SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 número2The Equality of Believers. Protestant Missionaries and the Racial Politics of South AfricaTreasure in the Field: Salvation in the Bible and in Our Lives índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.33 no.2 Bloemfontein ene. 2013

 

RESENSIES/REVIEWS

 

 

Vincent Brümmer, Wat doen ons wanneer ons bid? Oor die aard van gebed en geloof (Wellington: Bybel-Media, 2011), pp. 3 + 197, R149.95, ISN 9780864875594. http://dx.doi.org/10.4314/actat.v33i2.17

'n Resensie oor die bekende en klassieke werk sal die ingeligte leser dalk tegelykertyd laat frons en glimlag. Dis geen nuwe publikasie nie en tog ís dit - en veral een om van kennis te neem! Dit het reeds in 1984 (oorspronklik in Engels - What are we doing when we pray?) verskyn, sedertdien (1985) is dit vertaal en uitgee in Nederlands en Duits, én in 2006 het Brümmer en Ashgate weer 'n hersiene en bygewerkte Engelstalige uitgawe die lig laat sien. In 2009 is dit bekroon met die Andrew Murray - Desmond Tutu prys sodat dit (uiteindelik!) ook onlangs in Brümmer se moedertaal en vaderland uitgegee kon word.

Die feit dat juis hierdie werk van Brümmer in Suid-Afrika bekroon en uitgegee word, is om verskeie redes heel gepas. Eerstens is die boek 'n goeie uitdrukking van Brümmer se oevre en werk. Hy beklemtoon deurgaans hierin die belangrikheid daarvan dat ons met geen ewige, tydlose, gestolde, geslote waarheid werk nie, maar dat ons in 'n dinamiese proses onderweg is om voortdurend ons waarheidsaansprake (saam met ander!) krities te her-interpreteer en te her-konseptualiseer. Dit is inderdaad 'n sterk refrein in die werk, byvoorbeeld: "'n Lewende geloof is nie 'n geslote denksisteem nie, maar 'n kumulatiewe tradisie." (p174); en "... 'n lewende geloof [is] nie 'n onbeweeglike denkstelsel wat onveranderlik vir alle tye vasstaan nie. Dit is eerder die erfenis van 'n tradisie wat van geslag tot geslag oorgedra word." (p188). In dié sin is dit dus nie net gepas dat die klassieke werk van hom intussen hersien en bygewerk is nie, maar ook dat dit steeds in die vorm van 'n vraag geformuleer is.

Tweedens is die boek binne die Suid-Afrikaanse teologiese landskap veral verder gepas in die wyse waarop dit enersyds interdissiplinêre gesprek beliggaam en aanmoedig, asook andersyds verskeie publieke probeer insluit met die gesprek. Uiteraard met sy sterk klem dat ons 'n geloofsoog benodig om die aard en wese van gebed en teologiebeoefen-ing te begryp, bied dit tegelykertyd uitermatige pastorale betekenis aan beide die teologie sowel as breë kerklike publiek. Belangrik egter is om te sien hoe die gesprek nie net na-binne gekeer is nie, maar ook doelbe-wus apologeties sensitief is vir vrae van en aan ander. Teoloë én filosowe, gelowiges sowel as ongelowiges of/en andersgelowiges sal baie stof tot nadenke kry in die boek.

Só 'n sterk verhoudingsmatige verstaan en beoefening van teologie is dan ook integraal tot die inhoudelike vraagstelling van die boek, naamlik Wat doen ons wanneer ons bid? Nie net is gebed vir Brümmer (in navolging vir Ebeling en Sauter) die hermeneutiese sleutel op die Godsvraag nie, maar ook kan ons geensins 'n snars begryp van wat ons doen wanneer ons bid sonder enige antenna vir die belang van relasionaliteit insake geloof en gebedsbeoefening nie. Reeds in die inleiding/hoofstuk 1 (p.8) tref hy die belangrike onderskeid tussen "gebed" met 'n objek-en-'n-tegniek,teenoor 'n gebed met 'n persoon-en-'n-verhouding.So het die hart ook by hom sy redes waarvan die verstand nie soseer van weet nie, maar wel geken en ten bowe gegaan word.

Hierdie relasionele aard van die dieper vrae plaas dus nie net die God-mens-wêreld verhouding sentraal nie, maar impliseer dus ook dat dit op talle fronte en vlakke ontgin behoort te word. In hoofstuk 2 begin hy dan om sistematies en oortuigend aan te toon dat gebed nie nét 'n terapeutiese invloed het op die bidder nie. In gebed gaan dit om dít en nog meer,en dit is veral die "en nog meer" wat in die res van die boek onder die loep geneem word.

Gebed het ook 'n invloed (hoofstuk 3) op God self. Afgesien van die belang dat ons in die hoofstuk dieper ingetrek word in die "oop teïstiese" gesprek, is dit verrassend in die hoofstuk hoe baie hy maak van die belang om (eers) te (mag/moet) vra vir God. "Sonder ons versoeke kan God bewerkstellig wat ons nodig het, maar Hy kan nie vir ons iets in 'n persoonlike sin gee nie." (p.55) Nie net is hy dus voortdurend sensitief vir die gevaar van determinisme en manipulasie aan bepaalde kante nie, maar ook dat die integriteit van die persoonlike verhouding nie geskaad of onder verdenking sal kom nie. In hierdie opsig is dit uiters insiggewend om te sien hoe beide die simmetriese sowel as a-simmetriese perspektiewe in die God-en-mens verhouding tot hul reg kom.

In hoofstuk 4 is die fokus weer terug op die invloed wat gebed op die bidder self het, maar nou in die sin van wat regtig bedoel word op die "meer as net terapie". Die vra-gebed raak nie net vir God nie, maar ook die gelowige in dié sin dat sy/hy nou dieper betrek word by die wil van God. Vra-gebede in dié sin impliseer dus veel meer die in-skakeling (ipv uit-skakeling) van ons by die handeling van God in die wêreld. So gesien het voorbidding dan nogal baie te make met aktivering en bemagtiging (teenoor ontmagtiging en passivisering) van die geloofsgemeenskap in die wêreld. Gevolglik is dit ook verhelderend om te sien hoe gebed dus (in hoofstuk 5) die wêreld "omspan" (Thielicke) en liefhet. Sodoende is dit nie net die integriteit van die skepping wat gehandhaaf word nie, maar ook die broosheid van God wat in die verhouding na vore tree. Trouens, nie net word die begrippe weereens relasioneel verbind nie, maar tegelykertyd simmetries sowel as a-simmetries bedink.

In hoofstuk 6 (die laaste hoofstuk van die eerste uitgawe) word die argument en insigte van die voorafgaande baie goed saamgevat in "'n Persoonlike verhouding kan alleen gevestig word as albei partye die gesindheid aanneem wat by die versoekkarakter van gebed pas." (p.97). Teen hierdie agtergrond is daar dus 'n velerlei van insiggewende perspektiewe wat na vore tree op die vraag na wat doen ons wanneer ons bid. Byvoor-beeld, so gesien kan mens aan die einde tog wonder of dit regtig gaan om vra in die vra-gebede? Gaan dit nie veel eerder om opnuut te hoor en te ontvang nie? En nie net dat ons so dieper in verhouding sal wees nie, maar ten diepste onderweg sal wees met die toekoms as toekoms?Só 'n ruimer blik op gebed bring dan ook heel gepas ander dimensies van gebed (buiten dié van vra en voorbidding) na vore, naamlik dié van skuldbelydenis, klag, danksegging, en lofprysing.

In kort, hierdie relasionele en ruim verstaan van gebed roep ten einde veral om verdere trinitariese en liturgiese ontginning. Dit was natuurlik nie primêr die bedoeling van sy werk nie, maar wel vir hulle in daardie terreine om van kennis te neem en nou verder te ontwikkel. Is dít nie in alle waarskynlikheid die belangrikste ding wat ons doen wanneer ons bid nie?

 

Ds Martin Laubscher
Departement Praktiese Teologie
Universiteit van die Vrystaat

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons