SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.31 issue2An assessment of the Myers Briggs Type Indicator from a practical theological perspectiveHistorical narrative and wisdom: Towards preaching Esther "for such a time as this" author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Acta Theologica

    Print version ISSN 1015-8758

    Acta theol. vol.31 no.2 Bloemfontein  2011

     

    Calvyn oor twyfel

     

    Calvin on doubt

     

     

    PC Potgieter

    Prof Pieter C. Potgieter, Navorsingsgenoot, Departement Dogmatologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: pcpotgieter@telkomsa.net

     

     


    Trefwoorde: Calvyn; Twyfel; Onsekerheid


    ABSTRACT

    Little regarding doubt and uncertainty in matters of faith is found in publications on Calvin's life and theology. This paper pursues his views on this topic in his Institutes, commentaries, tracts, and letters. This is done by referring to the exact words in die original Latin and French. He regards doubt as a serious consequence of sinful human nature, causing anxiety and conflict in the faithful. Although it is part and parcel of Christian life, he condemns it as opposed to the will of God. He does, however, also express his compassion with those suffering under this duress. God expects the faithful to actively resist temptations of doubt and uncertainty. The key to victory is being in Christ, whose Father is also our Father, in the power of the Holy Spirit.

    Keywords: Calvin; Doubt; Uncertainty


     

     

    Gelowiges het deur die eeue met twyfelvrae geworstel. Daar is soveel geloofskwessies waarop daar nie maklike antwoorde is nie. Die Bybel probeer ook nie daarby verbykyk nie.1 Tot in die jongste teologiese litteratuur kom dit pertinent aan die orde. Adrio König (2002), Stephan Joubert (2003), Piet Naude (2002: 36), Anton van Niekerk (2005) en Julian Muller (2011) is maar enkele voorbeelde. Muller poog, trouens, met sy tussenin- of duskant-teologie om "'n nuwe greep op die geloof te probeer vind" (2011:162). Daarom is dit juis nou sinvol om weer te kyk na die insigte van die Geneefse hervormer.

    Dit is merkwaardig dat daar in navorsingspublikasies oor Calvyn en sy teologie besonder min te vind is oor die kwessie van twyfel by gelowiges. Die leser van sy werke kan ook maklik tot die gevolgtrekking kom dat hy nie veel simpatie gehad het met mense wat in twyfel of selfs geestelike vertwyfeling verval nie. En tog het hy hom in sy kommentare, briewe en ander geskrifte, sowel as in die institusie, wel deeglik uitgelaat oor hierdie soort twyfel en onsekerheid.

    Begrippe soos twyfel, sorge en onsekerheid2 kom dikwels voor in sy werke. Dit is ook belangrik om te let op sy presiese woordgebruik en formulering in die oorspronklike Latyn en Frans om die nuanses van betekenis duidelik aan die lig te bring. Vir Calvyn was dit 'n uitgemaakte saak dat dit nie God se bedoeling met die mens was om hom hiermee te kwel nie, maar dat dit een van die wrange vrugte van die sondeval is wat die mens op homself gehaal het. In sy kommentaar op Matteus 6:253 herinner hy sy lesers daaraan dat die sondige natuur waarmee die mens gebore word, allerlei sorge meebring (aliquid curae sustineant); dit - se hy - is nie die minste van ons ellende nie: dit is 'n straf wat die Here op ons le om ons nederig te hou (ut nos humiliaret, CO 45,209). Een daarvan is twyfel.

     

    1. OORSPRONG VAN TWYFEL

    Calvyn vind die diepste oorsaak van twyfel in die mens se sondige natuur. Dit hou in dat daar 'n inherente swakheid is, wat lei tot 'n diepgewortelde gebrek aan geloofsvertroue, wat op sy beurt weer onsekerheid, twyfel en selfs radikale vertwyfeling tot gevolg het. Hy stel dit onomwonde in sy kommentaar op Jesaja 41:10 dat ons almal van nature swak en vol wantroue is. Gelowiges is nie vry van alle vrees nie, en die versoeking tot wantroue is altyd daar. Die profeet verseker ons egter dat ons dit moet weerstaan en daaraan dink dat God by ons teenwoordig is en sorg vir ons redding (CO 37,42).

    Waar sal ons, trouens, iemand kry wat nie soms versoek word deur die onheilige gedagte dat alles wat in die wereld gebeur, bloot toevallig is nie (mundum fortuito volvi? CO 31,674). Ook die wat aan God behoort, het die besondere bystand van sy genade nodig om sulke versoekings te oorkom. Selfs Dawid moes bely dat hy soms byna hierin verval het (sicuti David nunc fateturseparum abfuisse a lapsu, CO 31,674).

    In 'n preek wat veral handel oor geloofsekerheid (Gen 15:6) stel Calvyn dit dat daar, vermeng met die deugde wat God gegee het, nog baie gebreke oorbly, omdat geloof dikwels nog onvolmaak en swak is (imparfait et debile). Die Godgegewe deugde bly nog steeds verdorwe solank iemand nie ten volle gereinig is van die smet van die vlees nie (des macules de la chair). Wat anders kan iemand doen as om te twyfel (que pourra-il faire sinon douter?) wanneer hy ontdek dat hy nog maar halfpad en ver van sy bestemming af is? Calvyn kom dus tot die gevolgtrekking dat dit nie genoegsaam is om te erken dat ons verlossing bloot kom uit genade in soverre as God ons deur sy Heilige Gees lei nie: ons moet ons toevlug veel eerder soek in die vergifnis van ons sondes (CO 23,717).

    Dit is dus vir Calvyn duidelik dat ongeloof in een of ander vorm deel van ons menslike bestaan is. Ons hart is veral deur sy eie natuurlike instink geneig tot ongeloof (quum praesertim cor nostrum suo quodam naturali instinctu ad incredulitatem propendeat, CO 2,414). Daarom is daar altyd 'n mate van konflik in die hart van die gelowige: enersyds is daar die belofte van die evangelie en andersyds die ervaring van die mens se verdorwenheid. So ontstaan 'n tweestryd wanneer ongeloof, wat in die oorblyfsels van die vlees skuil, sy aanslag loods op die geloof wat daar in die hart is. Dit impliseer egter nie dat ons ons geloof verloor nie. By die wat in Christus is, is die uiteinde van die konflik altyd dat geloof triomfeer oor die probleme waardeur dit beleer word (Inst 3.2.18).4

    Calvyn was ook nie blind vir die foute van kerklike vergaderings en die optrede van ampsdraers wat tot twyfel by lidmate kon lei nie. By geleentheid het hy dit nodig gevind om die Franse gemeente in Straatsburg te vermaan. In 'n skrywe van 10 Desember 1558 neem hy hulle kwalik omdat hulle - na sy inligting - hulle leraar, Peter Alexandre, onregmatig afgedank het. Hulle moet weet dat sulke beginsellose optrede deur die kinders van God twyfel by ander tot gevolg het (CO 17,701).

    Dit is ook so dat mense dikwels in vertwyfeling verval omdat hulle nie God se voorsienigheidshandelinge verstaan nie. Na aanleiding van Psalm 73 se Calvyn die psalmis het opgemerk hoe goed dit soms met die goddelose gaan en hoe swaar die gelowige soms kry; dit bring hom byna daartoe om sy godsdiens en sy vrees vir God te laat vaar (ut prope curam religionis et Dei timorem abiiceret, CO 31,673). Calvyn wil ook terdee rekening hou met die rol van die Bose in hierdie verband. Satan het talle slenters waarmee hy ons oe verblind en ons denke verwar, sodat alles wat in die wereld gebeur soos 'n digte newel word, wat dit vir ons moeilik maak om in te sien (ut difficile sitstatuere, CO 31,673) dat God regeer en sy sorg oor alles uitstrek (Comm Ps 73).

    Die lis van die Bose strek egter ook nog veel verder: in 'n skrywe aan Bullinger (7 Maart 1554) noem Calvyn probleme wat daar in Geneve ontstaan het tussen die senaat en die kerk. Dit is vir hom duidelik dat Satan geen groter begeerte het nie as dat daar in die kerk verwarring sal wees as gevolg van twyfel en onbeslegte kwessies.5

     

    2. GEVOLGE VAN TWYFEL

    Twyfel in die hart van gelowiges lei - na Calvyn se oordeel - dikwels tot onnodige ontsteltenis en angs. Daarom is dit begryplik dat hy negatief gestaan het teenoor die wat nie genoeg vertroue in God se vaderlike sorg het nie: mense moet hulleself nie folter met onnodige angstigheid nie (supervacua anxietate se non excrucient, CO 45,211). God verseker ons immers in Jesaja 41:10 dat Hy met ons is. As ons egter dink dat Hy nie daar is nie, of daaraan begin twyfel of Hy ons sal help of nie, word ons ontstel deur vrees en rondgeslinger (perturbamur) tussen baie storms van wantroue (CO 37,41v). Jesus verbied sy volgelinge ook om besorg te wees (Lk 6:31) en om hulle te verknies en te treiter met gedurige onrustigheid (assidua inquietudine aestuant ac vexantur, CO 45,212).

    In sy Calvyn-biografie wys Bouwsma juis ook hierop:

    The worst adversity of the Christian is therefore not sin but doubt, of which anxiety is the immediate consequence. Doubt and anxiety are thus the most terrible adversities of every Christian, even the most faithful (Bouwsma 1988:184).

    Solank ons in twyfel verkeer of God ons liefhet of haat, sal daar altyd in ons gewete kwelling en onrustigheid wees (il y aura tousiours tonnent et inquietude en nos consciences, CO 50,658), en sal ons voel asof ons in 'n tronk is (preek oor Gal 5:1-3).

    God straf die ongeloof van die wat sy beloftes betwyfel; hulle kwel hulleself deurdat hulle geen gemoedsrus het nie. Daarom sê Jakobus dat hulle nie werd is om iets van God te ontvang nie (Comm. Jak 1:6v). Op grond hiervan verwerp Calvyn ook die leer van die pousdom dat ons met onsekerheid moet bid - onseker of ons verhoor sal word (nempe dubitanter et incerta successus opinione esse orandum (CO 55,387).

     

    3. SIMPATIE MET TWYFELAARS

    Aan die anderkant is daar klaarblyklik by Calvyn deernis met mense wat worstel met twyfelvrae. In sy monumentale werk oor die hervormer stel Henry dit goed:

    Calvijn kende de zwakheden van het menschelijke hart volkomen. Hij wist daarom juist te onderscheiden tot wie hij ernstig en krachtig en tot wie hij zacht en opbeurend spreken moest (Henry deel I 1847:315).

    Twyfel is so diep gewortel in ons harte, en ons is so geneig daartoe, dat ons onsself nie sonder 'n sware stryd kan oortuig van wat ons met die mond bely nie, naamlik dat God getrou is (Inst 3.2.15).6 Dit kan egter nie anders nie as dat ons deur die swakheid van die vlees heen en weer geslinger word deur verskillende versoekings wat ons vertroue wil laat wankel. Daar is inderdaad niemand wat nie sidder en beef onder die begeerte van die vlees nie (ita nemo reperietur qui non sensu carnis suae vacillet ac trepidet, CO 55,387); maar sulke versoekings moet uiteindelik deur die geloof oorwin word. Hy gebruik hier die mooi beeld van 'n goed-gewortelde boom wat deur die wind geruk word, maar tog vas bly staan.

    So wys Calvyn op die geval van die man wat sy siek seun na Jesus gebring het (Markus 9:24) en dan vir Hom se dat hy glo, maar tog terselfdertyd sy ongeloof erken (tamen se fatetur incredulum). Dit wil voorkom asof die twee posisies teenoor mekaar staan, maar daar is niemand wat nie beide van hulle in homself ervaar nie (nam quum nusquam perfecta exstet fides, sequitur ex parte esse incredulous). Omdat ons geloof nooit volmaak is nie, volg dit dat ons ten dele ongelowiges is (ex parte esse incredulous), maar God vergewe ons en beskou ons as gelowiges op grond van 'n klein stukkie geloof. Dit bly egter intussen ons plig om die oorblyfsels van ongeloof wat nog aan ons kleef, af te skud (excutere infidelitatis reliquias CO 45,495), daarteen te stry, ons toevlug tot God te neem en Hom te bid om dit in ons reg te stel. Onder mense is daar maar min wat uitstaan in geloof, ook min wat 'n redelike deel daarvan het, maar sommer baie wat maar net 'n klein bietjie geloof het (CO 45,495).

    Alhoewel dit deel van die reformatoriese leer is dat geloof vas en seker behoort te wees (debere certam ac securam), kan ons ons nie enige sekerheid voorstel wat nie 'n sweempie van twyfel het nie (quae nulla tangatur dubitatione), of ook enige sekerheid wat nie deur enige onrus aangeveg word nie. Aan die anderkant moet ons se dat gelowiges gedurig in 'n stryd is met hulle eie twyfel (perpetuum esse fidelibus certamen cum sua ipsorum diffidentia, CO 2,412, Inst 3.2.17). Mc Grath stel dit netjies:

    Calvin also deals with the question of whether the certainty of faith necessarily implies that doubt is excluded from the Christian life. For Calvin, doubt is a normal part of the Christian life and is not inconsistent with his emphasis upon the trustworthiness of God's promises ... Calvin does not draw the conclusion that faith exists without doubt, but stresses that a trust in the reliability of the divine promises may coexist with a human failure to trust in those promises (Mc Grath 1995:26).

    Calvyn het dus nie uit die oog verloor nie dat mense in hulle geloof heen en weer geslinger word deur allerlei vorme van twyfel (fidem scilicet variis dubitationibus impelli), sodat selfs die gemoed van gelowiges selde volkome vrede het. Maar dan moet hulle vashou aan die versekering van die Skrif, soos waar Psalm 46 se dat God vir ons 'n toevlug en 'n beskerming is (CO 2,428; Inst 3.2.37).

     

    4. CALVYN SE EIE TWYFEL

    Calvyn erken dat hyself ook sy momente van twyfel gehad het. Oor sy verlossing in Christus het hy egter nie getwyfel nie. Daarvan getuig sy talle geskrifte duidelik genoeg. Maar sy lewe was dikwels nie maklik nie. Afgesien van die teenstand wat hy telkens van verskeie kante ervaar het, was daar ook die beproewinge in sy eie lewe en omstandighede, soos die al te vroee heengaan van sy eggenote en kind, teleurstellings in sy verhouding met medemense en sy gedurige gesondheidsprobleme. Maar hy kon deur die krag van die Heilige Gees vertwyfeling oorwin met sy onvoorwaardelike Godsvertroue. Beza herinner aan sy mooi gesindheid waar hy bely: Here, u slaan my, maar dit is vir my genoeg dat dit u hand is (Seigneur, tu me piles, mais il me suffit que c'est ta main, CO 21,44).7

    Al was hy 'n gelowige, het hy dit soms moeilik gevind om standvastig te bly terwyl hy as't ware heen en weer gegly het op gladde grond (vix tamen se retinuit in hac tam lubrica vacillatione, CO 31,673). Hy erken, trouens, dat hy soms selfs in onmenslike dwaasheid versink het (ad brutum fere stuporem, CO 31,673).

    In sy biografie van Calvyn se Bouwsma dat die hervormer nie ware sekerheid in die pouslike kerk kon vind nie.

    Calvin's concern for certainty sometimes suggests that the Lord speaks less to announce the Good News than to relieve doubt; the Word of God, as he put it, provides a "certain and permanent support " for faith. . Calvin, this implies, was himself affected with serious doubts (Bouwsma 1923:101).

    Hy gaan ook nog verder:

    Calvin bore witness to the terrors of doubt. "As soon as we begin to call into doubt the promises of God," he reported, "our minds are distracted by various thoughts, we are terrified and continuously disquieted by the magnitude and variety of our dangers, until finally we are so stupified that we no longer have any sense of the grace of God." (Comm Rom 1:20). Each of these pronouncements reflects his own most agonizing experiences (Bouwsma 1988:184).

    In sy biografie van Calvyn kom Cottret tot die gevolgtrekking dat ons by hom iets van 'n nostalgie sien in Geneve na Straatsburg. Dit is asof twyfel toe aan hom geknaag het. Maar watter twyfel dan? Nie in God nie.

    But he doubted nonetheless and questioned himself endlessly. He told his friends, "If I had thought only of my own life and my private interests, I would have immediately gone elsewhere" (Cottret 2000:182; vgl CO 13, 1187).

    Borger en Posthumus stel dit so:

    Calvijns verlangen naar een redelijk en doordacht geloof wordt ook bij terugkomst in Geneve niet door iedereen begrepen. We zien Calvijn worstelen met de tegenstand en hij confronteert ons met korte momenten van vertwijfeling (Borger & Posthumus s.a.).

    Calvyn is soms ook ten onregte beskuldig van twyfelagtige optrede. In 1538 het Louis du Tillet Calvyn daarvan beskuldig dat hy sy roeping misverstaan en skeuring veroorsaak. Op 20 Oktober antwoord hy Du Tillet in 'n brief oor laasgenoemde se twyfel (S'il estoit question de disputer de ma vocation, CO 10,270), en verseker hom dat hyself 'n skoon gewete in die verband het.8

    Aan die einde van sy dae het hy ook laat blyk dat hy nie tevrede was met wat hy in sy lewe beteken het nie. Op die 28ste April - kort voor sy heengaan - het hy die predikers daar in Geneve gegroet:

    Julle moes talle tekortkominge in my verdra. Selfs alles wat ek ooit gedoen het, het geen waarde nie . Ek se dit weer: niks van alles wat ek gedoen het, het enige waarde gehad nie. Ek is 'n ellendige skepsel. En tog kan ek se dat ek wou goed doen, en dat my gebreke my altyd gegrief het en dat die wortel van die vrese van God in my hart was. Julle kan sê dat my bedoelinge goed was. Ek vra julle om my te vergewe, waar ek ookal verkeerd was (Lee 1985:140).9

     

    5. GOD WIL NIE TWYFEL HÊ NIE

    Al het Calvyn erken dat twyfel onherroeplik deel is van ons bestaan in 'n wêreld wat onder die gevolge van die sondeval ly, het hy keer op keer laat blyk dat dit nie God se wil vir ons lewe is nie. Daarom sien hy dit as deel van ons roeping om twyfel te oorwin. McBride stel dit mooi: '"To live with doubts with no thought of trying to resolve it would be, I believe, a curious notion for Calvin" (Mc Bride 2009).

    In sy preke het hy sy hoorders meermale vermaan om nie aan God se trou te twyfel nie. Al is ons hoe onvolmaak - sê hy in 'n preek oor Galasiërs 2:17 en 18 - en met soveel gebreke (tant d'infirmitez, CO 50,440), moet ons nie daaraan twyfel dat God ons aanneem nie. Ook so in 'n preek oor Psalm 119 na aanleiding van vers 26: ons moet nie na God kom met twyfel en onsekerheid nie (en doute, et en incertitude, CO 32,520), maar met die volle versekering dat hy ons sal verhoor. Wanneer God met ons praat (deur sy Woord), kan ons seker wees dat hy ons nie onder valse indrukke bring nie (Car quand Dieu parle à nous, il est certain qu'il ne nous veut point frustrer, CO 32,544). Na aanleiding van vers 45 sê hy ook dat jy nie in verslaentheid (en perplexité) en twyfel hoef te leef as jy jou aan die gebooie van God hou nie - dit laat jou trouens in ware vryheid lewe (CO 32,550). Selfs wanneer ons in vervolging deur die magte van die hel geteister word, moet ons nogtans nie aan ons veiligheid twyfel nie (nous ne douterons point d'estre à sauveté), want ons is in die hand van God (CO 32, 693).

    Waar Calvyn handel oor die geval toe Jesus die vyeboom laat verdroog het, en hy die dissipels aangespreek het oor hulle gebrek aan geloof (As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen .... Matteus 21:21), sê hy dat dit duidelik is dat twyfel iets is wat God nie toelaat nie (quae dubitationem non admittit, CO 45,585). Daar is mense wat nie deur Christus as gelowiges erken word nie: dié wat nie glo dat God met hulle versoen is nie en twyfel (haesitant CO 45,585) dat Hy sal gee wat hulle vra; daarom ook sy radikale verwerping van die Roomse siening wat geloof met twyfel vermeng (qui fidem dubitationi permiscent,CO 45,585). In 'n ernstige preek oor Genesis 15:6 handel Calvyn oor heilsekerheid. Hy stel dit onomwonde dat ons sekerheid moet hê, anders bly die deur van heil vir ons gesluit (car il faut que nous soyons asseurez, ou autrement la porte de salut nous est fermee, CO 23,711).

    Selfs waar gelowiges gebuk gaan onder beproewing en lyding, moet hulle nie swig onder die versoeking om te begin twyfel nie. Dit blyk veral uit bemoedigende - maar ook vermanende - woorde in briewe aan medegelowiges in sulke omstandighede.

    In 'n brief van 154610 - waarskynlik aan Madame de Bude - bemoedig Calvyn haar oor die twyfel (les doubtes ) waardeur sy gekwel word. Daar sal maar altyd probleme en lastighede wees (nous le cherchons, nous le trouverons); dit staan egter vas dat ons ons baie sorge aan die Voorsienigheid van God kan toevertrou in die wete dat Hy uitkoms sal gee selfs waar ons dit nie verwag nie.11

    In 'n uitgebreide brief12 bemoedig hy ook Lord Somerset in Engeland: hy moet nie daaraan twyfel nie dat God hom te hulp sal kom in al die probleme wat hy mag ervaar. As mense wat aan sy Kerk behoort, sien Hy ons as sy kinders sodat ons Hom met vertroue mag aanroep as ons Vader (CO 13,77vv)

    Op 5 Junie 1552 skryf Calvyn 'n brief van bemoediging aan vyf geloofsgenote wat gevange geneem is en in Lyon aangehou word. Hulle moet selfs in die gevangenis nie twyfel (ne doutez pas) aan hulle roeping nie. Die Here sal hulle krag gee om sy werk te volbring, want Hy het dit belowe en Hy het nog nooit die wat onder sy heerskappy is in die steek gelaat nie. Hulle moet vol vertroue wees (confiez) en nadink (meditez) oor die Skrifte (CO 14,332).

    Op 5 Januarie 1558 skryf Calvyn 'n brief van bemoediging aan die kerk in Parys, wat swaar ly onder vervolging en onderdrukking. Hulle moet hulle toevlug stel in die krag van die Heilige Gees en nie twyfel daaraan dat die Vader van alle genade tog uiteindelik medelye met hulle sal hê en aan hulle uitkoms sal gee nie.13

    In 1558 ontvang Calvyn 'n brief van Monsieur D'Angelot uit die gevangenis waarin hy vertel hoe daar druk op hom geplaas word om sy verbondenheid aan die Reformasie prys te gee. In sy antwoord van 12 Julie bemoedig Calvyn hom om nie daaraan te twyfel (ne doubtez pas) dat God - wie se soldaat hy tog is - sy lyding vir hom draaglik sal maak tot die regte tyd vir uitkoms daar is (CO 17,252).

    Die gelowiges in Metz het bemoediging nodig gehad om weereens as gemeente bymekaar te kom nadat dit vir hulle baie moeilik gemaak is. So skryf Calvyn dan aan hulle (10 September 1558) dat hulle nie moet twyfel daaraan dat God hulle hande sal sterk wanneer hulle hulle daarvoor beywer om die diens te herstel nie, want die leer van die lewe moet verkondig word (CO 17, 329).

     

    6. TWYFEL IN GEBEDE

    Calvyn het geen twyfel gehad oor die krag van gelowige gebed nie. Hy stel dit ook onomwonde dat gebed sonder geloofsvertroue 'n hopelose saak is (Potgieter 2005:56). God word, trouens, nie reg en in geloof aangeroep nie tensy ons ten volle oortuig is dat ons gebede nie tevergeefs sal wees nie (nisi quum certo persuasi sumus non irritas fore nostras preces, Comm. 1 Joh. 5:14; CO 55,370. Vgl. ook Comm. Hand. 8:22; CO 48,186-7). Calvyn vind dit vreemd - en 'n teken van ondankbaarheid - dat iemand wat soveel seen van God ontvang, onseker kan wees of hy sal kry wat hy van die Here vra. As ons so twyfel, doen ons God onreg aan en toon ons die ondankbaarheid wat daar in ons is (et monstrons qu'il y a de l'ingratitude, qui est en nous, CO 32,582).

    Calvyn handel breedvoerig oor twyfel in sy kommentaar op Jakobus 1:6-814 Ons moet vertrou voordat ons bid, want ons getuig van ons hoop in ons gebede. Daarom sê Jakobus dat ons sonder aarseling (nihil haesitando, CO 55,387) moet bid.

    Wanneer Calvyn in een van sy preke oor Psalm 119 handel oor gebedsvertroue, sê hy dat ons die Here ons God tevergeefs vra om ons probleme op Hom te neem en ons in aanvegtinge by te staan as ons dit doen terwyl ons terselfdertyd twyfel (si cependant nous sommes en doute de ce qu'ildoit faire). Ons moet heeltemal seker wees dat Hy ons sal red (mais il faut que nous soyons tout asseurez qu'il sera nostre garent, CO 32,716)

    In sy Vierde preek oor die hemelvaart van ons Here Jesus Christus (Hand 1:9-11) verseker Calvyn die gemeente dat ons nie met twyfel in die hart tot God hoef te bid nie, want "ons kan seker wees dat ons gebede altyd aanneemlik sal wees vir Hom, omdat ons deur Jesus Christus bid" (CO 48,613v).

    Die jeug van die kerk moes ook hierin goed onderrig word. In die Kategismus van die Kerk in Geneve - wat bo alle twyfel deur Calvyn opgestel is - stel die leraar die vraag (249):

    Maar wanneer ons bid, doen ons dit bloot toevallig as ons onseker is oor ons sukses (de successu incerti, CO 6,88), of behoort ons dit as 'n vaste instelling te hou dat ons deur die Here verhoor sal word?

    Die kind moet dan antwoord:

    Dit is 'n ewige fondament van die gebed dat ons deur die Here verhoor sal word en dat ons alles wat ons van Hom vra, sal kry in soverre Hy dit in ons belang ag. Om hierdie rede leer Paulus ons dat die ware aanroeping van God uit die geloof spruit. Want niemand sal Hom ooit na behore aanroep as Hy nie vooraf in die vaste vertroue op sy goedertierenheid berus nie (Simpson 1981:44).

    Die volgende vraag lui:

    Maar wat sal dan gebeur met mense wat in vertwyfeling bid, (qui haesitantes orant CO 6,88) en nie in hulle harte oortuig is van dit wat wat hulle deur te bid sal verkry nie, of liewer, onseker (incerti) is of hulle gebede wel deur God verhoor sal word?

    Die kind moet soos volg antwoord:

    Hulle gebede is hol en tevergeefs (vanae sunt ac irritae, CO 6,90) aangesien dit deur geen belofte onderskraag word nie, want ons word gebied om met vaste geloof te vra en die belofte word daarby gevoeg dat alles wat ons uit die geloof vra, aan ons gegee sal word (Simpson 1981:44).

    Waar Calvyn in sy Korter Geloofsbelydenis oor die gebed handel, sê hy ook uitdruklik dat die wat in twyfel en besorgdheid bid, volgens die Skrif (Hebreers 11:6 en Jakobus 1:6) nooit verhoor sal word nie (Ages, Tracts 2:139).

     

    7. MOEILIKE VRAAGSTUKKE

    Calvyn gee toe dat dit nie altyd maklik is om oor alles sekerheid te hê nie. Daar is kwessies waaroor daar nie meteens duidelike leiding in die Heilige Skrif te vind is nie. Na aanleiding van Lukas 24:38 (Hy sê toe vir hulle: "Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte?") sê Calvyn dat ons die reg het wanneer iets vir ons problematies is, om die argumente na beide kante teen mekaar op te weeg; want wanneer sake twyfelagtig is, word ons gedagtes noodwendig in alle rigtings gedryf (dubiis huc et illuc versentur mentes nostrae). Daarby moet ons ons egter hou aan nugterheid en redelikheid (CO 45,812).

    Dieselfde benadering vind ons in sy kommentaar op Petrus se gebrek aan geloof op die meer (Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel? Mat 14:31). Hierop vra Calvyn of elke soort vrees dan getuig van 'n swak geloof - want dit wil voorkom asof Christus se woorde impliseer dat daar geen plek vir twyfel is waar geloof heers nie (dubitationi non esse locum, ubi fides regnat, CO 45,443). Wat Christus egter hier veroordeel, is die soort twyfel wat direk teenoor geloof staan (dubitationem hic a Christo reprehendi, quae directe fidei contraria erat, CO 45,443). In sekere gevalle is twyfel nie verkeerd nie, naamlik waar die Woord van God geen duidelike riglyn oor die bepaalde kwessie gee nie.

    Wanneer Jakobus (1:6) die woord SiaKpineaGai gebruik, wil hy hê dat ons 'n moeilike kwessie van alle kante ondersoek; dan kan ons so oortuig wees van God se bedoeling, dat ons nie aan twyfel uiting moet gee nie (ut in dubitationem non vocemus, CO 55,387).

     

    8. OORWIN TWYFEL DEUR VERBONDENHEID AAN CHRISTUS

    Alles in ag genome wil Calvyn vashou aan die geloof dat daar in Christus nie net oorwinning oor twyfel is nie, maar ook 'n onwankelbare waarborg dat Hy dit aan ons sal gee. Ons kan weet dat Christus se beloftes onfeilbaar (infaillibles) is. Daar sal wel tye van twyfel kom - want die duiwel gebruik sluheid (astuce) om ons af te skrik en te ontmoedig; maar dan moet ons weet dat Christus na die wêreld gekom het om vir ons 'n betroubare getuie te wees (CO 46,891). Ons moet ook nie vergeet nie dat Hy dieselfde versoekings as ons geken het.

    Foxgrover wys op Calvyn se verklaring van Christus se meelewing met Maria en Martha in Johannes 11, en sê dat hy daarmee bevestig "that since Christ assumed human nature, it was inevitable that he be affected by all human emotions" (Foxgrover 1988: 94).

    As Christus nie in sy eie persoon (en sa personne) die vrese (les craintes), die twyfel (les doutes) en die kwellinge (les torments) wat ons moet verduur, self ervaar het nie, sou Hy ons nie so jammer gekry het soos dit nou die geval is nie (preek oor Matteus 26:36-39, CO 46,835). In 'n preek oor Lukas 2:1-4 sê Calvyn dat ons uit die verhaal van die skaapwagters en die engele se boodskap weet dat die Seun van God, ons Middelaar, homself op so 'n wyse met ons verenig het dat ons nooit daaraan moet twyfel nie dat ons deelhebbers is aan sy lewe en al sy rykdom. Hy het alles wat ons vir ons saligheid nodig het, met Hom saamgebring.15

    Ons sekerheid is juis daarin geleë dat die God en Vader van ons Here Jesus Christus ook ons God en Vader is. Die ewige Seun van God gee aan ons vaste sekerheid (et de nous tenir là fermes), sodat ons nooit vervreem sal word van die grondslag van sy waarheid wat Hy ons gegee het nie; Hy is ons broer en ons het daarom dieselfde Vader. Wanneer ons dit hoor, is daar mos vir ons geen verdere rede om te twyfel of onseker te wees nie (est-il question de plus estre en doute ni en branle? CO 58,138v, preek oor Genesis 26:23-25).

    In 'n preek oor geloofsekerheid (Gen 15:6) vermaan Calvyn sy hoorders om nie hulle verbondenheid aan Christus gering te skat nie. Ons moet leer om soveel geloof (de tellement croire) in ons Here Jesus Christus te hê dat ons sy onfeilbare genade as ons toevlug vertrou - selfs wanneer ons twyfel ervaar (quand nous aurons des doutes en nous). Ons weet tog dat daar in Hom volkome geregtigheid is. Ons kan so in Hom wees dat ons daaraan deel het selfs wanneer ons maar net 'n klein druppeltjie (une petite goute de foy ) daarvan ervaar. Die swakheid en verdorwenheid van die vlees wat nog in ons is en ons saligheid sou kon verhinder, word volkome vernietig deur die Gees van ons Here Jesus Christus. Selfs as ons net 'n klein deeltjie daarvan besit, gee dit aan ons die volheid van lewe (CO 23,725).

    Na aanleiding van wat Calvyn in sy institusie 3.2.29-30 sê, kom McGrath tot die slotsom dat dit gaan oor baie spesifieke beloftes van God:

    Faith is not based on the word of God in general, but more specifically , in the promises of God which offer salvation. Calvin also stresses that it is not faith in itself, but being in Christ through faith, which is of decisive importance (McGrath 1995:233).

    In verskeie briewe pas hy dit ook toe op eietydse situasies. So skryf Calvyn met groot deernis in 'n brief aan Madame de Cany (29 April 1549) oor die heengaan van Madame Laurent de Normandie, die eggenote van 'n broer, wat op haar sterfbed getuig het van haar vertroue op God, en dat sy geen twyfel het oor haar saligheid nie, want Hy het haar daarvan verseker en sy gaan na Hom toe as haar Vader (Ainsy ie ne doute point de mon salut puis quil men a asseure. Ie men vois a luy comme a mon pere, CO 13,246).

    In Oktober 1557 gee Calvyn in 'n skrywe aan die koning van Frankryk 'n duidelike oorsig van waaroor dit in die Reformasie gaan en van wat die ware grondslag van die geloof moet wees. Deur so'n geloof word ons - wat van nature slawe van die sonde is - weer gebore in 'n nuwe lewe. Ons gewete moet berusting vind in die soenverdienste waardeur Jesus Christus ons vrygespreek het. As dit nie gebeur nie, sal ons altyd ronddryf in twyfel en onsekerheid (Calvin 2000b: 371).

     

    9. DAAR IS OORWINNING OOR TWYFEL

    Vanuit sy Christologiese vertrekpunt verseker Calvyn sy geloofsgenote van oorwinning oor twyfel. Hy stel die gesag van die Heilige Skrif reeds vroeg in sy Institusie aan die orde: deur eerbied daarvoor ban ons alle twyfel uit ons harte, "want wie sal so dwaas wees om die geloofwaardigheid van Hom wat spreek, in twyfel te wil trek" (qui fidem loquenti derogare ausit, CO 2,56, Inst 1.7.1). Daarom stel hy dit ook in 'n preek oor Galasiers 1:15-18 dat as ons met die Bybel besig is, ons heeltemal seker kan wees dat ons deur God onderrig word, want dit is sy woord wat ons navolg.16 Die oorsaak van onsekerheid en twyfel is, trouens, dikwels dat mense nie goed genoeg bekend is met die beloftes van God nie.17

    Ook waar daar twyfel mag wees oor basiese geloofswaarhede, is die getuienis van die Heilige Skrif vir Calvyn deurslaggewend. So antwoord hy diegene wat twyfel het oor die opstanding van Jesus in 'n preek oor Matteus 28:1-10: hy argumenteer dat Paulus dié soort ongeloof weerlê deur daarop te wys dat Jesus na sy opstanding nie net aan die vroue, aan Petrus en Jakobus en daarna aan die twaalf apostels verskyn het nie, maar ook aan meer as vyfhonderd van sy volgelinge tegelyk. Die aanvanklike twyfel en ongeloof van die apostels moet juis vir ons as bevestiging van die waarheid dien (CO 46,944f).

    Die Here gee ook aan ons insig deur die werking van die Heilige Gees by ons interpretasie van die Skrif. Daar is eintlik net een manier waardeur die onsekerheid van twyfel of weifeling oor die waarheid van God se Woord uitgeskakel kan word ( ne instabili dubitatione perpetuo circumferantur aut vacillent, CO 2,59, Inst 1.7.4), en dit is deur die inwendige getuienis van die Heilige Gees. Totdat Hy die verstand en gemoed verlig, sal 'n mens in vertwyfeling bly (quia donec mentes illuminet, semper inter multas haesitationes fluctuant, CO 2,59, Inst 1.7.4). Hierdie geestelike wysheid kom net deur die verligtende werk van God self.18 Daarvoor mag die gelowige ook tot die Here bid. Al kreun hy onder die kwaad wat hy ervaar, en al vrees hy met angs wat nog mag kom, moet hy tog sy toevlug tot God neem, sonder om te twyfel dat Hy gereed is om sy helpende hand na hom uit te strek (CO 2,635; Inst 3.20.11).

    Waar Calvyn in sy Institusie handel oor die beseeling van God se beloftes deur die sakramente, stel hy dit mooi:

    Aangesien ons geloof trouens baie gering en swak is, stort dit dadelik in duie, dit bly vertwyfeld en wankelmoedig en dit kwyn, tensy dit van alle kante ondersteun en op elke moontlike manier onderskraag word (Inst. 4.14.3).

    Al antwoord God nie altyd dadelik op ons gebede soos ons dit graag wil sien nie, moet ons nie twyfel dat die Here bereid is om al ons versugtinge te verhoor nie.19 In 'n brief (7 Junie 1553) aan Madame de Cany wat in die gevangenis sit, bemoedig hy haar: selfs al is 'n mens ontevrede met die situasie waarin jy jouself bevind, moet jy ook dan nie twyfel dat God op sy tyd in jou behoeftes sal voorsien nie - al gebeur dit nie dadelik nie (CO 14, 557). Ons mag vertrou dat God ons onder alle aanvegtinge sal help. Daarom moet ons ons daarop toelê om elke versoeking tot twyfel te oorwin. Ons kla dikwels as gevolg van twyfel. Die regte raad om so 'n versoeking te oorkom is egter om nie by God te murmureer oor ons beproewinge nie (murmurer contre Dieu en nos afflictions, CO 32,611), maar om in volle vertroue by Hom te pleit om sy genade. Ten spyte van teenslae en bekommernis oor moontlike nuwe rampe, moet die godvrugtige mens tog tegelyk sy toevlug tot God neem en hoegenaamd nie daaroor twyfel dat Hy gereed is om hom 'n helpende hand te reik nie (Inst. 3.20.11).

    Calvyn het telkens die geleentheid aangegryp om mense te help waar twyfel hulle Christelike verantwoordelikheid in gedrang mag bring. Na die dood van die koning van Navarre het Calvyn dit byvoorbeeld goedgedink om die koningin - wat haar man opgevolg het - met 'n skrywe (20 Januarie 1563) aan te moedig om die Reformasie in haar gebied te bevorder. Hy sê dat hy die probleme wat haar mag laat huiwer, in ag neem, asook die vrese en twyfel wat haar moed mag laat verloor (les craintes et doutes qui vous peuvent debiliter le courage, CO 19, 644). Die eer van God moet egter bo alles voorrang kry.

    Daarom, Madame, - ten einde al die probleme te oorkom - moet u steun op die versekering wat van Bo af aan u gegee word wanneer u voldoen aan alles wat God verlang.20

    Dit is ongelukkig waar dat ons almal soms 'n mate van twyfel het (quelques scrupules) omdat ons geloof nie volmaak is nie, maar dit is beslis altyd 'n deel van die oorwinning as ons dapper stry, God se beloftes aanvaar (nous combatons vertueusement et que nous embrassons les promesses de Dieu) en dit gebruik as skild teen elke versoeking en wantroue wat Satan oor ons bring (CO 23,716). Ons moet ook voortdurend (constamment) veg teen alle twyfel wat in ons verbeelding mag ontstaan (CO 58,19v; preek oor Gen 25:12). In 'n preek oor Jakob en Esau (Gen 26:23-25) bemoedig Calvyn die gemeente om na die voorbeeld van Abraham te bly glo wanneer hulle sekerheid verlang, of wanneer hulle gees besorgd is en rondgeslinger word deur weifeling en onsekerheid (que nous sommes agitez de quelque incertitude (CO 58,137).

    Calvyn illustreer die noodsaak van verset teen twyfel aan die hand van Dawid se geskiedenis. Dit is duidelik uit Psalm 73:1 dat Dawid tye geken het waarin hy beroer is deur baie twyfel en teenstrydige ingewings ( inter dubias et pugnantes sententias aestuasse (CO 31,674). En tog het hy hom met inspanning aan al die verkeerde inbeeldings ontworstel en tot die gevolgtrekking gekom dat God sy dienaars genadig is en getrou vir hulle sorg (Comm. Ps 73:1). Hierdie soort versoekings - wat werklik die eer van God aantas en geloof oorweldig - val nie net gewone mense, wat maar min ontsag vir God het, aan nie. Selfs Dawid, wat tog die voorreg gehad het van die besondere leiding van God, het sy deel daarvan geken (sibi quoque fuisse communes, CO 31, 675). Deur homself as voorbeeld te stel in die psalm, wil hy ons ernstig oproep om versigtig te wees sodat ons nie toegee aan die versoeking tot twyfel nie (Comm. Ps 73:20).

     

    10. GEVOLGTREKKING

    Calvyn se besinning oor twyfel in die geloofslewe, soos dit neerslag gevind het in talle van sy geskrifte, hou nie net vermaning nie, maar ook bemoediging in vir gelowiges wat dit in hulle lewe ervaar. Dit is een van die wrange vrugte van die sondeval, waarop die Bose hom ook toespits in sy aanslag op die koninkryk van God. Dikwels lei dit tot angs en geloofskonflik, soos wanneer iemand dit moeilik vind om gebeure in sy lewe en in die wêreld met die voorsienigheid van 'n almagtige God te rym. Dit gebeur ook wanneer ernstige gebede skynbaar onbeantwoord bly. Met hierdie soort twyfel het Calvyn diepe deernis gehad. Hy erken, trouens, sy eie worsteling daarmee. Maar dan is dit ook vir hom duidelik dat God nie twyfel by gelowiges wil hê nie.

    God wil dat gelowiges met alle mag teen sulke twyfel weerstand bied. Daarom is daar talle vermanende maar ook bemoedigende woorde hieroor in die Heilige Skrif. Dit kan en moet oorwin word deur geborgenheid in Christus, wat self - net soos ons - hierdie soort versoekinge geken het, en wie se Vader ook ons Vader is wat ons in die krag van die Heilige Gees dra deur die lewe.

     

    BIBLIOGRAFIE

    Ages. Vide Calvin J. 2000a.        [ Links ]

    Beza, T. 1998. The life of John Calvin. The Ages Digital Library: Books for the Ages. AGES Software, Version 1.0. Albany, OR USA        [ Links ]

    Borger, F. & POSTHUMUS, K. s.a.. Voorvechter en vreemdeling. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.elgadam.nl/calvijnopbezoek.html        [ Links ]

    Bouwsma. W.J . 1923. John Calvin: a sixteenth century portrait. New York: Oxford University Press.        [ Links ]

    Calvin, J. 1925ff. loannis Calvini Opera Selecta, ed. P Barth et al. (Munich: Kaiser). loannis Calvini opera quae supersunt omnia, ed. G. Braun, E Cunitz, and E. Reuss (Braunschweig 1863-1900) (= CR 29-87)        [ Links ]

    Calvin, J. 1988. Institusie van die Christelike Godsdiens 1559. (Vertaal deur H W Simpson). Potchefstroom: CJBF.        [ Links ]

    Calvin, J. 1996. Sermons on Galatians. Albany, OR: Ages Digital Library.        [ Links ]

    Calvin, J. 2000a. The John Calvin Collection. The Ages Digital Library: Books for the Ages. AGES Software: Albany, OR USA        [ Links ]

    Calvin, J. 2000b. Selected works of John Calvin. Tracts and letters. Edited by Henry Beveridge and Jules Bonnet. Volume 4-7. Letters. Rio, WI: Ages Digital Library.        [ Links ]

    Cottret, B. 2000. Calvin, A Biography. Translated by M. Wallace McDonald. Grand Rapids: Eerdmans.        [ Links ]

    Foxg Rover, D. 1988. The humanity of Christ: within proper limits. In: R. V. Schnucker (ed.), Calviniana Vol X. Ideas and Influence of Jean Calvin. (Kirksville: NMSU.) Pp. 93-105.        [ Links ]

    Henry, P. 1847. Het leven van Johannes Calvijn den grooten hervormer. Deel I. Rotterdam: Van der Meer.        [ Links ]

    Joubert, S. 2003. Dit kos guts om te bly glo. Wellington: Lux Verbi.BM.        [ Links ]

    Konig, A. 2002. God, waarom lyk die wereldso? Wellington: Lux Verbi.BM.        [ Links ]

    Lee, F.N. 1985. The Godly life of John Calvin. Brisbane. [Aanlyn.] Bekom van: http://www.dr-fnlee.org/docs4/tglojc/tglojc.pdf        [ Links ]

    McBride, L. 2009. John Calvin and doubt. In: Baker Book House Church Connection. [Aanlyn.] Bekom van: http://bbhchurchconnection.blogspot.com/2009/06/john-calvin-and-doubt_15.html        [ Links ]

    Mc Grath, A.E. 1995. The Christian Theology Reader. Oxford: Blackwell.        [ Links ]

    Muller, J. 2011. Om te mag twyfel. 'n Gelowige se reis. Kaapstad: Tafelberg.        [ Links ]

    Naude, P. 2002. Tussen weet-en-nie-weet-nie. in: P. Naude (red.). Die groot gebedeboek. (Wellington: Lux Verbi BM), pp. 36.        [ Links ]

    Potgieter, P.C. 2005. Johannes Calvyn oor gebedsverhoring. Acta Theologica 25/1, 50-68.        [ Links ]

    Selderhuis, H.J. 2009. The Calvin Handbook. Grand Rapids: Eerdmans.        [ Links ]

    Van Niekerk, A. 2005. Geloof sonder sekerhede. Besinning vir eietydse gelowiges. Wellington: Lux Verbi. BM.        [ Links ]

     

    Lys van afkortings

    CO. Vide Calvyn J. loannis Calvini opera quae supersunt omnia

    Comm. Commentary of Calvin

    CR. Corpus Reformat orum

     

     

    1 Vgl. Ps 73:2; Lk 24:38; Judas :22.
    2 Soos bv. doute, incertitude, inquietude, incertus, dubium, cura
    3 Daarom se Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?
    4 Siquidem istius certaminis semper hic finis est quod fides eas difficultates, quibus ita circumsessa videturpericlitari, tandem eluctatur (CO 2,413).
    5 Hoc a nobis fuit animadversum, Satanam nihil magis cupere quam ut rebus dubiis et suspensis aliqua in posterum turbandi occasio suppetat (CO 15, 40).
    6 Tam alte enim et radicitus haeret in cordibus nostris incredulitas, et ita ad eam sumus propensi, ut quod ore fatentur omnes, Deum esse fidelem, non absque arduo certamine quisquam sibi persuadeat, (CO 2,410).
    7 Once also I heard him say, "Thou, Lord, bruisest me, but I am abundantly satisfied, since it is thy hand" (Beza 1998:61).
    8 Du Tillet is in 1640 openlik terug na die RKK (Selderhuis 2009: 107, 158).
    9 Hierdie aanhaling in Lee se referaat kon ek nie elders kontroleer nie.
    10 CO 12,454
    11 Quil nous fault remectre beaucoup de solicitudes a la providence de Dieu, espérant quilproverra aux choses ou il ne nous apparoit nulle issue (CO 12,454).
    12 22 Oktober 1548
    13 Ainsi que vostre fragilité ne vous estonné point, voyans comme la vertu du S. Esprit besogne en vous, pour y secourir, et la dessus efforcez vous tant plus, ne doutant point que le Pere de misericorde aura en la fin pitié de vous pour donner allegement a voz oppressions (CO 17, 5).
    14 Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
    15 Or maintenant nous voyons quelle est la somme de ceste histoire: c'est en premier lieu que nous cognoissions que le Fils de Dieu, voire nostre Mediateur, s'est conioint à nous d'un lien tel, qu'il ne faut pas que nous doutions que tousiours nous ne soyons participans et de sa vie et de toutes ses richesses. Et cependant cognoissons aussi qu'il nous a apporté avec soy Jout ce qui estoit requis à nostre salut (CO 46,958).
    16 Or de nostre costé il faut que nous soyons résolus d'avoir esté enseignez de Dieu, et que c'est sa parole laquelle nous suivons (CO 50,344).
    17 Qui est cause d'une telle incertitude? C'est, pource qu'ils sont si mal exercez aux promesses de Dieu (CO 32,707).
    18 nimirum innuens, tantum hominis mentem spiritualiter sapere, quantum abs se illustrata fuerit (CO 2,202, Inst 2.2.20).
    19 nous ne doutions pas qu'il ne soit prest de nous exaucer en toutes nos oraisons (CO 32,654).
    20 Parquoy, Madame, afin de surmonter toutes difficultez appuyez vous sur l'asseurance qui vous est donnee d'enhaut, quand vous obeirez a ce que Dieu requiert (CO 19, 644v).