SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.31 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.31 n.1 Bloemfontein Jun. 2011

 

Die "evangeliese sending" 2010 - uitgedien of relevant?1

 

The 'evangelical mission' 2010: obsolete or relevant?

 

 

Robinson P

Prof. Phil Robinson is 'n Navorsingsgenoot van die Departement Sendingwetenskap, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. Hy was van 1976-1997 dosent in Missiologie aan die Fakulteit Teologie, Universiteit van Wes-Kaapland. E-pos: philrob@telkomsa.net

 

 


Trefwoorde: Evangeliese sending; Edinburgh; Lausanne.


ABSTRACT

The Evangelical Mission (EM) dates its official history back to 1846 with the establishment of the Evangelical Alliance with as common goal 'to promote unity and fellowship among Christians for more effective witness to the gospel' and 'to foster interpersonal relationships of common faith, trust and prayer'. This they achieved by several general mission conferences: Liverpool 1860, London 1888, and New York 1900. Several youth organisations, like SVM and YMCA and some Churches received membership. Nevertheless the EA was always less keen on their structural expression of unity. The movement invested high hopes on the International Mission Conference at Edinburgh 1910 to accelerate its goal of world evangelisation. Several factors lead to dissatisfaction with the outcomes and later developments regarding church-based mission. Eventually the EA group withdrew from the churches' ecumenical movement. A process of re-grouping and re-defining of its identity followed, leading to the watershed Lausanne Conference 1974 and its subsequent structures and projects. The movement presents itself energetically to the 21st century in Cape Town during its Edinburgh 2010 Conference.

Keywords: Evangelical mission; Edinburgh; Lausanne.


 

 

1. INLEIDING

Een van die basiese vrae waarna die sending in die geskiedenis herhaaldelik na teruggekom het, is die vraag: Wat is Christelike sending? Waarom gaan dit en wat wil daarmee bereik word? Soos wat 'n mens sou verwag, was en is die antwoord hierop nie eenstemmig nie. Hiervoor is 'n verskeidenheid faktore soos teologiese, konfessionele en sosio-politieke oortuigings verantwoordelik. Helaas het dit nie net by verskil in mening gebly nie maar het dit selfs tot negatiewe/afbrekende polarisering gelei. Dit is dan binne hierdie denkworsteling dat die selfbenaming "evangeliese sending" (evangelical mission) navore getree en verstaan moet word.

Die verdere vraag is of die term "evangeliese sending" slegs 'n bepaalde aksent is wat in die sendingbenadering van verskillende konfessionele groeperinge soos die Rooms-Katolieke, die Ortodokse en die Protestantse aanwesig is? Met ander woorde, gaan dit om iets soos die charismatiese aksent wat tans oor alle kerklike en konfessionele grense strek en in alle groeperinge aangetref word?

In sy beoordeling, is Richard Mouw(1978:49) wat spesifiek na die "Amerikaanse" variant van die "evangeliese sending" verwys, van mening dat dit 'n "de facto koalisie" en nie slegs 'n bepaalde aksent is nie. Volgens Marc Spindler(1988:463-473) is dit wel nie 'n nuwe konfessionele groepering nie maar eerder 'n "alternatiewe sendingbeweging" wat sigself geposisioneer het naas die Rooms-Katolieke missie en missionêre organisasies en die Reformatoriese Kerke en sendingorganisasies met die Wêreldraad van Kerke as samewerkingsverband. 'n Mens sou hier ook die Ortodokse Kerke se sending2 kon noem wat eweneens 'n unieke rol in die sendinggeskiedenis vervul het. 'n Sterk subgroep in die 'evangeliese sending' is die Pinkster- charismatiese beweging. Volgens René Padilla en ander, contra Klaus Fiedler,3 is hierdie groep besig om 'n eie teologie en missiologie te ontwikkel. Nog 'n interessante en heel resente ontwikkeling binne die "reformatoriese" en "evangeliese" sendinge is die identifisering van 'n onderskeibare Mission in an African way.4 Die onwillekeurige vraag is of ons dus eventueel met meer as net vier breë sieninge/benaderinge tot die sending te maak het? Dit sal stellig in die 21ste eeu uitgewys word.

 

2. IN DIE KRAGVELD VAN 'N VERWIKKELDE VERHAAL

Helaas het die term "evangeliese sending" (evangelical mission) veral gedurende die vorige eeu 'n ongelukkige negatiewe konnotasie gekry. Diegene wat vertroud is met die kerk- en sendinggeskiedenis sal bewus wees van die verdiepende onbehae en ontevredenheid van die evangeliesgesindes (evangelicals) met die verloop van sake by die wêreldsendingkongres te Edinburgh 1910. Hierdie onbehae en ontevredenheid het met elke opvolg byeenkoms wat deur die Internasionale Sendingraad en later die Wêreldraad van kerke gereël is, toegeneem. Dié stryd tussen evangeliesgesindes (evangelicals) en ekumeniesgesindes (ecumenicals) het veral in die dekade 1970-1980 'n hoogtepunt (diepte?) bereik. Die vraag is of die felheid waarmee die twee groepe mekaar wedersyds as fundamentele dwalinge afgemaak het, te rym is met wat as "Christelike sending" verstaan word? In watter opsig was die optredes "evangelies" en in watter mate was dit diens aan "sending"? Terugskouend wil 'n mens vra: Waarom was die hitte so hoog en die lig so min?

Maar "wie" en "wat" is die "evangeliese sending"? Waar kom dié denkrigting vandaan? Wat is die agtergrond vir die benaming "evangelies"? Watter geskiedenis lê agter dié byvoeglike naamwoord "evangeliese"?

Oppervlakkig gesien, sou 'n mens kon antwoord: Dit beteken tog seker niks anders as Christelike sending nie? Alle Christelike sending is tog seker "evangelies"? Kan 'n mens "sending" en "Evangelie" skei? Is dit nie juis die "Evangelie as God se heilsboodskap" wat aan die sending geboorte gegee het nie? Kan 'n mens die Evangelie werklik hoor en nie soos Paulus die onweerstaanbare drang ervaar om dit ook met andere te deel nie? Wil "evangeliese sending" nie maar net sê dat dit om sending gaan wat in die Evangelie gegrond is nie? Dít is tog voor die hand liggend en heel eenvoudig!

Helaas, só voor die hand liggend en eenvoudig is dit nie. Uit die byna onoorsigtelike bronne materiaal van kerk- en sendinggeskiedenis ontvou 'n verwikkelde verhaal wat veel verder teruggaan as wat normaalweg gedink word. Ter wille van ruimte moet met enkele kursoriese aantekeninge volstaan word.

Alhoewel evangeliesgesindes gou is om daarop aanspraak te maak dat hulle die voortsetting is van die Nuwe-Testamentiese denke oor die sending en dat die benaming "evangeliese" net 'n sinoniem vir "Christenskap" en "dissipelskap" is, kom dié benaming in die Christelike literatuur eers in die 16de eeu voor. Volgens Alistair McGrath (1994:110-113) is die term vir die eerste keer in 1520 gebruik deur 'n aantal Katolieke priesters, teoloë en skrywers wat begin saamkom het vir Bybelstudie. Hulle wou hulleself eerstehands op hoogte stel met wat die Bybel oor geloof en lewe leer want dit wat die kerk van die middeleeue aan hulle voorgehou het, het hulle toenemend onbevredig gelaat. Diegene wat so saamgekom het, het na hulleself as "evangeliesgesindes" verwys. Die term het dus as 'n selfbenaming ontstaan vir mense wat die Bybel saam begin lees/bestudeer het. Die term het heel gou wyer inslag gekry nadat dit in 1540 ook in ander tale soos Frans (évangelique) en Duits (evangelisch) vertaal is (McGrath a.w.:111).

Die term het ook gou 'n pad na die polemiese geskrifte van die vroeë Hervorming gevind en vandaar het dit wêreldwyd versprei. Van die belangrikste voedingsbronne vir die evangeliese sendingdenke van die 19de eeu was denkstrome soos die Metodisme, Piëtisme en Puritanisme. Belangrike kenmerke van hierdie denkstrominge was die klem op die belangrikheid van (i) die Bybel vir leer en lewe; (ii) persoonlike bekering; (iii) 'n Bybelse lewenswyse en (iv) die evangelisering van alle nie-christene.

 

3. DIE SOEKE NA 'N GEMEENSKAPLIKE SAMBREEL

Met die groeiende getal instansies (kerke, genootskappe, verenigings, geloofsendinge, individue) wat met Christelike sendingwerk besig was, het die behoefte aan een of ander vorm van gemeenskapsbinding al sterker begin word. Die stigting van die Evangeliese Alliansie (Evangelical Alliance)5 in 1846 in London, met as verklaarde hoofdoel "kameraadskap/vriendskap in die Evangelie", is deur baie aangegryp. Hier was 'n sambreel-noemer wat instansies wat wou assossieer sonder inperking van eie benadering en onafhanklikheid, in een geestelike verband met wêreldevangelisering as ideaal, saamgesnoer het.

Dit is betekenisvol dat die beweging op geen stadium tot een denominasie of konfessionele groepering beperk was nie. Immers, die Evangeliese Alliansie (EA) het sy lede en ondersteuners uit verskillende denominasies soos Anglikane, Metodiste, Free Church of Scotland, Morawiërs, Lutherane, Baptiste, Gereformeerdes getrek. Noemenswaardig is ook die feit dat die EA onder sy deelnemende lede die "Broeders" (Darbyiste), ook bekend as die "Plymouth Bretheren", gehad het. Soos bekend, het laasgenoemde geen kerklike strukture, vaste belydenisse, formuliere of reglemente erken of aanvaar nie. Vir hulle was Christenskap 'n vrye verkeer van gelowiges wat niks met kerklike strukture te maak het nie! Wat die sending betref, het laasgenoemdes voorkeur gegee aan "geloofsendinge". Vermeldenswaardig is ook die betrokkenheid van verskillende jeugbewegings, soos die Student Volunteer Movement (gestig 1886), die Young Men's Christian Association en die Young Women's Christian Association, almal wat belangrike bydraes gemaak het tot die werwing en ondersteuning van "sendelinge". Dit sou juis hierdie bewegings wees wat met buitengewone entoesiasme meegewerk het aan die verwesenliking van die wêreldsendingkongres te Edinburgh 1910. Verskeie bekwame leiersfigure soos onder andere John Mott, Robert Speer, J H Oldham, William Temple en William Paton is deur hierdie bewegings opgelewer. Hulle was besiel met die ideaal vir eenheid en sending. Tereg wys Verkuyl (1984:49-50) daarop dat hulle nie net sterk leiding geneem het in die voorbereiding vir Edinburgh 1910 nie maar dat hulle ook prominente figure was in die opvolg aksies ná Edinburgh.

Soos reeds onder 2.5 aangedui, lê verskeie denkstrominge ten grondslag van die evangeliese beweging. Hierdie invloede kan dan ook duidelik gesien word in die aktiwiteite waarop die Evangeliese Alliansie klem gelê het, te wete (i) sending, (ii) geestelike/spirituele gemeenskap en eenheid tussen Christene en (iii) gebed vir die uitbreiding van die koninkryk van God en (iv) periodieke aandag aan sosiale vraagstukke (Scherer & Bevans 1992:xvi). Helaas was laasgenoemde nie op 'n konstante basis volgehou nie aangesien die debatte oor dié sake tot skerp verskille gelei het en die onderlinge eenheid bedreig het. 'n Goeie voorbeeld hiervan was die gesprek/debat oor die "reg òf verkeerd van slawerny". Die verskil hieroor was so heftig dat dit gedreig het om die groepering te skeur. Dié wat vir slawerny was, het argumenteer dat slawe in alle opsigte beter voorregte en geleenthede as hulle tuisgemeenskappe gehad het (vgl. G.W Kirby 1974:359).

Ondanks hierdie verskille van mening was die EA op geen stadium apaties ten opsigte van sosiale vraagstukke of node nie. Talle projekte vir die verligting van verskillende vorme van nood was geloods en onderhou. So is plekke opgerig vir die huisvesting van vlugtelinge en oorsese studente en is ondersteuning gegee aan behoeftige persone om oorsese konferensies by te woon. Ook in die 20ste eeu het die EA opgetree as borg vir talle veldtogte, onder ander vir dié van Billy Graham. Die EA was ook 'n mede-oprigter van die World Evangelical Fellowship (WEF) in 1951.

Getrou aan die wye verskeidenheid van agtergronde was die EA-vennote ook op geen stadium 'n eendersdenkende groep nie. Wat die sending betref was daar diegene wat dit vanuit 'n vrye organisasie soos 'n vereniging of genootskap bedryf het en andere wat dit weer as 'n taak van die kerk gesien het. Dus was daar diegene wat sonder die kerklike betrokkenheid en ander wat weer vanuit die kerklike betrokkenheid wou werk. Hierdie verskil sou in die dekades wat volg tot 'n eie spanning in die EA ontwikkel.

 

4. DIE EVANGELIESE SENDING AAN DIE BEGIN VAN DIE 20STE EEU

Volgens McGrath (1994:111) het die Evangeliese denkrigting (evangelicalism) die tydlyn na die 20ste eeu as 'n "transnasionale beweging" oorgesteek6. Daarbenewens was die uitstaande kenmerk van die beweging 'n Skrif-gefundeerde teologie en spiritualiteit. Veral vier aannames het hieraan ten grondslag gelê, te wete: i) Die gesag en die genoegsaamheid van die Skrif; ii) die uniekheid van die verlossing deur die sterwe van Christus aan die kruis; iii) die noodsaaklikheid van persoonlike bekering; iv) die noodsaaklikheid, gepastheid en dringendheid van evangelisasie òf soos Scherer&Bevans (1992:xvi) dit formuleer, "'n passievolle begeerte om uit te reik en die evangelie met andere te deel".

Dit was dan ook hierdie "passievolle begeerte" wat die evangeliesgesindes met soveel verwagting laat optrek het na die wêreldsendingkongres te Edinburgh 1910. Juis die feit dat op daardie stadium reeds Christelike geloofsgemeenskappe in die meeste dele van die wêreld gevestig was, het die optimisme gesterk dat die evangelisering van die res van die mensdom nou 'n haalbare moontlikheid was. Genoemde wêreldsendingkongres sou hierop die antwoord wees (Blenk 1990:472). Dit sou die unieke geleentheid voorsien vir 'n massale mobilisering van sendingwerkkragte en fondse ten einde die hele wêreld aan die heerskappy van Christus te onderwerp.

In die hart van hierdie evangeliese gedrewenheid was twee diepgewortelde dryfvere, te wete:

i) dat almal wat nie tot geloof in Jesus Christus gelei word nie vir ewig verlore sou gaan en

ii) dat die wederkoms van Christus naby was en voordat dit gebeur moet die Evangelie aan die hele wêreld verkondig word.

Dit kos nie veel verbeelding om hierin die naklanke van die bekeringsprediking van die opwekkings/herlewingsbeweginge van die 18de en 19de eeue te hoor nie.

Dit was egter meer as net 'n passievolle begeerte wat die evangeliesgesindes in hulle benadering tot wêreldsending geopenbaar het. Die entoesiasme het ook sterk trekke van optimisme en selfs triomfalisme vertoon. Talle omskrywes, toesprake en verslae was volgens Bosch (1979:162/3) deurspek met militaristiese en imperialistiese uitdrukkings. Die Christelike wêreld moet die nie-Christelike wêreld vir Christus "inneem", "verower". Die sendingwerkers is "soldate" wat aan die "front" vir die Koninkryk van Christus "veg". Dit was "nou" die geleentheid om die heidendom finaal te "oorwin"! Edinburgh 1910 sou hiertoe die "marsbevel" gee!

Helaas het hierdie oorwinningsekerheid na Edinburgh 1910 spoedig aan skerwe gelê. Onwillekeurig wil 'n mens vra of die evangeliesgesindes, indien nie almal nie dan wel die meerderheid van hulle, hulle grootliks met die werklikhede van die dag vergis het? In stede daarvan om die evangeliese groep aan die breër problematiek te oriënteer, het dit hulle ontstel en vervreem. Die wêreldsending wat nou in vooruitsig gestel was, het nie binne die kontoere van hulle verwagtinge gevloei nie maar het in nuwe en alternatiewe bane opgegaan. Wat evangeliesgesindes in werklikheid belewe het, is wat Arthur Johnston (1978:33) na byna ses dekades as die "demise (einde/dood) of Evangelicalism" bestempel het.

In afdeling 2 hierbo is opgemerk dat hierdie ondersoek in die "kragveld van 'n verwikkelde verhaal" beweeg. Dit bring mee dat sover moontlik alle faktore wat op die ontwikkelende sendingbenadering ingewerk het, verreken behoort te word. Sonder om op volledigheid aanspraak te maak, word die volgende aangestip:

a) In die beoordeling van Edinburgh 1910 word dikwels uit die oog verloor dat wêreldsending nie die enigste item op die kongres se agenda was nie. Daar is ook aandag gegee aan die breë roeping van die kerk in die wêreld. Aangesien die eenheid van die kerk vir die evangeliesgesindes steeds belangrik was, het vrae van leerstellige, kerkregtelike en die praktiese geloofslewe eweneens aanspraak gemaak op die kongres se aandag. Omdat dit onmoontlik was om al die sake gedurende die kongres voldoende te deurdink en af te handel, is besluit om die opvolgaktiwiteite van die kongres in drie bane te verdeel, te wete "sending" (Mission), "geloof en kerkorde" (Faith and Order) en "lewe en werk" (Life and Work). Voortsettingskomitees vir elk van die aktiwiteite is aangewys.

b) Wat die voortsetting van die besinning oor die 'sending' betref, sou die volgende wêreldkongresse elke tien jaar plaasvind. Dié voortsettingskomitee moes egter met twee sake rekening hou. In die eerste plek moes daar met 'n nuwe klemlegging op "sending as inherente taak van die kerk" rekening gehou word. Sending is nie meer net gesien as hoofsaaklik die taak van sendingorganisasies nie. Kerke en sendinggenootskappe/organisasies moes as deelnemende partye in ag geneem word. Tweedens het die politieke omstandighede dit onmoontlik gemaak om die volgende kongres, soos beplan, in 1920 te hou. Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek en tot in 1918 geduur. Van die organisering van 'n kongres in 1920 met die omvang van Edinburgh was dus geen sprake nie.

c) Ten einde aan die besluite van Edinburgh 1910 betreffende die sending uitvoering te gee, is in 1921 oorgegaan tot die stigting van die Internasionale Sendingraad/International Missionary Council (IMC) met as amptelike mondstuk die International Review of Missions (IRM). Hiermee was die evangeliesgesindes nie tevrede nie. Hulle het ook met groeiende agterdog die liberale teologiese denklyne wat in die IRM tot uitdrukking gekom het, waargeneem.

d) Hulle wantroue is dan ook by die eerste wêreldsendingkongres wat deur die IMC te Jerusalem in 1928 gereël is, bevestig. Hier moes hulle beleef dat die uniekheid van die Christelike godsdiens afgeskaal word deur die pleidooi van die Amerikaanse afgevaardigde, professor William Hocking, dat groter erkenning aan die nie-Christelike godsdienste gegee word. In plaas van die gebruiklike verkondiging van die Evangelie van Jesus as enigste Redder moet eerder aan "alliansievorming en debat waarin geen party iets prys te gee het", gedink word. Vanselfsprekend het dit hewige debat ontlok waaraan prominente kontinentale teoloë soos Karl Heim en Hendrik Kraemer deelgeneem het.

Hierdie debat sou ook die volgende dekade se gesprekke en besinning oorheers. Veral die daaropvolgende verslag van die Amerikaanse "Commission of Appraisal of the Laymen's Foreign Mission enquiry" wat onder voorsitterskap van Hocking in 1932 uitgebring is, het indringende aandag gevra. 'n Belangrike uitvloeisel hiervan was dat Hendrik Kraemer deur die komitee van die Internasionale Sendingraad versoek is om vir die volgende kongres wat in 1938 te Tambaram gehou sou word, 'n antwoord op Hocking se argumente voor te berei. Die resultaat van Kraemer se voorbereiding was 'n kragtoer. Sy verslag, The Christian message in a non-Christian world wat ook as boek gepubliseer is, was deel van die kongres dokumentasie. Dit het die grootste deel van die kongrestyd in beslag geneem en daaraan 'n eie en unieke "aksent" gegee. Waar Edinburgh deur 'n sterk "koninklike aksent"7 - die kruis as oorwinningsteken - gekenmerk is, het Jerusalem die mineurtoon van die 'priesterlike aksent' laat hoor - die kruis 'n teken van diens. By Tambaram, daarenteen, was die basuin geluid dié van die "profetiese aksent".

Dit was duidelik dat Kraemer sterk aansluiting by die standpunte van Karl Barth en Emil Brunner gevind het. Christelike sending is, soos Barth dit tydens die Brandenburgse Sendingkonferensie (1932) gestel het, "getuienis" te midde van alle magte en kragte. Sending is navolging van "Jesus Christus, die waaragtige Getuie".8 Tambaram het "getuienis" tereg verstaan as prediking van die Evangelie sowel as sosiale aksies vir vrede, geregtigheid en vryheid. Gebruiklike terme soos "sonde", "vervreemding", "verlorenheid", "bekering", "wedergeboorte", "vergifnis" wat vanweë die "nuwe teologie", veral die "teologie van die godsdienste", by Jerusalem byna nie gehoor is nie, het hier by Tambaram weer opgeklink. Vir Barth was die probleem met die sendingbenadering van die piëtiste, die Amerikaanse "social gospellers" en die Lutherane wat aansluiting soek by die volkseiendomlike (Gutmann e.a.) dat hulle uitgaan van die skepping in plaas van die verlossing en dusdoende die genade van God verwerp.

Dit spreek vanself dat hierdie indringende teologiese debatte almal wat so presies seker was van wat sending is, tot herbesinning en nederigheid gedwing het. Terselfdertyd het dit ook die liberale teologie met sy relativistiese siening van die Christelike geloof en die voorkeur vir die pluralistiese benadering tot die godsdienste vir 'n hele paar dekades van die agenda laat verdwyn.

e) Die krisis vir die Westerse Christelike sending was helaas nie verby nie. Kort op die hakke van die Tambaramkongres het die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) met ongekende geweld uitgebreek. Die afmetings van wreedheid, menseslagting, verwoesting van eiendom en omgewings, was skrikwekkend. Dit het skokgolwe van verbystering oor die hele wêreld laat uitkring. Nie net was groot dele van die tradisionele basis van die Christelike sending lamgelê of uitgewis nie9 maar Christene en nie-Christene in die res van die wêreld en veral in die sogenaamde sendingvelde, was geskok en ontnugter. Die Westerse/Europese Christenheid het vanweë hulle direkte of indirekte betrokkenheid in die stryd hulle legitimiteit en morele hoë grond verloor. Bosch (1979:163) som dit raak op:

Die vraag was nou nie meer: Hoe slaag ons daarin om die nie-Christelike wêreld te laat deel in alles wat ons as Westerlinge aan te bied het nie? maar eerder: Hoe red ons Jesus Christus uit die ruïnes van die Westerse beskawing?10

 

5. EVANGELIESE SENDING IN 'N INNERLIKE STRYD?

Vir die evangeliese sending het 'n tydperk van grondige heroriëntering en herorganisering aangebreek11. Soos gesien, was dit duidelik dat nie net die politieke maar ook die teologiese landkaart grondig verander het. 'n 'Nuwe teologie' het die klassieke verstaan van die sending ingrypend uitgedaag. Byeenkomste wat geïnisieer was deur die Internasionale Sendingraad se agendas was nie soos in die geval van die evangeliese sending van die 19de eeu, gefokus op evangelisering en bekering nie maar op sosio-ekonomiese vraagstukke en begrip vir en dialoog met andersgelowiges. Die Christelike geloof se aanspraak op 'n unieke openbaring van God is bevraagteken. Ander godsdienste sou ook as weë tot verlossing oorweeg kon word. Soos reeds gesien, het W E Hocking in sy verslag "Re-thinking Missions", juis die Christelike kerk in 1932 aangemoedig om ontslae te raak van verouderde denkwyses oor die sending.

Hierdie liberale/modernistiese gedagtes het, aldus McGavran (1983:47-8), in al wyer kringe van die Christelike wêreld ingang gevind en aan 'n sogenaamde nuwe sending beslag gegee. Daar was veral vanaf die sestiger jare doelgerigte pogings vanuit die ekumeniese kringe om die nuwe gedagtes in sendingwerksgroepe, konsultasies en kongresse te laat posvat.

Teen die agtergrond van die enorme krisisse waardeur die Westerse Christenheid besig was om te gaan, was die gevolge vir die sending, veral vir die evangeliese sending, byna onvoorstelbaar.

5.1 Nuwe geleenthede te midde van uitdagings

Latourette wys daarop dat die Christelike sending elke keer wanneer dit deur so 'n diep donkerte moes gaan, telkens met ongekende geloofsenergie navore getree het. Vir die evangeliese groepe was die uitdaging om grondig te deurdink wie en wat hulle tot op daardie stadium was, wat hulle behoort te wees en doen om getrou aan hulle Skrifgegronde oortuigings met integriteit die eise van die dag aan te spreek. Aangesien die uitdra van die Evangelie na die hele wêreld - met ander woorde gehoorsaamheid aan die duidelike opdrag van Jesus Christus - vir alle evangeliesgesindes prioriteit was en dit die beste deur eenheid en samewerking bereik kon word, was die vraag na so 'n eenheidsmanifestasie en struktuur die eerste fokus. Hulle moes weer as evangeliesgesindes hulle oortuigings verwoord en mekaar onderling ondersteun.

5.2 Stigting van die World Evangelical Fellowship 1951

In genoemde jaar het sestig nasionale en streeks evangeliese liggame byeengekom en opnuut 'n alliansie, genaamd die World Evangelical Fellowship, gevorm. Dié keer, anders as in 1846, is 'n bepaalde organisatoriese struktuur daaraan gegee. Dit het bestaan uit 'n internasionale direkteur, 'n internasionale uitvoerende raad en streeks visipresidente. Die streke sou funksioneer deur driejaarlikse konferensies wat sinkroniseer met groter byeenkomste. Die WEF het ook 'n aantal werkskomitees gevorm, te wete vir teologie en etiek, sendinge (meervoud), kommunikasies, familie-/gesinslewe en vroue belange. Veelseggend is mettertyd ook 'n kommissie vir kerkvernuwing bygevoeg.

Sedert die stigting is besondere klem gelê op evangelisasie, gebedslewe, geestelike afsondering en konferensies, studiebeurse vir studente uit derde-wêreld lande, boekskenkings vir teologiese seminariums en Bybelinstitute. Soos wat later aangedui sal word, is waardevolle bydraes tot die "evangeliese sendingteologie" gemaak, verskeie saam met komitees van die Lausanne beweging wat in 1974 tot stand gekom het.

5.3 Die eerste Evangeliese Sendingkongresse in die 20ste eeu

'n Vergelyking van die diagram van die opeenvolgende sendingkonferensies/kongresse wat deur die ekumeniesgesindes getrek word, verskil grootliks van dié van die evangeliesgesindes. Vir eersgenoemdes loop die lyn ononderbroke vanuit die 19de eeu se sendingkongresse oor Edinburgh 1910 na die sendingkongresse gereël deur die Internasionale Sendingraad: Lake Mohonk 1921 - Jerusalem 1928 - Madras/Tambaram 1938 - Whitby 1947 - Willingen 1952 - Ghana 1958. Na die totstandkoming van die Wêreldraad van Kerke is die sendingkongresse gereël deur die Kommissie vir Wêreldsending en Evangelisasie (CWME): Meksiko 1963 - Bangkok 1972/3 - Melbourne 1980 - San Antonio 1989 - Salvador da Bahai 1996 - Athene 2005 - Edinburgh 2010. Vir die evangeliesgesindes loop die lyn van "aanvaarbare" sendingkongresse van Liverpool 1860 - London 1888 - New York 1900 - met 'n lang sprong na Berlyn (en Wheaton) 1966 - Lausanne I 1974 - Lausanne II 1989 (Manilla) - Lausanne 2010 Kaapstad. Volgens Johnston (1978:14) voldoen Edinburgh 1910 nie aan die evangeliesgesindes se visie vir wêreldsending nie en word dit dus nie gereken nie.

Dié ideaal word eers in 1966 te Berlyn12 weer ten volle opgeneem en indringend behandel. Met as kongrestema: "Berlin World Congres on Evangelism" (evangelisasie) met 'n drieërlei fokus op "One Race, One Gospel, One Task", het 1200 afgevaardigdes uit 100 lande hulle aandag toespits op die uitdra van die Evangelie na alle mense. In 'n wêreld van ontwakende nasionalisme in voorheen gekoloniseerde of onderhorige gebiede - die sogenaamde Twee-Derde wêreld - het Christene net een taak, te wete die verkondiging van die één Evangelie van die reddende genade van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Berlyn het aan die evangeliese sending die geleentheid gegee om duidelik te formuleer wat hulle onder "sending" verstaan sonder om net altyd verdedigend te moet reageer (Johnston 1978:216). In kort kom Berlyn neer op "a definition of biblical evangelism that would inspire and implement the proclamation of the Gospel throughout the world" (Johnston a.w.:171). Evangeliese sending was nou "a restored movement in the history of Christianity (Johnston a.w.:216). Hoewel allerweë geoordeel word dat hierdie kongres meer verteenwoordigend van die evangeliese wêreld was en ook veel omvattender en indringender op die vraagstuk van die sending ingegaan het as die te Wheaton, het dit nie meer as net dié blote vermelding in Scherer se oorsig ontvang nie.

Die Wheatonkongres het as tema gehad, "Die kerk se wêreldwye sending" en was geborg deur IFMA (Interdenominational Foreign Mission Association - 1917) en EFMA (Evangelical Foreign Missions Association - 1945).

Ten einde die inspirasie en bevindinge van Berlyn verder te laat deurwerk na die meewerkende kerke en ander instansie, is vier kleiner evangeliese kongresse in verskillende kontinente georganiseer, te wete: Singapoer 1968, Minneapolis 1969, Bogotá 1969 en Amsterdam 1971. Van hierdie kongresse was verwag om in lyn met Berlyn te reageer op die uitdagings van hulle betrokke omstandighede wat juis gekenmerk was deur revolusie, opstand en oorlog.

Dit was duidelik dat daar nuwe energie en doelgerigtheid in die evangeliese geledere losgekom het. Die volgende hoogtepunt in die evangeliese sending was die byeenkoms te Lausanne in 1974.

5.3.1 The Lausanne Congress for World Evangelization (LCWE)

Formeel is dit geregistreer as die "International Congress on World Evangelization" (ICOWE) wat in Julie 1974 te Lausanne, Switserland gehou is. Die dryfkrag agter hierdie beweging was nogeens Billy Graham wat die inisiatief geneem het. Met die ondersteuning van die evangeliese tydskrif Christianity Today sowel as verskillende evangeliese sendingagentskappe en -organisasies, is die momentum wat die twee voorafgaande evangeliese kongresse aan die gang gesit het, verder gevoer tot 'n indrukwekkende hoogtepunt toe 2700 deelnemers uit 150 lande saamgetrek het vir die kongres. Soos blyk uit die amptelike benaming van die kongres is die term "evangelism" (evangelisasie) vervang met die term "evangelization" (evangelisering). Die doel was om die evangeliesgesindes wat ingestel is op wêreldsending en die wat fokus op evangelisasie, saam te bind.

Soos wat die naam aandui, is die LCWE nie 'n raad van kerke of godsdienstige organisasies nie. Dit is eerder 'n losse koalisie van individuele persone, sending- en evangelisasie instansies, instellings wat 'n gemeenskaplike teologiese posisie inneem en dieselfde sending- en evangelisasie doel nastrewe. Die bestuur van die Komitee bestaan uit sewentig internasionale evangeliesgesinde leiers. Die Internasionale Direkteur tree as voorsitter en sameroeper op. Lidmaatskap word verkry deur die Lausanne Verbond te onderteken en te belowe om saam met die ander lede "te bid, beplan, en saam te werk vir die evangelisering van die wêreld".

Die uitnodiging wat van die voorbereidingskomitee uitgegaan het na persone en instansies om aan die Lausanne byeenkoms deel te neem, het as doel aangedui "to hasten the evangelization of all peoples of the world in obedience to the command of Jesus Christ and in anticipation of his return" (Scherer 1987:168). Dit sou gedoen word deur die bevordering van samewerking in evangelisering, Bybelstudies oor evangelisasie te doen, strategieë vir evangelisasie te evalueer, en deel te neem aan eendragtige gebed.

Die amptelike verslag van al die voordragte wat by die ICOWE gelewer was, was 'n boek van 1500 bladsye in klein druk, getitel: Let the earth hear His voice (1975). Die gees en doel van die byeenkoms is deur Graham in sy openingsrede aangedui as die noodsaak om op grond van die opdrag van Jesus Christus die evangelie aan alle mense te bring. Volgens hom het die ekumeniese beweging hierdie verantwoordelikheid ná Edinburgh versaak en is dit die evangeliesgesindes se plig om die roeping te vervul.

Een van die blywende nalatenskappe van Lausanne is die sogenaamde Lausanne Verbond - 'n verklaring/manifes van 15 paragrawe. Dit handel oor 1) die doel van God, 2) die gesag en krag van die Bybel, 3) die uniekheid en universaliteit van Christus, 4) die wese van evangelisering, 5) Christenskap en sosiale verantwoordelikheid, 6) die kerk en evangelisering, 7) samewerking in evangelisering, 8) kerke en evangeliese deelgenootskap, 9) die dringendheid van die evangeliseringstaak, 10) evangelisering en kultuur, 11) opvoeding en leierskap, 12) geestelike konflik, 13) vryheid en vervolging, 14) die krag van die Heilige Gees, 15) die wederkoms van Christus.

 

6. 'N BROSE EENHEID, EGTER MET BESONDERE DINAMIEK

Alhoewel Scherer & Bevans die Lausanne byeenkoms beskou as die hoogtepunt in die formulering van 'n evangeliese sendingteologie, was nie al die groepe ewe gelukkig met die verloop en uitkomste nie. Van sowel die 'radikale evangeliesgesindes' as van die WEF komitees het geoordeel dat verskeie sake nie genoegsame aandag gekry het nie. Terwyl sommige bekommerd was dat die "radikales" probeer het om die evangeliesgesindes na hulle standpunte oor te haal, was Billy Graham se opmerking aan J Verkuyl dat dit net 'n "terugkeer na die ou élan (besieling) en visie" was (Verkuyl 1984:56). Dit is egter nodig om dié broosheid en dinamika nader te bekyk.

6.1 Die samestelling krities ontleed

Tot in die tweede helfte van die 20ste eeu het die naam 'evangeliese sending' as 'n sambreel vir 'n losse versameling belange groepe gedien. Die aard van die samestelling was egter sowel die beweging se krag as sy swakheid. Die ontledings van sowel Peter Beyerhaus13 as John de Gruchy14 bied waardevolle perspektief op die problematiek.

Beyerhaus (sendingwetenskaplike) doen sy ontleding aan die begin van die sewentiger jare en onderskei ses onderafdelings of subgroepe. De Gruchy (sistematiese teoloog) se ontleding geskied teen die einde van die sewentiger jare en hy onderskei vyf moontlike groepe. Beyerhaus noem die volgende groepe:

• Die eerste en grootste groep is die "New Evangelicals" met Billy Graham as leiersfiguur wat alle Evangeliesgesindes wil saamsnoer in een beweging. Graham wat veral in die Amerikaanse Evangeliese beweging 'n prominente rol gespeel het, het baie daartoe bygedra om die losse partye van die wêreldwye evangeliese beweging saam te snoer met die Lausanne byeenkoms in 1974.

• Teenoor hulle neem die "separatistiese fundamentaliste" posisie in. Hulle is saamgegroepeer in die International Council of Christian Churches met Carl McIntire as hoof dryfkrag.

• Derdens is daar die "konfessioneel-evangeliese" vir wie dit veral gaan om die korrekte belydenis. Verskillende kerke wat hulleself as "evangelies" beskou, kan hier ingedeel word. Beyerhaus reken homself tot hierdie groep.

• 'n Vierde groepering bestaan uit die Pinkster- en Charismatiese bewegings wat 'n toenemende invloed binne die breër beweging sowel as in die Christelike kerke uitoefen.

• Die vyfde groep is die "radikaal-evangeliese" groep wat tydens die Lausanne-kongres oor Wêreldevangelisasie navore getree het o.l.v. verskeie Latyns-Amerikaanse persone soos Samuel Escobar, C.René Padilla, Orlando Costas e.a. asook N.Amerikaners soos die Mennoniete. Die groep het veral sosiaal-politieke betrokkenheid op Bybelse gronde sterk beklemtoon. Dit is miskien goed om hier te kyk na wat De Gruchy oor die groep sê.

• Die laaste groep noem Beyerhaus die "ekumenies-evangeliesgesindes" wat ten spyte van selfs felle kritiek teen die WRK pleit vir 'n hand van vriendskap wat na die ekumeniese beweging uitgereik moet word. Die enigste naam wat hier genoem is, was die van Festo Kivengere wat tydens die afsluitingsnagmaal hiervoor gepleit het.

Aangesien De Gruchy se ontleding saaklik ooreenkom met dié van Beyerhaus, word dit hier met uitsondering van groep 5 slegs genoem. Hy noem die volgende groepe: (1) Evangeliese Protestantisme, (2) Evangeliese Piëtisme, (3) Evangeliese Fundamentalisme, (4) Konserwatief Evangeliesgesindes - deur heelwat verkies bo die benaming in (3) en (5) Radikaal Evangeliesgesindes. Laasgenoemde groep het weggebreek uit die Konserwatief Evangeliesgesindes omdat hulle ontdek het dat die begrip 'konserwatief' daar gebruik is om op tipiese fundamentalistiese wyse die Evangelie te vereng tot persoonlike verlossing en die onvermydellike sosiale betekenis daarvan doelbewus te vermy. Hulle het hulle dus beywer om evangeliesgesindes weer daarop te wys dat die Evangelie gelowiges juis sosiaal verantwoordelik maak. Dit is 'n integrale en belangrike deel van die tradisie waarin hulle meen om te staan. Dié besef lê ten grondslag van sowel Calvyn se gedagtes oor die teokrasie as van die Piëtiste se sosiale gewetes en daadkragtige optredes. Verskeie persone het navore gekom om (1) die ryk evangeliese nalatenskap weer onder die aandag te bring (Donald Dayton), (2) die politieke betekenis van Jesus vanuit die Evangelies uit te spel (John Yoder), (3) die enorme sosio-ekonomiese probleem van rykdom en armoede, besittings en honger, as uitdaging te stel (Ronald Sider), (4) te wys dat die evangeliesgesindheid eintlik geboorte gegee het aan die regstelling van die vrou se posisie in die samelewing (Dayton), (5) aan te toon dat bevryding/bevrydingsteologie diep gewortel is in Gereformeerde Evangeliesgesindheid eerder as in Evangeliese Piëtisme soos Dayton argumenteer (Amerding/Pinnock). As 'n goeie voorbeeld hiervan kan onder meer verwys word na 'n aantal stimulerende publikasies15.

Onder die sogenaamd "radikaal evangeliesgesindes" sou 'n mens ook die teoloë moet reken wat kom vanuit die geledere van die kerke wat uit die sending ontstaan het. Begryplik lees hierdie groep die Evangelie vanuit die konteks van vroeëre politieke onderhorigheid en sosio-ekonomiese agterstande. 'n Waardevolle voorbeeld bied N.A.Botha (1994:36,38) wat soos die evangeliesgesindes Edinburgh 1910 afwys maar dit egter om presies die teenoorgestelde rede doen. Terwyl die evangeliesgesindes Edinburgh se beklemtoning van die sending se breër verantwoordelikhede as 'n afwyking van die die evangelie beleef het, vind Botha juis dat Edinburgh 1910 geen eerlike poging aangewend het om te worstel met die heersende sosiale, politieke, ekonomiese en kulturele werklikhede nie. Volgens hom was Edinburgh dus skuldig aan "'n reduksie van die profetiese taal".

'n Direkte resultaat van hierdie problematiese samestelling van die evangeliese sending was 'n sekere tweeslagtigheid in hulle funksionering. Volgens Scherer en Bevans (op.cit) was die beweging nie net bekend vir wat hulle as waarhede wou bevestig (affirm) nie (byvoorbeeld die mandaat van die Skrif en die krag van die Evangelie) maar veral vir dit wat hulle verwerp (reject) het. Hulle was uitgesproke teen die liberale Protestantisme se omhelsing van (1) die historiese kritiek wat die Godheid van Christus en die gesag van die Skrif ondermyn, (2) die evolusieteorie en (3) 'n sosiale evangelie wat losgemaak is van die lewensveranderende krag van die verkondigde evangelie. Terselfdertyd het hulle hulleself ook gedistansieer van die fundamentalistiese verdeelsug en onverkwiklike polemieke wat telkens tot onnodige skeuring gelei het. Verder het hulle daarin geslaag om persone wat sterk bande met die ekumeniese beweging het as lede te behou naas ondersteuners uit evangeliese denominasies en sendingaksies wat skerp krities en afwysend teenoor die ekumeniese beweging gestaan het. Dieselfde geld ten opsigte van die verhouding tot die Rooms-Katolieke waar sommige 'n oop verhouding wil beoefen terwyl andere hulle geledere verkieslik daarteen wil sluit. Terwyl evangeliesgesindes teenoor die ekumeniesgesindes dit duidelik stel dat hulle in belydenis hou by die leer van die Christelike geloof soos uiteengesit in die Skrif, maak hulle wel ruimte vir lede wat verskil in die vertolking van die leer omdat hulle as evangeliesgesindes - anders as die fundamentaliste - wegbreek faksies wil voorkom. Die groot probleem was die uitbalansering van die radikale evangeliese sieninge en kompromieë ter wille van eenheid.

6.2 Die Lausanne voortsettingskomitee

Die uiteenlopende evaluering van wat Lausanne bereik het, het 'n duidelike behoefte uitgewys dat verskeie sake nog verder deurdink en deurgepraat moet word. Ten einde hierdie besinningsproses verder te neem, is 'n voortsettingskomitee, die Lausanne Committee for World Evangelization (LCWE) aangewys. Die strategie van die LCWE was om werksgroepe vir teologie, sendingstrategie, voorbidding en kommunikasie saam te stel. Ten spyte van die feit dat die diverse samestelling van die evangeliese beweging diskussies soms moeilik gemaak het, was die resultate van die studiegroepe steeds konstruktief. Hierdie verslae is as die Lausanne Occasional Papers gepubliseer.

Een van die eerste uitvloeisels van die Lausanne Verbond was die Internasionale Simposium wat in 1976 gereël is. Die doel hiervan was nie soseer om die teks van die Lausanne Verbond te bespreek nie maar om dit as 'n "springplank vir vars innoverende denke"16 te gebruik. In vyftien voordragte is van die belangrike temas opgeneem en verder ontgin.

6.3 Konsultasies en mini-konferensies

Die werkgroep vir teologie het kort na die Lausanne byeenkoms twee konsultasies gereël, te wete "The Homogeneous Unit Principle" (Pasadena 1977)17 en "The Gospel and Culture" (Willowbank 1978). Soos genoem, was daar verskeie mini-konsultasies waaraan ook eenhede van die WEF deelgeneem het. Die grootste projek van die LCWE was die beplanning en reëling van die Pattaya 1980 Konsultasie oor Wêreld Evangelisasie. Dié byeenkoms is in 17 mini-konsultasies georganiseer waarvan die resultate ook as 'Lausanne Occasional Papers' gepubliseer is.

Gedurende die tydperk 1977 tot 1988 is verskeie kleiner evangeliese konsultasies gehou. Hierin is aandag gegee aan aktuele temas soos: "Gospel and culture" (1978), The Theology of Development (1980); "Evangelical Commitment to Simple Lifestyle" (1980), die reeds genoemde Pattaya (COWE) mini-konsultasies (1980), "Evangelism and social responsibility" (1982), "The work of the Holy Spirit and evangelization" (Oslo 1985) en "Conversion" (Hong Kong 1988).

6.4 Lausanne II, Manila (1989)

Dit was die tweede groot byeenkoms van die evangeliese beweging, gereël deur die Lausanne Komitee vir Wêreld Evangelisering (LCWE). Meer as 3000 afgevaardigdes uit 170 lande het die byeenkoms bygewoon. Onder leiding van John R.W. Stott is die Manila Manifes opgestel. Dié belangwekkende dokument bestaan uit twee dele: Deel 1 bevat 21 kort stellings wat die basiese oortuigings en oogmerke van die evangeliese sending weergee en Deel 2 bevat 12 seksies wat verder op die stellings uitbrei. Enersyds was dit gesien as 'n opdatering van die Lausanne Verbond en andersyds was dit die evangeliesgesindes se reaksie op die postmoderne sending paradigma. Die volle verslag is gepubliseer onder die dubbel-titel: Proclaiming Christ until He comes: Calling the whole Church to take the whole Gospel to the whole world (Douglas 1990). In hierdie titel is twee basiese motiveringe van die evangeliese sending sedert die vroegste begin daarvan, saamgetrek! Die publikasie en die Manifes was bedoel om as begeleiding te dien vir die evangeliese sending tot 2000 en selfs verder.

6.5 Evangelical-Roman Catholic Dialogue on Mission (ERCDOM)

Besonder interessant en veelseggend is die samesprekinge in 1977, 1984 en 1994 wat tussen evangeliesgesindes en die Rooms-Katolieke teoloë en missioloë plaasgevind het. Die evangeliesgesindes wat hierby betrokke was, het nie 'n bepaalde groep of instansie verteenwoordig nie. Die gesprekke was tot dusver gevoer op grond van verskeie gedeelde belange en bekommernisse soos onder andere dat: beide 'n substansiële deel van die Christelike godsdiensgemeenskap in die wêreld uitmaak; albei bekommerd is oor die toenemende sekularisme en materialisme van die Westers samelewing; beide 'n gevaar sien in die opkoms van Islam-fundamentalisme; beide diep bekommerd is oor die morele chaos in die Weste, op sowel individuele as sosiale vlak. By die laaste samespreking (1994) is 'n offisiële dokument uitgereik: Evangelicals and Catholics Together: The Christian Mission in the Third Millenium. Sonder om die werklike verskille te minimaliseer of verdoesel, is hierdie gebeure as van verreikende betekenis vir die sending beskou (Scherer, Bliese & Nyquist 1998:149-150).

 

7. EVANGELIESE SENDING OP WEG IN DIE 21STE EEU - 'N EVALUERING

Vanweë die kursoriese aard van hierdie oorsig, is dit nogal riskant om 'n evaluering te probeer aanbied. Die risiko word selfs vergroot deur die feit dat dit om 'n beweging gaan wat duidelik 'n opwaartse kurwe in vitaliteit toon. Die blote vergelyking van die temas van konferensies, konsultasies en studies wat sedert 1980 aangepak is, is 'n duidelike teken dat dit as beweging nie sonder meer vanuit standpunte van die verlede beoordeel kan word nie. Wat verder so 'n evaluering bemoeilik, is die aantal subgroepe wat, soos reeds uitgewys, soms redelik skerp van mekaar verskil. Die vraag is dus of enige subgroep as maatstaf vir die geheel geneem kan word? Begryplik geskied hierdie beoordeling met huiwering.

Eerstens is 'n opvallende leemte van die evangeliese sending die feit dat aan die ekklesiologie vir die grootste deel van die tydperk wat verken is, weinig aandag gegee is. By Edinburgh 1910 was die sterker beklemtoning van die rol van die kerke selfs as 'n bedreiging vir die evangeliese beweging ervaar. Deur nie die gemeenskap van gelowiges as vertrekpunt te neem nie, het 'n besonder eng individualistiese siening van die heil ongehinderd gedy. Dat daar sedert Lausanne meer aandag aan die kerk gegee word, is verblydend. Die volle konsekwensie daarvan moet egter nog deurwerk na alle deelnemers aan die evangeliese sending.

Die tweede saak het te maak met die verstaan van verlossing. Hier het ons met die kloppende hart van die Christelike boodskap te maak. Van die begin af het Christene hulleself verstaan as "verlostes". In dié verband maak Bosch (1991:393) die baie belangrike opmerking dat 'die kerk se verstaan van verlossing die omvang/draagwydte van die sending bepaal'. Dit is ook basies vir die verstaan van die kerk. Helaas het daar met verloop van tyd uiteenlopende interpretasies ontstaan wat selfs botsings, ketterjagtery en skeuring veroorsaak het.

In die geskiedenis van die sending van die 20ste eeu is die heftige botsing tussen ekumeniesgesindes en evangeliesgesindes tot 'n absolute laagtepunt gevoer tydens die WRK se sendingkongres te Bangkok 1973 met as tema: Salvation Today. Dit was veral Jürgen Moltmann se uiteensetting van "verlossing" in "binne-wêreldse" terme, opgeneem in Seksie II (Salvation and Social Justice in a Divided Humanity), wat die lont in die kruitvat aangesteek het. In kort het dit beteken: Verlossing (salvation) is die stryd vir ekonomiese geregtigheid teen uitbuiting; die stryd vir menslike waardigheid teen politieke onderdrukking; die stryd vir solidariteit teen vervreemding; die stryd vir hoop teen wanhoop in die persoonlike lewe. Vir Christene om deel te hê aan hierdie verlossing is deelname aan die stryd noodsaaklik.

Heftige reaksies van die evangeliesgesinde gemeenskap het kort daarop gevolg. In 'n bundel getitel The Evangelical Response to Bangkok geredigeer deur Ralph Winter (1973) is die ekumeniese beweging daarvan beskuldig dat hulle, deur net te fokus op sosiale geregtigheid, verraad gepleeg het teen die Bybelse siening van "verlossing as die redding van sondaars".

In die jaar daarna het Lausanne die amptelike posisie van die evangeliese beweging baie duidelik gestel. In sy openingsrede verklaar Billy Graham: "social justice is not our priority mission" (Douglas 1975:29) en "Evangelism and the salvation of souls is the vital mission of the church" (a.w.:31). Dat dié siening nie slegs Graham se persoonlike standpunt was nie, is ook duidelik uit die Lausanne Verbond wat as amptelike verklaring van die kongres voorgelê is vir ondertekening deur alle deelnemers. In seksie 6 word gesê: "Evangelism is primary".

Dit beteken egter nie dat die evangeliesgesindes teen sosiale geregtigheid was nie. Dit word bevestig deur seksie 5: "Evangelism and socio-political involvement are both part of our Christian duty." Beide is deurslaggewend. Helaas was daar egter 'n groep wat nie met al die besluite van Lausanne vrede gehad het nie, onder andere nie met die pasgenoemde stellings nie. In sy boek The battle for world evangelism skryf Paul Johnston(1978:18) "Historically, the mission of the church is evangelism alone". Hierin is hy gesteun deur Harold Lindsell, Peter Beyerhaus, Donald McGavran en Harvey Hoekstra. Hulle was bekommerd oor verdere beïnvloeding en druk van die kant van die WRK.

'n Waardevolle bydrae om die standpunte van die evangeliesgesindes in perspektief te stel, is gelewer deur die navorsingsprojek van Ronald Sider. Sy bevindinge het hy in 1993 gepubliseer onder die titel: Evangelism and social action. Daarin identifiseer hy vier groepe in plaas van die bekende evangelies-ekumeniese indeling, te wete: Individualisties-Evangeliese, Radikaal- Anabaptistiese, Dominant-Ekumeniese en Sekulêr-Christelike.

Vir die Individualisties-Evangeliese groep is verlossing iets wat gebeur met individuele siele. Mense, sonde en die evangelie word dus individualisties verstaan. Mense word gesien as geïsoleerde individue en nie as persone-in-gemeenskap nie. Sondes wat tradisioneel deur hulle veroordeel was, was dié wat deur individue gedoen word, byvoorbeeld lieg, steel, ens., eerder as institusionele sondes soos onregverdige wette en praktyke. Hulle beklemtoon regverdigmaking en wedergeboorte eerder as die koninkryk van God wat alle lewensaspekte deurdring en omvorm. Gevolglik het die Wheaton kongres van 1966 die "Goeie Nuus" nog gedefinieer as "the Gospel of individual salvation." Sider(1993:33) verwys na Donald Bloesch wat kon sê: "Jesus came to deliver from the power of sin and death rather than from political or economic bondage".

In dié beskouinge figureer die geloofsgemeenskap nie as sentraal nie. Die fokus val volledig op die individu. Samelewings verander net deur veranderde individue. Daarom moet mense geëvangeliseer word en die eis van die Evangelie nie ook aan strukture gestel word nie. Mense verander slegs deur God se genade en nie deur veranderde strukture nie. Dialoog met ander godsdienste verswak Christene se vermoë om te getuig en lei tot verwaarlosing van evangelisasie.

Volgens Bosch (1979:202-4) kom dit daarop neer dat verlossing gesien word as verlossing uit die wêreld in plaas van verlossing van die wêreld. Heiligmaking beteken dan onttrekking aan die wêreld in plaas van anderswees in die wêreld. Sosiale en politieke betrokkenheid word gesien as verraad teenoor die evangelie. Waar deelname genoodsaak word vanweë omstandighede, geskied dit meestal met 'n gevoel van skuld, 'n slegte gewete. Sommige redeneer dat dinge sal verander as die mense net eers verander is.

Indien hierdie houding na sy diepste kern geneem word, kom dit daarop neer dat Christus erken word as Hoof van die kerk maar nie as Hoof van die kosmos nie. Dít contra Kolossense 1:15-20.18 Sulke wêreldontvlugtende denke word immers grondig gedekonstrueer deur die "sout" en "lig" beeldspraak van Matt.5:13-15. Wie heiligmaking nie in terme hiervan deurdink nie, is besig met 'n onbybelse inkorting van die Evangelie, volgens Bosch 'n "verskraalde Evangelie".

Uit wat dus genoem is, is dit duidelik dat vir die evangeliesgesindes die klassieke betekenis van sending tot "Woordverkondiging" beperk was en in sommige gevalle nog is. So gesien is Sendelinge opgelei om te gaan preek, katkiseer en die sakramente te bedien. Die praktyk het egter geleidelik hierdie eensydige benadering al meer uitgedaag en allerlei vorme van "newe" of "hulpdienste" het ontwikkel. Sulke dienste is aanvanklik nie as behorende tot die hart van die Evangelie beskou nie. Dit het evangeliese kringe lank geneem om projekte soos skole, hospitale en ontwikkelingsprojekte as integrale deel van die Evangeliebediening te sien.

'n Verder belangrike korreksie wat in die "evangeliese sending" nodig is, is die beskouing oor die eskatologie. Dit is nie die mens wat deur sy ywerige verkondiging van die Evangelie die wederkoms van Christus gaan verhaas nie! Die wederkoms is ook nie 'n veraf gebeure wat wag om plaas te vind nie. Die nuwe era het met die koms van Christus aangebreek en is in die oue aan die deurwerk (Bosch:1979:210). Dié wete kan gelowiges van 'n fatalistiese gees bevry.

Dieselfde God wat in Bybelse tye aan die werk was, is ook tans aan die werk. Gelowiges hoef dus nie angsvallig te monster om die hele wêreld voor 2020 te evangeliseer nie. Hulle kan elke dag op alle fronte van die lewe voortgaan om vanuit hulle geloof in die Drieënige God diens te lewer. Hierin kan hulle God vertrou! Hulle kan ook geloofsgemeenskappe hoe groot of klein ookal, vertrou om die Evangelie in eie omgewing mee te deel en veral te vergestalt.

In die inleiding tot hierdie afdeling is daarop gewys dat die "evangeliese sending" van die 21ste eeu nie as die gevangene van konsepte wat in vroeër stadiums gegeld het, gehou mag word nie. Eneryds het evangeliesgesindes se eie verstaan van die sending deur voortgaande Bybels-teologiese besinning verbreed en verdiep. Andersyds het die blootstelling aan die ekumeniese sendingbenaderinge, ten spyte van skerp reaksies wat dit soms van evangeliesgesindes ontlok het, ook 'n bydrae tot dié ontwikkelingsproses gelewer. Dit was veral sigbaar in die konsultasies en konferensies wat sedert 1980 plaasgevind het. Ook belangrik is die feit dat daar eweneens van die evangeliese sending 'n beïnvloeding op die ekumeniese sending uitgegaan het soos trouens ook in hulle sieninge waargeneem kan word.

Op die vraag dus of die evangeliese sending se tyd verby is, antwoord die ontwikkelinge wat binne die betrokke beweging gedurende die afgelope eenhonderd jaar plaasgevind het, met 'n besliste: Inteendeel! Die onmiskenbare bewys is by Edinburgh 2010 gelewer. Die meevoerende entoesiasme en blydskap oor die evangelie van Jesus Christus wat oor die volle lewenswerklikheid deur elke volgeling van Christus bedien moet word, het uit elke verslag, toespraak, gesprek en item gespreek.

 

BIBLIOGRAFIE

Barth, K. 1959. Jesus Christus, der Wahrhaftige Zeuge. Kirchliche Dogmatik IV,3,1. Zollikon-Zürich: Evangelischer Verlag AG.         [ Links ]

Blenk, C. 1990. Het zendingsbevel in de 20e eeuw. Vyf wachtwoorden in hun context. In: W. Van't Spijker (red) De Kerk. Wezen,weg en werk van de kerk naar reformatorische opvatting, (Kampen: Uitg. De Groot Goudriaan), pp.472-493.         [ Links ]

Bosch, D.J. 1979. Heil vir die wêreld. Die Christelike Sending in Teologiese Perspektief. Pretoria: NGK Boekhandel.         [ Links ]

Bosch, D.J. 1991. Transforming Mission. Paradigm Shifts in Theology of Mission. New York: Orbis.         [ Links ]

Botha, N.A. 1994. Mission as Prophecy in dialogue with the World Mission Conferences, Edinbugh 1910-SanAntonio 1989. Ongepubliseerde doktorale proefskrif. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Botha, N.A. 2008. Mission in humility and hope: African perspectives on Edinburgh 2010. Missionalia 36(1) (April 2008):46-59.         [ Links ]

Costas, O.E. 1974. The Church and its Mision: A Shattering Critique from the Third World. Wheaton: Tyndale.         [ Links ]

De Gruchy, J.W. 1978. The Great Evangelical Reversal: South African Reflections. Journal of Theology for Southern Africa, September, No.24:45-57.         [ Links ]

Douglas, J.D. 1975. Let the earth hear his voice. Minneapolis: World Wide Publications.         [ Links ]

Dunn, J. 1980. (1977) The Pentecostals. In: T. Dowley & P. Alexander (eds.), A Lion Handbook. The History of the Christian Church, (Oxford: Lion Publishing), pp.618-622.         [ Links ]

Du Plessis, I.J. 1962. Christus as Hoof van Kerk en Kosmos. Groningen: V.R.B.         [ Links ]

Fiedler, K. 1988. Evangelical Mission Theology In: Müller et al. (eds.), Dictionary of Mission, (Oxford: Orbis), pp.144-146.         [ Links ]

Glasser, A.E. & McGavran D.A. 1983. Contemporary Theologies of Mission. GrandRapids: Baker.         [ Links ]

Glazik, J. 1975. Ortodoxe Mission. In: S.Neill et al. (eds.) Lexikon zur Weltmission. (Wupperthal: R Brockhaus Verlag), pp.414-415.         [ Links ]

Jansen Schoonhoven, E. 1974. Variaties op het thema "Zending". Kampen: Kok.         [ Links ]

Johnston, A.P. 1978. The Battle for World Evangelism. Wheaton III.:Tyndale House Publishers.         [ Links ]

Kirby, G.W. 1974. Evangelical Alliance. In: J.D. Douglas (ed.) The New International Dictionary of the Christian Church. (Exeter: Paternoster), pp.359-360.         [ Links ]

Latourette, K.S. 1945. A History of the Expansion of Christianity Vol VII. Advance through Storm. A.D.         [ Links ]

Latourette, K.S. 1914 and After, with Concluding Generalizations. New York: Harper & Brothers.         [ Links ]

McGrath, A.E. 1994. Christian Theology. An Introduction. Cambridge: Blackwell.         [ Links ]

Mouw, R. 1978. Evangelicals in search of maturity. Journal of Theology for Southern Africa 22:47-55.         [ Links ]

Padilla, C.R. 1976. The new face of Evangelicalism. An International Symposium on the Lausanne Covenant. London: Hodder & Stoughton.         [ Links ]

Padilla, C.R. 1980. (1977) An Age of Liberation. In: T. Dowley & P. Alexander (eds.), A Lion Handbook. The History of the Christian Church. (Oxford: Lion Publishing), pp.612-640.         [ Links ]

Robinson, P.J. 1994. Verlossing as sosio-politieke bevryding? Acta Theologica 14(1):75-89.         [ Links ]

Robinson, P.J. 1995. Mission in a changing South Africa. Towards holistic salvation/liberation. The 1994 and 1995. Open Lectures of the Institute for Missiological and Ecumenical Research, 1-21. Pretoria: IMER        [ Links ]

Scherer, J.A. 1987. Gospel, Church, & Kingdom. Comparative Studies in World Mission Theology. Minneapolis: Augsburg.         [ Links ]

Scherer, J.A. & Bevans, S.B. 1992. New Directions in Mission & Evangelization 1. Basic Statements 1974-1991. Maryknoll NY: Orbis.         [ Links ]

Scherer, J.A. & Bevans, S.B. 1994. New Directions in Mission & Evangelization 2. Theological Foundations. Maryknoll NY: Orbis.         [ Links ]

Scherer, J.A. & Bevans, S.B. 1999. New Directions in Mission & Evangelization 3. Faith and Culture. Maryknoll NY: Orbis.         [ Links ]

Scherer, J.A. Bliese R.H. & Nyquist J.W. 1998. (1987) Evangelical Mission Theology II (Lausanne Movement). In: Müller et al. (eds.) Dictionary of Mission. (Oxford: Orbis), pp.146-150         [ Links ]

Sider, R. 1993. Evangelism and Social Action. London: Hooder & Stoughton. Spindler, M.R.         [ Links ]

Sider, R. 1988. De Missionaire beweging en haar organisatie. In: F J Verstrael (red) 1988 Oecumenische Inleiding in de Missiologie.Tekste en Kontekste van het Wereld-Christendom, (Kampen: JH Kok), pp.463-473.         [ Links ]

Van't Hof, I.P.C. 1946. Het Zendingsbegrip van Karl Barth. Uitgegee deur die Zendingstudie-raad: Drukkerij Hoenderloo.         [ Links ]

Van't Hof, I.P.C. 1972. Op zoek naar het geheim van de Zending. In dialoog met het Wereldzendings- conferenties 1910-1963. Wageningen: H Veenman & Zonen.         [ Links ]

Verkuyl, J. 1984. 'Evangelicals' en 'Ecumenicals': een cri de coeur. In: K.A. Schippers & A. Wind (reds.) Heil voor deze wereld. Studies aangeboden aan Prof. Dr. A. G. Honig Jr. (Kampen: Kok), pp.49-60.         [ Links ]

Wind, A. 1988. Die Protestantse missionaire beweging van 1789 tot 1963. In: F J Verstraelen et al. (reds.) Oecumenische Inleiding in de Missiologie, (Kampen: JH Kok), pp.243-253.         [ Links ]

Winter, R. (ed) 1973. The Evangelical response to Bangkok. William Carey Library.         [ Links ]

 

 

1 Hierdie artikel is 'n verwerking van 'n voordrag wat gelewer is tydens die VBO-Winterweek 2010 (24 - 26 Mei), gereël deur Shepherd, Sentrum vir die Begeleiding van Geestelike Leiers, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat.
2 Vgl o.a. Josef Glazik. 'Ortodoxe Mission'. In S.Neill et.al., 414-5.
3 Terwyl Klaus Fiedler(1998:145) twyfel of die charismatici 'n eie sendingteologie sal ontwikkel, is René Padilla en veral James Dunn (1980(1977) adamant daaroor dat hulle reeds die vierde leerstellige groep naas die Ortodokse, die Rooms-Katolieke en die Reformatoriese is.
4 Die 2008 publikasie van Thomas Oduro, Hennie Pretorius, Stan Nussbaum en Bryan Born wil volgens die subtitel van die boek die lig laat val op A practical introduction to African Instituted Churches and their sense of mission as 'n benadering wat verskil van ander aksente en benaderinge.
5 Sien Gilbert Kirby in J D Douglas 1974 TIDOCC, 359-360.
6 Hier sou 'interdenominasionele en interkonfessionele' bygevoeg kon word.
7 Vir die drieëlei aksent van koninklike, priesterlike en profetiese, vergelyk I.P.C. van't Hof 1972:21,68,101. Sien ook Bosch 1979:161-171.
8 Hierdie gedagte word breedvoerig in Karl Barth se Kirchliche Dogmatik IV/3 onder die titel: "Jesus Christus, die waaragtige Getuie" ontwikkel. Daarvolgens wortel die Christelike getuienis in die verlossing wat gefundeer is in die genade. Om dus nie te getuig nie, is om die genade te verwerp en nie maar om 'n plig na te laat nie! Die ware Christen kan nie nie-getuig nie.
9 Veral die sendingaktiwiteite van kerke en genootskappe uit Duitsland is baie nadelig getref. Na Duitsland se nederlaag het veral Engeland toegesien dat alle Duitse sendingprojekte in voormalige kolonies beëindig moes word. Duitsland se bydrae tot die totale Christelike sending op daardie stadium was ongeveer 6,7%.
10 Blenk (1990:475) verwys na die ontnugtering van Albert Schweitzer te Lambarene met die nuus van die verskriklike oorlog in Europa. Met diepe verslaenheid het hy bely dat die Christelike Weste dan nie so 'Christelik' was as wat hy gedink het nie.
11 Vir dié afdeling het ek gebruik gemaak van Scherer & Bevans 1992:xvii. Dit was egter vreemd dat die Berlyn kongres oor Evangelisasie asook die Frankfurt Verklaring nie in die bespreking ingesluit was nie, alhoewel dit vir die evangeliesgesindes van besondere belang is.
12 Johnston 1978:159-224.
13 Beyerhaus 1975 Lausanne zwischen Berlin und Genf. In W Künneth/P Beyerhaus (reds), pp.307-8. Oorgeneem deur Bosch in sy Heil vir die wêreld 1979:31.
14 John W. de Gruchy 1978, 24:45-57. Sien ook J Verkuyl (1984:51).
15 Enkele voorbeelde: Jim Wallis 1976 Agenda for Biblical People. A new focus for developing a life-style of discipleship; 1983 sy The New Radical; Ronald J Sider 1977 Rich Christians in an age of hunger; 1978 sy Living more simply. Biblical Principles and Practical Models; 1993 sy Evangelism & Social Action in a lost and broken world; Waldron Scott 1980 Bring forth justice.
16 Aldus John R W Stott in die voorwoord tot C Rene Padilla (Red) 1976 The new face of Evangelicalism.
17 'n Goeie oorsig oor wat deur die konsultasies bereik is, is te vind in die reeks publikasies waarin die bevindinge en standpuntnames weergegee word. In New Directions in Mission & Evangelization: Basic Statements saamgestel deur Scherer & Bevans (1992) is in Afdeling IV tien uitkomste van die konsultasies van die Evangeliese Protestante opgeneem.
18 Vergelyk I J du Plessis 1962 Christus as Hoof van Kerk en Kosmos.