SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 número2 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.34 no.2 Bloemfontein  2014

http://dx.doi.org/10.4314/ACTAT.V34I2.15 

RESENSIES/REVIEWS

 

Jordaan, G.J.C. 2014. Die Binnewerk van Antieke Grieks. Die semantiek van grammatiese konstruksies. Handleiding vir eksegete en ander studente van Klassieke en Nuwe-Testamentiese Grieks. Potchefstroom: teologiese publikasies. ISBN 978-0-86955-219-3

 

 

Die outeur som self die inhoud (en waarde) van die boek op wanneer hy in sy voorwoord skryf dat die boek "meer as net nóg 'n Griekse grammatikaboek is. Dit is bedoel as naslaanwerk vir studente, filoloë en eksegete, as hulpmiddel om betekenis-skakerings wat dikwels in die grammatikale konstruksies van 'n Griekse teks 'versteek' is, te ondersoek" (Jordaan 2014:viii). In Die Binnewerk van Antieke Grieks word aandag aan die gebruik van werkwoord- en naamwoordkonstruksies geskenk. In hierdie aanbieding val die klem egter op sinsbou (sintaksis) eerder as op morfologie.

Die boek is saamgestel uit 'n kort inleiding, gevolg deur twee hoofdele (werkwoorde en naamwoorde) en drie bylae oor styl. Elke hoofdeel bestaan uit twee afdelings en twee vrae word telkens as vertrekpunt gebruik. In die eerste afdeling word die vraag na die betekenis van bepaalde werkwoord- of naamwoordkonstruksies aangespreek. In die tweede afdeling spreek die outeur verskillende wyses aan waarop 'n sin gekonstrueer kan word om bepaalde betekenis uit te druk - dus die verskillende konstruksiemoontlikhede vir bepaalde betekenisse. Regdeur die boek word voorbeelde uit Klassieke en Nuwe Testamentiese tekste ter verduideliking gebruik.

In Deel I (hoofstuk 1 tot 8) besin die outeur oor werkwoorde en hoe dit in Grieks gebruik word. Die volgende betekenismoontlikhede word aangeraak: betekenis ten opsigte van bepaalde getal en persoonsuitgange, tye (binne en buite die indikatief), verskillende modi, verbale naamwoorde en verbale adjektiewe. Die volgende konstruksiemoontlikhede word aangespreek: aanduiding van tyd, stadium en aard; konstruksie van hoofsinne soos stellings, aannames, bevele en wense, en konstruksie van verskeie tipes bysinne.

In Deel II (hoofstuk 9-11) besin die outeur oor die gebruike van selfstandige naamwoorde in Grieks. In die aanbieding van betekenismoontlikhede word die gebruike van naamvalle (nominatief, vokatief, akkusatief, genitief en datief) eers behandel, gevolg deur die betekenismoontlikhede van naamwoorde in voorsetselfrases. Konstruksiemoontlikhede wat verband hou met bywoordelike (tyd) en byvoeglike (plek, wyse en instrument, verhoudings, eienskap, verwydering, en mate) bepalings, word aangespreek.

Die outeur bied ook waardevolle materiaal oor styl in die drie bylae aan. Benewens addisionele inligting oor die gebruik van die negatiewe ouj en mh in Bylaag 1, word belangrike stylfigure wat in Griekse tekste voorkom, in alfabetiese volgorde in Bylaag 2 aangebied. By elke stylfiguur word 'n kort definisie gegee, gevolg deur 'n beskrywing van die effek van die bepaalde stylfiguur, asook voorbeelde uit Klassieke en Nuwe Testamentiese tekste. Hierdie bespreking word gevolg deur 'n kort samevatting waarin die stylfigure volgens soort gegroepeer word - stylfigure wat verband hou met herhaling, weglating, volgorde van woorde/frases, of teenstelling, en waarby vrae betrokke is.

'n Bondige oorsig oor die individuele styl van Nuwe Testamentiese skrywers word in Bylaag 3 aangebied. Die outeur verwys telkens na die skrywers se eie stylkenmerke en, waar toepaslik, na bepaalde Semitiese, Aramese en/of Hebreeuse invloede. By Johannes verwys die outeur ook na sy gebruik van stylfigure en stylkenmerke eie aan Openbaring terwyl Paulus se gebruik van stylfigure ook kortliks toegelig word.

Die saakregister aan die einde van die boek is volledig en die gebruik van paragraaf verwysings maak die boek baie gebruikersvriendelik. Die Afrikaanse terminologie val soms bietjie vreemd op die oor (oog) - dalk omdat die hedendaagse grammatikaboeke meestal Engels is. 'n Engelse woordelys kon baie waardevol gewees het en 'n Engelse vertaling van die boek behoort oorweeg te word.

Die inhoud, voorbeelde en uitleg van die boek maak dit inderdaad 'n waardevolle en aanvullende handleiding (naslaanwerk?) vir eksegete en studente van Klassieke en Nuwe-Testamentiese Grieks.

 

Annéli Machin
Departement Grieks, Latyn en Klassieke Studie
Universiteit van die Vrystaat
Suid-Afrika

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons