SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.30 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.30 n.2 Bloemfontein Dec. 2010

 

'N voorlopige navorsingsagenda vir die spirituele re-kapitalisasie van die werksplek - 'n prakties teologiese rekonstruksie?

 

A preliminary research agenda for the spiritual recapitalisation of the workplace - a practical theological re-construction

 

 

J. A. van den Berg

Prof. J.A. van den Berg, Departement Praktiese Teologie, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat. E-pos: vdbergja@ufs.ac.za

 

 


Kernwoorde: Praktiese Teologie, Paradigma, Epistemologie, Metodologie, Delphi-metode, Werksplek, Spiritualiteit.


ABSTRACT

In this article practical theology is portrayed as a work-zone under construction. In order to understand the architecture associated with the construction work, the impotence of so called zombie categories and shell institutions are used to illustrate that practical theology needs to be re-constructed. This re-construction is being developed through reconsidering paradigm, epistemology and methodology operating within a relevant re-constructed practical theology. Theoretical principles are embodied in the use of the qualitative delphi forecast method, documenting the consensus opinion of 10 informed participants on the possible role of spirituality within the workplace. Building on these accents, some markers are mapped for the further development of the so called recapitalisation of practical theology with emphasis on a possible meaning for the workplace. Future perspectives for the facilitation of spirituality in the workplace are mapped in conclusion.

Keywords: Practical Theology, Paradigm, Epistemology, Methodology, Delphi-method, Workplace, Spirituality.


 

 

"Faith receives its shape in this life" (Immink 2005:43)

 

WAARDERING

Johan Janse van rensburg het deur 'n omvangryke akademiese loopbaan 'n belangrike bydrae tot die akademiese- en kerklike debat in suid-Afrika gelewer. In dié bydrae het hy op grond van sy eie uitgebreide akademiese kennis en insig nie geskroom om 'n eie onafhanklike aksent tot die debat te voeg nie. Oor die inhoud en tongval van die aksent het ons as kollegas dikwels met mekaar in gesprek getree en soms ook selfs van mekaar verskil. Na my mening het die aksente egter juis die debat verder verdiep en kan ek getuig dat ons eie persoonlike verhouding ook daardeur versterk is. Ek dra graag dié bydrae aan my kollega Johan van rensburg op in erkentlikheid vir sy bydrae tot teologie en kerk.

 

1 INLEIDING TOT DIE BOUPLAN

Praktiese teologie onder konstruksie? Jones (2008:196) wys daarop dat "the place of practical theology within theology as a whole is presently under construction."Dié verstaan van die konstruksie bied na my mening moontlikheid vir twee moontlike interpretasies. Eerstens sou geredeneer kon word dat dié bouwerk nuut en innoverend is. Dit sou egter die geskiedenis en ontwikkeling van praktiese teologie ontken. Ek sou daarom in die artikel vir 'n tweede moontlikheid wou kies, naamlik dat die bouwerk waarna Jones verwys 'n re-konstruksie is; dus 'n aanbou óf herbou van vorige konstruksies. Ter ondersteuning van die standpunt-inname is dit interessant om te let dat nie net metafore met argitektoniese ondertone in die verlede aangewend is om die karakter van praktiese teologie te verbeeld nie (heitink 1993:22-25; Viau 1999:ix), maar dat verskeie werke wat die afgelope tyd in die vakgebied verskyn het reeds in die titel- aanduiding klem plaas op 'n rekonstruksiemetafoor (graham 1996; ganzevoort 2001; immink 2005; reader 2008).

In spontane assosiasie met die bou-metafoor waarin die eiendomlike karakter van die prakties teologiese wetenskap vergestalt word, word in die artikel gekonstrueer aan nuwe teologiese aksente vir die lewe met besondere klem op die betekenis daarvan vir die werksplek. Hierin word uitdrukking gegee aan aksente wat reeds ruim tien jaar gelede deur van die voorste internasionale praktiese teoloë in die Voorwoord tot die ewe bekende gerben heitink se Practical Theology (1999) vervat is:

In many countries around the world practical theology is gaining a new shape. It is stepping out of the shadow of being viewed only as the application of findings and guidelines... Rather, the new practical theology is reminding all of theology of its practical nature... (browning, fowler, schweitzer & Van der Ven 1999:xv).

In die bouplan van die artikel gaan gewys word op die rede(s) vir die ontwerp van 'n rekonstruksie van dié vakgebied. Dit is in die klem toespitsing van die kontekstuele aard van 'n praktiese teologie wat soek na sosiale vergestalting, dat die omgewing van werk, en veral 'n moontlike toekomstige domein van werk (ransome 1999); van belang is vir 'n oriëntasie. Dié karakteristieke van die veranderende wêreld van werk; is selfs sigbaar binne 'n ontwikkelende land soos suid-Afrika, maar ingebed in 'n geglobaliseerde wêreld; word dit selfs verder geaksentueer deurdat

we are living in a post-industrial, information, or knowledge economy, with manufacturing and factory production being displaced by information-and knowledge-based work (edwards & wajcman 2005:27).

In dié beskrywing van die individu waarvan die historiese lewensgang van papirus tot die internet strek (Jordaan 2008:1), fasiliteer dié inligtings-eeu 'n nuwe epog van menslike ervaring waarin toekomstige scenarios van werk onder meer bewegings weg van roetine- na meer kreatiewe en probleemoplossende en mens-gesentreerde aktiwiteite voorspel (edwards & wajcman 2005:27). In 'n sistemiese verstaan kan die betekenis van dié veranderende wêreld van werk egter alleenlik verstaan word in terme van die omvang en betekenis van globalisering (reader 2008:102-103) en as "an economy of above, i.e. and economy determined by big companies and the web of telecommunication systems" (louw 2000:38). In die verdere afbakening van dié konteks en ter vergestalting van die navorsings-ontwerp, word 'n terrein gekarteer waarbinne die probleem en vra(e) vir verdere oorweging en navorsing ontwerp kan word. 'n Verdere afbakening tot ontwikkeling van die ontwerp word op grond van bestaande aanduidings uit die literatuur gevind as die teologiese wetenskap en in besonder sogenaamde publieke teologie dikwels - en ook met goeie rede(s) - tot dié ekonomiese gesprek toetree deur te fokus op vrae wat problematies gedrewe is; byvoorbeeld oor hoe die globale mark ekonomieë die nood van biljoene mense wat in armoede vasgevang is kan aanspreek (newlands 2006:415) en oor hoe 'n alternatief vir die verbruikerskultuur geskep kan word (conradie 2009). Dit is juis hiérin wat die klem op die sogenaamde "soul at work" gevind word. Anders as vorige benaderings wat onder meer die oog gehad het op die ontwikkeling van kerugmatiese bedieninge aan die "geïndustraliseerde mens" (de klerk 1979:160-183) deur onder meer sogenaamde "bedrijfpastores" (Verkuyl 1979:224) waarin veral tradisioneel moeite gedoen is om mense buite die kerk te bereik (reader 2008:101); gaan dit hier om enersyds die verkenning van die toekomstige werksplek en andersyds om die moontlike passing van informerende perspektiewe vanuit 'n interdissiplinêre gesprek. Vanuit die veronderstelling dat "deep and continuing christian involvement with issues of work and employment both pastorally and in terms van social justice" (reader 2008:101) altyd belangrik sal wees; is die fokus in die bepaling van 'n navorsingsagenda dus nie primêr op die ontwikkeling van 'n sogenaamde "arbeidsbedienings-model" nie, as wat dit eerder vernuwende én hopelik ook betekenisvolle perspektiewe vanuit 'n interdissiplinêre gesprek tussen praktiese teologie en ander wetenskappe vir die toekomstige werksplek wil karteer.

Dié oriëntasie sal daartoe lei dat aanwysers geformuleer sal word waaraan die ontwerp van 'n nuwe rekonstruksie gedoen sal moet word. Dit sal uiteraard lei tot besinning oor die materiaal wat vir die rekonstruksie oorweeg kan word as paradigma, epistemologie en metodologie uitgewys word. In 'n volgende beweging sal na die terreinplan van die rekonstruksie van praktiese teologie beweeg word met die kartering van bepaalde liggings-koördinate aan die hand van perspektiewe vanuit 'n empiries kwalitatiewe ondersoek. In dié fase sal veral gefokus word op die betekenis van 'n moontlike rekonstruksie van praktiese teologie vir die werksplek. As deel van die kosteberaming van die projek sal fases van ontwikkeling vir 'n toekomstige rekonstruksie-agenda in die wetenskapsveld van paktiese teologie aangedui word.

 

2 'N PRAKTIES TEOLOGIESE RESTOURASIE?

Voordat besin kan word oor 'n moontlike re-konstruksie van die praktiese teologiese wetenskapsveld is die aangewese om eers 'n bestekopname te maak van die stand van bestaande konstruksies.

Resente perspektiewe van vooraanstaande internasionale praktiese teoloë wys daarop dat bestaande afmetings van tradisionele verstaankategorieë weens verskeie faktore, onder meer die omvang van globalisasie, té beperkend geraak het. In sy evaluasie hiervan, wys reader (2008:1) op die betekenis van sogenaamde

zombie categories as a way of pointing to the continued employment of concepts that do not longer justice to the world we experience.

Osmer (2008:235) illustreer die betekenis hiervan as hy teologiese skole as voorbeelde noem wat volgens die ou ensiklopediese paradigma georganiseer word en wat die gevaar loop om as sogenaamde "shell institutions" dieselfde te lyk as in die verlede

But internally they are no longer capable of carrying out the work that they need to perform... The shell remains, but the internal organization is not up to the challenges of a new context (osmer 2008:235).

Uiteraard kan ook ander voorbeelde vanuit die praktyk genoem word ter verdere illustrasie van die uitdaging van enersyds 'n veranderende omgewing en andersyds strukture wat nie meer in staat is om te voldoen aan die verwagte doelstelling(s) nie. Ter wille van die fokus in die artikel word die uitkoms van dié waarneming geaktualiseer in miller (2007:79-81) se kritiek oor die afwesigheid van die kerk in die ekonomiese sfeer met die gevolg dat

there is a gaping chasm between what is heard on sunday in one's place of worship and what is experienced on monday in one's place of work. This sunday-monday gap between clergy and businesspersons, between ecclesiastical and business life, and between worship and work has been documented in individual narratives, anecdotal evidence, and empirical studies.

Die soeke sal dus wees na onder meer alternatiewe vir dié uitgediende konsepte, ten einde nuwe vistas van betekenis binne die konteks van die dié studie te vind vir onder meer die betekenis van spiritualiteit vir die werksplek en die individu te fasiliteer.

Vanuit dié bestekopname en gemeet daaraan dat die konstruksie-terrein 'n postmoderne omgewing is wat gekenmerk word deur hoë vlakke van pluralisme, fragmentasie en skeptisisme (graham 1996); is dit duidelik dat praktiese teologie "nog altyd broos en kwesbaar was omdat dit voortdurend op die raakvlak tussen teorie en praktyk funksioneer" (cilliers 2009:626).

In die soeke na die konstruksie van 'n "ordinary theology" met as aksent "significance for people in so far as it is 'meaningful' to them" (Astley 2002:68-69) word doelmatige ontwerp(e) gefasiliteer en verteenwoordig deur "changes of discourse and changes of perception" (reader 2008:1). Die ontwikkeling van dié diskoers binne die praktiese teologie word uitgemeet aan die bakens van die kontekstuele-, instrumentele en pragmatiese (Viau 1999:116).

In dié 'construction zone', waar bouwerk ver van klaar is en wat dikwels weens gestrooide bourommel, morsig voorkom (cilliers 2009:626), word die karakter van praktiese teologie verbeeld as "an empirically descriptive and critically constructive theory of religious practice (browning et al. 1999:xvi). Dit is binne hierdie konstruksie-area waarin daar onder meer gesoek word na re-konstruksies vir "a new encoding of message" (Taylor 2008:205). Dit is dan in dié soeke na die ontwikkeling van 'n relevante prakties teologiese konstruksie vir die werksplek dat "praxis" gekonstrueer word, duidend daarop "dat 'n mens nadink oor wat jy doen terwyl jy dit doen" (pieterse 2001:13).

 

3 DIE RE-KONSTRUKSIE VAN 'N RELEVANTE PRAK-TIESE TEOLOGIE

Jones (2008:196) roep 'n praktiese teologiese konstruksie as volg voor die oog:

It's as if orange warning cones and yellow tape presently encircle our collective thoughts about practical theology and its relation to other fields, under a sign that reads: 'caution: construction work Zone-enter at your own risk'.

Praktiese teologie verteenwoordig 'n evolusionêre bouproses wat strek vanaf die aanvanklike werk van friedrich schleiermacher (heitink 1999:24) en wat voortdurend die wisselwerking van 'n aantal spanningsveld betreë (cilliers 2009:626-627). gemeet daaraan dat die lewe veelkleurig en multidimensioneel is, veronderstel 'n prakties teologiese re-konstruksie die lewe in al haar fasette. Daarom veronderstel 'n relevante praktiese teologie 'n

type (publieke) praktische teologie, dat de nadruk legt op de geleefde religie in al haar verschijningsvormen... Met het oog op onderling verstaan en beter samenleven (ganzevoort 2006:151).

In die beskrywing van die "geleefde religie" (ganzevoort 2006:151) word voorrang gegee aan 'n praktiese teologiese re-konstruksie wat riskant en blootgestel op straat verskyn ten einde 'n "fides quaerens societatem" (geloof op soek na sosiale vergestalting) te beliggaam (cilliers 2009:634). Tans is die prakties teologiese neiging dat die fondamente vir dié konstruksie op straat gevind word in die metodologiese oorsteek van tradisionele grense waarin die klem geplaas word op die diskoers binne 'n interdissiplinêre domein van studie (immink 2005:266; osmer 2008:163; müller 2009:199-228) ten einde "plausible forms of interdisciplinary dialogue" (demasure & müller 2006:418) te fasiliteer.

Dit is na my mening alleenlik binne hierdié dialogiese proses dat 'n relevante prakties teologiese re-konstruksie die volgende aantyging, máár ook die uitdaging van miller (2007:101) werklik kan aanspreek:

Moreover, with a few notable exceptions, most theologians do not develop interdisciplinary competence nor seek to understand the complexities of modern global economies and develop a constructive theology of work.

Van rensburg (2000:1-2) gebruik die metafoor van 'n skildery om aan te toon dat paradigma, epistemologie en metodologie, ten einde 'n werkbare ontwerp te vergestalt, kongruensie sal vertoon. In die soeke na die vassteling van 'n navorsingsagenda met die oog op 'n voorgestelde prakties teologiese re-konstruksie, word 'n nuwe paradigma van verstaan, 'n nuwe epistemologie van ondersoek en 'n nuwe metodologie van werkswyse gekaart met aksente van argitektoniese simmetrie.

3.1 Op soek na die regte vraag? - Die vraag na die "bou"-raam

Dit is 'n gegewe dat vraagstelling enersyds belangrik is en andersyds 'n direkte verband toon met die keuse van 'n paradigma. Die inhoud en aard van die navorsingsvraag bepaal inderdaad hoe daar na die antwoord(e) gesoek gaan word en ook hoe dit geformuleer sal word. In die stel van vrae word uitdrukking gegee aan 'n deskriptiewe teologie wat altyd begin "with questions about present practices, the symbols and legitimations of these practices, and challenges to these practices" (browning 1991:223).

Dreyer (1998:14-15) wys op die belangrike verband tussen enersyds die ontwikkeling (konstruksies?) in praktiese teologie en andersyds die keuse van paradigma, epistemologie en metodologie. Die rede vir die belangrikheid van die identifisering van 'n bepaalde paradigma van waaruit die navorsing gerig word, word gevind in die kousale verband wat dit myns insiens het met die formulering van die navorsingsvraag en die soeke na die antwoord(e) op hierdie vraag.

Alhoewel navorsers vanuit verskeie moontlike funksionerende paradigmatiese verwysingsraamweke werk, word 'n agtal moontlike paradigmas waarbinne praktiese teologie tradisioneel verstaan is, naamlik geloof op soek na begrip, verwoording, handeling, hoop, verbeelding, visualisering, beliggaming en sosiale vergestalting, aangewys (cilliers 2009:626). Vir die doel van die artikel, sluit ek aan by die indeling van cilliers met besondere verwysing na praktiese teologie wat as sosiale vergestalting besondere ruimte bied vir die ontwikkeling en fasilitering van spiritualiteit in die werksplek. Cilliers (2009:629) dui daarop dat:

Die paradigma van samelewing (societas) sou kon dien as 'n integrasie van die ander genoemde prakties teologiese paradigmas... En die doelstelling is dan juis om 'n prakties teologiese paradigma voor te stel wat na buite, dit wil sê op die samelewing, gerig is - sonder om die ander paradigmas prys te gee. In hierdie sin is daar na my mening ook nie so 'n groot onderskeid tussen praktiese teologie en teologie nie: beide behoort transformerend en sinduidend op die samelewing gerig te wees.

Dié aksent wat wegdui van 'n na-binne gerigte paradigma het in oog die ontwikkeling van 'n prakties teologiese paradigma duidend op "Theologies of reconstruction (which) are geared toward restructuring the social structures that determine the well-being of people" (louw 2008:29). In aansluiting hierby en in die soeke na antwoorde op die vraag na 'n beplande prakties teologiese re-konstruksie kan vervolgens ondersoek ingestel word na enersyds die verband en andersyds die funksionering van epistemologie.

3.2 Op soek na 'n relevante epistemologie? - kennis vanuit konstruksies

Deur gebruik te maak van die konstruksie-metafoor word 'n domeinveld van betekenis(se) veronderstel en geskep en wat binne 'n postmoderne wetenskapsverstaan ruimte bied vir die doelmatige verbinding en verdere konstruksie van geassosieerde inhoude soos onder meer vergestalt word in die aksente vanuit sosiaal konstruksionisme.

In aansluiting by die prakties teologiese re-konstruksie wat soek na sosiale vergestalting word gekies vir die epistemologiese aanpak van 'n sosiaal-konstruksionistiese werkswyse (gergen 2002:283) met die klem op voortspruitende positiewe aksente (orem, binkert & clancy 2007:40). In die erkenning en ontwikkeling van die betekenis van interdissiplinêre gesprek binne die konstruksie-terrein van die praktiese teologie is die sosiaal konstruksionistiese epistemologie met die klem op die kennis wat as deel van die gesprek gebore word van besondere belang. Internasionaal erkende praktiese teoloë wys daarop dat praktiese teologie "engages in cross-disciplinary thinking" (osmer 2008:241) en as "interdisciplinary domain of study...we are in constant dialogue with nontheological reflection on religious praxism" (immink 2005:266). Die voorgenome bouprojek se wins word alreeds op die konstruksie-terrein bemerk as Van huyssteen (2009:50) daarop wys dat "it is often at the boundaries between disciplines that new and exciting discoveries may take place". Van dié moontlike ontdekkings spruitend uit só 'n werkswyse is alreeds onder meer aangetoon deur (müller 2009) in die formulering van 'n "postfoundational pratical theology" waarin transversale rasionaliteit die ruimte bied vir interdissiplinêre werk.

Vervolgens sal, gemeet daaraan, dat daar 'n passing is tussen paradigmatiese-en epistemologiese uitgangspunte, gekarteer word aan 'n metodologiese grondplan vir die beliggaming van die voorgestelde interdissiplinêre gesprek.

3.3 Op soek na die regte metodologie? - Die "bou" van 'n gesprek

Müller, Van Deventer & Human (2001:76-96) het reeds betekenisvol aangedui hoe die formulering van vrae in aansluiting by bepaalde paradigmatiese vertrekpunte en as deel van narratiewe navorsing ter uitdrukking van 'n bepaalde epistemologiese keuse vir die sosiaal konstruksionisme, 'n karakter vertoon wat die vertel van verhale aanmoedig en versterk. Ten einde dié teoretiese perspektiewe, met klem op die sosiaal konstruksionistiese aard van kennis (gergen 1994:62-63), te beliggaam in 'n bepaalde navorsingsontwerp waarin enersyds die regte vrae aan bod gestel word en andersyds perspektiewe vanuit die beantwoording hiervan geformuleer word, is bepaalde metodologiese aksente belangrik. In soeke na die vergestalting van dié teoretiese perspektiewe word gebruik gemaak van beginsels onderliggend aan die sogenaamde delphi-metode wat algemeen binne die domein van die ekonomiese- en bestuurswetenskappe gebruik word as toekoms-indikator (gordon & pease 2006:321; wilson & keating 2007:17-18). Reeds in die gebruik van die betrokke instrument afkomstig vanuit 'n ander wetenskapsoriëntasie word aksente vanuit die interdissiplinêre gesprek vergestalt. Die delphi-metode is in die tydperk 1940-1970's deur die rand corporation ontwikkel en "lends its name from greek mythology, from the ancient story of the oracle of delphi" (du plessis & human 2007:14). My keuse vir die delphi-metode word gemotiveer in die waarneming dat dié metode veral by uitstek geskik is "when tackling significant decision-making that will set future directions for organizations" (loo 2002:762). Ter verdere versterking én in ontwikkeling van die pragmatiese model waarin "Qualitative researchers are creative about method" (Josselson 1999:x); het ek in die proses van formulering van vrae asook die administrasie daarvan gebruik gemaak van aksente vanuit 'n narratiewe geïnformeerde navorsingsmetodiek. Vanuit die gekonstrueerde metodologie word enersyds 'n eksperimentele en unieke ontwerp veronderstel wat poog om die verskillende dimensies van die probleem deur middel van verskillende perspektiewe vanuit die interdissiplinêre gesprek aan te spreek. Hiervolgens kan geargumenteer word dat die instrument dus 'n belangrike bydrae as toekoms indikator kan lewer in die konstruksie sone vir praktiese teologiese perspektiewe vir onder meer "geleefde religie" in die werksplek.

In die administrering van die delphi-navorsingsmetodiek is van die erkende wyse gebruik gemaak waarin 'n paneel van ongeveer 'n tiental kundige professionele persone, wat enersyds teologies onderlê is (al die deelnemers het nagraadse kwalifikasies in die teologie behaal) en andersyds tans senior posisies in verskeie sake-sektore beklee, landswyd geïdentifiseer. Die proses is geadministreer deur van elektronies pos gebruik te maak waarin 'n dekbrief aan al die deelnemers gestuur is met as aanhangsel 'n aantal vrae waarop hulle versoek is om te reageer (landeta 2006:477). Nadat deelnemers se antwoorde terug ontvang is en sonder om die identiteit van die betrokke deelnemer te openbaar, is dit deur gebruikmaking van die deelnemers se eie woorde deur die navorser tot 'n sentrale antwoord onder elke vraag verwerk. Hierna is die antwoorde weer aan almal versend tot bereiking van algemene konsensus onder die deelnemers. weens die omvang van die ondersoek en beperkte ruimte binne die artikel word slegs die twee kern-vrae en -antwoorde in dié artikel gedokumenteer synde dit reeds genoeg materiaal bied vir die opstel van 'n voorlopige navorsingsagenda. In latere gedokumenteerde navorsing, spruitend uit dié aanvanklike ondersoek, sal die volledige inligting aangetoon word. Vervolgens en in die soeke na die formulering vir moontlike prakties teologiese aksente vir die werksplek, word die twee kern vrae en response van die deelnemers wat na konsensus bereik is en soos voorafgaande beskryf, weergegee.

 

4 VRAE EN ANTWOORDE - SPIRITUALITEIT IN DIE WERKSPLEK

4.1 Is daar 'n plek vir spiritualiteit én/óf godsdiens in die Suid-Afrikaanse werksplek en indien wel watter voorbeelde sou u vanuit u eie situasie kon noem?

Respondente is dit eens dat daar plek is vir spiritualiteit (mits dit nie fundamentalisties van aard is nie) en per voorkeur 'n spontane karakter in voorkoms vertoon. As sodanig het spiritualiteit 'n sterk narratiewe- en nie 'n dogmatiese karakter nie. Aksente waarin die werksplek 'n oop ruimte veronderstel waar almal wat daaraan deelneem vry behoort te wees, word gemaak. Een deelnemer stel dit dat werkplek spiritueel is. As voorbeeld hiervan word genoem dat gevind word dat personeel dikwels hulle ervaringe binne gedeelde geloofsraamwerke (bv Christelik) en ook inter-religieus (bv Christelik tot Moslem en andersom) deel. Hierteenoor het 'n aantal van die respondente hulle sensitiwiteit uitgespreek teenoor die gebruik van die konsep "godsdiens". Respondente dui ook aan dat in verdere navorsing dit belangrik sal wees om enersyds deeglik te konseptualiseer en andersyds tussen die verskillende konsepte te differensieer. Die sensitiwiteit oor die konsep "godsdiens" hou volgens deelnemers verband met sterk kulturele nuanses wat geassosieer word met dogmatiese aksente. Dié aksente kan onder meer volgens van die deelnemers aanleiding gee tot uitsluiting en magsvertoon. Dit is ook die rede waarom deelnemers aandui dat alhoewel godsdienstige praktyke van tyd tot tyd in die werksplek mag voorkom, dit steeds minder prominent as spiritualiteit in die werksplek behoort te wees. Deelnemers onderskeie tussen die funksionering van spiritualiteit op twee vlakke: (1) Mense wat openlik oor hulle geloof praat en hulle werk hiermee in lyn wil bring en (2) mense wat nie daaroor praat nie maar op grond van hulle geloof wat hulle beoefen 'n bepaalde waardestelsel / oortuiging uitleef. Persoonlik is deelnemers dit almal eens dat dit in pas is om 'n eie spiritualiteit in lyn te bring met sake-uitdagings. Die waarde hiervan is in die rig van die etiek van elke dag se program asook in die skep van 'n milieu waarbinne verhoudings tussen mense kan onstaan, groei en voortbestaan. Van die deelnemers toon ook aan dat die uitdrukking van spiritualiteit verband hou met bepaalde geografiese verspreidings in Suid-Afrika en dui aan dat in seker sentra die funksionering van spiritualiteit meer spontaan aan bod gestel word as in ander sentra.

4.2 Wat sou u sê, en op grond van u eie ervaring, is spesifieke domeine in die werksplek (bv. In die vestiging van verantwoorde etiese besluitnemingsprosesse; in die vestiging van veerkragtigheid ("resilience"); fasilitering van sin en betekenis) waar geloof/spiritualiteit 'n belangrike rol kan speel?

Geloof en spiritualiteit, deur baie van die deelnemers vir die doel van die ondersoek as sinonieme gesien, speel volgens alle deelnemers 'n belangrike rol in onder meer die genoemde voorbeelde van besluitneming, sin en betekenis en veerkragtigheid. Van die deelnemers dui daarop dat geloof onderliggend is aan prosesse van waardevorming in maatskappye. Spiritualiteit word ook sigbaar in die wyse waarop mense uitdagings/krisisse hanteer en is onderliggend aan wyse waarop mense hulle loopbane stuur in die rigting van waarde-toevoeging tot die samelewing. Deelnemers wys daarop dat daar weliswaar ondernemings is waarin hierdie voorbeelde meer eksplisiet gefasiliteer word teenoor ander wat dit bloot aan individue oorgelaat word of selfs geen sensitiwiteit daarvoor getoon word nie. Die resessie van 2009 en die huidige gesprekke rakende aardverwarming en klimaatsverandering stimuleer tans 'n nuwe diskoers in ondernemings oor waardebeoefening, oor die sin van besigheid, oor die sorg vir gemeenskappe en die omgewing. Dieselfde diskoers breek ook deur waar radikale verandering, die impak daarvan op mense en die bestuur daarvan ter sprake is. Werksetiek en die vestiging van die waardes van integriteit, eerlikheid en dienslewering blyk belangrik te wees om vanuit 'n bepaalde geloofsoriëntasie aangespreek te word. Deelnemers dui daarop dat om vanuit 'n bepaalde geloofsoriëntasie te funksioneer belangrik is in die vestiging van bepaalde waardes. Dit word prakties beliggaam in onder meer die praktiese implementering van bv gedragskodes; die wyses waarop personeel opgelei en hanteer word en in die hantering van kliënte. Spiritualiteit fasiliteer dus etiese besluitneming; dinamiese en volhoubare verhoudings tussen mense en die werksplek as ruimte waarbinne mense die sin van hul bestaan kan uitleef. Dit is binne hierdie ruimte dat die werkplek ondersteunend is ten opsigte van die volgende: die soeke na waarheid, die aanvaarding van verantwoordelikheid, die verskerping van al die sintuie, die omarming van die skadu kante, die kultivering van balans, ondersteuning aan integrasie en holisme (dat alles met alles verband hou).

 

5 'N PRAKTIES TEOLOGIESE RE-KONSTRUKSIE - OP SOEK NA 'N NAVORSINGSAGENDA VIR DIE SPIRITUELE RE-KAPITALISASIE VAN DIE WERKSPLEK

In dié artikel is tot dusver aangetoon dat ruimte bestaan vir die re-konstruering van praktiese teologie binne bepaalde kontekste. In die volgende rubriek word dié perspektiewe asook die aksente wat hoorbaar was vanuit die delphi-ondersoek vir die werksplek verdiskonteer. op grond van hierdié perspektiewe word 'n moontlike navorsingsagenda vir verdere aandag en ontwikkeling saamgestel. In die soeke na die vasstelling van die moontlike navorsingsagenda word die prakties teologiese beweging van praktyk-teoriepraktyk (browning 1991:34-39) gevolg en word die volgende moontlike aanduidings van aksie-domeine gegee van hoe daar aan dié taak uiting gegee kan word

Eerstens het dit uit die kommentaar van die deelnemers aan die delphiondersoek geblyk dat spiritualiteit (en nie soseer godsdiens) enersyds 'n gegewe is wat in die werksplek verreken moet word en andersyds dat spiritualiteit singewing, asook die ontwikkeling en vestiging van etiese besluitneming kan fasiliteer.

Dié perspektiewe word inderdaad ook deur aksente vanuit die literatuurstudie bevestig as hicks (2003:62) onder meer daarop wys dat "more work is needed to develop the parameters for inclusion of spirituality.... in the workplace". In aansluiting hierby bevestig nel (2008:1) dié gegewe as hy daarop wys dat:

Spirituality in the workplace is more than just a new or passing trend to increase profits. It is fundamentally changing the nature of work. Individuals are searching for meaning in their work; a meaning that goes beyond the aims of mere economic gain.

In die passing en fasilitering van spiritualiteit in die werksplek blyk dit ook tweedens uit die kommentaar van die deelnemers dat die aard van die werksplek dramaties verander het. In die sogenaamde "nuwe ekonomie" (reader 2008:103-104) gaan dit veral om die aanspreek van 'n holistiese verstaan van die individu in 'n geglobaliseerde sisteem of netwerk(e) van die lewe (louw 2000:46; Taylor 2008:77; niemandt 2009:627-628). Vanuit dié verdiskontering van die betekenis van die sogenaamde nuwe ekonomie wys osmer (2008:17) daarop dat aangesien prakties teologiese interpretasie kontekstueel van aard is, "it thinks in terms of interconnections, relationships, and systems."

Die deelnemers aan die delphi ondersoek het derdens aangedui dat daar ook 'n sterk soeke is na eties bemagtigde individue en organisasies. Die soeke spruit ironies genoeg uit 'n markgedrewe kapitalistiese ekonomie waarin ten spyte van finansiële sukses

there is a decrease of loyalty to the business, a loss of informal trust (social capital) between the staff, and indeed a weakening of the institutional knowledge... This may have a direct impact upon the well being of the employees (reader 2008:107).

Die aanspreek en hantering van hierdié uitdaging sal inderdaad verdere aandag moet verdien veral gemeet daaraan dat "Another concept that is closely intertwined with spirituality is ethics" (honiball 2008:13). Dit vind inderdaad ook goeie aansluiting by een van die 15 "global challenges" soos geïdentifiseer as deel van die millennium projek, naamlik "how can the capacity to decide be improved as the nature of work and institutions change" (glenn, gordon & florescu 2008:12-41). In die soeke na perspektiewe vir dié uitdagings word uitdrukking gegee aan "'n prakties-teologiese hermeneutiek van sinduiding" (cilliers 2009:635).

Opgeteken as deel van die aangeduide navorsingsagenda word daar voorsien dat aan dié drietal, maar verweefde sake, met 'n seker beskeidenheid binne 'n interdissiplinêre gesprek gekonstrueer kan word tot betekenis van 'n moontlike spirituele re-kapitalisasie van die werksplek. Die klem val op 'n werkswyse van beskeidenheid aangesien dit gestempel word deur

Mijn opvatting van praktische teologie als hermeneutiek van de geleefde religie heeft een zekere bescheidenheid in zich. Ik geef namelijk voorrang aan de praxis zelf en aan de kennis over god die daar ontwikkeld, gevonden en geleefde wordt (ganzevoort 2006:161162).

Dit is egter juis in dié praxis van die werksplek dat ek vir die doel van die artikel nou aansluiting vind by die metafoor van re-kapitalisasie soos aangedui deur Taylor (2008). In sy verduideliking van die betekenis van die konsep, re-kapitalisasie, en soos oorspronklik gemunt deur douglas rushkoff (1996:221-240), word die volgende belangrike aksent deur Taylor (2008:185186) aangestip:

Recapitalisation, however, is neither the abandonment of orthodoxy nor the rejection of a heritage with its classic expressions of faith. It is not even a denial of the accomplishments and expansions of the church in modernity. Rather, it is the seeking of a return of the gospel in the new situation.

Re-kapitalisasie veronderstel dus dat 'n vorige verstaan van kapitaal uitgedien geraak het, maar dat dit gevul kan word met nuwe inhoudsaksente. Ter agtergrond en ook ter verdere motivering van die oorweging van die konsep re-kapitalisasie as geskikte metafoor vir die re-konstruering van relevante prakties teologiese perspektiewe vir die werksplek; word die navorsingsagenda verder uitgebrei deur te let op die op die inhoud, rol en betekenis van die vorming van menslike waardes en doelwitte soos onder meer verwoord in die konsep "spiritual capital" (Zohar & marshall 2004:31; guest 2007:181). Die metafoor "kapitaal" ontsluit assosiatiewe netwerke van betekenis (guest 2007:183-184) wat vra om die verrekening van

doing business in a wider context of meaning and value. It can generate profit that both draws on and adds to the wealth of the human spirit and to the general human well-being (Zohar & marshall 2004:31).

in die metafoor van re-kapitalisasie word dus enersyds van hierdié nuwere aksente vir die werksplek genuanseer, veral gemeet aan die herstel van 'n pas afgelope wêreldwye ekonomiese krisis en die meegaande vrae oor die tekortkominge van 'n kapitalistiese stelsel. Andersyds dui dié konsep inderdaad op die her-konstruering van bepaalde prakties teologiese koördinate vir die werksplek dat

Doing theology in the present situation means recapitulating the radical break... with the emergence of the post-modern, and the facilitation of the return of god (Taylor 2008:193).

Ten einde dit te bereik is reeds geargumenteer dat daar nie noodwendig van

die klerikale en ekklesiologiese kontekste en agtergronde wat praktiese teologie voed, afskeid geneem word nie, maar wel dat dit met die oog op die samelewing herkonstitueer word (cilliers 2009:635).

 

6. 'N OOP AGENDA?

Dit is browning (1991:250) wat daarop wys dat "practical theology always reflects the angle of vision from which it is done." dit wil voorkom asof die karakter van praktiese teologie aanvanklik gekonstateer is met sterk aksente vanuit 'n gesigspunt van outoriteit wat dui op 'n verdedigende én selfs aanvallende ingesteldheid teenoor "any form of modernization" (heitink 1999:47) en waarin:

Business was generally portrayed as a source of oppression and inequality; critiques included sweeping generalizations about, for example, the negative aspects of globalization while seldom considering the creative and positive potentialities of the marketplace (miller 2007:99).

In 'n verkenning en verrekening van 'n méér positiewe én relevante prakties teologiese re-konstruksie tot betekenis vir die werksplek word vanuit die hermeneutiek van die "geleefde religie" gepoog om tot verstaan te kom hoe mense en groepe "in their concrete situations, communicates affirmation, preserves the cohesion of selves and identities, and builds on strengths" (browning 1991:284). Die soeke sluit nou aan by die soeke na by die fasilitering van optimale funksionering in individue en binne organisasies (linley & Joseph 2004:4).

In die kartering van navorsingskoördinate vir 'n relevante en positiewe praktiese teologie word die lengte - en breedtegrade van die beskrywing gevind in miller (2007:153) se woorde wat hierin 'n positiewe taak en ontwikkeling vir die rol van die kerk en teologiese akademie sien:

The church and the academy can offer theological resources and practical tools to equip those whose calling is to serve in and through the marketplace. for the church to do anything less is to abandon millions of christians for five-sevenths of their week, and to abdicate responsibility for and influence over the important sphere of society. Indeed, active participation in the transformation of individual employees, their workplaces, and the overall marketplace may be one of the most powerful means to help feed the hungry, clothe the naked, and welcome the stranger.

Ten einde dit te bereik word 'n stereoskopiese perspektief vir die praktiese teologie vereis met

attention to both the specific moves of personal and communal living and the all-encompassing horizon of faith... undertaken in hope for the well-being of persons, communities of faith, and all creation (bass & dykstra 2008:13).

Die dokumentering van die navorsing wil daarom inderdaad nie die voltooiing van 'n proses aandui nie, eerder as die begin. Dit is juis in dié begin dat aandag geskenk word aan die ontwikkeling van 'n praktiese teologiese re-konstruksie met betekenis van die werksplek. Dit lê immers sentraal aan die navorsingsprobleem van die studie, synde miller (2007:89) tereg daarop wys dat:

Theologically, many clergy and religious professionals have not studied or developed a theology of work as part of their overall systematic theology.

Die artikel veronderstel dat praktiese teologie altyd 'n bouperseel sal bly met 'n kennisgewing wat lui: "Toegang op eie risiko!". In dié navorsingsavontuur word die opmerkings van Taylor (2008:204) vir die betekenis van 'n relevante en kontekstuele praktiese teologie bevestig:

... and for me practical theology is all about risk. Practical theology, in my mind, is daring to believe that life and not theory is where the theological enterprise begins... The only potential for the future of christian faith lies in the doing, the going, the practice. A practical theology is not the taking of theology and applying it to a certain situation, but rather it is a beginning...

Indien die bou-onderneming egter as 'n teologie beskou word wat sáám met mense in 'n samelewing na sin soek, bied dit ook die potensiaal vir betekenisvolle transformasie. Daarom, ook op grond van die beplanning vir en uitvoering van dié ruimtelike en oop navorsings-agenda, sal 'n verdere kennisgewing dus moes lui: "wees gereed om herbou te word" (cilliers 2009:637). In dié herbou óf re-konstruksie kan die praktiese teologie inderdaad 'n bydrae lewer tot 'n spirituele re-kapitalisasie van die werksplek. Hiervoor is daar egter verdere navorsing nodig ten einde die uitdaging deur miller (2007:79) aan te spreek:

It would seem that the church would be interested in providing theological reflection and ethical guidance to laypeople on all topics of social importance, including life in the marketplace and the nature and purpose of work.

 

BIBLIOGRAFIE

Astley, J. 2002. Ordinary theology. Looking, listening and learning in theology. Explorations in practical, pastoral and empirical theology. Hampshire: Ashgate publishing limited.         [ Links ]

Bass, D.C. & Dykstra, C. 2008. For life abundant. Practical theology, theological education and Christian ministry. Grand Rapids: WM. B. Eerdmans Publishing Co.         [ Links ]

Browning, D.S. 1991. A fundamental practical theology. Descriptive and strategic proposals. Minneapolis: Fortress Press.         [ Links ]

Browning, D., Fowler, J., Schweitzer F. & Van Der Ven, J. 1999. Series Forward. In: g. Heitint (ed.), Practical Theology. History.Theory. Action Domains (Cambridge: WM. B. Eerdmans Publishing Co), pp. Iv-xvi.         [ Links ]

Cilliers, J. 2009. "fides quarens societatem": Praktiese teologie op soek na sosiale vergestalting. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 49(4):624-638.         [ Links ]

Conradie, E. 2009. Uitverkoop. In gesprek oor die verbruikerskultuur. wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

De Rlerk, J.J. 1979. Evangelistiek. Pretoria: N.G. Kerkboekhandel Transvaal.         [ Links ]

Demasure, K. & Müller, J. 2006. Perspectives in Support of the Narrative Turn in pastoral care. Ned Geref Teologiese Tydskrif 47(3-4):410-419.         [ Links ]

Dreyer, J.S. 1998. The Researcher and the Researched: Methodological Challenges for Practical Theology. Practical Theology in South Africa 13(1):14-27.         [ Links ]

Du Plessis, E. & Human, S.P. 2007. The art of the Delphi Technique: Highlighting its scientific merit. Health SA Gesondheid 12(4):13-24.         [ Links ]

Edwards, P. & Wajcman, J. 2005. The politics of working life. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

Ganzevoort, R.R. 2001. Reconstructies. Praktisch-theologisch onderzoek naar de verhalen van mannen over seksueel misbruik en geloof. Kampen: Uitgeverij Kok.         [ Links ]

Ganzevoort, R.R.2006. De hand van God en andere verhalen. Over veelkleurige vroomheid en botsende beelden. Zoetermeer: Uitgeverij Meinema.         [ Links ]

Gergen, K.J. 1994. Realities and Relationships. Soundings in Social Construction. Cambridge: Harvard University Press.         [ Links ]

Gergen, K.J. 2002. Reflecting on/with my companions. In: C.A.M Hermans, G. Immink, A. De Jong & J. van der Lans (eds.), Social Constructionism and Theology, (leiden: brill), pp. 273-289.         [ Links ]

Glenn, J.C., Gordon, T.J. & Florescu, E. 2008. 2008-State of the Future. washington: The Millennium Project. World Federation of un Associations         [ Links ]

Gordon, T. & Pease, A. 2006. RT Delphi: An Efficient "round-less" almost real time Delphi Method. Technological Forecasting & Social Change 73: 321-333.         [ Links ]

Graham, E.L. 1996. Transforming Practice. Pastoral Theology in an Age of Uncertainty. New York: Mowbray.         [ Links ]

Guest, M. 2007. In search of spiritual capital: The spiritual as cultural resource. In: K. Flanagan & P.C. Jupp (eds.), A sociology of spirituality, (Hampshire: Ashgate), pp. 181-200.         [ Links ]

Heitink, G. 1993. Praktische Theologie. Geschiedenis-Teorie-Handelingsvelden. Kampen: Uitgeverij Kok.         [ Links ]

Heitink, G. 1999. Practical Theology. History. Theory. Action Domains. Cambridge: WM. B. Eerdmans Publishing Co.         [ Links ]

Hicks, D.A. 2003. Religion and the workplace. Pluralism, spirituality, leadership. Cambridge: Cambridge University Press.         [ Links ]

Honiball, G.F. 2008. Managers perceptions of the relationship between spirituality and work performance. Unpublished Ma Thesis. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Immink, F.G. 2005. Faith. A Practical Theological Reconstruction. cambridge: WM. B Eeerdemans Publishing Co.         [ Links ]

Jones, S. 2008. Practical Theology in Two Modes. In: b.c. bass & c. Dykstra (eds.), For Life Abundant. Practical Theology, Theological Education, and Christian Ministry, (grand rapids: eerdmans), pp. 195-213.         [ Links ]

Jordaan, W. 2008. Die kultus van ontboeseming. Perspektief. Rapport. 15 Junie kaapstad: naspers.         [ Links ]

Josselson, R. 1999. Introduction. In: R. Josselson & A. Lieblich (eds.), Making meaning of narratives. The narrative study of lives. Volume 6, (London: Sage Publications), pp. ix-xiii.         [ Links ]

Landeta, J. 2006. Current validity of the Delphi method in social sciences. Technological Forecasting & Social Change 73:467-482.         [ Links ]

Linley, P.A. & Joseph, S. 2004. Applied Positive Psychology: A New Perspective for Professional Practice. In: P. A. Linley & S. Joseph (eds.), Positive Psychology in Practice, (new Jersey: John wiley & sons inc), pp. 3-12.         [ Links ]

Loo, R. 2002. The Delphi method: a powerful tool for strategic management. International Journal of Police Strategies & Management 25(4):762-769.         [ Links ]

Louw, D.J. 2000. The challenge of a global economy and of the internet to pastoral ministry: care for the living human web. Practical Theology in South Africa 15(1):30-52.         [ Links ]

Louw, D.J. 2008. Cura Vitae. Illness and the healing of life. Wellington: Lux Verbi BM.         [ Links ]

Miller, D.W. 2007. God at work. The history and promise of the Faith at Work movement. New York: Oxford University Press.         [ Links ]

Müller, J., Van Deventer, W. & Human, L. 2001. Fiction writing as metaphor for research: A Narrative approach. Practical Theology in South Africa 16(2):76-96.         [ Links ]

Müller, J. 2009. Transversal Rationality as a practical way of doing interdisciplinary work, with HIV and Aids as a case study. Practical Theology in South Africa 24(2):199-228.         [ Links ]

Nel, A. 2008. Spirituality in business: An investigation into spirituality, spiritual leadership and organizational performance. Unpublished MBA-Thesis. Stellenbosch: University of Stellenbosch.         [ Links ]

Newlands, G. 2006. Public theology in postfoundational tradition. In: F. Leron Shults (ed.), The evolution of rationality.Interdisciplinary essays in honor of J.Wentzel van Huyssteen (grand rapids: WM. B. Eerdmans publishing. Co), pp. 394-417.         [ Links ]

Niemandt, C.J.P. 2009. John Calvin and the church in a time of transition. Ned Geref Teologiese Tydskrif 50(3-4):620-633.         [ Links ]

Orem, S.l., Binkert, J. & Clancy, A.l. 2007. Appreciative Coaching. A Positive Process for Change. San francisco: Jossey-Bass.         [ Links ]

Osmer, R. 2008. Practical Theology. An Introduction. Grand Rapids: WM. B. Eerdmans.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C. 2001. Prediking in 'n konteks van armoede. Pretoria: Unisa.         [ Links ]

Ransome, P. 1999. Sociology and the Future of Work. Contemporary discourses and debates. Aldershot: Ashgate.         [ Links ]

Reader, J. 2008. Reconstructing Practical Theology. The Impact of Globalization. Hampshire: Ashgate.         [ Links ]

Rushkoff, D. 1996. Playing the future. New york: Riverhead Books.         [ Links ]

Taylor, B. 2008. Entertainment theology. New-edge spirituality in a digital democracy. Grand Rapids: Baker Academic.         [ Links ]

Van huyssteen, J.W. 2009. The philosophical roots of Public Theology. In: H.J.C. Pieterse & C.H. Thesnaar (eds.), A Faithfull Witness. Essays in honour of Malan Nel (wellington: bible media bm), pp. 49-65.         [ Links ]

Van Rensburg, J.J. 2000. The paradigm shift. An introduction to postmodern thought and its implications for theology. Pretoria: Van Schaik Publishers.         [ Links ]

Verkuyl, J. 1979. Inleiding in de Evangelistiek. Kampen:J.H. Kok         [ Links ]

Viau, M. 1999. Practical Theology. A New Approach. Leiden: Brill.         [ Links ]

Wilson, J.H. & Keating, B. 2007. (5th edition). Business Forecasting with Accompanying Excel-based ForecastXTM Software. USA: Mcgraw Hill.         [ Links ]

Zohar, D & Marshall, I. 2004. Spiritual capital. Wealth we can live by. London: Bloomsbury.         [ Links ]