SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.34 número1Cyril of Alexandria speaks for God in his interpretation of the Holy BibleThe garden of love: some orthodox perspectives on the Spirit and the Church índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.34 no.1 Bloemfontein Jan. 2014

 

Pastorale begeleiding van die emosioneel verwonde tiener

 

Pastoral counseling of the emotionally wounded teenager

 

 

W. CoetzerI; T.C. De KlerkII

IProf. Noordwes Universiteit Suid-Afrika, E-pos: wentzel7@mweb.co.za
IIDr. Noordwes Universiteit, E-pos: tcdk@iway.na

 

 


Trefwoorde: Tiener, Emosionele verwonding, Pastorale begeleiding


ABSTRACT

Many teenagers struggle with the consequences of emotional injuries. Simultaneously they are moving through the difficult phase of adolescence which may complicate their situation. In this article the first focus is the typical factors which compound the difficulties in this phase. Secondly we focus on a variety of possible causes of emotional injury. The results and consequences of such injuries form the third issue investigated. In the last instance attention is given to some pastoral-theological points of departure concerning counselling of emotionally injured young people. To these young people their frame of reference is influenced by amongst other things their families, school, church and friends. To experience real meaning in life the teenager's relationship with God has to be healed, for this relationship determines all other inter-personal relationships. The spiritual deepening accompanying this process often also significantly contributes to the eventual handling of unprocessed hurt from the past.

Keywords: Teen, Emotional woundedness, Pastoral guidance


 

 

1. PROBLEEMSTELLING EN METODOLOGIESE UITGANGSPUNT

Die probleemstelling wat in hierdie artikel ondersoek word, hou verband met die moontlike oorsake en gevolge van die emosionele verwonding van tieners.1 Daar sal gevolglik gepoog word om aan te dui in watter mate pastoraal-teologiese vertrekpunte 'n terapeutiese rol kan vervul in die begeleiding van die emosioneel verwonde tiener. Rondom hierdie tema word daar enersyds gefokus op bydraes vanuit die aangrensende wetenskappe, en andersyds vanuit die pastorale teologie in die breë. Laastens word 'n aantal pastoraal-teologiese vertrekpunte aan die orde gestel.

 

2. STRUIKELBLOKKE IN DIE VERSTAAN VAN DIE TIENER

In 2 Tim 2:22 waarsku Paulus: "Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid". Volgens Tripp (1997:16) is hierdie opdrag van Paulus aan Timoteus nuttig in die sin dat dit help om die tipiese stryd van die jeug te bepaal en te omskryf. Die "begeerlikhede" is daarop gerig om die tiener te laat glo dat identiteit, betekenis en doel eerder in die skepsel as in die Skepper gevind word. Die tienerfase word oorspoel deur vrae soos: Wie is ek? Lyk ek goed? Hoekom is die lewe so verwarrend? Wat is reg en wat is verkeerd? Wie is reg en wie is verkeerd? Wat gebeur met my liggaam? Wat gaan ek met my lewe doen? Sal ek slaag of misluk? Hou mense werklik van my? Is ek normaal? Is daar werklik 'n God? (Tripp 1997:16). Wanneer hierdie vrae nie sinvol beantwoord word nie, veroorsaak dit emosionele wonde wat 'n invloed het op die sin en vreugde van die jongmens (Arterburn 2005:74).

Steyn en Lotter (2006:535) vestig ook die aandag daarop dat veranderende tendense in die wêreld 'n verdere negatiewe invloed op jongmense en spesifiek op interpersoonlike verhoudings uitoefen.2 Verder kan ook nog bygevoeg word die isolerende impak van die moderne sosiale media soos Facebook, Twitter, Myspace, Yourspace, kletskamers op die Internet, ens. (Gregston 2011).

2.1 Probleemareas by die gemiddelde tiener

Cochran en Richardson (2011:216) in aansluiting by Tripp (1997:76), wys vanuit die eerste sewe hoofstukke van Spreuke op die volgende probleem-areas in die denke van die tiener:3

Tieners het geen behoefte aan dieper wysheid of teregwysing nie.

Tieners is geneig om die grense te toets.

In die keuse van vriende tree tieners dikwels sonder wysheid op.

Die lewe hier en nou is vir die tiener belangrik.

Kinnaman (2007:143) toon in sy navorsing aan dat dit vir die tiener aanvaarbaar is om anders en onafhanklik te wees en dat hulle verkies dat hulle lewens nie gedefinieer moet word as 'n "normale" lewenstyl nie. Tieners is geneig om alles te wil bespreek, debatteer en te bevraagteken. Hulle beleef daarom dikwels hul ouers en ander outoriteit figure as persone vir wie dit meer gaan oor wat reg is, as wat daar 'n bereidheid is om te luister (Kinnaman 2007:312).

2.2 Soms in reaksie teen gesag en meerdere wysheid

Tripp en Tripp (2008:83) wys daarop dat daar in die samelewing al meer verwarring is oor die uitoefening van gesag. Vir die tiener impliseer mag die vermoë om ander te beheer. Hulle neig dus om skepties te wees teenoor gesag (Kinnaman 2007:184). Hulle vra nie maklik na raad wat gebaseer is op hul ouers se wysheid nie. Hulle sal dikwels die ouers se raad of teregwysing sien as 'n aanklag dat hulle misluk het en dan is hulle reaksie dié van of veg of vlug.

2.3 Die tiener toets grense

Tieners is geneig om grense te toets. Dit hou byvoorbeeld verband met aspekte soos tyd, kleredrag, taalgebruik, gesag, spandering, en keuse van vriende. Hierdie uitdagende houding word volgens Farley (2009:167) gemotiveer deur hul begeerte na mag. Die algemene reël in die hantering van hierdie tipe gedrag is dat hoe meer die klem val op reëls en regulasies ten koste van verhouding, hoe meer word daar verval in selfregverdiging en innerlike rebelsheid (Cloud & Townsend 2002:180).

2.4 Vriende oefen 'n groot invloed uit

De Vries (1994:36) beklemtoon die feit dat tieners al meer tye alleen is en gevolglik relatief min kontak met volwassenes het. Dit maak hulle uiteraard al meer kwesbaar vir die feit dat hul selfbeeld en selfwaarde oor die algemeen op die mees onstabiele pilare van bestaan, naamlik die aanvaarding deur die portuurgroep, berus (Wright 2011:386). Dikwels moet daar op 'n later stadium in so 'n jongmens se lewe van verskeie strategieë en tegnieke gebruik gemaak word ten einde die pyn van gebroke en verkeerde vriendskappe te heel. Volgens Lane (2006:10) word daar egter veels te min voorkomend gefokus op die bou van goeie verhoudings.

2.5 'n Beperkte toekomsperspektief

Daar word oor die algemeen nie veel aandag aan die toekoms gegee nie aangesien die tiener geneig is om meer gefokus te wees op die hier en die nou. Hulle raak maklik vasgevang deur 'n gees van materialisme met die kernboodskap dat die suksesvolle persoon die een is met die grootste skatkamers (Cochran & Richardson 2011:214). Tripp (1997:88) verwoord hierdie probleem soos volg:

You are the labels that you wear. You are your body size. You are your intelligence. You are your athletic ability. You are the car you drive. You are the house you live in. You are the popularity that you have.

Die boodskap van die tyd is dat die toekoms moeilik is en dat die wêreld polities, ekonomies en maatskaplik in 'n stryd om oorlewing betrokke is (Hart 1992:239) en gevolglik sal tieners toegerus moet word ten einde die eise van die tyd te kan hanteer.4

2.6 'n Belangrike Bybelse riglyn

Teen die agtergrond van die vermelde probleemareas bied Spr 4:23 'n belangrike riglyn: "Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe." Ouers is geroepe om nie slegs leiding te gee ten opsigte van tieners se gedrag nie, maar ook wat betref hul hartsgesindheid. Gedrag wat die gevolg is van grondige hartsverandering is gedrag wat die toets sal slaag. "A change in behaviour that does not stem from a change in heart is not commendable, it is condemnable" (Tripp 2012:11).

 

3. OORSAKE VAN EMOSIONELE VERWONDING BY DIE TIENER

3.1 Die invloed van die huidige postmoderne fase

Die huidige postmoderne fase het noodwendig sekere tendense tot gevolg wat emosioneel negatief op die tiener inwerk. Hier gaan dit byvoorbeeld om aspekte soos die volgende: alles word bevraagteken; alles is relatief omdat niks seker is nie; allerlei godsdienstige ideologieë word verwelkom; strukture verbrokkel; die kreet van die tyd is, "If it feels good, do it!" (Venter 2004:53; vgl. ook Steyn & Lotter 2006:536; Pratt 2011:1).

3.2 Tradisionele gesinstrukture aan die verbrokkel

Tieners bevind hulself in 'n fase waar hulle soek na identiteit en volgens Parrot en Parrot (2002: 563) soek hulle onder andere hul identiteit op die terrein van gesinsverhoudinge. Die tragiese is egter dat tradisionele gesinstrukture aan die verbrokkel is. MacArthur (1998a:5) se opmerking: "We may be watching the death of the germ-cell of all civilization, the family", word tien jaar later deur Lane (2008:10) herbevestig met die stelling dat die oorwegende oorsaak vir hierdie ineenstorting van die gesin, is die miskenning van wat God se bedoeling met die gesin was.

3.3 Leë emosionele tenks veroorsaak 'n liefdes honger

Die onvoorwaardelike liefde wat ouers van voor geboorte af reeds aan hul kinders gee, waarborg gevoelens van geborgenheid en sekuriteit.5 Wanneer hierdie liefde egter ontbreek, soek hierdie kind later na ander wyses om te kompenseer vir hierdie verlies. In hierdie verband is die beginsel van leë "emosionele tenks" waarna Hemfelt, Minirth en Meier (2003:34) verwys, besonder van toepassing (vgl. ook Coetzer 2007:18-22). Die liefdes honger wat daar by elke persoon is, kan voorgestel word deur 'n hartvormige "liefdestenk" (vgl. Fig. I). Pas na geboorte is hierdie liefdestenk nog redelik leeg. Hierdie tenk word dan in die loop van jare gevul vanuit die liefdestenks van die vader en moeder. Wanneer die kind se liefdestenk tydens hierdie vormingsjare volledig gevul word, is kinders dan weer in staat om húl kinders se tenks te vul.

 

 

Ouers se tenks moet egter self ook op 'n konstante basis gevul word en daarom moet daar enersyds tussen vader en moeder 'n gesonde verhouding wees, en andersyds tussen ouers en God. In Fig. II word daar in die voorstelling gevolglik 'n koppeling gemaak, enersyds tussen die twee ouers se tenks, en andersyds tussen die ouers en God. In die ouers se verhouding met mekaar moet daar wedersydse liefde en respek asook ware vriendskap wees terwyl hulle ook in 'n intieme verhouding met God moet staan. Wanneer ouers se tenks egter nie op hierdie wyse hervul kan word nie, dan is hulle ook nie ten volle in staat om hul kind se tenk te vul nie. In plaas daarvan dat die kind se tenk gevul word, vind die omgekeerde dan soms plaas wanneer 'n ouer vanuit die kind se tenk begin tap - die bietjie wat daar wel is. So 'n situasie word dan deur Hemfelt et al. v(2003:38) beskryf as 'emosionele bloedskande'.

 

 

3.4 Die verwaarlosing van gesinswaardes

In 'n navorsingsverslag met betrekking tot die wangedrag van leerders in die Vrystaat, Oos-Kaap en Vaaldriehoek is bevind dat pligsversuim, ontwrigtende gedrag, vloek- en leuentaal, onbeskoftheid en ander onbehoorlike gedrag vry algemeen voorkom (Wolhuter & Van Staden 2007:379). Hierdie hele proses hou in 'n groot mate verband met die aftakeling van waardes binne die gesin. Waardes moet geleer en gevestig word en dit begin in die gesin (Salzwedel 2006:99). Larney en Lotter (2005:661) beklemtoon die belangrike rol wat ouers vervul in die oordrag van etiese en morele waardes. In 'n studie oor dissipline in skole het De Klerk-Luttig en Heystek (2007:5) bevind dat dissipline afhanklik is van die kwaliteit van verhoudings.

3.5 Gesinne stel nie meer grense nie

Binne die sekulêre samelewing is grense besig is om al meer te vervaag en selfs plat te val. Grense help egter definieer wie die mens in hul verhoudings is en dit stel hierdie persoon ook in staat om beserings en skade te keer. As daar nie grense is nie, dan loop dit gewoonlik uit op emosionele pyn (Cloud & Townsend 2004:21). Soos reeds vermeld is tieners geneig om volwasse leierskap asook neergelegde grense te toets - dit moet getoets word en waardig geag word voordat dit aanvaar word (Farley 2009:167).6 Volgens Plowman (2003:118) wil kinders deur hul ouers gelei word, maar dan moet ouers die reg "verwerf" om dit te doen.

3.6 Die onsekere rolverdeling tussen man en vrou

Kinders in disfunksionele gesinne wat dikwels ook kerklik onbetrokke is, groei vandag in huise op waar daar nie duidelike rolmodelle is waarmee hulle kan identifiseer nie. Dit lei by sommige dan uiteindelik ook tot 'n onsekerheid ten opsigte van eie identiteit asook met betrekking tot die rolle wat hulle in die samelewing behoort te vervul (vgl. Freeks 2011:88).

Tieners se verhoudingslewe word gevorm deur die voorbeeld wat hulle sien in hul ouerhuis. Die uitlewing van die liefdesverhouding tussen pa en ma help die tiener om uiteindelik ook 'n gesonde verhouding met die teenoorgestelde geslag te bou. In hierdie verband beklemtoon Stinson (2011:75) in sy studie die belangrikheid van die pertinente rolle van man en vrou, omdat God hulle so geskep het. Hierdie skepping van man en vrou is bepalend met betrekking tot die begeleiding van tieners in hul worsteling om 'n eie identiteit te vorm. Dit geld soveel te meer indien so 'n tiener ook nog emosioneel verwond en verward sou wees. Binne 'n gesin waar daar verwarring is aangaande rolle word die tieners eintlik nie werklik blootgestel aan die verhouding tussen man en vrou nie en dan kan hierdie normale proses nie sy gang gaan nie (vgl. Trollinger 2007:9; Adams 1972:53; Van Niekerk 2005:48; Minirth, Meier & Ratcliff 1992:223-226).

3.7 Die probleem rondom werkdrukte by ouers

Daar is 'n al groter wordende tendens dat kinders daagliks vanaf die skool terugkeer na ongekontroleerde, ouerlose huise (MacArthur 1998a:8; Botma 2012:35; Freeks 2011:85). Daar is niemand met wie emosies gedeel kan word nie. Binne so 'n hipersensitiewe toestand is die tiener dan ook meer sensitief vir minder ernstige krisisse en probleme en hulle beleef gevolglik uitbarstings van woede en frustrasies oor nietighede (Clinton 2006:61). "Disconnected societies produce disconnected and lonely people" (Clinton 2006:65).7

3.8 'n Gebrek aan sin en lewensvreugde

Die vraag na die sin en doel van die lewe is 'n aktuele vraag vir talle tieners. Cochran en Richardson (2011:212) beklemtoon in hulle studie watter impak die ontwikkeling van die brein op die gedrag van die tiener het. Die gedeelte van die brein wat die vinnigste ontwikkel, raak die emosies. Die deel wat die stadigste ontwikkel, raak die logiese denke en besluitneming. Die deel van die brein wat dus bepalend is vir selfbeheersing, oordeel en rasionele denke is nog in ontwikkeling. Daarom die worsteling om sin te maak uit al die waaroms, en is daar 'n voortdurende soeke na wie hulle is.

Tripp en Tripp (2008:149) beklemtoon teen hierdie agtergrond dat ouers nie soseer op die gedrag behoort te fokus nie, maar wel op die "hart" en die denke van die tiener.

3.9 Skynheiligheid en 'n gebrek aan konsekwentheid

Skynheiligheid in die huisgesin is 'n tendens wat tieners kan verwar, veral waar ouers se optrede nie altyd in ooreenstemming is met hul woorde nie. Ouers wat byvoorbeeld leuens aan hul kinders vertel, veroorsaak onnoemlike skade (Rainer 2008:2). Konsekwente optrede is ook van kritiese belang in die opvoeding van kinders. In hierdie verband maak die Christen psigiaters Minirth et al. (1992:223) die volgende belangrike stelling:

Research has shown that emotional illness is not as closely related to the degree of discipline - the severity or leniency - as to inconsistency of its application (vgl. in hierdie verband ook Freeks 2011:177).

3.10 Die invloed van die digitale media

Rekenaars en selfone het die wêreld baie kleiner gemaak, want dit verskaf toegang tot alle inligting en tot mekaar. Volgens Kinnaman (2007:188) gee dit aan die tiener geleentheid om homself uit te druk en kreatief te wees. Terselfdertyd beleef die tiener die skielike ontploffing van sy wêreld - die wêreld is skielik so oorweldigend en skrikwekkend.

Die digitale en sosiale media beskik egter ook oor die potensiaal tot 'n negatiewe impak op die waardes van tieners. Hulle word gekonfronteer met die "grootmenswêreld" (Smith 2008:30). Hierdie ontwikkeling bring onsekerheid, want enersyds geniet die tiener hierdie vreugde van ontdekking, maar andersyds lei dit dikwels tot vrees en onttrekking, met dan dikwels 'n negatiewe impak op interpersoonlike verhoudings as een van die negatiewe gevolge van hierdie tegnologiese ontwikkeling (Hart & Frejd 2011; Gregston 2011; Cunningham 2011; McDowell 2011).

3.11 Die aftakelende gevolge van kinderjare trauma

Navorsing toon dat trauma sy mees vernietigende impak het gedurende die eerste tien jaar van die persoon se lewe. In die lig hiervan is die psigiater en traumatoloog, Dr. Bessel van der Kolk (2005:405), van mening dat die tipiese beskrywing van post-traumatiese stresversteuring meer van toepassing is op volwassenes en nie rekening hou met die verskillende ontwikkelingsfases waardeur kinders gaan nie. 'n Nuwe diagnose is gevolglik vir hierdie probleem deur Van der Kolk geformuleer, naamlik ontwikkelingstrauma versteuring. Van der Kolk en sy navorsingspan het gevind dat getraumatiseerde kinders geneig is om hul onverwerkte trauma deur hul gedrag uit te reageer, hetsy as oortreders (deur aggressie of deur seksuele uitreageer gedrag teenoor ander kinders) of in "gevriesde" vermyding reaksies. Die fisiologiese wanorde wat daar basies bestaan by die getraumatiseerde kind sou dan ook kon lei tot 'n verskeidenheid van fisiese probleme soos hoofpyne en maagpyne in reaksie op vreesagtige en hulpelose emosies.8

 

4. GEVOLGE VAN EMOSIONELE VERWONDING BY DIE TIENER

4.1 Versteurde verhoudings

Die tradisionele gesin is wêreldwyd besig om bedreig te word. As gevolg van die ekonomiese klimaat voer ouers 'n stryd om oorlewing. Ouers sien die "leef vir hulle kinders" as dat hulle finansieel vir hulle 'n toekoms moet skep, maar daardeur word baie skade berokken aan die emosionele toestand van die kinders. In hierdie verband stel Steyn en Lotter (2006:542) dit dat die afwesigheid van ouers as primêre rolmodelle 'n geweldige negatiewe effek op die morele vorming van jongmense het. Trent, Osborne en Bruner (2003:40) bevestig die belangrikheid van gesonde verhoudings wanneer hulle daarop wys dat tieners kan grootword in 'n goeie Christelike huis waar hulle 'n omvangryke geestelike erfenis ontvang het, maar steeds die waardes verwerp waarmee hulle opgevoed is. Dikwels is die rede dat die verhouding met een van die ouers nie was wat dit moes wees nie. Kinders neem ouerlike onderrig deur emosionele lense waar, en hierdie lense word omraam deur die gehalte van die ouer-kind-verhouding (Trent et al. 2003:41). Familietradisies het ook 'n waardevermindering ondergaan omdat dit nie inpas in die gees van die postmodernisme nie (Hughes 2004:36).

4.2 Verdraaide waardes

Die postmoderne gees met sy leuse: "If it feels good, do it!" lei in talle gevalle tot wanpraktyke soos onder andere dwelm- en drankmisbruik (Dobson 2004:154). Die gebrek aan waardes binne die Suid-Afrikaanse konteks is volgens Smith (2008:36) die oorsaak van die hoë vlak van geweld en misdaad in die land.9 In 'n onlangse verslag gepubliseer deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (Oosthuizen 2013) is daar gefokus op 20 227 leerlinge van graad 8 tot 10 vanuit al agt skool distrikte van die Wes-Kaap. Alhoewel sosio-ekonomiese faktore bydraend is tot die resultate speel die kwessie van waardes beslis ook 'n groot rol. Van die belangrikste resultate uit hierdie verslag is die volgende:

Meeste leerlinge het reeds ervaring gehad van alkohol, tabak en/of dagga.

Tien persent van diegene wat reeds alkohol gebruik het, het erken dat hulle gereeld alkoholiese drank gebruik.

Vier uit elke tien het erken dat hulle by tye oormatig drink ("binge drinking").

Van diegene wat reeds die rookgewoonte op die proef gestel het, het vier uit elke tien aangedui dat hulle reeds voor 13 jarige ouderdom daarmee begin het.

Dertig persent van hierdie leerlinge het daagliks gerook.

Een uit elke tien wat dagga probeer het, het reeds daarmee begin voor 13 jarige ouderdom, met ongeveer 30% wat dit daagliks rook.

Aan ongeveer 12% van die leerlinge is dwelms aangebied deur 'n lid van die gemeenskap gedurende die voorafgaande jaar, terwyl meer as 50% aangedui het dat hulle by geleentheid toeskouers was van die misbruik van dwelms.

Ongeveer 15% het gemeld dat hulle gedreig was deur bendes die voorafgaande jaar terwyl 10% aangedui het dat hulle lid is van 'n bende.

Tien persent van leerlinge het aangedui dat hulle afgeknou (geboelie) is gedurende die voorafgaande jaar en ook 10% het erken dat hulle ander leerlinge afgeknou het.

Veertig persent het aangedui dat hulle aanskou het waar iemand met 'n mes gesteek is en 25% het waargeneem waar daar op iemand geskiet is.

Sewe persent het aangedui dat hulle verkrag is en ongeveer 10% het aangedui dat hulle 'n verkragting aanskou het.

Oosthuizen (2013) wys ook op verskeie verdere studies met betrekking tot Suid-Afrikaanse jeug wat bevestig dat psigologiese trauma die uiteindelike gevolg is van blootstelling aan geweld. Blootstelling op 'n jong ouderdom aan geweld, hetsy as slagoffer of as ooggetuie, lei heel dikwels tot post-traumatiese stres versteuring, depressie en/of angs. Antisosiale en kriminele gedrag is dikwels 'n logiese uitvloeisel hiervan. Op hierdie wyse kring emosionele verwonding uiteindelik net verder en verder uit.

4.3 Verskuifde grense

Die tegnologiese ontwikkeling het onwillekeurig grensverskuiwinge tot gevolg aangesien die media beelde en fantasieë skep wat uiteindelik bepalend is met betrekking tot die denkwyse van tieners. Tieners is byvoorbeeld gedurig besig om hulself te vergelyk, want sekere "looks" word voorgehou as die volmaakte en ideale. Die wêreld het volgens Smith (2008:10) tans die sogenaamde "BBP"-standaarde (Beauty, Brains, Performance) waaraan almal en alles gemeet word. Uiteindelik lei so 'n lewe sonder vaste grense daartoe dat die jongmens ook God se grense kan ignoreer, veral indien daar ook emosionele verwonding is en die nodige begeleiding ontbreek.

4.4 Vrees

4.4.1 Vrees vir mislukking

Die vrees vir mislukking het heel dikwels 'n probleem soos perfeksionisme tot gevolg (McGee 1998:40). Daar word net op die saak waarin hulle misluk het, gefokus en in die proses word blydskap en kreatiwiteit gedemp. Die twyfel oor die sin en doel van die lewe in die lig van wie hulle vir God is, word deur so 'n handelswyse versterk (vgl. ook Gregston 2012:67).

4.4.2 Vrees vir verwerping

Die kind wat verwerping vanaf ouers ervaar, ontwikkel heel dikwels 'n vrees vir verwerping. Arterburn, Meier en Wise (2002:57) bespreek die volgende drie reaksies wat moontlik hieruit mag voortspruit:

'n Kompulsiewe reaksie om die afsydige ouer te plesier - die kind kan uiteindelik 'n werkoholis raak wat dan 'n besigheid bekom ten einde die ouer te probeer beïndruk, vanaf wie die verwerping kom. Die ouers het geen idee waarom hul kind so 'n harde werker is nie maar hul uitdrukking van goedkeuring motiveer die werkoholis om steeds meer prestasies na te jaag teen 'n al vinniger pas.

Mislukking - hierdie kinders gooi handdoek in en begin rebelleer. Ten einde hul vrees vir verwerping uit te kanselleer, begin hulle om die ouer wat hulle verwerp, teleur te stel, soms bewustelik en ander kere onbewustelik. Die gevolge is soms tragies.

Om 'n substituut te soek vir die ouer vanaf wie die verwerping kom -die vervanging van die ouer bring tydelike verligting vir die emosionele pyn, alhoewel die '"seleksie proses" 'n kompulsiewe gedrag skep wat lewenslange probleme kan aktiveer. Hierdie persoon kan die geneigdheid ontwikkel van 'n "broken people-picker", wat uitloop op talle pynvolle verhoudings wat basies maar net 'n weerspieëling is van die gebroke ouer-kind verhouding.

4.5 Eensaamheid en vervreemding

Wanneer tieners alleen voel met net hul onderdrukte woede en vrees, dan verloor hulle enige belewenis van veiligheid en sekuriteit. Eensaamheid druis in teen die skeppingsdoel van God met die mens. Die mens is 'n verhoudingswese en vind doel en sin daarin om opbouend mee te werk aan die groei van sigself en andere in hul verhouding met God. Om vanaf hierdie pyn te ontvlug, pleeg tieners soms selfmoord omdat iemand wat selfmoord oorweeg, alle hoop op 'n beter en sinvolle lewe verloor het (Clinton 2006:67).

4.6 Depressie

Wright (2011:392) toon aan dat verliese 'n besondere groot rol speel met betrekking tot depressie onder jongmense. Dit kan byvoorbeeld verband hou met verwerping deur 'n portuurgroep, 'n atletiek item waarin hy/sy verloor het, om op 16-jarige ouderdom draadjies in die tande te moet dra of die verlies van 'n troeteldier. Meier, Clements, Bertrand et al. (2005:81) verwys na omvattende navorsing onder 90 000 tieners waaruit geblyk het dat meer as 7% 'n selfmoordpoging aangewend het gedurende die voorafgaande jaar. Daar word ook aangedui dat die selfmoord syfer onder tieners met 75% toegeneem het gedurende die voorafgaande tien jaar. Gebaseer op vroeëre studies toon hierdie syfers volgens Meier et al. (2005:81) 'n 300% toename in vergelyking met 50 jaar vroeër.

Met betrekking tot Suid-Afrikaanse tieners wys Van Wyk (2014) op The National Youth Risk Survey wat aangedui het dat 21,4% van hoërskool leerlinge meer as een selfmoordpoging aangewend het. Uit hierdie verslag blyk dat 11,5% van die sterftesyfer onder tieners verband hou met selfmoord. In hierdie verband word Dr. Ancel George, 'n dosent in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, soos volg aangehaal:

Factors associated with increased risk are linked to poor parent-teenager relationships, stressful friendships, using ineffective coping strategies such as denial and substance indulgence, and as well as inability to effectively regulate their emotions.

 

5. PASTORAAL-TEOLOGIESE VERTREKPUNTE IN DIE BEGELEIDING VAN DIE EMOSIONEEL VERWONDE TIENER

Ps 128:1-4 beskryf die verskillende lede in 'n gesin soos God dit bestem het: wie hulle is, hoe hulle funksioneer, in watter verhouding hulle tot mekaar staan en hoe hulle bemagtig en gemotiveer word om die gesin te wees wat hulle is. Volgens hierdie psalm bestaan God se gesin uit verskillende lede, naamlik die "Godvresende vader", die moeder wat 'n "vrugbare wingerdstok" is en die kinders as "jong olyfboomplante" (De Klerk 2003:5).

5.1 Die belangrike rol van die vader

Meier en Ratcliff (1995:17,121) sluit aan by bovermelde Skrif gefundeerde waarheid wanneer hulle beklemtoon hoe belangrik die vaderfiguur in die persoonlike ontwikkeling van die kind is.10 Hulle toon aan dat vaderskap een van die vyf karaktertrekke van 'n gesonde gesin is (die ander is liefde, dissipline, konsekwentheid en voorbeeld). Die realiteit van die lewe toon egter ongelukkig dat daar 'n groot aantal vaders is wat nie hulle opdrag as vaders uitvoer nie. Die versuim om hulle opdrag uit te voer asook die kwessie van afwesige vaders het volgens Freeks (2004:2) uiteindelik problematiese implikasies vir die totale gemeenskap. In hierdie verband beklemtoon hy die belangrike rol van die vader as mentor in die oordra van waardes, en in besonder met betrekking tot die vertolking van die volgende vier rolle:

Leier

Mentor

Leermeester ("teacher") en dissiplinêre figuur

Rolmodel

Die waardes wat aan kinders oorgedra word, sluit onder andere die volgende in:

Godsdienstige waardes

Waardes aangaande goeie karakter

Opvoedkundige waardes

Etiese en morele waardes

Mentorskap word verder beskryf as 'n proses wat nooit eindig nie (Freeks 2011:220).

5.2 Die moeder bied geborgenheid en veiligheid

Ps 128:3 beskryf die moeder as "'n vrugbare wingerdstok". Dit hou die betekenis van oorvloed, waarde en voorspoed in (Jeremiah 2009:86). Die moeder het 'n baie belangrike verantwoordelikheid in die huis. Kinders wil versorg en vertroetel word en moeders vervul hierdie begeerte (Hawkey 2000:11). MacArthur (1998b:194) beklemtoon die feit dat die moeder nie 'n ondergeskikte rol in die huisgesin inneem nie aangesien die man wel die gesag in die gesin het, maar die vrou die invloed het. Sy is op 'n besondere wyse betrokke by die vorming van die kind van kleins af.

5.3 Kinders is unieke gawes van God

Ps 128:3 beskryf die kinders as "olyfboompies". Die gesin sluit kinders in, want dit is deel van die skeppingsopdrag (Gen 1:28) en daarom ook 'n voorreg en seën (Ps 127:3-5). Ouers het die opdrag om hul kinders in Hom te laat opgroei - tot eer van God en tot heil van die naaste: unieke, vrugbare olyfboomplante. In die uniekheid en kosbare waarde van die olyfboom word die uniekheid en die hoë verwagtings van kinders bevestig (De Klerk 2003:5). Soos die bome goed versorg moes word om potensiaal te verwesenlik, is dit dus net so belangrik om 'n omgewing en atmosfeer te skep wat bevorderlik is vir die ontwikkeling van 'n goddelike karakter en handelswyse.

Die kind is nie 'n kloning van die ouers nie - hulle het eie idees. Ouers word dus aangeraai om nie ontsteld te wees wanneer daar verskil van opinie is nie maar hulle behoort in liefde 'n ferm standpunt te handhaaf waar dit gaan oor ononderhandelbare beginsels. Kinders behoort egter vryheid binne die parameters van die Skrif gegun te word. Die uiteindelike doel is om die kind te laat opgroei as onafhanklike afhanklike van Christus en sy Woord (De Klerk 2003:6; Hawkey 2000:33).

5.4 Opvoeding impliseer 'n gesamentlike poging

Die aspek van opvoeding as 'n gesamentlike poging word deur Freeks (2011:220) soos volg beskryf:

The father should know that mentoring is teamwork where he, the mother and the rest of the extended family such as grandparents, uncles, aunts, guardians, are involved in the mentoring process (vgl. ook Botma 2012:86).

In hierdie proses is kwaliteit tyd van die uiterste belang aangesien die onderlinge band en vertroue daardeur gebou word (Welch 2010:5). Wat betref hierdie hele proses van opvoeding en onderrig waarin die ouers en ook andere betrokke is, onderskei Hawkey (2000:14) drie vlakke, naamlik instruksie, waarskuwing en korreksie:

Met instruksie word bedoel spesifieke voorskrifte oor wat toelaatbaar en nie toelaatbaar is nie. Hierdie duidelike grense word gestel deur voorbeeld en deur onderrig. Wanneer 'n kind sien dat daar werklike respek tussen pa en ma is, leer die kind om ander te respekteer.

'n Tweede vlak van onderrig is waarskuwing. Wanneer die kind buite die duidelike grense beweeg wat gestel word, moet daar gewaarsku word.

Die derde vlak van onderrig is korreksie. In hierdie opsig gee 'n Bybelboek soos Spreuke duidelike voorskrifte aangaande dissiplinering en korrigering. Die manier en die gesindheid waarmee hierdie dissiplinering geskied, speel 'n belangrike rol in die bou van verhoudings.

5.5 Onvoorwaardelike liefde

Kinnaman (2011:224) beskou die onsekere leeftyd fase van die tienerjare as 'n wonderlike geleentheid om hierdie jongmens te begelei tot 'n geborgenheid en veiligheid in God ten einde uiteindelik die werklike sin en betekenis van die lewe te kan beleef. Volgens Farley (2009:200) beskou talle ouers aspekte soos beskerming, huisvesting, voedsel, klere en opvoeding as genoegsaam in terme van tieners se behoeftes, terwyl onvoorwaardelike, opofferende liefde eintlik heel bo aan die lys moet wees. Hierdie onvoorwaardelike liefde skep volgens Hawkey (2000:8) 'n ruimte waarbinne die kind kan eksperimenteer en ontwikkel sonder vrees vir mislukking en straf. In so 'n ruimte beleef hulle ook dat hulle van waarde en nut is.

5.6 Handhawing van gesag

Respek vir gesag moet reeds van kleins af geleer word. Hierdie respek word volgens Plummer (2011:51) nie bereik deur met hardvogtigheid die wil van die kind te vorm nie, en ook nie deur gedurige dissiplinêre optrede of dreigemente en kritisering nie. Sulke optrede het die teendeel tot gevolg en sal uiteindelik die verhouding vernietig. Ingram (2003:24) wys daarop dat gehoorsaamheid aangeleer word wanneer die kind sy liefde, onderdanigheid en afhanklikheid vanaf die ouer uiteindelik na Jesus Christus oorgeplaas het. Die ouer het dus die verantwoordelikheid om die regte bronne aan die kind beskikbaar te stel om sodoende gehoor-saamheid aan te leer.

 

6. SAMEVATTING

Tieners is in 'n kwesbare fase en is op soek na 'n eie identiteit. Hierdie soeke begin in die eerste plek in hul verhouding met hul ouers. Wanneer hulle in die gesin nie veiligheid en geborgenheid beleef nie, soek hulle by vriende en portuurgroepe daardie erkenning. Dikwels veroorsaak hierdie verhoudings verdere emosionele pyn omdat die aanvaarding en erkenning deur maats wisselvallig is. Wanneer sin en vreugde nie in verhoudings beleef word nie, dan is hulle soms geneig om hulself te wend tot ander vorme van kompensering soos onder andere verskillende vorme van verslawing asook seksuele losbandigheid.

In die begeleiding van die tiener om sinvol en vreugdevol te leef, moet ouers hulle geestelik, emosioneel en fisies opvoed om tot die besef te kom dat die antwoord op die sin en doel van die lewe nie in mense en dinge lê nie, maar in God, hul Skepper. Goeie ouerskap lê nie noodwendig daarin dat jy alles reg doen nie, maar daarin dat die gesinslede bewus gemaak word dat hulle 'n behoefte aan 'n Verlosser het - Een wat hulle sondes sal vergewe. Ps 128:1-4 beskryf die verskillende lede in 'n gesin soos God dit bestem het: wie hulle is, hoe hulle funksioneer, in watter verhouding hulle tot mekaar staan en hoe hulle bemagtig en gemotiveer word om die gesin te wees wat hulle veronderstel is om te wees. Volgens hierdie psalm bestaan God se gesin uit verskillende lede, naamlik die "Godvresende vader", die moeder wat 'n "vrugbare wingerdstok" is en die kinders as "jong olyfboomplante". Tieners ontwikkel 'n beeld van God deur middel van hul ouers en in besonder die vader. Wanneer 'n vader nie fisies, emosioneel en geestelik betrokke by sy kind is nie, het dit 'n negatiewe invloed op die Godsbeeld van die kind. Tieners moet gevolglik fisies, emosioneel en geestelik toegerus word om sinvol en vreugdevol die lewe te geniet. Die tienerfase is 'n wonderlike geleentheid om sulke jongmense te begelei op al drie hierdie terreine tot 'n geborgenheid en veiligheid in God, ten einde uiteindelik die werklike sin en betekenis van die lewe te kan ervaar.

 

BIBLIOGRAFIE

Adams, J. E. 1972. Christian living in the home. New Jersey: Presbyterian and Reformed Publishing Company.         [ Links ]

Arterburn, S. 2005. Healing is a choice. Nashville, TN: Thomas Nelson.         [ Links ]

Arterburn, S., Meier, P. & Wise, R. L. 2002. Fear less for life. Nashville, TN: Thomas Nelson.         [ Links ]

Botma, E. C. 2012. Pastoral guidance for the spiritual development of the adolescents of Little Falls Christian Centre. Unpublished M.A. Dissertation. Potchefstroom: NWU.         [ Links ]

Bradshaw, J. 1996. Family secrets. New York, NY: Bantam Books.         [ Links ]

Clinton, T. 2006. Turn your life around. New York, NY: Faith Words.         [ Links ]

Cloud, H. & Townsend, J. 2002. Boundaries. Grand Rapids, MI: Zondervan.         [ Links ]

Cloud, H. & Townsend, J.2004. Grense mens tot mens. Kaapstad: Struik Christelike Boeke Bpk.         [ Links ]

Cochran, O. W. & Richardson, B. C. 2011. Why your child's brain needs family ministry. In: R. Stinson & T.P. Jones (eds.) Trained in the fear of God (Grand Rapids, Michigan: Kregel), pp. 75-88.         [ Links ]

Coetzer, W. C. 2007. Tien fases van die genesingsproses. Ongepubliseerde bundel. Potchefstroom.         [ Links ]

Cunningham, T. 2011. Face to Face(book). The effects of social media on mental and emotional health.Lesing aangebied tydens die Internasionale Konferensie van die American Association of Christian Counselors in Nashville, VSA, op 30 September 2011.         [ Links ]

De Klerk, T. C. 2003. Die Godvresende vader - die man na God se hart. Voordrag gelewer by die jaarlikse byeenkoms van die Gereformeerde Teologiese Vereniging op 5 Augustus 2003 in Pretoria.         [ Links ]

De Klerk-Luttig, J. & Heystek, J. 2007. Discipline in schools: Are our student teachers ready for the challenge? In: I.J. Oosthuizen, J.P. Rossouw, C.J. Russo, J.L. Van der Walt & C.C. Wolhuter (eds.), Perspectives on learner conduct. Proceedings of the first International conference on learner discipline at the North-West University, Potchefstroom Campus, 2-4 April 2007, pp. 1-14.         [ Links ]

De Vries, M. 1994. Family-based youth ministry. Downers Grove, Illinois: Intervarsity Press.         [ Links ]

Dobson, J. 2004. The new strongwilled child. Wheaton, IL: Tyndale House Publishers.         [ Links ]

Farley, W. P. 2009. Gospel powered parenting. Phillipsburg, NJ: P&R Publishing.         [ Links ]

Freeks, F. E. 2004. Die rol van die ontbrekende vaderfiguur in die Suid-Afrikaanse konteks. 'n Prakties-teologiese studie. Ongepubliseerde M.A. Verhandeling. Potchefstroom: NWU.         [ Links ]

Freeks, F. E. 2011. The role of the father as mentor in the transmission of values: a pastoral-theological study. Unpublished PhD Thesis. Potchefstroom: NWU.         [ Links ]

Gregston, M. 2008. Parenting teens in a confusing culture. Hallsville, TX: Heartlight Ministries Foundation.         [ Links ]

Gregston, M. 2011. Teens caught in a digital world. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.parentingtodaysteens.org [18 Maart 2011].

Gregston, M. 2012. Tough guys and drama queens. How not to get blindsided by your child's teen years. Nashville, TN: Thomas Nelson.         [ Links ]

Hart, A. D. 1992. Stress and your child. The hidden reason why your child may be moody, resentful or insecure. Nashville, TN: W. Publishing Group.         [ Links ]

Hart, A. D. & Frejd, S. 2011. Counseling in a digital age: the good, the bad and the ugly. Lesing gelewer tydens die Internasionale Konferensie van die American Association of Christian Counselors in Nashville, TN, VSA, op 29 September 2011.         [ Links ]

Hawkey, R. 2000. Praying for children. Praying healing for your child. Chichester, UK: New Wine Press.         [ Links ]

Hemfelt, R., Minirth, F. & Meier, P. 2003. Love is a choice. Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers.         [ Links ]

Hughes, K. 2004. Disciplines of a Godly family. Wheaton, IL: Crossway Books.         [ Links ]

Ingram, C. 2003. Effective parenting in a defective world. Randburg: Walk Thru the Bible Ministries.         [ Links ]

Jeremiah, D. 2008. Hopeful parenting. Vereeniging: Christian Art Publishers.         [ Links ]

Kinnaman, D. 2007. UnChristian. Grand Rapids, MI: Baker Books.         [ Links ]

Kinnaman, D. 2011. You lost me. Grand Rapids, MI: Baker Books.         [ Links ]

Lane, T. S. 2008. Family Feuds. Glenside, PA: CCEF Books.         [ Links ]

Lane, T. & Tripp, P. 2006. Relationships. A mess worth making. Greensboro, NC: New Growth Press.         [ Links ]

Larney, T. & Lotter, G. A. 2005. Ouers se rol in die oordrag van etiese en morele waardes. Koers 70(4):661-683.         [ Links ]

Lehohla, P. J. 2010. Statistics South Africa: marriage 2010. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.statssa.gov.za/publications/PO307/PO3072010.pdf [30 Desember 2013].         [ Links ]

Macarthur, J. 1998a. What the Bible says about parenting: God's plan for rearing your child. Nashville, TN: Word Publishing.         [ Links ]

Macarthur, J. 1998b. Successful Christian parenting. Raising your child with care, compassion, and common sense. Nashville, TN: Word Publishing.         [ Links ]

Macnutt, F. & Macnutt, J. 2002. Praying for your unborn child. London: Hodder & Stoughton.         [ Links ]

Mcdowell, J. 2011. Your child is at risk. Just 1 click away. Lesing aangebied tydens die Internasionale Konferensie van die American Association of Christian Counselors in Nashville, TN, VSA, op 1 Oktober 2011.         [ Links ]

Mcgee, R. S. 1998. The search for significance. Nashville, TN: Word Publishing.         [ Links ]

Minirth, F., Meier, P & Ratcliff, D. 1992. Bruised and broken. Understanding and healing psychological problems. Grand Rapids, MI: Baker Book House.         [ Links ]

Meier, P. D. & Ratcliff, D. E. 1995. Raising your child. Grand Rapids, MI: Flemming H. Revell.         [ Links ]

Meier, P., Clements, T., Bertrand, J. & Mandt, D. 2005. Blue Genes. Wheaton, IL: Tyndale House Publishers.         [ Links ]

Oosthuizen, C. 2013. South Africa: recent survey reveals youth hardships. [Aanlyn.] Bekom van: http://allafrica.com/stories/201305151297.html [1 Januarie 2014].         [ Links ]

Parrot, L. & Parrot, L. 2002. Counselling Adolescents. In: T. Clinton & G. Ohlschlager, (eds.), Competent Christian Counselling (Colorado Springs, CO: Waterbrook Press), pp. 561-585.         [ Links ]

Plowman, G. 2003. Don't make me count to three. Wapwallopen, PA: Shepherds Press.         [ Links ]

Plummer, R. L. 2011. Bring them up in the discipline and instruction of the Lord. In: R. Stinson & T.P. Jones, (eds.), Trained in the fear of God (Grand Rapids, MI: Kregel), pp.45-59.         [ Links ]

Pratt, R. 2011. Broken Homes in the Bible. Tabletalk Magazine 1 December 2011, p. 2.         [ Links ]

Prince, C. 2009. The changing face of the South African family: single moms now the norm. Sunday Times 22 July, p. 3.         [ Links ]

Rainer, S. S. 2008. Squaring off with the Church dropout rate. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.sermoncentral.com [22 Februarie 2012].         [ Links ]

Salzwedel, I. 2006. Leer jou kind waardes. Leef Januarie, pp. 25-26.         [ Links ]

Smith, J. 2008. Hoe om jou lewe te verwoes voor jy 16 is. Vereeniging: CUM.         [ Links ]

Steyn, R. S. & Lotter, G. A. 2006. Veranderende tendense en die implikasie vir jongmens verhoudings. Koers 71(2,3,4):535-555.         [ Links ]

Stinson, R. 2011. Male and female, He created them. In: R. Stinson & T.P. Jones (eds.), Trained in the fear of God (Grand Rapids, MI: Kregel), pp.45-59.         [ Links ]

Sutton, D. 2013. Woundedness to well-being. [Aanlyn.] Bekom van: http://sunrisecounselling.com/woundedness.html [27 Desember 2013].         [ Links ]

The National Center For Fathering [s.a.] [Aanlyn.] Bekom van: www.fathers.com. [5 Januarie 2014].         [ Links ]

Trent, J., Osborne, R. & Bruner. J. 2003. Geestelike groei van kinders. Vereeniging: CUM.         [ Links ]

Tripp, P. D. 1997. Age of Opportunity. A Biblical Guide to Parenting Teens. Phillipsburg, NJ: P&R Publishing.         [ Links ]

Tripp, T. 2012. Raising teenagers. Lesing gelewer by The Shepherd's Conference, 21-23 Mei, Pretoria.         [ Links ]

Tripp, T. & Tripp, M. 2008. Instructing a child's heart. Wapwallopen, PA: Shepherds Press.         [ Links ]

Trollinger, S. 2007. Advanced triage counselling. Oviedo, FL: Higherlife. Unicef.         [ Links ]

Trollinger, S. 2013. Ophans and vulnerable children. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.unicef.org/southafrica/protection_6631.html [31 Desember 2013].         [ Links ]

Van Niekerk, E. 'n Teologiese perspektief op die moderne problematiek van die man as afwesige pa. Ongepubliseerde M.A. Verhandeling. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.         [ Links ]

Venter, H. V. 2004. Die begeleiding van gesinne in die plaaslike kerk binne die konteks van die postmodernisme: 'n Prakties-teologiese benadering. Ongepubliseerde M.Div. Verhandeling. Potchefstroom: NWU.         [ Links ]

Welch, E. 2010. Strong emotions. Extreme Confidence Magazine Maart, p.11.         [ Links ]

Wolhuter, C. C. & Van Staden, J. G. 2007. Learner misconduct in the Free State, Eastern Cape and Vaal Triangle (South Africa): An empirical study of the experience of teachers. In: I.J. Oosthuizen, (ed.), Perspectives on learner conduct (Potchefstroom: Platinum Press), pp. 394-406.         [ Links ]

Wright, H. N. 2011. The complete guide to crisis & trauma counselling. Ventura, CA: Regal.         [ Links ]

 

 

1 Met emosionele verwonding word verwys na die gevolge van aspekte soos verwerping, vernedering, miskenning, verkleinering, emosionele aftakeling,
molestering, verkragting, ens. Sutton (2013) verwoord iets van die langtermyn gevolge hiervan treffend soos volg:
Often, longstanding hurts, disappointments and emotional wounds are like old, familiar friends. We let them become so engrained into our sense of identity that they begin to define us. When that happens, we often aren't willing to transparently expose and turn them over to Jesus, but tightly hold onto them like a child clinging to a security blanket. Instead of finding transformation and wholeness, we become our past.
2 In hierdie verband word daar byvoorbeeld gewys op die stygende getalle van tieners wat die slagoffers is van egskeidings. Volgens Statistics SA word blanke en swart gesinne die meeste geraak deur egskeidings in Suid-Afrika. Vanaf 2001 tot 2007 was die egskeiding syfer die hoogste onder blankes maar vanaf 2008 tot 2010 was die syfer weer effens hoër onder swart gesinne (Lehohla 2010:4). 'n Verdere probleem vir tieners, wat verband hou met veranderende tye, is die feit dat daar verwys word na hierdie generasie as die "vaderlose generasie" aangesien talle tieners opgroei met slegs 'n moeder in die huis. Prince (2009:3) wys in hierdie verband op navorsing wat daarop dui dat 40% van die 18 miljoen kinders in Suid-Afrika groot gemaak word deur enkelmoeders. In sommige gevalle is die ouers wel steeds saam, maar die Pa is basies afwesig.
3 Hierdie outeurs se opmerkings berus op waarnemings veral met betrekking tot tieners binne die Amerikaanse konteks. Vanuit persoonlike ervaring met berading met tieners binne die Suid-Afrikaanse konteks die afgelope 35 jaar kan bevestig word dat hierdie waarnemings grootliks ook hier te lande van toepassing is.
4 Volgens Hart (1992:239) impliseer dit onder andere dat kinders reeds vanaf 'n vroeë ouderdom sal leer hoe om kwessies soos vrees, angs, bekommernis, stres en trauma te hanteer. "Why is this so important? Primarily because most anxiety problems have their roots in childhood fears." Met die nodige toerusting kan hulle egter uiteindelik gelukkige volwasse jare beleef.
5 Vergelyk in hierdie verband MacNutt en MacNutt (2002:41) asook Meier en Ratcliff (1995:18).
6 In hul bespreking van die daarstelling van grense by kinders beklemtoon Cloud en Townsend (2002:179 e.v.) dat dit gaan onder andere om 'n verantwoordelikheidsin by kinders aan te wakker sodat hulle kan weet waarvoor hulle verantwoordelik is en waarvoor nie, en sodat hulle kan weet hoe om nee te sê en hoe om nee te aanvaar. "If we teach responsibility, limit setting, and delay of gratification early on, the smoother our children's later years of life will be." Verder gaan dit ook om die aanvaarding van eienaarskap van eie behoeftes en om ander se perke te eerbiedig.
7 In 'n verslag deur United Nations Children's Fund (UNICEF 2013) met betrekking tot die huidige situasie in Suid-Afrika word gewys op 'n geskatte 3,7 miljoen weeskinders. Ongeveer 50% van hulle het hul ouers verloor as gevolg van HIV-VIGS verwante siektes. Volgens hierdie verslag is daar egter nog 'n groter getal kinders wat saamleef met sorgdraers wat sieklik of bedlêend is. Verder word gewys op ongeveer 150 000 kinders wat tans in huishoudings opgroei waar kinders aan die hoof staan. Vergelyk in hierdie verband ook Freeks (2011:85).
8 Bradshaw (1996:157) maak die stelling dat kwessies soos verwerping, verwaarlosing, fisiese, emosionele, intellektuele en seksuele misbruik dieselfde traumatiese impak vir kinders kan hê as wat oorlogstrauma vir 'n soldaat het.
9 In hierdie verband wys Smith (2008:36) op die volgende belangrike syfers: 71% van alle hoërskoolleerlinge het erken dat hulle die betrokke jaar in 'n eksamen gekul het; 92% het in die jaar vir hulle ouers gejok; 40% van die seuns en 30% van die dogters het in die jaar iets uit 'n winkel gesteel; ongeveer 16% was dronk by die skool; 68% het iemand geslaan omdat hulle kwaad was.
10 'n Baie insiggewende webbladsy rondom hierdie tema is dié van The National Center for Fathering (www.fathers.com). Hulle beskryf hulself as 'n niewinsgewende opvoedkundige organisasie wat navorsing gebaseerde onderrig en bronne verskaf ten einde mans toe te rus om in staat te wees om in hul kinders se behoeftes te voorsien. Op hul webbladsy beskryf hulle hul doelwit soos volg:
"Our goal is to reverse the cultural trend toward fatherlessness by helping every dad learn how to be a father. At Fathers.com, we believe every child needs a dad they can count on. The research is clear: children thrive when they have an involved father - someone who loves them, knows them, guides them, and helps them achieve their destiny. We inspire and equip men to be the involved fathers, grandfathers and father figures their children need."

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons