SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.31 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.31 n.1 Bloemfontein Jun. 2011

 

Basisteoretiese perspektiewe vir beoordeling van 'n kerklike psalmboek

 

Basic theoretical perspectives for evaluation of a hymn book

 

 

Van Rooy J.H.I; De Klerk B.JII

IDr. Jacoba H. van Rooy, Skool vir Kerkwetenskappe, Fakulteit Teologie, Potchefstroom Kampus, Noordwes-Universiteit, E-pos: Herrie.vanrooy@nwu.ac.za
IIProf. B.J. de Klerk, Skool vir Kerkwetenskappe, Fakulteit Teologie, Potchefstroom Kampus, Noordwes-Universiteit, E-pos: Ben.deklerk@nwu.ac.za

 

 


Trefwoorde: Psalmboek; Kommunikasiemedium; Liturgiese diens; Zervas.


ABSTRACT

In 2003 the Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (Reformed Churches in South Africa) introduced a new hymn book Psalmboek 2003 (Psalter 2003). For the evaluation of the use of this hymn book as communication medium in a liturgical service, six basic theoretical perspectives were formulated from Scripture, utilising the model of Zerfass (1974). This article discusses these perspectives and the Scriptural data they are based on. Three of them are related to functional aspects of the song, two with form and communication and one with the expansion of the Old Testament Psalter in the New Testament. These three aspects can be used for the evaluation of a hymn book, as well as individual hymns.

Keywords: Psalmbook; Communication medium; Liturgical service; Zervas.


 

 

1. INLEIDING

In 2003 het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika 'n nuwe liedboek, die Psalmboek 2003, in gebruik geneem. Vir die beoordeling van die gebruik van hierdie boek as kommunikasiemiddel in die erediens is dit nodig om, met die gebruikmaking van die model van Zerfass (1974), basisteoretiese perspektiewe uit die Skrif te formuleer. Na die bestudering van relevante Skrifgegewens is ses sulke perspektiewe geformuleer. Hierdie artikel gee 'n uiteensetting van die ses perspektiewe, met 'n bespreking van gegewens wat belangrik is vir die formulering van hierdie perspektiewe. Die vraag wat in hierdie artikel beantwoord gaan word, is wat die Skrif in die besonder leer oor die lied en die plek van die lied in die lewe van die gelowige gemeenskap in die Ou en Nuwe Testament. Die doel is om sodoende perspektief uit die Skrif te verkry van wat, waar en hoe gesing is en behoort gesing te word. Hierdie perspektiewe kan dan gebruik word in die beoordeling van 'n psalmboek, ook wat die kommunikatiewe aspek daarvan betref.

 

2. MUSIEK, EN DIE LIED IN BESONDER, HET IN DIE BYBEL DEURGAANS 'N BESONDERE PLEK IN DIE EREDIENS INGENEEM

In hierdie onderafdeling word aangetoon dat musiek, en die lied in die besonder, 'n besondere plek in die erediens ingeneem het, in sowel die Ou as Nuwe Testament. Vanaf die begin was die kultus verbind aan musiek, waarin die lofprysingshimne 'n belangrike funksie vervul het (Mowinckel 1962:90). Dit het 'n bepaalde plek in die erediens beklee en die psalmdigters het 'n bepaalde styl gevolg wat by die kultiese plegtighede aangepas het. Reeds so vroeg soos die regeringstyd van Dawid het heelwat psalms ontstaan, wat 'n besondere plek in die kultus van Israel verkry het (Ridderbos 1962:15). In die psalms word gesing hoe God naby diegene is wat sy Naam aanroep en aan Hom gehoorsaam is (Nehemia 9; Vrijlandt 1987:2-13).

Volgens 2 Samuel 6 het Dawid die ark na Jerusalem gebring. Sy seun, Salomo, bou ongeveer 940 vC 'n tempel (1 Konings 6-9). Die tempel word die sentrale plek vir die openbare erediens en het dit gebly tot 587 vC toe Nebukadneser van Babel dit verwoes het. Hierdeur is die kultus gesentraliseer en in hierdie gesentraliseerde kultus het musiek 'n besondere rol gespeel. Dit blyk byvoorbeeld uit die plek van sangers in die kultus. Die skrywer van Kronieke plaas hulle eerste in die rang onder die groep wat bekend staan as die Leviete. Binne die kultiese organisasie is aan die Levitiese sangers en musici 'n gewigtige rol toegeken. In die lied het God sy wil aan sy volk, Israel, bekend gemaak waarvoor hulle Hom geloof en gedank het (1 Kronieke 25; Thompson 1994:177). In Esra, Nehemia en Kronieke word beskryf dat die verantwoordelikheid van die liturgiese vormgewing en uitvoering by die professionele groepe, soos die Levitiese sangers en die nasate van Asaf, Heman en Jedutun, gelê het (vergelyk byvoorbeeld 1 Kronieke 23-25; Esra 6:20; Nehemia 7:1). Met die oog op hul taak het hierdie groepe deeglike skoling ontvang, alhoewel dit nie duidelik is wat dié skoling presies behels het nie (1 Kronieke 25:7-8; Thompson 1994:178). Sang het dus 'n besondere plek in die tempel ingeneem (Muddiman, 2001:249).

Mettertyd het die gebruik van die psalms in die kultus verander. Aanvanklik was die feeste veral aan die natuur verbind en het die musiek bykans 'n magiese karakter aangeneem, soos die feeste self. Wanneer die feeste egter wys op wat God in die geskiedenis gedoen het, word die liedere verhalend en spreek dit van die groot dade van God (Westermeyer 1998:11).

In die periode na die ballingskap ondergaan kultiese sang en ander musiek 'n reusagtige ontwikkeling. Sang en spel vorm in 'n sekere sin die binding van die kultusgemeenskap in die periode van heropbou van land, stad en tempel. Nehemia en Esra bestee na die terugkeer uit die ballingskap ongewoon baie tyd aan die instelling en organisasie van die kultiese musiek (Schelling 1989:29-30), soos byvoorbeeld gesien kan word in Nehemia 10:17.

In die latere Judaïsme is psalms in die tempelaanbidding gebruik. Psalm 28, 48, 82, 94, 93 en 92 - die laaste se opskrif: "vir die Sabbatdag" - is elke oggend van die week deur die Leviete gesing. Die Hallel-psalms, Psalm 113-118, is tydens die Pasga en ander groot feeste gesing (vergelyk ook Matteus 26:30). Psalms is waarskynlik in 'n later stadium in die sinagoge gesing as reaksie op en nadenke oor die Skriflesing (Box 1996:4).

Psalms het steeds 'n plek in die sinagogale erediens gehad ná die verwoesting van die tempel. Na die ballingskap (587-539 vC) het die sinagoge ontstaan as 'n vergaderplek van Israel. Die sinagoge was nie die plek van offerandes nie, maar van die Skrif. Eredienste het veral gesentreer om Tora-onderrig en gebed. Elke Sabbat en vasdag het hulle saamgekom. Die liturgie van die sinagogesamekomste was: openingsgebede, met later die agtiengebed (sjemoné esjré), die deurlopende lees van perikope uit die Tora en die deurlopende sing van psalms en die lees van 'n bypassende gedeelte uit die Profete (haftora; Vrijland 1987:16). Die feit dat die psalms in die liturgie gebruik is en die meerderheid daarvan met die oog op die liturgie geskryf is, is duidelik. Psalm 136 kan in hierdie geval as voorbeeld gebruik word. In die gedig is die verhale uit die heilsgeskiedenis (skepping, uittog, intog) in 'n skitterende liturgiese gestalte gegiet waarna 'n vaste vertroue geopenbaar word met die refrein: "Aan sy liefde is daar geen einde nie" (Schelling 1989:22).

Die lees van die Tora met deurlopende psalmgesang dui daarop dat die twee elemente hand aan hand beweeg. Beide het die verkondigingskrag van woord en antwoord. Teenswoordig word sang, lees en voordrag van mekaar losgemaak, maar in die tempel en sinagoge is groot gedeeltes van die erediens op verhoogde toon voorgedra.

Ook in die Nuwe Testament blyk dit dat die Psalms 'n belangrike rol in die lewe van die mense en die erediens gespeel het. Barnard (2000:215) sê die boek van die Psalms leef in die Nuwe Testament. Om hierdie stelling te motiveer verwys hy na meer as 200 aanhalings van psalms in die Nuwe Testament. Reeds in die Bybelse tyd kan gesien word hoe mense in tye van benoudheid na psalms gryp. Jesus sing in die Paasnag, net voor sy kruisdood, Psalm 113-118. Na die hemelvaart van Jesus het psalms vir die Christelike Kerk nuwe betekenis gekry. Die Vroeë Kerk het die Psalmbundel soos in die Septuagint as liedboek gebruik (Viljoen 1990:7). Die gelowiges uit die Jodedom het uiteraard die kontinuïteit met die liedere wat hulle geken het, behou (vergelyk Viljoen 1990:68). Die kruisiging en opstanding is gesien as die vervulling van Moses, die profete en die Psalms (Lukas 24:44; Bock 1994:387-388). In die lig van die Paasgebeure is die psalms geherinterpreteer en aan Christus verbind. Die sogenaamde messiaanse psalms is geïnterpreteer as profesieë wat in Jesus vervul is (Box 1996:5).

Dit is van vroeg af duidelik dat die lied 'n rol gespeel het in die erediens van die Vroeë Kerk, waar dit ten doel gehad het om by te dra tot die gemeenskaplike aanbidding en versterking in die geloof. Benewens die rol wat die psalms gespeel het, het talle himnes 'n belydeniskarakter en talle belydenisse 'n himniese karakter. Hiervan is die Christus-himne in Kolossense 1:15-20 'n goeie voorbeeld. Die lied beskryf die kosmologiese rol van Christus. Die strategiese wyse waarop Paulus die himne gebruik, kan as voorbeeld dien vir die gebruik van liedere in die erediens van vandag (Viljoen 2001:11-12). Benewens die liedere wat uit die Ou Testament oorgeneem is, het die Nuwe Testamentiese lied, die sogenaamde "nuwe lied" in die oer-Christelike kerk ontstaan, soos gelees kan word in die Openbaring van Johannes en die Briewe van Paulus. Opmerklik is die baie aanhalings uit die "liedere van die eerste kerk" in styl en segswyse, wat ten nouste aansluit by die beelde en woordeskat van die Psalms en Profete. Die liedere het die heil verkondig en was só 'n belydenis van dit wat verkondig is en wat in die sakramente beseël is (De Sutter 1978:237). Sagaria, Elisabet en Maria het die koms van die Messias singend aangekondig, en so ook die engele in Lukas 2:14. Terwyl Paulus en Silas in die gevangenis gebid en gesing het, het die blokke van hul bene afgeval en die seldeure oopgegaan (Handelinge 16:5-27). Na die uitstorting van die Heilige Gees was die nuwe gemeenskap singend byeen. Ook daarna, op ontelbare momente in die geskiedenis, blyk die singende gemeente die oorwinnende gemeente te wees. Lied en spel gee aan die Messiaanse gemeenskap krag vir vandag en hoop vir môre.

Die gegewens dui dus daarop dat die lied en musiek in die algemeen deur die geskiedenis van die Ou Testament 'n belangrike rol in die kultus gespeel het en bied so die grondslag waarop die plek van die lied in die erediens vandag beoordeel moet word. Ook in die Nuwe Testament is dit duidelik dat die lied in die gemeenskap en die lied in die erediens nie agterweë gebly het nie.

 

3. DIE PSALMS HET IN DIE BYBEL EN DIE TYD VAN DIE BYBEL 'N GROOT INVLOED OP DIE LITURGIE EN DIE GELOOF GEHAD

In oomblikke van krisis kan 'n bepaalde lied of psalm vir iemand van onskatbare waarde wees, hetsy deur die woorde, die melodie, deur herinnering of met die oog op die toekoms (Schelling 1989:88). Die godsdienstige belewing van die Israeliete was nie beperk tot die erediens nie, maar dit het hulle totale bestaan omvat. Dit is oral en in alle omstandighede en situasies uitgevoer. Die "ek" van die psalms en die liturgie was nie individualisties bedoel nie, maar het gedui op die volk Israel wat een van siel is. Psalm 103:1 is hier van toepassing: "Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof." Sangers en profete verwoord nie alleen hul eie persoonlike gevoelens nie; hulle is voorgangers van die volk met die opbou van die volk as doel. Hoe die persoonlike saamhang met die gemeenskaplike, is duidelik in die oorgang in die slot van Psalm 25, in vers 21-22: "Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. O God, red Israel uit al sy nood" (Vrijland 1987:23-24).

In 'n wyer sin kan alle psalms verbind word aan die verbond, hoewel dit nie noodwendig verbind hoef te word met 'n bepaalde verbondsfees wat die psalms as antwoord moontlik maak nie. Omdat die verbond in 'n mindere of meerdere mate alle aspekte van die Hebreërs se lewenspatroon beheers het, is daar haas geen lewensaspek wat nie in die psalms aangeraak word nie. Dit kan verbind word met nasionale gebeurtenisse soos bekroningsgeleenthede (Psalm 2), 'n intens persoonlike gebed reflekteer (Psalm 3), lof aan God oor 'n donderstorm (Psalm 29), die wonder van God se skepping besing (Psalm 104), aan 'n bepaalde fees (Psalm 118) of met enige private of openbare lewensituasie. Hierdie wye spektrum van ervarings met God, bevat "populêre teologie"; dus nie abstrakte en filosofiese teologie wat beperk is tot die intelligentsia nie maar spreek van 'n teologie of kennis van God wat ontstaan uit 'n lewenstyl in 'n verhouding met God (Craigie 1983:40).

Vos (2005:19) beskou die Psalms as 'n lewensboek wat die gelowige dwarsdeur sy lewe begelei. Dieselfde is waar van die Ou-Testamentiese gemeenskap. Die invloed wat psalms op die liturgie in die Ou Testament en op die Joodse en Christelike geloof gehad het, was groot. Dit het die lewens van die mensheid dwarsdeur die eeue aangeraak en die wysheid wat daaruit spreek, word as 'n lewensgids beskou.

Bybelse liedere is uitdrukkingsvorms van ervaring en ervaringsvelde. Jode en Christene het telkens hul eie verhaal in die psalms herken. Die sing van psalms gee die hart geleentheid om uiting te gee aan sy gevoel en dit met ander te deel sodat wonde geheel kan word. Dit laat ruimte vir die eie ervaring, hoe mooi of lelik dit ook mag wees. Die Psalmbundel is by uitstek die Bybelboek waarin hierdie verskeidenheid na vore kom (Schelling 1989:80). Poëties het die psalms diep gevoelde emosies vertolk, wat beheersd en gekontroleerd was. Die digkuns van die psalmdigters dra 'n intellektuele karakter wat kunstig opgebou is deur herhaling en parallelisme, wat oorspronklik, met goeie variasie aangewend is en vir die erediens bestem is. Die digters moet beskou word as vertolkers van wat in die harte van die gemeenskap (volk) leef en wat sterk persoonlike geloofservarings bewoord en die antwoord is op die geloof van die Godsopenbaring (Ridderbos 1962:46).

Barnard (2000:215) sê die psalms leef in die Nuwe Testament. Hiervoor verwys hy na die meer as 200 aanhalings van psalms in die Nuwe Testament. Reeds in die Bybelse tyd kan gesien word hoe mense in tye van benoudheid na die psalms gryp. Jesus sing in die Paasnag, net voor sy kruisdood, Psalm 113-118. Later aan die kruis, as Hy tot die uiterste deur mense gespot word en almal, selfs sy hemelse Vader, Hom verlaat het, put Hy sy laaste hoop uit die woorde van die psalmdigters, wanneer Hy aanhaal uit Psalm 22;2, 31:5, 42:2-3, 63:2 en 69:2 (Schelling 1989:79-80).

Dit is dus duidelik dat die psalms in die Ou en Nuwe Testament in die liturgie en in die persoonlike lewens van gelowiges 'n besondere rol gespeel het.

 

4. DIE LIED HET IN DIE BYBELSE TYD 'N BESON-DERE PLEK GEHAD IN DIE ONDERRIG EN OPBOU VAN DIE VOLK VAN GOD

Musiek en sy funksies hoort tuis in die leerproses wat God se volk moet ondergaan. Liedere kan 'n verskeidenheid funksies vervul: as gebed, in aanbidding, in geloofsversterking. Deur die liedere het die gelowiges in die Nuwe Testament mekaar aangespreek, om mekaar op te bou, te onderrig en aan te moedig. Die liedere is in die kerk gebruik om belangrike sake van die kerklike leer aan die orde te stel, waardeur die gemeente voorberei is vir die Woord en sakramente. So hou liturgiese sang verband met God se openbaring, wat die grond en oorsaak van die sang is, en waarin die gemeente daarop antwoord gee. Die Bybel kon steeds óf as Skrif óf as lied in die erediens aan die orde kom. Daarom moet die Bybel ook by uitstek die bron wees van die Christelike kerksang.

Die tempel (en later die sinagoge) was by uitstek die plek waar die Israeliet gevorm is. Daar het hulle die verhaal van God met mense gehoor, van die blye boodskap en die geleentheid gekry om hulself uit te druk. Telkens, en op verskeie plekke, het Israel weë gesoek om deur sang die verhaal van God in die hart van die mens en die hart van die wêreld te laat tuiskom (vergelyk Schelling 1989:24-25). So het musiek in die Ou en Nuwe Testament 'n besondere rol gespeel.

In Israel en die Christelike gemeente was musiek wesenlik by die oorgang van krisis na vernuwing. Tydens momente van geestelike vernuwing en opwekking vervul musiek 'n belangrike funksie (Schelling 1989:30). Daar gaan krag van die musiek uit wat broodnodig is vir die opbouproses. Israel het baie jare onder die wrede hande van die Farao gely. Die krisis waarin Israel verkeer het, vind sy hoogtepunt tydens die krisistog deur die doodswater (Eksodus 13:17-14:31). Hierin kom veral die roete van die uittog en die leiding deur die Here aan die orde, opgevolg deur drie gedeeltes wat handel oor die verlossing van die volk en die verheerliking van God (Durham 1987:184). Sodra die Israeliete die oorkant bereik het, sing Moses 'n oorwinningslied en stel Miriam dansend aan die woord. 'n Nuwe tyd het aangebreek. Musiek en sy funksies hoort tuis in die leerproses wat God se volk moet ondergaan. (Schelling 1989:28-29). As koning Josia die Pasga opnuut instel, lui hy daarmee 'n nuwe tydvak in: Israel wil weer 'n bevrydingsvolk wees. Hierdie ommekeer word omlyn en gedra deur sang en musiek (2 Kronieke 35).

In die periode na die ballingskap ondergaan kultiese sang en musiek 'n reusagtige ontwikkeling. Dit vorm in 'n sekere sin die binding van die kultusgemeenskap in die periode van heropbou van land, stad en tempel. Nehemia en Esra bestee na die terugkeer uit die ballingskap ongewoon baie tyd aan die instelling en organisasie van die kultiese musiek (Schelling 1989:29-30).

In die geskrifte word onder meer die digterlike en wysheidsboeke aangetref. Die samestelling van die Ou Testament wys dat in die openbaring van God nie net aan die historiese, die wettiese en die profetiese aandag gee word nie, maar die klem val sterk op wat God gedoen het, wat Hy beveel het en hoe Hy die volk vermaan en aangespoor het. In hierdie genre word aandag gegee aan die mens se reaksie op die openbaring van God (Craigie 1983:42). In die eenheid van woord en lied kom die saak van die opbou van die volk van God aan die orde, soos blyk uit Die Lied van Moses (Deuteronomium 32) wat onderrigtend van aard is. Dit kan beskou word as 'n voorbeeld van wysheidsliteratuur (Craigie, 1983:25). Brueggemann (2001:277) beskryf dit as 'n belangrike uitspraak oor die verbondsteologie, wat aan die einde die verbintenis van die Here aan Israel bevestig, ten spyte van hul ontrou. Thiessen (2004:414-415) oordeel dat die lied liturgies van aard is en geskryf is om liturgies aangewend te word. Alhoewel die lied liturgies aangewend kon word, is die onderrigaspek op die voorgrond, juis omdat die lied beklemtoon wat die gevolge van verbondsontrou sou wees.

Vos (2005) onderskei 'n groep psalms wat hy die Tora-psalms noem. Dit fokus op die wet as bron van onderwys en onderrig. Voorbeelde hiervan is Psalm 1, 19 en 119 (Vos 2005:92). In sulke liedere het die onderrig van die volk 'n besondere klem ontvang.

Paulus het mense in sy briewe tot lofprysing opgewek. Aangesien hierdie briewe bedoel is as stimulus by en wegwyser vir die opbou van die jong gemeentes in die eerste eeu, blyk dit dat die loflied en -musiek in die groeiproses van die gemeente onmisbaar was (Schelling 1989:27). Deur liedere het die gelowiges mekaar aangespreek om mekaar op te bou, te onderrig en aan te moedig met die sing van psalms, gesange en geestelike liedere (Kolossense 3:16; Lincoln 1990:345; Dunn 1996:237; Miller 1994:65-66;). Dit is 'n belangrike funksie van die lied in die kerk deur die eeue. Die liedere in die kerk kan ook gebruik word om belangrike sake van die kerklike leer aan die orde te stel, waardeur die gemeente voorberei kan word vir die Woord en sakramente (Wall 1993:151).

Dit is dus duidelik dat die liedere in die Bybel 'n dubbele gerigtheid gehad het. Aan die een kant was hulle gerig op God, om Hom te loof en dank, maar ook om tot Hom te bid. Aan die ander kant het die liedere ook 'n boodskap gehad vir diegene wat hulle gesing het, naamlik om hulle te leer en in die geloof op te bou.

 

5. IN DIE NUWE TESTAMENT WORD LIEDERE AANGETREF WAT DIEN AS AANVULLING BY DIE OU-TESTAMENTIESE LIEDERE

Die Nuwe Testament het nie bloot stilgestaan by die Ou-Testamentiese liedere nie, maar het nuwe liedere in aanvulling by dié van die Ou Testament geskep. Die kerk hoef dus nie net uit die psalms te put vir liedere vir kerklike gebruik nie. In die Bybel kom baie liedere buite die boek van die Psalms voor, in sowel die Ou as die Nuwe Testament. Hierdie liedere kan ook in die kerk aan die orde kom.

Hoewel die Nuwe Testament nie 'n aparte versameling van liedere het nie, is die gegewens van die Nuwe Testament in verband met die liedere wat gesing en gebruik is, van besondere belang. Veral twee sake val op, naamlik die gebruik van Ou-Testamentiese liedere, waarvan die psalms 'n belangrike deel in die Vroeë Kerk beslaan het en die skepping van nuwe liedere, waarin veral die werk van Christus 'n besondere plek inneem. Viljoen (1990:76-77) wys op die invloed van die sang in die sinagoge, waar liedere by elke geleentheid gesing is, met 'n belangrike plek vir die psalms in die erediens. Die Ou-Testamentiese liedere is deur die kerk as sy eie psalmboek gebruik (Barnard 2000:216). Die liedere wat in die Nuwe Testament deur die kerk geskep is, het wat vorm betref, by die vorms van die psalms aangesluit. Die kerk het nie net psalms gesing nie, maar ook ander Ou-Testamentiese liedere. Nuwe liedere is geskryf in die lig van God se openbaring.

Efesiërs 5:19 en 1 Korintiërs 14:26 verwys na nuwe liedere wat deur die kerk gesing is. Die vraag is wel of die psalm of himne in 1 Korintiërs 14:26 na spontane liedere verwys, soos beredeneer deur Vrijlandt (1987:35), en of dit nie na bestaande of vooraf gekomponeerde liedere verwys nie. Thiselton (2000:1134) wil hierop nie 'n finale antwoord gee nie, maar laat die twee moontlikhede oop. Viljoen (1990:243) het 'n studie gemaak van die drie woorde (psalms, himnes en geestelike liedere) in Kolossense 3:16 en Efesiërs 5:19 waarin hy tot die gevolgtrekking kom dat die woorde nie net na Ou-Testamentiese liedere verwys nie maar ook na nuwe liedere. Bastiaanse (1999:321) stel dat daar konsensus bestaan dat Paulus nie met hierdie drie benamings drie verskillende soorte liedere aandui nie, maar dat hy eerder daardeur die gelowiges wou oproep tot 'n ryk gebedslewe. Muddiman (2001:248-249) wil wel die ander moontlikheid oophou. Die psalms mag die psalms van Dawid wees, maar ook ander psalms uit 'n later tyd, soos die psalms van Salomo. Himne mag bloot 'n sinoniem wees, of dalk iets soos die lied in Efesiërs 1:3-10. Vir geestelike liedere verwys hy na Openbaring, waar hierdie benaming onder meer gebruik word vir kort refreine.

Sekere terme het van vroeg af in die kerk tydens die liturgie 'n besondere plek ingeneem. Dit is veral die terme Gloria, Sanctus en Agnus Dei. Die gloria verwoord die seën van God. Om God se heerlikheid te besing vorm die hart van die liturgie in die tempel en sinagoge en van elke persoon se gebed. Die lofprysing wat vir die Vader geld, geld ook vir Christus (Openbaring 4:11). Die sanctus kom reeds uit Jesaja, waar die engele mekaar voor God se troon toeroep: "Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid" (Jesaja 6:3). Johannes het die sanctus in Openbaring oorgeneem in die hemelse liturgie uitgespreek deur vier lewende wesens (Openbaring 4:8) "Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, Hy wat was en wat is en wat kom." Johannes die Doper kondig die Messias aan met: "Daar is die Lam van God (Agnus Dei) wat die sonde van die wêreld wegneem!", toe hy Jesus sien aankom (Johannes 1:29; vergelyk Handelinge 8 met Jesaja 53). Hierdie Lam speel ook 'n belangrike rol in die Openbaring van Johannes. So kom sanctus, benedictus en Agnus Dei oorspronklik uit die Ou Testament en word die terme in die Nuwe Testament Christologies gevul. Die gemeente kan hierdie woorde sing wanneer hulle die teenwoordigheid van Christus deur die Gees ervaar by die gemeenskap van brood en wyn (Vrijlandt 1989:27-28). Sekere Joods-Christelike fragmente en uitroepe het in die Nuwe Testament behoue gebly, soos halleluja, amen, Abba, hosanna en Maranata (Viljoen 2001:9).

In die Nuwe-Testamentiese liedere wat op die werk van Christus fokus, kom Christologie, ekklesiologie en eskatologie aan die orde (Westermeyer 1998:51). In dié liedere kom spanning telkens na vore. Christus is reeds aan die regterhand van God, maar vrede op aarde moet nog ten volle kom. Christus regeer reeds, maar die gelowiges is nog nie in die nuwe bedeling nie. Daar is dus 'n spanning tussen die "reeds" en die "nog nie" (Westermeyer 1998:55).

Nuwe-Testamentiese liedere is deur die kerk self geskep en is opgebou volgens die Griekse patroon (Viljoen 1990:7). Baie bekend is die lofsange van Maria, Sagaria en Simeon (Lukas 1 en 2). Hierdie drie liedere is indringend bestudeer deur Lindhout (1987) en Song (1999). In hierdie drie liedere word die verlossingswerk van die Drieënige God in die besonder beklemtoon en word vooruitgekyk na die voltooiing van God se verlossingsplan met die wederkoms van Jesus Christus (Song 1999:100 en 107).

Die lofsang van Maria toon byvoorbeeld ook baie ooreenkomste met die lied van Hanna in 1 Samuel 2:1-10 (Vrijlandt 1987:35). Lindhout is daarvan oortuig dat Maria die lied van Hanna moes geken het (1987:120). Vrijlandt oordeel dat die liedere gedig is in die styl van die Ou-Testamentiese psalms, met 'n Christelike toepassing. Die Christelike gemeente het sy eie liedere gesing, maar het ook liedere van die Israelitiese erediens oorgeneem (Van der Leeuw & Bernet Kempers 1939:31; Vrijlandt1987:35). Dit is waarskynlik die beste om te oordeel dat die vroeë Nuwe-Testamentiese liedere, soos die bekende lofsange hierbo genoem, van Joods-Christelike oorsprong is en dus logieserwys aangesluit het by die Ou-Testamentiese liedere, terwyl liedere afkomstig uit die Griekssprekende gedeelte van die kerk by die Griekse styl aangesluit het (vgl. Viljoen 1990:7). Die Griekse styl het aangesluit by die matematies-akoestiese musiekleer van Pythagoras en het uitgegaan van 'n oktaaf wat bestaan uit twee groepe van vier tone (Kloppenburg 1963:26-29). Lindhout (1987:104) toon aan dat dit baie algemeen is om die drie liedere van Lukas as psalms te karakteriseer. Hy bestempel hierdie lied van Maria as 'n loflied (1987:113). Die lofsang van die priester Sagaria word aangehef met die geboorte van Johannes die Doper (De Sutter 1978:39). Nunc dimittis servum tuum, Domine (Laat nou U dienskneg gaan, Here) is deur Simeon aangehef is, toe hy die Kind, Jesus, by die tempel aantref het hy Hom in sy arms geneem sodat "die gebruiklike bepaling van die wet" nagekom kan word. Dit bestaan uit twee dele: Die vreugdevolle erkenning van die belofte wat vervul is en die profetiese visioen van die universele heil wat soos 'n lig sal skyn (De Sutter 1978: 43). Vir Lindhout (1987:148) is die lied 'n profetiese getuienis, waarin God geloof word vir die verlossing wat in Christus aangebreek het (1987:209). Dit bied 'n raamwerk vir die verstaan van die werk van Christus (Song 1999:74). Hy het gekom as die Messias wat God se beloftes bevestig het (Song 1999:80).

Ander himnes wat in die Nuwe Testament voorkom (vergelyk Vrijlandt 1987) is Efesiërs 5:14 onder andere bekend. Hierdie lied was waarskynlik 'n vroeg-Christelike lied, wat moontlik aan die doop verbind was. In die huidige konteks het dit egter 'n etiese betekenis, waardeur die gelowiges opgeroep word tot 'n heilige lewe (vergelyk Muddiman 2001:243). Die gelowiges moet steeds uit die geestelike dood opstaan om in die lig van die nuwe lewe te leef (Lincoln 1990:332. In 1 Timoteus 3:16 is 'n himniese beskrywing van die werk van Christus (Van der Leeuw & Bernet Kempers 1939:32). Mounce (2000:212-218) bied 'n goeie oorsig van die navorsing oor hierdie lied. Wat veral van belang is, is dat die lied eers die werk van Christus beskryf - sy menswording, opstanding en hemelvaart. Hieruit vloei die roeping van die kerk voort om die Evangelie te verkondig, sodat mense sal glo en Christus alle eer sal ontvang (Mounce 2000:231). Filippense 2:6-11 is 'n goeie voorbeeld van 'n vroeg-Christelike lied (Van der Leeuw & Bernet Kempers 1939:33; Hawthorne 1983:76) wat handel oor 'n verband tussen gehoorsaamheid aan Christus en die gelowige wat 'n pad van ootmoed, nederigheid en gehoorsaamheid insluit. Die gelowige moet in Christus glo (wat Homself verneder het en deur God verhoog is), dan sal hy/sy die krag ontvang om God se opdragte te gehoorsaam. Dié himne is uitnemend geskik vir kerklike sang (Viljoen 2001:10-11). Dit is ook 'n himniese beskrywing van die werk van Christus. Die himne loop uit in die vorm van 'n antieke uitroep: "Jesus Christus is die Here!" (Van der Leeuw & Bernet Kempers 1939:33).

'n Vraag wat gevra kan word, is of die Heilige Gees pertinent in die liedere van die Nuwe Testament aan die orde kom. De Klerk (2004) het 'n belangrike artikel geskryf waarin hy in die besonder aandag gee aan die saak van liedere oor die Heilige Gees. Hy kom tot die gevolgtrekking dat daar 'n behoefte is aan Skrifberymings oor die persoon en werk van die Heilige Gees (De Klerk 2004:213). Daar is ook sekere fasette van die werk van die Heilige Gees waar nuwe Skrifberymings leemtes sou ondervang. Hy verwys na 'n aantal Skrifgedeeltes wat hiervoor geskik sou wees (2004:214). Wanneer die liedere of fragmente van liedere in die Nuwe Testament ontleed word, word daar net in een na die Heilige Gees verwys. Dit is in 1 Timoteus 3:16, wat 'n belydenis oor Christus uitspreek en waar genoem word dat die Heilige Gees bevestig het dat die reg aan sy kant is. In al die ander liedere gaan dit in die besonder oor Christus, of oor God (soos in sommige van die himnes in Openbaring). Hoewel daar dus 'n behoefte kan wees aan meer Skrifberymings wat oor die persoon en werk van die Heilige Gees handel, het die Gees en sy werk nie in die liedere wat in die Nuwe Testament oorgelewer is, 'n besondere plek ingeneem nie.

Viljoen (2003:216) wys daarop dat daar agt himnes in die boek van die Openbaring onderskei kan word, naamlik in 4:8-11, 5:9-13, 7:10-12, 11:15-18, 12:10-12, 15:3-4, 16:5-7 en 19:1-8. In die liedere word die alleenheerskappy van God sterk beklemtoon asook van Christus, onder andere as die Messias en die Lam van God (Viljoen 2003:232). Die Hellenistiese invloed is ook duidelik in die lofsange van die boek van die Openbaring te bespeur. Dit word in die hemel aangehef, hoewel dit 'n getroue weergawe van die sang in 'n Joodse erediens is, veral 'n Nuwejaarsfees. Die Jodedom wat hier aangetref word, is Diaspora-Jodendom (Griekssprekende Jode), selfs in hul erediens. Hieruit blyk die Griekse en Joodse invloed duidelik in die ontstaan van die Christelike kerklied (Van der Leeuw & Bernet Kempers 1939:34). As aanvaar word dat Openbaring die laaste geskrewe Nuwe-Testamentiese boek in die Bybel is (ongeveer 95 nC), kon hierdie himnes ontstaan het in die periode 50-100 nC. Sommige himnes het in die gemeente self ontstaan, hoewel dit ook moontlik is dat sommiges van voor-Christelike oorsprong is. Daar word vermoed dat dit met die Christus-himne in Filippense 2 die geval is. Dieselfde sou ook gesê kon word van die Melgisedek-himne in Hebreërs 7:3 (Vrijlandt 1987:37-38).

Daar is dus ruim gegewens wat daarop dui dat daar in die tyd van die Nuwe Testament van nuwe liedere in die liturgie gebruik gemaak is as aanvulling by die Ou-Testamentiese psalms. Die nuwe liedere het in die besonder op Christus gefokus, alhoewel die werk van die Heilige Gees ook aandag gekry het.

 

6. DIE VORM WAARIN DIE LIEDERE GESKRYF IS, HET VERBAND GEHOU MET DIE LEWENSITUASIE WAARUIT DIE LIED ONTSTAAN HET OM SO DIE EMOSIE VAN DIE DIGTER TE VERWOORD

Die vorm waarin die liedere in die Bybel geskryf is, was nie arbitrêr nie, maar dit word deur digterlike skoonheid gekenmerk, met al die tipiese eienskappe van goeie poësie. Die emosies van die digter word nie onbeheersd verwoord nie, maar op 'n kunstige wyse tot uitdrukking gebring, waar sekere vaste patrone dikwels gebruik is om bepaalde emosies te verwoord. Psalms byvoorbeeld, is poëtiese komposisies waarvan sommige mondelings gekomponeer is en ander skriftelik. Die volledige bundel kan beskou word as 'n bloemlesing, 'n samevatting van godsdienstige poësie (Box 1996:3). Die komposisies is van meer literêre aard. Vir die verstaan van die Psalms is insig in die Hebreeuse poësie noodsaaklik. Daar is twee hoofvorme wat die Hebreeuse poësie kenmerk, naamlik metrum (ritme) en parallelisme. Strofes kom wel ook voor, maar dit is 'n geleentheidsvorm wat tegnies van aard is (Craigie 1983:35; Eaton 2003:15-16).

Dit is onmoontlik om hier 'n oorsig te gee oor die navorsing wat oor die vorms van die liedere in die Bybel gedoen is. Hier sal slegs enkele flitse gegee word om aan te dui hoe belangrik die saak van die vorms van die liedere is, en die moontlike verband tussen die vorms en die oorspronklike konteks van die liedere.

In die navorsing oor die psalms is 'n verbinding gemaak tussen die oorspronklike konteks en sekere vaste vorms wat met die verloop van tyd ontwikkel het. Dit is van besondere belang vir die kerklied, omdat die verskeidenheid van vorms en situasies 'n verwysingsraamwerk bied vir die beoordeling van die verskeidenheid van liedere wat in die kerk gesing word. Gunkel het die vormkritiese benadering gevolg. Hiervolgens het die meeste psalms hul ontstaan uit die tempelliturgie (kultus) gekry, wat later losgemaak is van die liturgie. Hy grond sy benadering op die feit dat psalms in genres (Gattungen) gerangskik kan word en in groepe ingedeel kan word wat gebaseer is op ooreenkomstige vorms en elemente. Dit het die weg gebaan om psalms volgens literêre genres te klassifiseer en het die belang van die algemene Sitz im Leben des Volkes waaruit die verskillende komposisies voorspruit en die verskillende kategorieë waaruit psalms vereenselwig word, raakgesien (Gunkel & Bergrich 1966:10). Gunkel onderskei die volgende groepe: klaagliedere vir die enkeling en groepe, lofpsalms, dankpsalms, wysheidspsalms, wraakpsalms, psalms van vertroue en koningspsalms. Voor Gunkel is gepoog om psalms volgens hul inhoud in te deel, terwyl hy met die idee gekom het om psalms volgens formele eienskappe te katalogiseer. Sy benadering het gevolglik 'n nuwe tydvak in die bestudering van die psalms ingelei (vergelyk Crenshaw 2001:80).

Om psalms vanuit 'n kultiese hoek te rekonstrueer, was die benadering wat Mowinckel gevolg het (Vos 2005:24). Volgens hierdie teorie val die klem op die nasporing van die eienskappe van verskillende feeste en rituele - die Sitz im Kult-benadering. Mowinckel het sekere gevolgtrekkings oor verskillende feesgeleenthede gemaak, byvoorbeeld by die troonbestygingsfees val die klem op "Jahweh is Koning", soos in Psalms 93, 97 en 99.

Human (1998:243) wys daarop dat die presiese oorspronklike situasie van die meeste psalms moeilik bepaalbaar is. Tog bly dit van die grootste belang om die oorspronklike situasie van die psalms in die lewe en in die kultus te probeer bepaal, anders kan die historiese wortels van die psalms heeltemal uit die oog verloor word (vergelyk Human 1998:255-256).

Vos (2005:31) wys verder daarop dat 'n gedig drie komponente het, naamlik struktuur, tekstuur en vorm of postuur. Die struktuur het te doen met die wyse waarop die gedig gevorm is. Dit is juis hierdie deel wat vir die huidige bespreking van belang is. Die tekstuur hou verband met die taal van die gedig en die vorm of postuur met sake soos metafore. Vos volg die historiese, literêre en reseptiewe benadering. Vanuit 'n literêre oogpunt kan die unieke wese van elke psalm ontleed word en is dit belangrik om die genre te klassifiseer. Elke genre gebruik bepaalde tekstuele strategieë om betekenis aan die leser of luisteraar oor te dra. Vos beskou psalms as poëtiese materiaal waarin nie altyd net 'n suiwer genre voorkom nie, maar waar soms 'n mengsel van genres in 'n poëtiese komposisie geïdentifiseer kan word. As voorbeeld toon Vos aan dat 'n klaaglied ook elemente van lofprysing kan bevat (vergelyk Psalm 13 en 39 om hierdie feit te staaf). Waarvan Vos hier nie kennis geneem het nie, is dat klaagliedere tipies juis ook 'n element van lof bevat, soos byvoorbeeld aangedui deur Schelling. Die lof-element in 'n klaaglied maak die lied nie gemengde vorm nie.

'n Volgende saak wat die literêre benadering aan die lig bring, is dat dit die rangskikking en groepering van die psalms in aanmerking neem (Vos, 2005:25). Lofpsalms kom baie voor in die Psalmbundel, byvoorbeeld Psalm 8, 29, 33, 46-48, 65, 68, 76, 84, 87, 93, 95-100, 103-104, 113-114, 117, 122, 134-136 en 145-150 (Vos 2005:275). Die tipiese struktuur is soos volg: opwekking tot lofprysing, die korpus van die psalm, insluitend redes vir lofprysing en herhaling van die oproep tot lofprysing (Vos 2005:276).

Uit die bespreking van die verskillende benaderings tot die psalms het dit duidelik geword dat verkillende soorte psalms onderskei word, wat gewoonlik ook 'n tipiese struktuur vertoon. Geleerdes onderskei nie almal presies dieselfde groepe nie. Almal het egter groter en kleiner groepe. Dit sal belangrik wees om eerstens daarop te let of die berymings reg laat geskied aan die struktuur van die verskillende psalms en tweedens sal daar gevra word of die melodieë wat gebruik word, pas by die aard van die soort psalms wat onderskei word.

 

7. DIE KOMMUNIKASIE WAT DEUR 'N LIED BEWERK-STELLIG WORD, WORD GEDRA DEUR DIE WOORD EN DIE MUSIEK

Die impak wat 'n lied kan hê, kan deur die woorde en/of deur die musiek gedra word. By die lied is die kommunikasie nie net aan die verbale verbind nie. 'n Groot deel van die Bybelse tekste is poësie. Tekste is na hul aard en struktuur voorgedra, gesing of opgevoer. Die Bybel is 'n liturgiese boek wat eerder gesing as gelees wil word. Die musiese strukture van die Skrif word eers sigbaar as die tekste musikaal uitgevoer word. Hierdie kant van die Skrif is herkenbaar aan onder meer die persoonswisselings, herhalings, refreine en uitroepe. Talryke liturgies-musikale terme wys daarop, al moet erken word dat die betekenis van sommige van hierdie terme onbekend bly (Schelling 1989:22). Terrien (2003:28-32) bied 'n volledige bespreking van al die musikale inligting wat in die opskrifte van die psalms aangetref word. Hy onderskei drie groepe gegewens in dié verband. Sommige van die terme dui op die digterlike oorsprong van die lied (byvoorbeeld 'n psalm van Asaf, soos Psalm 73), sommige is musikale aanduidings (wanneer dit na instrumente of stemme verwys, soos Psalm 5 en 12). Ander dui weer die melodie van die bepaalde lied aan, soos Psalm 9.

Die groepering van psalms het 'n impak op die kommunikasie, soos byvoorbeeld dat sommige psalms saamgegroepeer is op grond van gemeenskaplike onderwerpe, byvoorbeeld bedevaarts- of pelgrimsliedere (Psalm 120-134). Dié psalms het nie noodwendig 'n eenvormigheid ten opsigte van inhoud nie, maar het 'n gemeenskaplike funksie vervul, naamlik dat dit voor of gedurende Israel se groot feeste, spesifiek die Loofhuttefees, gesing is. Daarenteen word die Egiptiese Hallel- of lofprysingsversameling (Psalm 113-118), wat tradisioneel met Paasfees vereenselwig word, en 'n tweede groep Hallelpsalms (Psalm 146-150) vir meer algemene gebruik bedoel.

Wat die psalms besonders maak, is dat dit woorde bevat wat uit die aanbidding van Israel kom en wat dikwels self die aanbidding verwoord (Eaton 2003:3). Wat opval, is hoe goed die psalms georden is, byvoorbeeld in gebede stort die psalmdigter nie sy gevoelens onbeheers uit nie. Dit pleitdooie word sorgvuldig, kunstig voor die Here, die koninklike Regter, uitgestort. Daar is 'n stewige fondament waarop die verlange na die Here bekend gemaak word. Dieselfde word ook by die liedere van lof en dank gevind, byvoorbeeld Psalms 40 en 89. Die reël het gegeld dat die lof van die Heilige eers besing word en daarna kan die gebede uitgespreek word (Beuken 2000:362).

In die Lied van die See word die uittog gevier by wyse van 'n groot lied van dank en lofprysing. Dit staan nie alleen bo-aan Israel se lofliedere nie, maar het menige daaropvolgende lied diep beïnvloed. Die lied herdenk die ingryping van God in die geskiedenis om die uitverkore volk uit slawerny te bevry (Craigie 1983:25). Die verlossing uit Egipte is nie bloot 'n historiese feit nie, maar veral 'n bron van lofprysing. God word geprys omdat Hy vir sy volk ingetree het. Dit weerspieël die menslike antwoord op God se selfopenbaring in die geskiedenis en toon die intieme verwantskap tussen God en sy volk Israel. Die lied besing 'n enkele gebeurtenis, die uittog, maar die merkwaardige hiervan is dat hierdie gebeurtenis oorlewing verseker. Dankbaarheid oor Israel se bevryding uit Egipte het 'n hoogtepunt gebly in die godsdiens van die Israeliete (vergelyk Craigie 1983:25).

Vos bespreek die belang van die literêre perspektief vir die ontleding van 'n psalm. Vir hom is die funksie daarvan om die uniekheid van elke psalm te ondervang en die genre of tekstuele tipe te onderskei. Elke genre gebruik bepaalde tekstuele strategieë om betekenis met die leser of luisteraar te kommunikeer (Vos 2005:26). Die liturgiese en transmissietradisies speel 'n sleutelrol in tekstuele resepsie. Hierdie teorie beklemtoon ook die resepsie en ervaring van die psalms onder die gelowiges. Dus, die teks en die leser het 'n kreatiewe rol in harmonie met mekaar te speel (Vos 2005:27-28).

In krisistye kan 'n bepaalde lied vir iemand van onskatbare waarde wees. Na so 'n ervaring kom 'n persoon ryker daaruit en dit open die oog vir die waarde van ander kommunikasiemiddele as bloot die verbale. Dit laat 'n mens besef dat 'n bepaalde lied, hetsy deur die woorde, die melodie, die herinnering of die toekoms vir iemand in moeilike omstandighede van groot betekenis kan wees. 'n Lied is nie minder funksioneel as verbale kommunikasie nie en soms word daardeur meer bereik as om te praat (Schelling 1989:88).

Dit is duidelik dat die kommunikasie wat deur 'n lied bewerkstellig word, deur die woorde en die melodie gedra word. Die Hebreeuse liedere is in digterlike vorm oorgelewer juis sodat dit gesing kan word. Hierdie faset word ook beklemtoon deur die musiekale inligting wat in sommige van die opskrifte vervat is. Die musikale faset van die liedere het die kommunikasie daardeur bevorder.

 

8. SAMEVATTING

In hierdie artikel word ses basies-teoretiese perspektiewe geformuleer wat as raamwerk gebruik kan word om die gebruik van 'n liedbundel in die erediens, veral wat die kommunikatiewe aspek daarvan betref, te beoordeel. Die ses perspektiewe is soos volg:

• Musiek, en die lied in besonder, het in die Bybel deurgaans 'n besondere plek in die erediens ingeneem;

• Die psalms het in die Bybel en die tyd van die Bybel 'n groot invloed op die liturgie en die geloof gehad;

• Die lied het in die Bybelse tyd 'n besondere plek gehad in die onderrig en opbou van die volk van God;

• In die Nuwe Testament word liedere aangetref wat dien as aanvulling by die Ou-Testamentiese liedere;

• Die vorm waarin die liedere geskryf is, het verband gehou met die lewensituasie waaruit die lied ontstaan het om so die emosie van die digter te verwoord;

• Die kommunikasie wat deur 'n lied bewerkstellig word, word gedra deur die woord en die musiek.

Hierdie ses perspektiewe kan in drie groepe saamgegroepeer word. Die eerste drie wys op die funksionele aspekte van die lied, naamlik die plek wat dit ingeneem het in die erediens, die liturgie, die geloof en die onderig en die opbou van die volk van God. Twee van die perspektiewe het te doen met die vorm van en die kommunikasie deur die liedere. Die een handel oor die ontstaan en vorm van die liedere, waarin die belewenis van die digter 'n besondere rol gespeel het, en die ander oor die wyse waarop die lied na vorm en inhoud kommunikeer met die gelowige van vandag. Die lied kan egter ook deur gelowiges aangewend word om met mekaar en met God te kommunikeer. Die laaste perspektief handel oor die uitbreiding van die liedereskat, waar reeds in die Nuwe Testament verder beweeg is as net die Ou-Testamentiese psalms. Hierdie drie sake, die funksionele aspekte, die vorm van en die kommunikasie deur die liedere kan as maatstawwe aangewend word vir die beoordeling van 'n liedboek, maar ook vir die beoordeling van individuele liedere.

 

BIBLIOGRAFIE

Barnard, A.C. 2000. Die besondere betekenis van die Psalms in die Christelike kerksang. Skrif en kerk 21:214-227.         [ Links ]

Bastiaanse, A. 1999. Psalmen en hymnen. Tijdschrift voor Liturgie 83:321-329.         [ Links ]

Beuken, W.A.M. 2000. Isaiah II. Volume 2. Isaiah 28-39. Leuven: Peeters. (Historical commentary on the Old Testament.         [ Links ])

Bock, D.I. 1994. Luke. Downer's Grove, III.: InterVarsity. (The IVP New Testament commentary series.         [ Links ])

Box, R. 1996. Make music to our God. How we sing the Psalms. Melksham, Wiltshire: Cromwell Press.         [ Links ]

Brueggemann, W. 2001. Deuteronomy. Nashville, TN.: Abingdon. (Abingdon Old Testament commentaries.         [ Links ])

Craigie, P.C. 1983. Psalms 1 - 50. Waco, Tex.: Word. (Word Biblical commentary 19.         [ Links ])

Crenshaw, J.L. 2001. The Psalms. An introduction. Grand Rapids, Mich.: Eerdmans.         [ Links ]

De Klerk, B.J. 2004. Die pneumatologiese lied: basisteoretiese perspektiewe (uit Romeine 8:1-27) en empiriese gegewens. In die Skriflig 38:195-215.         [ Links ]

De Sutter, I. 1978. Psalmen hymnen en liederen. Een tweede reeks hymnologische studies over het kerklied in de Oecumene. Brugge/Nijmegen: Uitgeverij Emmaüs / B. Gottmer's Uitgeversbedrijf.         [ Links ]

Dunn, J.D.G. 1996. The Epistles to the Collosians and to Philemon. Grand Rapids, Mich.: Eerdmans. (The new international Greek Testament commentary.         [ Links ])

Durham, J.I. 1987. Exodus. Waco, Tex.: Word. (Word Biblical commentaries 3.         [ Links ])

Eaton, J. 2003. The Psalms. A historical and spiritual commentary with an introduction and a new translation. London/New York: Clark.         [ Links ]

Gunkel, H. & Begrich, J. 1966. Einleitung in die Psalmen: die Gattungen der religiösen Lyrik Israels. 2. Aufl. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.         [ Links ]

Hawthorne, G.F. 1983. Philippians. Waco, Tex.: Word. (Word Biblical commentary 43.         [ Links ])

Human, D.J. 1998. Psalms en hulle Sitz(e) im Leben. 'n Analise aan die hand van Psalm 55 en 74. Skrif en kerk 19:242-256.         [ Links ]

Kloppenburg, W.C.M. 1963.Muziek door de eeuwen I Amsterdam: Broekmans en Van Poppel.         [ Links ].

Lincoln, A.T. 1990. Ephesians. Waco, Tex.: Word. (Word Biblical commentary 42.         [ Links ])

Lindhout, A. 1987. Die lofsange van Maria, Sagaria en Simeon. 'n Eksegetiese en openbaringshistoriese studie met besondere verwysing na die Teologie van die Bevryding. Ongepubliseerde proefskrif. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Miller, S. 1994. Christelijke muziek in beroering. Een brede en kritische analyse van een brandend vraagstuk. Oisterwijk: Stichting Ecovata.         [ Links ]

Mounce, W.D. 2000. Pastoral epistles. Waco, Tex.: Word. (Word Biblical Commentary 46.         [ Links ])

Mowinckel, S. 1962. The Psalms in Israel's worship 1. Oxford: Basil Blackwell.         [ Links ]

Muddiman, J. 2001. The Epistle to the Ephesians. London: Continuum. (Black's New Testament commentaries.         [ Links ])

Ridderbos, N.H. 1962. De Psalmen. Kampen: Kok. (Korte Verklaring.         [ Links ])

Schelling, P. 1989. Muziek & Kerkewerk. Aandacht voor muziek in de opbouw van de geloofsgemeenschap. 's-Gravenhage: Boekencentrum.         [ Links ]

Song, Y.-M. 1999. The eschatological exodus theme in the three Canticles in Luke. Potchefstroom: PU vir CHO. (Th.M.-verhandeling.         [ Links ])

Terrien, S. 2003. The Psalms. Strophic structure and theological commentary. Grand Rapids, Mich./Cambridge: Eerdmans.         [ Links ]

Thiessen, M. 2004. The form and function of the song of Moses (Deuteronomy 32:1-43). Journal of Biblical Literature 123:401-424.         [ Links ]

Thiselton, A.C. 2000. The First Epistle to the Corinthians. Grand Rapids, Mich.: Eerdmans. (The new international Greek Testament commentary.         [ Links ])

Thompson, J.A. 1994. 1, 2 Chronicles. Nashville, TN.: Broadman & Holman. (New American Commentary 9.         [ Links ])

Van der Leeuw, G. & Bernet Kempers, K. Ph. 1939. Beknopte Geschiedenis van het Kerklied. Groningen: Wolters         [ Links ]

Viljoen, F.P. 1990. Die betekenis van psalmois, humnois en odais pneumatikais in Kolossense 3:16 en Efesiërs 5:19. Ongepubliseerde proefskrif. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Viljoen, F.P. 2001. Die lied in die Nuwe Testament. Vir die musiekleier 21(28):8-13.         [ Links ]

Viljoen, F.P. 2003. Die betekenis en funksie van die himnes in Openbaring 4-11. Acta Theologica 23(1):213-237.         [ Links ]

Vos, C.J.A. 2005. Theopoetry of the psalms. Pretoria: Protea.         [ Links ]

Vrijlandt, M.A. 1987. Liturgiek. Delft: Meinema.         [ Links ]

Wall, R.W. 1993. Colossians & Philemon. Downer's Grove, III.: InterVarsity. (The IVP New Testament commentary series.         [ Links ])

Westermeyer, P. 1998. Te Deum. The church and music. Minneapolis, Min.: Fortress.         [ Links ]

Zerfass, R. 1974. Praktische Theologie als Handlungswissenschaft. In F. Klostermann & R. Zerfass (Hrsg), Praktische Theologie heute. (München: Kaiser), pp.164-177.         [ Links ]