SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.32 número1Can christian ethics be used to engage business? A (South) African considerationMichel Foucault se historiografiese benadering as lens in historiese ondersoeke índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

    Links relacionados

    • En proceso de indezaciónCitado por Google
    • En proceso de indezaciónSimilares en Google

    Bookmark

    Acta Theologica

    versión impresa ISSN 1015-8758

    Acta theol. v.32 n.1 Bloemfontein  2012

     

    Die pastor as fluisteraar gedagtes oor pastorale identiteit en arbeid na analogie van die perdefluisteraar

     

    The pastor as whisperer. thoughts on pastoral identity and practice in analogy of the horse whisperer

     

     

    Danny Nel

    Navorsingsgenoot, Dept Praktiese Teologie, Universiteit van Pretoria. E-mail: Danny.nel@apa.ac.za

     

     


    ABSTRACT

    Generally, note have been taken that the work of pastoral care and the pastoral counselor are surrounded by identity issues for the latter part of the previous century and in the first decade of this century. In some circles it is even described as a profession without a place or position, looking and struggling for recognition, experiencing a crisis. In this article some of the reasons underlying these identity issues are mentioned or described. Comparing it with the work of a horse therapist, a horse whisperer, the unique position and emphasis of pastoral counseling and the pastoral counselor are pointed out with specific reference to the use of scripture, shared woundedness, the pastoral relationship, the moments of pastoral silence with distinct meaning and a particular sort of externalization. Keeping this in mind, the pastoral therapist can be still be deemed pastor aeturnus.

    Keywords: Pastoral identity; Use of Scripture; Shared pain; Relations (pastoral); Silences; Externalization


    Sleutelwoorde: Pastorale identiteit; Skrifgebruik; Gedeelde pyn; Verhoudinge (pastoraal); Stiltes; Eksternalisering


     

    The unexamined life is not worth living - Sokrates.

     

     

    1. PROBLEEMSTELLING

    Die pastor in die uitvoering van sy taak beleef oor die algemeen 'n krisis. "Moedereend, postbode, stimulator, brandweer, clown, praatpaal, herder, gids, ..." is maar 'n paar van die woorde wat Ganzevoort en Visser (2007: 68 e.v.) gebruik om die pastor en pastorale arbeid te beskryf. "Crossroads. Transition. Crisis. Uncertainty. Restlessness." Só beskryf John MacArthur (2005:3) die pastorale situasie. 'n Predikant in hospitaalbediening met spesifieke opdrag trauma, verklaar in 2010 dat daar 'n groot ongelukkigheid en spanning bestaan tussen die pastorale en sielkundige dienste by die hospitaal. Dikwels word beleef dat die pastor soos die "clown" in die sirkus, néé in die hospitaal is, soos De Klerk (1978:126) dit stel - daar om die program vol te maak maar nooit werklik deel van die span nie. Dit is egter geen nuwe krisis nie. De Klerk (1976) maak al melding van die krisis wat hy beskryf in terme van 'n veranderde kultuursituasie, 'n nuwe gemeentepatroon in die stadskultuur, beroepsbedreiginge, sekularistiese aftakeling en onbetroubare ampsbediening (1976:2 e.v.). In WJ de Klerk se boek, Pastorale Sensitiwiteit skryf hy uitvoering oor die bedreigde pastor en die pastoraat (1974: 83 - 106), met spesifieke verwysing na onder andere die bedreiging vanuit die moderne kultuurgestalt (1974:86) en die bedreiging vanuit ander spesialiteite (1974:90). In 1984 skryf W Zijlstra 'n artikel oor die werk van die pastor met die titel Pastor, een onmogelijk beroep (1984: 122 - 131).

    Selfs die woord 'identiteitskrisis' word gebruik ten opsigte van die pastor en die kerk (Kruijne 1983: 52 - 63). Hier lê Kruijne 'n sterk verband tussen identiteit en generatiwiteit op spoor van Erikson waarin singewing, met spesifieke verwysing na verskillende geslagte, maar veral 'n volgende geslag, 'n wesentlike bestanddeel vorm (1983:56 - 58). Vir die sinsoekende mens met alles wat gebeur, is die pastor se vermoë om sin te skep en te genereer, ten nouste verbonde met sy/haar identiteit (en aanvraag!). Die mens het van 'n reisiger in 'n swerwer verander, homo viator het 'n homo errans "een zwervende vabond" geword, met die tyd as "een dolgedraaide moer" (Van der Meulen 2004:32, 262).

     

    2. WERKSWYSE EN BEGRIPSVERHELDERING

    Die immanente epistemologie van die probleem roep om voortdurende besinning en beskrywing sonder om apologeties daaroor te wees, maar veel eerder toeligtend ten opsigte van die eiesoortige aard en karakter daarvan in wat Rebel die "eie propium van de zielsorg" noem (1980:1). In hierdie artikel word spesifiek na die film Tornado and the Kalahari Horse Whisperer, asook die boek van Barrie Burger daaragter, Tornado ... tussen stiltes (2010) verwys, aangesien daar treffende terapeutiese konsepte daarin na vore gebring word wat positief daartoe kan bydra om die pastoraal-terapeutiese konsepte hermeneuties te beskryf binne raamwerk van die narratiewe paradigma. Hier word met hermeneuties iets bedoel van Palmer se definisie: "... 'n verduideliking van 'n situasie; en vertaling vanuit 'n vreemde taal." (1969:4). In die boek en film word 'n erg getraumatiseerde perd en Pierre van Rooyen deur die Horse Whisperer, Robert Redford, saam op die pad van genesing geneem en is die proses van terapie een waar die saamwees van mens en perd intens verweef word. Daar is natuutrlik dan ook 'n logiese verbondenheid van waaruit die "fluistering" kan plaasvind.

    Die term "fluisteraar" is alombekend en word in baie opsigte gebruik. 'n Google-soektog lewer die blitsige resultaat: 'n honde-fluisteraar, bome-fluisteaar, blomme-fluisteraar en selfs iets soos 'n computer-fluisteraar! Die veronderstelling van 'n besondere verhouding of aanvoeling en sensitiwiteit wat met hierdie begrip gepaard gaan, word later verder in die artikel aan die orde gestel.

     

    3. PASTORALE IDENTITEIT

    Die feit dat die predikant en sy amp 'n gesagskrisis beleef, het 'n rimpeleffek op pastorale identiteit. Daar word dikwels 'n verband gelê tussen die werk van die pastor en die amp wat hy beklee. Die amp vorm die boustene van die identiteit van die pastor (Heitink 1977:15 - 16). Jonker beskryf die pastor in sy amp "als een riet in de wind" (1970). Wat die pastor se werk en amp betref, het hy sy gesagsposisie ingeboet en veld verloor. In die lig van 'n algemene gesagskrisis in die kerk (1970:8), met verwysing na die invloed van die Renaissance, Aufklärung, die rewolusionêre era, die outonomie van die mens (1970:9) en dan ook die demokratisering van alle vorme van gesag (1970:10), stel hy dit soos volg:

    Als een riet staat de ambtsdrager dan in de wind van de tijden, maatchappelijk en psychologisch boeiend, symbool van de vreemde kracht van de zeer menselijke zaak die men geïnstitutionaliseerde religie noemt (1970:12).

    Daar mag geen illusie of waan bestaan dat dit 'n geïsoleerde of denominasionele krisis is nie. Dit is 'n krisis wat geestelike en dus kerklike of pastorale werkers en terapeute in die algemeen raak. Evans (1988) meld ter inleiding dat dit nie iets is wat slegs Protestants, Presbiteriaans of Anglikaans is nie. Kennedy (1960) handel spesifiek oor die erodering van gesag in Presbiteriaanse kringe. Cartley (1977) laat die soeklig op die Katolieke Kerk en die pous val: "The question of authority has lain just beneath the surface in the great majority of theological disputes down the centuries." Hier vind Dominian (1976:1) aansluiting: "These are difficult days for all Christians but particularly for Roman Catholics."

    In De biografie van de dominee (2001), laat Heitink die soeklig val op posisie van die predikantsamp sedert die Reformasie tot teenswoordig en meld dat die amp in die veranderde samelewing meer in die brandpunt staan as ooit sedert die bestaan daarvan. Ook Louw (1999: 15) bespreek die pastorale arbeid in lig van die hedendaagse kultuurverskuiwings binne die konteks van moderniteit en postmoderniteit. Riet Bons-Storm (1989: 13) stel dit dat die kerk 'n minderheidsposisie beklee en bespreek die pastoraat in lig van die moderne lewensgevoel. Ter wille daarvan om die lens te vergroot oor dit wat aanleiding kan gee tot die identiteitskrisis as gevolg van 'n mindere waardering van die kerk, moet die perspektief van Firet (1988:7) ook in gedagte gehou word, naamlik dat die begrip "praxis" in die kerk en die pastorale optrede in latere tye verbreed het en dat die koms van God na die mens hoofsaaklik nie meer gesien word as langs die weg van die kerk en kerklik verbonde ampsdraers nie, maar ook langs ander weë. Hiermee saam moet ook nie die verwikkelinge op die gebied van religie en spiritualiteit die laaste twintig jaar van die vorige eeu buite rekening gelaat word nie:

    Ze betrekt haar ingregiënten uit een bont aanbod van levensbeschouwelijke en godsdienstige zingeving ... wegens haar uiteenlopende karakter is, het niet gemakkelijk de nieuwe spiritualiteit te typeren. (Van der Meulen 2004:17).

    Afgesien van die pastor self, kom die bespreking van die prakties-teologiese vraagstuk wyd voor. Die identiteitskrisis raak nie net die pastor en pastorale werk nie, maar spoel oor na die vakgebied. In 'n bespreking oor die identiteit van die pastor beredeneer Heitink (1977:16 e.v.) die ensiklopediese plek van die praktiese teologie en spesifiek die pastorale teologie. 'n Eie identiteit in terme van 'n basisteoretiese raamwerk is wesensnoodsaaklik te midde van die lang soeke na 'n gebalanseerde model in die meervoudige bi-polêre spanninge en invloede waarbinne die pastorale teologie funksioneer. Hierdie soeke na balans het in verskillende beklemtoninge geskitter. Ten diepste verraai dit die besinning oor en soeke na koers: 'n aanduiding van die plek van die pastorale teologie in 'n multidissiplinêre omgewing waar alle ander dissiplines skynbaar onverstoord hulle posisie gehandhaaf en hulle plek behou het. As gevolg van geestelike en kerklike veranderinge, verskraling en verduistering (Dingemans 1990), het die pastorale terapie en - teologie saam met die kerk en les bes die teologie, die maalkolk van die identiteitsmallemeule beleef.

    Sedert Thurneysen se Die Lehre von der Seelsorge, het die bediening van die Woord in die kerugmatiese pastoraat die botoon gevoer (Heitink 1977: 46). Firet se beskouing van die koms van die Woord na die mens in die modi van die kerygma, didache en die paraklese (1988: 60 - 109) is hiervan duidelike getuienis. Brillenburg Wurth se deuropening vir die psigologie en die psigoterapie het 'n spreekwoordelike nuwe wind in die interdissiplinêre ontwikkeling van die pastorale teologie gebring. By Rogers kry ons weer 'n fokusverskuiwing na die mens met die ontwikkeling van die Amerikaanse ervaringsmodel. Daar het voortdurend paradigmatiese skuiwe binne die praktiese teologie plaasgevind (Louw 1999:21).

    Die grein van die prakties-teologiese en dus pastoraal-teologiese identiteit is interdissiplinêr van aard. Dit het die ruimte geskep en die momentum gebied vir voortdurende klem- en fokusverskuiwings in die praktiese teologie en pastoraat waarin die Pedagogiek, Filosofie, Kommunikasiekunde, Sosiologie en ander hulpwetenskappe in verskillende modelle op verskillende wyses geakkommodeer, belig, beklemtoon en geïnkorporeer word. In pastoraal teologiese modelle is daar al aangesluit by die sisteemteorie en sosiale konstruksie, soos byvoorbeeld in die narratief (Dallos & Vetere 2010). Hoe dit ook al sy, die metode, inhoud en benadering in die pastorale terapie vorm deel van die pastorale identiteit aangesien dit die skakerings van die groter geheel van die aard van pastorale terapie uitmaak.

    Waar daar so lank bevestig en verklaar is dat die gesag van die pastor in sy amp gesetel is, het dié waarheid nie verander nie, maar krag verloor:

    Een zinvol gesprek over het ambt zal moet beginnen op het punt waar het eigen karakter van het kerklijk gezag duidelik ondersscheiden moet worden van allerlei voorstellingen over het kerklijk ambt en sociale vader-figuur die vanzelfsprekend op erkenning en onderwerping door de leden van kerk (en maatschappij) aanspraak zou hebben (Jonker 1970:12).

    Natuurlik is en bly die gesag dié van die Evangelie. Dit vorm die hart van die vraag van owerstes en ouderlinge aan Christus: Deur watter gesag doen u hierdie dinge? (Mt. 21:23). Daarom kan Jonker gelyk gegee word as hy sê dat alle gesag van Christus is, anders is dit geen gesag nie (1970:14). Hierby sluit Mc Adoo in Evans (1988:263) aan in die onderskeiding van interne en eksterne gesag. Dit is die "ius and auctoritas destinction ... the internal authority as distinct from external authority."

    Hoewel die gesagskrisis voortstu en die vraag na die identiteit en plek van die pastorale terapeut steeds brandend is, moet erken en aanvaar dat gesag en respek nie sonder meer veronderstel kon word nie. Tog posisioneer die pastorale terapeut homself/haarself steeds plek-plek met groeiende respek danksy 'n besondere en unieke pastorale aktiwiteit en identiteit. Dit maak van hom/haar, pastor aeturnus.

     

    4. PASTORALE AKTIWITEIT

    Wat die identiteit van die pastor betref, skryf Heitink:

    Wanneer we nadenken over 'de pastor zelf' denken we daarbij aan hem of haar die van het pastorale werk een beroep heeft gemaak (Heitink 1983: 81).

    Dit bied egter 'n besondere uitdaging: "Wel kan gezegd worden dat in onze tijd de noodsaak, creatief te zijn, nog klemmender is geworden." (Firet 1988:80).

    Te midde van hierdie uitdaging kan die pastor op besondere verbeeldingryke wyse werk. Hieroor handel die artikel van Louw en Müller (2002:340 - 354) met verwysing na Breuggemann, meer uitvoerig. Hoewel die artikel wys op die rol en die gebruik van die verbeelding as epistemologie in die narratiewe terapie, kan die pastor inderdaad uit soveel ander dinge wat die verbeelding aangryp, toepassings maak op die pastorale arbeid en spesifiek op die narratiewe pastorale arbeid. Vir die doeleindes van hierdie artikel word die beeld en werk van die perdefluisteraar van toepassing gemaak.

    4.1 Die perdefluisteraar

    Die gedagte om oor die perd in menslike terme en konsepte te dink, word al in die Bybel aangetref. Beskrywings daarvan in buite-Bybelse Suid-Afrikaanse literatuur kom al sedert die Anglo-Boereoorlog voor (Swart 2010). Die sensitiwiteit en intelligensie van dié diere veroorsaak dat 'n perd veel meer as blote oorlogstoerusting gesien is en daar is in die Suid-Afrikaanse geskiedenis amper net soveel perde- as mensehelde. Oor die Suid-Afrikaans gebaseerde film, Die Perdefluisteraar, skryf Marisa Beaton (2010):

    Wanneer 'n mens met Barrie Burger, die perdefluisteraar van Noenieput, gesels kry jy drie vir die prys van een. Daar's Barrie die rolprentster, Barrie die preekverteller en Barrie die perdefluisteraar.

    In aansluiting by die oorkoepelende tema van die rolprent, word gefokus op 'n opregte Arabierhings wat aan 'n selfvernietigingsindroom gely het en hoe hy deur die Kalahari-perdefluisteraar genees is met die hulp van 'n student wat self emosionele probleme gehad het. Die grootste uitdaging was om die perd, Tornado, se emosie bloot te lê.

    Gelukkig was Pierre se verhaal ook daar, want sy binnekant, wat net so stormagtig was, was makliker om uit te beeld (Beaton 2010).

    Hoewel 'n perdefluisteraar logiesgewys op totaal eiesoortige en ander wyse as die pastor werk, kan die volgende aangrypende ooreenkomste tussen die pastor en die perdefluisteraar gevind word om daardeur die eiesoortigheid van die pastorale terapie te beskryf en te beklemtoon:

    a. Die preekverteller

    Barrie Burger, die perdefluisteraar, maak in die artikel aanspraak daarop dat hy die enigste preekverteller in die land is. Maar wat is 'n preekverteller? Hy sê:

    Ek hou 'n klomp shows langs die pad waar ek as spreker by kerke en klubs optree. Want ek's eintlik 'n storieverteller, ek doen dit al baie jare ... geestelike stories. I'm not a preacher. Ek's 'n preekverteller (Beaton 2010).

    Dié gedagte is nie vreemd aan die pastoraat nie. Louw en Müller (2002:349) noem 'n uitstekende voorbeeld van 'n "preekvertelling". Hulle gebruik die voorbeeld van die vertelling van Gideon in Rigters 6:9 aan 'n vrou wat die seer van anoreksia as deel van haar lewensprobleem beleef en ervaar:

    Daarop het ek (op die ingewing van die oomblik?) gevra of ek vir haar 'n storie mag vertel en het ek met haar toestemming die verhaal van Gideon (Rigters 6-9) vir haar vertel. Ek het hierdie verhaal gekies omdat dit by my opgekom het, ek daaraan herinner is, deur die loop van die twee terapeutiese sessies.

    Hierdie metode van Skrifgebruik word algemeen gebruik in die pastorale terapie. Louw (1999:445, 449), noem dit die indirekte narratiewe metode van effektiewe Skrifgebruik (kursivering SDN). Waar iemand op enige wyse met die Skrif in die pastorale ontmoeting gekonfronteer word sodat ditdaartoe lei dat transformasie plaasvind en nuwe denke oor die probleem en die toekoms ontstaan, vind daar groei plaas in die dimensie wat eie en uniek aan pastorale terapie is. In dié opsig bly die pastor dan soos die perdefluisteraar 'n "preekverteller". Die pastorale terapeut behoort die besondere toerusting, ingesteldheid en (verwagte?) identiteit te hê dat hy vir mense 'n stukkie "geestelikheid" kan en behoort te gee. 'n Vertelling word byvoorbeeld treffend deur Natan by Dawid na die gebeure met Batseba gebruik toe hy vir Dawid tot insig wil lei en hy met 'n analogiese verhaal begin om sy vergrype aan Batseba in perspektief te stel: Daar was twee manne in sekere stad , die een was ryk en die ander arm. Die ryke het 'n groot menigte kleinvee en beeste gehad, maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie ... ( 2 Sam. 12:1 - 3).

    Die besondere toepassing en vertolking van die Skrif is sekerlik die belangrikste en mees onderskeidende eienskappe van pastorale terapie. Dit is wat grootliks daarvan pastorale terapie maak tesame met die volgende vier eienskappe. Ganzevoort & Visser (2007:29-34), beskryf ook die eie van die pastoraat en noem inhoud, konteks, perspektief en metode as dimensies van die eie).

    b. Gedeelde pyn - "Pain heals pain"

    Barrie sê dit is 'n Bybelse beginsel. Deur die wonde van Christus het daar genesing gekom.

    Want die Tornado-verhaal met sy pyn wat pyn genees het my nog elke keer net meer en meer moed gegee vir die taak wat my opgelê is ... (Burger 2010: 148).

    Hierdie is vir die preekverteller, néé, vir die pastor, 'n belangrike punt. Moltmann met sy Der gekreuzigte Gott (1972) koppel juis hoop aan God se identifikasie met die mens in sy lyding deur die kruis. Hierdie konsep is in die pastorale teologie op verskillende maniere benader maar veral deur Nouwen met sy The Wounded Healer (1979). Hy verwys (1979:82 - 83) spesifiek na Christus as die gewonde Heler omdat Sy wonde 'n helende krag vir ander het. Hierop brei Nouwen ongelukkig hoegenaamd nie genoegsaam uit nie. Die pastorale tema wat sterk deur Nouwen gebruik word, word in die ondertitel van sy boek verbeeld: "In our woundedness, we can become a source of life for others." "It's the truth," sê Barrie.

    Ons dink gebrokenheid is die einde van die wêreld, maar uit jou eie trane kan jy ander meer troos, meer verstaan, meer help (Beaton, 2010).

    Om bogenoemde rede word die pastor as "wounded healer" juis deur Capps gemeld as een van die drie posisies wat die pastor kan inneem saam met die pastor as herder en ook as "wise fool" (Capps in Louw 1999: 361).

    Dit is juis die pastorale terapeut wat die geheim van genesing vanuit pyn in Christus ken en uniek kan vertolk in die pastorale gesprek. Alle mense ken pyn. In dié verband het 'n reeks waardevolle artikels van Dreyer en Nolte verskyn, hoofsaaklik na aanleiding van laasgenoemde se proefskrif hieroor. In Pastors as gewonde genesers: die uitwerking van kognitiewe dissonansie, word as vertrekpunt gestel dat "pastors se erkenning van hulle eie verwonding voorwaarde vir meer effektiewe pastorale begeleiding van ander is." (2008:1007). In 'n opvolgartikel Pastors as gewonde genesers:outobiografiese pastoraat as heelmiddel vir emosionele verwonding, word ook daarop gewys dat pastors op 'n helende wyse by ander betrokke kan wees, terwyl hulle self in die proses genesing kan ervaar (2009: 96 ) en juis dit is die bevinding waartoe gekom word in die artikel Intrapersoonlike transformasie by pastors - die paradoks van emosionele verwonding as bron tot genesing (2009: 334)

    In 'n sekere sin kan alle terapeute vanuit 'n subjektiewe posisie oor pyn praat. In In die pastorale situasie gaan dit dan nie net meer oor "my pyn" en "jou pyn" of enige mens se pyn nie, maar vind 'n besondere identifisering plaas met die pyn van God se Seun. Dit maak dat daar 'n groter ontdekking en begrip van gedeelde pyn ontstaan. Die troos en versterking wat die gesprek oor gedeelde mensepyn meebring, word dus "wyer" en in die vertolking daarvan ontkiem sade van hoop. Dit vorm die grondslag van hoopterapie en 'n besondere toekomsperspektief eiesoortig aan slegs ware pastorale, Bybelse en/of christelike terapie.

    c. Verhoudinge

    "Dit gaan alles oor die verhouding met die perd," sê die perdefluisteraar, maar dan neem die preekverteller oor.

    Daar is vir ons 'n toekoms in verhoudings, as jy nie in verhoudings leef nie, gaan jy dit nie maak nie. Ons het niks van hom verwag nie, behalwe om net 'n perd te wees, sê [Barrie] (Beaton 2010).

    Ten opsigte van die mens in die pastoraat gaan dit juis daaroor dat iemand "Een zelf worden, zichzelf worden." (Ganzevoort en Visser 2007:53). Dit kan net gebeur met 'n Bybelse antropologiese beskouing van pastor en pastorant, berader en beradene. Dan eers kan daar in die ware sin van die woord van 'n pastorale fluistering en 'n pastorale fluisteraar gepraat word!

    Om die persoon toe te laat om te wees wie hy of sy is, is altoos 'n terapeutiese uitdaging. Peterson se boek Run with Horses (2001), oor menswens te midde van die uitdagings, eise en gevare van die lewe met spesifieke verwysing na Jeremia 12:5, word mooi saamgevat op die omslagagterblad: "... (it) explores the heart of what it means to be fully and genuinely human."

    Die mooiste voorbeeld hiervan is sekerlik dié van twee kinders, albei met 'n gebrek. By 'n skool vir hardhorendes het klein Pieter (naam verander ter wille van anonimiteit), voortdurend denkbeeldig motor gery het - in die rye, op pad na die klas, na die badkamer, in die skoolsaal en selfs na die hoof se kantoor. Op 'n dag toe die juffrou redelik haastig was na saalopening, staan die outjie en draai die sleutel van sy "motor" maar dié wil nie vat nie. Met die onderwyseres wat al ongeduldiger raak, sien een van sy maats moeilikheid kom en hy besluit om in te gryp. Hy hou sy hande voor hom uit en maak asof hy 'n battery dra. Hy hardloop na sy vriend, maak asof hy die enjinkap oopmaak, die pole van die ou battery ontkoppel en die nuwe een koppel. Hy wys met sy duim in die lug na sy maatjie om maar weer die voertuig aan die gang te probeer kry en na 'n draai of twee, sien hy net sy vriendjie skielik na die klas toe hardloop, néé "ry"!

    Barrie sê by geleentheid: 'n Perdefluisteraar is iemand wat met sy oë na 'n perd luister. Jy vat nie met jou hand nie, jy vat met jou hart. Jy praat nie met jou mond nie, jy praat met jou lyf. Die gevolg hiervan was die verhouding wat gebou is tussen die perdefluisteraar en die perd totdat die perd nader gekom het en sy snoet in Pierre se nek kom druk het. Dit het 'n hoogtepunt van die film gevorm. 'n Perdesnoet in die nek. Dit was aanvaarding. (Beaton, 2010).

    In die pastoraat sou hierdie dimensie bystand genoem kan word soos deur Heitink (1977:294) beskryf:

    Onder biijstaan verstaan we het aangaan en onderhouden van een relatie met een mens in nood, een mens in zijn lijden, met als mogelijk gevolg dat hij zich ondersteund en getroost weet op de moeilijke weg ... Een pastor kan dan weinig anders doen dan bij de ander zijn, waarbij het ten volle aankomt op de kwaliteit vandat 'bij de ander zijn'.

    Ook ten opsigte van die pastorale sorg in 'n postmoderne tyd, bly dit een van die wesenskenmerke van die pastorale sorg. Carie Doehring (2006:160 - 163) meld "building trust" en "connecting with the ordinariness of life" as van uiterste belang in 'n postmoderne tyd. As deel van 'n pastoraal-terapeutiese benadering, kan dit dalk die beste verwesentlik word deur gewoon "being" soos mooi beskryf in die Tornado-verhaal:

    Nog 'n ding wat Pierre moes doen, was om saans by Tornado in sy kraal te gaan sit. Altyd in die oorkantste hoek sonder om te praat of iets. Hy moes wag dat die perd uit sy eie na hom toe kom. Dít is dié toneel in die fliek. Dit raak mense geweldig. Van toe af het Tornado elke keer vinniger en gouer na Pierre gestap (Beaton 2010).

    Hoewel daar juis in die huidige tyd soveel gemaak word van "doing" in terapie, het die klem begin verskuif na "being". Daar bestaan so 'n sterk beskouing dat die pastorale gesprek deur gespreksvaardighede gekenmerk behoort te word, dat gesprekstegnieke hoog op die lys van pastorale vaardighede geplaas word. Louw verklaar in dié verband as volg: "Verbalisering word sodoende beskou as die belangrikste faktor en middel in terapie." (1999:428 - sy kursivering). In die bediening van die hoop in terapie konstateer hy egter:

    Werklike hoop is 'n uitvloeisel van die bestaande geloofsinhoude, 'n verstaan van God en die kwaliteit van relasies. Dit hang saam met 'n persoon se 'being functions'. Wie jy is, bepaal die kwaliteit van hoop (Louw 1999:528).

    Crawford soos aangehaal deur Firet (1988:305), beklemtoon dit in sy beskrywing van die beeld van die pastor: "... het accent ligt op "doing", terwijl het voor de pastorale relatie vooral op "being" moet liggen." HC van der Meulen stel dit treffend:

    Als begeleider moet ik in de huid van een ander mens kruipen en met hem in de grote diepte afdalen om de bron van zijn verlangen te vinden (2004:162).

    Hiermee omskryf Van der Meulen die besondere meelewing met die mens op sy lewensreis wat hy eintlik met die woord "inleving" uitdruk.

    Die "being" van die pastor het dus nie alleen besondere betekenis nie, maar vind plaas binne raamwerk van sy spesifieke identiteit.b Die pastorale terapeut se verhouding met die pastorant as siel- of geestelik beseerde, word gebou teen die agtergrond van die pastor se besondere identiteit, waar hoop immer broeiend moet wees.

    d. Doldrums

    Doldrums word deur Schoonees et al (1974) in die WAT soos volg beskryf:

    Streek of gedeelte i/d oseaan langs die ewenaar waar daar windstiltes, windvlae of ligte, veranderlike winde aangetref word; stiltegordel; ook, windstiltes wat daar voorkom. (Bd. II:230).

    Dit moet in die pastoraat op heel unieke wyse beleef en benut word.

    Stiltes speel 'n belangrike rol in die rolprent en veral die boek met die subtitel: ... tussen stiltes.... Stiltes se betekenis en waarde durf nooit misken word in terapie nie. Stiltes het besondere funksies: "... gaan sit by hom in die stilte ... doodstil ... en laat die stilte tussen julle sy storm stilmaak (Burger 2010:41).

    Stiltes is onvermydelik. Die gebruik van stiltes sowel as die betekenis daarvan is egter noodsaaklik. Tydens stiltes gebeur iets. By wyse van spreke kan gesê word dat stiltes praat en elke stilte 'n eie storie het. Louw (1999: 341) beskryf dit soos volg: "Gedurende 'n stilte oordink 'n persoon die sentrale gebeure en is besig met die dieptevlak van sy/haar bewussyn." Hy dui dan ook 'n wye verskeidenheid van betekenisse wat stiltes kan hê aan en beklemtoon:

    Die pastor moet nie die waarde van stiltes onderskat nie en moet dit as konstruktiewe momente in die gesprek hanteer. (1999:342).

    Sekere stiltes kan in die algemeen dieselfde betekenis of hê of 'n aanduiding van dieselfde dinge wees soos byvoorbeeld stiltes met die oog op die ordening van gedagtes, stiltes met die oog op interpretasie van 'n vraag of 'n opmerking van die terapeut, stiltes om diepgaande emosionele opwelling te beheer, te verwoord of te interpreteer en ook stiltes as aanduiding dat 'n persoon klaar gepraat het of niks verder te sê het nie.

    Ten opsigte van die pastorale terapie is daar twee besondere kenmerke van stiltes wat die unieke aard en spesifieke identiteit van die pastorale terapie verder voer. Die eerste is gebed as stil word voor God (Louw 1999:506). Hierdie stilte is ruim is ryk. Dit is 'n stilte wat spreek van stil word voor Iets en Iemand groter as die mens en sy probleem. Dit is 'n stilte waar daar nie gewag word op woorde en antwoorde nie, maar waarin daar oorgegee en oorgelaat word. Hoewel sterk hierby in aansluiting, belig Van der Meulen (2004:166 - 167) dit verder. Vanuit die gedig van Guillaume van der Graft, stel Van der Meulen hierdie stilte bekend as "... een tweestemmig lied, waarin God en de mens elkaar raken."

    Só het hierdie stilte eers 'n doen- en dan 'n aanrakingskarakter.

    Dit bring die "vertrouende val" soos Willie Kuhn (2005:32) dit in sy gedig In die oog van die stilte beskryf:

    Daardie volmaakte ruspunt

    tussen wegbreek- en swaartekrag

    wanneer die swewende arend

    nesmaak in die hemelruim.

    Daardie absolute vrede

    tussen spierspasmas:

    Vir een ontspanne dag, sê Beethoven.

    Vir een ontspanne oomblik.

    Jy moet die storm trotseer

    om die oog van die stilte te bereik

    vir een oomblik se geluk:

    jou hemelnes, jou vertrouende val.

    Hierdie pastoraal-terpapeutiese stilte het daarom dan ook 'n

    transenderingskarakter.

    e. Eksternalisering en transendering

    Na die verfilming het Barry by geleentheid oor die gebied gevlieg waar hulle te perd beweeg het en waar 'n deel van die film vervaardig is: Dit was 'n vreemde ervaring om die landskap waardeur ons so pas vir drie maande (te perd) gereis het, vanuit die lug te ervaar. Toe ons bo Sutherland verbyvlieg, het ek 'n ware besef gehad van hoe groot dit was. Om te eksternaliseer is om dit van bo (of buite) te sien of afstand te kry soos Alice Morgan (2000:18) dit stel:

    A narrative therapist listens to these descriptions and is interested in engaging in a conversation to situate the problem away from the person - to externalize it (2000:18).

    In die pastorale terapie behoort en kan by eksternalisering 'n treetjie verder gegaan of die spreekwoordelike "hoër trappie" geklim word na transendering. Ganzevoort wys (onbewustelik?) na die deur wat geopen moet word in dié verband:

    Het gaat om de zogenaamde ervaringen van transcendentie die zich voordoen in het alledaagse: vragen naar de betekenis van wat ons overkomt, hoe je je te oriënteren hebt in de wirwar van sociale betrekkingen, of welke waarden voor jou een rol spelen in de gewone omgang met elkaar (2007:57).

    Waar daar 'n "... ontdekking van het Geheim" en die "Onnaspeurlijke aanwezigheid van God (Van der Meulen 2004:74-79) kan wees, het daar groot beweging plaasgevind.

    'n Laaste belangrike eienskap of karaktertrek van die pastorale identiteit is waarskynlik bogenoemde konteks waarbinne 'n pastorale terapeut werk. Dit is die pastorale terapeut wat by uitnemendheid 'n instrument of reisgenoot (Van der Meulen) kan wees wat ondersteuning tot geestelike transendering bied waar die mens op besondere wyse van die Transendente bewus kan word.

     

    5. SLOT

    Die pastorale terapeut beleef 'n identiteitskrisis wat ver kom en wyd strek. Verskillende faktore het aanleiding daartoe gegee. Die algemene gesagskrisis van die kerk en die gevolglike verlies aan gesag van die amp, kan as een van die belangrikste faktore gemeld word wat aanleiding tot hierdie krisis gegee het. Dit is 'n saak wat oor kerkgrense en verskillende geloofsbenaderinge of -interpretasies gaan.

    Ander, waarskynlik net sulke belangrike faktore, is die uitdagings aan, sowel as die toerusting en die metodes van die pastorale terapeut. Die pastorale terapeut is nie maar net nog 'n terapeut nie. Dit is 'n terapeut met 'n eiesoortige identiteit en daardie identiteit kan nie van sy/haar persoon of werk geskei word nie.

    In hierdie artikel is vyf aspekte van 'n eiesoortige identiteit van die pastorale terapeut en terapie beklemtoon. Met 'n eie identiteit en besondere pastorale aktiwiteit, kan daar vandag nog, 110 jaar later, in die 21 ste eeu dus steeds vasgehou word aan die begrip pastor aeturnus wat reeds in 1891 gefigureer het (Vatican I, Session IV, Palmieri, Domenico. 1981. Tractatus de Romano Pontitice. 2nd. Ed. Prati:Giachetti, Filii et Soc. - aangehaal uit Cartley, 1977:549).

     

    BIBLIOGRAFIE

    BEETON, M. 2010. Die Perdefluisteraar. [Aanlyn.] Bekom van: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2009/04/09/RT/8,9/barrie05.html. [11 November 2010].        [ Links ]

    BONS-STORM, R. 1989. Hoe gaat het met jou? Pastoraat als komen tot verstaan. Kampen: Kok.        [ Links ]

    BURGER, B. 2010. Tornado ... tussen stiltes. Die boek agter die rolprent Torando and the Kalahari Horse Whisperer. Kaapstad: CTP Boekdrukkery.        [ Links ]

    CARTLEY, J.W. 1977. Agreement on Authority. The Anglican Roman Catholic Statement with Commentary. Nr. 48. Grove Books: Bramcote Notts.        [ Links ]

    DALLOS, R & VETERE, A. 2010. Systemic theraphy and the attachment narratives. Applications in a range of clinical settings. Londen and New York: Routledge.        [ Links ]

    DE KLERK, J.J. 1978. Herderkunde. Pretoria: N G Kerkboekhandel.        [ Links ]

    DE KLERK, W.J. 1974. Pastorale sensitiwiteit. Johannesburg: Perskor Uitgewery.        [ Links ]

    DINGEMANS, G.D.J. 1990. De Tijd van de verborgen God. Uitgeverij Boekencentrum B.V.'s Gravenhage.        [ Links ]

    DOEHRING, C. 2006. The practice of pastoral care. A postmodern approach. Louisville, Kentucky: Westminister John Knox Press.        [ Links ]

    DOMINIAN, J. 1976. Authority. A Christian interpretation of the psychological evolution of authority. Londen: Burns & Oates.        [ Links ]

    DREYER, Y & NOLTE S.P. 2008. Pastors as gewonde genesers: Die emosionele uitwerking van kognitiewe dissonansie. HTS Theological Studies (64)2: 1005-1020.        [ Links ]

    __________. 2009a. Intrapersoonlike transformasie by pastors - die paradoks van emosionele verwonding as bron tot genesing. HTS Theological Studies 65(1): 328-336.        [ Links ]

    __________. 2009b. Pastors as gewonde genesers: Outobiografiese pastoraat as heelmiddel vir emosionele verwonding en verlamming by pastors. HTS Theological Studies 65(1): 92-100.        [ Links ]

    EVANS, G.R. 1988. Christian Authority. Essays in Honour of Henry Chadwick. Oxford: University Press.        [ Links ]

    FIRET, J. [1968] 1988. Het agogisch moment in het pastoraal optreden. Kampen. JH Kok.

    __________. 1983. Teologische creativiteit. In: H. Faber (red.) Pastoraat, balans en perspectief deel 1. (Uitgeversmaatschappij J.H. Kok: Kampen), pp. 79-94.        [ Links ]

    GANZEVOORT, R. & VISSER, J. 2007. Zorg voor het verhaal. Achtergrond, methode en inhoud van pastorale begeleiding. Meinema: Zoetermeer.        [ Links ]

    HEITINK. G. 1977. Pastoraat als hulpverlening. Kampen. Kok.        [ Links ]

    __________. 1983. Gids voor het pastoraat. Teologie en gemeente. Uitgeversmaatschappij J.H. Kok: Kampen.        [ Links ]

    __________. 2001. Biografie van de dominee. Baarn: Ten Have. JONKER, W.D.        [ Links ]

    __________. 1970. Als een riet in de wind: gedachten naar aanleiding van de huidige discussie rondom het ambt. S.I. Kok.        [ Links ]

    KENNEDY. J. 1960. Presbyterian Authority and Discipline. Richmond, Virginia: John Knox Press.        [ Links ]

    KRUIJNE, T. 1983. De identiteitskrisis van de pastor is een generativiteitscrisis. In: H. Faber (red.) Pastoraat, balans en perspectief deel 1. (Uitgeversmaatschappij J.H. Kok: Kampen), pp. 52.        [ Links ]

    KUHN, W. 2005. In die oog van die stilte. Kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

    LOUW, D.J. 1999. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. Teologiese ontwerp vir 'n basisteorie, antropologie, metode en terapie. Wellington: Lux Verbi.BM.        [ Links ]

    LOUW, N.A & MÜLLER, J.C. 2002.Om verbeeldingryk te lewe: Verbeelding in die pastorale narratiewe terapie en die teologie van Walter Brueggemann. Hervormde Teologiese Studies, 58(1):340 - 354.        [ Links ]

    MACARTHUR, J. 2005. Pastoral Ministry. How to Shepard Biblically. John MacArthur Pastors Library. Nashville, Tennesee: Thomas Nelson Inc.        [ Links ]

    MOLTMANN, J. 1972. Der gekreuzigde Gott. München: Kaiser. (Engelse weergawe, 1974: The Crucified God.) Suffolk: SCM Press.        [ Links ]

    MORGAN, A. 2000. What is narrative therapy? An easy-to-read introduction. Adelaide. Australia: Dulwich Centre Publications.        [ Links ]

    NOUWEN, H.J.M. 1979. The Wounded Healer. New York: Image Books.        [ Links ]

    PALMER, R.E. 1969. Hermeneutics. Evanston: North Western University Press.        [ Links ]

    PETERSON, E.H. 2001. Run with Horses. Vereeniging: Christian Arts Publishers.        [ Links ]

    REBEL, J.J [s.a.] Pastoraat in Pneumatologisch Perspektief. Een teologische verantwoording vanuit het denken van A.A. van Ruler. Kampen:Kok.        [ Links ]

    SHOONEES ET AL. 1974. s.v. "Doldrum". Die Afrikaanse Woordeboek. WAT. Deel 2 D-F. Pretoria: Die Staatsdrukker. 1974        [ Links ]

    SWART, S. 2010. Riding High. Horses, Humans and History in South Africa. Johannesburg: Wits University Press.        [ Links ]

    VAN DER MEULEN, H.C. 2004. De pastor als reisgenoot. Pastoraal-teologische gedagcten opver geestelike begeleiding. Zoetermeer: Uitgeverij Boekencentrum.        [ Links ]

    ZIJLSTRA, W. 1984. Pastor, een onmogelijk beroep. In H. Faber (red.) Pastoraat, balans en perspectief deel 2. (Uitgeversmaatschappij J.H. Kok: Kampen), pp. 122-131.        [ Links ]