SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 número2The Seventh Ecumenical Council and the veneration of icons in OrthodoxyBaat as bio-etiek sonder grense: 'n Gereformeerd-etiese beoordeling van artikel 4 van die Universele Deklarasie vir Bio-etiek en Menseregte van UNESCO índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.34 no.2 Bloemfontein  2014

http://dx.doi.org/10.4314/ACTAT.V34I2.6 

Klaagliedere 3:42: vergifnis of nie-vergifnis?

 

Lamentations 3:42: Forgiveness or non-forgiveness?

 

 

D.F. O'Kennedy

Dept. Ou en Nuwe Testament, Fakulteit Teologie, Universiteit van Stellenbosch, Suid-Afrika. E-pos: danieok@nghelder.co.za

 

 


Trefwoorde: Klaagliedere 3:42, Vergifnis, Straf


ABSTRACT

This article investigates the short prayer of Lamentations 3:42, the only text in the prayer literature that uses the particle לא (no) together with the term סלח (forgive). The exegetical study focuses on the literal, historical and theological dimensions of the short prayer. The questions posed by this article is: Does this text portray God's unwillingness to forgive? Does Lamentations 3 only speak about punishment and judgement or do we find references to divine forgiveness? Lamentations 3 speaks about punishment, but not rejection or unwillingness to forgive. The worshipper in verse 42 confronts God with his real self: He is supposed to forgive. In the rest of chapter 3 we find reminders of God's forgiving heart: mercy and compassion (vv. 22, 32); faithfulness (v. 23); kindness (vv. 25, 26, 27); salvation (v. 26); and steadfast love (v. 32).

Keywords: Lamentations 3:42, Forgiveness, Punishment


 

 

1. INLEIDING

Klaagliedere 3:42 is die enigste teks in die gebedsliteratuur1 van die Ou Testament waar לא (nie) saam met die term סלח (vergewe) gebruik word. Geleerdes (Hausmann, Kselman, Olivier, et al) is dit eens dat die konsep vergifnis in die Ou Testament die beste deur die term סלח uitgedruk word. Dit verskil van die ander Hebreeuse terme en uitdrukkings deurdat dit slegs met God as subjek gebruik word. Hierdie wortelvorm kom vyftig keer in die Ou Testament voor en word veral in twee primêre kontekste in die Ou Testament gebruik: Eerstens word dit in die Priestergeskrif aangetref (Lev.4:20, 26, 31, e.a.). Tweedens kom algemeen in die gebedsliteratuur voor: Eksodus 34:9; Numeri 14:19; 1 Konings 8:30, 34, 36, 39 en 50 = 2 Kronieke 6:21, 25, 27, 30 en 39; Nehemia 9:17; Psalm 25:11; 86:5; 103:3; 130:4; Klaagliedere 3:42; Daniël 9:9 en 19; en Amos 7:2. Buiten hierdie 21 סלח verwysings in die gebede van die Ou Testament is daar drie ander teksgedeeltes wat indirek na gebed of die antwoord op gebed verwys: Numeri 14:20; 2 Konings 5:18 (2 keer) en 2 Kronieke 7:14 (Hausmann 1986:860; Kselman 1992:831; Olivier 1997:259-264).

Hierdie artikel poog om die volgende vrae te probeer beantwoord: Getuig Klaagliedere 3:42 dat God nie wil vergewe nie? Praat hoofstuk 3 net oor straf óf is daar ook verwysings na Goddelike vergifnis? 'n Eksegetiese studie van die kort gebed word gedoen waarin eerstens die literêre- en historiese dimensie bespreek word en daarna die teologiese dimensie. Laastens word Klaagliedere 3:42 met die ander סלח gedeeltes vergelyk.

 

2. LITERÊRE- EN HISTORIESE DIMENSIE

2.1 Literêre konteks en afbakening

Daar is reeds vermeld dat die term veral in die gebedsliteratuur van die Ou Testament voorkom. In Klaagliedere word ten minste drie gebede aangetref (3:42; 3:55-66; 5:1-22) asook enkele verwysings na gebed (2:17, 19; 3:8) (Louw 1979:104; Miller 1994:50, 138, 376; 390; Thompson 2012:51).

Die struktuur van Klaagliedere is fyn beplan. Die eerste vier hoofstukke (ook liedere of gedigte) van die boek is akrostiese liedere waarvan elke vers met een van die 22 Hebreeuse letters begin. Hoofstuk 3 verskil van die ander hoofstukke deurdat daar drie verse per letter voorkom, dit wil sê 66 verse in totaal. Klaagliedere is poësie wat in 'n qinah-metrum (3+2) geskryf is (Boda 2012:478; Giffone 2012:543). Die moontlikheid bestaan dat 'n qinah-struktuur in die hele boek voorkom en nie net in die versreëls nie. Shea (1979:103-107) reken dat die vyf hoofstukke geskryf is in 'n qinah-of 3+2-patroon, wat bestaan uit drie langer hoofstukke met hul poëtiese eenhede in veelvoude van drie gevolg deur twee korter hoofstukke met hul poëtiese eenhede in veelvoude van twee.

Uitleenlopende verdelings van Klaagliedere 3 word deur moderne geleerdes aangebied: Vss. 1-18; 19-20; 21-41; 42-51; 52-66 (Johnson 1985:65); vss. 1-16; 17-24; 25-39; 40-66 (Owens 1990:79-82); vss. 1-16; 17-20; 21-39; 40-41;42-66 (Hillers 1992:123-124); vss. 1-21; 22-33; 34-54; 55-60; 61-66 (Renkema 1998:344-473); vss 1-21; 22-39; 40-66 (Berlin 2002:86-98); vss. 1-20; 21-24; 25-39; 40-47; 48-57; 58-66 (Bergant 2003:82); vss. 1-25; 26-39; 40-47; 48-66 (Salters 2010:185); vss. 1-20; 21-24; 25-39; 40; 41-47; 48-51; 52-66 (Boda 2012:483).

Daar is baie min ooreenkomste tussen bogenoemde verdelings. Dit wil tog voorkom asof daar vanaf vers 40 'n teologiese draaipunt kom met die oproep tot bekering ("Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer").2 Die outeur/s van hierdie hoofstuk het ook 'n keuse gemaak om verse 40-42 saam te groepeer onder die Hebreeuse letter Noen.

Die kort gebed in vers 42 word in vers 41 ingelei met die woorde: "laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:" Hierdie vers dui op die gebedshouding asook die gesindheid van die bidder. Die bidder word opgeroep om sy diepste gevoelens teenoor God uit te druk. Hy word aangemoedig om nie net klem te lê op die uiterlike gebedsvorme soos die opsteek van hande nie, maar ook op die gesindheid van die hart (Harrison 1974:228; Provan 1991:100).

2.2 Vertaling en tekskritiek

Klaagliedere 3:42 kan moontlik soos volg vertaal word: "Ons was opstandig ( en ongehoorsaam ; U het nie vergewe nie."3

Daar is geen belangrike tekskritiese probleme in hierdie kort gebed nie. Ek wil net graag drie kleiner sake uitlig.

1. Die Masoretiese teks sowel as die meeste belangrike antieke vertalings (Vulgaat, Targum, Siriese vertaling) gebruik die voornaamwoord wnjn (ons) reg aan die begin van die vers. Die Septuaginta laat dit uit (Salters 2010:250).

2. Die Septuaginta laat ook die koppelwoord tussen die eerste twee werkwoorde uit. Salters (2010:250) skryf hierdie weglating aan haplografie toe.

3. 'n Moontlike probleem is die vertaling van die eerste gedeelte van die vers, omdat daar twee terme ( en מרה) gebruik word wat min of meer dieselfde beteken. Die term פטע kan met "rebelleer of opstandig wees" vertaal word en hrm met "ongehoorsaam of opstandig wees". Die bekendste Engelse vertalings vertaal die terme soos volg: "we have transgressed and rebelled" (NJPS; NRSV); "we have sinned and rebelled" (NEB; NIV; NLT). Bestaande Afrikaanse vertalings vertaal dit ook verskillend: "Ons het oortree en ons was wederstrewig" (1933/53-AV) "Ons het sonde gedoen en was opstandig" (1983-AV); "Ons was opstandig teen U en het nie na U geluister nie." (NLV); "Ons het sonde gedoen, ons was opstandig teen U" (Bybel vir Almal). My eie vertaling sluit by die meeste woordeboeke4 se voorstelle oor die vertaling van פטע en מרה aan.

2.3 Opbou en struktuur

Klaagliedere 3:40-42 begin met die letter Noen en vorm waarskynlik 'n strukturele eenheid. Vanaf vers 40 kom daar 'n "familiariteit" met God voor wat ontbreek het in die eerste 39 verse. In plaas van "hy", "ek" en "man" gebruik die bidder persoonlike voornaamwoorde soos "ek" of "ons." God word persoonlik as "u/jy" aangespreek teenoor die onpersoonlik "Hy" in die voorafgaande verse. Die Noen-verse gebruik die eerste persoon meervoud (ons) (Van Selms 1974:132; Owens 1990:81; Berlin 2002:95).

'n Moontlike verdeling van verse 40-42 is:5

Oorgang: Oproep tot selfondersoek en bekering (vs. 40)

Inleiding tot gebed: gebedshouding en gesindheid (vs. 41)

Gebed (vs. 42)

2.4 Genre

Wat die tipering van die genre van hoofstuk 3 betref, kom 'n mens voor 'n aantal probleme te staan. Eerstens wissel die spreker van die eerste persoon enkelvoud na die eerste persoon meervoud en weer terug. Dit is gevolglik moeilik om hierdie spreker/s te identifiseer. Formele eienskappe soos die gebruik van "ek" sluit nie die feit van gemeenskaplike aanbidding uit nie. Die gebruik van die akrostiese vorm dui ook op 'n konteks wat nie net tot die enkeling beperk is nie (Hillers 1992:6). Tweedens is daar 'n wisseling van verskeie genres: die klaaglied van die enkeling (vs.1 e.v.), wysheidsonderrig (vs. 25 e.v.), geloofsformuliere (vs. 22 e.v.), dankliedere (vs. 52 e.v.) en begrafnisliedere (vv. 48-51) (Childs 1979:592-593; Burden 1987:159-160; Boda 2012:478-480).6

Hoofstuk 3 in geheel dui op die klag van 'n individu wat lyding beleef (Hunter 1999:58). Die spesifieke gebed in Klaagliedere 3:42 kan egter as 'n klaaglied van die volk of boetelied getipeer word (Boda 2012:479-480). In hierdie klaaglied word die skuldbelydenis beklemtoon. Die oproep tot bekering gaan oor tot 'n skuldbelydenisgebed en die skuldbelydenis gaan later oor tot 'n klag (Van As 1961:135; Brandscheit 1983:45; Bergant 2003:99).

2.5 Sitz im Leben

Geleerdes stem saam dat Klaagliedere gesien moet word as 'n poging om die val van Jerusalem en die gepaardgaande lyding te interpreteer (Gous 1992:190). Redditt (2008:133) skryf die volgende hieroor:

It is among the earliest canonical reflections on the fall of Jerusalem, giving every indication that its author/s witnessed the events the book deplores.

Daar is egter uiteenlopende standpunte oor die agtergrond, samestelling en funksie van die verskillende liedere. Die liedere kan waarskynlik as kultiese liedere beskou weens die volgende redes: (1) Ou Nabye Oosterse parallelle getuig saam met Klaagliedere van 'n kultus vir 'n verwoeste heiligdom; (2) die gebruik van die verskillende tipes klaagliedere, soos die begrafnislied, klaaglied van die enkeling en volk, veronderstel 'n liturgie waar die stemme mekaar afwissel; (3) verwysings na hierdie herinneringfees kom in die Ou Testament voor (vgl. Sag. 7:1-6; 8:18-19; Jer. 41:4-9); (4) Klaagliedere is in die Hebreeuse Bybel deel van die Feesrolle wat op die negende van die maand Ab tydens die herdenking van die val van Jerusalem voorgelees is (Burden 1987:160-161).

Daar is verder 'n noue verband tussen Klaagliedere 3 en die profetiese klag liturgie in Jeremia 14:1-15:4. Hierdie verband dui volgens Boda (2012:480) op 'n gemeenskaplike liturgiese agtergrond vir klaaggebede en boetedoening gedurende die sesde eeu voor Christus. Laastens moet ons erken dat daar ook ooreenkomste is tussen Klaagliedere 3 en die klag van Job (vgl. Job 7:5, 18; 9:34; 16:9; 19:8, 10) (Redditt 2008:137).

2.6 Samestelling, redaksie en datering

Klaagliedere 3 dui op 'n tyd ná die val van Jerusalem (vgl. vss. 43-51). Dit wil egter voorkom asof die onmiddellike indrukke in hoofstuk 3 al 'n bietjie vervaag het as dit met die tweede en vierde lied vergelyk word. Die ellende word nie op 'n konkrete manier soos in die res van die boek beskryf nie. Twee moontlike redes vir hierdie "vaagheid" is: (1) waarskynlik was die skrywer van hoofstuk 3 nie 'n ooggetuie van die gebeure in die stad nie; óf (2) dalk was dit nie die skrywer van hoofstuk 3 se bedoeling om die ellende op 'n konkrete manier te beskryf nie (Fohrer 1968:298; Van Selms 1974:135).

Hoofstuk 3 verteenwoordig 'n skuif in fokus weg van die gepersonifiseerde stad na die lyding van die גבר, 'n manlike individu wat tydens die vernietiging van Jerusalem swaargekry het (Giffone 2012:547). Geleerdes huldig verskillende uiteenlopende standpunte rakende die "man" (גבר) wat aan die woord is (vs. 1). Kraus (1956:53) kom tot die gevolgtrekking dat 'n ander spreker in verse 34-41 aan die woord is as in 1-33 as gevolg van die verskil in die optekening van die nood en die uiting van vertroue. Lanahan (1974:45) beweer dat daar 5 "stemme" in Klaagliedere aan die woord is. Volgens hom is hoofstuk 3 beskryf deur 'n soldaat wat lyding ervaar het en wat gevange geneem is (vs. 5). Volgens Van Selms (1974:135-136) is hy 'n koning, moontlik koning Jojagin. Hillers (1992:122) reken dat die man 'n individu is en nie 'n kollektiewe figuur soos Sion nie. Hy meen dat dit 'n "alledaagse man" is, nie 'n spesifieke historiese persoon nie. Willey (1997:215-220) wys op 'n noue verband tussen die man van Klaagliedere 3 en die lydende kneg van Deutero-Jesaja. Volgens haar dien die "man" van Klaagliedere 3 as een van die modelle vir die lydende kneg figuur.7 Renkema (1998:349) beskryf rbg as 'n manlike godsdienstige inwoner van Jerusalem wat selfs in die tempel kompleks kon gebly het voor die vernietiging daarvan. Berlin (2002:84-85) beskou die persoon as 'n "personified voice of the exile". Volgens Berlin is rbg die manlike teenpool van die vroulike stem van die stad en kan met 'n Job-tipe figuur vergelyk word. Dit is seker nie toevallig dat Job na homelf as rbg verwys nie (Job 3:3). In die lig van bogenoemde uiteenlopende hipoteses8 kan 'n mens waarskynlik by die standpunt van Owens (1990:82) aansluit:

that the poet throughout Lamentations takes on several personae or 'speaking voices' to convey the total message of the book and that those voices represent more than simply 'Jerusalem' and 'the individual'.

In hoofstuk 3 is daar geen sprake van 'n groot verandering in die toestand van Jerusalem nie. Klaagliedere 3 kan gevolglik voor die terugkeer in die tyd van koning Kores (538 v.C.) gedateer word. Ellison (1986:696) reken dat die optekening voor 562 v.C. plaasgevind het, omdat daar 'n gebrek aan hoop in Klaagliedere is. Die vrylating van Jogagin (562 v.C.) uit die gevangenis (2 Kon. 25:27-30) moes volgens Ellison die verwagting geskep het dat Jeremia se beloftes vervul sou word. Die meeste kommentatore dateer Klaagliedere 3 nie te lank ná 587/6 voor Christus nie (Renkema 1998:54-55; Boda 2012:478). Die Duitse geleerde Westermann (1994:191-193) dateer Klaagliedere 3 veel later as die res van die boek. Hy glo dat hoofstuk 3 ontstaan het in die post-eksiliese tyd, moontlik die tyd van Esra en Nehemia. Middlemas (2006:522-525) reken dat Klaagliedere 3 deur 'n ander skrywer as die res van Klaagliedere geskryf is, maar dat die outeur steeds een van die ballinge was. 'n Mens moet erken dat daar 'n moontlike verskil tussen Klaagliedere 3 en die res van die boek is, maar daar is steeds onsekerheid oor die presiese datering van hierdie hoofstuk.9

 

3. TEOLOGIESE DIMENSIE

Klaagliedere 3 kan waarskynlik as die belangrikste hoofstuk of teologiese hart van die hele boek beskou word. Dit vorm die literêre sentrum van die boek en die akrostiese vorm word in hoofstuk 3 uitgebrei en versterk (O'Connor 2002:13; Parry 2010:92). In hierdie hoofstuk word beweeg in die rigting van 'n teologiese oplossing vir die lyding van die volk (Boda 2012:482). Die betekenis van die Goddelike vergifnis of "nie-vergifnis" in vers 42 kan dus slegs in verhouding tot die res van die hoofstuk verstaan word.

In Klaagliedere 3 is daar 'n kombinasie van verskillende elemente: beskrywing van verwoesting, hoop en vergifnis, oproep tot berou en bekering, en 'n ervaring van nood. Die hoofstuk verander van wanhoop na hoop, en terug na wanhoop. Die kerngedagte van hoofstuk 3 kom voor in vers 18 waar daar 'n verhouding tussen hoop en beproewing is: "Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die Here." (Odendaal 1991:46-47). Die woord "hoop" kom vyf keer in verse 18-29 voor (vss. 18, 21, 24, 25, 29).10 Slegs vers 18 sien hoop in 'n negatiewe lig ("My roem het vergaanen my hoop op die Here"). Owens (1990:85) meld dat die bidder se hoop in hierdie verse nie eerstens geplaas word op God wat kan vergewe nie, maar op God wat kan verlos. Daar is 'n onderskeid tussen verlossing en vergifnis, maar die twee teologiese konsepte kan nie heeltemal van mekaar geskei word nie. Dieselfde God wat verlos is ook die God wat vergewe, en verlossing van sonde lei tot vergifnis. In al hierdie "hoop-verse" erken die outeur/s dat die situasie nie so kan aangaan nie. Hy plaas sy hoop op 'n God wat kan help, 'n God wat kan verlos en vergewe.

In vers 39 beteken die woord afj eintlik "waartoe die sonde gelei het" (vgl. Ps. 38:4 en Sag. 14:19). Dit is die eerste teks in Klaagliedere 3 waarin geïmpliseer word dat die mens se probleme aan sy eie sonde toegeskryf word.11 Die skrywer bevraagteken nie die goedheid van God nie, maar die goedheid van die mens (Hillers 1992:130).

Op grond van die goedheid van God (vgl. vss. 21-24) en die ellende van die mens is die skrywer/s bereid om 'n boetelied in vers 40-41 op te roep. Daar is 'n grondliggende oortuiging in die Ou Testament dat dit nie genoeg is om oor die lyding te kla sonder 'n soeke na vergifnis en versoening met God nie. Hierdie gedagte word in die latere wysheid (Job 4-5) fyner uitgewerk, maar lê ook ten grondslag van die boetegebede in Jeremia 3, Esra 9 en Nehemia 9 (Brandscheidt 1983:45). Rong (2012:175) wys egter daarop dat daar 'n verskil is tussen Klaagliedere 3:42 en die ander boete- of skuldbelydenisgebede. In die ander gebede beweeg die skuldbelydenis na 'n smeking om vergifnis. In Klaagliedere 3:42 is daar 'n onmiddelike beweging van skuldbelydenis na 'n beskuldiging van God. Die bidder beskuldig God dat Hy nie sy verbondsverpligtinge nakom nie.12

In die skuldbelydenis word daar net in die algemeen na sonde verwys. Die abstrakte terme (פטע en מרה) word gebruik om die sonde, opstand en ongehoorsaamheid te beskryf. Geen spesfieke oortredinge word vermeld soos byvoorbeeld 'n lewe van ongeregtigheid of die aanbidding van afgode nie (O'Connor 2002:53). Bergant (2003:99) reken egter dat die terme wat gebruik word juis dui op opstand teen God. Dit is nie sommer net 'n ligte oortreding nie, maar 'n ernstige breuk in die verhouding tussen God en sy volk. Daar kan verskil word oor die omvang van die sonde, maar die feit is dat daar 'n behoefte is by die bidder dat God die sonde sal vergewe.

Die werkwoord סלח beteken in vers 42 die opheffing van die straf en ellende (Kraus 1956:60). Vergifnis word dus in baie konkrete terme beskryf. Die bidder/s se wens is dat situasie moet verander, maar dit het nog nie gebeur nie (Parry 2010:116). Die ellende waarin die volk verkeer, word as "nie vergewe" beskryf. In die daaropvolgende verse (vv. 43-47) word God se toorn en straf beskryf: God het hulle agtervolg en geen genade betoon nie (vs. 43); Hy het hulle met 'n wolk omring sodat geen gebed meer kon deurkom nie (vs. 44); Hy het hulle 'n uitvaagsel gemaak (vs. 45); Hy het hulle aan hulle vyande oorgegee (vs. 46); en Hy het angs, verlatenheid en verwoesting oor hulle laat kom (vs. 47). Hierdie verse skilder die verband tussen sonde en straf (Van As 1961:136).

Klaagliedere 3:40-42 verwys nie net na die verband tussen sonde en straf nie. Die opregtheid van die bekering kom ook voor: die afkeer van die sonde sowel as die toewending na God (Brandscheit 1983:66).

Die vraag bly egter: Getuig Klaagliedere 3:42 dat God nie wil vergewe nie? In teenstelling met 3:1-18 word hierdie smeking of klag direk aan God gerig met die doel om Hom te oortuig om te vergewe (Parry 2010:116). Hierdie vers meld nié God se onwilligheid om te vergewe nie. Die "nie vergewe nie" verwys eerder na die straf as gevolg van die volk se sonde en hulle gebrek aan berou.

Klaagliedere 3 praat van straf, maar nie van finale verwerping nie: eerder straf met die oog op herstel (Johnson 1985:66). Die bidder van vers 42 konfronteer as't ware vir God met wie Hy werklik is. Die bidder/s beskuldig juis vir God van "nie vergewe" omdat hulle Hom beskou as 'n God wat kan vergewe. Hulle verwag dat God as die getroue en genadige verbondsgod hulle sal vergewe. Alreeds in verse 31-33 word daar getuig dat dit teen God se "hart" is om mense in ellende en beproewing te bring. Hy wil eerder die pad van vergifnis stap:

"(31) Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie. (32) Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy goedertierenhede; (33) want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie." (Renkema 1998:432).

Verskillende woorde word in Klaagliedere 3 gebruik om die genadige karakter van God te beklemtoon: barmhartigheid (רחם vss. 22, 32); getrouheid (אמונה vs. 23); goedheid (טוב vss. 3:25, 26, 27); verlossing ( 3:26); en troue liefde (חסד vs. 32) (Middlemas 2006:519; Boda 2012:483).

Buiten hoofstuk 3 vind 'n mens net twee gedeeltes in die res van die boek wat na God se genade en vergifnis verwys. Klaagliedere 4:22a beklemtoon dat God se straf sal ophou en dat Sion nie weer in ballngskap weggevoer sal word nie. Die vraag in Klaagliedere 5:20 spreek die wens uit dat God nie vir altyd sy volk sal verlaat nie: "Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae?" (Herner 1942:164).

 

4. KLAAGLIEDERE 3:42 EN ANDER סלח GEDEELTES IN DIE OU TESTAMENT

Daar is reeds verwys na die gebruik van die Hebreeuse term סלח wat die konsep vergifnis die beste uitdruk. Die wortelvorm סלח kom vyftig keer in die Ou Testament voor en word slegs drie keer in 'n negatiewe konteks gebruik. Buiten Klaagliedere 3:42 is dit net in Deuteronomium 29:19 en 2 Konings 24:4 waar die partikel לא (nie) saam met סלח gebruik word. 13 God vergewe omdat dit vir Hom vreugde verskaf; gevolglik is daar net enkele gedeeltes wat verwys na God se "skynbare" onwilligheid om te vergewe (Renkema 1998:432).

Een ander סלח gedeelte skep die indruk van 'n onwilligheid by God om te vergewe. In Jeremia 5:7 vra God wel die vraag oor hoekom Hy sy volk moet vergewe:

Waarom sou ek jou vergewe ? Jou inwoners het my verlaat, hulle sweer trou aan afgode. Ek het hulle trou laat sweer aan My, maar tog pleeg hulle egbreuk en drom hulle saam in bordele.

In vers 1 kom die werkwoord סלח ook voor en vers 7 moet in die konteks van verse 1-9 verstaan word. Jeremia 5:1-9 beklemtoon dat God 'n manier soek om te vergewe. Hy is gereed en gewillig om te vergewe, maar sien nie kans vir goedkoop genade nie. Hy is ook 'n God van reg en geregtigheid. Vergifnis vra 'n verbintenis en gehoorsaamheid van God se verbondsvolk. Die volk word beskuldig van ernstige sondes: verwerping van geregtigheid (5:1); nalaat om God se wet na te kom (5:4); aanbidding van afgode, egbreek pleeg en hoerery (5:7). Die teks impliseer egter dat daar geen enkele teken van ongehoorsaamheid is wat vergifnis onmoontlik maak of God se positiewe bedoeling kan dwarsboom nie (O'Kennedy 2011:737-738).

As 'n mens die סלח gedeeltes bestudeer, kom jy tot die gevolgtrekking dat die konsep vergifnis soos 'n goue draad deur die hele Ou Testament loop. Die Ou Testament getuig van 'n vergewensgesinde God en nie van 'n God wat net sy volk wil vernietig nie. Selfs die gedeeltes wat oor die straf van God handel, staan nie teenoor die vergifnis nie. Verskillende fasette van vergifnis word in die סלח gedeeltes beskryf.

Vergifnis is in wese 'n saak waarin God die inisiatief neem (vgl. Num. 14:18-20; Neh. 9:5-37; Jer. 31:34; 33:8; 36:3; 50:20). Vergifnis is nie totaal afhanklik van die mens se berou, bekering en skuldbelydenis nie. God vergewe juis omdat die volk so sondig en magteloos of klein is (Eks. 34:9; Neh. 9:16-18, 26-29; Dan. 9:8; Am. 7:2). Gebed in sy verskillende vorme (smeking, skuldbelydenis, erkenning van God se Naam) is die enigste "voorwaarde" vir vergifnis (vgl. 1 Kon.8:22-53 = 2 Kron. 6:12-42). Vergifnis in die Ou Testament is nie die resultaat van die menslike aksie (bekering) nie. Dit is die resultaat van Goddelike liefde en genade.

Vergifnis behels meer as die wegneem van sonde of uitwissing van skuld. Vergifnis sluit nie straf uit nie en wys soms op die uitstel van oordeel of verandering van straf (Eks.34:7-9; Num.14:18; Am.7:1-2). Vergifnis wys ook op die opheffing of verligting van nood (Ps 25:11, 86:5 en 103:3).

Vergifnis staan teenoor die meganiese uitwerking van die retribusie-teologie. Sonde (oorsaak) lei nie in elke geval tot God se straf (gevolg van sonde) nie. Daar is altyd die moontlikheid van Goddelike vergifnis. Alhoewel daar 'n verband tussen sonde, straf, berou, skuldbelydenis (gebed) en vergifnis in die Ou Testament is, is dit nie noodsaaklik dat daar eers straf op sonde moet wees voordat vergifnis plaasvind nie (O'Kennedy & Olivier 1996:500, 503-507).

 

5. SAMEVATTING EN SLOT

Klaagliedere 3:42 is die enigste gebed in die Ou Testament waar die partikel לא (nie) saam met die term סלח (vergewe) gebruik word. Vers 42 is 'n klaggebed wat waarskynlik tydens die ballingskap deur 'n onbekende "man" (גבר) as verteenwoordiger van die volk gebid is. Uiteenlopnede verdelings van hoofstuk 3 word deur geleerdes aangebied, maar waarskynlik kan verse 40 tot 42 as 'n literêre eenheid beskou word. 'n Oproep tot bekering en inleiding tot die gebed (gebedshouding en gesindheid) vorm deel van hierdie literêre eenheid.

Hierdie kort gebed meld dat God nie vergewe het nie weens die sonde van sy volk. Ons kan egter nié op grond van hierdie gebed sê dat God onwillig is om te vergewe nie. Die res van Klaagliedere 3 vertel van 'n God wat sy volk straf, maar nie wil vernietig nie. House (1998:487-488) beklemtoon dat klaggebede iets oor die karakter van God veronderstel: "At all times laments assume that Yahweh's desire to forgive, restore and heal never abates." Daar word gehoop dat God sal verlos en vergewe. Verskillende woorde word in Klaagliedere 3 gebruik om die genadige karakter van God te beklemtoon: barmhartigheid, getrouheid, goedheid, verlossing en troue liefde. Die hele Ou Testament, veral die סלח gedeeltes, getuig van 'n God wat nie net sy volk wil straf nie. Daar is altyd die moontlikheid van Goddelike vergifnis.

 

BIBLIOGRAFIE

Bergant, D. 2003. Lamentations. Nashville: Abingdon Press. Abingdon Old Testament Commentaries.         [ Links ]

Berlin, A. 2002. Lamentations: A commentary. Louisville: Westminster John Knox Press. OTL.         [ Links ]

Boda, M.J. 2012. Lamentations, Book of. In: M.J. Boda & J.G. McConville (eds.), Dictionary of the Old Testament prophets (Notingham: Inter-Varsity Press), pp. 477-489.         [ Links ].

Brandscheidt, R. 1983. Gotteszorn und Menschenleid: Die Gerichtsklage des leidenden Gerechten in Klgl 3. Trier: Paulinus-Verlag. Trierer Theologischen Studien 41.         [ Links ]

Burden, J.J. 1987. Klaagliedere. In: J.J. Burden & W.S. Prinsloo (reds.), Tweegesprek met God: Predikers, digters en wysgere (Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers), pp. 150-174.         [ Links ]

Brueggemann, W. 2003. An introduction to the Old Testament: The canon and Christian imagination. Louisville: Westminster John Knox Press.         [ Links ]

Childs, B.S 1979. Introduction to the Old Testament as Scripture. London: SCM Press.         [ Links ]

 

Ellison, H.L. 1986. Lamentations. Grand Rapids, Michigan: Zondervan. The Expositor's Bible Commentary 6.         [ Links ]

Fohrer, G. 1968. Introduction to the Old Testament (tr. by D.E. Green). New York: Abingdon Press.         [ Links ]

Giffone, B. 2012. The timeless, unifying rhetoric of Lamentations. OTE 25(3):534-558.         [ Links ]

Gous, l.G.P. 1992. A survey of research on the book of Lamentations. OTE 5:184-205.         [ Links ]

Harrison, R.K. 1974. Jeremiah and Lamentations. London: Inter-Varsity Press. TOTC.         [ Links ]

Hausmann, J. 1986. s.v. סלח, TWAT 5:859-868.         [ Links ]

Herner, S. 1942. Sühne und Vergebung. Lund: CWK Gleerups Verlag.         [ Links ]

Hillers, D.R. 1992. Lamentations. Second, revised edition. New York: Doubleday. AB.         [ Links ]

House, P.R. 1998. Old Testament Theology. Downers Grove, Illinois: InterVarsity Press.         [ Links ]

Hunter, J.H. 1999. Tracing Lamentations 3: The ideas of an individual lament. OTE 12(1):57-72.         [ Links ]

Johnson, B. 1985. Form and message in Lamentations. ZAW 97:58-73.         [ Links ]

Kraus, Η-J. 1956. Klagelieder (Threni). Neukirchen: Kreis Moers. BKAT XX.         [ Links ]

Kselman, J. 1992. s.v. Forgiveness (OT), ABD 4: 831-833.         [ Links ]

Lanahan, W.F. 1974. The speaking voice in the book of Lamentations. JBL 93:41-49.         [ Links ]

Louw, P.u. 1979. Gebed in die Ou Testament. 'n Studie van die grondbetekenis en liggaamsbelewing in die gebed. Ongepubliseerde M Th-tesis. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Middlemas, J. 2006. Did Second Isaiah write Lamentations III? VT 56(4):505-525.         [ Links ]

Miller, P.D. 1994. They cried to the Lord: The form and theology of biblical prayer. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

O'Connor, K.M. 2002. Lamentations and the tears of the world. Maryknoll, New York: Oribs Books.         [ Links ]

Odendaal, M.S. 1991. Lamentations: Form and Message. M Th dissertation, University of Stellenbosch.         [ Links ]

O'Kennedy, D.F. 2011. Divine forgiveness in the major prophets. OTE 24(3):731-745.         [ Links ]

O'Kennedy, D.F. & Olivier, J.P.J. 1996. Die konsep vergifnis in die Ou Testament. NGTT 37(4):496-508.         [ Links ]

Olivier, J.P.J. 1997. s.v. סלח, NIDOTTE 3:259-264.         [ Links ]

Owens, P.J. 1990. Personification and suffering in Lamentations 3. Austin Seminary Bulletin 105(2):75-90.         [ Links ]

Parry, R.A. 2010. Lamentations. Grand Rapids: Eerdmans. The Two Horizons Old Testament Commentary.         [ Links ]

Provan, I.W. 1991. Lamentations. Grand Rapids: Eerdmans. NCB.         [ Links ]

Redditt, P.L. 2008. Introduction to the prophets. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.         [ Links ]

Renkema, J. 1998. Lamentations. Leuven: Peeters HCOT.         [ Links ]

Rong, L. 2012. Forgotton and forsaken by God (Lam 5:19-20): The community in pain in Lamentations and related Old Testament texts. Unpublished Ph D Dissertation, Catholic University of America, Washington D.C.         [ Links ]

Rudolph, W. 1962. Das Buch Ruth; Das Hohe Lied; Die Klagelieder. Gütersloh: Gütersloher Verlagshaus. KAT.         [ Links ]

Salters, R. 2010. A critical and exegetital commentary on Lamentations. London: T&T Clark.         [ Links ]

Shea, W.H. 1979. The qinah structure in the book of Lamentations. Bib 60:103-107.         [ Links ]

Thompson, M.E.W. 2012. I have heard your prayer: The Old Testament and prayer. Eugene, Orgeon: Wipf and Stock Publishers.         [ Links ]

Van As, J.J. 1961. Skuldbelydenis en genadeverkondiging in die Ou Testament. Utrecht: Elinkwijk.         [ Links ]

Van Selms, A. 1974. Jeremia deel III en Klaagliederen.Nijkerk: G F Callenbach. POT.         [ Links ]

Westermann, C. 1994. Lamentations: Issues and Interpretation.Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Willey, P.T. 1997. Remember the former things: The recollection of previous texts in Second Isaiah.Atlanta: Scholars Press.         [ Links ]

 

 

1 Sommige persone mag vrae hê oor die tipering van Klaagl. 3:42 as gebedsliteratuur. Hierdie vers word as gebedsliteratuur getipeer, omdat hier direk met God gepraat word en deur 'n gebedshandeling (vs. 41) ingelei word (vgl. Louw 1979:104; Renkema 1998:430; Bergant 2003:99; Parry 2010:116). Daar is ook 'n baie noue band tussen klaagliedere en klaaggebede. In baie gevalle kan dit nie heeltemal van mekaar geskei word nie (vgl. Psalms).
2 Daar word uit die 1933/53 Afrikaanse Vertaling aangehaal tensy anders vermeld.
3 Die vertaling "U het nie vergewe nie" of moontlik" En U het nie vergewe nie" sluit aan by die meeste moderne vertalings (ESV; NEB; NIV; NJPS; NRSV). Rudolph (1962:242) probeer om dit 'n bietjie sagter te vertaal met die woorde "Darum ist du billig nicht verschonet" ("Daarom is julle nie goedkoop/ligtelik vergewe nie").
4 Vgl. HAL; NIDOTTE; TDOT; THAT.
5 Vgl. Van As (1961:135) en Provan (1991:100).
6 Boda (2012:479) meld dat daar 'n verband is tussen Klaagliedere en die Mesopotamiese klaagliedere oor verwoeste stede en hulle heiligdomme ("Mesopotamian city dirge"). Dit is egter net hoofstukke 1, 2 en 4 wat hierdie moontlike verband vertoon.
7 Daar is ook ander geleerdes wat wys op 'n verband tussen Klaagl. en Jes. 40-55 (vgl. bespreking van Middlemas 2006:507-511).
8 Vgl. ook Parry (2010:94-95) vir 'n kort samevatting van al die verskillende hipoteses.
9 Dit is nie die bedoeling van die artikel om 'n detail bespreking oor die samesteling en datering aan te bied nie. Die verskillende standpunte het egter nie 'n beduidende invloed op die teologiese dimensie van vergifnis nie.
10 Verskillende Hebreeuse woorde word hier gebruik om die gedagte van hoop oor te dra. In verse 21 en 24 word die Hif'il vorm van die werkwoord
יחל gebruik terwyl die werkwoord קוה in vers 25 voorkom. In vers 18 word die nomen תוחלת gebruik en תקוה in vers 29. Brueggemann (2003:339-340) reken dat Klaagl. 3:21-24 die enigste teksgedeelte in Klaagliedere is wat spesifiek hoop vir die toekoms artikuleer. Hierdie hoop word gebaseer op die ou credo tradisies in Eksodus 34:6-7.
11 Daar is talle teksgedeeltes in die res van die Klaagliedere wat die volk se sonde as oorsaak van die straf of ballingskap beskou (vgl. Klaagl. 1:5, 8; 4:13; 5:7, 16).
12 Vgl. ook Rong (2012:123).
13 Daar is ten minste drie gedeeltes in die groot profeteboeke wat verwys na God se "onwilligheid" om te vergewe (Jes. 22:14; 27:11b; Jer. 18:23). In twee gevalle (Jes. 22:4; Jer. 18:23) word die Hebreeuse werkwoord
כפר gebruik en een keer die term רחם (Jes. 27:11b). Dit is interessant om daarop te let dat die term סלח in geeneen van hierdie teksgedeeltes voorkom nie (O'Kennedy 2011:742).

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons