SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.32 no.1 Bloemfontein  2012

 

Michel Foucault se historiografiese benadering as lens in historiese ondersoeke

 

 

Dr Mary-Anne Plaatjies Van Huffel

Universiteit Stellenbosch. E-pos: mapvanhuffel@sun.ac.za

 

 


ABSTRACT

In the article the author argues that Foucault's insights on the archaeological historiography, genealogy and discourse analysis can be used as a lens to write history as well as to deconstruct the existing historical sources. Foucault's main thesis is that history is largely an illusion. Foucault contrasts effective historiography with traditional historiography. He is against the traditional scheme of historical research. Foucault's archaeological historiography is a method of historical analysis that is free from the anthropological theme. In the article the following themes will be discussed: Foucault and post-structuralism, Foucault and the archaeological historiography, Foucault and the genealogical historiography, Foucault and discourse analysis, Foucault and the formation of objects of discourse, Foucault and the reading process and Foucault knowledge and truth, Foucault and power and discipline. Attention will also be given in this paper to Ricoeur's notions on historiography.

Keywords: Post-structuralism; Discourse; Archaeological historiography Genealogical historiography


Sleutelwoorde: Poststrukturalisme; Diskoers; Argeologiese geskiedskrywing Genealogiesegeskiedskrywing


 

 

1. INLEIDING

Geskiedenis het dikwels te doen het met die vraag na institusionele kontrole en mag. Die klem behoort onder andere in geskiedskrywing, in besonders kerkgeskiedskrywing, op mag in plaas van op kennis soos in tradisionele geskiedskrywing te val. In kerkgeskiedskrywing behoort onder andere na die diskursiewe formasies van verskeie samelewings verwys te word om sodoende die gebeure wat die kennisveld en die diskursiewe formasies wat verskillende periodes geproduseer het aan die lig te bring. Kerkhistorici behoort daarop bedag te wees dat mense deur sosiale diskoerse en/of sosiale formasies gekonstitueer word. Daar behoort gevolglik in 'n kerkgeskiedskrywing ondersoek gedoen te word na die onderliggende diskoers in die teks en/of die werklikheid. Ek is van mening dat Foucault se siening en/of bydraes oor poststrukturalisme, die argeologiese geskiedskrywing, die genealogiese geskiedskrywing, diskoersanalise, die vorming van objekte van die diskoers, die leesproses, kennis en waarheid, mag en dissipline as lens in kerkhistoriese ondersoeke gebruik kan word. Daar is 'n afwesigheid by kerkhistorici in Suid-Afrikaanse konteks om ernstig rekening te hou met post-strukturaliste soos Foucault en Ricoeur se historiografiese benadering. Ricoeur beklemtoon onder andere die vermoë van die mens om te onthou. Hy beklemtoon oor en oor dat ons geen ander bron tot die verlede het as herinnering self nie: "we have no other resource, concerning our reference to the past, except memory itself" (Ricoeur 2004: 21). Herinnering is vir Ricoeur die toegangsbron tot die verlede (Van Tonder 2010: 20).

 

2. FOUCAULT EN POSTSTRUKTURALISME

Foucault was nooit 'n strukturalist in die strengste sin van die woord nie (Dreyfus 1982:14). Strukturaliste poog immers om menslike aktiwiteite wetenskaplik te hanteer deur basiese elemente (konsepte, aksies, klasse van woorde) en die reëls en/of wette waardeur dit gekombineer word, te vind (Dreyfus 1982:xvi). Foucault het hom eksplisiet van die atomistiese strukturalisme onderskei. In atomistiese strukturalisme word die elemente in geheel gespesifiseer, apart van hul rol in sommige groter kontekste. Dreyfus (1982:xvi) kontrasteer Foucault se argeologiese benadering met die metode van holistiese en of diakroniese strukturalisme. Foucault het hom later self gedistansieer van strukturalisme. Dreyfus beweer dat Foucault selfs nie 'n poststrukturalis is nie (1982:xx). Die vroeë Foucault (die Foucault van Madness and Civilization, The Birth of the Clinic, The Order of Things, The Archaeology of Knowledge) kan volgens Harland (1987:3) nie as óf strukturalis óf poststrukturalis beskrywe word nie. Foucault se poststrukturalistiese benadering staan in opposisie tot strukturalisme. Aan die eenkant deel Foucault nie die strukturalisme se manier van denke oor strukture nie. Aan die anderkant deel hy nie aan die karaktereienskappe van die nuwe filosofiese posisie van poststrukturalisme nie. Soos Kuhn soek Foucault na 'n vlak van analise wat konsepte, hul kontinuïteite en klein verskuiwings in berekening sou bring (Dreyfus 1982:70). Poststrukturalisme het hoofsaaklik te doen met die vraag na institusionele kontrole en mag. Poststrukturalisme kan soos volg gedefinieer word:

It is best to think of post-structuralism as a set of related approaches to a similar problem - the relation of self, and language - which altogether, when set beside (or inside) structuralism, disclose its underlying inconsistencies and force it to its theoretical limits. (Berman 1988:172).

Foucault word beskou as 'n nie-historiese historikus, 'n anti-strukturalistiese strukturalis, 'n humanistiese wetenskaplike (Berman 1988:181, Strathern 2002:1). Sy grootste historiese werk is sy doktorale proefskrif, History of Madness, wat as Madness and Civilization gepubliseer is. In dié werk asook in Birth of a Clinic sentreer Foucault rondom die analise van historiese sisteme van institute en diskursiewe praktyke. Schwartz (1992:35) oordeel in Semeia 51 dat Foucault nie slegs 'n feitelike opsomming van gebeure in Madness and Civilization deurgee nie, maar dat hy gedurig gebeure krities bejeën (1992:35). Hy vra voortdurend die "waarom-vraag": Waarom het die mense in 'n bepaalde tydperk die kranksinnige op 'n spesifieke wyse gehanteer?

Foucault se hoof tese was dat geskiedenis grotendeels 'n illusie is. Foucault (Dreyfus 1982:3) is van mening dat tradisionele geskiedskrywing, die geskiedenis van denke, kennis, filosofie en/of literatuur, die verlede in dokumente memoriseer. Dokumente word volgens Foucault op hul beurt in monumente getransformeer (Dreyfus 1982:7). Daar was 'n tyd, volgens Foucault (1972:7) toe argeologie verwys het na monumente, objekte sonder konteks of geskiedenis, wat slegs betekenis deur die herstel van die historiese diskoers kon bereik. Die probleem is volgens Foucault (1972:7) om in die teenswoordige tyd die opeenvolging van reekse te konstitueer: om die geskikte elemente vir elke reeks te definieer, om grense vas te stel, om die reekse se eie spesifieke tipe relasies te openbaar, om wette te formuleer en om die relasies tussen reekse te beskrywe. Geskiedenis is dit wat dokumente in monumente verander. Argeologie is 'n dissipline wat gewy is aan die monumente, objekte sonder kontekste, wat betekenis slegs deur die restitusie van die historiese diskoers verkry.

Foucault stel effektiewe geskiedenis teenoor tradisionele geskiedenis. Tradisionele geskiedenis verwys volgens Foucault na die soeke van bronne, die vasstelling van kontinuïteit, die vind van ooreenkomste en die tabellering van ontwikkeling met een of ander einddoel in sig. Tradisionele geskiedenis is volgens Foucault 'n nasporing van die verlede as 'n volhardende en kontinue ontwikkeling (Schwartz 1992:37). Daarteenoor verwys effektiewe geskiedenis volgens Foucault (1977(a):154) na die tabellering van breuke en diskontinuïteite wat die eenheid van die subjek ontwrig en die soeke na oorsprong en einddoel breek. Foucault weier 'n tradisionele, ontwikkelingsmodel van die geskiedenis. Met Levi-Strauss wys Foucault die historiese wordingsproses as 'n kontinue verloop af. Foucault is teen die tradisionele skema van historiese ondersoek. Daarom is dit vir Foucault moontlik om in Madness and Civilization 'n geskiedenis oor die konstituering van kranksinnigheid as siekte te skryf waaruit dit duidelik blyk dat die een gebeurtenis logies-noodsaaklik uit die ander vloei (Bakker 1973:131).

Die instrumente wat geskiedskrywers in staat stel om hul analises te maak, is volgens Foucault deels oorgeërf en deels hul eie analises (Foucault 1972:3). Geskiedenis in sy tradisionele vorm ondermeer volgens Foucault om die monument van die verlede te memoriseer, dit in dokumente te transformeer en spraak aan daardie tekens te verleen wat self dikwels nie verbaal is nie of wat in swye iets anders sê as wat hardop uitgespreek word (Foucault 1972:7). Foucault is teen presentisme in die historiese analise. In presentisme neem die historikus 'n model of 'n konsep of 'n instelling of 'n gevoel of 'n simbool van die hede en probeer 'n parallelle betekenis in die verlede vind. Foucault wend geen poging aan om die betekenis of belangrikheid van die epogge van die verlede te verklaar nie. Hy poog geensins om 'n volledige prent van vorige tydperke, eras, persone of instellings te teken of om die onderliggende wette van die geskiedenis vas te stel nie. Hy wend geen poging aan om teenwoordige belange, instellings en politiek in die geskiedenis in die epogge in te lees nie (Dreyfus 1982:118).

Foucault verwerp die teleologiese siening van wetenskaplike geskiedenis. 'n Teleologiese siening van wetenskaplike geskiedenis fokus op die ontdekking en kennis van die verlede wat steeds vir die mens vandag belangrik is. Suid-Afrikaanse kerkhistorici soos byvoorbeeld Moorrees, 1937, Botha, 1965, Kriel, 1963, Els, 1971, Pont, 1972, Van der Watt, 1977, Erwee, 1980, Loff, 1981, Adonis, 1982, lê gewoonlik klem op die kontinuïteit in die geskiedenis, terwyl Foucault op die diskontinuïteite, die onderbrekings in die storie-lyn wys. Kerkhistorici behoort dus geensins te poog om die geskiedenis van die verlede in terme van die hede te herskryf nie, maar behoort veel eerder geskiedenis te sien as 'n sosiale konstruksie.

Ricoeur verdeel sy studie van geskiedenis in drie dele naamlik: die dokumentêre fase, die verklarende fase, en die representatiewe fase. Ricoeur beskryf die interafhanklikheid tussen die drie fases soos volg:

No one consults an archive apart from some project of explanation, without some hypothesis for understanding. And no one undertakes to explain a course of events without making use of some express literary form of a narrative, rhetorical, or imaginative character. (2004:137).

 

3. FOUCAULT EN DIE ARGEOLOGIESE GESKIED-SKRYWING

Ek is van mening dat argeologiese geskiedskrywing gebruik kan word om die onderliggende diskoerse in verskillende kerkhistoriese periodes aan die lig te bring. Argeologie is die term wat Foucault gebruik om na die diskursiewe formasies van verskeie samelewings te verwys om sodoende die gebeure wat die kennisveld en die diskursiewe formasies wat verskillende periodes geproduseer het, aan die lig te bring (Danaher, Schrato, & Webb (red.) 2000:ix). Kerkhistorici behoort gevolglik ondersoek te doen na die onderliggende diskoers in die teks en/of die werklikheid. Met argeologie bedoel Foucault 'n ondersoek na die onbewuste reëls wat in bepaalde tydperk bepaalde filosofieë en ideologieë tot stand gebring het (Bakker 1973:34). Argeologie poog geensins om die denke, voorstellings, beelde, temas en/of vooroordele te definieer wat in die diskoerse verborge is of geopenbaar word nie, maar konsentreer veel eerder op die diskursiewe formasies self (Foucault 1972:139).

Foucault wil egter die gewone geskiedenis, die agtergrond ("argeo") vasstel, dit wil sê die agtergrond waaruit bepaalde veranderinge in die mediese taal plaasvind. Net so behoort kerkhistorici te poog om die agtergrond vir die verandering in die gebruik van begrippe in kerkhistoriese bronne vas te stel. Taal speel immers in die strukturele denke 'n groot rol. Foucault sê in The Order of Things (1970) dat taal nie 'n arbitrêre sisteem is nie. Foucault se argeologiese siening oor die geskiedenis belig die verlore en vergete areas van die menslike denke. Die konteks waarin woorde/ stellings gebruik word, is vir die argeoloog bepalend vir die betekenis wat daaraan geheg word.

Kerkhistorici behoort gevolglik ondersoek te doen na die onderliggende diskoers in die teks en/of werklikheid. Ondersoek behoort dus gedoen te word na die onbewuste reëls wat in bepaalde tydperk, byvoorbeeld Apartheid, koloniale tydperk, bepaalde filosofieë en ideologieë tot stand gebring het. Die pasklaar sintese, wat normaalweg aanvaar word sonder om dit te ondersoek en/of te bevraagteken, daardie gevolgtrekkings waarvan die geldigheid by aanvang sonder bevraagtekening aanvaar word, die pre-eksistensiële vorms van kontinuïteit asook die verdelings of afdelings en of groeperinge waarmee ons so vertroud geraak het, behoort deur kerkhistorici bevraagteken te word.

Ricoeur se Memory, History, Forgetting bestaan uit drie dele - elkeen met 'n eie tema en metode. Die eerste deel - In Memory and Recollection-handel oor die geheue en herinnering en is 'n fenomenologiese bespreking van die geheue. Die tweede deel - History Epistemology - word gewy aan 'n epistemologiese studie van die geskiedenis. Die laaste deel -The Historical Condition - fokus op die hermeneutiek van die historiese toestand. Ricoeur verduidelik dat Foucault se idee van argeologie in sy Archeology of Knowledge nie poog om die verlede te wysig of te herhaal nie (2004:201). In die woorde van Foucault beskryf Ricoeur argeologie as volg:

(i)t is nothing more than a rewriting: that is, in the preserved form of exteriority, a regulated transformation of what has already been written (Ricoeur 2004:201).

In opposisie tot die praktyk van die historici van idees, wat met kontinuïteite, oorgange, antisipasies en voorlopige sketse te doen het, staan argeologie vir diskontinuïteit, breuke, en skielik verdelings. Argeologie weier om verskille te verminder, in teenstelling met die geskiedenis van idees wat verskille as 'n fout sien. Argeologie se doel is dus volgens Ricoeur nie om verskille te oorkom nie, maar het eerder ten doel om verskil die doel van die analise te maak, om te verduidelik presies wat dit is, om dit te onderskei. Ricoeur verduidelik argief en argeologie soos volg: argief wat die register van diskursiewe formasie is en argeologie wat die beskrywing van die inter-diskursiewe transformasies is.

 

4. FOUCAULT EN DIE GENEALOGIESE GESKIED-SKRYWING

Die genealogiese geskiedskrywing kan ook met vrug gebruik word deur kerkhistorici. Foucault (1980:117) definieer genealogie in Power/Knowledge as 'n vorm van geskiedenis wat rekening hou met die konstituering van kennis, en/of diskoerse sonder om na die subjek te verwys. Genealogie is 'n proses van analisering en ontdekking van die historiese relasie tussen waarheid, kennis en mag (Danaher et al. 2000:xi). Die klem sal in so 'n kerkgeskiedskrywing val op die analisering van die historiese relasie tussen waarheid, kennis en mag. Daar is volgens Harland 'n filosofiese verskil tussen argeologie en genealogie (1987:154). Die mees sigbare verskil tussen genealogie en argeologie lêdaarin dat genealogie die klem laat val op mag in plaas van op kennis soos in die argeologiese geskiedskrywing. Foucault se argeologie is 'n felle kritiek teen die historiese fenomenologie en eksistensiële filosofie wat die subjek sentraal plaas.

Die genealoog is 'n diagnostikus wat op die relasies van mag, kennis en die liggaam in die moderne gemeenskap konsentreer. In Discipline and Punish en in die eerste volume van The History of Sexuality verander Foucault die prioriteit wat argeologie bo genealogie gehad het. Genealogie staan teenoor die tradisionele historiese metodiek. Die doel van genealogie is om die sonderlingheid van gebeure buite enige finaliteit te boekstaaf. Vir die genealoog is daar geen onderliggende wette of geen metafisiese finaliteite nie. Foucault vervang die ontologie met 'n spesiale vorm van geskiedenis wat fokus op die kulturele praktyke wat die mens gekonstitueer het (Dreyfus 1982:122). Genealogie soek diskontinuïteite waar ander kontinuïteite vind. In 'n genealogiese kerkgeskiedskrywing vermy die historici die soeke na dieptestrukture, maar lêveel eerder klem op die oppervlakte-betekenis van gebeure, kleiner detail, klein verskuiwings en subtiele kontoere. Genealogie stel die geskiedenis van interpretasie op skrif. Die interpreteerder as genealoog sien dinge op 'n afstand. Genealogies gesproke is die dieptestrukture van 'n teks eers bereikbaar sodra die genealoog dinge op 'n afstand beskou.

Kerkhistorici behoort gevolglik bewustelik daarmee te werk dat daar volgens Foucault primêr niks is om te interpreteer nie aangesien alles alreeds geïnterpreteer is (Dreyfus 1982:107). Die fokus in kerkgeskiedskrywing behoort ook te val op die kulturele praktyke wat die mens as objekte van die diskoers gekonstitueer het.

 

5. FOUCAULT EN DISKOERSANALISE

Kerkhistorici behoort die dominante diskoerse in die kerkgeskiedenis te analiseer met inagneming daarvan dat diskoerse produkte van sosiale faktore, mag en praktyke eerder as 'n individuele stel idees. Diskoersanalise behels onder andere 'n versigtige lees van tekste met 'n siening om die diskursiewe patrone van betekenis, kontradiksies en/ of inkonsekwenthede bloot te lê. Volgens Foucault kan diskoers verstaan word as 'n reeks gebeure (Danaher et al. 2000:16). Diskoers verwys na die interafhanklike sisteme van stellings wat rondom algemene betekenisse en waardes saamhang. Diskoers verwys na 'n breë konsep wat na 'n manier van konstituering van betekenis verwys wat spesifiek is aan 'n besondere groep, kultuur en/of historiese periode en wat voordurend verander (Gavey 1989:464).

Diskoers is veelvoudig en verskaf 'n veelheid van weë om betekenisse aan die wêreld te gee. Kerkhistoriese tekste word in diskoersanalise in hul eie reg benader en nie as 'n sekondêre roete na die dinge anderkant die teks nie byvoorbeeld houdings, gebeure en/of kognitiewe prosesse.

Foucault huldig 'n verskeidenheid betekenisse aan die begrip diskoers: rede, wetenskaplike rede, verhandeling. In Archaeology of Knowledge noem hy dat die diskoers 'n versameling enconces is. Die enconces (die kleinste sinvolle elemente) is onderling aan mekaar deur middel van relasies, waarvan die skrywer dikwels nie bewus is nie, verbonde. Foucault wil die relasies beskryf wat die essensie van die diskoers uitmaak (Bakker 1973:130). Foucault is van mening dat kennis, idees, presentasies, beelde en/of temas altyd in 'n gelokaliseerde sin die diskoers is. Daar is dus geen besondere metode hoe om diskoersanalise te doen nie. Veel eerder gee Foucault 'n breë teoretiese raamwerk met betrekking tot die natuur van die diskoers en die rol daarvan in die sosiale lewe.

Die sentrale begrip in Archaeology of Knowledge is die begrip diskoers. Met argeologie van menslike wetenskappe bedoel Foucault die dominante diskoerse wat met 'n spesifieke historiese periode geassosieer word. Foucault beklemtoon dat sy argeologiese benadering 'n teorie oor diskoers is (Dreyfus 1982:xx). In die Archaeology of Knowledge interpreteer Foucault sy vroeër werke as die bestudering van die teorie van die menslike wetenskappe as diskoersobjekte (1972:138). Foucault hanteer alles wat in die menslike wetenskappe gesê word as diskoerse. Foucault (Dreyfus 1982: xx) argumenteer dat die wetenskappe van die mens as 'n outonome sisteem van diskoers hanteer kan word. Hy het nooit sy posisie verander dat sosiale institute diskursiewe praktyke beïnvloed nie. In The Birth of a Clinic toon Foucault aan hoe klassieke medisyne op 'n diskontinue wyse plek gemaak het vir kliniese medisyne (Strathern 2002:18). The Birth of a Clinic is 'n poging om die dominante diskoerse te vind wat die mediese wetenskap gekonstitueer het. In alle diskursiewe praktyke en kennis handhaaf die argeoloog dieselfde distansie van die waarheid en betekenis wat mense natuurlikerwys na die mediese wetenskap en ander teorieë van die Klassieke Tyd bring (Foucault 1972:144). Alle vorms van diskoers word vervolgens met die suspisie benader.

Kerkhistorici behoort dus vanuit die voorveronderstelling te beweeg dat alle betekenis en kennis deur taal gekonstitueer word. Enige interpretasie of verstaan van 'n objek of gebeure vind dus plaas deur 'n spesifieke diskoers byvoorbeeld kerkgeskiedskrywing tydens die koloniale tydperk, apartheid en post apartheid sal noodwendig met betrekking tot interpretasie van gebeure verskil. Kerkhistorici behoort dus ook daarop bedag te wees alle kennis sosiaal gekonstitueer en behoort dus historiese dokumente met suspisie te benader.

 

6. FOUCAULT EN DIE VORMING VAN OBJEKTE VAN DIE DISKOERS

Kerkhistorici behoort daarop bedag te wees dat objekte deur sosiale diskoerse en/of sosiale formasies gekonstitueer word. In The Birth of a Clinic handhaaf Foucault die siening dat die argeologie dieptestrukture in die mediese wetenskap sowel as in enige ander vakgebied wat die mens bestudeer, kan bloot lê(Bakker 1973:62). Foucault behandel die geskiedenis van die medisyne in terme van taal. Volgens Foucault verander die mediese objek met die transformasie van die mediese taal. Foucault bestudeer die dominante diskoerse en hul relatiewe afhanklikheid op sosiale strukture in sy boek, Madness and Civilization. Hy toon onder andere aan hoe byvoorbeeld kranksinnigheid en seksualiteit deur sosiale diskoerse en/of sosiale formasies gekonstitueer was.

Hy beskrywe onder andere hoe melaatses aanvanklik in die Middeleeue in aparte tehuise vir melaatses gewoon het. Die inwoners was sosiaal geïsoleer van die inwoners van die stad, maar was naby genoeg om geobserveer te word. Melaatsheid is aan die eenkant as gevaarlik en as die straf van God beskou, maar aan die anderkant was dit as tekens van God se genade en krag beskou. Melaatsheid was ook gesien as tekenend van Christelike barmhartigheid en liefdadigheid. Aan die einde van die Middeleeue was die tehuise vir melaatses ontruim, maar die fisiese geboue was nie onbeset gelaat nie. Veel eerder was die fisiese geboue telkens gevul met nuwe inwoners byvoorbeeld die armes, huislose siekes, asook met nuwe naamborde en met nuwe sosiale vorms. Foucault is van mening dat alhoewel daar telkens 'n nuwe betekenis en 'n nuwe kultuur in die tehuise gevestig was, die primêre vorm van geskeidenheid, wat sosiale uitsluiting, maar spirituele reïntegrasie behels, voortgesit word. Hierdie tema van ruimtelike uitsluiting en kulturele integrasie asook kulturele diskontinuïteite word veral in Madness and Civilization beklemtoon.

Die jukstaposisie van kontinuïteit en diskontinuiteit, mag en diskoers as parallelle pare word op 'n treffend manier in Madness en Civilization deurgegee (Dreyfus 1982:4). In Madness and Civilization trek Foucault onder andere verbande oor hoe die medici 'n rol in die konstituering van kranksinnigheid as siekte gespeel het. Byvoorbeeld, die medici as 'n instituut besit reëls wat eie aan die instituut is. As 'n groep individue wat die mediese professie konstitueer, as 'n liggaam van kennis en praktyk, as 'n outoriteit wat deur publiek, die wet, die regering ensovoorts erken word, word die medici as die hoofoutoriteit in die samelewing beskou wat kranksinnigheid afbaken, begrens, onderskei. Die medici benoem en bevestig die kranksinnige as objek van die diskoers. Foucault demonstreer in Madness and Civilization dat die mens se beskouing van kranksinnigheid diskontinuïteite ondergaan het. Hierdie verskuiwing vanaf die beskouing dat kranksinniges as heiliges gedurende die middel eeue beskou is, tot die beskouing van kranksinnigheid as 'n siektetoestand aan die einde van die Klassieke Tyd, is volgens Foucault nie logies verklaarbaar nie. Verandering in kennissisteme gaan volgens Foucault altyd met betekenisvolle verskuiwing in mag gepaard. Madness and Civilization is nie slegs 'n wetenskaplike verhandeling oor die geskiedenis van kranksinnigheid nie, maar is 'n argeologiese beskrywing van kranksinnigheid (Bakker 1973:18). Foucault is van mening dat kranksinnigheid gekonstitueer word deur die benaming, beskrywing, beoordeling en/of verduideliking daarvan deur die medici as 'n siektetoestand (Foucault 1972:47).

Kerkhistorici behoort dus op voetspoor van Foucault nie slegs op 'n kronologiese wyse gebeure te sistematiseer nie, maar behoort ook die outoriteite van begrensing te beskryf. Kerkhistorici behoort die institusionele terrein te beskrywe waarvandaan die diskoers gemaak word en waarvandaan die diskoers as legitieme bron en toepassingspunt ontleen word. Ook behoort kerkhistorici op voetspoor van Foucault se benadering die volgende in hul historiese ondersoek te bepaal: Wie spreek? Wat is die status van die persoon wat die reg het om te spreek? Wie tussen die totaliteit van sprekende individue is die reg vergun en/of toegestaan om die soort taal te gebruik? Wie is gekwalifiseer om te spreek en waarom? Word die reg gesanksioneer deur die wet of tradisie? Wie word juridies of spontaan aanvaar om so 'n diskoers te presenteer? Is die mag juridies gedefinieerd of word dit spontaan aanvaar? Wat is die institusionele ruimtes en/of podiums waarvandaan die persoon 'n diskursiewe bydrae maak? Wat is die posisie van die subjek? In watter relasie staan die subjek met die verskillende objekte? Hoe word die verskillende groepe stellinge met mekaar verbind? Sodoende sal kerkhistorici daarin slaag om die jukstaposisie van kontinuïteit en diskontinuïteit, mag en diskoers as parallelle pare op 'n treffende wyse in kerkgeskiedenis deur te gee en verbande te trek oor hoe die kerkhistorici 'n rol in die konstituering van objekte gespeel het.

 

7. FOUCAULT EN DIE LEESPROSES

Kerkhistorici behoort van die veronderstelling uit te beweeg dat 'n teks ook 'n eie geskiedenis van interpretasie ontwikkel, wat verdere lees en herlees van die teks bepaal. Kerkhistorici behoort ook daarvan kennis te neem dat die kriteria om te bepaal watter interpretasie van 'n teks korrek òf beter is as 'n vorm van sosiale mag beskou kan word. Foucault beskou kennis en mag as sinoniem aan mekaar (Grassie 1997:87). Die taak van die kerkhistorici is om die mag/kennis relasies te openbaar. Met die opkoms van die historiese filologie word taal gevul met dieptestrukture waarvan die taalgebruiker selfs nie eens direk bewus is nie (Harland 1987:11).

Die outonomiteit van die teks staan vir Foucault sentraal. Die teks is selfstandig en gaan altyd die geïnterpreteerde betekenis vooruit: "die altijd de geinterpreerde en de interpreteerde betekenis te boven gaat" (Bakker 1973:139). Kerkhistoriese tekste moet vervolgens soos volg gelees word: wat daar staan en wat daar nie staan nie. Gesamentlik lewer so 'n lees van die teks volgens Foucault (1972:50) 'n samehangende struktuur. Die teks word radikaal beïnvloed deur die skrywer se intensionele konstruksie van die inhoud, maar die teks staan ook onafhanklik van die outeur (Grassie 1997:86). Die skrywer word in 'n poststrukturalistiese benadering onttroon (Ruemann 1992:65). Die vraag in tradisionele kritiek was: Wat is die intensie van die skrywer? Poststrukturalisme verskil. In 'n poststrukturalistiese benadering bepaal die teks die interpretasie en nie soseer die skrywer nie. Die skrywer asook die leser en sy/haar intensies, is nie langer bepalende faktore in die verstaan van die teks nie. Veel eerder word betekenis deur 'n deurlopende en inter-subjektivistiese proses bepaal. Die teks bevat betekenisse wat onafhanklik van die skrywer se intensie is, aangesien die teks die persoonlike, sielkundige, sosio-kulturele voorveronderstellings reflekteer, waarin die outeur onbewustelik lewe en skrywe (Weedon 1997:173).

Die outeur se konteks is ook 'n belangrike element in die lees en verstaan van die teks (Grassie 1997:87). Foucault was altyd geïnteresseerd in hoe die mens homself/haarself in hul kulturele opset verstaan (Harland 1987:109). Strukturalistiese hermeneutiek poog om die teks onafhanklik van die skrywer te verstaan en poog om die skrywer se intensies beter te verstaan as die skrywer self. Die leser se eie persoonlike sielkundige en sosio-kulturele voorveronderstellings beïnvloed die lees en verstaan van die teks radikaal. Die leser word die outoriteit in die betekenis van die teks (Ruemann 1992:65). Daar is nie 'n absolute interpretasie van die teks nie. Ons moet volgens Foucault in die leesproses aandag gee aan diegene wat gekritiseer word, sowel as diegene wat verwerp of uitgesluit word.

Kerkhistorici behoort dus nie slegs te vra wat die intensie van die skrywer is nie, maar behoort veel eerder met die lees van tekste te onderskei wat daar staan en wat daar nie staan nie. Gesamentlik lewer so 'n lees van die teks 'n samehangende struktuur. Kerkhistorici behoort dus te dink vanuit die raamwerk van die desentralisasie van die subjek en behoort gevolglik die denkbeeld van 'n self-regerende subjek te verwerp Kerkhistoriese bronne bevat gevolglik betekenisse wat onafhanklik van die skrywers se intensie is, aangesien die historiese bronne die persoonlike, sielkundige, sosio-kulturele voorveronderstellings reflekteer, waarin die outeurs lewe en skrywe.

 

8. FOUCAULT EN KENNIS EN WAARHEID

Kerkhistorici behoort in dit in berekening te hou dat in 'n poststrukturalistiese model is daar min of enige universele waarhede. Objektiewe waarheid is nie in 'n poststrukturalistiese benadering moontlik nie. Daar is in 'n poststrukturalistiese paradigma geen ruimte vir die konstituering van die waarheid deur middel van die subjek nie. Foucault verwerp die denkbeeld van die waarheid asook die tradisionele geloof in die wetenskaplike prosesse (Gavey 1989:462). Die implikasie van Foucault se stellingname is dat die waarheid 'n funksie van sosiale status en polities is eerder as wat dit op feite gebaseer is (Solomons & Higgins 1996:303). 'n Poststrukturalistiese kerkhistoriese benadering behels die verwerping van absolute waarheid en/of objektiwiteit. Kennis word in 'n poststrukturalistiese model as sosiaal gekonstitueerd gesien. Volgens Michel Foucault in The Order of Things was die representatiewe kwaliteit van taal, die kennis van die mens asook die mens se situasie in die natuur voor die einde van die agtiende eeu nie bevraagteken nie. Kennis is in klassieke denke beskou as die totaliteit van die observasie wat deur middel van taal geklassifiseer en gekategoriseer is (Berman 1988:177). Kennis word in 'n poststrukturalistiese benadering as nie-neutraal gesien en word met mag geassosieer (Gavey 1989:462). Foucault weier om kennis objektief te aanvaar, maar beskou dit veel eerder as deel van die instrumente van sosiale manipulasie (Solomon & Higgins 1996:302). Hy is van mening dat kennis nie moreel neutraal is nie. Foucault lê klem in The Order of Things op die ordening van dinge - wat sekere dinge onmoontlik maak en ander moontlik - wat ons toelaat om sekere dinge te sê, maar wat ander dinge ondenkbaar maak (Danaher et al. 2000:16). Foucault fokus op die gemarginaliseerde aspek van sosiale bestaan, wat gewoonlik deur filosowe geheel en al geïgnoreer was, te wete die tronke, sielsieke inrigtings, inrigtings vir melaatses, ensovoorts (Solomons & Higgins 1996:302).

Kerkhistorici behoort van die veronderstelling uit te beweeg dat objektiewe geskiedskrywing nie moontlik is nie. Die kerkhistorikus behoort in so 'n benadering daarteen te waak om nie universele waarheidsuitsprake te herhaal nie. Kerkgeskiedenis behoort dus as sosiaal gekonstitueerd gesien te word. Hierdie spanning tussen die ideaal van objektiwiteit en sosiale-konstruksie behoort na behore verreken te word in geskiedskrywing. Tereg word die lewe soos aangedui deur Foucault deur mag gekonstitueer. Kerkhistoriese bronne behoort gevolglik as nie-neutraal gesien te word en behoort met mag geassosieer te word. Dit is dus onmoontlik vir die interpretatiewe kerkhistorici om op 'n objektiewe wyse kerkhistoriese bronne te analiseer.

 

9. FOUCAULT EN MAG EN DISSIPLINE

Kerkreg en kerkregering het hoofsaaklik te doen met die vraag van institusionele kontrole en mag. Foucault se belangstelling in mag- en kennisrelasies was nie op die mees sentrale en geïnstitusionaliseerde vorm van mag en kennis gerig nie (Dreyfus 1982:208). Veel eerder het hy belanggestel in hoe die magsrelasies van ongelykhede en verdrukking deur sosiale praktyke geskep word. Foucault (1972:115) is van mening dat mag en kennis mekaar direk impliseer. Foucault demonstreer in The Birth of a Clinic dat die verskuiwing van mag met die verskuiwing in kennis gepaard gaan (Strathern 2002:18). Kerkhistorici behoort gevolglik die historiese relasie tussen waarheid, kennis en mag te analiseer. Meer klem behoort in kerkgeskiedskrywing te val om veral die onderliggende magdiskoerse bloot te lê.

In Discipline and Punish toon Foucault aan dat gedurende die agtiende eeu marteling en openbare teregstellings plek gemaak het vir die onderwerping van die liggaam aan magdiskoerse. Marteling, as wapen van die soewereine gesag, word in Discipline and Punish (1977a) as die paradigmatiese vorm van straf voorgestel (Dreyfus 1982:144). Waarom vra Foucault homself af was gevangenes gemartel? Waarom was hul in die publiek tereggestel? Waarom was hul teregstelling 'n openbare skouspel? Foucault gaan van die voorveronderstelling uit dat die openbare skouspel niks anders as 'n politieke ritueel was nie.

Die ritueel van geweld waar diegene wat oortree het, fisies in die openbaar aangerand was, was simbolies van die vertoon van die soewereine gesag (Drefyus 1982:145). Die wette van die samelewing het die soewereine gesag beliggaam. Die oortreding van die wet was gevolglik as 'n akte van oorlog en as 'n geweldadige aanslag op die soewereine gesag van die koning gesien. Die soewereine gesag was dus genoodsaak om met buitensporige mag op te tree (Dreyfus 1982:145). Foucault toon op 'n treffende wyse aan dat beide openbare teregstellings en die moderne bestraffingsmaatreëls die onderwerping van die liggaam aan die waardes van die samelewing voor oë het (Besley 2002:53).

Die klem val in Discipline and Punish op die allesomvattende kontrole op die samelewing deur middel van die juridiese sisteem. Pogings was aangewend om deur middel van talryke regulasies aspekte van die publieke lewe te organiseer (Strathern 2002: 36). 'n Vorm van sosiale kontrole en/of dissipline word in alle gemeenskappe gevind (Dreyfus 1982:212). Dissipline is 'n tegniek en nie soseer 'n instelling nie. Dissipline word primêr op die liggaam uitgeoefen. Die liggaam word in dissiplinêre gemeenskappe as objek geanaliseer. Die doel van dissiplinêre tegnologie is volgens Foucault om gehoorsame, afhanklike volgelinge te skep wat gebruik en getransformeer kan word (Foucault 1977(a):136). In Discipline and Punish toon Foucault aan hoe deur middel van 'n Panoptikoniese struktuur individue deurlopend gemoniteer, beheer en gedissiplineer kon word (1977(a):200). In 'n Panoptikoniese struktuur word al die inwoners voortdurend onder supervisie geplaas en gemoniteer (Foucault 1977(a):202). Die sukses van die supervisie lê volgens Foucault daarin dat die supervisie permanent, deeglik en alomteenwoordig behoort te wees (Foucault 1977(a):214). Die Panoptikon funksioneer volgens Foucault ook as laboratorium. Dit kan gebruik word as 'n instrument om gedrag te verander en om individue op te lei en/of te rehabiliteer (1977(a):203). Die Panoptikon is 'n argetipe van die nuwe tegnologieë van mag. Nuwe Panoptikoniese tegnologieë van kontrole beoefen hul mag deur ruimte uit (Dreyfus 1982:190). Foucault gee ons 'n radikaal nuwe interpretasie van beide mag en kennis. Hy sien mag nie as 'n besitting wat een groep het en wat die ander groep ontbreek nie. Talle voorbeelde kom in die kerkgeskiedenis voor waar mag uitgeoefen word byvoorbeeld in die Du Plessis kerksaak funksioneer die sinode as institusionele mag.

Foucault verwerp beide die modernistiese benadering wat mag sien in wetenskaplike kennis en die Marxistiese verstaan van mag waar mag in die heersende klas gesetel word (Coole 1993:88). Daar is volgens Foucault geen privaat domein van die lewe of die self wat nie deur mag gekonstitueer word nie (Coole 1993:88). Mag, is volgens Foucault, ingeweef in alle sosiale relasies - van die institusionele relasies tot die inter-subjektivistiese relasies (Solomons & Higgins 1996:302). Om mag te verstaan, is dit nodig om mag in die mees diverse manifestasies te ontleed eerder as om te konsentreer op die gesentraliseerde vorm van mag byvoorbeeld die mag in die hande van die elite of die regerende klas. Die basiese doel van dissiplinêre mag is om mense te produseer wat afhanklik/gehoorsaam sou optree (Dreyfus 1982:134-135). In History of Sexuality is Foucault van mening dat mag nie gesien mag word as dat dit van 'n sentrale soewereine of eksterne bron af uitgaan nie, of dat dit 'n groep instelling of 'n sisteem van regulasies is nie (1976:94). Volgens Foucault is magsrelasies nie egaal nie en is dit veel eerder mobiel, beweeglik en/of veranderlik. Mag is ook nie beperk tot politieke instellings nie (Dreyfus 1982:185). Volgens Foucault (Harland 1987:161) is die mag van die liggaam en oor die liggaam mag in die politieke sin van die woord.

Kerkhistorici behoort hul gevolglik daarop toe te let om die web van ongelyke relasies in die geskiedenis te isoleer, te identifiseer en te analiseer.

Kerkhistorici behoort daarop te let dat elke domein van die lewe of die self deur mag gekonstitueer is. Die hoofdoel in die kerkgeskiedskrywing moenie wees om 'n sekere instelling van mag, die regering, 'n sekere groep, kerk en/of klas aan te val nie, maar behoort veel eerder daarop klem te lê dat mag, ingeweef is in alle sosiale relasies.

 

10. KONKLUSIE

Michel Foucault se historiografiese benadering kan as lens in historiese ondersoeke gebruik word. Daar behoort 'n verskuiwing van tradisionele geskiedenis skrywing na effektiewe geskiedskrywing plaas te vind. Dit wil sê 'n verskuiwing van 'n nasporing van die verlede as 'n volhardende en kontinue ontwikkeling na die tabellering van breuke en diskontinuïteite in die geskiedenis behoort plaas te vind. Kerkhistorici behoort dus klem te lê op die diskontinuïteite en behoort die onderbrekings in die storie-lyn te wys. Hulle behoort te poog om die agtergrond van die veranderinge wat tydens die historiese tydvakke plaasgevind het vas te stel. Kerkhistorici behoort te beweeg vanuit die voorveronderstelling dat alle betekenis en kennis deur taal gekonstitueer word. Hulle behoort ook die institusionele terrein te beskrywe waarvandaan die diskursiewe bydraes gemaak word. Om dit te bepaal kan gevra word: Wie spreek? Wat is die status van die persoon wat die reg het om te spreek? Wie tussen die totaliteit van sprekende individue is die reg vergun en/of toegestaan om die soort taal te gebruik? Wie is gekwalifiseer om te spreek en waarom ? Word die reg gesanksioneer deur die wet of tradisie? Wie word juridies of spontaan aanvaar om so 'n diskoers te presenteer? Is die mag juridies gedefinieerd of word dit spontaan aanvaar? Wat is die institusionele ruimtes en/of podiums waarvandaan die persoon 'n diskursiewe bydrae maak? Wat is die posisie van die subjek? In watter relasie staan die subjek met die verskillende objekte? Hoe word die verskillende groepe stellinge met mekaar verbind? Wat is die intensie van die skrywer? Kerkgeskiedskrywers behoort dus te dink vanuit die raamwerk van die desentralisasie van die subjek en behoort gevolglik die denkbeeld van 'n self-regerende subjek te verwerp. Die taak van die kerkgeskiedskrywer behoort dus onder andere te wees om aan te toon hoe die magsrelasies van ongelykhede en verdrukking deur sosiale praktyke geskep word.

 

BIBLIOGRAFIE

ADONIS, J.C. 1982. Die afgebreekte skeidsmuur weer opgebou. Amsterdam: Editions Rodopi.        [ Links ]

BAKKER, R. 1973. Het Anonieme denke: Michel Foucault en het strukturalisme. Baarn: Wereldvenster.        [ Links ]

BERMAN, A. 1988. From the new criticism to deconstruction: the reception of structuralism and post-structuralism. Urbana: University of Illinois Press.        [ Links ]

BESLEY, C. 2002. Poststructuralism A very short introduction. Oxford: Oxford University Press. Poststructuralist analysis. Political Studies 41:42-53.        [ Links ]

BOTHA, A.J. 1965. Die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk as afsonderlike instituut. On-gepubliseerde magister verhandeling. Stellenbosch: Universiteit van Stellenbosch.        [ Links ]

COOLE, D. 1993.Constructing and deconstructing liberty: A feminist and poststructuralist analysis. Political Studies 41(1):83-95.        [ Links ]

DANAHER, G., SCHRATO, T, & WEBB, J. 2000. Understanding Foucault. London: Sage Publications.        [ Links ]

DREYFUS, H.L. 1982. Michel Foucault: Beyond structuralism and hermeneutics. Brighton: Harvester Press.        [ Links ]

ELS, P.J.J.S. 1971.Kerkplanting by die Suid-Afrikaanse Sendinggenootskap. 'n Sending-wetenskaplike ondersoek na gemeentevorming in die Suid-Afrikaanse Gestig. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Universiteit van Stellenbosch.        [ Links ]

ERWEE, A.J.C. 1980. Die sendingtaak van die Nederduits Gereformeerde Kerk onder die inboor-lingvolke van die Noordwes-Kaapland, Stellenbosch: Universiteit Stellenbosh.        [ Links ]

FOUCAULT, M. 1970. Order of things: An archaeology of human science, Vertaal deur AM Sheridan Smith. New York: Vintage Books.        [ Links ]

__________. 1972. The birth of a clinic: an archaeology of medical perception, Vertaal deur A.M. Sheridan Smith. New York: Tavistock.        [ Links ]

__________. 1976. History of sexuality Vol 1. An introduction. Vertaal deur Hurley in 1978. New York: Vintage Books.        [ Links ]

__________. 1977 (a). Discipline and punish: The birth of a prison vertaal deur A.M. Sherridan Smith in 1979. New York: Pantheon.        [ Links ]

__________. 1977 (b). Language, counter-memory, practices: Selected essays and interviews (red) DF Bouchard. New York: University press.        [ Links ]

__________. 1980.Power/Knowledge: Selected interviews and other writings 1972-1977. Vertaal deur C Gordon. New York: Pantheon.        [ Links ]

GAVEY, N. 1989. Feminist poststructuralism and discourse analysis. Psychology of Woman Quarterly 13:462        [ Links ]

GRASSIE, W. 1997. Postmodernism: What one needs to know. Zygon 32(1):84-86.        [ Links ]

HARLAND, R. 1987. Super structuralism: the philosophy of structuralism and post-structuralism. New York: Methuen.        [ Links ]

KRIEL, C.J. 1963. Die geskiedenis van die Ned Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika 1881-1956. 'n Historiese studie van die sendingwerk onder die Kleurling-bevolking van Kaapland. Paarl:Paarldrukpers.        [ Links ]

LOFF, C.J.A. 1981.Dogter of verstoteling? Kantaantekeninge by die geskiedenis van die Ned Geref Sendingkerk in Suid-Afrika. Paarl: Paarldrukpers.        [ Links ]

MOORREES, A. 1937. Die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1652-1873, Kaapstad.         [ Links ]

PONT, A.D. 1972. Kerkgeskiedenis - 'n oorsig van die Algemene Kerkgeskiedenis van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika. Pretoria: NGK Boekhandel.        [ Links ]

RICOEUR, P. 2004. Memory, history, forgetting. Translated by Kathleen Blamey and David Pellauer. The University of Chicago Press: Chicago and London.        [ Links ]

RUEMANN, J. 1992. After historical criticism, what? Trends in Biblical interpretation and ecumenical, interfaith dialogues. Journal of Eucumenical Studies 29:64-65.        [ Links ]

SCHWARTZ, R.M. 1992. Poststructuralism as exegesis. Seimeia 54:35-37.        [ Links ]

SOLOMONS, R.C. HIGGINS, K.M. 1996. A short history of philosophy. New York: Oxford University Press.        [ Links ]

STRATHERN, P. 2002. The essential Foucault. London: Virgin Books Ltd.        [ Links ]

VAN DER WATT, P.B. 1977. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Drie dele. Pretoria: NGK Boekhandel.        [ Links ]

VAN TONDER, H. 2010. Engaging Paul Ricoeur's work on memory, history, and forgetting: in search of an adequate methodology for church and theological historiography. Ongepubliseerde MTh thesis. Stellenbosch: Stellenbosch University.        [ Links ]

WEEDON, C. 1997. Feminist practice and poststructuralist theory. Cambridge: Blackwell.        [ Links ]