SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 número2VoorwoordLogos, Jesus and God in John 1:1-5: A textual analysis índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089

Acta theol. vol.33 no.2 Bloemfontein Jan. 2013

 

Hermie C. van Zyl: Nuwe-Testamentikus aan die Universiteit van die Vrystaat1

 

Hermie C. van Zyl: New Testament Scholar at the University of the Free State

 

 

D. F. Tolmie

Prof. D.F. Tolmie, Dekaan: Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: tolmief@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Nuwe-Testamentiese Wetenskap, Prof. Hermie C. van Zyl, Navorsing, Biografie


ABSTRACT

In this article an overview of the academic contribution of Prof. Hermie C. van Zyl, Professor in New Testament Studies at the Faculty of Theology, University of the Free State, is presented. After a brief biographic overview, his academic contribution is discussed under the following headings: Synoptic Gospels, Hermeneutics, New Testament Studies as academic discipline; editorial activities; Bible translation and public theology.

Keywords: New Testament Studies, Prof. Hermie C. van Zyl, Research, Biography


 

 

1. INLEIDEND

Hierdie uitgawe van Acta Theologica is 'n huldigingsbundel opgedra aan Prof. Hermie C. van Zyl, Nuwe-Testamentikus, departementshoof van die Departement Nuwe Testament, en Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Dit is vir my 'n besondere voorreg om in hierdie eerste artikel in die bundel 'n oorsig van die akademiese bydrae van hierdie gewaardeerde kollega te gee. Ek was bevoorreg om vanaf 1990 sy kollega in die Departement Nuwe Testament te wees, en het deur die jare groot waardering vir sy akademiese vermoëns, integriteit, lojaliteit, betroubaarheid en besondere manier van omgaan met kollegas en studente gekry. Ek bied graag in hierdie artikel 'n kort biografiese oorsig, asook 'n bespreking van sy akademiese bydrae tot die Nuwe-Testamentiese Wetenskap.

 

2. BIOGRAFIES

Hermias Cornelius van Zyl is op 6 Junie 1947 in Rustenburg in die destydse Wes-Transvaal (vandag Noordwes-provinsie) gebore. Hy is die enigste kind van wyle Piet en Hester (gebore Van der Walt) van Zyl. Daar was 'n besondere band tussen hom en sy liefdevolle, toegewyde en betrokke ouers.

Van Zyl se voorskoolse grootwordjare bring hy in Rustenburg en Queenstown deur, waarna hy in 1952 saam met sy ouers na die Paarl verhuis. Hier bring hy van die gelukkigste jare van sy lewe deur. Hy is 'n leerling aan die Paarlse Gimnasium (nog die ou skool in Hoofstraat, regoor die Toringkerk). Omgewing, belewenisse, maats en onderwysers maak blywende indrukke op sy jong gemoed. Hy vertel dat hy vandag nog met heimwee en opwinding terugdink aan daardie dae. As dit interskole-tyd word, spoel die herinneringe aan die bittersoet rugbystryd tussen die Bloedworse (Gimmies) en die Galpille (Hoër Jongenskool) nog helder deur sy geheue.

Kerklik is hy in hierdie tyd saam met sy ouers ingeskakel by die bekende Strooidakkerk waar die bediening van die twee doktore De Villiers (Dawid en Jan; beide later professore aan die Stellenboschse Kweekskool) reeds vroeg die saadjie by hom lê om hom ook in die evangeliebediening te bekwaam. Pinkstertye in die Strooidakkerk was veral vir hom 'n belewenis.

In 1960 word sy vader na Pretoria verplaas. Ná 'n kortstondige ses maande aan die Laerskool Wonderboom-Suid word hy in 1961 'n leerling aan die Hoërskool Wonderboom, waar hy in 1965 matrikuleer. In sy matriekjaar is hy hoofseun.

Soos die Paarl (en Gimmies) is Pretoria (en Wonderboom) ervarings wat 'n diep merk op Van Zyl laat. Die Paarl met sy (destydse) landelikheid en gevoel van geborgenheid maak nou plek vir die groot stad met sy vinniger tempo, meer mense en meer ervarings. Sy hoërskooljare is gevul met 'n bonte verskeidenheid van indrukke en belewenisse - die smee van lewenslange vriendskappe, die verlies van 'n beste maat deur 'n motorongeluk, deelname aan sport, Volkspele, die Voortrekkers, CSV-kampe, sendinguitreike en -kampe, en tussenin 'n bietjie skoolwerk ook.

In die middel 1960's het die Suid-Afrikaanse Weermag 'n lotingstelsel gehad waarvolgens jongmans opgeroep is vir militêre diens. Aangesien Van Zyl nie geloot is nie, word hy algeheel vrygestel van militêre diensplig. Hy skryf hom dus in 1966 aan die Universiteit van Pretoria in as mediese student. Hy kom egter weldra agter dat sy roeping elders lê, maar moet tot die volgende jaar wag om as BA-Admissiestudent te registreer met die oog op die evangeliebediening in die NG Kerk. Intussen is hy werksaam by die Stadsraad van Pretoria se Lisensie-afdeling. Waardevolle administratiewe vaardighede word hier opgedoen.

In 1969 behaal hy die BA-graad met hoofvakke Grieks en Hebreeus. En aangesien hy reeds die vorige jaar die groot liefde van sy lewe op die kampus van die Universiteit van Pretoria ontmoet het - Amanda Geldenhuys, 'n nooi van Kroonstad - besluit hulle om verloof te raak. Hulle kom tot trou in 1970, terwyl hy daardie jaar by die Transvaalse Onderwysdepartement werk.

In 1971 hervat Van Zyl sy teologiese studies, en studeer in 1974 af. (Daardie jare was die teologiese opleiding nog vier jaar ná die voorafgaande BA-Admissie; dus sewe jaar opleiding in totaal.) In sy finale jaar dien hy as voorsitter van die teologiese studentevereniging, Deo Gloria. Intussen word twee kinders, Debbie en Wikus, vir die egpaar gebore.

1975 lui 'n nuwe fase vir die Van Zyl-egpaar in toe hy as predikant van die NG Gemeente Farrarmere, Benoni, bevestig word. Vier baie leersame en vormende jare in die praktiese bediening volg nou. Hy leer veral dat gemeentewerk nie in die eerste plek oor getalle en ambisieuse projekte gaan nie, maar oor menseverhoudings. Intussen is daar in 1977 'n derde kind, Nico, tot die Van Zyl-egpaar se gesin toegevoeg - die eerste baba wat sedert die stigting van die gemeente in 1957 in die pastorie van Farrarmere gebore is.

Gaandeweg word dit vir hom duidelik dat sy roeping in die akademie lê, spesifiek in die Nuwe-Testamentiese Wetenskap. Hy skryf hom in vir doktorale studie by die Universiteit van Pretoria, onder die promotorskap van prof. Andrie du Toit. En toe daar by Unisa 'n lektorspos in Nuwe Testament oopgaan, gryp hy die geleentheid aan. Van 1979-1984 bring hy daar ses gelukkige en vrugbare jare deur. Nie net verdiep hy hom in die Nuwe Testament nie, maar hy ontdek ook die waarde van 'n kritiese omgaan met 'n mens se eie denke. Nie sommer enigiets is aanvaarbaar nie. Dit moet die kritiese oog van eweknie-beoordeling kan deurstaan.

In 1985 neem sy lewenspad 'n nuwe wending - Bloemfontein toe, waar hy vir die volgende 29 jaar tot en met aftrede in 2013 arbei. 'n Nuwe Fakulteit Teologie het in 1980 ingevolge 'n ooreenkoms tussen die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat en die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat tot stand gekom. Dit sou die derde Fakulteit in Suid-Afrika wees waar predikante vir die NG Kerk opgelei word. Gedurende 1984 word hy as senior lektor in Nuwe Testament beroep, spesifiek om met die opleiding van predikante vir die NG Kerk gemoeid te wees.

'n Universiteit is 'n dinamiese omgewing en in Van Zyl se dienstyd ondergaan die Fakulteit drastiese veranderings - van een wat hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, op die opleiding van NG predikante afgestem is tot 'n volbloed ekumeniese instansie waar 'n verskeidenheid van kerke se studente opleiding ontvang, voor- én nagraads. Hierdie ontwikkeling word nie net deur eksterne faktore ('n nuwe staatsbestel met nuwe vereistes vir universiteite) teweeg gebring nie, maar spruit ook voort uit interne diskussie in die Fakulteit oor die aard van teologie as inklusiewe wetenskap.

Kovsies was vir Van Zyl net goed. In die departement Nuwe Testament is hy geseënd met goeie kollegas. Eers is daar prof. Jan du Rand, die destydse departementshoof, wat hom hartlik ontvang, tuis laat voel en die ruimte gun om sy doktorsgraad te voltooi (1987). Ná Du Rand se vertrek na die destydse RAU (1989) het die jong ds Francois Tolmie hom by die departement aangesluit, en werk die twee kollegas vir baie jare hartlik saam. Insgelyks het die kollegas van die ander departemente 'n konteks geskep waarbinne Van Zyl kerklik en akademies kon floreer. Ten spyte van teologiese verskille hier en daar, was daar altyd die gevoel dat die Fakulteit se belange swaarder weeg as individue se persoonlike ego's.

Met Du Rand se vertrek neem Van Zyl die leisels oor as hoof van die Departement Nuwe Testament. En so bly dit tot in 2003, toe die mantel van die dekaanskap ná prof. Pieter Potgieter se aftrede op hom val. Weens bepaalde omstandighede tree Van Zyl eers in waarnemende hoedanigheid op as dekaan (Potgieter was nog amptelik op langverlof), waarna hy op 1 Maart 2004 permanent aangestel word, 'n amp wat hy tot aan die einde van 2008 beklee. Aan die einde van daardie jaar tree hy amptelik af, maar hy word weer gekontrakteer om as departementshoof van Nuwe Testament op te tree tot aan die einde van 2013.

 

3. AKADEMIESE BYDRAE

Van Zyl het op 'n groot aantal terreine binne die Nuwe-Testamentiese wetenskap 'n akademiese bydrae gelewer. Dié bydrae kan in die volgende kategorieë verdeel word:

3.1 Sinoptiese Evangelies

Die Matteusevangelie het hom vanaf sy studentedae geïnteresseer. Sy eerste navorsingsartikel in 'n akademiese tydskrif handel dan ook oor die Matteusevangelie, en daarin volg hy sowel 'n histories-kritiese as 'n teks-immanente benadering om 'n eie interpretasie van Matteus 7:6 (deel van Matteus se Sondergut) te bied. Hy argumenteer dat Matteus in hierdie geval twee spreuke gekombineer en ook 'n byvoeging gemaak het met die doel om die gedagte van aksie-reaksie te beklemtoon: Jesus waarsku dat die dissipels versigtig moet wees met kritiek teenoor ander, want hulle loop gevaar om in die proses seer te kry (Van Zyl 1982a:67-82). In dieselfde jaar verskyn daar ook 'n gedetailleerde struktuur-analise van Matteus 18 uit sy pen, deel van 'n groter projek van die Nuwe-Testamentiese Werksgemeenskap van Suid-Afrika oor die struktuur en betekenis in Matteus 28 (Van Zyl 1982b:35-55).

Van Zyl se proefskrif handel ook oor die Matteusevangelie, spesifiek oor Matteus 18, en het as tema "Matteus 18:15-20. 'n Diachroniese en sinchroniese ondersoek met besondere verwysing na kerklike dissipline" (Van Zyl 1987a). Dit is primêr 'n metodologiese studie waarin hy fokus op die vraag hoe 'n mens 'n diachroniese en sinchroniese benadering tot 'n teks kan kombineer om 'n holistiese perspektief op 'n teks te kan bied. 'n Samevatting van die resultate van hierdie navorsing verskyn die volgende jaar as 'n navorsingsartikel (Van Zyl 1988a:75-92).

Verskeie ander aspekte van die Matteusevangelie word met verloop van tyd deur Van Zyl op grondige wyse ondersoek en bespreek: Hy toon die belangrike rol wat die terme "kindjie", en veral "kleintjie" en "geringste", in die Matteaanse ekklesiologie speel, aan: Dit word gebruik om afhanklikheid van God en kwesbaarheid aan omstandighede en mense te beklemtoon. Hy bespreek ook die belangrike implikasies wat dié insig het vir die manier waarop die gemeente en die gemeenteleiers hulle diens moet lewer om dié wat swaarkry te beskerm en te versorg (Van Zyl 1988b:11-22). In 'n ander artikel belig hy die crux interpretum in Matteus 7:13-14: die verhouding tussen "hek" en "pad". Hy ondersoek drie opsies: die hek as die begin van die pad, die hek as die einde van die pad, en hek en pad as sinonieme. In 'n deeglik gemotiveerde beredenering toon hy aan hoekom die derde opsie die mees waarskynlike is (Van Zyl 2009:135-150). 'n Verdere aspek wat in sy navorsing oor Matteus aan die orde kom, is die manier waarop gesag as diens binne die Matteusevangelie uitgebeeld word: Matteus het by sy gemeenskap 'n vrywillige marginaliteit aanbeveel waarvolgens die lesers die posisie van die armes op hulleself moes neem. Van Zyl toon aan hoe dit die manier waarop die begrip "gesag" in die Evangelie funksioneer, ingrypend beïnvloed (Van Zyl 2012:1-8). Sy jongste publikasie oor die Matteusevangelie fokus op 'n aspek wat tot dusver nog bitter min aandag in Matteaanse studies gekry het, naamlik onderskeiding ("discernment"). In hierdie bydrae skenk hy spesifiek aandag aan Matteus 25:31-46 en toon aan dat die tradisionele partikularistiese en universalistiese interpretasies van die begrippe "al die nasies" en "die geringstes" nie teen mekaar hoef te staan nie. Verder ondersoek hy die "nie weet" van die skape in hierdie gedeelte - 'n aspek wat aan die genade van God en die bemagtiging deur die Heilige Gees gekoppel word. Hy voer verder aan dat "weet" ook 'n belangrike rol speel, in dié sin dat daar aktief na God se wil gesoek moet word. Op grond van hierdie insigte argumenteer hy dat Christelike onderskeiding 'n gebeure is waarin "nie weet" (wanneer gelowiges deur God bemagtig word) en weet (wanneer gelowiges doelbewus na die wil van God soek) oorvleuel (Van Zyl 2013:110-131).

Van Zyl se akademiese insigte in die Matteusevangelie het ook 'n breër gehoor tot voordeel geval. Hy skryf byvoorbeeld riglyne vir die prediking van Matteus 18:15-20 (Van Zyl 1990a:203-215), asook vir Matteus 22:2333 (Van Zyl 1995a:42-50). In die bekende Bybellennium skryf hy ook die kommentaar vir die Matteusevangelie (Van Zyl 1999a:1116-1187). 'n Populêr-wetenskaplik werk oor die Sadduseërs se vraag oor die opstanding uit die dood (Mat 22) verskyn in 1996 (Van Zyl 1996a).

Wat Lukas-Handelinge betref, het hy verskeie bydraes gelewer: In 'n artikel oor Handelinge 15 toon hy aan hoe 'n mens te werk kan gaan om redaktionsgeschichtliche analise van 'n gedeelte buite die Sinoptiese Evangelies te doen: Alhoewel die tipe parallelle materiaal wat tipies in die geval van die Sinoptiese Evangelies voorkom, ontbreek, kan 'n mens in hierdie geval die weergawe in Galasiërs 2:1-14 gebruik. Op grond hiervan identifiseer hy vier tradisies: oor die apostelvergadering self, die konflik in Antiogië, die aposteldekreet en Ou-Testamentiese tekste oor die inbring van die heidene in die Godsvolk. Volgens Van Zyl het die outeur van Lukas-Handelinge hierdie tradisies op 'n kreatiewe wyse gebruik om die onbuigsame wettisisme van die kerk in sy tyd te probeer weerstaan (Van Zyl 1989a:43-61).

Twee artikels word aan die soteriologie van Lukas-Handelinge gewy. In die eerste artikel bied hy 'n oorsig van die manier waarop teoloë die uitbeelding van Jesus se dood in Lukas-Handelinge interpreteer. Hy wys daarop dat dit vir 'n lang tyd algemeen aanvaar is dat dié twee geskrifte nie eintlik klem laat val op die soteriologiese implikasies van Jesus se dood nie, maar eerder fokus op sy verhoging as die belangrikste soteriologiese moment. Hierdie siening is steeds die oorheersende, maar daar is tog ook 'n tendens tot 'n meer gebalanseerde benadering waarvolgens meer klem op die soteriologiese implikasies van Jesus se dood val (Van Zyl 2002a:533-557). In die tweede bydrae, in 'n internasionale publikasie enkele jare later, fokus hy spesifiek op die soteriologie van Handelinge, wat hy saamvat as "restoration to life". In twee afdelings word die Verlosser en die verlossing wat Hy bied onderskeidelik bespreek (Van Zyl 2005:133-160). 'n Enkele greep hieruit:

This kind of Saviour offers a special kind of salvation. It is not "a pie in the sky when you die"-salvation, but it is concrete and immediately available. It even offers physical restoration that reintegrates people into society as complete human beings. But it offers much more; it presents full restoration of the relationship with God through repentance, faith in the Name of Jesus, and forgiveness of sins, sin being the one condition that alienates humans from God. Thus forgiven, one is incorporated into God's community... Here the presence of God is not experienced through cultic rites, dominated from the temple by the powerplay of the so-called religious elite, but in the blood-warm family relations of the ordinary home. Here there is no power-play; everything is shared, and people serve one another with love, acceptance and forgiveness (Van Zyl 2005:158).

Die bydrae wat Lukas-Handelinge tot 'n teologie van respek kan lewer, word in 2011 onder die loep geneem. Teen die agtergrond van die destydse heiligheidskultuur wys hy hoe Lukas-Handelinge 'n verrassende nuwe perspektief kom bied, en wat die implikasies hiervan vir 'n teologie van respek is, byvoorbeeld dat ander as volledige mede-mense gesien moet word, dat almal gelyke status voor God het, dat ander mense as mense in eie reg gesien moet word en dat 'n mens jou eie verantwoordelikhede moet begryp (Van Zyl 2011a:600-613). In dieselfde jaar publiseer hy ook 'n artikel waarin die funksie van engele in Handelinge ondersoek word. Hy toon aan dat die outeur engele uitbeeld as "vehicles of divine initiative" en dat hulle spesifiek vir drie funksies gebruik word: die openbaring van God se plan, beskerming deur God, en God se straf (Van Zyl 2011b:205-220).

Van Zyl het ook twee populêr-wetenskaplike publikasies oor Handelinge die lig laat sien. In 1987 verskyn 'n volledige kommentaar oor Handelinge by Bybelkor, onder die titel Goeie nuus die wêreld in (Van Zyl 1987b). Dit word aangevul deur 'n boek vir groep-Bybelstudie oor Handelinge wat dieselfde jaar verskyn (Van Zyl 1987c). In beide gevalle word goed-gefundeerde teologie op 'n bevatlike wyse vir moderne gelowiges gebied.

Die Historiese Jesus Ondersoek kom in twee studies aan die orde: In die eerste een vra hy die vraag: "Wie was Jesus werklik?" en beantwoord dit deur 'n oorsig oor die verloop van die Historiese Jesus-ondersoek te gee, gevolg deur 'n uiteensetting van die resultate van dié ondersoek. Die geldigheid en waarde van dié ondersoek word ook belig - sowel vanuit wetenskapsteoretiese as geloofsargumente (Van Zyl 1995b:69-83). In 'n latere artikel evalueer hy die Jesus Seminar krities. Enersyds belig hy die belangrike bydrae wat hierdie ondersoekers lewer. Hy verduidelik die noodsaaklikheid van so 'n ondersoek: die aard van die Evangelies se getuienis oor Jesus maak so 'n ondersoek nodig, so 'n ondersoek help 'n mens om die dinamiese proses waarin Jesusgebeure oorgedra is, te begryp, die feit dat die Christendom 'n historiese godsdiens is, lei logies tot so 'n ondersoek, en dit bind die Christendom terug na haar oorsprong. Hy huiwer egter nie om ook die kritiese kant te belig nie, byvoorbeeld dat so 'n ondersoek nie buite sekere grense kan beweeg nie en dat daar sekere vrae is wat nie deur so 'n ondersoek beantwoord kan word nie, onder ander die vraag wie die werklike Jesus was (Van Zyl 2004:50-58).

Van Zyl lewer ook 'n bydrae tot die hoogs komplekse saak van sinopsissamestelling. Tydens 'n navorsingsverblyf in 1996 aan die Katholieke Universiteit in Leuven, België, doen hy 'n indringende studie van die hermeneutiese aspekte van sinopsissamestelling, en begin hy met die samestelling van 'n sinopsis in Afrikaans. Die projek is al 'n hele ent gevorder. Hy het ook twee artikels oor die metodologie van sinopsissamestelling gepubliseer. In die eerste artikel toon hy aan dat sinopsisse nie die objektiewe en neutrale hulpmiddels is wat mense soms dink hulle is nie, maar dat hulle eintlik 'n manipulasie van die tekste verteenwoordig. Dié feit maak dit noodsaaklik dat iemand wat 'n sinopsis wil saamstel, vooraf sy/haar voorveronderstellings moet uitspel oor aspekte soos watter Evangelie in die eerste, tweede en derde kolom kom; die oorkoepelende orde van gebeure wat veronderstel word; die perikoop-indeling, en watter materiaal parallelle is en watter nie (Van Zyl 1997a:251-278). In die tweede artikel beredeneer hy die vertaalstrategie wat hy self volg in die samestelling van die Afrikaanse sinopsis. Hy gebruik 'n letterlike vertaling wat op twee bene staan en wat prakties die volgende behels: eerstens, dat hy so naby as moontlik aan die Griekse sintaksis en taalidioom probeer bly, en, tweedens, dat hy poog om 'n bepaalde Griekse woord deurgaans met dieselfde vertaal-ekwivalent weer te gee. Beide aspekte word in hierdie artikel deur talle voorbeelde geïllustreer (Van Zyl 1999b:465-481).

Wat die Evangeliesin die algemeen betref, lewer hy 'n akademiese bydrae oor die tema "versoening". In 'n artikel oor hierdie tema (Van Zyl 2011c:229-245) bespreek hy sowel versoening met God as versoening tussen mense in die Evangelies. Die eerste faset belig hy vanuit drie perspektiewe: die rol wat die genade van God in hierdie saak speel en die wyse waarop sowel die dood as die opstanding van Christus onderskeidelik in die vier Evangelies geïnterpreteer word. Die tweede faset word vanuit twee hoeke bekyk: versoening as volkome eis en versoening as die uitreik na ander.

 

3.2 Hermeneutiek

Vir Van Zyl het dit nooit gegaan oor die wetenskap ter wille van die wetenskap nie. Dat die Nuwe Testament vir die huidige tyd verstaanbaar en vrugbaar gemaak moet word, was vir hom een van die basiese uitgangspunte van sy akademiese werksaamheid. Deur die jare het hy dus baie tyd aan hermeneutiese aspekte afgestaan. Dit is dan ook nie vreemd dat sy professorale intreerede op 14 Augustus 1991 aan hierdie saak gewy word nie (gepubliseer in 1992 as Van Zyl 1992a:453-465). Die tema van sy intreerede was die vervreemdings- en toeëieningstaak van die eksegese. Hierin beredeneer hy die tese dat betekenistoeëiening slegs langs die weg van vervreemding kan plaasvind: die teks kan nie na behore toegeëien word as daar nie 'n noodsaaklike afstand tussen die antieke tyd en vandag geskep word nie. Hy toon aan dat vervreemding noodsaaklik is as gevolg van verskeie redes: die historiese gesitueerdheid van die teks; studente se historiese naïwiteit; kerklik-teologiese praktyke en naïewe eksegetiese praktyke. Toeëiening, so redeneer hy, behoort deur verskeie faktore gekonstitueer en gekontroleer te word: Insig in die rol van leserrespons en die meervoudige aard van betekenis; die feit dat die toeëieningstaak 'n dialogiese proses is; en die noodsaaklikheid van die neem van belangrike etiese beslissings.

Hierdie uitgangspunte het hy self deur die jare in talle artikels op 'n voortreflike wyse geïllustreer. Die wye verskeidenheid sake en die belese en goed-beredeneerde wyse waarop hy telkens 'n standpunt ingeneem het, is opvallend. Die volgende lys gee 'n aanduiding van die wye verskeidenheid temas waaroor hy deur die jare navorsing gedoen het en waaroor hy bydraes gelewer het: Hoe 'n mens die Bybel beter kan verstaan (Van Zyl 1985); die implikasies van die manier waarop die Ou Testament deur die Nuwe Testament gebruik word (Van Zyl 1986:37-77); die vraag of Christene en nie-Christene in een staatsbestel mag saamwerk (Van Zyl 1990b:21-38); 'n Pauliniese visie van die bediening (Van Zyl 1991a:23-32); 'n kritiese evaluering van die kanoniese benadering van Brevard Childs (Voigt and Van Zyl 1991:561-573); hoe die Nuwe Testament die duiwel "ontmasker" (Van Zyl 1992b:9-22); hoe die grondslag van Paulus se etiek in 1 Korintiërs in 'n tyd van moraliteitsverskuiwing as riglyn kan dien (Van Zyl 1992c:120-131); die heiligheid van menslike lewe vanuit 'n Nuwe-Testamentiese perspektief (Van Zyl 1993:292-304); die hermeneutiek onderliggend aan die Nuwe Afrikaanse Vertalingsverwysingsbybel (Van Zyl 1994:346-358); 'n besinning oor die vraag of Christus die enigste weg na God is (Van Zyl 1996b:523-539); die vraag of die beroep op die huiskerk in die Nuwe Testament as Bybelse model geldig is al dan nie (Van Zyl 1997b:36-47); die wyse waarop leierskap in die kerk in die Nuwe-Testamentiese era ontstaan het (Van Zyl 1998:585-604); 'n perspektief op makro-gemeentes in die lig van wat die Nuwe Testament oor die kerk sê (Van Zyl 1999c:97-113); hoe Christene oor lotery moet dink (Van Zyl 2001a:145-152); wat die Nuwe Testament oor seksualiteit sê (Van Zyl 2002b:234-261); en 'n persoonlike verantwoording van wat Christene moet glo (Van Zyl 2003:185-198). Deur al hierdie studies loop daar een goue draad: hoe 'n mens die Nuwe Testament vir vandag op 'n legitieme manier verstaanbaar en vrugbaar kan maak. Dit word altyd op 'n noukeurige en verantwoordelike manier gedoen: die literêre en historiese aspekte van die Nuwe Testament word volledig verreken, en die gesag van die Skrif word gerespekteer. In sy eie woorde:

Elke geslag moet glo dat God in die Skrif met hulle besig is. Ons moet daarom hierdie Skrif lewend hou en toeëien, en wel in respek en vryheid. Vryheid laat die weg oop vir 'n kritiese omgang met die Skrif. Kritiese omgang staan egter altyd in diens van boodskap-ontsluiting; dit beteken nie dat die basiese aannames en uitgangspunte van die Skrif bevraagteken word sodat die boodskap self uitgehol en ontkrag word nie. Daarom word vryheid en kritiese omgang altyd begrens deur respek vir die Skriftradisie. Dit behels 'n vrywillige binding aan daardie tradisie wat deur die eeue getoon het dat dit oor die vermoë beskik om in elke geslag die boodskap van God se bemoeienis met die mens in Jesus Christus, nuut te laat ontkiem en te laat vrug dra. Die Skrif kán dit doen omdat dit op die realiteit van God se werk in Jesus Christus rus en steeds deur God kragtig en lewend gehou word (Van Zyl 2003:197).

3.3 Algemeen-teologiese Studies

Van Zyl lewer ook 'n hele aantal akademiese bydraes in 'n meer algemeen-teologiese sin.2 In 1989 verskyn 'n breë oorsig van kontekstuele teologie in Latyns-Amerika (Van Zyl 1989b:50-64); in 1990 'n artikel oor die vraag of God se genade verliesbaar is - na aanleiding van Hebreërs 6:4-6 (Van Zyl 1990c:336-347); in 1991 'n gedetailleerde uiteensetting van die ekklesiologie van die Hebreërbrief (Van Zyl 1991b:440-467); in 1992 studies oor die maagdelike geboorte van Christus (Van Zyl 1992d:69-78) en die pinkstergebeure volgens Handelinge (Van Zyl 1992e:15-22); en in 2001 'n studie oor gebed in die Nuwe Testament (Van Zyl 2001b:379-396).

In al hierdie studies blyk dit dat hy goed ingelig is oor die stand van navorsing oor die bepaalde tema, en lewer hy telkens belangrike nuwe bydraes. Twee voorbeelde: In die artikel oor die verliesbaarheid van die genade (die crux interpretum in Hebreërs 6:4-6) gee hy 'n goeie oorsig van bestaande benaderings tot die teks, maar gaan dan 'n stap verder deur aan te toon dat eksegete in die verlede nagelaat het om te onderskei tussen die betekenis en die bedoeling van die teks. Só 'n insig is noodsaaklik omdat dit help dat 'n mens nie verkeerde dogmatiese vraagstellings soos die verliesbaarheid of onverliesbaarheid van God se genade aan die teks opdwing nie. Die onderskeid wat hy in hierdie geval tussen die betekenis en die bedoeling van hierdie teks tref, word deeglik begrond deur 'n strukturele en godsdiens-historiese lees daarvan (Van Zyl 1990c:343-347). 'n Tweede voorbeeld: sy artikel oor gebed in die Nuwe Testament is nie maar net nog 'n oorsig van wat die Nuwe Testament oor die gebed sê nie (daar het immers reeds talle sulke studies verskyn). Die saak word op 'n vars manier op 'n breër teologiese vlak hanteer deurdat hy dit vanuit drie "probeem-areas" in gebed belig, naamlik gebed en die alwetenheid van God (hoekom moet gelowiges bid as God in elk geval weet wat hulle nodig het?), gebed en die wil van God (hoe pas gelowiges se gebed in binne die Goddelike wil), en gebed en die almag van God (hoe kan gelowiges aanhou bid as dinge gebeur wat hulle vertroue in God se almag skok?) (Van Zyl 2001b:379-396).

3.4 Die Nuwe-Testamentiese Wetenskap as Akademiese Dissipline

Van Zyl het ook bydraes gelewer oor die Nuwe-Testamentiese Wetenskap as akademiese dissipline. Drie artikels word aan hierdie belangrike saak gewy. In 'n eerste artikel (Van Zyl 1991c:27-49) verduidelik hy sy siening van die Nuwe-Testamentiese Wetenskap: dit is soos 'n ellips met twee brandpunte: enersyds het dit 'n teologiese aard en gerigtheid en andersyds het dit 'n gerigtheid op die teks van die Nuwe Testament. Wat eersgenoemde betref, beklemtoon hy die noodsaak daarvan dat 'n spesifieke keuse gemaak moet word om die Nuwe-Testamentiese Wetenskap as 'n teologiese dissipline te beoefen en nie te verval in een of ander verengde gerigtheid of 'n esoteriese metodologiese spesialisasie nie. Wat laasgenoemde betref, beklemtoon hy die feit dat die teks van die Nuwe Testament multi-dimensioneel van aard is en drie dimensies vertoon: 'n strukturele, historiese en teologiese dimensie. Nie een van hierdie drie dimensies behoort deur 'n goeie Nuwe-Testamentikus afgeskeep te word nie.

In 'n volgende artikel fokus hy op die toekoms van die Nuwe-Testamentiese Wetenskap binne die teologiese kurrikulum (Van Zyl 1992f:148-163): As gevolg van die teologiese aard van die vak mag dit nooit net gesien word as die verskaffer van historiese en literêre "grondstowwe" waarmee die ander teologiese vakke dan die eintlike "teologiese huis" bounie. Nee, die Nuwe-Testamentiese Wetenskap lewer in eie reg vanuit die oorsprongsdokumente van die Christendom 'n unieke teologiese bydrae. Om dit te kan doen, behoort die dissipline vry van dogmatiese oorwegings te staan. Dit mag ook nooit net ter wille van sigself bestudeer word nie, maar ter wille van die visie wat dit kan open op die verhouding tussen God en mens - veral in die sin dat dit 'n kritiese vraesteller aan die eie teologiese tradisie kan word.

In 'n derde artikel, in 2008, brei hy verder uit op die implikasies van 'n teologiese lees van die Nuwe Testament (Van Zyl 2008:133-145). Sy eie samevatting van die wesensaard van so 'n teologiese lees van die Nuwe Testament som dit netjies op:

It should be clear from the above discussion that reading the New Testament from a theological perspective is, from the point of view of the believing community, a legitimate exercise. Secondly, it is the merging of skills available in all areas of New Testament Studies; no aspect can be dispensed with. Thirdly, and more specifically, it is a combined reader- and text-orientated process. The theology of the text is not easily available; the text only surrenders its theology to those willing to travel the whole distance of diligent study. Reading from a theological perspective is involved reading - of the whole person and the whole text (Van Zyl 2008:143).

In 'n vierde artikel gee hy 'n omvattende oorsig van die stand van Nuwe-Testamentiese navorsing in Suid-Afrika in die tydperk 1993-1999 (Van Zyl 2000:169-236). Die geleentheid waarby dié bydrae aanvanklik as referaat gelewer is, was 'n byeenkoms van Nederlandse, Belgiese en Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentici op 3 Augustus 1999 in Pretoria (voor die aanvang van die internasionale SNTS-kongres aldaar). Hierdie byeenkoms was deel van die amptelike hervatting van bande tussen Suid-Afrikaanse en Vlaamse Nuwe-Testamentici - 'n ontwikkeling wat moontlik gemaak is deur die instel van 'n demokratiese politieke bedeling in Suid-Afrika. Hierdie geleentheid was die tweede byeenkoms; die vorige een is op 2 en 3 Oktober 1993 in Utrecht in Nederland gehou. Dat die keuse op Van Zyl geval het om hierdie omvattende oorsig op te stel en te lewer (die bibliografie beslaan op sigself 28 bladsye - in fyn druk!) toon watter vertroue ander Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentici in sy vermoëns het. In hierdie studie gee Van Zyl 'n volledige, maar tog ook 'n bevatlike oorsig van die stand van en tendense in die Nuwe-Testamentiese navorsing in Suid-Afrika in die tydperk 1993-1999. Saam met die studies van A.B. du Toit oor die tydperk tot en met 1993 (Du Toit 1993a:503-514; 1993b:789-809 en 1994:531-545), vorm die studie van Van Zyl tot dusver die mees volledige oorsig van Nuwe-Testamentiese navorsing binne die Suid-Afrikaanse opset.

3.5 Redaksionele Werksaamhede

Deur die jare het Van Zyl by verskeie redaksionele werksaamhede betrokke geraak. Hy was vir ses jaar (1989-1995) redakteur van Neotestamentica - die internasionaal-erkende vaktydskrif van die Nuwe-Testamentiese Werksgemeenskap van Suid-Afrika. As redakteur lewer hy uitstekende diens: Neotestamentica verskyn telkens op tyd (geen geringe prestasie nie - soos enige redakteur sal weet!), met hoogstaande bydraes, almal netjies en keurig uitgelê en uitstekend versorg. Ná sy tydperk as redakteur is hy vir 'n verdere vyf jaar as voorsitter van die Redaksieraad van Neotestamentica aangewys - 'n dankbare erkenning van die Redaksieraad se kant af vir sy goeie bydrae wat hy as redakteur gelewer het. Sedert 2009 dien hy ook as hoofredakteur van Acta Theologica, die akademiese vaktydskrif van die Fakulteit Teologie, UV. Hy dien verder ook op die redaksierade van verskeie ander teologiese vaktydskrifte.

3.6 Bybelvertaling

Bybelvertaling lê Van Zyl nog altyd na aan die hart. Gevolglik het hy vir baie jare deelgeneem aan 'n verskeidenheid van projekte van die Bybelgenootskap van SA (BSA) en CUM. Eers was daar die Verwysingsbybel wat op die 1983-Afrikaanse Vertaling gebaseer is (BSA, 1998); vervolgens 'n wêreld-eerste: 'n volledige Bybel vir Afrikaanssprekende Dowes, vertaal uit die Hebreeus en Grieks (BSA, 2008; ook gepubliseer as Die Bybel vir Almal). Tans is hy lid van die BSA-vertaalspan wat 'n nuwe bron-teksgebaseerde vertaling maak. Hy is verantwoordelik vir Matteus. Hy tree tans ook op as brontaalkontroleerder (Grieks) vir 'n projek van die BSA wat 'n volledige Bybel vir Engelssprekende Dowes daarstel. Sy kundigheid op die gebied van Bybelvertaling lei ook daartoe dat hy by die bestuur van die BSA betrokke raak. Vanaf 2006 dien hy as voorsitter van die Vrystaatse Streekskomitee van die BSA, en as sodanig ook as lid van die Algemene Jaarvergadering van die BSA. In 2012 is hy verkies op die Raad van Direkteure van die BSA, waar hy tans as onder-voorsitter dien. Hy was ook lid van die hersieningskomitee van die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) (CUM, 2011), en lid van die span wat 'n interliniêre Nuwe Testament in Afrikaans die lig laat sien (CUM, 2012). Verder is hy ook lid van die beplanningskomitee van die New Living Translation for Africa, 'n projek van Tyndale House Publishers (2011-). Hierdie Bybel poog om met behulp van allerlei bykomende inligting en artikels die behoeftes van die Afrika-leser aan te sny. Laastens is Van Zyl ook lid van die redaksie om 'n Tematiese Studiebybel, gebaseer op die teks van die NLV, te publiseer ('n projek van CUM).

3.7 "Publieke" Teoloog

'n Substansiële deel van Van Zyl se tyd wy hy aan die bediening van die Woord op grondvlak. Soos reeds hierbo aangetoon, beskou hy nooit hierdie aspek van sy werk as 'n blote bykomstigheid nie. Vir hom was dit altyd 'n integrale deel van sy taak as akademikus. Daarom is sy bydraes op hierdie gebied altyd akademies verantwoord en wel-oorwoë, maar terselfdertyd op 'n bevatlike vlak sodat dit 'n groot gehoor bereik. Hy slaag inderdaad daarin om prakties die Woord aan die woord te kry!

Enkele voorbeelde van hierdie kant van sy wetenskaplike bydrae: Hy was vir baie jare dosent by die Bloemfonteinse Bybelskool (hy was voorheen ook betrokke by 'n soortgelyke Bybelskool in Pretoria) waar lidmate begelei is in die verstaan van die Bybel. Vir bykans twee jaar het hy ook 'n weeklikse Sondagprogram, Die Bybel in Perspektief, vir die plaaslike radiostasie, Radio Rosestad, aangebied. Met die hulp van verskillende medewerkers is 'n verskeidenheid van onderwerpe in en rondom die Bybel behandel. Verder is hy al vir etlike jare medewerker van Volksblad se gereelde rubriek, Woord en Perspektief, waar verskeie aktuele kwessies vanuit die Woord belig word. Afgesien van die bydraes tot Volksblad, lewer hy deur die jare ook talle populêr-wetenskaplike bydraes tot ander forums, byvoorbeeld Deo Gloria, Die Fakkel, Saamsoek, Hoofstad, Die Kerkbode, Die Bult, Kovsiekampus, Prisma en Voorligter. In totaal het daar ongeveer 'n honderd van hierdie bydraes verskyn. Die wye verskeidenheid en aktualiteit van die temas wat Van Zyl behandel, is opvallend. Enkele voorbeelde hiervan: "Ja, die Bybel praat oor sosiale geregtigheid" (Die Kerkbode, 10/2/82); "Sosiale geregtigheid is geen 'opsionele ekstra' nie" (Die Kerkbode, 17/2/82); "Lyding gee dieper dimensie" (Kovsiekampus, April 1989); "Die bedelaar en ek" (Die Voorligter, Oktober 1991); "Die Christen as Skrifgeleerde" (Die Kerkbode, 24/7/92); "Dringende besinning nodig oor godsdiensdialoog-idee" (Volksblad, 13/4/95); "The Bible Code deur Michael Drosnin. 'n Beoordeling van sy metode" (Huisgenoot, 17/7/97); "Wanneer is Jesus regtig gebore? (Rapport, 20/12/98); "Historiese Jesus deur navorsing toegelig" (Volksblad, 13/11/2000); "'n Alternatiewe Christendom?" (Die Kerkbode, 1/11/2002); "Amerika en Irak. Waarvoor Christene in oorlog moet bid" (Volksblad, 25/3/2003); "Morele krisis. Wat jy saai, dit sal jy maai" (Volksblad, 17/6/2003); "Wintersoggend en orrel. Is dít waar 'n erediens mens moet bring?" (Volksblad, 12/8/2003); "Transendensie en God. Bybelse voorstelling moeilik verbeter" (Volksblad, 7/10/2003); "Die Jesus-prent. Nuwe Testament sober oor lyding" (Volksblad, 30/3/2004); "Vroue-onderdanigheid. Geen Bybelse regverdiging nie" (Volksblad, 25/5/2004); "Christene en omgewing. Daar moet volhoubaar geleef word" (Volksblad, 24/4/2005); "Wie wil heers, moet dien. Deur te knoei en te verniel kom jy nie bo" (Volksblad, 4/10/2010); "Om Jesus mak te maak" (Volksblad, 13/12/2010); "Dilemma rondom Bin Laden. Is dit reg om saam met skares te juig?" (Volksblad, 9/5/2011); "Humor in godsdiens. Die duiwel kan nie lag nie" (Volksblad, 18/7/2011); en "Laat God oordeel. Om verbete aan troetelopvattinge te klou" (Volksblad, 7/11/2011).

 

4. SAMEVATTEND

Ten slotte, enkele geheel-indrukke: Van Zyl se belangrikste akademiese bydraes was op die gebied van die hermeneutiek, die Sinoptiese Evangelies/Handelinge en Bybelvertaling. Wat die hermeneutiek betref, het hy uitvoerig daaroor gereflekteer en daaroor gepubliseer. In 'n sekere sin was hy hierin sy tyd vooruit: In 'n era waarin Nuwe-Testamentici geneig was om eensydig die klem te laat val op óf 'n sinchroniese óf 'n diachroniese benadering (In Suid-Afrika destyds normaalweg eersgenoemde!), het hy 'n holistiese geïntegreerde benadering voorgestaan en ook prakties beoefen. Dit het konsekwent neerslag gevind in sy akademiese bydraes - ongeag of die gehoor vakgenote of lidmate is. Hiermee saam het hy ook nie in die slaggat getrap waarin sommige Nuwe-Testamentici wel getrap het nie, naamlik om die studie van die Nuwe Testament te reduseer tot 'n wetenskap ter wille van die wetenskap. Hy het die Nuwe-Testamentiese Wetenskap as teologiese dissipline verstaan en dit ook so beoefen. Dit was 'n doelbewuste keuse - soos uit sy publikasies oor die aard van die Nuwe-Testamentiese Wetenskap blyk. Aan dié uitgangspunt het hy konsekwent getrou gebly - of die gehoor nou vakgenote, studente of lidmate was. Wat hierdie aspek betref, kan hy met reg 'n "kerklike teoloog" genoem word. Hy het daarin geslaag om altyd op die hoogte te bly van sy vakgebied en daardie insigte op 'n verteerbare manier aan sy studente en die kerklike publiek deur te gee. Soos hy dit self stel, het dit hom altyd intense vreugde verskaf as hy die ingewikkeldhede van die Bybel, spesifiek van die Nuwe Testament, so aan mense kon verduidelik dat daar groter begrip gekom het vir hoe die Bybel verstaan moet word. 'n Hermeneut in die ware sin van die woord/Woord!

Wat die Sinoptiese Evangelies en Handelinge betref, het hy belangrike bydraes gelewer. Hierdie bydraes was op sowel mikro- as makrovlak -sowel oor die interpretasie van spesifieke perikope as oor groter temas. In hierdie bydraes het hy ook telkens prakties gewys hoe 'n mens tot nuwe akademiese insigte kan kom as die teks holisties - beide sinchronies en diachronies - benader word. Sy bydrae tot die teorie van Sinopsissamestelling en die praktyk van Sinopsissamestelling in Afrikaans moet ook in die besonder uitgelig word.

Bybelvertaling is uiters moeilike werk wat baie tyd, kundigheid en noukeurigheid verg. Op hierdie gebied het Van Zyl hom ook onderskei. Die vertalings wat hy self gelewer het, en sy evaluering van en advies oor die vertalings wat deur ander gelewer is, was altyd van hoogstaande gehalte. Die effek hiervan sal nog vir baie jare voortleef in die talle vertalings waarby hy betrokke was.

Laastens, anders as wat soms onder Nuwe-Testamentici die geval is, het hy hom nie tot 'n enkele onder-afdeling van die Nuwe Testament beperk nie, maar breed gewerk, nie net op die drie terreine wat hierbo uitgesonder is nie, maar ook op verskeie ander aspekte van die Nuwe Testament. Inderdaad, 'n Nuwe-Testamentikus in murg en been, iemand met die uitsonderlike vermoë om fyn na teks én konteks te luister, en 'n navolgingswaardige voorbeeld vir studente en jong teoloë! Dat hy die grootste deel van sy akademiese bydrae juis aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat kon lewer waar studente en kollegas die direkte voordeel daarvan kon beleef, is vir Fakulteit en Universiteit 'n saak om op trots te wees! Beide Universiteit en Fakulteit is dankbaar dat hy ook ná sy aftrede nog op deeltydse basis by die Fakulteit betrokke sal kan wees!

 

BIBLIOGRAFIE

Du Ton, A.B. 1993a. Die opkoms en huidige stand van die Nuwe-Testamentiese ondersoek in Suid-Afrika. Deel 1. HTS 49(3):503-514.         [ Links ]

Du Ton, A.B. 1993b. Die opkoms en huidige stand van die Nuwe-Testamentiese ondersoek in Suid-Afrika. Deel 2. HTS 49(4):789-809.         [ Links ]

Du Ton, A.B. 1994. Die opkoms en huidige stand van die Nuwe-Testamentiese ondersoek in Suid-Afrika. Deel 3 - 'n Kritiese evaluasie. HTS 50(3):531-545.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1982a. 'n Moontlike verklaring van Matteus 7:6. Theologia Evangelica 15(1):67-82.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1982b. Structural analysis of Matthew 18. Neotestamentica 16:35-55.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1985. Hoe om die Bybel beter te verstaan. Wellington: Bybelkor.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1986. Die Nuwe Testament se gebruik van die Ou Testament. Fax Theologica 6:37-77. 1987a. Matteus 18:15-20. 'n Diachroniese en sinchroniese ondersoek met besondere verwysing na kerklike dissipline. DD-proefskrif. Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1987b. Goeie nuus die wêreld in. Persoonlike Bybelstudie oor Handelinge. Wellington: Bybelkor.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1987c. Dié boodskap moet uit. Groep-Bybelstudie oor Handelinge. Wellington: Bybelkor.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1988a. Matteus 18:15-20: 'n Diachroniese en sinchroniese ondersoek met besondere verwysing na kerklike dissipline. Skrif en Kerk 9(1):75-92.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1988b. Die 'kleintjies' en 'geringstes' in die Evangelie volgens Matteus. In: C. Breytenbach (red.), Kerk en konteks (Pretoria: NGKB), pp. 11-22.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1989a. 'n Redaksie-historiese lesing van Handelinge 15:1-35. Acta Theologica 9(1):43-61.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1989b. Kontekstuele teologie in Latyns-Amerika - 'n breë oriëntering. Scriptura 31:50-64.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1990a. Matteus 18:15-20. In: C.W. Burger, B.A. Müller & D.J. Smit (reds.), Prediking oor vrede (Kaapstad: NGKU, Woord teen die Lig ipp. 203-215.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1990b. Christen en nie-Christen saam in een staatsbestel - mag dit? Indien wel, hoe? In: P.J. Rossouw (red.), Die bediening van die Kerk in 'n veranderende Suid-Afrika (Bloemfontein: Pro Christo, UV Teologiese Studies 4), pp. 21-38.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1990c. God se genade verliesbaar? - nogeens Hebreërs 6:4-6. NGTT 31(3):336-347.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1991a. 'n Visie van die bediening - 'n Pauliniese perspektief. In: S.D. Snyman & D.F. Tolmie (reds.), 'n Visie van die bediening (Bloemfontein: UV, UV Teologiese Studies 5), pp. 23-32.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1991b. God se volk in transito - 'n perspektief uit Hebreërs. In: J.H. Roberts, W.S. Vorster, J.N. Vorster & J.G. van der Watt (reds.), Teologie in konteks (Huldigingsbundel vir A. B. du Toit) (Orion: Halfweghuis), pp. 440-467.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1991c. Die Nuwe-Testamentiese wetenskap - 'n perspektief. TCW 27(3):27-49. 1992a. Die vervreemdings- en toeëieningstaak van die eksegese. NGTT 33(3/4):453-465.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1992b. Die duiwel ontmasker - 'n Nuwe-Testamentiese perspektief. In: J.H. Smit (red.), Die evangeliebediening aan demonies (okkult) gekweldes (Bloemfontein: Pro Christo, UV Teologiese Studies 6), pp. 9-22.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1992c. Die grondslag van Paulus se etiek in die eerste Korintiërbrief: Riglyne in die moraliteitsverskuiwing. In: C. Breytenbach & B.C. Lategan (reds.), Geloof en opdrag. Perspektiewe op die etiek van die Nuwe Testament (Scriptura S9a), pp. 120-131.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1992d. Ek glo ... in Jesus Christus ... wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria. In: F.A. Swanepoel (red.), Kersfees: Gister, vandag en môre (Pretoria: Unisa), pp. 69-78.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1992e. Die pinkstergebeure volgens Handelinge. In: F.A. Swanepoel (red.), Die fees van die Gees (Pretoria: Unisa), pp. 15-22.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1992f. The future of New Testament studies within the theological curriculum. Acta Academica 24(1):148-163.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1993. The sanctity of human life. A perspective from New Testament anthropology. Skrif en Kerk 14(2):292-304.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1994. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling-Verwysingsbybel - Hermeneutiese besinning. NGTT 35(3):345-358.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1995a. Matteus 22:23-33. In: C.W. Burger, B.A. Müller & D.J. Smit (reds.), Verdere riglyne vir Paas-, Hemelvaarts- en Pinksterprediking (Kaapstad: Lux Verbi, Woord teen die Lig I/9), pp. 42-50.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1995b. Wie was Jesus werklik? Acta Theologica 15(1):69-83.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1996a. Staan op en lewe. Hoe Christus se opstanding my nóú en ná my dood raak. Kaapstad: Lux Verbi.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1996b. Christus die enigste weg na God? NGTT 37(4):523-539.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1997a. Objective display or textual engineering? Hermeneutical aspects in making and using a synopsis of the synoptic Gospels. Neotestamentica 31(2):251-278.         [ Links ]

1997b. Die huiskerk in die Nuwe Testament - model of mite? In: R.M. Britz (red.), Kleingroepbediening en selgemeentes? (Bloemfontein: CLF), pp. 36-47.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1998. The evolution of church leadership in the New Testament - A new consensus? Neotestamentica 32(2):585-604.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1999a. Matteus. In: W. Vosloo & F.J. Janse van Rensburg (reds.), Die Bybellennium eenvolumekommentaar. Die Bybel uitgelê vir eietydse toepassing (Vereeniging: CUM ), pp. 1116-1187.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1999b. Vertalingstrategie met die oog op sinopsissamestelling. Skrif en Kerk 20(2):465-481.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 1999c. 'n Perspektief op makrogemeentes vanuit die wesensaard van die kerk volgens die Nuwe Testament. Acta Theologica 19(2):97-113.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2000. Die stand van Nuwe-Testamentiese navorsing in Suid-Afrika. Enkele tendense in die jare 1993-1999. In: D.F. Tolmie (red.), Kaleidoskoop 2000. Artikels oor teologie. Gedenkuitgawe Fakulteit Teologie UOVS. 1980-2000 (Bloemfontein: UFS, Acta Theologica Sup 1), pp. 169-236.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2001a. Om te "lotto" of nie te "lotto" nie. Gedagtes oor aktuele prediking. Acta Theologica 21(2):145-152.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2001b. Drie probleemareas in gebed. 'n Perspektief vanuit die Nuwe Testament. HTS 57(1/2):379-396.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2002a. The soteriological meaning of Jesus' death in Luke-Acts. A survey of possibilities. Verbum et Ecclesia 23(2):533-557.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2002b. Die Nuwe Testament en seksualiteit. Acta Theologica 22(2):234-261.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2003. Wat moet ons as Christene nog glo? 'n Persoonlike verantwoording. NGTT 44(1/2):185-198.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2004. The Jesus Seminar - A critical evaluation. REC Focus 4(2):50-58.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2005. The soteriology of Acts. Restoration to life. In: J.G. Van der Watt (red.), Salvation in the New Testament. Perspectives on Soteriology (Leiden: Brill, Supplements to Novum Testamentum 121), pp. 133-160.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2008. Reading the New Testament from a theological perspective. Acta Theologica 28(2):133-145.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2009. Die verhouding tussen "poort" en "pad" in Matteus 7:13-14. 'n Oorsig van die moontlikhede. Acta Theologica 29(2):135-150.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2011a. Om met nuwe oë na ander te kyk. Lukas-Handelinge oor 'n teologie van respek. NGTT 52(3/4):600-613.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2011b. Vehicles of divine initiative. The function of the angels in Acts. Journal for Early Christian History. A Journal for the Study of Early Christianity and Late Antiquity 1(1):205-220.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2011c. Versoening in die Evangelies. In: C. Vos & D. Human (reds.), Vaste rots op wie ek bou (Kaapstad: Lux Verbi.BM), pp. 229-245.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2012. Gesag as diens: Die rol van die dissipels in die Matteusevangelie. HTS 68(1):8pp.         [ Links ]

Van Zyl, H.C. 2013. Discernment as "not-knowing" and "knowing". A perspective from Matthew 25:31-46. Acta Theologica 33(Sup 17):110-131.         [ Links ]

Voigt, P.H. & Van Zyl, H.C. 1991. 'n Kritiese evaluering van die kanoniese benadering van Brevard S. Childs. NGTT 32(4):561-573.         [ Links ]

 

 

1 Groot dele van hierdie artikel is gebaseer op inligting wat op my versoek deur Prof. Van Zyl aan my voorsien is. Dié inligting word in verwerkte vorm in hierdie artikel gebruik, en aangevul deur eie perspektiewe.
2 Sommige van die studies wat in afdeling 3.2 bespreek is, sou ook hier geplaas kon word.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License