SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 issue2Baat as bio-etiek sonder grense: 'n Gereformeerd-etiese beoordeling van artikel 4 van die Universele Deklarasie vir Bio-etiek en Menseregte van UNESCOSilent no more: Sexual violence in conflict as a challenge to the worldwide church author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.34 n.2 Bloemfontein  2014

http://dx.doi.org/10.4314/ACTAT.V34I2.8 

Die kerk, maatskappy en vrye verenigings: 'n studie van die kerkorde van die NG Kerk

 

The church, society and free societies: A study of the church order of the DRC

 

 

P.J. Strauss

Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Suid-Afrika. E-pos: strausspj@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Kerklike steun, Maatskaplike en/of nie-kerklike organisasies, Grondslag en doelstellin van organisasie


ABSTRACT

In its stipulantions for the church in its actions against or with the other institutions and societies in society, the order of the Dutch Reformed Church (DRC) is unique among reformed churches. Two main principles guide these stipulations of the DRC-CO. The first one is that such a society or organization should be based on Christian principles and be able to show it convincingly in practice. The second one is that the well-known principle used in Neo-Calvinistic thought namely that of "souvereignty in its own sfere" should be used to normalize such relations. Nearly the same articles in the same words with regard to the church, society and free societies have remained now for over 50 years in an ever changing church order.

Keywords: Support of the church, Institutions or societies in society, Basis of institution


 

 

1. INLEIDING

Artikel 68 van die Kerkorde van die NG Kerk 2011 (hierna NGK-KO) bepaal:

Waar moontlik, verleen die kerk steun aan maatskaplike, nie-kerklike organisasies wat op 'n positiewe Christelike basis georganiseer is en daarop gemik is om die koninkryk van God te bevorder. Hierdie steun geskied vanuit kerklike perspektief en op kerklike wyse. Die vraag of 'n bepaalde organisasie kan aanspraak maak op die steun van die kerk, hang af van sy grondslag en die doelstellings en uitlewing daarvan in die praktyk (NGK-KO 2011:21).

Hierdie formulering kom van die Algemene Sinode van 1998 (NGK-KO 1998:26). Op hierdie vergadering is artikel 68 en 70 van die NGK-KO 1994 (NGK-KO 1994:16-17) in artikel 66 (NGK-KO 1998:68) saamgetrek ten einde die betekenis van beide te behou. Die nuwe NGK-KO 1998 artikel 66 was prakties gesproke 'n herhaling van hoofsaaklik NGK-KO 1994 artikel 70 wat 'n feitlik ongewysigde voortsetting van NGK-KO 1962 artikel 68 was (NGK-KO 1964:15). In onderskeiding hiervan was NGK-KO 1994 artikel 68 'n byna woordelikse voortsetting van NGK-KO 1962 artikel 66 (NGK-KO 1964:15; NGK-KO 1994:16-17).

NGK-KO 1994 artikel 68 handel oor "kerk en maatskappy" terwyl artikel 70 handel oor "die kerk en die vrye vereniging". Gevolglik kry NGK-KO 1998 artikel 66 die opskrif "kerk, maatskappy en vrye vereniging" (NGK-KO 1998:26; vgl NGK-KO 2011:21).

Bogenoemde woordelikse weergawe van NGK-KO 2011 artikel 68 gaan dus terug op NGK-KO 1962 artikel 68. Daarby werp die bewoording van NGK-KO 1962 artikel 66 lig op die verstaan en uitleg van NGK-KO 2011 artikel 68. Die Algemene Sinode van 1962 sal homself immers nie weerspreek tot die teendeel bewys is nie én die Algemene Sinode van 1998 oordeel dat hierdie twee artikels in een artikel hoort. Daarby word kerkorde met kerkorde vergelyk - in hierdie geval NGK-KO 1962 artikel 66 met 68 - in uitvoering van een van die hermeneutiese sleutels vir die uitleg van 'n kerkorde (Van de Beek 1992:63)1 en is die Algemene Sinode die finale uitlêer van sy eie kerkorde. NGK-KO 2011 artikel 68 oor "Kerk, maatskappy en vrye vereniging" moet dus óók teen hierdie agtergrond gelees en verstaan word.

NGK-KO 1962 was die eerste kerkorde in 'n nuwe NG Kerktradisie wat by die eerste Algemene Sinode van die nuwe algemene sinodale verband van die NG Kerk in 1962 aanvaar is. 'n Kerkorde waarvan die hoofstukindeling en sekere formulerings sedertdien gehandhaaf is (vgl NGK-KO 2011 met NGK-KO 1964).

In 1962 het artikel 68 bepaal dat die NG Kerk vrye verenigings op 'n positief Christelike grondslag aanmoedig. Die mate waarin 'n bepaalde vereniging kan aanspraak maak op die steun van die kerk, sou afhang van sy grondslag en doelstellings en die uitlewing(my kursivering PS) daarvan in die praktyk. 'n Sinsnede wat in 2011 nog van krag is en uit 'n kerkordelike oogpunt of die hoek van kerklike prosedure die sleutelpunt van artikel 68 is.

Wat meer is, omdat NGK-KO artikels 66 en 68 van NGK-KO 1962 in NGK-KO 2011 artikel 68 onder "kerk, maatskappy en vrye vereniging" saamgetrek is, vorm dieselfde sinsnede ook die sleutelpunt vir die verstaan van die NG Kerk se prosedure by die kerk teenoor die maatskappy en die vrye vereniging. Immers, NGK-KO 1962 artikel 66 praat op dieselfde manier oor die steun van die NG Kerk aan "maatskaplike organisasies" wat op 'n "positief Christelike basis" georganiseer word om "maatskaplike wantoestande" of bepaalde "maatskaplike of opvoedkundige belange" te behartig en deur hulle optrede (my kursivering, PS) die koninkryk van God bevorder. 'n Formulering wat by die saamtrek van artikels 66 en 68 in 1998 in ag geneem moet word.

NGK-KO 1962 het ook bepaal dat verenigings op die terreine van die jeug-, sending-, evangelisasie- en maatskaplike werk wat in 1962 "reeds die erkenning van die onderskeie kerke geniet het, ... deur die Nederduitse Gereformeerde Kerk erken en aanvaar" word. (NGK-KO 1964:15). Hierdie sinnetjie verwoord die destydse situasie tot 1962 soos dit by die provinsiale sinodes van die NG Kerk voorgekom het. Dit raak verenigings wat tot Oktober 1962 deur die sinodes (toe ook kerke genoem) van die NG Kerk in Suid-Afrika (Kaapland of Kaapse Kerk), die Vrystaat (Vrystaatse Kerk), Suidwes-Afrika (Namibië), Natal en Transvaal (Natalse en Transvaalse Kerke) erken is (Van der Watt 1973:164).'n Sinnetjie wat by die volgende Algemene Sinode in 1966 nie meer nodig was nie.

Eintlik kon die Algemene Sinode van 1962 hierdie konkrete bepaling oor spesifieke gevalle van steun eerder in 'n sinodebesluit vervat het, omdat kerkordebepalings van 'n meer algemene en duursame aard moet wees. So 'n stap sou niks afbreuk doen aan die feit dat die NG Kerk hierdie verenigings erken nie en as 'n kerklike stap ook erkenning impliseer vir die eie aard van 'n gereformeerde kerkorde (Nauta 1971:9; Smit 1984:84).

'n Kerkorde wat ordebepalings neerlê vir die kerk in sy optrede - dit gaan hier óók en veral oor die kerk se optrede - teenoor ander samelewingskringe. 'n Kerkorde is juis net bindend op die vergaderings, ampdraers, belydende en dooplidmate van die betrokke kerk. Hulle is diegene wat aan die betrokke kerkorde gebonde is, mekaar daaraan behoort te hou en by die hersiening van hulle besluite en optrede deur 'n burgerlike hof, daaraan gemeet word (Sadler 1979:182).

NGK-KO 2011 artikel 68 weerspieël dus 'n sekere denkrigting oor die kerk, maatskappy en vrye vereniging, kom vanuit 'n sekere historiese konteks en bly woordeliks ongeveer gehandhaaf in die byna vyftig jaar van 1962-2011. Dit is op die betekenis van die teks en die historiese konteks van NGK-KO artikel 68 wat hierdie artikel ingaan. NGK-KO 2011 artikel 68 staan in kontras met artikels oor byvoorbeeld die verhouding van die NG Kerk en die staat wat sy neo-Calvinistiese wysgerige begronding laat vaar en weg beweeg het van duidelike tekens van die samelewingskonteks van 1962. Die vraag is dus hoe hierdie aanvaarbaarheid van artikel 68 verantwoord is oor bykans 50 jaar?

 

2. BETEKENIS VAN TEKS VAN NGK-KO ARTIKEL 68

Op die bewoording van artikel 66 en 68 in NGK-KO 1962 en artikel 68 in NGK-KO 2011 is reeds gewys. Sleutelwoorde vir die steun van die NG Kerk aan maatskaplike organisasies of "vrye verenigings" in hierdie dokumente is woorde soos "'n positief Christelike grondslag of basis", "doelstellings" wat op dié grondslag gebaseer is en die "uitlewing" daarvan of die "optrede" van sulke organisasies in die praktyk.

Twee weergawes van die artikel verskaf meer inligting vir die verstaan van die bedoeling daarvan. Die eerste een is NGK-KO 1962 artikel 68 wat die verenigings omskryf as verenigings op die terreine van die jeug-, sending-, evangelisasie- en maatskaplike werk. Dit gaan dus nie net oor nie-kerklike verenigings wat met nie-kerklike maar Christelike werk besig is nie, maar ook verenigings wat met kerkverwante of selfs kerklike werk besig is. Sending en evangelisasie is per definisie kerklike werk. Jeugwerk gerig op die ontwikkeling van die Christelike geloof van jongmense en maatskaplike hulp binne die raamwerk van 'n Christelike barmhartigheidsdiens, sluit hierby aan (NGK-KO 1964:15).

NGK-KO 1962 artikel 66 soos gehandhaaf tot 1998 brei uit op die soorte maatskaplike "organisasies" en die werk daarvan. Soos reeds aangedui gaan dit hier oor maatskaplike organisasies "op 'n positief Christelike basis" wat die bekamping van "bepaalde" maatskaplike wantoestande of die behartiging van "bepaalde" maatskaplike of opvoedkundige belange beoog. Om die steun en medewerking van die NG Kerk te verkry moet die optrede van so 'n organisasie die koninkryk van God bevorder.

Die kerk erken daarby die selfstandigheid in eie bevoegdheid van alle samelewingsverbande (kerk, gesin, skool), gemeenskapstrukture (verenigings, partye) en maatskaplike verhoudinge so eie aan 'n moderne gedifferensieerde samelewing (NGK-KO 1990:19).

Die NG Kerk gaan die uitlewing of praktiese optrede van maatskaplike organisasies of verenigings weeg om sy steun en medewerking daaraan te bepaal. Dit alles moet egter teen 'n bepaalde agtergond en binne 'n sekere raamwerk geskied.

Waar die term "verenigings" min of meer afgebaken en naspeurbaar is, strek die begrip "maatskaplike organisasies" oor 'n wye terrein. In feite maak voorbeelde soos gesin, skool en (politieke?) partye die deur hier wawyd oop. Onder sosiologiese kaders of definisies soos samelewingsverbande, gemeenskapstrukture en maatskaplike verhoudinge kan 'n groot deel van die "instellings" in 'n moderne Westerse samelewing tuisgebring word. Begrippe soos 'n "moderne gedifferensieerde samelewing" en die "selfstandigheid in eie bevoegdheid" van samelewingskringe dui onmiskenbaar op invloed uit die neo-Calvinistiese sosiologiese tradisie onder die invloed van filosowe soos die Amsterdamse Herman Dooyeweerd en die Potchefstroomse HG Stoker (Strauss 1993:10-17).

In die nawerking in Suid-Afrika van Abraham Kuyper en sy Neo-Calvinistiese tradisie met sy "souvereiniteit in eigen kring" (1930:3) praat die NGK-KO van "selfstandigheid in eie bevoegdheid". Hierdie bewoording kan waarskynlik na Stoker in sy verwerking van Kuyper se "souvereiniteit in eigen kring" met "vryheid in eie bevoegdheid" teruggevoer word (1961:177; vgl Strauss 1993:13 vir 'n genuanseerde betoog hiervoor). Juis deur die NGK-KO se kerklike steun aan nie-kerklike organisasies word Dooyeweerd se beginsels van 'n soewereiniteit én 'n universialiteit in eie kring geïmpliseer. Beginsels wat die samehang en vervlegtheid van samelewingskringe soos erken in 'n Christelike sosiologie, uitdruk (Dooyeweerd 1963:44-45). Beginsels wat aantoon dat die kerk in sy profetiese, priesterlike en koninklike taak na binne en na buite werk. Maar dan so werk dat dit in terme van NGK-KO artikel 68 vanuit 'n kerklike perspektief en op 'n kerklike wyse geskied.

Die bepaling "kerklike perspektief" op 'n "kerklike wyse" as die kerklike werkswye word in NGK-KO artikel 21 gestel (NGK-KO 2011:8) na aanleiding van die wysiging daarvan by die Algemene Sinode van 1998 (NGK-KO 1998:9). Die artikel self is die uitkoms van tipies Kuyperiaans-Dooyeweerdiaanse denke oor die unieke taak en styl van die kerk as 'n samelewingsverband. Die taak van die kerk in samehang met ander lewenskringe in 'n moderne gedifferensieerde samelewing waarin kerk, staat, skool ens. mekaar respekteer en aan mekaar lewensruimte gun (vgl Strauss 2010:59-60). Die taak van die kerk in 'n samelewing waarin die Koninkryk van God as allesomvattend beskou word, die kerk 'n teken van en nie die hele koninkryk is nie en samelewingskringe nie verkerklik nie, maar ver-Christelik moet word (Heyns 1977:20-28). 'n Samelewing waarin die verskillende samelewingskringe, elkeen met sy eie bestemmingsfunksie, mekaar eventueel as vennote in diens aan die koninkryk van God begin beskou (Strauss 1993:4).

In hierdie opsig is die kerkordelike tradisie van NGK-KO soos geïmpliseer en uitgedruk in NGK-KO 2011 artikel 68 oor kerk, maatskappy en vrye vereniging, uniek onder gereformeerde kerke. 'n Oorskou van die kerkordes van leidende gereformeerde kerke in die wêreld, gemeet aan hulle betrokkenheid by gereformeerde ekumeniese liggame (vgl Strauss 1983:103; Geldenhuys 1982:81), bevestig dit (vgl Visser 1999; Engelhard en Hofman 2001; PKN 2003).

Die begrip "moderne gedifferensieerde samelewing", saamgelees met 'n selfstandigheid in eie bevoegdheid, kom net so van Dooyeweerd af (1957:379; 1963:81). NGK-KO 1962 neem vorm aan in 'n tyd waarin Dooyeweerd akademies op die kruin van die golf is - gemeet aan sy publikasies (vgl Strauss 1993:28).

NGK-KO gebruik tot 1998 in die artikels oor die kerk, maatskappy en vrye vereniging dus begrippe en terme wat uit 1962 kom. Begrippe wat aansluit by die hoogbloei van die invloed van 'n Nederlandse Neo-Calvinisme in die NG Kerk: kerkordelik en teologies-eties (Langner 2007:122). Ten opsigte van die kerk in sy verhouding tot die res van die samelewing volg NGK-KO 2011 artikel 68 in navolging hiervan dus die vennootskapidee van samelewingskringe in diens van God se koninkryk.

 

3. HERKOMS VAN NGK-KO ARTIKEL 68

Die vraag is hoe die NGK-KO 2011 artikel 68, gesien teen hierdie agtergrond, die weë van 'n Kuyperiaanse Neo-Calvinisme kon kruis? Watter tasbare koppeling is daar met Dooyeweerd en Stoker? Hulle is tog nie teoloë of kerklike figure nie!

Die invloed van 'n Kuyperiaanse Neo-Calvinisme op die NG Kerk en op spesifiek die NGK-KO 1962 kan aan die hand van enkele tendense toegelig word.

In die eerste plek bevind die NG Kerk hom in 1962 met die aanvaarding van NGK-KO 1962 in 'n situasie waarin die Kuyperiaanse Neo-Calvinisme in die NG Kerk sterk loop. Die invloed van hierdie tradisie op die sogenaamde koninkrykslyn in die NGK-KO 1962 se bepalings oor kerk en samelewing is elders duidelik aangetoon (Strauss 1993:15-17). Dit is 'n tradisie wat in die 1930's sy sigbare intrede in die NG Kerk maak en by die Algemene Sinode van 1966 - die tweede Algemene Sinode van die NG Kerk - 'n deurslaggewende invloed uitoefen op hierdie sinode se besluite vervat in die bekende Ras, volk en nasie in die lig van die Skrif(Strauss 1994:204-206)2.

