SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 issue1Interpretations of the Tower of Babel narrative in the African contextHosea 6:6 and identity formation in Matthew author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089

Acta theol. vol.34 n.1 Bloemfontein Jan. 2014

 

Enkele treë tot 'n moontlike re-konfigurasie van pastorale terapie? perspektiewe op ontwikkelende praktyke

 

Some steps in a possible re-configuration of pastoral therapy? Perspectives on developing practices

 

 

J.A. van den BergI; A. de BeerII; M. FourieIII

IProf. (Universiteit van Vrystaat)
IIDr. (Universiteit van Vrystaat)
IIIDr. (Noordwes-Universiteit), E-pos: vdbergja@ufs.ac.za

 

 


Sleutelwoorde: Pastorale terapie, Modelle van sorg, Nagraadse programme, Diensleer, e-konfigurasie en ontwikkeling


ABSTRACT

In this article perspectives regarding the development and transformation of pastoral care from being only the responsibility of individual ordained professionals towards a model of care for and by the community and its members, are described. In this development the emphasis is placed on pastoral care as a public theological endeavour with a strong strategic component resonating with the character of practical theology. A specific case study derived from the postgraduate program in pastoral therapy in the Department of Practical Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, is portrayed. A lecturer and two former students reflect on certain developments in the program using a model of narrative research and reflection. In this description developing and possible alternative perspectives are sketched for possible future developments in the teaching and providing of pastoral therapy.

Key Words: Pastoral Therapy, Models of care, Postgraduate programs, Service learning, Re-configuration and development


 

 

1. INLEIDING

Reeds vir 'n geruime tyd op plaaslike vlak (Louw 1999:26-27), maar onlangs ook weer op internasionale vlak (McClure 2012:275), wys pastorale teoloë daarop dat 'n eietydse pastorale karakter gekenmerk word deur 'n beweging weg van 'n eensydige professionele model na die onderlinge versorging van gelowiges. McClure (2012:275) beklemtoon daarom dat dié groter beweging in die pastoraat aan die hand van drie aksente op gemeenskaplike-, publieke- en strategiese vlak vergestalt word:

Three distinct developments represent the most significant changes as pastoral care moves into the twenty-first century: (i) the move away from the model of care for an individual by ordained professionals toward the model of care for the community and its members by the community and its members; the (ii) development of pastoral care as public theology; and (iii) strategic participation rather than personal insight as the final goal.

Die beweging weg van alleenlik 'n eensydige professionele klem op pastorale sorg in die Kerk na deelnemende onderlinge versorging word tans wêreldwyd binne verskillende denominasies en op verskillende vlakke ervaar. In Europa is byvoorbeeld ondervind dat:

Seminaries are closing and to keep them functioning lay people are attending to obtain degrees in theology. This indicates that theology is no longer the exclusive province of the priesthood, and lays the foundations for a future when the laity will be as well informed and equipped to contribute to theology as the priest (Dominian 2004:8).

Praktiese teologie behoort meer te bied as die studie van gedrag deur middel van refleksie op die empiriese dimensie van menslike reaksies wat meestal bepaal word deur emosies en die affektiewe komponent van menswees. Sonder twyfel help die empiriese dimensie praktiese teologie om teologiese interpretasies te verfyn. Louw (2008:17) wys tereg daarop dat "It helps care and couselling practices in pastoral hermeneutics to focus more adequately and effectively on existential life issues."

Aangesien praktiese teologie én die pastoraat uiteraard 'n sensitiwiteit het vir die plaaslike, konkrete en kontekstuele beskrywings (Osmer 2008; Müller 2009), is dit daarom nodig om bogenoemde groter teoretiese bewegings te kontekstualiseer binne 'n bepaalde omgewing. Verhale omtrent terapie word gevorm deur 'n verskeidenheid van diskoerse oor patologie, normatiewe standaarde en oor professionele persone as deskundiges.

These discourses are propagated by the content of professional education, as well as by the structure of our educational institutions and professional socialization processes (Freedman & Combs 1996:43).

Die navorsings vraag wat vir dié navorsings-verslag aangedui word, fokus dus op hoe die evolusionêre ontwikkeling na 'n gemeenskaps-pastoraat binne 'n bestaande tersiêre nagraadse program vir pastorale terapie geakkommodeer kan word? In hierdié fokus word die karakter van praktiese teologie erken as "theological reflection for the sake of practice" (Smith 2012:250).

Honneurs- en Magister programme aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat en wat onder meer geassosieer word met die opleiding van pastorale terapeute, word met hierdié oogmerke in gedagte in die artikel beskryf met as doel die verdere ontwikkeling hiervan. Gedurende die afgelope tien jaar het die pastorale terapie program, wat gehuisves word in die Departement Praktiese Teologie1, tot die verwagte ontwikkelings wat deur Louw en McClure aangedui word, bygedra. Ten einde die ontwikkelende verhaal te dokumenteer, waarin hierdie bewegings ook vergestalt word, word die narratiewe ABDCE-navorsingsmodel2, en soos beskryf deur Müller, Van Deventer en Human (2001), gebruik. Alhoewel dié model in die onlangse verlede verder in 'n navorsingsagenda vir 'n postfoundational praktiese teologie ontwikkel is (Müller 2005, 2009; Van der Westhuizen 2010), word die motivering vir die gebruik van die oorspronklike model gevind in die narratiewe karakter van die verhaal wat gedokumenteer word. In elk van die vyf bewegings word drie gespreksgenote aan woord gestel met die weergee van kort fragmente uit elkeen se onderskeie verhale wat aangedui word deur gebruikmaking van 'n ingekeepte teks formaat. Die drie deelnemers, wat op anonieme wyse aan die gesprek deelneem en wie se verhale in die loop van die artikel gedokumenteer word, verteenwoordig onderskeidelik twee afgestudeerde studente en 'n dosent. Die afgestudeerde studente het nie voorgraadse teologiese opleiding ontvang nie en was ook nie voltyds in die bediening as gelegitimeerde predikante, soos wat dikwels vantevore die geval was met studente wat hulleself aangemeld het vir nagraadse studie in die pastoraat nie. Beide dié twee gespreksgenote is produkte van die onderskeie programme onder bespreking en het reeds hulle doktorsgrade binne die domein van praktiese teologie en pastorale terapie ontvang. Die dosent wie se verhaal gedokumenteer word, het wel voor- en nagraadse teologiese opleiding ondergaan en het aanvanklik as gelegitimeerde in die voltydse bediening binne gemeente-verband gestaan alvorens hy onder meer die verantwoordelikheid ontvang het vir die bestuur en ontwikkeling van die pastorale terapie program soos aangedui.

Na die aanbied van die onderskeie fragmente van die gespreksgenote se verhale in die onderskeie subafdelings van die artikel, word op praktiese teologiese wyse weer teoreties gereflekteer op die perspektiewe met die moontlike beskrywing van winspunte vir die ontluikende praktyk. Hierin word weer gestalte gegee aan die sirkulêre praktiese teologiese beweging tussen praktyk en teorie met die gevolglike vorming van 'n strategiese en pragmatiese dinamika (Browning 1991; Osmer 2008).

Ter inleiding van die ontwikkelende verhaal reflekteer die twee afgestudeerde pastorale terapeute, tans in diens van die Ring van die NG Kerk in Kroonstad, hoe die onderlinge versorging van gelowiges (Louw 1999:26) en kenmerkend van dié groter beweging in die pastoraat, in hulle bestaande professionele praktyk sigbaar geword het:

Gespreksgenoot 1:

Ten opsigte van 'n meer publieke pastorale diens stem dit ooreen met die diens wat die Ring van Kroonstad aanbied vir die gemeenskap, maar die terapeut het nog steeds 'n persoonlike verhouding en kontak met gemeenskapslede. Die diens kan gesien word as teologies van aard. In my geval kom mense van enige denominasie my sien en tog word daar oor God gepraat. As terapeut benader ek die gesprek met my eie verwysingsraamwerk van Christen wees. Omdat ek met individue werk, asook met hulle verhoudings (man, vrou, kinders, vriende en andere) word hulle persoonlike insig en uitkoms in ag geneem. Die terapie is vir my strategies omdat enige persoon/persone uit die gemeenskap kan aanmeld vir terapie.

Gespreksgenoot 2:

Die behoefte na pastorale leiding in die breë gemeenskap is deur die NG Ring van Kroonstad geïdentifiseer. Dit het gelei tot die befondsing van pastorale terapeute deur gemeenskapslede sowel as die Ring. Die pastorale dienslewering in Kroonstad is nie beperk tot slegs Christen kliënte nie, maar sluit kliënte van alle denominasies en ook ongelowiges in. Dus nie eksklusief van aard nie, maar juis inklusief met 'n wyer uitkring-effek waar alle lede van die gemeenskap welkom is om vir pastorale terapie aan te klop. Strategiese deelname word weerspieël in die pastorale proses waar nie net gepoog word om die individuele kliënt (man, vrou of kind) van hulp te wees nie, maar ook naby gesins- en familielede met verdere rimpeling na die res van die gemeenskap.

Dit is duidelik vanuit die aanvanklike verhaal-fragmente van die twee deelnemers dat hulle as nie voorgraadse geskoolde en gelegitimeerde teoloë van 'n bepaalde kerkverband in 'n werksomgewing, wat in hoofsaak professioneel gedefinieer word deur gelegitimeerde teoloë, in 'n belangrike spesialis behoefte voldoen. Die beweging na 'n publieke pastoraat wat wyer strek as denominasionele verband, word in die aard en karakter van die professionele omgewing (in die geval die Ring van Kroonstad) uitgedruk as 'n diens wat ontvanklik is vir alle lede van die gemeenskap.

 

2. AKSIE - 'N VERHAAL OM MEE TE BEGIN

Ten einde die verhaal van groei in die ontwikkeling van pastorale terapie aan die Fakulteit Teologie te dokumenteer word 'n oorsig deur die programleier oor die strukturele agtergrond van die verhaal van die program gebied:

Aanvanklik kon slegs persone met 'n formele nagraadse teologiese kwalifikasie toegelaat word tot die Magister program in pastorale terapie van die Fakulteit Teologie, aan die Universiteit van die Vrystaat. Uiteraard is die program primêr bygewoon deur predikante en pastore. Na aanvanklike gesprekke binne die Departement en die Fakulteit is dié Magisterprogram egter ook vanaf 2004 toeganklik vir persone uit ander professionele beroeps-kategorieë. Deur 'n aanvanklike BA Honneurs program in praktiese teologie te voltooi kon diegene uit ander beroeps-kategorieë ook toegang kry tot die Magister program in pastorale terapie (Fakulteit Teologie Jaarboek 2006:17). Sedertdien het verskeie persone, na die suksesvolle afhandeling van die BA Honneurs studie, saam met predikante en pastore hulle aangemeld vir verdere studie. Op dié wyse het die ontwikkeling inderdaad die ruimte gebied vir persone vanuit ander professionele omgewings om hulle ook verder in die teologie en die pastoraat te bekwaam.

In die navolging van die aangeduide ABDCE-narratiewe navorsingsmodel wys Müller, Van Deventer & Human (2001:80) daarop dat

To our mind, a good empirical scrutiny of people and the action in which they are involved portray an honest and serious effort to describe the 'now' of the action.

Dié klem op die kairos-moment van die ontwikkelende verhaal word goed onder woord gebring deur die twee mede-navorsers en afgestudeerde studente wanneer hulle 'n persoonlike motivering tot aanvanklike inskrywing en ook verdere studie as volg verwoord:

Gespreksgenoot 1

Dié gespreksgenoot, wat reeds tydens haar aanmelding oor 'n Magistergraad in sosiologie beskik het, vertel as volg van haar verdere studie in die praktiese teologie en in pastorale terapie:

Die Universiteit van die Vrystaat het 'n graadkursus vir studente wat in pastorale terapie belangstel, aangebied. Na 'n keuringsproses is ek as kandidaat aanvaar en het 'n BA Honneurs sowel as die Magister Artium en 'n PhD in praktiese teologie voltooi. Na voltooiing van die navorsing vir die Magister Artium en PhD het dit gelei tot die skryf van artikels in vakwetenskaplike joernale oor afsluiting na die verlies van 'n kind, promissioterapie by vroue na die verlies van 'n eggenoot sowel as vroue se belewenis van eensaamheid na die verlies van 'n lewensmaat.

Gespreksgenoot 2

Een van die eerste deelnemers aan die nagraadse pastorale programme wat voorgraads binne 'n ander professionele domein haar opleiding ontvang het, vertel van haar betrokkenheid by die program:

Die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat het 'n Magisterprogram in pastorale terapie aangebied. Ek het aansoek gedoen om keuring waarna ek 'n BA Honneurs sowel as die Magister Artium en 'n PhD in praktiese teologie verwerf het. Die verwering van dié kwalifikasie het aan my verdere geleenthede gebied om by akademiese navorsing betrokke te raak en ek is as postdoktorale navorsingsgenoot by die Noordwes-Universiteit te Potchefstroom, aangestel. Op die wyse kan ek 'n moontlike bydrae lewer deur aktuele kwessies in die gemeenskap in die vorm van publikasies aan te spreek.

Bogenoemde gedokumenteerde fragmente van die mede-navorsers vra om verdere toeligting deur die dosent wat vanaf 2003 verantwoordelik was vir die bestuur en ontwikkeling van die pastorale terapie programme aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat:

Aanvanklik was die nagraadse Magister program net toeganklik vir persone met 'n voorgraadse teologiese opleiding wat in die meerderheid van gevalle daartoe gelei het dat slegs predikante aansoek gedoen het. Met behulp van die Fakulteit- en Universiteits-administrasie is 'n studie-roete gekurrikuleer waarlangs persone met 'n alternatiewe voorgraadse tersiêre kwalifikasie, deur middel van die suksesvolle afhandeling van 'n oorbrugging Honneurs-program, wel toegang tot aansoek vir die Magister-program in pastorale terapie kon verkry.

Soos uit bogenoemde verhale blyk was dit duidelik uit die getal studente wat aangemeld het dat die belangstelling in pastorale terapie besonder hoog was en dat die groter beweging weg van 'n aanvanklike eensydige professionele opleiding wat in 'n groot mate net vir die predikant geoormerk was, nou toeganklik geword het vir persone vanuit ander professionele agtergronde.

In die skets van bogenoemde agtergrond en met in ag genome die aksente verteenwoordig in die verhaal-fragmente van die gespreksgenote, is die skakels geskep waarvolgens daar deur die ABDCE proses inderdaad op 'n betekenisvolle wyse ingeskakel is by die gebeure van aksie.

 

3. AGTERGROND ... ELKE VERHAAL HET 'N GESKIEDENIS

Met die agtergrond ("background") moment van narratiewe navorsing word ondersoek ingestel na die wyse waarop die aksie-moment gevorm is. Dit word gedoen deur bepaalde gebeure, assosiasies en konnotasies van die verlede te herbesoek. Ten einde die betekenis hiervan te bepaal is dit daarom nodig om die vorige gebeure weer as agtergrond te besoek (Müller, Van Deventer & Human 2001:83). Ter agtergrond tot hulle eie betrokkenheid by die program gee die twee gespreksgenote hulle verhale onderskeidelik as volg weer:

Gespreksgenoot 1:

My persoonlike verhaal omtrent pastorale studies het begin vorm kry toe ek besef het dat ek nog 'n bydrae in die gemeenskap kan maak nadat ek opgehou het met maatskaplike werk. Dit was vir my duidelik dat daar 'n leemte aan berading in die gemeenskap was aangesien baie persone my dikwels kom sien het om "raad" te vra oor probleme wat hulle ondervind.

Terugskouend kan inderdaad opgemerk word dat dié soeke van die gemeenskap inderdaad bevestig word deur vorige navorsing wat daarop wys dat die mensdom in 'n krisis verkeer en op soek is na groter menslikheid, meer egtheid en relevante en volhoubare perspektiewe (Müller & Laas 2008:elektroniese bron). Die aanbied van dié tipe hulp aan die gemeenskap in die aanspreek van bepaalde behoeftes, vervul dus inderdaad op 'n besondere wyse aan die soeke na en vergestalting van 'n publieke pastorale sorg.

Gespreksgenoot 2:

Ek het my aanvanklik bekwaam in die bedryfsielkunde. Dit is ter verduideliking 'n studieveld wat die impak van individue, groepe en strukture rakende organisatoriese gedrag bestudeer, met die doel om hierdie kennis toe te pas ten einde organisasie-doeltreffendheid te verhoog (Robbins 2001:6). In my omgang met Enkele treë die werkende mens as konsultant en menslike hulpbronbestuurder, het ek tot die insig gekom dat meer erns met die spirituele dimensie van menswees gemaak moet word. Uitdagings soos werks-ontevredenheid, bevraagtekening van loopbaanrigting en prioriteite, verhoudingsprobleme en werk-ontspannings-balans, lei tot 'n gebrek aan effektiewe funksionering, lewensvisie en lewensrigting. Vandaar my belangstelling in die spirituele wat my eie lewensreis by die teologie en meer spesifiek die praktiese teologie en die pastoraat gebring het.

In dié verhaal-fragment van beide die gespreksgenote is dit duidelik dat studente afkomstig vanuit ander professionele dissiplines nie net toegerus word deur die inhoude van die pastorale terapie programme nie, maar dat elkeen ook bepaalde kennis vanuit ander wetenskap-velde saambring. Op hierdié wyse word gestalte gegee aan 'n spontane interdissiplinêre gesprek wat uiteraard in die fasilitering van pastorale hulp aan die gemeenskap op 'n besondere nuttige wyse tot uitdrukking kom.

Bogenoemde twee vertellings word ook bevestig deur die programleier se waarneming dat vanweë verskeie ontwikkelings bepaalde strukturele aanpassings in die dosering van die pastorale terapie program nodig was ten einde die ontwikkelende perspektiewe te akkommodeer:

As uitdrukking van die ontwikkeling in die pastoraat, die klem op interdissiplinêre samewerking asook 'n groter wordende druk op die amp en identiteit van die predikant en die toerusting van die gelowige; het dit duidelik geword dat die pastorale terapie program nie maar net sou kon voortgaan soos in die verlede deur alleenlik staat te maak op die inskrywings van persone met 'n formele voorgraadse teologiese opleiding nie. Ek het ook weens ander diensverskaffers wat reeds in die mark bepaalde aanbiedinge vir pastoraal terapeutiese opleiding gemaak het, ondervind dat daar 'n al hoe groter wordende vraag van lidmate na pastoraal terapeutiese opleiding was.

 

4. ONTWIKKELING - 'N STORIE WAT GROEI!

In die ontwikkeling van nuwe verhale wat groei, word voortdurend ruimte gelaat vir nuwe verhale wat vanuit die bestaande kan ontwikkel. Müller, Van Deventer & Human (2001:92) wys tereg daarop dat

Taking into consideration that it is not only about storytelling, but also about story development, we are constantly looking and waiting for new, better stories to develop.

Dié konstante soeke en naspeur van moontlike ontwikkelings en wat moontlik kan aanleiding gee tot nuwe verhale, word tereg gevind in die volgende fragmente van die twee gespreksgenote:

Gespreksgenoot 1 vertel:

Met my agtergrond as maatskaplike werker het die NG Kerk se Ring van Kroonstad my as pastorale terapeut aangestel om die spreekkamer te hanteer. 'n Kantoor by die NG Kerk Kroonstad-Oos is tot my beskikking gestel waar ek persone met 'n verskeidenheid van probleme ondersteun. Dit was duidelik dat baie van die gespreksgenote verlies ervaar het en na my eie persoonlike verlies van geliefdes het dit my aangespoor om in te skryf vir doktorale studie. Ek het in 2010 'n PhD.-proefskrif ingehandig met die pastorale hantering van verlies as tema.

Oók gespreksgenoot 2 se verhaal vertoon bepaalde ooreenstemmende dinamiese ontwikkelings as sy vertel:

Die NG Kerk Ring te Kroonstad het my as pastorale terapeut aangestel en was ek by twee hoërskole en die munisipale kliniek betrokke. Ook in my betrokkenheid by die privaat sektor in die hoedanigheid as welsynskonsultant het ek hoofsaaklik op werksplek-spiritualiteit gefokus wat tot die verwerwing van 'n PhD met 'n verskuifde klem na spirituele lewenstyl-afrigting, gelei het.

Uit dié voorafgaande verhaal fragmente van die twee gespreksgenote word die beweging tussen praktyk en teorie in bepaalde professionele ontwikkeling inderdaad ook ondersteun deur teoretiese navorsing. Dit dui daarop dat die klem van 'n aanvanklike kerugmaties- en terapeutiese benadering in die pastoraat, tans verskuif het na 'n hermeneutiese verstaan waarin 'n ryk beskrywing van "... plausible forms of interdisciplinary dialogue" (Demasure & Müller 2006:418) geakkommodeer word.

Dié soeke na 'n relevante kontekstuele aanbieding is ook in die program samestelling en aanbieding vergestalt. Die programleier reflekteer as volg op hoe daar in die aanspreek van die aksente bepaalde ontwikkelings in die program geakkommodeer is:

Met die hulp van aanvanklike befondsing deur die Direktoraat Samelewingsdiensleer aan die Universiteit van die Vrystaat is een en later twee Diensleer-modules in die pastorale terapie program ontwikkel en gevestig. Deur die vestiging van dié twee Diensleer-modules, naamlik Siekepastoraat en Pastoraat aan wetsoortreders en slagoffers van misdaad, is bepaalde ontwikkelings in die Hoër Onderwys omgewing in Suid-Afrika aangespreek (Van den Berg, 2006: 697-707). Studente kon nou, as deel van vennootskappe wat deur die Universiteit met diensverskaffers gesluit is en as deel van die akademiese programinhoud, 'n aktiewe rol speel en bydrae in die gemeenskap lewer. Dit is in hierdie betrokkenheid by die ander dat "Leren voltrekt zich ... in de 'zone van naaste ontwikkeling'. Deze zone kan worden gekarakteriseerd als een handelingsruimte, een sociale ruimte en culturele ruimte" (Hermans 2002:233). Die waarde wat die navorsing aan die program verleen verdiskonteer bestaande aksente in tersiêre teologiese onderrig in moontlike nuwe perspektiewe vir die toekomstige plasing van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit wat moontlik kan lei tot "An integrated approach to pastoral care and education" (Foskett & Lyall 1988:6). In die Siekepastoraat-diensleer module het studente, onder leiding van Dr. Jeannette Steyn, geleentheid gekry om in 'n verskeidenheid van kontekste toegerus te word vir pastorale werk met pasiënte met onder meer terminale siekte en persone geïnfekteer en geaffekteer deur MIV en/of VIGS. In die tweede Diensleer-module vir wetsoortreders en slagoffers van misdaad het studente weer blootstelling gekry aan die besondere werk by een van twee privaat maksimum sekuriteit gevangenisse in die land, naamlik die Mangaung Correctional Centre. Onder leiding van Dr. Dawid Kuyler, is studente nie net blootstelling gebied aan pastoraat aan die wetsoortreder nie, maar is hulle ook bemagtig om deur middel van werkswinkels in die gemeenskap, perspektiewe vir slagoffers van misdaad aan te bied. Al voorafgaande perspektiewe is sterk geïnformeer deur beginsels onderliggend aan narratiewe terapie (Freedman & Combs 1996:14-33) en is gefasiliteer deur dr. Johan Nel. Die metodologiese beginsels wat geassosieer word met Diensleer het inderdaad ook baie goed hierby aangesluit. Mullen & Kochan & Funk (1999:30) som dié passing goed op deur te sê: "Our action research accounts are dedicated to story forms of narrative inquiry; shared knowledge creation and stimulating communication; coauthored forms of writing that promote co-mentoring or collaborative learning; and activism for personal and social change."

Ten einde aan te toon hoe dié ontwikkelinge binne die nagraadse programme in pastorale terapie geakkommodeer is asook die implikasies vir die praktyk, word daar vervolgens binne die narratiewe ABDCE-navorsingsmodel gefokus op die moment van klimaks.

 

5. 'N HOOGTEPUNT IN DIE VERHAAL

Met die narratiewe navorsings-moment van klimaks word die samevloei van 'n proses veronderstel waarin "... everything comes together in the climax, after which things are different for the main characters, different in some real way" (Lamott 1995:62). Ten einde aan te dui op watter wyse die klimaks in die gedokumenteerde verhaal van die nagraadse pastorale terapie program aan die Universiteit van die Vrystaat vergestalt is, word die volgende verhaal-fragmente aangedui:

Vanuit gespreksgenoot 2 se verhaal word enersyds die dringendheid van die soeke tot statutêre erkenning van die pastorale terapeutiese (terapie) kwalifikasie gehoor, maar terselfdertyd die groter wordende behoefte wat vir pastoraal terapeutiese dienste in die gemeenskap bestaan:

In die praktyk op gemeenskapsvlak, sowel as in die privaat sektor, blyk dit dat 'n behoefte na pastorale leiding bestaan. Dit raak toenemend vir individue belangrik om hul probleem-deurdrenkte storie binne die groter konteks van 'n sinvolle lewe te kan verstaan. Individue streef spiritueel na 'n eenheidservaring met hom- of haarself, werk- en verhoudingsnetwerke, sowel as die alledaagse lewe. Dit is hier waar pastorale terapie 'n bydrae lewer deur persoonlike stories binne die groter raamwerk van God se storie te plaas in 'n poging om sinvol met eksistensiële kwessies te handel. Dit is daarom vir my van noodsaaklike belang dat my kwalifikasie in pastorale terapie statutêre erkenning sal geniet ten einde die diens aan 'n breë gemeenskap te lewer.

Aansluitend hierby vertel die programleier van die uitdagende, maar ook problematiese konteks waarteen die pastorale programme ontwikkel is:

Alhoewel dit duidelik is dat die Suid-Afrikaanse gemeenskap enersyds 'n groot behoefte het aan die dienste van pastorale terapeute en andersyds dat daar ook 'n groot behoefte bestaan onder lede van die publiek om opgelei te word as pastorale terapeute, is daar bepaalde uitdagings wat verdiskonteer moet word met die oog op die toekoms.

Tans is daar nie statutêre erkenning vir pastorale terapeute in Suid-Afrika nie en dit kan uiteraard as 'n beswarende faktor gereken word met 'n inhiberende invloed op dié verdere ontwikkeling van onder meer akademiese programme van pastorale terapie. Dié problematiek is einde 2007 verder beklemtoon toe landswyd kommer geheers het oor die toekomstige statutêre posisie van pastorale terapie na die publisering van wetgewing oor die eksklusiewe reg van sielkundige terapie (Staatskoerant, 19 Oktober 2007, no. 30374 9). Die professionele domein wat hierdeur veronderstel word is reeds heelwat vroeër deur Van Arkel (1999:89) aangedui as "... the issue of the professionalization of pastoral counselling ... which places pastoral counselling in the public sphere where other health professionals also operate."

In identifisering van dié uitdaging het ek as deel van 'n werksopdrag in die Magister program in Toekomsstudie ondersoek ingestel na die statutêre erkenning van en funksionering van die pastorale terapie -kwalifikasie aan Suid-Afrikaanse Universiteite (Van den Berg 2008:136). 'n Paneel van ongeveer 7 kundige persone wat landswyd direk betrokke is by die dosering van pastorale terapie programme aan die Universiteite van die Vrystaat, Stellenbosch, Pretoria, Noordwes en Unisa het deel uitgemaak van die ondersoek wat geadministreer is aan die hand van die Delphi - navorsingsmetode. Deelnemers was eenstemmig daaroor dat alhoewel die kwalifikasie steeds gewild is en baie individue dit vir persoonlike verryking neem, wel wetende dat hulle nie statutêre erkenning as pastorale terapeute kan verkry nie, daar tog bekommernis is dat indien die amptelike status van die kwalifikasie nie sou verander nie, die gevaar mag bestaan dat pastorale terapie slegs beoefen word ter wille van selfontwikkeling en moontlike naaste-diens. Alhoewel die moontlikheid bestaan dat pastorale terapeute privaat kan praktiseer is hulle egter blootgestel. Daar is geen wetlike beskerming nie en uitgawes kan dus ook nie vanuit mediese fondse verhaal word nie. Indien die pastorale terapie kwalifikasie statutêr erken word kan 'n sinvolle bydrae gelewer word in die publieke mark soos byvoorbeeld die onderwys en die terrein van menslike hulpbronbestuur. Ten einde dit te bereik sal die kwalifikasie moet her-posisioneer te midde van die veelheid/ diversiteit van "beradings" wat tans beskikbaar en populêr is. Om dit te bereik sal 'n multi-departementele en fakultêre benadering gevolg moet word.

Uiteraard is dié perspektiewe belangrik in die verdiskontering van die bestaande funksionering van die program asook moontlike verdere ontwikkelings. Deelnemers wys onder meer daarop dat daar 'n groot gaping is tussen wat in die praktyk gebeur en die behoeftes van gemeenskappe enersyds en andersyds die wetlike bepalinge wat pastorale terapeute nie erken nie, maar wel tradisionele genesers. SAAP (Southern African Association of Pastoral Counseling) het 'n reuse taak verrig om standaarde te stel en as 'n soort "waghond" op te tree en moet daarmee gelukgewens word, maar tans is daar nog geen sigbare resultate in die pogings tot statutêre erkenning nie.

'n Duidelike alternatief vir die problematiese scenario wat hierbo geskets is, word gebied in die fragment van die eerste gespreksgenoot:

Die NG Kerk Ring van Kroonstad lewer 'n gemeenskapsdiens aangesien die pastorale terapeut enige persoon in die gemeenskap kan ondersteun, ongeag sy/haar kerkverband. Die pastorale terapeutiese diens is beskikbaar vir almal in die gemeenskap en daar word nie 'n fooi gehef nie. Dit strek selfs oor kleur- en kultuur grense heen. Dit is duidelik uit die verhale van die gespreksgenote dat meeste van hulle 'n behoefte het aan 'n ondersteuning maar dat hulle nie finansieel daartoe in staat is om te kan betaal nie. Die kostes kan ook nie van 'n fonds verhaal word nie aangesien pastorale terapeute nêrens statutêr geregistreer kan word nie. Meeste van betrokkenes beskik ook nie oor genoegsame fondse om 'n sielkundige te spreek nie, daarom is die diens wat deur die Ring aangebied word baie waardevol.

Alhoewel dit vanuit bogenoemde fragmente duidelik is dat individu en organisasies soos byvoorbeeld die South African Association of Pastoral Counselling 'n belangrike bydrae lewer in die statutêre erkenning van pastorale terapie, is die soeke na bepaalde alternatiewe ook noodsaaklik. In die verhaal van die afgestudeerde gespreksgenote bestaan alternatiewe moontlikhede waarin 'n ruimte vir die praktisering en toesig tot werk deur die plaaslike kerklike ring gebied word. Ironies genoeg strek die dienslewering egter véél wyer as net die denominasionele grense van die betrokke ring en word die gemeenskap in breë verband gedien. Binne dié bepaalde model is nuwe moontlikhede tot 'n vernuwende praktisering van pastorale terapie moontlik.

 

6. 'N EINDE AAN DIE VERHAAL?

Die veronderstelde einde van die gedokumenteerde ABDCE-navorsings-model veronderstel nie 'n punt nie, eerder as wat dit 'n komma-punt impliseer wat voorspruitende ondersoeke veronderstel vanuit dié reeds bestaande perspektiewe. Vanuit dié fragmente van die verskillende gespreksgenote met meegaande teoretiese aksente kan die volgende perspektiewe gebied word:

In dié beweging weg van alleenlik die eksklusiewe professionalisering van die amp van die predikant tot die ontwikkeling van die dienskarakter van alle gelowiges word nuwe teologiese aksente gekaart. Hieroor skryf Foskett & Lyall (1988:101) tereg:

We shall affirm a theology and practice of ministry which does not see the ordained ministry as exercising a kind of pastoral care different in nature and isolated from the ministry of the whole people of God. Yet at the same time it recognizes the distinctive contribution of an ordained and /or commissioned ministry within the life of the Church. There is one ministry shared by 'ministry' and 'laity'.

Ook in Afrika, met 'n sterk klem op die sogenaamde Ubuntu-diskoers wat betekenis in verhoudinge sien word dié klanke geresoneer dat alle lidmate geroep word tot 'n bepaalde mate van teologiese geletterdheid (Nel 2005:473). Dié insigte het ook alreeds tot die bewussyn van die Kerk gedring as sinodes kennis neem van "... 'n toenemende behoefte vir 'n spesiale opleidingsprogram vir persone wat reeds universiteitsagtergrond het" (Nederduits Gereformeerde Kerk 2005:264). Op akademiese vlak wil dit blyk dat die ontwikkeling van praktiese teologie veral hierin 'n belangrike rol gespeel het. Hieroor skryf Foskett & Lyall (1988:6) reeds vroeër dat

At the academic level has come the development of Practical and Pastoral Theology. From lay ministry courses to university diplomas in Pastoral Studies, more and more people have entered into the intellectual task of relating faith and life to one another, and the applying the fruits of that integration to the practice of ministry in contemporary society.

Gemeet dié perspektiewe sal een van die konkrete moontlikhede waaroor verder ondersoek ingestel moet word, die naam "pastorale terapie" moet wees. Behalwe vir die feit dat die woord "terapie" 'n sterk genuanseerde professionele karakter dra, is dié woord in die Suid-Afrikaanse statutêre omgewing kontensieus en word eienaarskap hiervan voortdurend binne professionele omgewings betwis. Die Hoër Onderwys sektor verantwoordelik vir administrasie en opleiding, sowel as professionele organisasies tesame met persone in die praktyk sal inderdaad 'n positiewe bydrae lewer tot dié debat as moontlike alternatiewe vir die geykte "pastorale terapie"-benaming gevind kan word. Met die voorafgaande verhale van die twee afgestudeerde studente in dié artikel as agtergrond, kan moontlike alternatiewe soos "pastorale konsultant" of "pastorale lewenstyl-afrigter" alreeds 'n bydrae tot die gesprek lewer.

'n Tweede perspektief word gevind in 'n wêreld waarin die gegewe erken word dat lewenslange leer 'n integrale deel van die individu se lewe is (Mullen & Kealy 1999:187). In die veronderstelling dat leer onder andere beteken om met nuwe ervarings gekonfronteer te word wat verandering kan fasiliteer (Ward 2005:3-4) realiseer dit

... life long and ongoing in cycles of action and reflection, in response to fresh questions that are new and unknown to us and that we seek to resolve (Zuber-Skerritt 2003: 356).

Binne 'n pastorale konteks verleen dit uiteraard verdere dinamika en betekenis aan die onderlinge versorging van gelowiges.

Word bogenoemde in ag geneem, kan die ontwikkelings in die nagraadse pastorale terapie programme in die Departement Praktiese Teologie as ruimte gesien word vir enersyds die verwesenliking van werkbare moontlikhede, maar ook van toekomstige en verdere ontwikkelinge. Van die nuwe ontwikkelinge word onder meer beliggaam in die nuut ontwikkelde nagraadse Theologia Praxis-programme waarin Honneurs-en Magisterstudente nie net geleentheid kry om in die pastorale terapie te spesialiseer nie, maar ook bepaalde keuses te maak ten opsigte van ander vakke in ander programme en ter bevordering van interdissiplinêre werk en verdere loopbaanontwikkeling (Fakulteit Teologie Jaarboek 2013). Gemeet die uitdagings van enersyds statutêre erkenning en andersyds dringende behoeftes in die Suid-Afrikaanse gemeenskap, mag dié nuwe ontwikkelings 'n relevante bydrae lewer tot die verdere re-konfigurasie van pastorale terapie in 'n nuwe era.

 

BIBLIOGRAFIE

Browning, D. S. 1991. A fundamental practical theology. Descriptive and strategic proposals. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Demasure, K. & Müller, J. 2006. Perspectives in support of the narrative turn in pastoral care. Ned Geref Teologiese Tydskrif 47(3-4):410-419.         [ Links ]

Dominian, J. 2004. Living Love. Restoring hope in the church. London: Darton, Longman and Todd Ltd.         [ Links ]

Fakulteit Teologie. 2006. Jaarboek. 2006. Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Fakulteit Teologie. 2013. Jaarboek 2013. Universiteit van die Vrystaat.         [ Links ]

Foskett, J. & Lyall, D. 1988. Helping the helpers. Supervision and pastoral care. Great Britain: Courier International Ltd. Tiptree.         [ Links ]

Freedman, J. & Combs, G 1996. Narrative therapy. The social construction of preferred realities. New York: W W Norton & Company.         [ Links ]

Hermans, C. 2002. Betekenis: Reflecties op een centrale categorie in religieuze vorming. In: C.A.M. Hermans (ed.) Participerend leren in debat. Kritische reflectie op grondslagen van religieuze vorming. (Budel: Uitgeverij Damon),pp. 233-255.         [ Links ]

Lamott, A. 1995. Bird by bird. Some instructions on writing and life. New York: Anchor Books.         [ Links ]

Louw, D.J. 1999. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

Louw, D.J. 2008. Cura Vitae. Illness and the healing of life in pastoral care and couselling. A guide for caregivers. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

McClure, B. 2012. Pastoral care. In: Bonnie J. Miller-McLemore (ed.) The Wiley-Blackwell companion to Practical Theology. (Oxford: Wiley-Blackwell), pp. 269-278.         [ Links ]

Mullen, CA. & Kochan, F.K. & Funk, F.F. 1999. Adventures in mentoring: Moving from individual sojourners to traveling companions. In: Carol A Mullen & Dale W Lick (eds.) New directions in Mentoring. creating a culture of synergy. (London: Falmer Press), pp.18-33.         [ Links ]

Mullen, CA. & Kealy, W.A. 1999. Lifelong mentoring: The creation of learning relationships. In: Carol A. Mullen & Dale W. Lick. (eds.) New directions in Mentoring. Creating a culture of synergy. (London: Falmer Press), pp. 187-199.         [ Links ]

Müller, j. C.; Van Deventer, W. & Human, L 2001. Fiction writing as metaphor for research: A narrative approach. Practical Theology in South Africa 16(2):76-96.         [ Links ]

Müller, J. 2005. A postfoundationalist HIV-positive practical theology. Praktiese Teologie in Suid-Afrika. 20(2):72-88.         [ Links ]

Müller, J. 2009. Transversal rationality as a practical way of doing interdisciplinary work, with HIV and Aids as a case study. Practical Theology in South Africa. 24(2): 199-228.         [ Links ]

Müller, J. & Laas, J. 2008. Die essensie van die narratiewe pastoraat. [Aanlyn] Verkry vanaf http://www.julianmuller.co.za/In-Scientific-Journals/View-category/Page-3.html (16 April 2012).         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk In Die Vrystaat. 2005. Agenda van die 50ste Vergadering van die Sinode van die Ned Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat. Bloemfontein:263-264.         [ Links ]

Nel, M. 2005. Publieke pastorale leiers 2: Roeping, werwing, keuring, opleiding en ordening. Verbum et Ecclesia, 26(2):459-506.         [ Links ]

Osmer, R. 2008. Practical Theology. An introduction. Grand Rapids: Wm B. Eerdmans.         [ Links ]

Robbins, S.P. 2001. Organizational behaviour. Ninth edition. New Jersey: Prentice-Hall, Inc.         [ Links ]

Smith, T.A. 2012. Theories of practice. In: Bonnie J. Miller-McLemore (ed.) The Wiley-Blackwell companion to Practical Theology. (Oxford: Blackwell Publishing), pp. 244-254.         [ Links ]

Staatskoerant 19 Oktober 2007. No. 30374 9. Republiek van Suid-Afrika.         [ Links ]

Van Arkel, J. De Jongh. 1999. The professionalization of pastoral counselling? An effort to define the issues. Practical Theology in South Africa 14(2):88-111.         [ Links ]

Van Den Berg, J.A. 2006. Service learning in theological education. Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 47(3-4):697-707.         [ Links ]

Van Den Berg, J.A. 2008. Die verwagte toekoms van die pastorale terapie kwalifikasie aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. 'n Kwalitatiewe ondersoek gebaseer op die Delphi-metode. Kwalitatiewe- en kwantitatiewe toekoms navorsings metodes. Ongepubliseerde M Phil verhandeling in Toekomstudies. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.         [ Links ]

Van Der Westhuizen, Z. 2010. Transversality and interdisciplinary discussion in postfoundational practical theology - reflecting on Julian Müller's interdisciplinary guidelines. HTS Teologiese Studies/Theological Studies. 66(2): Art. #910. 5 pages. [Online] Retrieved from http://www.hts.org.za/index.php/HTS/article/viewFile/910/942. [22 November 2012].         [ Links ]

Ward, F. 2005. Lifelong learning. Theological education and supervision. London: SCM Press.         [ Links ]

Zuber-Skerritt, O. 2003. Action Learning & Action Research in Higher Education: A framework for professional & organisational development. In: S. Speedy (ed.) Women using action learning & action research: The South African context, (Lismore: Southern Cross University Press), pp. 337-367.         [ Links ]

 

 

1 Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat.
2 Die akroniem ABDCE in dié betrokke model is ter aanduiding van vyf moontlike bewegings in narratiewe navorsing naamlik: Action, Background, Development, Climax en Ending (Müller, Van Deventer & Human 2001: 76-96)

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License