SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.35 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.35 no.2 Bloemfontein  2015

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v35i2.14 

RESENSIES REVIEWS

 

 

J.H. Van Wyk, Teologie van die Koninkryk: Studies in Dogmatiek en Etiek (Pretoria: V. & R. Drukkery, 2015). 484 pp. Bestellings by: Die Administratiewe Buro van die GKSA E-pos: bestellings@gksa.co.za ISBN: 978-0-620-66210-9

Die afgelope tyd het verskeie Suid-Afrikaanse teoloë bundels met versamelde werk of oorsigte van hul skryfwerk en lewe die lig laat sien. Mens dink hier aan die vyf-volume Collected Essays/Versamelde Opstelle van D.J. Smit;1A Theological Odyssey: My life in writing en die outobiografie I have come a long way van J.W. de Gruchy,2 en Pathways in theology: Ecumenical, African and Reformed van P. Naude.3 Die bundel opstelle van J.H. van Wyk kan nou hierby gevoeg word. Hierdie werke bied almal nie net interessante en belangrike insae in indiwiduele teoloë se lewe en werk nie, maar ook 'n blik op sistematiese teologiese werk wat die afgelope dekades in Suid-Afrika gedoen is. Die indruk deurgaans is van 'n klein, maar kreatiewe en dinamiese denkgemeenskap.

Die werk van Van Wyk bevat dertig artikels wat die afgelope drie dekades geskryf is en hy beskou die koninkryk van God as die saambindende tema van sy teologiese en intellektuele arbeid en kwalifiseer dat dit vanuit Christus herverstaan moet word in terme van diens. Hy posisioneer homself "ondubbelsinnig binne die reformatoriese tradisie" en beklemtoon dat hy "waar nodig" vernuwend gedink het (2015:ii). Die opstelle, wat oor 'n groot verskeidenheid temas en probleme handel, word in ses afdelings georden: Die Bybel en Openbaring, God en Skepping, Jesus as Christus as Here, Heilige Gees en Koninkryk, Kerk en Apologetiek, Etiek en Spiritualiteit, en die Eskatologie. 'n Inleidende artikel gee 'n uitvoerige bespreking van die aard van Gereformeerde Teologie en die bundel word afgesluit met 'n interessante oorsig van die skrywer se eie akademiese loopbaan, maar ook van die ontwikkeling in sy teologie - van "'n naïewe volksteologie" na "meer kritiese 'volksteologie'" tot by 'n "meer-gereformeerd-kontekstuele" teologie (2015:483).

Deur bloot na die temas te kyk, kom mens onder die indruk van die dialogiese en betrokke, sowel as polemiese en apologetiese karakter van Van Wyk se teologie. Hy tree in gesprek met teoloë soos Augustinus, Calvyn, Barth, König, Jonker en Heyns, maar ook met Boesak, Spangenberg en met die skrywer André Brink. Hy besin en neem standpunt in oor hermeneutiek en fundamentalisme, ateïsme, evolusie, die Pinskterteologie, kerkeenheid, kinderkommunie, en die Nuwe Hervorming. 'n Eerste indruk is van 'n teoloog wat ernstig met die vrae van sy tyd geworstel het.

Dit is baie moeilik om 'n bundel soos hierdie te beoordeel. Aan die een kant wil mens erkenning gee aan 'n teoloog se deeglike arbeid oor baie jare, maar mens moet ook 'n antenna hê vir akademiese vereistes wat uiteraard kan wissel. 'n Kriteriologie sou minimaal na die volgende moet vra by akademiese werk: Watter verstaan van die sosiale horison is onderliggend aan die besinning? Watter mate van katolisiteit word vertoon in terme van die breër Christelike visie en hoe grondig is die ingeligtheid t.o.v. die stand van navorsing oor elke tema? Hoe word alteriteit (d.w.s. die stemme van diegene wat uitgesluit is in die geskiedenis) verreken? Hoe oorspronklik is die besinning en watter nuwe insigte word gegenereer? Mens sou uiteraard op hierdie voorlopig moet antwoord en slegs - weens die beperkte ruimte - enkele voorbeelde kon noem.

In Van Wyk se behandeling van "Skepping en ewolusie" (oorspronklik 2003) is dit opvallend dat hy met van die bekende - en ouer - name in die geloofwetenskap vertroud is. Mens mis gesprek met natuurwetenskaplikes self (by Dawkins word slegs sy God Delusion vermeld!), en van die jonger geslag denkers oor geloofwetenskap is afwesig. Hy kom tot die konklusie dat konkurrensie tussen teologie en natuurwetenskap nie wenslik is nie. Die artikel vertoon so 'n angsvalligheid met die vraag watter ruimte die gereformeerde konfessies toelaat (2015:132) dat sy eie standpunt vaag bly en die artikel basis niks tot nuwe kennisgenerering bydra nie.

Die artikel oor die Pinksterbeweging (oorspronklik 1986) vertoon die tipiese trekke. Daar word na 'n groot klomp bronne verwys, maar 'n oop luister na Charismatiese Teoloë self is afwesig. 'n Verstaan van die psigo-sosiale en geestelike dinamika hier word nie begryp nie (sien bv. die beweerde verband met Politieke Teologie [2015:181]!) en daarom is sy konklusie tot groot mate afwysend.

Van Wyk se benadering tot die post-apartheid situasie is insiggewend en mens kry 'n indruk daarvan in die artikel "The church in the South African context of crime and violence" (oorspronklik 2005). Weereens is die artikel ingebed in 'n stand van refleksie, maar weer eens eensydig. Hier is minimale luister na swart stemme en die standpunt vertoon baie min begrip van die worstel om transformasie te laat slaag in 'n post-apartheid bedeling.

My waardering vir hierdie intellektuele arbeid is voorlopig en mens sal die sogenaamde kriteriologie op elke artikel moet toepas. Tog bly ek ietwat ambivalent. By nadere beoordeling blyk Van Wyk se gesprekswêreld te klein, en sy standpunte net te versigtig en te voorspelbaar. Daar is behoefte aan ruim teologie vandag, wat met ander Christelike tradisies omgaan en selfs met ander godsdienste, en intensioneel na gemarginaliseerde stemme luister; wat nie bestaande en geykte idees net weer kompileer nie, maar nuwe perspektiewe open vir 'n drasties veranderende wêreld. Ten spyte van my min entoesiasme vir die tipe teologie wat Van Wyk bedryf, beveel ek die bundel aan om gelees te word. Daar is 'n erns in die werk wat nie gemis moet word nie en waarvoor Van Wyk erkenning verdien.

Prof. Rian Venter
Departement Dogmatologie
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein

 

 

1 Smit, D.J. 2007-2013. Collected Essays/Versamelde Opstelle. Vyf volumes. Stellenbosch: SUN MeDIA.
2 De Gruchy, J.W. 2014. A theological odyssey: My life in writing. Stellenbosch: SUN MeDIA; 2015. I have come a long way. Cape Town: Lux Verbi.
3 Naudé, P. 2015. Pathways in theology: Ecumenical, African and Reformed Stellenbosch: SUN MeDIA.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons