SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 suppl.20Why is a multiplicity of confessions particular to the Reformed tradition?Are humans by birth as wicked as the Heidelberg Catechism (3-11) holds? A dialogue between Theology and modern sciences índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.34  supl.20 Bloemfontein  2014

http://dx.doi.org/10.4314/actat.v20i1.4s 

Oor die inhoud en boodskap van die Heidelbergse Kategismus

 

On the content and message of the Heidelberg Catechism

 

 

D. Smit

Prof. Sistematiese Teologie, Stellenbosch Universiteit, Suid-Afrika. E-pos: djs1@sun.ac.za

 

 


Trefwoorde: Heidelbergse Kategismus, Karl Barth, Troos


ABSTRACT

The essay argues that it is meaningful to speak about the theme, content and message of the Heidelberg Catechism, although these three should be distinguished. A first section claims that the Catechism shows more of a single argument and purpose than many other catechisms of the time, because they often consisted of a mere compilation of diverse material, without clear purpose. A second section further develops this claim by showing how the comfort of the first question and answer forms the continuing motif, providing the theme and structure of the Catechism. A third section serves as reminder of Barth's claim that Jesus Christ is the content of this comfort and therefore of the Heidelberg Catechism. A fourth section suggests a final distinction, arguing that the message is still different from the purpose, theme and content, since it depends on specific readers in their own contexts, as the reception history has shown.

Keywords: Heidelberg Catechism, Karl Barth, Comfort


 

 

1. DIE INHOUD EN BOODSKAP VAN DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS?

Dit spreek nie vanself dat hoegenaamd gevra kan word na die inhoud en boodskap van die Heidelbergse Kategismus nie.1 In die eerste helfte van die 16e eeu was daar reeds vele kategismusse in omloop en nie almal van hulle is opgestel met 'n spesifieke tema, fokus of boodskap nie. Aanvanklik was die meeste van hulle opgestel volgens die sogenaamde sintetiese benadering, wat beteken het dat die basiese kennis-inhoude van die Christelike geloof - gebod, geloof, gebed en sakramente - eenvoudig agtereenvolgens gelys en verduidelik is. Die gedagte van 'n deurlopende motief wat hulle as 't ware tematies sou verbind, met 'n spesifieke strekking en boodskap, was onbekend. Selfs in Luther se eie Klein Kategismus en Groot Kategismus bepaal dié benadering eintlik nog die vorm. Dis eers geleidelik dat 'n sogenaamde analitiese benadering ook ontstaan, waarvolgens dieselfde basiese inhoude dan doelbewus anders gerangskik word ten einde 'n sekere effek te probeer bereik.2 Die Heidelbergse Kategismus word 'n skool-voorbeeld van hierdie benadering, wat beteken dat dit wel geregverdig en sinvol is om te vra na die inhoud en boodskap, met die verwagting dat 'n sekere tema of strekking gevind sal kan word.

Uiteraard sal dié tema saamhang met die bedoelinge agter die opstel van die Kategismus. Ook die vraag na moontlike bedoelinge of motiewe is egter 'n ingewikkelder vraag as wat miskien gedink mag word. Uiteraard was daar agter elke kategismus en belydenisskrif van dié tyd in die eerste plek politieke motiewe, uitwendige historiese en sosiale bedoelinge en behoeftes, en inderdaad was dit ook die geval met die Heidelbergse Kategismus. Om dié rede is dit belangrik om allereers ook te vra na sodanige motiewe wat aan die werk was met die opstel van die Heidelbergse Kategismus.3 Voorbeelde hiervan sou byvoorbeeld die ireniese toonaard van die dokument kon wees en die wyse waarop sowel konfessionele strydpunte vermy word as spesifieke teologiese opvattings weggelaat word, ten einde opsigtelik gemeenskaplike grond te kon soek.

Daarbenewens was daar egter sekerlik ook sprake van die teologiese motiewe self wat die inhoud en boodskap van die Kategismus gestempel het tot die dokument wat dit geword het.4 Daarmee vra 'n mens dus eintlik ook na die opstellers en hulle agtergronde en eie oortuigings, na die teologiese kwessies wat in dié oomblik ter sake was en hoe dit in die Kategismus behandel of dalk juis nié behandel is nie, na moontlike ooreenkomste en verskille met ander soortgelyke dokumente wat dalk beskikbaar was, waaruit die voorkeure en beslissings van die opstellers sou kon blyk, en na dergelike leidrade.5 Voorbeelde hiervan sou byvoorbeeld die doelbewuste aansluiting by die vroeë kerk kon wees, asook die verskeidenheid van teologiese tradisies wees wat hier berekend verenig word, sodat die bekende beskrywing kon praat van "Luther se innigheid, Melanchton se helderheid, Zwingli se eenvoud en Calvyn se vurigheid" wat álmal in die Kategismus herken kan word - sodat geleerdes daarom steeds debatteer oor die werklike verhoudinge tussen al dié agtergronde.

Boonop sou 'n mens kon - en in die geval van die Heidelbergse Kategismus móés - vra na die praktiese motiewe agter die behoefte aan 'n nuwe Kategismus spesifiek vir die Palatinaat, op daardie oomblik.6 Dan kom die opvoedkundige oogmerke na vore, die duidelike bedoelinge dat die dokument geskik sou wees vir onderrig, sowel in skole as in gemeentes, maar ook vir liturgiese gebruik in die erediens, asook vir bestudering en gesprek tuis, in die huisgesin. Voorbeelde hiervan sou byvoorbeeld die dialogiese styl van die dokument wees, die vrae en antwoorde, die toegespitste formuleringe wat dikwels duidelik bedoel is vir maklike memorisering, die oorhoofse indeling in nege afdelings vir voor-lees tydens die erediens, die verdere indeling in 52 Sondagafdelings vir onderrig deur die jaar, en die Bybelgedeeltes wat bygevoeg word vir bestudering van die Skrif self.

Ongeag sulke noodsaaklike aandag aan die politieke, teologiese en praktiese motiewe ágter die Kategismus is dit uiteraard van beslissende belang om ook noukeurige aandag aan die dokument sélf te wy - aan moontlike inhoudelike temas wat sigbaar word uit die Kategismus self, aan die struktuur en interne samehang van die opbou, aan die vraag of daar deurlopende motiewe aangetoon kan word wat herhaal en daarmee onderstreep word. Indien 'n mens dus met inhoud en boodskap in die eerste plek híérdie vraag in die oog het, moet die antwoord inderdaad wees dat daar wel 'n duidelike tema in die Kategismus bespeur kan word - alhoewel die saak ingewikkelder mag wees as wat dit op die oog af blyk.

 

2. OOR TROOS AS TEMA, STRUKTUUR EN DEURLOPENDE MOTIEF

Die tema van die Heidelbergse Kategismus word oombliklik glashelder geformuleer in die bekende woorde van die eerste Vraag. Die tema van die Kategismus is troos. Om dié rede wys sovele uitleggers op wat die pastorale, die eksistensiële, die persoonlike, die troostende toonaard van die Kategismus genoem word. Wat is jou enigste troos in lewe en sterwe?

Daar is meningsverskil onder geleerdes oor die vraag waar die term troos presies vandaan gekom het. Daar is verskeie teorieë en opinies, dikwels gekoppel aan ander dokumente uit die tyd waarin die term ook voorkom en reeds op soortgelyke wyses gebruik is.7

Trouens, by Ursinus self - van wie die navorsing vandag wyd aanvaar dat hy die primêre outeur was, alhoewel 'n kommissie die opdrag uitgevoer het en selfs die keurvors Frederik III persoonlik ook 'n rol gespeel het - het die term troos reeds 'n voor-geskiedenis. Sy moeder sterf vroeg, sy vader sterf as hy 21 is (in 1555) en as jong student leef hy met sterk gevoelens van onsekerheid en ontoereikendheid, waarskynlik met ervarings van depressie. In briewe uit sy studente-jare gebruik hy meermale die term miseria, vir ellende, en soek hy troos in die versoening, consolatio de reconciliations. Op 27-jarige ouderdom word hy na Heidelberg beroep en die volgende jaar (1562) word hy aangestel as professor. In sy intreerede sê hy dat hy die teologiese strydpunte van die verlede wil oorwin met behulp van Bybelse teologie, waarin dit gaan om die eer van God, die heil van die mens en die troos van die gewete. Ná die opstel van die Kategismus het sy lewenslot nie verbeter nie, inteendeel. Na felle kritiek en 'n te vermoeiende werklas as professor word hy boonop uit Heidelberg verdryf en eindig sy lewe op 48-jarige ouderdom sonder dat die meeste van sy eie bedoelinge ooit vervul is.

