SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.31 issue1Religion: a means to addiction or to healing? author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Acta Theologica

On-line version ISSN 2309-9089
Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.31 n.1 Bloemfontein Jun. 2011

 

Die Suid-Afrikaanse Kapelaansdiens (SAKD) en staatsbeleid tydens die Grensoorlog,1966-19891

 

The South African Chaplaincy Service (SACHS) and state policy during the Border War, 1966-1989

 

 

Bredenkamp II; Wessels AII

IIzette Bredenkamp, Departement Geskiedenis, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: bredenis@ufs.ac.za
IIProf. André Wessels, Departement Geskiedenis, Fakulteit Geesteswetenskappe, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein en besoekende genoot, University of New South Wales at the Australian Defence Force Academy (UNSW@ ADFA), Canberra. E-pos: wesselsa@ufs.ac.za

 

 


Trefwoorde: Suid-Afrikaanse Kapelaansdiens; Grensoorlog; Apartheid; Kerk-staat-verhoudinge; Bonusobligasieskema.


ABSTRACT

During the Border War (1966-1989), also known as the Bush War or the Namibian War of Independence, the accusation was made that chaplains serving in the South African Chaplaincy Service (SACHS) endorsed and propagated the policy of apartheid. This article gives an historical perspective on the question whether chaplains were able to function independently, in accordance with the doctrines of their respective denominations, or whether they became liveried servants to state politics during the Border War. Diverse cultures, underpinning different socio-political viewpoints, were involved, as is evident from the oral testimonies of chaplains serving during the time of the war. By reassessing historical identities and interpreting the nature of the controversial values and sentiments that prevailed during the specific timeframe, this article endeavours to create a better understanding of the past.

Keywords: South African Chaplaincy Service; Border War; Apartheid; Church-state relations; Bonus obligation scheme.


 

 

1. INLEIDING

Met die vestiging van 'n verversingstasie vir die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) aan die Kaap in 1652 het Jan van Riebeeck ook Westerse konsepte soos staat en kerk na die suidpunt van Afrika gebring. Die strydvrae betreffende die onderlinge verhouding tussen hierdie instellings en die invloed daarvan op die gemeenskap het nie agterweë gebly nie. Tydens die Grensoorlog (1966-1989) is die aantyging gemaak dat kapelane wat in die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) werksaam was, die destydse staatsbeleid van apartheid sanksioneer en uitdra, en die onreg wat teenoor "nie-blankes" gepleeg word, goedkeur. Die eis is gestel dat die Suid-Afrikaanse Kapelaansdiens (SAKD) gedemilitariseer moet word. Ds. N. du Plooy, 'n oud-kapelaan, het in 1997 voor die Waarheids- en Versoeningskommissie getuig dat kerk-staat-verhoudinge tydens die Grensoorlog 'n "onheilige huwelik" was (The Citizen 1997).

Geskiedenis as vakgebied poog om die verlede te begryp deur nie alleen die sosio-politieke faktore wat 'n bepaalde historiese konteks gevorm het, te verklaar nie, maar ook groepe en individue se vereenselwiging met bepaalde historiese omstandighede. Moreel-etiese kwessies is dikwels gekompliseerd en veelkantig, veral in 'n multikulturele omgewing soos dié van Suid-Afrika. Nie alleen reflekteer mense hul sosiale, politieke en ekonomiese omgewings nie, maar die wesenseie van sosiale instellings is in die sosiale realiteite van hul lidmaatskap gesetel (vgl. Villa-Vicencio 1988:ix, 9). Hierdie artikel wil bepaal wat die verhouding tussen die SAKD (as verteenwoordiger van die verskillende kerkgenootskappe in Suid-Afrika) en die staatstrukture tydens die Grensoorlog was, en of kapelane wel die destydse staatsbeleid van apartheid gedienstig was. Vrae wat hier ter sprake kom, sluit die volgende in: Wat was die historiese verhouding tussen kerk en staat in Suid-Afrika? Hoe het kerk-staat-verhoudinge die funksionering van die SAKD beïnvloed? Kon kapelane van die SAKD 'n onafhanklike standpunt met betrekking tot staatsbeleid tydens hul bediening handhaaf, of is hulle geïndoktrineer om staatsbeleid te verkondig? In watter mate was daar ooreenkomste/verskille tussen die verskillende kerkgenootskappe in die SAKD in hierdie verband?

Mondelinge getuienis word, as primêre bron, met inligting uit ander bronne geïntegreer om te bepaal wat die algemene siening van kapelane oor die rol van die staatsbeleid van apartheid in hul bediening was.

 

2. 'N HISTORIESE BLIK OP KERK-STAAT- VERHOUDINGE IN SUID-AFRIKA

Kerk-staat-verhoudinge is reeds sedert die Hervorming in die sestiende eeu in Europa die onderwerp van indringende debatvoering. Die vestiging van die Christelike godsdiens as staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk in die vierde eeu na Christus het beteken dat die kerk onder staatsbeheer was. Tydens die Middeleeue het daar 'n verandering in hierdie verhouding gekom, en die Rooms-Katolieke Kerk het beheer oor die staat geneem (Hayes, Baldwin & Cole 1964:46, 51). Reformatoriese teoloë het hierdie verhouding bevraagteken, en daar was eenstemmigheid dat die kerk nie binne die invloedsfeer van die staat mag optree nie. Uitsluitsel kon nie oor die aard van kerk-staat-verhoudinge bereik word nie, en verskeie teologiese argumente is met verloop van tyd hieroor geformuleer (vgl. Fowler 1988:8-9, 19-29).

Johannes Calvyn (1509-1564) het staat en kerk as verskillende same-lewingsverbande gesien, elk met sy eie domein en gesag. God se soewereiniteit oor elkeen was egter ononderhandelbaar. Sou die staat onbybelse praktyke goedkeur, moet die institusionele kerk buite sy domein tree om die staat tot verantwoording te roep. Calvyn se leerstellings is in 1561 in die Nederlandse Geloofsbelydenis, 'n basisskrif van die Nederlands-gereformeerde tradisie, verwoord. Nederland het nie 'n staatskerk gehad nie, maar die rol wat die Calvinisties-gereformeerde Kerk in die totstandkoming van die staatsbestel onder Willem van Oranje in 1581 gespeel het, het 'n nou band tussen kerk en staat gevestig (Kistemaker 1966:33-34, 69).

Die VOC was 'n geoktrooieerde Nederlandse maatskappy en die kerkstruktuur aan die Kaap is volgens Nederlands-gereformeerde voorbeeld georganiseer. Nederlandse gebruike het die Kaapse leefwyse bepaal en die kultuur van 'n nuwe taalgroepering (die Afrikaners) wat uit Nederlands aan die Kaap ontstaan het, gevorm. Tot in 1780, toe die Lutherse Kerk godsdiensvryheid verkry het, was die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) die enigste kerkgenootskap aan die Kaap. Predikante het die rang van onderkoopman gehad en is as amptenare van die VOC vergoed. Tydens die kort Bataafse bewindstydperk (1803-1806) het die kerkorde van 25 Julie 1804 aan die regering die reg verleen om die kerklike leer te beoordeel en teen te staan indien bevind word dat dit die samelewingsordening tot nadeel strek. As hoofstroomkerk van die Kaapse gemeenskap is NG-leraars deur die regering besoldig en van standplase voorsien. Kerkraadslede moes deur die goewerneur goedgekeur word, en hy het die mag gehad om gekose lede te vervang (Jooste 1958:11-13, 15-17). Hoewel die Nederlands-gereformeerde teologie 'n eie domein vir kerk en staat bepaal het, het die geskiedenis 'n band tussen hierdie twee instellings geskep wat ook aan die Kaap beslag gevind het. Die strategiese oorname van die Kaap deur Brittanje in 1806 het hierdie band bekragtig.

Die Kerk van Engeland (Anglikaanse Kerk) het in 1534 as staatskerk van die Rooms-Katolieke Kerk afgeskei ná 'n twis tussen die Britse koning en die pous. Die Britse monarg is as konstitusionele hoof van die Anglikaanse Kerk aangestel en tydens die bewind van Elizabeth I (1558-1603) is staatsgesag oor die kerk uitgebrei. Die Britse publiek het monargale beslissings oor godsdiens as 'n voorvereiste vir burgerlike vrede aanvaar (Hayes, Baldwin & Cole 1964:362, 365-367). Die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika (Church of the Province of South Africa) het noue bande met Brittanje behou en ampsdraers is hoofsaaklik vanuit Brittanje gewerf (Clarke 2008:4). Die meeste Afrikaners het egter hul lidmaatskap van die NG Kerk behou, en aangesien laasgenoemde onder die VOC- en Bataafse bestuur in 'n groot mate aan die staat ondergeskik was, het die nuwe bewindhebbers die status quo gehandhaaf.

Die konsep van 'n staatskerk is nooit in Suid-Afrika onderskryf nie, maar dit het nie verhoed dat Brittanje staatsbetrokkenheid by kerksake uitgebrei het nie. Sir David Baird, waarnemende goewerneur vanaf 1806 tot 1807, het verklaar dat die goewerneur, as verteenwoordiger van die Britse monargie, in alle opsigte as hoof van die kerk beskou moes word. Tydens die goewerneurskap van sir John Cradock (1811-1814) is opdrag gegee dat daar tydens elke erediens vir die Britse koningshuis gebid moet word. Sy opvolger, lord Charles Somerset (1814-1826), het, ongeag besware, bykomende bevoegdhede aan die staatsverteenwoordigers in die Kaapstadse kerkraad toegewys (Kotzé 1984:128-131). Staatsbeheer oor die NG Kerk is eers in 1843 beeïndig (Scholtz 1984:214), maar staatsgeld, waaruit onder andere predikante se salarisse betaal is, is nog tot 1875 aan beide die Anglikaanse Kerk en die NG Kerk oorbetaal (Giliomee 2004:167).

Die kompleksiteit van kerk-staat-verhoudinge het duidelik geword toe godsdiens nie alleen die verhoudingsmaatstaf met betrekking tot die relasie tussen die koloniste en die inheemse volke aan die Kaap geword het nie, maar ook die bepalende faktor by die toekenning van burgerregte. Prinsipieel was die vroeë koloniste nie rasbewus ten opsigte van die inheemse volke nie, maar kultuur- en beskawingsverskille het daartoe gelei dat die term "Christen" teenoor "heiden" te staan gekom het, en dat kerklidmaatskap met politieke status gelykgestel is (Van Schoor 1961:15). Onder Nederlandse beheer was daar nooit sendingaksies nie (Scholtz 1967:129). Liberale standpunte en sendingbetrokkenheid by die inheemse volke het egter 'n integrale deel van die Britse kerktradisie uitgemaak en sendelinge het dikwels in botsing met die Afrikaanse koloniste gekom (Villa-Vicencio 1988:18). Gepaardgaande met wrewel oor Britse kulturele, politieke en ekonomiese beleidstoepassings het dit aanleiding gegee tot die groei van Afrikanernasionalisme, wat gedurende die negentiende eeu met die vestiging van twee onafhanklike Afrikanerrepublieke in die binneland konkrete neerslag gevind het. Die NG Kerk het aanvanklik nie die vestiging van Afrikaners in die binneland gesteun nie en twee nuwe Afrikaanse kerkgenootskappe het tot stand gekom, naamlik die Nederduitse Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerk (Du Plessis 1984:262). Al drie kerkgenootskappe het 'n sterk Calvinistiese inslag gehad en met die uitbreek van die Grensoorlog het die meeste Afrikaanssprekendes aan een van hierdie drie kerke behoort. Eerw. J. Daines, 'n Anglikaanse kapelaan, het Afrikaanssprekende kapelane in November 1982 as "Biblical fundamentalist Calvinists" beskryf (The Sowetan 1982).

Verskeie historici wys daarop dat Calvinisme die grondmotief van Afrikanernasionalisme was en die Afrikaner se kenmerkende volksaard bepaal het (vgl. Van Schoor 1961:14-15, Scholtz 1967:185-189). Afrikanerpioniers het hulself met die lotgevalle van die Ou-Testamentiese Israel vereenselwig as synde 'n uitverkore volk met 'n spesiale roeping om die Christendom aan die suidpunt van Afrika te vestig. Net soos in die geval van Israel, het die beskouing ontstaan dat die Afrikaner se voortbestaan alleen deur nie-vermenging gewaarborg sou word; 'n siening wat ontkiem het uit die beskawingsverskille en volkereverhoudinge aan die Kaap (Van Schoor 1961:15). Die Calvinisme se veronderstelde ondersteuning van Afrikanereksklusiwiteit het godsdienstige oortuigings en volkstradisies teen imperiale en liberale invloede beskerm (Krüger s.a.:540). Op 22 Mei 1917 verklaar genl. J.C. Smuts (1917:82-83) tydens 'n banket-ete in Londen:

We have English fellow-citizens who will always remain English ... We have also a large section of my own people, the Dutch people in South Africa, who think that the best policy for them is ... to remain isolated. They think that in that way they will be better able to preserve their language, their traditions, and their national type, and that they will in that way not be swallowed up and be submerged ...

Calvinisme het Afrikaners met hul Europees-Westerse oorsprong verbind, en 'n onderlinge lotsgebondenheid gevestig wat deur die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) versterk is. In die na-oorlogse jare het die verweefdheid van Calvinisme en Afrikanernasionalisme in aspekte soos Christelik-nasionale onderwys na vore gekom (De Villiers 1971:367-370). Sosiaal-maatskaplike omstandighede en die armblankevraagstuk het kerklike betrokkenheid by die Christelik-nasionale volksbeweging verseker en daartoe bygedra dat die Afrikaans-gereformeerde kerke algaande 'n volkskarakter aangeneem het (Davenport & Saunders 2000:247). In watter mate dit die geval was, blyk duidelik uit 'n voorstel van dr. D.F. Malan wat feitlik eenparig by 'n NG Kerk-konferensie in Januarie 1915 in Bloemfontein aanvaar is. In die voorstel word verwys na die NG Kerk se "innige" verbondenheid met die Afrikanervolk. Behalwe 'n algemeen-Christelike roeping, het die kerk 'n spesiale roeping om te waak oor die besondere belange van die Afrikanervolk deur, enersyds, hulle te leer om God se hand in hul wording en geskiedenis te sien en, andersyds, 'n nasionale roepings- en bestemmingsbesef wat die geestelike, sedelike en stoflike vooruitgang van 'n volk bepaal, lewend te hou (Giliomee 2004:336).

'n Waarneming in die vroeë vyftigerjare deur dr. W.A. Visser t'Hooft, die Wêreldraad van Kerke se Algemene Sekretaris, het ook vir die verhouding tussen die Afrikaans-gereformeerde kerke en die staat tydens die Grensoorlog gegeld:

Among the Afrikaners, church, nationhood, language and politics are so interconnected that it is extremely hard to arrive at a clear distinction. ... The Dutch Reformed Churches are often accused of playing an important role in politics ... my own impression is that the real danger is just the opposite. Owing to historical cooperation between Church and nation, the Church is far too much inclined to support uncritically the decisions and policies of the Afrikaans political leaders (Clarke 2008:116-117).

Die Engelse kerkgenootskappe se identiteit is nie binne die harde werklikheid van die Suid-Afrikaanse sosiaal-politieke omgewing gevorm nie, maar via die teologiese en kulturele bande wat hulle met Brittanje gehad het. Hulle het aanvanklik 'n gematigde, neutrale, laissez-faire-beleid gevolg, wat hulle vir die grootste deel van die twintigste eeu sonder invloed in die Suid-Afrikaanse sosiaal-politieke opset gelaat het. Daarbenewens het die verbintenis tussen die Afrikaans-gereformeerde kerke en Afrikanernasionalisme samewerking tussen Engelse en Afrikaanse denominasies tot die minimum beperk (Villa-Vicencio 1988:14-15, 23).

Die politieke naweë van die Anglo-Boereoorlog het ook sy stempel op die vestiging van 'n kapelaansdiens in die SAW afgedruk. Tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het Afrikaners, as gevolg van sterk anti-Britse sentimente, weinig belang by die kapelaansbediening gehad, en Britse gebruike het die deurslag gegee. Hierdie situasie het gedurende die sestigerjare verander. Kol. (ds.) J.A. van Zyl het homself beywer om die kapelaansbediening 'n volwaardige plek in die SAW te laat inneem en in 1970 het hy die eerste kapelaan-generaal van die SAKD geword. Die SAKD se taak was die geestelike bediening van weermaglede en hul gesinne. Dit is in denominale verband gedoen en bekeringsywer is nie toegelaat nie. Kapelane is aangestel in ooreenstemming met lidmaatgetalle, en tydens die Grensoorlog het NG Kerk-kapelane ongeveer 70% van die SAKD uitgemaak (Potgieter 1971:188, 212, 239, 346). As sosiale instelling het die SAKD dus in 'n groot mate die lewens- en wêreldbeskouing van die Afrikaans-gereformeerde kerke geadem.

Eerw. R. Thornley, 'n Metodiste-vlootkapelaan, meld dat hoewel hy tydens sy aanstellingsonderhoud warm ontvang is en die onderhoud in Engels gevoer is, hy deurgaans bewus was van die feit dat "the Dutch Reformed Church ruled". Hy vertel dat geen sosiale funksies tien dae voor die Pinksterfees in die SAKD toegelaat is nie. Tog was hierdie kerkfees slegs in die Afrikaans-gereformeerde kerktradisie belangrik. Talle kerkgenootskappe het die week vanaf Palmsondag tot Opstandingsondag gevier, maar ten spyte van versoeke in dié verband is hierdie kerkfees nie op dieselfde wyse in die SAKD beklemtoon nie. Hy wys verder daarop dat die meeste aanstellings in die Kapelaanskantoor NG Kerk-kapelane was, en dat die kapelaan-generaal self, tot 1998, altyd uit die NG Kerk gekom het (Thornley 2008).

 

3. DIE SAKD EN AANTYGINGS OOR KERK-STAAT- VERHOUDINGE TYDENS DIE GRENSOORLOG

Tydens die Grensoorlog het twee kontroversiële sake opgeduik wat die kerk-staat-verhoudinge binne die SAKD in die soeklig geplaas het. Die een was die bonusobligasieskema waarna hier net kortliks verwys sal word. Die tweede was die aantyging dat kapelane die beleid van apartheid gepropageer en die onreg teenoor swart mense gekondoneer het, met die gepaardgaande eis dat die SAKD gedemilitariseer moes word.

3.1 Bonusobligasies

In 1977 het die Minister van Finansies, senator Owen Horwood, 'n bonus-obligasieskema bekend gestel om ekstra fondse vir die verdedigingsbegroting in te samel. Hierdie skema is deur baie predikante veroordeel, aangesien 'n lukraakbonus, bo en behalwe die renteverdienste, aan deelnemers uitbetaal is. Die saak is na die kapelaan-generaal, genl.-maj. Van Zyl, verwys vir uitsluitsel. Ná gesprekke met verskeie prominente kerkleiers is 'n persverklaring uitgereik wat die groen lig aan bonusobligasies gegee het. Daar is gewys op die feit dat die fondse vir die beskerming van die Christelike beskawing en die behoud van jong lewens in die operasionele gebied aangewend word. Die SAKD het R35 000 in bonusobligasies belê. 'n Studiestuk wat in Maart 1979 deur die SAKD vrygestel is, het geen etiese of religieuse voorbehoude ten opsigte van die skema bevat nie.

Kritici het hierdie standpunt gesien as 'n bewys van die simbiotiese verhouding tussen die SAKD en die staat, en die gebrek aan objektiwiteit by die SAKD. Tot met die opheffing van die skema in 1984, het dit aanleiding tot tweespalt in kerke gegee. Sommige predikante het dit as dobbelary veroordeel en hul lidmate versoek om nie daaraan deel te neem nie. Ander het genl.-maj. Van Zyl ondersteun en beleggings in bonusobligasies as 'n vorm van patriotisme gesien (Wessels & Bredenkamp 2009:334; Van Niekerk 2002:193-194).

3.2 Demilitarisering van die kapelaansbediening

Die Grensoorlog het in die teken van die dekolonisasie van Afrika gestaan, en K. Smith en F.J. Nöthling (s.a.:382) wys daarop dat hierdie sosiaal-politieke tydsgees die juridiese regverdiging van die Suid-Afrikaanse administrasie in Suidwes-Afrika (SWA, tans Namibië) oorskadu het. Die oorlog is in 1966 as 'n laeintensiteit-insurgensieveldtog deur die South West Africa People's Organisation (SWAPO) begin om, deur sabotasie en intimidasie, 'n swart meerderheidsregering aan bewind te stel. Aanvanklik is die polisiediens ingespan om die SWA-grens te verdedig, maar in April 1974 is die taak aan die SAW oorgedra en het die oorlog in 'n volskaalse militêre stryd verander (vgl. Steenkamp 1989:18-23).

Die aantyging dat kapelane staatsbeleid ondersteun en onreg teen swart mense gekondoneer het tydens die Grensoorlog, en die gepaardgaande eis om die demilitarisering van die SAKD, hou direk verband met die Afrikaner-eksklusiwiteit wat in 1948 deur die apartheidsbestel vergestalt is. Die algemene Afrikaans-gereformeerde opvatting van apartheid was een van gelykwaardige ontwikkeling op 'n vertikale skeidingsvlak in 'n eie gebied, en die Nederlandse teoloog en politikus Abraham Kuyper (1837-1920) se argument dat God verskillende volke by die toring van Babel gewil het, is in 1948 deur die Transvaalse NG-kerk sinode as teologiese regverdiging vir apartheid gebruik. Hierna het dié argument toenemend in Afrikaanse politieke, kulturele en geestelike kringe opgeduik (vgl. Kotzé 1961:71-73; Giliomee 2004:430).

Internasionaal is die beleid gekritiseer as diskriminerend en 'n miskenning van swart mense se menseregte, en aan die tuisfront het dit aanleiding gegee tot openbare onrus wat met verloop van tyd radikaler geword het (vgl. Coetzer 1991:281). Hierdie onrus was ook gewortel in die dekolonisasie-ideale van Afrika. In die wyer globale arena het die Unie van Sosialistiese Sowjet-Republieke (USSR) Afrika-nasionalisme gebruik om sy buitelandse beleid van 'n ideologiese wêreldrewolusie te bevorder (vgl. Keylor 1992:303, 309). In Suid-Afrika het die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) aksies soos die Freedom Day-betogings teen apartheid gefinansier (Coetzer 1991:281). Bevrydingsbewegings, onder andere die Marxistiese Angolese Movimento Popular de Libertação de Angola (Populêre Beweging vir die Bevryding van Angola, MPLA) teen wie die SAW in die Grensoorlog te staan gekom het, het militêre hulp van die USSR ontvang, terwyl SWAPO-guerrillas in kommunistiese state soos die USSR, Rooi China en Noord-Korea opgelei is (Katjavivi 1990:84-85). Met verloop van tyd het leiers soos P.W. Botha gewag gemaak van 'n "totale aanslag" teen die Afrikaner en sy Calvinisties-Christelike erfenis. Persberigte het beklemtoon dat Suid-Afrika die teiken van internasionale kommunisme geword het. Binnelandse onrus was hierby inbegrepe. Oorgawe sou chaos en 'n kommunisties-gedomineerde regering beteken (vgl. Slabbert 1989:110-111). Plaaslik het dit tot 'n kruisvaartingesteldheid teen kommunisme aanleiding gegee, en die Suidwesgrens is as die laaste vesting teen kommunistiese invloedsfere in suidelike Afrika gesien (vgl. Giliomee 2004:499).

Aanvanklik het die Engelse kerkgenootskappe min teenstand teen segregrasie gebied, maar algaande het hulle meer krities geword en, in solidariteit met hul swart lidmate, betrokke geraak by die burgerlike-ongehoorsaamheidsveldtog teen apartheid. Die oortuiging dat die Suid-Afrikaanse sekuriteitsmagte regeringsinstrumente is wat apartheid intakt moet hou, het gegroei (Clarke 2008:243-247). Engelssprekende kapelane is toenemend in hul eie kerkgenootskappe verwyt dat hulle betrokkenheid by die SAW legitimiteit aan die beleid van apartheid verleen het. Die eis is gestel dat die kapelaansbediening gedemilitariseer en vanuit 'n poel siviele kapelane, wat op 'n roterende basis vir kort tydperke grensdiens sou verrig, vry van enige insignia wat hulle met die SAW mag verbind, bedryf word. Die Anglikaanse Kerk het die inisiatief in dié verband geneem. In Julie 1985 is 'n mosie wat by die Anglikaanse sinode in Pietermaritzburg ingedien is, en wat tegnies die Anglikaanse bediening in die operasionele gebied sou opskort, op die nippertjie verslaan. Aspekte wat onder skoot gekom het, was die kapelaansuniform, wapenopleiding, staatsbesoldiging, sekuriteitsklaring en die Militêre Dissiplinêre Kode. Die algemene klag was dat hierdie aspekte die kapelaan ondergeskik aan staatsbeheer stel en dat hy daarom nie anders kon as om staatsbeleid te gehoorsaam nie (Wessels & Bredenkamp 2009: 334-335).

Kapelane uit Engelse kerkgenootskappe, onder andere eerw. D. Williams en eerw. F. Celliers, vertel dat hulle tydens sinodesittings deur apartheidsaktiviste vir kritiek uitgesonder is. Daar was egter ook diegene wat die kapelaansbediening wou behou omdat jong dienspligtiges wetlik verplig was om diensplig te doen. Engelssprekende kapelane het ervaar dat "some got very personal and insulting, while others did all in their power to defend us" (Williams 2008; Celliers 2008).

Hoewel die Presbiteriaanse Kerk nie ten gunste van demilitarisering was nie, het hulle 'n ondersoek na alle aspekte van die kapelaansbediening aangevra (The Star 1985a). Vader B. van Rensburg van die Rooms-Katolieke Kerk (Distrik Ses) het openbare steun gewerf deur op 'n eetstaking te gaan (The Star 1985b). Gedurende die tagtigerjare het die End Conscription Campaign (ECC) in intensiteit toegeneem en verskeie hofsake van politieke gewetensbeswaardes het gevolg (vgl. The Cape Times 1985).

Eers in die laat-tagtigerjare het die debat na die Afrikaans-gereformeerde kerke oorgespoel. In 1989 het prof. D. Bosch, hoogleraar in Sendingwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika, by geleentheid van 'n gespreksgroep, Reforum, kapelane daarvan beskuldig dat hulle nie die evangelie verkondig volgens kerklike oortuigings nie, maar dat hulle hul eersgeboortereg verloën deur hul verbondenheid aan die staatstelsel. By dieselfde geleentheid het mnr. N. Jackson, 'n gewetensbeswaarde, die oorlog met apartheid verbind en gestel dat die oorlog nie meehelp tot 'n grondwetlike oplossing nie omdat dit teen een van die partye wat deel van die oplossing moet wees, naamlik die African National Congress (ANC), gevoer word (Beeld 1989). In 1990 het twee NG Kerk-dienspligkapelane, M. Maree en L. Erasmus, die kapelaansbediening gekritiseer as synde 'n verlengstuk van die staat. Hulle was van mening dat kapelane slegs motiveringsoffisiere was wat nie hul Woordbedieningsroeping kon uitleef nie, en dat die SAKD se standpunte, veral met betrekking tot die bevrydingsteologie, tred met die struktureel-maatskaplike onreg in die gemeenskap verloor het (Lake 1990:3).

Dr. G. van der Watt, 'n oud-kapelaan, het homself algaande ontuis in 'n Christelik-nasionale milieu gevoel. Hy meen dat daar tydens basiese opleiding duidelike pogings was om kapelane op 'n bepaalde manier te laat dink:

...ek het my dikwels erg vervies ... ek het gevoel hul wil ons motiveringsoffisiere maak ... Jy het gevoel jy loop partymaal soos 'n ou skoothondjie agter die bevelvoerder aan ... Ek weet nie of dit 'n poging was om te sê, kerk en staat vat hande; sien God is aan ons kant, God sal sorg, dis God se oorlog dié... dit het my geïrriteer...

Hy vertel dat hy by geleentheid opgestaan en die lesingoffisier versoek het om nie neerhalend na swart mense te verwys nie. Daar was 'n geskokte stilte, want:

...daar was 'n bangwees vir die sisteem wat magtig was ... Jy daag dit nie sommer uit ... by baie ouens was dit die dilemma; jy is aan die een kant bang, aan die anderkant is jy kriewelrig... (Van der Watt 2008).

In 1997 het ds. N. du Plooy die NG Kerk voor die Waarheids- en Versoeningskommissie uitgesonder vir sy onvoorwaardelike identifisering met en deelname aan die Grensoorlog; volgens hom, die gevolg van apartheid (The Citizen 1997).

Debattering van die kwessie het twee sosiaal-politieke neigings teenoor mekaar gestel. Die Afrikaanse kerke het die eis vir demilitarisering in dieselfde asem as die kommunistiese bedreiging genoem, terwyl dit vir die Engelse kerkgenootskappe 'n protesstem teen die apartheidsbeleid was. Beide standpunte is in die SAKD - as mikrokosmos - verteenwoordig, en die vraag ontstaan: Hoe is hierdie standpunte in die kapelaansbediening gehuisves?

3.3 Standpunte van die SAKD en kapelane met betrekking tot die aanklagte teen hulle

In 'n akademiese studie oor die SAKD bespreek J.F. Potgieter (1971:237-238, 340-345, 357-358) kerk-staat-verhoudinge in die lig van die Calvinistiese leerstellings en Romeine 13. Die staat ontvang sy gesag van God en hierdie gesag lê in die ordening van die samelewing. Die staat moet sy mag in ooreenstemming met Skrifvereistes gebruik, en die soewereiniteit van ander lewenskringe eerbiedig. Die staat tree as die beskermheer van die kerk op deur sosiaal-politieke toestande te verseker wat die Christelike geloof bevoordeel, terwyl die kerk staatswette, as 'n Goddelike samelewingsordening-meganisme, moet gehoorsaam. Die Calvinistiese beginsel dat die kerk nooit onder 'n ander hoof as Jesus Christus kan staan nie, geld egter ook hier en die kapelaan moet sorg dra dat die Woord altyd die hoogste gesag in sy bediening is. Hy meld verder dat die unieke militêre werksomstandighede beteken dat reëls/regulasies op die kapelaan van toepassing gemaak word wat nie vir burgerlike leraars geld nie. Hy noem dat die staat 'n verantwoordelikheid het om die nodige infrastruktuur vir godsdiensbeoefening in afgesonderde en gevaarlike gebiede te skep, omdat militêre diens mense van gemeenskapsgeriewe ontneem.

Die bevelstuktuur van die SAKD het by verskeie geleenthede op die aantygings teen die kapelaansbediening gereageer. Genl.-maj. R.P. Jordaan, kapelaan-generaal vanaf 1990 tot 1994, het benadruk dat die Grensoorlog 'n defensiewe oorlog was en dat Suid-Afrika, as 'n Christelike land, die reg gehad het om sigself teen kommunisme te verdedig. Ten opsigte van die apartheidsaanklag het hy daarop gewys dat multi-etniese eenhede in die operasionele gebied die Suid-Afrikaanse demokratiese bestel ver vooruit was en dat die SAKD die evangelie aan al hierdie troepe verkondig het. Daarbenewens het kapelane ook die pastorale versorging van SWAPO-gevangenes waargeneem (Jordaan 2008).

Aanklagte teen kapelane het ook in 'n pennestryd in die pers neerslag gevind. In antwoord op die aanklag dat die SAKD 'n laaste apartheidsvesting en 'n sanksionerende verlengstuk van staatsideologie was, antwoord dr. E.A. van Niekerk (1987:12), 'n hospitaalkapelaan van Voortrekkerhoogte (tans Thaba Tshwane), dat dit 'n teologies-prinsipiële mistasting is. Hy beroep hom op die Calvinistiese beginsel dat die polisie en die weermag instrumente vir die handhawing van orde is. Die SAKD is oortuig dat die kultuurerfenis wat God geskenk het nie sonder meer aan anti-Christelike magte oorgegee kan word nie; "verdediging" staan dus in die teken van "roeping" en "geloofsgehoorsaamheid". Hy wys daarop dat dit in die SAKD om 'n suiwer Woordbediening, 'n versoeningsbede en 'n worsteling om vrede gaan. Ds. C.F. Matthee, Direkteur Kapelaansdienste Leër, het in meer as een amptelike kerkpublikasie (vgl. Matthee 1988:13, 1989:11) gewys op die kerkregtelike beroeping van kapelane deur gemeentes, en nie deur die staat nie, en die feit dat hulle algehele vryheid het om die kerkstem binne die SAW te wees.

Na aanleiding van die aantygings deur prof. Bosch dat die SAKD staatsbeleid sanksioneer en dat kapelane nie vry is om die evangelie te verkondig soos hulle wil nie, het genl.-maj. C.P. Naudé, kapelaan-generaal vanaf 1983 tot 1990, 'n uitnodiging in die pers gerig dat bewys moes word dat kapelane nie hul kerkleerstellings vrylik kon verkondig nie. Hy het gevoel dat dit ongegrond was om die bedieningstaak van die SAKD met staatsbeleid te verbind (Beeld 1989). Ook Anglikaanse kapelane is in die pers aangehaal waar hulle tydens sinodes verklaar het dat hulle vry was om die evangelie te verkondig en nooit deur die SAKD voorgesê is oor die inhoud van hulle prediking nie (vgl. The Cape Times 1982).

Op 21 November 1985 het alle kapelane teenwoordig by 'n kapelaanskonferensie 'n verklaring uitgereik waarin hulle God as die hoogste gesag in hulle bediening erken en alle vorme van diskriminasie en rassisme verwerp. Hulle het ontken dat hulle betrokkenheid by die SAW negatief was en het daarop gewys dat nie een van die oorlogsmagte God se seën uitsluitlik vir hulself kan toe-eien nie (The Star 1985c).

Die meeste kapelane met wie onderhoude gevoer is, het hulle deelname aan die Grensoorlog met verwysing na die kommunistiese bedreiging regverdig. Eerw. D.A. Smit stel dit as volg:

Whether or not one agreed with all the government policies at the time, the fact remained that we dared not throw open our borders to all and sundry, to come as they please and cause untold havoc (Smit 2008).

Ook dr. Van der Watt, wat soos reeds aangetoon krities teenoor die beleid van apartheid gestaan het, sien die oorlog as 'n defensiewe stryd:

'Daar is Kubane, daar is Russe op ons grense, dis die laaste vesting'... Dit was maar in die ouens se koppe ... Nee, ek dink hulle was opreg dat hul besig was met 'n groot saak ...In die groot politiek, moes mens onthou, die Berlynse Muur het eers later geval. Daar was inderdaad 'n klomp Kubane, Russe, Oos-Duitsers betrokke; daar was waarskynlik die spel om invloed in Afrika; om Suid-Afrika oor te neem

Hoewel hy krities ingestel was, meld dr. Van der Watt dat hy nie so militant was dat hy byvoorbeeld bereid was om eerder tronkstraf uit te dien as om diensplig te doen nie.

Uiteindelik binne so 'n opset gaan dit maar oor jou eie oorlewing ook ... jy wil maar net 'n afnaweek hê om by jou meisie uit te kom. Jy weet, gewoon menslike goed word gou belangriker as hogere politieke goed waarin jy tog voel, ... ek kan niks daaraan doen nie. ... Ek het nie myself gesien as iemand wat as motiveringsoffisier optree nie, ek het regtig myself gesien gewoon as 'n dominee wat 'n klomp mense moet bedien en nie as deel van die struktuur nie.

As sodanig was sy grensdiens vir dr. Van der Watt 'n verhoudingseksperiment tussen mense uit verskillende kultuuragtergronde waartydens hy nooit enige rassisme beleef het nie: "So, ja, die Weermag het tog daarin geslaag om op 'n manier bande ... te bou" (Van der Watt 2008).

Dr. Van der Watt het in sy kritiek verwys na kapelane en die morele regverdiging van die oorlog, maar nie een van die respondente het gevoel dat hulle geïntimideer is ten opsigte van die verkondiging van die apartheidsgedagte nie. Prof. W.S. Boshoff, wat as dienspligkapelaan by 101 Bataljon gestasioneer was, het nooit ervaar het dat hy 'n regeringslakei was of dat hy 'n bepaalde politieke beeld moes verdedig of uitbou nie. Aan die grens het hy as eenheidsdominee ruimte en erkenning gekry. Hy verwys ook na groepe wat die oorlogspoging teengestaan het, maar, tydens operasionele besoeke waardering vir die geestelike werk wat gedoen is, uitgespreek het (Boshoff 2008). Ook ds. A. Meiring stel dat hy nooit gemanipuleer of voorgeskryf is ten opsigte van sy standpunte nie. Hy sou trouens erg ongemaklik gewees het met 'n bestel waarbinne kapelane politieke leerstellings moes verkondig (Meiring 2008).

Die kompleksiteit van die tydsgees word aangetoon wanneer prof. Boshoff vertel dat hy tydens 'n gesprek met 'n SWAPO-gevangene besef het hoe min laasgenoemde van die SAW-troepe verskil. Hoewel hy oortuig was dat die oorlog ideologies geregverdig kon word, erken hy: "Dit befoeter die ideologiese afstand wat jy vir jouself formuleer en in stand hou" (Boshoff 2008). Die meeste respondente het erken dat die Afrikaans-gereformeerde kerke die staat soms kritiekloos ondersteun het, maar ook aangetoon dat hulle meer sinies geword het oor "die politieke speletjies wat met so 'n oorlog gespeel word".

Hoewel Engelssprekende kapelane hul deelname aan die Grensoorlog in die lig van die kommunistiese bedreiging regverdig het, het hulle nie die Afrikaner se kruisvaartingesteldheid ondersteun nie. Eerw. D.M. Williams is van mening dat Afrikaanssprekende kapelane meer polities sensitief as hul Engelse ampsgenote was (Williams 2008). Die Engelse kultuur was tradisioneel liberaal-filantropies en Engelse kerkgenootskappe se lidmaatskap was altyd veelrassig. Eerw. Thornley wys daarop dat Engelse kerke en universiteite met argwaan bejeën is, en dat alle regeringskritiek as "kommunisties" afgemaak is (Thornley 2008). Uiteindelik verwoord eerw. Smit baie kapelane se siening:

With political agendas on both sides of the political divide at the time, I simply needed to minister to the conscripts caught in the middle (Smit 2008).

 

4. SLOTPERSPEKTIEWE

Historiese gebeure het reeds met die vestiging van kerkstrukture aan die Kaap 'n noue band tussen kerk en staat geskep. Weens sy histories bevoorregte posisie is dikwels na die NG Kerk as die staatskerk van Suid-Afrika verwys. Met verloop van tyd het die Afrikaans-gereformeerde kerke 'n volkskarakter aangeneem wat ook tot uiting gekom het in die kenmerke van die SAKD as sosiale instelling. Die getalle-oorwig van Afrikaans-gereformeerde kapelane het daartoe gelei dat Afrikanernasionalisme in die sosiale konteks van die SAKD se bediening ingeweef is en, as gevolg van die verknooptheid van hierdie sentimente met bykans driehonderd jaar se geskiedenis, was dit so natuurlik dat baie dit nie bevraagteken het nie. Terugskouend het feitlik al die respondente gemeld dat die afstand tussen kerk en staat nie groot genoeg was nie. Dienspligkapelane het daarop gewys dat hul jeugdigheid en die feit dat hulle diensplig agter die rug wou kry, daartoe gelei het dat min oor 'n groter afstand tussen kerk en staat besin het. Jongmense was ook nie altyd op hoogte van wêreldgebeure nie en het interpretasies vanuit hul eie belewenisraamwerk gemaak. Villa-Vicencio (1988:22-23) wys egter ook daarop dat hoewel die Afrikaans-gereformeerde kerke apartheid gekondoneer het, hulle nie bereid was om die meer militante aspekte van Afrikanernasionalisme te ondersteun nie.

S. van Niekerk (2002:251, 359) is van mening dat die getalle-oorwig van kapelane uit die Afrikaans-reformatoriese kerke daartoe gelei het dat die SAKD die vermoë verloor het om sy posisie in die groter Suid-Afrikaanse tafereel krities te evalueer. Hy wys daarop dat die SAKD tydens die bonusobligasie-debakel buite kerklike grense op staatsterrein beweeg het, en sigself oopgestel het vir die aanklag van "sy meester se stem".

Die aantyging dat kapelane apartheid sanksioneer en uitdra en die onreg wat teenoor "nie-blankes" gepleeg word, goedkeur, en die gepaardgaande eis dat die SAKD gedemilitariseer moet word, het 'n groter invloed op Engelssprekende kapelane gehad, aangesien die aantygings vanuit hul verskillende denominasies gemaak is. Dit het tot onsekerheid in hulle bedie-ning gelei en dit was dikwels moeilik om vakante kapelaansposisies in Engelse denominasies te vul (vgl. Wessels & Bredenkamp 2009:336). Villa-Vicencio (1988:15, 22-24, 211-212) kom tot die gevolgtrekking dat die Engelse kerke in dieselfde mate in die sosiale konteks van diverse rassepolarisasie vasgevang was as die ander kerke in Suid-Afrika. Hy wys daarop dat kerke altyd sensitief moet wees vir staatsbemoeiing, maar dat hulle ook daarteen moet waak om nie 'n aanbiddingsvorm te skep wat by die dogma van die tyd inpas nie, aangesien hulle dan teologies sou fouteer.

Wanneer die teologiese inhoud van die Grensoorlog-era ontleed word, is dit duidelik dat die dogma van Christelik-nasionale eksklusiwiteit teenoor dié van liberalisme en sosiale geregtigheid te staan gekom het. Binne die sosiaal-historiese konteks van die bepaalde tydsgewrig het dit aanleiding gegee tot verskillende interpretasies van die Grensoorlog, wat belig word deur die denkfout van mnr. Jackson in sy aanname dat die oorlog teen die ANC gevoer is. Die Afrikaans-gereformeerde siening het die oorlog vertolk as 'n kommunistiese aanslag teen die Afrikaner se Christelik-Westerse erfenis, terwyl die Engelse kerke die oorlog gesien het as deel van die stryd teen apartheid. Twee verskillende historiese aspekte is hier in 'n groot mate vermeng en die teenstanders kon mekaar nie vind nie. Die kompleksiteit van morele kwessies blyk duidelik uit die mate waarin beide individue en instellings vasgevang is deur die sosiaal-politieke magte van die tyd, en perspektief op ander realiteite verloor het. In hierdie geval het die sosiaal-liberale siening die oorlog aan Afrika se nasionalistiese strewes gekoppel en die werklikheid van Koue Oorlog-strategieë misken, terwyl die Christelik-nasionale siening weer totaal oorboord gegaan het met aannames rondom 'n totale aanslag, wat volgens Slabbert (1989:110) die gevolg was van ideologiese lugleegtes in apartheid. Verskeie respondente het dan ook verklaar dat hoewel hulle nooit enige gewetensbesware tydens hulle bediening aan die grens ervaar het nie, die situasie verander het met kapelane se betrokkenheid by die noodtoestand en die gepaardgaande onlusbeheer in swart woongebiede aan die tuisfront.

Kerk-staat-verhoudinge is dus nie slegs 'n akademiese vraagstuk waaroor besin moet word nie. Hoewel individue en instellings dikwels nie die invloed van 'n bepaalde tydsgees kan ontkom nie, toon die geskiedenis aan dat kerke se roeping en geloofwaardigheid in die gedrang kom wanneer hulle betrokke raak by die sosiaal-politieke dogma van 'n bepaalde historiese tydvak - ongeag of dit Christelik-nasionale eksklusiwiteit of sosiale geregtigheid is.

Ten spyte van die aantygings teen hulle, blyk dit tog dat sowel Engels-sprekende as Afrikaanssprekende kapelane dit werklik as 'n roeping ervaar het om die troepe te bedien, en dat dit nie vir hulle om die uitdra van 'n ideologie gegaan het nie. In die woorde van eerw. Smit:

I was aware of the political sentiments of the day in the military. However, when I proclaimed the Gospel of Jesus Christ, I applied it equally to all aspects of life. ... I did not allow their political sentiments to prevent me from functioning fully as a chaplain (Smit 2008).

 

BRONNELYS

Beeld 1989. Geweldige probleme met kapelane. 16 Augustus, p.5.         [ Links ]

Boshoff, W. S. 2008. E-pos, I Bredenkamp, 16 Julie.         [ Links ]

Celliers, F. 2008. Telefoniese onderhoud, I Bredenkamp, 31 Julie.         [ Links ]

Clarke, B. 2008. Anglicans against apartheid, 1936-1996. Pietermaritzburg: Cluster Publications.         [ Links ]

Coetzer, P. W. 1991. Die era van apartheid, 1948-1961. In: T. Cameron (red.), Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika (Kaapstad en Johannesburg: Human & Rousseau), pp.271-289.         [ Links ]

Davenport, T.R.H. & Saunders, C. 2000. South Africa: a modern history. London: Macmillan Press Ltd, 5th edition.         [ Links ]

De Villiers, R. 1971. Afrikaner nationalism. In: M. Wilson & L. Thompson (eds.), The Oxford history of South Africa II: South Africa 1870-1966 (Oxford: The Clarendon Press), pp.365-423.         [ Links ]

Du Plessis, J.S. 1984. Die Suid-Afrikaanse Republiek. In: C.F.J. Muller (red.), Vyfhonderd jaar Suid- Afrikaanse geskiedenis (Pretoria & Kaapstad: Academica, 3de hersiene uitgawe), pp.260-302.         [ Links ]

Fowler, S. 1988. The state in the light of the Scriptures. Potchefstroom: Institute for Reformational Studies, Potchefstroom University for Christian Higher Education.         [ Links ]

Giliomee, H. 2004. Die Afrikaners: 'n biografie. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

Hayes, C.J.H., Baldwin, M.W. & Cole, C.W. 1964. History of western civilization. New York: The Macmillan Company.         [ Links ]

Jooste, J.P. 1958. Die geskiedenis van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1859-1959. Potchefstroom: s.n.         [ Links ]

Jordaan, R.P. 2008. Telefoniese onderhoud, I Bredenkamp, 3 Junie.         [ Links ]

Katjavivi, P.H. 1990. A history of resistance in Namibia. Trenton: Africa World Press, Inc.         [ Links ]

Keylor, W.R. 1992. The twentieth century world: an international history. Oxford: Oxford University Press, 2de uitgawe.         [ Links ]

Kistemaker, S. 1966. Calvinism: its history, principles and perspectives. Grand Rapids, Michigan: Baker Book House.         [ Links ]

Kotzé, C.R. 1984. 'n Nuwe bewind, 1806-1834. In: C.F.J. Muller (red.) Vyfhonderd jaar Suid- Afrikaanse geskiedenis (Pretoria & Kaapstad: Academica, 3de hersiene uitgawe), pp.120-148.         [ Links ]

Kotzé, J.C.G. 1961. Ras, volk en nasie in terme van die Skrif. Stellenbosch & Johannesburg: C.S.V-uitgewers.         [ Links ]

Krüger D.W. s.a. Die bewind van generaals Botha en Smuts, 1910-1924. In: D.W. Krüger (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika (Kaapstad: Nasou Beperk, 3de hersiene uitgawe), pp.478-528.         [ Links ]

Lake A. 1990. Predikante kan nie vrede preek in SAW. Rapport, 24 Junie, p.3.         [ Links ]

Matthee C.F. 1988. Predikante en kapelane. Die Kerkbode 142(9),2 September, p.13.         [ Links ]

Matthee C.F. 1989. Kapelane is volkome kerkgebonde. Die Kerkbode 143(4),3 Februarie, p.11.         [ Links ]

Meiring A. 2008. Onderhoud, A Wessels en I Bredenkamp, 5 Mei.         [ Links ]

Potgieter J.F. 1971. Die militêre kapelaan: die ontstaan en ontwikkeling van die amp, taak en organisasie van militêre kapelane in die geskiedenis van die Christelike kerk met besondere verwysing na Suid-Afrika. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Scholtz G.D. 1967. Die ontwikkeling van die politieke denke van die Afrikaner 1: 1652-1806. Johannesburg: Voortrekkerpers.         [ Links ]

Scoltz P.L. 1984. Die Kaapkolonie, 1853-1902. In: C.F.J. Muller (red.), Vyfhonderd jaar Suid- Afrikaanse geskiedenis (Pretoria & Kaapstad: Academica, 3de hersiene uitgawe), pp.185-215.         [ Links ]

Slabbert F. v Z. 1989. The system and the struggle: reform, revolt and reaction in South Africa. Johannesburg: Jonathan Ball Publishers.         [ Links ]

Smit D.A. 2008. E-pos, I Bredenkamp, 17 Julie.         [ Links ]

Smith K. & Nöthling F.J. s.a. North of the Limpopo: Africa since 1800. Pretoria: University of Pretoria.         [ Links ]

Smuts J.C. 1917. War-time speeches, a compilation of public utterances in Great Britain ... in connection with the session of the Imperial War Cabinet and Imperial War Conference. London: Hodder and Stoughton.         [ Links ]

Steenkamp W. 1989. South Africa's Border War, 1966-1989. Gibraltar: Ashanti Publishing (Pty) Ltd.         [ Links ]

The Cape Times 1982. Soldiers need religion, says chaplain. 25 November, p.5.         [ Links ]

The Cape Times 1985. Motions indicate church rift. 11 Julie, p.4.         [ Links ]

The Citizen 1997. DRC had 'unholy marriage' with military. 24 Junie, p.8.         [ Links ]

The Sowetan 1982. Clash over army's 'religious crusade'. 25 November, p.8.         [ Links ]

The Star 1985a. Chaplains role to be probed. 27 September, p.18.         [ Links ]

The Star 1985b. Catholics unhappy with army chaplains. 11 Oktober, p.4.         [ Links ]

The Star 1985c. SADF chaplains condemn racism. 25 November, p.19.         [ Links ]

Thornley R. 2008. Onderhoud, A Wessels, 12 Maart; E-pos, I Bredenkamp, 13 Junie.         [ Links ]

Van Der Watt G. 2008. Onderhoud, I Bredenkamp, 15 Mei.         [ Links ]

Van Niekerk E.A. 1987. Kapelaansdiens handhaaf gesonde balans. Die Kerkbode 139(14),15 April, p.12.         [ Links ]

Van Niekerk S. 2002. The history, role and influence of the South African military chaplaincy: 1914- 2002. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. Pretoria: UNISA.         [ Links ]

Van Schoor M.C.E. 1961. Die nasionale en politieke bewuswording van die Afrikaner in migrasie en sy ontluiking in Transgariep tot 1854. Ongepubliseerde doktorale verhandeling. Potchefstroom: PU vir CHO.         [ Links ]

Villa-Vicencio C. 1988. Trapped in apartheid: a socio-theological history of the English-speaking churches. New York: Orbis Books.         [ Links ]

Wessels A. & Bredenkamp I. 2009. Military chaplaincy in the South African Defence Force during the Namibian War of Independence, 1966-1989. Journal for Contemporary History 34(1), Februarie: 318-338.         [ Links ]

Williams D.M. 2008. Telefoniese onderhoud, I Bredenkamp, 11 Augustus.         [ Links ]

 

 

1 Uitsluitsel oor die benaming vir Suid-Afrika se langste oorlog wat effektiewelik op 1 November 1989 geeïndig het, is nog geensins bereik nie. Akademici verwys soms daarna as die Namibiese Vryheidsoorlog, terwyl dit in die volksmond ook bekend staan as die Bosoorlog. Vir die doel van hierdie artikel word volstaan met die meer algemene benaming, naamlik Grensoorlog.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License