SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 issue2  suppl. Articulating (ultimate) commitments: historical, factual and systematic considerationsTowards an Abrahamic ecumenism? the search for the universality of the divine mystery author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.32 n.2 suppl. Bloemfontein Dec. 2012

 

Kerk en skoolonderwys in vier kerkordes

 

 

P.J. Strauss

Departement Kerkgeskiedenis en Kerkreg, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: straussp@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Kerkorde, Onderwys, Gereformeerd


ABSTRACT

Reformed churches in the tradition of John Calvin and the well-known Synod of Dordt (1618-1619), have a long history of involvement of some kind in school education. This article looks into the famous - at least in some circles - church order of Dordt, and the present orders of three reformed churches: the Reformed Churches in South Africa, the Dutch Reformed Church and the Christian Reformed Church in North America. All three tend to be in the tradition of Dordt. In the Dutch society of the 17th century close ties between the Reformed Church and the government gave this church the opportunity to influence Dutch school education. Firstly the church used the angle of the all embracing kingdom of God in which church and school are different institutes in society but serve the same Lord. Secondly the Reformed Church also influenced school education from the viewpoint of the church as church by introducing its confessions as a point of departure and also it's discipline in schools. The other three churches opted for a say in the spiritual direction in schools, but not to tie them to a specific church. They strive for Christian and not church schools.

Keywords: Church order Education Reformed


 

 

1. INLEIDING

Vanuit die idee van 'n Christelike samelewingsleer soos by Calvyn, 'n opvatting wat in sekere kernaspekte naleef in die gereformeerde tradisie1, word die kerk by die algemene of nie-godsdienstige onderwys van die jeug betrek. Twee faktore is hiervoor bepalend: die verbondsdoop waarby die verbondsouers 'n belofte aflê om hulle gedoopte kinders "in die vrese van die Heer" te leer en "te laat leer" en die ideaal dat hierdie kinders vanuit dié vertrekpunt 'n lewensomvattende en totale persoonlikheidsontwikkeling ondergaan (Kleynhans 1988: 200).

So ernstig ag sommige gereformeerdes hierdie saak dat hulle dit met antwoord 103 van die Heidelbergse Kategismus (HK) 2 motiveer en dit ook in hulle kerkordes opneem (De Gier 1989:111). In gereformeerde kerke word immers aanvaar dat die Bybel die eerste norm vir die kerklike lewe is, die belydenis die tweede en hieraan getoetsde norm, die kerkorde die derde norm naas die Woord en die belydenis en dan die besluite van kerkvergaderings (Strauss 2010:4vv).

Omdat hierdie artikel op vier kerkordes fokus, word dit as 'n gegewe aanvaar dat "die Woord en die gereformeerde belydenis" uit een mond praat. Die gereformeerde standpunt dat die gereformeerde belydenisse in hulle formulering van geloofsake met die Skrif ooreenstem (quia)3, word op die punte ter sprake nie weer getoets nie.

Die 4 kerkordes waarin die saak van kerk en skoolonderwys voorkom en wat in hierdie artikel ondersoek word, is: die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO - Pont 1981:168) en dan drie hedendaagse kerkordes wat elk tot 'n mindere of meerdere mate in die Dordtse tradisie staan: die Kerkorde van die NG Kerk (NGKO - NGK 2007) die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA-KO - Visser 1999) en die Christian Reformed Church in Noord-Amerika (CRC-KO - Engelhard en Hofman 2001)4.

Vraag en Antwoord 103 van die HK handel oor die verstaan van die vierde gebod, die gebod oor die sabbat of die Sondag. Volgens die heersende Afrikaanse vertaling (vgl NG Kerk-Uitgewers 1982:69) beteken hierdie gebod in die eerste plek dat die Here wil dat "die Woordbediening en die godsdiensonderrig" in stand gehou word. Binne die konteks van die take van die Nuwe Testamentiese kerk vir die Sondag of "rusdag", klink dit reg dat die Woordbediening en godsdiensonderrig as twee kerklike take hier gelys word, dat dit hier nie om die dagskole of nie-godsdienstige onderwys gaan nie. Die Afrikaanse vertaling doen weg met die idee in

Nederlandse vertalings dat dit hier om die algemene skoolonderwys van die jeug gaan (Holwerda 1975:579)

En tog is daar oorwegings wat die aanvaarding van hierdie vertolking terughou. In sy kommentaar op die DKO wys De Gier daarop dat een van die skrywers van die HK, Zacharias Ursinus, in sy "Schatboek" of kommentaar aantoon dat antwoord 103 "allereerst betrekking" het op onderwys in die "ruime zin van het woord". Volgens hom moet die Christelike staatsowerhede sorg vir skoolonderwys. As dienaars van God moet hulle hulle beywer vir die "openbare school met de Bybel". Volgens De Gier verwys antwoord 103 slegs "indirect" na die teologiese opleiding van predikante (1989:111) - 'n saak wat in die verstaan van antwoord 103 ook aandag kry (Veldkamp 1975:175).

Ursinus noem skole na bewering ook "planthoven der gemeente" waar jongmense "in de kennisse en vreze Gods moet onderwezen worden" (Veldkamp 1975:175). Op dieselfde lyn gebruik Holwerda (1975:575), Veldkamp (1975:173) en Van der Veen (sa:111) die Nederlandse vertaling van antwoord 103 van die HK wat verwys na die "kerkedienst... predikamp... en de scholen"(vgl Ursinus 1478:327-353).

In die positiewe sosio-politieke klimaat van Nederland in 1619 vir gereformeerdes waarin die Regering of State Generaal die Nasionale (gereformeerd-ekumeniese, Kuyper sa:vi5) Sinode van Dordtrecht van 1618-1619 byeengeroep het, het Dordt in sy formulering van die DKO oor "kerk en skoolonderwys", vir Ursinus nagevolg (Pont 1981:178).

Hoe bewustelik elkeen met die HK en DKO gewerk het, is onseker, maar die ander drie kerkordes wat in hierdie ondersoek betrek word, volg ook hierdie lyn van die kerk en nie-kerklike of algemene skoolonderwys. Dit blyk uit hulle bepalings. Terselfdertyd illustreer dit 'n positiewe houding teenoor 'n kerklike betrokkenheid by algemene skoolonderwys.

 

2. DIE DORDTSE KERKORDE VAN 1619 EN SKOOLONDERWYS

Die DKO handel oor die kerk en skoolonderwys in artikel 21. Soos enige kerkorde wat slegs die optrede van die betrokke kerk bepaal en kan bepaal, bepaal die DKO hom hierin by kerkrade. Op hierdie punt wys De Gier daarop dat "alles" omtrent die onderwys in Nederland in 1619 plaaslik en, hoogstens, provinsiaal gereël is. Daar was geen owerheid wat die onderwys landswyd aan voorskrifte kon bind nie (1989:112).

Die DKO bepaal dat die kerkrade van die ou Vaderlandse Gereformeerde Kerk in sy tyd moet toesien dat daar goeie onderwysers is wat die kinders leer lees en skryf, om taal te waardeer en reg te gebruik en hulle onderrig in die vrye kunste. Terselfdertyd moet hulle hulle onderrig in die "godzaligheid en in de cathtechismus" (Pont 1981:178).

Die implikasie van die betrokkenheid van kerkrade by plaaslike skoolonderwys was onder andere, aldus De Gier (1989:112-113), dat die predikant en sy kerkraad geken word by die toetsing en aanstelling van onderwysers. Die gereformeerdes het na die bevryding van Nederland van Spanje en die Roomse juk landswyd aan erkenning gewen - De Jong verwys na die tydperk 1585 tot 1700 in Nederland as die tyd van die gereformeerde staat - sodat die gereformeerde godsdiens die enigste was wat deur die staatsowerheid erken is. Dit, sowel as die betrokkenheid van die owerheid by sake van kerkregering, het die moontlike invloed van die Gereformeerde Kerk in skoolonderwys drasties verhoog (De Jong 1986: 162vv). In 'n teokratiese siening van die gemeenskap is die Gereformeerde Kerk en die Nederlandse staat as twee kante van dieselfde gemeenskap beskou. Die burgers van die staat was ook lidmate van die Vaderlandse Gereformeerde Kerk (Pont 1981:186vv). Kerklike inspraak in die onderwys was in so 'n bedeling nie vreemd nie.

Naas die ywer vir goeie onderwysers, bepaal die DKO ook dat kerkrade hulle sal beywer vir algemeen vormende onderwys wat behalwe lees en skryf, leerders in staat stel om van die klassieke tale te beheers en later Latynse lesings aan universiteite by te woon. Die vrye kunste in Nederland in die sewentiende eeu het die eie taal, klassieke tale en vakke soos Geskiedenis, Musiek, Wiskunde, Aardrykskunde, Natuur- en Sterrekunde ingesluit.

Kerklike toesig en inspraak in die skole van destyds word verbind aan die Skriftuurlike en konfessionele karakter van skoolonderwys. Daarom het die kerke die owerhede ook versoek dat onderwysers die gereformeerde belydenis moet onderteken en hulleself aan die kerklike tug moet onderwerp (De Gier 1989:112-113). Hulle het geen onderskeid gemaak tussen die gereformeerde konfessies as 'n tipiese kerklike saak en 'n algemene Christelike opvoedingsleer of opvoedkunde nie. Daar was ook nie onderskeid tussen kerklike tug en skooldissipline wat onderwysers insluit nie. Die lewensbeskoulike rigting van openbare of staatskole moes eenvoudig mede-bepaal word deur die kerk.

Hoewel in 'n eie sosio-politieke konteks, gee die DKO duidelike blyke van die noodsaak vir gereformeerde kerke om as kerke by die nie-godsdienstige onderwys van, ten minste, hulle dooplidmate betrokke te wees. Vanuit die doopbelofte om die kinders van wie "u die vader en die moeder is", in hierdie leer te onderrig en te laat onderrig en die allesomvattende reikwydte van Gods koninkryk, moes kerkrade toesien dat die doopouers vir hierdie "laat onderrig" 'n behoorlike geleentheid in die plaaslike of breër gemeenskap kry. In die situasie destyds in Nederland het dit primêr staatskole of staatsbeheerde skole beteken.

 

3. DIE KERKORDE VAN DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA EN SKOOLONDERWYS

Aanvanklik het die GKSA-KO volstaan met die bewoording van die DKO artikel 21. Hierdie bewoording is egter deur die Sinode van 1967 gewysig.

Van der Linde beweer dat die DKO artikel 21 "na die letter" kan beteken dat kerkrade skole moet oprig en beheer, maar dat dit - en tereg - nie so bedoel was nie. Toe hierdie spesifieke bewoording vir die eerste keer by die Nasionale Sinode van Den Haag in 1586 gebruik is - dit was artikel 19 van sy kerkorde (Biesterveld & Kuyper 1905:196) - was dit gemik op die skole wat vroeër deur die Roomse Kerk beheer en nou deur die nuwe owerhede in Nederland oorgeneem is. Die kerkrade moes by hierdie owerhede daarop aandring dat gereformeerde onderwysers aangestel word wat aan die kinders 'n gereformeerde skoolopvoeding kon gee. Die kerk wou nie onderwysers aanstel en skole beheer nie, maar die owerhede beweeg om dit vir gereformeerde ouers moontlik te maak om aan hulle doopbelofte uitvoering te gee. Daar is nie 'n keuse gemaak vir of staats- of kerkskole nie (Van der Linde 1983:86).

In hulle kommentaar op die GKSA-KO artikel 21 tot 1967 gee Kruger en andere in 1966 dieselfde uitleg daaraan as Van der Linde. Volgens hulle was die bedoeling nie dat kerkrade skole stig en onderwysers aanstel nie, maar "met alle skoolsake na die owerheid sal gaan" omdat laasgenoemde die skole opgerig en daarvoor 'n verantwoordelikheid en 'n taak het (1966:133). Die skrywers wys daarop dat die GKSA-Sinode van 1942 hierdie vertolking gesteun het (1966:134).

Die aanvanklike voorstel vir die wysiging van GKSA-KO artikel 21 het gelui dat kerkrade moet toesien dat "die" ouers hulle kinders in die vrees van Here ooreenkomstig die belydenis van die kerk laat onderrig (Kruger et al 1966:135). Hierdie tipies kerklike bewoording is in die finale besluit vervang met die minder suiwer kerklik georiënteerde en meer lewensomvattende frase van onderrig "in die vrees van die Here..." (Visser 1999:96; Van der Linde 1983: 85).

Daarmee het die GKSA-KO sy kontinuïteit met die DKO behou, maar ook wegbeweeg van onderrig vanuit die kerklike belydenisse as 'n tipies kerklike manier van doen en nie die manier van skoolonderwys nie. Hoewel "die vrees van die Here" óók kerklike geloofs- en nie aanvaarde skoolonderwystaal is nie, bied dit tog 'n gemeenskaplike basis met Christelike onderwys. Immers, dit gaan in die vrees van die Here by implikasie om sy erkenning as Koning van sy lewensomvattende koninkryk waarvan Christelike onderwys - en die kerk - 'n deel is.

Van der Linde voer aan dat die formulering van onderrig "in die vrees van die Here" direk by Efesiërs 6:4 en Prediker 12:13 aansluit. Hier gaan dit respektiewelik om "die tug en vermaning van die Here" en "vrees God en hou sy gebooie". Dit sluit aan by die doopbelofte om verbondskinders te onderrig en te laat onderrig. Kerkrade moet ouers op hulle verbondspligte wys en hierdie ouers moet "toesighou" oor die skole waarheen hulle hulle kinders stuur (1983:86-87). In albei hierdie gevalle is die verband toerusting vir die volle lewe.

Visser oordeel dat die kerk en die skool elk op sy "eie terrein" selfstandig is. Kerkrade mag nie inmeng in skoolsake nie. Hulle behoort nie direkte inspraak en toesig oor skole te hê nie, maar moet tog toesien dat ouers hulle doopbelofte van verbondsonderrig aan hulle kinders nakom. Die nuwe Artikel 21 reël nie toesig van kerkrade oor skole nie, maar oor verbondsouers ten opsigte van skoolonderrig aan hulle verbondskinders. In die nuwe situasie in Suid-Afrika met die ANC aan bewind in 'n godsdiensneutrale staat, stel Artikel 21 'n groot uitdaging aan kerkrade. In buitengewone omstandighede waarin staatskole on- of selfs anti-Christelik word, mag dit beteken dat die kerke self skole oprig, in stand hou en bestuur (Visser 1999:96-97; vgl Van der Linde 1983:88 vir dieselfde standpunt). In sy kommentaar op Artikel 21 beklemtoon Spoelstra dit ook dat kerkrade oor die uitvoering van hulle verbondsbelofte deur verbondsouers moet waak, dat kerk en onderwys elk 'n eie terrein dek wat meebring dat die kategese en gewone skoolonderrig verskil, maar dat kerkrade ook moet "toesig" hou oor skoolonderwys en met skoolbesture op 'n "gepasde en waardige wyse" moet skakel wanneer die eer van God op die spel is of "regstreekse" Skrifbeginsels in gedrang kom (Spoelstra 1989:130).

Opgesom volg die GKSA-KO met hierdie benadering die DKO se lyn om vir kerkrade as 'n regeervergadering van die kerk, 'n gewettigde inspraak te gee in die lewensbeskoulike rigting of Christelike karakter van skoolonderwys. Anders as in die teokratiese Nederland van 1619 en vanuit 'n verChristeliking eerder as 'n verkerkliking van skoolonderwys (vgl

Van der Linde vir dieselfde terme, 1983:88), gaan dit nie om onderrig in en vanuit die kerklike belydenisskrifte nie, maar 'n omvattende Christelike opvoeding en onderwys. Daarby probeer die GKSA-KO - soos die DKO - nie om sake te reël waarvoor die kerk nie die bevoegdheid het nie. Die GKSA konsentreer op die skoolouers wat lidmate in van die kerke is en op die profetiese stemme - van die kerkrade - ten gunste van Christelike skoolonderwys.

Die terme "Christelike onderwys" en "Christenonderwysers" word sonder 'n omhaal van woorde deur kerkregskrywers uit die GKSA vir hierdie soort skoolonderwys gebruik (Visser 1999:97; Spoelstra 1989:130; Van der Linde 1983:87; Kruger et al 1966:135). Daarmee handhaaf hulle breedweg dieselfde neo-Calvinistiese, na-Dordtse benaderinge as diegene in Nederland wat hulle na 1619 beywer vir Christelike skole (Gaum et al 2008: 634).

 

4. DIE KERKORDE VAN DIE NED GEREF KERK EN SKOOLONDERWYS

Juis omdat die NGK-KO met sy eerste uitgawe in 1962 hoogstens 'n eietydse weergawe van die DKO wou wees (Vorster 1960:13), is daar 'n groter verskil en - bes moontlik - vryheid sigbaar by eersgenoemde teenoor die formulerings van laasgenoemde as by die GKSA-KO. Hierdie verskil kom reeds in artikel 67 van NGKO-1962 voor.

Wat wel in hoofsaak met die DKO artikel 21 ooreenstem, is die NGKO-1962 artikel 67(a) wat bepaal dat die NGK dit as sy roeping beskou om toe te sien dat "geskikte leerkragte" aangestel word om skoolonderwys "behoorlik en in 'n Christelike gees en rigting" te laat geskied. Behalwe vir ywer vir die Christelike rigting van skole, bepleit die NGKO in dié artikel 'n ereplek in "dagskole" vir die Bybel.

Daarby erken die NGKO die "selfstandigheid in eie bevoegdheid van die skool en die universiteit" hoewel hy die "reg" van die kerk handhaaf om van skole en universiteite "Christelike onderwys vir sy kinders en jongmense" te verwag (NGK 1964:15).

Dit is duidelik dat die NGKO van meet af vir die algemene Christelike rigting en gees van skole kies, met geen verwysing na of 'n opsigtelike gebruik van kerklike belydenisse in die proses nie. 'n Nadere omskrywing van hierdie Christelike gees kom voor in artikel 67(b) waarin die NGK hom bereid verklaar om die Protestants-Christelike karakter "van ons volk te beskerm en te behou en uit te bou" (NGK 1964:15).

Die verband van hierdie bepaling met skoolonderwys is nie duidelik nie. Moontlik het die NGKO dit as 'n ideaal vir alle onderwys tot op naskoolse vlak (let op die redelik unieke - in gereformeerde kerkordes - verwysing na universiteite) gesien om die Protestants-Christelike karakter van "ons volk" deur onderrig aan die jeug te handhaaf. 'n Ideaal wat spruit uit 'n identifisering van die NGK met die Afrikanervolk na die Anglo-Boereoorlog in 1902. Ds G Radloff van Krugersdorp sou dit so verwoord:

"Onze kinderen, dat is onze kerk, dat is onze nageslacht, dat is onze toekomst/" (Strauss sa:2).

Hierdie identifisering van die NGK met "ons volk" is in die sestigerjare van die vorige eeu steeds merkbaar. Na die onrus op 21 Maart 1960 en later by Sharpville en ander plekke in Suid-Afrika en in die lig van die groeiende internasionale kritiek teen apartheid Suid-Afrika, het die NGK met Afrikanerinstellings geledere gesluit teen die "aanslag" op "ons rassebeleid" (Strauss 2001:336).

Wat die gees en rigting en die nie-kerklike aard van algemene Christelike skoolonderwys betref, loop die NGKO tot op groot hoogte dieselfde pad as die GKSA-KO na 1967. Daarmee verbind hy hom ook aan 'n duidelike lyn in die DKO. Die NGKO se verwysing na die selfstandigheid in eie bevoegdheid van die kerk en die skool knoop vas aan 'n sluimerende visie in die DKO en 'n uitgesproke standpunt by kommentators uit die GKSA op die GKSA-KO. Met sy "selfstandigheid in eie bevoegdheid" handhaaf die NGKO-1962 bewoordings uit die Christelike of Neo-Calvinistiese Wysbegeerte van sy tyd soos by Vollenhoven, Dooyeweerd en Stoker. Bewoordings wat ook in sy bepalings oor kerk en staat en kerk en maatskappy voorkom (NGK 1964:15; Strauss 1993:13).

Hoewel NGKO artikel 67 deur die jare heen wysigings ondergaan het, het dit nie 'n betekenisvolle verandering in betekenis meegebring nie. Die huidige bewoording wat uit 1998 kom, bevestig die waarneming (NGK 1994:17; NGK 1998a:26). Die bevordering van die Protestants-Christelike karakter van "ons volk" is intussen laat vaar. 'n Kerk kan tog nie as kerk vir 'n bepaalde volk kies nie!

Weer handhaaf NGKO-1998 Protestants-Christelike norme en waardes as rigtinggewend vir onderwysinstellings. In plaas van "ons volk" verwys hy egter na die kultuuridioom in die algemeen "waarin die onderwys plaasvind".

Die NGKO ywer daarvoor dat die Bybel en Protestants-Christelike norme en waardes rigtinggewend sal wees in onderwysinstellings. Die "interne bevoegdheid" van hierdie intellings in onderwyssake soos standaarde en leerinhoude word ook erken. Wat die NGK betref, streef hy na Christelike opvoeding en onderwys vir sy jeug (NGK 1998a:26; NGK 2007:31).

Die sinode wat op NGKO-1998 besluit, die Algemene Sinode van 1998, keur ook 'n stuk getitel "Standpunte van die Ned Geref Kerk in verband met opvoeding en onderwys" goed. Hierdie stuk is meer uitvoerig as die Kerkorde en werp aanvullende lig op die standpunte van die NGK oor skoolonderwys. Dit sny die meeste uitstaande punte in die gereformeerde houding oor die kerk en skoolonderwys aan (NGK 1998b:122-123).

Volgens die stuk is onderwys ten diepste waarde-oordrag wat spruit uit 'n sekere waarde-oriëntasie of 'n lewens- en wêreldbeskouing. Die Christen se waardes bou op die Bybel en die toenmalige uitkomsgebaseerde onderwys soos gedryf deur die Suid-Afrikaanse Regering, moet ook aan die Bybel getoets word. Christelike onderwys moet die geloof van kinders uit Christelike huise ondersteun. Die "beginsel van godsdiensvryheid" vereis dat die geloof van die ouers erken word in die godsdiensonderrig en -aangeleenthede van die skole. Onderwys - én by implikasie Christelike onderwys - moet die Godgegewe potensiaal van elke kind ontsluit en hom in staat stel om 'n opbouende bydrae te lewer tot die "breëre" Suid-Afrikaanse samelewing.

Kragtens hulle doopbelofte het die ouers 'n onoordraagbare en onvervreembare verantwoordelikheid ten opsigte van die onderwys en opvoeding van hulle kinders. Die ouers moet inspraak hê in alle skoolsake, maar die skool ook ondersteun. Die staat moet sorg vir onderwysgeleenthede en vir ruimte in skole vir die religieuse oortuigings van ouers en leerders. Die kerk het 'n ondersteunende verantwoordelikheid ten opsigte van die oordrag van Christelike waardes teenoor die ouers, die skool en die onderwysers. Die waarde-oordrag wat op skool plaasvind, moet bou op die sentrale Skrifwaarhede met die kerklik dogmatiese en konfessionele waarhede op die agtergrond. Onderwys moet aan alle dele van die bevolking beskikbaar gestel word en gelykwaardig wees. In "uiterste gevalle" waar die skool die lewens- en wêreldbeskouing van leerders ondermyn, moet die kerk die ouers bystaan in die daarstelling van 'n eie skool gebou op Bybelse waardes.

Hierdie standpunte stem grootliks ooreen met vermelde kommentaar op die GKSA-KO. Dit haak aan by daardie rigting in die DKO wat ywer vir algemene Christelike onderwys binne die reikwydte van die koninkryk van God. Die doopbelofte van ouers word ook beklemtoon en is deurgaans aanwesig by die kerke wat hier onder die loep geneem word. Soos in kommentaar op die GKSA-KO genoem, kan die kerk eie skole in buitengewone omstandighede ondersteun. Hiermee skuif die aandag na 'n ander deel van die wêreld.

 

5. DIE KERKORDE VAN DIE CHRISTIAN REFORMED CHURCH EN SKOOLONDERWYS

Ook in die gereformeerde tradisie van Dordt, maar uit 'n ander samelewing, kom die Kerkorde van die CRC in Noord-Amerika.

Volgens CRC-KO artikel 71 moet kerkrade gemeentelede aanmoedig om goeie ("good") Christelike skole te vestig en te onderhou. Ouers moet toesien dat hulle kinders in hierdie skole na die eise van die verbond opgevoed en onderrig word. In teenstelling met ander, is die CRC-KO hieroor kort en op die punt af (Engelhard & Hofman 2001:391).

Van Dellen en Monsma (1968:272-277) wys daarop dat hierdie bewoording van die Sinode van 1914 kom wat artikel 21 van die DKO herskryf het. Een van die redes hiervoor was die feit dat die kerk-staatsituasie in die Nederlande van die 17e eeu drasties van die huidige situasie in die Verenigde State van Amerika (VSA) en Kanada verskil het. Waar die staat in die destydse Nederland vanuit 'n noue verbintenis met die gereformeerde kerk gereformeerde skole gesteun en bedryf het, loop daar 'n skeiding tussen kerk en staat in die VSA en Kanada. Hier moet die staat godsdienstig neutraal bly in sy bevordering van skole. Al die state in die VSA het wette wat "sectarian" onderrig in openbare skole verbied. Die Christelike godsdiens met sy lewens- en wêreldbeskouing, word ook as sektaries beskou.

Daarby, aldus Van Dellen en Monsma, is dit prinsipieel nie die eintlike taak van of die kerk of die staat om skole te onderhou nie. Die kerk is primêr die draer van die Boodskap van die Bybel met die oog op geloof en die staat met sy fisiese swaardmag gerig op die handhawing van orde en geregtigheid in die gemeenskap. Die Bybel dra die opvoeding van hulle kinders aan verbondsouers op. Vir beide kerk en staat is die onderhouding van skole 'n buitengewone maar, in die betrokke situasie, noodsaaklike aksie (vgl ook die uitspraak van die CRC-Sinode 1957, Engelhard & Hofman 2001:393).

Daarom, dit was die standpunt van die Sinode van 1914, is die vestiging en onderhouding van goeie Christelike skole die taak van die ouers. Dit is 'n taak waarvoor die kerk en die staat steun in verskillende vorme kan bied. Die "goeie" van Christelike skole dui nie op hulle fisiese geriewe of finansiële volhoubaarheid nie, maar die manier waarop hulle die implikasies van gehoorsaamheid van God se genadeverbond implimenteer. Dit gaan by die CRC ook nie om die verkerkliking van skole nie, maar hulle verChristeliking binne die allesomvattende koninkryk van God (Van Dellen & Monsma 1968:272-277).

Engelhard en Hofman onderstreep dit dat hierdie artikel dit nie aan kerkrade opdra om Christelike skole te vestig nie. Dit gaan nie om kerkskole nie, maar kerklidmate wat goeie Christelike skole bedryf. Die CRC-Sinode van 1898 het reeds verklaar dat Christelike onderwys op gereformeerde beginsels 'n onverhandelbare saak vir gereformeerdes is. Die gronde hiervoor is die Skrifopdrag dat kinders in die "vrese" van die Here opgevoed moet word, verbondsouers se doopbelofte, die eenheid van die Christelike lewe voor God en die erkenning van sy koningskap van op alle lewensterreine. Die CRC-Sinode van 1975 verklaar hom ten gunste van staatsubsidie vir alle staats- en nie-staatskole wat aan sekere vereistes of standaarde voldoen (2001:391-393).

Hiermee loop CRC-KO in dieselfde spoor as die GKSA-KO en die NGKO.

 

6. SLOT

Ten opsigte van die kerk en skoolonderwys is daar in hulle "groot lyne" ooreenstemming tussen die GKSA-KO, die NGKO en die CRC-KO. Waar die kerk-staatsituasie by aldrie drasties van die situasie van die DKO in die sewentiende eeuse Nederland verskil, sluit hulle tog aan by die algemene, nie-kerklike maar Christelike onderwyslyn van die DKO sonder om die tendens tot 'n verkerkliking van skoolonderwys by laasgenoemde oor te neem. In die motivering van ouers se verantwoordelikheid vir hulle kinders se Christelike skoolonderwys figureer die doopbelofte van verbondsouers in al drie kerke. Dit gaan hier uitdruklik ook om nie-kerklike of algemene skoolonderwys.

Die frase van 'n verChristeliking en nie 'n verkerkliking van skool-onderwys nie binne die raamwerk van God se lewensomvattende koninkryk is 'n konsensus: as dit nie woordeliks is nie, is dit saaklik daar. Dit is 'n konstante wat vandag nog geld.

 

BIBLIOGRAFIE

BlESTERVELD, P. & KUYPER, H.H. 1905. Kerkelijk handboekje. Kampen: JH Bos.         [ Links ]

DE JONG, O. 1986. (erratum 1985). Nederlandse Kerkgeschiedenis. Nijkerk: Callenbach.         [ Links ]

DE GIER, K. 1989. De Dordtse Kerkorde. Houten: Den Hertog.         [ Links ]

ENGELHARD, D.H. & HOFMAN, L.J. 2001. Manual of Christian Reformed Church government. Grand Rapids:CRC Publications.         [ Links ]

GAUM, F. et al 2008. Christelike Kernensiklopedie. Wellington: Lux Verbi.BM.         [ Links ]

HOLWERDA, B. 1975. De dingen die ons van God geschonken zijn. Goes: Oosterbaan en Le Cointre.         [ Links ]

KLEYNHANS, E.P.J. 1982. Gereformeerde Kerkreg I. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

KLEYNHANS, E.P.J. 1988. Gereformeerde Kerkreg IV. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

KRUGER, L.S. et al 1966. Handleiding by die Kerkorde van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Potchefstroom: Pro Rege.         [ Links ]

KUIPER, B. 1995. The church in history. Grand Rapids: CSI Publications.         [ Links ]

KUYPER, H.H. S.A. De Post-acta of na-handelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618-1619 gehouden. Amsterdam: Höveker en Wormser.         [ Links ]

NGK. 1964. Kerkorde. Pretoria: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

NGK. 1994. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

NGK. 1998a. Die Kerkorde. Wellington: Hugenote-Uitgewers.         [ Links ]

NGK. 1998b. Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode. Sl:sn.         [ Links ]

NGK. 2007. Die Kerkorde. Wellington: Bybelmedia.         [ Links ]

NG Kerk-Uitgewers. 1982. Die drie formuliere van eenheid en ekumeniese belydenisse. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.         [ Links ]

PONT, A.D. 1981. Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I. Pretoria: HAUM.         [ Links ]

SPOELSTRA, B. 1989. Gereformeerde Kerkreg en Kerkregering. Hammanskraal: Hammans-kraal Teologiese Skool.         [ Links ]

STRAUSS, P.J. 1993. Op die tweesprong? Bloemfontein: UV.         [ Links ]

STRAUSS, P.J. 2001. Church and state and apartheid in South Africa. A Perspective from the Dutch Reformed Church (1962-1998). European Journal for Church and State Research. Volume 8.         [ Links ]

STRAUSS, P.J. 2006. Die Dordtse tradisie en binding aan die belydenis. In die Skriflig 40/4, 649-666.         [ Links ]

STRAUSS, P.J. 2010. Kerk en orde vandag. Bloemfontein: Sunmedia.         [ Links ]

ÜRSINUS, Z. 1978. Schatboek II. Dordrecht: Van den Toe. (Vertaling van Festus Homminus)        [ Links ]

VAN DELLEN, I. & MONSMA, M. 1968. The revised church order commentary. GrandRapids: Zondervan.         [ Links ]

VAN DER LINDE, G.P.L. 1983. Die Kerkorde. Potchefstroom: PTP.         [ Links ]

VAN DER VEEN, R.J. S.A. Het vierde gebod. In: De thora in de thora I. Aalten: De Graafschap, 111-149.         [ Links ]

VELDKAMP, H. 1975. Zondagskinderen II. Faneker: T Wever.         [ Links ]

VISSER, J. 1999. Die kerkorde in praktyk. Orkney: EFJS Drukkers. Vorster, J.D.         [ Links ]

VISSER, J. 1960. Die kerkorde van die NG Kerke. Ned Geref Teologiese Tydskrif 1/4:12-18.         [ Links ]

 

 

1 Calvyn word die vader van die gereformeerde kerkreg en gereformeerdes genoem, Kleynhans 1982:79.
2 Vraag 103 lui: Wat gebied God in die vierde gebod?
3 Vgl Strauss 2006:649-665 vir 'n uiteensetting van hierdie standpunt.
4 Die oer- of eerste vorm van die huidige NG Kerkorde is die kerkorde van 1962 van die eerste Algemene Sinode. Die destydse aktuarius en voorsitter van die kommissie verantwoordelik, dr JD Vorster, verwys hierna as die Dordtse Kerkorde, aangepas by die eise van die dag (1960:13). By nadere ondersoek loop die Kerkorde van die CRC dieselfde pad (Engelhard en Hofman 2001:15), terwyl die Kerkorde van die GKSA in sy formulerings meer Dordts of baie nader aan die DKO oorkom (Van der Linde 1983:6)
5 Die gereformeerde ekumeniese karakter van die Sinode van Dordrecht van 1618-1619 blyk uit die feit dat die leerstellige deel deur afgevaardigdes uit Nederland, Engeland, Duitsland en Switserland bygewoon is, (Kuiper 1995:268). Hierdie feit gee natuurlik aan hierdie sinode se besluite ook 'n breër impak.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License