Die mees direkte en grootste impuls van die Kuyperiaanse Neo-Calvinisme op die NG Kerk kom waarskynlik deur studiekontakte van NG-predikante met die Vrye Universiteit (VU) in Amsterdam. Abraham Kuyper is die grondlêer en leidende figuur van hierdie instelling (vgl Kuyper 1930). Vanaf 1907 tot 1952 alleen skryf 60 NG Kerkpredikante (meestal nagraads) by die VU in. Van die 20 teologiese professore wat van 1859 tot 1952 in die NG Kerk aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria doseer, studeer 10 aan die VU - almal na 1907. In die eerste helfte van die twintigste eeu vervang die VU die Universiteit van Utrecht (die alma mater van persone soos Voetius) as die mees gewilde plek vir nagraadse studie deur NG-predikante (Odendaal 1957:252).

Via hoogleraars soos EA Venter (UOVS - Wysbegeerte), HJ Strauss (UOVS - Staatsleer) en HG Stoker (PU vir CHO - Wysbegeerte) word die inhoud van die Neo-Calvinistiese Wysgebeerte aan hierdie studente in hulle voorgraadse jare oorgedra (Strauss 1993:16). Trouens, gedurende hierdie opleiding word die VU waarskynlik reeds as dié plek vir nagraadse studie aangedui. 'n Motivering wat in hulle teologiese studie waarskynlik versterk word.

In die tweede plek beïnvloed invloedryke Neo-Calviniste soos JD Vorster die Kommissie van Aktuarii van die NG Kerke (voor 1962) wat die konsepkerkorde van 1962 opstel om die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland as basis te gebruik. Hierdie Kerkorde soos aanvaar deur die Generale Sinode van Assen in 1957 word beskou as 'n eietydse weergawe van die befaamde (onder gereformeerdes) Dordtse Kerkorde van 1619 (NGK 1957:74; 1959:120-122; Vorster 1960:13).

Dit is dus nie vreemd dat gedagtegoed van byvoorbeeld Dooyeweerd ook in 'n kerkorde van die NG Kerk vervat word nie. Die Christokratiese gesag van kerkvergaderings word byvoorbeeld via Dooyeweerd en Nauta artikel 20 van die NGK-KO 1962 (NGK-KO 1964:5). Nauta is een van die opstellers van die Nederlandse Kerkorde van Assen in 1957 waarin dieselfde uitdrukkings in artikel 28 opgeneem word (Nauta 1971:121-125; Strauss 2008:243-247). Via die VU, die Gereformeerde Kerke in Nederland as die enigste buitelandse kerk met wie die NG Kerk op hierdie stadium intieme "susterskerk"-bande het (Strauss 2002:184) en indiwiduele teoloë en wysgere word die NG Kerk verbind aan die Kuyperiaans-Neo-Calvinistiese tradisie.

 

4. KOMMISSIE VAN AKTUARII NEO-CALVINISTIES

In die derde plek word die Kommissie vir Aktuarii in 1962 gestuur deur Neo-Calviniste. Op die kommissie van aktuarii van die NG Kerk se Federale Raad van Kerke wat die konsep Kerkorde van 1962 opstel, leef 'n sterk Neo-Calvinistiese inslag. Die kommissie bestaan uit JD Vorster (Kaap - voorsitter), LE du Toit (Vrystaat), FN van Niekerk (Natal), PHJ Swart (Namibië) en FE O'B Geldenhuys (Transvaal) (NG Kerk 1959:50).

Vorster en Van Niekerk is bekende Neo-Calviniste. Vorster is 'n lid van die Federasie van Calvinistiese Studenteverenigings wat in 1933 gestig word (Strauss, SA 1993:18-19). Saam met HG Stoker is hy hoofredaksielid van die Ossewareeks van hierdie beweging. In 1944 publiseer hulle HJ Strauss se "Instellings en organisasies tot eer van God" in hierdie reeks (vgl Strauss, HJ 1944). In sy geskrifte toon Vorster 'n groot affiniteit vir Abraham Kuyper (Vorster 1979:310) hoewel hy nie vreemd of afwysend teenoor Dooyeweerd staan nie.

Van Niekerk leef ook in die Neo-Calvinistiese dampkring. Hy en Vorster is mede-skrywers van 'n boek oor die Vrymessekary wat in 1965 verskyn (NG Kerk 1986:286). Aan die Algemene Sinode van 1978 lewer hy 'n studiestuk oor artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis waarin hy werk van die Potchefstroomse Neo-Calvinis LJ du Plessis en Dooyeweerd aanbeveel (NG Kerk 1978:1111).

Beide Vorster en Van Niekerk is bekend vir 'n kompromielose styl. Gelet op die teks van die NGK-KO 1962, die teks wat by die Algemene Sinode van 1962 aanvaar word (NGK-KO 1964), speel hulle 'n groot rol in die aanpak van NGK-KO 1962.

Sonder dat daar enige bron vir die identiteit van die skrywers van spesifieke artikels in die NGK-KO onder die tema kerk, maatskappy en vrye vereniging gevind kan word, dui hierdie gegewens daarop dat hier 'n klimaat gedy het waarin die invloed van Kuyper, Dooyeweerd en Stoker tot in die breedste vergadering van die NG Kerk kon deurwerk. In hierdie proses is die idees van 'n Christelike samelewing met soewereiniteit in eie kring verpopulariseer. Trouens, dieselfde grondoortuigings speel ook 'n deurslaggewende rol in die artikels oor kerk en staat en die kerk en die onderwys (NGK-KO 1964:14-15; Strauss 1993:14-15, 2010:127-128).

 

5. BOERE-CALVINISME?

Behalwe dat NGK-KO 1962 met sy artikels oor die kerk, die maatskappy en die vrye vereniging uniek onder gereformeerde kerkordes is, het hy ook 'n unieke aanpak van kerk en staat en die kerk en die skool. 'n Aanpak of ingesteldheid wat meebring dat hy die kwessie van die kerk, maatskappy en vrye vereniging ook opneem in sy kerkorde en as 'n gereformeerde kerk daarin uniek is.

Onder kerk en staat verklaar NGK-KO 1962 die kerk "selfstandig in eie bevoegdheid" of "soewerein in eie kring". Die NG Kerk onderwerp hom aan die wette en gesag van die staat - in 1962 die Nasionale Partyregering of "ons" regering of 'n regering met baie NG-gesigte (Strauss 2001:336) - in soverre as wat hierdie onderwerping of deelname aan die publieke regsverkeer of uitoefening van sy burgerlike regte nie met die Woord van God bots nie. Die NG Kerk aanvaar "met dankbaarheid die beskerming" van die owerheid en die staat se erkenning van sy onvervreembare reg op vryheid van godsdiens in belydenis en byeenkoms, met "dien verstande" dat hierdie vryheid nie misbruik sal word om "die fondamente van die staatsgesag" te ondergrawe of "wanorde op publiekregtelike terrein" te veroorsaak nie (NGK-KO 1964:14).

Die soberheid van die NGK-KO se stamvader van 1619, die Dordtse Kerkorde (DKO - Strauss 2010:7-14), oor die kerk en die staat, het hier verdwyn. Soos vir die DKO gaan dit vir die NGK-KO hoofsaaklik om bepalings vir die kerk in sy verhouding met en optrede teenoor die staat. Die DKO roep die kerk op om met gehoorsaamheid, liefde en eerbied teenoor die staatsowerheid op te tree en die guns van die "owerheid" teenoor die kerk op te wek en te behou (Pont 1981:179).

Hierteenoor aanvaar die NGK-KO 1962 met (groot?, PS) "dankbaarheid" die regs- en fisiese beskerming van die staasowerheid en beloof dit om nie sy geloofsvryheid te misbruik om staatsgesag te ondermyn of publieke wanorde te skep nie. In 'n kerkorde waarvan die bepalings saaklik, algemeen en duursaam moet wees, val die NGK-KO terminologies hier byna oor sy voete om sy eie mense in die regering te verseker dat die NG Kerk dit kort na Sharpville en die ontstaan van wêreldwye kritiek teen apartheid Suid-Afrika nie vir hulle moeliker sal maak nie. Na die Suid-Afrikaanse Regering se verbod op die ANC, die PAC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party in 1960 omrede beweerde én bewese "staatsondermynende bedrywighede" (Strauss 2001:338) sal die NG Kerk nie ook meewerk aan die ondermyning van staatsgesag, die skepping van publieke wanorde en sabotasie nie. Hoe kan hy, want die meeste regeringslede sit Sondae in sy kerk- en kerkraadsbanke!?

Sommige kritci sou na die NG Kerk sarkasties verwys as die "National Party at prayer". Boonop word die vyfde gebod oor (ook staatsregerings-) gesag Sondag na Sondag vanaf sy kansels herhaal. Hier, in die Suid-Afrika van die 1960's, is gaan dit Bybels beskou om die Nasionale Regering (Strauss 2001:336)!

Na Sharpville en die wêreldwye ontstaan van kritiek en boikotte teen apartheid Suid-Afrika in die 1960's, het lewenskringe soos die NG Kerk, Nasionale Party en onderwys stilweg geledere gesluit teen kritiek en maatreëls van buite. Die Afrikanergemeenskap was 'n samelewing met sy eie waardes, tradisies en behoeftes wat sommige NGK-teoloë met die Bybelse Boodskap versoen het. Die hele Afrikaanse of Afrikanersamelewing moes na die oordeel van 'n Boere-Calvinisme (Deist 1994:350vv) wat sy wortels in die geskiedenis van hierdie gemeenskap sedert 1652 vind en in intensiteit toeneem na 1930, optree aan die hand van soewereiniteit in eie kring en tot eer van God. Die "volk" sou 'n lewensomvattende gemeenskap word en sy belange deur die kerk, die staat en die skool gedien - moes -word. Die belange van die volk, die samelewing en die koninkryk van God in Suidelike Afrika was moeilik onderskeibaar (Langner 2007:49,100,168).

Teen hierdie agtergrond sou die NGK-KO 2011 artikel 68 uit die NGK-KO 1962 artikel 66 en 68 ontstaan. Daarom die NGK-KO se buitengewone dankbaarheid en belofte van geen ondermyning nie, aan "ons" regering hier in 1962. Daarom ook die NGK-KO 1962 artikel 67 oor die onderwys se ywer vir die behoud en uitbouing van die "Protestants-Christelike karakter" van "ons volk" (NGK-KO 1964:15). Maar daarom óók die steun van die NG Kerk aan maatskaplike instellings en vrye verenigings in die gemeenskap wat vanuit 'n Bybelse grondslag optree. In hierdie samelewing waarvan 'n groot deel NG-lidmate en Afrikaners is, moet "ons" mekaar ondersteun. 'n Gereformeerde of Calvinistiese kerk staan in so 'n situasie nie eenkant nie.

 

6. SLOT: 'N KERKORDE HERSIEN

Met die hersiening, versobering en "ontvolking" van die NGK-KO se artikels oor kerk en staat en die kerk en onderwys in 1998 (NGK-KO 1998:26), het die artikels oor die kerk, die maatskappy en vrye vereniging feitlik woordeliks dieselfde gebly. Die afskeid van apartheid en van 'n eksplisiete Neo-Calvinisme het nie die geldigheid van hierdie bewoording - soos gestel is dit nou vervat in NGK-KO artikel 68 - na meer as 50 jaar (1962-2012) in gedrang gebring nie.

Die NGK-KO se groot dankbaarheid teenoor die staatsowerheid vir sy beskerming en sy ywer vir die Protestants-Christelike karakter van "ons" volk is nie meer daar nie. In die plek van 'n eksplisiete Christelik-wysgerige aanpak van samelewingsverhoudinge of die verhouding kerk-staat is daar 'n eenvoudige nasê van Romeine 13 oor die staatsowerheid. In die onderwys gaan dit nou ook eenvoudig om 'n ereplek vir die Bybel en Protestants-Christelike norme en waardes in skole, hoewel soewereiniteit in eie kring nog gehandhaaf word.

Wat die NG Kerk, die maatskappy en vrye verenigings betref, bly die ideaal van elkeen soewerein in eie kring, maar saam vennote in diens van die koninkryk van God, staan. Selfs die - feitlik - hele bewoording rondom die kerk en die vrye vereniging het sy 50e verjaardag oorleef.

 

BIBLIOGRAFIE

Deist, F. 1994. Ervaring, rede en metode in Skrifuitleg. Pretoria: RGN.         [ Links ]

Dooyeweerd, H . 1957. A new critique of theoretical thought III. Amsterdam: HJ Paris.         [ Links ]

Dooyeweerd, H . 1963. Vernieuwing en Bezinning. Zutphen: JB van den Brink (2e druk).         [ Links ]

Du Toit, P.R . 1991. Uitleg van 'n kerkorde. In: P.J. Strauss (red), Byderwets en gereformeerd (Bloemfontein: Pro Christo), pp.46-64.         [ Links ]

Engelhart, D.H. & Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Geldenhuys, F.E. O'B. 1982. In die stroomversnellings. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Heyns, J.A. 1977. Die kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Kuyper, A. 1930. Souvereiniteit in eigen kring. Kampen: JH Kok.         [ Links ]

Kuyper, A. s.a. De Gemeene Gratie II en III. Kampen: JH Kok (4e onveranderde druk).         [ Links ]

Langner, D.J. 2007. Teen die hele wêreld vry. Pretoria: Griffel.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

NG Kerk (NGK) 1957, 1959. Handelinge van die Raad van NG Kerke. Sl:sn.         [ Links ]

NG Kerk (NGK) 1978. Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

NG Kerk (NGK)1986. Jaarboek van die NG Kerke. Sl:sn.         [ Links ]

NGK-KO 1964. Kerkorde. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

NGK-KO 1990. Kerkorde. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

NGK-KO 1994. Kerkorde. Wellington: Hugenote Uitgewers.         [ Links ]

NGK-KO 1998. Kerkorde. Wellington: Hugenote Uitgewers.         [ Links ]

Odendaal, B.J. 1957. Die kerklike betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland (1652-1952). Franeker: T Wever.         [ Links ]

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I. Pertoria: HAUM.         [ Links ]

PKN (Protestantse Kerk in Nederland) 2003. Kerkorde en ordinanties. Zoetermeer: Boekencentrum.         [ Links ]

Sadler, T.H.N. 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Smit, C.J . 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Stoker, H.G. 1961 Beginsels en metodes in die wetenskap. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Strauss, H.J. 1944. Instellings en organisasies tot eer van God. Stellenbosch: Pro Ecclesia.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1983. Die Ned Geref Kerk en die Geref Kerke in Nederland: Betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk. Ongepubliseerde DD-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1993. Op die tweesprong? Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Strauss, P.J. 1994. Die 1966 Algemene Sinode van die NG Kerk en apartheid. SHE XX:2:195-214.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2001. Church and state and apartheid in South Africa. A Perspective on the DRC (1962-1998). European Journal for church and state research Volume 8:327-346.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2002. Toenemende isolasie deurbreek. In: F. Du Toit, H. Hofmeyer, P Strauss & J van der Merwe (reds.) Moeisame pad na vernuwing (Bloemfontein: Barnabas), pp.183-239.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2008. Die kerklike gesag van kerkvergaderings soos in die kerkorde van die NG Kerk. In die Skriflig 42/2: 239-252.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde van dag. Bloemfontein: Sun Media.         [ Links ]

Strauss, S.A. 1993. Op soek na die dogmatiese tradisie in die NG Kerk: die Stellenbosse lyn. Bloemfontein: UOVS.         [ Links ]

Van de Beek, A. 1992. Hermeneutiek van 'n kerkorde. In: W. Van't Spijker & L.C. Van Drimmelen (reds.), Inleiding tot de studie van het kerkrecht (Kampen: JH Kok), pp.59-72.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1973. Die Loedolffsaak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Visser, J . 1999. Die kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1960. Die kerkorde van die NG Kerke. NGTT 1/4:12-18.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1979. Ons Christelik-Protestantse erfenis. NGTT 20/4:308-311.         [ Links ]

 

 

1 Van de Beek word hierin deur ander skrywers nagevolg vgl Du Toit (1991:54), Strauss (2010:24).
2 Hierdie studiestuk koppel die handhawing van 'n samelewingsbeleid van apartheid aan begrippe soos "verskeidenheid", "meervormigheid", "veelvormigheid" en "pluriformiteit" wat direk na Kuyper of die Neo-Calvinisme teruggevoer kan word (Strauss 1993:203-208). Vgl Kuyper s.a. II:121 en III:282.