SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 suppl.18 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.33  suppl.18 Bloemfontein Jan. 2013

 

KERKWEES IN DIE BRANDING

 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Algemene Sinodale verband 1994-2011

 

 

Piet Strauss

Universiteit van die Vrystaat

 

 

HOOFSTUK 1

VERANTWOORDING

Die oogmerke van hierdie eietydse kerkgeskiedenis is tweeledig. Aan die een kant wil ek in die behoefte voorsien om 'n resente geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in algemene sinodale verband te skryf. Om die hoofsake van 'n bietjie minder as twee dekades in hulle hooflyne te boek te stel en krities te bekyk. 'n Kykie wat natuurlik vanuit eietydse en (my) eie oë plaasvind. Die titel kondig dit aan: in die periode na 1994 bevind die NG Kerk hom in die branding. Hierdie jaar het nie alleen in die Suid-Afrikaanse staatsopset 'n nuwe bedeling gebring nie, ook in die NG Kerk. Beter gestel, politiek Suid-Afrika het die NG Kerk in 1994 in 'n nuwe politieke gemeenskap met 'n nuwe etos - in 'n totale nuwe omgewing - geplaas. 'n Etos waarmee die NG Kerk moes rekening hou en wat ook aan hom sou afgee. Daarby het die kerk in hierdie twee dekades heelwat interne verskuiwings beleef: struktureel, liturgies en selfs leerstelling1.

Die land het op 27 April 1994 sy eerste algemene demokratiese verkiesing gehad. Die eens verbode African National Congress (ANC) het met 'n groot meerderheid aan bewind gekom. 'n Nuwe grondwet is in 1996-1997 aanvaar. 'n Grondwet gebaseer op 'n "handves van regte" in die liberaal-humanistiese sin van die woord, algemene stemreg vir volwassenes, nie-rassigheid en nie-seksisme met die hoogste gesag die grondwet self soos gehandhaaf deur die howe. Sommige praat van hierdie Suid-Afrika as 'n "regstaat". Die gees van die grondwet word bepaal deur vertrekpunte soos openheid, demokrasie, menswaardigheid, gelykheid en vryheid (Kleyn & Viljoen 1998:244,264).

Wat sinodale denke betref het die NG Kerk in hierdie tyd ook verskuiwings beleef. Denke wat die sinodale struktuur sowel as die oordeel van hierdie vergadering oor aktuele kerklike of kerkverwante kwessies raak.

Struktureel het die Algemene Sinode homself in 2011 omvorm tot 'n verkleinde sinode van ongeveer 400 na 200 lede wat meer gereeld as elke vier jaar vergader (NGK 2011H:122). Die redes hiervoor is kerklik en koste-effektiwiteit. Dit geskied teen die agtergrond van die feit dat verskille vanuit gemeentes en (streek-) sinodes met die Algemene Sinode of sinodes onderling te same met 'n groeiende klem op plaaslike kerklike bevoegdheid daartoe bygedra het dat 'n afname in die aanvaarding van die gesag van sinodes óók die NG Kerk tref. Woelinge en kritiese stemme oor die besluite van die Algemene Sinode van 2007 oor homoseksualiteit en die van 2011 oor die persoonlike bestaan van die duiwel is voorbeelde hiervan (Strauss 2010a:69). Liturgies het die Algemene Sinode mettertyd ook afgesien van vaste gedetailleerde liturgiese ordes en daarmee erken dat gemeentes hierin meer vryheid het. In 2002 word 'n Handboek vir die Erediens goedgekeur met 'n "basiese struktuur vir die oggend-en aanddiens" wat aandui wat vaste en wat wisselende elemente is (NGK 2002H:539). 'n Vryheid wat die gereformeerde oortuiging van die selfstandigheid van die gemeentes in kerkverband uitgaande van dieselfde grond- of belydeniswaarhede erken, maar skeeftrek as dit kerkeenheid bedreig deur 'n independentisme wat verdeel op vaste- of kernsake. In 'n post-modernistiese klimaat van relativering - waarin meer as een waarheid moontlik is - is die waarheidsgesag van die NG Kerk se belydenisskrifte in hierdie tydperk ook getoets met beskrywingspunte voor die Sinode van 2011 oor die doop (NGK 2011H:92-94).

Aan die ander kant gee ek rekenskap van sekere sake op die ses Algemene Sinodes waarna ek afgevaardig was: die Sinodes van 1994, 1998 en 2002 in Pretoria, 2004 op Hartenbos en 2007 en 2011 in Boksburg. Vanaf 1994 tot 2011 was ek ook 'n lid van die Algemene Sinodale Kommissie (ASK) wat later die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) sou word (NGK 2011H:72). Ek is in 1996 op die Dagbestuur van hierdie liggaam verkies. Dit het aan my 'n diensbeurt van 17 jaar in die kern van die werk van die Algemene Sinode besorg. Vir my sou 2011 'n noodsaaklike afsnypunt hiervan word. Loop voordat "hulle" ernstig bid dat jy loop!

Terselfdertyd gee hierdie agtergrond moontlik meer kleur aan hierdie relaas. Al probeer ek amptelike sinodebesluite vanuit die handelinge van die vergaderings aflees, bly dit met my eie oë en word dit aangevul met persoonlike indrukke en eerstehandse, subjektiewe ervarings. Daarvoor vra ek nie verskoning nie. 'n Afstand in tyd op hierdie gebeure kan tot ander gevolgtrekkings lei, maar vrywaar my nie van eie interpretasies, sistematiserings en gevolgtrekkings nie. Ek glo in 'n onpartydige, billike soeke na die waarheid (dit op sigself is ook 'n waardegedrewe oordeel), maar nie in 'n gewaande, waardevrye objektiwiteit nie. Die keuse lê ook nie slegs tussen 'n modernistiese objektiwiteit of 'n subjektiewe postmodernisme nie. So iets dui op 'n verskraalde benadering van geskiedenis as wetenskap. In die vak kontemporêre kerkgeskiedenis werk ek graag met 'n verantwoorde Christelik-reformatoriese geskiedenisbeeld, 'n Bybelse kerkbegrip en Skriftuurlike kernwaarhede en vertrekpunte as maatstaf vir die werklikheid. Grondoortuigings wat ek nie geforseerd of onnatuurlik wil aflê in my navorsing nie (Van 't Spijker 1977:185).

In 'n stuk kerkgeskiedenis soos hierdie waarin persoonlikhede intens beleef, gesteun of geopponeer word, kom name ook ter sprake. Ek probeer egter by die sake soos geïnisieer en gesteun deur persone bly. In die proses vind daar verwysings na mense plaas. Dit kan eenvoudig nie anders nie. Hulle word gekoppel aan geestelik-teologiese rigtings en standpunte. Verwysings word gemik op hulle kerklike styl en optredes en nie soseer die aard van hulle persoonlikhede nie.

Die sake word histories-sistematies hanteer. Dit handel oor intern kerklike sake en sake rondom die NG Kerk en die samelewing. Elke sinode word in sy tydsomstandighede geplaas, maar die ontwikkeling van sy houding oor mense- en volkereverhoudinge in veral Suid-Afrika, kerklike ekumene, kerkeenheid in die NG Kerkfamilie, belydeniskwessies waaronder die aanvaarding al dan nie van die Belydenis van Belhar, leerstelligverwante kwessies oor Skrifgesag en gereformeerde identiteit, etiese kwessies, kerkregtelike reëlings en stylveranderinge in die NG Kerk binne gemeenteen kerkverband, kom ter sprake. Dit word gekomplementeer met my waarnemings van tendense en houdings by sinodelede.

Saamgevat gaan dit hier om een van die moontlike vertolkings van die NG Kerk in hierdie tyd. Ook in hierdie geval is geskiedenis nooit klaar geskryf of vertolk nie.

Piet Strauss

Universiteit van die Vrystaat

Bloemfontein

September 2013

 

HOOFSTUK 2

DIE SINODE VAN VERSOENING?

Die Algemene Sinode van 11-20 Oktober 1994 in Pretoria sou veral aandag trek as "die kerk" se reaksie op die samelewingsveranderinge wat met die bewindsaanvaarding van die African National Congress (ANC) na 27 April 1994 in Suid-Afrika ingetree het. As twee tradisionele vennote vir apartheid - die NG Kerk is deur sommige "the National Party at prayer" genoem -was die NG Kerk se reaksie op die inisiatiewe van die Nasionale Party wat sou lei tot die eerste breë algemene verkiesing in 1994, skerp onder die soeklig.

Hierdie aandag is verskerp toe die leier van die ANC, Nelson Mandela, op eie versoek - so het ons as sinodelede dit verstaan - die vergadering op Donderdag 13 Oktober besoek en toegespreek het.

2.1 "MADIBA-MAGIC"

Mandela se besoek sou myns insiens uit ten minste twee oorwegings spruit. Motiewe wat ek in later jare in ons soveelste gesprek met die topstruktuur van die ANC ook teëgekom het.

Die eerste motief spruit uit die ANC se oordeel dat die NG Kerk 'n belangrike lid van die Afrikanerhuishouding is en dat jy by die NG Kerk óók moet uitkom as jy by die Afrikaner wil uitkom. Behalwe dat Mandela openlik met "Afrikaners" gepraat het, het hy 'n deel van sy toespraak in Afrikaans gelewer2. 'n Poging wat deur baie sinodelede waardeer is. Daarby is dit my indruk dat die NG Kerk se pro-apartheidvoorsegginge aan die Nasionale Party in die jare 1935-1974 en laasgenoemde se praktiese implementering daarvan in die kollektiewe geheue van die ANC vasgesteek het. Vir hulle was én is die NG Kerk 'n belangrike meningsvormer in Afrikanergeledere.

Die tweede motief was die byna kerklike oortuiging by Mandela dat "huisbesoek" en gesprek belangrik is. As jy by die breedste vergadering3 van die NG Kerk wil uitkom, moet jy jou gesig daar wys en jou hart aan hulle blootlê.

Natuurlik het Mandela sy eie standpunte oor die staatsbestel in Suid-Afrika gehad. Maar hy sou met sy vriendelike waardigheid en sy respek vir die sinode 'n atmosfeer van welwillendheid indra wat die klimaat van versoening en hoop in Suid-Afrika bevorder het. Twee gerekende figure het op die president reageer. As ondervoorsitter het ds Kobus van der Westhuyzen hom bedank terwyl die vorige moderator, prof. Pieter Potgieter, 'n onbestrede mosie gestel het waarin die president van die NG Kerk se voorbidding verseker is.

Dit bly ons gebed dat die Here aan (die nuwe regering) wysheid sal gee en die vermoë om die land tot sy eer en tot voordeel van al ons mense te regeer(...) Dit is ook die NG Kerk se begeerte dat daar op 'n dinamiese wyse gewerk moet word aan 'n radikale verbetering van die lewensomstandighede en toekomsgeleenthede van mense wat vir baie jare soveel moes ontbeer in Suid-Afrika(.) Daarom sal die NG Kerk ook die HOP (Heropbou en Ontwikkelingsprogram, PS) deeglik bestudeer en spoedig aandui hoe hy 'n daadwerklike bydrae kan lewer tot heropbou en ontwikkeling (NGK 1994H:443).

Twee sinsnedes in Potgieter se mosie het myns insiens op 'n breë maar vaag omlynde konsensus onder sinodegangers gedui. Dit is dat 'n regering soos die van die ANC prinsipieel tot voordeel van alle Suid-Afrikaners moet regeer en die belangrikheid van heropbou en ontwikkeling onder almal in dié eertydse apartheidsland in die derde wêreld. Daar was ook iets van "ons gee julle 'n kans" in die mosie te bespeur. Dit was tiperend van die klimaat wat oor die sinode verspreid gelê het. Versigtige, beheersde afwagting en hoop...

Mandela het ten minste dit bereik: 'n gees van welwillendheid en waardering teenoor sy persoon en 'n afwagtende houding by 'n sinode wat wil versoen. Hy het sy bekende benadering van versoening in die vergadering ingedra. Niemand wat van hom verskil het, kon hierdie uitgestrekte hand wegklap nie.

Enkele jare later openbaar hy dieselfde gees teenoor die NG Kerk. Dit was op 'n Saterdagoggend. Ek was op die dagbestuur van die Algemene Sinodale Kommissie of ASK (NGK 1998Ai:44). Die versoek was dat ons op 'n sekere tyd vir tee by die Presidensie in Pretoria aanmeld. Die president wou ons "sien". Sy bekende hoflikheid was daar. Die NG Kerk moes weet: hy wil graag trou met Graca Machel, die weduwee van wyle president Samora Machel van Mosambiek. Hy trou liewer as om in sonde te lewe. Dit is immers wat die Groot Boek sê. Vir hom was dit 'n belangrike stap waarvan die NG Kerk moet kennis dra. Dit was "Madiba-magic." Ons het geëerd gevoel. Dankbaar. By die eerste burger van die land was die NG Kerk nog in tel. Sydelings was ons ook getuies van die afloop van 'n proses waarin ene Winnie Mandela weer 'n gewone burgeres van die land geword het...

Die tafel vir die Algemene Sinode van 1994 en apartheid was nie net deur die veranderde Suid-Afrika na 1994 gedek nie. Ten opsigte van apartheid was die NG Kerk in sy houding 'n veranderde NG Kerk.

Miskien was die belangrike dokumente Kerk en Samelewing-1986 en -1990 (KS-1986 en KS-1990) wat 'n nuwe houding van die NG Kerk oor apartheid weerspieël, die keer nie vóór veranderings in die Nasionale Party nie4. Dit was egter deel van die klimaat van die Algemene Sinode 1994: 'n duidelik voelbare klimaat (NGK 1986H; NGK 1990H).

2.2 "KERK EN SAMELEWING" (KS) NIE SONDER SLAG OF STOOT

Kritici van die NG Kerk maak soms die stelling dat KS-1986 en KS-1990 te weinig te laat was en nie regtig uitgesproke krities op apartheid gemik was nie. Die dokumente wou net 'n sagter gesig aan apartheid gee. Op twee belangrike punte laat hulle oordeel hulle egter in die steek.

Met betrekking tot die eerste beswaar moet dit in gedagte gehou word dat beide KS-1986 en KS-1990 kerklike dokumente is. Dokumente wat nie 'n praktiese of 'n partypolitieke beleid uitstippel nie, maar toepaslike beginsels of konstante vertrekpunte met voorbeelde gee vir die situasie waarin Suid-Afrika hom bevind. In die formulering hiervan word daar veral op negatiewe voorbeelde gekonsentreer en geen politieke bloudruk gegee nie5. Dat KS-1986 en KS-1990 tydsbepaalde dokumente is, word deur die Algemene Sinode van 1994 gestaaf met die besluit om hierdie dokumente nie weer te hersien nie. Veral nie hier by die amptelike sterwe van apartheid en die begin van 'n nuwe staat in 1994 nie (NGK 1994:465). KS-1986 en KS-1990 formuleer geïnterpreteerde Christelik-etiese konstantes wat op die landsomstandighede van destyds toegepas en aangepas of nuut geskryf moet word vir 'n nuwe situasie (Strauss 2011: 513vv).

Met betrekking tot die tweede beswaar moet daarop gewys word dat KS-1986 daartoe gelei het dat die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) van die NG Kerk afgeskei het. Dit dui op die erns waarmee sommige lidmate van NG Kerkgemeentes die saak bekou het. Die totale lidmaatverlies het in die periode 1987-1990 "hoogstens" 15 000 of op daardie stadium, 1 uit elke 1000 belydende lidmate van die NG Kerk beloop (NGK 1990A:52)6.

Hoewel die getal lidmate wat die NG Kerk verlaat het en die invloed daarvan dus nie groot was nie, was die belewing van die afskeiding in sekere kringe traumaties. Die dagbestuur van die ASK het met "hartseer en ontsteltenis" kennis geneem van 'n byeenkoms op 28 November 1986 in die Skilpadsaal in Pretoria wat 'n kerkskeuring sou oorweeg (NGK 1990A:20). Die NG-voorman in hierdie tyd en moderator van die Algemene Sinode van 1986, professor Johan Heyns, is in gesprekke en debatte skerp gekritiseer vir sy aandeel aan die nuwe rigting van die NG Kerk. Navorsing toon dat hy 'n beslissende rol in die finale formulering van beide KS-1986 en KS-1990 gespeel het. 'n Vergelyking tussen beide KS'se en Heyns se formulerings elders bevestig dat ongeveer 40 paragrawe van beide direk na hom teruggevoer kan word (Williams 2006:196-198, 405-406).

Heyns het in die jare na 1986 bekend geword as "Meneer NG Kerk". Hy het in die binne- en buiteland opgetree as dié woordvoerder van die nuwe rigting in die NG Kerk. Vir my wat gereeld met hom kontak gehad het, het die woelinge hom egter sigbaar grys gemaak. Sy emosies het soms skerp deurgeslaan in persoonlike gesprekke en debatte op sinodes. As 'n dinamiese mens wat intens betrokke was by sy omgewing, het probleme spruitend uit veranderinge in Suid-Afrika en die NG Kerk hom nie onaangeraak gelaat nie.

Uit die kringe van die beswaardes is Heyns gewantrou as 'n "uitverkoper" en "verraaier". Sy persoonlike styl wat dan nie aanvaarbaar sou wees nie, is betrek by die redes vir die ontstaan van die APK in 1987 (Strauss 2002:228-229).

Nader beskou was KS-1986 en KS-1990 'n waterskeiding in die houding van die NG Kerk oor apartheid (Gaum 1997:42vv)7. Die mees opvallende besluite in KS-1986 en KS-1990 het te make gehad met 'n afwysing van 'n gedefinieerde of praktiese apartheid in Suid-Afrika én rasgeskeie kerke. Dit was eventueel die twee sake wat die grootste nawerking van KS-1986 en KS-1990 in die latere optrede van die NG Kerk gehad het. Altwee sake sou 'n rol speel in die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) se terugverwelkoming van die NG Kerk in sy geledere na 1998 (Strauss 2002:238-241). Dit was ook deel van die pakket wat die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER) reeds in 1992 tevrede gestel het (Strauss 2002:231-234).

KS-1986 noem die hantering van apartheid 'n sisteem wat mense verontreg en een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel. Dit is as 'n sisteem Christelik-eties onaanvaarbaar en bots met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid. Dit tas die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke is, aan. KS-1990 wysig hierdie bewoording. Volgens hom het apartheid so begin funksioneer (telkens my kursivering, PS) dat die grootste deel van die landsbevolking dit as onderdrukkend ervaar het omdat dit een groep onregmatig bo 'n ander bevoordeel. So is die menswaardigheid van mense aangetas en daar gebots met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid. Beide KS-1986 en KS-1990 oordeel dat die NG Kerk boonop gefouteer het deur die gedwonge skeiding van volke as 'n Bybelse eis te beskou (NGK 1986b of KS-1986:52; NGK 1990b of KS-1990:39-40).

KS-1986 en KS-1990 stel die beginsel dat lidmaatskap van die kerk of gemeente 'n saak van geloof en nie ras, volk, kultuur of stand is nie (vgl Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 27,28 wat reeds in 1561 in dieselfde terme oor hierdie saak praat). Teen hierdie agtergrond is die voorstel van Pieter Potgieter van die vloer af in 1986 aanvaar dat lidmaatskap van die NG Kerk in destydse terme "oop" is (NGK 1986b:46). Dit word meer kerklik verwoord in 1990. "Lidmaatskap van alle Ned Geref gemeentes is oop vir enige gelowige wat die belydenis van hierdie kerk aanvaar."(NGK 1990H:35).

Volgens Jonker wat die verloop van sake meegemaak en Potgieter in 1986 as bankmaat ondersteun het, was dit die "mees elementêre ding" wat die Sinode kon sê oor die eenheid van die kerk in 'n veelvolkige land. Vir hom was hierdie besluit op hierdie stadium die beslissende wending by die Algemene Sinode van 1986 oor apartheid. 'n Bevestiging dat die NG Kerk Christelik en algemeen wil wees. Dat die NG Kerk in die tradisie van die vroeë, algemene Christelike kerk wil bly beweeg. 'n Tradisie wat in belydenisskrifte soos die Nederlandse Geloofsbelydenis sterk meespreek (NGK 1998A:190)8.

Hierdie gebeure tydens en rondom die aanvaarding van KS-1986 en KS-1990, asook die inhoud van die twee dokumente en die afskeiding van die APK, het die NG Kerk deur 'n mini-smeltkoers gesit wat die Sinode van 1994 rondom die twee stukke verenig het. Dit sou in sommige besluite van die vergadering duidelik deurkom.

2.3 ISOLASIE DEURBREEK, KERKEENHEID

Die aanvaarding van veral KS-1990 met sy groter aandag aan die praktyk van apartheid het daartoe gelei dat die isolasie van die NG Kerk in die kerklike ekumene tot in 1986, deurbreek is. Die NG Kerk is in 1992 as 'n lid teen wie daar geen kwessies bestaan nie, by die GER aanvaar. Ander verhoudinge, soos die met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) en die Wereldraad van Kerke (WRK) na 1995, die WBGK in 1998 asook bilaterale verhoudinge met indiwiduele gereformeerde en ander kerke binne en buite Suid-Afrika sou volg (Strauss 2002:229-241).

Die afwysing van eksterne apartheid deur die NG Kerk het die aandag op 'n ander aspek daarvan gevestig: sy intern-kerklike verhoudinge met die NG Kerkfamilie. 'n Familie waarin die kwessies van ras en volk 'n bepalende rol by die konstituering gespeel het9.

Volgens KS-1986 en KS-1990 het daar 15 selfstandige kerke in die geskiedenis uit die sendingwerk van die NG Kerk ontstaan. Van hulle is net die Igreja Reformada em Portugal nie in Afrika nie. Wat KS-1990 betref maak hierdie familie se historiese verbondenheid vanweë 'n gemeenskaplike oorsprong, hulle geloof aan dieselfde Here en sy Woord en hulle eenheid in belydenis en kerkregering hulle wesenlik een. Die belydenis van die eenheid van die kerk en die "gereformeerde sinodaal-presbiteriale opvatting" van kerkverband roep hulle dus om aan hulle wesenlike eenheid groter sigbare gestalte te gee.

Daarom steun KS-1990 die "ideaal van één kerkverband" (gereformeerd-kerkregtelik 'n gelade eenheidsbegrip met meer as een moontlikeid: 'n moontlikheid wat gekies word na aanleiding van die situasie waarin dit gestalte kry, PS) vir die familie van NG Kerke. Die strukture hiervoor moet in gesprekke met mekaar uitgewerk word. Binne dié strukture moet daar vir die "regmatige" vorme van 'n verskeidenheid in taal, kultuur en liturgie, kortom vir bedieningsbehoeftes, voorsiening gemaak word. Meer nog, kerklike strukture volg op goeie gesindhede en nie andersom nie. In die kerk dra gesindhede strukture en strukture nie gesindhede nie (NGK 1990H:33-34).

Die nuwe "gekerstende" woord wat nou aan taal en kultuur as mede-bepalers van kerklike strukture gekoppel is, was "bedieningsbehoeftes". Geen kerk werk in 'n taal- en kulturele lugleegte nie, maar komende uit 'n destydse NG-mond is dit deur kritici wat kommentaar lewer bestempel as net 'n "sagter" vorm van apartheid. Van hulle het Heyns met KS in die hand dan juis gebrandmerk as die hofpriester van die Suid-Afrikaanse Regering.

Die kwessie van groter eenheid in die NG Kerkfamilie was teen 1994 dus 'n gevestigde punt op die agenda van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Histories en prinsipieel het haar geestelike moederskap haar aan dié onopgelosde probleem genaelstring. Meer nog, uit sy agendaboek het talle verhale oor die verloop van die saak in die voorafgaande vier jaar hulle aan hierdie vergadering opgedring. Wat KS-1990 betref moes hierdie eenheid in die afsienbare toekoms groter sigbare gestalte kry. Soos met apartheid het KS net die merkers geplant en nie die besonderhede uitgewerk nie. Die Algemene Sinode van 1994 moes die besonderhede van die koers wat die NG Kerk nou ingeslaan het, verder aandui en bestendig.

2.4 ANDER APARTHEIDSVERWANTE SAKE

Die jaar 1994 het die Algemene Sinode van die NG Kerk egter nie net met 'n veranderde Suid-Afrikaanse staat en kerklike verhoudinge gelaat nie. Ander apartheidsverwante sake het ook die aandag van die kerk gevra.

Verwant aan die sake wat KS-1986 en KS-1990 hanteer het en hier in 1994 net na die algemene verkiesing op 27 April 1994, moes die Sinode óók kyk na aspekte van 'n staatkundige oorgangstyd in Suid-Afrika: die herverdeling van grond; gesindhede onder die Suid-Afrikaanse bevolking onder wie daar groot vooroordele en negatiwiteit heers; deelname aan die werk van 'n waarheids- en versoeningskommissie (die bekende Tutukommissie) soos deur die staatsowerheid aangestel om gebeure uit die vorige bedeling te hanteer; die memorandum van die Voortsettingskomitee vir beswaardes oor KS-1990; die Rustenburgkerkeberaad van 5-9 November 1990 wat op inisiatief van president FW de Klerk plaasgevind het; en die NG Kerk se sogenaamde "onewewigtige veroordeling" van apartheid die afgelope tyd (NGK 1994H:557-590).

By Rustenburg het professor Willie Jonker sy bekende belydenis van sy persoonlike skuld aan die negatiewe politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele gevolge van apartheid in die naam van die NG Kerk en vir die " Afrikaans people as a whole" gedoen. Syns insiens het baie mense asook die land as geheel daaronder gely. Hy het die vrymoedigheid hiervoor, so het hy voortgegaan, omdat die Algemene Sinode van 1990 in KS-1990 apartheid tot 'n sonde verklaar en sy eie versuim om dit vroeër uit te wys, betreur het (Jonker 1998:204; NGK 1994A:48).

Die voorstel van die Tydelike Kommissie dat die permanente Kommmissie vir Leer- en Aktuele Sake met "dringende spoed" aan gemeentes en lidmate "leiding" gee oor die staatkundige oorgangstyd in Suid-Afrika het twee sake in die oog gehad. Die eerste was 'n beter insig in hierdie ingrypende, ingewikkelde proses en die tweede 'n groter, meer verbeeldingryke en beter gemotiveerde aandeel aan die "vernuwings-, versoenings- en heropbouproses in ons land". Die voorstel was gekoppel aan die verslag van die permanente kommissie vir Leer- en Aktuele Sake oor die vredestaak van die kerk (NGK 1994A:98-101,501). In hierdie verslag het die kommissie waarvan Heyns die voorsitter was, lidmate opgeroep tot 'n konkretisering van die liefdesgebod in die Suid-Afrika van 1994 en betrokkenheid by vredesaksies as antwoord op die gevaar van verwoestende geweld in die land (NGK 1994A:101).

Agterna beskou val 'n paar dinge oor hierdie Suid-Afrika 1994-verwante sake op. Die eerste is die afwesigheid van 'n vermoede dat die land na 1994 oor gebrekkige dienslewering en ontoerykende leierskap op byna alle vlakke van regering, oor misdaad, korrupsie en lae produktiwiteit sou struikel10. Dat die veranderinge in 1994 daartoe sou lei dat van hierdie probleme epidemies sou word. Vir baie persone in die Algemene Sinode van 1994 was sinvolle verandering of 'n regeringsoorgang in Westerse terme tot 'n groot mate 'n saak van gesindheid en aangewese op liefde, vrede en 'n beter insig in ons mede-burgers se benadering van die samelewing. Apartheid het gesindhede en verhoudings benadeel en dit moes met insig en 'n positiewe ingesteldheid vervang word. Van die uitgerekte aanpassingspobleme wat die Afrikamens in 'n Westersbepaalde en -gedomineerde omgewing ondervind, was daar geen sweem nie.

Die voorstel voor die Sinode oor 'n oorgangstydperk was ambisieus, maar dalk nader aan die kol met 'n ongespesifiseerde, omvattende versoenings- en heropbouproses. 'n Heropbou wat nie net die land en sy mense in hulle verhoudinge kon saamneem nie, maar ook in hulle algemene ontwikkeling as draers van 'n Westerse demokrasie. In hulle ontwikkeling as burgerlike draers van die Grondwet van 1996 wat gebaseer is op 'n sterk mensgeoriënteerde Verklaring van Regte (Kleyn & Viljoen 1998:253vv).

In sy stuk aan die Algemene Sinode van 1998 oor "Die Ned Geref Kerk en die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika" het die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake later iets hiervan verwoord met die stelling dat dit nie net oor 'n nuwe staatkundige bedeling gaan nie, maar 'n hele nuwe Suid-Afrikaanse samelewing. Volgens die Kommissie was daar "omvattende en radikale verskuiwings" wat min lewensterreine onaangetas gelaat het.

Ingrypende veranderinge het in die politiek, maar ook in die ekonomie en burgerlike samelewing plaasgevind. Wat ons die afgelope jare beleef het en nog steeds beleef, is niks minder as die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika nie (NGK 1998Aii:11).

Suid-Afrika was nou amptelik 'n nie-rassige, liberale demokrasie. Daar is aksies om "die onreg van die verlede reg te stel" soos die Waarheids- en Versoeningskommissie vir Menseregteskendings (WVK), grondhervorming en sogenaamde "regstellende aksie" by indiensneming in die openbare én privaatsektor. Daar is egter ook 'n verdiepende morele krisis. Die effek hiervan is sigbaar in grootskaalse bedrog en korrupsie op feitlik alle vlakke en 'n toename in geweldsmisdaad: moorde, aanrandings, skakings, gewapende roof en verkragtings. Die NG Kerk ervaar na 1994 'n verlies aan identiteit, openbare invloed en finansiële vermoë. Dit alles verswak die voordele verbonde aan lidmaatskap van dié kerk en stumileer 'n verskeidenheid in sy eie geledere. Die NG Kerk moet in dié proses egter vashou aan die geloof "dat 'n magtige en goeie God in beheer is" (NGK 1998Aii:11-21). Hiermee het die Kommissie 'n geloofsuitgangspunt verwoord wat ek van talle openbare platvorms kon verkondig.

Die tweede 1994-verwante saak wat opval, was die nasleep van probleme wat uit die tyd van apartheid dateer: slegte verhoudinge, verwoestende politieke geweld wat spruit uit die noodtoestand in 1976 onder premier John Vorster en in die 1980's onder premier PW Botha, en ongelykhede tussen mense. Van die mees negatiewe sake op hierdie punt was in die agenda van die Sinode: sekere gevolge van apartheid, 'n onregverdige verdeling van grond en wanverhoudinge wat deur die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK of Tutukommissie) hanteer sou word. Dit sou ook 'n vraag word of die NG Kerk voor hierdie Kommissie moes getuig. Terugskouend in die tyd is talle probleme dus uitgewys.

Daarteenoor was die Algemene Sinode van 1994 se kyk na die toekoms nie ingekleur nie en sonder duidelike strukturele besonderhede of prinsipiële merkers. Tog was hierdie kyk emosioneel en, in politieke terme, "versigtig optimisties". Mandela is positief en met respek ontvang, KS-1986 en KS-1990 was stukke uit 'n apartheidsverlede wat - grondwetlik gesproke11 - agter gelê het. Daar was 'n onderliggende gevoel dat iets positiefs kan gebeur.

Teen hierdie agtergrond is 'n gebalanseerde en rigtinggewende besluit oor 16 Desember geneem. Hierdie dag sou na 1994 in Suid-Afrika amptelik as Versoeningsdag bekend staan. Volgens die Sinode van 1994 was daar nie 'n botsing tussen die regte verstaan van die betekenis van die Voortrekkers12 se Gelofte van 1838 voor die Slag van Bloedrivier en versoening en vrede in Suid-Afrika nie. Daarom moet die dag in die toekoms vanuit hierdie begrip gevier word (NGK 1994H:437)13.

Suid-Afrika was in 'n oorgangsfase.Tog was die NG Kerk op sekere bedieningspunte ook in 'n oorgangsfase. Dit het in die agenda van die Algemene Sinode van 1994 gewys.

Daar was sake met betrekking tot die predikantsbediening waaronder die kwessie van standplaasruiling as 'n alternatief vir beroeping (NGK 1994A:516,517), 'n verslapping in gemeentegrense, die kwessie van die gebruik van die nagmaal deur kinders onder 16 jaar oud en voor hulle amptelike aflegging van belydenis van geloof op of na hulle sestiende jaar (NGK 1994H:449), variasies in die gebruik van die liturgiese formuliere (NGK 1994H:494) en 'n verbreding van die doop van die kinders van gelowige ouers na die pleegkinders van gelowige ouers of kinders in die sorg van kinderhuise (NGK 1994H: 474).

Die jaar 1994 het 'n nuwe of aangepasde politieke roete vir Suid-Afrika beteken. Uit die agenda van die Algemene Sinode van 1994 wou dit voorkom asof die NG Kerk na binne en na buite ook 'n aangepasde kerklike roete kon betree.

2.5 SINODE VAN VERSOENING?

Die Algemene Sinode van 1994 word deur sommige bestempel as die sinode van versoening14. Gaum steun hierdie interpretasie en noem die vergadering "een van die merkwaardigste sittings in die geskiedenis van die algemene sinode". 'n Sinode wat in 1962 die eerste keer vergader het (2012:7).

Gaum gebruik "minstens" (sy eie woorde) drie voorbeelde om sy argument te staaf. Volgens Gaum was Mandela die eerste Suid-Afrikaanse staatshoof wat 'n sinode van die NG Kerk toegespreek het. Hierdie voorreg was nie DF Malan, JG Strijdom, HF Verwoerd, BJ Vorster, PW Botha of FW de Klerk, almal leiers van die Nasionale Party en NG-lidmate met die uitsondering van laasgenoemde, beskore nie. Mandela sou die NG Kerk op sy mistastings met apartheid gewys het, maar ook sy waardering betuig vir die rol wat die "NG kerkleiding" in die oorgangstyd in Suid-Afrika gepeel het (2012:7).

'n Neiging in sommige se verstaan van die geskiedenis naamlik "die wenner vat alles of is altyd reg" - ten spyte van die resultaat van 'n onpartydige, behoorlike ondersoek - spreek 'n bepalende woord in Gaum se interpretasie. By hom gaan dit oor die eventuele triomf van diegene wat gekant was teen - breedweg - die NG Kerk se "teologiese en morele regverdiging" van apartheid15.

Géén Suid-Afrikaanse staatshoof of staatshoof in Suider-Afrika (waaronder die gewilde presidente Kruger en Steyn voor 1900) het voor of na Mandela 'n sinode van die NG Kerk toegespreek nie. Dit is nie beperk tot die leiers van die Nasionale Party na 1948 nie. Tydens die eerste Algemene Sinode van 1962 was Verwoerd reeds vier jaar die Eerste Minister van Suid-Afrika - na die dood van Malan en Strijdom. Ten minste Malan en Strijdom sou Mandela se besoek aan 'n algemene sinode dus nie kon nadoen nie. Bowendien het Mandela op sy eie versoek 'n besoek aan die Algemene Sinode van 1994 gebring (NGK 1994H:456) en nie die versoek van die NG-leiding waarvan Gaum self die skriba was nie. Daarby was die oorgangstyd in Suid-Afrika met die Algemene Sinode in Oktober 1994, en na die verkiesing in April 1994, vyf maande oud en nog nie behoorlik uitgespeel nie. Mandela kon die NG-leiding waaronder JA Heyns vir hulp met die skep van 'n positiewe klimaat vir die oorgang tydens die eerste demokratiese verkiesing in 1994 bedank het16, maar van hulle rol in die oorgangstyd van die ou na die nuwe Suid-Afrika - ongekwalifiseerd - kon daar nie sprake gewees het nie. Dit was nog nie duidelik sigbaar nie. Bowendien, watter normale "kerkleier" sou Nelson Mandela se hoflike versoek in 1994 geweier het?

Ook ons wat besef het dat die uitskakeling van apartheid in Suid-Afrika nie alle probleme eensklaps oplos nie, het Mandela se besoek verwelkom. Dit was 'n belangrike bydrae tot waardering vir sy persoon en vir algemene versoening. Anders as ek wat hierdie sinode as 'n jonge nuweling gevoel-voel het, het Mandela tuis en gelukkig gelyk!

Die tweede rede waarom Gaum die vergadering die sinode van versoening noem, spruit uit die ontvangs van, wat hy noem, "anti-apartheidsprofete" soos Ben Marais en Beyers Naudé. Volgens hom sou die Sinode hulle en ander mense wat die NG Kerk op sy reis met apartheid "gewaarsku" het, om "verskoning" gevra en staande toegejuig het (2012:7).

Om te kan bepaal wat die goedgekeurde houding van die Algemene Sinode van 1994 oor 'n saak was, moet die notule of acta geraadpleeg word. Die woorde van die voorsitter in die verwelkoming van iemand sowel as die reaksie van indiwidue uit die vergadering, kan nie hiersonder gelees word nie.

Dit blyk dat die strekking van die acta van Gaum verskil en dat hy vanuit sy eie verstaan van gebeure werk. As sinodeganger het ek die gebeure ook anders beleef as dit wat Gaum in 'n paar eenvoudige sinne aanbied.

In sy ontvangs op die sinode (op 14 Oktober en vóór die besluit op 19 Oktober oor mense wat in die verlede kritiek teen die NG Kerk se hantering van apartheid gehad het) is professor Ben Marais begroet met 'n besluit (van die vergadering) wat hulle amptelike houding teenoor hom weerspieël. Op voorstel van doktor AA Odendaal en professor JA Heyns het die sinode sy "opregte waardering" vir dit wat professor Marais "oor baie jare vir die NG Kerk beteken het en vir sy mooi en vrugbare lewe" uitgespreek. Die besluit praat egter nie van Marais se standpunte oor apartheid of 'n NG Kerkverskoning in dié verband teenoor hom nie (NGK 1994H:456).

As dit wat Gaum aanvoer wel deur die voorsitter, ds Freek Swanepoel, in sy hantering van "Oom Ben" gebesig is, was dit sy eie mening en nie die besluit van die vergadering nie. 'n Mening wat op daardie stadium nie deur skriba Gaum as belangrik genoeg beskou is (NGK 1994H:426) om genotuleer te word nie. 'n Mening wat in die konteks van 14 Oktober 1994 - indien dit wel geuiter is - nuuswaardig moes gewees het. Maar, in gereformeerde terme is 'n moderator in elke geval net 'n voorsitter. Hy kan nie die kerk modereer nie.

Boonop het ek vir Heyns wat die voorstel van die gryse Oom Andries Odendaal van Witzieshoek gesekondeer het, tydens hierdie vergadering kort voor sy sluipmoord op 5 November 1994, as kerklik meer ervare en wys beleef. Hy het byvoorbeeld tydens die vergadering gesê dat "as ons toe geweet het wat ons nou weet, ons KS waarskynlik anders sou aangepak het." Uit hierdie agtergrond het die Algemene Sinode van 1994 besluit om 'n omstrede of moontlik omstrede saak soos die "kinderkommunie" eers aan mindere vergaderings vir kommentaar voor te lê voordat daaroor besluit word (NGK 1994H:580). Die doel was nie om 'n breër demokrasie in die NG Kerk te vestig ten koste van die bevoegdheid van die Algemene Sinode nie, maar die kerklike uitgangspunt dat jy "jou mense oortuig en nie oordonder" nie. Woorde wat Heyns meer as een keer gebruik het17. Die kerk werk in beginsel met oortuigings en nie met dwang nie -vergelyk hierteenoor sommige se adamante houding dat die Belydenis van Belhar aanvaar moet word anders... (Theron 2012:12) - omdat dit 'n geloofsverband is. Kerklik gesien bou 'n gereformeerde kerk met oortuigde lidmate en selfs nie-lidmate en nie dwang nie.

Daarby is dit vanuit 'n historiese oogpunt 'n vraag of Ben Marais ongekwalifiseerd 'n "anti-apartheidsprofeet" was. In sy weerstand teen kerklike standpunte in die 1940's en 1950's het hy verskil met 'n Bybelse begronding van apartheid en sommige toepassings - ook in die kerk -daarvan, maar hom nie ongekwalifiseerd van apartheid losgemaak nie (vgl Strauss 1983:49vv).18 Dit is dus nie verantwoord om "anti-apartheidsprofete" vanuit 'n veralgemenende persepsie en nie hulle eie woorde nie, te beoordeel.

2.6 BEYERS NAUDÉ

In sy verwelkoming van doktor Beyers Naudé op 20 Oktober op die vergadering het die voorsitter hom na die besluit verwys wat die vorige dag geneem is en waarin daar van kritici van apartheid in die NG Kerk melding gemaak is. Hierdie besluit praat in 'n algemene nie-spesifieke trant.

Die besluit verwys na lidmate, ampsdraers en selfs kerkvergaderings wat - dit word nie gekwalifiseer nie - 'n duidelike profetiese stem "oor apartheid en kerklike besluite in die verband" laat hoor het. Die Sinode erken nou met spyt dat daar van kerklike kant in die verlede op 'n "onbarmhartige en onsaaklike wyse" wyse teenoor sulke persone opgetree is (NGK 1994n:501). Dit word dus 'n algemene verskoning waarin daar nie in detail na die standpunte of optrede van indiwidue of instansies verwys word nie.

In die bespreking van die mosie op die vergadering is daarop gewys het dat van die kritici van apartheid hulle ook aan misstappe skuldig gemaak het en hulle van standpunte bedien het waarmee die Sinode hom nie kan vereenselwig nie. Daarom moet die Sinode hom in hierdie besluit daarvan weerhou om sonder 'n behoorlike studie indiwidue by die naam te noem. Daar is verwys na Beyers Naudé se onnoukeurige gebruik van die moontlikheid van geweld in die apartheidsjare en dat hy dit daarmee kon gestimuleer het. In feite was die besluit in algemene terme en geen indiwiduele standpunt of geval is by die naam genoem nie.

Hierteenoor het voorsitter die besluit nou gebruik om Naudé persoonlik en voor die vergadering om verskoning te vra. Hy het die besluit dus probeer "modereer".

Hierdie toedrag van sake en Naudé se teenwoordigheid is nie deur die vergadering self bespreek nie. Die prosedure het nie daarvoor ruimte gelaat nie. Ek en medestanders het agterna by die Moderatuur beswaar gemaak. Hoe het dit gebeur dat Naudé ná die besluit (op 19 Oktober) by die vergadering uitgekom het (op 20 Oktober) en hoe op aarde kon die voorsitter die besluit op hierdie manier gebruik? Hoekom sou Naudé dit goed gedink het om na al die jare uit die bloute die NG Kerk se Algemene Sinode op hierdie bepaalde dag by te woon? "Oom Ben", daarenteen, het eenvoudig gekom toe hy kon!

Ons het hier 'n lompe, ooglopende manupilering van sake beleef. Ek het by my eerste Algemene Sinode eerstehands kennis gemaak met sinodepolitiek in die NG Kerk. 'n Soort politiek waarvoor die betrokkenes nie opgelei is nie en waarvoor ek deur die jare geen waardering ontwikkel het nie.

In 2011 het professor Piet Meiring wat baie meer simpatie met Beyers Naudé as ek gehad het, my oortuig dat die besoek van Naudé nie "gereël" was nie. Piet is in hierdie kringe meer aanvaarbaar én ingelig en loop nie met dieselfde indruk nie. Ek was op omstandighede aangewese en het nie konkrete bewyse nie. Omdat daar tussen my en Piet wedersyds vriendskap, respek en waardering bestaan, wou ek hom glo. Die besoek was dus moontlik "spontaan" - van Naudé se kant gesien. Die besluit van 19 Oktober het die voorsitter egter verhinder om te doen wat hy as persoon graag wou. Hy wou Naudé om verskoning vra. Daarom het hy besluit om die besluit te modereer en as 'n lanseerplatvorm vir sy verskoning te gebruik. Hy is egter been voor paaltjie betrap! Op die "kyk weer" van die notule was hy uit.

Hiermee is Gaum se redes vir 'n Sinode van versoening egter nie uitgeput nie. Hy wys ook op die besluite oor eenheid in die NG Kerkfamilie waarop ons straks terugkom.

2.7 VOORTSETTINGSKOMITEE

'n Groep met wie daar ook versoen moes word, maar wat deur Gaum uitgelaat word, is die Voortsettingskomitee van hulle binne die NG Kerk wat besware teen KS-1986 en KS-1990 gehad het. Hulle woordvoerder ter vergadering het by vriend en vyand respek afgedwing. Hy was die voorsitter van die Algemene Sinode van 1978 en my kollega in in die Departement Ekklesiologie of Kerkgeskiedenis en Kerkreg aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat: professor Evert (EPJ) Kleynhans.

Die trant en toon van die voorlegging van die Voortsettingskomitee (NGK 1994A:46-51) was krities maar mild in toon en versoenend. Die Sinode se reaksie het hierop ingespeel.

Die Sinode waardeer die versoenende toon van die memorandum maar staan by KS-1990. Omdat KS-1990 die NG Kerk se reaksie op 'n bepaalde historiese situasie was, gaan hy die dokument nie weer wysig nie. Die NG Kerk is in 'n nuwe situasie met nuwe "makro-sosiaal-etiese probleme." wat opnuut hanteer moet word (NGK 1994H:500-501).

Kleynhans se reaksie hierop was stylvol, afgemete maar ook spanningsvol. Sy plegtige, beleefde woorde het getoon dat hy die kerklike belang van die saak besef, maar ook die feit dat die eenheid van die NG Kerk groter is as dit. Dit wat hier op die spel is, is nie van 'n belydenisaard nie. Ook hy wou die saak tot rus bring. Alhoewel die verskille nie uitgestryk is nie, is hy dankbaar vir die geleentheid.

Die implisiete verstandhouding tussen die Sinode van 1994 en die Voortsettingskomitee was: ons verskil, maar gaan voort as lidmate van die NG Kerk. KS-1990 was afgehandel. Vir my persoonlik het "Oom Evert" geleer dat versoening tussen mense wat as gelowiges in Christus ontmoet en saam die konsekwensies daarvan op 'n medemenslike vlak trek, moontlik is. Al verskil hulle oor "kleiner" sake en die aktualiteite van die oomblik.

Vanuit dieselfde verslag verwerp die Algemene Sinode van 1994 die memorandum van 'n ander groep beswaardes te wete die Afrikaanse Gereformeerde Bond. Hierdie stuk het geen versoenende toon bevat nie. KS is van "teologiese liberalisme" beskuldig. KS sou dan afwyk van die Reformatoriese verlossingsleer, die gereformeerde belydenisskrifte en die leer oor God-Drieënig "totaal negeer" (NGK 1994A:52-55). In sy antwoord het die Sinode die memorandum van die Bond sowel as die "teologiese liberalisme" verwerp (NGK 1994H:501). Sy verwerping deur die Algemene Sinode plus sy vergesogte klagtes teen KS, sou die klok vir die finale rondte van die Bond lui. Die Sinode kon en wou nie met hom tot 'n vergelyk kom nie. Met sy "die wenner vat alles"-benadering het die laaste twee groepe egter nie in Gaum se visier vir versoening gekom nie.

'n Ander belangrike "ou" kwessie op die sakelys van die Algemene Sinode van 1994 was eenheid in die NG Kerkfamilie. 'n Versoende NG Kerkfamilie is ook versoen wat hulle eenheidstrukture en gesamentlike werksaamhede betref.

2.8 PRENTJIE VAN VERSOENING VOLTOOI: VOORSTELLE VAN DIE ASK

Oor die uitvoering van die besluit van die Algemene Sinode van 1990 in KS-1990 oor die "ideaal van één kerkverband" vir die NG Kerkfamilie, moes daar ook aan die Algemene Sinode van 1994 gerapporteer word. Dat die ASK onverwyld hieraan aandag gegee het, blyk uit die feit dat dit in 1992 reeds voorstelle vir die wyse waarop hierdie kerkverband tot stand kan kom, goedgekeur het (NGK 1994a:16). Hierdie stuk sou egter gewysig word.

In 'n laatstuk voor die Sinode meld die ASK dat hy eenheidsgesprekke gehad het met die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA). Die gesprekke het na die vereniging van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika vroeër in 1994 (dit moes volgens deelnemers vóór 27 April wees om 'n kerklike voorbeeld vir die Suid-Afrikaanse politiek te wees, PS) aan "momentum gewen". Volgens die ASK is die voorstelle wat gemaak word, "ondermeer" die produk van 'n gesamentlike ad-hockommissie met die VGKSA. Die "ondermeer" impliseer skynbaar die voorstelle van die ASK en die ad-hockommissie soos verwerk en saamgevat in die verslag (NGK 1994A:16).

Die uitgangspunt is dat die Algemene Sinode en die "ander lede van die NG Kerkfamilie" saamwerk in die daarstelling van "een kerkverband op grondslag van 'n goedgekeurde kerkorde". 'n Gesamentlike kommissie moet so 'n konsep-kerkorde opstel. Volgens die ASK is 'n kerkorde meer as 'n dokument wat gemeentes organisatories bind. Dit is die verwoording van die identiteit en diepste oortuigings van so 'n kerkverband.

In hierdie voorgestelde kerkorde en "meegaande besluite" kan daar aan die volgende sake aandag gegee word: belydenisskrifte, die struktuur, funksionering en naam van die kerkverband, liturgie en liturgiese gebruike, gesangeboeke, administratiewe en finansiële sake en die samestelling en funksies van 'n "verenigingsinode". Elke lid van die NG Kerkfamilie toets die konsep-kerkorde en "meegaande" voorstelle op sy manier aan sy vergaderings.

Wat die ASK betref, moet die konsep-kerkorde en die "meegaande besluite" van die gesamentlike kommissie na voltooiing aan die ASK vir kommentaar voorgelê word. Die stukke van die gesamentlike kommissie en die kommentaar van die ASK word aan sinodale kommissies, ringe en kerkrade deurgegee vir hulle kommentaar. Op hulle beurt raadpleeg kerkrade gemeentelede vir hulle kommentaar. Die kommentaar van mindere vergaderings en lidmate gaan via die ASK terug na die gesamentlike kommissie. Hulle tweede konsep loop dieselfde pad tot by gemeentelede. Die Algemene Sinode en sinodes besluit finaal oor die konsep-kerkorde en meegaande besluite (NGK 1994H:354-355).

Twee sake is opvallend in hierdie voorstelle. Die eerste is die rol wat 'n kerkorde in die proses volgens die ASK moet speel. Die ASK bestempel die eenheid van gemeentes in een kerkverband as 'n eenheid in Woord en belydenis wat hom, let wel, kerkregtelik uitdruk in een kerkorde. Die tweede een is die feit dat daar raadpleging vir hierdie voorstelle tot by gemeentes en gemeentelede moet wees.

Dat 'n kerkorde die identititeit en diepste oortuigings van 'n kerkverband sou verwoord, is 'n verwarring daarvan met die belydenis van die kerk. 'n Voorbeeld: toetrede tot die geledere van die belydende lidmate van 'n gemeente geskied nie na jou instemming met die kerkorde nie, maar met die belydenis van die kerk. Jy kan met die kerkorde verskil en steeds belydenis van geloof voor 'n gemeente aflê én aanvaar word. Belydenisse as die akkoord of basis van gemeenskap is die diepste verwoording van die geloofsidentiteit van die kerk (Smit 1984:64). Daarom dat belydenisskrifte in 'n gereformeerde kerk met 'n groter meerderheid of 'n breër instemming aanvaar moet word as 'n kerkorde (NGK 2007KO:19,20,97).

Juis omdat kerkeenheid ten diepste belydeniseenheid maar self ook 'n belydeniswaarheid is, waarborg gehoorsaamheid aan Skrif en belydenis en nie die orde van die kerk nie, ten diepste kerkeenheid. Getrouheid aan die belydenis as 'n verwoording van die lidmate van die kerk se hartsgeloof, is 'n groter en beter dryfveer vir kerkeenheid teen kerkskeuring en verdeeldheid as 'n logiese, praktiese kerkorde. Dit gaan hier om 'n saak van innerlike geloof en oortuiging en nie uiterlike dwang nie. Om die "dwang" van geloofsoortuigings en nie kerkordemaatreëls of ordereëls wat kerkeenheid wat uit die hart moet kom, nie kan afdwing of waarborg nie.

Wat wel waar is, is dat Woord en belydenis sigself uitdruk in 'n kerkorde. En hoewel gehoorsaamheid aan die kerkorde as die besluite van bevoegde kerkvergaderings met geforseerde gehoorsaamheid gepaard kan gaan, moet dit eerder spruit uit die feit dat dit kerkregtelike konsekwensies van Skrif en belydenis is. Gereformeerd kerklik gesien is Christusgesag Woordgesag of die uitgangspunt dat besluite Woordgebonde moet wees (vgl Jonker 1965:6).

Uit 'n gereformeerde oogpunt is die ASK egter reg dat gemeentes van dieselfde belydenis en kerkinrigting as volledige kerke of kerke in die volle sin van die woord groepeer in 'n, vir hulle, aanvaarbare kerkverband. (Strauss 2010a:63-68). Die ASK gaan egter nie verder as slegs 'n raadpleging van gemeentes nie. Later word die NG-Kerkorde (NGKO) deur Algemene Sinode van 2004 so gewysig dat 'n tweederde meerderheid van tweederdes van alle kerkrade plus 'n tweederde meerderheid van elke sinode 'n belydeniswysiging moet goedkeur. Die kerkrade moet dus nie net kommentaar lewer nie, maar stem (NGK 2004KO:19). Dieselfde Algemene Sinode besluit dat die finale voorstelle vir eenheid in die NG Kerkfamilie ook met 'n tweederde meerderheid van tweederdes van alle kerkrade plus 'n tweederde meerderheid van elke sinode goedgekeur moet word (NGK 2004:429; vgl beredenering by Strauss 1999:32-54). Kerkrade wat met Christusgesag Christokraties in gemeentes regeer en besluit, moet ook stem as daar besluit word wat gemeentes glo en wat die struktuur van die kerkverband is waarin hulle lewe (Strauss 1999:32-54).

Die voorstel van die ASK by die Sinode van 1994 dat gemeentes kommentaar lewer, spruit uit twee oorwegings. Eerstens erken dit - in die motivering - dat gemeentes en nie indiwiduele lidmate nie, kerkverband vorm. Tweedens gee dit hande en voete aan die stelling dat die kerk moet oortuig (in alle kerklike sake) en nie dwing nie. Die ASK-formulering van 1994 baan die weg vir die wysiging van NGKO in 2004 op hierdie punt, maar gaan self nie sover nie.

2.9 DIE ALGEMENE SINODE VAN 1994 EN KERKEENHEID

Die voorstel van die ASK word deur die Algemene Sinode van 1994 gering gewysig en aanvaar. Hoewel daar vrae by sommige sinodelede is oor die aanvaarbaarheid daarvan vir die VGKSA, die RCA en die gemeentes wat steeds die van NG Kerk in Afrika (NGKA) is, stem die meeste van ons vir die nuwe inisiatief. Ons sou dit ook in die bestaande verband van die NG Kerk kon gaan verkoop. Van die redes vir hierdie optimisme word in die finale besluit van die sinode vervat.

Die voorstelle vir samewerking met die "ander lede" lede van die NG Kerkfamilie vir een kerkverband, 'n gesamentlike kommissie vir 'n nuwe kerkorde, die sake waaraan so 'n kommissie aandag moet gee en dat elke lidkerk die voorstelle op sy eie manier by sy vergaderings toets, word aanvaar. Met betrekking tot die wyse van toetsing in die NG Kerk word die voorstel soos reeds bespreek, goedgekeur.

Die Sinode beklemtoon dat lidmaatskap van die gemeentes van die NG Kerkfamilie oop is vir alle gelowiges wat die belydenis van die betrokke gemeente aanvaar. In die familie kan lidmate oor en weer by gemeentes van die ander kerke inskakel. Gemeentes, ringe en sinodes kan by ander lede van die familie inskakel en deel word van so 'n kerk. Hulle kan ook voortgaan soos tans. Samewerkingstrukture wat nie die kerkregtelike posisie van kerkvergaderings in gedrang bring nie, word in die vooruitsig gestel.

As uitdrukking van een kerkverband word 'n verenigde sinode vir die NG Kerk, die NG Sendingkerk, die NGKA en die RCA in die vooruitsig gestel. Hierdie sinode handel oor sake van gemeenskaplike belang en neem besluite deur middel van konsensus. Die streeksinodes of, in NG-taal, bestaande sinodes en nie die bestaande algemene sinodes nie, word proporsioneel in hierdie sinode verteenwoordig.

Belydeniskwessies of die aanvaarding van die Belydenis van Belhar, moet voortdurend aandag kry. "Bykomende strukture" kan ook ontwikkel namate die eenheid in die familie groei (NGK 1994H:440-442).

Die voorstel beoog dus 'n gemeenskaplike sinode as eerste mikpunt vir kerkeenheid. Die eindpunt moet ontwikkel uit 'n groeiproses. Daarby word hierdie sinode van twee kante vir bekommerdes oor huidige kerklike strukture en gebruike, "beveilig". Dit kan alleen oor gemeenskaplike sake besluit en besluite moet deur konsensus geneem word.

Die konsensusbepaling beteken dus dat 'n sinode 'n besluit kan veto. Sinodes hoef nie daardie besluite te aanvaar waarvoor hulle nie kans sien nie en kan boonop beswaar maak - weer met 'n bepalende vetoreg - indien hulle voel dat 'n saak nie gemeenskaplik is nie. Miskien juis omdat kerkvergaderings met oortuiging moet werk, was die kwessie van konsensus 'n ou gereformeerde ideaal. Die vraag is egter waarom dit tot die voorgestelde sinode en nie ander vergaderings nie, beperk word en wat verander wat sinodes betref? Hulle behou in effek die vermoë om oor alles self te besluit. Hulle het dus meer bevoegdheid as binne die raamwerk van hulle eie bestaande algemene sinodes.

Hierdie voorwaardes weerspieël iets van 'n vrees vir sinodale "magsdeling" - destyds 'n swanger politieke begrip in Suid-Afrika. Dit dui op die eerste, aarselende treë op die pad van sinodale eenheid in die NG Kerkfamilie19: op 'n verskansing téénoor die ander kerke in die familie én teen besware uit eie geledere.

Vanuit 'n gereformeerde kerkbegrip geoordeel is die kar hier voor die perde gespan. In 'n proses van kerkeenheid is belydeniskwessies meer fundamenteel as enige ander kwessie. Verskille hieroor moet eerste opgelos word. Vandaar kan beweeg word na 'n kerkorde. As 'n kerkorde opgestel, maar die belydeniskwessie oopgelaat word, kan verskille oor laasgenoemde die hele proses laat stol. Byna twee dekades na 1994 is die vraag na Belhar as belydenis steeds 'n probleem in hierdie onafgehandelde proses. Die erns waarmee die VGKSA Belhar bejeën deurdat hulle die NG Kerk se "onvoorwaardelike" aanvaarding daarvan telkens "'n ononderhandelbare vereiste vir die voortgang van die gesprek oor kerkeenheid" (die woorde van die VGKSA-ASK in 1996) maak (Strauss 2010b: 136; vgl NGK 1998Ai:18; vgl VGKSA 2008:195-197), is deur die Algemene Sinode van 1994 onderskat.

Moontlik was daar - onbewustelik - vir sommige NG Kerkleiers tog navolgingswaardige voorbeelde uit die onderhandelinge by Kemptonpark wat voor 1994 tot die "nuwe" Suid-Afrikaanse staat gelei het. Kemptonpark het 'n oorgangsgrondwet vir die staat opgelewer. Die kerkeenheidsproses moes 'n nuwe kerkorde waarbinne kerkeenheid gestalte kan kry, oplewer.

2.10 DIE NGKA

Uit die kerkeenheidsverslag van die ASK aan die Algemene Sinode van 1994 was dit duidelik dat die eenheidsgesprekke met die NG Kerkfamilie deur sy dagbestuur voor die Sinode tot die dagbestuur van die VGKSA beperk was. Die RCA en die ongeveer 100 gemeentes wat hulleself as die voortsetting van die NGKA beskou het, was nie betrokke nie.

'n Voortsetting hiervan sou op kantkiesery tot nadeel van die eenheid van die familie neerkom. Boonop kon dit die grootste deel van twee belangrike Sinodes van die NGKA, die Vrystaat en Phororo (Noord-Kaap), die twee sinodes wat die NGKA wou kontinueer, van ons vervreem. Nadat ek in 1995 tot assessor of ondervoorsitter van die Vrystaatse Sinode en dus ook die Moderamen verkies is, het ek van hierdie kwessie in gesprekke met die Sinodale Kommissies van die NGKA Vrystaat en Phororo deeglik kennis geneem. Ek onthou ook die gretigheid waarmee die NGKA Vrystaat ons ontmoet het en die hartseerverhale rondom die ontstaan van die VGKSA wat ons moes aanhoor.

Ds Nico Basson, 'n voormalige aktuarius van die Algemene Sinode van die NGKA en 'n bejaarde en oortuigende sendelingfiguur uit Witzieshoek, was as ouderling van Parys (plek van sy aftrede) by die Algemene Sinode van 1994. Op sy minsame manier was hy oortuig dat die NGKA (hy het sy lewe aan hierdie kerk gewy) steeds bestaan. 'n Saak wat hy met stewige argumente in die besprekings gestel het.

Daarom het ons Pieter Potgieter se voorstel soos goedgekeur deur die vergadering op 14 Oktober ondersteun dat ons "begeer" dat alle lidmate en gemeentes van die NG Kerk, die RCA en die "voormalige" NGKA en NG Sendingkerk (NGSK) deel sal wees van die proses van eenheid. Dat ons verteenwoordigers in die eenheidsproses dit in berekening bring. Vir Pieter op sy "no nonsense"-manier was dit die konsekwensie van die begrip die "hele" familie. Verskille tussen twee lede van die familie moet opgelos word en nie die eenheid van die hele familie in gedrang bring nie. Hy het nie na die NGKA en die VGKSA in hierdie deel van sy voorstel verwys nie, maar 'n onpartydige "voormalige" vir die NGKA en die ou NGSK gebruik. Terselfdertyd is die VGKSA - by name - vroeër in die mosie seën toegebid (NGK 1994H:456).

Iets was op hierdie punt op die Sinode by sommige aan die roer van "as die VGKSA so sê" val ons ter wille van eenheid in die familie daarby in. Vir my en talle ander sou dit ons verhinder om selfstandig na die meriete van sake te kyk. Boonop was die sage van die ontstaan van die VGKSA waarvan ongeveer 100 gemeentes hulle gedistansieer het, 'n saak wat op die oog af meer as een kant gehad het.

So het die Algemene Sinode van 1994 vir my by figure uit die "hele" NG Kerkfamilie betrek. 'n Familie waarvan ek sommige vandag as "egte" broers in Christus beleef. 'n Familie by wie ek geleer het van kerklike entoesiasme, lojaliteit en eerlikheid.

2.11 DIE BELYDENISKWESSIE

Die versigtige optimisme en gees van versoening wat in die Algemene Sinode van 1994 merkbaar was, sou ook heers in sy besluite oor eenheid in die NG Kerkfamilie. Vir my, soos baie van die ander sinodelede, was eenheidsgesprekke met verteenwoordigers van die jonger kerke, egter iets vreemds. Iets waarby ons nog nie betrokke was nie.

Ons het vermoed dat daar weerstand in van ons eie gemeentes teen die besluite van die Algemene Sinode van 1994 oor eenheid in die familie kan wees, maar die beginsel van eenheid en die besef dat die voorstelle 'n redelike begin kon wees, het ons gemotiveer.

Teen hierdie agtergrond het ek die besluite van die Vrystaatse Sinode van 1995 gesteun wat in dieselfde rigting as die besluit van die Algemene Sinode geloop het. As voorsitter van die Tydelike Kommissie vir Algemene Sake moes doktor Sarel Eloff van Parys verslag lewer. Hy was 'n oud-voorsitter van die Sinode van Wes-Transvaal en ook 'n predikant in Algemene Sinodale Diens.

Twee indrukke uit hierdie Sinode bly my by. Die eerste is die gespanne erns waarmee Oom Sarel soos 'n stywe snaar oor die kateder voor die Sinode gebuig het. Kerksake sou tot die dag van sy dood sy groot erns bly. Die tweede was die Sinode se absolute weerstand teen Belhar. Op voorstel van my vriende Sybrand Strauss en Johan van Rensburg20 is daar eerder vir 'n nuwe, gesamentlike belydenisskrif gekies. Die "gesamentlike" as dit kom by die opstel van 'n belydenis, het 'n belangrike plek by hierdie vergadering ingeneem (NGK-OVS 1995:601-604). Dit word deur sekere gereformeerde teoloë gehandhaaf dat ekumeniese aanvaarbaarheid of 'n breë kerklike aanvaarding 'n vereiste is vir die aanvaarding van 'n belydenisskrif. 'n Voorgestelde belydenisskrif moet so duidelik oor Skriftuurlike kernwaarhede handel, dat dit deur meer mense (ongekwalifiseerd) as feitlik vanselfsprekend ingesien word (Strauss 2005:563-564). Gesamentlik is dus beter as eensydig.

Kort hierna het die Algemene Sinode van 1994 se kar-voor-die-perde-besluit tot stilstand geknars. 'n Besluit van die ASK van die VGKSA sou die gesprek terugbring na waar hy kerklik móés begin: by die Belydenis van Belhar.

In sy verslag aan die Algemene Sinode van 1998 oor "Eenheid in die NG Kerkfamilie" rapporteer die ASK dat die eenheidsproses "verwikkeld verloop" en dat die uitvoering van die besluite van 1994 "geen eenvoudige saak" is nie. Vordering word belemmer deur 'n onopgelosde meningsverskil oor die teenwoordigheid van verteenwoordigers van die NGKA Phororo en Vrystaat by die samesprekings (vir die VGKSA was die NGKA VGKSA-beswaardes wat deur die VGKSA verteenwoordig word), die hofsaak wat die VGKSA teen die NGKA by die Vrystaatse Hoërhof aanhangig gemaak en wat intussen 'n Appélhofsaak geword het en meningsverskille oor die "belydenisgrondslag" en struktuur van die voorgestelde kerkverband. Na aanleiding van die Belydenis van Belhar het die voortgang van die proses volgens die ASK ernstig in gedrang gekom deur 'n skrywe wat hy in Oktober 1996 van die ASK van die VGKSA ontvang het.

In dié besluit het die VGKSA hakke ingeslaan by die reeds genoemde onvoorwaardelike aanvaarding van Belhar deur die NG Kerk as 'n ononderhandelbare voorwaarde vir die eenheidsgesprek. Die voorwaarde is deur die Sinode van die VGKSA in 1997 'n bietjie versag toe hulle die voortgang van die gesprek nie ook van die aanvaarding van Belhar afhanklik gemaak het nie (NGK 1998A:17-18).

Die ASK van die VGKSA en hulle Sinode het dit egter raakgevat: eenheid kan en sal nie kom as die belydenisgrondslag van die voorgestelde NGK-kerkverband nie gefinaliseer is nie. Soos gestel: vir egte gereformeerde kerke vorm hulle belydenisskrifte hulle akkoord of basis van kerklike gemeenskap. Daarom bou 'n kerkverband as 'n geloofsgemeenskap op die belydenisskrifte van sy geloof.

Die VGKSA was egter so oortuig van die meriete van Belhar as belydenis en sy eie vorm of gestalte van eenheid met 'n gedeelte van die NGKA, dat dit hom verhinder het om die meriete van twee Belharverwante sake in te sien. 'n Meriete wat vanuit 'n konsekwente vertolking van Belhar opvallend is.

Die eerste is dat die dagvaardiging van die NGKA deur die VGKSA in die middel-negentigerjare oor verskille in hulle eenheidsproses onkerklik was. Belhar self kies vir oortuiging en nie dwang nie, as die kerklike manier van doen. Die tweede is dat dieselfde onkerklike optrede later blyk uit die VGKSA-ultimatum aan die ander lede van die NG Kerkfamilie oor die aanvaarding van Belhar as belydenis as 'n voorwaarde vir kerkeenheid (vgl VGKSA 2008:197). 'n Belydenis kom immers uit die hart van die gelowiges en nie deur dwang nie. So gebruik word Belhar 'n faktor wat verongeluk wat hyself voorstaan: kerkeenheid.

In die aanloop tot die Algemene Sinode van 1998 het die ASK van die NG Kerk met ondermeer twee kernpunte op die ASK van die VGKSA se besluit van Oktober 1996 oor Belhar gereageer.

Die eerste is dat Belhar "op sigself genome" en in aansluiting by die Algemene Sinode van 1990 nie met die Drie Formuliere van Eenheid of drie gereformeerde belydenisskrifte van die NG Kerk in stryd is nie. Dat die NG Kerk erken dat Belhar vir die VGKSA 'n eietydse belydenis uit die apartheidstyd is.

Die tweede is dat die aanvaarding van Belhar as 'n vierde belydenisskrif of 'n deel van die Formuliere van Eenheid soveel onenigheid in die NG Kerk sal veroorsaak, dat dit "op die oomblik" nie 'n opsie is nie. Indien daar nie 'n weg gevind word om Belhar 'n opsionele belydenis in 'n nuwe kerkverband te maak nie, kan dit die eenheidsproses kelder. Die familie sal 'n manier moet vind wat hierdie opsie moontlik maak. Die ASK grond sy opinie op die raadpleging van gemeentes in die middel van 1995 en vroeg in 1998. Hier het dit gegaan om inligting oor die eenheidsproses in die stukke "Sodat almal een kan wees I en II". Laasgenoemde is direk opgevolg met 'n inligtingstuk aan gemeentes oor Belhar (NGK 1998Ai:19-20).

Uiteenlopende kommentaar is op Belhar ontvang. Die ASK het die eindresultaat opgesom deur die stelling dat die "oorgrote meerderheid lidmate/kerkvergaderings" Belhar nie nou as belydenis wil aanvaar nie (NGK 1998Aii:35). Uiteenlopende redes word aangevoer. Moontlike oplossings word egter ook genoem: die opsionele opsie en die skryf van 'n nuwe, gesamentlike belydenisskrif (NGK 1998H:309).

2.12 DIE WBGK

Die verhoudinge tussen die NG Kerk en die WBGK nadat laasgenoemde eersgenoemde in 1982 by Ottowa oor sy kerklike (teologiese en morele) steun aan apartheid geskors het, sou in 1994 'n laagtepunt bereik. Die WBGK het in 1982 drie vereistes gestel waaraan die NG Kerk moet voldoen voordat hy in die WBGK heropgeneem word: swart Christene mag nie van eredienste en veral die nagmaal uitgesluit word nie; die NG Kerk moet deur woord en daad hulp aan die slagoffers van apartheid verleen; en sinodes moet apartheid verwerp en die kerk daartoe verbind om die sisteem in kerk en staat af te breek. Hierdie voorwaardes is mettertyd verder "ingevul". Die NG Kerk se voorlegging na KS-1990 én konferensies met Suid-Afrikaanse lidkerke van die WBGK is in Julie 1993 deur die Uitvoerende Komitee van die WBGK as onvoldoende van die hand gewys. Dieselfde komitee het 'n vereiste bygevoeg: die NG Kerk moet hom vereenselwig met die status confessionis van Ottawa teen die teologiese en morele regverdiging van apartheid en dit moet saamval met die eenwording van die NG Kerkfamilie. Vir die WBGK het 'n status confessionis beteken dat jy nie met hom oor die saak kan verskil sonder om die integriteit van "our common confession as Reformed Churches" in gedrang te bring nie. Die bytrek van die status confessionis en eenheid in die NG Kerkfamilie het die NG Kerk egter met die gevoel gelaat dat die WBGK die doelpale verskuif (Strauss 2002:211213, 234).

Volgens die Algemene Sinode van 1994 is hy "diep ongelukkig" oor die indruk wat die WBGK laat dat hy die integriteit van die NG Kerk nie "ernstig" neem nie. Hyself oordeel dat hy genoeg gedoen het om aan die voorwaardes van Ottawa te voldoen. Hy kan na 12 jaar nie tevrede bly met sy skorsing nie en sal by die volgende sinode 'n besluit oor sy lidmaatskap neem (NGK 1994H:443).

In 1997 kom daar egter 'n wending in die saak. 'n Afvaardiging van die Uitvoerende Komitee van die WBGK ontmoet die dagbestuur van die ASK van die NG Kerk in April in Bloemfontein. Op die vergadering wat stram begin, ontwikkel daar mettertyd 'n ander atmosfeer. By die verdaging heers daar volgens die ASK 'n baie beter "gesindheid". As die verteenwoordigers van die die NG Kerk is hulle dus nie verbaas om 2 weke later 'n uitnodiging na die 23ste Algemene Vergadering van die WBGK in Augustus in Debrecen, Hongarye, te kry nie.

Hier word die nuwe verhouding voortgesit. Die Uitvoerende Komitee neem die inisiatief en lê 'n gesamentlike ("joint") voorstel van homself en verteenwoordigers van die NG Kerk aan die Algemene Vergadering voor. As hierdie vergadering én die Algemene Sinode van die NG Kerk van Oktober 1998 die voorstel aanvaar, word die skorsing van die NG Kerk uit die WBGK opgehef. Hierdie voorneme vorm die laaste punt van die 4-punt voorstel wat eventueel deur die Algemene Vergadering aanvaar word.

In punt 1 bevestig die Wêreldbond sy verwerping van enige teologiese regverdiging van apartheid wat volgens hom 'n status confessionis daarstel. So 'n regverdiging weerspreek die Evangelie en is teologiese dwaalleer. In punt 2 word die Algemene Sinode versoek om die WBGK te verseker dat hy apartheid as verkeerd en sondig beskou, nie alleen in sy praktiese gevolge nie, maar ook in sy "fundamental nature". In punt 3 onderneem die WBGK om die proses van eenheid in die NG Kerkfamilie te fasiliteer.

In 'n pastorale brief wat die gesamentlike voorstel vergesél, verduidelik die WBGK dat die NG Kerk in onlangse verklarings soos met die boekie "Die verhaal van die NG Kerk se reis met apartheid 1960-1994 -'n getuienis en'n belydenis" wat deur Frits Gaum op versoek van die ASK geskryf is, volhou dat die fout met apartheid in sy implementering en nie óók in die teorie daarvan lê nie. Die WBGK glo egter dat die gedwonge skeiding van mense van verskillende rasse van so 'n aard is dat dit die sentrale waarheid van die Christelike geloof ontken dat almal gelyk geskape is na die beeld van God. 'n Ontkenning hiervan bring Christene se band met Christus in die gedrang. Waar die NG Kerk tot tevredenheid van die WBGK met die eerste 2 vereistes van Ottawa gevorder het, versoek die Algemene Vergadering hom nou om apartheid in sy geheel te veroordeel. 'n Aanvaarding van die gesamentlike besluit sal hieraan voldoen (NGK 1998A:40-42).

Hierdie versoek van die WBGK, gekwalifiseerd gesteun deur die ASK, vorm dus deel van die agenda van die Algemene Sinode van 1998 (NGK 1998H:42).

2.13 DIE WAARHEIDS- EN VERSOENINGSKOMMISSIE

Die Algemene Sinode van 1994 dra dit aan sy Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake op om die nuutingestelde WVK te ondersoek en daaroor aan die ASK verslag te lewer. Die ASK kon op hierdie verslag met volmag handel (NGK 1994H:502).

In 1995 nomineer die ASK "'n paar persone" as kommissarisse vir die WVK. Nie een van hierdie mense word egter benoem nie. 'n Lid van die ASK, Piet Meiring, word later op aanbeveling van die voorsitter van die WVK, Desmond Tutu, as lid van die WVK aangestel. Tutu sou dus sorg vir meer verteenwoordigende aanstellings. Hiermee het hy op 'n vroeë stadium reeds blyke van sy besondere ewewig in die prosesse van die WVK laat blyk. Hy sou mettertyd uitstaan as die kampioen van versoening onder die kerklikes in Suid-Afrika21.

In Desember 1995 roep die ASK gemeentes op om persone wat "geraak word" deur die ondersoeke van die WVK, pastoraal te begelei (NGK 1998Ai:23).

In Oktober 1996 besluit die ASK dat hy nie 'n voorlegging aan die WVK namens die NG Kerk gaan maak nie. Die besluit word egter nie sonder drama geneem nie (NGK 1998Ai: 24).

Voorsitter Freek Swanepoel het geglo dat die NG Kerk as 'n vroeëre apartheidsagent homself deur 'n voorlegging en die "absolusie" (nie sy term nie!) wat die WVK gee, in die oë van baie Suid-Afrikaners kan rehabiliteer. Die meerderheid van die ASK, waaronder ek, was egter nie daarvan oortuig nie. Ons kon nie glo dat mense absolusie (soos Roomse priesters) gee nie, veral nie deur 'n staatsinstelling nie. Die kerk kan op meer kerklike maniere met mense versoen.

Die voorsitter wat reeds tydens die Algemene Sinode van 1994 laat blyk het dat die stem van die meerderheid hom nie altyd aanspreek nie, het na die stemming aangekondig dat hy bedank. Die kool was egter nie die sous werd nie. As 'n jong ASK-lid was ek een van die sprekers wat hom gevra het om aan te bly. Skynbaar het hy die optrede van president Paul Kruger in gedagte gehad as sy Uitvoerende Raad hom nie wou volg nie. Oom Paul het gedreig om te bedank en dan besluit om aan te bly nadat daar ernstig gepleit is dat hy nie moet loop nie en sy mening aanvaar is. Freek het gunstig op ons pleitredes gereageer. Hierdie soort "taktiese" bewegings het my nie beïndruk nie.

In Mei 1997 het die ASK met Frits Gaum se pennevrug oor die NG Kerk en apartheid gereageer toe die WVK hom om 'n voorlegging gevra het. Ek sou 'n meer akademies-erkende aanpak van iemand anders wou gehad het, maar Gaum was die kandidaat van die moderatuur. Hulle wou die saak skynbaar naby aan hulleself hou. Kopieë is aan die WVK beskikbaar gestel. 'n Amptelike voorlegging aan dié instansie sou egter uitbly.

Dieselfde posisie oor die NG Kerk se amptelike houding teenoor die WVK was van krag toe voorsitter Swanepoel op hulle uitnodiging op 19 November 1997 aan 'n "openbare getuinisgeleentheid" van die WVK in Oos-London deelgeneem het (NGK 1998:24). Vir hom was dit skynbaar 'n troos vir die feit dat die NG Kerk nie 'n voorlegging wou doen nie.

Die Algemene Sinode van 1998 sou dus weer met sake soos die ekumene, die eenheid in die NG Kerkfamilie, die naweë van apartheid, kerk en samelewing en verdere interne kerklike verandering op sy agenda te make kry. Die NG Kerk en sy Algemene Sinode was steeds in die kollig van die aandag op "kerk en samelewing" in die openbare media. Versoening na binne en na buite deur die NG Kerk sou 'n agendapunt by die Algemene Sinode bly.

Was die Algemene Sinode van 1994 'n sinode van versoening? Die paar uiterlike tekens hiervan moet in perspektief gesien word. Kerkpolitiekgetinte aksies van sinodale figure mis soms die geestelike drakrag van gefundeerde kerklike oortuigings.

 

HOOFSTUK 3

BESTENDIGING IN 'N NUWE BEDELING

Waar die Algemene Sinode van 1994 aarselende, versoenende treë in die nuwe Suid-Afrika gegee het, het die Algemene Sinode van 1998 gefokus op die bestendiging van die gereformeerde karakter van die NG Kerk in 'n nuwe eksterne, nasionale en internasionale situasie. Kortweg: op sy gereformeerdwees tussen en saam met ander.

Die nuwe ekumeniese situasie na die isolasie van die NG Kerk tot 1986 naamlik 'n herstel van, asook nuwe ekumeniese verhoudinge, 'n voortgaande konsentrasie op kerkwees in Suid-Afrika na 1994, duideliker formulerings oor hoe die NG Kerk sy belydenisskrifte aanvaar, eenheid in die NG Kerkfamilie en nuwe denke oor praktyke in die NG Kerk was ondermeer op die agenda.

Die gees wat op die Sinode sou heers, was reeds op die eerste dag (Maandag 12 Oktober 1998) waarneembaar in die verkiesing van die moderatuur. Die aangewese persone was almal - breedweg - van gereformeerde oortuiging wat verantwoorde vernuwing of 'n sterk dosis eietydsheid nie uitsluit nie. Houdings wat hulle ook in die NG Kerk laat hoor het en waarvan ek persoonlik evaring gehad het.

Pieter Potgieter is weer as die nuwe voorsitter of moderator aangewys (NGK 1998N:401-402). Sy liefde vir die gereformeerde belydenis sonder om te stagneer en voorstel by die Algemene Sinode van 1986 oor "oop" (ten opsigte van ras) lidmaatskap, tesame met sy gebalanseerde leiding vanuit die stoel in die situasie van 1990 tot 1994 was wyd bekend. Sy herverkiesing het die vertroue van die deursnee sinodeganger in sy oordeel weerspieël.

As ondervoorsitter of assessor sou ds Mike Smuts van die Sinode van Noord-Transvaal dien (NGK 1998N:402). Sy gereformeerde benadering ten opsigte van die liturgie of erediens in die breë asook ampsbediening en evangelisasie - hy was predikant in algemene sinodale diens vir ampsbediening en evangelisasie vanaf 1983-1990 - was bekend (NGK 2010:372). Mike is konsidererend maar 'n voorstander van verankerde of verantwoorde vernuwing. Met hulle benaderings het voorsitter en ondervoorsitter breedweg vertroue ingeboesem.

As aktuarius of kerkregkundige is Pieter Coertzen, professor in Kerkgekiedenis en Kerkreg op Stellenbosch, aangewys. Hy dien hierin sedert 1994 (NGK 1994H: 426; NGK 1998H:402). Ook hy is 'n moderne gereformeerde of 'n voorstander van verantwoorde vernuwing. Die flambojante ds Cassie Carstens sou die skriba wees (NGK 1998H:403).

Kerksang22 en hoofsaaknotules23 is sy kos, maar in sensitiewe kerklike en dogmatiese kwessies laat hy hom deur ander lei. Met sy (onbeperkte?) veelkleurige onderbaadjies het Cassie 'n nuwe inhoud aan die besluit om die reëls vir die kleredrag van sinodegangers te skrap, gegee.

Agterna beskou het die aarselende, versoenende optrede van die Algemene Sinode van 1994 plek gemaak vir tekens van bestendigheid by die Algemene Sinode van 1998. Die NG Kerk was 'n gereformeerde kerk in die moderne Suidelike Afrika - aan die einde van die 20ste eeu. Daar was sigbare uitdrukkings van sy karakter as kerk. Die aanloop tot, voorbereidings vir en verloop van die vergadering sou dit illustreer.

3.1 EKUMENE TOT 1998

Ten opsigte van die skorsing van die NG Kerk deur die WBGK het die "joint resolution" alleen nog op die goedkeuring van die Algemene Sinode van 1998 gewag. Die Algemene Vergadering van die WBGK het dit reeds in 1997 in Debrecen, Hongarye, aanvaar (NGK 1998H:412). Hier was vordering wat kon lei tot die herstel van die NG Kerk as lid van die WBGK.

Tydens 'n studiebesoek aan Genevé in 1995 het ek die sekretaris-generaal van die WBGK, doktor Milan OpoCensky, ontmoet. Ek kan onthou dat ons ook gepraat het oor die Algemene Sinode van die NG Kerk se afwysing van apartheid wat myns insiens 'n gekwalifiseerde apartheid was (vgl my standpunt in Strauss 2002:238-239 en hierbo). Ek was daarvan oortuig dat 'n definiëring van die soort apartheid wat die kerk verwerp, sake vir beide die NG Kerk en die WBGK kan vergemaklik. Dan weet altwee waaroor hulle praat en kan dit per konsekwensie teenoor alle soorte "gedwonge" staatkundige apartheid - ook deur visumbeheer, vereistes vir burgerskap, deportasies ensovoorts - afgeweeg word.

In die NG Kerk was my interpretasie op daardie stadium egter nie oral welkom nie. Dat sekere funksionarisse van die Algemene Sinode dit in persoonlike gesprekke bespreek het, het by my uitgekom deur 'n sydelingse kritiese verwysing daarna deur een van hulle in 'n gesprek met my. My interpretasie sou ons saak by die WBGK bemoeilik en kan nie ernstig geneem word nie. Apartheid was ongekwalifiseerd verwerplik. Anders gestel: apartheid is apartheid en daarmee uit en gedaan.

Ek het my nie daaroor verknies nie. Die amptelike sinodestukke en my groeiende wrewel teenoor 'n kerkpolitiek wat verlangde uitkomste probeer manupileer, was daarvoor verantwoordelik. Bowendien moes ons OpoCensky met sy goeie insig in en aanvoeling van die sake nie onderskat nie.

In teenstelling met 'n veralgemeende afwys van apartheid het die Uitvoerende Komitee namens die WBGK, in sy pastorale brief aan die NG Kerk wat die "joint resolution" vergesél het, die saak omskryf. Volgens hulle gaan dit om die "very nature of forced separation" van mense van verskillende rasse wat die "fundamental biblical teaching that all humanity is equally created in the image of God" ontken. Die teologiese of kerklike verdediging hiervan in teorie en praktyk ("not simply in its effects and operations, but also in its fundamental nature") is kettery wat teen die sentrale Christelike geloofswaarheid ingaan dat alle mense gelyk geskape is en na die beeld van God. Hierdie dwaling skep 'n status confessionis vir die kerk. Dit impliseer egter nie sondermeer "excommunication" nie (vgl brief in NGK 1998H:412; Strauss 2002:239).

'n Duidelike voorstander van hierdie bykomende aksent by die Uitvoerende Komitee van die WBGK was Milan Opocensky. Hy sou die Algemene Sinode van 1998 bywoon en die voorstel ("joint resolution") toelig. Volgens hom beteken die aanvaarding van 'n status confessionis nie dat 'n belydenis hierop móét volg of dat die WBGK die NG Kerk in die aanvaarding van die Belydenis van Belhar indwing nie. Die WBGK sien so iets nie as sy terrein nie (Strauss 2002:239).

Wat ook voor die Algemene Sinode van 1998 bekend was, was dat die verteenwoordigers van die VGKSA teen die "joint resolution" by die Algemene Vergadering van die WBGK in 1997 in Debrecen, Hongarye, gestem het (Strauss 2002:239). In teenstelling hiermee wil die WBGK en sy Uitvoerende Komitee die boeke van apartheid toemaak. Opocensky se verduidelikings ter sinode in 1998 weerspreek opmerkings deur lede van die Sinodale Kommissie van die VGKSA meer as 'n dekade later dat die aanvaarding van die Belydenis van Belhar een van die voorwaardes vir die hertoelating van die NG Kerk tot die WBGK was en dat die NG Kerk nie daaraan voldoen het nie. Die aanvaarding van spesifieke belydenisse sien die WBGK - aldus Opocensky in 1998 - juis nie as sy terrein nie. Intussen is die NG Kerk by die Algemene Sinode van 1998 deur die WBGK in volle lidmaatskap heropgeneem. Dit is geskiedenis (NGK 2002A:393). Ekself was ook namens die NG Kerk in 2010 in Grand Rapids (VSA) by die Algemene Vergadering van die nuwe Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (die WGGK gevorm uit die GER en WBGK) as volle afgevaardigde. Hier was apartheid geen albatros meer om ons nekke nie (NGK 2011A:250).

Die WBGK en OpoCensky openbaar in die 1990's, anders as die WBGK-Ottawa in 1982 wat die NG Kerk skors, 'n onafhanklikheid van denke teenoor die VGKSA. Die Ottawa-besluit oor apartheid het selfs van die formulerings bevat wat sy aangewese voorsitter en 'n predikant van die NG Sendingkerk wat in 1994 in die VGKSA opgaan, Allan Boesak, oor Suid-Afrika gebruik het (Strauss 2004:104-105). Die WBGK het nou egter besluit dat die VGKSA hom nie langer met sy ultimatumbesluite gaan vashou of voorskryf nie.

Die "joint resolution" sou in die NG Kerk nie sonder spanning deur die Algemene Sinode van 1998 aanvaar word nie. Dit sou een van die uitstaande punte word waaraan hierdie Sinode onthou word.

Benewens verwikkelinge in sy verhouding met die WBGK weerspieël die agenda van die Algemene Sinode van 1998 'n uitgebreide lys van ekumeniese kontakte met indiwiduele kerke en ekumeniese liggame binne en buite Suid-Afrika. Die verskille tussen 1986 en 1998 is opvallend. Behalwe dat hy 'n volle lid van die GER is, is die NG Kerk in 1998 'n waarnemer by die SARK en 'n besoeker aan die Algemene Vergadering van die WRK. Die ekumeniese verslag van 1998 bevat heelwat meer oor bestaande kontakte en kontakmoontlikhede as die verslag van 1986 (NGK 1986A:72-84; NGK 1998A:32-43).

Soos wat 1994 nie alle politiek-staatkundige probleme in Suid-Afrika opgelos het nie, so het die sogenaamde Sinode van Versoening in 1994 ook nie alle spanning in die NG Kerk ontlont nie. Dit was ook waar ten opsigte van eenheid in die NG Kerkfamilie.

3.2 VERWIKKELINGE: EENHEIDSPROSES NG KERKFAMILIE

Daar is reeds verwys na die verslag oor die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie van die ASK soos gerig aan die Algemene Sinode van 1998. Met die besluite van die Algemene Sinode van 1994 hieroor in gedagte het die ASK tot die slotsom gekom dat hierdie sake "verwikkeld" verloop. Hierdie verwikkeldheid sou tot 'n groot mate rondom die Belydenis van Belhar wat deur die VGKSA as 'n voorwaarde vir eenheid gestel word, sentreer.

Die VGKSA was ook in 'n emosionele hofsaak met gemeentes van die NGKA gewikkel oor hulle afgeloopte eenheidsproses in 1994. Ekself het hierdie emosie veral by leiers van die NGKA teengekom wat hierdie "inisiatief" van die VGKSA net nie kon kleinkry nie. Naas gereelde gesprekke moes ek die groete van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk in 1995 op Parys aan die Vrystaatse Sinode van die NGKA gaan oordra.

Dit het saamgeval met hulle tradisionele gasvryheid en - vir ons - byna dramatiese redevoerings en debatte. My besoek is sigbaar waardeer24.

Op versoek van die VGKSA het die Vrystaatse Hooggeregshof op 22 Maart 1996 verklaar dat die Algemene Sinode van die NGKA van 1991 kon besluit dat die hele NGKA (gemeente, ringe en sinodes) met al sy regspsersone en hulle eiendomme, bates en laste op die ooreenstemmende regspersone in die nuwe VGKSA oorgaan. Dat die Algemene Sinode van die NGKA as sy breedste verteenwoordigende vergadering die bevoegdheid besit om die kerkverband van die gemeentes van dié kerk sonder hulle instemming en op sy eie te ontbind en die gemeentes in 'n nuwe verband op te neem. Dieselfde Algemene Sinode (1991) het ook sy kerkorde (artikel 36) gewysig om die wysiging in belydenis deur die aanvaarding van Belhar net van homself en nie ook - soos dit tot op daardie stadium bepaal is -van sy gewone of streeksinodes nie, afhanklik te maak. Die NGKA-Sinode Vrystaat wat uit 76 gemeentes en NGKA-Sinode Phororo (Noord-Kaap) wat uit 26 gemeentes bestaan het, het egter teen die uitspraak van die Vrystaatse Hof na die Appélhof geappélleer (Strauss 1999:47).

Tydens die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober 1998 het die Appélhof nog nie sy uitspraak gelewer nie. Dit sou eers op 27 November 1998 kom. Die kerkregtelike kante van die saak sou egter nie sonder drama - ook vir my persoonlik - aan die Algemene Sinode van 1998 verbygaan nie.

In die voorbereiding van hulle saak voor die Appélhof het die regspan van die NGKA besluit om die verklaring van 'n "kundige" oor die aard en vorming van kerkverband in die gereformeerde sin van die woord, by hulle betoog in te sluit. Of hulle ander persone ook geraadplaag het, weet ek nie, maar hulle het my genader. Ek het nooit hulle geskrewe stukke voor die Appélhof gelees nie en was ook nie verder by die saak betrokke nie.

My besluit om hierdie verklaring te gee, was nie teen die VGKSA as kerk gemik nie. Ek kon egter nie verhoed om kerkregtelike besware teen hulle manier van verbandvorming te ontwikkel nie. Hulle verandering van die kerkorde op die punt van belydeniswysiging was opportunisties. So werk die kerk nie. Daarby kon 'n hofsaak oor so 'n saak in ons reg 'n presedent skep waaraan ander gereformeerde kerke ook gehou word (Kleyn & Viljoen 1998:67-74). Vir my was dit noodsaaklik dat die hof na die gereformeerde kerk kyk soos wat hy beskou wil word. Gereformeerde Kerkreg en goeie staatsreg moet versoenbaar wees. My mening is gevra en ek sal dit gee.

As regslui dit wil gebruik, staan dit hulle vry. Ek het tot vandag nog nie eerstehands gehoor van 'n beswaar van waar ookal teen my betrokkenheid by die saak nie. Later sou daar vanuit die NGKA hofsake teen VGKSA-gemeentes gemaak word wat dieselfde metode gebruik en waarteen ek my ook uitgespreek het.

As professor in Kerkreg was ek daarvan oortuig dat 'n akademies verantwoorde inset by 'n hof soos die Appélhof oor die kwessie van kerkverband as 'n verband van gemeentes met kerkrade wat óók daaroor - oor die aard en belydenis van kerkverband - moet besluit, vir die gereformeerde saak iets kon beteken. Dat die gereformeerde Kerkreg gedien sal word as dit op hierdie punt deur 'n belangrike burgerlike hof gelyk gegee word.

'n Gemeente is volledig kerk as die merktekens van die ware kerk naamlik die suiwere (Bybelse) bediening van respektiewelik die Woord, sakramente en tug (Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 29) daarin voorkom. Vir gereformeerdes is dit 'n belydeniswaarheid. In die reg word hierdie saak gekomplementeer deur die beskouing dat die gemeente, met die kerkraad as sy orgaan, regspersoonlikheid het.

Intussen was die betrokkenheid van die NGKA en die RCA by die eenheidsproses in die NG Kerkfamlie nog nie gefinaliseer nie. Vir die VGKSA was die NGKA niks meer as VGKSA-beswaardes nie (NGK 1998A:36-37). Daarenteen was die belangrikste vraag waaroor die Appélhof in die appél van die NGKA moes beslis, of die NGKA steeds wettiglik of regsgeldig bestaan (Strauss 1999:47).

Die Algemene Sinode van Oktober 1998 kon egter nie wag vir die uitspraak van die Appélhof nie. Ek was daarvan oortuig dat die kerk hom in hierdie saak nie primêr deur 'n staatshof moet laat lei nie, maar sy deur eie kerkregtelike oortuigings. Die mening - spruitend uit 'n mening van die dagbestuur van die VGKSA - is wel by die ASK geopper dat die Appélhof duidelikheid in die saak kon bring (NGK 19982A:37), maar ons moes dit kerklik selfstandig of uit en uit kerklik hanteer. Om die NGKA by die eenheidsproses te betrek, soos die Algemene Sinode van 1994 besluit het, sou ons self 'n kerklike mening moes gee oor sy geldige bestaan as kerk. Die uitspraak van die Appélhof kan hierdie standpunt slegs versterk of bemoeilik.

In die bespreking van die dagbestuur oor die saak, het die lot op my geval om die verslag en aanbevelings vir goedkeuring deur die ASK voor te berei. Ek onthou dat die voorsitter, Freek Swanepoel, wat aanvanklik skepties was oor die "wettigheid" van die NGKA as kerk, die opstel van die verslag eventueel na my verwys het.

In die voorlegging aan die Algemene Sinode van 1998 (NGK 1998A:37-38) het die ASK dus ter inleiding verklaar dat die NG Kerkfamilie hom in sy onderlinge verhoudinge heel eerste deur Skriftuurlike, belydenis- en kerklike oorwegings moet laat lei. Vanuit hierdie oorwegings moet die familie mekaar se kerkwees beoordeel. Hofuitsprake oordeel uit 'n burgerregtelike oogpunt en kan nuttig wees, maar die finale woord in die saak, wat die NG Kerk betref, moet vanuit die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 28 en 29 kom. Daar waar dit gaan oor die merktekens van die ware kerk.

Omdat kerkverband 'n verband van gemeentes is, is dit belangrik by die erkenning van 'n verband wat die oordeel oor die gemeentes is. Voor 1994 is al die gemeentes binne die verbande van die NG Sendingkerk en NGKA as kerk erken. Hulle het inhoudelik nie veel verander nie. Wat wel verander het, is die kerkverbande waarby hulle inskakel. Hierdie skommeling het buite om die NG Kerk plaasgevind. Kan ons dus op belydenisgronde beweer dat die gemeentes van die NGKA nie meer saam 'n kerkverband vorm nie net omdat hulle nie die VGKSA in sy vorming wou volg nie? Die NG Kerk en RCA staan ook buite die "verenigende" kerk wat hulle toekomstige insluiting in sy naam impliseer. Sou die NG Kerk ook eers by hierdie nuwe kerkverband moes inskakel voordat hy as kerk erken word?

Die ou spook van dwang in plaas van innerlike oortuiging was steeds aan die wortel van die benadering van die VGKSA. Die neiging om vanuit 'n onkerklike regsargument met 'n ignorering van die gereformeerde erkenning van die selfstandigheid van gemeentes, 'n nuwe kerkverband op hulle af te forseer. Om vanuit 'n gesentraliseerde verstaan van kerklike gesag in 'n algemene sinode die kerkverband as 'n verband van selfstandige gemeentes te ontken en te stoomroller.

Die ASK was nie hiervoor te vinde nie. Wat homself en die NG Kerk betref, moes die pad van oortuiging en instemming geloop word. Sy voorstel aan die Algemene Sinode van 1998 oor die verhouding van die NG Kerk tot die VGKSA en NGKA sou nie aan die aspek van oortuigde gemeentes verbygaan nie. Die Algemene Sinode van 1998 moes finale uitsluitsel oor die saak gee.

Versprei oor die verslae van verskillende kommissies het dit uit die agenda geblyk dat die Algemene Sinode van 1998 egter nie net aan ekumene, eenheid in die NG Kerkfamilie en die kerk in 'n veranderde samelewing aandag gaan gee nie. Een van die uitstaande sake van 1998 wat nie die aandag kry wat dit verdien nie, is die wyse waarop die NG Kerk na sy belydenisskrifte kyk. Watter soort dokumente dit is, hoe dit gelees of vertolk moet word en op watter grondslag die kerk dit aanvaar (NGK 1998A:60).

3.3 WYSE VAN AANVAARDING VAN BELYDENISSKRIFTE

Die vermelding van Paulus as die skrywer van die die brief aan die Hebreërs in artikel 4 van die Nederlandse Geloofsbelydenis was skynbaar die sneller vir die ondersoek deur die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake. Die tradisionele wyse waarop die drie ekumeniese (Twaalf artikels of Apostolicum, Nicea en Athanasius) en drie gereformeerde belydenisse (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leereëls) in die NG Kerk aanvaar word, het 'n probleem geskep. Ons aanvaar hierdie belydenisskrifte immers as in ooreenstemming met die Bybel. Paulus as die outeur van die brief aan die Hebreërs staan egter nie in die Bybel nie en word uit resente navorsing betwis. Daarby gebruik die Drie Formuliere Bybeltekse soms op 'n wyse wat ons nie (meer) aanvaar nie, twyfelagtige dogmatiese konstruksies oor byvoorbeeld die tien gebooie en agterhaalde beskouings oor die verhouding kerk en staat -soos weerspieël in artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis.

Leer en Aktuele Sake moes hierdie probleem wat ook in ander kerke in die Nederlandse gereformeerde tradisie begin voorkom het (Engelhard & Hofman 2001:51) ontleed en 'n resente en toekomstige impasse hieroor onder lidmate probeer voorkom.

In sy verslag het Leer en Aktuele Sake teen twee verskynsels sterk standpunt ingeneem. Die eerste was 'n "konfessionalisme" wat hom gebonde ag aan elke letterlike uitdrukking in die belydenis en nie genoeg daarmee reken hou dat dit feilbare mensewerk is nie. 'n Houding wat die letterlike gesag van die belydenisskrifte voorstaan. Die Kommissie haal op hierdie punt die gevierde gereformeerde dogmatikus Herman Bavinck aan dat die belydenis nie bo of naas die Skrif nie, maar diep daaronder staan (1967:401-402).

Die tweede is 'n "moderne" konfessionele indifferentisme. 'n Onver-skilligheid rakende kerklike belydenisskrifte asof dit nie belangrik of nodig sou wees nie. Die Kommissie noem belydenisskrifte óók 'n "staf om mee te gaan", 'n steunpunt van regsinnigheid in 'n wêreld vol dwaling en 'n "stok om mee te slaan" (vgl Jonker 1994:9-10 wat hierdie uitdrukkings aan Van Ruler en Noordmans ontleen).

Die Kommissie meen dat die wysiging van hierdie belydenisse net lap- en stopwerk sou wees en dat 'n "aanvulling" liewer deur 'n nuwe belydenis moet kom. Hulle glo egter dat die bestaande belydenisskrifte van die NG Kerk gesagvol is in hulle formulering van die "gereformeerde geloofsoortuiging" (NGK 1998A:60-62). Dat die aanvaarbaarheid of gesag van belydenisskrifte lê in hulle oogmerk of aard om, in hierdie geval, die Bybelse of gereformeerde geloofsoortuiging te verwoord.

Die Sinode moet hieroor beslis. Hierdie voorstel het in 1998 duidelik die bestendiging van die "gereformeerde geloofsoortuiging" in veranderende omstandighede in die oog.

3.4 KINDERS AAN DIE NAGMAALSTAFEL

Die kwessie van kinders of dooplidmate wat nagmaal gebruik voordat hulle amptelik op of na sestienjarige ouderdom belydenis van geloof aflê, was in 1998 nie meer 'n nuwe saak in gereformeerde kerke nie. Die GER het reeds in 1988 'n verslag oor die saak hanteer en dit in 1992 benadruk dat kerke erns moet maak met die geestelike behoeftes van kinders. In 1993 het 'n taakgroep van die GER op sewe beginsels as 'n raamwerk vir die vraag na kinders se deelname aan die nagmaalstafel oooreengekom.

Volgens hierdie beginsels is alle belydende en dooplidmate (gedoopte kinders wat nog amptelik belydenis van hulle geloof moet doen om as belydende lidmate erken te word) volwaardige lidmate van die kerk. Die doop as 'n verbondsteken is 'n bewys van hierdie lidmaatskap. Beide die doop en nagmaal voed die geloof en het 'n Christelike getuienis tot gevolg. Die Christenjeug moet in kerk en samelewing getuies wees (NGK 1998A:52).

Hoewel hierdie beginsels min duidelikheid oor die vraag na dooplidmate se deelname aan die nagmaal gee en vir gereformeerdes byna vanselfsprekend voorkom, lê dit die nodige klem op die volwaardige lidmaatskap van dooplidmate.

Wat die NG Kerk betref, het die Algemene Sinode van 1990 en 1994 die kwessie van kinders aan die nagmaalstafel bespreek. Laasgenoemde het besluit dat die Sinode van 1998 hieroor 'n besluit moet neem en 'n adhoc-kommissie benoem. Hierdie Kommissie moes 'n memorandum aan die onderskeie sinodes voorlê, hulle kommentaar verwerk en deur die Algemene Jeugkommissie aan die Algemene Sinode van 1998 rapporteer. Die finale verslag moes in oorleg met die Algemene Kommissies vir die Erediens, Leer en Aktuele Sake en Regte opgestel word (NGK 1998A:116).

Op die ou end het die finale verslag aanbeveel dat dooplidmate van Graad 1 af onder sekere voorwaardes tot die gebruik van die nagmaal toegelaat word. Dat dit nie om 'n aparte nagmaal vir "kinders" gaan nie, maar 'n gesamentlike erediens waarby die gesin betrokkke is.

Een van die vertrekpunte van die verslag was dat die dooplidmate "ten volle" deel van die "gemeentebediening" is. Die kind moet dit beleef dat sy behoefte aan geborgendheid en "behoort aan" raakgesien en gevoed word. Sy geloofslewe moet deur wat hy leer, beleef en doen gevorm word. Hy moet sy gesinsband ook in die gemeente beleef.

Die doop as sakrament versimboliseer die "inlywing" in die genadeverbond van God en die nagmaal die "inblywing" (woordkeuse van Heyns, PS) in die verbond. Beide het vereistes waaraan gebruikers moet voldoen voordat hulle sinvol daaraan kan deelneem. By eersgenoemde moet die wettige ouers25 van die dopeling Christengelowiges wees wat die verantwoordelikhede wat die grootmaak van hierdie kindjie "in die vrese van die Here" op hulle lê, kan aanvaar. By die nagmaal moet al die gebruikers gelowiges wees. Omdat dit gaan om hulle inblywing in die verbond - inblywing veronderstel 'n inbly in die geloof - gaan dit om hulle versterking in die geloof, dat hulle die Evangelie nog beter verstaan en dat hulle begryp dat dit hier om die liggaam en bloed van die Here Jesus gaan. Op elke gebruiker rus die verantwoordelikheid om aan Paulus se versoek in 1 Korintiërs 11:27-34 te voldoen naamlik van 'n selfondersoek voor die nagmaal en om nie op 'n "ongepaste wyse" te eet en te drink nie (NGK 1998A:118-119). Volgens die verslag hef die uitsonderings van mense wat nooit aan hierdie vereistes sal kan voldoen nie, nie die algemene trant hiervan op nie.

Elke gemeente kan op sy eie tyd hierdie gebruik invoer nadat hulle aan sekere vereistes voldoen het. Die belangrikste hiervan is dat kinders wat tot die nagmaalstafel toegelaat word, in God en daarom Jesus Christus glo en 'n begrip het van wat by die nagmaalstafel gebeur. Vir die voorafondersoek na kinders wat dit wil doen, stel die verslag verskillende moontlikhede voor.

'n Belangrike verwysing in die verslag is na Calvyn. Die sestiende eeuse Switserse reformator word aangehaal waar hy sê dat die nagmaal bedoel is vir die wat in staat is om die bloed en liggaam van Christus te onderskei, hulle eie gewete te ondersoek, die dood van die Here te verkondig en die krag daarvan te oorweeg. Calvyn het die kommunie vir suigelinge afgewys omdat hy geglo het dat slegs kinders van 'n later ouderdom wat blyke gee van hulle geloof, die nagmaal kan gebruik (Calvyn sa IV:403).

Wat hierdie verwysing na Calvyn belangrik maak, is die feit dat die verslag wil aantoon dat hy met sy aanbevelings steeds die pad van die Reformasie loop. Dat hy hierdie pad in 'n nuwe tyd - in 1998 - wil bestendig. Dat 'n veranderende NG Kerk in 'n veranderde land steeds die beginsels van die Reformasie wil handhaaf. Die Algemene Sinode van 1998 sou ook hieroor uitsluitsel moes gee.

3.5 INTERNE EN EKSTERNE VRAE

Die agenda van die Algemene Sinode van 1998 bevestig dat hierdie vergadering die pad van die NG Kerk as 'n gereformeerde kerk intern en ekstern wou bestendig. Naas die sake tot dusver aangestip, sou hy op ander punte probeer om hierdie koers te bestendig. Dit blyk uit die agenda van die vergadering.

Ekstern het die pad van die NG Kerk in die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika nie in alle opsigte glad geloop nie. Rondom sy staatsondersteunde dienste van barmhartigheid, sy belang by onderwys in die nuwe bedeling, moontlike botsings tussen landswette en die Bybel, armoede in Suid-Afrika, misdaad en korrupsie en die emigrasie van lidmate uit die land, was daar knelpunte wat hy as kerk deur sy Algemene Sinode moes hanteer.

Intern is daar opnuut gedink oor die doop van kinders in kinderhuise26, die kerklied, die prediking, nagmaalsliturgieë, die kwessie van die herdoop, die samestelling van kerkrade en die indiensneming van die predikant.

Kwessies in die nuwe land het hulle nou permanent op die agenda van die NG Kerk kom tuismaak. Behalwe dat die NG Kerk homself as 'n kerk in Afrika en sy omstandighede beskou het (vgl Roepingsverklaring NGK 2007N:220), was die oorgrote meerderheid van sy lidmate steeds Afrikaners: in die binne- of buiteland van Suid-Afrika.

'n Besef sou in die NG Kerk groei dat hy hom nie kan losmaak van probleme wat die hele bevolking van Suider-Afrika raak nie. Soos wat daar van die ANC-Regering in 1994 verwag is om sy juridiese rol as staatsowerheid of regstaak teenoor alle lede van die bevolking na te kom, so het die NG Kerk met Skriftuurlike insig opnuut besef dat al die mense van sy omgewing sy bedieningspad móét kruis. Die ou NG-sendingtradisie is ten minste op hierdie punt bevestig.

Die Algemene Sinode van 1998 was ook nie meer vir langer as 'n week geskeduleer nie (vgl NGK 1990A en NGK 1994A). Tyd, geld en nuwe ontwikkelinge in die infrastruktuur van Suider-Afrika het die beplande vergadertyd van Sondagaand 11 tot Saterdagoggend 17 Oktober beperk. Omdat die reis-, verblyf- en vergaderreëlings op Gauteng afgestem en so meer bekostigbaar was, is die saal van die Transvaalse Sinodes in Pretoria weer gekies (vgl NGK 1994A en NGK 1998A). Saam met die besef dat sinodes korter maar steeds effektief kan wees, het die insig gegroei dat hulle ook nie die spilpunt van gereformeerde kerkregering is of kan wees nie. Dat daar óók sin in die gesag en aangeduide terreine van die kerkraad en ring moet wees (vgl Strauss 2009:239-252)27.

3.6 DIE NG KERK WEER VOLLE LID VAN DIE WBGK

Voor die Algemene Sinode van 1998 sou die ASK die "joint resolution" onder oë neem en bespreek. In die hoogspanning van dié drama wat sedert 1982 opgebou het, was 'n kerklike fyntrap máár ook eerlike voetwerk, skerp onderskeidings en raak formulerings broodnodig. Die Algemene Sinode van 1994 het ongeduldig verklaar dat sy lidmaatskap van die WBGK belangrik is, maar dat hy reeds voldoen het aan die vereistes om dit te herstel soos gestel by Ottawa in 1982. Wat hom betref sal die Algemene Sinode van 1998 finaal oor die saak moet besluit in die lig van verdere verwikkelinge in die verhouding tussen die NG Kerk en die WBGK van 1994 tot 1998.

Anders as die gesamentlike besluit van die WBGK en verteenwoordigers van die NG Kerk het die ASK steeds op die afwysing van 'n gekwalifiseerde apartheid soos deur KS-1986 en KS-1986 gestaan. Die gesamentlike besluit ("joint resolution") was egter dat apartheid ongekwalifiseerd verwerp word as sondig en verkeerd, "not simply in its effects and operations but also in its fundamental nature". Die versoek van WBGK was nou dat die Algemene Sinode die gesamentlike besluit soos hy staan, onderskryf.

Die pastorale brief wat die gesamentlike besluit vergesél, het apartheid egter omskryf. Deur hulle eie omskrywing van apartheid in die gesamentlike besluit in te trek, sou die ASK aan sy eie houding oor die afwysing van apartheid in die KS-tradisie getrou bly, maar ook die moontlikheid ooplaat dat die WBGK nie met sy optrede tevrede is nie. Tog het die ASK besluit om 'n geamendeerde gesamentlike voorstel met hierdie effek vir die Algemene Sinode van 1998 voor te berei (NGK 1998A:42). Hierdie geamendeerde voorstel sou egter nie die besluit van die Algemene Sinode word nie.

So ernstig het Milan OpoCensky die saak rondom die NG Kerk se lidmaatskap van die WBGK opgeneem, dat hy vanuit Genevé gekom het om die gesamentlike voorstel op die sinode toe te lig. Hy het as 'n kerklike diplomaat waarskynlik iets van die argument dat apartheid omskryf moet word, gesnap, en as 'n gesagvolle woordvoerder van die pastorale brief en gesamentlike voorstel opgetree. 'n Wysiging van laasgenoemde wat reeds deur die WBGK by Debrecen aanvaar is, kon die kaarte egter deurmekaar krap.

Die pastorale brief met sy gekwalifiseerde apartheid het nie die gesamentlike besluit weerspreek nie, maar tog aangedui wat die aard van die apartheid is wat hy afwys. Dit was nie "apartheid in sy toepassing" wat in KS afgewys word nie, maar "the forced separation of people of different races denying the fundamental biblical teaching that all humanity is equally created in the image of God". Hierdie apartheid moes volgens die pastorale brief onvoorwaardelik afgewys word (NGK 1998H:412).

Twee begrippe het in hierdie definisie van apartheid sentraal gestaan: gedwonge skeiding van mense op grond van ras en die ongelykheid of ongelyke behandeling van mense. Dat dié begrippe op daardie stadium 'n groot rol in Suid-Afrika gespeel het, word geillustreer deur die Grondwet van 1996. In hierdie na-apartheidsdokument staan die gelykheid van mense, nie-rassigheid en die vryheid van assosiasie voorop (Kleyn & Viljoen 1998:264-269).

Opočensky was dieselfde sekretaris-generaal wat ek in sy kantoor in 1995 ontmoet het. Hy was kalm, begrypend, maar ook vasberade en beredeneerd. Daarom het sy mening by baie lede van die ASK en die Algemene Sinode gewig gedra.

'n Amendement of byvoeging by die aanvaarding van die "joint resolution" soos gestel deur Mike Smuts en Pieter Coertzen sowel as laasgenoemde se vertolking van die begrip status confessionis soos gebruik in die saak, het sake vir die Sinode gered.

Tydens die bespreking was dit een van daardie oomblikke op 'n sinode wat nie almal wil praat nie en wat diegene wat praat, hulle woorde met groot erns weeg. Die vergadering het waarskynlik 'n aanvoeling gehad dat die NG Kerk na 'n lang, bewoë geskiedenis nou met die laaste bladsye van apartheid besig is. Dat die Algemene Sinode hier 'n kans kry waaroor daar nie gedebatteer of geredekawel moet word nie. In 'n gespanne atmosfeer motiveer Smuts en Coertzen hulle byvoeging. Hoewel nie almal ongekwalifiseerd nie, is almal wat aan die bespreking deelneem vir die aanvaarding van die gesamentlike besluit (NGK 1998H:412).

Op die ou end word die gesamentlike besluit of "joint resolution" goedgekeur. Die byvoeging of amendement van Smuts en Coertzen word ook goedgekeur. 'n Byvoeging wat waarskynlik gemik is op kritiek van buite teen die besluit van die vergadering. 'n Byvoeging wat skynbaar daartoe bydra dat die Algemene Sinode van 1998 hierdie besluit neem sonder enige beduidende reaksie - negatief of positief - uit die gemeentes.

Smuts en Coertzen stel in hulle formulering voor dat die Sinode die gesamentlike besluit aanvaar in die lig van OpoCensky se verduidelikings in sy toespraak voor die vergadering. Dit beteken ondermeer dat die "omskrywing van apartheid soos vervat in die pastorale brief" van toepassing is op die gesamentlike besluit. Dat hierdie besluit nie sonder dié omskrywing verstaan kan word nie. Opocensky se verduideliking van die WBGK se definisie van apartheid en sy mening dat die NG Kerk se aanvaarding van 'n status confessionis as deel van die gesamentlike besluit nie tot die aanvaarding van die Belharbelydenis hoef te lei nie, word verbatim in die notule opgeneem (NGK 1998H: 413).

Wat die Algemene Sinode van 1998 en die ASK betref, bly hulle dus by hulle afwysing van 'n gekwalifiseerde apartheid, maar ook by die vereistes van die WBGK soos gestel vir die NG Kerk. Opocensky met sy verduideliking maak volgens hulle altwee moontlik. Ook aanvaar die vergadering dat goedkeuring van die gesamentlike besluit hom nie verplig om Belhar as 'n belydenis te aanvaar nie.

Gedagtig aan die eis van die VGKSA dat Belhar as belydenis aanvaar word, kom daar 'n mosie van doktor Michiel Botha en ds Johan Botes dat die vergadering aktuarius Pieter Coertzen se vertolking van die uitdrukking status confessionis in die gesamentlike besluit aanvaar. 'n Vertolking waarin van die woorde van Opocensky weerklink en wat via die Botha-Botesvoorstel die besluit van die vergadering word.

Vir die Algemene Sinode van 1998 beteken sy aanvaarding van die uitdrukking status confessionis in die gesamentlike besluit dus nie dat dit tot 'n formele belydenisskrif móét lei nie. Die woorde dat hy apartheid as verkeerd en sondig verwerp "not simply in its effects and operations but also in its fundamental nature" is volgens die vergadering alreeds 'n belydenis vanuit 'n geloofsperspektief. 'n Reaksie met hierdie status sluit aan by die "joint resolution" se gebruik van die begrip status confessionis (NGK 1998H:413).

Volgens ons as sinodelede se verstaan van dinge het die Algemene Sinode van 1998 hiermee voldoen aan die vereistes van die WBGK vir die herstel van die lidmaatskap van die NG Kerk van hierdie liggaam. Dit word deur Opocensky bevestig. Die NG Kerk was nou weer 'n volwaardige lid van die WBGK. Wat laasgenoemde betref, was die hoofstuk oor die saak hiermee afgesluit (NGK 2002:393). Die NG Kerk het die WBGK se omskrywing van apartheid aanvaar en dit as 'n begrip verwerp op die vlak van 'n status confessionis. Sy positiewe worsteling met eenheid in die NG Kerkfamilie en sy hulp aan die slagoffers van apartheid het die WBGK verder oortuig.

Hierdie belangrike ekumeniese saak word op die tweede sittingsdag van die Algemene Sinode van 1998 bevredigend afgehandel (NGK 1998H:409-414). My geheelindruk was dat kerklike redelikheid en Milan Opocensky se ekumeniese aanvoeling hier geseëvier het.

My persoonlike ervaring is dat verteenwoordigers van die NG Kerk sedertdien met ope arms by ekumeniese byeenkomste soos die GER en WBGK ontvang word. So was dit by die GER in 2005 in Utrecht Nederland (NGK 2007A:402) en by die nuutgevormde WGGK (uit die GER en die WBGK) in 2010 in Grand Rapids, Michigan, VSA (NGK 2011A: 250). By dié byeenkomste is ons hartlik en met waardering ontvang. Ons posisie in die gereformeerde ekumeniese wêreld is bestendig.

3.7 'N VOORTGAANDE EENHEIDSPROSES IN DIE NG KERKFAMILIE: BELHAR

Die verslag oor eenheid in die NG Kerkfamilie sou die middag van 14 Oktober 1998 op die tafel van die Algemene Sinode kom. Die verskille met die VGKSA oor die Belydenis van Belhar en die posisie van die NGKA in die eenheidsproses sou ook in die agenda gereflekteer word. 'n Groot deel van die aanbevelings sou oor hierdie twee sake handel. Diepgaande of onoorbrugbare verskille hieroor kon die hele proses kelder.

Wat Belhar betref, het die VGKSA daarop gestaan dat dit 'n voorwaarde vir kerkeenheid moet wees. Daarteenoor het raadpleging deur die ASK van die NGK-gemeentes vroeg in 1998 getoon dat "die oorgrote meerderheid lidmate/kerkvergaderings" Belhar nie "nou" as belydenis wil aanvaar nie.

By 'n bosberaad in September 1998 het die NG Kerk, VGKSA en RCA mekaar te kenne gegee dat hulle kan praat. Die verteenwoordigers van die NG Kerk het aangedui dat die Algemene Sinode van 1990 besluit het dat "Belhar op sigself genome" nie met die Drie Formuliere van Eenheid (die nou reeds bekende drie gereformeerde belydenisse) in stryd is nie, hoewel "bepaalde sake anders geformuleer kon gewees het". Die familie moet kyk na maniere waarop Belhar in die belydenisgrondslag van 'n nuwe kerkverband opgeneem kan word. Die VGKSA se afvaardiging het hierop gereageer deur te sê dat die standpunt van 1990 'n beginpunt is wat kan ontwikkel tot 'n "belydenisuitdrukking" van die geloof (NGK 1998A:35).

Die eenheidsproses het nie ontspoor nie, maar ook nie met rasse skrede gevorder nie. Die saak wat nou hanteer moes word, was 'n saak wat in so 'n proses eerste kom. Oor die belydeniskwessie moes daar eenvoudig verder gepraat word.

In die debat en besluite oor Belhar op die Sinode is daar eventueel lyne getrek wat daarna nog lank in die NG Kerk gebruik sou word. Lyne wat soms herhaal, maar soms ook as nuut en innoverend deur 'n volgende sinode ervaar is.

Die feit dat die VGKSA "'n geweldige premie" op Belhar plaas, word erken. Die Sinode verklaar opnuut dat Belhar "op sigself genome" nie met die Drie Formuliere van Eenheid "in stryd" is nie. "Ter wille van die eenheidsproses" aanvaar die Sinode die "wesenlike" inhoud van Belhar. Saam met die "ander gespreksgenote" (voorlopig sonder die NGKA, PS) wil die NG Kerk kyk na maniere waarop Belhar in die belydenisgrondslag van 'n nuwe kerkverband opgeneem kan word sonder om enige iemand se gewete onder dwang te plaas. Indien die belydeniskwessie egter 'n onoorkomelike probleem skep, kan daar gekyk word na alternatiewe strukture van kerkverband in die NG Kerkfamilie (NGK 1998H:422-425).

'n Paar sake sou opval in die debat. Die eerste saak is dat sprekers se "vir" of "teen" Belhar in baie gevalle net onder die oppervlakte van hulle argumente hoorbaar was. Die voorafopname in die gemeentes het ook 'n onhoorbare, beduidende invloed op die besluite gehad. Die oortuiging dat daar op een of ander wyse met die gemeentes en hulle oortuigings rekening gehou moes word, het sterk geloop. Dit kon prinsipieel nie anders nie, omdat kerkverband uit gemeentes as "komplete kerke" bestaan vir wie hulle belydenisskrifte hulle akkoord van kerklike gemeenskap is. Die Algemene Sinode van 1998 gee dan ook aan die ASK opdrag om die "proses van kerkvereniging in noue voeling met kerkrade, ringe en sinodes voort te sit".

Op hierdie punt is 'n voorstel van my gesekondeer deur Michiel Botha28 na die Tydelike Regskommissie verwys wat sê dat die vorming van 'n nuwe kerkverband waaronder sy belydenisgrondslag en kerkorde, deur 'n tweederderde meerderheid van die kerkrade in elke sinodale gebied goedgekeur moet word (NGK 1998:424). Hierdie voorstel sou in 'n gewysigde vorm die besluit van die sinode word. Kort voor die afsluiting op Saterdag 17 Oktober het die Sinode dit as sy oortuiging uitgespreek dat kerkrade "inspraak" moet hê in die vorming van 'n nuwe kerkverband. Die Algemene Regskommissie moet hieroor met 'n aanbeveling kom (NGK 1998H:468). Die implikasie was dat kerkrade op hierdie punt nie net gehoor moet word nie, maar ook stem. As die regerings van komplete kerke moet hulle immers besluit of hulle kans sien vir die verband waarin hulle hulle begewe. Natuurlik verenig gemeentes in kerkverband waarin die vergaderings van die verband soos ringe en sinodes elkeen bindende besluite op sy eie of aangewese terrein neem. Dit is nie 'n demokrasie waarin die gemeentes oor elke saak stem nie. Maar die vorming van die struktuur as 'n struktuur van gemeentes is 'n saak vir die kerkrade.

Die verwyt is al geuiter dat hierdie argument geskep is om die aanvaarding van Belhar in die NG Kerk te voorkom. Die ironie is dat die VGKSA in artikel 11 van sy kerkorde 'n soortgelyke bepaling bevat. In die VGKSA moet die wysiging van die belydenisskrifte met 'n tweederde meerderheid van die gemeentes goedgekeur word (Strauss 1999:40). Dit wil dus voorkom asof die VGKSA die NG Kerk in 1998 voor was wat die aanvaarding en status van belydenisse betref. Dat hulle 'n beter besef van die funderende aard van belydenisskrifte in die vorming van 'n nuwe kerkverband gehad het.

Die tweede saak wat in die debat van die Algemene Sinode van 1998 oor Belhar opval, is die min argumente ten gunste van die standpunt dat die inhoud "wesenlik" aanvaarbaar is, maar dat Belhar nie as belydenis aanvaar word nie. Die vereistes vir 'n belydenisskrif in gereformeerde kringe is byna nie in die debat geopper nie, terwyl pro-Belharskrywers soos Durand in "'n Oomblik van waarheid" 14 jaar vantevore moeite doen om aan te toon dat hulle dié vereistes by die opstel van Belhar in ag geneem het (1984-39-48). Dat die poging van Durand egter minder geslaagd was, is twee dekades later ook aangetoon (vgl Strauss 2005; Theron (red) 2012). Die Algemene Sinode van 1998 het Belhar in sy besluit met die Drie Formuliere vergelyk, maar in die debat was daar weinig van. Dit het die vraag laat ontstaan: hoe verantwoord kan die Sinode oor hierdie saak besluit?

3.8 'N VOORTGAANDE EENHEIDSPROSES IN DIE NG KERKFAMILIE: 'N NUWE KERKVERBAND

Omdat die aanvaarding van die Belharbelydenis as 'n kernwessie in die soeke na een kerkverband vir die NG Kerkfamilie geïdentifiseer is, het dit ander sake na die agtergrond gedwing. Die ander dinge was minder fundamenteel: soos ondermeer die aard en inrigting van die voorgestelde kerkverband met 'n aanvaarde kerkorde.

Dinge sou by die belydenisgrondslag staan of val. Daarom was die besluite van die Algemene Sinode van 1998 oor die aard van die nuwe kerkverband minder dramaties en meer proses- as struktuurgeoriënteerd.

Die Sinode het hom in soveel woorde "opnuut" daartoe verbind om saam met die ander lede van die NG Kerkfamilie een kerkverband tot stand te bring. Die Kommissie wat hiermee besig is, moet voortgaan met sy werk. Intussen moet gemeentes op plaaslike vlak sorg vir gestaltes van kerkeenheid. Die hele proses kan nie anders as om aan die hand van Kerkorde artikel 44 en die besluite van 1994 uitgevoer word nie. Hier is daar nie sprake van dat die Algemene Sinode alle bevoegdheid oor die saak vir himself toe-eien deur 'n wysiging van die artikel wat ooreenstem met die Kerkorde artikel 36 van die NGKA in 1991 nie.

Met die memorandum wat ons by die ASK opgestel het in gedagte, besluit die Sinode om die gemeentes van beide die VGKSA en NGKA "in hulle sinodale verbande" as kerk te erken. Die twee kerke word versoek om so gou moontlik te versoen. Alle lede van die NG Kerkfamilie in "Suid-Afrika" moet by die eenheidsproses betrek word. Die Gesamentlike Kommissie van die NGK, VGKSA en RCA wat aan 'n konsepkerkorde werk, moet uitgebrei word om die NGKA ook in te sluit. Alle deelnemers aan die gesprek moet die "dienskneggestalte van Jesus Christus" openbaar (NGK 1998H:422,424,425, 468).

Getrou aan die benadering van sy leiers was die Algemene Sinode van 1998 ingestel op die bestendiging van die koers wat in 1994 amptelik aanvaar is. Die eenheidsproses is op hierdie stadium vertraag, maar nie verlore nie. Die houding van die NG Kerk oor Belhar - met die opname onder die gemeentes ook in gedagte - is uiteengesit en sou daarna vir dekades rigtinggewend wees. Die kern: Belhar het meriete, maar jy kan niemand teen sy gewete in dwing om 'n belydenis van geloof te aanvaar nie. Dieselfde soort opname in gemeentes sou in 2007 herhaal word en min of meer dieselfde resultaat lewer (vgl NGK 2011A:247).

Dat die ou Federale Raad ook 'n vorm van kerkverband was, maar federaal in plaas van die sinodale vorm wat nou gesoek is, is met dié formulering geïgnoreer. Nietemin, die teerling is weer gewerp. Die eenheidsproses was in sy kinderskoene en nie heeltemal verlore nie. Die Sinode het sy frustrasie met die stadige tempo betuig én sy voorneme om vorentoe te beweeg. 'n Gesonde selfstandigheid teenoor die VGKSA is geopenbaar toe die Sinode hulle versoek het om in die "heersende moeilike situasie" met die eenheidsgesprek met oplossings te kom (NGK 1998H:516).

Kort voor die Algemene Sinode van 1998 ontvang hy 'n brief van die NGKA-Sinode Vrystaat (6 Oktober 1998) en Phororo (8 Oktober 1998) met die versoek om toelating tot die "kerklike strukture" van die NG Kerk. In sy brief vra die NGKA-Sinode Vrystaat om as "sinode tot die Algemene Sinode van die NG Kerk toe te tree". Hy wil dit doen onder sy naam "NG Kerk in Afrika - OVS". Voordat dit kan gebeur, moet die NG Kerk egter verklaar wat die bevoegdheid van sy Algemene Sinode is. Die toetrede moet ook nie die "gebruike" van die NGKA vernietig nie. Op sy beurt vra Phororo om met die NG Kerk te onderhandel om by sy strukture in te sakel (NGK 1998H:397). Hierdie twee versoeke beteken 'n wending in die planne tot dusver vir die vorming van 'n nuwe kerkverband vir die hele NG Kerkfamilie. 'n Opname van die NGKA in die strukture van die NG Kerk impliseer nie 'n nuwe kerkverband nie, maar die uitbreiding van die bestaande NG Kerkverband.

Dit is egter ook duidelik dat beide die NGKA-Vrystaat en Phororo eers wil praat en nie onvoorwaardelik aansoek doen om by die NG Kerk in te skakel nie. Die Vrystaat wil as 'n ekstra sinode by die Algemene Sinode van die NG Kerk inskakel, terwyl Phororo sy opsies oophou. Baie sou ook afhang van die reaksie van die Algemene Sinode van 1998.

Die reaksie van die Algemene Sinode van 1998 is formeel korrek, maar ook verwarrend. Volgens die Sinode is die aansoeke in die lig van KS-1990 paragraaf 250 "ontvanklik". Dié paragraaf maak dit moontlik dat gemeentes, ringe of sinodes van gereformeerde belydenis by die NG Kerk inskakel na oorleg met die betrokke kerkvergadering en 'n "behoorlike" ooreenkoms. Die versoeke van die twee NGKA-sinodes word so verstaan "dat die inskakelende kerk(e) inmiddels by die betrokke sinodes en ringe" inskakel. Die ASK kry volmag om die aansoeke te hanteer nadat die Appélhof in die NGKA-VGKSA-saak uitspraak gelewer het. Na die besluit van "ontvanklikheid" word die ongewone stap egter gevolg om die notule te verruim met 'n interpretasie wat verduidelik dat die inskakeling van die NGKA by NG Kerk inskakeling by die Algemene Sinode beteken. Indien die ASK en NGKA 'n ooreenkoms bereik, kan hierdie inskakeling reeds by die volgende Algemene Sinode plaasvind (NGK 1998H:448). Hierdie verruiming bring groter duidelikheid.

Die Algemene Sinode van 1998 het hiermee dus 'n pad betree wat as alternatief kon toon dat hy ernstig is oor eenheid met ander kerke in die familie.

3.9 BELYDENISSKRIFTE OMDAT...

'n Saak waarvan die belangrikheid in baie kringe onderskat word, is die besluit van die Algemene Sinode van 1998 oor die aanvaarding van die belydenisskrifte van die NG Kerk. As 'n historiese besluit staan dit nie terug vir die besluit oor die "joint resolution" van die NG Kerk met die WBGK nie. Die besluit is gereformeerd én modern of eietyds. Dit handhaaf die kernwaarhede van die belydenisskrifte as gesagvol in hulle doel of aard naamlik om die geloof van die kerk te formuleer en te bely. Dit beteken dat ons band met die gereformeerde belydenisskrifte nie letterlik-histories is nie, maar 'n geloofsband. Dat dit lê in die formulering én aanvaarding van dieselfde belydenis- of kernwaarhede van die geloof deur kerklidmate. Niks meer nie.

Met hierdie siening het die NG Kerk aangesluit by een van sy groot vennote in die GER naamlik die Christian Reformed Church of North America (CRCNA). So is 'n probleem ondervang wat die moderne gereformeerdes in die Nederlandse tradisie net nie meer kon ignoreer nie. Vir die CRCNA beteken instemming met die belydenisskrifte instemming met "those doctrines which are confessed" omdat (quia) dit in die Bybel geleer word. Die belydeniskrifte bind nie met hulle teksverwysings of terloopse opmerkings nie. Daardie dinge wat "incidental" in die formulering van die gereformeerde geloof is nie. Dit bind deur die geloofswaarhede wat dit bely (Engelhard & Hofman 2001:51).

Die Algemene Sinode van 1998 het die saak op Dinsdag 13 Oktober hanteer. Die verslag van die Kommissie is in sy strekking ongewysgd aanvaar. Saam met die Kommissie wys die Sinode 'n konfessionalisme en 'n indifferentisme af.

Volgens die vergadering moet die NG Kerk se erkende belydenisskrifte as 'n gesagvolle uitdrukking van die "gereformeerde geloofsoortuiging" aanvaar word "omdat (quia) hulle met die Woord van God ooreenstem". Hulle het gesag in dit wat hulle volgens die Skrif as geloof bely. Dit beteken nie dat hulle met dieselfde onfeilbaarheid as die Skrif beklee word nie. Dit bly mensewerk. Besware teen die inhoud moet egter die kerklike pad van gravamina of beswaarskrifte by vergaderings loop. Totdat hulle amptelik gewysig is, bly hulle soos wat hulle is. Die belydenisskrifte bevat meer as die tydsgebonde akademiese menings van teoloë. Dit gaan oor die "algemene ongetwyfelde Christelike geloof soos die kerk dit op grond van die Skrif bely."

Om sy standpunt nog duideliker te maak, spreek die Sinode hom teen sekere houdings oor die saak uit. Die houding dat die belydenisskrifte aanvaar word "in soverre as" (qautenus) wat hulle met die Skrif ooreenstem; die onderskeid tussen inhoud en vorm met laasgenoemde nie gesaghebbend nie; en die standpunt dat die belydenisskrifte slegs historiese aanduidings en konteksgebonde of kontekstuele geskrifte is (NGK 1998H:414-415).

Kortom, die Nederlandse gereformeerde tradisie soos aanvaar by die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1619 dat die belydenisskrifte gesagvol is as 'n uitdrukking van die gereformeerde geloofsoortuiging omdat dit met die Woord van God ooreenstem, word deur die Algemene Sinode van 1998 gehandhaaf (vgl Strauss 2006:649-666). Dit verteenwoordig dus 'n bindende interpretasie vir die hele NG Kerk.

Dieselfde gedagte word in die legitimasieverklaring van voornemende predikante in die NG Kerk by hulle beroepbaarstelling verwoord. Hierin verklaar hulle dat hulle glo in die "leer soos vervat in" die drie algemene en die drie gereformeerde belydenisskrifte omdat dit "ooreenkom met die Woord van God". Dat hulle hierdie leer getrou sal verkondig en uitleef, alle dwalinge wat daarmee in stryd is sal weerlê en indien hulle besware daarteen ontwikkel, dit nie sal "leer of bevorder" voordat hulle dit aan 'n "bevoegde" kerkvergadering vir 'n beslissing" voorgelê het nie (NGK 2007KO:95). Hierdie beslissing is uiteraard weer bindend. Dit gaan om die eenheid van die kerk in die geloof waarbinne die meningsvryheid van die predikant geplaas word. Om die uitbalansering van twee begrippe: kerk-of geloofseenheid en die reg op 'n eie geloofsoortuiging. Die binding van die belydenisskrifte soos aanvaar deur die oorgrote meerderheid lidmate kanaliseer én beperk die vryheid van die indiwidu29.

3.10 NAGMAAL AAN DOOPLIDMATE

Die gebruik van die nagmaal deur kinders of dooplidmate sou ook lei tot 'n besluit wat lê in die gereformeerde tradisie of die tradisie van Calvyn. Die debat was nie sonder voelbare spanning nie. Hier kan 'n eeuelange praktyk gewysig word oor 'n saak wat in gereformeerde kerktaal belangrik is. Skrifgetroue sakramente is een van die merktekens van die ware kerk en sakramente word uit die belydenis gerig. Daarby loop die saak al oor 'n tydperk van agt jaar by die Algemene Sinode en het dit as 'n belangrike saak by die sinodes 'n draai gemaak voordat dit hier ter tafel kom.

Wat die drama rondom die verslag ter tafel verhoog, is 'n ordevoorstel van ds Deon van Niekerk uit die Noord-Kaap dat professor Flip Theron van Dogmatiek op Stellenbosch wat bekend is vir sy reformatoriese sentimente en sy standpunt oor hierdie saak, van buite die sinode toegelaat word om die vergadering toe te spreek. Flip is nie 'n afgevaardigde of 'n teologiese adviseur op die Sinode nie en was ook nie deel van die verslagkommissie nie.

Deon het sy sin gekry, maar uit 'n strategiese oogpunt sou hierdie een swaweltjie nie die somer maak nie. Flip se opmerkings sou nie 'n groot rol in die finale besluit spel nie.

'n Voorstel oor die kern van die saak wat die aanbeveling van die Kommissie vervang, dien voor die vergadering. Dit kom van doktor Sarel Eloff en word gesekondeer deur doktor Markus Gertenbach van Brandfort. Wat die interessantheid van die oomblik verhoog, is dat beide voorsteller en sekondant sterk gereformeerde sentimente het. Oom Sarel was ook in diens van die Algemene Sinode vir Onderwys en Opvoeding30. Die voorstel word die besluit van die Sinode. Dit word een van daardie besluite wat op die regte oomblik die regte ding vir die oorgrote meerderheid op die sinode verwoord. Dit word 'n uitweg uit 'n potensieel moeilike situasie.

Die Algemene Sinode van 1998 besluit dat gedoopte kinders wat in Jesus Christus glo, aan die vereistes van 1 Korintiërs 11 voldoen en begeer om die nagmaal te gebruik, toegelaat mag word. Twee amendemente wat die suigelingkommunie impliseer, word verwerp. Amendemente waarin die Christelike geloof nie as 'n vereiste by toelating tot die nagmaal gestel word nie. Die een praat net van die toelating van "gemeentekinders" en die ander van "gedoopte kinders". 'n Amendement wat "persone" "van 14 jaar of ouer" op grond van 'n "hartlike vertroue" in die Evangelie soos verwoord in die Twaalf Artikels of Apostolicum wil toelaat, word ook nie aanvaar nie.

Volgens die Sinode moet kerkrade besluit wanneer die gemeentes vir die toelating van gedooptes tot die nagmaal gereed is. Hulle moet hulle gemeentes begelei om die nuwe praktyk te implimenteer en ouers wat hulle kinders hiervoor gereed wil/moet kry, toerus. Kerkrade moet die "spesifieke reëlings" vir hierdie toelating in die gemeentes tref (NGK 1998H:432). Hiermee is die saak redelik vereenvoudig en 'n verstaanbare praktyk aanvaar.

Die Algemene Sinode van 1998 het verankerd probeer vernuwe. Die onderskeid tussen die doop en die nagmaal soos hierbo verwoord, is gehandhaaf. Sakramente, dit was die oorweging, is genademiddele wat eenvoudig reg gebruik moet word.

3.11 KERK EN STAAT IN SUID-AFRIKA: MAATSKAPLIKE SORG EN ONDERWYS

In sy verhouding met die staatsregering van die dag, het die Algemene Sinode van 1998 besluit om sekere standpunte te stel en daarmee as kerk die potensiaal en trefkrag van sy invloed in die nuwe omstandighede te toets. As die kerk aan sy gereformeerde koers getrou wil bly, moet hy dit ook ten opsigte van sy roeping na buite teenoor - byvoorbeeld - die owerheid doen.

Hierdie sake is hoofsaaklik oor drie terreine van die kerk se werk versprei: die diens van barmhartigheid, die kerkjeug en leer- en aktuele sake. Oor die NG Kerk se uitgebreide diens van barmhartigheid en veral sy inrigtingsorg het dit in die ou bedeling so ontwikkel dat staatsfondse 'n groot deel van die begroting en die befondsing daarvan uitmaak (vgl NGK 1990A:337)31. Onsekerheid oor die voortsetting hiervan laat die Sinode van 1998 besluit om te beklemtoon dat die staat 'n "sosiale verantwoordelikheid" teenoor "alle" (LW, PS) mense het en nie die voortbestaan van gevestigde "maatskaplike dienste" in gevaar moet stel nie. Die kerk se algemene en sinodale kommissies vir barmhartigheid moet daarvoor sorg dat die staat die kerk se bydrae erken en dit nie marginaliseer nie (NGK 1998H:427). Byna 'n dekade voordat dit ook onder blankes 'n akute probleem raak, verklaar die Algemene Sinode van 1998 dat armoede 'n omvattende en komplekse probleem in Suid-Afrika is (NGK 1998H:429)32.

Die NG Kerk staan in 1998 steeds op Christelike onderwys in dagskole. Die Algemene Sinode oordeel dat daar binne die bestaande onderwyswette in Suid-Afrika 'n geleentheid is vir Christelike onderwys in "openbare skole". So handhaaf die Sinode 'n tradisie onder gereformeerde kerke met 'n Nederlandse konneksie wat oor eeue kom (vgl NGK 1998H: 430; De Gier 1989:112-113). Die Sinode steun 'n onderwysmodel wat ruimte bied vir Christelike onderwys en doen opnuut 'n beroep op lidmate en veral ouers, om betrokke te bly by Christelike onderwys. Gemeentes moet besondere aandag gee aan die pastorale begeleiding van onderwysers. Die Sinode bedank daardie lede van die onderwyskorps wat onder die huidige veranderende, moeilike omstandighede en groot uitdagings volhard met hulle "Christelike getuienis en harde werk" (NGK 1998H:430).

Christelike "getuienis" wat normaalweg 'n kerklik-godsdienstige term is, word hier in 'n konteks gebruik wat waarskynlik op omvattende Christelike onderwys afgestem is. Dit pas in by die breë lyn van die Sinode se bedoeling van Christelike onderwys. Die Kerkorde van 1998 beweeg egter beter in die verstaan van hierdie onderwys as hy gewag maak van Protestants-Christelike norme en waardes wat rigtinggewend moet wees "in onderwys en opvoedkundige instellings en ook vir die kultuuridioom waarin die onderwys plaasvind" (NGK 1998KO:26). 'n Negatiewe tendens in die NG Kerk steek hier weer kop uit. Die Kerkorde is geldig en het voorrang bo gewone sinodebesluite, maar word nie geraadpleeg en, indien nodig, gewysig nie.

'n Saak wat die Algemene Sinode nie los nie, is die leiding van lidmate in die oorgang na 'n nuwe Suid-Afrika.

3.12 DIE NG KERK EN DIE NUWE LAND

In 'n debat waarin daar verskeie amendemente kom, besluit die vergadering eventueel om die verslag van Leer en Aktuele Sake oor hierdie kwessie bloot as 'n gespreksdokument na gemeentes te verwys. Die besluite op die inhoud van die verslag stem ooreen met 'n reformatoriese visie op die samelewing.

Die Sinode verklaar dat die NG Kerk "uitsluitlik" kerk van die Here Jesus Christus wil wees. Daarom is hy van voorneme om voort te gaan met omvattende koninkryksdiens - hulp om te kom tot die eer van God op alle lewensterreine - in die samelewing "sonder aansien van persoon". Lidmate moet erns maak met die gereformeerde oortuiging dat gelowiges hulle roeping vervul daar waar God hulle plaas. Hulle moet 'n konstruktiewe rol in die opbou van Suid-Afrikaanse samelewing speel deur vir die owerheid te bid en hulle te beywer vir die vestiging van Christelike waardes. Lidmate wat die oorgang in Suid-Afrika negatief ervaar, moet pastoraal begelei word (NGK 1998H:416).

Die Sinode bely (getrou aan die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36, PS) dat "elke owerheid" deur God verordineer is om die goeie te bevorder en die kwade te straf. Gelowiges moet goeie, lojale landsburgers wees "sover as wat ons gehoorsaamheid aan God dit toelaat". Alleen wanneer lidmate seker is van hulle identiteit in Christus kan hulle aan God gehoorsaam wees en "opregte naastediens" bewys. Die huidige situasie in Suid-Afrika is 'n geleentheid wat die Here aan sy kerk gee om Hom te gehoorsaam volgens sy wil en ter wille van sy koninkryk en sy eer (NGK 1998H:418).

Drie duidelike konsekwensies kan uit hierdie besluite van die Algemene Sinode van 1998 getrek word. Die eerste is dat die Sinode - in die bestendiging van sy gereformeerde identiteit - steeds op die spoor wil loop van die lewensomvattende koninkryk van God wat die samelewing as geheel insluit. Selfs al is die regering van die dag nie uitgesproke Christelik nie. God moet meer gehoorsaam word as mense. Lidmate moet vanuit hulle identiteit in Christus hierdie gereformeerde lyn uitbou.

Die tweede is dat as die regering aan "alle" mense maatskaplike diens moet lewer, hy ook teenoor alle mense regverdig moet optree. Dat die regering in sy handhawing van die reg niemand mag uitsluit nie. Dat dit gaan om regering in algemene regsbelang.

Die derde is dat regeringsoptrede volgens God se wil en as deel van sy koninkryk juis in almal se belang is. As die "koning" of regering die reg handhaaf soos God dit wil, is hy vir sy onderdane soos die reën vir die plante (Ps 72:1,6). Christelike geregtigheid beteken regverdigheid teenoor almal (Christen en nie-Christen) en is daarom, op sy terrein, vir almal goed.

Die Sinode roep die Suid-Afrikaanse regering ook op om die reg op lewe - ook 'n lewe tot eer van God - van almal te beskerm en dit "sy hoogste prioriteit te maak". Hy moet misdaad met alle mag voorkom en uitroei. Lidmate moet self ook "iets... doen aan die situasie waarbinne ons is" en nie alles aan die Here en die regering oorlaat nie (NGK 1998H:418). Korrupsie en geweld is immorele verskynsels wat Suid-Afrika erg benadeel. Regering op alle vlakke moet dit hokslaan, onskuldige slagoffers soos boere en arbeiders op plase beskerm en maatreëls instel vir 'n veiliger en eerbaarder Suid-Afrika (NGK 1998H:418-419).

Die NG Kerk is in 'n nuwe land met 'n nuwe etos, maar die regte (herinterpreteerde?) konsekwensies van sy gereformeerde identiteit bly relevant vir hom as kerk. Wat voor die Here as God van hemel en aarde vir "die mens" of die gelowige goed is, sluit alle mense in.

Op aanbeveling van sy Kommissie vir Diens van Barmhartigheid doen dieselfde Sinode 'n beroep op NG-lidmate om bewustelik 'n onderskeid te maak tussen dit wat die land se wette toelaat en wat die Bybelse standpunt oor sake is (NGK 1998H:428). 'n Oproep wat weer die twee sake beklemtoon: die gereformeeerde identiteit van die NG Kerk en die nuwe land waarin hy hom bevind.

3.13 KERKLIKE PRAKTYKE ONDER DIE LOEP

In ander kerklike praktyke slaan die modern-gereformeerde houding van die NG Kerk ook by die Algemene Sinode van 1998 deur. Lidmate wat nou uit Suid-Afrika emigreer, word nie verwyt nie, maar versoek om met die ekumeniese kantoor te skakel met die oog op kerklike inskakeling in die "vreemde" (NGK 1998H:405). Die oortuiging wat in die naam van die kerk as net die "Nederduitse Gereformeerde Kerk", sonder 'n geografiese agtervoegsel, weerspieël word, blyk ook uit dié aksie. Die NG Kerk as 'n geloofsverband kan nie deur staatkundige grense beperk word nie (vgl Van der Watt 1973:19vv). Emigrasie hoef nie jou lidmaatskap te beëindig as daar NG-gemeentes op die plek is of kan ontstaan waarheen jy emigreer nie.

Behalwe dat die nuwe situasie nouer skakeling en samewerking in die buiteland met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) gebring het, vereenselwig die Algemene Sinode van 1998 hom met die stigting van 'n konvent van reformatoriese kerke in Suid-Afrika. 'n Inisiatief van die Gereformeerde Kerke. Ten opsigte van die binneland verklaar die Algemene Sinode dat die "amptelike" verhouding van die NG Kerk met die APK so is dat "vrugbare geprekke" moontlik is. Die Sinode handhaaf egter die standpunt dat daar nie gronde vir die bestaan van hierdie kerke as twee aparte kerke is nie. Daar is ook geen Bybelse regverdiging vir die APK se eksklusiewe lidmaatskap op etniese gronde nie (NGK 1998H:404).

Daarby verwys die Sinode na die prediking en die bediening van die sakramente. 'n Studiestuk oor prediking in 'n "oorgangsituasie" word as riglyn vir die "kerk" aanvaar (NGK 1998H:453). Die Sinode bevestig ook dat proponente nie die bevoegdheid van 'n predikant het nie en dus nie die sakramente kan bedien nie. Woord en sakrament het dieselfde waarde, maar die bediening van die Woord deur 'n proponent is nie amptelik nie omdat hy nie in 'n amp wat aan gemeente gekoppel moet wees, staan nie. Sakramente kan as sakramente egter net amptelik bedien word (NGK 1998H:463). Eksperimentering met die samestelling van kerkrade in die nuwe tyd word afgewys. Kerkrade moet saamgestel word soos bepaal in die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Kerkorde (NGK 1998H: 464). Die nuwe diensverhouding van predikante aan die hand van 'n dienskontrak tussen die predikant en die gemeente soos bepaal in die Kerkorde, is versoenbaar met 'n gereformeerde manier van doen én "die nuutste arbeidswetgewing" (NGK 1998H:469).

Die Algemene Sinode van 1998 herbevestig die doop van die kindertjies van belydende lidmate as 'n verbondsdoop en "die grootdoop" as 'n doop wat teen 'n sendingagtergrond dui op inlywing in die genadeverbond. Die herdoop doen die "eenmalige" betekenis van die doop "geweld" aan. Dit is egter 'n dwaling "binne" die Christendom wat pastoraal hanteer moet word en kan uitloop op die tug. Dit mag nie so wees dat herdoop lidmate "outomaties" van die kerk afsny nie (NGK 1998H:469-470). 'n Alternatiewe formulier vir die bediening van die nagmaal asook 'n studiestuk oor nagmaalsliturgieë word ook aanvaar (NGK 1998H:452). Die wagwoord is gereformeerd verankerde vernuwing.

Die Algemene Sinode van 1998 bly ook getrou aan sy erkenning van die NGKA. Die aansoek van die Sinodes Vrystaat en Phororo om "tot die Algemene Sinode toe te tree", word egter goedgekeur met die onduidelike "amptelike" stelling dat "die inskakelende kerke inmiddels by die betrokke sinodes en ringe" kan inskakel. Die versoek kom immers van twee (streek-) sinodes wat pertinent versoek om by die Algemene Sinode in te skakel. Die ASK word getaak om die saak ná die uitspraak van die Appélhof later in 1998 te hanteer (NGK 1998H:448). Sedertdien het niks egter verander nie. Die Algemene Sinode loop steeds 'n wankelrige spoor teenoor die NGKA wat in 2011 nog duidelik sigbaar is (NGK 2011H:100vv).

Die NG Kerk soos vergestalt in die Algemene Sinode van 1998, sou dus voortgaan as 'n gereformeerde kerk wat verankerd probeer verander in die nuwe eeu wat op hande is. Die 21 ste eeu sou die NG Kerk ook as 'n kerk in verandering gadeslaan.

 

HOOFSTUK 4

BY DIE WENDING VAN DIE EEUE

Die oorgang van 1999 na 2000 was niks dramaties nie. Dinge het ook nie skielik bollemakiesie geslaan nie. Veral nie in die NG Kerk nie. Uit die aanloop tot die Algemene Sinode van 2002 was dit duidelik dat sekere "ou" sake weer op die agenda sou wees: ekumene, die eenheidproses in die NG Kerk familie, die belydenisskrifte, die doop van kinderhuiskinders, praktyke in die gemeentes, die morele krisis in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en nagmaalsgebruik deur dooplidmate. Tog sou daar nuwe sake bykom wat opnuut 'n uitdaging stel aan 'n eietydse gereformeerde kerk.

Voorbeelde is die gesag van die Skrif of die Bybel as die Woord van God in 'n nuwe tyd, die kwessie van homoseksualiteit waaroor daar 'n verskuiwing onder gereformeerdes aan die plaasvind was33, die verskynsel van die sogenaamde Nuwe Hervorming wat met ou dwalinge nuut wou klink, saamwoon - van afgetredenes, regstellende aksie in Suid-Afrika en die vreemde uitsprake van sommige teoloë (NGK 2002H:635-636).

Miskien het die wending van die 20ste na die 21ste eeu op sy duidelikste deurgekom in die moderatuur wat by die Algemene Sinode van 2002 verkies is. Tydgenote soos Pieter Potgieter, Mike Smuts en Frits Gaum het uitgetree. Vir ons wat jonger is, is hulle die vorige geslag. Ek noem hulle op die naam, maar hulle is my seniors.

Pieter Coertzen is weer as aktuarius verkies. Hy was saam met skriba Cassie Carstens al lede van die ou moderatuur wat weer sou dien. Die res het bestaan uit nuwe gesigte.

Doktor Coenie Burger van Stellenbosch is as die nuwe voorsitter aangewys. Vir sy effense vreemdheid met vergaderingsprosedure sou hy vergoed met sy integriteit en eerlikheid, sagte hand en sy passie vir 'n evangeliese gereformeerdheid. Ek sou sy ondervoorsitter word. Omdat ek vooraf 'n konserwatiewe en hy 'n liberale etiket omgehang is, was daar doemprofete wat voorspel het dat ons nie sou saamwerk nie. Die teendeel het gebeur (Volksblad 20:06:2007).

Coenie is Bybelsbehoudend en gereformeerd, maar ook aanpasbaar modern. Hy laat hom vind vir 'n saak as hy oortuig word dat dit Bybelsbegrond is. Ons het persoonlikheids- en stylverskille, maar kon in vertroue saamwerk. Ten opsigte van die Belydenis van Belhar het ons twee kante van die NG Kerk verteenwoordig maar vir mekaar ruimte gemaak. Die byna fanatiese ingesteldheid wat by die Algemene Sinode van 2011 by sommige pro-Belhargesindes deurgeslaan het, was nie by Coenie merkbaar nie. Oor Skrifgesag en homoseksualiteit was ons dit in hoofsaak eens (Volksblad 22:10: 2002).

Omdat Coenie bo my as moderator verkies is, het ek by die kies van die ondervoorsitter aanvaar dat ek, indien ek die laaste twee haal, weer in die minderheid sou wees. Dat hier 'n verdeling deur die sinode loop wat my verkiesingslot sou bepaal. Ek was verras toe die teendeel blyk (Beeld 12.10.2002). Bespiegelinge vooraf in koerante dat ek een van die kandidate vir moderator sou wees (Beeld 11.10. 2002), het ek nie ernstig opgeneem nie. Ek was wel die Vrystaatse moderator van 1999 af, maar dit kon nie bepalend wees nie. Coenie met sy "ruim" huis vir verskille oor kerksake het hierdie oortuiging ook teenoor my uitgeleef.

Behalwe Pieter Coertzen as aktuarius en Cassie Carstens as skriba, is doktor Kobus Gerber as assistent-skriba verkies. Hy was 'n jaar voor my op teologiese fakulteit in Pretoria. Ek sou later as voorsitter en hy as voltydse skriba weer saam dien. Kobus was hoog aangeslaan in die Sinode van Noord-Transvaal waar hy moderator geword het.

4.1 EKUMENE VAN GEREFORMEERDES

Die groei in die ekumeniese verhoudinge van die NG Kerk sou in die periode 1998-2002 voortgesit word. Binnelands en buitelands was daar beduidende vordering met kerke van "gereformeerde oortuiging". Dit was sigbaar in die verhoudinge van die NG Kerk met indiwiduele kerke en ekumeniese organisasies.

Volle betrekkinge met drie gereformeerde kerke in die buiteland sou as 'n formaliteit deur die Algemene Sinode van 2002 goedgekeur word. Hierdie volle betrekkinge het daarop neergekom dat die betrokke kerk in alles as een met die NG Kerk beskou word en dat sy lidmate en predikante deur die NG Kerk hanteer word soos lidmate en predikante van NG-gemeentes. Hierdie kerk moes 'n kerk van gereformeerde belydenis wees, sy predikante sou toelaatbaar op die kansels van én beroepbaar na NG Kerkgemeentes wees, sy teologiese opleiding erken word en lidmate van sy gemeentes toegelaat word tot die sakramente. Hulle attestate (of getuigskrifte van goeie kerklike gedrag) word ook erken (NGK 2004KO:32-33). Die drie kerke is die Christian Reformed Churches of Australia, die CRCNA34 en die Reformed Church in Japan.

Sterker ekumeniese bande sou voortaan gesoek word met die Presbyterian Church of the USA, die Reformed Churches of America en die Samen-op-Wegkerke in Nederland35 (NGK 2002N:572). In hierdie gevalle was die maatstaf die "gereformeerde oortuiging".

In Suid-Afrika sou die NG Kerk as 'n waarnemer sedert 1998 nou om volle lidmaatskap van die SARK aansoek doen. In 2004 word hy ook as sulks aanvaar (NGK 2007A:399). Die NG Kerk het sedert 1968 by die ontstaan van die SARK na die ontbinding van die ou Christenraad in die vroeg 1960's, verkies om buite te bly, maar nou aansoek om lidmaatskap gedoen. Die NG Kerk het in die vroeg 1940's oor taal uit die Christenraad onttrek (Geldenhuys 1982:103; Strauss 2002:186). Sy suksesvolle aansoek as volle lid van die SARK in 2004, het die isolasie of "apartheid" van die NG Kerk voor 1986 verder omgekeer.

Met sy twee tradisionele Afrikaanse "susterskerke" naamlik die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) sou 'n voorstel van 'n nuwe Tussenkerklike Raad (TKR) wat die ou Tussenkerklike Kommissie (TKK) vervang, op die tafel van die Algemene Sinode van 2002 beland. 'n Raad sou dan oor meer "tande" as 'n kommissie beskik om eenheid tussen hierdie drie te bewerkstellig.

Ek was persoonlik van 1990 af egter by hierdie instansie betrokke en betwyfel dit of die verandering in die naam die proses enigsins sou stimuleer. Later, in my jare as voorsitter van die NG Kerk se Moderamen van die Algemene Sinode (2007-2011), het die TKR opnuut na die sin van sy bestaan en werksaamhede begin vra. Bilateraal sou die NG Kerk en die NHKA wel met mekaar volle verhoudinge aangaan in 2010-2011 (NHK 2010:361-365; NG Kerk 2011A:255) en het die NG Kerk probeer om sy samewerking met die GKSA in 'n ooreenkoms vas te lê (NGK 2011A:256), maar dit was buite die TKR om.

'n Ander groei in ekumene word gesanksioneer toe die Algemene Sinode van 2002 aan die versoek van die ASK voldoen deur aan hom volmag te gee om by TEASA - die Evangeliese Assosiasie van Suid-Afrika - aan te sluit (NGK 2002H:572). Lidmaatskap van TEASA met sy evangeliese inslag was nie omstrede nie.

4.2 STAGNASIE FAMILIE-EENHEID NG KERKE: BELHAR

In een opsig het die koms van die 21ste eeu nie 'n verandering in die NG Kerke gebring nie: die vordering van die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie. In sy verslag aan die Algemene Sinode van 2002 erken die ASK sy frustrasie met die "stadige tempo waarop ons vorder op die weg na kerkeenheid". Hy verbind hom egter opnuut daartoe om te poog om deur die beskikking van die Here een kerkverband in die familie tot stand te bring (NGK 2002A:379)36.

Die min vordering waarvan die ASK melding maak, is egter nie tot die kwessie van een kerkverband beperk nie.

Die ASK rapporteer dat hy die besluite van 1998 oor die Belydenis van Belhar tydens gesprekke met die VGKSA "te berde" wou bring, maar dat dit agterweë gebly het. Dit is eventueel in 2002 deurgegee, maar die planne vir 'n konvent van die familie het die gedagte laat ontstaan dat dit by so 'n konvent kan aandag kry.

Hiermee het die ASK waarskynlik 'n geleentheid verpas om die debat oor Belhar uit sy impasse te lig en 'n nuwe impetus aan die eenheidsproses te gee. Die funderende Belhardebat was met die Algemene Sinode van Oktober 2002 nog net waar dit vier jaar gelede was. Het die ASK by voorbaat aanvaar dat die Algemene Sinode van 1998 met hierdie besluit geen impak op die eenheidsproses sal maak nie?

Die ASK het egter ook aandag aan die interpretasie van die omstrede artikel 4 van die Belydenis van Belhar gegee. Die stelling dat God "in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verontregte is" (Durand et al 1984:9)37. Dié interpretasie is aan die Gesamentlike Kommissie vir Kerkvereniging deurgegee met die versoek dat hulle oordeel oor die billikheid en aanvaarding daarvan. Die vraag wat ontstaan is egter: waarom is die interpretasie nie eers met die VGKSA deurgepraat en toe na die Gesamentlike Kommissie geneem nie? 'n Aanvaarding daarvan deur beide die VGKSA en die ASK as sleutelrolspelers sou nuwe moontlikhede vir die eenheidsproses kon open. Of het die ASK op hierdie stadium reeds alle vertroue verloor dat die VGKSA - die outeurs van Belhar - met die voorstelle van 1998 en later uit die NG Kerk tot nuwe, bykomende insigte beweeg kon word?

Die ASK bestempel die betrokke sinnetjie as 'n metaforiese manier om te beklemtoon dat God die saak van die noodlydendes, armes en verontregtes opneem en die Een is op wie hulle kan vertrou en hulle kan beroep (NGK 2002A:381). Dié interpretasie van die ASK sou egter nooit sterk figureer nie. Terselfdertyd omseil dit die eintlike punt naamlik op watter wyse God die saak van die noodlydendes, armes en verontregts opneem?

KS-1990 stel die saak duideliker en waarskynlik meer korrek. Volgens KS-1990 gaan dit vir God om die reg van die noodlydendes, armes, verontregtes en weerloses. KS-1990 verwys hiervoor na etlike Psalms. Wanneer die kerk vir die reg van lydende en verontregte mense intree, volg dit die voorbeeld van God self. Hy is by "uitnemendheid" die Een wat hulle saak op hierdie manier behartig (NGK 1990KS:22).

4.3 EEN KERKVERBAND

Wat die strukturele eenwording van die NG Kerkfamilie in Suider-Afrika betref, volstaan die ASK in sy verslag aan die Algemene Sinode van 2002 met drie sake: 'n moontlike gesamentlike konvent van die vier kerke, die goedkeuring van kerkrade vir die vorming van 'n nuwe kerkverband in die NGK-familie en 'n verslag oor die versoek van die NGKA-sinodes Vrystaat en Phororo om by die Algemene Sinode in te skakel (NGK 2002H:571).

Die voorstel van 'n konvent om die proses te stimuleer spruit uit 'n gedagte wat op daardie stadium onder predikante en ander lidmate voorgekom het en deur die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland saam met die VGKSA-Sinode van die Wes-Kaap in 1999 as die Konvent van Suiderkruisers (later Kaapland) in die vooruitsig gestel is. Die NG-Sinode van Oos-Kaapland sou later ook daarby inskakel (NGK 2002A:382). Hierdie konvent het in Julie 2001 naby Wellington vergader. Dieselfde gedagte het in ander sinodale gebiede ontstaan.

Subkommissie 7 van die Gesamentlike Kommissie sou by sy vergadering op 7 September 2002 'n konvent vir die NG Kerkfamilie aanbeveel. Die ASK oordeel dat so 'n konvent 'n "positiewe en konstruktiewe stap" na "daadwerklike kerkvereniging" kan wees en gee sy dagbestuur opdrag om die saak met die res van die familie op te neem (NGK 2002A: 383). Die meriete van die konvent dien dus nou voor die Algemene Sinode van 2002.

Die besluit van die Algemene Sinode van 1998 dat kerkrade by die vorming van 'n nuwe kerkverband waaronder oor sy belydenisgrondslag en kerkorde, inspraak moet hê, kom via die Algemene Regskommissie in die verslag van die Tydelike Regskommissie op die tafel van die Algemene Sinode van 2002. Die motivering van hierdie voorstel blyk ondermeer uit onderdele daarvan. Dit gaan oor die vorming van een kerkverband in die

NG Kerkfamilie "met die grootste moontlike konsensus" na 'n "behoorlike oorleg- en raadpleging" van kerkrade. Indien konsensus nie bereik word nie - dit is in elke geval wensdenkery, PS - verskuif die goedkeuring na die kerkrade waarvan tweederdes van "alle kerkrade in die NG Kerk" dit met 'n tweederde meerderheid moet goedkeur (NGK 2002A:515).

Die Algemene Regskommissie maak in sy motivering gebruik van 'n opsomming wat ek moes maak van 'n artikel van my wat in 1999 in Acta Theologica (Strauss 1999) verskyn het. Dié Kommissie koop dus my argument dat die kerkrade nie net inspraak in die saak moet kry nie, maar ook daaroor moet stem (NGK 2002A:288-289).

Volgens die Algemene Regskommissie konstitueer gemeentes kerkverband. Gemeentes vorm kerkverband omdat die gemeente volledig kerk, hoewel nie die volle (hele) kerk is nie (Heyns 1977:170). Die gemeente is volledig kerk omdat die merktekens of kenmerke van die (ware) kerk naamlik die suiwere bediening van die Woord en sakramente en die handhawing van die kerklike tug uitsluitlik daar voorkom (Nederlandse Geloofsbelydenis art 29; Strauss 1999:40). Bavinck (1967:356) betoog dat die gemeente volledig kerk is al bly daar net een gemeente op aarde oor. In gereformeerde terme soek gemeentes van dieselfde belydenis wat saamstem oor die hoofsake van die regering en inrigting van die kerk, mekaar op in kerkverband. Die eenheid van die kerk is ten diepste 'n geloofsfeit of 'n eenheid in die geloof wat in die akkoord of ooreenkoms van kerklike gemeenskap, naamlik die belydenisskrifte van die kerk, verwoord word (Smit 1984:62-69). Dit is egter ook 'n opdrag wat - ondermeer -deur die gemeentes se deelname aan een kerkverband uitgevoer word. Kerkrade as die regeerders van die gemeentes wat kerkverband uitmaak, moet stem oor die belydenisse, regering en inrigting van die verband wat gevorm word of waarby hulle inskakel (Strauss 1999:43-44).

Die tendens sedert die Algemene Sinode van 1994 dat kerkrade en gemeentes oor die verloop van die eenheidsproses geraadpleeg word en inspraak het, word dus nou gewysig na dat die kerkrade daaroor stem en dit goedkeur. Die beginsel agter die goedkeuring deur kerkrade van so 'n proses gaan egter verder terug. In 1911 met die abortiewe poging om een sinodale verband in die NG Kerk te vorm, moes 'n driekwart van die kerkrade in elke sinode die voorgestelde vereniging wat in 1862 met die Loedolffsaak ontspoor het, goedkeur (NGK 1911:5,35; Van der Watt 1973:153) 'n Saak met - op die oog af - minder voetangels as die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie. Waar inspraak in 1994 nog om nuttigheidsredes nodig geag is en die begrip konsensus om verdeeldheid en skeuring te voorkom óók in 2002 gebruik is, het die aanbeveling dat kerkrade die nuwe verband goedkeur, neergekom op die erkenning van die beginsel dat kerkverband 'n verband van gemeentes is wat elkeen selfstandig en volledig kerk is. Omdat selfstandige gemeentes kerkverband konstitueer, moet hulle deur middel van hulle kerkrade daaroor stem of besluit.

Hierdie kerkregtelike beginsel was bepalend vir die uitspraak van die Appélhof op 27 November 1998 waarin die regsgeldige voortbestaan van die NGKA gehandhaaf is. Die hof het aanvaar dat 'n gereformeerde kerk naas regsaspekte, beoordeel moet word aan die hand van hoe hy homself aanbied. Kernaspekte van 'n gereformeerde verstaan van kerkverband is versoenbaar met die geldende reg. Daarom kom die Appélhof tot die slotsom dat kerkrade (en gemeentes) in 'n gereformeerd-presbiteriale stelsel van kerkregering nie teen hulle wil en eensydig van hulle regspersoonlikheid, eiendom, bates en laste ontneem kan word nie en dat hulle belydenis en kerkverband nie sonder hulle instemming verander kan word nie (Hoogste Hof van Appél in Suid-Afrika, saaknommer 536/98. Uitspraak Vivier, AR 27,33,34).

Die ASK moet egter ook aan die Algemene Sinode van 2002 rapporteer dat die aansoeke van die twee NGKA-sinodes naamlik Vrystaat en Phororo, om by die NG Kerk in te skakel, reeds in 1999 in die sand geloop het. Dit het waarskynlik om twee redes gebeur.

Die eerste rede spruit waarskynlik uit die ASK se besluit om die aansoeke eers met die RCA, VGKSA, en NGKA te bespreek. Die aansoeke sou dus onbepaald oorstaan omdat die gesprekke met hierdie kerke nie "eintlik wou vorder nie". Die ASK sou dit "steeds" as ideaal stel dat die vier kerke "gelyk moet ingaan" in 'n eenheidsproses. Eers as dit nie moontlik is nie, kan daar voortgegaan word met die aparte versoeke van die NGKA. Gelet op die probleme met die eenheidsgesprekke, het die ASK die NGKA-aansoeke hiermee bewustelik op die lange baan geskuif. 'n Toestand wat waarskynlik nie in die bedoeling van die besluit van die Algemene Sinode van 1998 gelê het nie.

Die tweede rede waarom die aansoeke versand het, lê waarskynlik opgesluit in die besluit van die Algemene Sinode van die NGKA van 1999 oor dieselfde saak. 'n Besluit wat die aansoeke na die agtergrond dwing. Anders as die rigting van die aansoeke om inskakeling by die NG Kerk se Algemene Sinode, het die Algemene Sinode van die NGKA nou 'n nuwe Nasionale Sinode vir die NG Kerke voorgestel. 'n Sinode wat nie 'n gesagsliggaam is wat besluite namens die NGKA neem nie. 'n Sinode wat deur die ASK van die NGKA met die familie onderhandel word. Daarmee sou die twee aansoeke deur die NGKA self deur ander voorstelle verdring word. Die aanduiding van NGKA-Phororo dat hulle weer met die NG Kerk wil praat oor inskakeling, het niks hieraan verander nie (NGK 2002A:383). Met hierdie wysiging in sy versoeke het die NGKA die ASK van die NG Kerk waarskynlik ook "gered" in sy nalaat van die besluit van die Algemene Sinode van 1998. Die Algemene Sinode van 2002 sou die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie dus in min of meer dieselfde situasie aantref as sy voorganger in 1998.

Ander sake wat by die Algemene Sinode van 1998 ter sprake was sou weer op die agenda van die Algemene Sinode van 2002 wees. In die algemeen het dit gegaan om voorstelle ter bevestiging van standpunte wat reeds ingeneem is: die wyse van aanvaarding van die NG Kerk se belydenisskrifte, die doop van kinderhuiskinders, die morele krisis op verskeie punte in die Suid-Afrikaanse gemeenskap, praktyke in die gemeentes en nagmaalsgebruik deur dooplidmate. Nuwe sake is egter ook vir die Sinode voorberei.

4.4 DIE GESAG VAN DIE SKRIF EN BELYDENIS

Die Algemene Sinode van 1998 het dit "opnuut" aan sy Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake opgedra om 'n "duidelike standpunt oor die gesag van die Bybel as die Woord van God te formuleer" (NGK 1998H:465). Die vorige verslag oor Skrifgesag en Skrifgebruik is deur die Algemene Sinode van 1986 sonder 'n teenstem aanvaar (NGK 2002A:201).

Volgens die Kommissie is die verslag aan die Sinode van 2002 nie 'n vervanging van die 1986-verslag nie, maar 'n aanvulling en verdere verduideliking. Die menslike karakter van die Skrif as Woord van God skep hier, by die wenteling van die eeue, nog heelwat probleme. Sommige vrees dat 'n aksent op hierdie karakter die gesag van die Bybel as Woord van God mag ondermyn (NGK 2002A:201).

Volgens die Kommissie het die Bybelskrywers soos geinspireer of gedryf deur die Gees, nie opgehou om sondige mense te wees nie. Dit is op sigself reeds 'n heenwysing na die Bybelse Boodskap dat God in sy genade neergedaal het na sondige mense toe. Die sogenaamde menslike "foute" in die Bybel en sy vorm verwys na sy inhoud waarvan die Gekruisigde die kern is. Die Skrif is nie 'n onfeilbare bron van eksakte historiese en natuurwetenskaplike inligting nie, maar is aan ons gegee om die kennis by te bring "wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (II Tim 3:15)". In hierdie opsig dra die Bybel goddellike gesag.

Die verslag noem ook voorbeelde van sulke historiese en natuur-wetenskaplike foute. Die mosterdsaad is beslis nie die kleinste van alle saad nie (Mark 4:31) en die skepping bestaan nie uit drie verdiepings nie (Ex 20:4). Boonop gee die Bybel twee weergawes van Judas se dood, in Matteus 27:3-10 en in Handelinge 1:16-19, wat skerp met mekaar verskil. In 1 Samuel 17 is Dawid verantwoordelik vir Goliat se dood en in 2 Samuel 21 Elganan. Dit gaan om die Boodskap van verlossing in Jesus Christus teen die agtergrond, omstandighede en kennis van daardie tyd. Hierdie agtergrond, omstandighede en kennis dra die verlossingsboodskap naamlik God se genade in Christus (NGK 2002A:202-210).

Ten opsigte van die NG Kerk se belydenisskrifte kom die kommissie met voorstelle oor enkele sake wat in 1998 na hom terugverwys is. Hy stel voor dat die Algemene Sinode opnuut sy aanvaarding van Hebreërs as 'n kanonieke Bybelboek bevestig, al het die opsteller van die Nederlandse Geloofsbelydenis se artikel 4 nie geweet dat Paulus nie die boek geskryf het nie. Daar kan nie van die opsteller van die belydenis verwag word dat hy dit destyds al moes geweet het nie. Onsekerheid oor die skrywer van hierdie boek bring egter nie sy gesag as Bybelboek in gedrang nie. Teksgebruik in die belydenisskrifte waarmee ons nou verskil, beteken ook nie dat die saak wat hierdie geskrifte bely nie ooreenstem met die "boodskap van die Skrif as geheel" nie.

Oor die stelling in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 36 dat die staatsowerheid die ryk van die Antichris moet vernietig en die koninkryk van Jesus Christus moet bevorder, erken die Kommissie dat die kerk in die na-Verligtingstyd (na ongeveer 1690, De Jong 1987:252) nie meer van die staat kan verwag dat hy dit op 'n "direkte" manier doen nie. Die staat kan wel op grond van die Skrif van die owerheid verwag om "publiekregtelike ruimte" te skep waarbinne die kerk na die "eer van God ook op staatkundige terrein" kan soek. Die saak waarom dit hier gaan, naamlik dat alle owerhede onder die oppergesag van God staan, geld vandag nog.

Die NG Kerk glo, aldus Leer en Aktuele Sake, dat hy in sy belydenisskrifte geloofsake formuleer wat met die Skrif ooreenstem en daarom aanvaar word. Dat sy belydenisskrifte in dit wat hulle as geloof bely, met die gesag van die Woord bely. Die standpunt van die Algemene Sinode van 1998 kan dus gehandhaaf word. Wat bykom is ander voorbeelde wat mense gebruik om die gesag van die belydenisskrifte te bevraagteken (NGK 2002A:237).

4.5 DIE KWESSIE VAN HOMOSEKSUALITEIT

Sy Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake sou nie net verslae in opdrag van die Algemene Sinode van 1998 aan die Algemene Sinode van 2002 voorlê nie. Die Kommissie sou ook vra dat die Algemene Sinode van 2002 aan hom opdrag gee om 'n teologies-etiese studie na homoseksualiteit te doen en daaroor met 'n verslag na die volgende Algemene Sinode te kom.

Ter motivering van sy versoek erken die Kommissie dat die standpunt van die Algemene Sinode van 1986 dat homoseksuele praktyke en verhoudings in stryd is met die wil van God soos in die Bybel, destyds geen rimpeling veroorsaak het nie. Dié situasie het egter drasties verander. Verskeie sinodes het sedertdien aan die saak aandag gegee omdat dit 'n nuwe aktualiteit ontwikkel het. Hierdie aktualiteit noodsaak 'n nuwe verslag en nuwe standpunte. Vir die NG Kerk sal dit onverantwoordelik wees om vir - ten minste - die volgende vier jaar "sondermeer" met die besluit van 1986 te volstaan. Boonop het die ASK die Kommissie ook versoek om aandag aan die saak te gee en aan die Algemene Sinode van 2002 te rapporteer. Die kommissie oordeel dat die Algemene Sinode nie nou oor hierdie "brandende kwessie" kan standpunt inneem nie. Die wyse waarop die debat in die buiteland verloop, gee ook min hoop dat 'n konsensus hieroor maklik bereik sal word. Daarom wil die Kommissie met sy verslag alleen poog om rigting te gee aan 'n debat "wat by ons pas in alle erns begin het" (NGK 2002A:247).

In sy aanbevelings maak die Kommissie die stelling dat die Algemene Sinode "in die lig van voortgaande besinning" nie kan volstaan met die besluite van 1986 nie. Ampsdraers en kerkvergaderings moet die saak "derhalwe" met groot omsigtigheid hanteer (NGK 2002A:254).

'n Interessante klem by die Kommissie is dat alleen die feit van 'n voortgaande besinning die besluite van 1986 op die weegskaal plaas en kerkvergaderings noop om die saak met omsigtigheid te hanteer. Daarteenoor is dit so dat 'n gereformeerde sinode erken dat alle mensewerk voorlopig is, maar dat die voorlopigheid daarvan alleen nie noodsaak dat die oortuigings van vroeër opgehef word nie. Dit wil dus voorkom asof die Kommissie die besluite van 1986 by voorbaat bevraagteken sonder om konkreet te verduidelik waar daardie besluite verkeerd loop.

Die Kommissie versoek die Algemene Sinode van 2002 dus om hom opdrag te gee om 'n "grondige teologies-etiese" studie oor homoseksualiteit te doen "met die oog op die volgende Algemene Sinode". Ander kommissies, kundiges én gelowiges met 'n homoseksuele oriëntasie moet indien nodig óók by die saak betrek kan word. Daarby moet kerkvergaderings en lidmate genooi kan word om deel te neem aan die besinning.

Hoewel die Kommissie in sy verslag reeds interpreterend na baie kwessies wat in die debat geopper word, verwys, volstaan hy met dié prosesaanbevelings. Hy staan dus by 'n punt dat 'n standpunt van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit by die volgende Algemene Sinode of selfs later kan kom. Dit sou eventueel ook nie by die volgende sinode in 2004 nie, maar eers by die Algemene Sinode van 2007 kom.

Die voorstel vir so 'n omvangryke ondersoek toon ten minste een ding. Dit is dat die Kommissie besef dat hierdie saak in die lig van resente ontwikkelings meer voetangels het as wat op die oog af sigbaar is. Dat daar in die NG Kerk - op daardie stadium - nie meer 'n homogene standpunt oor die saak is nie. Ook nie oor die implikasies van die Bybel vir hierdie problematiek nie. Implikasies wat saamhang met Skrifgesag en -gebruik. Dit sou latere ontwikkelings aantoon.

4.6 NUWE HERVORMING

'n Verskynsel wat waarskynlik vanweë sy verskille met die ortodokse Christendom baie aandag in die Afrikaanse media getrek het, was die sogenaamde Nuwe Hervorming. Die woordjie "sogenaamd" word gebruik omdat die begrippe "nuwe" en "hervorming" in die ontstaansbetekenis of -konteks van die woord, nie by hierdie saak pas nie. Daarop word teruggekom.

Sedert die begin van 2002 het die Afrikaanse media berig van 'n "groep mense" wat glo dat die tradisionele kerke se opvattinge oor fundamentele geloofskwessies verouderd is. Dat dié geloofsgoed herintepreteer moet word om vir die moderne post-modernistiese mens relevant en aanvaarbaar te wees. Die Nuwe Hervorming put uit die resultate van die Jesus Seminar. Hulle maak 'n onderskeid tussen die historiese en verkondigde Jesus.

Die Evangelies, so loop hulle argument, verkondig Jesus vanuit die geloof dat Hy uit die dood opgestaan het en dig aan Hom dinge toe wat Hyself nie gesê of gedoen het nie. Die Evangelies teken 'n vals beeld van Christus want dit is nie hoe Hy werklik was nie. Die historiese weergawe van Jesus se lewe gee aan ons sy betroubare beeld. Volgens die Jesus Seminar moet daar met 'n analogiese beginsel gewerk word om vanuit gebeure wat tans as werklik en histories bestempel kan word, te bepaal wat in die verlede werklik gebeur het. Byvoorbeeld: almal weet vandag dat lyke nie weer lewendig word nie. Dit kon dus in die tyd van die Bybel ook nie gebeur het nie sodat Jesus nie uit die dood kon opgestaan het nie. Sy maagdelike geboorte is onmoontlik omdat maagde vandag nog nie babas kry nie. Net so is sy wonders onmoontlik.

Die ASK beweer tereg in 'n verslag aan die Algemene Sinode van 2002 dat die gedagtes van die Nuwe Hervorming nie nuut is nie. Dit kom reeds meer as 200 jaar onder moderne teoloë voor (vgl De Jong 1987:294,321,325). Boonop het dit in die 16de eeuse hervorming gegaan om die herstel van die kerk en die kern van geloofsoortuigings soos dit in die vroeë kerk aangetref is. In die proses was die geestelike of sentrale boodskap van die Bybel die norm. Van hieruit wou die Reformatore reformeer. Die Nuwe Hervorming het geen erg aan hierdie sentrale boodskap en reformasie op grond daarvan nie. Hulle hervorm of bou nie die kerk nie, maar probeer dit afbreek en deformeer. Daarom wil die ASK dat die Algemene Sinode van 2002 hom van die Nuwe Hervorming distansieer maar ook met hulle 'n gesprek aanvra om seker te maak dat die verskille met hulle nie op misverstande berus nie (NGK 2002H:493-494).

Die verslag van die ASK beslaan 'n bladsy en 'n half wat aantoon dat hierdie kerklike liggaam die belang van die Nuwe Hervorming nie hoog ag nie. Daarmee is die tafel egter gedek vir 'n saak wat in die media vanweë sy andersheid of ongewoonheid baie aandag getrek het. Wat as die ongewone nuus was. Aandag wat ook op lidmate kon inspeel.

4.7 'N SAAMWONERY VAN 'N ANDER AARD

'n Kwessie wat - ek noem dit tong in die kies - onteenseglik sou aandui dat die NG Kerk nie verstar nie, ook nie in sy bestryding van openbare "euwels" ('n term uit die jare 1940-1960) nie, was die nuwe soort saamwonery waarvan die Algemene Sinode van 2002 in sy agenda moes kennis neem. 'n Saak wat met groot deernis, maar ook 'n bietjie binnepret aangepak is.

Die aanvanklike saakopskrif in die agenda van die Algemene Sinode van 2002 het gelui: Saamwoon van afgetredenes.... In kerklike taal was hulle nie jong belydende lidmate op soek na opwinding en afleiding nie. Hulle was "ou" belydende lidmate op soek na rus en 'n vreedsame "koudleiding". Die volledige opskrif was: Die saamwoon van afgetredenes om ekonomiese redes.

Die Sinode van Noord-Transvaal het die saak in die vorm van 'n beskrywingspunt in 1999 voor hom gehad. Die versoek in die punt was dat die Algemene Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake die saamwoon van afgetrede middeljariges en bejaardes ondersoek met die oog op 'n alternatief vir die "amptelike siviele huwelik". Volgens die opstellers van die beskrywingspunt gebeur dit al hoe meer dat 'n getroude vrou wat aftree en saam met haar man uit sy siviele pensioen leef, na sy afsterwe deur 'n hertroue die pensioen verbeur. Die pensioen word in elke geval dikwels by haar man se afsterwe maar voordat sy hertrou, gehalveer. 'n Alternatief op die erkende siviele huwelik kan dié mense hierdie ekonomiese verlies wat dikwels hulle hoofinkomste is, spaar en hulle vrywaar van die stigma van saamwoon en die "swaard" van die kerklike tug. Boonop leef sulke lidmate dikwels onder stres omdat hulle saamwonery hulle gewetens belas. Die saak het via die Sinode van Noord-Transvaal op die tafel van die Algemene Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake beland wat aanbeveel dat die soortgelyke tydelike kommissie daarna kyk.

Hier was 'n moontlikheid dat saamwoon as 'n probleem vir die kerk uit 'n onverwagse hoek kon toeneem! Die Algemene Sinode van 2002 sou die probleem ook op sy tafel kry.

Dié Sinode is ook gekonfronteer met ander tipiese Suid-Afrikaanse kwessies: armoede, die impak daarvan op NG Kerklidmate, werkskepping, werkloosheid en regstellende aksie. Eietydse, situasiegebonde probleme wat 'n kerk wat by sy totale gemeenskap betrokke wil wees, nie kan vermy nie. Probleme wat in die nuwe land na 1994 eventueel ook op die tafel van die NG Kerk móés kom.

'n Meer intern-kerklike saak wat op die agenda van die Algemene Sinode van 2002 sou kom en waaroor ekself nie gelukkig was vanweë die vorm waarin dit aangebied is nie, was 'n beskywingspunt uit die Vrystaat oor uitsprake van teoloë. Die probleem hieraan was tweeledig. Eerstens was dit algemeen, vaag en daarom nutteloos. Tweedens het dit skynbaar van die verouderde veronderstelling uitgegaan dat persone net deur die Algemene Sinode "gesê" moet word om in hulle spoor te trap. Iets wat in elke geval, weens die vaagheid van die beskrywingspunt, dood gebore sou wees. Niemand kon daaruit aflei wie en watter uitsprake bedoel word nie.

Die beskrywingspunt was van die Moderamen van die NG Kerk in die Vrystaat. Hierdie liggaam het daarop besluit na aanleiding 'n besluit van die Ring van Winburg.

Winburg het die Vrystaatse en Algemene Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake versoek om die moontlikheid van tug teen teoloë "wat dwaalleer oor verskeie sake verkondig te ondersoek en die nodige stappe te doen". Gelegitimeerde teoloë in die NG Kerk is gebonde aan die Bybel en die belydenisskrifte en het belowe om niks te verkondig wat hiermee in stryd is nie. Daarmee het die Ring egter die pad van die kerkorde van die NG Kerk dat gelegitimeerdes by hulle eie ringe aangekla word, verontagsaam. Ook was die klagtes nie omskryf met 'n aanduiding van die oortreding, persoon, tyd en plek nie.

Die Moderamen het die beskrywingspunt wyslik aangepas en verander in 'n versoek dat die Algemene Sinode hom uitspreek teen aanvegbare uitsprake van teologiese professore, dosente en predikante in die media, hulle lesingkamers en "elders". Hierdie uitsprake skep verwarring in die gemoed van gelowiges en teologiese studente en moet duidelik op die Skrif en die belydenis gefundeer word. Die Moderamen het die ongesubstansieerde versoek om tug dus versag na 'n ongesubstansieerde versoek om 'n algemene standpunt of uitspraak (NGK 2002H:442).

Teen hierdie agtergrond en met 'n nuwe moderatuur sou die Algemene Sinode van 2002 die vergaderdeel van sy werksaamhede op Maandag 14 Oktober 2002 in die Sinodesaal in Visagiestraat, Pretoria begin.

4.8 ALGEMENE SINODE VAN 2002 EN EKUMENE

Die Algemene Sinode van 2002 bevestig etlike van die nuwe ekumeniese bedrywighede van die NG Kerk op die vlak van die Algemene Sinode.

Behalwe dat die Algemene Sinode van 2002 bevestig dat die NG Kerk volle betrekkinge met die Reformed Churches of Australia handhaaf, spreek hy ook sy dank uit teenoor die gemeentes van hierdie kerk vir die ondersteuning en pastorale versorging wat hulle aan emigrante uit Suid-Afrika bied. Hy vertrou dat die nuwe lidmate in Australië 'n aanwins sal wees vir "kerk en koninkryk" (NGK 2002H:572).

Die verhouding met die CRCNA wat die Sinode bevestig, is 'n skoolvoorbeeld van die rol wat apartheid op die ekumeniese isolasie van die NG Kerk tot 1986 en selfs later, gespeel het. Terselfdertyd gee dit -veral vanaf die kant van die CRCNA - 'n aanduiding van hoe 'n moderne gereformeerde kerk sy ekumeniese bande benader.

'n Deel van die motivering van die ASK om volle betrekkinge met die CRCNA by die Algemene Sinode van 2002 voor te stel, is die besluit van die Sinode van laasgenoemde op 13 Junie 2001 om sy "ecclesiastical fellowship" met die NG Kerk te herstel. Volgens die ASK het die CRCNA die verhouding "jare gelede" om verskillende redes verbreek. Een van die redes was die NG Kerk se steun aan apartheid.

Die CRCNA was egter nie net verontrus oor die politieke beleid in Suid-Afrika nie. Na 1994 sou hulle gesindheid teenoor die NG Kerk nie oornag verander nie. Wat alles meer pynlik gemaak het, was die feit dat die NG Kerk, die CRCNA en die Gereformeerde Kerke in Nederland die drie groot kerke in die GER was (Geldenhuys 1982:101). Hulle onderlinge verhoudinge as gereformeerdes binne die GER as 'n konfessioneel gedrewe ekumeniese organisasie het inhoudelik op susterskerkbetrekkinge of, in die woordgebruik van die NG Kerk, volle betrekkinge neergekom. Vir die CRCNA om hierdie verhoudinge te herstel, het dit na die jaar 2000 egter nie net om apartheid gegaan nie.

As gereformeerdes in 'n moderne wêreld wou hulle ook weet waar hulle met die NG Kerk staan ten opsigte van Skrifgesag, homoseksualiteit, die ampte, aborsie, genadedood, die gesinsnagmaal en die vrou in die amp. Die CRCNA moes hulle - soos die NG Kerk in Suid-Afrika - in die VSA in die lig van die Skrif en die veranderde situasie in hulle land, oor hierdie sake verantwoord.

Die CRCNA-sinode van 2001 het dus besluit om bilaterale verhoudinge met die NG Kerk te hervat as 'n kerk wat die gereformeerde geloof bely en handhaaf. Volgens hom reageer hy ook op herhaalde versoeke in die verband van die NG Kerk.

Waaroor die CRCNA hulle egter ook verheug, is dat die Algemene Sinode van 1998 van die NG Kerk die "joint resolution" van NG Kerkleiers en die WBGK aanvaar het. Hierdie aanvaarding "removes the obstacle for the CRCNA to enter into ecclesiastical fellowship with the DRC" (NGK 2002A:388).

Vir die CRCNA sou dit dus nie net oor die NG Kerk se steun aan apartheid as 'n etiese kwessie gaan nie, maar ook die meer sentrale kerklike vraag soos Skrifgesag. Dit was egter, omrede die bande van die CRCNA met beide die GER en WBGK, ook duidelik dat die CRCNA die NG Kerk se teologiese en morele steun aan apartheid nie net as 'n etiese saak nie, maar iets wat vanuit 'n status confessionis benader moet word, hanteer het. Al het die CRCNA 'n status confessionis nie in sy besluit genoem nie, was die onttrekking van die NG Kerk se steun aan apartheid deurslaggewend hiervoor. Vir gereformeerdes kan so iets verhoudinge tussen kerke alleen bepaal as dit belydenisimplikasies het.

Daar is gemeld dat die NG Kerk in 2004 as 'n volwaardige lid van die SARK aanvaar is. Hierdie aanvaarding kom na aanleiding van 'n versoek van die Algemene Sinode van 2002 wat geoordeel het dat sy lidmaatskap van die SARK nie net nodig is omdat die NG Kerk iets daar kry nie, maar ook omdat hy iets daar gee. Die NG Kerk weet dit nou al uit die ervaring van sy waarnemerstatus sedert 1995. Volgens die motivering van die ASK is die besluite van die SARK adviserend sodat die NG Kerk nie met alles hoef saam te stem nie. Hy kan dus sonder gewetenswroeging by die SARK aansluit (NGK 2002A:391-392).

Oor die ontwikkeling van 'n nuwe Tussenkerklike Raad vir die drie Afrikaanse kerke is die Algemene Sinode van 2002 positief. Die Sinode wat sigbaar ongeduldig oor stadige vordering raak, beskou dit as "een van die instrumente" om eenheid tussen die kerke te verwesenlik (NGK 2002A:293). 'n Instrument wat weldra tandeloos blyk te wees en net so effektief is as wat sy lede vrywillig gesamentlik is.

Volgens die ASK het sy hertoelating tot die WBGK in 1998 vir die NG Kerk die deure na 323 kerke met meer as 70 miljoen lidmate wêreldwyd oopgemaak (NGK 2002A:393).

In hierdie situasie aanvaar die Algemene Sinode van 2002 'n ekumeniese "beleid" (NGK 2002H:571). Hiervolgens kan die NG Kerk volle, gedeeltelike, dialoog- of kontakverhoudinge met indiwiduele kerke aanknoop. Oor die volle verhoudinge met gereformeerde kerke is daar reeds gehandel. Gedeeltelike verhoudinge is ook met gereformeerde kerke, maar kerke met wie daar nie volle verhoudinge kan wees nie. Dit gaan oor samewerking en die versorging van mekaar se lidmate indien daartoe versoek. Dailoogverhoudinge sê wat dit is. Dit kan lei tot gedeeltelike of volle betrekkinge en behels ook samewerking in gemeenskaplike sake. Kontak gaan oor insidentele kontak (NGK 2002A:384-385).

4.9 EENHEID IN DIE NG KERKFAMILIE

Vanuit die verslag van die ASK neem die Algemene Sinode van 2002 kennis van die stand van die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie. Van hier af moet besluite oor die hoe nou verder, geneem word38.

Die Algemene Sinode is teleurgesteld dat daar 8 jaar na die besluite van die Algemene Sinode van 1994 nog "min vordering" met die proses gemaak is. Die Sinode herbevestig sy "voorneme en verbintenis tot een kerkverband in die NG Kerkfamilie." Hy gee opdrag aan die ASK om so gou moontlik die voorgestelde konvent saam met die VGKSA, NGKA en RCA te reël. Hierdie konvent moet werk aan een kerkverband in die familie.

Volgens die Algemene Sinode van 2002 het "kerkvereniging" 'n prosesmatige karakter. Daar moet saam gesoek word na 'n belydenis-grondslag en struktuur waarbinne die deelnemende kerke hulle kan tuis voel. Die ASK moet die moontlikheid ondersoek dat kerkvergaderings onderling gesamentlike vergaderings hou wat in die interim deel vorm van meer kerkverbande. Die ASK moet kreatief kyk na verdere modelle van kerkeenheid. Die samesmelting, kombinering en samewerking van gemeentes word ook aangemoedig (NGK 2002H:571).

Ten opsigte van die oor en weer beroepbaarheid van bedienaars van die Woord, erken die NG Kerk die opleiding en legitimasie van die ander drie kerke. Daar is egter een voorwaarde: om na 'n NG-gemeente beroep te word, moet iemand 'n opleiding hê wat gelykstaande is aan die van die NG Kerk. Die Drie Formuliere van Eenheid moet aanvaar word vir iemand om in 'n NG-gemeente bevestig te kan word (NGK 2002H:567).

Die voorstel oor die goedkeuring deur kerkrade van die nuwe kerkverband word ook deur die Algemene Sinode van 2002 aanvaar (NGK 2002H:571). Daarmee plaas die Sinode sy stempel op die oortuiging dat kerkverband 'n verband van gemeentes is.

4.10 AKTUELE KWESSIES

Die voorstelle van sy Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake oor die gesag van die Skrif en die uitbreiding van die besluit van 1998 oor die wyse waarop die NG Kerk sy belydenisskrifte aanvaar, word aanvaar. Die Skrif word beskou as 'n tendensboek wat aan ons God se verlossing van die mens met goddellike gesag deurgee (NGK 2002H:548), terwyl die belydenisskrifte van die NG Kerk in hulle formulering van die Christelike geloof ooreenkom met die Bybel (NGK 2002H:551).

Die Algemene Sinode van 2002 verklaar ook dat daar "ernstige meningsverskil" in die NG Kerk is oor die Sinode van 1986 se standpunt oor homoseksualiteit. Hierdie besluit is die laaste besluit wat die Algemene Sinode hieroor geneem het, maar kan nie sondermeer gehandhaaf word nie.

Daarom versoek die Algemene Sinode van 2002 sy Algemene Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake om sy voorgestelde grondige en omvattende studie oor homoseksualiteit te doen vir voorlegging aan die volgende Algemene Sinode.

Die aanvaarding van hierdie voorstel bring mee dat daar volgens die Sinode van 2002 nou 'n "nuwe, oop situasie ontstaan het" in afwagting van die standpunt van die volgende Algemene Sinode. Intussen verklaar die Sinode dat slegs die verhouding tussen een man en een vrou "volgens ons verstaan van die Skrif" as 'n huwelik beskou kan word. Hetero- en homoseksuele promiskuïteit word veroordeel.

Dieselfde vergadering erken met "...berou dat ons" in die verlede deur 'n gesindheid van veroordeling en liefdelose optrede gehelp het om homoseksuele gelowiges van die kerk te vervreem. Hulle integriteit as medegelowiges kan egter nie betwyfel word bloot op grond van hulle homoseksuele oriëntasie nie. Hulle is hartlik welkom in die gemeentes (NGK 2002H:551).

Die Algemene Sinode van 2002 dui dus koers aan op sekere kernpunte van die saak, maar probeer terselfdertyd om alles menslik en pastoraal te hanteer. Hoe dit ookal sy, 'n meer uitgebreide standpunt moes vir ten minste nog vier jaar wag.

Nog twee sake wat die Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake aan die Algemene Sinode van 2002 voorlê, moet hier vermeld word. Die eerste is dat dieselfde Kommissie ook opdrag kry om alternatiewe vir die huwelik te ondersoek. Dit moet gedoen word vir afgetredenes en homoseksuele. Die vermelding van laasgenoemde kom opportunisties voor, omdat die standpunt van die NG Kerk teenoor die homoseksuele nou "oop" verklaar is én die huwelik deur die Sinode by voorbaat vir, let wel, slegs een man en een vrou gereserveer is. 'n Lyn wat dwarsdeur deur die NG Kerk se standpunte oor homoseksualiteit loop. Dit is dus te betwyfel of alternatiewe huwelike van homoseksuele vir die NG Kerk aanvaarbaar is. Of dit nou 'n huwelik of 'n alternatiewe huwelik is, die huwelik soos deur God ingestel bly die oorsprong of oorspronklike maatstaf daarvan (NGK 2002H:553).

Die tweede is die feit dat die NG Kerk hom nou in 'n veranderde politieke Suid-Afrika bevind. Apartheid Suid-Afrika het verander in 'n liberaal-demokratiese "bestel". Die Algemene Sinode van 2002 handhaaf egter die "belydenis" van die oppergesag van God oor alle lewensterreine - ook oor staatkundige Suid-Afrika. Romeine 13 se "dienaar van God" wat die reg moet handhaaf en die kwade moet bestry geld ook vir die Suid-Afrikaanse owerheid. Dit is tot voordeel van alle Suid-Afrikaners.

Die Kommissie kry opdrag om 'n studie te onderneem oor watter rol die NG Kerk in die openbare gesprek in Suid-Afrika kan speel en te soek na gemeenskaplike waardes tussen die liberale demokrasie en die "Christelike geloof". Die Algemene Sinode oordeel dat die liberale demokrasie 'n feilbare menslike politieke model is en verset hom teen pogings om dit tot 'n soort "heilsleer" te verhef. Die Sinode wil ook getuig teen oneer vir die Naam van die Here op staatkundige terrein (NGK 2002H:550; Strauss 2010:125130). Hy handhaaf dus sy profetiese distansie teenoor die owerheid, maar die insig dat 'n liberaal-demokratiese politieke bestel met 'n konsekwente Christelike politieke bestel en nie met die Christelike geloof vergelyk moet word nie, ontbreek hom.

Die Algemene Sinode van 2002 kyk ook na armoede, werkloosheid en regstellende aksie in Suider-Afrika. Die NG Kerk aanvaar mede-verantwoordelikheid vir die oplossing van armoede onder alle bevolkingsgroepe. Die Sinode versoek sinodes, ringe en gemeentes om "daadwerklike" inisiatiewe te neem om die probleem in "elke plaaslike gemeenskap aan te pak". Die vergadering is besorg oor die impak van werkloosheid, regstellende aksie en die groterwordende skuldlas op sy lidmate en ander mense op die subkontinent. Die staatsowerheid moet ekonomiese maatreëls ter bevordering van werkskepping instel (NGK 2002H:533). Die Sinode versoek die kerkverband ook om betrokke te raak by vigsbestrydingsaksies.

Dit is die jaar 2002 en die Algemene Sinode gee duidelike blyke dat hy "aangekom" het in die nuwe omstandighede en bestel in Suid-Afrika. Hy reik aan die einde van sy sitting 'n verklaring uit wat dit bevestig. Hierin sê hy dat hy hom opnuut verbind aan die Here, groter eenheid met ander kerke, Afrika en Suider-Afrika en dan - dat dit 8 jaar na die koms van die nuwe bedeling in 1994 is, is veelseggend - "die genesing van ons land"(NGK 2002H:584).

4.11 KERKLIKE PRAKTYKE

Die Algemene Sinode gee ook blyke dat hy bewus is van wat in die praktyk van gemeentes gebeur. Volgens die Sinode is nie-formalisme en nie-tradisionalisme deel van die gereformeerde liturgiese vormgewing. Hoewel die kerk se liturgiese formuliere 'n skat is wat oor jare kom, moedig hy eredienskommissies aan om nuwe formuliere te versamel (NGK 2002H: 583). Die vergadering erken ook in 'n besluit dat daar ruimte is vir liggaamlike beweging in die "aanbiddingsontmoeting" tussen God en mens. Om die nagmaal as 'n sakrament wat die geloof versterk, tot sy reg te laat kom, moedig die Sinode gemeentes aan om te strewe na 'n weeklikse viering daarvan. Nagmaal in kleingroepe is moontlik as daar aan al die elemente soos teenwoordig in 'n amptelike erediens, aandag gegee word (NGK 2002H:537).

'n Saak wat op hierdie stadium in die gemeentes van die NG Kerk omstrede begin raak het, is die gebruik van die wet van die Here in die volledige erediens. Oor waarom liturge dit nalaat, is daar waarskynlik meer as een rede. Opnames wat hierop lig kan werp, is daar skynbaar nog nie gemaak nie. Twee van die grootste redes is waarskynlik vrees vir oorbekendheid en liturgiese formalisme én 'n onbekendheid by liturge met die betekenis van die wet (vgl Van Minnen 1967:50).

In 'n redelik omvattende studiestuk oor die betekenis en liturgiese aanwending van die wet van die Here, beveel die Algemene Kommissie vir die Erediens aan dat daar met die gebruik van die wet in die NG Kerk volgehou word. Dit moet egter uitgaan van enkele vertrekpunte. Die eerste een is 'n liturgiese variasie wat reeds 'n breed aanvaarde verskynsel in die NG Kerk is. Die tweede is dat die aanwending van die wet in 'n erediens waarvan daar talle variasies in die Bybel is op die dekaloog in Exodus 20 en Deuteronomium 5, moet pas by die "teologiese kern" van die diens. Byvoorbeeld: Calvyn soos nagevolg in die Heidelbergse Kategismus, gebruik die wet nie net as 'n maatstaf vir die sonde nie, maar ook vir die mens se dankbaarheid vir God se verlossing (sa: 371-377; vgl Van den Berg 1967:46-47). 'n Oproep tot konkrete dade van gehoorsaamheid kan met Skrifgedeeltes wat oor aspekte van God se wet handel, uitgebrei of versterk word (NGK 2002A:74-81).

Die Algemene Sinode van 2002 aanvaar hierdie studiestuk en beveel aan dat dit in die erediens neerslag vind (NGK 2002N:538). Die Sinode bly dus by die gebruik van die wet as 'n konstante, maar bou ook variasie in soos wat ander konstantes in die NG Kerk met variasie gehandhaaf word.

In verband met Kerkorde artikel 11 wat bepaal dat 'n predikant na die aaanvaarding van 'n beroep permanent in die pos bly totdat hy/sy 'n volgende beroep aanvaar, as predikant bedank of emeriteer, erken die Sinode nou ook 'n beroep vir 'n bepaalde taak en 'n bepaalde termyn wat nie permanent van aard is nie. Die besluit om so 'n pos te skep moet deur die betrokke kerkraad vir goedkeuring aan die ring of ringskommissie voorgelê word (NGK 2002H:556). Die Algemene Sinode van 2002 keur 'n aantal voorstelle goed wat die omruiling van standplase deur twee predikante moontlik maak. Hierdie maatreëls wil beweging na nuwe werkkringe wanneer nodig, bevorder maar dit ook koppel aan normale aspekte verbonde aan die aanvaarding van 'n beroep. Dinge soos roeping, 'n beroep, 'n diensooreenkoms met die nuwe kerklike werkgewer en bevestiging in die amp (NGK 2002H:555).

4.12 UITSPRAKE DEUR TEOLOË

Hoewel nie al die aanhangers van die Nuwe Hervorming teoloë is nie, het die optrede van die Algemene Sinode van 2002 aangedui dat hulle uitsprake teologies vreemd aandoen.

Die verslag van die ASK en 'n voorstel ter vergadering word na eersgenoemde verwys vir afhandeling. Op die verslag van die ASK is reeds gewys. Dit was negatief oor dié "hervorming". Die voorstel was ook negatief. Volgens die voorstel is die dun end van die wig daar waar die boodskap van die Nuwe Testament verdag gemaak en Jesus van Nasaret as die beloofde Gesalfde van God verloën word. Iets wat die Nuwe Hervorming by implikasie doen (NGK 2002H:577). Die feit dat die Sinode die saak - sonder om self 'n besluit daaroor te neem - na die ASK vir afhandeling verwys, spruit moontlik uit drie oorwegings: die Nuwe Hervorming word nie as 'n groot faktor beskou nie; die afwysing daarvan is 'n feit en daar is nie 'n goed geformuleerde, eenparige standpunt daarteen nie. Van die Nuwe Hervorming is later min gehoor.

Die Vrystaatse beskrywingspunt oor die aanvegbare uitsprake van teoloë moes ook nog hanteer word. Dit word tydens die vergadering behandel deur die Tydelike Kommissie vir Algemene en Ekumeniese Sake. Die aanbevelings van hierdie kommissie sou die besluite van die Algemene Sinode van 2002 word.

In plaas van die vae beskuldiging van nie-genoemde teoloë wat met onaangeduide, nie-omlynde dwalinge kom, stel die Algemene Sinode die saak positief. Hy herinner alle gelegitimeerdes van die NG Kerk aan hulle verbondenheid aan en verantwoordelikheid teenoor die geloofsgemeenskap in die manier waarop hulle teologie bedryf. Kerkrade word daarop gewys dat die opsig en tug oor die leer en lewe van hierdie gelegitimeerdes hulle verantwoordelikheid is. Die ASK moet op 'n deurlopende wyse by die openbare gesprek betrokke wees omdat die NG Kerk met sy ryke teologiese tradisie hom nie van hierdie debatte moet isoleer nie. Die Sinode bly gebonde aan die Woord van God en die "klassieke belydenisskrifte" (NGK 2002H:577).

Hiermee het die Algemene Sinode by die spreekwoordelike Woord en belydenis gebly. Ten minste wat sy voorneme betref. 'n Nie-gespesifiseerde klag wat juis daarom nie by enige kerkvergadering ontvanklik was nie, het 'n nie-gespesifiseerde standaardantwoord gekry. Daarmee was die saak van die baan. Die berg het 'n muis gebaar. Nie-omlynde vae beskuldigings word skimpe en het geen plek in 'n gereformeerde kerk nie.

Die Sinode se uitgesproke verbondenheid aan die "klassieke" belydenisskrifte was op sy beurt ook nie-gespesifiseerd en byna onomlynd. By Coenie Burger en myself was daar egter 'n onuitgesproke voorneme om "ten diepste" of funderend by die "Skrif en ons erkende belydenisskrifte" te bly. Twee swaeltjies maak nie 'n somer nie, maar saam was ons breedweg verteenwoordigend van 'n groot deel van die Sinode. Hierdie geloofsband, saam met wedersydse respek en waardering, het van ons vanuit verskillende kerklike omgewings 'n kerklike span in die beste tradisie gemaak. Dit sou in Coenie se hele termyn as moderator so bly. Ons was bewus van verskille, maar dit sou ons nie verhoed om met waardering en 'n erkenning van elkeen se uitstaande punte saam te werk nie.

Ek het sy integriteit en hartlikheid altyd waardeer. Ons het geweet wat ons aan mekaar het. Ons was nooit heftig, venynig of agteraf teenoor mekaar nie.

Coenie sou 'n nuwe inisiatief met eenheid in die NG Kerkfamilie neem. Vir hom is dit 'n saak naby aan sy hart. Hy het goeie kontak met die VGKSA gehad. Ek wou hom ondersteun sover moontlik. Ek het vanuit my Vrystaastse posisie goeie kontak met die NGKA gehad. Saam kon ons iewers kom met die NG Kerkfamilie.

Vir die nuwe uitdagings rondom twee groot sake soos eenheid in die NG Kerkfamilie en homoseksualiteit was die Algemene Sinode van 2002 'n goeie wegspring.

4.13 'N ROEPING IN AFRIKA

By die wending van die eeue en met 'n besef van sy taak as gevestigde kerk met 'n veelbewoë geskiedenis in Afrika en Suider-Afrika, sluit die Algemene Sinode van 2002 af met 'n roepingsverklaring.

In hierdie verklaring verbind hy hom opnuut aan die Here van die NG Kerk wat hom 350 jaar gelede hier geplaas het met die opdrag om die Evangelie te verkondig. Hy verbind hom aan die kontinent van Afrika en veral Suider-Afrika. Tragiese verhale van nood as gevolg van verskeie faktore het die Algemene Sinode ontstel en hy bied sy praktiese hulp as kerk hiermee en sy gebede vir die owerheid aan. Die NG Kerk verbind hom ook aan ander kerke en sy eie gemeentes. Saam kan almal by die genesing van Suid-Afrika betrokke raak.

Die verklaring sluit af: "Ons het 'n Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Aan God al die eer."

Hoewel hierdie verklaring nie 'n belydenis of teologiese meesterstuk is nie, maak die erns en toewyding van die NG Kerk se betrokkenheid by sy onmiddellike omgewing tog indruk. Dit moes nou ook met die werk van die NG Kerk buite die Algemene Sinode getoon word.

 

HOOFSTUK 5

'N NUWE ERA

Die wending van die eeue wat by die Algemene Sinode van 2002 met die aanwysing van 'n nuwe geslag Moderatuurslede én enkele nuwe kwessies op die agenda sigbaar geword het, is met die Algemene Sinode van 2004 - "Hartenbos" - verder gevoer. Die nuwe era was nie soseer waarneembaar in prinsipieel anderse besluite nie, maar 'n nuwe manier van sinodehou, "nieuwigheden"39 in sinodeverslae én verslae wat op van hierdie nuuthede reageer.

Dat hierdie nuuthede in van die verslae en nie in die besluite nie, deurgekom het, was 'n aanduiding dat dit nie algemeen in die NG Kerk of by die afgevaardigdes na Hartenbos aanwesig was nie.

Die nuwe era was merkbaar in vier verskynsels. Die eerste verskynsel het gelê in die oorsponklike verslag van die Algemene Kommissie vir Leer-en Aktuele Sake40. Die Sinode het, soos die agenda of program vorder, kort-kort in parrallelle sessies verdeel wat die verslae van die permanente kommissies bespreek en die reg gehad het om dit gewysig aan die vergadering voor te lê.

5.1 TRANSFORMASIE

In sy verslag oor die belangrike rol van die NG Kerk in die nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika, het Leer- en Aktuele Sake die term "transformasie" as 'n nuwe politieke modewoord, huidjie en muidjie gesluk. Breedweg het hulle die term so vertolk dat dit op enige soort verandering -ongekwalifiseerd - in die Suid-Afrikaanse samelewing dui. Vir die NG Kerk sou transformasie vroeër gegaan het oor die inkleding van die samelewing op 'n Bybelsgebaseerde beleid van "afsonderlike ontwikkeling". Hierdie benadering moet volgens die Kommissie na 1994 gerekonstrueer word. Daarby oordeel die Kommissie dat die NG Kerk daarvan moet vergeet om die Suid-Afrikaanse samelewing te probeer verander deur inisiatiewe in die openbare lewe. Hy moet liewer 'n alternatiewe gemeenskap vorm. 'n Christelike samelewingsvisie kan nie in 'n liberaal-demokratiese samelewing verwerklik word nie. "Liberale waardes" soos vryheid en gelykheid en die wyse waarop dit in menseregte gekonkretiseer word, kan egter deur die kerk met vrug in die huidige Suid-Afrika gebruik word. Die NG Kerk moet by sy Christelike standpunte bly, maar in sy openbare gesprek eerder aansluiting vind by die kultuurwaardes van die tyd (NGK 2004A:131-137).

In sy voorlegging van 'n gewysigde voorstel aan die Sinode besluit die parrallelle sessie oor Leer en Aktuele Sake wyslik om die woord "transformasie" uit te haal. Transformasie wat die bestaande transformeer of omkeer, is immers nie onder alle omstandighede reformatories of goeie hervorming nie. Hervorming - óók in die politieke sin van die woord - wil vanuit aanvaarbare elemente in die bestaande ewolusionêr, ordelik en stabiel, oorgaan na 'n beter bedeling.

Bowendien visualiseer die Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake nie dat die NG Kerk probeer om die nuwe liberaal-demokratiese Suid-Afrika te transformeer of, meer kerklik, te hervorm nie. Hoewel sy naam as 'n gereformeerde kerk impliseer dat hy na buite vanuit sy Bybelse oortuigings veranderend optree of hervorming inisieer, moet hy volgens die Kommissie liewer die stuk oor menseregte in die Suid-Afrikaanse grondwet (Kleyn en Viljoen 1998:267) gebruik as basis hiervoor. Saam met die NG Kerk het die Kommissie aangekom in 'n nuwe era. Op die punt van "kerk en samelewing" verwring die Kommissie egter sy gereformeerde insigte na die onbestaanbare (vgl hierteenoor die insigte in KS-1986 en KS-1990).

In sy aanbevelings aan die Sinode probeer die parallelle sessie die voorstelle van Leer- en Aktuele Sake verChristelik (of is dit transformeer? NGK 2004C.10.2) Die sinodebesluit op hierdie voorstelle bevestig later dat die Kommissie nie die NG Kerk op hierdie punt verteenwoordig nie. Daarop word teruggekom.

5.2 DIVERSE DENKE IN NG KERK

Die tweede verskynsel van dieselfde "nuwe era-denke" kom op 'n ander punt in die verslag van die Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake voor. In sy stuk oor Skrifgebruik en Skrifgesag beweer die Kommissie dat "ons gemeentelede" van sienings weet "waaroor ons nie meer so seker is nie en in elke geval nie meer eenstemmig is nie". Hieronder tel sake soos die rol van die vrou in die samelewing, ewolusie, homoseksualiteit, aborsie, saambly en die model van gemeentewees (NGK 2004A:130). Weer is dit onseker oor hoe wyd hierdie onsekerheid in die NG Kerk voorkom. Is dit algemeen of beperk tot die kringe waarin sommige lede van die Kommissie beweeg? Daarby is dit 'n vraag of die NG Kerk al ooit oor al hierdie sake eenstemmig was?

In 'n standpunt as moderator oor ewolusie moes ek in 2010 agterkom dat ek "skynbaar" onder 'n wanindruk verkeer as ek verstaan dat die "taktiese" formulerings van sekere lede van die Moderamen my steun in my afwysing van, kortweg, konsekwente ewolusie. 'n Soort ewolusie wat glo dat daar spontane of interne kragte was of is wat meebring dat dat daar immanente oorgange tussen plante, diere en mense is. Dat die "missing link" nie 'n probleem is nie. Ek glo wel dat "interne" ewolusie binne die ryk van plant, dier en mens 'n realiteit is en het dit in die openbaar ook so gestel.

Die eerste persberig oor 'n venynige reaksie van 'n natuurwetenskaplike uit Stellenbosch op my standpunt soos in 'n onderhoud met die tydskrif Juig, het tydens 'n vergadering van die Moderamen in Pretoria in Julie verskyn (Juig Jul/Aug 2010:22). Steun per e-pos en sms vir my optrede was egter oorweldigend en het van honderde mense binne en buite die NG Kerk én binne en buite Suid-Afrika gekom. Tot 'n paar weke daarna het ek nog daarvan ontvang. Ek was nie oortuig dat genoemde "taktiese kerkleiers" in die NG Kerk in hulle ignorering van relevante Skriflyne of -uitgangspunte reg laat geskied aan die Woord en daarom die saak nie. Hulle het dit gestel asof die Bybel by sekere natuurwetenskaplikes -dieselfde Bybel praat van sonde wat die moontlikheid skep vir foute in wetenskaplike denke - moet aanpas of anders belaglik voorkom. Die feit dat hierdie "kerkleiers" na "die wetenskap" (natuurwetenskap?) as 'n eenheid verwys, terwyl natuurwetenskaplikes onder mekaar verskil oor ewolusie, dui daarop dat hulle nie goed op die hoogte is met wat hier aangaan nie. 'n Sinvolle gesprek tussen die Bybel en "die wetenskap" is volgens dié houding skynbaar slegs moontlik as eersgenoemde by voorbaat op die agtervoet is41.

Persberigte, briewe in koerante, menings gelug met behulp van die moderne tegnologie en talle besoeke aan gemeentes oor sake soos saambly, die rol van die vrou in die samelewing en die aard van gemeentewees het my ook laat wonder hoe wyd die verskille soos hierdie verslag beweer, onder meningsvormers in ons gemeentes voorkom? Lê die verskille in die gemeentes of is dit beperk tot enkele "teoloë"? Hou denke soos - soms - weerspieël in dié sinodeverslae rekening met die houding van die deursnee lidmaat in die gemeente? Word sinode-uitsprake deur gemeentes ook geag, verdedig en uitgedra? As ons gereformeerd oordeel dat God se mening belangriker as die van die "gemiddelde" lidmaat is, aanvaar ons dan soos Rome - verkeerdelik - dat die Here Hom nie aan die lidmaat openbaar nie? Kan lidmate dan nie sê hoe hulle die Here verstaan nie?

Dit bring ons by die derde verskynsel wat daarop dui dat die NG Kerk en sy Algemene Sinode hom in 2004 in 'n nuwe era bevind.

5.3 'N OMSTREDE ORDEMOSIE

Hierdie verskynsel draai rondom doktor Lourens Erasmus, destyds voorsitter van die Vrystaatse Moderamen. Lourens het dinge by die Algemene Sinode van 2004 van meet af takties en, wat sy gehoor aanbetref, verkeerd aangepak. Miskien het hy met 'n wantroue teenoor die handhawing van die gereformeerde tradisie deur die Algemene Sinode na die vergadering gekom42. Byvoorbeeld: hy was hoorbaar beswaard oor 'n moontlike nagmaalsviering deur die Sinode by sy afsluiting op 15 Oktober. 'n Viering los van en sonder die toestemming van die kerkraad van die gemeente Hartenbos binne wie se gebied die Walvissaal val. Dit is opgelos. Ek was persoonlik daarby betrokke (NGK 2004H:391).

Soos ander sprekers in die loop van die week sou professor Russel Botman van Stellenbosch die Sinode op Dinsdagoggend 12 Oktober net na die dagopening toespreek. Die tema was "Ons verbintenis aan Afrika en ons lande". Op sy toespraak sou tafelgesprekke volg en dan 'n algemene bespreking waarin mosies of voorstelle gestel kon word (NGK 2004H: 392).

Lourens het die uitkoms van hierdie gesprekke skynbaar nie vertrou nie. Direk na Botman se toespraak stel hy 'n ordemosie dat die Sinode die tafelgesprekke opskort en dadelik oorgaan tot 'n algemene, oop bespreking van Botman se "boodskap". Sy mosie kom onverwags, maar word met 196-146 aanvaar. 'n "Paar" afgevaardigdes neem aan die oop bespreking deel. Lourens praat ook en verskil skerp met Botman oor 'n uitspraak van hom wat baie van ons nie soos Lourens verstaan het nie. Ek verstyf op my plek toe ek Lourens se argument hoor en aan die moontlike gevolge daarvan in die vergadering dink. Die simpatie swaai voorspelbaar teen Lourens en 'n ordemosie van doktor Herman Carelsen dat die vergadering terugkeer na sy beplande volgorde, word aanvaar (NGK 2004H:327).

Dat Lourens se optrede aan hom 'n omstrede kleur verleen, is onmiddellik merkbaar in geprekke in die wandelgange. Die feit dat die getalle vir en teen sy ordemosie in die notule opgeneem word, dit is nie by ander besluite en ook nie by Herman Carelsen se mosie gedoen nie, dui daarop dat dit by die skryf van die notule reeds omstrede was43. Hierdie nuwe manier van sinodehou teenoor die ou manier waarby Lourens - ten minste op hierdie punt - wou uitkom, sou tekenend word van 'n nuwe era

Die vierde verskynsel wat dui op 'n nuwe era, is 'n erkenning in die besluite van die Algemene Sinode van 2004 oor gereformeerde identiteit. Hierin word gewag gemaak van 'n "ingrypende meningsverskil" in die NG Kerk oor die gesag, inhoud en verstaan van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit (NGK 2004H:374, 433). 'n Beroep word op gemeentes gedoen om vanuit die gereformeerde wortels van die teologie te vernuwe. Lidmate en gemeentes met verskillende spiritualiteite moet naby aan mekaar leef en mekaar verryk tot diens aan die kerk en die gemeenskap (NGK 2004H:353).

Die nuwe era wat hiermee aangedui word, is die sinodale erkenning van verskille in die NG Kerk oor wesenlike sake. Verskille was daar sedert vroeg in die NG Kerk. Hierdie erkenning sny egter dieper en lê 'n NG Kerk bloot wat oor belangrike belydenis- en etiese kwessies uit mekaar kan dryf.

Die Algemene Sinode van 2004 sou vanaf Sondag 10 tot Vrydag 15 Oktober in en om die ATKV se Walvissaal in Hartenbos vergader. In dieselfde saal het die Voortrekkerkongres van 1997 plaasgevind. Ek was dus nie onbekend daarmee nie.

Bekende sake sou weer in die agenda verskyn, hoewel soms in 'n nuwe baadjie. Dit was dieselfde Sinode van dieselfde NG Kerk, maar in 'n nuwe era in Suider-Afrika met sluimerende tekens van prinsipieel anderse denke in van die sinodeverslae. Sake soos Skrifgesag en -gebruik, 'n gereformeerde identiteit, eenheid in die NG Kerkfamilie, homoseksualisme, doopviering, die nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika, armoede, vigs en praktyke in die gemeentes was weer daar (NGK 2004N: 428-452). Op die oog af was die NG Kerk nog die NG Kerk, maar daar was tekens... (vgl Snyman et al 1998)

Die een groot saak waarom dit by die Algemene Sinode van 2004 sou gaan, was dus die kwessie van een kerkverband vir die hele NG Kerkfamilie in Suid- en Suider-Afrika.

5.4 EENHEID IN DIE NG KERKFAMILIE: OORHOOFSE KWESSIES

Die groot gees agter 'n nuwe inisiatief vir eenheid in die NG Kerkfamilie was Coenie Burger. Hy is dit op daardie stadium verwyt dat hy hierdie saak ongebalanseerd bo ander belangrike sake stel, maar ek het uit ondervinding geweet dat jy so 'n saak met toewyding (en 'n bietjie gesonde drif) moet pak as jy iewers in die NG Kerk wil kom. Tussen Coenie as voorsitter of moderator en my as ondervoorsitter was daar 'n gesonde verhouding. Hy het die ASK by die formulering van nuwe voorstelle betrek en ons twee het mekaar se integriteit as verteenwoordigers van twee kante (uit kontak met van die gemeentes het ek geweet daar is meer as 2 kante!) oor die saak in die NG Kerk, aanvaar. Oor die voorstel wat by die Algemene Sinode van 2004 moes dien, was ons dit eventueel eens. Coenie het die ASK agter hom verenig.

'n Paar sake was opvallend in hierdie voorstelle oor kerkeenheid. Die eerste is dat die naam "kerkvereniging" of "kerkeenheid", soos wat dit vroeër op die Algemene Sinode gebruik is, vervang is met die begrip "kerkhereniging". Daarmee is die wins behaal dat die NG Kerkfamilie net sy vroeëre eenheid moet herstel en nie uit totaal vreemde strukture na mekaar beweeg nie. Die voorstel self praat van die herstel van een kerkverband. Die vraag of die vier kerkverbande naamlik die NG Kerk, VGKSA, NGKA en RCA kerkhistories vroeër net een kerkverband was, kan egter nie positief beantwoord word nie (Strauss 2007:94). Die NG Sendingkerk het wel uit die strukture van die NG Kerkverband ontstaan (Kriel sa:1), maar die NGKA en die RCA nie. Hulle het van meet af uit struktureel afsonderlike bedienings gegroei (Smith 1980:24-126; Van der Watt 1987:228-257). Na 2004 is die woord "kerkhereniging" wyd gebruik. Of dit enige wins vir die verkoop van die eenheidsproses ingehou het, is moeilik vasstelbaar. My indruk was dat "kerkeenheid" of "kerkhereniging" woorde was wat by die teenstanders daarvan in elke geval negatief oor gekom het. By die Algemene Sinode van 2004 en daarna het ek egter nooit gevoel dat ons oor so 'n tegniese punt moet debatteer nie.

Die tweede saak wat uitstaan in hierdie voorstelle, is dat dit sonder die gemeentes en "mekaar" in die NG Kerk eenvoudig nie kan nie. Die voorstelle indien goedgekeur sou die pad van tweederdes van die kerkrade met 'n tweederde meerderheid en 'n tweedere meerderheid van elke sinode plus die Algemene Sinode moes loop. Indien die voorstelle besluite van die Algemene Sinode van 2004 word, sou dit net die status van aanbevelings in die verdere gesprekke met die gemeentes en die kerke van die familie hê. Voordat die gemeentes nie saampraat en -besluit nie, was niks finaal nie. "Ons sal die proses so wil hanteer dat alle predikante, gemeentes en lidmate van die kerke hierdie pad saam aanpak".

Coenie en ek het saamgestem dat ons kerkskeuring as gevolg van dié eenheidspogings wil vermy. Indien daar 'n ongekwalifiseerde wesentlike groep, selfs in die minderheid, teen die voorstelle is, praat ons eers weer. Die gedagte was 'n ruim huis (Coenie se term) waarin ons kan verskil omdat ons die Drie Formuliere van Eenheid as 'n gemeenskaplike belydenisbasis het en daarby die wesenlike inhoud van Belhar aanvaar. Verder het ons 'n gedeelde geskiedenis waaruit ons aan mekaar behoort.

Nadat die gemeentes, ringe en sinodes op die aanbevelings kommentaar gelewer het, word dit deur die ASK en ander kundiges as 'n taakspan verwerk en by die voortgaande gesprek met die NG Kerkfamilie betrek. Hierdie span formuleer eers finale voorstelle vir voorlegging aan kerkrade en sinodes as daar na die oordeel van die Algemene Sinode of die ASK 'n voldoende en behoorlike konsultasie en gesprek oor die saak in die NG Kerk, dit is met en in sy gemeentes en sinodes, en sy familie was.

Die pad wat die ASK voorstel sou moeilik en bes moontlik tydrowend wees. Die saak en die doel waarvoor dit benodig word, was egter vol meriete. Ons kon of wou die proses van eenheid in die NG Kerkfamilie nie meer ontwyk nie.

'n Derde saak wat uitstaan in die voorstelle is dat hier gepraat word van die vorming van een kerkverband deur die bestaande gemeentes van die familie. Hierdie gemeentes word beskryf as "selfstandige plaaslike gemeentes". Al die gemeentes van die samestellende kerke sal net so in die nuwe verband opgeneem word. Hoe die verband daar sal uitsien, moet deur 'n groei na mekaar bepaal word. Die voorstelle is dus nie die einde van die pad nie, maar die begin. Die groei na mekaar kan byvoorbeeld uitloop op gemeenskaplike ringe en sinodes. Wat naas die gemeentes voorgestel word, is ten minste een algemene sinode (NGK 2004H:383-385; Strauss 2007:101-103).

5.5 EENHEID IN DIE NG KERKFAMILIE: BELYDENIS EN PROSES

Die aanvaarding van die Belharbelydenis op dieselfde basis as die Drie Formuliere óf die verwerping daarvan as die enige moontlikhede waartussen die NG Kerk moet kies, word in die voorstelle voor die Algemene Sinode van 2004 vermy. Hoewel daar - tot 2004 - nog nie 'n stemming of kwantitatiewe opname in NG-gemeentes oor Belhar was nie, was hulle reaksie in die kwalitatiewe opname voor die Algemene Sinode van 1998 baie duidelik. Belhar is afgewys. Die ASK noem dit die "oorgrote meerderheid" (NGK 1998A:309).

Aan die ander kant hou voorstanders van Belhar as 'n belydenis in 2004 vol dat die saak heelwat steun in die kerk het. Ek onthou hoe doktor Ben du Toit selfs na die opname in 2007-2008 wat ongeveer dieselfde resultaat as 1998 gelewer het, geweier het om die terme "oorgrote meerderheid" of "beduidende" in 'n besluit van die Moderamen op te neem. Die meer "neutrale" en minder belaaide "die meerderheid lidmate en gemeentes" is toe deur die Moderamen in sy besluit op 12 Junie 2008 gebruik (NGK 2011A:240). Vir Ben was 'n "understament" uit 'n "taktiese oogpunt" kerklik meer werd as die werklikheid of ware stand van sake.

'n Ander ongeoorloofde "hou" wat voorstanders van Belhar as 'n belydenis op hierdie stadium in die debat in die NG Kerk gebruik het, was die opmerking dat die gemeentes Belhar - nog - nie behoorlik gelees het nie en dáárom so 'n weerstand daarteen het. Twee vereenvoudigde veronderstelllings gaan hiermee saam. Die een is dat jy hom net moet lees, dan oortuig hy jou en die ander een dat kritiek net een ding beteken: jy het hom nie gelees nie! Jou kritiek hoef nie eers bespreek of weerlê te word nie...

'n Tema wat die tweede meeste naamlik 77 keer in die kwalitatiewe opname van 2007-2008 voorgekom het, was negatiwiteit oor Belhar omdat dit uitsluit en verdeel. Tussen hierdie negatiwiteit en dit wat die derde meeste voorkom naamlik negatiwiteit oor "kerkhereniging" was daar 'n groot gaping. Negatiwiteit oor "kerkhereniging" het 51 keer voorgekom. Een meer as 'n positiewe houding oor die voorstel oor Belhar wat nou voor die Algemene Sinode van 2004 dien, vierde lê en dus nie heeltemal onaanvaarbaar by die gemeentes oorgekom het nie (Pieterse & Steyn 2008:6).

Teen hierdie agtergrond het Coenie Burger voorgestel dat Belhar as 'n belydenisskrif van die "herstelde kerkverband" aanvaar word omdat dit die belydenis van een van die samestellende kerke is. Dit impliseer egter nie, het hy vervolg, dat "alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie" (NGK 2004H:339).

Hierdie voorstel kon dalk iewers kom in die NG Kerkfamilie onder wie daar verskille oor die saak was: onder die jonger kerke sowel as NG-gemeentes. Die VGKSA met hulle passie vir Belhar kon dit dalk aanvaar as Belhar in die belydenisgrondslag opgeneem maar nie afgedwing word nie. 'n Belydenis word mos bely en uit oortuiging aanvaar. Die voorgestelde model vir 'n nuwe kerkverband het nie ver gedraai van die huidige VGKSA-model waarin die ou NG Sendingkerk en 'n gedeelte van die NGKA verenig het nie. Vir beide die NGKA en RCA wat albei teen Belhar as belydenis gekant was en 'n federale vorm van kerkverband gevisualiseer het, kon dit moeiliker wees. Moontlik kon die idee van groei na 'n model van kerkraad tot sinode hulle betrek (Strauss 2010B:137-140). In hulle verset teen Belhar kon NG-gemeentes dalk - die opname van 2007-2008 het dit getoon - die uitweg uit die Belhardilemma goedkeur.

Om een of ander onvermelde rede het hierdie voorstel skynbaar nie van Belhar 'n opsionele belydenis gemaak nie. Die woord was blykbaar nie vir mense in die VGKSA aanvaarbaar nie. By die Algemene Sinode van 1998 is dié woord vir dieselfde saak egter gebruik. Die bewoording self lei immers tot die vraag of die voorstel enige iets ander as 'n opsionele keuse beoog. Dit was egter nie 'n saak waaroor ek wou hare kloof nie.

In gesprekke met die VGKSA agterna het dit geblyk dat hulle twee aspekte van hierdie voorstelle moeilik verteer: die feit dat die NG Kerk eenwording as 'n groeiproses beskou en dat die eenheidsvoorstelle voor die Algemene Sinode van 2004, indien aanvaar, slegs voorstelle in die proses is. Laasgenoemde is by 'n latere geleentheid waar ons met lede van die VGKSA gepraat het, deur hulle misgekyk (VGKSA 2008:195). Daarop word teruggekom. In die ASK was ons egter verenig in ons voorstelle aan Hartenbos 2004.

5.6 SKRIFGEBRUIK, HOMOSEKSUALITEIT, 'N GEREFORMEERDE IDENTITEIT EN DOOPVIERING

In opdrag van die Algemene Sinode van 2002 het die Algemene Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake opdrag gekry om kommentaar op hierdie Sinode se standpunt oor die gesag en verstaan van die Skrif te ontvang en te verwerk. Die kommentaar moet ook kwessies waaroor verder besin moet word, aandui. Vyf persone en een instansie het kommentaar gelewer. Hierdie verslag word nou aan die Algemene Sinode van 2004 voorgelê.

Op die keper beskou is die verslag 'n uitbreiding van vorige standpunte en verslae. Die Bybel word opnuut as die Woord van God bely. Dit gaan om die Woord wat gesag het oor die hele lewe van die mens, betroubaar is in sy openbaring of bekendmaking van 'n genadige Drieënige God, duidelik is omdat dit die Evangelie van God se liefde helder deurgee en voldoende is om ons alles te leer van in God glo en sy wil gehoorsaam. Die Kommissie as 'n kerklike kommissie oordeel dat die Bybel primêr daarop ingestel is om die Bybelse Boodskap van die verlossing van die hele mens in God Drieënig, aan mense oor te dra. Dit is waarin die waarheid van die Skrif en ook sy gesag lê.

Die Bybel is volgens die Kommissie nie 'n historiese of wetenskaplike handboek wat die "volle kennis" van elke aspek van die werklikheid aan ons deurgee nie. God het deur die Heilige Gees die kerk deur die eeue in die waarheid van hierdie Woord gelei. Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor hoe die Bybel uitgelê moet word, bly dit 'n basiese oortuiging dat 'n verantwoordelike Skrifuitleg nooit teenoor die belydenis dat die Bybel die Woord van God is, sal ingaan nie (NGK 2004A:130-131). Die Kommissie bevestig opnuut sekere beproefde gereformeerde opvattings oor die Skrif.

Dieselfde Kommissie sou verder besin oor homoseksualiteit. Hierin sou die kwessie van Skrifgesag en -gebruik soos sopas verduidelik, weer 'n sentrale rol moes speel. Die Kommissie verwys hierna as hy oordeel dat dit die kerk se taak is om "die lig van God se Woord ook op die terrein van menslike seksualiteit te laat val".

Die Kommissie wys daarop dat die debat oor homoseksualiteit sedert 1995 op verskeie maniere opnuut in die NG Kerk opgevlam het (vgl Strauss 2011). Verskeie streeksinodes het hieraan aandag gegee. Na aanleiding van die Kommissie vir Leer- en Aktuele Sake se verslag aan die Algemene Sinode van 2002 het daardie vergadering besluit dat hy hom nie "sonder meer" kan vereenselwig met die Algemene Sinode van 1986 se bekende afwysende standpunt oor homoseksualiteit nie. 'n Nuwe verslag met aanbevelings moes dus vir die Algemene Sinode van 2004 voorberei word. By hierdie proses moes ander kundiges, lidmate met 'n homoseksuele oriëntasie en bevryde homoseksuele lidmate ook betrek word. Dit is gedoen en die resultaat word nou aan die Algemene Sinode voorgelê.

Die eerste saak waaraan die Kommissie aandag gee, is die gebruik van die Bybel in die saak en 6 tekste wat gereeld in die debat opduik. Die tweede kwessie is 'n kykie "vanuit die menswetenskappe". Dan volg die debat in die NG Kerk en aanbevelings.

Die Kommissie vra die Algemene Sinode om te erken dat daar nie eenstemmingheid in die NG Kerk is oor God se wil oor homoseksualiteit nie. Daar is byvoorbeeld verskil van mening oor die vraag of die negatiewe uitsprake in die Bybel oor dade wat verband hou met homoseksualiteit van toepassing is of op homoseksualiteit in die algemeen. Daarby of dit toegepas kan word op mense wat in permanente homoseksuele verhoudings van liefde en trou staan. Wat die Kommissie betref is alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, voorwerpe van God se liefde wat op grond van hulle geloof alleen as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar behoort te word. Die Kommissie vra by implikasie om die gesprek te kan voortsit.

Soos die sinode van 2002 beveel die Kommissie in die tussentyd aan dat alle homo- of heteroseksuele promiskuïteit veroordeel word. Hy besig ook 'n "onomwonde verskoning" aan "alle homoseksueles en hulle families" waar God se liefde nie in die verlede in die kerk se optrede teenoor hulle sigbaar was nie (NGK 2004A:138-150).

Die een besluit van 2002 wat die Kommissie nie voorstel of herhaal nie, is die standpunt dat die huwelik volgens die Skrif net 'n verbintenis tussen een man en een vrou kan wees. 'n Standpunt wat homoseksuele huwelike uitsluit. Die Kommissie wil dus 'n opening laat vir die oortuiging dat permanente homoseksuele verhoudings van liefde en trou in hulle verdere besinning ook as huwelike beskou kan word. Daarmee verlaat die Kommissie 'n lyn in die standpunt van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit wat soos 'n refrein tot in 2007 - die laaste keer wat hierdie vergadering tot op datum oor die saak besluit het - weerklink (NGK 2002H:551; NGK 2007H:110).

Daar is reeds verwys na die aanbevelings en besluite van die Algemene Sinode van 2004 oor 'n gereformeerde identiteit. Die betrokke koppe het gewerk in die rigting van uitstel na 'n behoorlike voorlegging by die volgende Algemene Sinode. Ten spyte van "ingrypende" meningsverskille is ons "gereformeerde wortels" ge-oormerk as gemeenskaplik vir almal. Van hieruit moet daar vernuwe en verskil word. So gesien kan verskille ook verrykend wees (NGK 2004H:353). Die Algemene Sinode moet sy Kommissie vir Leer en Aktuele Sake versoek om beskrywingspunte van kerkrade, ringe en sinodes aan te vra oor die gesag en vertolking van die Skrif, die inhoud en gesag van die gereformeerde belydenis en gereformeerde kerkinrigting (liturgie, sakramente) en - regering (gesag van sinode/Algemene Sinode ens) (NGK 2004H: 353).

Die doopviering moet by die volgende Sinode weer voorkom. Leer en Aktuele Sake word daarvoor aangewys. Die groot voorwaarde is dat die viering van die doop nie moet lyk na 'n herdoop nie. Kerkrade moet aangemoedig word om indiwiduele doopvierings in die erediens en in klein groepe te ontwikkel (NGK 2004H:353-354).

5.7 ARMOEDE EN VIGS

Naas ander sake sou die Kommissie vir Diensgetuienis twee aktuele kwessies aan die Algemene Sinode van 2004 voorlê: armoede in Suider-Afrika en MIV en vigs.

In sy verslag oor armoede gaan die Kommissie van die vertrekpunt uit dat armoede in Suider-Afrika omvattend en diep gewortel en groot in omvang is. Statistiek word aangehaal wat aandui dat byna die helfte (48,5%) van die mense in Suid-Afrika arm is. Hierdie stelling word gemeet aan sekere vlakke van inkomste. Die bedrag wat in 2001 in Suid-Afrika as maatstaf gebruik is, is dat arm mense R 13 per dag of minder verdien. Werkloosheid en "huisloosheid" is aan die orde van die dag (NGK 2004A:32).

Die NG Kerk is nog nie gerat vir hierdie groot probleem nie. Daarom vra Diensgetuienis vir 'n versoek dat hulle 'n strategie vir die NG Kerk ontwikkel vir die bekamping en hantering van armoede in Suider-Afrika (NGK 2004A:33). Die NG Kerk het hiermee in die hele Suider-Afrika as sy eie subkontinent aangekom.

Die Algemene Sinode van 2002 het aan sy Kommissie vir Diensgetuienis (vantevore die AKDB) opdrag gegee om saam met Hugenote Kollege en die familie van NG Kerke die moontlikheid van die vestiging van 'n vigsforum te ondersoek. So 'n forum is op 20 April 2004 gestig. 'n Werkswinkel om 'n vigstrategie vir die NG Kerk te skryf is suksesvol op 22 en 23 Junie geloods. Die verskillende sinodes sowel as 'n aantal "medewerkende" instansies was hier verteenwoordig.

Die Kommissie vir Diensgetuienis lê hierdie strategie nou aan die Algemene Sinode van 2004 voor. In essensie vra die voorstel dat die hele NG Kerkverband, vanaf die gemeentes tot by die Algemene Sinode, by die saak as 'n roeping betrokke raak. Binne die raamwerk van hierdie voorgestelde strategie word sinodes versoek om hulle eie strategieë te ontwikkel. Dit gaan vir die Algemene Sinode van die NG Kerk om die saak Bybels-teologies te belig en hierdie en ander bruikbare inligting aan mindere kerkvergaderings en ander instansies en persone deur te gee. Die kerk kan ook as 'n fasiliteerder optree vir die befondsing van werk en projekte wat uit hierdie strategie voortspruit (NGK 2004A:31-32).

Nog aktuele sake sover dit die NG Kerk aangaan, beland op die tafel van Hartenbos-2004. Hieronder tel die situasie in Zimbabwe en die posisie van NG-gemeentes in daardie land, die moontlikheid van 'n "kerkwye" of nasionale predikantebyeenkoms in die NG Kerk, die ontwikkeling van nuwe gemeentes, predikantebegeleiding en om die Algemene Sinode van 'n struktuur- na 'n roepingsgedrewe instelling te verander (NGK 2004H:319-362). Die Algemene Sinode van 2004 was in veranderde omstandighede met 'n nuwe vergaderstyl.

Behalwe dat die kommissies na taakspanne wat ook vier algemene diensgroepe uitmaak, verander het, sou die moderatuur eers teen die einde van die vergadering verkies word. Die vier diensgroepe was nou: Leiers, Diensgetuienis, Gemeentebediening en Ondersteuningsdienste (NGK 2004H:389-391).

Vir besluitneming deur die vergadering is die verslae van kommissies by 'n parrallelle sessie hanteer wat die aanbevelings dikwels gewysigd aan die vergadering voorgelê het. As die aanbevelings van die parrallelle sessie het dit heel waarskynlik meer gesag gedra omdat 'n groter deel van die sinode as net die betrokke kommissie daaraan deelgeneem het. 'n Bykomende voordeel van so 'n parrallelle sessie was dat die meeste van diegene op die sinode wat in die betrokke tema belangstel en daartoe 'n bydrae kon lewer, hulle sake hier kon stel voordat dit op die tafel van die sinode beland. Ons het egter vanaf die moderatuurstafel ook wysigings op die vloer in die oop sinode toegelaat. Die vergadering as geheel moes sy eie besluit kon neem.

Vir my was een van die uitstaande besluite op die Algemene Sinode van 2004 die besluit oor kerkhereniging. Ons het dikwels agterna daarna verwys as "Hartenbos". As inleiers op die voorstel het ons besluit dat ek en Coenie moet praat. Ons was moontlik steeds die simbool van twee kante in die Algemene Sinode oor die saak. Daarby wou ons spanning in die vergadering vanuit die staanspoor voorkom deur 'n eenheidstandpunt vanuit die moderatuur te kommunikeer.

5.8 HARTENBOS EN KERKHERENIGING

My indruk is dat die Sinode die saak in stilte en met 'n groot mate van vrede aangehoor het. Daar was 'n breë besef dat ons met hierdie saak moet vorder, maar die NG Kerk in die proses moet dien en nie moet seermaak of verdeel nie. Die uitwerking van 'n gereformeerde kerkreg en kerkverband op gemeentes moet dienend en oortuigend wees en nie probeer forseer nie. Die kerk werk vanuit geloofsoortuigings en nie fisiese dwang nie (Strauss 2010:1-6).

Met ons voorstelle44 het ons natuurlik gewaag, maar deurgaans die oortuiging by almal probeer kweek dat ons as NG Kerklidmate binne en buite die Sinode en in die familie die pad saam loop en mekaar nie los nie. 'n Poging tot kerkeenheid moenie uitloop op meer kerke as die waarmee jy begin het nie. Die klem is op gesprek en saambesluit om iewers te kom en nie om verdeeldheid en 'n kil stemming te skep nie.

Hierdie verbintenis was daar tussen my en Coenie sonder 'n geskrewe ooreenkoms. Ons het ons aan die voorstelle verbind deur bloot ons woord te gee... Ons het mekaar se integriteit aanvaar. Dit kon daarom dalk ook breër in die NG Kerk en sy familie so werk.

Daarby het ons 'n oop proses voorgestel. Oop vir ander voorstelle, vir hart uitpraat en die skep van 'n nuwe vertroue tussen al die deelnemers aan die proses. Tussen die Algemene Sinode en NG-gemeentes, die gemeentes onderling, ons en die jonger lede van die NG Kerkfamilie en hulle onder mekaar. Die VGKSA, NGKA en RCA was steeds nie op 'n maklike voet met mekaar nie (vgl Nel en Du Toit 2007:31-114; Strauss 2010b:135). Ons het ons verbind tot geduld én tyd in die proses. So nie, kon ons ons vingers verbrand en genesing baie lank uitbly. Ons het ons aan Hartenbos-2004 verbind.

Ons voorstel is geduldig aangehoor in die oop vergadering. Die bespreking hiervan het dieselfde toon aangeslaan. Die saak was belangrik en daarom het sprekers kleinlikhede en wantroue teenoor die proses, die voorstelle en mekaar vermy. Daar was algemene steun. Die "kronologiese notule" van ene (groot) Cassie Carstens stel dit so: "goedgekeur soos gewysig" (NGK 2004H:338). Wysigings wat nie die groot oogmerk of die rigting van die voorstel verander nie. Ek was op daardie stadium in die voorsitterstoel.

Ons was dankbaar. Ek was nog nooit 'n voorstander van uitbundige, onbeheersde vreugde nie. Miskien sou Calvyn saamgestem het... Ek het gevra vir gebede by die tafels waar die afgevaardigdes gesit het: vir dankgebede en vir leiding. Ons sou dit vorentoe baie nodig hê. Daarna het ons as 'n gebed Liedboek 532:1-3 gesing. Vir my een van die mees plegtige liedere in Cassie se boek.

Vanuit die jonger kerke is kritiek en ligte donderweer gehoor (NGK 2007A:385). 'n Teken dat die gesprek nou in alle erns moet begin. Ons het die lang pad met afwagting betree. Teleurstellings en woelinge sal daar wees. Ons besluite was egter net voorstelle. Om 'n familie van kerke te oortuig om saam te praat en moontlik koerswysigings te maak, sou nie maklik wees nie. Die gesprek in die NG Kerk alleen sou tydsaam en met wantroue besaai wees.

Ek moes ons besluit dikwels in die Vrystaat by gemeentes en konferensies verduidelik. Ek onthou een Sondagoggend op Tweespruit tussen Bloemfontein en Ladybrand. In my skooldae was hier 'n landbouskool wat bekend was vir sy moeilike rugbyspanne. Dit is vir my altyd lekker tussen boerelidmate. Onse mense. Die fris en jong diaken met die ligte kop het dit teen die einde vir baie mense verwoord: "Ja, jou saak klink goed. Daar is egter twee B's wat in die pad hiervan staan: Belhar en Boes...."

Ek het weer besef. Ons kan iewers met hierdie mense kom. Ons het hulle vertroue, tyd en ons eie takt nodig. Van hulle begrip het ons reeds baie. Hartenbos was op die ou end toe nie net "kerkhereniging" nie.

5.9 HARTENBOS: SKRIFGESAG EN HOMOSEKSUALITEIT

Die aanbevelings in die verslag oor Skrifgebruik en Skrifgesag is net so aanvaar. Die notule gebruik egter woorde wat jou laat nadink: "Goedgekeur met die onderneming dat enkele formulerings nog gewysig kan word" (NGK 2004H:324-325). Ten spyte hiervan is dit uit die wyse waarop die besluit geneem word, duidelik: oor hierdie saak het die Sinode nou - al is dit móóntlik net voorlopig - klaar gepraat. Skrifgesag kom 'n lang pad by die Algemene Sinode. Die saak kom nie weer in die notule van 2004 voor nie.

Deur sy Algemene Sinode van 2004 staan die NG Kerk by die erkenning van die Bybel as die Woord van God. Hierdie Woord het gesag oor die geestelike rigting van ons hele lewe, is betroubaar oor die wyse waarop God ons verlos, duidelik oor God se liefde en genade en genoegsaam om ons alles te leer oor geloof in God en die gehoorsaming van sy wil (NGK 2004H:324-325).

Die aanbevelings van Leer en Aktuele Sake oor homoseksualeit ontlok 5 amendemente voordat 'n parrallelle sessie dit hanteer. Twee hiervan wil die standpunt handhaaf dat die huwelik net vir een man en een vrou is. Die voorstellers van een is persone wat in ook in 2007 'n rol in die verslag aan die Algemene Sinode sou speel: dii Gerhard Mahne en Johan Marais. 'n Ander amendement spreek hom uit teen die praktyk van homoseksualiteit as 'n sondige praktyk. Doktor Johan van Schalkwyk stel op sy beurt voor dat die Sinode besluit dat 'n huwelik van twee persone van dieselfde geslag nie Skriftuurlik kan verantwoord word nie (NGK 2004H:328-329).

Die Sinode hanteer homoseksualiteit tydens die aandsessie van Donderdag 14 Oktober 2004. Weer bevind ek my in die voorsitterstoel. Omdat Kerkreg een van my vakke is, gee ek gehoor aan die versoek van Coenie.

Die Algemene Sinode van 2004 handhaaf die aanbeveling van Leer en Aktuele om mense met 'n homoseksuele oriëntasie namens die NG Kerk om verskoning te vra waar die kerk hulle in die verlede seergemaak en verontreg het. Die Sinode onderneem ook om die studie oor die saak met groot erns voort te sit ten einde die kerk en sy lidmate "op die mees verantwoordelike manier te dien". Soos die Sinode van 2002 herhaal Hartenbos dat die huwelik net vir een man en een vrou is en dat homoen heteroseksuele promiskuïteit "ten sterkste" veroordeel word. Die vergadering wil sy studie voortsit, maar nie dieselfde opening vir die moontlikheid van 'n homoseksuele huwelik laat as die Kommissie nie. Die besluit word afgesluit met die stelling dat mense met 'n homoseksuele oriëntasie ook ingesluit is in God se genade en, wanneer gedoop, volwaardige lidmate van die kerk kan wees (NGK 2004H:348).

Hoewel nie woordeliks nie, word belangrike elemente van die voorgestelde amendemente gehandhaaf. "Nuuthede" in die verslag van Leer en Aktuele Sake word nie deur die vergadering oorgeneem nie.

5.10 'N GEREFORMEERDE IDENTITEIT IN 'N NUWE STAATKUNDIGE BEDELING

Die Algemene Sinode van 2004 hanteer twee belangrike kwessies ten opsigte van die NG Kerk se posisie as kerk in Suider-Afrika. Dit gebeur op Vrydagmiddag 15 Oktober 2004 teen die einde van die vergadering. Dit handel oor sy gereformeerde identiteit en die staatkundige bedeling in Suid-Afrika. Op sy erkenning van ingrypende meningsverskille in die NG Kerk oor die gesag, inhoud en verstaan van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit is reeds gewys. Met hierdie erkenning het die Algemene Sinode van 2004 amptelike erkenning gegee aan die aanbreek van 'n nuwe era in die NG Kerk.

Die Algemene Sinode neem ook die versoek van Leer en Aktuele Sake oor dat gemeentes vanuit die gereformeerde wortels van "ons" teologie vernuwe. Dat gemeentes wat met verskillende spiritualiteite werk, mekaar verryk.

Die Sinode neem kennis dat die uittog uit die NG Kerk sedert die middel 1990's afgeplat het. As lidmate vir 'n meer ontspanne en warmer geloofsatmosfeer vra, moet gemeentes daarin probeer voorsien. Die Sinode versoek Leer en Aktuele Sake om beskrywingspunte van kerkrade, ringe en sinodes aan te vra oor die gesag en vertolking van die Bybel, die gereformeerde belydenis, -kerkinrigting en -kerkregering. Leer en Aktuele Sake moet inklusiewe studiegroepe saamstel om die insette van kerkvergaderings te verwerk met verslag aan die volgende Algemene Sinode (NGK 2004H:353).

Die oogmerk is waarskynlik om 'n wye gesprek in die NG Kerk oor die saak te stimuleer en die gemeentes in die proses te betrek.

Met die verslag van Leer en Aktuele Sake in die agterkop, "transformeer" die Algemene Sinode met die hulp van die betrokke parallelle sessie die aanbevelings oor die nuwe staatkundige bedeling in Suid-Afrika (kyk NGK 2004N:352-353). Die huidjie en muidjie sluk van menseregte en "liberale waardes" in die Suid-Afrikaanse politiek word verander na "Bybelse waardes" en "'n Christelike visie" wat "...onontbeerlik is vir die effektiewe en verantwoordelike deelname van die kerk aan die openbare gesprek oor samelewingskwessies".

Hierdie deelname raak kerkvergaderings én lidmate in hulle persoonlike hoedanigheid: die spreekwoordelike kerk as instituut en as organisme (Heyns 1977:191-200) Vir 'n Christen én daarby 'n gereformeerde gaan dit primêr om Soli Deo Gloria - aan God alleen die eer en op alle terreine. Dit was ook die uitgangspunt van Calvyn in Genevé (De Jong 1987:195-197). Vanuit 'n gereformeerde perspektief is hierdie "transformasie" van Leer en Aktuele Sake se stuk 'n voorbeeld van grondige hervorming!

Vir die Algemene Sinode van 2004 moet die kerk self 'n model wees van die waardes wat hy verkondig. Binne die verband van die sinodebesluit wat uitgaan van 'n Christelike visie en Bybelse waardes op die hele samelewing, is dit iets anders as die Kommissie se waardering vir 'n tipies Barthiaanse "alternatiewe gemeenskap" (Barth 1967:719,721,723; Brinkman 1982:96; Strauss 1993:19).

Volgens die Sinode kan die kerk met behoud van sy Bybelse waardes wel aanpas in 'n liberaal-demokratiese omgewing. In Suid-Afrika moet hy 'n meer inklusiewe benadering volg wat die humanisering van die gemeenskap en die optimale beskerming van lewe ten doel het. In hierdie inklusiewe benadering is daar ruimte vir ander waardestelsels en vir samewerking met ander rolspelers wat hulle vir 'n beter samelewing en die welsyn van almal in Suid-Afrika beywer. Hierdie twee begrippe is versoenbaar met 'n Christelike visie. Die NG Kerk moet saam met ander kerke soek na 'n formulering van 'n Christelike visie op die Suid-Afrikaanse samelewing.

Die Algemene Sinode van 2004 gee sy gekwalifiseerde steun aan die Handves van Menseregte45. Menseregte het volgens die Sinode raakpunte met Bybelse waardes. Die toepassing van hierdie regte moet egter met Bybelse waardes ooreenstem.

Die Algemene Sinode versoek die ASK ook om 'n groter amptelike betrokkendheid by die wetskrywende proses in Suid-Afrika. Die Parlementêre Lessenaar van die NG Kerk word op hierdie vergadering gebore (NGK 2004H:337, NGK 2007A:91vv).

In die laaste sinne van sy besluite oor die nuwe staatkundige bedeling bly die NG Kerk kerk. Volgens die Algemene Sinode van 2004 is radikale, effektiewe morele vernuwing in die gemeenskap slegs moontlik op grondslag van die verlossing in Jesus Christus. Die NG Kerk het as 'n gereformeerde kerk - soms met stampe en stote - aangekom in die nuwe staatkundige Suid-Afrika.

5.11 HARTENBOS, ARMOEDE, VIGS EN AFRIKA

Steeds gekonfronteer met die werklikhede van sy subkontinent, versoek die Algemene Sinode van 2004 dat die - nou - Diensgroep Diensgetuienis 'n strategie vir die NG Kerk oor die uitwissing van armoede in "Suider-Afrika" ontwikkel. Dieselfde diensgroep word ook getaak om 'n "omvattende strategie" vir die kerk oor misdaad en geweld te ontwikkel (NGK 2004N:355).

Nuwe drome in 'n nuwe situasie! Ons was nog besig om te leer dat die NG Kerk 'n kerk of 'n verkondigende profeet en 'n offerende priester en nie 'n staat of 'n omvattende lewensinstelling is wat eenvoudig alles -desnoods met dwang - kan regmaak nie.

Diensgetuienis se voorleggging van 'n vigstrategie word met geringe wysigings aanvaar. Dit is duidelik dat die nuutgestigte NG Kerk Vigsforum in die betrokkenheid van die NG Kerk by hierdie pandemie 'n sleutelrol moet speel (NGK 2004H:354).

Diensgetuienis word gemagtig om namens die NG Kerk standpunt te stel oor MIV en vigs. Die diensgroep moet die samewerking van ander kerke, veral die NG Kerkfamilie, soek in die hantering van die saak. Hulle doen ook die skakeling met regerings nasionaal en internasionaal en organisasies nasionaal en internasionaal. Verder moet hulle kontak met opleidingsinstansies vir die insluiting van die vraagstuk in die leerplanne van leraars, maatskaplike werkers en "toepaslike dissiplines".

Op sy beurt moet die Vigsforum omvattende inligting wat vir die kerk ter sake is, oor die kwessie binne en buite die kerk versprei. Die forum moet ook eksterne fondse vind vir aksies wat uit die kerklike strategie teen MIV en vigs kan voortspruit.

Steeds in Afrika betreur die Algemene Sinode van 2004 die verergering van die situasie in Zimbabwe. Gemeentes wat beroep moet predikante uit Zimbabwe oorweeg om dit vir die gemeentes daar makliker te maak. Intussen moet die sinodes van die NG Kerk voortgaan met hulle finansiële steun aan gemeentes in Zimbabwe (NGK 2004H:323).

Nader aan die huis besluit die Algemene Sinode om die Diensgroep Leiers (later die Moderamen) te vra om, as 'n saak van dringendheid, 'n taakspan in die lewe te roep wat hulle besig hou met die praktiese uitvoering van grondhervorming in Suid-Afrika. Leer en Aktuele Sake moet aandag gee aan die teologiese aspekte verbonde aan "grond en grondbesit" (NGK 2004H: 358).

In 'n verstedelikende en multikulturele Suid-Afrika keur die Algemene Sinode riglyne goed vir 'n nie-normale wyse van die stigting van gemeentes (NGK 2004N:356). Die Sinode besef meer as ooit tevore dat die NG Kerk in 'n multikulturele omgewing bestaan en dit in sy bediening moet verreken. Daarom bevestig hy die roeping van die NG Kerk om kerk vir almal in sy nuwe omgewing te wees (NGK 2004H:354).

5.12 PREDIKANTEBEGELEIDING

Die Algemene Sinode van 2004 gee ook breedweg aandag aan die situasie van die predikant in die NG Kerkverband. Op voorstel van die Algemene Regskommissie wat nou die Taakspan Regte word, word 'n klein taakspan in die lewe geroep wat na aspekte van die predikantsbediening kyk. Dit moet handel oor vereistes vir die bediening, die behoud van bevoegdheid vir hierdie bediening, die predikant as werknemer van die kerkraad, die onderskeid tussen die take van 'n proponent en die van 'n predikant, en -moontlik - verskillende kategorieë van predikante wat opleiding, legitimasie en take betref (NGK 2004H:332). Die NG Kerk het ook in 'n nuwe era vir sy predikantsbediening aangekom.

Steeds by die dominees en 'n ander stadige proses van kerkeenheid keur die Sinode 'n versoek van die Tussenkerklike Raad van die drie Afrikaanse Kerke goed waarin daar vir predikantesaamtrekke van dominees uit hierdie drie kerke gevra word (NGK 2004H:323). Hierdie saak kom egter nooit van die grond af nie. 'n Bevestiging van die indruk by baie dat hierdie eenheid geen dringende saak is nie.

Die Sinode hou hom ook besig met predikantebegeleiding. 'n Taakspan word aangewys om 'n proses oorhoofs te bestuur wat normaalweg deur die verskillende sinodes hanteer word (NGK 2004H:344; NGK 2007KO:1-11).

Die groot saak vir die versorging van NG-dominees by die Algemene Sinode van 2004 is egter die sogenaamde nasionale predikantebyeenkoms. Hierdie gedagte kom oorspronklik van Coenie af wat dit as 'n visie en 'n ideaal begin gekoester het. Die visie dat al die "diensdoenende predikante" en gelegitimeerdes in die NG Kerk iewers saam konferensie hou om sake van belang te bespreek en te beleef. 'n Konferensie wat nuwe motivering vir die bediening moes bring.

Hartenbos-2004 keur hierdie voorstel goed. Die byeenkoms sou 'n "uitgebreide" ad-hoc kommissie van die Algemene Sinode vorm wat aan predikantsake aandag gee. Hieronder tel sake soos hul opleiding, beroeping, bevestiging en vestiging in gemeentes, onderlinge ondersteuning van mekaar en die gereformeerde identiteit (NGK 2004H:357).

5.13 'N ROEPING VIR ALLE MENSE

Die NG Kerk was in 'n nuwe era met nuwe inisiatiewe wat van die Algemene Sinode uitgegaan het: in vereniging in die NG Kerkfamilie, in 'n hersiene standpunt oor homoseksualiteit, 'n veranderde bevolkingsituasie in Suider-Afrika en gemeentevorming en die ekumene.

In hierdie veranderde situasie sou die Bybel vir hom egter die gesagvolle en genoegsame Woord van God bly, sy gereformeerde belydenis en identiteit sy erfenis en erns wees en hy opnuut sy betrokkenheid by sy wêreld verwoord.

'n Verklaring wat hande en voete deur middel van diensgroepe en taakspanne aan die roepingsverklaring van 2002 gee, is teen die einde van die Algemene Sinode van 2004 aanvaar. Ter inleiding het 2004 opnuut die roepingsverklaring van 2002 onderskryf. Hy het bygevoeg dat die NG Kerk se roeping om die Evangelie te bedien nie tot 'n bepaalde streek of kultuurgroep beperk kan word nie (NGK 2004H:387).

Die NG Kerk as kerk kan nie deur staats- of kultuurgrense aan bande gelê word nie. Almal is welkom. Daar is egter 'n beperking. Die kerk bestaan net uit die gelowiges in God Drieënig en hulle kinders.

Hierdie soort roepingsverklarings wat nie duidelik sê wat die geestelike rigting en aard van die diens van die NG Kerk aan God, die kontinent, eie gemeentes en ander kerke is nie, maak egter nie die geeste gaande nie. Die verklarings wou skynbaar nie op tone trap nie, maar kon nie die opgewondenheid van almal opwek nie.

 

HOOFSTUK 6

'N SINODE TREK VUUR

Soos wat van die verslae voor die Algemene Sinode van die NG Kerk in 2004 plek-plek of broksgewys 'n nuwe era in die NG Kerk aangekondig het, so het die Algemene Sinode van 2007 deur sommige van sy besluite die eerste tree in hierdie era gegee.

Hierdie tekens was skerp waarneembaar rondom die besluite oor homoseksualiteit en die doopviering. Dit het ook voorgekom in die wyse waarop die stuk oor die gereformeerde identiteit van die NG Kerk geformuleer is, die NG Kerk se besluit om aansoek te doen om as lid van die Wereldraad van Kerke (WRK) toegelaat te word en die Algemene Sinode se aanvaarding van die eenwording van die WBGK en GER (NGK 2007III:224-229).

Vordering met die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie na aanleiding van belangrike vergaderings op 20-22 Junie 2006 te Esselenpark en 16 Augustus 2006 in Bloemfontein en twee Achterbergkonferensies op 6-8 November 2006 en 23-25 April 2007 sou ook aan die Algemene Sinode van 2007 gerapporteer word (NGK 2007:392-396). Onder die breë tema van verhoudinge met ander kerke was daar in 2004-2007 opnuut 'n uitbreiding van die ekumene van die NG Kerk in die bedeling na KS-1986 en KS-1990.

Hierdie groei van die ekumeniese verhoudinge van die NG Kerk het - ironies genoeg - plaasgevind te midde van die stagnering van die eenheidsproses van die NG Kerkfamilie en skerp kritiek vanuit die VGKSA op die NG Kerk.

In die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie het ek die Esselenparkbyeenkoms gemis. Ek was nog besig om te herstel na 'n ernstige motorongeluk op Saterdag 6 Mei 2006 naby Steynsrus in die Vrystaat. 'n Ongeluk wat daardie jaar van my lewe in 'n ander rigting gestuur het. Ek het eers in Oktober weer voluit begin werk en deelneem aan "vrywillige, buitemuurse aktiwiteite": aan kerk en kultuur met hulle vergaderings, gesprekke en take, meestal buite die grense van daardie Vrye Provinsie in die hart van Suid-Afrika.

Uit die ongeluk het ek 'n paar lewenslesse geleer. Ek was vroegmiddag op pad terug van 'n Voortrekkersaamtrek op die Voortrekkerplaas Doornkloof wat behoort het aan die ou Voortrekker Sarel Cilliers - tussen Kroonstad en Lindley. Ek was moeg en moes die volgende oggend nog Hobhouse toe om daar te preek. Ons het vroeër daardie week ons jaarlikse moderatorskonferensie wat deur die sakeman en meelewende lidmaat, Anton le Roux van George, geborg word, by die Wildernis gehad. Vrydagnag op Doornkloof was soos gebruiklik nie 'n nag van rus nie.

By die kruising van die paaie Doornkloof-Senekal en Steynrus-Kroonstad noordwes van Steynsrus, het dit gebeur. Ek was alleen en het in my donkerblou Golfie die pad gekruis Senekal toe. Daar was 'n stopteken aan my kant. Ek het die Camry nooit van die linkerkant sien kom nie. Die Golfie is op die passasierskant se voordeur getref en ingeduik tot op die rathefboom. Waar ek aan die bestuurderskant gesit het, was die skade heelwat minder.

Dit het my lewe gered. Ek kon dit alles egter eers weke na die ongeluk rekonstrueer en toe eers verstaan wat gebeur het. Ek het met gebreekte ribbes, 'n gebreekte linkersleutelbeen (op 'n paar plekke) en bloeding op die brein 'n week in die intensief beland. My resente geheue was vir 12 dae weg. Ek het dit nie besef of enige pyn gevoel nie. Ek was op daardie stadium nie by my volle positiewe nie. So beskerm die Here sy kinders teen groot fisiese lyding... Ek was - om 'n uitdrukking van my Pa te gebruik - amper bokveld toe. Met my herstel oor maande het ek sekere dinge gaandeweg begin insien.

Mens is totaal afhanklik van die Here. Vir alles. Hierdie lewe is niks. Dit is soos 'n blom van die veld. In die oggend pluk jy dit af, in die aand is dit verlep en verdroog (Jesaja 40). In my benewelde swewende toestand het ek my eendag verbeel ek is in die hemel. 'n Besoekende dosent uit Namibië kon homself nie inhou nie en het gevra: Was dit baie warm daar?!! Natuurlik kon ek op daardie oomblik weer nie presies onthou nie. Van die hitte nie.

Ek het ook verstaan wat die Here se begenadiging van sy gelowige kinders is. Dit is meer as net die redding van jou siel. Dit is die gawe om te lewe. Geestelik en liggaamlik. Oor byna vyf maande het my normale funksies herstel.

En dan, vir my wat in my jong dae baie taakgerig was, het ek die waardevolle plek van ander mense in jou bestaan besef. Die begrip medemenslikheid het deur die uitreik van ander mense na my vir my belangrike, nuwe betekenis gekry.

Die skriba van die Vrystaatse Moderamen, doktor Manie Kleynhans, het dit goed opgesom in sy verslag aan die Vrystaatse Sinode van 2009. Manie, 'n Israeliet sonder bedrog, was deur die jare 'n vriend en kollega wat baie van my skoorsoek en lastighede geabsorbeer en oorleef het.

Hy verwys na die Vrystaatse Moderamen wat op Dinsdag 9 Mei 2006 by sy vergadering kennis geneem het van die gebeure waarby sy voorsitter betrokke is:

Die Moderamen was die Here dankbaar dat Prof Strauss se toestand stabiel en buite gevaar was en dat hy nie ernstiger beserings tydens die ongeluk opgedoen het nie....

Die Moderamen het verder kennis geneem van die oorweldigende belangstelling wat daar vanuit verskeie oorde was na die welsyn van hierdie prominente leier in die kerk en die gemeenskap… die Moderamen (het) ook begrip gehad vir die gevolge van hierdie massa oproepe en navrae op die familie en op die personeel van Medikliniek. Daarom het die Moderamen op versoek van die familie gereël dat alle navrae gedurende kantoorure direk aan die Sinodale Kantoor gerig sou word en dat die familie of hospitaal nie verder direk geskakel sou word nie (NGK in OVS 2009A:31).

Manie wat in Kerkreg gedoktoreer het, het 'n stukkie kerkgeskiedenis aangeteken wat nou handig te pas kom. Sy "ordereëlings" sou egter misluk het as dit nie was vir Sussa van Tonder in die Vrystaatse Sinodale Kerkkantoor nie. Hierdie Vrystaatse juweelkind het talle boodskappe namens my beantwoord maar - soos dit met haar kennis en respek vir sinodale prosedure gaan - eers vir my goedkeuring (in my versteurde toestand!) voorgelê voordat sy dit gestuur het. Haar antwoorde het aan my 'n nuwe reputasie van sensitiwiteit besorg. Ek kan sulke dankiesê-frases nie ewenaar nie!

Die hele insident het my oortuig: selfs in hierdie wilde woeste land aan die suidpunt van 'n bosbegroeide Afrika is daar nog medemenslikheid. Twee dierbare Voortrekkervriende sou een aand spesiaal van Pretoria af ry om aan my 'n kunstige plak- en koffietafelboek met boodskappe van oraloor - tot in Namibië - van jeug- en volwasse lede te oorhandig. Die kinderboodskappe het my oorweldig. Ek huil nou nog (sewe jaar later) as ek dit lees. Ek moes op die regte plek verskoning maak: "Skuus Here dat ek u kinders (en hulle kinders) so onderskat het..."

Jackie Grobler (Gebiedsleier) en Annatjie Blignault (tans Du Plessis en op daardie stadium adjunkgebiedsleier) moes dieselfde aand terug. Ek kon nie die inhoud van hulle besoek en woorde onthou nie, maar ek het die boek gehad. In moeilike en alleentye is dit 'n inspirasie. Baie medemenslikheid. Met my vrou Ria en agt kinders (vier eie en vier pleegkinders) wat my goed versorg. Ek moes net eenvoudig herstel. Coenie Burger het die proses verhaas deur daarop aan te dring dat ek die byeenkoms van die vier NG Kerke op 16 Augustus 2006 in Bloemfontein bywoon. Dit was dan op my voorstoep!

My antenna vir die fynere nuanses in menslike verkeer wat hom op so 'n vergadering afspeel, was nog nie daar nie. My kontak met die volle werklikheid - om alles om my waar te neem en raak te vat - het nog nie volkome herstel nie. Al het ander mense beweer dat hulle dit nie agterkom nie, ek het dit geweet...

My pad terug na die Algemene Sinode van 'n jaar later het deur die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie begin.

6.1 HOOP BESKAAM NIE VIR EENHEID IN DIE NG KERKFAMILIE

Die onmiddellike reaksie van die ASK-VGKSA op die besluite van Hartenbos oor kerkeenheid was negatief. In hulle skriftelike reaksie word die hantering van Belhar as 'n "optional confession" in sterk taal verwerp. Wat die VGKSA betref kan Belhar alleen tot sy reg kom as dit soos die Drie Formuliere van Eenheid hanteer word. 'n Verenigde kerk word nie gedien as 'n belydenis in 'n "context of doctrinal liberty" hanteer word nie.

Behalwe dat die kwessie van Belhar as opsioneel reeds 'n invloed op die gebruik van terminologie by die Algemene Sinode by Hartenbos gehad het, kom die ASK van die VGKSA met 'n woordgebruik wat later tot groot verwarring lei in die eenheidsproses. Volgens die ASK-VGKSA moet diegene wat Belhar nie nou wil onderskryf nie, nie nou (my vertolking en kursivering, PJS) van die eenheidsproses uitgesluit word nie, maar pastoraal begelei word om dit te aanvaar. Belhar is nie 'n voorwaarde vir eenheid nie, máár die aanvaarding daarvan mag nie uitbly nie.

Belhar is nie 'n voorwaarde vir eenheid nie, maar.... In die res van die reaksie van die ASK-VGKSA oorheers Belhar. Volgens hulle moet die belydeniskwessie eers opgelos word voordat eenheid kan vorder. Wat hulle betref moet Belhar die basis vorm vir die onderhandelings oor eenheid in die NG Kerkfamilie (NGK 2007A: 385-386).

Die Algemene Sinode van die VGKSA keur hierdie besluit van sy ASK in September 2005 goed. Die Sinode neem egter ook 'n reeks besluite wat die eenheid in die familie kan bevorder. Gesprek en onderhandeling word nie opgeskort nie. Behalwe Belhar, kies die Sinode vir 'n ander term waaraan - soos dit later sou blyk - hy 'n eie inhoud gee: organiese eenheid (NGK 2007A: 388).

Die Algemene Sinode van die NG Kerk van 2004 (Hartenbos) het van aanbevelings gepraat. Die Algemene Sinode van 2005 van die VGKSA (Hilton, Natal) noem egter twee besluite waaraan daar byvoorbaat 'n klimaat van onbeweeglikheid gekoppel word: Belhar as 'n moet en organiese eenheid46.

Tog sou daar in die volgende paar maande onverwags 'n verandering kom. Na 'n gesamentlike vergadering van die Moderature van die Algemene Sinodes van die VGKSA en NGK in Kemptonpark op 9 November 2005, rig die vergadering 'n brief na buite waarin die belangrikheid van kerkeenheid en gesprekke op alle vlakke beklemtoon word. Op pad daarheen moet daar samewerking of 'n kombinasie van aktiwiteite op gemeente-, rings-en sinodale vlak plaasvind (NGK 2007A:389-390). In Februarie 2006 skep die ASK-VGKSA meer ruimte vir samewerking as hy besluit dat hierdie soort samewerking nie vir Belhar as belydenis hoef te aanvaar nie, maar wel die boodskap ("guiding principles and ethos") daarvan (Botha & Naude 2010:133; NGK 2007A:391).

6.2 'N NUWE INSPUITING VIR KERKEENHEID IN DIE FAMILIE

Uit "kontinue onderhandelinge" tussen die Moderature groei 'n vergadering tussen die Moderamen van die NG Kerk (die ASM-NGK) en die ASK-VGKSA. So 'n geleentheid vind eventueel van 20-22 Junie 2006 te Esselenpark by Kemptonpark plaas. Dit word 'n byeenkoms van die betrokke Kommissies (die ASM-NGK en ASK-VGKSA) soos uitgebrei - van beide kerke (NGK 2007A: 391). Die byeenkoms en sy uitkomste word gou gedoop as "Esselenpark".

In hulle weergawe praat Johan Botha en Piet Naudé van "die Here neem die voortou: Esselenpark en Bloemfontein" (2010:133). In die NG Kerk word aanvaar dat Esselenpark 'n deurbraak is: die VGKSA het daarvan afgesien om die aanvaarding van Belhar 'n voorwaarde vir kerkeenheid te maak.

Ek was na my ongeluk buite aksie en op Clarens. 'n Mede-lid van die Moderamen van die NG Kerk in die Vrystaat en ons finansman, ds Bobby Scherrer, het van Harrismith gekom om my eerstehands in te lig. Ek was nog glad nie - alweer? - op 'n flinkdinkstandaard nie. Ek onthou sy besoek, maar nie wat Bobby gesê het nie.

Ek het heelwat later besef: geld is nie alles nie, maar met Bobby aan jou kant, het jy die finansiële oplossing. Hy kan met min én baie kerkgeld werk! Ons was opgewonde! Miskien kan die visie van die Algemene Sinode van 1994 en baie ander sedertdien nou verwerklik word. Nuwe hoop het opgevlam.

Wat vir my persoonlik belangrik was: ek het begin glo dat die VGKSA nie rigied aan hulle eie voorstelle en besluite vasklou nie en oop is vir gesprek. Dat hier 'n verhouding van vertroue ontstaan het waarbinne ons kan werk. Dat jy maar met hulle kan verskil soos jy met jou eie NG- mense verskil en dat dit jou nie verwyt sal word nie.

My indruk vanuit die sandsteenwêreld in die Oos-Vrystaat is bevestig deur die skriftelike verbondsverbintenis van Esselenpark. In hierdie verbintenis is groot en diep dinge gesê.

Daar is 'n nuwe gees van versoening, samehorigheid en 'n bereidheid om na mekaar uit te reik en te luister. 'n Dringendheid om mekaar te help en nie te sloer op die pad van kerkhereniging nie. Die leiers van NG Kerk het die VGKSA om verskoning gevra vir die pyn en hartseer hulle aangedoen en omgekeerd. Volgens die wat daar was - dit is belangrik vir sekere NG-lidmate om te hoor - het doktor Allan Boesak ook om verskoning gevra vir die leed wat hy persoonlik veroorsaak het. Die leiers gesamentlik wil die twee kerke begelei in 'n proses van eenwording wat "binne drie jaar" voltooi moet wees. Hulle pak dit aan uit 'n verbondsverbintenis47 omdat hulle glo dat die Here wat Hom "in genade aan ons verbind het, dit van ons vra".

Hulle beoog 'n nuwe organies-verenigde gereformeerde kerk op sinodaal-gereformeerde beginsels. 'n Nie-rassige inklusiewe kerk wat "ons" multikulturele samestelling aanvaar en die tale wat in die familie gepraat word, koester. 'n Kerk wat sake in Suid-Afrika soos die bestryding van armoede, 'n uitbouing van die morele waardes van die Woord, geregtigheid aan alle mense en versoening wat meer is as net 'n verdra van mekaar, ter hand neem.

Oor die aanvaarding van Belhar spreek die ASK-VGKSA "in die gees van versoening en ondersteuning van mekaar" op die vergadering dit as sy oortuiging uit dat "die Belhar Belydenis nie as 'n voorwaarde vir eenheid (sal) geld nie." Die boodskap van Belhar sal egter steeds 'n inspirasie en gids vir die eenheidsproses wees.

In lyn met die besluite van beide die kerke sal die Belydenis van Belhar 'n volwaardige belydenisskrif van die nuwe kerk wees en sal ons saamwerk om die kerk te help om te groei tot die volle aanvaarding van die belydenis. Ons sal die besluit vir volledige goedkeuring na ons volgende sinode neem (NGK 2007A:392).

In hulle reaksie op die mededeling van die ASK-VGKSA betuig die "leierskap van die NG Kerk" hulle "diepe waardering en dankbaarheid vir die dapper besluit" van die ASK-VGKSA. Hierdie verklaring bring die standpunte van die twee kerke oor die aanvaarding van Belhar "feitlik" in lyn met mekaar (NGK 2007A:393). Die stelling van die NG Kerk se leierskap moes skynbaar die VGKSA aan die een kant en ondersteuners van Hartenbos 2004 maar nie Belhar as 'n belydenis nie, aan die ander kant gerusstel. Nadat ek weer by die proses betrokke geraak het, het ek agtergekom dat alles nie so eenvoudig is nie.

'n Paar opvallende sake blyk uit die besluite van en verklarings tydens Esselenpark. Die eerste is natuurlik die saamstem oor die besonderhede van die eindverklaring wat iets is om aan te werk in die eenheidsproses. Aan die een kant verwoord dit instemming met sekere uitgangspunte vir een kerk of kerkverband en aan die ander kant 'n realisme vir 'n taal- en kultuurverskeidenheid. Die aanpak toon nuwe inisiatiewe in die eenheidsproses.

Die tweede saak dra reeds die kiem van 'n misverstand in hom saam. Belhar is nie 'n voorwaarde vir eenheid nie, maar daar gaan aksies en morele druk wees om die volle nuwe kerk in al sy gemeentes tot 'n volwaardige aanvaarding van Belhar - soos die ander belydenisskrifte - te lei. Vanaf die kant van die NG Kerk word hierdie stertjie by die besluit oor Belhar nie behoorlik met die VGKSA uitgeklaar nie. Dat hierdie stelling van die ASK-VGKSA Belhar as voorwaarde kamofleur, het ek 'n jaar of twee later uitgevind in diskussies met lidmate van die VGKSA. Belhar is nie 'n voorwaarde by kerkvereniging nie, maar dit beteken nie dat jy dit openlik kan of mag afwys nie. Dit is nie vir die ASK-VGKSA aanvaarbaar nie omdat daar by Esselenpark vir en namens alle moontlike betrokkenes in die twee kerke besluit is - dit was klaarblyklik die vreemde interpretasie - dat "ons sal saamwerk... vir die volle aanvaarding van die belydenis..."

In effek het dit beteken: Belhar is nie nou 'n VGKSA-voorwaarde nie, maar later wel. Op die lang termyn bly dit 'n voorwaarde. Daarom dat sommige verteenwoordigers van die VGKSA met argwaan reageer het as jy Belhar nie as 'n belydenis aanvaar nie48.

Johan Botha behandel dieselfde kwessie vanuit sy verhouding met die VGKSA. In sy kommentaar op Achterberg II voer hy later aan dat sommige "NGK-leiers se aandrang dat hulle lidmate eers getoets moes word om 'n standpunt te kan bepaal" en dat van hulle nie Belhar as belydenis kan onderskryf nie, 'n "ou wantroue by die VGKSA-leiers laat herleef" en verdeeldheid gebring het (Botha & Naudé 2010:140). Op wat die waarom en inhoud van hierdie wantroue behels, gaan hy nie verder in nie.

Die aanvaarding van Belhar as belydenis was dus op die lang termyn wel 'n voorwaarde vir kerkeenheid en, as Botha dit reg het, op die kort termyn - selfs - 'n voorwaarde vir onderlinge vertroue! Omdat sommige in die VGKSA Belhar as hulle kerklike identiteit beskou, beteken die nie-aanvaarding van Belhar vir hulle dus die verwerping van hulle kerkwees.

Hierdie houding word ook verwoord deur die Algemene Sinode van die VGKSA in 2008 as hy sê dat die uitslag van die NG Kerk se opname in gemeentes in 2007-2008 wat Belhar uitwys as 'n verdelende faktor, stry met die verbondsverbintenis van Esselenpark en die besluite van die Algemene Sinode van 2004 (VGKSA 2008:196). Behalwe dat dié interpretasie deur die Algemene Sinode van die VGKSA debatteerbaar is - ekself het in my afwysing van Belhar as 'n belydenis geoordeel dat Hartenbos aan my die ruimte daarvoor gee - was die Hartenbosbesluite natuurlik net aanbevelings. Wat meer is, ek was 'n voorsteller van Hartenbos 2004!

'n Derde onuitgeklaarde saak is die kwessie van 'n "organiese" eenwording. Vir die NG Kerk in sy proses van "organiese" eenheid wat by die Algemene Sinode in 1962 voltooi is (Van der Watt 1975:165), het dit 'n bykomende algemene sinode by die bestaande "provinsiale" sinodes beteken. In ons gesprekke het segslui van die VGKSA later laat blyk dat hulle hakke inslaan by die standpunt dat 'n federale raad of bykomende algemene sinode apartheidsfigure is!

Volgens hulle spreek Belhar as 'n belydenis hom ook téén hierdie nie-belydeniskwessie of rand- en nie 'n kernsaak nie, in die kerk uit (Strauss 2012:77). Hoe dit ookal sy, Esselenpark was 'n nuwe inspuiting vir die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie.

6.3 BLOEMFONTEIN STABILISEER PROSES

Die uitsprake van Esselenpark was om twee redes voorlopig. Die eerste rede is dat hier slegs verteenwoordigers van die NG Kerk en VGKSA en nie bevoegde kerkvergaderings wat finale besluite oor die sake kon neem nie, byeen was. Die erkende kerkvergaderings moes nog besluit. Buitendien het die Algemene Sinode van 2004 gepraat van voorstelle in 'n proses en nie onbeweegbare Martin Lutherbesluite ("Hier stehe ich, ich kann nicht anders") nie (De Jong 1987:162).

Die tweede rede is dat die volle NG Kerkfamilie in Suidelike Afrika nog nie hier teenwoordig was nie. Die NGKA en die RCA het ontbreek. Op die noodsaak van hulle teenwoordigheid is daar al deur die Algemene Sinode van 1994 - dus reeds in die vorige eeu - besluit. Oor die teenwoordigheid van hierdie twee kerke het die VGKSA as 'n verklaarde anti-apartheidskerk van tyd tot tyd 'n eienaardige, byna paternalistiese houding openbaar. Volgens hulle moes hulle eers met die NG Kerk regkom en nie soseer die ander twee nie, omdat die NGKA en RCA in elke geval sal doen wat die NG Kerk - ouboet - besluit. In 2008 het die Algemene Sinode van die VGKSA weereens sy trou aan sy verstaan van Esselenpark verwoord en geen woord van kommer gerep oor die feit dat die NGKA en RCA daarvan uitgesluit was nie (VGKSA 2008:196).

Na Esselenpark was daar by die NGKA en RCA 'n huiwering om betrokke te raak by die eenheidsproses omdat hulle van Esselenpark uitgesluit is. Die moderature van die NG Kerk en die VGKSA het 'n vergadering bepaal vir 27-28 Julie 2006 in Pretoria. Hulle wou na aanleiding van Esselenpark "bepaalde prosesse" begin hanteer. Die RCA en NGKA is slegs na 'n gedeelte van die vergadering genooi om "hulle in te lig" oor die byeenkoms in Junie. Vir die RCA was dié behandeling onaanvaarbaar, maar hulle sou die vergadering bywoon. Die NGKA sou wegbly.

Die NG Kerk en die VGKSA het daarop besluit om hulle Julievergadering op te skort. Hulle wou alles moontlik doen om die ander twee kerke ook betrokke te kry. Eventueel sou die vier moderature op 16 Augustus 2006 in Bloemfontein bymekaar kom.

Dit was ongeveer drie en 'n half maande na my ongeluk, maar Coenie het my oortuig om die vergadering by te woon. Ek was daar, maar kan onthou dat ek moeite moes doen om my in die vergadering te oriënteer. As ek nou nonsens praat, sou die ongeluk my nie beskerm nie!

Bloemfontein het twee groot sake hanteer. Die eerste een was dat die partye mekaar om verskoning gevra het vir die "baie onregte" (my kursivering, PS) wat hulle mekaar in die verlede aangedoen het. Soos by Esselenpark het hulle 'n verbondsverbintenis gesluit rondom die hereniging van die NG Kerkfamilie. 'n Verbintenis waarmee hulle hulle "onder die gesag van die Woord van God en die wil van Christus wil bring". 'n Verbintenis dat hulle nederig en geduldig met mekaar sal omgaan in die eenheidsproses.

Die tweede saak was 'n afspraak om 'n uitgebreide konferensie van die familie vanaf 6-8 November 2006 te hou. Die Moderamina of Algemene Sinodale Kommissies van die vier kerke asook die moderature van streeksinodes sou hierby betrek word (NGK 2007A:394). Die eenheidsproses was nog op koers. Die hef aan op Achterberg het egter voor gelê.

6.4 ACHTERBERG I TOON BELOFTE

Die eenheidsgesprekke by Achterberg van 6-8 November 2006 is deur 127 mense uit die vier NG Kerke bygewoon. Die gesprekke het gevolg op Esselenpark en Bloemfontein en die deelnemers opnuut aan 'n eenheidsproses in die familie verbind. Hier was 'n nuwe inisiatief, hoewel haakplekke voorsien is (Botha & Naudé 2010:136).

Aan die einde is 'n verklaring uitgereik wat idealistiese én realistiese tone bevat. Daar is saam bome geplant as die simbool van 'n verenigde kerk wat hopelik op pad is. Daar was algemene instemming met die eindverklaring. Selfs Allan Boesak aan die een kant en die Vrystaatse moderator van die NG Kerk aan die ander kant van die kerklike spektrum, soos die persepsies by sommige geloop het, kon hulle daarmee vereenselwig...

Daar was nuwe hoop vir 'n nuwe verband in die NG Kerkfamilie. Boonop het die meeste van die verteenwoordigers in die gesprekke gemaklik en met 'n oënskynlike ruimte vir mekaar gesels.

Achterberg I het het hom besig gehou met uitgangspunte en 'n wedersydse vertroue en aanvaarding van mekaar. Met 'n verstewiging van die wegspring of die vertrekpunte van die proses. Die eindverklaring bevestig dit.

Volgens die vergadering het hy opnuut besef hoe belangrik 'n "eie identiteit, wat taal- en stylverskille insluit, vir elke kerk is." Die rykdom van hierdie diversiteit moet in die "herenigde kerkverband gekoester" en opbouend aangewend word in die Suid-Afrikaanse konteks.

Kerkhereniging is alleen moontlik vanuit gemeenskaplike geloofs-oortuigings, onderlinge vertroue en respek. Eenheid moet op kerkraads-, rings- en sinodevlak bevorder word. Die gemeentes moet ook hierby betrek word (NGK 2007A:395; Botha & Naudé 2010: 136-137).

Achterberg I was 'n goeie wegspring. 'n Opvolgkonferensie is vir Maart 2007 beplan. Later sou die datum 23-25 April 2007 word. Vier taakspanne met twee verteenwoordigers uit elk van die vier kerke, sou hier rapporteer: oor die belydenisgrondslag, model, gesamentlike projekte en versoening (NGK 2007A:395)

Ek self het ook moed gehad. Die erkenning van taal-, kultuur- en stylverskille was bemoedigend. Die ideaal van een nuwe kerkverband -dit is reeds by die Algemene Sinode van 1994 in die vooruitsig gestel -is aanvaar sonder wroeging. Buitendien het ons 'n proses aan die gang gekry waartoe ons ons by Bloemfontein met openhartige beloftes van nederigheid en geduld verbind het. Hoe sterk hierdie basis was, sou by Achterberg II getoets word.

6.5 ACHTERBERG II TOON KRAKE

Botha wys daarop dat daar deelnemers by Achterberg II teenwoordig was wat nie in die voorafgeleenthede by Esselenpark, Bloemfontein en Achterberg I gedeel het nie. Hulle het dus nie deel gehad aan die "onderlinge gemeensaamheid" wat daar reeds tussen 'n meerderheid van die aanwesiges bestaan het nie. Hulle is ook nie aan die begin "blootgestel" aan die waardes van hierdie voorafbyeenkomste nie, sodat dit nie op hulle 'n indruk kon maak nie (Botha & Naudé 2010:138).

Daarby het sommige NG-leiers met hulle weerstand teen Belhar die "ou wantroue" laat herleef (Botha & Naudé 2010:140). Wat Botha moontlik uit die oog verloor, is dat hierdie 'n proses moes wees wat baie breër loop as net 'n klein konferensie van "leiers". Deur die kerkordes van beide die VGKSA en die NG Kerk is kerkrade en gemeentes by voorbaat by die proses betrek. In sy voorstelle oor kerkhereniging het Hartenbos 2004 dit onderstreep. Die eenheid is by Achterberg I ook gesien as 'n saak wat op alle terreine van die kerklike lewe moet groei en vestig. Dit moet bou op 'n basis wat baie dieper en breër loop as die onderlinge gemeensaamheid en eindverklarings van konferensies wat as brose punte van konsensus vir meer as een interpretasie vatbaar is. Miskien sou nederigheid en geduld, saam met eerlikheid en 'n aanvaarding van mekaar se bona fides, die oplossing wees vir die krake wat verskyn.

Belhar sou die twispunt wees. Ek het vir hierdie groep gekies omdat hier 'n wollerigheid in die formulerings voorgekom het en ek, indien ons so besluit, die saak by die gemeentes in ten minste die Vrystaat sou moes gaan verdedig. Ek het gestaan by Hartenbos-2004: Gee asseblief ruimte aan diegene wat Belhar nie as 'n belydenisskrif wil onderteken nie. 'n Belydenis spruit immers uit oortuiging en nie uit dwang nie. Belhar sê dit self (vgl paragraaf 2 van Belhar, Theron 2012:147).

In 'n gesprek tussen die Moderature van die VGKSA en die NG Kerk op 7 Februarie 2008 in Kemptonpark het Allan Boesak dit teenoor my persoonlik erken dat 'n belydenis nie anders as uit oortuiging spruit nie. Ek was en is nie van Belhar as 'n belydenis oortuig nie. Hulle het vroeër daarvan kennis geneem en my, volgens gerugte, daarvoor kwalik geneem. Tog het hulle in Kemptonpark 'n toevoeging in ons gesamentlike eindverklaring aanvaar dat iemand wat nie gereed of gewillig ("ready or willing") is om Belhar as 'n belydenis te aanvaar nie, nie gedwing sal word om dit te doen nie (NGK 2011A:242).

Oor die konfessionele basis van 'n nuwe NG Kerkverband het Achterberg II volgens die notule oor die volgende voorstelle konsensus gehad (NGK 2007AIII:28). Belhar moet nie 'n voorwaarde vir kerkeenheid wees nie; die vier kerke moet praat oor die inhoud van Belhar en 'n gesamentlike kommentaar daarop skryf sodat dit in 'n nuwe kerkverband gebruik kan word; niemand moet geforseer word om Belhar te onderskryf of te verwerp nie; en die waarde wat die VGKSA aan Belhar heg, word gerespekteer.

In 'n toevoeging het die verteenwoordigers van die NG Kerk en VGKSA tussen mekaar blykbaar ooreengekom dat die groei na die volle aanvaarding van Belhar as belydenis 'n integrale deel van die nuwe kerkverband sal wees. Ek onthou dat ons eenvoudig net met hierdie "Esselenparkse" erfenis as 'n NG Kerk-VGKSA-maaksel gekonfronteer is en weens 'n gebrek aan tyd nie daarop kon reageer nie. Dit is later redaksioneel ingewerk in 'n "konferensiekonsensus". Enige afwyking van Esselenpark het volgens sekere mense uit die VGKSA op troubreuk neergekom (vgl Botha & Naudé 2010:138).

Ek het besef: Achterberg II vertoon krake as kerkeenheid afhang van 'n dwang tot die aanvaarding van sekere bewoordings oor Belhar en misplaasde skuldgevoelens omdat jy verskil met jou mense by 'n konferensie wat niemand kerkregtelik bind nie.

Die Kommissie vir 'n versoening tussen die vier kerke - tussen die NGKA en VGKSA was daar op hierdie stadium selfs hofsake oor eiendomme aanhangig gemaak - het 'n omvattende verslag van meer as 5 bladsye wat neerkom op 'n versoeningskommissie wat bemiddel tussen die NG Kerk, VGKSA en NGKA, aan Achterberg II voorgele. Selfs 'n begroting waaruit die werk van die voorgestelde kommissie gefinansier kan word, is opgestel. Oor hierdie voorstel kon die konferensie nie tot 'n besluit kom nie. Dit is na die Interimkomitee van die konferensie verwys (NGK 2007AIII: 32-37).

Oor die eenheidsmodel was daar 'n voorstel van - ten minste - een algemene sinode wat die bestaande algemene sinodes in die vier kerke moes vervang. Die res van die kerkvergaderings moes inskakel by 'n groeiproses na groter eenheid. 'n Omvattende praktiese voorstel oor gesamentlike projekte - dit was die gewildste item in die opname onder NG Kerkgemeentes oor kerkhereniging in 2007-2008 (Pieterse & Steyn 2008:6) - is ook aan Achterberg II voorgelê.

In sy verslag aan die Algemene Sinode van 2007 besluit die Moderamen om die hooflyne van Achterberg II te verwoord en by die Sinode aan te beveel (NGK 2007A:23-25). Die Algemene Sinode van 2007 moes Achterberg II nou hanteer.

6.6 WOELIGE EKUMENE

Teenoor hierdie delikate, soms spanningsvolle verloop van die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie sou die ekumene van die NG Kerk tussen die jare 2004 en 2007 sy stygende, ongekompliseerde tendens voortsit. Anders as 'n paar dekades gelede het die ekumene van die gereformeerde kerke dwarsoor die wêreld teen die einde van die 20ste eeu vereenvoudig. Die onderskeid tussen volle, gedeeltelike en dialoogverhoudinge in verhoudinge met indiwiduele kerke is gehandhaaf, maar daar was 'n groeiende besef dat die algemene vergaderings van ekumeniese liggame praat- en oorlegplatvorms is en nie supersinodes nie. As 'n lid kan jy verskil of saamstem en hoef jy nie verantwoordelikheid vir al hulle besluite en projekte te aanvaar nie.

Hierdie ongekompliseerde tendens ten opsigte van die NG Kerk het hom vergestalt in 'n breë aanvaarding van die kerk: bilateraal deur ander gereformeerde of Protestantse kerke en multilateraal deur sy opname in ekumeniese instellings. Die ekumeniese verslag van die Moderamen aan die Algemene Sinode van 2007 gee 'n woelige, kleurvolle prentjie (NGK 2007A:398-409).

Benewens verhoudinge met talle indiwiduele kerke wêreldwyd is die NG Kerk, op 'n enkele uitsondering na, opgeneem in daardie instansies waarby hy wil inskakel. Wat ekumeniese liggame betref, was daar binnelands die Tussenkerklike Raad van die Drie Afrikaanse Kerke, die Konvent van Reformatoriese Kerke, die SARK (die NG Kerk het in 2004 hiervan "volle lid" geword en Coenie Burger en Kobus Gerber dien later op hulle Uitvoerende Komitee), die Suid-Afrikaanse Alliansie van Gereformeerde Kerke, die Evangelical Alliance of Southern Africa en die Gereformeerd-Lutherse Konsultasie. In Afrika is hy lid van die Alliansie van Gereformeerde Kerke, terwyl sy inskakeling by die All Africa Conference of Churches in wording is. Die kwessie van 'n liggaam vir al die kerke in Afrika wat uit die werk van die NG Kerk spruit, word op hierdie stadium bespreek. By die Algemene Vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in 2004 in Accra, Ghana het verteenwoordigers van hierdie kerke bymekaar gekom. Ons was verras oor die miljoene lidmate wat hierby geïmpliseer word.

Dit was met die besoek van die afgevaardigdes aan eertydse slawebarakke of "dungeons" aan die kus vanwaar swartmense enkele eeue gelede as slawe met dwang na die Weste weggevoer is, waar ek as 'n NG-man uit Suid-Afrika die man uit die Reformed Church of East-Africa ontmoet het. Hy moes ons fyn dopgehou het. Op 'n stadium het hy my ongekompliseerd gekonfronteer met die vraag of ek van die NG Kerk is. Sy blydskap was groot toe ek dit bevestig. Ek was iemand van die kerk deur wie se sendingwerk sy kerk tot stand gekom het. Dit was 'n groot oomblik vir ons altwee. Hier was geen sweem van die agterdog of bitterheid wat soms tuis uitgeslaan het nie. Ons was terug in die globale ekumene met 'n ongekompliseerdheid daaraan verbonde.

6.7 BOKSBURG-2007 KRY TWEE VERSLAE OOR HOMOSEKSUALITEIT

Dat die "verdere" studie deur Leer en Aktuele Sake om die Algemene Sinode te help om die NG Kerk "op die mees verantwoordelike manier" oor die vraag na homoseksualiteit te "dien", nie sonder probleme gaan verloop nie, het direk na Hartenbos duidelik geword.

Doktor André Bartlett van Suid-Transvaal en 'n lid van die - nou -Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, het die besluit van Hartenbos so geïnterpreteer dat dit onrus veroorsaak het. Sy interpretasie is in 'n Sondagkoerant weergegee.

André het na bewering teenoor die koerant gesê dat die feit dat Hartenbos aan die een kant die huwelik as iets vir net een man en een vrou gereserveer het en aan die ander kant beide hetero- en homoseksuale promiskuïteit afgewys het, beteken dat hy tussen hierdie "twee pole" plek maak vir verantwoordelike homoseksuele verhoudings. Dat die Sinode met sy erkenning van gelowiges met 'n homoseksuele oriëntasie as volwaardige lidmate by implikasie sê dat hulle ook tot die predikantsamp toegelaat sal word. Die Moderatuur wys in 'n verklaring daarop dat hierdie konsekwensies nooit bespreek is nie, maar juis die soort saak is waaroor daar verdere studie gedoen word.

Na 'n gesprek op 16 November 2006 met hom in Johannesburg verklaar die Moderatuur dat hy nie André se integriteit wou bevraagteken nie waarop laasgenoemde aanvoer dat hy die NG Kerk nie in die verleentheid wou stel nie. Hy is jammer dat die wyse waarop sy standpunt oorgekom het, so 'n indruk geskep het (NGK 2007A:126-128). Later sou dit blyk dat André tog die standpunt soos verwoord, huldig (NGK 2007A:142)

Verwarring en ongelukkigheid soos weerspieël in die "pers" lei die Moderamen in Mei 2005 daartoe dat hy daarop wys dat die Algemene Sinode nog werk aan 'n standpunt oor die saak. Wanneer gevalle van homoseksualiteit voor kerkrade kom, het hulle egter die Skrif en die belydenisse van die kerk as rigtinggewend. Wanneer die besluite van die Algemene Sinode kerkregtelike advies noodsaak, kan die aktuarius van die Algemene Sinode genader word. Vir my was dit goed dat ons as gereformeerdes die mondigheid van kerkrade om sake van die dag vanuit die Bybel en ons belydenis te hanteer, erken. Veral as meerdere vergaderings nog nie bindende besluite daaroor geneem het nie. Kerkraadslede is nie Roomse leke wat deur "die kerk" of "hoër" kerkvergaderings gelei moet word om die regte besluite te neem nie.

Intussen sou Leer en Aktuele Sake 'n taakspan saamstel om aan die opdrag van die Algemene Sinode van 2004 uitvoering te gee. Hulle verslag sou deur die verslag van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake voor die Algemene Sinode van 2007 kom. Vanuit Leer en Aktuele Sake sou Ben du Toit as sameroeper optree. Daar sou egter twee voorsitters wees om die twee standpunte oor homoseksualiteit in die Taakspan te verteenwoordig: André Bartlett en doktor Jorrie Potgieter (NGK 2007A:140). Later het Herman Carelsen bygekom as 'n fassiliteerder van die hele proses (NGK 2007A:128).

Die spanning het opgelaai. Uit die Sinode van Wes- en Suid-Kaapland kom daar op 'n stadium 'n versoek dat die lede van die Taakspan hulle moet weerhou van 'n debat in die openbare pers (NGK 2007A:128). Op die ou end lewer die taakspan twee weersprekende verslae met 'n paar gemeenskaplike en 'n rits uiteenlopende aanbevelings. Die Sinode word voor 'n dilemma geplaas. Hy moet kies. In die bespreking van die vloer af.

In wat as 'n verslag ten gunste van "verantwoordelike" homoseksuele verhoudings wat uit liefde en trou bestaan, beskou kan word, word gevra dat die Algemene Sinode die hantering van die verskille oor die saak aan die diskresie van kerkrade oorlaat. In die tweede verslag word aanbeveel dat die Algemene Sinode "permanente" homoseksuele huwelike- en verbintenisse as in stryd met die Bybel beskou, net die huwelik tussen een man en een vrou erken, slegs homoseksuele persone wat die selibaat beoefen tot die ampte toelaat en homoseksuele lidmate met deernis begelei. Die verslag maak in sy aanbevelings ook gewag van die NG Kerk se "oortuiging" dat homoseksuele verhoudings verkeerd is (NGK 2007A:143-144).

In 'n saak wat in Mei 2005 voor die Grondwetlike Hof van Suid-Afrika dien, naamlik die van die Marriage Alliance of South Africa teen 'n uitspraak van die Appélhof ten gunste van 'n gay-paartjie, gee die Moderamen sy gekwalifiseerde steun aan die Alliance. Hierdie groep is gekant teen die wetlike erkenning van homoseksuele "huwelike" (NGK 2007A: 94). Op dié punt is ek en Coenie dit eens. 'n Feit wat rugbaar word in die debat wat in die NG Kerk aan die gang is.

Op 22 Mei 2007 lewer ek 'n voorskou in Volksblad op die Algemene Sinode van 4-8 Junie 2007 wat met die twee verslae oor homoseksualiteit voor hom te make gaan kry. Ek wys daarop dat drie (streek)sinodes sedert 2004 verklaar het dat homoseksuele praktyke onskriftuurlik is en dat dieselfde standpunt in Oktober 2006 uit talle gemeentes gekom het. Die Sinode gaan moeilik teen hierdie tendens in besluit (Volksblad 22:05:2007; 7).

Ons voorlegging vanuit die NG Kerk aan die parlementêre portefeuljekomitee wat gesit het oor die voorgestelde wet op burgerlike verbintenisse verhoog die intensiteit van die debat in die NG Kerk. Na aanleiding van die inhoud van die voorlegging deur Kobus Gerber (algemene sekretaris) en Ben du Toit van (Leer en Aktuele Sake en die Parlementêre Lessenaar) as sou hulle gay-huwelike bepleit, voel die Moderatuur hom genoodsaak om by twee geleenthede 'n verklaring uit te reik: op 18 en 27 Oktober 2006. Hierin word die standpunt van die NG Kerk dat die huwelik net vir een man en een vrou is, herhaal (NGK 2007A:95-96).

Na aanleiding van die kwelvrae van twee groepe lidmate reik die Moderamen ook op 30 Januarie 2007 'n verklaring uit waarin die Moderatuur ondersteun en Kobus en Ben se mandaat vir die voorlegging as funksionarisse van die NG Kerk, gemotiveer word (NGK 2007A:97).

Hoe dit ookal sy, my opmerkings in die Volksbladartikel veroorsaak rimpelings in die groep wat wat met 'n pro-homoseksuele huwelike-verslag na die Sinode kom (Rapport 10:06:2007). Dit kring egter nie wyd uit nie. Ek kon ook nie insien waarom ek my waarnemings moes terugtrek nie. Ek wou immers bloot wys op 'n tendens wat ek in die NG Kerk waarneem (Volksblad 22:05:2007). Die tafel was gedek vir hierdie dis by die Algemene Sinode van 2007.

6.8 'N GEREFORMEERDE INSLAG IN DIE 21STE EEU

My waarneming dat die NG Kerk as 'n gereformeerde kerk worstel met eietydse vrae, is eenmaal uit Nederland deur iemand wat erns gemaak het met Johan Heyns se dogmatiek, bevestig. Die Algemene Sinode van 2007 sou hiervan 'n voorbeeld wees.

Drie voorafverslae met uiteenlopende temas, sou aandui dat so iets aan die kom is. Die eerste van hierdie verslae is die verslag oor die gereformeerde identiteit van die NG Kerk. Die verslag spruit uit die besluit van 2004 waarin erken word dat daar "ingrypende meningsverskil" in die NG Kerk bestaan oor die gesag, inhoud en verstaan van die gereformeerde belydenis en spiritualiteit. Die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake wat die opdrag moes uitvoer, rapporteer dat hy wyer gekonsulteer het en teoloë en ander lidmate buite die Taakspan én die Taakspan vir Gemeenteontwikkeling geraadpleeg het.

Twee opmerkings van Leer en Aktuele Sake onderstreep die eietydsheid van die situasie waarin die verslag gekryf is.

In die eerste plek oordeel die verslag dat die NG Kerk "die afgelope paar jaar" deur 'n proses is waarin hy diversiteit "as 'n positiewe werklikheid" moes erken. Dit beteken dat die NG Kerk nie in alles eenvormig of eenstemmig is nie. Daar bestaan egter wel 'n "gemeenskaplike" of "saambindende kern" wat sy identiteit aandui.

Tweedens impliseer die aanduiding van hierdie kern nie dat die NG Kerk beter as ander is of die volle waarheid in pag het nie. Dit omskryf slegs sy kerklike identiteit wat - soos dit die geval is met die Reformasie van die 16de eeu - verband hou met die identiteit van die algemene Christelike kerk. Die Christelike of gereformeerde identiteit van die NG Kerk beteken ook dat die Boodskap van die Evangelie van Christus telkens nuut verstaan moet word teen die agtergrond van die eise van die tyd (NGK 2007A:11-12).

Volgens die verslag bestaan hierdie kern eerstens uit 'n fokus op die vyf sola's van die Reformasie in ons verhouding tot die Here naamlik deur die genade, die Skrif, die geloof en Christus alleen en aan God alleen die eer. Tweedens bestaan die kern uit die lewe voor God in die "kragveld" van die Heilige Gees. 'n Derde aspek van die kern is dat die georganiseerde kerk 'n belangrike rol in die lewe van gereformeerdes vervul, die ampte gelykwaardig en "in diens" van God is, die koninkryk breër loop as die kerk en die sakramente tekens en seëls is van God se genade aan sondaarmense. Daarby is die erediens 'n geestelike ontmoeting tussen God en sy gemeente waarin die hoor van die Woord deur die Skriflesing en prediking en kernelemente soos die wet, skuldbelydenis, genadeverkondiging, voorbidding en lofprysing hulle plek het (NGK 2007A:13-17).

My onmiddellike gevoel by die deurlees van hierdie verslag was: hier het ons iets wat die moeite werd is en waarmee ons Sinode toe kan gaan. Die verslag is uitstekend bewus van konstantes en hulle eietydse toepassing. Die verslag getuig van 'n skerp insig en gee goed rekenskap van gereformeerdwees. Hier is 'n verankering én 'n openheid vir vernuwing of 'n eietydse hervorming. Vir 'n gesonde eenheid en diversiteit. Hiermee kan die NG Kerk werk en vooruit kyk. Vir my was die verslag by verre die mees belangrike verslag van hierdie Sinode.

Die kwessie van die viering van die doop sonder om daarmee die indruk van 'n weder- of herdoop te skep, sou weer op die tafel van die Algemene Sinode van 2007 kom (NGK 2007A:10). Iewers in die agterkop moes dit as 'n NG-buffer teen die drang tot 'n belydenisdoop dien. Daar ek die nagmaal as Christus se eie instelling van 'n viering van die doop beskou en oortuig is van die verbondsdoop waar God se verlossende liefde en nie die mens se bekering of belydenis nie, sentraal staan, het hierdie verslae en redenasies my nie geboei nie. Ek is nou nog seker dat die "vindingrykheid" van die voorstellers ons nie veel baat nie.

Ek het dieselfde onverskilligheid vir die voorstel oor kerklike tribunale in tugprosesse in my voel opborrel. Hier was nou weer 'n "reddingsvoorstel" om die kerk uit die hof te hou wanneer hy die tug hanteer (NGK 2007A:325-338). Die "redders" het egter nie 'n enkele voorbeeld gegee van waar die NG Kerk in resente tye met die aanwysing van spesialisgelaaide kommissies vir tugsake voor kerkraad, ring, sinode en Algemene Sinode swak gevaar het nie. Ekself was by talle sake in die Noord-Kaap en Vrystaat betrokke waarin daar van 'n hersiening deur die hof niks gekom het omdat daar proseduregewys niks teen die optrede van die betrokke tugkommissie ingebring kon word nie. Ek kon nie aan die indruk ontsnap dat die voorstellers van tribunale die Kerkorde van 2004 nog nie self getoets het nie. Die Sinode sou hom hieroor moes uitspreek. Kerklike tugsake is pastoraal van aard met 'n juridiese kant en nie iets vir juridiesgeoriënteerde tribunale nie (vgl Sadler 1979:9).

Soos met Hartenbos-2004 moes Boksburg-2007 in ietsie minder as 'n week met 'n lang agenda klaarspeel. Dit sou beplanning en dissipline vra.

6.9 BOKSBURG 2007 EN KERKEENHEID: 'N KONSULTASIE MET DIE GEMEENTES

Hoe oop vir voorstelle ons in die NG Kerk die konsultasie oor kerkeenheid met ons gemeentes en ander kerke benader het, word weerspieël in die besluit van Boksburg-2007 dat hy self net kennis neem van Achterberg en die opsomming van die Moderamen. Hy sou die dokumente van Achterberg II en Hartenbos-2004 aan die gemeentes deurgee vir kommentaar. Hartenbos-2004 kan 'n verklarende NG-inleiding tot Achterberg II wees.

Boksburg-2007 steun die inisiatiewe van die Moderamen sedert Esselenpark in oorleg met ander NG Kerkvergaderings en die res van die familie "tot hereniging van die vier kerke van die NG Kerkfamilie". In die lig van die kommentaar van die gemeentes wat nou hier in 2007-2008 gevra word én Hartenbos-2004, moet die Moderamen met die ander drie kerke onderhandel oor konkrete voorstelle aan die gemeentes van al vier kerke. Hierdie voorstelle word in die tweede helfte van 2008 deur elke kerk aan sy eie kerkrade of gemeentes voorgele. Die proses moet volgens die betrokke kerk se kerkorde of besluite verloop. In die NG Kerk aanvaar die (streek-) sinodes die verantwoordelikheid vir hierdie konsultasiesproses met die gemeentes.

Op grond van die besluite van die Algemene Sinode en sinodes sedert 1990 oordeel die Algemene Sinode van 2007 dat dit vir die NG Kerk nie meer om die "of" of dan die wenslikheid van kerkeenheid gaan nie, maar die "hoe" of wyse van implementering. Indien dit sin maak en die eenheidsproses help, kan die Moderamen 'n algemene sinode van die vier NG Kerke reël. Die kwessies van gemeentes se "approbasie" of reaksie op die voorstelle vir kerkeenheid en regsadvies oor moontlike juridiese slaggate vir die proses, kom weer voor.

Boksburg-2007 wys ook 'n taakspan oor kerkhereniging aan. Hierdie taakspan moet bestaan uit een verteenwoordiger van elke Sinode en die gesprekke en besluitneming in die verskillende Sinodes "belyn en sinchroniseer" (NGK 2007A:103-105). Hoewel die bewoording nie voorbeelde uitspel nie, kom dit daarop neer dat hierdie prosesse in oorleg met mekaar moet verloop.

As ondervoorsitter neem ek tydens die sessie oor kerkhereniging die voorsitterstoel in. My indruk is dat die Sinode nie die opsomming van die Moderamen van Achterberg II of Achterberg II self afwys nie, maar emosionele steun gee aan Hartenbos-2004. Saam met die ondersteuning van die inisiatiewe van die Moderamen wil die vergadering nie verdere voorlopige besluite oor die saak neem nie omdat die kommentaar uit die gemeentes in elke geval weer 'n debat en besluite gaan vra. Wat die agenda van die Sinode betref, sou die saak weer voorkom.

Dit gaan dus nie daarom dat die Sinode die Moderamen by implikasie van 'n dislojaliteit teenoor die leiers van hierdie proses in die familie beskuldig nie (vgl die stelling van Botha & Naudé 2010:141). Inteendeel, die inisiatiewe van die Moderamen sedert Esselenpark word gesteun.

Boonop verskil die opsomming en Achterberg II nie veel nie. Die Moderamen probeer net om alles meer bevatlik en verteerbaar te maak. 'n Voorbeeld is die voorstel oor Belhar wat korter, saakliker en duideliker gemaak word.

Op Achterberg se geredigeerde stukke is gewys. Die opsomming bevestig dat Belhar nie 'n voorwaarde vir kerkhereniging is nie. In die nuwe kerkverband sal Belhar in die belydenisgrondslag ingesluit word "sonder om enige iemand te forseer om (dit)... te aanvaar of daarvan afstand te doen". Die waarde daarvan as 'n belydenis vir die VGKSA word gerespekteer (NGK 2007H:23). Die Moderamen verwoord dus eenvoudig -deur die woordkronkels van Achterberg II heen - vir Hartenbos en 'n breë sentiment in die NG Kerk. In die opname onder die gemeentes in 20072008 lê hierdie voorwaardelike aanvaarding van Belhar (Hartenbos-2004) sonder die onverstaanbare byvoeging of moontlikheid dat ons wat dit nie aanvaar nie, saamwerk aan die volle aanvaarding daarvan, vierde. Die voorstel het volgens die ontleders sterk steun (Pieterse & Steyn 2008:6).

Wat meer is, Hartenbos-2004 se voorstel oor Belhar word sonder enige wroeging en naas Achterberg II deur Boksburg-2007 vir kommentaar aan gemeentes voorgelê. Ek was in die voorsitterstoel en het saam met baie ander in die NG Kerk gedink dat hierdie bepaling beteken dat voor- sowel as teenstanders van Belhar dit maar openlik kan sê. Wat vir die een geld, geld mos vir die ander.

Daar was krake, maar ons het kans gesien vir die eenheidsproses. Boonop het ons onsself in die onlangse verlede by herhaling en formeel daartoe verbind om die pad saam met geduld te loop. 'n Verbintenis wat aan jou die vrymoedigheid gee om jou oortuigings uit te spreek.

6.10 DIE HUWELIK NET VIR EEN MAN EN EEN VROU

Boksburg-2007 is al getipeer as die sinode oor homoseksualiteit. Die feit dat die twee groepe in die Taakspan oor die NG Kerk en homoseksualiteit nie tot gemeenskaplike voorstelle kon kom nie, sou die bal in die hande van die Sinode plaas. Die "grote" vergadering moes te midde van skerp verskille nou 'n uitweg vind in hierdie saak wat sedert 1998 (NGK 1998H:551-552) oorstaan. Om 'n besluit tot die volgende Algemene Sinode uit te stel kon net om een rede gebeur: die verskille wat die Taakspan verhinder om tot 'n eenheidstandpunt te kom, is ook in die Algemene Sinode aanwesig én hierdie vergadering sien nie kans om die saak deur te praat nie.

Ek was oortuig dat my voorskou in Volksblad oor die saak nie verkeerd was nie. Daar was 'n breë wil in die vergadering dat die huwelik net vir een man en een vrou is en dat praktiese homoseksuele verhoudinge nie Bybels aanvaarbaar is nie. Dit sou net nie aanvaarbaar wees vir verantwoordelike meningsvormers dat die emosies in die openbare debat en 'n onvermoë om sy eie oortuigings in 'n besluit te verwoord, die vergadering weerhou van 'n besluit nie. As 'n bevoegde, gerespekteerde kerkvergadering moes die Algemene Sinode nou eenvoudig tot 'n Bybelsverantwoorde besluit kom. Christus bly immers die Hoof van die kerk en Christusgesag is Woordgesag (Jonker 1965:12).

Die NG Kerk het in 2007 in 'n nuwe era aangekom, maar die Bybelse norm dat die huwelik net vir een man en en een vrou is, 'n saak wat soos 'n konsekwente lyn deur die besluite van die Algemene Sinode loop, moes gehandhaaf word.

Die saak kom tydens die laatmiddag- en aandsessie van Woensdag 6 Junie 2007 aan die orde. Die verslae word ingelei en 'n debat volg. Sake vorder egter oënskynlik nie. Teen die einde van die sessie kom daar 'n voorstel wat die prosedure sou wysig.

Professor Malan Nel formuleer dit so dat die Sinode erken dat die Taakspan uit persone met "baie sterk uiteenlopende standpunte" bestaan en dat daar 'n "wye behoefte" in die vergadering is dat daar meer middelgrond tussen die twee standpunte moet wees. 'n Kommissie wat uit die moderators van die tien sinodes bestaan, moet die voorstelle oor die saak wat voor die vergadering dien "bestudeer met die oog op die versoening van idees en die bestuur van diversiteit". Hierdie Kommissie moet later in die vergadering verslag lewer. Ds Nelis van Rensburg as 'n gespreksleier van buite die Kommissie en professor Danie du Toit as 'n voormalige dosent in Etiek moet saam met die moderators vergader (NGK 2007H:106-107).

Ek was nog die voorsitter van die Vrystaatse Moderamen en die laaste Vrystaatse Sinode ('n handige "gereformeerde" term wat Frits Gaum vir Kerkbode ontwikkel het) en is ook by die Kommissie betrek. Coenie was in die voorsitterstoel van die sinodevergadering. Ons sou tot laat daardie aand/nag beitel aan 'n voorstel. Die Sinode sou die saak in die tweede oggendsessie van Donderdag 7 Junie hanteer.

Die "lot" het op doktor Nelus Niemandt (Sinode Hoëveld) wat ons nuwe assessor was, as die voorsteller, en myself as die sekondant geval om die voorstel aan die Sinode voor te lê. Dit het bestaan uit agt punte.

6.11 'n AGTPUNTBESLUIT

Na 'n korterige bespreking het doktor Johan (Tokkie) Ernst wat net daarna as die nuwe aktuarius gekies is, 'n ordevoorstel gemaak dat die vergadering stem. Dit is aanvaar. Die uitslag van die stemming oor ons mosie was reeds vooraf aanvoelbaar in die Sinode: die voorstel is aanvaar. Die atmosfeer onder die sinodegangers was ernstig en plegtig. Byna asof ons nie nog 'n storm rondom hierdie kwessie kan trotseer nie. Daarmee het die NG Kerk 'n nuwe standpunt oor homoseksualiteit gehad en onbepaald van die saak afgestap. Dit was 'n moeisame pad van meer as twee jaar49 om tot die besluit te kom en daar was 'n onuitgesproke, onderlinge gevoel dat ons nou eers klaar is met die saak.

As vertrekpunt het Boksburg-2007 natuurlik die Bybel geneem. Bybelse "waardes" moet betekenisvol in die huidige situasie van toepassing gemaak word. In die lig van die feit dat alle mense na die beeld van God geskep is, in Christus verlos word en dat die Gees op alle gelowiges uitgestort is, aanvaar die Sinode die menswaardigheid van alle mense. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en word op grond van hulle "doop en geloof" lidmate van die kerk.

Boksburg-2007 bevestig dat die huwelik, Bybels beskou, slegs 'n verbintenis tussen een man en een vrou kan wees en dat sowel hetero- as homoseksuele promiskuïteit afgekeur word. Homoseksuele huwelike per se is ook nie 'n aanvaarbare alternatief vir die huwelik nie. Gelegitimeerde homoseksuele persone kan tot die predikantsamp toegelaat word as hulle die selibaat beoefen. Kerkrade het die diskresie om die verskille oor homoseksualiteit in die gemeente met Christelike liefde te hanteer (NGK 2007H:110).

Ons het so gedink, maar was toe nie klaar met die saak nie. Daarvoor sou reaksie in die openbare media en later, uit die gemeentes, sorg. Die lot sou ook op my val om die besluit van Boksburg-2007 oor homoseksualiteit te interpreteer en te verdedig. Boksburg-2007 en homoseksualiteit het vuur getrek en ek moes teen die spervuur in!

Vroeër, tydens eerste oggendsessie dié Donderdag, word ek in die eerste rondte van die stemmery met 'n volstrekte meerderheid as moderator verkies (NGK 2007H:109; Volksblad 20:06:2007). Die volgende twee dae word 'n besige twee dae...

Om te sê dat Boksburg-2007 die Sinode oor homoseksualiteit was, sou tot 'n groot mate tiperend van my eie program word. Boksburg-2007 se standpunt oor homoseksualitet was voorbladnuus (Die Burger 08:06:2007)50. Daar was ook reaksie van verskeie persone op die navraag van joernaliste: onder andere van André Bartlett en Jordaan Potgieter. Beide het iets van hulle eie standpunte in die besluit van agt punte herken. Reeds daardie aand het reaksies van 'n uiteenlopende aard my laat besef: ons gaan nie dadelik van hierdie saak afgestap kry nie. Die volgende oggend het ek die moderators van die tien sinodes oor ontbyt gepols. Ek onderneem om by die aanvang van die Sinode die besluit van gister te probeer verduidelik. Ons skuld dit aan 'n nuushonger publiek en ons eie lidmate "daar buite" wat nie op die vergadering teenwoordig is nie. Die moderators het saam gestem. Ons skriba, Kobus Gerber, het die verduideliking in die notule opgeneem (NGK 2007H: 128). Omdat die besluit nie alles oor alles van die NG Kerk en homoseksualitet sê nie en omdat sinodegangers met uiteenlopende standpunte hulle met verskillende dele van die besluit kon vereenselwig, was die verduideliking 'n bietjie moeisaam. Die nuutverkose voorsittertjie moet dinge nie nou kompliseer nie. Ons is na die besluit van gister in die stilte ná die storm.

Teenoor, moontlik, André Bartlett het ek verduidelik dat die laaste punt van die besluit te wete die versoek dat kerkrade die saak in Christelike liefde hanteer, nie los van die ander punte gesien kan word nie. Kerkrade is aan die hele besluit gebonde en kan nie teen die huwelik as net heteroseksueel of die predikantsamp as net vir homoseksuele persone wat die selibaat beoefen, besluit nie. In gevalle wat nie in die besluit gedek word nie, het die kerkrade nog altyd die Woord en ons belydenisskrifte as rigsnoer. Tugsake handel oor sake van 'n openbare aanstootlike aard, en die oortreding van hierdie soort sake moet in die lig van al agt punte van die besluit bepaal en hanteer word (NGK 2004KO:24; Sadler 1979:55-58).

Na die verduideliking het ek bespreking in die sinode toegelaat (NGK 2007N:129). Die lug moes gesuiwer word. Ook vir die 299 teenoor 66 wat die besluit geneem en nou dalk hond se gedagtes gehad het!

Aan die einde van die gesprek het die Algemene Sinode van 2007 besluit dat die besluit van agt punte as 'n eenheid gelees en verstaan moet word. Die voorstellers was Smuts en Johan van Rensburg: 'n predikant van Hartenbos en 'n dosent van Bloemfontein (NGK 2007N:129)

Hierna het die storm bedaar. Ek moes egter nog vrae van die media, van indiwiduele lidmate en uit baie gemeentes wat ek besoek het, beantwoord. Aan ernstig bekommerde lidmate oor 'n onBybelse koerswysiging oor homoseksualiteit by die Algemene Sinode was my antwoord telkens: die huwelik is net vir een man en een vrou én, die houding in die NG Kerk dat voorhuwelikse seks uit is, is nog nooit weerspreek nie. Dus... (Woord en Daad 2010:30-32).

Dat sinodebesluite verduidelik moes word, selfs aan lede van die bepaalde sinode, het die Algemene Sinode se geloofwaardigheid as 'n relatief op die punt af en eenvoudige kerkvergadering van Bybelgelowiges en nie 'n parlement van opportunistiese politici nie, nie bevorder nie. Ons was in 'n nuwe era wat nuwe besluite én 'n hersiening van ou besluite vra, maar steeds besluite wat tegelykertyd verankerd en eietyds is.

6.12 IN 'N WARM STOEL

In die aanloop tot Boksburg-2007 is daar ook aan my moontlike verkiesing as moderator in die media aandag gegee. Een of twee vroulike briefskrywers met wie ek êrens paadjies gekruis het, het hulle besware ver gaan haal deur na my te verwys as 'n tipiese Oom Koot Vorster, die NGK-moderator van 1970 tot 1974 (Langner 2007:133-135). Ek was in hulle oë 'n verwerplike, konserwatiewe, kerklike diktator (Volksblad 15:06:2007).

Na my verkiesing het joernaliste egter aan my kant van die saak of my persoonlike standpunte en voornemens aandag gegee. Coenie het my in 'n onderhoud bestempel as 'n spanspeler en iemand van wie jy weet waar jy met hom staan (Rapport 10:06:2007). Neels Jackson het hierby aangesluit met die stelling dat ek as hoofleier van Die Voortrekkers sekerlik glo dat 'n Voortrekker se woord sy eer is en dat ek kerklike sake daarom met integriteit of geloofwaardigheid sal wil hanteer (Beeld 20:06:2007).

Ekself het verduidelik dat ek "behoudend" probeer wees as dit gaan om die handhawing van Bybelse konstantes of uitgangspunte, maar eietyds, vernuwend of "oop" as dit kom by die toepassing daarvan. Hierdie oortuiging is - gelukkig bestaan daar voorbeelde! - deur skrywers uit my optredes en standpunte van die verlede geillustreer.

Die voorbeeld van die erediens is ook in van die onderhoude genoem. Vir my is die vaste kern van die erediens 'n ontmoeting tussen die Here en sy gemeente waarin sy Woord sentraal staan. Soos in ons verhouding met die Here en in ons verlossing, praat en verlos Hy terwyl ons uit dankbaarheid antwoord met geloof en die lewe as lofoffer. As ons aan hierdie konstante vir die erediens vashou, kan die eietydse, kulturele inkleding daarvan varieer en verskil.

My uitgesproke ywer vir die uitbouing van die gereformeerde identiteit van die NG Kerk is wyd genoem. Ek kon my, te midde van 'n diverse NG Kerk, heeltemal vind in die verslag voor Boksburg-2007 oor die gereformeerde identiteit van die NG Kerk: dit gaan oor 'n saambindende kern sonder om in alles eenders of eenvormig te wees. Om 'n eenheid in die kern van die geloof te midde van 'n meer periferiese diversiteit.

Die eietydse styl van Die Voortrekkers is ook in die koerantonderhoude aangespreek. Ek het uitgewys dat Die Voortrekkers ook swart lede het omdat Afrikanerwees 'n kultuur- en nie 'n rasseding is nie. Net soos jou geloofskwalifikasie om aan 'n sekere kerk te behoort, nie 'n kultuur- of rasseding is nie.

Ek het erken dat die uitvoering van my taak as voorsitter van die Moderamen van die Algemene Sinode van die NG Kerk nie so eenvoudig sal wees soos die dinge wat ek hier sê of formuleer nie. Dat my termyn as moderator een van troebel waters en 'n verskil van mening kan wees. Dat ek sopas op 'n warm stoel gaan sit het.

Warm, nie tussen my en die byna gesiglose "volstrekte" meerderheid van die Algemene Sinode nie, maar tussen my en mense iewers in die NG Kerk én wyer. Ek is egter nie van plan om die taak as moderator alleen aan te pak nie, maar saam en in oorleg met ander. Maak nie saak waar in die NG Kerk hulle hulle bevind nie.

Ek wou so oop as moontlik vir lidmate wees en by soveel as moontlik gemeentes uitkom. In my geval, soos met Nelson Mandela in 1994, was huisbesoek steeds 'n wenresep.

6.13 GEREFORMEERDE IDENTITEIT

Die verslag oor die gereformeerde identiteit van die NG Kerk het nie veel bespreking uitgelok nie. Dit is sondermeer as 'n "riglyn" vir die NG Kerk aanvaar. Die Algemene Sinode van 2007 het die sinodes ook versoek om die stuk aan kerkrade deur te stuur vir 'n "oriëntasie van die plaaslike bediening"(NGK 2007H:89).

Die gebrek aan bespreking kan meer as een rede hê. Dit mag wees dat die steun vir die verslag so breed geloop het, dat daar nie eintlik kritiek was nie. Dit mag egter ook wees dat die verslag wortels hanteer het wat vir die deursnee afgevaardigde na die Algemene Sinode te hoog opgehang en daarby nie omstrede was nie.

Die gebrek aan bespreking het moontlik ook gedui op 'n gebrek aan intense aandag vir die verslag, terwyl ek daarvan oortuig is dat die inhoud rigtinggewend kan wees vir die NG Kerk in 'n nuwe era of fase van verandering. Begrippe soos 'n "samestellende kern" te midde van "verskille" of 'n "diversiteit" is gebruik wat die NG Kerk in sy hantering van sake soos "ingrypende meningsverskil" (Hartenbos-2004) handig te pas kon kom.

Die ekumene van die NG Kerk op algemene sinodale vlak beleef hier in 2007 'n bloeityd. 'n Situasie waarvan die Algemene Sinode dankbaar kennis neem. Ten opsigte van wêreldwye ekumeniese liggame besluit Boksburg-2007 om by die WRK aansoek te doen om lid te word. Dieselfde vergadering ondersteun die voorstel dat die WBGK en GER een word. Die NG Kerk openbaar hiermee 'n nuwe ekumeniese aanslag in die een en twintigste eeu. Nouer of meer intieme en kleiner gereformeerde ekumeniese liggame het skynbaar van hulle aantreklikheid vir die NG Kerk verloor, hoewel die kerk hulle nie wou versaak nie. Daarby doen die Algemene Sinode aansoek om lidmaatskap van die All Africa Conference of Churches. Wat indiwiduele kerke betref, keur die Algemene Sinode goed dat omskrewe bilaterale verhoudinge met vier kerke van min of meer gereformeerde oortuiging aangegaan word. Ten spyte van 'n ontspanne en meer rekbare ekumeniese ingesteldheid, handhaaf die NG Kerk steeds 'n voorkeur vir gereformeerde kerke (NGK 2007H:105-106).

In sy reaksie op 'n verslag oor die betekenis van die doop en 'n moontlike doopviering bevestig die Algemene Sinode van 2007 dat die doop 'n eenmalige aksie is. Hy gee egter toe dat rituele en simbole 'n kragtige betekenis kan hê en laat dit daarom aan kerkrade en gemeentes oor om rituele vir die viering van hulle doop deur lidmate te ontwikkel. Die Diensgroep Gemeente-ontwikkeling moet praktiese voorstelle ontwikkel vir die doop, doopviering, kindernagmaal en kategese. Die Diensgroep moet hierin beide die tradisie van die NG Kerk en "ons praktiese bedieningskonteks" in ag neem (NGK 2007H:99). Die NG Kerk is 'n aanpassende gereformeerde kerk - as 'n konstante - in 'n nuwe era.

Oor kerklike tribunale verwys die Algemene Sinode die verslag vir kommentaar na die Sinodes, die NG Kerkfamilie en die lede van die TKR. Die ATR moet ook twee sinodes vind wat sulke strukture kan beproef (NGK 2007H:108). Die Sinode val dus nie onvoorwaardelik vir 'n verjuridisering van die kerklike tug nie.

6.14 ROEPINGSVERKLARING

Soos sy twee voorafgaande sinodes sou die Algemene Sinode van 2007 eindig met 'n roepingsverklaring. Hierin verwoord die vergadering sy voorneme om deur 'n "leerbare gees" die wil van God te leer ken en uit te leef, om in liefde na mekaar te luister en in vertroue in mekaar te groei, om met deernis met ander saam te leef en om met oorgawe diensbaar te wees aan die wêreld (NGK 2007H:129).

Soos die vorige twee sou hierdie verklaring ook nie later omsit in vermeldingswaardige dade nie. Tipies van die NG-tradisie was dit egter gepasde en gevleuelde woorde. By 'n kort afsluitingseremonie op die Sinode moes ek as nuwe voorsitter dit voordra.

Die NG Kerk en die Algemene Sinode het onherroeplik 'n nuwe era betree. Deel van hierdie era was meningsverskille oor sensitiewe sake, die styl van sinodevergaderings en 'n verwatering van die gesag van die Algemene Sinode by die gewone kerkpubliek. In my gesprekke met baie gemeentes was dit hoorbaar en selfs tasbaar. Daartoe het die besluit en die kommunikasie van die besluit van Boksburg-2007 oor homoseksualiteit ook sy bydrae gelewer.

 

HOOFSTUK 7

DIE BRANDERS MAAL...

Die woelige, warm voorsitterstoel waarop ek by die Algemene Sinode van 2007 beland het51, sou vanuit 'n interne en eksterne oogpunt gestimuleer word. 'n Woeligheid wat om verskeie redes vandag eie is aan die NG Kerk.

Ek het reeds verwys na die persepsie by lede van die ANC-regering dat die NG Kerk een van die groot instansies is wat die Afrikaner verteenwoordig. Hierdie persepsie word in 'n wye kring gedeel. Soveel so dat NG-standpunte en -gebeure eenvoudig nie uit die nuusmedia bly nie. Ook nie die nuwe elektroniese media waarop indiwidue vrylik hulle -dikwels rou en ongekontroleerde - indrukke en menings weergee nie.

Daarby sleep die NG Kerk 'n oorgelewerde belangrikheid met hom saam wat dateer uit sy rol in apartheid-Suid-Afrika. Bespiegelinge in die openbare media dat lidmaatgetalle van die NG Kerk daal, dat hy verloor aan invloed, relevansie en belangrikheid én boonop worstel met interne verskille, verminder skynbaar nie aan dié persepsie nie. Inteendeel, dit is nuus...

Die NG Kerk het aangekom in 'n nuwe era, maar bly in die branding van menings en indrukke. Selfs die bedanking as NG-lidmaat van die Afrikaanse digter en Psalmomdigter Lina Spies, haal die hoofopskrifte van sekere nuusmedia (Volksblad 01:03:2013).

7.1 OPENBARE GETUIENIS

Een van die take van die Moderamen van die Algemene Sinode wat hy homself ten doel stel, is die begrip "openbare getuienis", skakeling met die owerheid, die parlement en ander politieke partye (vgl NGK 2011KO:12 art 43.1.3). Na die Parlementêre Lessenaar van die NG Kerk is reeds verwys. Dit sou voortgesit word in my termyn as moderator.

Daarby het ons formeel 'n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Polisie onderteken met die oog op die voorkoming van misdaad - sover as wat die kerk hierin 'n rol kan speel. Dit het saamgeval met gesprekke saam met ander kerke met instellings van die owerheid oor die voorkoming van misdaad. Voor die plaaslike of munisipale (2011) en algemene (2009) verkiesings het ons met soveel as moontlik plolitieke partye gesprek gevoer. Die doel was om vanuit 'n kerklike hoek die mening van die kerk onder hulle aandag te bring (NGK 2011A:209). Ek was dikwels verantwoordelik vir die opstel van konsepverklarings aan die media. By twee geleenthede het die voorsitters van respektiewelik die algemene kerkvergadering en nasionale sinode van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika my versoek om die konsep te formuleer van wat 'n verklaring van ons drie geword het.

Gesprekke is met onderwysliggame soos Fedsas (ek het voor die Algemene Sinode van 2011 met hulle nasionale raad oor die taak van die NG Kerk in onderwys gepraat) en die SAOU, 'n vakbond soos Solidariteit en die "openbare uitsaaier" gevoer.

Een van hierdie gesprekke was met eerwaarde Frank Chikane wat op daardie stadium aan die kantoor van die president verbonde was. Dit was oor die moontlike vervolging van Oud-minister Adriaan Vlok en voormalige Polisiekommissaris generaal Johan van der Merwe oor hulle aandeel aan beweerde wantoestande in die vorige bedeling. Vervolging is eventueel laat vaar (NGK 2011A:208). 'n Aantal moderatuurslede is by die gesprek betrek. Ek was dankbaar dat ons kon help en solidariteit toon met hierdie twee lidmate in die hantering van die saak.

Juis met die oog op verkiesings wat periodiek in Suid-Afrika plaasvind, het die ANC in 2009 besluit op 'n voeleruitsteekaksie na Afrikaners. 'n Kontakgeleentheid met die NG Kerk was ook op die agenda (vgl NGK 2011A:208-209).

Ons het in die ANC se hoofkwartier "Luthulihuis" in Johannesburg ontmoet. Vanaf die ANC was daar die sekretaris-generaal Gwedé Mantasche vergesél deur enkele sleutelfigure. Aan ons kant was dit die Moderatuur en enkele ander. Die voorkoming van misdaad, gebrekkige dienslewering deur die regering, onderwys en die onafhanklikheid van die regbank gebaseer op die grondwet van 1996 was op die agenda. Ons was goed voorberei en het ingelei.

Die reaksie van die ANC was die van politieke partye voor verkiesings. Hulle het die probleme nie ontken of daarmee verskil nie. Inteendeel hulle was oënskynlik "oop" vir oortuiging en het ons hulp en samewerking gevra. Later sou ons dieselfde reaksie van president Zuma by 'n dinee in die presidensie in Pretoria kry. Dit sou 'n patroon in die gesprekke met die ANC-regering waarby ek betrek is, word. "You have got good arguments and I will take it forward." Niks het egter gebeur nie.

Agterna moes Gwedé en ek ons gesprek verduidelik op 'n nuuskonferensie wat wye belangstelling van die TV en koerante geniet het.

Ek het dit weer eerstehands ervaar, as dit moet spreek "jy" in tale en ek in Engels!

Geen terugvoer van die ANC op ons gesprek is sedertdien ontvang nie. Ek het besluit dat ek nie sommer weer Gauteng toe ry (400 km plus) vir sulke voorspelbare dooiepunte nie. Daar moet 'n lokflits wees dat dit die moeite werd kan wees.

Ek het van die begin af probeer om die Moderatuur te betrek wanneer daar van my 'n mening oor 'n "openbare" of kerkverwante saak gevra word. Vir my is deelnemende kerkregering of die gesamentlike hantering van kerklike verantwoordelikhede die goeie, gereformeerde uitgangspunt. Ons is anti-hiërargies (Strauss 2010:51-56). In praktyk was dit egter nie altyd moontlik nie.

My oortuiging dat my voorouers nie ape was nie (Juig Jul/Aug 2010:22) was weergegee in 'n onderhoud met my waarin ek, byna terloops, óók oor ewolusie uitgevra is. My kort antwoord oor ewolusie was deel van 'n breër argument gemik op Jan Publiek en nie van 'n wetenskaplike diskoers nie. Ek was en is oortuig dat die Moderamen se stuk oor Kerk, wetenskap en ewolusie waarin hy sê dat hy die "geloofsuitspraak" maak dat God die skepper van die hemel en die aarde (heelal) is en dat alles wat bestaan nie "toevallig of spontaan" gebeur het nie, in dieselfde rigting as my standpunt loop. God het oorspronklik geskape: ook die mens... (NGK 2011A:212).

Uit hulle "taktvolle" reaksies moes ek egter aflei dat sommige lede van die Moderamen anders oor die saak voel. Die reaksie op my standpunt het wyd - binne en buite Suid-Afrika - uitgekring en die woelige, warm stoel waarin ek sit, beklemtoon. Ek het meer as 600 e-posse van steun ontvang. Daar was ook die bevrediging dat mense ag gee op wat jy sê. Saam met die warm stoel kom die geleentheid om die "goeie saak" te bevorder.

So moes ek by verskeie geleenthede ook verduidelik wat die NG Kerk se standpunt oor saamwoon en homoseksualiteit is (Woord en Daad 2010:30-32: NGK 2011A:212). Die NG Kerk was in die branding en sy ampsdraers met hom. Terwyl daar winde aan die seile van ons geloof-en lewensoortuigings ruk, het talle Bybelgelowiges my en die moderators van die sinodes52 ondersteun in ons geloof in die liggaamlike opstanding van die Here Jesus Christus (vgl Lukas 24:37-40; Johannes 2:21-22; I Korintiërs 15:3-8).

Vanaf die kant van talle Hervormers en Doppers sou ek ook die effek van volle kerklike verhoudinge ervaar. Soos vir hulle, is Woord en belydenis vir my belangrik. Dit was by die GKSA se Nasionale Sinode van 2008 in Potchefstroom waar ek by hulle gepleit het om daardie skat van 'n troosboek, die Heidelbergse Kategismus, vir ons te vertroetel en te bewaar.

7.2 UITSLAG VAN 'N KONSULTASIEPROSES

In opdrag van die Algemene Sinode van 2007 en onder leiding van 'n taakspan by die ASM het die sinodes aan die einde van 2007 'n konsultasieproses oor eenheid in die NG Kerkfamilie in NG-gemeentes uitgevoer. Dit was 'n kwalitatiewe proses waarin tendense blootgelê is. Daar is nie gestem nie, maar gesoek na kommentaar uit die gemeentes. Soos reeds vermeld, is die stukke van die Hartenbos-2004 en Achterberg II voorgelê.

Opsommenderwys was die reaksie:

...die grootste deel van die kerkverband het nie probleme met kerkhereniging as sodanig nie, maar wel met die Belydenis van Belhar.

Tydens sy vergadering in Maart 2008 het die Moderamen die gemeentes laat weet dat dat hy kennis neem van die weerstand by "baie" lidmate teen Belhar as belydenis, maar ook van die steun daarvoor onder "sommige predikante en lidmate van die NG Kerk". Die toekomstige hantering van Belhar moet volgens die Moderamen vir beide diegene vír en téén voorsiening maak (NGK 2011A:239).

Die wetenskaplike ontleders van die resultate van die konsultasieproses professor Hennie Pieterse en doktor Nelius Steyn, het verduidelik dat hoewel die ondersoek kwalitatief en nie kwantitatief was nie, sterk tendense in die antwoorde dui op wyd verspreide oortuigings in die gemeentes. Die sterkste tendens was steun vir spontane samewerking en gedeelde verantwoordelikhede (80 keer voorgekom) en die tweede afkeur vir Belhar as uitsluitend en verdelend (77 keer). Die derde tendens was negatiwiteit oor kerkhereniging wat verder terug lê (51 keer). Pieterse en Steyn (2008:6) het nie doekies omgedraai nie: vir baie lidmate is Belhar nie as 'n belydenis aanvaarbaar nie. 'n Gekwalifiseerde eenheid in die NG Kerkfamilie geniet egter hulle steun (50 keer, 2008:6).

In sy reaksie het die Moderamen eenvoudig gepraat van "die meerderheid lidmate en gemeentes" wat Belhar nie as 'n belydenis aanvaar nie. Die wyse waarop daar tot hierdie koel en kalm waarneming gekom is, was byna verspot.

Ben du Toit kon nie aanvaar dat ons hier met die "oorgrote" of 'n "groot" meerderheid te make het nie. Op hierdie punt het hy vasgebyt. My indruk was dat hy glo dat so 'n gevolgtrekking Belhar se aanvaarding deur die gemeentes negatief sou beïnvloed. Op daardie stadium was die twee ontleders nie meer ter vergadering nie. Hulle waarnemings was wel beskikbaar. Ons het kop gegee omdat dit nie 'n groot saak was nie. Ek was egter ook daarvan bewus dat so 'n "understatement" ons geloofwaardigheid in gemeentes kon knou.

Op inisiatief van die Moderamen het die moderature van die sinodes op 11 en 12 Junie saam met hom vergader om die eenheidsproses in oënskou te neem. Op grond van die besluite van die Algemene Sinode van 2007 en die uitslag van die konsultasieproses is 'n reeks besluite geneem wat as voorstelle sou dien in die verdere onderhandelinge met die ander drie kerke van die familie.

Oor die belydenisgrondslag van 'n nuwe kerkverband is dus besluit dat die Belydenis van Belhar nie vir die meerderheid van die lidmate en gemeentes van die NG Kerk as 'n vierde belydenisskrif (naas die Drie Formuliere van Eenheid) aanvaarbaar is nie en dat diegene vir én teen in so 'n grondslag tegemoet gekom moet word. Twee modelle naamlik 'n bykomende en vervangende algemene sinode word as voorstelle na die onderhandelingstafel geneem. Die uitslag van hierdie onderhandelings met die ander drie kerke sal weer aan die gemeentes voorgelê word

Hierdie besluite moes nou aan die ander drie kerke van die familie oorgedra en by die onderhandelings in spel geplaas word. Wat die NGKA en die RCA betref, kon ons dit gemaklik op 'n telefoonvergadering aan hulle moderature oordra (NGK 2011A:240). My indruk was dat hulle kennis geneem en verstaan het. Dit is voorstelle vir verdere onderhandelinge. Ons het ook by Hartenbos-2004 gesê dat ons hierdie pad nie sonder ons gemeentes wil of kan aanpak nie. Ons wil nie na die tyd met meer kerke sit as voor kerkhereniging nie. Hier is 'n proses wat ons volgens ons eie verklaarde voornemens moet uitvoer as ons ons geloofwaardigheid en die vertroue van ons lidmate wil behou. Ons neem die insette uit gemeentes in ag en sal dit nie geïgnoreer nie. Insette moet hanteer word, dit is inherent deel van die proses wat ons gekies het, en geen rede om dáárom alles te stop nie53. Die oordrag van die besonderhede van hierdie rondte aan die VGKSA was egter 'n perd van 'n ander kleur. Ons het daarvoor reeds 'n aanvoeling ontwikkel.

7.3 DIE VGKSA STEL 'N MORATORIUM IN

Op 25 Junie het ons dit persoonlik aan die Moderatuur van die Algemene Sinode van die VGKSA tydens sy vergadering op Hammanskraal naby Pretoria gaan oordra. Ons wou dit toelig én verduidelik indien nodig (NGK 2011A:240). Hulle het ons meestal stilswyend of byna passief aangehoor en die minimum vrae gevra.

Op ons terugtog het ons onder mekaar bespiegel dat hulle alles begryp en nie negatief is nie. Ek was een wat gemeen het dat ek en Allan Boesak, hulle ondervoorsitter, al beter en beter kommunikeer en dat hy ons "Westerse onderhandelingsmetodes" aanvaarbaar vind. Dat Achterberg I en II aan ons 'n platvorm vir so 'n onderhandelingsproses bied.

Ons was egter van twee sake onbewus. Die eerste is dat die VGKSA se Moderatuur by dié vergadering reeds in sy verslag aan hulle Algemene Sinode aanbeveel het of gaan aanbeveel (dit was voor of na ons besoek) dat die aanvaarding van Belhar as belydenis wat hulle betref weer 'n voorwaarde vir kerkhereniging word. Nie net vir die feitelike vereniging nie, maar ook die deelname aan die onderhandelingsproses. Vir hulle moes Hartenbos-2004 en Esselenpark (met of sonder die NGKA en RCA) ongewysigd vas staan (VGKSA 2008:179). As ons gemeentes se insette verskil en ons dit in ag neem, verskuif ons die doelpale54. Hulle staan by Esselenpark se verklaring dat die aanvaarding van Belhar nie nou 'n voorwaarde is nie, maar dat daar gewerk word vir die aanvaarding daarvan. Die instemming van ons mense by Esselenpark met die voorneme om die kerk te lei om Belhar te aanvaar, was hulle verstaan van 'n doelpaal, terwyl dit glad nie in ons sinodebesluite voorkom nie. Ek het agterna ontdek dat die finale verklaring nie woord vir woord deur die hele konferensie van Esselenpark hanteer is nie.

Hierdie voorgenome aanbevelings verklaar hulle stramheid in die bespreking tydens ons besoek. Hulle aanbevelings was in 'n gevorderde stadium van finalisering en ons moes hulle nie nou ontspoor nie. Hulle was bereid om 'n moratorium op verdere gesprek te plaas bloot op grond van berigte oor die uitslag van ons konsultasieproses. Indien hulle ons ernstig as vennote met 'n eie inset in die herenigingsproses wou neem, sou hulle eers sake met ons persoonlik deurgepraat en hulle besware gelug het. Ons het dan in 2006 by Bloemfontein ooreengekom oor 'n gesamentlike proses. Bowendien het hulle nou self die Belhardoelwit geskuif. Indien ons - en ek betwyfel dit - die doelpale geskuif het, was dit nie sonder om hulle persoonlik daarvan te verwittig nie. Hulle was egter nie bereid om hulle voornemens en aanbevelings wat die pale skuif op hierdie stadium met ons te deel of te bespreek nie.

Die tweede saak waarvan ons onbewus was, was hulle argwaan teenoor my as voorsitter van die NG Kerk se Moderamen. Dit is aan my bevestig deur iemand wat Boesak55 elders self hieroor aangehoor het. Hierdie argwaan spruit waarskynlik uit my jarelange en bekende weerstand teen Belhar as belydenis. Die uitstaande punt is 'n artikel van my oor Belydenis, kerkverband en Belhar wat in 2005 in die Ned Geref Teologiese Tydskrif verskyn het (2005:560-575). Dit was ook bekend dat ek en Coenie saamgestem het oor Hartenbos-2004 se opsionele opsie. 'n Opsie van my eie Algemene Sinode wat my vry gelaat het om my mening oor Belhar te gee.

Daarby het ek nie geswyg as ek die besluite van die NG Kerk moes verdedig of motiveer nie. Ek kon die VGKSA se puntjie net nie kleinkry nie: Belhar is nie nou 'n voorwaarde vir eenheid in die NG Kerkfamilie nie, maar later...

In die woorde van die Algemene Sinode van die VGKSA van 2008: Belhar moet op niemand afgedwing word nie. Tog behoort dit "willingly and gratefully" aanvaar te word deur hulle wat in die greep van die waarheid daarvan verkeer (VGKSA 2008:196). Of, ons dwing niemand om Belhar te aanvaar nie, maar dat iemand dit nié aanvaar nie, is vir ons heeltemal onaanvaarbaar.

Aan die begin van Oktober 2008 het die Algemene Sinode van die VGKSA met my as getuie hierdie aanbevelings van hulle Uitvoerende Komitee aanvaar. Gesprekke met die NG Kerk oor eenheid op 'n "national level" is opgeskort. Presies daar waar die reaksies uit ons gemeentes gemonitor word. Toekomstige gesprekke kon alleen plaasvind op basis van die aanvaarding van die Belydenis van Belhar. So nie, moet die WBGK fasiliteer. Dieselfde geld vir die NGKA en RCA (VGKSA 2008:196-197).

Ons Moderatuur wat daar was het met spyt hierop gereageer en die ultimatumkarakter van die besluit afgewys. Vir die NG Kerk, so het ons vervolg, is die opskorting van enige gesprek met enigiemand oor wat ookal nie die Christelike of Evangeliese weg nie. Ons het self die WBGK "enkele weke" gelede gevra om die gesprek in die NG Kerkfamilie te bemiddel en verwelkom dus dieselfde versoek deur die VGKSA. Ons bly verbind tot eenheid tussen die vier kerke van die familie naamlik die NG Kerk, VGKSA, NGKA en RCA. Die NG Kerk bly oop vir lidmate uit alle bevolkingsgroepe (vgl verklaring).

7.4 DIE GEWRAAKTE GROETEBOODSKAP

Sekerlik een van die laagtepunte in my termyn as moderator was die gebeure rondom die groeteboodskap by hierdie sinode van die VGKSA (Theron et al 2012:74). 'n Boodskap wat in konteks verstaan moet word.

In die Moderatuur is daar besluit dat ek die groete van die NG Kerk aan die VGKSA moet oordra. Ons was nie bewus van die omvang van die gevoel in die Uitvoerende Komitee van die VGKSA teen ons en my persoonlik nie. 'n Gevoel wat broksgewys tot ons ore gekom het in die aanvalle van professor Thias Kgatla op ons voor Clifton Kirkpatrick, sy kritiek op ons by 'n vrouebyeenkoms waar Rinel Hugo, 'n lid van ons Moderatuur, teenwoordig was en uit 'n brief van die VGKSA aan die All Africa Conference of Churches waarin hulle ons aansoek om lidmaatskap sterk teenstaan. In laasgenoemde is die nie-aanvaarding van Belhar een van ons sondes genoem. Na ons gesprek in Junie 2008 op Hammanskraal met die Uitvoerende Komitee van die VGKSA kon ons nog nie weer 'n gesprek met hulle gereël kry nie (NGK 2011A:242,252).

Ek het die ongewone ding gedoen om ons Moderatuur tydens 'n telefoonkonferensie te raadpleeg oor watter sake ek in my groeteboodskap aan die VGKSA moet aanroer. Wat ons vanaf die NG Kerk vir hulle teen bogenoemde agtergrond wil sê. Die Moderatuur moes die sake noem - ek het dit nie betwis nie - en ek sou dit formuleer. Ek glo nie daarin dat een mens die kerk regeer nie en moes boonop die verontwaardiging aanhoor - van Rinel en skriba Kobus Gerber - oor Thias se aanvalle op ons voor buitestanders.

Ek was steeds in die waan dat ons op grond van die ooreenkoms in Bloemfontein in 2006 eerlik en openlik met mekaar kan omgaan. Dat die Uitvoerende Komitee van die VGKSA se wegskram van gesprek met ons sedert Junie 2008 uit praktiese redes spruit en nie wrewel oor die weerstand onder ons teen Belhar nie. Dat die Algemene Sinode van die VGKSA aan my 'n onbevooroordeelde kans sal gee.

By Achterberg I en II was daar 'n goeie verhouding tussen my en die verteenwoordigers van die VGKSA. Boonop het die Moderatuur van die VGKSA op 7 Februarie 2008 by monde van Allan Boesak met my saamgestem dat jy iemand nie kan dwing om 'n belydenis teen sy sin te aanvaar nie. Daardie ontmoeting het 'n gesamentlike verklaring uitgereik (NGK 2011A:242).

Ons konsensus in die Moderatuur was dat die groeteboodskap naas die gewone groete oor drie sake moet handel: die beskuldiging dat ons die doelpale verskuif, 'n ontkenning dat 'n bykomende algemene sinode 'n apartheidsfiguur is (dit was nie die geval met ons eie bykomende algemene sinode in 1962 nie, vgl Van der Watt 1973:159vv) en 'n versoek dat Thias ons nie in die openbaar aanval nie. Dat hy in die lig van ons eenheidsproses sy probleme onderhandelingstafel toe bring. Hierdie kwessies pla ons lankal, maar ons kry nie kans om dit aan die VGKSA oor te dra nie.

Ek is die betrokke oggend kil deur Thias as voorsitter ontvang. Ek het egter deurgedruk. My groete, anders as gebruiklik, is daarna deur die vergadering bespreek. Allan Boesak het as ondervoorsitter die aanvalle ingelui. Volgens hom het hy in sy hele kerklike loopbaan nog nie so 'n misbruik van 'n geleentheid teengekom nie. Hy ken sy kerkreg en vind so 'n lesing (my standpunt) nie ontvanklik nie. Die meriete van wat ek gesê het, het hy ooglopend gesystap.

Spreker na spreker het gevolg. Hulle was gereed vir my. Die atmosfeer was spanningsvol en gelaai, emosioneel en vyandig. 'n Vrou het op 'n hoë toon betoog dat sy, as sy kon, my uit die vergadering sou laat verwyder het.

Die standaard van die argumente en die styl van optrede het my onemosioneel gelaat. Ek kon nie glo dat ek by 'n kerkvergadering is wat beweer dat Belhar as 'n geloofsbelydenis van, ondermeer, Bybelse versoening hulle optrede rig nie. Ek het gevra vir 'n spreekbeurt om my spyt oor 'n verkeerde verstaan van my motiewe te verduidelik. Thias het agterna beweer dat hy ter wille van my eie veiligheid my versoek nie kon toestaan nie! Dit was ongelooflik. Waar was die gereformeerde "kerklike sake op kerklike wyse"?

Die Uitvoerende Komitee of Moderamen van die VGKSA sou tot vandag toe in gebreke bly om 'n gesprek met my te voer en aan my 'n kans te gee om die saak te verduidelik. Thias het net nooit op my talle versoeke reageer nie. Ek was nie gebelgd nie, net verstom.

Nelus Niemandt het as ondervoorsitter van ons Moderatuur die leiding geneem om hulle aandeel aan gebeure in 'n persverklaring uit te lig en namens ons ons spyt oor te dra. Die gebeurtenis was groot nuus in die Afrikaanse koerante. Na aanleiding van 'n versoek later by die ASM of Moderamen dat ek bedank, het ek elkeen op die ry af gevra of hy of sy saamstem. Die persoon wat met die versoek gekom het, het alleen gestaan.

As skriba het Kobus Gerber dit in ons verslag aan die Algemene Sinode van 2011 so verwoord asof ek alleen die blaam vir alles moes vat. Ek wou nie opnuut verduidelik en met my eie mense baklei nie. Kobus het geglo hy doen reg (NGK 2011A:243).

In die verslag van ons Moderamen aan die Algemene Sinode van 2011 het ons daarop gewys dat die ultimatumvoorstel van die Uitvoerende Komitee van die Algemene Sinode van die VGKSA in hulle gedrukte agenda vervat was maande voordat die gewraakte groeteboodskap gelewer is. Ons is reeds daarmee gekonfronteer met ons aankoms by die vergadering daardie oggend in Oktober 2008 (NGK 2011A:243). Dit is in elke geval ondenkbaar dat almal in die eenheidsproses deurentyd tot almal se goedkeuring moet optree om die ander betrokke te hou!

Boonop stry die ultimatum met die verklaarde uitgangspunte van die eenheidsgesprek by Bloemfontein-2006 en selfs Esselenpark-2006. By laasgenoemde was ek en die verteenwoordigers van die NGKA en RCA nie betrokke nie. Die WBGK moes ons uit hierdie doodloopstraat fasiliteer. Soos aangedui het die versoek van ons en die VGKSA uitgegaan (NGK 2011A:243-244).

7.5 DIE WBGK FASILITEER

Die WBGK het die versoek om ons te help met die huidige versteurde verhouding en die impasse in die eenheidsproses, aanvaar. 'n Konferensie is vir 4-6 Maart 2009 in Benoni saamgeroep vir verteenwoordigers van die NG Kerk en VGKSA (NGK 2011A: 243).

Uit die geledere van die WBGK het mense gekom wat 'n duidelike sein uitstuur dat die WBGK sake ernstig benader. Clifton Kirkpatrick, doktore Setri Nyomi (algemene sekretaris), Jerry Pillay (sekretaris van die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa en sedert 2010 president van die WBGK) en vyf ander kerkleiers was teenwoordig.

Drie oogmerke of doendinge het in die besprekings uitgestaan: 'n hernude verbintenis tot kerkeenheid, 'n studie van Belhar en aksies van versoening en herstellende geregtigheid. 'n Taakspan vir elke saak is aangewys. Die verteenwoordigers van die WBGK het na afloop van die konferensie 'n verklaring uitgereik waarin hy steun vir Belhar, eenheid in die hele familie en 'n voortgaande proses uitspreek.

Jerry Pillay is as fasiliteerder van 'n voortgaande eenheidsproses in die familie aangewys. Onder sy leiding het ons en 'n afvaardiging van die VGKSA weer op 14-15 Oktober 2009 ontmoet. Hier is eerlik en openhartig gepraat. Die VGKSA het op daardie stadium egter vasgeskop teen die insluiting van die NGKA en RCA. Ons gesprekke was nog nie eers terug by Bloemfontein-2006 nie! Die WBGK was in hulle mediaverklaring na Benoni ook verbind tot die insluiting van laasgenoemde twee kerke by die proses (NGK 2011A:244).

Hoe kan jy van selfrespekterende, selfstandige kerke soos die NGKA en RCA verwag om van saampraat en vordering uitgesluit te word as hulle deel moet wees van die uiteindelike besluitnemingsproses? As die NG Kerk en die VGKSA hulle met woorde as volwaardig deel van die proses beskou, maar...? Hoe lank moet die NG Kerk en die VGKSA alleen praat voordat hulle onderlinge verskille oor kerkeenheid opgelos is? Word die ander twee kerke daarna - ewe meerderwaardig - met 'n voldwonge feit of 'n bilaterale ooreenkoms gekonfronteer? Of mag die NGKA en RCA ook die posisie van die doelpale help bepaal?

Intussen sou ons as die NG Kerk voortgaan met gesprekke met verteenwoordigers van die NGKA en RCA. Hierdie gesprekke was nooit moeisaam of gespanne nie. Ons het in die vergaderings ervaar dat ons as lede van 'n kerkfamilie mekaar verstaan en sonder baie moeite of tyd by 'n konsensus uitkom. Wat meer is, die VGKSA het reeds by sy Algemene Sinode van 2005 die moontlikheid van 'n trapsgewyse eenheidsproses in die vooruitsig gestel, terwyl daar by sy Algemene Sinode by Hammanskraal in 2008 deur sprekers op die sinodevloer gesinspeel is op eenheid tussen die NG Kerk, NGKA en RCA - as die NG Kerk dan "regtig ernstig" is oor 'n nie-rassige kerk.

'n Vergadering van uitgebreide moderature van die drie kerke het op 13-14 Junie 2011 in Bloemfontein plaasgevind. Dieselfde onderlinge begrip het tot 'n resultaat gelei waarin gevra is dat die VGKSA na die opheffing van sy moratorium deel sal word van die proses (NGK 2011A:240-241). Vanuit die VGKSA was daar egter nie waardering nie, maar wantroue en kritiek.

Die voorstel het vir sinodale eenheid as eerste mikpunt gekies, maar ook ruimte gelaat vir die kerkeie van beide die RCA en NGKA. Die gedagte was dat die sinodes van die RCA en NGKA as sinodes inskakel by die Algemene Sinode van die NG Kerk. Die RCA kon met sy eie kerkorde en besluite inkom terwyl die drie sinodes van die NGKA uit hulle eie geledere 'n gesamentlike vergadering kon saamstel oor kerkeie sake. 'n Sinode sou ook 'n uittreeklousule in die voorgestelde kerkorde kon gebruik indien hy dit as die wil van God ag. Die NGKA en RCA was beide sensitief vir die handhawing van hulle eie kerklike manier van doen.

As belydenisse sou die ses bestaande belydenisse van die NG Kerkfamilie naamlik die drie algemene belydenisskrifte (Apostolicum en belydenisse van Nicea en Athanasius) en Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leereëls) aanvaar word.

Die "formation of new confessions, change to current confessions, and the possibility of adding existing confessions" is nie uitgesluit nie. "We believe also that this structure and process makes room for the URCSA and other reformed churches to become part of it" (NGK 2011A:241).

Hierdie voorstel sou nou na die algemene sinodes van die drie kerke gaan. Ironies genoeg kon hierdie byeenkoms in Junie 2011 sonder 'n eksterne fasiliteerder by 'n konsensus waaroor almal gemaklik was, uitkom. Deur die (streek-)sinodes van die ander twee kerke - net soos die Kaapse, Vrystaatse, Transvaalse en Natalse sinodes of "kerke" in 1962 - in sy Algemene Sinode op te neem, kon die NG Kerk belangrike regsvrae wat mag opduik, oplos (Strauss 1999:47-51).

Twee ander sake sou die sakelys van die Algemene Sinode van 2011 oor eenheid in die NG Kerkfamilie en die aanvaarding van die Belharbelydenis verder inkleur. Tydens 'n sinodesitting van 9-13 Mei 2011 besluit die Sinode van Wes-en Suid-Kaapland om die Belydenis van Belhar as 'n "kerkvergadering" te aanvaar en die Algemene Sinode te versoek om dit op "'n kerkordelike wyse deel van die Nederduitse Gereformeerde Kerk se belydenisgrondslag te maak". In sy besluit lig die Wes-Kaapse Sinode twee sake uit wat verband hou met die vereistes vir 'n addisionele belydenisskrif in die NG Kerk. Dit is dat Belhar in sy formulering van geregtigheid, versoening en eenheid soos 'n belydenis met kernwaarhede van die Evangelie werk én hierdie waarhede anders verwoord as die bestaande belydenisskrifte van die NG Kerk (NGK 2011A:292).

As Moderamen of ASM kom ons met 'n voorstel dat die voorstelle van Hartenbos-2004 soos effens gewysig nou besluite word waarmee onderhandel word. Die verskil met die Wes-Kaap is dus dat Belhar deel van die belydenisgrondslag van 'n nuwe kerkverband word, maar nie -soos die ander belydenisskrifte van die NG Kerk - deur almal onderskryf hoef te word nie: die gewraakte "opsionele" opsie (NGK 2011A:246-249).

Die Algemene Sinode van 2011 sou egter ook verslag kry van die NG Kerk se bedrywige ekumeniese aksies na KS-1986 en KS-1990.

7.6 WYE EKUMENIESE KONTAK

Die stygende, uitbreidende tendens in die verhoudinge van die NG Kerk met indiwiduele kerke en ekumeniese liggame word tussen die Algemene Sinodes van 2007 en 2011 voortgesit. Gemeet aan die breë omvang en ontspanne aard daarvan, word hierdie aspek van die werk van die Sinode verder "genormaliseer" na die toenemende isolasie tot 1986 (Strauss 2002:183vv). Die verslag van die Moderamen aan die Algemene Sinode van 2011 illustreer dié verskynsel.

Die hoogtepunt van die kontak met ekumeniese liggame in hierdie periode is waarskynlik die amptelike afvaardiging van die Moderamen van ses van ons na die eerste vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) van 18-28 Junie 2010 in Grand Rapids, Michigan in die VSA. Hierdie liggaam word nou uit 'n samesmelting van die GER en WBGK gevorm. Kobus Gerber word ook as 'n lid van die nuwe Uitvoerende Komitee verkies (NGK 2011A:250).

Vir my was dit 'n groot geleentheid om by Calvin College van die Christian Reformed Church of North America (CRCN) tuis te gaan en die gasvryheid van hierdie susterskerk van die NG Kerk te ervaar. Die Sondag se erediens in 'n CRC-gemeente in Grand Rapids het om 'n kategismuspreek "Ek glo in God die Vader, die Almagtige..." gedraai (Sondag 9, NG Kerk-Uitgewers III:45). Dit is gelewer deur 'n vroulike dominee. 'n Boodskap met 'n belydenis oor die almag van God in 'n dringende, amper pleitende vrouestem. Dit was geestelik verrykend en versterkend. Uit die "boonste gestoeltes"!

Vir ons was dit opmerklik: wat die WGGK betref, daardie groep van Ottawa-1982 en die statis confessionis teen apartheid (Du Toit et al 2002:211vv), was apartheid-Suid-Afrika en die rol van die NG Kerk daarin iets van die verlede. Die invloed en houvas van die kritiek van die VGKSA teen die NG Kerk op sommige mense in die ekumeniese wêreld was finaal afgeloop.

Ons aansoek om lidmaatskap van die Wêreldraad van Kerke (WRK) uit 2007 word nog oorweeg. Bande met die Lausanne III-beweging en World Reformed Fellowship (WRF) is ook verstewig (NGK 2011A:250).

In Afrika het die NG Kerk as 'n belangrike lid ingeskakel by die Gemeenskap van Gereformeerde Kerke in Afrika (GGKA). 'n Struktuur vir kerke van die breër NG Kerkfamilie is ook in oorweging. Die aansoek van die NG Kerk om lid van die All Africa Council of Churches (AACC) te word, is tydelik op die ys as gevolg van die teenstand van die VGKSA (NGK 2011A:252). In Suid-Afrika is die NG Kerk ingeskakel by die Konvent van Reformatoriese Kerke, die Tussenkerklike Raad van die Afrikaanse Kerke (TKR) die Evangelical Alliance of South Africa (TEASA) en die SARK.

Van kontak of bande met ongeveer 21 kerke lewer die Moderamen ook verslag (NGK 2011A:253). Talle groeteboodskappe van indiwiduele kerke of ekumeniese instansies word eventueel of self oorgedra of in die Agenda van die Algemene Sinode van 2011 opgeneem (NGK 2011A: 127-150, 187). Die jaar 2011 verskil in hierdie opsig hemelsbreed met 1986.

Waar die kwessie van die NG Kerk en homoseksualisme voor die Algemene Sinode van 2007 vir baie afwagting gesorg en 'n sekere stemming geskep het, het die kwessie van saamwoon dit voor die Algemene Sinode van 2011 gedoen. Twee oorwegings het dit vir my as moderator of voorsitter van die ASM egter makliker gemaak.

Die eerste is dat gereformeerde kerkregering nie van een persoon of 'n pous afhang nie. Ek het die verantwoordelikheid nie alleen gedra en nie alleen besluit nie. Ander sou die blaam óf erkenning met my deel. Die tweede is dat die Algemene Sinode, ten spyte van die feit dat die NG Kerk ook intern in die branding verkeer en veranderinge in denke en standpunte beleef, normaalweg 'n verankerde koers inslaan. Gevolglik het die wete van die komende Algemene Sinode in Oktober 2011 nie spanning by my geskep nie.

As ons predikante in hulle eksperimentering met beproefde standpunte die pad byster raak, is daar ouderlinge of ander "gewone" gelowiges om hulle tot besinning te bring. Die befaamde Abraham Kuyper het immers die eenvoudige huisvroutjie Peetje Baltus vroeg in sy loopbaan as 'n rigtingwyser gehad (Kuiper 1995:314).

7.7 SAAMWOON

Soos aangedui het die kwessie van saamwoon reeds in 2002 op die tafel van die destydse Algemene Sinode beland. Hier het dit gegaan om die saamwonery van afgestredenes om ekonomiese redes. Omdat mediese en pensioenvoordele op hierdie stadium na bewering in gedrang kom by normale staatserkende huwelike, het die vraag na huwelike sonder die bemiddeling van die staat opgeduik. Kan dit nog huwelike wees?

Die Algemene Taakspan vir Leer- en Aktuele Sake (ATLAS) het eventueel geoordeel dat hierdie saak nie los van saamwoon voor die huwelik in die algemeen ondersoek kan word nie. Dat hy namens die NG Kerk opnuut na die "huwelik en saamwoon" moet kyk om daaruit vir spesifieke gevalle gevolgtekkings te maak. 'n Lywige verslag is vir die Algemene Sinode van 2011 saamgestel (NGK 2011A:193).

Die saak is gekompliseer toe daar aan die einde van 2009 vrae in die media oor die NG Kerk se nuwe ondersoek gevra is. Die NG Kerk was opnuut in die branding. Is hier 'n verandering in sy standpunt oor nie-gehude saamwoon en daarmee buitehuwelikse seks, op pad? Lidmate wou ook weet. My antwoord in die media was dat ons teenkanting téén voorhuwelikse seks staan, maar dat enige saak opnuut ondersoek kan word. As Reformatoriese Christene moet ons oopbly vir hervorming. Dit skyn my dat so 'n reaksie onrus beperk het. In die media in elke geval.

Wat ek sonder om dit in die media te noem, ongemaklik gevind het, is dat ATLAS self sy opdrag gewysig het sonder om die ASM as die tussentydse besluitnemingsliggaam (tussen Algemene Sinodes) daarin te ken. Ek moes by verslaggewers hoor wat gaande is. My kommentaar die eerste keer was in dieselfde telefoongesprek op 'n verslaggewer se mededelings van ATLAS se optrede. Ek het nie aan hom erken dat sy mededelings vir my nuus is nie. Omdat ek hom ken, het ek sy nuus egter ook nie bevraagteken nie. Die leidsliede in ATLAS het daarmee 'n ongemaklike manier van doen gekies.

Uit woorde en weerwoorde van en rondom ATLAS was daar aanduidings in die media dat voorheen verwerpte standpunte weer oorweeg kan word. Volgens ATLAS het sulke berigte die "konteks van die ondersoek verder gekompliseer". Hulle was egter self verantwoordelik vir hulle hantering van die media en die gemeentes.

In sy gevolgtrekkings en aanbevelings het ATLAS opmerkings gemaak wat tot vrae gelei het. In my agendaboek het ek 'n paar vraagtekens gemaak. Gevolgtrekkings wat die post-modernistiese kwaal van almal is nie net reg of verkeerd nie of 'n bietjie reg, vertoon het.

Volgens die Taakspan kan proefhuwelike wat die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit reflekteer, nie "sondermeer afgewys word nie". In 'n Christelike huwelik gaan dit "nogtans" om 'n vaste, formele ooreenkoms tussen twee mense van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte lewenslank met mekaar te deel en seksueel eksklusief te wees. Hierdie huwelik moet geseën of bevestig word deur die kerk, "verkieslik" in die gemeenskap van gelowiges en "verkieslik" deur die staat erken word.

Buite-huwelikse seksuele gemeenskap of gemeenskap buite so 'n formele ooreenkoms om, voldoen nie aan Christelike riglyne nie. Die mediese en pensioenprobleme wat pensioentrekkers met hulle volgende huwelike ondervind, is "eties problematies" (NGK 2011A:204-205).

Seks slegs binne die huwelik word gehandhaaf, proefhuwelike byna en die erkenning van 'n huwelik deur die staat word as 'n voorkeur van die betrokkenes en dus nie noodsaaklik nie, beskou. Van 'n deurdenking van die eie aard van die staat wat alle regsgeldige handelinge in die samelewing kan afdwing indien nodig, word geen blyke gegee nie. Die botsing tussen die gekwalifiseerde goedpraat of/en afkeuring van proefhuwelike maar die - byna verskonende - sterker afkeuring van buitehuwelikse seks skep probleme indien jy dit aan die gemiddelde lidmaat in 'n gemeente moet verduidelik.

Die woordjie wat sommige ontwikkel het om hierdie probleem probleemloos die hok te slaan, is dat die NG Kerk 'n "diverse" kerk is. In 'n ander rapport oordeel 'n taakspan juis dat diversiteit 'n "kernwaarde vir die kerkverband is" (NGK 2011A:237).

Hoe dit ookal sy, die branders was besig om te maal. Die Sinode sou hierdie sake moes hanteer en duidelikheid gee. Behalwe die kwessie van diversiteit wat op die terrein van ATLAS lê, moes die Sinode kyk na sake soos aborsie, die bekeringsdoop, die duiwel en die bediening van bevryding, die hantering van belydenisskrifte en die doopviering. Die Taakspan Regte sou sorg vir aanbevelings oor approbasie by kerklike eenwording en belydeniswysigings en oor die bedieningsbevoegheid van predikante en proponente (NGK 2011H:185-190).

Voor die Algemene Sinode van 2011 het ek in die openbaar te kenne gegee dat ek nie weer verkiesbaar is nie. Daarvoor was daar ook ander redes, maar ek het gevoel dat ek na 17 jaar (1994-2011) op die ASM waarvan 'n groot deel op die Dagbestuur, die einde van die pad bereik het. Die nuwe voorsitter, Nelus Niemandt, is kort na die aanvang van die Sinode verkies (NGK 2011H:78). As ondervoorsitter is Braam Hanekom (NGK 2011H: 80), as aktuarius Johann Ernst (NGK 2011H:83) en naas Kobus Gerber as voltydse sekretaris, Nelis van Rensburg as addisionele lid verkies (NGK 2011H:90). Die Algemene Sinode van 2011 was op dreef.

7.8 BELHAR EN EENHEID IN DIE NG KERKFAMILIE

Die debat oor eenheid in die NG Kerkfamilie het op Donderdag 13 Oktober aan die orde gekom. Dit is vooraf gegaan deur groepsgesprekke oor die sake ter tafel: onder andere die voorgestelde belydenisgrondslag en die kerkverband. As voorsitter van die uittredende ASM was ek as sameroeper by van hierdie gesprekke betrokke.

Die voorafgesprekke is oorheers deur die plek van Belhar in die kerkherenigingsproses. Dit het gepaard gegaan met 'n emosionele geladenheid en die totale afwesigheid van die tradisionele gemoedelikheid - ook teenoor my as sameroeper - wat sulke gesprekke kenmerk. 'n Geladenheid wat niks goeds voorspel vir die verloop van die interne proses in die NG Kerk nie. Die aanvoeling van die gemeentes in die konsultasie van 2007/2008 dat Belhar 'n verdelende faktor is, was hier pynlik sigbaar (Pieterse & Steyn 2008:6; vgl Theron (red) 2012:74).

Die voorstel van die ASM dat die voorstelle van Hartenbos-2004 met geringe wysigings wat die gebeure sedertdien reflekteer, besluite word, was eerste aan die beurt. Ek moes die voorstel aan die vergadering voorlê. Die 15 uitgebreide punte is eventueel met een klein wysiging aanvaar. Daarmee het die Algemene Sinode van 2011 hom gevoeg by Hartenbos-2004 en 'n lyn van steun in die NG Kerkverband vir dié voorstelle deur die Sinodes na Oktober 2004 en die konsultasie van die gemeentes in 2007/2008. Téénoor die aggresiewe houding van sommige pro-Belhargesindes in die groepsgesprekke, het die Algemene Sinode van 2011 besluit dat die huidige eenheidsproses "baie geduld, begrip en tegemoetkomendheid van almal vra". Van teenstemme op hierdie punt was daar nie sprake nie.

Die hooflyne van Hartenbos-2004 oor kerkhereniging is in die besluite van Boksburg-2011 gehandhaaf (NGK 2011H:100-104). As doelwit van die eenheidsproses is gestel een kerkverband waarin "al die gemeentes as selfstandige gemeentes ingevoeg word in ringe, sinodes en een algemene sinode". Die bestaande gemeentes bly so as die gemeentes van die nuwe verband. Lidmaatskap van gemeentes is oor en weer oop vir lidmate van ander gemeentes.

Belhar word een van die belydenisskrifte van die nuwe kerkverband, maar nie so dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate dit "vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te aanvaar nie". Die leer wat NG Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely (die gua-standpunt) word in gemeenskap met die algemene Christelike kerk verwoord in die Belydenisse van Nicea, Athanasius en die Twaalf Artikels. In gemeenskap met die gereformeerde tradisie word die leer verder of uitgebreid verwoord in die Drie Formuliere van Eenheid. In verbondenheid met sy eie konteks erken die NG Kerk ook Belhar en die Laudiumdeklarasie van die RCA.

Om op te som: ons besluit op 'n houding van vír en téén Belhar en op die voortgang van die bestaande gemeentes. Hulle mag egter nie geslote wees vir lidmate van ander gemeentes van ander kerke en ander bevolkingsgroepe nie. "Gesamentlike" gesprek deur die familie en fasilitering deur die WGGK is wesenlik. Die skeuring van bestaande kerke moet vermy word. Hereniging van die NG Kerkfamilie moet of kan hopelik lei tot die "byeenbring" van alle gereformeerde kerke in Suid-Afrika.

Hierbenewens keur Boksburg-2011 'n nuwe reglement 6.6 goed oor die approbasie van die gemeentes by die wysiging van die belydenisgrondslag of die kerkverband. Dit kom daarop neer dat 'n kerkraad sy tweederde meerderheidsbesluit "finaal" neem nadat die gemeente met dieselfde meerderheid geapprobeer het (NGK 2011H:104).

Hiermee het die Algemene Sinode Belhar gekwalifiseerd aanvaar, maar met 'n gewone meerderheidstoets en nie 'n toets vir 'n tweederde meerderheid - soos wanneer daar vir belydenisskrifte gestem word -nie. Dieselfde stemprosedure word deur die vergadering gevolg met die daaropvolgende besluite oor Belhar.

7.9 DIE IMPLEMENTERING VAN KERKORDE ARTIKEL 44

Die versoek van die Wes-Kaapse Sinode deur 'n beskrywingspunt dat die Algemene Sinode Belhar "op 'n kerkordelike wyse" deel van die "belydenisgrondslag" van die NG Kerk maak, word toegestaan. In nuusberigte word gevolglik daarop gesinspeel dat die Algemene Sinode hiermee Belhar aanvaar het. Hy het artikel 44 van die Kerkorde dan in werking gestel aan die hand waarvan 'n belydenis goedgekeur word...

Hoewel hierdie besluit om Kerkorde artikel 44 ten opsigte van Belhar te implementeer volgens 'n geesdriftigte notulehouer met 'n "oorweldigende meerderheid" geneem word, word die toets van 'n tweederdemeerderheid ook nie op hierdie besluit aangelê nie. Boonop gee Nelus Niemandt vanuit die voorsitterstoel te kenne dat die voorstel - indien dit aanvaar sou word - nie met die Moderamen se voorstel wat ek gestel het en reeds aanvaar is, in stryd is nie. Hy bevestig dus my indruk soos gekontroleer die vorige aand in 'n kommissietjie waarby hyself en Braam Hanekom, die Wes-Kaapse voorsitter, ook betrokke was, dat dit hier bloot om die toepassing van artikel 44 gaan. Op grond hiervan stem ek óók in die "oorweldigende meerderheid".

My gevoel was: laat die kerkrade nou besluit omdat ons hulle vir die soveelste keer - nou weer na die bemiddeling van die WBGK - vra om Belhar te bestudeer. Hulle moet al dink dat ons sê: julle sal Belhar aanhou bestudeer totdat julle hom aanvaar. Ekself dink ook: kerkrade wat die eenheidsproses onder hierdie omstandighede goedkeur, is werklik ten gunste daarvan!

Wat die idee dat die Algemene Sinode hiermee kies vir Belhar verder verdag maak, is dat dieselfde vergadering daarna in dieselfde sessie besluit om eers 'n studie te doen oor die "historiese, teologiese en kontekstuele relevansie" van Belhar ten einde die volgende Algemene Sinode en die vergaderings van die NG Kerk te adviseer (NGK 2011H:106). Hoe kan jy eers "ja" sê en dan die relevansie bestudeer van dit waarvoor jy "ja" gesê het? Veral as jy veronderstel is om 'n weldeurdagte kerkvergadering te wees?

Boonop kry ons na die Sinode die kerkordelike advies dat artikel 44 so gelees moet word dat die Algemene Sinode eers 'n belydenis kerkordelik deel van ons belydenisskrifte kan maak nádat tweederdes van die kerkrade en al tien sinodes met 'n tweederde meerderheid daarvoor gestem het. Saamgelees met die besluit oor die voorstel van die ASM, beteken dit "in beginsel" dat die Algemene Sinode Belhar aanvaar as belydenis, maar op so 'n wyse dat almal dit "...nie vanselfsprekend dit as belydenisskrif hoef te aanvaar nie" (Ernst 06:12:2011:3). Ek was betrokke by die opstel en aanvaarding van beide artikel 44 en die voorstelle van die ASM en stem saam met die advies.

Op 'n stukkie kerkpolitiek-geinspireerde advies wat nie in besonderhede aan die hele vergadering uitgespel word nie naamlik dat die Sinode van 2011 as sinode, soos die Wes-Kaapse Sinode, Belhar hiermee aanvaar het, laat vaar R de Villiers en A Mathee hulle voorstel met dieselfde inhoud. Die aanvaarding van hulle voorstel sou volgens hulle aandui dat die NG Kerk ernstig is oor versoening en geregtigheid in Suid-Afrika (NGK 2011H:105). Is die aanvaarding van Belhar vir hulle dus ook die lakmoestoets?

Die branders maal. Daarby gaan die Algemene Sinode by herhaling 'n proses binne wat sy geloofwaardigheid by gemeentes ondermyn. In die middagsessie stel ek ook nog die aanbevelings van die ASM oor eenheid met die NGKA en RCA.

Anders as die VGKSA wat die NGKA en RCA nog nie by die gesprekke wat deur die WGGK gefasiliteer word wil toelaat nie, verwoord hierdie aanbevelings die wens dat die VGKSA betrokke raak by hierdie proses. Hulle onbetrokkendheid spruit uit hulle eie moratorium op eenheidsgesprekke. Uit die reaksie van die VGKSA op die aanbevelings blyk dit dat hulle -waarskynlik - ook nie heeltemal tevrede is met die ruimte daarin vir die behoud van 'n relatiewe onafhanklikheid vir die NGKA en die RCA nie. Hulle ken ook die weestand by beide teen die aanvaarding van Belhar.

In lyn met die gestelde wens dat die VGKSA ook by die proses betrek word, aanvaar ek 'n voorstel van die sinodevloer van André Bartlett dat die aanbevelings van die NG Kerk, die NGKA en RCA na die proses onder fasilitering van die WGGK verwys word.

André wou alles "sondermeer" of net so na die proses onder leiding van die WGGK verwys, maar ek wou nou meer as dit. Anders raak ons al dieper in die skuld by hierdie geduldige familie van ons, die NGKA en RCA. Die volledige besluit lui:

Die Algemene Sinode neem instemmend en met groot dankbaarheid kennis (my versoek) van die versoek van die NGKA/RCA, máár ook van die VGK se versoek om hierdie herenigingstree met groot wysheid en versigtigheid te gee. Ten einde nie met 'n kortpad die VGK te vervreem nie, maar ook nie die RCA/NGKA-versoek te negeer nie, verwys die Algemene Sinode die voorstel na die bemiddelingsproses olv die WGGK.

Sonder 'n lang debat was hier 'n instemming en dankbaarheid waarvan die twee betrokke kerke moes kennis neem. Sonder Belhar was hier kerklike eenheid en versoening in die Suid-Afrikaanse konteks in wording...

7.10 BOKSBURG-2011 OOR SAAMWOON EN DIVERSITEIT

'n Geamendeerde verslag van ATLAS na aanleiding van 'n groepsgesprek oor die huwelik en saamwoon sou Woensdagmiddag 12 Oktober voor die Sinode gelê word. Ek was by die deurgaan van die aanbevelings opnuut getref deur kerklike manupilering.

My opmerkings in die groepsessie oor die noodsaaklikheid van die betrokkenheid van die staat by huweliksluiting ten einde regverdigheid in die hantering van mekaar af te dwing indien nodig, was nie daar nie. Dit nadat ek verseker is dat dit ingewerk sou word. Die "verkieslikheid" van staatsbetrokkenheid, so asof die kerk 'n keuse het, was naïef. Ek het sake egter laat begaan. Ek was immers nie direk verantwoordelik vir dié saak óók nie (NGK 2011H:96). Na alles het die verslag darem die regte oorhoofse koers ingeslaan. Al was dit hier en daar stamelend en stotterend.

Die stuk oor diversiteit sou op Donderdagmiddag 13 Oktober dien. Naas die aanbeveling dat die Sinode diversiteit as 'n "kernwaarde" in die NG Kerk erken, het die verslag aanbeveel dat daar 'n Taakspan vir Diversiteitsbestuur in die NG Kerk in die lewe geroep word. Oop gesprekke oor verskillende standpunte, die luister na "ander stemme", 'n "sensistering" vir ander standpunte en 'n afwysing van geweld, seksuele geweld en pornografie is ook aanbeveel.

Die Algemene Sinode van 2011 sou egter nie die aanbevelings van die verslag goedkeur nie. In plaas van die aanbevelings van die verslag aanvaar die Sinode dat menswaardigheid 'n kernwaarde van die Evangelie is. Die ASM word versoek om 'n Taakspan vir Menswaardigheid te benoem wat hom voortdurend hieroor adviseer. In 'n ander besluit word gesê dat diversiteit "nie die belydenisgrondslag van ons kerk in gedrang mag bring nie" (NGK 2011H:107). Die branders was aan die maal, maar hierdie bootjie van die NG Kerk was daardeur...

7.11 ABORSIES, DIE DUIWEL EN DIE DOOP

Die Algemene Sinode van 2011 openbaar ook 'n gesonde kommer oor 'n vergrype teen God se gebooie vir die lewe. Gesien die toenemende aantal tienerswangerskappe en aborsies jaarliks in Suid-Afrika kry ATLAS opdrag om die "hele" saak te ondersoek (NGK 2011H: 115). Die opdrag spruit uit 'n beskrywingspunt van die Vrystaatse Moderamen (NGK 2011A:297).

'n Studiestuk van ATLAS oor die bediening van bevryding van "bose magte of demone", stel voor dat die Sinode aanvaar dat daar in die kerk verskillende interpretasies is oor die werklikheid al dan nie van "gedemoniseerdheid". Dieselfde geld vir "wie en wat" agter bepaalde bevrydinge lê (NGK 2011H:97). 'n Voorstel dat daar ruimte is vir gelowiges wat aan die "werklike en persoonlike" aard van die duiwel en demone glo én hulle wat dit anders interpreteer (NGK 2011A:188; 158-159) word ook aanvaar. 'n Saak wat beroering in kerklike kringe veroorsaak en spruit uit 'n "metaforiese" verstaan van relevante Skrifgedeeltes. Skrifbeskouing en -interpretasie is hier - soos by die kwessie van die liggaamlike opstanding van Christus - aan die orde van die dag.

Die Algemene Sinode van 2011 se hantering van Wes-Kaap se beskrywingspunte oor die doop dui ook op 'n veranderende aanpak van die saak. In sy beskrywingspunt wonder die Wes-Kaapse Sinode of die "regte opvatting" van die doop 'n kernwaarheid van die Evangelie en daarom - soos tans aanvaar word - 'n belydeniswaarheid is. Hy "verstaan" ook dat mense verskillende standpunte oor die doop "kan" huldig. Verder ondersteun hy die stelling dat die NG Kerk mense nie moet verplig om hulle kinders te laat doop nie. Tugstappe moenie teen lidmate wat die belydenisdoop ondergaan het, geneem word nie (NGK 2011H:48). Die Algemene Sinode hanteer nie al hierdie stellings in sy besluit nie.

Hy staan by die gereformeerde oortuiging van die verbondsdoop en moedig predikante en kerkrade aan om dit met oortuiging en deernis te verduidelik en te bevestig. Lidmate wat 'n ander oortuiging het, het steeds 'n geestelike tuiste in die NG Kerkverband. Die Sinode vra "opreg verskoning" aan lidmate wat rondom die doop seergekry het. Wat homself betref, handhaaf die Algemene Sinode van 2011 die gereformeerde belydenis oor die doop. Hy gee egter aan lidmate die ruimte om hieroor te verskil, hoewel hy nie sê of die handhawing van hierdie verskille tot tug of belydenisversaking lei of kan lei nie.

By die viering of herdenking van die doop moet die verbondsteologie volgens die Sinode sentraal staan. Die nagmaal is die primêre plek waar die doop gevier moet word. Dit staan kerkrade egter ook vry om ander toepaslike rituele vir die viering te ontwikkel. Hierdie rituele kan egter nie sakramente wees of die verbondsdoop vervang nie (NGK 2011H:163-164).

Die kerklike branders maal en die Algemene Sinode voel die effek daarvan. Dit wil egter voorkom asof hy die gereformeerde karakter van die NG Kerk in veranderende omstandighede koester. Asof hy hierby staan te midde van die erkenning van interne en eksterne woelinge.

Aan die een kant handhaaf hy die verbondsdoop, maar tog, aan die ander kant gee hy ruimte vir verskille daaroor. Aan die een kant beskou hy die nagmaal as die plek waar die doop gevier word, maar aan die ander kant laat hy ruimte vir nuwe rituele.

Die vraag is dus: gaan hy met hierdie akkommodering en balansering in veranderende omstandighede gereformeerd bly? Of, maak die akkommodering hom magteloos in die handhawing van kernwaarhede? Of anders gestel, het ons hier net 'n gereformeerde benadering wat ingestel is medemenslikheid? Wat nie sondermeer wil verdeel nie?

7.12 DIE TOEKOMS

Vanweë befondsing en effektiwiteit kyk die Algemene Sinode van 2011 ook weer na sy eie samestelling of verkleining en die frekwensie van sy vergaderings. Terselfdertyd erken hy die nut om "soveel as moontlik" stemme uit die kerkverband te hoor voordat daar oor "wesenlike en belangrike sake" besluit word (NGK 2011A:216-217). Hierdie hernude aandag aan sy samestelling hang logieserwys saam met sy belangrikheid en noodsaaklikheid.

Die eventuele besluit eggo iets van sy befondsing en relevansie. Befondsing spreek 'n bepalende woord in sy toekomstige omvang naamlik 200 in plaas van die huidige 400 afgevaardigdes. 'n Breë raadpleging van die kerkverband is waarskynlik ook bepalend as die Sinode besluit om nie jaarliks te vergader soos die Taakspan aanbeveel nie, maar ten minste elke vier jaar terwyl die vorige sinode bepaal wanneer die volgende sinode byeenkom. Die behoefte aan 'n breër raadpleging relativeer die noodsaak van 'n jaarlikse vergadering. Terselfdertyd relativeer die behoefte aan 'n breë raadpleging die belangrikheid van die Algemene Sinode.

Twee faktore kan in die toekoms verder afbreuk doen aan die status van die Algemene Sinode. Die eerste een is juis sy huidige verdere verkleining na 'n synodus contracta wat vrae kan laat ontstaan oor die verteenwoordigende aard van sy besluite (Van der Watt 1973:155)56 Die tweede een is dat omstrede besluite soos in 2007 en veral in 2011 sy geloofwaardigheid as 'n navolgingswaardige kerkvergadering knou. Die indruk by mense dat die Algemene Sinode 'n lastige noodsaaklikheid is, groei. 'n Lastigheid wat die noodsaak daarvan laat afneem.

Tog is daar 'n gesonde koestering van die Woord en gereformeerde belydeniswaarhede by die Algemene Sinode. Met so 'n verankering kan die Sinode die toekoms paraat ingaan. Kan hy Woordgebonde en eietyds bly.

Woordgebondenheid is immers Christusgebondenheid.

En Christus is steeds die Hoof van sy kerk (Jonker 1965:12).

 

BIBLIOGRAFIE

Barth, K. 1967. Church Dogmatics IV. Edenburgh: T en T Clark.         [ Links ]

Bavinok, H. 1967. Gereformeerde Dogmatiek IV. Kampen: Kok.

Beeld etlikes.

Botha, J. & Naudé, P. 2010. Goeie nuus om te bely. Wellington: Bybel Media.         [ Links ]

Bouwman, Η. 1985. Gereformeerd Kerkrecht II. Kampen: Kok.         [ Links ]

Brinkman, M. 1982. Karel Barth's socialistische stellingname. Baarn: Ten Have.         [ Links ]

Buys, F. 2009. Ons kan dit weer doen! In: Langner, D (red). Gebroke land - armoede in die Afrikaanse gemeenskap sedert 1902. Brandfort: Kraal, pp 237-255.         [ Links ]

Calvyn, J. sa. Institutie IV. Delft: Meinema.         [ Links ]

De Jong, O.J. 1987. Geschiedenis der kerk. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

De Klerk, P.J.S. 1954. Gereformeerde simboliek. Pretoria: JL van Schaick.         [ Links ]

Du Bruyn, J.T. 1986. Die Groot Trek. In: Cameron, T (red). Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. Kaapstad: Human en Rouseau, pp 1127-1139.         [ Links ]

Durand, J.J.F. 1984. 'n Belydenis - was dit werklik nodig? In; Cloete, GD en Smit DJ. 'n Omblik van waarheid. Kaapstad: Tafelberg, 39-48.         [ Links ]

Engelhard, D.H. & Hofman L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Gaum, F.M. 1997. Die verhaal van die NG Kerk se reis met apartheid. Wellington: Hugenote-Uitgewers. 2012 Sinode van versoening. Volksblad.         [ Links ]

Geldenhuys, F.E. o'B. 1982. In die stroomversnellings. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Heyns, J.A. 1977. Die Kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Hofmeyr, J.W. 2012. Die Afrikaanse kerke in die 20e eeu. In Pretorius, F (red). Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Jonker, W.D. 1965. Om die regering van Christus in sy kerk. Pretoria: Unisa. 1994. Bevrydende waarheid. Wellington: Hugenote-Uitgewers. 1998. Selfs die kerk kan verander. Kaapstad: Tafelberg. Juig Jul/Aug 2010.         [ Links ]

Kleyn, D. & Viljoen, F. 1999. Beginnersgids vir regstudente. Kenwyn: Juta (2e druk).         [ Links ]

Kuiper, B.K. 1995. The church in history. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Langner, D.J. 2007. Teen die héle wêreld vry. Pretoria: Griffel.         [ Links ]

Marais, B. 1953. Die kleurkrisis en die Weste. Johannesburg:sn.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk Agenda 1986, 1990, 1994, 1998, 2002, 2004, 2007, 2011. Sl:sn. Gebruik as NGK 2011A.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk Handelinge 1986, 1990, 1994, 1998, 2002, 2004, 2007, 2011. Sl:sn. Gebruik as NGK 2011H.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk Kerkorde (KO) 1998, 2002, 2004, 2007, 2011. Wellington: Bybel Media (Lux Verbi).         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk 1986, 1990. Kerk en Samelewing. Bloemfontein: Pro Christo. Gebruik as KS-1986 en KS-1990.         [ Links ]

Nel, R. & Du Toit, Η. 2007. Ons pelgrimstog na eenheid. Pretoria:UP.         [ Links ]

NG Kerk in die Oranje-Vrystaat 1995, 2005 Handelinge. Sl:sn. 2009 Agenda. Sl:sn        [ Links ]

NG Kerk Uitgewers sa. Kerkbybel. Wellington.         [ Links ]

Ned Herv Kerk van Afrika 2010. Agenda Algemene Kerkvergadering. Sl:sn. Gebruik as NHK.         [ Links ]

PlETERSE, H. & STEYN, N. 2008. Terugvoerverslag. Ongepubliseer.         [ Links ]

Protestantse Kerk in Nederland 2003. Kerkorde en Ordonanties. Zoetermeer: Boekencentrum. Gebruik as PKN.

Rapport 10:06:2007.

Sadler, T.H.N. 1979. Die kerklike tughandeling. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Schaff, P 1983. The creeds of the Christendom I en III. Grand Rapids: Baker Book House.         [ Links ]

Smit, C.J. 1984. God se orde vir sy kerk. Pretoria: NG Kerkboekhandel Tvl.         [ Links ]

Smith, N. 1980. Elkeen in sy eie taal. Pretoria: NG Kerkboekhandel Tvl.         [ Links ]

Spoelstra, B. 1963. Die Doppers in Suid-Afrika. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.         [ Links ]

Snyman, F. et al 1998. Is die NG Kerk nog die NG Kerk? Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

Strauss, P.J 1983. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: Betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse Rassevraagstuk. Pretoria: UP (DD-proefskrif, ongepubliseer)        [ Links ]

Strauss, P.J 1993. Op die tweesprong. Bloemfontein: UV.         [ Links ]

Strauss, P.J 1994. Geloftedag in die "nuwe" Suid-Afrika. Bloemfontein: Drufoma.         [ Links ]

Strauss, P.J 1999. Die goedkeuring van kerkrade vir 'n nuwe verband in die NG Kerkfamilie? Acta Theologica 19/2: 32-54.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2002. Toenemde isolasie deurbreek. In: Du Toit P et al. Moeisame pad na vernuwing. Bloemfontein: Barnabas, 183-241.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2004. Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en 'n status confessionis. 'n Vergelyking tussen die Wereldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se hantering van die saak. Acta Theologica Supplementum 6:96-121.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2005. Belydenis, kerkverband en Belhar. NGTT 46:3 en 4, 560-575.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2006. Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis. In die Skriflig 40/4,649-666.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2007. Die NG Kerkfamilie in Suider-Afrika: 'n nuwe kerkverband? In: Nel, R en du Toit, H. Ons pelgrimsreis na eenheid. Pretoria: UP, 92-105.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2008. Die gesag van kerkvergaderings soos in die kerkorde van die NG Kerk. In die Skriflig: 42/2, 239-252.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010a. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: SUN MeDIA.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010b. Eenheid in die NG Kerkfamilie: waar staan die NG Kerk? NGTT 51/3 en 4, 135-142.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2011a. Homoseksualiteit: die standpunte van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 2007. HTS 67/3, 8 bladsye.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2011b. Kerk en samelewing in die dokumente "Kerk en Samelewing na 25 jaar." NGTT 52(3&4):511-520.         [ Links ]

Theron, P. (red) 2012. Belhar geweeg. Pretoria: Kraal.         [ Links ]

Van Minnen, J.M. 1967. De Opshrift. In: Van Minnen, JM et al. De Thora in de thora. Aalten: De Graafschap, 50-64 .         [ Links ]

Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika 2008. Agenda for Synod. Sl:sn.         [ Links ]

Van 't Spijker, W. 1977. Reformatie en geschiedenis. Goes: Oosterbaan en Le Cointre.         [ Links ]

Van den Berg, J. 1967. Wetsprediking in historisch perspectief. In: Van Minnen, JM et al. De Thora in de thora. Aalten: De Graafschap, 3-49.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. 1973. Die Loedolffsaak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Kaapstad: Tafelberg. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975. Pretoria: NG Kerkboekhandel Tvl.         [ Links ]

Williams, H. 2006. Johan Heyns en die NG Kerk en apartheid. Universiteit van die Vrystaat: ongepubliseerde DTh-proefskrif.         [ Links ]

Woord en Daad 2010.. 15. The Spirit that inspires. Perspectives on Biblical spirituality - Pieter G.R. de Villiers & Lloyd K. Pietersen (2011).         [ Links ]

 

 

1 Kerkeenheid is wesenlik geloofseenheid of 'n eenheid in die belydenis van geloof. Daarom vorm die belydenisskifte van 'n gereformeerde kerk sy spreekwoordelike "akkoord" of skriftelike ooreenkoms van gemeenskap (Bouwman 1985:556). Om 'n belydende lidmaat van so 'n gemeente te word, lê 'n persoon belydenis van geloof af wat instemming met die betrokke kerk se belydenisskrifte insluit. Dit gaan hier om waarhede wat nie net formeel aanvaar word nie, maar uit die hart bely of uitgesê word. Kerkeenheid is dus nie kerklike eendersheid nie, maar 'n eenheid in die kernwaarhede/belydeniswaarhede van die geloof. 'n Kerk bou - verkieslik - sy hele inrigting op hierdie waarhede. Die kerk as 'n geloofsinstelling vorm van "nature" 'n belydeniskerk (van God-Drieënig ensovoorts) van een of ander graad. Daarom vra die aanvaarding van belydenisse 'n groter meerderheid as gewone besluite (vgl Smit 1984:64; Strauss 2010a:64-65; NGK 2007KO:19,20). Positiewe, tydsgebonde kerklike veranderinge van watter aard ookal gebou op kern- of belydeniswaarhede as konstantes is reformasie. Dit is immers van 'n gereformeerde kerk om voortdurend te reformeer. Of, in Latyn: ecclesia reformata semper reformanda.
2 Met die 75-jarige bestaansfees van Die Voortrekkers in 2006 het ek as hoofleier vir Madiba genooi om ons op 'n feesaand in die Voortrekkermonument te besoek en geluk te wens. Hy kon dit nie maak nie, maar het dit nie daar gelaat nie. Ek moes asseblief namens hom 'n boodskap skryf wat hy onderteken het. Ek as Afrikaner en Voortrekker moes namens Mandela praat! Hy het sonder kommentaar geteken.
3 In gereformeerde kerke is daar nie sprake van laer en hoër nie, maar mindere en meerdere vergaderings. Mindere en meerdere dui nie op die gesag van die vergaderimgs nie, maar die aantal (minder of meer) gemeentes wat daarin verteenwoordig is (Strauss 2010a:53-55).
4 Meer as een kommentator op sake van die dag oordeel dat die Nasionale Party die NG Kerk in die jare 1970-1994 voor was ten opsigte van die verandering van die Suid-Afrikaanse bestel. Dat die NG Kerk in sy vergaderings mettertyd met die "nuwe" Suid-Afrika gekonfronteer is en dit eenvoudig as 'n gegewe feit moes aanvaar. Een van die implikasies hiervan sou dan wees dat die veranderinge in die NG Kerk uit 'n eksterne oord gekom het en op die kerk afgeforseer was. Tussen die Algemene Sinodes van 1982 (bevestiging van die ou Suid-Afrika) en 1986 (KS) lê daar egter 'n radikale aanpak- en inhoudsverskil wat veral in KS-1986 weerspieël word. Hierdie verskil loop intern-kerklik en is na inhoud meer kerklik-eties as polities geïnspireer (Strauss 2011b:511-520).
5 Die Algemene Sinode van 1994 besluit juis dat die kerk hom nie moet uitspreek oor die meriete van 'n politieke model nie. Dit moet eerder vir hom gaan om die Skriftuurlike en Christelik-etiese aspekte van so 'n model. Hy moet hom onder geen omstandighede vereenselwig met "enige" politieke model nie, (NGK 1994H:499,587). Hierin is die denke van JA Heyns, voorsitter van die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake, ook hoorbaar.
6 In die stuk van die destydse ASK "Die verhaal van die NG Kerk se reis met apartheid 1960-1994" beweer die outeur Frits Gaum dat die APK wat ook lidmate uit ander oorde getrek het, uiteindelik ongeveer 40 000 lidmate getel het. Ongeveer 100 predikante uit die NG Kerk het na die APK oorgegaan. (Gaum 1997: 42vv). Die getalleverliese was absorbeerbaar, maar die simboliese verliese voelbaar. Hofmeyr oordeel vaagweg dat die APK 'n invloed op verdere ontwikkelinge in die NG Kerk gehad het, hoewel nie "buitengewoon groot nie." (2012:449). Die Algemene Sinode van 1998 "normaliseer" verhoudinge met die APK as hy gesprek op alle vlakke aanmoedig, vra dat lidmate mekaar oor en weer broederlik behandel, waarsku teen bitter geskille en dit opnuut stel dat daar nie regverdigbare gronde vir die ontstaan van die APK uit die NG Kerk was nie (NGK 1998H:508).
7 Hofmeyr (2012:448) oordeel dat die Algemene Sinode van 1986 'n waterskeiding was waar die "kerk duidelik begin afskeid neem het van apartheid en die weg help baan het vir die demokratiseringsproses van die 1990's". Dat Hofmeyr met sy laaste stelling raak vat, word versterk deur die mening van destydse radikale kerklikes teen apartheid - binne en buite Suid-Afrika - wat na Heyns as die ongeloofwaardige hofpriester van die Nasionale Regering verwys. Hy het hulle dus "gehelp". 'n Regering wat volgens hulle nie die mag wil afgee nie, maar net 'n "sagter" beeld van apartheid wil skep (Strauss 2002:229). Wat duidelik is, is dat al was die veranderings in die NG Kerk nie voor die veranderings in die Nasionale Party nie en al het dit nie die politiek van die 1990's beïnvloed soos moontlik die NG Kerk se invloed op politieke apartheid in die 1940's nie, het dit die klimaat vir 1994 bevorder. Hierdie klimaat was 'n newe effek van die internkerlike veranderinge wat hulle sedert die 1980's in die NG Kerk voltrek het. Voorbeelde van kleiner en groter betekenis is die Hervormingsdaggetuienis van 8 NGK-teoloë in 1980, die boek Stormkompas in 1981, die Ope Brief van die 123 in 1982 en die studiestuk "Kerk en Samelewing" van die Sinode van 1986. Die Algemene Sinode van 1986 kon eenvoudig nie 'n herhaling van die Sinode van 1982 wees nie. Die Algemene Sinode van 1994 verwerp verder amptelik 'n aantyging van die Afrikaanse Gereformeerde Bond dat KS-1986 en KS-1990 uit politieke dienstigheid spruit (1994A:557).
8 Jonker (1998:189) beweer dat Potgieter sy voorstel ter die vergadering eers vlugtig met hom bespreek het. Hy het Potgieter met blydskap aangemoedig om voort te gaan. Toe die vergadering dit aanvaar, was dit vir Jonker 'n "dramatiese wending in die geskiedenis van die kerk. 'n Grens is oorgesteek...". Hofmeyr betreur dit dat die "proses" van gesamentlike aanbidding en kerkvereniging in die NG Kerkfamilie teen 2011 steeds pynlik stadig verloop. Sy oordeel dat 'n proses van verpolitisering hiervoor verantwoordelik is, verraai 'n veraf onkunde van die ingewikkelde prosesse waarby ons (NG Kerk) betrokke is. Telkens word skynbare vordering lamgelê deur wantroue en 'n verandering van houdings en voorwaardes in 'n historiese verloop van af en op (Strauss 2010b:135,136).
9 Vgl Smith (1980).
10 Die uitredende voorsitter, Pieter Potgieter, verwys wel in sy intreerede na "noodsaaklike dienste" wat deur stakings ontwrig word (NGK 1994H:529). Dit was op daardie stadium egter 'n geruime tyd aan die gang.
11 Volgens sommige het die wetlike en amptelike einde van apartheid destyds nog nie tot alle vlakke van die samelewing deurgedring nie.
12 Hulle is na 1870 eers so genoem (Du Bruyn 1986:127).
13 In 1998 besluit die Algemene Sinode dat 16 Desember daardie jaar as 'n dag van vrede en versoening gevier moet word. Alle Christelike "denominasies" moet hierby betrek word (NGK 1998H:419).
14 In sy rede by die broederlike onderhoud het JA Heyns na algehele of omvattende versoening as die één saak verwys waaroor daar in Suid-Afrika nie genoeg in ons "multi-kulturele situasie" gepreek kan word nie. Suid-Afrika het op daardie stadium volgens Heyns 'n "verbysterende onversoenlikheid" tussen sy mense beleef (NGK 1994H:534).
15 Die redes aangegee vir die status confessionis van die WBGK in 1982 by Ottawa teen kerklike apartheid soos verwoord deur Suid-Afrikaners soos Allan Boesak en andere (Theron 2012:18vv.).
16 In sy toepraak soos in die notule van die Sinode het Mandela die "leierskap van die Ned Geref Kerk" inderdaad bedank vir die konstruktiewe rol wat hulle rondom 27 April 1994 met die verkiesing in Suid-Afrika gespeel het. Hy het veral verwys na hulle standpunt teen rassisme en geweldspraatjies (NGK 1994H:536).
17 Die Algemene Sinode van 1998 loop in dieselfde lyn as hy besluit dat die Algemene Sinode as meerdere vergadering 'n sigbare uitdrukking van die eenheid van die NG Kerkverband in "die breedste sin van die woord" is. Hy hanteer "beleid... en spesifieke werksaamhede" en maak in 'n "beperkte sin" sy agenda oop vir "mindere vergaderings" (NGK 1998H:446).
18 Vir Marais in sommige van sy destydse uitsprake was apartheid in Suid-Afrika noodsaaklik, maar dan binne die raamwerk van 'n Christelike broederskapsleer en nie vanuit rasseselfsug of -meerderwaardigheid nie (Marais 1953:298).
19 Teenoor die federale kerkverband met die ou Federale Raad van NG Kerke.
20 Hierdie twee manne sou in 2012 saam met my vir Belhar weeg en te lig bevind as 'n belydenis vir die NG Kerk (Theron 2012:5, 6).
21 Biskop Desmond Tutu sou oor baie jare, tydens en na apartheid, konsekwent bly in sy afwys van geweld en onreg na watter kant toe ookal in Suid-Afrika. Hy was vanuit sy hoek fel in sy kritiek teen apartheid en misstande onder apartheid, maar is ewe fel teen misstande onder die huidige regering. Ek het hom in 1985 in Pietermaritzburg tydens die konferensie van die Nasionale Inisiatief vir Versoening leer ken. Ons was vier uit die NG Kerk (daar was ongeveer twintig dominees uit die NG Kerk teenwoordig) op die hele konferensie wat nie 'n voorstel vir 'n landswye staking wou steun nie. Toe konferensiegangers dreig om militant teenoor ons op te tree, het Tutu wat saam met my op die podium was, agter my kom staan met die versoek dat geweld laat vaar moet word. Sy woorde in daardie troebel jare was: "A miracle has happened! That people of the DRC were prepared to talk to us and stay till the end!" 'n Rukkie daarna het hy my in Willem Nicol se sitkamer in Pretoria gegroet met "Hi my Boertjie friend!" Sy ere-doktorsgaad aan die Vrystaatse Universiteit soos in 2011 geïnisieer deur die Fakulteit Teologie, is verdiend. Geen ander anti-apartheidsprofeet het hom dit nagedoen nie.
22 Cassie Cartens was ook die skriba van die Gesamentlike Gesangekommissie en mede-eindredakteur van die Liedboek van die Kerk wat in 2001 in gebruik geneem en die amptelike sangbundel van die NG Kerk is (NGK 2002A:44; vgl NGK 2001).
23 Vgl die verskille tussen die Acta (notule) van die Algemene Sinodes van 1994 (skriba Gaum) en 1998 (skriba Carstens) ten opsigte van inhoud en aanpak.
24 'n Geestige insident was toe die voorsitter ds Simon Kuekue, sy "manne" voor teepouse "beveel" het om die gaste toe te laat om eerste van die geelkoek - my gunsteling - te kry. Hy was bang ons kry nie as ons ons tradisionele verskonende (Engelse?) styl navolg.
25 Dit kan daarom ook pleeg- of aangenome ouers wees aan wie die grootmaak van hierdie kindjie - "binne 'n verbondsruimte" - op 'n permanente basis wettig toegeken is. Vgl die besluit van die Algemene Sinode van 1994 in hoofstuk 2 wat die kinderdoop na kinders in kinderhuise uitbrei. Die Algemene Sinode van 1998 bestendig egter die gereformeerde tradisie as hy hierdie besluit herroep. Hy besluit dat die kinderdoop nie aan kinders in kinderhuise bedien word nie, maar dat alle pogings in werking gestel word om kinders in "ouerlike sorg" te herstel sodat hulle in hulle gemeentes onder die opsig en tug van die kerkraad gedoop en bedien kan word (NGK 1998H:427,507).
26 Vgl voetnoot 25.
27 Dit word in gereformeerde kerke aanvaar dat die verskillende kerkvergaderings gelyk in gesag en status is, maar in opdrag en agenda verskil (vgl NGK 2007KO:11-12).
28 'n Ou vriend en kollega uit my dae as predikant van die NG Kerk Universiteitsoord 1983-1988.
29 Die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 gee aan die indiwidu die reg op vryheid van uitdrukking, maar ook van assosiasie (artikels 16 en 18).
30 In my agenda is daar 'n handgeskrewe kaartjie met die bewoording van die voorstel soos op een plek doodgetrek en hersien, daarop. In plaas van die "vereistes" van 1 Korintiërs 11 het daar aanvanklik "eise" gestaan. Dit is om verstaanbare redes gewysig. Ek herinner my dat die kaartjie van Oom Sarel afkomstig was.
31 Afgerond was die bydrae van die staat in 1989-1990 R 61 532 000 teenoor die R 13 057 000 van die NG Kerk self. Dit het die tehuise vir bejaardes, dienssentrums, kinderhuise, jeugsentrums, tehuise vir ongehude moeders, bewaarskole en rehabilitasie sentra vir alkoliste ingesluit. Hierdie inrigtings sou moeilik sonder staatshulp regkom (NGK 1990a:337).
32 Flip Buys praat van die Derde Afrikanerarmoedekrisis wat na 1994 ontwikkel het (2009:238). Hierdie krisis sluit kleiner en groter honderde plakkerskampe in stede in. Teen 2009 is die getal geskat op 1000.
33 Vgl Strauss 2011a.
34 Die nou reeds bekende Christian Reformed Church of North America. Die CRCNA was saam met die GKN en NG Kerk die drie "groot" kerke in die GER.
35 Die NG Kerk het in die tweede helfte van die 20ste eeu met net een Europese kerk "bande" gehad, naamlik die Gereformeerde Kerke in Nederland (Strauss 2002:187). Hierdie kerke of kerkverband het met die Nederlandse Hervormde Kerk en die Lutherse Kerk in Nederland in die laat-twintigste eeu die SOW-kerke gevorm. Vandag is hulle die Protestantse Kerk in Nederland wat volgens hulle eie kerkorde uit protestantse, hervormde en evangelies-lutherse gemeentes en gereformeerde kerke bestaan (PKN 2003:10).
36 Vgl Strauss (2007:92-105), vir 'n volledige skets van die NG Kerk se houding in hierdie saak.
37 Kyk ook vir die teks van Belhar by http://www.kerkweb.org/node/1430.
38 Vgl Nel en Du Toit (2007) vir die verloop van die proses.
39 Nuuthede of "nieuwigheden" was die ding wat die ou Doppers in die 1850's voor die ontstaan van hulle eie "kerkegemeenskap" (hulle hou nie meer van "kerkverband" nadat hulle in die 1980's besluit het om "gereformeerde kerke" in plaas van "gereformeerde kerk" te word nie), in die NG Kerk gegrief het (Spoelstra 1963:24).
40 Hierdie Algemene Kommissies verander by Hartenbos 2004 in vier Diensgroepe waaronder 'n aantal taakspanne tuisgebring word, nl Diensgroep Leiers (dit word ingevoer vanweë ongemak met die term Moderamen Algemene Sinode), Diensgetuienis, Gemeente en Bedieninge, Ondersteuningsdienste (NGK 2004H:389-390).
41 Miskien het ek in my poging om by die gemiddelde lidmaat uit te kom op tone getrap toe ek verstaanbare taal wou gebruik en aangevoer het dat my eie voorouers sekerlik nie ape was nie...
42 In 2005 en 2006 was Lourens ook betrokke by strydpunte oor die gereformeerde karakter van die NG Kerk. Sake wat hulle ook in die openbaar afgespeel het (NGK 2007A:10; NGK in OVS 2005H:429,482).
43 Ek vermoed dat die getalle moes aantoon dat Lourens Erasmus se ordemosie volgens die regte prosedure en daarom "wettiglik" verloop het en nie deur sommige sinodegangers of buitestanders bevraagteken moet word nie.
44 Vir 'n uiteensetting van die saak kyk ook Strauss (2007). Ook Strauss (2010).
45 Suid-Afrikaanse Grondwet hoofstuk 2 (Kleyn & Viljoen 1998:267vv).
46 Die term "organiese eenheid" in die NG Kerkfamilie kan uit die interne eenheidsprosesse in die NG Kerk self spruit wat in 1962 tot die eerste Algemene Sinode gelei het. Voor 1962 het die gesprek gegaan oor die noodsaak van organiese kerkeenheid. Die belangrike saak hier was dat alles tot een, bykomende Algemene Sinode gelei het - naas die eie sinodes van die NG Kerk in die vier provinsies van Suid-Afrika en Suidwes - wat die NG Federale Raad van Kerke as 'n eenheidstruktuur vervang het. Beide 'n federale raad en 'n bykomende algemene sinode is egter deur die VGKSA in die eenheidsgesprekke van 2006-2007 verwerp as kerklike apartheid. Hulle wou nie met ons daaroor gesprek voer nie, en toe ek in Oktober 2008 tydens 'n groeteboodskap aan hulle Algemene Sinode daarop wys dat die twee vergaderings eenheids- en nie apartheidsfigure is nie, is ek dit verwyt dat ek die geleentheid misbruik om klas in kerkreg te gee (vgl Botha & Naude 2010:146) wat die beskrywing van my optrede klakkeloos oorneem... Beide die NGKA en RCA neig na 'n federale eenheidstruktuur (Strauss 2010b:139-140).
47 Vgl dieselfde stylfiguur in die Skotse Presbiterianisme by Schaff 1983:685, 689 (vgl De Klerk 1954:81). Hier gaan dit om 'n verbond met mekaar voor God teenoor byvoorbeeld die Voortrekkers voor Bloedrivier wat 'n gelofte aan die Here doen (Strauss 1994:43).
48 Sommige waarnemers het dit nie mooi verstaan toe ek in 2008 by 'n Wes-Transvaalse Sinode verklaar het dat ek nie kans sien om Belhar as belydenis "nou of later" te onderskryf nie. My reaksie was binne die konteks van hierdie woordspeling dat Belhar nie nou 'n voorwaarde vir kerkeenheid is nie, maar. Ek glo steeds dat ons in ons kommunikasie met lidmate moet afsien van "taktvolle" woordspelings wat ons eie geloofwaardigheid ondermyn.
49 Vgl die mosie van dank aan die Taakspan waarin daar na hierdie "meer as" twee jaar verwys word (NGK 2007H:110).
50 Dieselfde Burger dra as hoofvoorbladopskrif "Kerk oop vir gays - 299 teen 66 stem daarvoor". Daarmee was die vet vir lidmate wat net op die opskrifte van Die Burger vir nuus aangewese is, in die vuur.
51 Volgens Neels Jackson het ek verwag dat my termyn een van toebel water en meningsverskil sal wees, maar dat ek nie van plan was om dit alleen aan te pak nie. Gereformeerdes, veral in die een en twintigste eeu, verdra nie pouse nie(Beeld 20:06:2007).
52 Ons het so 'n verklaring uitgereik na een van ons Wilderniskonferensies soos geborg deur Anton le Roux. Die betrokke konferensie was in Mei 2010.
53 Ek het deurgaans goeie "rapport" met die NGKA en RCA gehad. Miskien spruit dit uit my jong dae in die Oos-Vrystaat waar ek die NGKA in gemeentes leer ken het en in Reitz by geleentheid ook as een van hulle kategete aanvaar is.
54 In 'n gesprek met die president van die WBGK, dr Clifton Kirkpatrick, op 12 Augustus 2008 het die voorsitter van die Uitvoerende Komitee van die VGKSA, Thias Kgatla, 'n striemende aanval op die NG Kerk gedoen en beweer dat ons die doelpale soos gestel by Esselenpark en Achterberg verskuif en daarom eintlik onder sensuur moet kom. Dit was kort na ons besoek aan Hammanskraal waar hierdie saak met ons bespreek kon word. Dit alles het gevolg op nog 'n gesprek wat ons op ons versoek op 7 Februarie 2008 met dieselfde komitee van die VGKSA gehad het en waartydens misverstande uit die weg geruim en 'n positiewe gesamentlike verklaring uitgereik is (NGK 2011A:242).
55 Die taal wat gebruik word in die rapport en aanbevelings van die Moderatuur of Uitvoerende Komitee van die Algemene Sinode van die VGKSA herinner sterk aan die van Allan Boesak (vgl VGKSA 2008:187-197).
56 Die spook van 'n synodus contracts was reeds by die mislukte vereniging van die NG Kerk in die vier provinsies van die destydse Suid-Afrika in 1911 "lewend". NG Kerkordes gee sover moontlik aan elke gemeente sittingsreg op meerdere vergaderings. Die kanse hiervoor word verder verminder deur die Algemene Sinode van 400 - klaar 'n synodus contracta - na 200 te verklein.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License