alles nie, maar uit dié gereformeerde kern. Vanuit dié kern moet die NGK reformeer: 'n reformasie wat 'n hersiening van sy verwoording van die solas kan insluit maar nie die idee van konstante kerne in die Christelike kerk se verstaan van God en sy verlossing opsykuif nie.

Hierdie gevolgtrekkings of opsomming word deur die Algemene Sinode van 2007 as "'n riglyn vir ons beskouing oor ons Gereformeerde identiteit" aanvaar. Dit word ook deurgestuur na kerkrade as hulle oriëntasie vir die "plaaslike bediening"(NGK 2007H:89). Die stuk verteenwoordig dus die jongste van die NGK oor sy karakter as 'n gereformeerde kerk: oor die G van die NGK. Dit word - dus ook - geag nie teenstrydig met NGKO 1962 en 2013 (NGKO 2013:1) as die bestaande (geldende) kerkorde te wees nie.

Omdat hierdie standpunt nie die werking van sy belydenisskrifte in die NGK behoorlik verreken nie, handhaaf dit die Bybel uitgesproke as eerste norm vir die NGK (sola scriptura), maar hierdie geskrifte nie noodwendig as die tweede of hieraan ondergeskikte norm nie. As die stuk die Bybel met sy sola scriptura handhaaf, maar nie die werking van die gereformeerde belydenis in die kerklike praktyk uitklaar nie, ontstaan die vraag of die stuk as 'n "oriëntasie" vir die "plaaslike bediening", nie nou die tweede norm word nie? Die probleem lê nie in dit wat die Algemene Sinode in hierdie stuk sê nie, maar in dit wat hy nié sê nie. Tipies van sy kerklike praktyk het die stuk sedertdien egter byna 'n eenmalige, vergete dokument in die NGK geword4. Dit verskraal dus sy moontlikhede as 'n lewende, tweede norm. Sy belydenisskrifte as sy (slegs formele?) tweede norm bly verder in die NGK afhanklik van die goedkeuring van 'n tweederde meerderheid van tweederdes van al die kerkrade, al tien die sinodes en die Algemene Sinode (NGKO 2013:12). Hierdie geskrifte geniet formeel dus steeds voorrang bo hierdie studiestuk.

Aan die ander kant bly die vyf solas 'n baie bruikbare opsomming van die dinamiese karakter van gereformeerdwees. Vanuit die solas as konstantes kom die aansporing tot elke gereformeerde kerk om nie te verstar nie, maar voortdurend te reformeer: ecclesia reformata semper reformanda.

3.3 Gereformeerdwees as 'n kerklike praktyk

Dat die "ingrypende meningsverskil" in die NGK oor Skrif en belydenis nie tot sekere gemeentes van hierdie verband beperk is nie, blyk na 2004 (toe die Algemene Sinode hierdie term gemunt het) ook op die vlak van meerdere vergaderings (ringe en sinodes). Selfs die goedgekeurde stuk oor die gereformeerde karakter van die NGK deur die Algemene Sinode van 2007, is nie oral bekend en dus bemind nie.

Die praktyk van die NGK is nie onbetwisbaar gereformeerd nie. Spore hiervan lê reeds in die besluite van sekere sinodes. Die eerste Algemene Sinode wat van hierdie spore in sy besluite vervat, is die Sinode van 2011. Hierdie Sinode toon in van sy besluite 'n relativerende tendens wat 'n toegif aan 'n ongereformeerde post-modernisme beteken.

'n Veelbesproke besluit wat groot beroering onder Bybelse gelowiges veroorsaak, is die besluit dat sowel lidmate wat ontken dat die duiwel persoonlik bestaan as lidmate wat in sy persoonlike bestaan glo, in die NGK welkom is (NGK 2011A:188; 2011 H 158-159). Die vraag of hierdie besluit bots met artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelyenis (NG Kerk-Uitgewers 1982:15) word nie hier gevra nie. Die houding van die belydenis hieroor is òf onbekend òf skynbaar nie ter sake nie. Dieselfde Sinode staan by die verbondsdoop as 'n belydenis- of kernwaarheid, maar waarborg lidmate wat hiermee verskil, 'n "geestelike tuiste" in die NGK (NGK 2011H:163-164). Ten opsigte van die wetlike bevestiging van huwelike verklaar die Sinode die betrokkenheid van die staat as "verkieslik" by die proses, maar hy wil duidelik nie hierdie standpunt teenoor teenoorstaande standpunte afdwing nie (NGK 2011H:96).

Die gereformeerde belydenis as 'n tweede norm vir die hele NGK, funksioneer op hierdie punte selfs by die Algemene Sinode nie meer bewustelik nie.

Hierdie houding by die Algemene Sinode oor 'n tema soos die doop spruit uit gemeentes, terwyl die onpersoonlike bestaan van die duiwel waarskynlik 'n teologiese liefhebbery van sommige by Leer en Aktuele Sake is. Omdat hulle dit in studiestukke inwerk, beland dit op die tafel van die Algemene Sinode. Nie omdat dit aktueel in sommige gemeentes is nie. Die moontlike onbetrokkenheid van die staat by huweliksluiting is eenvoudig ondeurdag. Die staat is die enigste instansie in die samelewing wat 'n min of meer regverdige oplossing by 'n huwelikskontrak en egskeidings, as laaste die uitweg, kan afdwing. Dit is so omdat die staat en sy howe die reg in die samelewing - en in die huwelik - as die finale waghond toepas. As praat tussen die gelowiges onderling nie meer werk nie, moet die keiser dinge opruim. Hy ruim op met die dwingende fisiese mag van die polisie en die weermag tot sy beskikking (Strauss 1998:28).

In die een en twintigste eeu is daar nie in alle NGK-gemeentes 'n gemeenskaplike Gereformeerde identiteit in kerklike styl en liturgie nie. Oningeligdes kan in sommige gemeentes tot die slotsom kom dat hulle nie in 'n NGK- of gereformeerde gemeente is nie. Die Algemene Sinode van 2007 keur liturgiese grondlyne goed wat deur gemeentes in hulle eie situasie op hulle eie manier toegepas moet word (NGK 2007H:201). Die oortuiging van dieselfde Sinode dat die Woord sentraal in elke erediens as 'n Woord-weerwoordsituasie moet wees, word egter nie oral gehonoreer nie.

3.4 'n Gereformeerde kerk: die naam

Daar bestaan 'n wydaanvaarde tradisie dat die Algemene Sinode van 1962 'n sinode van die NGK is. Dat die naam "gereformeerd" die naam van hierdie kerk is wat sedert 1665 vir die eerste gemeente naamlik Kaapstad gebruik is (vgl byvoorbeeld Van der Watt 1976,1977,1980,1987).

Die uitdrukking "gereformeerd" as deel van die naam van die NGK is by belangrike oomblikke in die geskiedenis van dié kerk amptelik bevestig: deur die Kaapse Sinode van 1842 en die Algemene Sinode van 1962. Wat die kerk in die groter Kaapprovinsie van weleer, die Vrystaat en Natal betref, was en is hy nog altyd die NGK. Wat in 1853 as 'n NGK met net 'n eie, selfstandige organisasie begin het, word na die aanvaarding van artikel 20 van die grondwet van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) sedert ongeveer 1858 die NHK (Nederduitsch Hervormde Kerk) genoem (Dreyer 1936:283)5. Teenoor en naas die NHK sou die eerste algemene kerkvergadering van die NGK in die ZAR in 1866 op Utrecht bymekaar kom. Hierdie kerkverband, soos die NGK in die Vrystaat en Natal, sou aansluiting soek by die Kaapse Sinode van die NGK (Van der Watt 1980:43,176-181).

Ten opsigte van die NGK in Suid-Afrika of Kaapse Kerk is die term "hervormd" as 'n wisselterm vir "gereformeerd" na die voorbeeld van ontwikkelinge Nederland, veral die eerste helfte van die 19e eeu (van ongeveer 1804-1842 vgl Dreyer 1935:417) gebruik. So is die "Provisioneele Kerken-ordre voor de Bataafsche Volksplanting aan de Kaap de Goede Hoop" van regeringskommissaris De Mist in 1804 deur hom aan die destydse goewerneur en Politieke Raad vir goedkeuring vir gebruik deur die staatserkende sogenaamde Hervormde (of NGK, PS) en Lutherse Kerke, voorgelê (Dreyer 1936:9,23). Die notule en reglement van die eerste Algemene Kerkvergadering van die NGK in Suid-Afrika in 1824 praat ook van die "Nederduitsche Hervormde Kerk in Zuid-Afrika" (Dreyer 1936:208, 215). Die besluit van die Kaapse Sinode van 1842 op die naam NGK én die ontstaan van die Hervormde Kerk in die ZAR as 'n afsonderlike kerk, sou die gebruik van "hervormd" vir die NGK eventueel beëindig.

By die Algemene Vergadering van die Hervormde Kerk in die ZAR op 20 November 1865 in Pretoria gee ds Frans Lion-Cachet van die NGK Utrecht kennis dat hulle aansluiting by die Kaapse Sinode soek. Hy noem die keuse tussen gereformeerd of hervormd in die naam van die kerk 'n ernstige saak en geen "woorden zifterij" nie. Hy verwerp die betoog in die Volksraad van die ZAR tydens 'n debat van 3 ure oor die naam van die, nou, staatskerk dat "hervormd" taalkundig 'n suiwerder "Hollandsche uitdrukking" was. 'n Grondwet wat volgens dieselfde woordvoerder "vreemde", "bastaardwoorden" wil vermy. Die gebruik daarna deur ds Dirk van der Hoff van die naam NHK is volgens Cachet "een listig stukje" (toespraak in Dreyer 1936:240).

Vir ds Cachet is die keuse tussen gereformeerd en hervormd na aanleiding van die ontwikkelinge in Nederland 'n keuse tussen Dordtse regsinnigheid en belydenisgebondenheid en die belydenisvryheid van die Algemene Reglement van die Nederlandse Hervormde Kerk in 1816. Hierdie reglement het die Dordtse quia (omdat) verruil vir 'n quatenus (insoverre as wat). Daarmee het die Reglement aan predikante en ander lidmate die vryheid gegee om self te oordeel waar die belydenisskrifte met die Skrif ooreenkom. Vir Cachet, en tereg, was die Nederlandse Hervormde Kerk vroeër bekend as die Vaderlandse Gereformeerde Kerk. Die naam "Hervormd" het onder die invloed van die humanistiese Verligting van 1650 en die Franse Rewolusie van 1779 met sy slagkreet van "vrijheid, gelijkheid en broederschap" sy inhoud en betekenis gekry: daarom dié anti-Dordtse belydenisvryheid. Nederland het ook in 1795 tydelik - tot 1813 - 'n provinsie van Frankryk onder Napoleon geword. Die naam "gereformeerd" is histories Dordts én suiwer Nederlands en die NGK gaan dit handhaaf (toespraak in Dreyer 1936:272-286).

Cachet se saak word versterk deur die houding van Hervormde predikante op hierdie vergadering oor die aanvaarding van die Drie Formuliere. Ds Smits sê dat alleen artikel 8 van die Nederlandse Geloofsbelydenis "de belijdenis onzer kerk duidelijk ... uitdrukt". 'n Artikel wat net oor God-Drieënig handel (NG Kerk-Uitgewers 1982:12). Op sy beurt is ds Van Warmeloo as predikant in die Hervormde Kerk in Transvaal aanvaar sonder dat hy die Drie Formuliere as quia onderteken het. Soos dii Van der Hoff en Smits, het hy dit in Nederland quatenus geteken. Anders as hulle, is hy egter nie deur die aktuarius van die Kaapse Kerk gelegitimeer nie. Cachet bestempel hierdie houding as liberaal. Hy stel ook 'n ondertekeningsformulier vir predikante op die Dordtse lyn vir die kerk in Transvaal voor. Dit word egter met "algemeene stemmen" verwerp. Cachet en sy ondersteuners bly gevolglik om belydenisredes en daarmee gereformeerd meer aanvaarbaar, NG (verslag in Dreyer 1936:282-289; vgl Gerdener 1930:326).

In die grootliks mislukte vereniging tussen die NHK en die NGK in die ZAR in die 1880's, word "gereformeerd" in die kompromisnaam "NH of G Kerk" gehandhaaf. By die gesamentlike konferensie wat die vereniging voorafgaan, is die steun vir beide "hervormd" en "gereformeerd" so groot dat 'n stemming daaroor gelykop is. Die lot word gewerp en val op die naam NH of G Kerk in Suid-Afrika (NH of G Kerk 1882:53; Van der Watt 1980:178). Soos reeds aangedui, word hierdie kerk in die twintigste eeu die "NGK van Transvaal" (NGK van Tvl 1957:480).

By die Algemene Sinode van 1962 van die NGK word "gereformeerdwees" en die Dordtse quia by die ondertekening van die belydenisskrifte opnuut amptelik in die NGK. Hierdie neiging word in 1962 aangevul met die aanvaarding van 'n kerkorde op die spoor van Dordt. NGKO 1962 is volgens een van die opstellers, Koot Vorster, die "Dordtse Kerkorde aangepas by die eise van ons dag" (Vorster 1960:13). 'n Klimaat wat versterk word deur die invloed van 'n Nederlandse Neo-Calvinisme sedert die dertigerjare van die twintigste eeu, op die NGK (Deist 1990:129).

Die voorkoms van die Dordts-Nederlandse gereformeerde lyn in die NGK in 1962 verduidelik die "Nederduitse" reeds gedeeltelik. Daarop word nou verder uitgebrei.

 

4. 'N NEDERDUITSE KERK

Die bestaan van die NGK spruit uit die landing van Jan van Riebeeck en sy 90 mede-Nederlanders in April 1652 aan die Kaap. As lidmate van die Vaderlandse of Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) sou van hulle opgaan in die stigting van die eerste gemeente, Kaapstad, in 1665. Hierna vermeerder hierdie gemeentes om in 2007 meer as 1150 te tel (Strauss 2008:786).

Histories koppel "Nederduitse" die NGK aan die Nederlande, die laer Duitse of lage (neder) landen.

Bloot op grond van die vorming van die NGK aan die Kaap sedert 1665, word die koppeling van die "Nederduitse" met Nederland as staatkundig en histories die bakermat van die NGK, duidelik. Vanuit die Vaderlandse Gereformeerde Kerk as die bevoorregte kerk sover dit die Nederlandse staatsowerheid aangaan, sou die NGK homself in die Dordtse tradisie bevind. Op die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 was daar immers ook Kommisarisse Politiek wat die State Generaal of staatsregering verteenwoordig het (Donner & Van den Hoorn sa:325).

Die staatsbevoorregting van die NGK aan die Kaap sou deur die Nederlandse goewerneurs en die Politieke Raad, deur die Nederlands-Oos-Indiese Kompanjie, voortgesit word. 'n Staatsbevoorregting wat ook sy merk op die kerk in die vorm van godsdiens as 'n gewoonte of sleur, sou maak (Kruger 1957:28-29)6.

Hierbenewens sou Nederlanders van meet af 'n groot deel van die blanke Kaapse nedersetters of die Afrikaners wat hieruit sou volg, uitmaak. Deur 'n sensus is daar in 1806 vasgestel dat daar op daardie stadium 26,720 blankes, 29,256 slawe en 17,657 Khoi-khoi of Khoen-Khoen aan die Kaap was. Onder die - toe reeds erkende - Afrikaners was 37% van Nederlandse, 36-7% van Duitse en 12 % van Franse herkoms. Die Nederlanders en Franse was deurgaans gereformeerd. Boonop moes alle Europese nedersetters by die NGK as die enigste erkende kerk - soos in Nederland - inskakel. In hierdie bediening sou die Khoi-khoi ook verreken word (Giliomee 2003:22).

Teen hierdie agtergrond sou die NGK sy "Nederduitse" karakter behou en ontwikkel. Nadat Afrikaans as Afrikataal selfstandig uit grootliks Nederlands ontwikkel het, sou die NGK as 'n Afrikaanse kerk met sy kenmerkende kerkgeboue dwarsdeur Suid-Afrika, deel van die Afrikanergemeenskap word. 'n Deelwees wat dié selferkende gereformeerde kerk soms voor die ongereformeerde versoeking van 'n volkskerk of 'n kerk met bepalende volkssentimente in plaas van die bepalende konstantes van Woord en belydenis sou laat swig (Strauss 2015:53-75).

Vanuit sy "Nederduitse Gereformeerde" afkoms sou die NGK vir baie jare akademies, dogmaties en ekumenies op gereformeerde Nederland oriënteer. Op sy Dordtse "konneksie" ten opsigte van sy belydenisskrifte en kerkorde is reeds gewys. In die 1970's is die Gereformeerde Kerke in Nederland die enigste buitelandse kerk met wie die NGK "bande" van korrespondensie het. Tot ongeveer 1978 is nagraadse studie aan Nederlandse gereformeerde teologiese sentra aantreklik vir 'n meerderheid Afrikaanse gereformeerde predikante (Strauss 2002:201).

Intussen word die naam NGK as die naam van die sogenaamde apartheidskerk algaande vergeet. Die NGK word in die kerklike wêreld na 1994 en sy eie afskeid aan apartheid met die stuk "Kerk en Samelewing" van die Algemene Sinodes van 1986 en 1990, letterlik wêreldwyd aanvaar. Die isolasie van voor 1994 het omgesit in 'n besige ekumene wat strek tot in die Wêreldraad van Kerke en die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (Strauss 2015:82).

 

5. SLOT

Natuurlik is dit so dat die naam van 'n kerkgemeenskap dikwels geassosieer word met die ervarings wat mense van daardie kerk se lidmate het. Dit is egter nie billik nie. In gereformeerde kerkregering kan 'n standpunt of optrede net ongekwalifiseerd aan 'n kerk gekoppel word as die vergaderings van daardie kerk wat daarvoor getaak is, daarvoor verantwoordelikheid neem. Selfs die voorsitter of skriba - die ampsdraers - van 'n vergadering kan nie namens so 'n vergadering praat of dit modereer nie. In gereformeerde taal geskied amptelike kerklike besluite alleen in vergadering. Een persoon alleen is pouslik en hiërargies (NGKO 2013:6).

NGKO artikel 43 taak die Algemene Sinode om te besluit oor die NGK se gemeenskaplike identiteit, roeping en beleid (NGKO 2013:11). In 1962, by die vasstelling van die naam van hierdie kerk, het dieselfde artikel breedweg die "beleid" wat deur die verskillende samestellende sinodes vir hulle werksaamhede gevolg moet word, aan die Algemene Sinode toevertrou. As die breedste vergadering van die NGK, moet hierdie vergadering besluit oor die naam van dit wat hy verteenwoordig.

So gesien, is die NGK amptelik 'n gereformeerde kerk in die Nederlands-gereformeerde tradisie. 'n Gereformeerde kerk wat juis om daardie rede as geloofsinstelling nie kan stagneer of homself tot net een kultuurgroep beperk nie. In die NGK moet die gereformeerd bepalend wees om waarlik gereformeerd te wees. Daarom kan die "Nederduitse" nie meer wees as wat dit is nie: 'n aanduiding van die staatkundig-kulturele kant van die herkoms van hierdie kerk.

 

BIBLIOGRAFIE

De Jong, O. 1987. Geschiedenis der Kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

Deist, P.E. 1990. Notes on the context and hermeneutics of Afrikaner civil religion. In: J.N.J. Kritzigner, & W.A. Saayman (eds.), Mission in creative tension, (Pretoria: SA Sendingwetenskaplike Vereninging), pp. 124-139.         [ Links ]

Die Kerkbode 24/10/1962.

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A. sa. Acta of Handelingen der Nationale Synode te Dordrecht. Leiden: Donner.         [ Links ]

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A. 1930. Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerk in die Transgariep. Kaapstad: Die Nasionale Pers.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners - biography of a people. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. 1974. Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962. Sl:sn.         [ Links ]

Kruger, B.R. 1957. Die ontstaan van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Pretoria: V en R Drukkery.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

NGK (Nederduitse Gereformeerde Kerk). 1962, 1998H, 2002H, 2004A, 2007A en H, 2011A en H. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn. (A = agenda en H = handelinge).         [ Links ]

NGK in ZA. 1858. Handelingen van de Buitengewone (1837) en Algemeene Synode (1842). Kaapstad: Van de Sandt De Villiers.         [ Links ]

NH op G Kerk (Nederduitse Hervormde op Gereformeerde Kerk) 1882. Notule Verenigde Kommissie. Sl:sn.         [ Links ]

NGK. 1964. Die Kerkorde. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers. (gebruik as NGKO 1964).         [ Links ]

______. 2007. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.         [ Links ]

______. 2013. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.         [ Links ]

NGK van Transvaal (NGK van Tvl). 1957. Handelinge van die sinode. Sl:sn.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers. 1982. Ons glo... Wellington: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1998. God's servant working for your own good. Notes from modern South Africa on Calvin's commentary on Romans 13:1-7 and the state. HTS 54/1 en 2: 24-35.         [ Links ]

______. 2002. Die NG Kerk en sy ekumeniese bande. In: Strauss, PJ et al. Moeisame pad na vernuwing. Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na 'n nuwe relevansie 1974-2002. Bloemfontein: Barnabas.         [ Links ]

______. 2008. Nederduitse Gereformeerde Kerk. In: Gaum, F et al. Christelike Kern-ensiklopedie. Wellington: Bybelkor.         [ Links ]

______. 2013. Kerkwees in die branding. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

______. 2014. Die Algemene Sinode van 2007 en die gereformeerde identiteit van die NG Kerk. NGTT, 55(1), 361-376.         [ Links ]

______. 2015. Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1973. Die Loedolff-saak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1862-1962. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

______. 1976. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1652-1824. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.         [ Links ]

______. 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834-1866. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.         [ Links ]

______. 1980. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.         [ Links ]

______. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.         [ Links ]

VlSSER, J. 1999. Die Kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS Drukkers.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1960. Die kerkorde van die NG Kerke. NGTT 1/4, 12-18.         [ Links ]

 

 

1 Vgl Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, (Visser 1999); Christian Reformed Church in North America (Engelhard & Hofman 2001) en Gereformeerde Kerke in Nederland (Nauta 1971).
2 Onder datum 24/10/1962 skryf die redakteur van Die Kerkbode, die amptelike blad van die NGK, dat die sinodes van die NGK in die verskillende provinsies "in een algemene sinodale verband verenig" onder die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk, Die Kerkbode 1962:564. Hy motiveer nie die naam nie. Daarvoor kan twee redes wees. Met gereformeerd én die weglaat van die geografiese agtervoegsel is die naam nie omstrede nie.
3 Die kerk kan net 'n Christelike kerk wees. 'n Nie-Christelike kerk is geen kerk nie.
4 Kyk Strauss 2014.
5 Die feit dat hierdie naamsverandering via staatsweë kom, laat die NGK Kerkraad van Utrecht in 1882 ontken dat dit op 'n "wettelijke wijze" plaasgevind het, NH of G Kerk 1882:13 Notule Verenigde Kommissie.
6 Aan die Kaap is daar in die jare onmiddellik na 1652 gevalle bekend waartydens die Politieke Raad die kerklike tug met tugmaatreëls soos gedwonge hande-arbeid toegepas het (Strauss 2015:6).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License