Die agtergronde van dié term by Ursinus se gebruik in die Heidelbergse Kategismus lê egter waarskynlik nie soseer in sy eie biografie nie, as in die invloed van Melanchton se soort Lutherse teologie op sy denke en spiritualiteit. Die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus, só word dikwels gesê, getuig duidelik van Lutherse afkoms. Die pastorale, eksistensiële, persoonlike toonaard van dié vraag getuig van Lutherse spiritualiteit.

Die tema van troos bepaal trouens die hele struktuur en opbou van die Kategismus. Die drie hoofdele van ellende, verlossing en dankbaarheid vorm ál drie integraal deel van die troos. Dié insig is inderwaarheid van beslissende belang ten einde die strekking van die Kategismus te verstaan, en meermale is dit grondig misverstaan in die geskiedenis van die uitleg van die dokument.8 Dát dit nodig is om al drie dele te sien as gestaltes van die troos blyk al uit die antwoord op die eerste vraag, waarin álles wat volg in die Kategismus reeds saamgebundel word as deel van die troos.

Die implikasie is dus dat die eerste deel - oor die kennis van ons ellende - eweneens déél van die troos is en slegs moontlik vanweë die verlossing in Jesus Christus, en dat die derde deel - oor die dankbaarheid - éweneens deel is van die troos, deurdat Jesus Christus ons self deur sy Woord en Gees van harte dankbaar máák. Die eerste deel is as 't ware nié die (menslike) voorwaarde vir die troos, wat dan in deel twee beskrywe sou word nie, en die derde deel is as 't ware nié die (menslike) reaksie op die troos, wat dan in deel twee beskrywe sou wees nie. Ook die self-kennis aangaande ons ellende en ook die vrug van dankbaarheid is álles saam deel van die troos. Die Kategismus dink nie, soos die Nederlandse Piëtisme dit later sou uitlê, in terme van drie fases of agtereenvolgende stappe van geestelike ervaring nie, sê Berkhof, maar oor één werklikheid, die drie woorde verwys nie na 'n kronologiese orde nie, maar na 'n logiese (Berkhof 1963:96). Hoeveel sake is nodig vir dié troos? - drié, sê die Kategismus.

Die tema van troos vorm daarom die deurlopende motief in die Heidelbergse Kategismus. Telkemale word weer teruggegryp op dié motiewe uit die eerste antwoord. 'n Groot deel van die Kategismus se retoriese krag en wêreldwye invloed deur die eeue lê dalk in dié merkwaardige wyse waarop die vier tradisionele kennis-inhoude van kategismusse - die Tien Gebooie, die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Ons Vader en die lering aangaande die sakramente - uitgelê word as tróós, as integraal tot hierdie intiem persoonlike lewe van vertroue en behoort.

Sowel die rangskikking en logika asook die afsonderlike behandelings van dié vier inhoude bring dié motiewe op glasheldere wyse na vore. Wat die rangskikking betref word die wet nie vooraf behandel en slegs as sogenaamde tugmeester na Christus nie, maar wel as deel van die dankbare lewe waartoe die Heilige Gees gelowiges van harte bereid maak. Aan die begin word slegs kortliks herinner aan die samevatting van die wet, wat juis van Jesus Christus is, dié Een aan wie die gelowiges behoort, en die ellende van die mens word as vervreemding beskryf van ons eintlike aard en bedoeling, te wete om as die beelddraers van God, wat ons ís, te lewe, en in verhoudinge van liefde met God en ons naaste. Ons ellende is nié dat ons individuele gebooie oortree en spesifieke sondes (in die meervoud) begaan nie, maar dat ons vervreem leef van die liefde waartoe ons bedoel is en wat ons in en deur dié Jesus aan wie ons behoort weer geskenk word. Deur te vertrou op die beloftes wat in die geloofsbelydenis gegee word en deur die genademiddele van Woord en sakrament wat die Heilige Gees gebruik kry ons déél aan hierdie troos. Só word die wet tot bron van vreugde, integrale deel van die liefde vir die geregtigheid, die gelowige lus na geregtigheid. Die wet is integraal deel van die blydskap en troos van die nuwe lewe in Christus en integraal deel van die déélname aan Christus, aan wie die gelowiges behóórt. Ook die gebed word as deel van die dankbare lewe beskryf, trouens, as die vernaamste gestalte van dankbaarheid, as vertrauensvolle aanroep van die barmhartige en versorgende Vader, vanuit alle ervaringe van nood en bedreiging. Kortom, so word al dié dele geïntegreer in een groot geheel wat alles dien tot ontvouing van die troos wat reeds in die eerste antwoord gegee is. Die ganse logika onderstreep die één tema van troos.

Wat die behandeling van die afsonderlike inhoude in groter besonderhede betref word dit gevolglik deurgaans ewe duidelik tot welke mate troos die deurlopende tema is. Enkele sleutelgedeeltes kan dien as herinneringe aan dié deurlopende motief.

In Vraag en Antwoord 21 hoor 'n mens die Kategismus se klassieke beskrywing van die ware geloof. Dis sowel 'n vaste kennis as 'n vaste vertroue "wat die Heilige Gees in my hart werk" dat die evangelie "nie net aan ander nie, maar ook aan my" en wel "uit louter genade" verlossing geskenk "het". Elke enkele woord en uitdrukking hier is betekenisvol en dien tot troos.

In Antwoord 24 word die persoonlike, pastorale en troosvolle aard van die Apostoliese Geloofsbelydenis na vore gebring as samevattend gesê word dié artikels handel oor God die Vader "en ons skepping", oor God die Seun "en ons verlossing" en oor God die Heilige Gees "en ons heiligmaking". Alhoewel die Apostoliese Geloofsbelydenis doksologies die Drie-enige God bely, dui die Kategismus konsekwent en nadruklik die drie artikels vanuit die perspektief van menslike betrokkenheid by dié Trinitariese werksaamheid, met terme wat nie één in die Apostoliese Geloofsbelydenis self uitdruklik vermeld word nie. Die troos word daarmee as 't ware doelbewus uit die Trinitariese beskrywing van God afgelei.

Só word die artikel oor God as Skepper op merkwaardig persoonlike wyse uitgelê in Antwoord 26 en word dié boonop gevolg deur die ewe vertrouensvolle beskrywing van God as voorsienige Vader, in Vrae en Antwoorde 27 en 28 - wat natuurlik nié so in die Apostoliese Geloofsbelydenis te vinde is nie. Hier is geen sprake hoegenaamd van 'n selfstandige skeppingsleer sonder verlossing - en dit boonop hoogs intiem en persóónlik verstaan - nie.9

Sowel die benaming Jesus (in Antwoord 29) as die benaming Christus (in Antwoord 31) word eweneens persoonlik gedui, met die oog op ons ellende en ons troos. Veral Antwoorde 31 en 32 sou deur uitleggers as karakteristiek van die Heidelbergse Kategismus en as uiters invloedryk in die tradisie bestempel word. Hier word Calvyn se siening van die salwing van Jesus Christus deur die Heilige Gees, wat egter nie "sonder dié wat aan Hom behoort" geskied nie, deel van die Gereformeerde belydenistradisie gemaak, met baie belangrike uitwerkinge daarna in die geskiedenis. Antwoord 31 maak duidelik wat Christus deur sy amp as profeet, priester en koning aan ons doen en Antwoord 32 maak dan nogeens duidelik hoe dit ons eie lewe radikaal verander en vernuwe.10

Sonder om op die detail in te gaan, kan onthou word hoe dikwels daar uitdruklik gevra word na die betekenis, die waarde, die nut, die implikasies vir óns van die verskillende aspekte van Jesus Christus se persoon en werk wat in die Apostoliese Geloofsbelydenis vermeld word. Dis asof die Kategismus volledig net geïnteresseerd is in die belofte- of troos-karakter van die uitsprake oor Jesus Christus. Dié belangstelling is uiteraard net die praktiese uitwerking van die aard van die ware geloof, soos vroeër reeds deur die Kategismus beskryf. Die ware kennis aangaande Jesus Christus roep om vaste vertroue dat al dié beloftes ook vir mý is - en dáárom moet elke uitspraak uitgelê word as belofte.

Waarom word Christus eniggebore Seun van God genoem (Vraag 33), waarom word Hy Here genoem (Vraag 34), watter nut verkry ons uit sy geboorte (Vraag 36), wat verstaan ons onder sy lyding (Vraag 37), waarom ly Hy onder Pilatus (Vraag 38), waarom is Hy juis gekruisig (Vraag 39), waarom is Hy gedood en begrawe (Vrae 40 en 41), watter nut bring sy offer (Vraag 43), waarom het Hy ter helle neergedaal (Vraag 44), watter nut het sy opstanding vir ons (Vraag 45), wat verstaan ons onder sy hemelvaart (Vrae 46 en 47) en watter nut het sy hemelvaart vir ons (Vraag 49), watter nut het sy heerlikheid aan die regterhand van die Vader (Vrae 50 en 51), hoe word ons getroos deur sy wederkoms en oordeel (Vraag 52) - elke enkele één van hierdie vrae lei tot antwoorde van beloftes en van troos. Dié troos is daarby 'n troos in 'n omvattende, komplekse veelheid van ervaringe van ellende en nood, indien 'n mens al die geïmpliseerde beskrywings van miseria in hierdie beloftes sou sáám voeg.

Dieselfde troosvolle motief word volgehou wanneer die derde artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis uitgelê word - eweneens as beloftes. Die belydenis aangaande die Heilige Gees self is reeds tot ryke troos (Antwoord 53). Die belydenis aangaande die kerk word gelees as ryke belofte, wat meermale in die werkingsgeskiedenis inderdaad gelowiges in nood en aanvegting sou troos en bemoedig - tot op die punt dat bygevoeg word "dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly" (Antwoord 54). Die belydenis aangaande die gemeenskap van die heiliges word as belofte tot nuwe lewe in gemeenskap gelees (Antwoord 55), die vergewing van sondes (Antwoord 56), die opstanding van die vlees (Antwoord 57), die ewige lewe (Antwoord 48) - álles is uiteraard tot troos.

In nog 'n sleutelgedeelte in die Kategismus se eie logika word dan nadruklik ingegaan op die vraag "wat hierdie geloof ons nou eintlik baat?" (Vraag 59, maar verder ontwikkel in die hele gedeelte tot by Antwoord 64). Dit beskryf hoe ons geregverdig is voor God (Antwoord 60), waarom ons slegs deur geloof regverdig is (Antwoord 61) en sonder werke (Antwoorde 62 en 63) en uiteindelik, in die baie belangrike Antwoord 64, dat dié leer van vrye guns en genadige ontferming nié "onverskillige en roekelose" mense voortbring nie, omdat "dit onmoontlik is dat 'n mens wat deur 'n ware geloof in Christus ingeplant is, nie vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie" - weer eens 'n merkwaardige troosryke belydenis aangaande Christus se eie werk in dié wat aan Hom behoort.

Asof dit nog nie genoeg is aan troos nie, vervolg die Kategismus met 'n aangrypende logika om nou die sakramente ook ter sprake te bring. Waar kom só 'n geloof vandaan, wat al dié ryke en wonderbare troos meebring? (Vraag 65) - met as antwoord, óók van die Heilige Gees (soos reeds in Antwoord 1!), wat dit in ons harte werk deur die verkondiging en die sakramente (Antwoord 65).

Die ganse uiteensetting rondom eers die aard en werking van die sakramente in die algemeen (Vraag en Antwoord 66 en 67), dán die aard en werking van die doop (Vraag en Antwoord 69 tot 74) en die aard en werking van die nagmaal (Vraag en Antwoord 75 tot 82, uitgesonder 80, wat eers later op aandrang van die Keurvors ingevoeg is in reaksie op die verwerping by Trente), en uiteindelik die aard en werking van die verkondiging van die evangelie (Vraag en Antwoord 83 tot 85) dien diesélfde doel van tróós en versekering, van die lewende en kragtige werking van Jesus Christus self deur sy Woord en Gees, aan ons en in ons. Die sakramente beseël, die sakramente verseker, die sakramente belowe, telkemale word dié soort werkwoord in hierdie gedeeltes herhaal om troostend duidelik te maak dat gelowiges wáárlik, sékerlik, vir seker, nét so seker deel het aan Christus.

Dit bring die Kategismus by die uiters belangrike en karakteristieke derde deel oor die dankbaarheid, nie as reaksie op die troos nie, maar as integrale deel van die troos self. Dis immers dieselfde Christus "wat ons uit genade uit ons ellende verlos het" (Vraag 86) wat "ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is" - met al die vrugte wat dááruit volg (Antwoord 86). Dié nuwe lewe, dié opstanding van die nuwe mens (Vraag 90) is geen wettiese, moralistiese en sware pligpleging gemotiveer deur dankbaarheid as verwagting van gepaste teen-prestasie nie, maar dis veeleer "'n hartlike vreugde in God deur Christus" en "'n lus en liefde om volgens die wil van God te lewe" (Antwoord 90).

Die Kategismus se uitleg van die wet berus op hierdie vreugde en hierdie lus en liefde. Samevattend sal Antwoord 113 oor die tiende gebod praat van "'n begeerte tot alle geregtigheid". Soos dit ook al by Calvyn kenmerkend was, word die eintlike strekking van die afsonderlike gebooie nie soseer gesien in wat hulle op die oog af letterlik verbied nie, maar dieper, of dikwels meer omvattend, in wat hulle eintlik daarom gébied, in wat hulle wíl, in die positiewe waartoe hulle oproep.

Só eis die eerste gebod dat ons op niks anders ons vertroue sal stel nie (Antwoord 95), die vierde gebod dat ons die Here deur sy Gees elke dag in ons sal laat werk (Antwoord 103), die sesde gebod dat ons alles sal probeer doen wat ons naaste ten goede kan kom en alle kwaad van hulle sal probeer weer (Antwoord 107), die agste gebod dat ons nie onreg sal pleeg, gierig sal wees of Gods gawes sal misbruik of verkwis nie (Antwoord 110), die negende gebod dat ons die waarheid sal liefhê (Antwoord 112). Die prent van die nuwe lewe deur die Heilige Gees wat hier geteken word is deurgaans een van vreugdevolle oorgawe en soeke, van "groter verlange na die geregtigheid in Christus" (Antwoord 115).

Ook die Kategismus se uitleg van die gebed - "die vernaamste deel van die dankbaarheid wat God van ons eis" (Antwoord 116) - getuig van dié beloftes en troos. Gebed, as uiting van ons nood en ellende, word ter wille van ons Here Christus sekerlik verhoor - dis ons vaste grond (Antwoord 117). Die hele strekking van die gebed is dat God aan ons sal doen wat belowe is, ons sal gee wat nodig is om Hom te ken, ons sal regeer, ons wil sal buig, ons sal leer dat sonder sy seën nóg ons inspanning nóg sy gawes ons ten goede sal kom, ons voornemens sal verander, ons sal staande hou, ons sal versterk (Antwoorde 120 tot 128).

Die hele laaste Vraag en Antwoord - volgens sommige uitleggers nie slegs te sien as afsluiting van die bespreking van die Ons Vader nie, maar eintlik van die hele Kategismus - bely nogeens op troosryke wyse dat dit alles "waar en seker" is, "baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer" (Antwoord 129).

 

3. OOR JESUS CHRISTUS AS INHOUD VAN DIE TROOS

Indien dit egter duidelik is dat troos die tema van die Kategismus is, is dit dalk ook moontlik om die inhoud van dié troos nader te beskryf? Kan 'n mens probeer saamvat waarin dié troos ten diepste bestaan? Daar bestaan inderdaad talle sulke pogings in die uitleg-geskiedenis. Enkele voorbeelde mag dalk duidelik maak dat dié voor die hand liggende tema van die Heidelbergse Kategismus inderdaad nie so eenvoudig is nie, maar meer ingewikkeld en selfs omstrede as wat dalk met die eerste oogopslag mag blyk.

Só skryf die gerespekteerde Gereformeerde teoloog Eberhard Busch 'n monografie oor die Heidelbergse Kategismus met die titel Der Freiheit zugetan. Dit word in Engels vertaal as Drawn to Freedom. Dis wel nie soseer 'n uitleg nie as eerder 'n gesprek met die Kategismus. Die subtitel lui dan ook Christian Faith Today in Conversation with the Heidelberg Catechism (Busch 1998, 2010). 'n Mens sou dus kon vermoed dat die keuse vir vryheid eerder aan die Christelike geloof vandag ontleen is, wat dan in gesprek wil tree met die Kategismus. Dit is egter nie soos Busch dit bedoel nie. Wat hom betref is vryheid inderdaad die tema - die inhoud, of boodskap - van die Heidelbergse Kategismus self. Dié term bundel vir hom die diepste inhoud van die troos saam. Hy bedoel dus dat die Christelike geloof vandag kan baat daarby om met die Kategismus in gesprek te gaan oor wat vryheid waarlik beteken.

Sy Duitse titel verwys na 'n bekende uitspraak van Zwingli, waarvolgens God "die vryheid goedgesind is". God wil die vryheid, God is ten gunste van vryheid, God máák vryheid, God skenk vryheid - en dis wat Busch betref die saak waarom dit gaan in die Heidelbergse Kategismus. Sy Engelse titel verwys na Lasarus wat uit die graf verskyn, wat deur God uitgeroep word en vry gemaak word.

This is how a person becomes "drawn" to freedom and its right use. The title of this book intends to indicate the sum of the message with which the Christian movement is entrusted, and which it is the task of theology to think through (Busch 1998:V; 2010:xi).

Uit sy hele uitleg word duidelik dat hy van oordeel is dat troos (alleen) tot allerlei misverstande sou kon aanleiding gee (en inderdaad ook hét) indien dit as die inhoud en boodskap van die evangelie (en van die Kategismus) verstaan sou word, en dat hy dáárom eerder die term vryheid verkies om mee te beskryf hoe die evangelie (en inderdaad die Kategismus) dié goeie nuus van bevryding uit ellende en tot nuwe lewe verstaan.

Reeds vroeër, tydens die 425-jarige herdenking van die Kategismus, het die huidige dogmatikus van die Universiteit van Heidelberg - in 'n sekere sin dus Ursinus se opvolger - Michael Welker, die inhoud van die troos (op soortgelyke wyse) beskryf as sowel vryheid as vastigheid, tegelyk en inéén, as "Freiheit und Halt im christlichen Glauben" (Welker 1989:156-160). Wat hom betref bied die Kategismus, met sy siening van ware geloof as sekere kennis én vaste vertroue, die teëdeel van die vae religiositeit en onsekere relativisme waardeur ons tydsgees gekenmerk word, en hy werk verskeie radikale implikasies uitvoerig uit van die oortuiging dat die troos van die Kategismus in sowel vryheid as vastigheid bestaan.11

Nóg vroeër, egter, het Karl Barth reeds dié vraag na die inhoud van die troos nog veel radikaler gestel - en beantwoord. Sy verhouding met die Heidelbergse Kategismus - soos trouens met belydenis en belydenisskrifte in die algemeen - oor baie jare heen was 'n dramatiese verhaal met vele fases en afwisselende posisies.12

As predikant in (die nie-konfessionele) Switserland het hy uiteraard die belydenistradisie nie eens geken nie - en ook nie geag nie.13 As hy dan op grond van sy Romeine-kommentaar in 1921 'n aanstelling in Göttingen kry, is dit doelbewus om Gereformeerde teologie te doseer. Hy skaf vir die eerste keer Müller se uitgawe van die belydenisskrifte aan en gee sy heel eerste voorlesings - baie teësinnig - oor die Heidelbergse Kategismus.14

Na twee weke beskryf hy in 'n brief aan sy vriend Thurneysen hoe swaar dit vir hom is, omdat die Kategismus na sy oordeel 'n definitief twyfelagtige dokument (ein entschieden fragwürdiges Werk) is. Juis die eerste vraag, skryf hy, is nié goed nie, soos wat hy dié betrokke oggend in 'n uur lange lesing vir die studente uiteengesit het - voordat hy in die volgende uur aangetoon het hoe dié eerste vraag gelukkig deur die eerste antwoord in die lug geblaas word (sofort in die Luft gesprengt wird). Die antwoord is dus wél goed (Barth & Thurneysen 1973:8).

Wat bedoel hy? Twee jaar later, wanneer hy in 1923 sy reeks voorlesings oor die Gereformeerde belydenisskrifte aanbied (gepubliseer as Die Theologie der reformierten Bekenntnisschriften), maak hy sy kritiek nogeens duidelik. Die eerste vraag is vir hom té Luthers, die eerste antwoord egter Gereformeerd. Maar meer nog, die vraag maak die deur wawyd oop vir allerlei misverstande, naamlik om, téén die oorspronklike bedoelinge in (erken hy nou al) en teen die basiese aard van die dokument (gegen seinen Grundkaraktef) dit on-Calvinisties uit te lê, in die geskiedenis eers Melanchtonies-Luthers en dan later ook piëtisties-rasionalisties (Barth 2005:236).

Dié soort uitleg, sê hy, sou in die geskiedenis tot uitholling en leegmaking van die Kategismus lei (Aushöhlung und Entleerung) en daarom op valse gronde meebring dat die Kategismus so 'n positiewe en verreikende werkingsgeskiedenis gehad het. 'n Groot deel van die Kategismus se populariteit was gevolglik te danke aan hierdie fundamentele misverstand van die Kategismus se inhoud. Téén die Kategismus se eie bedoeling in, glo hy, het diégene met 'n neo-Protestantse belangstelling toenemend hulle aandag op "die psigologiese religieuse subjek" gerig - met (misleide) beroep op die Kategismus. 'n Mens moet gevolglik versigtig wees om die Kategismus nié te probeer uitlê vanuit Vraag 1 en vanuit die drie-deling van menslike ellende, verlossing en dankbaarheid nie, sê Barth (1998; 2005:170, 191,236).

Wat dan wel? 'n Mens behoort die Kategismus uit te lê vanuit Antwoord 1, is sy oortuiging. Die troos is nie enige ongedefinieerde menslike troos as antwoord op enige vae religieuse gevoel van vervreemding en nood nie, maar die wete en vertroue "dat ons aan Jesus Christus behoort" - nie aan onsself nie. Jesus Christus is die inhoud van die troos, verduidelik Barth, en Jesus Christus is daarom die inhoud van die Heidelbergse Kategismus.

As hy daarom in 1938 - in 'n tyd van grote menslike ellende - oor die Heidelbergse Kategismus praat met Switserse godsdiensonderwysers - en dus in 'n nie-konfessionele kerk en gebied - dan beskryf hy die drie-deling van die Kategismus as die wonderbare neerslag van die hart van die Reformasie, dan sê hy Vraag en Antwoord 1 bied saam die hermeneutiese sleutel tot die geheel, dan sê hy hier word die beste insigte uit die Gereformeerde en Lutherse tradisies verenig. Nou het sy verhouding met die Kategismus duidelik verander.15

Waarom? Omdat hy nou konsekwent duidelik maak dat Jesus Christus die inhoud van die troos en die inhoud van die Kategismus is. Trouens, dit word op merkwaardige wyse sigbaar uit die wyse waarop hy die Kategismus se inhoud herrangskik met die opskrifte van die drie dele her-formuleer in sy eie taal, te wete Who is the Comforter?, Who is the Comforted?, en How is Comfort Given, in what does it Consist?16

Sy bedoeling is baie duidelik. Vraag en Antwoord 1 bied inderdaad die volle troos van die evangelie, maar die inhoud daarvan is dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan Jesus Christus. Dáárom is Vraag en Antwoord 31 en 32 - oor Christus as profeet, priester en koning en ons as deel-hebbend aan sy salwing - op dié stadium vir Barth van so groot belang, tesame met Vraag en Antwoord 43 (gestorwe en begrawe met Christus), Vraag en Antwoord 54 (oor die kerk) en Vraag en Antwoord 60 (oor die geregtigheid deur die geloof uit genade).

Ook as Barth in 1947 direk na die Oorlog terug genooi word om in Bonn lesings te gee oor die Heidelbergse Kategismus, maak hy steeds dié punt.

The decisive phrase in this long statement is: I belong to Jesus Christ. Everything else is only an explication of these five words (in sy Christian Doctrine according to the Heidelberg Catechism). (Barth 1964:30)

Selfs al stem uitleggers nie saam met Barth se eie omgang met die Kategismus en met sy toespitsing van die inhoud op Jesus Christus nie,17 maak dié enkele voorbeelde tog duidelik dat dit belangrik is om verder te vra as net na die tema van die geskrif. Wat is die inhoud van dié tema, die inhoud van die troos, bly steeds die dieper vraag.

 

4. DIE BOODSKAP VAN DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS?

Maar wat is dan die boodskap van die Heidelbergse Kategismus? Dis belangrik om te sien dat dit nog weer 'n verdere vraag is - en wel een wat telkens weer opnuut beantwoord moet word deur nuwe lesers, nuwe hoorders, nuwe gelowiges in nuwe situasies. In die uitdrukking "boodskap" skuil immers ook iets van die adressate, van die nuwe oomblik, dis altyd 'n boodskap vir vandag, vir nou, vir óns. Uiteraard sal die boodskap altyd saamhang met die tema en méér nog, met die inhoud agter die tema, maar in die uitleg van die boodskap bly die laaste vraag na die boodskap vir hier en nou, vir ons, vir vandag. Wie vra na die boodskap van die Kategismus vra noodwendig na die boodskap vir vandag en vir ons.

Dié insig geld immers by uitstek van alle Gereformeerde belydenisskrifte. Dit hang saam met hulle eie aard, as historiese en kontekstuele dokumente, wat oor die tye en plekke heen steeds met gesag getuig en oriënteer in nuwe situasies en onder veranderde omstandighede. Hulle gesag lê nie in blote herhaling en repristinasie nie, maar in respekvolle luister na hulle gesaghebbende getuienis in die hede, vir vandag. Gelowiges gaan inderdaad met hulle in gesprek ten einde te hoor of hulle kan help om die Skrifte, om die evangelie, vandag te hoor en verstaan. Dáárin lê die belang van die vraag na hulle boodskap. Dié vraag kan gevolglik nie eens en vir altyd beantwoord word, ook namens nog komende geslagte nie, slegs elke keer wéér, in nuwe oomblikke.

In die woorde van Michael Welker:

Die wichtige Frage lautet, ob der Heidelberger Katechismus denn noch immer eine lebendige Stimme und Kraft ist in der Erbauung der christlichen Kirche. Hat er nicht nur eine respektgebietende Geschichte hinter sich, sondern hat er auch eine lebendige Zukunft, hat er eine von ihm mitgestaltete Zukunft vor sich? Ist er nicht nur ein höchst verdienstliches Dokument der Vergangenheit, sondern gibt er auch kraftvolle Weisung für die Zukunft? (sy kursivering).18

Dít is die vraag na die boodskap van die Kategismus.

In meer sistematiese taal gesê: Die vraag na die boodskap van die Kategismus is die vraag of die grammatika van die Kategismus - in kultuur-linguïstiese sin verstaan - inderdaad vandag nog gelowiges in dié gemeenskap en tradisie help om te praat oor vandág, oor hulle ellende, hulle verlossing en hulle dankbaarheid, oor die lewe met sy uitdagings en vrae, oor die vreugde van bevryding en sekerheid. Dis daarom ingebed in die breër en blywende vrae na die rol van tradisie, na die plek van lering, na die aard van vorming, na die funksie van gemeenskap, na die betekenis van onderskeiding, na die maniere van oriëntasie in die hede en met die oog op die toekoms.

Dat gelowiges deur die afgelope 450 jaar inderdaad wêreldwyd die boodskap van die Heidelbergse Kategismus op vele maniere só gehoor en toegeëien het, is duidelik. Die verhaal van die bydrae van die Kategismus tot die ontwikkeling van ons wêreld vandag is 'n verhaal van sy eie. Slegs enkele willekeurig gekose illustrasies uit dié dramatiese werkingsgeskiedenis mag ter afsluiting egter dalk ons eie gesprek oor die boodskap vandag en hier help dien.

Dis merkwaardig hoe dié boodskap aanvanklik juis vir gemeentes van vlugtelinge nuwe betekenis gekry en opnuut tot troos in hulle ellende en vreemdelingskap geword het. Die aanvanklike verhaal van die dramatiese verspreiding van die Kategismus, dikwels in nuwe vertalings, is grootliks die verhaal van sulke gemeentes van vreemdelinge en selfs vervolgdes.19

Dis aangrypend hoe dié boodskap ook die Teologiese Verklaring van Barmen sou inspireer tydens die Nazi-tyd en die stryd van die Belydende Kerk in Duitsland. Dit is algemeen bekend hoe die eerste tese van Barmen - volgens baie die hart van die saak - direk ontleen is aan die belydenis van die eerste Antwoord van die Heidelbergse Kategismus.20

Dis betekenisvol dat Willie Jonker woorde uit die Heidelbergse Kategismus sou neem as motto vir sy outo-biografiese terugskoue, in sy Selfs die kerk kan verander. Hy haal naamlik die woorde van Vraag en Antwoord 55 oor die gemeenskap van die heiliges aan, om daarmee aan te dui hoe dié woorde vir hom tot boodskap sou wees in sy eie lewe en denke (Jonker 1998b: motto heel voor in boek). Natuurlik gaan hierdie aanhaling terug op die pogings van vele in Suid-Afrikaanse Gereformeerde kerklike kringe om die ekklesiologie van die Heidelbergse Kategismus (saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis) te beliggaam in hulle eie kerklike kringe.21 'n Mens sou ook die name van vele ander hier by kon voeg, waaronder byvoorbeeld Jaap Durand en Allan Boesak.22 Ook in die aanhef van die Belydenis van Belhar hoor 'n mens nogeens die ekklesiologie van die Heidelbergse Kategismus resoneer, as boodskap vir tóé en nóu.23

Ten slotte, in die suid-ooste van Berlyn, naby die Karl-Marx-Strasse, in die eenvoudige buurt van Neukölln, staan 'n onopvallende geboutjie, bekend as die Betsaal Rixdorf van die Gereformeerde Betlehemsgemeente. Dis die kerk-gebou van die vlugtelinge-gemeente uit Boheme wat hulle in 1737 daar kom vestig het, op uitnodiging van die Pruisiese koning Frederik Wilhelm I, nadat hulle vanuit hulle eie gebied in Tsjeggië, deur Sakse, na Pruise gevlug het van vervolging deur die Habsburgers. Van Gereformeerde afkoms, bou hulle 'n klein saaltjie, om te dien as skool sowel as aanbiddingsplek. Rondom 1835 bou hulle 'n nuwe saaltjie op die fondament van die oorspronklike een, as dié eerste een vervalle raak, dieselfde een wat vandag nog daar staan. Dit word steeds gebruik vir die eredienste van die gemeente, maar óók deur Presbiteriane wat uit Iran gevlug het, en hulle bied weer skuiling en ondersteuning aan hedendaagse vlugtelinge uit Iran, Irak en Afghanistan. Die gebou het 'n hoogs eenvoudige interieur, alles in wit, sonder enige versiering, met vóór slegs die woorde uit Vraag en Antwoord 1 van die Kategismus teen die muur, direk agter die kateder en nagmaalstafel. Die eenvoudige woorde teen die wit muur vertel 'n aangrypende verhaal. In Kara Huber se onlangse koffietafel-boek oor kerke in Berlyn, Berliner Kirchen und ihre Hüter (Braus 2012), beskryf Frank-Walter Steinmeier, die gewese Duitse Minister van Buitelandse Sake en vorige Kanselierskandidaat van die SPD, met duidelike waardering die lewe vandag van dié klein gemeente, in dié eenvoudige buurt, en hulle herinneringe aan hoe hulle eie dogter daar gedoop is.24

Dalk getuig dié enkele voorbeelde - saam met sovele meer wat genoem sou kon word - iets van die boodskap van die Heidelbergse Kategismus vir vandag, van die nuwe aktualiteit wat telkens gehoor word in dié troos, aangaande dié sekere kennis en dié vaste vertroue, dat gelowiges nie aan hulleself behoort nie, maar aan Jesus Christus, met liggaam en siel, in lewe en sterwe - dié troos wat steeds vandag mense deur die Heilige Gees van harte bereid en gewillig maak om voortaan vir Christus te lewe, óók in tye van ellende en nood.25

 

BIBLIOGRAFIE

Bakhuizen Van Den Brink, J. N. 1976. De Nederlandse Belijdenisgeschriften in authentieke teksten met inleiding en tekstvergelijkingen. Amsterdam: Uitgeverij Ton Bolland.         [ Links ]

Barth, K. 1964. Learning Jesus Christ through the Heidelberg Catechism. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

1998. Die Theologie der reformierten Bekenntnisschriften. Gesamtausgabe II.30. Zürich: TVZ.         [ Links ]

2005. The theology of the Reformed Confessions. (Translated by D. & J. Guder). Louisville: Westminster John Knox.         [ Links ]

Barth, K. & Thurneysen, E. 1973. BriefwechselBarth-Thurneysen 1913-1921. Gesamtausgabe V.3. Zürich: TVZ.         [ Links ]

Berkhof, H. 1963. The Catechism as an expression of our faith. In: B. Thompson, H. Berkhof, E. Schweizer & H.G. Hageman (eds.), Essays on the Heidelberg Catechism. (Philadelphia: United Church Press), pp. 93-122.         [ Links ]

Boesak, A. A. 1984. Black and Reformed. Apartheid, liberation and the Calvinist tradition. Maryknoll: Orbis.         [ Links ]

Busch, E. 1998. Der Freiheit zugetan. Christlicher Glaube heute - im Gespräch mit dem Heidelberger Katechismus. Neukirchen: Neukirchener Verlag.         [ Links ]

2010. Drawn to freedom. Christian faith today in conversation with the Heidelberg Catechism (tr. William Rader) Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Butin, P. W. 1991. Two early Reformed catechisms, the threefold office, and the shape of Karl Barth's Christology. Scottish Journal of Theology 44 (2):195-214.         [ Links ]

Durand, J. J. F. 1964a. Calvyn as ekumeniese gees. NGTT 5(3):167-182.         [ Links ]

1964b. Ware ekumenisiteit - die Gereformeerde Vaders. In: W.A. Landman & A.J. van Wijk (reds.), Die Ekumene. (Stellenbosch: Kosmo-Uitgewery), pp. 24-39.         [ Links ]

1979. Kerkverband - wese of welwese? In: P.J.G. Meiring & H. Lederle (reds.), Die eenheid van die kerk. (Kaapstad: Tafelberg), pp. 73-77.         [ Links ]

1984a. 'n Belydenis - was dit werklik nodig? In: G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), 'n Oomblik van waarheid. (Kaapstad: Tafelberg), pp. 39-48.         [ Links ]

1984b. Belhar - Krisispunt vir die NG Kerke. In: G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), 'n Oomblik van waarheid. (Kaapstad: Tafelberg), pp. 123-134.         [ Links ]

Edmondson, S. 2004. Calvin's Christology, Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Ehmann, J. 2012. Von Breslau in die Pfalz - die Wege des Zacharias Ursinus. In: M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen - Unterricht. (Neukirchen: Neukirchener Verlag), pp. 33-42.         [ Links ]

Evangelisch-reformierte kirche, lippische Landeskirche & reformierter bund (hrsg). 2010. Heidelberger Katechismus. Revidierte Ausgabe 1997. 4. Auflage. Neukirchen: Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Freudenberg, M. 2012. Der Heidelberger Katechismus und die Eigenart reformierter Katechismen. In: M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen - Unterricht. (Neukirchen: Neukirchener Verlag), pp. 43-57.         [ Links ]

Goehrlich, A. 1992. Paul Schneider und der Heidelberger Katechismus. In: H.A. Oberman et al. (Hrsg.), Das Reformierte Erbe. Festschrift für Gottfried W Locher zu seinem 80. Geburtstag. Band 2. (Zürich: TVZ), pp. 91-102.         [ Links ]

Hageman, H. G. 1963. The Catechism in Christian nurture. In: B. Thompson, H. Berkhof, E. Schweizer & H.G. Hageman (eds.), Essays on the Heidelberg Catechism. (Philadelphia: United Church Press), pp. 158-180.         [ Links ]

Heimbucher, M., Schneider-Harpprecht, C. & Siller, A (Hrsg). 2012. Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen -Unterricht. Neukirchen: Neukirchener Verlag.         [ Links ]

Henns, W. 1983. Der Heidelberger Katechismus im konfessionspolitischen Kräftespiel seiner Frühzeit. Zürich: Theologischer Verlag.         [ Links ]

Hollweg, W. 1961. Neue Untersuchungen zur Geschichte und Lehre des Heidelberger Katechismus. Neukirchen: Neukircherer Verlag.         [ Links ]

Huber, K. (Hrsg) 2012. Berliner Kirchen und ihre Hüter. Berlin: Edition Braus.         [ Links ]

Jonker, W. D. 1962. Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal. Potchefstroom: Studie-groep Kerk en Wêreld.         [ Links ]

1965a. Aandag vir die kerk. Die stryd om die kerk, Nr 1. Potchefstroom: Die Evangelis.         [ Links ]

1965b. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

1998a. Bevrydende waarheid. Wellington: Bybelmedia.         [ Links ]

1998b. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Lang, A. 1967. Der Heidelberger Katechismus und vier verwandte Katechismen. herdruk Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft.         [ Links ]

Miskotte, K. H. s.j. De blijde wetenschap. Franeker: T Wever.         [ Links ]

Mühling, A. 2012. 'Vornehmstes Stück unseres Regimentes.' Die Entstehung des Heidelberger Katechismus. In: M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen -Unterricht. (Neukirchen: Neukirchener Verlag), pp. 51-57.         [ Links ]

Müller, K. (Hrsg) 1903. Die Bekenntnisschriften der reformierten Kirchen. In authentischen Texten mit geschichtlicher Einleitung und Register. Leipzig: Dreichert.         [ Links ]

Naudé, P. J. 2010. Neither calendar nor clock. Perspectives on the Belhar Confession. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Niesel, W. 1956. Karl Barth und der Heidelberger Katechismus. In: E. Wolf, C. Von Kirschbaum et al., Antwort. Karl Barth zum 70. Geburtstag am 10. Mai 1956. Zürich: Zollikon.         [ Links ]

Neuser, W. H. 2009. Heidelberger Katechismus von 1563. In: A. Mühling & P. Opitz, Reformierte Bekenntnisschriften, Band 2/2, 1562-1569. (Neukirchen: Neukirchener Verlag), pp. 167-212.         [ Links ]

Noordmans, O. Het Koninkrijk der Hemelen, Franeker: T Wever (opgeneem in sy Verzamelde Werken 2, Kampen: Kok, 1979: 433-551).         [ Links ]

Plasger, G. 2012a. Glauben heute mit dem Heidelberger Katechismus. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.         [ Links ]

2012b. 'Mittler und Erlöser' Christus. Die geglaubte Realität der göttlichen Barmherzigkeit. In: M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen - Unterricht. Neukirchen: Neukirchener Verlag, pp. 117-134.         [ Links ]

Reichel, H. 2010. Was ist dein einziger Trost im Leben und im Sterben? Karl Barths kontextuelle Interpretation des Heidelberger Katechismus.         [ Links ] [Aanlyn]. Bekom van http://www.heidelberger-katechismus.net/7316-0-227-50.html [2013, 23 Februarie]

Smit, D. J. 2014. Oor die relevansie van die Heidelbergse Kategismus vandag: Vervreemding en gawe. Sleutelmotiewe in die Heidelbergse Kategismus? NGTT Deel 54, Nommers 1 & 2: 173-188.         [ Links ]

Strohm, C. 2012. 'Was muss du wissen ...?' Das Anliegen reformatorischer Katechismen. In: M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen - Unterricht. (Neukirchen: Neukirchener Verlag), pp. 58-64.         [ Links ]

Thompson, B., Berkhof, H., schweizer, E. & Hagemann, H. W. (eds.) 1963. Essays on the Heidelberg Catechism. Philadelphia: United Church Press.         [ Links ]

Ulrichs, H-G. 2012. 'Akkurat orthodox', doch von 'relativer Autorität.' Wirkungsgeschichte des Heidelberger Katechismus. In: M. Heimbucher, C. Schneider-Harpprecht & A. Siller (Hrsg.), Zugänge zum Heidelberger Katechismus. Geschichte - Themen -Unterricht. (Neukirchen: Neukirchener Verlag), pp. 65-76.         [ Links ]

Welker, M. 1989. Freiheit und Halt im christlichen Glauben. 425 Jahre Heidelberger Katechismus als Bekenntnisschrift. Reformierte Kirchenzeitung, pp. 156-160.         [ Links ]

2012. Gottes Offenbarung: Christologie. Neukirchen: Neukirchener Verlag.         [ Links ]

 

 

1 Hierdie bydrae gaan terug op 'n voordrag wat op uitnodiging gehou is tydens 'n VBO (voortgesette opleiding) predikante-byeenkoms op 26-27 Februarie 2013. Dit is georganiseer deur Ekklesia, van die Fakulteit Teologie te Stellenbosch, as deel van die jaar van herdenking van die 450-jarige bestaan van die Heidelbergse Kategismus. Die mondelinge styl van die oorspronklike aanbieding is grootliks behou.
2 Sien byvoorbeeld die besprekings van Matthias Freudenberg, "Der Heidelberger Katechismus und die Eigenart reformierter Katechismen" (2012), asook Christoph Strohm, "'Was muss du wissen ...?' Das Anliegen reformatorischer Katechismen" (2012), in dieselfde band. Ten einde die teks van die Heidelbergse Kategismus met ander verwante kategismusse uit dieselfde tyd te kan vergelyk, sien byvoorbeeld steeds A. Lang, Der Heidelberger Katechismus und vier verwandte Katechismen (1967); asook reeds Walter Hollweg, Neue Untersuchungen zur Geschichte und Lehre des Heidelberger Katechismus (1961). Vir die oorspronklike teks van die Kategismus self asook vir uitstekende inleidende kommentaar, sien byvoorbeeld J.N. Bakhuizen van den Brink, De Nederlandse Belijdenisgeschriften in authentieke teksten met inleiding en tekstvergelijkingen (1976:149-224), en vir agtergrond op die tekste en vertalings (1976:29-40). Eweneens vir 'n weergawe van die oorspronklike Duits met gedokumenteerde kommentaar op die teks, sien Wilhelm H. Neuser, "Heidelberger Katechismus von 1563" (2009:167-212). Vir 'n nuwe vertaling in hedendaagse Duits, sien Heidelberger Katechismus. Revidierte Ausgabe 1997 (Evangelisch-reformierte Kirche, Lippische Landeskirche & Reformierter Bund 2010).
3 Sien byvoorbeeld steeds Walter Henns, Der Heidelberger Katechismus im konfessionspolitischen Kräftespiel seiner Frühzeit (1983), asook Andreas Mühling, "'Vornehmstes Stück unseres Regimentes'. Die Entstehung des Heidelberger Katechismus" (2012).
4 Sien byvoorbeeld die bespreking van W.D. (Willie) Jonker, Bevrydende waarheid (1998a), asook verskeie opstelle in Bard Thompson et al., Essays on the Heidelberg Catechism (1963), en Georg Plasger, Glauben heute mit dem Heidelberger Katechismus (2012a).
5 Sien byvoorbeeld Johannes Ehmann, "Von Breslau in die Pfalz - die Wege des Zacharias Ursinus" (2012).
6 Die materiaal oor die praktiese gebruike van die Kategismus, byvoorbeeld in prediking, lering en kategese, is uiteraard onoorsigtelik, in vele tale en tallose genres. Sien byvoorbeeld die talle uiteensettings van die inhoud van die afsonderlike Sondagsafdelings, vir die verduidelikende en lerende gebruik deur voorgangers en kategete. Sien ook byvoorbeeld die opstel van Howard G. Hageman, "The Catechism in Christian nurture" (1963:158-180), asook die vele opstelle in die vierde afdeling van Martin Heimbucher et al. (2012:173-247).
7 Oor die term "troos" is daar talle kommentare beskikbaar, dikwels met spekulatiewe kante en soms ook met polemiese kante. Só maak Busch (2010:29-31) byvoorbeeld veel van die argument dat 'n mens nie by die term moet begin en dit op allerlei subjektiewe en hedendaagse maniere moet invul,al na gelang van die behoeftes van mense vandag, waarop Jesus Christus dan die antwoord sou wees nie, maar dat 'n mens eerder omgekeerd te werk moet gaan, en die Kategismus (en dus die evangelie) moet toelaat om die inhoud van die troos aan ons te verkondig, in die lig waarvan dan ook ons behoefte aan dié troos sal blyk. Ter illustrasie van dié tipe denkwyse kan Busch dalk self meer uitvoerig aan die woord kom: "This question, as has been said, does not connect with an assumed general need for comfort. Rather, it proceeds from the conviction that comfort is given us, that this comfort is the only one that can comfort us in life and in death, and that this comfort is the sum, center, and Alpha and Omega of the Christian confession of faith ... The basic word 'comfort' had a much wider, stronger, and more objective ring to it in the sixteenth century than it has today. In German, it has its root in a concept that includes the meanings faithfulness, trust, and reliability (Gothic: trausti = covenant). The Latin consolatio means consoling words, encouragement. The Greek paraklesis means comfort, but also exhortation, and calling for help. If, according to 2 Corinthians 1:4-7, God is the 'God of all comfort,' . If, according to 1 John 2:1, Jesus is now with the 'Father' as the Paraclete for us sinners . When, according to John 14:26, 26; 15:26, Jesus promises his disciples the Spirit as the 'Paraclete', he promises to stay with them so that they are not orphans, not deserted, but rather through his presence delighted, lifted up, and set straight. In the basic word 'comfort' these older meanings resonate, so that we need to hear the beginning question in this way: What gives you courage? What gives it in such a way that it really lifts you up, so that you can rely on the one who is unfailingly faithful? Where does the support for your whole life come from, a support that holds rock-firm, capable of bearing heavy loads, sure and reliable - and what does it consist of? So the beginning question is already thought about in light of the answer that follows . Comfort, real comfort, the comfort we need, the comfort given us by God, is different from that meant by W. von Humboldt, who said comfort 'can never be found in any other that in myself'. However, neither is comfort something outside me that I deem comforting on the basis of a criterion within myself . As a rule, this comfort takes place in such a way that only afterwards, but then more and more, do we begin to realize how much we need it," Eberhard Busch, Drawn to Freedom (2010:29-31). Vir 'n soortgelyke logika, sien byvoorbeeld ook al Kornelis H. Miskotte, De blijde wetenschap (s.j.:10): "Nu heeft menigeen gemeend bij deze inzet van de catechismus z'n bedenkingen te moeten opperen inzake het 'anthropocentrische' van deze aanvat; men meent, dat hier een antwoord beproefd wordt op de vraag, die opkomt uit 's mensen behoéfte aan troost. Misverstand! Déze troost hebben wij niet gezocht, zij is gekómen; ze is Gods ongevraagde werk; ze is de glans, die van de waarheid Góds uitgaat."
8 Sien Smit (2014) "Oor die relevansie van die Heidelbergse Kategismus vandag: Vervreemding en gawe", ingedien vir publikasie by NGTT.
9 Berkhof maak dit byvoorbeeld op 'n interessante wyse duidelik deur te wys op die sentrale plek van dié benadering binne die Protestantisme. "For many centuries, almost from the very beginning of Christian theology, the doctrines of creation and providence were considered as 'mixed articles', i.e. as truths about which one could have also some knowledge apart from the Christian revelation. The consequence was that these doctrines were treated without regard to the revelation in Jesus Christ and personal faith, as a kind of philosophy in which one can have insight by reason and experience only. The Reformation broke with this tradition. We know the famous words of Luther's Small Catechism . Here the first article is a personal confession and no longer philosophical reasoning. In the Catechism of Geneva Calvin links creation and providence with the revelation in Jesus Christ . The Catechism of Heidelberg stands in the same tradition, but surpasses all similar pronouncements in strength . So here we have no access to the confession of creation and providence except through the confession of recreation and salvation. Without Christ, as Calvin said, the world is a labyrinth in which we get lost. We first believe in Christ and for his sake in providence, not the other way around . No confession is nearer to our present insights into the relation between the confession of God the Redeemer and the confession of God the Creator that this question of the Catechism," (1963:102-104).
10 By Calvyn word dié motiewe telkens in sy kommentare en prediking aangetref, byvoorbeeld wanneer hy die Evangelie van Johannes en Hebreërs uitlê, maar ook sistematies aangebied in die Institusie, byvoorbeeld in die 1559-uitgawe, in Boek II/15. Vir Calvyn se ontwikkeling van dié motiewe, sien byvoorbeeld Stephen Edmondson, Calvin's Christology (2004). Vir 'n kreatiewe hedendaagse ontwikkeling van dié motiewe, sien byvoorbeeld Michael Welker, Gottes Offenbarung: Christologie (2012: veral 195-233). Vir dié motiewe in die Heidelbergse Kategismus, sien benewens die volle kommentare op die betrokke vrae en antwoorde, ook Georg Plasger, "'Mittler und Erlöser' Christus. Die geglaubte Realität der göttlichen Barmherzigkeit" (2012b:117-134); asook Philip W Butin, "Two early Reformed catechisms, the threefold office, and the shape of Karl Barth's Christology" (1991).
11 "Eine der großen Stärken dieses Katechismus liegt in dem Verständnis des christlichen Glaubens, das er eröffnet. Der Heidelberger Katechismus macht deutlich, daß und wie im christlichen Glauben, im 'wahren' Glauben, wie er wiederholt sagt, eine ganz große Freiheit und ein ganz starker Halt auf herrliche Weise verbinden ... Indem wir uns von ihm die große Freiheit und den starken Halt verdeutlichen lassen, die sich im christlichen Glauben verbinden, werden wir sehen, daß der Heidelberger Katechismus ein lebendiges Dokument ist, das nicht nur Geschichte hinter sich, sondern auch noch vor sich hat," Welker (1989:157).
12 Vir 'n bondige maar helder opstel oor Barth se jare lange omgang met die Heidelbergse Kategismus, sien die kerkhistoriese studie van Hanna Reichel, onder leiding van Christoph Strohm by Heidelberg, "Was ist dein einziger Trost im Leben und im Sterben? Karl Barths kontextuelle Interpretation des Heidelberger Katechismus" (2010). Van die nuttigste bronne van Barth self oor dié tema is die Engelse vertaling (deur Darell en Judith Guder) van sy 1923-voorlesings oor die Gereformeerde belydenistradisie, naamlik The Theology of the Reformed Confessions (2005), asook die klein bundeltjie van Karl Barth, Learning Jesus Christ through the Heidelberg Catechism (1964). Dié bundel bevat Barth se bekende twee geskrifte oor die Kategismus, te wete sy Einführung in den Heidelberger Katechismus aan Switserse predikante in 1938, asook sy langer Die christliche Lehre nach dem Heidelberger Katechismus, sy reeks voorlesings in Bonn, direk na die Oorlog in 1947. Albei is vertaal deur Shirley C Guthrie en die publikasie val ook saam met die 400-jarige herdenking in 1963. Vir Barth en die Kategismus, sien egter byvoorbeeld ook Wilhelm Niesel, "Karl Barth und der Heidelberger Katechismus" (1956:156-163); asook Piet J. Naudé, Neither calendar nor clock. Perspectives on the Belhar Confession (2010:77-103).
13 Op 14 Desember 1919 maak Barth byvoorbeeld in 'n brief aan Thurneysen 'n soort siniese, moedelose opmerking met die strekking dat sy onderrig so min effek het dat hy sommer lus het om soos die voorgeslagte terug te keer na die Heidelbergse Kategismus en die kinders net eenvoudig dié te laat memoriseer, (Barth & Thurneysen 1973:361).
14 Die gesaghebbende versameling van daardie tyd was Karl Müller, Die Bekenntnisschriften der reformierten Kirchen (1903).
15 Barth, Learning Jesus Christ through the Heidelberg Catechism (1964:121-124). Hy sê nou selfs "The outline human misery - human redemption - human gratitude is in its simplicity an ingenious restatement of the essence of the whole Reformation" (1964:122).
16 Barth, Learning Jesus Christ through the Heidelberg Catechism (1964:124 e.v.). Die hele uiteensetting wat volg berus dan op dié drie-deling. Hy rangskik ook die vrae en antwoorde van die Kategismus nuut, op dié grondslag.
17 Alhoewel sy uiteensetting nie gesien moet word as in stryd met Barth se denke nie, is dit tog interessant om te sien hoe byvoorbeeld Noordmans, in sy bespreking van die behandeling wat die Heidelbergse Kategismus in Sondae 7 tot 22 aan die Apostoliese Geloofsbelydenis wy, nadruklik nie slegs alles op Jesus Christus wil betrek nie. Daarmee is hy 'n goeie illustrasie van al diegene wat versigtig is om die volle evangelie net Christologies te wil ontsluit. Dit begin al wanneer hy aan die begin daarop wys dat hy doelbewus nie net van "Het Geloof" wil praat as opskrif by hierdie deel nie, maar eerder van "Het Koninkrijk der Hemelen". Dit gaan hom om die komplekse en grootse werke van die Drie-enige God. Dit is dan ook hier dat hy sy bekende uitdrukking van die "trinitariese spreiding" gebruik om aan te dui hoe groots en omvattend die werke van God is. "Deze spreiding van Gods Drievoudigheid geeft ook aan het Christelijk geloof ene breedte en een allesomvattende onderscheidenheid, die de Kerk nooit of te nimmer mag inruilen voor een of andere krampachtigheid," Oepke Noordmans, Het Koninkrijk der Hemelen (s.j., 36), (opgeneem in sy Verzamelde Werken 2 (1979, 433-551, spesifieke bladsye, 450-452).
18 Welker, "Freiheit und Halt im christlichen Glauben" (1989:157).
19 As enkele verwysing ter illustrasie, "Weil reformierte Christen in Holland durch die 'spanische Furie', in Frankreich durch den katolischen König unterdrückt waren und flüchten mussten, verbreitete sich der Heidelberger im Flüchtlingsgepäck rasch europaweit," Hans-Georg Ulrichs (2012:67). Vir 'n meer onlangse voorbeeld, sien die aangrypende opstel oor die rol van die Heidelbergse Kategismus in die lewe, bediening, spiritualiteit en dood as martelaar in Buchenwald van die Gereformeerde pastor Paul Schneider, deur Andreas Goerlich, "Paul Schneider und der Heidelberger Katechismus" (1993: 91-102).
20 Sien byvoorbeeld Barth self, Learning Jesus Christ through the Heidelberg Catechism (1964:26): "In Barmen in 1934, the evangelical church summarized its faith with the words .This first paragraph of the Barmen Declaration was not just formally stated in agreement with question 1 of the Heidelberg Catechism . When the Heidelberg Catechism speaks of Jesus Christ, it means thereby to include all God's kindness, that is, the one full salvation for human beings, the assurance of forgiveness and the claim on our lives, our liberation to service (cf. Barmen, II)."
21 Sien byvoorbeeld W.D. (Willie) Jonker oor die ekklesiologie van die Gereformeerde belydenistradisie, sy Aandag vir die kerk. Die stryd om die kerk (1965a); sy Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal (1962); en sy Om die regering van Christus in sy kerk (1965b).
22 Vir J.J.F. (Jaap) Durand oor die Gereformeerde belydenistradisie, sien byvoorbeeld sy "'n Belydenis - was dit werklik nodig?" en "Belhar - Krisispunt vir die NG Kerke," (1984a:39-48 en 1984b:123-134); asook sy "Calvyn as ekumeniese gees" (1964a:167-182); "Ware ekumenisiteit - die Gereformeerde Vaders" (1964b:24-39); "Kerkverband - wese of welwese?" (1979:73-77). Vir Allan A. Boesak oor die Gereformeerde belydenistradisie, sien byvoorbeeld sy Black and Reformed. Apartheid, liberation and the Calvinist tradition (1984).
23 Vir die teenwoordigheid van die Heidelbergse Kategismus in die Belydenis van Belhar, sien byvoorbeeld Piet J. Naudé, Neither calendar nor clock. Perspectives on the Belhar Confession (2010), veral die inleidende kommentaar op die teks self, 5-10, maar ook byvoorbeeld 86 en 121.
24 Kara Huber, Berliner Kirchen und ihre Hüter (2012:148-151). Tydens die mondelinge voordrag van hierdie lesing is 'n afdruk van die interieur van dié aanbiddingsplek aan die kursusgangers vertoon. Dié foto kom van hierdie bundel.
25 Ook Berkhof sluit sy bydrae oor die Kategismus as uitdrukking van ons geloof met sulke kort verwysings na drie illustrasies uit die geskiedenis waarin die krag van die Kategismus om opnuut betekenisvol te werk, bely word. "Thanks to its wonderful approach the Catechism of Heidelberg has maintained its relevance until the present day. When the famous preacher Herman Friedrich Kohlbrugge lay on his deathbed in 1875, he often exclaimed, 'The Heidelberger, the simple Heidelberger! Stick to it, my children!' Some decades ago the Dutch theologian Oorthuys wrote an explanation of the Catechism under the striking title 'The Eternal Youth of Heidelberg'. When the representatives of the English Church at the Synod of Dort had returned home, one of them, Bishop Hall, reported: 'Our Reformed brethren on the continent have a little booklet, the Heidelberg Catechism, whose single pages cannot be paid for even with tons of gold.' The love for the Catechism will remain as long as there are people who seek their only comfort in our Savior, Jesus Christ." Berkhof (1963:122).