SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 suppl.20Memory culture in the making: The Heidelberg Catechism in the memory of the Dutch Reformed Church (1862-1937)The Heidelberg Catechism: A hidden creedal text and catechetical manual in the Malawian Reformed Church 1889-2012 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089

Acta theol. vol.34  supl.20 Bloemfontein  2014

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v20i1.15s 

Die Heidelbergse Kategismus en die kategesemateriaal van die Ned Geref. Kerk: 'n kerkhistoriese oorsig

 

The Heidelberg Catechism and the catechesis material of the Dutch Reformed Church: A church history overview

 

 

J.M. van der Merwe

Dr. Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika. E-pos: Johan. VDMerwe@up.ac.za

 

 


Trefwoorde: Heidelbergse Kategismus, Ned Geref Kerk, Geskiedenis, Kategese


ABSTRACT

In the year which we commemorate the 450th anniversary of the Heidelberg Catechism, this article follows the historical tracks of the catechism through the history of the Dutch Reformed Church with special focus on the role it played in the catechesis of the church. It starts with a short introduction about the origin of the Heidelberg Catechism. Secondly it gives an overview of the material used by the church through its early history before it compares the different books which were used later on. This is done in order to establish what role the Heidelberg Catechism played in the learning material of the church. The article concludes with the finding that the Heidelberg Catechism indeed played and still plays a huge role in the catechesis of the Dutch Reformed Church.

Key words: Heidelberg Catechism, Dutch Reformed Church, History, Catechesis


 

 

1. INLEIDING

In die jaar waarin die 450 jarige bestaan van die Heidelbergse Kategismus herdenk word, is dit gepas om op een van die historiese spore van die Heidelbergese Kategismus in Suid Afrika terug te loop. Die spoor waarop hierdie artikel wil terugloop is om te vra na die rol wat die Heidelbergse Kategismus in die kategesemateriaal van die Ned Geref Kerk gespeel het. Hierdie spoor kan natuurlik nie losgemaak word van die ander spore wat die Heidelbergse Kategismus in die Ned Geref Kerk as 'n geheel nagelaat het nie. Die Heidelbergse Kategismus is deel van die DNA van die Ned Geref Kerk. Vosloo toon dit duidelik aan deur te verwys na die rol wat die Kategismus van vroeg af gespeel het in die prediking van die Ned Geref Kerk. Dit word ondermeer deur Barnard bevestig (Barnard 1981: 491). Vosloo verwys verder ook spesifiek na die belangrike rol van Kategismus in die "bestryding van dwaalleer" in die sogenaamde stryd teen die liberalisme in die 19e en 20ste eeu (Vosloo 2013) Daardeur het die Heidelbergse Kategismus ook die teologiese identiteit van die Ned Geref Kerk help bepaal. Dit word verder onderstreep deur die feit dat dit van die begin af deel uitgemaak het van die belydenisgrondslag van die Ned Geref Kerk soos verwoord in Artikel 1 van die Kerkorde van die Ned Geref Kerk. (Die Kerkorde 2013:1). Jonker (1994:93) vat die rol wat die Heidelbergse Kategismus in die geskiedenis en die teologie van die Ned Geref Kerk gespeel het, gepas saam wanneer hy skryf:

Die Heidelbergse Kategismus is deel van die erfenis wat Suid- Afrika uit Nederland ontvang het. Meer as enige een van die ander belydenisskrifte van die gereformeerde kerke het dit by lidmate van die kerk ingang gevind deurdat dit in die kategese gebruik is, en daar dikwels ook in die erediens aan die hand van die Kategismus gepreek is.

Ten einde die doel te bereik sal daar eerstens kortliks gekyk word na die onstaan van die Heidelbergse Kategismus. Tweedens volg 'n historiese oorsig oor die kategesemateriaal wat in die Ned Geref. Kerk gebruik is. Derdens word die verskillende kategeseboeke met mekaar vergelyk ten einde vas te stel watter rol die Heidelbergse Kategismus in die materiaal gespeel het voordat daar te slotte enkele konkluderende opmerkings gemaak word waarin getoon word dat die Heidelbergese Kategismus inderdaad 'n baie groot rol in die kategesemateriaal van die Ned Geref. Kerk gespeel het.

 

2. DIE ONTSTAAN VAN DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS

GBA Gerdener skryf in sy Handboek by die Katkisasie1 soos volg oor die onstaan van die Heidelbergse Kategismus:

Hierdie Kategismus is in 1563 in die stad Heidelberg, die hoofstad van die provinsie Paltz, in Duitsland, opgestel en wel op versoek van die vrome koning Frederik III, wat destyds daar regeer het (Gerdener 1927:154).

Gerdener gaan dan voort om te verduidelik hoe die twisvrae wat daar tussen die ondersteuners van Luther en Calvyn ontstaan het, 'n direkte rede was vir die opdrag van die koning aan Zacharias Ursinus en Caspar Oliveanus vir die skryf van 'n kategismus. Die doel van die kategismus was

om nie net beter vir die jeug te sorg nie, maar om aan evangeliedienaars en skoolmeesters 'n vaste leidraad te gee sodat hulle nie willekeurig nuwe dinge leer wat met Gods Woord in stryd is nie (Gerdener 1927: 154).

Gerdener vervolg deur die Heidelbergse Kategismus as volg te beoordeel:

As 'n kort samevatting van Gereformeerde waarhede is die Heidelbergse Kategismus 'n pragstuk; daarby dwing die versoenen- de toon daarvan ons bewondering af. Iemand verklaar dat die innigheid van Luther, die helderheid van Melanchton, die eenvoudig- heid van Zwingli en die vuur van Calvyn in die werk saamgevat is (Gerdener 1927: 154).

Hierdie gloeiende lofbetuiging van Gerdener suggereer reeds iets van die rol wat die Heidelbergse kategismus in die aanvanklike kategesemateriaal van die NGK gespeel het. Dit word verder versterk deur 'n voetnota waarin Gerdener verduidelik Dat die woord "kategismus" afgelei word van twee Griekse woorde, wat "ondertoe klink" beteken wat sou dui op die

manier van onderwys deur vrae en antwoorde wat die onderwyser gedurig in die ore van sy leerling moes laat klink sodat die waarheid kon afsak (Gerdener 1927: 154).

Prins sluit hierby aan wanneer hy skryf dat algemene onkunde aangaande die geestelike dinge een van die aanleidende oorsake vir die onstaan van die Heidelbergse Kategismus was (Prins 1973:153). Onkunde onder die jeug was egter nie die enigste ontstaansoorsaak nie (Prins 1973:154). Prins verwoord 'n breër ontstaansgrond soos volg:

Die onkunde onder mense en gevolglik die noodsaak van onderrig aan die jeug, die teologiese strydkwessies en die besondere politieke situasie, het dus almal saamgewerk tot die onstaan van die Heidelbergse Kategismus (Prins 1973:156).

Omdat dit die doel van hierdie artikel is om te vra na die rol van die Heidelbergse Kategismus in die Kategesemateriaal van die Ned Geref. Kerk, is dit belangrik om uit te maak of die Kategismus inderdaad aan die jeug gerig was. Prins meld dat daar in die voorwoord van die Kategismus melding gemaak word van "de tedere Jeugt" wat verwaarloos is en dat daar verder verwys word na "de ongeleerde Jeugt" wat "van haar eerste Jaren af door een zelve en overeenstemment onderwys, tot een ware Godsvrug geleert" moes word (Prins 1973:167). Sy afleiding is dan ook korrek wanneer hy sê dat die Kategismus in die eerste plek op die kind gerig was, maar dat dit ook as onderrigboek vir die hele gemeente gedien het (Prins 1973:169). Om te verstaan hoe die Heidelberse Kategismus sy pad na Suid Afrika gevind het, is dit belangrik om te verstaan hoe dit sy ingang in Nederland gevind het. Nadat dit op 19 Januarie 1563 deur Frederik die derde onderteken is, is daar dadelik begin met die druk van die Kategismus (Prins 1973:176). Dit het die verspreiding van die kategismus verhaas en alhoewel daar in Nederland 'n groot aantal kategismusse in gebruik was, is die Heidelbergse Kategismus gou meer as die ander gebruik (Prins 1973:178).

Reeds by die sinode van Wesel in 1568 het die Heidelbergse Kategismus 'n prominente plek verower. By die sinode van Dordt in 1574 is besluit dat al die kerke in die provinsie 'n kategismus moet hê en dat dit die Heidelbergse Kategismus moes wees (Prins 1973:179). Die Heidelbergse Kategismus is dus lank voor die sinode van Dordt reeds deel van die belydenisskat van die Nederlandse kerke. In 1618 is die Heidelbergse Kategismus by die historiese sinode van Dordt as belydenisskrif aanvaar. Die sinode het kategismusprediking verpligtend gemaak en verder bepaal dat die Heidelbergse Kategismus of die kort begrip in die kategese gebruik moes word (Prins 1973:180). Vroeg reeds was dit egter duidelik dat veral jong kinders gesukkel het om die Kategismus te verstaan. Dit het daartoe gelei dat H Faukelius in opdrag van die Kerkraad van Middelburg in 1608 reeds 'n eenvoudiger bookie saamgestel het. Hierdie boek sou bekend word as die Kort Begrip omdat dit bloot 'n korter en eenvoudiger weergawe van die Heidelberger was (Prins 1973:181). Gerdener skryf in sy Handboek by die Katkisasie soos volg oor die Kort Begrip:

Dit is aan die een kant jammer dat die Heidelbergse Kategismus deur hierdie Kort Begrip opsy geskuif word, aangesien die skoonheid van die Kategismus hier en daar deur die verkorte bewerking belemmer word. Aan die ander kant is die Kort Begrip hier en daar 'n verduideliking en selfs 'n uitbreiding van die Kategismus, en in elk geval het dit so gewild geword dat ons na heelwat wik en weeg besluit het om dit ook as leidraad in die bespreking van ons kerkleer te gebruik (Gerdener 1927:153).

 

3. KATEGESEMATERIAAL IN SUID-AFRIKA

3.1 17e tot 19e eeu

Via Nederland het die Heidelbergse Kategismus van die heel begin af sy invloed aan die Kaap laat geld (De Villiers 1957:124). Prins is korrek wanneer hy op voetspoor van De Villiers sê:

In die verdere ontwikkeling van die kategese in die Calvinistiese kerke in Suid Afrika, het die Heidelbergse Kategismus en die Kort Begrip steeds hulle plek behou as die belangrikste leerstof in die kategetiese onderwys (De Villiers 1957: 178).

Alhoewel 'n hele reeks verskillende kategeseboeke aanvanklik aan die Kaap gebruik is, beklemtoon Van Zijl dat die Heidelbergse Kategismus sedert 1566 saam met die liturgiese formuliere in een band uitgegee is (Van Zijl 1991: 150).

Indien in ag geneem word dat die bundel waaruit Wylant die godsdiensoefeninge gelei het 'mit een vers twe ofte dree toe singen', na alle waarskynlikheid Datheen se Psalmbundel was, is ditgeloofwaardig om te argumenteer dat hy 'die jonges' waarskynlik uit die Heidelbergse Kategismus 'vragen (laet) opseggen' het (Van Zijl 1991:152).

Van Zijl argumenteer verder ten gunste van Wylant se gebruik van die Heidelbergse Kategismus tydens kategese deur te verwys na die Bataafse kerkorde van 1643. Hiervolgens moes alle predikante, sieketroosters en skoolmeesters die Heidelbergse Kategismus saam met die ander formuliere van eenheid onderteken wat hom gebind het om die Heidelbergse Kategismus tydens godsdiensbyeenkomste te gebruik (Van Zijl 1991:153). Van Zilj wys egter verder tereg daarop dat alhoewel die Heidelbergse Kategismus waarskynlik een van die eerste leerboeke was, wat gebruik is, was dit beslis nie die enigste nie. Die Kort Begrip van Faukelius was na alle waarskynlikheid ook in gebruik terwyl die moontlikheid nie uitgesluit is dat ander boek ook gebruik is nie (Van Zijl 1991:155).

Dit blyk uit navorsing dat daar veral vanaf die begin van die 18e eeu ook ander katkisasieboeke aan die Kaap in omloop was. Onder die werke tel onder andere die handgeskrewe katkisasieboek van Paul Roux, Van Oostrum se Over de Cathegismus, die Korte schets van D' Outrein, die Katkisasieboek van ds. Franciskus Le Seur, die katkisasieboek van Abraham Hellenbroek en die kategeseboek van Borstius (Van Zijl 1991:156-166). Alhoewel die hele reeks boeke die indruk kan wek dat die Heidelbergese Kategismus en die Kort Begrip gaandeweg uitgeboer is, wys van Zijl tereg deur die volgende verskillende getuienisse op die teendeel:

Die skoolreglement vir die stad Batavia wat in 1778 afgekondig is en wat ook vir die Kaap gegeld het, het bepaal dat skoolmeesters kinders vrae moes laat opsê uit "den Heidelbergschen Catechismus, of een kort begrip uit dienzelven getrokken."

Katkisant Gerrit Owits het in 1790 lidmaat van die gemeente in Drakenstein geword op "het Kort Begrip der Christelijke Religie."

Volgens die notule van die kerkraad van die gemeente in Drakenstein is daar op 18 September 1791 besluit: "om den leerling, die op's Heeren Dag in de kerk antwoorden uit den Heidelbergsche Catechismus opzegd, voor de stoel van de oud -kerkeraden te plaatsen".

PB Borcherds, seun van die bekende ds. Meent Borcherds van Stellenbosch skryf dat hy in 1793, benewens Hellenbroek se katkisasieboek, ook onderrig ontvang het in "de Heidelbergse Cathecismus" (Van Zijl 1991:169).

Die afleiding kan dus tereg gemaak word dat die Heidelbergse Kategismus en die verwerkte vorm daarvan naamlik die Kort Begrip van die begin af deel was van die leerboeke van die Ned Geref. Kerk. Dat daar egter ook mettertyd, in die Kaap soos in Nederland, ander katkisasieboeke verskyn het, kan egter nie ontken word nie. Van Zijl oordeel egter korrek wanneer hy sê dat hierdie leerboeke, alhoewel hul inhoudelik 'n verskuiwing met betrekking tot die teologiese aksentuering in ooreenstemming met die destydse tydsgees aandui, nooit die Heidelbergse Kategismus en die Kort begrip hier te lande vervang het nie.

Hierdie afleiding van Van Zijl word bevestig deur die besluit van die eerste sinodes in die Kaap. Reeds tydens die eerste sinode in 1824 is besluit dat slegs "leerboeke wat uit den schoot der Hervormde Kerk" voorsien is, gebruik kon word (Acta Sinode 1824 :45). Alhoewel daar tydens die opvolgende sinodes van 1826, 1829, 1834, 1837, 1842 verskeie besluite oor kategetiese onderrig geneem is, was die Heidelbergse Kategismus en die Kort Begrip die fundamentele leerboeke wat gebruik moes word (De Villiers 1957:207). Teen 1857 was die Heidelbergse Kategismus , die Kort Begrip en van Hellenbroek in gebruik, alhoewel die gebruik van Hellenbroek begin afneem het.

Dat alles egter nie pluis was nie blyk uit 'n belangrike artikel van Clerus in De Gereformeerde Kerkbode van 30 Augustus 1856. In hierdie artikel word die stelling gemaak dat daar eintlik geen vraeboek in die kerk was nie. Met verwysing na die predikante sê die skrywer:

Sommigen houden zich aan de kerklijk goedgekeurden en vasgestelden boeken, de Heidelbergsche Catechismus of het Kort Begrip; anderen geven de voorkeur aan een boekje uit den ouden tijd, van Hellenbroek namelijk; anderen gebruiken nieuwere werken, als van Brink, Egeling, Van den Berg en nog meer; terwyl er ook Leraars gesonder worden, die weinig op houden met vragenboeken, die van buiten geleerd worden, en andere handleidingen aanbevelen, waardoor zij meenen dat de jeugd meer grondige Bijbelkennis verzamelt (De Gereformeerde Kerkbode 1856:277).

Clerus was van mening dat die Heidelbergse Kategismus weer ingevoer moes word en wel om die volgende redes:

Omdat die Heidelbergse Kategismus kerklike gesag ontvang het;

Omdat die inhoud van die Kategismus sodanig is dat dit vaste en gesonde spyse aan die bevolking gee;

Omdat daar reeds van tyd tot tyd uit die kategismus gepreek word (De Gereformeerde Kerkbode 1856:277).

Hierdie standpunt van Clerus het tot 'n hewige debat gelei en het ongetwyfeld die tafel gedek vir die verskyning van die eerste katkisasieboek van eie oorsprong in Augustus 1857 met Johan Murray as outeur. Die grondslag van Murray se boek was die Kort Begrip. Die boek het uit 38 lesse bestaan wat die indeling van die Kategismus gevolg het (De Villiers 1957:230). Hierdie was 'n belangrike wending in die geskiedenis van die kategesemateriaal van die Ned Geref. kerk. De Villiers merk tereg op: "John Murray se boek was dus 'n geskenk aan die Kerk en volk op 'n oomblik toe daar na lig gesoek is" (De Villiers 1957:229). 'n Boek wat van groot betekenis vir die kategese was, was "Het nieuwe Cathchisasieboek" van A McGregor wat vir die eerste keer in 1899 verskyn het (Viljoen 1994:40). McGregor was een van die Skotse predikante wat op inisiatief van Lord Charles Somerset in 1862 na Suid Afrika gekom het (Viljoen 1994:40). Alhoewel McGregor van Skotse afkoms was, het sy boek ook die Kort Begrip In 47 duidelike en eenvoudige lesse behandel. Reeds in die voorwoord verwys die skrywer na die noodsaaklikheid van 'n nuwe katkisasieboek. Hy skryf:

Een Nieuw Catechisatieboek! Wat ontbreek dan aan het zo algemeen gewaardeerde Catechisatieboek en Den Kinderbybel van den niet vergeten wijlen Professor Murray? Niets volstrekt niets. Doch de tijden zijn nu so veranderd met al de examina, die onze jongend menschen moeten ondergaan, dat de schrijver reeds lang behoefte gevoelde aan een boek van beknopte omvang, waaruit onzer zonen en dochters zoowel de leer onzer Kerk, als de Bijbelse geschiedenis kunnen leeren , en dat niet slechts onderwijzers in onze scholen en de ouders in hunnen huizen , maar ook leeraars in hunnen catechisatien kunnen gebruiken (McGregor 1908).

Dit blyk dus duidelik dat die Heidelbergse Kategismus en die Kort Begrip in die eerste 3 eeue na aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap die oorheersende kategesestof was wat gebruik is. Alhoewel ander literatuur ook 'n rol gespeel het, was dit die belangrikste leerstof wat deurgaans in gebruik was. Hierdie afleiding word bevestig deur Viljoen wanneer hy skryf:

Die boeke van die manne van die Nadere Reformasie, nl. Voetius, Borstius, A Brakel, Smijtegeld en Hellenbroek aan die een kant en die Kort Begrip en die Heidelbergse Kategismus daarnaas, is vanaf die 17e eeu ook in Suid Afrika algemeen gebruik en het groot invloed uitgeoefen op die kerklike lewe (Viljoen 1994:193).

3.2 20ste eeu

Die eerste kategeseboek van die 20ste eeu het in 1927 verskyn met die publikasie van GBA Gerdener se "Handboek by die Katkisasie" (Gerdener 1927). Hierdie publikasie was 'n direkte gevolg van 'n besluit van die Kaapse kerk wat reeds tydens die sinode van 1920 geneem is. In 1921 het die Raad van Kerke2 besluit om as koördinerende liggaam op te tree ten einde die saak verder te bevorder (Handelinge 1925: 18). Tydens die sitting van die Raad van Kerke in 1925 is dr GBA Gerdener aangewys om die werk volgens die sinodes uit te voer. Daar is verder besluit op 'n keurkomitee wat uit twee lede van elke sinode sou bestaan. Die handboek sou ook na die verskillende sinodes gestuur word vir goedkeuring (Handelinge 1925:18). Die boek het uit drie afdelings bestaan waarvan die tweede afdeling leerstellig was en die leer van die kerk volgens die Kort begrip behandel het. 'n Verwerking van die boek het in 1945 verskyn waarin die skrywer self geskryf het:

Mag ons die hoop uitspreek dat die boek beter aan sy doel sal beantwoord as voorheen. Daar is in elk geval heelwat bygewerk. Hoewel die boek in algemene trekke 'n herskrywing van die oue mag heet, veral ten opsigte van die rangskikking van die stof het daar verandering gekom (Gerdener 1945).

Van die verandering wat gemaak is, het die hantering van die belydenisskrifte ingesluit. Saam met die gebruik van die Kort Begrip is die dienooreenkomstige afdelings van die Heidelbergse Kategismus ook volledig weergegee.

'n Volgende kategeseboek het sy ontstaan te danke gehad aan die ontwikkeling van Sondagskole in Suid Afrika. Op die vergadering van die Gereformeerde Sondagskoolkommissie in Junie 1946 is besluit om 'n katkisasieboek vir die Sondagskool te laat skryf (De Villiers 1957:290). Die boek met die titel "Die Katkisasieboek" het in 1950 verskyn. Die boek het bestaan uit Bybelsgeskiedenis, geloofsleer en sedeleer, sektes en dwalinge, kerkgeskiedenis, ons kerkregering, die pligte van 'n goeie lidmaat, 'n gids vir Bybelgeskiedenis en die Kort Begrip (De Villiers 1957:290). In die vyftiger en sestiger jare is die boek van Gerdener en die boek van die Sondagskoolkommissie parallel in gemeentes van die kerk gebruik. Albei van die boeke het kerklike sanksie geniet (Viljoen 1994:193).

Volgens Viljoen sou die volgende belangrike wending tydens die Algemene Sinode van 1966 plaasvind toe die sinode "ingrypende besluite oor die leerstof geneem het" (Viljoen 1994:195). Een van die belangrikste besluite in die verband was dat: Naas die Kort Begrip moet die Heidelbergse Kategismus in sy geheel in "uitgawes van erkende katkisasieboeke opgeneem word" (Handelinge 1966: 543). Hierdie besluit was inderdaad 'n belangrike wending omdat dit vir die eerste keer weer bepaal het dat die volledige Heidelbergse kategismus deel van die Kategese leerplan moes wees.3 Soos reeds gemeld was daar in die tydperk na die Algemene Sinode van 1966 twee boeke in gebruik vir die "Senior - of voorbereidende kategese of die katkisasie-afdeling van die Sondagskool" (Viljoen 1994:202). Dit was "die Katkisasieboek" van die Algemene Jeugkommissie (AJK) vroeër die Gefedereerde Sondagskoolkommissie en die "Handboek by die Katkisasie" van GBA Gerdener (Viljoen 1994:202). Alhoewel die sinode van 1966 besluit het dat 'n nuwe reeks die lig moes sien, is 'n herdruk van "Die Katkisasieboek" goedgekeur deur die Algemene Jeugkommissie in Oktober 1967 (Notule AJK 1967:12). Tydens die vergadering van die AJK in 1969 is die saak van 'n nuwe boek na "die sekretarisse plus DJ Viljoen verwys" (Notule AJK 1969:16). Een van die belangrikste punte van kritiek wat tydens die eerste vergadering van die Ad Hoc Kommissie teen die boek wat in gebruik was uitgespreek is, was die feit dat die Kort Begrip as uitgangspunt geneem is en dat die belydenisskrifte dus nie tot hulle reg gekom het nie (Viljoen 1994:202). In die beplanning van die nuwe reeks is besluit dat

vir spesifieke leerstellige onderrig moet die Heidelbergse Kategismus as uitgangspunt gebruik word en die ander twee belydenisskrifte moet koördinerend en aanvullend deeglik bygewerk word (Handelinge 1970: 374).

Die reeks sou uit vyf boekies bestaan volgens 'n leerplan waarin die Heidelbergse Kategismus deeglik aandag gekry het. In die tweede boekie is die Heidelbergse Kategismus met toespitsing op die tweede deel, naamlik sonde en ellende aandag gegee. In die derde boekie is aan die Heidelbergse Kategismus met toespitsing op die tweede deel, nl. verlossing aandag gegee terwyl die vierde boekie gefokus het op die derde deel van die Heidelbergse Kategismus, naamlik dankbaarheid. In die vyfde boek is 'n samevattende oorsig oor die hele Heidelbergse Kategismus gegee (De Klerk 1974: 48,49).

Viljoen skryf oor die rol van die Heidelbergse Kategismus:

Die kommissie het dus sy taak so gesien dat die HK die "sleutel" of "agenda" moes wees van die leerstellige onderrig aan die katkisante. Die ander twee belydenisskrifte moes waar toepaslik bygewerk word. 'n Belangrike oorweging vir die kommissie was watter metode gebruik gaan word om die Heidelbergse Kategismus te behandel. Vir die kommissie was 'n baie belangrike oorweging dat die Heidelbergse Kategismus een van ons belydenisskrifte is en dat dit dus as sodanig ook aan die kinders geleer moet word (Viljoen 1994:213).

Die kommissie het dit belangrik geag om die volledige Heidelbergse Kategismus in die volgorde waarin dit opgestel aan die dooplidmate voor te hou en om dan

in die behandeling van geloofswaarhede die Heidelbergse Kategis-mus op spoor te volg. Die kommissie het gemeen dat solank die Heidelbergse Kategismus as draad of agenda van die leergang gebruik word, daar in die verduideliking van die aangegewe stof vereenvoudigend en eietyds te werk gegaan kon word (De Klerk 1974:50).

Die leerplan waarop besluit is, is soos volg weergee:

Die geheel bly elke jaar behoue, maar op een van die drie samestellende dele word die klem gelê. Om 'n beeld te gebruik: die vergrootglas word slegs elke jaar 'n entjie aangeskuif, maar die geheel word nooit uit die oog verloor nie. In die belydenisklas word die volledige leerstof dan weer oorsigtelik aan die hand van die Nederlands geloofsbelydenis behandel sodat dit ook vir die nodige gesonde en noodsaaklike herhaling en inskerping sorg (De Klerk 1994:52).

Soos wat die manuskripte van die verskillende boek gereed was, het die NG Sendingpers begin met die drukwerk. Die reeks was in 1974 gereed vir gebruik in gemeentes (Viljoen 1994:213).

'n Proses om die nuwe boek te hersien het reeds in 1978 'n aanvang geneem toe die Hersieningskommissie riglyne vir die hersiening aan die AJK voorgelê het. Dit het aanleiding gegee tot 'n hersiene reeks wat in 1987 verskyn het. Tydens die Algemene Sinode van 1982 is daar egter ook reeds opdrag gegee tot 'n totale herskryf van die kategesemateriaal van die kerk. Die opdrag het soos volg gelui:

Die Sinode gee opdrag aan die AJK om voort te gaan met 'n deeglike wetenskaplike kurrikulumontwerp vir die hele reeks kategeseboeke en met geleidelike herskrywing daarvan volgens die beste opvoedkundige metodes en in ooreenstemming van die bestaande vereistes van die Sinode. Besondere aandag moet aan kundige keuring gegee word (Handelinge 1982:1341).

Die Herskrywingskommissie het voluit begin werk aan 'n nuwe reeks boeke waarin baie meer klem gelê is opvoedkundige en kurrikulumontwerp-beginsels (Viljoen 1994:231). Die bestaande vereistes van die sinode het egter terug verwys na die besluit van 1970 wat verseker het dat die Heidelbergse kategismus tog steeds 'n sentrale rol speel. Tydens die skryfwerk is deurgaans met die Bybel begin en daarna is die belydenisskrifte aan die orde gestel. Waar ter sake is die ander twee belydenisskrifte bo en behalwe die Heidelbergse Kategismus ook bygewerk (Viljoen 1994: 249). Die skrywers het deurgaans daarna gestreef om "vanaf die skrif deur die belydenisskrifte tot beter verstaan van die Skrif te kom" (Notule 1982: 4)." Teen 1991 was die hele reeks boeke voltooi en het dit saam met die twee boeke van "Glo en Bely" bestaan uit 27 boeke onder die reeksnaam Leer en lewe uit die Woord, verskyn (Viljoen 1994:240). Dat die gebruik van die Heidelbergse kategismus in hierdie reeks nie sonder probleme was nie , word beklemtoon deur 'n skrywe uit die notule van die Hersieningskommissie in 1985. Ds. W Botha skryf dat hy probleme met die ingewikkelde bewoording van die Kategismus ondervind. In sy reaksie het die voorsitter gesê dat

ons reeds ooreengekom het om die kategismus nie volledig of op die voet te volg nie. Ons kan 'n seleksie maak, wat beteken dat kernantwoorde geformuleer of op gerubriseer kon word. Die amptelike teks hoef nie altyd volledig aangehaal te word nie. Hierop het die vergadering besluit dat daar 'n seleksie van kernvrae gemaak moes word wat katkisante uit die kop moes leer (Notule 1985:7).

Die feit dat die Heidelbergse Kategismus nie meer woord vir woord gevolg is nie, het 'n duidelike koersverandering in die gebruik daarvan in die Kategesemateriaal aangedui. Tydens die volgende hersiening is op hierdie koers voortgegaan wat veroorsaak het dat die rol van die Heidelbergse Kategismus kleiner geword het. In 1990 is besluit dat die nuwe reeks hersien moes word en is die modus operandi ook beskryf. Vir die eerste keer moes 'n deeglike situasie analise gemaak word van die leefwêreld van die kind (Notule 1990:2). Die vertrekpunt van die nuwe reeks was twee vrae wat gebaseer is op die 12 Artikels naamlik: Wat glo jy en hoe leef jy? Besondere aandag is gegee aan die sogenaamde vierslag van die Reformasie: geloof, gebod, gebed en die genademiddele.4

Alhoewel die nuwe reeks boeke wat in 1999 verskyn het die Heidelbergse kategismus dus nie meer woord vir woord gevolg het nie, het die breë struktuur daarvan tog in die reeks sigbaar geword. Dit is naamlik vanaf graad 7-9 oor drie jaar versprei volgens die drie hoofdele, naamlik sonde (graad 7), verlossing (graad 8) en dankbaarheid (graad 9) (Agenda 1998:106). Ten spyte van 'n nuwe benadering het die Heidelbergse Kategismus steeds 'n belangrike rol bly speel. Dit word bevestig deur die feit dat die AJK in 1998 aan die Algemene Sinode rapporteer dat daar "voortdurend in al die lesse na die belydenisskrifte" verwys word (Agenda 1998:106). Die nuwe benadering het ook gelei tot 'n oper benadering ten opsigte van kategesemodelle en kategesemateriaal. Dit word bevestig deur 'n besluit van die Algemene Sinode van 1998 waarin riglyne goedgekeur is waarvolgens gemeentes kategesemodelle en materiaal kon beoordeel. In hierdie riglyne is onder meer gesê dat die inhoud van die Bybel in sy konteks sowel as die leer van die Ned Geref Kerk (belydenisskrifte) oorgedra moes word en dat kinders op 'n geskikte stadium aan die belydenisskrifte blootgestel moes word (Agenda 1998: 430). Tydens die Algemene Sinode van 2002 is gerapporteer dat 'n volgende nuwe reeks kategeseboeke aan die begin van 2001 in gebruik geneem is. Verder is bekendgemaak dat 'n nuwe kategeseboek vir die belydenisgroep: Geloof wat rêrig is in 2003 sou verskyn. Daar is opnuut bevestig dat die 12 Artikels en die 10 gebooie die vertrekpunt van hierdie nuwe boek sou wees (Agenda 2002: 1689). In die inleiding van die nuwe boek word hierdie vetrekpunt opnuut bevestig:

In aansluiting by die doel van die belydenisgroep bestaan die leerplan uit twee hoofkomponente: die geloofsbelydenis (Twaalf Artikels) en die tien gebooie (die lewe, etiek) wat van oudsher af die basis van kerklike onderrig vorm en byvoorbeeld die ruggraat van die Heidelbergse Kategismus is (Heyns 2002:10).

Hierdie verwysing na die Heidelbergse Kategismus dui aan dat hoewel die skrywers weg beweeg het van 'n slaafse navolging van die kategismus, dit steeds 'n belangrike plek in die kurrikulum ingeneem het. Dit word bevestig deur verwysings na gepaste vrae en antwoorde uit die kategismus en die ander belydenisskrifte by bykans elke les in die boek.5 Dit is skerp in teenstelling met ander kategesestof soos Modkats wat in hierdie tyd as alternatief die lig sien en waarin daar geen verwysing na die Heidelbergse Kategismus of enige van die ander belydenisskrifte voorkom nie (Agenda 2004:44).

Die hersiening van die huidige reeks boeke wat in die Ned Geref kerk gebruik word, het in 2002 reeds 'n aanvang geneem. Die tendens om tematies te werk en die Heidelbergse Kategismus saam met die ander belydenisskrifte waar toepaslik te gebruik, is bloot voortgesit in verdere publikasies (Notule 2002:4).

 

4. VERGELYKING VAN DIE INHOUD

In die onderstaande tabel word die rol van die Heidelbergse Kategismus in die kategesemateriaal van die Ned Geref Kerk kronologies vergelyk. Daar word nie aanspraak gemaak dat dit volledig is nie, maar is slegs 'n aanduiding van die rol van die Heidelbergse Kategismus.

 

 

5. ENKELE GEVOLGTREKKINGS

Wanneer die spoor van die Heidelbergse Kategismus in Suid Afrika gevolg word, kan die invloed daarvan op die kategese van die Ned Geref Kerk nie ontken word nie. Van 1652 tot met die aanbreek van die 21ste eeu was dit in 'n mindere of meerdere mate 'n riglyn vir die kategese. Verskeie invloede het egter die mindere of meerdere mate bepaal. Samevattend word daar kortliks na die invloede verwys:

Gebrek aan ander leerstof

Met die koms van Jan van Riebeeck was die Heidelbergse Kategismus van die enigste leerstof wat beskikbaar was (Van Zijl 1991:151). De Villiers bevestig hierdie standpunt wanneer hy skryf:

Van die begin van die volksplanting af was die Bybel die belangrikste leerboek. Naas die Bybel is ook ander boeke gelees al was daar maar min in getal (De Villiers 1957: 178).

Gevolglik moes sieketrooster Wylant die kategismus gebruik vir onderwys en prediking. Wylant skryf in 'n brief aan die Klassis van Amsterdam gedateer 20 April 1655: "... ende laet dan de jonges die vragen opseggen ende mit een schriftuerplaetse twe, dre bewijsen (Spoelstra 1906:3)." Dit bevestig die belangrike rol van die Kategismus tydens die eerste aantal jare aan die Kaap.

Voorskrif deur die Owerheid

Die Bataafse kerkorde van 1643, wat ook in die Kaap van krag was, het die sieketroosters en leraars gebind om die Heidelbergse Kategismus as leerboek te gebruik (Van Zijl 1991:153).

Die invloed van die Nadere reformasie

De Villiers toon tereg aan dat die Nadere Reformasie 'n groot invloed op kategesemateriaal in Nederland uitgeoefen het omdat die skrywers van die Nadere Reformasie besondere aandag aan kategese werksaamhede gewy het (De Villiers 1957:177). Hulle het self geskryf en was verantwoordelik vir 'n reeks kategese werke wat groot invloed uitgeoefen het. "Hulle invloed dring dan veral vanaf 1740 ook in Suid Afrika deur ... (De Villiers 1957:177)."

Hierdie werke van ander skrywers het 'n groot rol gespeel as kategesemateriaal. Alhoewel die Heidelbergse Kategismus en die Kort Begrip nie heeltemal verdring is nie, het 'n boekie soos die van Hellenbroek naas die Heidelbergse Kategismus sy plek ingeneem. De Villiers bevestig dit wanneer hy skryf: "Die boekie van Hellenbroek was dus in alle huise bekend (De Villiers 1957:195)."

Besluite van die Kaapse kerk en ander sinodes

Besluite van die Kaapse kerk het vanaf 1840 daarvoor gesorg dat Hellenbroek en ander skrywers se invloed afgeneem het. Die Heidelbergse Kategismus en die Kort begrip het toe weer hulle eertydse plek ingeneem (De Villiers 1957:199). Hierdie tendens is voortgesit deur agtereenvolgende sinodes van die kerk en word veral bevestig deur die besluit van die Algemene Sinode van 1966 naamlik dat die volledige Heidelbergse Kategismus in die leerplan aandag moes kry (Handelinge 1966:543).

Akademies en praktiese herbesinning oor die kategese:

Viljoen skryf:

In die jare 1972/73 het die kategetiese onderrig van die kerk besondere aandag ook op akademies en prakties teologiese terrein ontvang (Viljoen 1994:213).

Tydens hierdie herbesinning oor kategese het die rol van die Heidelbergse Kategismus ook onder die soeklik gekom. Dit was veral JMG Prins wat met sy studie Die Heidelbergse Kategismus as Kategese leerstof 'n groot invloed uitgeoefen het. Prins het die Kategismus as inhoud van die kategese gehandhaaf maar dan slegs as hulpmiddel om die Skrif mee oor te dra. "Die weg loop van die kategismus na die Skrif (Prins 1973:257)". Volgens Prins was dit nie nodig om die volle omvang van die Kategismus-inhoud in die kategese oor te dra nie (Prins 1973:255).

'n Nuwe model vir Kategese in die Ned Geref. Kerk

Alhoewel daar eenstemmigheid was oor die behoud van die kategismus as inhoud van die kategesemateriaal in die latere reekse boeke van die Ned Geref. Kerk, was dit ook duidelik dat dit nie meer volgens die metodes van die 16e eeu gebruik kon word nie. Prins se konsentriese metode wat die progressiewe herhaling van leerstof beteken het en wat in ooreenstemming was met die leergereedheid en bevatlikheid van 'n bepaalde groep kinders het 'n belangrike wending gebring (Viljoen 1994:213). Dit was die begin van 'n proses wat die kategesemateriaal van die Ned Geref Kerk in 'n nuwe rigting gestuur het waarin die rol van die Heidelbergse Kategismus duidelik kleiner was.

Die "Vierslag" van die Reformasie

Die kleiner rol wat die Heidelbergse Kategismus in die nuutste reeks boeke van die Ned Geref. Kerk speel, word bevestig deur 'n teruggryp na die sogenaamde "vierslag" van die Reformasie naamlik: geloof, gebod, gebed en sakramente. Alhoewel die Heidelbergse Kategismus steeds gebruik word, waar dit by bepaalde temas aansluit was die vertrekpunt die 12 Artikels en die Wet.9 Hoewel die invloed dus heelwat kleiner geword het, speel dit steeds 'n belangrike rol.

Kerklike sanksie vir alternatiewe materiaal

Tydens die Algemene Sinode van 1998 is 'n aantal riglyne goedgekeur waaraan gemeentes verskillende kategesemodelle en kategesemateriaal kon toets (Agenda 1998: 430). Hierdie besluit het ongetwyfeld die deur oopgemaak vir alternatiewe materiaal en modelle en 'n wegbeweeg van die Heidelbergse Kategismus. In gemeentes wat gekies het vir alternatiewe modelle was die Heidelbergse Kategismus sy rol kwyt omdat dit weinig tereg kom in alternatiewe modelle wat slegs aan die skrif aandag gee.10

Dit wil dus ten slotte voorkom asof die Heidelbergse Kategismus se invloed in die Kategese van die Ned Geref. Kerk aan die taan is. Alhoewel dit vir 450 jaar wêreldwyd en vir die laaste 350jaar plus in die Ned Geref. Kerk 'n groot invloed uitgeoefen het, het dit 'n bedreigde spesie geword. Dit is egter niks nuuts nie. Dit het ook na die Nadere Reformasie gebeur. Na 450 jaar sal dit die Ned Geref. Kerk loon om hierdie skat nie totaal uit sy verwysingsraamwerk uit te skuif nie. Daarvoor was die invloed daarvan in die geskiedenis net te groot.

 

BIBLIOGRAFIE

Algemene Sinodale Jeugkommissie van die Ned. Geref. Kerk. 1967. Notule.         [ Links ]

1969. Notule.         [ Links ]

2002. Kategesekommissie Agenda: 21 Maart 2002.         [ Links ]

2004. Kategesekommissie Agenda: 9-10 Maart 2004.         [ Links ]

Algemene Sinode Van Die Ned. Geref. Kerk. 1966. Handelinge.         [ Links ]

1974. Handelinge.         [ Links ]

1982. Handelinge.         [ Links ]

1998. Agenda.         [ Links ]

2002. Agenda.         [ Links ]

Avenant, J. C. 2013. Persoonlike onderhoud: Pretoria: 13 April.         [ Links ]

Botha, W., Dressel, l. & Heyns, R. (reds.). 2002. Geloof wat rêrig is. Bloemfontein: CLF drukkers.         [ Links ]

Die Gereformeerde Kerkbode. 1856. 30 Augustus.         [ Links ]

De Klerk, J. J. 1974. Onderrig uit die Woord: 'n Handleiding vir kategese in verband met die subjek, objek, leerstof en die metodiek van die senior kategese. Bloemfontein: Algemene Jeugkommissie Sondagskoolboekhandel.         [ Links ]

De Raad Oer Ned Ger Kerken In Zuid Afrika. 1921. De zevende vergadering: handelinge.         [ Links ]

1925. De negende vergadering: handelinge.         [ Links ]

De Villiers, D. W. 1957. Die Kategese in die Ned. Geref. Kerk in Suid Afrika: 'n Prinsipiële, historiese en praktiese ondersoek van die kategese in die Ned Geref. Kerk in Suid Afrika. Ongepubliseerde DD proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Gerdener, G. B. A. 1927. Handboek by die Katkisasie. Kaapstad: NGK Uitgewers.         [ Links ]

1945. Ons Katkisasieboek. Kaapstad: NGK Uitgewers.         [ Links ]

Hersieningskommissie. 1982. Notule: 22-13 September 1982.         [ Links ]

1985. Notule: 29 April 1985.         [ Links ]

1990. Notule: 3 Sept. 1990.         [ Links ]

Mc Gregor, A. 1908. Het Nieuwe Catchisatie -boek bevattende Bybelse Kennis en het Korte Begrip met uitlegging.         [ Links ]

Prins, J. M. G. 1973. Die Heidelbergse Kategismus as leerstof. Ongepubliseerde DD proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Spoelstra, C. 1906. Bouwstoffen voor de Geschiedenis der Nederduitsch Gereformeerde Kerk in Suid Afrika Dl. 1. Kaapstad: Nasionale Pers Bpk.         [ Links ]

Van Zijl, W. J. 1991. Van skeepskis na wakis na boekrak. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Viljoen, D. J. 1994. Die Dooplidmaatbediening van die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1962 tot 1990 met toespitsing op die kategese en jeugaksies. Ongepubliseerde DD proefskrif. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Vosloo, R.R. 2013 Remembering the Heidelberg Catechism in (South) Africa today? Some remarks on the commemoration of a 16th century Reformed confession. Paper at the conference "Remembering the Heidelberg Catechism in (South) Africa today?" 30 October to 1 November 2013 at the Faculty of Theology, Stellenbosch University, South Africa.         [ Links ]

 

 

1 Die eerste druk het in Junie 1927 verskyn
2 Die Raad van Kerke het bestaan uit die vier Sinodes, Transvaal, Vrystaat, Natal en die Kaap.
3 Dit het veral 'n invloed uitgeoefen op die leerplan vir hoërskoolkinders
4 Onderhoud: ds. JC Avenant 11 April 2013
5 Sien Geloof wat rêrig is 2002
6 Van Hellenbroek se boek het uit die volgende hoofstukke bestaan: 1. Van die Kennis van God: 10 vrae en antwoorde; 2. Van die Skriftuur: 21 vrae en antwoorde; 3. Van God: algemeen, name, eienskappe en drie persone: 72 vrae en antwoorde; 4. Van Gods besluite: 19 vrae en antwoorde; 5. Van die Skepping: 23 vrae en antwoorde; 6. Van die Voorsienigheid: 19 vrae en antwoorde; 7. Van die Verbond van werke: 11 vrae en antwoorde; 8. Van die Beeld van God:10 vrae en antwoorde; 9. Van die Sonde: 38 vrae en antwoorde; 10. Van die Verbond van die Genade: 7 vrae en antwoorde; 11. Van die Middelaar van die Verbond: 142 vrae en antwoorde; 12. Van die Roeping: 22 Vrae en antwoorde; 13 Van die Kerk: 19 vrae en antwoorde; 14. Van die Regverdigmaking: 21 vrae en antwoorde; 15. Van die Geloof: 12 vrae en antwoorde; 16. Van die Heiligmaking: 11 vrae en antwoorde; 17. Van die Wet van God: 15 vrae en antwoorde; Van die Gebed: 7 vrae en antwoorde; 19. Van die Sakramente: 47 vrae en antwoorde, 20 Van die mens se uiterstes: 30 vrae en antwoorde, (Hellenbroek 1790: 1).
7 Tweede boek vir st. VI: Die Heidelbergse Kategismus met spesiale toespitsing op die eerste deel, nl. Sonde en ellende; Derde boek vir st. VII: Die Heidelbergse Kategismus met spesiale toespitsing op die tweede deel, nl. Verlossing; Vierde boek vir st. VIII: Die Heidelbergse Kategismus.met spesiale toespitsing op die derde deel ,nl. Dankbaarheid; Vyfde boek vir belydenisklas: Samevattende oorsig van die hele Heidelbergse Kategismus. Lesse 1-5 Sonde, lesse 6-20 Verlossing, lesse 21-33 Dankbaarheid (Viljoen 1994:205).
8 Die hoofdeling van die Heidelbergse Kategismus naamlik: sonde verlossing en dankbaarheid is steeds in Gr 7, Gr 8 en Gr 9 gevolg. In Gr 10 is egter afgewyk van die tadisionele inhoude en 'n indeling van aanbidding (groei na bo), omgee (groei na binne) en getuienis (groei na buite) is gevolg. Die vertrekpunt in die blydenisklasboek is egter die sogenaamde vierslag van die Reformasie naamlik: geloof, gebod, gebed en die genademiddele.
9 Onderhoud: As JC Avenant
10 Vergelyk hiervoor byvoorbeeld Modcats as alternatiewe leerstof.