SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 número2A preliminary research agenda for the spiritual recapitalisation of the workplace: a practical theological re-constructionResensies/Reviews índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.33 no.2 Bloemfontein Jan. 2013

 

Etiese besluitneming volgens 1 Johannes

 

Ethical decisions according to 1 John

 

 

J.G. van der Watt

Prof. J.G. van der Watt, Radboud Universiteit Nijmegen, Buitengewone professor aan Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie, Universiteit van Suid-Afrika. E-pos: janvanderwatt@kpnmail.nl

 

 


Trefwoorde: Briewe van Johannes, Etiek van 1 Johannes, Tradisie in Johannes, Gees in 1 Johannes, Waarheid in 1 Johannes


ABSTRACT

How to come to ethical decisions is an important question, both for individuals and religious institutions. In this article the way is discussed in which the author(s) of the Letters of John (especially 1 John) encourages the recipients of the Letters to come to the correct ethical decisions. He links all such decisions to the tradition they share, which corresponds to the truth they also share. The Spirit will lead and teach them accordingly.

Keywords: Letters of John, Ethic of 1 John, Tradition in 1 John, Spirit in 1 John, Truth in 1 John


 

 

1. INLEIDING

Etiese besluitneming is een van die uitdagings van ons tyd. Instansies van wie morele leiding verwag word, soos kerke, moet hulleself steeds duideliker eties posisioneer binne 'n diverse raamwerk van gemeenskappe wat toenemend sekulariseer en relativerend individualiseer. Die beslissings van "die kerk" asook die morele reg om wel sekere posisies in te neem, word vanuit verskillende hoeke steeds meer bevraagteken. Binne hierdie toenemend uitdagende tydsgees is dit belangrik om te probeer vasstel hoe daar oor etiese besluitneming in die Nuwe Testament nagedink is, veral binne raamwerke waar die Skrif as basis vir etiese beslissings geag word. Die vraag wat hier aangespreek gaan word, is hoe etiese gedrag in 'n antieke Christelike gemeenskap soos die van Johannes gerealiseer is. Ten einde dit vas te stel gaan die wyse waarop tot etiese besluitneming in die Briewe van Johannes (veral 1 Johannes) gekom is, ondersoek word.

 

2. ETIEK EN SITUASIE

Voordat met die bespreking verder gegaan kan word, moet twee punte eers opgeklaar word, naamlik, wat etiek is en in watter situasie 1 Johannes geskryf is.

a Etiek het te doen met die teoretiese nadenke oor goeie gedrag, asook die rede of motivering vir sulke gedrag2 (die vraag na die goeie - agathos - was 'n basiese fokus van etiek van die Sofistiese en Sokratiese3 tye af4). Meeks (1993:4) omskryf die betekenis van die term etiek so:

I take 'ethics' in the sense of a reflective, second-order activity: it is morality rendered self-conscious; it asks about the logic of moral discourse and action, about the grounds for judgment, about the anatomy of duty or the roots and structure of virtue.

Dit is 'n proses waarin die volgende vraag rasioneel oorweeg word: Wat moet en wat mag nie gedoen word nie en waarom? Etiek is natuurlik nie die dade self nie, maar die wetenskaplik-teoretiese nadenke oor die goeie of slegte aard van dade, asook die begronding van die dade.5 Om die begronding van die dade te kan evalueer, is dit natuurlik nodig om die denkraamwerk asook die kontekste en situasies waarbinne die nadenke oor die dade asook die dade self plaasvind, te verstaan, aangesien gedrag altyd binne situasies of kontekste gerealiseer word en die kontekste bydra tot die vorming van etiese besluitneming en beoordeling. Binne die raamwerke word die aard van die etiese nadenke dan ook verstaan.

b Die Briewe van Johannes is geskryf om 'n baie spesifieke konteks aan te spreek. Die hele probleem rondom die skryf van 1 en 2 Johannes kan nie hier beredeneer word nie en dit is ook nie nodig nie, omdat die saak voldoende in ander sekondêre literatuur bespreek word.6 Enkele relevante punte moet tog genoem word. Die Johannese groep (die ontvangers van die briewe) is volgens alle tekstuele aanduidings kort tevore deur 'n skeuringsproses (sien 1 Joh 2:18-24), hoewel daar nog tekens van kontak tussen die twee groepe bestaan (2 Joh 11). Die Briewe is aan die agtergeblewe ortodokse groep gerig en reflekteer hul perspektief op die skeuring en die opponente, natuurlik deur die oë van die outeur(s). Vir ons doeleindes is dit voldoende om te weet dat die skeuring waarskynlik rondom twee belangrike sake plaasgevind het, naamlik, die belydenis van Jesus as mens en Messias wat versoenend kom optree het en die etiese konsekwensies wat uit so 'n belydenis voortvloei.7 Die konflik rondom hierdie twee sake in die Johannese groep het natuurlik die aard van die reaksie asook van die etiese taal van die outeur(s) in die Briewe mede-bepaal.8 Binne hierdie raamwerk van krisis en konflik, onder andere ook oor etiese sake, moet die uiteensetting van die proses van etiese besluitneming, soos dit in 1 Johannes geskets word, verstaan word. Met krisissituasies is die bevestiging van die eie identiteit, argumentasie om die eie posisie te versterk en die afmaak van die opponente9 dikwels op die voorgrond. Dit is heuristies en hermeneuties belangrik om dit te verreken.

 

3. IDENTITEIT EN ETOS VAN DIE JOHANNESE GEMEENSKAP

Die eerste verse van die eerste brief plaas die outeur en sy groep ("ons") sentraal binne die voortgaande proses van die oordrag van die Jesustradisie. Hierdie tradisie word teruggevoer na die verkondiging van Jesus self wat van die "begin af" was (Ό ήν άπ άρχής - 1 Joh 1:1) toe Hy gehoor, gesien en aangeraak is.10 Die inhoud van die boodskap wat die-outeur verkondig gaan oor die teenwoordigheid van die ewige lewe in die wêreld soos dit deur Jesus aan "ons" (die outeur en sy groep) geopenbaar is (1 Joh 1:1-4). Die boodskap is van die Seun gehoor en word as sodanig verkondig. Op hierdie wyse is die tradisie waarbinne die Johannese gelowiges hulle bevind en van waaruit hulle leef, bevestig en gegrond.

Dit bring ons by 'n tweede belangrike punt. Die outeurskap van 1 Johannes is onseker, onder andere omdat die outeur hom/haarself nie bekendstel soos wat die gebruik met antieke briewe is nie (sien die ander twee Johannese briewe, asook die briewe van Paulus en Petrus). As antwoord op die vraag waarom dit nie gedoen word nie, word dikwels gemeen dat dit nie sonder rede was nie. Die outeur wou nie die klem op homself plaas nie, maar wou eerder die boodskap op die voorgrond stel. Die outeur skryf nie uit een of ander gesagsposisie nie, maar bloot as iemand wat die draer van die tradisionele boodskap is. Die werklike gesag is nie by hom nie, maar in die tradisie gesetel. Sy lesers moet luister na wat hy te sê het op grond van die waarheid van die tradisie wat openbaar is en nie oor wie of wat hy is nie. Klauck (1991:185) merk op dat deur te verwys "na wat die gemeente weet" kry die outeur dit reg om 'n "vorgegebene Glaubenstraditionen ins Spiel" te bring (1 Joh 2:24; Painter 2002:201; Menken 2010:52). Hierdie boodskap word 'n "Bindemittel zwischen Christus und den Glaubenden" (Schnackenburg 1984:159). As daar dus na die tradisie verwys word, word na die basis van kennis verwys wat die gelowiges gedeel en van waaruit hulle geleef het.

Binne die raam van etiese nadenke speel die verskynsel van gedeelde kennis of tradisie 'n belangrike rol, aangesien dit as gemeenskaplike kognitiewe basis vir etiese optrede binne 'n groep dien. Die term etos11 word dikwels gebruik om die aard van bestaande gedeelde kennis en die gevolglike vorming van gedragpatrone mee uit te druk. Volgens Meeks (1993:8) is:

Our moral intuitions... those unreflective convictions about what is right or wrong, fair or unfair, noble or despicable, with which all the more complicated moral decisions must begin and which they must take into account,

of soos Keck (1974:490) dit stel, etos word uitgedruk in die "life-style of a group or society".12 'n Ouer wat vir sy kind sê: "Moenie ons in die skande steek nie" gee geen praktiese riglyne vir wat die kind eties moet doen nie, maar moedig die kind aan om sy of haar gedrag in ooreenstemming te bring met die etos van die groep. Wolter (2001, 2009) definieer etos as

einen Kanon von institutionalisierten13 Handlungen, die innerhalb eines bestimmten sozialen Systems in Geltung stehen. Ihnen wird Verbindlichkeit zugeschrieben, weil allererst durch solche Handlungen eine bestimmte Gruppe als solche erkennbar und erfahrbar wird.

Dit gaan dus om gedeelde kennis wat bewustelik of onbewustelik die denke en gedrag van 'n bepaalde groep beïnvloed en bepaal.

Die klem val hier op twee belangrike aspekte: a) 'n gevestigde gedragspatroon in die geloofsgemeenskap wat gebaseer is op die gedeelde kennis van daardie groepering (Wolter 2009:128-132)14 en b) die verwantskap tussen gedrag en identiteit wat die rasionaal vorm van die manier waarop mense optree. Hierdie kennis word gewoonlik in 'n gemeenskap bewaar en beskerm en daar bestaan gewoonlik weerstand teen verandering. Funksioneel beteken dit dat etos direk verband hou met 'n groep se uitdrukking van hul identiteit, wat ook neerslag in hulle gedrag vind.15

Om te kan vasstel wat die aard van die etos van 'n groep is, moet hul gedeelde kennis waarop die "canon of institutionalized actions" gebaseer is, geanaliseer word. Dit het nie net te doen met die analisering van hul optrede nie, maar ook met die vasstel van wat eintlik agter die optrede sit. Waaroor gaan dit eintlik as ouers sou sê: "Moenie ons familie in die skande steek nie"?.

'n Basiese kenmerk van 1 Johannes is die herhaaldelike verwysing na die gedeelde kennis van die groep, wat teruggaan op Jesus self (1 Joh 1:1-4). Dit blyk uit die verskeidenheid kognitief-verwante woorde wat deurgaans gebruik word, soos αίδα16, γινώσχω17, ϕανεροω18, άχούω19, γράϕω20, µαρτυρέω21, almal woorde wat verwys na die bestaande tradisionele kennis van gelowiges, kennis wat deur hulle aanvaar word en as basis van hul tradisie oorgelewer is.

Veral twee verwante woorde staan uit, naamlik αίδα (veral saam met ) en γινώσχω. Hierdie woorde word gebruik as inleiding van die gedeeltes waarin die fokus val op wat die outeur veronderstel die gelowiges reeds weet en aanvaar, dit wil sê hul bestaande, gedeelde kennis.22 Nog 'n manier waarop Johannes die klem laat val op die kennis wat hulle het, is om te verwys na dit wat hulle gehoor het (άχούω) en dus kennis van dra. Dis juis op sulke kennis wat die gelowiges se self-indentiteit gebaseer is en gemotiveer word. Op 'n retoriese wyse gebruik Johannes hierdie gedeelde kennis as basis van waaruit hy verder met sy lesers kommunikeer en sy boodskap uitbou. Wat hy te sê het, groei vanuit en word in lyn gebring met hierdie gedeelde kennis van die gelowiges en so kry Johannes dit reg om met sy lesers te kommunikeer, gebaseer op die etos van sy lesers.

Nou is die vraag natuurlik waaruit die gedeelde kennis wat deel van die etos van die Johannese groep gevorm het, bestaan het. Dit sal die raamwerk van denke wat deel van hulle wêreldbeeld gevorm het, blootlê. Wat hier volg, is 'n reeds gesistematiseerde weergawe van die kennis wat op grond van die voorkomste van bogenoemde woorde, met ander woorde, wat die groep geweet of al gehoor het, opgestel is.23

a. Die outeur van 1 Johannes lê klem daarop dat hulle van die begin af hierdie boodskap gehoor het - hulle is in hierdie tradisie ingebed wat deur Jesus bekend gemaak is en wat met Hom te doen het (1 Joh 1,3; 2:24). Hulle ken dit. Dit is wie hulle is en wat hulle manier van denke bepaal. So 'n stelling is in die antieke wêreld belangrik waar dit van belang was om jou tradisie goed te begrond, wat natuurlik beteken dat dit moes teruggaan na die oorspronklike bron - hoe ouer hoe beter. Nuwe bewegings is met skeptisisme bejeën. Dit kan ook deels die rede wees waarom daar beklemtoon word dat dit nie 'n nuwe opdrag is nie maar 'n oue wat hulle van die begin al af gehoor het (1 Joh 2:7). Hulle is deel van hierdie ou tradisie en dit behels nie sommer nuutgevonde idees nie. In 'n krisissituasie, soos die een waarin die Johannese gemeente hulleself bevind, is dit belangrik. Hulle maak deel uit van die ou ortodokse standpunt en groep - die groep opponente wat weggebreek het, is die verkeerdes wat met die nuwe vreemde idees sit. Die belangrike punt vir die verstaan van die etos is hier dat die groep deeglik aan 'n stel kennis, wat met Jesus verband hou, gebind is. Dit gaan nie oor los of nuwe idees nie, wat beteken dat daar telkens terugverwys moet word na die "tradisie oor Jesus" wat van die begin af gehoor is.

b Die groep het geweet dat hulle identiteit gevestig is in hul verhouding met die Vader en die Seun. Hulle het gehoor dat God Lig is en dat hulle in hierdie lig is en moet lewe (1 Joh 1:5). Hulle weet dat hulle God en Jesus ken en dat hulle in die ware God is (1 Joh 2:13-14; 3:1,6; 4:7; 5:20). Van daaruit dink hulle oor hulleself en hul optrede. Op die wyse word hul identiteit relasioneel binne 'n transendente raam gevestig en van daaruit word hul lewens bepaal. Veral die metafoor van God wat Lig is, vestig die patroon van beïnvloeding van gelowiges van die kant van God af. Waar vind jy gelowiges? In die lig van God; dit is 'n sterk etiese uitspraak, soos uit die konteks blyk.

c Hulle weet dat hulle die ewige lewe het wat beteken dat hulle 'n nuwe identiteit as kinders van God deel. Hulle het van die dood na die lewe oorgegaan deur uit God gebore te word (1 Joh 3:14-15; 5:13,18,19). Die aard van hulle nuwe identiteit was natuurlik verrykend. Binne die antieke wêreld was die kern van die sosiale werklikheid die familie van waaruit die identiteit, selfbeeld en etiek van die individu bepaal is. Die Johannese groep het geweet dat hulle aan 'n nuwe familie behoort, met die dienooreenkomstige vereistes wat dit aan die individu stel. God is nou hul Vader en aan Hom moet hulle gehoorsaam wees.

d Die Johannese groep het verder geweet dat dit hulle binne die raamwerk van die waarheid leef. Hulle ken die waarheid want God is die waarheid (1 Joh 2:20-21; 1 Joh 5:20; 2 Joh 1). Waarheid in die Johannese geskrifte verwys na die oorkoepelende werklikheid wat deur God bepaal word en met Hom verband hou (Van der Watt 2009:317-333). Dit is nie alleen iets abstraks nie, maar word konkreet uitgedruk daar waar God se wil geskied, met ander woorde waar liefde geleef word. Deur aan die waarheid deel te hê of in die waarheid te leef beteken dus om heeltemal te leef volgens die vereistes en verwagtings van God. As die outeur dus sê dat hulle die waarheid ken, het dit by die gelowiges die wêreld van God met sy verwagtings opgeroep en hulle lewens vierkantig daarbinne geplaas.

e Hiermee hang hulle kennis van die liefde van God saam (1 Joh 4:16) wat die essensie van hul morele gedrag moet bepaal. Hulle het dit van die begin af al gehoor (1 Joh 3:11; 2 Joh 6). Die "begin" verwys na die dag toe hulle die boodskap van Jesus vir die eerste keer gehoor het (Menken 2010:52). Dit maak inherent deel uit van die boodskap wat hulle gehoor het. Hulle weet dit is hoe hulle moet optree teenoor God en teenoor ander. Dit maak dit vir die outeur moontlik om op die basis van die gedeelde kennis verder oor liefde uit te brei (1 Joh 3:11-18 en hf 4).

f Wat die groep ook geweet het, is wie vir hulle die voorbeeld van liefde en regte gedrag gestel het. Hulle het geweet dat Jesus in alles wat Hy doen reg optree (1 Joh 2:29). Hy is hulle morele voorbeeld wat hulle moet navolg - dit bevestig die outeur in 1 Joh 2:6 as hy sê dat, soos Jesus opgetree (gewandel) het, so moet hulle ook optree. Omdat hulle weet dat Jesus reg opgetree het, kan die outeur dus die tradisie verder bevestig deur vir hulle te verduidelik dat hulle soos Jesus moet leef. Die tradisie en die outeur se boodskap vloei dus naatloos inmekaar.

g Vanweë hulle relasie met God het hulle geweet dat God na hulle luister sodat hulle van Hom mag vra volgens sy wil (1 Joh 5:15). Dit verseker dat hulle wense ook konkreet binne die verhouding met God ter sprake kom. In gebed vloei hulle wense en God se wil ineen, natuurlik gerig deur laasgenoemde. Dit verseker hulle van die praktiese en vormende betrokkenheid van God in hulle lewens.

h En wat van die sonde? Hulle weet dat Jesus oorwin en hul sondes weggeneem het (1 Joh 3:5); die bose het nie meer 'n houvas op 'n kind van God nie (1 Joh 5:18). Hulle mag 'n oorwinningslewe lei want die kwessie van sonde is en sal afgehandel bly deur die bloed van Chistus (1 Joh 1:8). Die bevrydende oorwinnende lewe dien as inspirasie vir die Johannese groep. Dit het deel van hulle etos gevorm. Die hele scenario van hulle verhouding met God, die liefde wat hulle ervaar en self moet bewys, die navolging van Jesus en so meer, hoef nie uit 'n lewe van stryd en neerlaag gevoer te word nie, maar met die wete en gesindheid van oorwinning in Jesus wat met foute en sonde afgereken het.

i Dan is daar die toekoms. Die Johannesevangelie is bekend vir sy gerealiseerde eskatologie, maar in 1 Johannes is dit duidelik dat die groep bewus was van eskatologiese gebeure - daar is dinge wat nog gaan gebeur en nou inderdaad aan die gebeur is. Hulle het gehoor dat die Antichris (1 Joh 2:18; 1 Joh 4:3) aan die kom is. Hulle het ook geweet dat Jesus weer kom en dat gelowiges soos Hy sal wees (1 Joh 3:2). Op hierdie manier deel hulle in die tradisie van vroeëre joodse en Christelike apokaliptiese verwagtings (Menken 2010:47, 84). Die Johannese groep het geweet dat hulle mense met 'n toekoms is en dat hulle hulself daarop moes voorberei. Hierby sluit die outeur van 1 Johannes dan ook aan om die boodskap rakende Jesus, die lewe en liefde verder te ontwikkel. Dit is dus op dié wyse 'n lewende tradisie wat die basis vir die besluite en optrede van die Johannese groep vorm. Wie nie hierdie tradisie wil navolg nie, word beskou as antichriste (1 Joh 2:18vv), wat God nie ken nie (1 Joh 4:6). Malina en Neyrey (1991:100; sien ook Malina en Rohrbaugh 1998:33) noem dit "negative labelling". Deur die opponente as mense sonder kennis wat buite die tradisie beweeg te beskryf (1 Joh 1:1-4) word hulle gebrandmerk as mense sonder God. So vloei tradisiegebondenheid en Godsverhouding ineen.

Die Johannese gelowiges het dus 'n vaste basis, naamlik hul tradisie, waarop hulle hul besluite oor wie hulle was en wat hulle moes doen kon baseer. Die basis van hul etiek was verweef met en beskikbaar in hul tradisie waaruit hulle die nodige kennis vir hulle alledaagse lewens geput het. Hulle het geweet dat hulle in die lig moes leef soos God in die lig is, dat hulle in die waarheid moes wandel deur soos Jesus lief te hê en hul naaste te help. Binne hierdie raamwerk het hulle besluite vir hul alledaagse lewe geneem.

Die etos/tradisie van die gemeente was egter nie die enigste faktor wat verreken moes word in die proses van etiese besluitneming nie. Dit het ook gegaan om die Gees van God wat hulle die waarheid leer (1 Joh 2:26-27).

 

4. DIE TEENWOORDIGHEID EN WERK VAN DIE GEES VAN GOD

In 1 Johannes word die rol van die Gees van God in terme van 'n interaktiewe en intieme verhouding tussen gelowiges en God uitgedruk.24

An den zwei Stellen, wo ausdrücklich vom Geistbesitz des Christen die Rede ist (3,24; 4,13), wird er als ein Kennzeichen der Gottesgemeinschaft gewertet (Schnackenburg 1984:209).25

In 3:24 sê Johannes: "En hierdeur weet ons dat Hy in ons woon, deur (uit, as gevolg van, vanuit) die Gees (έκτούµατος) wat Hy vir ons gegee het." Die Immanenz26 van God en die gelowige word bevestig deur die Gees wat God aan die gelowiges gegee het (Klauck 1991:225; Painter 2002:252). Dit word ook duidelik gestel in 4:13 waar die Immanenz-gedagte onderstreep word: "Omdat God vir ons sy Gees gegee het, weet ons dat ons in Hom is en Hy in ons". Maar daar word 'n stappie verder gegaan. In 1 Joh 4:15 word die Immanenz ook aan die gedeelde belydenis dat Jesus die Seun van God is, gekoppel: "Wie ookal kan bely dat Jesus die Seun van God is, God woon in hom, en hy in God" (sien ook 1 Joh 2:27). Die intieme verhouding tussen God en mense asook die teenwoordigheid van die Gees word dus gekoppel aan die belydenis dat Jesus Seun van God is, met ander woorde, aan die tradisie.

Daar is 'n direkte koppeling tussen die tradisie en die werk van die Gees in gelowiges. In 1 Joh 4:1-6 word daar iets van die dinamiek van die Gees asook die teenoorstaande geeste of gees van die antichris beskryf: die aktiwiteite van die geeste/Gees word verbind met a) profesie en b) die belydenis dat Jesus die Christus is wat mens geword het (4:1 en 2). Dit is egter veral 4:5-6 wat vir ons doeleindes opval: "Hulle (vals profete) behoort aan die wêreld, en wat hulle sê, is dus van die wêreld afkomstig, en die wêreld luister na hulle. Ons behoort aan God, en wie vir God ken, luister na ons; wie nie aan God behoort nie, luister nie na ons nie. Hieraan kan ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer onderskei". In hierdie gedeelte word die werk van die Gees van God konkreet in die getuienis van die Johannese groep waarneembaar. Painter (2002:258) verstaan dit waarna geluister moet word as "uttering prophetic words or confessing/ witnessing about Jesus" (1 Joh 4:2,15; sien ook Menken 2010:77). Die tradisie rondom Jesus maak direk deel van hierdie woorde uit (sien Schnackenburg 1984:210-211) en die teenwoordigheid en aanvaarding van hierdie woorde dui op die teenwoordigheid van die Gees.27 Daar kan nie 'n breuk gemaak word tussen die woorde en die Gees nie. Soos in die Evangelie van Johannes (14:26; 15:26) word die teenwoordigheid en werk van die Gees direk gekoppel aan die outentieke boodskap van en oor Jesus. Wie dus nie aan die tradisie deel of hulle daaraan wil onderwerp nie, is nie van God of van die waarheid nie. Inderdaad, wie nie na die groep luister nie, toon so dat hulle nie aan God behoort nie. Menken (2010:91) is korrek as hy beweer: "Door de ervaring iets van Gods Geest te bezitten weten christenen van hun band met God".

Die verband tussen die werk van die Gees en die tradisie word ook veral sterk beklemtoon in 1 Joh 2:18-28 waar daar oor die resente skeuring in die Johannese groep gereflekteer word. In 1 Joh 2:20 kom 'n betekenisvolle uitdrukking voor: "Julle is egter deur die Heilige Een gesalf () en julle ken almal die waarheid." In vers 27 sê die outeur dan: "Die Salwing wat julle van hom ontvang het (), bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle moet leer nie. Soos dieselfde Salwing julle oor alles leer (), so is wat Hy julle leer, die waarheid en geen leuen nie; soos Hy julle geleer het, moet julle in Hom bly". Hierdie kennis waarin hulle deur die Salwing (Gees) geleer word, is dit wat hulle van die begin af gehoor het (1 Joh 2:24) en word op dié manier gekoppel aan die tradisie van die Johannese groep (Smalley 1984:104). Die taak van die Salwing is om die tradisie waarin die gelowiges staan, te verdiep (Smalley 1984:105; Marshall 1978:153).

Op die punt is dit tog belangrik om te vra wat presies met "(S)salwing" bedoel word. Aangesien dit nie direk in die teks gesê word nie, moet verskeie moontlikhede oorweeg word.28 In 1 Joh 2:20 lyk dit of daarmee na een of ander "handeling" (van salwing - vergelyk Bultmann 1973:37 met Westcott 1902:73) verwys word. Dit kan egter ook na 'n objek verwys (soos die olie wat simbolies na die Gees sou kon verwys29 - sien Haas et al. 1972:65; Marshall 1978:153).30 Die meeste kommentatore lees "salwing" egter as 'n verwysing na die "Gees".31 'n Argument ten gunste hiervan is dat 'salwing' in die ou Testament altyd verstaan is in terme van die teenwoordigheid van die Gees van God (1 Sam 16:13; Jes 61:1). In die twee gevalle in die Nuwe Testament waar Jesus met die Gees van God gesalf word (Luk 4:18; Hand 10:38), word soortgelyke verwysings aangetref. Dit kan natuurlik ook na die doop verwys32, maar Smalley (1984:106) argumenteer dat daar nêrens in die eerste eeu enige bewys te vinde is dat mense tydens die doop gesalf is nie. Daarom moet 'n mens versigtig wees om nie te gou "salwing" en "doop" met mekaar te verbind nie (sien ook Marshall 1978:153-154). Nietemin, die referensiële koppeling van die konsepte van "Salwing" en die Gees van God word ook ondersteun deur die verpersoonliking van "Salwing" in 1 Joh 2:27, waar gesê word dat die Gees van God die gelowiges alles leer wat hulle nodig het om te weet.

Ander meen weer dat die "salwing" eintlik na die woord van God verwys, die leer van die evangelie,33 wat deel van 'n persoon is en die persoon in staat stel om te leer. Elders in die Johannese literatuur word daar ook verwys na die "woord in die gelowige bly" (1 Joh 1:10; 2:14; 2 Joh 2; Joh 5:38; 15:7). Smalley (1984:107) verwys na Dodd in hierdie verband:

Thus Dodd concludes that χρίσµα, in vv 20 and 27, 'which confers knowledge of God, and is also a prophylactic against the poison of false teaching, is the Word of God, that is, the gospel, or the revelation of God in Christ, as communicated in the rule of faith to catechumens, and confessed in Baptism' (63).

'n Spesifieke keuse lyk vir verskeie geleerdes problematies en hulle laat die moontlikheid oop dat die salwing na beide die Gees en die woord van God verwys:

The two do not exclude one another, for the gospel cannot give true knowledge unless through the Spirit, and the spirit is to be tested by the gospel (Haas, De Lange & Swellengrebel 1972:66; sien ook Smalley 1984:107).34

Dit impliseer die implisiete versmelting van die tradisie en die werk van die Gees. In hierdie studie word daarvan uitgegaan dat daar ten minste na die Gees verwys word en waarskynlik ook na die woord.

As die twee kontekste hierbo bespreek (1 Joh 2:18-26 en 4:16) met mekaar in verband gelees word, is die volgende scenario moontlik. Die opponente het hulleself waarskynlik beroep op die Gees van God vir hul foutiewe standpunte oor Jesus, wat deur die outeur as vals verwerp word. Immers,

the objective word of God's truth cannot be detached from the interior testimony of the Holy Spirit, present in the believer (Smalley 1984:107)

- die waarheid word alleen in die Johannese groep gevind, na wie geluister moet word (1 Joh 4:5-6). Die verwysing na die "salwing" sal binne so scenario waarskynlik verwys na die "salwing deur die Gees van God" wat integraal verwant is aan die woord van die waarheid oor Jesus wat van die begin af gehoor is.

The faithful are by definition those who have received the gospel of truth, and appropriated it through the activity of the Spirit; and this cannot be said of those whose understanding of the apostolic preaching (about Jesus) is inadequate or erroneous (Smalley 1984:123).

'n Vraag is wat bedoel word met die "gesalfdes" wat volgens 1 Joh 2:27 geen verdere onderrig nodig het nie. Word die kennis hier versubjektiveer en so ontkoppel aan die leer van die gemeente? Natuurlik nie, dit is juis die teenoorgestelde wat hier gebeur. Die Briewe van Johannes self is baie sterk lerend van aard; die lering deur die skrywer word voortdurend aan die tradisie (wat die gemeente weet en gehoor het) gekoppel, soos hierbo ook aangedui is. Die stelling kan dus nie verstaan word asof daar geen lering meer nodig is nie. Wat wel blyk, is dat hulle kennis binne die raamwerk van die tradisie beweeg wat aan die gelowiges bekend is. Soos Akin (2001:125) dit stel:

Additional revelation was not needed; indeed it could be deadly. Spiritual illumination of the received traditions was the pattern they should follow.35

As die opmerkings oor die Gees in 1 Joh 4:1vv saam met díe in 1 Joh 2:20vv gelees word, dan is dit baie duidelik dat die werk van die Gees van God en die tradisie baie nou verweefd is. Die gemeente weet dat die Gees van God van die begin af geëien word deur die egtheid van die belydenis wat verweefd is met die tradisie (Westcott 1902:79). Die Johannese gemeenskap sal daarom vals profete kan uitken, omdat hulle hierdie waarheid deur die tradisie ken. As dit korrek is, beteken dit dat die opmerking "dat hulle geen verdere onderrig nodig het nie" 'n manier is om die grense van die tradisie of die etos van die groep af te baken en te beskerm, waarskynlik teen die opponente se opinies (Brown 1979:142; Schnackenburg 1984:162; Smalley 1984:126; Johnson 1995:58).

Natuurlik sluit hierdie leiding en lering deur die Gees die morele aktiwiteite van die gelowiges in, want dit is immers deel van die tradisie. Etiek, tradisie en die Gees kan nie geskei word nie, maar is interafhanklik.

 

5. WAT IS DIE ROL VAN DIE GELOWIGE IN DIE PROSES?

Vroeër is geargumenteer dat die outeur van 1 Johannes klem lê op die intieme en dinamiese verhouding tussen God en gelowiges. Hierdie verhouding word deur die Gees van God onderhou op grond van die tradisie/etos van die groep Johannese gelowiges (Menken 2010:53). Die werk van die Gees van God word geëien in iemand op grond van daardie persoon se belydenis (1 Joh 4:1-2) wat dan weer 'n aanduiding is van die intieme verhouding tussen God en die gelowige (1 Joh 4:4-6). Die werk van die Gees van die waarheid kan nie die ware tradisie weerspreek nie en vice versa (Menken 2010:53-54). In die woorde van Painter (2002:198): "The approach of 1 John was to tie the teaching activity of the Spirit to the foundational words of Jesus".

Dit veronderstel egter nie 'n mistiese of meditatiewe tipe relasie tussen God en gelowiges nie, maar eerder 'n relasie gebaseer op die interpretasie van die tradisie deur die leiding van die Gees van God. Hoe behoort ge-lowiges se individuele bydrae binne hierdie relasionele raamwerk verstaan te word? In 1 Joh 4:1 word die Johannese gemeenskap gewaarsku om nie enigiemand wat sê dat hy deur die Gees van God praat te glo nie. Hulle moet liewer die tradisionele kennis wat hulle het, gebruik om tussen die verskillende geeste te onderskei. Dit beteken doelbewuste oorweging en besluitneming van die kant van die gelowiges om wat gehoor word, te toets volgens die gedeelde waarheid van die groep en dan daarvolgens te reageer. Gelowiges het immers die verantwoordelikheid om "te bly in die woorde van Jesus" (1 Joh 2:24). Deel van hulle spiritualiteit is dus om altyd hul situasie te heroorweeg in die lig van die tradisie rondom Jesus met behulp van die leiding van die Gees van God; soos Strecker (1989:140) dit stel:

Daß die Glaubenden 'in ihm' bleiben sollen, spricht die Forderung aus, die vom Geist geschenkte Wahrheit stets neu zu aktualisieren.

In hierdie proses van besluitneming sal die Gees hulle lei en leer. Dit impliseer uiteindelik dat die individuele besluitneming in tandem met die groepsopinie sal wees en dit inderdaad gestalte sal gee.

'n Laaste punt verdien nog aandag. In 'n groepsgeoriënteerde samelewing, soos die waarin die Johannesbriewe tot stand gekom het, het die identiteit van individue afgehang van en was dit bepaal deur die groepsetos soos uitgedruk in hul tradisie. Die realiteit was natuurlik dat elke gelowige lid was van twee families, sy aardse, fisiese familie en, as kind van God, die spirituele familie van God. Dit is te wagte dat om aan twee families in hierdie tipe konteks te behoort konflik kon veroorsaak, want watter familie moet in die vorming van identiteit en optrede prioriteit ontvang? Volgens Johannes moet die familie wat aan God behoort voorkeur kry. God is Lig en gelowiges moet optree soos mense van die lig (1 Joh 1:5-8). Dit impliseer 'n voortdurende keuse wat die gelowige moet maak ten einde binne die raam van die spirituele familie te bly. Die konstante beslissing deur gelowiges binne die raam van die tradisie en die werk van die Gees vorm die hart van etiese besluitneming volgens 1 Johannes.

Samevattend dus, die Johannese groep se identiteit is gekoppel aan die gedeelde kennis, hul tradisie. Hulle weet wie hulle is, watter God hulle aanbid, wat hulle verhouding met die God is en wat Hy verwag, wat Jesus vir hulle kom doen het en dat hulle van hom moet leer en soos Hy moet optree. Saam verwag hulle die toekoms wat vir hulle wag waar hulle soos Jesus sal wees. In hierdie proses begelei die Gees hulle deur hulle te leer en te lei. Hulle verbondenheid met die Gees is hul waarborg vir 'n lewe in waarheid en Immanenz met God. Dit maak hulle egter nie besluiteloos of voer hulle nie in mistisisme mee nie. Binne die dinamika van die tradisie en die Gees moet die gelowige bewustelik besluite neem wat hom of haar konstant binne die raamwerk van die aktiwiteit van God deur die Gees sal plaas. Dit vorm die raam waarbinne etiese besluitnemning gestalte kry.

 

BIBLIOGRAFIE

Akin, D.L. 2001. 1, 2, 3 John. Nashville: Broadman & Holman Publishers.         [ Links ]

Arndt, W., Danker, F.W. & Bauer, W. [BDAG] 2000. A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature. Chicago: University of Chicago Press.         [ Links ]

Bdag 2000: see Arndt et al. 2000.

Buschke, F. 2007. Die Begründung und die Durchsetzung der Ethik bei Paulus. Leipzig: Evangelische Verlagsanstalt.         [ Links ]

Brown, R.E. 1979. The community of the beloved disciple: The life, loves, and hates of an individual church in New Testament times. New York: Paulist.         [ Links ]

Brown, R.E. 1986. The Epistles of John. New York: Doubleday.         [ Links ]

Bultmann, R. 1973. The Johannine Epistles. Philadelphia: Fortress.         [ Links ]

De la Potterie, I. 1959. "L'onction du chrétien par la foi," Bib (40):12-69.         [ Links ]

Despres, L.A. 1975. Toward a theory of ethnic phenomena in Ethnicity and resource competition in plural societies. Despres, LA (ed.), Mouton: Den Haag.         [ Links ]

Du Toit, A.B. 1994. Vilification as pragmatic device in Early Christian epistolography, Biblica 75(3):403-412.         [ Links ]

Elwell, W.A. 1989. Evangelical commentary on the Bible. Vol. 3. Grand Rapids: Baker Book House.         [ Links ]

Furnish, V.P. 1968. Theology and ethics in Paul. New York: Abingdon.         [ Links ]

Haas, C., de Jonge, M. & Swellengrebel, J.L. 1972. A handbook on the letters of John. New York: United Bible Societies.         [ Links ]

Heiligenthal, R. 1983. Werke als Zeichen. Tübingen: Mohr Siebeck.         [ Links ]

Hunold, G.W., Laubach, T. & Greis, A. (eds.) 2000 Theologische Ethik: Ein Werkbuch, Tübingen: Francke.         [ Links ]

Johnson, T.F. 1995 New International biblical commentary: 1, 2, and 3 John. Peabody: Hendrickson Publishers.         [ Links ]

Keck, L.E. 1974. On the Ethos of Early Christians. JAAR 42:435-452.         [ Links ]

Keener, CS. 1993. The IVP Bible background commentary: New Testament. Downers Grove: InterVarsity Press.         [ Links ]

Kistemaker, S.J. & Hendriksen, W. 2001 Exposition of James and the Epistles of John. Grand Rapids: Baker Book House.         [ Links ]

Klauck, H.-J. 1991. Der erste Johannesbrief. Neukirchen: Neukirchener Verlag.         [ Links ]

Liddell, H.G. & Scott, R. 1968. A Greek-English lexicon. Oxford: OUP.         [ Links ]

Lieu, J. 2008. I, II, & III John. Louisville: Westminster John Knox.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A. 1996 Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains. New York: United Bible Societies.         [ Links ]

Malina, B.J. & Neyrey, J.H. 1991. Conflict in Luke-Acts: Labeling and Deviance Theory. In: J.H. Neyrey (ed.). The Social World of Luke-Acts: Models for Interpretation. (Peabody, MA: Hendrikson:), pp.97-122.         [ Links ]

Malina, B.J. & Rohrbauch, R.L. 1998. Social-science commentary on the Gospel of John. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Marshall, I.H. 1978. The Epistles of John. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

Meeks, W.A. 1993. The origins of Christian morality: The first two centuries. New Haven: Yale Univ Press.         [ Links ]

Menken, M.J.J. 2010. 1,2, en 3 Johannes. Een praktische bijbelverklaring. Kampen: Kok.         [ Links ]

Mönnig, H.O. 1980. Groepsidentiteit en groepswrywing: enkele waarneminge oor ras, rassisme, volk en etnisiteit, nasie en nasionalisme. Perskor: Johannesburg.         [ Links ]

Olsson, B. 1999. Deus semper maior? On God in the Johannine writings. In: J. Nissen & S. Pedersen (eds.). New Readings in John. Literary and theological perspectives. (Sheffield: Sheffield Academic Press), pp.143-171.         [ Links ]

Painter, J. 2002. 1, 2, and 3 John. Collegeville: Liturgical Press.         [ Links ]

Pieper, A. 2002 Einführung in die Ethik. A. Francke Verlag: Tübingen/Basel.         [ Links ]

Prostmeier, R. 1990. Handlungsmodelle im ersten Petrusbrief. Echter: Würzburg.         [ Links ]

Schmeller, T. 2001 Neutestamentliches Gruppenethos. In J. Beutler (ed.). Der neue Mensch in Christus. (Freiburg: Herder), pp.120-134.         [ Links ]

Schnackenburg, R. 1984. Die Johannesbriefe. Herder: Freiburg.         [ Links ]

Schnelle, U. 2010. Die Johannesbriefe. Leipzig: Evangelische Verlag.         [ Links ]

Schweppenhäuser, G. 2003 Grundbegriffe der Ethik. Hamburg: Junius verlag.         [ Links ]

Smalley, S.S. 1984. 1, 2, 3 John. Dallas: Word.         [ Links ]

Sorokin, P.A. 1948. Society, culture and personality - their structure and dynamics. A general system of sociology. New York: Harper.         [ Links ]

Stählin, G. 1964-1976. Phília et alii. In: G. Friedrich (ed.) Theological dictionary of the New Testament. Vol 9,(ed.). (Grand Rapids: Eerdmans) (Online edition), pp.147-171.         [ Links ]

Strecker, G. 1989. Die Johannesbriefe. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.         [ Links ]

Theissen, G. 1989. Soziologie der Jesusbewegung. München: Kaiser.         [ Links ]

Van der Merwe, J.P. 2008 Waardes as kultuuraspek van die Afrikaner. Journal of Humanities 48(3):357-373.         [ Links ]

Van der Watt, J.G. 2007. Introduction to the Gospel and Letters of John. London: T&T Clark.         [ Links ]

Van der Watt, J.G. 2009 The Good and the Truth in John. In: E. Poplutz (hrsg.). Studien zu Matthäus und Johannes/Études sur Matthieu et Jean, Festschrift für Jean Zumstein (Zürich: TVZ), pp.317-333.         [ Links ]

Van der Watt, J.G. 2011 1,2,3 John. In: The Oxford Encyclopedia of the Books of the Bible, vol. 1. (Oxford: Oxford University Publishers), pp.472-477.         [ Links ]

Van der Watt, J.G. & Kok, J. 2012 Violence in a Gospel of Love. In: P.G.R. de Villiers. & J.W. van Henten (eds.). Coping with violence in the New Testament. (Leiden: Brill), pp.151-183.         [ Links ]

Westcott, B.F. 1902. The Epistles of St. John: The Greek Text With Notes and Essays, 4th ed. London, New York: Macmillan.         [ Links ]

Wolter, M. 2001. Die ethische Identität christlicher Gemeinden in neutestamentlicher Zeit, In: W. Härle & R. Preul (hrsg.), Woran orientiert sich Ethik? (Marburg: Evangelische Verlagsanstalt), pp.61-90. 2009. Theologie und Ethos im frühen Christentum. Tübingen: Mohr Siebeck.         [ Links ]

Zimmermann, R. 2012. Is there ethics in the Gospel of John? Challenging an outdated consensus. In: J.G. van der Watt. & R. Zimmermann (eds.). Rethinking the ethics of John. (Tübingen: Mohr Siebeck), pp. 44-80.         [ Links ]

 

 

1 Hierdie artikel word aan Hermie van Zyl opgedra uit erkenning vir sy bydrae tot die Nuwe-Testamentiese wetenskap in Suid-Afrika.
2 In die woorde van Schweppenhäuser (2003:19): "Ethik ist ein begrifflicher Reflexionszusammenhang, der sich auf Phänomene und Theorien aus dem Bereich des Moralizhen bezieht". In Hunold, Laubach & Greis (2000:3) word die volgende definisie gegee: "Theologische Ethik ist die wissenschaftliche Reflexion auf das moralisch-sittliche Urteilen und Handeln des Menschen im Horizont des christlichen Glaubens". Sien ook Blischke (2007:13).
3 Sien Singer (2007) se goeie oorsig.
4 Zimmermann (2012:59) noem dat dit Aristoteles (Eth. nic. 1180b 3) was "who began to explore 'ethical theory' (ήθιχή θεωρία; An. post. 1.33 = 89b 9). For him, ethics questioned the foundation of the life of the πόλις composed in custom and habit".
5 Pieper (2002:29) stel dit so: "Indem der Ethiker Ethik betreibt, handelt er nicht moralisch, sondern reflektiert aus theoretischer Perspektive über das Moralische und damit aus der kritischen Distanz des Wissenschaftlers".
6 Sien, byvoorbeeld, Brown (1979), Schnackenburg (1984), Klauck (1991), Strecker (1989), Menken (2010), Painter (2002).
7 Sien vir meer volledige besprekings: Van der Watt (2007; 2011).
8 Painter (2002:99) is korrek in sy bewering dat die probleem nie die van geloof vs. ongeloof is nie, maar van valse of verkeerde geloof. Daarom val die klem outomaties op die korrekte inhoud van die kennis en dit is juis waar die probleem met die opponente lê. Die inhoud van wat hulle glo is problemaies. Sien ook Painter (2002:209) en Schnackenburg (1984:215).
9 Sien du Toit (1994); van der Watt en Kok (2012:151-183) oor die verskynsel van vilifikasie.
10 Sien, byvoorbeeld, Schnackenburg (1984:52-58); Brown (1986:162-174); Strecker (1989:62-72); van der Watt (2007; ens); Klauck (1991:73-74); Painter (2002:129-131); Menken (2010:21-25).
11 Schmeller (2001:133) beweer wel: "Das ntl. Ethos ist ein Feld, dessen Erforschung (im Unterscheid zur Ethik) noch in den Anfängen steckt". Artikels deur Theissen (1989); Prostmeier (1990); Heiligenthal (1983) kan ook ter ondersteuning genoem word.
12 Sien ook Furnish (1968) Schmeller (2001:133) verwys na "Ethosfeldern".
13 Om Sondae kerk toe te gaan, is vir meeste Christene vanselfsprekend. 'n Ma hoef nie 'n lang teologiese verduideliking vir haar kinders te gee as sy hul Sondae wakker maak vir kerk toe gaan of om 'n tafelgebed by ete te doen nie. Dis 'n gebruiksgewoonte wat tuishoort by die groep waarvan hulle deel is. Hierdie soort optrede vorm deel van 'n groep se identiteit en waardesisteem.
14 Wolter (2009:133-136) verduidelik watter verskil die analitiese kategorie van die etos maak in die analisering van die materiaal en lê veral klem daarop dat meer as blote morele gedrag op gefokus word.
15 Sorokin (1948:381); Van der Merwe (2008:360); Mönnig (1980:32); Despres (1975:40).
16 1 Joh 2:11, 20, 21, 29; 3:2, 5, 15, 16; 5:13, 15, 18, 19, 20; 3 John 12.
17 1 Joh 2:3, 4, 5, 13, 14, 18, 29; 3:1, 6, 16, 19, 20, 24; 4:2, 6, 7, 8, 13, 16; 5:2, 20.
18 1 Joh 1:2; 2:19, 28; 3:2, 5, 8; 4:9.
19 1 Joh 1:1, 3, 5; 2:7, 18, 24; 3:1; 4:3, 5, 6; 5:14, 15; 2 Joh 5; 3 Joh 4.
20 1 Joh 1:4; 2:1, 7, 8, 12, 13, 14, 21, 26; 5:13; 2 Joh 5, 12; 3 Joh 9, 13.
21 1 Joh 1:2; 4:14; 5:6, 7, 9, 10; 3 Joh 3, 6, 12.
22 Painter (2002:223) is van mening dat die twee woorde eintlik soos sinonieme gebruik word. Wat ook wel in 1 Joh 2:29 (έάν είδήτε ότι δίχαιός έστιν, γινώσχετε ότι) die geval is, maar in 1 Joh 5:20 word beide woorde in dieselfde konteks gebruik, die een (οίδαµεν) beklemtoon feite wat bekend is, terwyl die ander (γινώσχωµεν)verwys na 'n persoon wat bekend is. Dít mag semanties dui op 'n meer gedifferensieerde gebruik van hierdie woorde.
23  Γινώσχοµεν kan vertaal word as "ons weet dat..." of "weet dat...". Sien ook Menken (2010:57).
24 Sien Schnackenburg (1984:209-215) oor Johannes se verstaan van die "Gees van God".
25 Verwysings na die Gees van God kom veral in die tweede deel van 1 Johannes voor (3:24; 4:1, 2, 3, 6, 13; 5:6, 8). Hierdie verwysings vorm 'n interafhanklike patroon wat vir lesers 'n duidelike prentjie gee van die rol en funksie van die Gees van God volgens hierdie brief.
26 Vir 'n meer uitgebreide bespreking van die Immanenz in hierdie brief, sien Schnackenburg (1984:66-72,105-110); Klauck (1991:225, 264-268). Sy gevolgtrekking oor die gebruik van Immanenzformeln is: "Die johanneische Immanenzformeln ermöglichen es, engste personale Gemeinschaft auszusagen und dabei doch gleichzeitig einem mystischen Verschwimmen der Persongrenzen zu wehren". Brown (1986:482) noem die uitdrukking "remaining in" die "closest type of intimate union". Menken (2010:77) koppel die verwysing van die "Gees van God" hier aan Joh 14:16-17, 26; 15:26; 16:7-11, 13-15.
27 Klauck (1991:225) vertolk die bewys van die werk van die Gees effens wyer in die sin van "keeping the double commandment of faith and love" (1 Joh 3:24). Hoe dit ook al sy, die belydenis oor Jesus bly die primêre fokus waaroor dit eintlik gaan.
28 BDAG (2000) onderskei twee sienings: "anointing (so lit. Ex 29:7) 1J 2:20, 27a, b, usu. taken to mean anointing w. the Holy Spirit (differently Rtzst., Mysterienrel.'27, 396f, who thinks of the "formal equation of the baptismal proclamation w. the χρίσµα)'. Soos uitgewys kan dié twee sienings ook gekombineer word. Liddell en Scott (1968:ad loc.) wys daarop dat in klassieke Grieks die woord gebruik word vir enigiets wat "aangesmeer word"; dit kan ook gebruik word om te verwys na 'n "opdrag wat gegee is" (sien Louw & Nida 1996:ad loc.). Brown (1986:342-347) en Strecker (1989:126-128) gee 'n goeie oorsig hieroor. Sien ook Klauck (1991:156-158); Schnelle (2010:ad loc.).
29 Haas et al. (1972:66) is van mening: "The New Testament probably does not use it with reference to the actual performance of the rite, but in a comparable metaphorical or symbolical sense". Sien ook Painter (2002:198).
30 Haas et al. (1972:65) onderskei tussen twee moontlikhede as volg: "The noun 'anointing' occurs only here and v. 27 in the New Testament. It may refer, (1) to an object, 'the means of anointing,' that is, 'anointing oil' (cp. Ex. 29.7; 30.25), or (2) to an event, either (2a) 'the (act of) anointing', or (2b) 'the (result of) being anointed.' Meanings (1) and (2b) are both possible here". Menken (2010:49) verkies die idee dat "salwing" hier verwys na die resultaat van die handeling.
31 Westcott (1902:73); Haas et al. (1972:65); Marshall (1978:153); Schnackenburg (1984:210); Klauck (1991:157); Johnson (1995:57-58); Akin (2001:ad loc.), volg Smalley (1984); Kistemaker en Hendriksen (2001:279).
32 Sien Mk 1:10; Luk 4:18; Hand 10:38 - dit mag na Jesus se doop verwys - Luk 3:21-22. Sien ook 2 Kor 1:21-22. Klauck (1991:157) beklemtoon hierdie aspek; sien verder Johnson (1995:57); Painter (2002:198); Menken (2010:49).
33 De la Potterie (1959:12-69); Haas et al. (1972:65); Smalley (1984:106); Keener (1993:ad loc.); teenoor Klauck (1991:157); Kistemaker en Hendriksen (2001:279); Menken (2010:49).
34 Elwell (1989: ad loc.) verkies "Gees van God", maar ontken nie dat "salwing" ook na die woord van God kan verwys.
35 Volgens Menken (2010:53) verwys "kennis" hier nie na kennis in die algemeen nie, maar eerder na die kennis in terme van geloof ("geloofskennis").

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons