SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.31 issue1The South African Chaplaincy Service (SACHS) and state policy during the Border War, 1966-1989The conception of the circle of Concerned African Women Theologians: is it African or Western? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

    Related links

    • On index processCited by Google
    • On index processSimilars in Google

    Bookmark

    Acta Theologica

    Print version ISSN 1015-8758

    Acta theol. vol.31 no.1 Bloemfontein June 2011

     

    Liturgiese afleidings uit die kontinuïteit en diskontinuïteit van die Pasga en die Nagmaal

     

    Liturgical deductions based on the continuity and discontinuity of the Passover and the Holy Communion

     

     

    De Klerk B

    Prof Ben de Klerk, Skool vir Kerkwetenskappe, Noordwes Universiteit, Potchefstroom kampus, Potchefstroom. E-pos: ben.deklerk@nwu.ac.za

     

     


    Trefwoorde: Nagmaal; Pasga; Liturgiese afleidings; Brood; Beker; Verbond.


    ABSTRACT

    The Service of the Word constitutes the climax and junction of the liturgy during the service, and the Holy Communion is the crucial confirmation and appropriation of the core of Scripture, namely Jesus Christ as Lord and Saviour. The question is whether liturgic deductions for the purpose of enriching the celebration of the Holy Communion can result from a consideration of the continuity and the discontinuity of Passover and the Holy Communion of our Lord. A literature study was employed in the investigation of this question. Passover is probably the one Old Testamentical festival that is of importance for research regarding the Holy Communion, precisely because Jesus consciously chose the time of Passover to instate the Holy Communion. Liturgical deductions are amongst other things made regarding both festivals as celebration of the great acts of redemption in history, the eating of bread and the drinking of wine during both festivals, the eschatological elements in both festivals and the elements of commemoration, proclamation and expectation in both festivals. In each instance the continuity and discontinuity are considered as well.

    Keywords: Lord's Supper; Pascha; Liturgical conclusions; Bread; Cup; Covenant.


     

     

    1. INLEIDING

    Brienen (1987:214) dui oortuigend aan dat Calvyn die oorsprong van die liturgie van die Vroeë Kerk aflei uit twee lyne wat saamkom: die lyn van die Sinagogale erediens, met sy klem op die Woorddiens, en die lyn vanuit die Bokamer, waarmee hy aandui dat die gereformeerde erediens eers werklik kompleet is wanneer die Nagmaal deel daarvan uitmaak. In al sy liturgiese publikasies is (van die eerste uitgawe van die Institusie, 1536) Calvyn se liturgiese uitgangspunt dat Woord en Nagmaal, kansel en tafel, saam hoort en hy beklemtoon veral die eenheid en balans tussen Woord en sakrament (vgl. o.a. Institusie, IV, XVII.46). Hy het sy visie gevorm vanuit die Nuwe Testament, by die eerste Christelike gemeentes en in die daarop gebaseerde praktyk van die kerkvaders.

    Die Nagmaal het 'n belangrike rol in die teologie van Calvyn gespeel, omdat hy die kern daarvan gesien het as gemeenskap met die lewende Christus waarin Christus genade (the Lord's Supper) en die gemeente dankbaarheid (eucharisti) gegee het. Garrish (2002:20) stel dit só:

    The holy banquet is simply the liturgical enactment of grace and gratitude that lies at the heart of Calvin's entire theology.

    Vir Calvyn is die Woorddiens die klimaks en knooppunt van die liturgie, en die Nagmaal die onmisbare bevestiging van en toeëiening van die kern van die Skrif, Jesus Christus as Here en Verlosser.

    In die lig van bogenoemde is voortdurende wetenskaplike navorsing oor die Nagmaal steeds noodsaaklik, ook op die terrein van die liturgie. In die gereformeerde teologie, ook in Suid Afrika, word vandag nog indringende studies oor die Woord in al sy fasette gedoen. Die Nagmaal kry, moontlik weens die invloed van Zwingli, via Nederland na Suid-Afrika, minder aandag. Hoewel daar in ander dele van die wêreld die afgelope dekade of twee baie wetenskaplike nadenke was oor die verhouding van die Pasga en die Nagmaal (vgl. onder andere Carmicheal 2006; Brumberg-Kraus 1999; Dorn 2007; Green 1999; Harrington 2006; Jones 1986; Levering 2005; Mathison 2002; Mazza 1999; McKenna 2005; Routledge 2002; Theiss 1994; Wander 2006; Welker 2000) is daar min uit die hoek van Suid-Afrikaanse teoloë oor hierdie onderwerp gepubliseer (vgl. onder andere Helberg 1990; Vorster 2009). Daar word tans algemeen aanvaar dat die Nagmaal ten minste in die konteks van die Pasga deur Jesus ingestel is (Dorn 2007; Routledge 2002) en daar is 'n groter konsensus dat Jesus selfs die Nagmaal tydens die viering van die Pasga ingestel het (Versteeg 1980; Phillips 2003; Welker 2000).

    Die vraag is of daar uit die kontinuïteit en diskontinuïteit van die Pasga en die Nagmaal van die Here liturgiese afleidings vir die verryking van die Nagmaalsviering gemaak kan word? In die ondersoek van hierdie vraag sal van 'n literatuurstudie gebruik gemaak word. Die fokus sal veral val op die kontinuïteit en diskontinuïteit van die Pasga (gedurende die tyd van Jesus) en die Nagmaal, om telkens liturgiese afleidings daaruit te probeer maak.

     

    2. DIE ONTWIKKELING VAN DIE PASGA VAN DIE EKSODUS TOT DIE TYD VAN CHRISTUS

    Die Pasga is waarskynlik die een Ou-Testamentiese fees wat van belang is vir die navorsing oor die Nagmaal, juis omdat Jesus die Pasga doelbewus gekies het om die Nagmaal in te stel (Phillips 2003:194; Wander 2006:10). Die eerste Pasga word aan die uittog uit Egipte verbind, want die dag van die uittog moet as gedenkdag gevier word (Eks. 12:14). In Eksodus 12:26,27 word die Pasga as 'n gesinsfees gekarakteriseer. Die boodskap van die Pasga moes aan die opkomende geslagte oorgedra word, sodat hulle die groot dade van God in die verlede sou leer ken (verse 24-27). Juis deur hierdie verlossende daad het die verslaafdes in Egipte as 'n volk tot stand gekom. Die Pasga was dus inderdaad eintlik 'n spesifieke ritueel vir Israel in Egipte, want nadat hulle uit Egipte getrek het, kon daardie Pasga nie herhaal word nie, slegs gedenk en onthou word (Motyer 2005:129).

    Die mees kenmerkende aspek van die instelling van die Pasga was die feit dat elke huisgesin 'n lam moes slag. Die bloed van die lam aan die deurposte het as teken gedien dat die doodsengel hulle sou verbygaan. Die volk moes die hele lam braai en eet saam met bitter kruie, ongesuurde brood en wyn. Hulle moes dit doen met hulle klere opgebind, hulle skoene aan en hulle staf in die hand. Dit wys op 'n spannende en vinnige vertrek. "Julle moet haastig eet" (Eks 12:11).

    In Josia se omvattende hervormings, nadat hy die wetboek gehoor het, sluit hy weer die viering van die Pasga in, nadat dit sedert die dae van die Rigters nagelaat is (2 Kon. 23:21 e.v.). Om hierdie viering in die regte lig te sien, word aanvaar dat Deuteronomium 16 die agtergrond van die gebeure in 2 Konings 23 vorm (Van Rooy 1990:8). Daar is ooreenkomste met die eerste Pasga, maar in die nuwe omstandighede word ook ander bepalings gemaak: Die Pasga moet gevier word op die plek wat God daarvoor uitgekies het en nie meer op enige plek in die land nie (vers 2,6,7, en volgens 2 Kon. 23:23 was dit Jerusalem), gedurende die sewe dae mag geen suurdeeg geëet word nie en al die suurdeeg moes uit die land verwyder word (vers 3,4,8). Nie net 'n lam, maar ook ander kleinvee en beeste kon geslag word (vers 2) en die sewende dag van die fees was 'n rusdag waarop geen werk gedoen mag word nie. Die volk moes hulle bekeer en terugkeer tot die ware verering van God (Van Rooy 1990:10). Die nie-nakoming hiervan het later juis tot die ballingskap gelei en die ballinge moes leer dat die blote onderhouding van 'n fees hulle nie kan vrywaar van die oordeel van God nie.

    Die Pasga is weer gevier na die terugkeer uit die ballingskap en na die ingebruikneming van die herboude tempel. Eers is volgens Esra 6:16-18 offers vir die tempelwyding gebring en daarna is die Pasga gevier (vers 20-22). Dit is opmerklik dat hierdie viering weer elemente van die instelling van die Pasga bevat, soos in Eksodus 12 beskryf is. In Esra 6 word die volgende aspekte vir die viering genoem: Die priesters en Leviete moes hulle gereinig het voor die lam geslag is (hier is ander diere weer uitgesluit), die deelnemers moes hulle van die onreinheid van die nasies afsonder en die viering van die Pasga word gekoppel aan die tempel. Die verbinding van die Pasga met die inwyding van die herboude tempel is van groot belang, want daarmee is die terugkeer uit die ballingskap eintlik afgerond (Van Rooy 1990:11). Die geadresseerdes in die tyd van Hiskia (2 Kronieke 30) word verseker van God se genade en nabyheid op voorwaarde dat hulle lewe om die tempel en die diens daarin moet draai.

    Daar is dus dwarsdeur die geskiedenis van God se volk, hoe hulle lewensomstandighede ookal verskil het, die aanduiding dat die Pasga 'n belangrike rol gespeel het. In die verskillende omstandighede het die Pasga die vorm begin vertoon wat dit in die tyd van Jesus kon gehad het. Die meeste elemente van die instelling is behou, maar dit het veral 'n sentrale fees, rondom die tempel geword, met allerlei rituele wat veral die priesters en Leviete geraak het.

     

    3. KONTINUÏTEIT EN DISKONTINUÏTEIT TUSSEN DIE PASGA EN NAGMAAL

    In die soeke na kontinuïteit tussen die Paasfees en die Nagmaal sal deeglik rekening gehou moet word met die feit dat daar ook diskontinuïteit is. Die Nagmaal vervul die Pasga en die fees van die Ongesuurde Brood en die lyn van die Pasga is nie in die Nagmaal deurgetrek nie, maar opgeneem (Versteeg 1980:34). Beide is godsdienstige feeste waarin deelname die vorm aanneem van eet en drink. Wat kontinuïteit betref kan aanvaar word dat die aflê van lewe in die sentrum is van Israel en die kerk van die Nuwe Testament se verstaan van die Pasga en Nagmaal onderskeidelik (Levering 2005:51). Tog bring die koms, lewe, sterwe, opstanding en hemelvaart van Christus 'n radikale verandering. Jesus se dood en opstanding transformeer op dramatiese wyse die huidige en toekomstige bestaansrealiteit van gelowiges. Trouens deelgenootskap aan sy dood en opstanding karakteriseer nou die persoonlike identiteit en spiritualiteit van sy volgelinge (Witvliet 2003:290).

    Liturgiese afleiding

    In die sentrum van die Nagmaalsviering staan die aflê van Christus se lewe ten behoewe en in die plek van die gelowiges en die liturg behoort dit elke keer uit te lig.

    3.1 Viering van God se groot verlossingsdade

    In die Pasga het dit gegaan om God se groot verlossingsdaad in die geskiedenis van Israel toe God hulle uit hulle doodsbestaan in Egipte gered het. Die Paasmaaltyd het gepaard gegaan met die verkondiging van die verlossingsdade en het 'n basis aan die volk gegee om God vir hulle toekoms te vertrou. Die Nagmaal vier die fees van die grootste verlossingsdaad van God in Christus en gee ook aan die nuwe volk van God geloof en hoop op God se verlossing van enige nood in die toekoms (Helberg 1990:18). Die sentrale feit van verlossing, wat deur die offers van die Ou Testament vooruit gewys word, word duidelik voortgesit deur die betekenisvolle simbole van die Nuwe-Testamentiese sakrament van die Nagmaal. Die woorde van die Instelling "gebreek vir julle" "vergiet vir baie" toon dat die dood van Christus 'n offer was tot die redding en in die plek van sy volk (Phillips 2003:196). Daarom is die Nagmaal 'n fees om God te eer as die enigste Regeerder en Verlosser, want die Nagmaal verkondig tegelyk God se mag, geregtigheid en liefde.

    Daar is ook verder kontinuïteit tussen die Pasga en die Nagmaal, insoverre beide fokus op God se verlossing van vyande. In die Pasga word gedink aan die lyding en smarte deur die onderdrukking van en die bevryding van die vyand van buite. Die volk moes haastig vertrek weens die eksterne gevaar wat hulle bedreig het. In die Nagmaal word ook gefokus op lyding en gevaar waarin mense verkeer. Die Nagmaal is juis ingestel in die nag waarin Jesus oorgelewer is aan die magte van hierdie wêreld, die magte van buite. Maar daar is ook 'n beslissende verskil:

    Holy communion celebrates deliverance not only from an 'outside' thread, but also from an 'inside' danger, including self-imposed danger. The concentration is no longer primarily on the exodus from an external thread and on the slaughter of the Passover lamb. Now the central place is occupied by the community's self-imposed danger and self-destruction - in addition to the external thread - and by Jesus' readiness to give his body and blood for 'his own' (Welker 2000:51).

    Die Pasga en die Fees van die Ongesuurde Brood was in die tyd van Jesus één fees: die eerste dag (14 Nisan) is die Pasga gevier as die eerste van die sewe dae van die Ongesuurde Brood. Reeds op 13 Nisan is alle suurdeeg verwyder as simbool met die breek van die verlede. Vir hierdie gesamentlike fees het die families na Jerusalem gekom en die slag van die lammers (van elke familiegroep) was deel van die offers wat by die tempel gebring is. Die bloed van die lammers is deur die priesters in emmers aangegee en dit is dan teen die voet van die altaar uitgegiet (Theiss 1994:30). Al was dit 'n saamtrek van die hele volk is die Pasga in familiegroepe gevier en dit was waarskynlik ook die rede dat Jesus en sy dissipels afsonderlik in die Bokamer vir die Pasga byeen was.

    Die maaltyd het begin as die hoof van die gesin of groep die eerste beker neem en daaroor die seën uitspreek, die kiddush (Routledge 2002:210). Die hoof sou dan uit die beker drink en dit aangegee na die res. Daarna het die rituele handewas gevolg en dit was 'n noodsaaklike voorbereiding vir die gebruik van die voedsel. Daarna het die deelnemers groen bitter kruie (karpas) in soutwater gedruk, wat simbolies aangedui het die drup van trane oor die verdrukking in Egipte, asook die aansmeer van die bloed aan die deurkosyne van die huise in Egipte (Tabory 1999:66). Op hierdie stadium het die jongste seun in die gesin die bekende vraag gevra: Wat onderskei hierdie nag van alle ander nagte? (vgl. Eks. 12:26; 13:14 en Deut. 6:20). Dan volg die verhaal van die uittog uit Egipte, wat soms ook die voorafgeskiedenis van die roeping van Abraham ingesluit het (Routledge 2002:214). Die verhaal is nie bloot vertel as iets wat ver in die verlede gebeur het nie, maar as 'n verhaal waarby almal wat tans teenwoordig is, betrokke is, so werklik dat hulle ervaar het hulle is in Egipte op daardie besondere nag. Almal ervaar die angs van die dreigende ondergang en almal beleef dan weer die vreugde van die redding (Versteeg 1980:32).

    Liturgiese afleidings

    3.1.1 Die mees kenmerkende karakter van die Nagmaal is dat dit 'n fees is waarin die grootste verlossingsdaad in die mens se geskiedenis gevier word. Omdat Christus Hom geoffer het in die plek van gelowiges dra die Nagmaal ook die karakter van 'n fees om God te eer. Die Nagmaal moet dus 'n vreugdevolle feesatmosfeer vertoon.

    3.1.2 Die Nagmaaldeelnemers vier die fees van verlossing van vyande van buite (Satan en trawante) maar veral verlossing van vyande wat binne die mens se hart selfvernietigend werk.

    3.1.3 Teenoor die Pasga met sy baie rituele, soos byvoorbeeld reiniging van priesters en die sprinkel van die bloed van lammers teen die altaar, vier Nagmaaldeelnemers die fees met simbole en in woorde van eenvoud en diepte.

    3.2 Viering deur die eet van die brood

    Die hoofmaaltyd van die Pasga het bestaan uit die tweede beker wyn, ongesuurde brood en die gebraaide lam. Die gebruik van ongesuurde brood (matsoot) dui op die haastige vertrek van die volk, asook van hulle smarte weens die verdrukking in Egipte (Carmichael 2006:49), daarom noem die skrywer van Deuteronomium dit die "brood van smarte" (Deut. 16:3). Nadat die huisvader ook die seën oor die brood uitgespreek het, breek hy dit en deel dit aan almal uit. Die Pasga liturgie sluit normaalweg die volgende woorde in: Dit is die brood van smarte wat ons voorvaders geëet het toe hulle gekom het uit die land van Egipte.

    These words point, by means of a figure of speach, to a real participation by the Jews in the act of redemption that their ancestors experenced firsthand (Mathison 2002:211).

    Lukas dui aan (Luk. 22:19) wat op hierdie stadium van die maaltyd gebeur het: "Toe neem Jesus die brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis". Jesus verwys hiermee na sy offer wat 'n nuwe en beter bevryding vir sy volgelinge sal bring. Sy volgelinge behoort ook by elke Nagmaalsviering nie bloot net aan die verlede te dink nie, maar moet sy teenwoordigheid, hulle smarte deur eie sonde veroorsaak en hulle bevryding op grond van sy versoeningsdood as realiteit hier en nou beleef.

    Die gebraaide paaslam was op die stadium dat die brood geëet is, reeds op tafel. Dit is dus merkwaardig dat Jesus nie enigiets oor die lam sê nie. Sy offer en die bloed wat Hy gestort het, sluit alle bloedige offers finaal uit. Die brood, waarby Jesus aansluit, was ook nie aan 'n tempelritueel gekoppel nie en geld dus vir alle plekke waar die Nagmaal gevier word (Theiss 1994:30). In die deel aan die een brood, word die eenheid van die gelowiges as een liggaam beklemtoon (1 Kor. 10:17). In Johannes 6 noem Jesus Homself die ware Brood wat uit die hemel neergedaal het en koppel dit aan die merkwaardige uitspraak van die eet van sy liggaam en die drink van sy bloed (Joh. 6:53).

    God belowe dat die wedergeborenes wat die brood eet en die wyn drink waarlik deel kry aan die lewe-gewende vlees en bloed van Christus.

    Therefore, according to Calvin, "those who receive this promise by faith are actually made partakers of his flesh and blood." I say that although Christ is absent from the earth, yet in the supper we truly feed on his body and blood - that owing to the secret agency of the Spirit we enjoy the presence of both. I say that distance of place is no obstacle to prevent the flesh, which was once crucified, from being given to us for food (Calvin treatise against Heshusius "Clear explanation of sound doctrine", aangehaal deur Mathison, 2002:31).

    Die koppeling van die Pasga met die fees van die Ongesuurde Brood het beteken dat die Israeliete tydens die Paasmaaltyd tegelyk die bevryding as hulle verbintenis om met God te wandel, beleef het (Motyer 2005:130). Hierdie aspek van die viering van die Nagmaal is ook duidelik uit die beskrywing van Paulus in 1 Korintiërs 5:6-8. Omdat die eintlike Paaslam geoffer is, is die gelowiges in 'n voortdurende fees van Ongesuurde Brood. In Christus was daar 'n nuwe en groter eksodus wat aan die Nagmaal gevier word (Leithart 2000:100). Paulus gee die bevel om die ou suurdeeg uit te wis en volg dit op met die bevel om die Nagmaal te vier (1 Kor. 5:7,8). Die ou suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde (kakia en ponhria, twee woorde wat elke soort "sonde" insluit) moet verwyder en vervang word met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.

    The Passover idea of 'leaven', then, is one of decisive newness: the old has passed away and all things have become new. (Motyer 2005:131).

    Soos die Jode vroeër tydens die Pasga fees al die spore van suurdeeg van hulle huise verwyder het, so beveel Paulus die gelowiges om al die suurdeeg van die bose tussen hulle verwyder. Hulle moet, soos die Israeliete, al die onsuiwerhede van hulle vroeëre heidense lewe verwyder (Coutsoumpos 2005:8).

    Liturgiese afleidings

    3.2.1 By die instellingswoorde, die breek, uitdeel en eet van die brood behoort die Nagmaalsdeelnemer sy eie smarte as gevolg van eie sonde, wat die helse smarte van Christus veroorsaak het, te beleef. In sy/haar hart moet hulle die sonde, pyn en hartseer wat eie sonde meebring aan die lewende Christus biddend afgee. Die besef dat die lewende Christus regstreeks bevryding daarvan gee, moet as werklikheid toegeëien word.

    3.2.2 Die gelowige moet in die viering werklik Christus deur die werking van die Heilige Gees met die mond van die geloof eet en so deel kry aan Christus Self, asook aan sy weldade (NGB art.35).

    3.2.3 Die feit dat die Pasga aan die fees van die ongesuurde brood gekoppel is, en die Nuwe Testament daarby aansluit, moet meebring dat die deelnemers aan die Nagmaal die verbintenis maak om voortdurend hulle lewens te heilig, ook as uitvloeisel van elke keer wat hulle die fees vier.

    3.3 Viering deur die slag van die paaslam

    Die lam is geëet met die voorskrif dat die hele lam geëet moes word of die reste daarvan moes verbrand word. Die laaste deel van die ete was daarom die eet van van die lam (Routledge 2002:219). Paulus (in 1 Kor 5:7-8) neem die tema van die paaslam op deur te verklaar dat Jesus "ons paaslam is". Tog is daar betekenisvolle verskille. Die sentrale figuur in die Pasga was die paaslam en verwysing hierna ontbreek geheel in die instellingswoorde van die Nagmaal. Die rede vir die radikale verandering is die sentrale handeling in die verlossingsgeskiedenis wat besig was om te ontvou toe die Here die laaste keer saam met sy dissipels aan tafel was, voor sy gevangeneming. Die Een na wie al die Paaslammers van die begin af heengewys het, moes nou geoffer word. Hierdie radikale verandering word duidelik in die laaste week voor die kruisiging. Sy triomfantelike intog in Jerusalem val saam met die inbring van die massas lammers in die stad en die slag van die lammers val saam met sy kruisiging. Verder verander die simbole, die tekens. Al was die betekenis van God se straf wat verbygaan as gevolg van die bloed van die offer dieselfde, word die bloed as teken finaal uitgeskakel. Die elemente van die Nagmaal bied die dood van Christus aan die sintuie van die gelowiges (Phillips 2003:197).

    3.4 Viering deur die drink van die beker wyn

    'n Nuwe moment in die maaltyd breek aan wanneer die derde beker met wyn gedrink word. Die eet van die Matzah (ongesuurde brood) en die drink uit die bekers wyn het 'n sentrale rol in die Pasgaviering gespeel (Carmichael 2006:343). Hierdie beker is oorspronklik die beker van bevryding genoem, na aanleiding van Eksodus 6:6b, asook die beker van seëninge (McKenna 2005:520). Want voordat die beker rondgestuur is, is daar die seën daaroor uitgespreek. Later is dit die beker van danksegging of die beker van lofprysing genoem. By die drink hiervan het die vreugde oor die verlossing deurgebreek. God word geprys vir sy gawe: "Ons loof U, Here onse God, Koning van die hele wêreld wat die hele wêreld voed met u goedheid, genade en barmhartigheid" (Versteeg 1980:33).

    By die eerste Pasga was die slag van die lam en die smeer van die bloed teen die kosyne die aanduiding van God se verlossing uit Egipte en die sluiting van die verbond by Sinaï, waardeur die verslaafde groep mense die identiteit van "volk van God" gekry het. Die dood van Jesus aan die kruis, wat aangedui word deur die beker wyn, open die weg vir die verlossing van God se nuwe volk oor die hele wêreld uit die slawerny van sonde en dood, versoening met God en die moontlikheid van 'n nuwe verbondsgemeenskap met God (Routledge 2002:219).

    By hierdie beker verklaar Jesus: "Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word" (Luk. 22:20). Christus bied aan sy dissipels brood en wyn aan. Dit word vooruit afgebeeld in die Pasga, wat eintlik net 'n herinneringsmaaltyd was. Soos die bloed die huise van dié wat verbygegaan is, gemerk het, so merk Jesus die dissipels as syne deur die beker te hou en te verklaar: "Hierdie beker is die Nuwe Verbond (Testament) in my bloed". Jesus bind sy dissipels so aan Homself in hierdie verbondsmaaltyd voordat Hy op die kruisweg en deur die dood na die lewe gaan. Paulus noem die beker 'n koinonia met die bloed van Christus (1 Kor. 10:16). Elke keer wanneer gelowiges deelneem aan die Nagmaal, is dit 'n versekering dat hulle in die Nuwe Verbond ingesluit is en die genade en verantwoordelikheid wat daaruit voortspruit, ontvang (Phillips 2003:198)

    In Exod. xii the very specialized pasah is brought into the wider context of the covenental theophanies of Gen. xv and Exod. xxxiii (Brock 2006:XI, 34).

    Deur die Pasga het God 'n uitverkore gemeenskap tot stand gebring, 'n volk wat radikaal geïdentifiseer is as 'n volk in verbondsverhouding met God (Levering 2005:95). 'n Verbond is verseël deur 'n rituele bekragtiging, 'n maaltyd (Witvliet 2003:75). Soos in die tot standkoming van die verbond by Sinai die storting van bloed van deurslaggewende betekenis was (Eks. 24:8), so is dit ook in die nuwe verhouding van God met sy nuwe volk, belowe in die profete, gegrond op die offer van Christus waarin die kerk deel ontvang in die Nagmaal. Die Nagmaal is nie 'n persoonlike saak tussen die individuele gelowige en Christus nie. Dit is 'n verbondsmaaltyd.

    Die belang van die verbondsmotief, wat bevestig word in die verwysings na die verbond in die instellingswoorde, word ook onderstreep deur die band tussen die Nagmaal en die Pasga. Die Pasga vier God se redding van Israel van die Egiptiese slawerny en dit vorm die basis van die verbondsverhouding tussen God en Israel. Die identifisering van Jesus as die Paaslam (1 Kor. 5:7) suggereer dat Jesus Self die basis is van die verbondsverhouding. Die ou simbole en die begrippe van paaslam en verbond het steeds betekenis, al is dit radikaal verander deur die persoon van Christus (Witvliet 2003:72).

    Dit is opmerklik dat elkeen van die Nuwe-Testamentiese weergawes van die Nagmaal verwys na die konsep van die verbond. Die beskrywings van Lukas en Paulus praat van die "Nuwe Testament in my bloed" (Luk. 22:20, 1 Kor. 11:25), verwysende na die profesie van Jeremia 31:31 dat die Here 'n nuwe verbond met Israel sal oprig. Matteus en Markus verhaal dat Jesus gepraat het van die "bloed van die verbond" (Mat. 26:28; Mark. 14:24) wat verwys na beide Eksodus 24:8, asook na die messiaanse profesie van Sagaria (9:11). Die feite bewys hoe betekenisryk die noem van die verbond was vir die verstaan van die Nagmaal in die Vroeë Kerk.

    There is a difference in meaning and terminology between the sayings: "This is my blood of the covenant" (Mk. 14:24) and "This cup is the new covenant in my blood" (1 Cor. 11:25). Each of the expressions presupposes that the shedding of the blood of the Lord Jesus Christ marks the beginning of a new covenant between God and humans. In Paul's account the ascription is made directly to the covenant (diaqhkh), in this case the "new covenant" which is mentioned in Jer. 31:31. Mark's version refers to the old covenant explicitly and the new covenant implicitly. In both formulas, the idea is almost the same. It is that the wine of the cup means Jesus' blood poured out in death, which ratified the new covenant (Coutsoumpos 2005:121).

    Wanneer Christus die beker wyn aan die deelnemers aan die Nagmaal bied, dan gee Hy nie net Homself, maar ook die beloftes wat die Nuwe Verbond inhou. In die Nagmaal is daar dus aksie. God handel in hierdie sakrament deur die beloftes van die nuwe verbond te verseël en te bekragtig. Die verbondsvolk handel in geloof en hoop en eien hulle deelname aan die verbond só toe (Witvliet 2003:84). Soos in die eksodus die maaltyd in die teenwoordigheid van God 'n verbondsverhouding in die vooruitsig gestel het wat beleef is deur die eeue van Israel se geskiedenis, so wys die deelname aan die Nagmaal, die bloed van die verbond, na die beloftes wat gelowiges elke dag lei en beskerm vanuit 'n verbondsverhouding (Witvliet 2003:84).

    Hier is die diskontinuïteit tussen die Pasga en Nagmaal ervaring ook duidelik. Wat alleen maar 'n belofte van 'n nuwe verbond was, is nou vervul in Christus en die nuwe verbond is bevestig deur die drink van die beker wyn.

    Calling the cup "the new covenant in my blood" makes what was promised to be present and, more specifically, personified in Christ himself (Witvliet 2003:70).

    Die begrip "verbond" wys ook na die verbinding van gelowiges met God en mekaar in die Nagmaal. Die Nagmaal is in die diepste sin van die woord beide gemeenskap met God en koinonia met mekaar. Soos die leiers van Israel in die teenwoordigheid van God geëet het by die bekragtiging van die verbond (Eksodus 24), so is die deelname aan die Nagmaal, die eet en drink in die teenwoordigheid van God, 'n teken van die eenheid met Christus en mekaar.

    Die lam moet in die teenwoordigheid van die hele volk geslag word, wat aandui dat die Pasga 'n gemeenskaplike godsdienstige handeling is. (Mathison 2002:183). Die Pasga was dus 'n maaltyd saam met ander waarin gemeenskap beoefen is met God en met mekaar. Die rede waarom die Pasga telkens hernuwe kon word, was geloof in God, geloof in sy reddende optrede in die verlede, hede en toekoms. Jesus se koms lê nog groter nadruk op die geloofsaspek en dit strek verder as Israel en sluit almal oor volksgrense in wat in Jesus glo, in Hom as die Een wat sy liggaam en bloed vir versoening geoffer het. Die Nagmaal wil almal wat in Christus glo, sonder onderskeid in geslag of nasionaliteit saambind in gemeenskap met God en met mekaar, in diensbaarheid aan God en mekaar (Helberg 1990:20).

    Liturgiese afleidings

    3.4.1 By die instellingswoorde, die uitdeel en drink uit die beker wyn behoort die Nagmaaldeelnemer die vreugde van deelname aan Christus se opstanding, te beleef. By die drink uit die beker van bevryding, danksegging en lofprysing moet die Nagmaaldeelnemer die lewende Christus, sy nuwe lewe en sy weldade toeëien.

    3.4.2 By die drink van die wyn moet die gelowiges die versekering dat hulle ingesluit is in die Nuwe Verbond, opnuut vasgryp.

    3.4.3 Die Nagmaalsdeelnemers moet die Nagmaal as verbondsmaaltyd met God en mekaar beleef, in dié verbondsverhouding die beloftes van die nuwe verbond toeëien, en as verbondsgenoot in aksie kom deur hulle lewenswyse en woorde.

    3.4.4 In die gesamentlike ontvang van Christus, versinnebeeld deur die tekens, en in die eet van dieselfde brood en die drink van dieselfde wyn, die inneem van dieselfde voedsel, behoort die Nagmaalsdeelnemer gemeenskap met God en mekaar te ervaar. Die karakter van die gemeenskap met mekaar word deur hulle geloofseenheid gestempel.

    3.5 Die voortgaande viering

    Na die drink van die derde beker is die tweede deel van die Pasga-hallel gesing (Pss. 115-118). Die sang het uitgeloop op die groot hallel van Psalm 136, waarvan die vader die eerste reël gesing het en die huisgesin telkens met die refrein ("Aan sy liefde is daar geen einde nie") geantwoord het (Versteeg 1980:33).

    Die Paasmaaltyd word afgesluit met die rondgaan van die vierde beker wyn. Heel waarskynlik het Jesus reeds by die derde beker die woorde uitgespreek (Mk. 14:25): "Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag dat Ek die nuwe wyn in die Koninkryk van God sal drink". Hierdie beker was geassosieer met die finale oorwinning van God oor hulle vyande en met die toekomstige seëninge van die volk van die Here. In plaas van drink uit die vierde beker, onttrek Jesus Hom na die tuin van Getsemane waar Hy met bloedsweet bid tot die Vader oor die ander beker, die beker van straf, wat Hy tot die laaste druppel sou moes drink (Mat. 26:39,42; Phillips 2003:213).

    Jesus het op hierdie stadium geweet dat Hy eers die beker van lyding en dood (Mat. 26:38,39; Mk. 14:35,36; Luk. 22:44) moes drink voordat die dag van finale oorwinning sal kom. Die Koninkryk van God het reeds in die wêreld van menslike koninkryke ingebreek en dit sal uiteindelik uitloop op die finale oorwinning en die maaltyd van die Bruidegom Christus met sy kerk by die voleinding. Wanneer sy werk volkome afgerond is, sal Jesus wyn drink saam met sy kerk. Die Nagmaal wys terug na die lyde, sterwe en opstanding van Jesus, maar veral na die lewende teenwoordigheid hier en nou deur sy Gees en Woord, en ook na die verwagting van die voleinding. Paulus druk dit so uit: "Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom" (1 Kor. 11:20).

    Jesus wys in Matteus 26:29 op die eskatologiese element van die Nagmaal wanneer Hy verklaar dat Hy nie weer van die vrug van die wynstok sal drink totdat hy dit met hulle nuut sal drink in sy Vader se koninkryk. Hierdie beker waarvan Hy nie drink nie is die vierde beker van die Pasga, en die weerhou van die drink daarvan wys op die onvoltooide (en voortgaande) karakter van hierdie eerste Nagmaal.

    The conclusion of this meal is not reached until Jesus drink the fourth cup with all believers at the marriage feast of the Lamb (Mathison 2002:214).

    Liturgiese afleidings

    3.5.1 Die Nagmaal behoort soos die Pasga van ouds uit te loop op die groot Hallel, die lofprysing en danksegging. Psalms 115 tot 118 en 136 vertolk die lofprysing uitnemend. Dan begelei die fees van die Nagmaal gelowiges tot 'n lewe van dank en kan die Nagmaal ook Eucharisti genoem word.

    3.5.2 In die Nagmaalsviering moet die perspektief op die wederkoms en die fees wat daarmee gepaard gaan (drink van die nuwe wyn in die Koninkryk van God) sterk op die voorgrond staan. Die fees moet 'n eskatologiese atmosfeer vertoon.

    3.6 Viering van 'n nuwe begin

    In Eksodus 12:1-8 het God 'n nuwe kalender vir Israel ingestel. Die maand Abib, wat min of meer vandag laat Maart en vroeg April is, moet nou die eerste maand van die jaar vir die Israeliete word. Hierdie aankondiging deur God beklemtoon die feit dat hierdie Pasga 'n nuwe begin vir die volk Israel inlui. En elke Pasga daarna behoort ook 'n herinnering te wees aan hierdie dramatiese nuwe begin.

    So important was the Passover for Israel that from that time onwards the year was reordered so that it began with the death of the Passover lamb (Mathison 2002:182).

    Dit is uiters belangrik om die instelling van die Nagmaal te verstaan in die konteks van die viering van die Pasga. Soos die oorspronklike Pasga die begin van 'n nuwe era vir die nuwe Israel beteken het, so het die instelling van die Nagmaal die begin van 'n nuwe era vir die nuwe Israel ingelui. Deur die getransformeerde Pasga van die eerste Nagmaal het Jesus aangekondig dat in en deur Homself die nuwe eksodus begin het (Mathison 2002:235). Die oorspronklike Pasga het die Israeliete gered van vernietiging en hulle bekendgestel aan 'n nuwe lewe. Hulle was nie meer slawe van 'n onderdrukker nie. Hulle was vry. So is dit ook met Christen gelowiges: Die dood van Christus was die beslissende ingryping wat hulle bevry van sonde en oordeel en 'n nuwe manier van lewe vir hulle open (Morris 1993:103). Die Nagmaal impliseer 'n nuwe lewe in gemeenskap met Christus, 'n lewe volgens God se gebooie, 'n lewe van voortdurende bekering, 'n lewe uit Christus wat die daaglikse bestaan rig en lei.

    Die Pasga was 'n groot jaarlikse fees vir groot getalle op een plek. Die Nagmaal was van die begin af deel van die weeklikse viering van gelowiges in hulle plaaslike gemeentes (Coutsoumpos 2005:104). Calvyn het geglo dat deur die Nagmaal weekliks te vier die geloof van die gemeente versterk sal word en dat hulle mekaar sou aanspoor om God se lof te sing en sy goedheid te verkondig. Daardeur sal ook die onderlinge liefde gevoed word en die band van eenheid van die liggaam van Christus sigbaar gemaak word. Hy beroep hom vir die weeklikse nagmaalsviering op die konsilie van Antiochië (341), van Toledo (400) en op Chrisostomos (Brienen 1987:214). Die Nagmaal behoort dus so dikwels as moontlik gevier word in die wagtyd "totdat Christus kom". Christus het deur sy eenmalige offer, sy dood en opstanding, die ruimtelike en tydselement van die viering gerelativeer (Helberg 1990:27).

    Liturgiese afleidings

    3.6.1 Die hele seremonie van slag van lammers, die sprinkel van bloed verval omdat die bloed van Christus eens-en-vir-altyd 'n genoegsame offer was. Met die Nagmaal breek 'n nuwe begin aan. Nagmaaldeelnemers moet, as uitvloeisel van die viering, die oopmaak van die nuwe begin aangryp deur te lewe in gemeenskap met Christus, deur daaglikse bekering en die vreugde om God in alles te dien.

    3.6.2 Die Pasga is een keer per jaar gevier. Die Nagmaal behoort as volledige deel van die Sondagliturgie weekliks gevier te word. Deur die Nagmaal weekliks te vier sal die geloof van die gemeente versterk word en hulle kan mekaar soveel sterker aanspoor om God se lof te sing en sy goedheid te verkondig. Daardeur sal ook die onderlinge liefde gevoed word en die band van eenheid van die liggaam van Christus sigbaar gemaak word.

    3.7 Viering deur te gedenk, te verkondig en te verwag

    Jesus gee by die breek van die brood die uitdruklike bevel: "Gebruik dit tot My gedagtenis" (Luk. 22:19). Ook in Eksodus 12:14 word die bevel ten opsigte van die Pasga gegee: "Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees". Daar sou aan die begrip "gedenk" (anamnesis) die betekenis gegee kon word van 'n nostalgie soos wanneer iemand na 'n vergeelde foto uit vroeër dae kyk. Maar dit is nie wat die begrip in die meer as 200 keer wat zakar in die Ou Testament voorkom, beteken nie (Motyer 2005:144). Uit die Ou-Testamentiese agtergrond is dit duidelik dat dit gepaard gaan met aksie en gekoppel is aan godsdienstige handelinge, soos feesvier en offer. Dit is nie 'n bloot intellektuele handeling nie, maar 'n herinnering in die gees wat bydra tot die rigting en aktiwiteit van die wil van daardie persoon. Dit het dus nie net met iets uit die verlede te doen nie, maar reken ook met die toekoms en gee daarom hoop. Die verlede en die toekoms ontmoet in die hede (Jones 1986:437). Wat die Pasga betref herinner die fees aan die pyn, vernedering en onderdrukking in die verlede, maar ook aan die bevryding en dit gee hoop vir die toekoms (McKenna 2005:505).

    Tog is daar 'n radikale diskontinuïteit in hierdie opsig tussen die Pasga en die Nagmaal. Die Pasga wys vorentoe na die verwagte verlossing van God se beslissende ingryping in die geskiedenis (die messias wat moet kom). Die Nagmaal daarinteen wys terug na God se beslissende ingryping in die verlossing deur die dood en opstanding van Jesus Christus.

    Die Pasga was 'n "Uittog uit Egipte"-offer en -fees, en wanneer dit eenmaal hierdie groot en eenmalige doel bereik het, kan dit vorentoe net onthou en gedenk word. Hierdie waarheid kom in sy volheid na vore in Jesus aan die kruis. Die eerste Pasga se eens-en-vir-altyd karakter is 'n voorafskaduwing van Jesus se offer "vir alle tye" vir die sondes van gelowiges (Heb. 10:12). Op Golgota, deur die offer van die liggaam en bloed van Christus eens-en-vir-altyd, is alles wat God vereis het en wat nodig was vir versoening van sondaars met God, volbring, só volkome dat geen verdere offers vir sonde moontlik is nie (Heb. 10:19). Só 'n offer benodig geen herhaling en kan net gedenk word.

    This is not just a reminder of the first supper, but it also enables us, the contempory participants, consciously to constitude ourselves all over again as the 'people of the upper room' and sit with Jesus at his feast. So it was with our brothers, sisters and parents of old, when they had come out from Egyptian slavery, annually reconstituted themselves as the Pass-over people, to remember and to revel in the recollection, truth and experience of their great salvation (Motyer 2005:150).

    In Eksodus 13:8 beveel Moses "Op daardie dag moet jy vir jou seun vertel 'Ek doen dit omdat dit is wat God aan my gedoen het toe ek Egipte verlaat het'." Deur so aan die maaltyd deel te neem word elke nuwe geslag gevoeg by daardie mense wat eens verlos is uit die slawerny van Egipte. Hulle moes deur die eeue die Pasga vier asof hulle self by die uittog teenwoordig was (Phillips 2003:196). Net so plaas die Nagmaal gelowiges in dieselfde tydsone as die gebeure op Golgota sodat die deelname aan die lyde en sterwe van Christus persoonlik en gemeenskaplik regstreeks beleef word (Witvliet 2003:286).

    Christus is as Gasheer, maar veral as Gawe, in die Nagmaal teenwoordig deur die werking van die Heilige Gees wat Christus Self en sy weldade aan gelowiges regstreeks kommunikeer.

    The Spirit is considered to bring mystical union with Christ in heaven, both his human and his divine nature. This was empasized by Calvin, who saw the believer spiritually and mystically communing with Christ in his entire person, body and blood. Thus he understood that believers are blessed in the Lord's Supper by being lifted up into heaven where Christ now is, to mystically feed upon him wholly (Phillips 2003:206).

    Dit is belangrik om te besef dat die sakrament nie net verbind is aan die werk van Christus in die verlede, aan die Christus wat gesterf het nie, maar ook met die huidige geestelike werk van Christus, met die lewende Christus in sy heerlikheid. Hy kommunikeer nie net die vrug van sy lyding en dood nie, dit is die verlossing van sonde en versoening met God, maar Hy gee sy lewe in gelowiges. Daarom behoort die gelowige nie net vir nou te leef nie, maar om ook en veral uit eskatologiese verwagting te leef, die verwagting om saam met Christus in die Koninkryk van die Vader te wees (Helberg 1990:25).

    Die Nagmaal kan dus in drie tydsdimensies verklaar word: Dit wys terug na die versoeningsdood van Jesus, dit versterk die gelowiges en laat hulle hulle persoonlike verhouding met Christus in die hede beleef en dit verwag die wederkoms van Christus in die toekoms (Leithart 2000:158).

    Liturgiese afleiding

    3.7.1 Wanneer die bevel gegee word om in die Nagmaal aan die offer van Christus te dink, is dit nie 'n intellektuele terugdink aan Christus aan die kruis nie, maar deur die harte opwaarts na Christus in die hemel te verhef, word die "gedagtenis" veel ryker. Christus is as Gasheer, maar veral as Gawe, in die Nagmaal teenwoordig deur die werking van die Heilige Gees wat Christus Self en sy weldade aan gelowiges regstreeks kommunikeer. Juis die belewing van sy teenwoordigheid versterk die verwagting om in heerlikheid by sy wederkoms die volmaakte feesmaal te vier.

     

    4. SAMEVATTING

    Uit die voorafgaande kan gekonstateer word dat daar uit die kontinuïteit en diskontinuïteit van die Pasga en die Nagmaal van die Here liturgiese afleidings vir die verryking van die Nagmaalsviering gemaak kan word. Hierdie afleidings kan lei tot verryking van die viering van die Nagmaal, 'n nuwe waardering van die Nagmaal, 'n groter frekwensie van Nagmaalsviering en verdere opwindende navorsing oor hierdie sakrament.

     

    BRONNELYS

    Brienen, T. 1987. De liturgie bij Johannes Calvijn. Zijn publicaties en zijn visies. Kampen: Uitgeverij De Groot Goudriaan.         [ Links ]

    Brock, S. 2006. An early interpretation of pasah:aggen in the Palestinian Targum. In: S. Brock, S (ed.) Fire from heaven. Studies in Syriac theology and liturgy. (Hampshire: Ashgate Publishing Company), pp.XI:27-34.         [ Links ]

    Brumberg-Kraus, J. 1999. 'Not by bread alone ...'. The ritualization of food and table talk in the Passover seder and in the Last Supper. Semeia 86:165-182.         [ Links ]

    Calvyn, J. 1988. [1575] Institusie van die Christelike godsdiens. Deel IV. Vertaal deur Simpson, H.W. Potchefstroom : CJBF.         [ Links ]

    Carmichael, C. 2006. The Passover haggadah. In:A-J Levine, D.C. Allison Jr. & J.D. Crossan. The historical Jesus in context. (Princeton : Princeton University Press), pp.343-356.         [ Links ]

    Coutsoumpos, P. 2005. Paul and the Lord's Supper. A Socio-historical investigation. New York : Peter Lang.         [ Links ]

    Dorn, C. 2007. The Lord's Supper in the Reformed Church in America. Tradition in transformation. New York : Peter Lang.         [ Links ]

    Garrish, B.A. 2002. Grace and gratitude. The eucharistic theology of John Calvin. Oregon : Wipf and Stock Publishers.         [ Links ]

    Green, J.B. 1999. Preparation for the Passover (Luke 22:7-13): a Question of redactional technique. In: D.E. Orton (ed.) The composition of Luke's gospel. Selected studies from Novum Testamentum. (Leiden:Brill), pp.154-168.         [ Links ]

    Harrington, D.J. 2006. The Paschal mystery. America 194(9):39-40.         [ Links ]

    Helberg, J.L. 1990. Die Pasga in die Nagmaal. Koers 55(1):17-31.         [ Links ]

    Jones, R.C. 1986. The Lord's Supper and the concept of anamnesis. Word and world 6(4):434-445.         [ Links ]

    Leithart, P.J. 2000. Blessed are the hungry. Meditations on the Lord's Supper. Moscow : Canon Press.         [ Links ]

    Levering, M.W. 2005. Sacrifice and community. Jewish offering and Christian eucharist. Oxford : Blackwell Publishing.         [ Links ]

    Mathison, K.A. 2002. Given for you. Reclaiming Calvin's doctrine of the Lord's Supper. Phillipsburg: P&R Publishing.         [ Links ]

    Mazza, E. 1999. The celebration of the Eucharist: The origin of the rite and the development of its interpretation. Collegeville: Liturgical Press.         [ Links ]

    Mckenna, J.H. 2005. Eucharist and memorial. Worship 79(6):504-522.         [ Links ]

    Morris, L. 1983. The atonement. Its meaning and significance. Leicester: Inter-varsity Press.         [ Links ]

    Motyer, A. 2005. The message of Exodus. The Bible speaks today. Leicester : Inter-Varsity Press.         [ Links ]

    Ngb: Nederlandse Geloofsbelydenis        [ Links ]

    Phillips, D. 2003. The Lord's Supper: An overview. In: P.G. Ryken, D.W.H. Thomas & J.L. Duncan III Give praize to God. (Phillipsburg: P&R Publishing), pp.193-121.         [ Links ]

    Routledge, R.L. 2002. Passover and Last Supper. Tyndale Bulletin 53(2):203-221.         [ Links ]

    Tabory, J. 1999. Towards a history of the Pasover meal. In: P.F. Bradshaw. & L.A. Hoffman (eds.) Passover and Easter. (Notre Dame: University of Nortre Dame), pp.64-70.         [ Links ]

    Theiss, N. 1994. The Passover feast of the New Covenant. Interpretation 48:17-35.         [ Links ]

    Van Rooy, H.F. 1990. Die Pasga en sy boodskap in die tyd van die Ou Testament. Koers 55(1):5-16.         [ Links ]

    Versteeg, J.P. 1980. Het avondmaal volgens het Nieuwe Testament. In: W. Van't Spyker, W. Balke, K. Exalto, & L. Van Driel (reds.) Bij brood en beker. (Goudriaan: De Groot), pp.9-64.         [ Links ]

    Vorster, J.M. 2009. Down memory lane to a better future: original research. HTS : Theological Studies, 64(1):1-6.         [ Links ]

    Wander, L.P. 2006. The Eucharist in the Reformation. Incarnation and liturgy. Cambridge : Cambridge University Press.         [ Links ]

    Welker, M. 2000. What happens in Holy Communion. Translated by J.F. Hoffmeyer. Grand rapids : Eerdmans.         [ Links ]

    Witvliet, J.D. 2003. Worship seeking understanding.Windows into christian practice. Grand Rapids: Baker Academic.         [ Links ]