SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.35 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.35 no.2 Bloemfontein  2015

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v35i2.1 

Onderhoud met Edwin Arrison1

 

 

Helené van Tonder

Donderdag, 1 Oktober 2015, Stellenbosch

 

 


ABSTRACT

The thirtieth anniversary of the Kairos document in 2015 served as a stimulus for various events reflecting on this historical document and subsequent movement. Among these were the Kairos 30 conference (Johannesburg on 17-20 August) and a colloquium which reflected on the theme "The challenge of prophetic theology for theology today" (Volmoed, Hermanus, 27-29 September). This interview was conducted in the aftermath of these events with Edwin Arrison. He is the General Secretary of Kairos Southern Africa, a minister of the Anglican Church, and chairperson of the Centre for Christian Spirituality in Cape Town.


 

 

Die dertigste herdenking van die Kairos dokument in 2015 het gedien as stimulus vir verskeie geleenthede waartydens gereflekteer is op hierdie historiese dokument en die beweging wat daaruit ontstaan het. Die Kairos 30 konferensie (Johannesburg, 17-20 Augustus) is 'n voorbeeld van so 'n geleentheid, asook 'n kollokwium (Volmoed, Hermanus, 27-29 September) wat reflekteer het op die tema "Die uitdaging van profetiese teologie vir teologie vandag."

Hierdie onderhoud met Edwin Arrison is gevoer na afloop van dié geleenthede. Hy is die Algemene Sekretaris van Kairos Suider Afrika, 'n predikant in die Anglikaanse Kerk en voorsitter van die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Kaapstad2.

 

 

Helené: Ek het gedink ek wil begin deur te vra waar jy in 1985 was toe die Kairos-dokument geskryf is. Daardie vraag hou natuurlik ook verband met hoe jy by die Kairos-beweging betrokke geraak het. Dus, een vraag met twee bene.

Edwin: Ja, in 1985 was ek twintig jaar oud en ek was 'n jeugwerker vir die Anglikaanse Kerk. Ek het in 1984 opleiding gekry by Koinonia3 in (Kwazulu) Natal, en het toe jeugwerk en ekumeniese werk gedoen. Rondom Junie 1985 het ons 'n black theology kollokwium daar gehad. Destyds was daar baie van hierdie tipe kollokwiums, so ons het 'n black theology kollokwium gehad by Koinonia tussen Pietermaritzburg en Durban. Mense soos Albert Nolan, Molefe Tsele en Frank Chikane het toe hierdie dokument vir ons gebring. Hulle wou graag hê die jongmense moet ook betrokke wees daarby en hul mening gee daaroor. En dis waar ek dit vir die eerste keer gelees het in konsepvorm - dit was toe nog nie vrygestel nie. Ons is nooit gevra om amptelik ons handtekeninge daarby te voeg nie; ons is nie gevra om dit te doen nie. Maar ek kan onthou toe ons die dokument lees - ek kan tot vandag toe nog my reaksie onthou - dit was presies wat ek altyd graag wou sê, maar ek het nooit die woorde daarvoor gehad of die raamwerk daarvoor gehad nie. So daardie dokument was baie lewendig vir my. Natuurlik, 'n maand na die Kairos-dokument vrygestel is, is baie van ons by ons huise kom haal 04:00 in die oggend, en aangehou in die Victor Verster gevangenis waarheen ons vanmiddag gaan.4 Ons was daardie jaar Kersfees in die tronk gewees. So dit is hoe my '85 gelyk het. Ek was 'n aktivis, 'n jeugwerker, en 'n ekumeniese werker, ja.

Helené: En kan jy dalk ook vir my vertel hoe jy die eerste reaksies op die dokument beleef het? Uit die aard van die saak was daar 'n gemeenskap wat dit onderskryf het en gemeen het die dokument praat namens hulle. Maar daar was ook teenkanting. Hoe onthou jy dit? En hoe het jy sin gemaak daarvan op daardie stadium binne die politieke situasie?

Edwin: Ek was nie verbaas oor die negatiewe reaksie nie. Ek kan onthou die Sunday Times het 'n volblad, dink ek, reaksie gehad van aartsbiskop Philip Russell en biskop Peter Storey. En ek onthou die hewige negatiewe reaksies van hulle kant af. Ons was nie verbaas daaroor nie; ons het gedink dit sal so wees. Maar ek was twintig jaar oud. Ek het nog nie enige teologiese opleiding of enigiets gehad nie. Ek het maar die oppervlak van wat gebeur het verstaan en het steeds gevoel ons doen die regte ding - dat dit nie net gaan daaroor om te sê dat jy teen apartheid is nie; dit gaan oor spesifieke aksies wat jy neem om dit wat jy sê (te bevestig en te ondersteun). En vir my was dit die mees outentieke manier om 'n aktivis te wees. Maar ek was letterlik heeltyd bewus daarvan dat daar mense in my eie gemeente was (wat ons nie ondersteun het nie). Ek bedoel ek het een Sondagoggend, kan ek onthou, kerk toe gegaan. Die Anglikaanse kerk waarheen ek gegaan het was 'n baie groot gebou so daar was maklik 600 mense daar, jy weet, en mense het taamlik goed aangetrek en so aan. Toe gaan ek met 'n UDF t-hemp kerk toe. En die UDF t-hemp was baie geel so mense kon dit maklik en duidelik sien, en agterop het gestaan "UDF unites; apartheid divides." En daar was mense wat gevoel het dat ons politiek in die kerk wou inbring - veral die persone wat in die leierskap was. Nie die predikant soveel nie, maar eerder die leke-mense. Ons het net gevoel daar is nie vir ons spasie om ons eie perspektief te deel nie. So ek was ... ons as jongmense was in die plaaslike gemeente eintlik die minderheid en die gemarginaliseerdes op baie vlakke, natuurlik, maar ook op die politieke vlak ... (in ons poging) om die politiek en teologie bymekaar te bring. Ons het nie noodwendig die sofistikasie gehad om dit te verduidelik nie, maar ons het in ons siele gevoel dat dit die regte ding is wat ons doen, en dat ons nie net moet praat oor non-violence nie, maar dit werklik moet doen. Onthou, ek was een van die mense wat genader is deur mense in die ondergrondse ANC om by hulle aan te sluit. En my reaksie was: nee, ek wil in die non-violent struggle betrokke wees. My vriende - Ashley Kriel, byvoorbeeld, was 'n vriend van my - hy is doodgemaak in daardie laat tagtigerjare. Ek kan name onthou, en ek kan die gesprek sien met Ashley op Bontheuwel eendag toe hy vir my gevra het: wil jy nie by ons kom aansluit nie? En my reaksie was nee. Ek wou aktief by non-violent aktiwiteite betrokke wees.

Helené: En jy sal sê dat dit deur die taal is wat Kairos vir jou gegee het dat jy jouself kon posisioneer - tog in die struggle maar op 'n ander manier? En dat dit Kairos is wat jou gehelp het om daardie besluit te neem?

Edwin: Ja, absoluut, absoluut. Dit is 'n baie goeie uitdrukking daarvan. Kairos het vir ons die taal gegee, woorde gegee om ons aktivisme ook 'n teologiese grondslag te gee. Jy moet onthou, ek kom uit die kerk uit. My aktivisme was maar altyd deur die kerk. Ek was die president van Interchurch Youth (ICY) in daardie tyd, ek het gewerk vir The Ecumenical Action Movement (Team) en ons het altyd probeer sinmaak vanuit 'n geloofsperspektief van ons rol. En ons het natuurlik senior mense gehad wat altyd daar was om vir ons leiding te gee. Allan Boesak was altyd daar. Selfs Chris Nissen, wat natuurlik nou heeltemal 'n besigheidspersoon is - hy was ouer as ons gewees - en so aan. So hierdie mense was altyd daar - Oom Bey. Ek kan onthou in 1986... ek het 'n baie goeie verhouding gehad met Sue van der Merwe - die vrou van Tiaan van der Merwe wat in die parlement was. En toe, voor hulle ons kon arresteer in 1986 het Tiaan na ons huis toe gekom en gesê: "Jou naam is op die lys. Jy moet verdwyn." En ons het onmiddellik verdwyn, jy weet, niemand kon ons kry nie. Ons het beweeg van een huis na die volgende. En toe uiteindelik het ons Johannesburg toe gery na die Suid Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se konferensie toe. Maar ons is ook genooi deur die Wêreldraad van Kerke om Harare, Zimbabwe, toe te gaan. So ons het geweet ons name is êrens op 'n lys en ons gaan gearresteer word. Toe ontmoet ons met Oom Bey, en ons vra toe vir hom wat ons moet doen. Wat dink hy? En Oom Bey se woorde was net: julle moet julle eie besluite neem. Daar is risiko's. Ek gaan nie vir julle besluit nie. Julle moet besluit of julle daardie risiko's gaan neem of nie. En ons het toe besluit om dit te neem ... En dit was toe my tweede keer... wat ek vir 'n lang tyd... ek bedoel, my eerste stint by Victor Verster [gevangenis] was vir 71 dae, en die tweede keer was, ek dink, 66 dae. Maar die aand toe ons Zimbabwe toe vlieg, toe gaan ek deur al die sekuriteit by die lughawe, en ek was in die bus op pad na die vliegtuig. Toe kom twee jong sekuriteitsmanne na die bus en hulle soek toe vir Edwin Arrison. Ek het eers nie geantwoord nie, maar op die ou einde het ek, en hulle sê toe: "Klim asseblief af en bring jou bagasie saam met jou." Toe neem hulle my terug lughawe toe, en bel mense en sê: "Ons het hom gekry." En toe is ek vir 5 dae in Kempton Park polisiestasie se selle aangehou, en daarvandaan het hulle my Kaap toe gebring, en toe weer Victor Verster (gevangenis) toe. Dit was, soort van, ernstige aktivistiese dae, jy weet, maar die geloof was altyd vir my 'n tipe fondasie. Oom Bey was 'n groot voorbeeld vir ons. Toe ons gearresteer is... en dit was vroeër in 1985 toe ons 'n optog gehad het na die parlement toe ... Ons het van die Metodiste Kerk (wat nou die Distrik Sesmuseum is) na die parade se kant toe geloop op pad Parlement toe. Net so voor die stadsaal het die polisie ons gestop. Maar dit was 'n stil-optog, en ons het besluit dat as ons gestop word ons net gaan kniel. Ons het almal gekniel en ons het almal begin sing. Ek was seker so in die sewende of agste ry. En so het hulle ons almal kom arresteer en ons na Caledonstraat se polisiestasie geneem. En Oom Bey was daar tussen ons daardie dag. Ek sal nooit vergeet hoe hy ... toe ons almal daar staan daardie dag, toe sê hy... hy was 'n redelike lang persoon, en ons was kort teenoor hom. Hy het 'n presence gehad, jy weet... Toe sê hy net: "Laat ons bid. Let us pray."

Helené: Dit was nou terwyl julle in die tronk was?

Edwin: Toe ons in daardie groot sel was, ja. Wat ek kan onthou is die polisiemanne wat so rond gestaan het. Hulle het hulle pette afgehaal en hulle het saam met ons gebid. So dit was vir my altyd hierdie interessante dinge wat gebeur, en ek het besef hulle is ook mense van geloof. En hulle het seker gedink dat dit wat hulle doen reg is. Of hulle het instruksies gekry; hulle was so opgelei. Maar toe Oom Bey sê, "Laat ons bid," toe haal hulle hulle pette af en bid saam met ons. Maar ons is daardie aand weer vrygelaat en ons moes die volgende dag in die hof verskyn. Dit was, ja, die tyd ... en soos ek sê, die Kairos-dokument het vir ons 'n basis-dokument (foundational document) geword om te sê: As jy wil weet waar ons en waar die kerk staan, hier is die dokument. Dit is ons woorde. Dit was 'n goeie hulpbron, eintlik.

Helené: Nou wil ek 'n bietjie spring in tyd. Op die ou end toe Kairos Suider-Afrika in 2011 as 'n beweging gestig is - dit is nou baie jare later - wat het in daardie tussen-in periode gebeur? Of miskien meer spesifiek: wat het daartoe aanleiding gegee dat Kairos Suider-Afrika gestig is, en watter rol het jy daarin gespeel? En op watter manier het jy jou geroepe gevoel om ook 'n rol daarin te speel?

Edwin: Dit is baie interessant. Die Christene in Palestina het gesê dat hulle deur ons dokument geïnspireer is, en hulle wou ook hulle eie Kairos-dokument skryf. So in die jaar 2009 was ek twee keer in Palestina om hulle te ontmoet en met hulle te praat. Hulle het vir ons die konsepdokumente gegee, en so aan. Hulle het vir ons gesê hulle is deur ons geïnspireer, en ons is toe weer deur hulle geherinspireer. Hulle sou vir ons kom kuier het in 2011, en dit was toe die tyd wat ons besluit het om 'n Kairos SA beweging te begin. Eintlik moet ek sê, natuurlik, ons het eers baie gedink daaraan om te werk met bestaande organisasies, maar dit het nie so uitgewerk nie. Ons het gevind dat mense se fokus êrens anders was, en dit was net nog 'n ding wat hulle dan sou byvoeg. Ons het gevoel daar is iets nodig wat spesifiek net kon fokus op die nalatenskap van die Kairos-dokument van 1985, en ook die nuwe werk saam met Kairos Palestina. Ons het toe ... daar was 'n groot debat eintlik, en aan die einde van die dag het 'n paar van ons gevoel ons moes dit doen. Dié mense wat gevoel het ons moet dit nie doen nie het later na ons toe gekom en gesê: "Julle was eintlik reg. Julle moes dit begin het." Want Kairos het toe uiteindelik amper iets soos 'n handelsmerk geword, en mense kon daarmee identifiseer omdat daar die institusionele geheue was van die 1985 dokument. En daar was nou die nuwe beweging met Kairos Palestina. En voor dit was daar natuurlik Kairos Zimbabwe, Kairos Kenia, Kairos Indië. Daar was Kairos Centro Americano. Hierdie dokumente het almal oor die jare ontwikkel as deel van die Kairos-beweging. Maar ons het gevoel ons kom 'n naam kort - nie noodwendig 'n struktuur nie, maar 'n naam wat ons bymekaar kon hou. En dit was die sambreel Kairos SA. En so terloops, dis nie Kairos Suid-Afrika nie, maar Kairos Suider-Afrika. Ons het gevoel ons wil aspirerend wees, en dat ons nie net op Suid-Afrika moes fokus nie, maar ook op die hele Suider-Afrika. Ons is nog nie heeltemal daar waar ons wil wees nie. Maar by die laaste Kairos 30 konferensie was daar verteenwoordigers van ten minste sewe lande van Suider Afrika. Ons gevoel was dat ons ons naam moet behou en help om dinge te koördineer in Suider-Afrika.

Helené: Ek besef dit is eintlik baie spesifieke en verskillende verhale, maar ek het gewonder of jy dalk een daarvan kan vertel: hoe het die proses van, byvoorbeeld, Kairos Zimbabwe of Kairos Indië verloop, en hoe is daardie dokumente geskryf? Ek aanvaar daar was delegasies wat met julle geskakel het, en eintlik so die bewegings aan mekaar gekoppel het. Hoe het dit gebeur? Natuurlik weet ons dit was van die begin af 'n dokument waarvan die wêreld kennis geneem het, maar dan was daar tog spesifieke omstandighede of kontekste waarin die dokument op unieke maniere grondgevat het. Hoe het dit gebeur?

Edwin: Ja, kyk, die Kairos-dokument is onder die vaandel van die Institute for Contextual Theology (ICT) gebore. En ek was op die raad van die ICT vanaf 1988, uiteindelik, maar ek was nie 'n personeellid nie. So ek ken nie al die detail van hoe mense met mekaar geskakel het nie. Maar ek weet wel wat gebeur het is dat nä die Kairos-dokument vrygestel is, het party Evangelicals gevoel hulle moet hulle eie dokument skryf. Die taal van die Kairos-dokument was nie heeltemal hulle taal nie. So daar is toe 'n Evangelical Witness geskryf en ook 'n Pentecostal-dokument, en dit is almal nou beskikbaar op die web.5 Dit was mense binne Suid-Afrika wat gevoel het hulle wil hulleself identifiseer met die Kairos-dokument, maar tog dat dit nie heeltemal praat met die groep waarmee hulle werk nie. Hulle wou in ander woorde en ander taal gepraat het. Dan was daar die Road to Damascus-dokument wat natuurlik toe 'n globale dokument was. Onthou daardie jare was daar baie kontak tussen Suid-Afrika en Suid-Amerika - veral Nicaragua. Nicaragua was 'n groot punt. Daar is 'n boek, The Gospel in Solentiname, wat deur Ernesto Cardenal geskryf is. Daardie tipe boeke het die base communities baie gevoed. Ons het gedroom daarvan om daardie tipe base communities in Suid-Afrika te hê waar mense hierdie vrae kon bespreek en so aan. Maar, jy weet, minder as vyf jaar nadat die Kairos-dokument vrygestel is, is Madiba vrygelaat - 1990. En onmiddellik was daar 'n hele nuwe gees, wil ek amper sê. Die gevoel van baie was: ons het ons doel bereik, en daar is amper nie meer die noodsaaklikheid van 'n Kairos-beweging nie. Dit was natuurlik verkeerd, want die kwessies waarmee ons geworstel het - soos rassisme en armoede en menswaardigheid en die tipe spiritualiteit van Christene -dit was nog steeds daar. Dit was nie asof dit net oornag verdwyn het nie. Dit was nog alles steeds daar. Maar ek dink veral die exiles wat huis toe gekom het en die ouens van Robbeneiland wat ook huis toe gekom het, het gevoel dat hulle meer ondersteuning as kritiek wou hê. En baie van ons mense het toe begin werk in die staatsektore. Die staat het begin soek na sekere mense om te kom help - soos Frank Chikane. Hy was in daardie tyd die Algemene Sekretaris van die SARK, so hy het 'n groot instelling hanteer en hulle het gevoel hulle kan hom vat. Ook Jakes Gerwel, wat die rektor by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) was - hulle het gevoel hulle kan hom vat. So van ons top aktiviste het toe oorgegaan na die regering toe. Dit was nogal 'n moeilike tyd gedurende daardie jare. Die enigste tyd wanneer daar gepraat kon word oor die nuwe konteks waarin Kairos nou beweeg, was met die Waarheids- en Versoeningkommissie toe Desmond Tutu en sy komitee al die kerke en kerkgroepe gevra het om te kom getuig. En dit is ook beskikbaar en ook op die web. Wesley Mabuza het daar gepraat namens die ICT. Ongelukkig kon hy dit nie verwoord kry dat ons nou iets nuut moet doen in hierdie nuwe konteks nie. Hy het nog steeds gesê dat ons krities moet wees... so nog steeds in die ou modus, die anti-apartheid modus, maar dit was toe al 'n nuwe situasie. Dit was nie toe meer apartheid nie, so jy moes toe al gedink het aan hoe die pad vorentoe gaan lyk met Kairos. Ek dink nie hulle kon die regte woorde vind om dit te doen nie. Die hele idee van Kairos-teologie het toe 'n bietjie gesterf, dink ek, gedurende daardie tyd. Daar was 'n klein groepie wat aanhou ontmoet het, en hulle het hulself die Kairos-teoloë genoem. Maar hulle was nie baie effektief nie, alhoewel dit 'n goeie oorblyfsel (remnant) was. Eers na die loodsing van die Kairos Palestina-dokument het die Kairos-beweging hier weer nuwe lewe gekry. Ons is definitief geïnspireer deur hulle. Ek wil net een ding noem van daardie tyd: Mark Braverman van Kairos VSA was ook hier in 2011. Die Palestina-delegasie het gekom, en hy het toe uit die VSA gekom. Mark het toe met 'n klompie teoloë in Suid-Afrika gepraat en sy vraag aan hulle was: hoekom is julle so bekommerd oor Palestina? Julle het julle eie uitdagings hier, soos armoede en so aan, hoekom Palestina? En hy het 'n paar antwoorde gekry. Een was natuurlik dat hulle in solidariteit was met ons, en dat ons ook nou in solidariteit wil wees met hulle. Maar dit was nie die belangrikste ding nie. Die belangrikste ding wat hy gehoor het is dat hulle gesê het: Palestina gee vir ons energie en tyd. Dit neem nie energie en tyd weg nie. En dis hoe die idee van "Palestine in our back yard" ook ontwikkel het. Ons is in solidariteit met mense wie se gemeenskap amper op die oomblik uitgewis word ... mense gebruik verskillende woorde ... party mense gebruik die woord genocide. Iemand het selfs die woord sociocide begin gebruik. 'n Hele gemeenskap word ontwrig en uitgedryf uit hulle land uit. Ek dink dis die teologiese ding: wanneer ons in solidariteit staan met die mees onderdruktes, mense wat namens andere ly, dan staan ons waar Christus staan en dis waar ons ons energie vandaan kry. Ons het dit toe prakties gesien hier in Suid-Afrika ... aan die einde van 2011 het ons 'n brief aan die ANC geskryf, want hulle sou in 2012 hulle 100-jarige bestaan vier. Ons het skielik krag gekry vir alles... om die sosiale kwessies in Suid-Afrika aan te spreek, en die leiers aan te spreek - die politieke leiers veral - en op dieselfde tyd kon ons sê dat ons die Christene in Palestina ook moet ondersteun. Ek sê nou Christene in Palestina, maar miskien moet ek ook noem dat hulle ons vennote is, natuurlik. Maar die Christene in Palestina is baie min, en almal word onderdruk (nie net die Christene nie). So ons benadering is nie net om met Kairos Palestina saam te werk nie, maar ook met die hele burgerlike samelewing ("civil society"). In die proses kry ons energie van mekaar.

Helené: Miskien 'n laaste vraag: in die tyd wat ons in Volmoed was en ook veral baie oor profetiese teologie gepraat het, het jy op 'n stadium vertel hoe julle die Kairos 30-kongres beplan het en ook verwys na die besondere aandag wat julle gegee het aan die beplanning van die metodologie. Uit die aard van die saak is dit nou 'n ander konteks en is dit ander mense wat saamdink oor Kairos en wat dit beteken. En nou wonder ek, vir jou wat die hele pad van Kairos meegemaak het, wat was die verrassende elemente wat tydens die konferensie na vore gekom het? Of anders gestel: watter betekenis wat mense vandag daaraan heg het jou opgeval? En was daar enigsins iets verrassend? My vraag is eintlik 'n baie oop een oor jou ervaring (van die Kairos 30 konferensie).

Edwin: Nee, kyk, ons kan ongelukkig heeldag daaroor praat, en ek probeer dit net so klein as moontlik hou (ter wille van die beperkte tyd wat ons het vir die onderhoud). Een van die dinge wat ons net voor die Kairos-konferensie gedoen het, was 'n week van vas en gebed. Baie mense het hieraan deelgeneem en by ons aangesluit. Ons het gevoel dat ons nie net op ons eie krag kon staatmaak om hierdie ding te doen nie, en dat ons regtig iets anders nodig het. Ons het vir mense gevra om te reflekteer oor 'n vraag. Die vraag was of ons vandag 'n soortgelyke Kairos ervaar. Ek dink baie mense was verbaas. Baie mense kyk na die Kairos-mense en dink "ag, dis net 'n klomp aktiviste." Maar eintlik is daar 'n diep spiritualiteit onder die Kairos-aktiviste. So ons het daardie week gehad, en in daardie week het daar 'n hele klompie goed gebeur waarvan ek heeltemal onbewus was. Byvoorbeeld, ek het skielik daardie week besef iemand soos Jeremiah Wright kom na die konferensie toe. Ek weet nie of jy vir Jeremiah Wright ken nie, maar hy was Barack Obama se pastoor vir 20 jaar in Chicago. En Obama het hom redelik eenkant toe gestoot toe hy president geword het. Vir my was dit wonderlik om te hoor dat hy na die Kairos-konferensie toe kom. So daar was baie interessante mense wat almal by die konferensie was. Die ding wat vir my baie, baie goed was, is die feit dat daar drie verskillende generasies was. Daar was die 60-, 70-, 80-jariges wat natuurlik ons elders is. Daar was die 40-, 50-jarige groep wat vandag die teoloë is wat in die universiteite klasgee. En dan het ons heelwat jongmense daar gehad. Die interaksie tussen dié drie was vir my wonderlik. Ouer mense - en nou praat ek nie van mense wat so bekend is nie, maar mense soos Zack Mokgoebo6, Wesley Mabuza en 'n paar ander - het met trane in hulle oë na my toe gekom en gesê hoe bly hulle is dat die konferensie gebeur het. Daar was iets spesiaal, en vir hulle het dit nuwe hoop gegee, jy weet. Ek was bly om dit te sien gedurende die konferensie self. Die week voor die konferensie het ons nie geweet of die burgermeester ons gaan ontvang nie, en skielik daardie Vrydag voor die konferensie gaan al die deure toe oop, en hy (die burgermeester van Johannesburg, Parks Tau) het toe besluit om ons te ontvang in die Sandton Convention Centre. Party mense was 'n bietjie krapperig daaroor, maar ons het net gevoel ons moet gaan. Ons moet ook vier - dis die ding wat Ernst Conradie nou die dag genoem het by Volmoed. Hierdie dokument kom uit Soweto uit, dit kom uit Johannesburg uit, en dis die stad wat dit moet vier. So ons het daardie vieringe saam gehou. Ek het gehelp werk aan die program, maar skielik het ons gehoor die burgermeester wil graag hê ons moet 'n Marikana-herdenking hou daardie aand in die Sandton Convention Centre. Dit was fantasties! Ons en die burgemeester saam kon toe die kerse aansteek, bietjie sing, en 'n oomblik van stilte hou. Ek het toe sommer die burgermeester daar van die podium af genooi en gesê dat ons die volgende aand 'n diens het in Regina Mundi, en dat hy welkom is om te kom. En hy het gekom! Hy en sy vrou het albei na die diens in Regina Mundi gekom, en daar tussen die mense kom sit. So daar was - ja, ek kan lank hieroor praat - daar was 'n hele klompie klein, interessante goed wat gebeur het gedurende die konferensie wat vir my regtig laat voel het dat ons iets reg doen hier. Mitri Raheb van Palestina se toespraak oor "Kairos and empire", dink ek, was dié toespraak wat die hele konferensie gedraai het. Hy was briljant - hy het 'n staande ovasie gekry. En as jy kyk na die finale verklaring sal jy sien dat daar gepraat word oor "hardeware" en "sagteware", oor "empire" en dat die huidige politieke staat Israel nie dieselfde staat is waaroor in die Bybel geskryf word nie. Hulle gebruik dieselfde woord, en ongelukkig is daar baie mense wat dink dit is dieselfde ding, jy weet - we must support Israel - en dat dit dan beteken ons moet die staat Israel ondersteun. Maar Mitri Raheb het gepraat oor okkupasie en "empire" - die Siriese ryk, die Babiloniese ryk, die Romeinse Ryk, die Ottomaanse ryk, ens. Hy het gesê dat ons vandag onder 'n nuwe ryk staan, en as dit net 'n konflik tussen Israel en Palestina was, dan was dit lankal uitgesorteer - dit is nie die probleem nie, het hy gesê. Maar daar is iets groter aan die gang, en ons moet bewus word van die groter dinge wat gebeur - die makro- en die meta-dinge wat aan die gang is. En dan moet ons hulle as kerk natuurlik soveel as moontlik ondersteun. So ja, daar was baie verrassings. John de Gruchy het ook natuurlik elke oggend 'n meditasie gelei, en die eerste oggend het hy ons heeltemal verras toe hy sê dat die Evangelie van Markus die eerste Kairos Palestina-dokument was, jy weet. En ons het net gesê: "wow, ons het nog nooit so daaroor gedink nie!" Maar Mitri Raheb het dit bevestig deurdat hy gesê het dat Jesus se koms die kairos-oomblik was - dit was dié kairos-oomblik. En ons doen net een ding vandag, het hy gesê: "We're playing catch-up." Dit is ook waarom die finale verklaring sê dat Jesus se oproep vir die koninkryk van God dié ding is waarop die kerk vandag moet fokus, en ons is nie seker of die kerk dit tans doen nie. Die kerk is dalk te veel aan die "empire" gekoppel en kan in werklikheid nie die koninkryk uitleef en beliggaam nie. Dit is in die finale verklaring van die konferensie.

 

 

1 Edwin Arrison is die Algemene Sekretaris van Kairos Suider Afrika, 'n predikant van die Anglikaanse Kerk en voorsitter van die Centre for Christian Spirituality in Kaapstad.         [ Links ]
2 Vir meer inligting oor die Kairos-dokument, Kairos Suidelike-Afrika, Kairos Palestina, en Kairos 30 sien www.kairossouthernafrica.wordpress.com en www.kairospalestine.ps
3 Koinonia Sentrum, waar die National Youth Leadership Training (NYLTP) pro-gramme aangebied was, is geleë in die "Valley of a Thousand Hills" tussen Durban en Pietermaritzburg.
4 Na afloop van die kollokwium by Volmoed was daar 'n Dietrich Bonhoeffer-konsultasie te Stellenbosch met verteenwoordigers uit Afrika en Suid-Amerika. Die deelnemers het die Drakenstein Gevangenis besoek, en die huis waar Nelson Mandela die laaste maande van sy gevangeneskap deurgebring het voordat hy in Februarie 1990 vrygelaat is.
5 Sien http://ujamaa.ukzn.ac.za/Libraries/manuals/The_Ka/ros_Documents.sflb.ashx
6 Daar is 'n interessante onderhoud met Zack Mokgoebo in die boek Cultivating Seeds of Hope wat vir Beyers Naude se 100ste verjaarsdagviering uitgereik is.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons