SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.33 número1"Sacherklärungen" in Biblischen texten - vorkommen und bedeutung für die BibelübersetzungThe spirit of the body of Christ: the Holy Spirit's indwelling in the church índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Acta Theologica

versión On-line ISSN 2309-9089
versión impresa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.33 no.1 Bloemfontein ene. 2013

 

The elder in two church orders in the tradition of Dordt

 

 

P.J. Strauss

Prof. P.J. Strauss, Dept. Kerkgeskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein, Suid-Afrika. E-pos: Strausspj@ufs.ac.za

 

 


ABSTRACT

This article concentrates on what the mandate or task of the church elder in the tradition of the church order of Dordt (DCO) is. It calls this tradition as being Calvinistic and Dordt orientated. It argues that the influence of John Calvin on the topic of the elder and it's mandate can be seen in the DCO and works through in the recent church orders of the Christian Reformed of North America and the Dutch Reformed Church. In essence the elder is seen as an office that governs the church through the Word of God. This is why the elder in the Calvinistic-Dordt tradition is a worthy and winning opponent of the Roman Catholic pope.

Keywords: Church, Church,Dordt


Sleutelwoorde: elder Ouderling, order Kerkorde, Dordt


 

 

1. INLEIDING

Otto Noordmans merk gevat op: "Toen Johannes Calvijn op het bord de pion van de ouderling trok, zette hij daarmee den paus schaakmat" (Noordmans 1984:396).

Volgens Noordmans spruit hierdie aksie van die befaamde Geneefse reformator nie uit laasgenoemde se taalkundig-historiese Skrifeksegese nie, maar sy gevoel van 'n mistiese noodsaak vir 'n anti-hiërargiese benadering van die kerklike ampte. Dit gaan by Calvyn, aldus Noordmans, om geestelike insig en 'n onderskeiding van die geeste (1984:396; Bronkhorst 1947:154). Vir die doeleindes van hierdie artikel sou mens kon sê: die ouderling in die Calvinisties-Dordtse tradisie1 was/is 'n effektiewe opponent vir die pous in die Rooms-Katolieke tradisie.

Om hierdie stelling effektief te motiveer en in sy verband te plaas, vra 'n mondvol. Eerstens moet Noordmans se opmerking van misverstand gesuiwer word. Tweedens is daar verskeie kante aan die Calvinisties-Dordtse tradisie wat in berekening gebring moet word: die oorspronklike Dordtse siening van die ouderling en sy taak soos verwoord in die bekende Dordtse Kerkorde (DKO) van 1619, die moontlike aansluiting hiervan by die grondgedagtes van Calvyn en die verloop van die saak of sy nawerking in twee kerkordes wat volgens eie getuienis eietydse weergawes van die DKO wil wees. Die kerkordes wat gekies word, is die van die Christian Reformed Church in North America (CRCNA) en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK).

 

2. MISVERSTANDE?

Noordmans se opmerkings kan misverstande skep wat opgeklaar moet word. In die eerste plek kan hy die indruk skep dat Calvyn meer van 'n vae, mistiese aanvoeling as gesonde Skrifeksegese gebruik gemaak het. Die teendeel is waar. Behalwe dat Calvyn bekend is vir sy Skrifeksegese en uitgebreide reeks kommentare op Bybelboeke, was hy 'n oortuigde eksponent van die Sola Scriptura-beginsel vir die kerkregering en -praktyk (Strauss 2010:156vv). In sy Institusie waarin hy verwys na die tirannie van die pous en wydverspreide ampsverval in die Roomse Kerk van sy tyd, grond Calvyn sy insigte van die kerklike ampte juis op die Skrif. Hy is daarvan oortuig dat niemand die "kwestie beter oplossen dan de Schrift zelve... ".Volgens hom bou die kerk na aanleiding van Matt 16 nie op Petrus as biskop (eerste pous) nie, maar op sy belydenis dat Christus die Seun van God is (Calvyn IV sa:115vv).

Omdat dit in die kerk gaan om die heerskappy van die Woord van God en nie mense nie, was daar by Calvyn ook die mistiese aanvoeling om die ampte anti-hiërargies te benader sodat die Woord en nie die mens nie, die finale woord kon hê. Dit het daartoe gelei dat gereformeeerdes van die 16e eeu en later na die ampte as dienste - in diens van Christus en Sy Woord - verwys het (Pont 1981:199vv). Saam met sy beeld van die pous en die ouderling by Calvyn beweer Noordmans dat hierdie Hervormer - soos sommige van sy tydgenote - nie fundamentalisties met die Skrif omgegaan het nie, maar "materieel" pneumaties en dinamies (Van't Spijker 1982:36-37).

In die tweede plek mag dit voorkom asof Noordmans met sy beeld van die pous en die pion van die ouderling vir Rome by implikasie gelyk gee. Hiervolgens sou die pous en die ouderling as kerklike ampsdraers in skaakterme ten opsigte van status en posisie vergelyk kon word met 'n koning en 'n nederige pion. Die teendeel is waar. Noordmans wys op die ironie dat die "eenvoudige" ouderling die "magtige" pous - in Roomse terme - kon skaakmat sit. Dit was by Calvyn moontlik omdat dit in 'n kerk nie om feilbare menslike mag of status gaan nie, maar die outoriteit en status van Christus deur Sy onfeilbare Woord. Die suksesvolle hervorming van die kerkregering in Genève met die Sola Scripura-beginsel in die hand van die herstelde ouderling moes vir Rome soos 'n hou tussen die oë gewees het!

Pont oordeel dat die "organisatoriese krag van die Calvinistiese kerke" grootliks aan die diens en toewyding aan die Woord van die "regerende" ouderling te danke is (1981:209).

Waarop Noordmans afstuur, is: as 'n ouderling kom met die Woord, kan hy selfs die pous skaakmat sit. Die grootste kerklike troef is die Bybel!

Teen hierdie agtergrond word daar nou gekyk na die ouderling in twee kerkordes in die Dordtse tradisie. Daarom val die klem op die DKO, die CRCNA-KO en die NGK-KO. 'n Goeie Afrikaanse weergawe van die oorspronklike Nederlandse DKO artikel 23 - dit waarom dit hier gaan - is die van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA-KO vgl die tekste by Pont 1981:179 en Visser 1999:102).

Die DKO-formulering, interessant genoeg, begin met "Die amp van die ouderlinge is..." voordat die besonderhede van sy taak omskryf word. Volgens die DKO is die amp van die ouderling geïntegreer met en ondenkbaar sonder sy bedieningstake. 'n Ouderling is alleen 'n ouderling as hy - hier nog net mans - in diens is of dien!

Anders gestel: die amp van die ouderling is geen sosiale en statiese status wat aan sy persoon kleef nie, maar 'n aktiewe diens.

Die NGK-KO sluit hierby aan as hy begin met "Die amp of bediening van die ouderling is gerig op." (NGK 2007:11). Sonder aktiewe optrede in die volvoering van sy take, is daar geen ouderling nie. Slegs die feit dat 'n persoon die werk doen of in kerklike diens is, maak van hom of haar 'n ouderling.

 

3. DKO

DKO artikel 23 formuleer die amp van die ouderling so:

Der ouderlingen ambt is... opzicht te hebben, dat de dienaren, mitsgaders hunne andere medehelpers en diakenen hun ambt getrouwelijk bedienen, en de bezoeking doen. Naardat de gelegenheit des tijds en der plaats, tot stichting der gemeenten, zoo voor als na het nachtmaal kan lijden, om bijzonder de lidmaten der gemeenten te vertroosten en te onderwijzen, en ook andere tot de Christelijke religie te vermanen (Pont 1981:179).

In Afrikaans stel GKSA-KO artikel 23 dit so:

Die amp van die ouderlinge is... om toesig te hou dat bedienaars van die Woord, hulle mede-ouderlinge en diakens hulle ampte getrou bedien; verder om huisbesoek te doen tot stigting van die gemeente soos die omstandighede van tyd en plek dit toelaat, sowel voor as na nagmaal, om die lidmate te vertroos en te onderrig en om ander tot die Christelike Godsdiens op te wek (Visser 1999:102).

In sy kommentaar op die DKO reduseer Pont die taak van die ouderling tot drie sake: die regering van die gemeente waaronder opsig en tug en die handhawing van dissipline; opsig oor die ander ampsdraers en huisbesoek (1981:199-210). Visser oordeel ook dat die GKSA-KO, soos die DKO, die ouderlinge oproep tot drie kerntake: toesig oor mede-ampsdraers, huisbesoek en om ander tot die Christelike godsdiens op te wek (1999:102-107). Kruger en ander glo dat die GKSA-KO die ouderlinge taak vir regering en tug in die gemeente; toesig oor mede-ouderlinge en diakens, huisbesoek en om diegene buite die kerk tot die Christelike godsdiens op te wek (1966:144vv). Benewens die sigbare oorvleueling tussen dié skrywers, kom Kruger en sy mede-outeurs hiermee waarskynlik baie naby aan die bedoeling van die bepalings van die DKO.

In dieselfde trant as Noordmans betoog Pont in sy kommentaar op die DKO dat die regering van die ouderlinge in die gemeente die heerskappy van Christus moet vergestalt omdat hulle moet sorg dat die Woord van God die norm en reël in die lewe van die gemeente is. Hulle is diensknegte van Christus wat in Sy Naam die gemeente regeer. Hierdie regering beteken opsig oor die geloof en lewenswandel en die geestelike opbou van die gemeente. Die regering kan nooit deur een ouderling alleen gedoen word nie, maar geskied saam met die ander ouderlinge en die bedienaars van die Woord. So 'n "kerkraad" moet egter nie te klein wees nie, in elke geval nie minder as drie lede nie. 'n Te klein getal ouderlinge mag meebring dat persoonlike willekeur en insigte en nie die Woord van God nie, die deurslaggewende rol op kerkvergaderings en in die kerk speel (1981:210).

Kleynhans maak 'n saak daarvoor uit dat dat die amp van die ouderling die bevoegdheid bevat om te regeer en opsig en tug uit te oefen in die gemeente, op mede-ampsdraers te let en huisbesoek te doen (1984:63). Hy koppel dit aan die feit dat Christus as die Hoof van sy kerk die drie ampte van ons hoogste Profeet en Leraar, enigste Hoëpriester wat Homself vir ons geoffer het en ewige Koning wat ons deur sy Woord en Gees regeer (vgl Heidelbergse Kategismus vraag 31), in homself verenig het. Dat Hy as die Hoof die kerk bedien én gebruik in sy diens en daarvoor - ondermeer - die ouderlingsamp aanwend. Die ouderlinge vervul met 'n van Christusverleende gesag of 'n gesag wat Christus aan hulle verleen sonder om dit self prys te gee, in hulle regeer- en opsigtaak die koninklike funksie. In die ouderlingsamp staan die koninklike voorop, hoewel dit nie sonder die profetiese en priesterlike funksies kan verloop nie. Volgens Kleynhans moet mens hierdie drie funksies onderskei, maar nie skei nie. Daar is 'n onderskeid maar ook 'n vervlegting en samehang tussen hierdie funksies (1984:24vv). Die ouderling regeer geestelik en koninklik, dit is sy primêre taak, maar deur die Woord (profeties) en die opoffering van eie voorkeure, waardigheid en eer (priesterlik).

Opgesom kom dit daarop neer dat die DKO die ouderling visualiseer as die regeerder van die gemeente wat opsig oor die ander ampte insluit. Hierdie regering geskied deur die Woord en in selfgehoorsaamheid aan die Woord. 'n Regering wat anti-hiërargies deur 'n kollege van ouderlinge as gelykes of saam met die ander ouderlinge en die leraars as profetiese ouderlinge in die gemeente uitgeoefen word. 'n Regering wat ook huisbesoek en om ander - buite die kerk - na Christus te lei, insluit. By huisbesoek kan die ouderling alleen werk, maar by kritiese regeertake is die insette van ander ampsdraers soos die wyksdiaken, nodig. Dit gaan immers om skanse teen wat Pont persoonlike willekeur en insigte in kerkregering noem. Om 'n gelyke vertrekpunt vanwaar almal mekaar in die lig van die Woord kan beïnvloed en reghelp. Om die regering van die kerk deur die Woord wat die eerste, die middelste en die laaste sê het.

Hierdie gelykheid in waardigheid en eer onder die kerklike ampte wat wel in opdrag en werk onderskei kan word, word in DKO artikel 84 uitgedruk waarin daar bepaal word dat "geen ouderling of diaken over andere ouderlingen of diakenen eenige heerschappij voeren" (Pont 1981:186).

Gemeet aan die outoriteit of die gesag en regering van die Woord, aan die beeld van die ouderling as 'n pion in diens van die Woord, het Noordmans volkome gelyk dat so 'n pion die pous met die outoriteit van 'n mens en mensgeoriënteerde tradisies, kerklik of geloofsmatig en geestelik skaakmat sit.

Opmerklik koppel Kleynhans 'n Calvinisties-Dordtse begrip van die regerende ouderling aan die (objektiewe) konstante van die koningskap van Christus. 'n Konstante wat in elke tyd en situasie geldig is en wat hy verbind aan die sogenaamde drie-dimensionele nood van die mens as skuldig, sondig en lydend. Die mens moet volgens Kleynhans profeties hoor van sondeskuld en vergiffenis, koninklik vermaan en indien nodig, bestraf word en prieterlik vertroos en in sy lyding versorg word (1984:24). Die implikasie is dus dat Kleynhans Dingemans en ander se demokraties-funksionele visie op die oorsprong en funksie van die ampte2 verwerp (Strauss 2010:29).

Vir reformatore soos Calvyn en die opstellers van die DKO moes die kerklike ampte ook "funksioneel" wees, maar dan as dienste in diens van Christus en sy Woord (vgl DKO artikel 2 vv, Pont 1981:176vv). Wat Dingemans betref moet die aantal en aard van die ampte deur die gemeente self demokraties bepaal word. In die proses is tydsbepaaldheid en sosiologiese funksionaliteit die norme. Dingemans sien die gemeente as 'n vrywillige en oopkantige groep Jesusvolgelinge wat pneumatologies benader moet word. Die Christokratiese benadering met sy strukturering en vaste vorme, eie aan die Calvinisties-Dordtse tradisie, gaan lynreg hierteenoor in (Dingemans 1987:36-37, 52, 82, 117, 130).

 

4. GRONDGEDAGTES VAN CALVYN OOR DIE OUDERLING

Calvyn voer aan dat God in en deur Jesus Christus as ons Verlossingsmiddelaar sy kerk deur sy Woord en Gees regeer. God woon nie sigbaar onder ons om sodoende sy wil deur sy eie mond aan ons bekend te maak nie. Hy gebruik daarvoor die diens van mense. In die proses dra Hy sy reg en eer nie aan hulle oor nie, maar gebruik Hy hulle monde om sy werk te doen (Calvyn IV:54, 71).

Volgens Calvyn is daar onder die kerklike regeerampte waarna die Bybel verwys, slegs twee "gewone" voortgaande ampte: die van herder en leraar. Ander ampte soos die van apostel, profeet en evangelis het God verwek toe die kerk nog gestig moes word (IV:58). Van al die ampte wat moet bly, is daar breedweg twee soorte: die regeerampte en die versorging van die armes (IV:63). Die regering van die kerk moet deur die ouderlinge (waarvan daar meer as een soort kan wees) in vergadering (in rade) plaasvind waarin alles ordelik en welvoeglik daaraan toegaan. Niemand mag 'n kerklike amp beklee sonder om daarvoor geroep te wees nie. Die inwendige roeping vanaf God word voltooi deur die uitwendige kerklike roeping op die terrein van die openbare kerklike orde (IV:64-65).

Calvyn staan daarop dat die kerkregering en -regspraak nie volgens die goeddunke van een persoon uitgeoefen moet word nie, maar 'n wettige vergadering van gelykes. Dit is in sy wese anti-hiërargies. Die mikpunt is die heerskappy van en gehoorsaamheid aan die Woord van God. Volgens Calvyn het die ou biskoppe hulle geestelike mag of kerklike gesag nie deur boetes of gevangenisstraf uitgeoefen nie, maar die Woord van God. Die strengste straf was die ban (IV:114). Dit gaan dus om geestelike regeermiddele waarin die Woord voorop staan en die norm is wat mense oortuig.

Calvyn maak ruimte vir twee soorte ouderlinge. Die wat die Woord verkondig en die wat toesighou oor die lewe van die gemeente. Hierdie twee ouderlingstake het later ontaard en saamgevloei in die biskop wat vir homself die reg opeis wat aan die hele kerk gegee is. Uit die een kwaad het 'n volgende gespruit. Die biskoppe het beamptes vir die kerklike regspraak aangestel wat in hulle regshandelinge nie van wêreldlike regters verskil nie en "aardse" sake hanteer. Tog noem hulle dit geestelike regspraak. Hulle spot met God. Van die instelling van Christus en die gebruike van die ou kerk bly daar by hulle niks oor nie (IV 243-244).

Calvyn trek dus 'n paar grondlyne ten opsigte van die ouderlingsamp wat ook in die DKO sigbaar word. Hy wys op die blywende aard van kerkregering en -toesig deur die ouderling, die gesamentlike aanpak daarvan deur die ouderlinge van die gemeente wat op 'n anti-hiërargiese uitgangspunt dui en hulle handhawing van die kerklike tug wat hy redelik volledig uitwerk (IV:256vv; vgl Strauss 2010:233-246)

Dit is dus beslis nie vergesog om vanuit hierdie hoek soos met voorbeelde geillustreer, van die Calvinisties-Dordtse tradisie in kerkreg en kerkregering te praat nie. Ook nie dat Calvyn met die ouderling wat die Woord as die kerklike troef hanteer, die pous skaakmat gesit het nie. Die vraag wat oorbly is: hoe lyk die ouderling in twee moderne kerkordes in die Dordtse tradisie? Sou hy in hierdie moderne gewaad steeds die pous kon skaakmat sit?

 

5. CRCNA-KO

Die CRCNA-KO trap duidelike Dordtspore in artikel 25 wat die take van die ouderling omskrywe. In hierdie artikel word bepaal:

The elders, with the minister(s), shall oversee the doctrine and life of the members of the congregation and fellow officebearers, shall exercise admonition and discipline along with pastoral care in the congregation, shall participate in and promote evangelism, and shall defend the faith (Engelhard & Hofman 2001:151).

Vroeër was die "admonition and discipline" uitgebrei met "seeing to it that everything is done decently and in order" in CRCNA-KO artikel 24 (Van Dellen & Monsma 1967:97). Dit is tans weggelaat. Op sy beurt vorm die huidige "doctrine and life" en "shall defend the faith" 'n uitbreiding van betekenis in die CRCNA-KO (Engelhard & Hofman 2001:151). Die vroeëre gepas en ordelik uit I Kor 14:40 dui waarskynlik op die wyse waarop kerkregering deur die ouderlinge aangepak moes word, terwyl die huidige verdediging van die geloof na alle waarskynlik saamhang met "Spiritual leadership is the primary responsibility of the elders" (Engelhard & Hofman 2001:154).

In hulle behandeling van die take van die ouderling in die gemeente noem Engelhard en Hofman 6 hoofsake. Volgens hulle moet die ouderlinge eerstens toesighou (in Engels "supervise") oor die gemeente: 'n woord wat ooreenstem met die Griekse "episkopos". Onder hierdie punt moet die ouderlinge die welsyn van die gemeente bevorder deur die pastorale versorging van gemeentelede. Die uitdrukking "pastorale versorging" pas by die karakter van die kerk en is iets anders as die toesig oor 'n besigheid of die industrie deur 'n bestuurder, baas of direkteur.

In die tweede plek taak Engelhard en Hofman die ouderlinge vir die handhawing van die goeie orde in die kerk. Hulle moet die kerkorde sowel as ander kerklike prosedurereëls ken. Dit sluit sake in soos: die afronding van die liturgie in openbare aanbidding; die handhawing van die goeie orde in hierdie dienste en by kerkraadsvergaderings; die hou van notules en rekords van alle gemeentesake; die oordra van die kern van die mening van die gemeente na kerkraadsagendas; die formulering van duidelike reëls vir komitees en funksionarisse in die gemeente; en die hantering van probleme op 'n ordelike en 'n Christelike wyse.

Derdens wys die twee skrywers op die pastorale versorging van die gemeente. Dit gaan volgens hulle nie om die dominering van die gemeente en die gemeentelede nie, maar die herderlike versorging en geestelike leiding daarvan. Vierdens moet die ouderlinge die vermaning en tug (Engels: "admonition and discipline") van die gemeente met liefde hanteer. So bou hulle geestelike gesondheid. Vyfdens is die ouderling verantwoordelik vir evangelisasie: nie alleen om daaroor toesig te hou nie, maar dit ook te beoefen. Dit kan hulle doen deur berading en Bybelstudie.

Sesdens en laastens moet die ouderlinge die gesag van die kerk uitoefen (2001:153-155).

Opgesom reken Engelhard en Hofman dat die ouderling in die CRC-NA van vandag hiervolgens op 'n pastorale of 'n herderlike manier die geestelike leiding, regering en toesig van die gemeente moet hanteer. 'n Soort regering wat die gelowiges innerlik bind en trek en bou op die vertroue van die gelowiges in die boodskap en werksmetodes van die betrokke kerk. 'n Leiding en regering wat plaasvind deur geestelike oorreding, maar nie wegskram van tug en vermaning en 'n goeie konstruktiewe kerklike orde nie. Hoewel Van Dellen en Monsma op 'n vroeëre weergawe van die CRCNA-KO soos bespreek, kommentaar lewer, handhaaf hulle dieselfde trekke vir die ouderlingsamp (1967:97vv). 'n Leiding en regering wat, by implikasie, met die gesag van die Woord gepaardgaan.

Behalwe dat die CRCNA-KO in sy formulering van die taak van die ouderling duidelike DKO-trekke vertoon, is die kerngedagtes steeds regering, toesig en tug in die gemeente. Die klem op pastorale versorging is waarskynlik 'n dekkende term wat huisbesoek insluit en die idee van die ouderling as 'n verdediger van die geloof impliseer die opdrag om ander na Christus te lei. Die uitlating van huisbesoek as 'n uitdruklike taak in hierdie artikel is beslis 'n afswakking daarvan, hoewel dit seker op 'n ander plek gereël of bepaal kan word. Vanuit hierdie lyne beweeg die CRCNA ook binne die gedagtes van Calvyn wat ook aan die ouderling die regering, toesig en tug in die gemeente toeken.

 

6. NGK-KO

In sy omskrywing van die taak of amp of bediening van die ouderling gaan die NGK-KO - opsigtelik meer as die CRCNA-KO - 'n eie, meer onafhanklike weg los van die DKO op. Tog behou dit blyke of spore van die DKO. Spore wat die NGK-KO sedert sy ontstaan of eerste aanvaarding in 1962 vertoon (NGK-KO 1964:4). In 1962 word hierdie spore via die Kerkorde van die destydse Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN-KO) in die NGK-KO opgeneem (vgl Nauta 1971:103). Die eerste NGK-KO, NGK-KO 1962, gebruik die GKN-KO as basis omdat laasgenoemde doelbewus 'n eietydse, aangepasde weergawe van die DKO probeer wees (Vorster 1960:13)3.

Volgens NGK-KO artikel 16 is die amp of bediening van die ouderling gerig op - hy stel die sonder om aan te toon in watter ruimte dit moet gebeur, maar impliseer waarskynlik die gemeente - geestelike leiding, bestuur en toesig. Dit omvat die toerusting van lidmate vir hulle dienswerk, die regering van die gemeente, huisbesoek, die uitoefening van opsig en tug, waakaamheid oor die suiwerheid van die leer, mede-verantwoordelikheid vir die kategetiese onderwys, die roeping om ander na Christus te lei en ander take van leiding en bestuur soos deur die kerkraad bepaal (NGK-KO 2007:11).

Die oorsprong van take soos regering, toesig en tug, asook huisbesoek en om ander na Christus te lei, lê waarskynlik in die DKO. Die ander take wat in die NGK-KO genoem word, kan ook onder kerkregering of geestelike leiding tuisgebring word, en verbreed die herdersrol van die ouderling.

Waarin die NGK-KO van die CRCNA-KO verskil, is die letterlike toekenning van 'n bestuursrol (my kursivering, PS) aan die ouderling.

Aan die een kant kan bestuur opkom uit Titus 1:7 wat na die ouderling verwys as 'n bestuurder van die huishouding van God. Die onmiddellike verband van Titus 1:7 is egter nie 'n moderne bestuursopset nie, maar geestelike kwaliteite of gehoorsaamheid aan God. Dit gaan oor iemand wat die gelowiges herderlik bymekaar hou én aanmoedig deur die "betroubare woord waarin hy onderrig is"of die "gesonde leer" wat die argumente van teenstanders weerlê. Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers.

Aan die ander kant - dit is meer waarskynlik - kom dit op uit die moderne nie-kerklike gedragswetenskappe wat alles reg wil bestuur. Dit het dus trekke van die bestuurder, baas of direkteur van 'n besigheid of fabriek waarna die CRCNA-KO verwys en wat hy uitdruklik van die kerkregering met sy pastorale inslag onderskei.

Wat opval in beide die CRCNA-KO en die NGK-KO is dat dit Calvyn se oortuiging dat die kerklike regeeramp met sy tipiese aard moet bly, met eietydse voorbeelde illustreer. Beide is 'n voorbeeld van die voortsetting van die Calvinisties-Dordtse tradisie in die ouderlingsamp. Spore van vernuwing of 'n eietydse aanpak is ook by beide merkbaar. Op die punt van 'n eietydse aanpak vertoon beide ook die tipiese aard van 'n kerkorde in onderskeiding van byvoorbeeld 'n kerklike belydenis.

Vandag nog kan die pion van die ouderling met die Woord as swaard (Efesiërs 6:17) die pous kerklik troef. Die CRCNA-KO praat van die kerklike of pastorale inslag van die werk van die ouderling en die NGK-KO van sy geestelike of kerklike leiding en toesig. Beide beklemtoon die kerklike of geloofsaard van hierdie konfrontasie waarin die swaard van die Woord magtiger is as die fisiese swaard. Waarin die Woord van die Hoof van die kerk, Jesus Christus, eenvoudig die eerste en die laaste sê het.

 

7. SLOT

Noordmans se skaakmetafoor van die ouderling as triomferende pion teenoor die pous, bly geldig omdat die seëviering van die Woord in die kern hiervan lê. Die Woord van God sal immers die finale woord oor almal en alles spreek. Die Hoofskap van Christus en die gesag van sy Woord in kerk en kosmos is nie van 'n verbygaande, tydsgebonde aard nie. Wat Calvyn van die seëvierende ouderling met die Woord as wapen sê, geld steeds en dra 'n permanente karakter.

Die Woord skets die uiteindelike oorwinning van die kerk as kerk van die Woord.

 

BIBLIOGRAFIE

Bronkhorst, A.J.1947. Schrift en Kerkorde. Den Haag: Zuid-Hollandsche Boek- en Handelsdrukkery.         [ Links ]

Calvyn, J. sa. Institutie IV. Delft: Meinema (vertaling A Sizoo).         [ Links ]

Dingemans, G.D.H. 1987. Een huis om in te wonen. Den Haag: Boekencentrum.         [ Links ]

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church Government. Grand Rapids: CRC Publications.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J. 1984. Gereformeerde Kerkreg II. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Kruger, L.S. et al 1966. Handleiding by die kerkorde. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

Lekkerkerker, A.F.N. 1971. Oorsprong en funktie van het ambt. Den Haag: Boekencentrum.         [ Links ]

Nauta, D. 1971. Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland. Kampen: Kok.         [ Links ]

NGK-KO (Nederduitse Gereformeerde Kerk Kerkorde) 1964. Kerkorde. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

_______. 2007. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.         [ Links ]

Noordmans, O. 1984. Om de rechte orde der kerk. Kampen: Kok        [ Links ]

Pont, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

Strauss, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Met die klem op die NG Kerk. Bloemfontein: SUN MeDIA.         [ Links ]

Van Dellen, I. & Monsma, M. 1967. The revised church order commentary. Grand Rapids: Zondervan.         [ Links ]

Van 't Spijker, W. 1982. Goddelijk recht en kerkelijke orde bij Martin Bucer. Kampen: Kok.         [ Links ]

Visser, J. 1999. Die kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS Drukkers.         [ Links ]

Vorster, J.D. 1960. Die kerkorde van die NG Kerke. Ned Geref Teologiese Tydskrif 1/4, 12-18.         [ Links ]

 

 

1 Die Dordtse tradisie soos beïnvloed deur Calvyn wat in die Sinode van Dordtrecht van 1618-1619 sy hoogtepunt vind.
2 Vgl Lekkerkerker, AFN 1971. Oorsprong en funktie van het ambt. Den Haag: Boekencentrum.
3 Daarom noem Vorster die NGK-KO 1962 "die Dordtse Kerkorde, aangepas by die eise van die dag" (1960:13).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons