SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 número1Resensies/Reviews índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.33 no.1 Bloemfontein Jan. 2013

 

RESENSIES/ REVIEWS

 

 

Spronk, K. Van Wieringen, A. (reds) 2011. De Bijbel theologisch. Hoofdlijnen en thema's. Zoetermeer:Meinema. Prys onvermeld. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/actat.v33i1.16

Die boek bied wat die titel suggereer: 'n Bybelse teologie wat bepaalde hooflyne en temas bevat. In die inleidende hoofstuk word die uitgangspunt en metodologiese vertrekpunte duidelik uiteengesit. Die boek is 'n Bybelse Teologie. Daarmee word bedoel "een samenhangende weergave van het spreken in de Bijbel over God en mens". Hiermee word 'n belangrike uitgangspunt gestel. Die Bybel bied geen gesistematiseerde weergawe aan van wie God is en hoe mense God moet verstaan nie. Die vraag na 'n Bybelse teologie word beantwoord deur die verhaalstruktuur van die Bybel en die voortdurende verhouding tussen God en mens wat hom binne die Bybel afspeel, in ag te neem.

'n Verdere belangrike uitgangspunt is dat 'n sinkroniese benadering gevolg word in die boek. Die versameling van boeke uit die Ou en Nuwe Testament word gesien as 'n versameling wat "als een samehangende teks" funksioneer in plaas daarvan om op die groei van boeke in die Bybel wat oor die tyd plaasgevind het, te konsentreer.

Die inhoud van die boek word na die inleidende hoofstuk in twee afdelings aangebied. In die eerste deel word verskillende boeke of groeperings van boeke behandel om die breë lyne van die inhoud van die verskillende boeke weer te gee. So byvoorbeeld word die boeke van die Pentateug elkeen afsonderlik behandel terwyl die sogenaamde twaalf klein profete en die sogenaamde vyf rolle (Rut, Hooglied, Prediker, Klaagliedere en Ester) as 'n eenheid behandel word. 'n Leemte wat met hierdie benadering ontstaan is dat Ou Testamentiese boeke nie die aandag kry wat hulle verdien nie. So byvoorbeeld word daar in die hoofstuk met die titel "Kronieken en Samuël-Koningen" feitlik uitsluitlik aandag gegee aan die boek Kronieke. Die boeke Esra en Nehemia word nie behandel nie terwyl 'n mens ook sou verwag dat die wysheidsboeke van Job en Spreuke aandag sou kry.

In die aanbieding van die Nuwe Testament word die vier evangelies elkeen afsonderlik behandel terwyl die Pauliniese en Johannese literatuur as 'n eenheid behandel word.

In die tweede deel van die boek word "Bijbelse Thema's" aan die orde gestel. Temas soos die alledaagse, bevryding, die dag van die Here, dood en die lewe na die dood, gebed, geboorte, geweld, mensbeeld,

Godsbeeld, seksualiteit, verbond, vroue en mans en wysheid en nog vele meer word behandel. Dit is duidelik dat hier nie gedink word vanuit geykte en tradisionele dogmatiese skemas nie maar dat temas wat prominent in die Bybel voorkom samehangend in terme van Ou en Nuwe Testament aangebied word. Aan die einde van elke hoofstuk is daar 'n lys van literatuur wat verder geraadpleeg kan word.

Die waarde van die boek lê juis in die tweedeling van aanbieding. Sou 'n mens 'n oorsigtelike perspektief op 'n bepaalde Bybelboek wil hê kan die boek gebruik word as handige naslaanwerk. Sou 'n mens 'n oorsig wou hê oor wat die Bybel in den breë oor 'n bepaalde tema sê, kan deel twee van die boek nageslaan word.

Die verskillende hoofstukke in die boek is geskryf deur 'n wye verskeidenheid van Nederlandse Bybelwetenskaplikes.

Die boek is 'n bruikbare boek om te hê, dit is resent, wetenskaplik goed begrond en dit bied telkens 'n Bybelse beeld van 'n bepaalde tema aan. Ek sou daarom die boek graag aanbeveel vir persone met 'n belangstelling in die Bybel, studente in die teologie, predikante en professionele teoloë.

 

Prof SD (Fanie) Snyman
Departement Ou Testament
Universiteit van die Vrystaat

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons