SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.30 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.30 n.2 Bloemfontein Dec. 2010

 

'N narratiewe benadering tot die pastoraat: kritiese opmerkings na aanleiding van die huidige teologiese debat

 

A narrative approach to the pastorate: critical remarks with reference to the current theological debate

 

 

A. R. Brunsdon

Dr. A. R. Brunsdon. Na doktorale genoot, Departement Praktiese Teologie, Fakulteit Teologie, Noordwes Universiteit. E-pos: arbrunsdon@gmail.com

 

 


Trefwoorde: Postmoderne era, Pastoraat, Narratiewe terapie.


ABSTRACT

Theology in the South African context finds itself in turmoil. At the heart of this theological storm lies the diversity among theologians about how the Word of God should be proclaimed in the postmodern era, as postmodernism poses a challenge to all sciences to re-formulate their claims. So far, the pastorate has met this challenge by making use of the so-called narrative approach to therapy. Specific attention to the narrative approach shows that it operates from a postmodernist epistemology where truth becomes relational and socially constructed. The critical question stemming from this, however, is whether pastoral theology can make use of the narrative approach and still claim theological validity. Pastoral theologians are heeded to proceed with caution during this period of theological turmoil to avoid the pitfalls of either fundamentalism or liberalism.

Keywords: Postmodern era, Pastorate, Narrative therapy.


 

 

1. INLEIDING

Om te beweer dat die waters van die Suid-Afrikaanse teologiese see tans onstuimig is, is nie van alle waarheid ontdaan nie. In sy boek, Die Evangelie is op die Spel, dryf König (2009:13) hierdie stelling op die spits deur te beweer "dat ons vasgevang is in 'n teologiese storm wat hewig aan die boot ruk". Uiteenlopende teologiese standpunte rondom kernaspekte van die Evangelie, soos die opstanding van Jesus, wonderwerke en die bestaan van bose magte, is enkele sake wat hiervoor verantwoordelik is (König 2009:13).

Die opkoms van die sogenaamde Nuwe Hervormers, beweerde klagtes van leerdwaling teen prominente teoloë aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit en die ontstaan van 'n beweging soos die Evangeliese Inisiatief, is alles "golwe" op hierdie onstuimige see.1

Aan die hart van hierdie onstuimigheid lê oënskynlik die hele saak van Skrifinterpretasie (Skrifgesag of betroubaarheid), of ook hoe die Woord van God in ons tyd deur die teologie relevant gemaak word. "Ons tyd" is die postmoderne era wat elke vertakking van die wetenskap uitgedaag het tot 'n herformulering van sy kernwaarhede ten einde hoorbaar te bly in 'n snelveranderende landskap.

Vir die teologie verteenwoordig hierdie uitdaging van die postmoderne era 'n komplekse opdrag. Bybelse konsepte soos God, die historiese Jesus, die Heilige Gees, en selfs die waarheid, is abstrakte begrippe en derhalwe kwesbaar wanneer (her)formulering te sprake kom. 'n Wesenlike gevaar is dat basiese beginsels in die proses gekompromitteer kan word, wat die wese van die teologie in gedrang kan bring. In die lig hiervan is die uitdaging vir die verskillende afdelings van die teologie daarin geleë om krities om te gaan met elke nuwe ontwikkeling wat aanspraak daarop maak om in diens van relevansie en effektiwiteit in die postmoderne era te staan.

Die uitdaging om relevant te bly word in hierdie tyd op 'n akute manier aan die adres van die pastoraat, wat 'n vertakking van die praktiese teologie is, gerig. Pastoraat is immers die kerk se hulpverleningsarm aan die verwonde (postmoderne) mens. Paradigmatiese skuiwe binne die wetenskapsbeoefening asook die radikale veranderinge in die leefomgewing van pastorante moet noodgedwonge in die pastorale sorg verdiskonteer word; so nie beweeg die pastoraat en die mense wat hy bystaan, buite hoorafstand van mekaar. In die lig hiervan is dit begryplik dat nuwe ontwikkelings op die terrein van terapeutiese hulpverlening oor die afgelope dekades deur die pastoraat ontgin is en tans 'n plek gevind het in die wyse waarop pastors hulpbehoewendes begelei.

Een so 'n ontwikkeling wat wyd deur die Suid-Afrikaanse pastorale publiek oor die afgelope twee dekades verwelkom is, is die narratiewe benadering tot terapie (hierna ook narratief). Die groot aantal nagraadse studies en wetenskaplike artikels wat die narratief oor die afgelope jare as onderwerp het, verklap iets van die potensiaal wat pastorale teoloë hierin sien. Van hierdie studies het egter ook gesuggereer dat die filosofiese wortels van die narratief dit onder teologiese verdenking plaas as gevolg van die gedagte van 'n relasionele waarheidsbegrip wat sterk daarin na vore kom (sien Janse van Rensburg 2000:11 vir 'n bespreking van die implikasies hiervan vir die basiese Christelike vertrekpunte van die teologie). Die gevare van 'n relasionele waarheidsbegrip gepaar met 'n wesenskenmerk van die pastoraat, soos die gebruik van die Skrif binne terapie, behoort voor die handliggend te wees. Hierin is dan ook die raakpunt, pastoraal gesproke, tussen die gebruik van 'n narratiewe benadering en die huidige teologiese debat geleë: Is pastoraat wat aanspraak daarop maak dat dit narratief te werk gaan, nog pastoraat of het dit iets van sy teologiese karakter prysgegee?

Hierdie artikel sal binne die raamwerk van die praktiese teologie krities met die narratief omgaan ten einde 'n teologies-kritiese raamwerk daar te stel waarmee pastors in die lig van die huidige teologiese debat met die narratief kan omgaan.

 

2. PASTORAAT EN DIE PARADIGMASKUIF VAN MODERNISME NA POSTMODERNISME

Histories beskou, vertoon die pastoraat een konstante, en dit is dat dit nooit geskei kon word van die tydsgees waarbinne dit operasioneel moes wees nie. Gevolglik moes die pastoraat homself oor die afgelope dekades voortdurend by die eise van die heersende tydsgees aanpas ten einde 'n Wirklichkeitsverlustes te vermy.

In die meeste van die artikels en studies wat oor die afgelope twee dekades oor die pastoraat verskyn het, word breedvoerig oor hierdie ontwikkelinge gereflekteer. Daar sou in dié verband met vrug gekyk kon word na die bydraes van Gerkin (1997:105-113) en Heitink (1998: 43-69) wat die ontwikkelings in pastorale benaderings gedurende die twintigste eeu uiteengesit en gesistematiseer het. Van belang is dat hierdie ontwikkelinge as evolusionêr beskou word (Van den Berg 2006:173), nie net omdat daar oor die afgelope jare radikale metodologiese ontwikkelinge in die wyse van pastorale sorg was nie, maar veral omdat daar verskillende paradigmatiese bewegings in die pastorale teorievorming na vore gekom het. Die evolusionêre aard van hierdie metodologiese en paradigmatiese ontwikkelinge word duidelik wanneer enkele van hierdie pastorale hoogmomente in oënskou geneem word.

Vir die doel van so 'n oorsig sou die kerugmatiese aanpak van Eduard Thurneysen as vertrekpunt kan dien. Deur twee van sy werke, Die Lehre von der Seelsorge, (1957) (later vertaal as A Theology of Pastoral Care (1963)) en Seelsorge im Vollzug (1968), dien Thurneysen as voorbeeld van die sogenaamde Europese, Gereformeerde of Protestantse benadering tot die pastoraat (Louw 1998:44). Die uniekheid van die kerugmatiese benadering is geleë in die feit dat Thurneysen hom min deur invloede van buite die teologie laat rig het, maar van die standpunt uitgegaan het dat "[p]astoral care is and remains proclamation of the Word to the individual and neither can nor should be anything else" (Thurneysen 1963:201). Die pneumatologie verkry 'n kardinale rol aangesien dit die Woord lewend maak aan die behoewende mens. Die ekklesiologie kom binne die gesigseinder in soverre Thurneysen die gemeente en pastoraat sterk aan mekaar verbind, soos blyk uit verklarings dat

[a]ll pastoral care will lead to the church" (1963:313) en pastoral care exists in the church as the communication of the Word of God to individuals ... This Word demands to be communicated in various ways (1963:11).

Die tughandeling en sakramente beklee derhalwe ook 'n belangrike plek in sy beskouing van die pastorale proses (sien Thurneysen 1963:284, 315). Daar is wel by Thurneysen verwysing na ander menslike wetenskappe, soos die psigologie. Hierdie wetenskappe sou egter bloot die pastor kon help om die psige van die hulpbehoewende mens te peil, maar is nie direk deel van die pastorale gesprek nie.

Kort na die verskyning van die kerugmatiese benadering tot die pastoraat het die eduktiewe benadering van Seward Hiltner die lig gesien. Die ontwikkeling van hierdie benadering moet verstaan word teen die agtergrond van die opkoms van die psigologie in Amerika. Hierdie ontwikkeling het toenemend druk op die kerugmatiese benadering geplaas om in die rigting van 'n psigoterapeutiese benadering te ontwikkel. Hiltner word een van die teoloë wat met sy "pastoral theology" hierdie ontwikkelings probeer integreer:

The new knowledge that is coming from psychology, from psychiatry, from anthropology, and from other sources is not easy to assimilate; but its riches are such that no thoughtful person can set them aside (Hiltner 1958:25).

Hierdie "new knowledge" het veral geslaan op die client-centredness wat deur Carl Rogers bekend gemaak is en wat verder in die pastoraat ontgin is deur pastorale teoloë soos Wayne Oates, Paul Johnson en Carrol Wise (De Jongh van Arkel 1988:2). Hierdie assimilering het egter beteken dat die aanspraak van die Woord nou ondergeskik aan die behoeftes van die persoon in beraad geword het (Louw 1998:46). In hierdie verband kan van 'n ervaringsmodel gepraat word.

Teenstand teen hierdie ervaringsmodel sou vinnig by wyse van die noutetiese benadering van Jay E Adams volg. Louw (1998:47) noem dit selfs die "noutetiese reaksiemodel". Hiermee wou Adams (1979:37) die pendulum van die pastoraat terugdruk na wat hy Biblical counseling noem. Dit was veral die invloed van Mowrer (1961) en sy antagonisme jeens die plek van psigologie binne die pastoraat wat Adams tot 'n suiwer Bybelse aanpak vir die pastoraat oorgehaal het. Die spilpunt van Adams se pastoraat is geleë in die nouthesis (proses van konfrontasie) waardeur verandering in die mens teweeg gebring word. Onderliggend hieraan is die opvatting dat sonde die oorsprong van alle problematiek is. Hieruit vloei voort dat hulp nooit uit die oord van die psigologie of psigiatrie kan kom nie, maar dat insette uit hierdie dissiplines antiteties teenoor Bybelse pastoraat staan (Adams 1979:9).

Gerben Heitink het hierdie spanning tussen openbaring en ervaring met sy bipolêre model probeer ophef deur 'n sintese tussen die kerugmatiese en die eduktiewe benaderings daar te stel. Hy definieer derhalwe pastoraat as hulpverlening (Heitink 1979:75) en beskryf dit as die relasie wat die pastor met die hulpbehoewende aangaan om in die lig van die evangelie en in verbondenheid met die gemeente antwoorde te soek op lewens- en geloofsvrae. Hierdie hulpverlening geskied binne die spanningsvolle verhouding wat tussen twee pole bestaan, naamlik dit wat die pastoraat met ander hulpwetenskappe in gemeen het en dit wat eie aan die pastoraat is: "Dit bewaart het pastoraat voor secularisering enerzijds en spiritualisering anderzijds ... We spreken dan ook van een polaire definitie." (Heitink 1979:79.) Hiervolgens bestaan geen primaat van die praktyk bo die teorie of andersom nie (Heitink 1993:150). Heitink het voorts die begrip verbreding gebruik om 'n wyer siening van die pastoraat te probeer bevorder, naamlik dat pastoraat wyer verstaan behoort te word as net 'n besondere toespitsing van die Woord (sien Heitink 1979:136). Syns insiens impliseer so 'n verbreding nie afbreuk aan die gereformeerdheid (Woordkarakter) van die pastoraat nie, maar dring dit makliker deur tot die werklikheid waarbinne mense hulle bevind.

Vir 'n hele aantal jaar sou die kerugmatiese, eduktiewe, noutetiese en bipolêre benaderings tot die pastoraat die wyse waarop pastorale sorg bedien en verstaan is, wêreldwyd sterk beïnvloed. Iewers tussen hierdie benaderings moes leraars en ander betrokkenes in die veld van die pastoraat hulleself plaas ten einde pastorale sorg te kon bedien. Die belangrikste vraag waarvoor pastors toe reeds te staan gekom het, was waar die klem binne hulle pastorale aanpak sou val: op die teologiese onderbou (openbaring), of op die behoeftes van die persoon in beraad (ervaring)? Aan die een kant het "...die entoesiastiese ondersteuning vir hierdie rigting (ervaringsbenadering) plaasgevind as reaksie teen die ... hoofsaaklik monologiese gesprekke op die formaat van 'n klein prekie ..." en aan die ander kant het die "... teenstanders van die Rogers-Hiltner vorm van pastoraat besware gehad teen die nie-rigtinggewende onderbou en self-aktualisering wat as doel gestel is" (De Jongh van Arkel 1988:2).

Hierdie vraag is sedertdien sterk beredeneer deur pastorale teoloë in terme van die paradigma waaruit pastoraat bedien behoort te word. Binne die Suid Afrikaanse konteks het daar oor die afgelope vier dekades veral twee onderskeibare paradigmatiese bewegings ten opsigte van die pastoraat na vore gekom, te wete die diakoniologiese en die prakties-teologiese vertrekpunte. Elk het sy eie nuanseverskille binne die betrokke benadering.

In die jare wat die pastoraat plaaslik as 'n selfstandige vakgebied ontwikkel het, is oor die algemeen vanuit 'n diakoniologiese epistemologie vertrek. Dit was veral die geval binne die gereformeerde kerkfamilie, waar uiteraard aanspraak gemaak is op "gereformeerde pastoraat/poimeniek". Sodanige benadering het veral gepoog om die beginsel van Sola Scriptura te verskans deur die Woord as die primêre kenbron van pastorale teologisering te behou. Die diakoniologiese paradigma het dus 'n aanpak verteenwoordig waar die Skrif, belydenisse en kerklike tradisie die pastorale praxis onderlê het (Rossouw 1991:130). Met die uitspraak "in dié volgorde en nie in gelyke gewigte nie" wou Rossouw (1991:130) aandui dat die Skrif die belangrikste vertrekpunt binne hierdie aanpak was. Voorstanders van die diakoniologiese epistemologie het sterk aanklank gevind by 'n kerugmatiese aanpak in die praktyk, en teologiese korrektheid was in 'n groot mate belangriker as effektiwiteit (De Jongh van Arkel 1988:2).

Kritiek teen die diakoniologiese aanpak was onder meer dat dit in homself die gevaar van biblisisme dra, dat dit hulpverlening tot die kerklike ampte beperk en dat dit met die Bybel in isolasie van die mens se leefwêreld werk (Pieterse 1993:103-104). Die diakoniologiese paradigma sou derhalwe op die lang termyn plek maak vir die prakties-teologiese aanpak. Rossouw (1986:76) dui in sy artikel oor begripskeuses in die diakoniologie aan dat die begrip "praktiese teologie" oor 'n lang geskiedenis beskik, waarin die gedagte van 'n praktykgerigte wetenskap voorop staan. Jonker (1983:141) sê immers dat

[h]et spreken over God (heeft) geen enkele zin zonder de levenservaring van dit konkrete bestaan van alledag. En zo staan wij op specifiek practisch-theologische grond.

Dreyer (1998:14-15) lig die epistemologiese verskil tussen hierdie benaderings soos volg uit:

A new practical theology with a new focus emerged...its scope no longer that of pastoral theology ...This broadening of the scope of practical theology required a change in methodology. Whereas the old practical theology mainly applied the results of exegesis or dogmatics, which is often called a deductive or applied approach, the new practical theology had to seek a methodology or methodologies to study the lived religion in its explicit and implicit multiplicity ...The result was an empirical turn in practical theology: the adoption of social-scientific methods to carry out empirical research, by practical theologians within a practical theological framework. (Eie kursiverings.)

Hierdie omvattende aanhaling is 'n poging om te illustreer waarvandaan die praktiese teologie vertrek, naamlik die praxis-georiënteerde hoek. Hiermee het die klem na die identifisering van prakties-teologiese teorieë en die ontwikkeling daarvan vir die praktyk verskuif. Binne 'n openbaringervaringskema behoort dit duidelik te wees dat die prakties-teologiese benadering 'n affiniteit vir effektiwiteit binne pastorale praktyk vertoon.

Bogenoemde bied 'n oorsig oor die onderskeibare ontwikkelings in die paradigmatiese onderbou van die pastoraat. Tans het dit egter duidelik geword dat 'n derde ontwikkeling onderskei sal moet word, naamlik die paradigmaskuif van modernisme na postmodernisme. Dit is egter moeilik om die effek daarvan op die pastoraat te beskryf, omdat dit nie na 'n ontwikkeling verwys wat uit die (praktiese) teologie na vore gekom het nie (soos die skuif van 'n diakoniologiese na 'n prakties-teologiese paradigma), maar na 'n paradigmatiese skuif in die wetenskapsbeoefening self. Hierdie paradigmatiese skuif het uiteindelik implikasies vir alle vorme van wetenskap gehad, en het derhalwe ook die teologie geraak.

Oor die paradigmatiese skuif van modernisme na postmodernisme is reeds soveel geskryf dat 'n volledige beskrywing daarvan binne hierdie artikel oorbodig is en, weens die omvang van die onderwerp, ook nie haalbaar is nie. Hoewel enkele teoretici meen dat daar in sekere wêrelddele nog debat oor die realiteit van die postmoderniteit is (Schweitzer 2001:169), word dit oor die algemeen aanvaar dat die moderne era van wetenskapsbeoefening afgesluit is (sien hieroor Middleton & Walsch 1995; Grenz 1996; Vorster 1996; Du Toit 2000; Janse van Rensburg 2000; Strauss 2002; Van Niekerk 2005). In die plek daarvan word wetenskap toenemend vanuit 'n sogenaamde postmoderne paradigma beoefen. McMinn en Hall (2000:251) merk byvoorbeeld op dat postmoderniteit 'n "prepositional stance for philosophical reflection" geword het en dat postmodernisme "with its valuing of multiple ways of knowing, has ushered in new challenges for interpretation".

Die term postmodernisme (as aanduiding van die periode na die modernisme, teenoor postmodernisme as aanduiding van die huidige leef- en denkklimaat) het veral gangbaar geword na die verskyning van Lyotard se werk The Postmodern Condition: A Report on Knowledge (1979). Die essensie van Lyotard se denke kan volgens Piehl (2001:25) ten beste in Lyotard se eie woorde saamgevat word, wanneer hy sê: "Simplifying to the extreme, I define postmodernism as incredulity toward all metanarratives." Hierdie aanhaling illustreer hoe Lyotard die eerstewêreldse mens van die laat 1970's se verstaan van die werklikheid waargeneem het. Die optimisme oor die sekerheid waarmee geken kon word, soos gesien in die modernistiese periode, het verdwyn. Binne hierdie denkraamwerk het daar hoofsaaklik 'n verskuiwing plaasgevind na 'n voorkeur vir die subjektiewe bó die objektiewe, van 'n klem op die rede na 'n klem op die ervaring en 'n algemene voorkeur vir die relatiwisme teenoor objektiewe sekerhede. Skielik het die denke van Nietzche (nihilisme) en Heidegger (hermeneutiek) relevant geword en die fondament geword waarop, onder andere, Levi-Strauss, Foucault, Derrida, en Baudrillard voortgebou het (sien Janse van Rensburg 2000:13-28).

Binne die teologiese raamwerk van hierdie artikel sal ek die implikasies van hierdie verandering in denke tot drie terreine wou beperk. Die eerste het te make met waarheidsaansprake. Die uitgangspunt van die postmoderne denke is dat daar geen waarheid kan bestaan nie. Andersen (1997:27) sê hieroor:

Postmodernity challenges the view that the truth is one and undivided. The newer view regards any truth as socially constructed, contingent, inseparable from the peculiar needs and preferences of certain people in a certain time and place.

Die tweede het te make met die postmodernistiese mensbeskouing. Laasgenoemde plaas die mens in die sentrum van die universum. Die antwoorde en oplossings vir probleme moet binne die mens self gesoek word. Die implikasie vir hulpverlening is duidelik, soos gesien in die doelwit van Milner en O'Byrne (2002:23) se terapie binne 'n postmoderne epistemologie, wat fokus op die "identification, validation and strengthening of clients' inner resources". Die derde terrein wat ek wil uitsonder raak die lewensdoel en eindbestemming van die mens binne 'n postmoderne denkraamwerk aan. Die postmodernisme aanvaar slegs dit wat in die huidige en sosiaal gekonstrueer kan word as die werklikheid. Lewensdoel én eindbestemming word dus gereduseer tot die hier en nou. Vandaar die postmodernistiese klem op 'n vitale lewensgevoel en dat die mens één lewe het wat nóú geleef moet word. Groothuis (2000:21) verwys in hierdie verband na 'n bufferplakker wat sê: "I've given up on reality. Now I'm looking for a good fantasy." Hierdie lewensgevoel word ook verwoord in die hedendaagse jongmens se geliefde stopwoord: "Whatever!" En daarom sien Payne (2000:208) die doel van terapie bloot as die sogenaamde "enrichment of life - to enrich life with joyful activities".

In die lig van die voorafgaande sou voorlopig-evaluatief opgemerk kon word dat die paradigmatiese skuif van modernisme na postmodernisme definitiewe implikasies vir die pastoraat het. Waar die pastoraat binne 'n modernistiese denkraamwerk homself goed kon handhaaf met 'n diakoniologiese epistemologie (met sy klem op die openbaring) of 'n praktiesteologiese epistemologie (met sy klem op die ervaring), het die speelveld binne 'n nuwe paradigmatiese omgewing heeltemal verander. In 'n sekere sin roep die postmoderne milieu om 'n pastoraat wat oorwegend gemoeid is, met die ervaring in die hier en die nou. Dit is skynbaar minder gemoeid met die Waarheid van die Woord en die singewende eskatologiese vergesigte wat dit ontsluit. Hierdie tipe pastoraat is veral daarop ingestel om die mens te bemagtig om hom/haarself te help.

Die praktiese teologie (soos dit in die pastoraat beoefen word) se poging(s) om hierdie paradigmatiese skuif te verreken, is tot dusver by pastorale teoloë se aansluiting by die narratiewe benadering te bespeur. Die narratief is entoesiasties ontvang - op soortgelyke trant as wat pastors die Rogeriaanse teorieë etlike dekades gelede verwelkom het. Die opkoms van die narratief as benadering tot terapie kan egter nie losgemaak word van die paradigmaskuif van modernisme na postmodernisme nie, aangesien die narratief uit postmoderne vertrekpunte gebore is (sien die afdeling oor narratiewe terapie). Die gebruik van die narratief (met sy filosofiese vertrekpunte) het dus epistemologiese implikasies, in die mate dat dit 'n postmoderne epistemologie voorveronderstel. Die enkele pastorale teoloë wat hierdie implikasie ingesien het en wel daarop aanspraak maak dat hulle "postmodernisties" te werk gaan, laat egter twyfel ontstaan of hulle daarmee bedoel dat hulle 'n nuwe epistemologie naas 'n prakties-teologiese epistemologie aangeneem het, in plaas daarvan om steeds (epistemies) prakties-teologies binne 'n postmoderne konteks te werk.2

Hiermee word gesuggereer dat 'n konsekwente postmoderne paradigma vir die pastoraat iets totaal nuuts verteenwoordig, wat na die beste van my wete nog nie bevredigend uitgeklaar is nie. Wat ek wel vermoed, is dat 'n postmoderne paradigma vir wetenskapsbeoefening nie noodwendig versoenbaar is met 'n teologiese praktyk waarin die Woord en die belydenisskrifte as vertrekpunt dien nie. Hierdie suggestie sal deur die volgende paragrawe verder belig word.

Na aanleiding van bogenoemde punte, word daar vervolgens aandag gegee aan hulpverlening soos dit inderdaad binne 'n postmoderne paradigma ingeklee is, naamlik narratiewe terapie.

 

3. NARRATIEWE TERAPIE

Die term narratiewe terapie word sedert die vroeë 1990's in die hulpverleningswetenskappe gebruik. Twee kliniese terapeute, te wete Michael White, afkomstig van Australië, en David Epston, afkomstig van Nieu-Seeland, word algemeen as die vaders van hierdie benadering beskou. Derhalwe word hulle gesamentlike werk, Narrative means to Therapeutic Ends (1990), as standaardwerk binne die narratiewe benadering beskou. In hierdie benadering word die begrip narratief gebruik om aan te dui dat die mens se lewe as 'n verhaal verstaan kan word en dat hierdie analogie vir terapeutiese doeleindes aangewend kan word.

'n Narratief (verhaal) ontstaan volgens Morgan (2000:5) in mense se lewens na aanleiding van gebeure wat in volgorde oor tyd volgens 'n bepaalde plot ontwikkel het. Mense leef hulle lewens aan die hand van hierdie verhale, en laat ook hulle verwagtings van die lewe daarvolgens bepaal. Mense se lewens is egter veelfasettig, of multistoried: "There are many stories occurring at the same time and different stories can be told about the same events." (Morgan, 2000:8.) Hierbenewens word mense se lewensverhale medebepaal deur hulle lewenskonteks en kultuur. Hierdie sogenaamde sosiale diskoerse spreek 'n bepaalde woord met lewensgebeure mee om uiteindelik die verhaal te vorm aan die hand waarvan mense hulle lewens verstaan en interpreteer.

Volgens White en Epston (1990:9-10) maak die narratief onderskeid tussen sogenaamde dominante en alternatiewe verhale. Die dominante stories is gewoonlik die probleem-deurdrenkte verhale (problem-saturated stories) wat die alternatiewe (positiewe) verhale oorskadu. Alle nuwe gebeure word deur die (lens van die) dominante verhale gesien en verstaan, wat kan beteken dat 'n beperkende siening op die hede en toekoms nagehou word. Die transformerende element van die narratiewe benadering lê daarin dat dit ook die alternatiewe (positiewe) verhale in mense se lewens na vore bring en versterk, sodat 'n nuwe, positiewe verhaal geskep kan word waardeur die ou dominante verhaal vervang word (White & Epston, 1990:15).

Wat hierdie benadering tot hulpverlening so uniek maak, is dat dit een van die eerste terapeutiese modelle was wat die filosofie van die postmodernisme volledig omarm het. Milner en O'Byrne (2002:10) maak die waarneming:

Narrative therapy ... this way of working is more political and social in nature, being based on the sociology of the post-structuralist Foucault and the sociolinguist Halliday concerning the oppressive effects of dominant narratives on people's understanding of the validity of their ways of living.

Hierdie omarming van die postmoderne filosofie word selfs meer prominent wanneer sekere van die operatiewe terme binne die narratief van nader beskou word (terminologie wat in die narratief ontwikkel is en tydens terapie aangewend word). Enkele van hierdie terme word hieronder verder toegelig:

Die terapeutiese houding van "nie weet"

Anderson en Goolishian (1992:29) meen dat die terapeutiese houding van "not knowing - the client is the expert" een van die grondhoudings binne die narratiewe benadering tot terapie is. Op hierdie wyse kry die persoon in beraad 'n "stem" en die geleentheid om as die ekspert van sy/haar eie narratief daardie narratief sonder voorbehoude te deel. Die hulpverlener luister op hermeneutiese wyse sonder om alles aan 'n bepaalde raamwerk te meet. Volgens Parry (1991:42) gaan hermeneutiese luister juis oor die aanvaarding van die verskillende perspektiewe wat mense op die lewe nahou en die aanvaarding van ander se verstaan van die werklikheid/waarheid.

Die probleem is die probleem

Binne die narratief word sterk onderskeid getref tussen die mens en die probleem wat tydens terapie ter sprake kom. Morgan (2000:24) meen dat dit slegs mense se verhouding met 'n bepaalde probleem is wat die probleem konstitueer. O'Hanlon (1994:24) stel dit dat "the person is never the problem; the problem is the problem".

Dekonstruksie

Dekonstruksie verwys na die weg waarlangs die probleme wat mense lamlê, in die narratiewe proses afgebreek word om tot nuwe betekenis te kom. Dit behels die "losmaak en uitmekaarhaal van 'n betekenissisteem om vir alternatiewe verstaan ruimte te skep" (Kotzé & Kotzé 1997:8).

Eksternalisering

Eksternalisering en dekonstruksie word dikwels as twee kante van dieselfde munt binne die narratiewe literatuur hanteer. Die rede hiervoor is dat dekonstruksie grootliks deur eksternalisering gefasiliteer word. Laasgenoemde verwys na die proses waarlangs persone en hulle probleme van mekaar losgemaak word. Eksternalisering vind plaas waar persone dit regkry om 'n gepaste naam aan 'n probleem te koppel (O'Hanlon 1994:24).

Ko-konstruksie

Dit behoort reeds duidelik te wees dat die narratief swaar steun op die ervaring en ekspertkennis van die persoon in beraad en dat hierdie selfnarratiewe tot 'n groot mate behulpsaam moet wees met die vorming van nuwe narratiewe. Hierdie benadering het ook implikasies vir die posisie van die hulpverlener. Binne die narratief is die hulpverlener/terapeut onthef van die rol van meganikus wat vanuit 'n posisie van "weet" die "regte antwoorde" moet verskaf om probleme op te los. Veel eerder word voorkeur verleen aan die begrip "ko-konstruksie", wat die terapeut in die rol van 'n medereisiger plaas (sien Müller 2000).

Gedagtig aan die postmoderne sienswyse rakende waarheidsaansprake, mensbeskouing en lewensdoel (waarna in die slotparagrawe van die vorige afdeling verwys is) behoort duidelik te blyk dat die narratief paradigmaties en metodologies 'n postmoderne terapie in eie reg verteenwoordig. Bes moontlik sal daar van 'n hermeneutiese benadering gepraat kan word, aangesien die klem binne 'n postmoderne benadering (in die lig van die voorafgaande) sterk op die vertolking van menslike handelinge binne bepaalde omstandighede val. Die taak van die pastoraat word derhalwe binne so 'n benadering nie meer gesien in verkondiging (kerugma) nie, maar in die interpretasie van die pastorant se verhaal.

By wyse van logiese deduksie sal daar dus moeilik tot 'n ander gevolgtrekking gekom kan word as dat tradisionele paradigmas vir die pastoraat en 'n postmoderne paradigma teenoorstaande sake verteenwoordig. Die Bybel, as metanarratief van die Christelike geloof, die Waarheid soos daarin geopenbaar in die persoon van Christus, die mens as afhanklik van sy Skepper en die ewige lewe soos eskatologies in die opstanding van Christus verskans, is maar enkele sake wat binne 'n konsekwente postmoderne paradigma (narratief) vervaag. Terminologie soos "narratiewe pastoraat" verteenwoordig daarom 'n inherente spanning wat epistemologies uitgeklaar moet word alvorens dit binne die klimaat van die huidige teologiese debat aangewend sal kan word. So nie word die gevaar geloop dat die basiese waarhede van die Woord ook op die spel kom tydens pastorale hulpverlening.

 

4. MERKERS VIR 'N TEOLOGIES KRITIESE RAAMWERK BINNE DIE PASTORAAT IN DIE HUIDIGE TEOLOGIESE DEBAT

Volgens König (2009:16) woed die huidige teologiese storm tans tussen die twee uiterstes van fundamentalisme en liberalisme. Fundamentalisme berus op wat hy noem 'n "hoë Bybelbeskouing" en liberalisme op 'n "lae Bybelbeskouing" (sien König 2009: 22, 31). As voorbeeld van eersgenoemde word verwys na strominge in die VSA wat die Bybel as foutloos beskou, as 'n dokument wat volkome en volmaak is en derhalwe ook 'n volkome en volmaakte woord vir elke omstandigheid moet hê. Die lae Bybelbeskouing van die liberalisme, daarenteen, verwater die gesag van die Woord heeltemal. Deur die sogenaamde radikale kritiek en histories-kritiese metode van uitleg bly daar in wese min oor wat as gesaghebbend, en daarom rigtinggewend uit die Skrif geneem kan word.

Hoewel oorvereenvoudig, kan die pastorale teologie die parameters van die König se waarneming van die teologiese storm met vrug gebruik wanneer daar krities besin word oor 'n teologiese aanpak binne 'n postmoderne konteks. Op die keper beskou was die inherente spanning van die pastorale teologie nog altyd op dieselfde basis geleë. 'n Eng diakoniologiese benadering het menigmaal vasgeval in 'n biblisisties-kerugmatiese gebeure wat 'n (buite-konteks) teks vir enige gebeurlikheid moes hê. Op dieselfde wyse loop 'n konsekwente postmoderne benadering die gevaar om bloot gelei te word deur die "ekspert" in beraad en dat die hele proses onderhewig word aan die woordeskat van die persoon in beraad.

Die volgende voorgestelde merkers sou myns insiens in diens kon wees van 'n verantwoorde(like) pastoraat na aanleiding van die huidige teologiese diskoers: pastoraat?, konteks en strategie.

4.1 Pastoraat? Met die woord pastoraat in vraagvorm wil ek aansluit by die stelling wat

Louw in die inleiding tot sy gesaghebbende werk, Pastoraat as Vertolking en Ontmoeting, maak:

Wie vandag oor die pastoraat skryf word gedwing om heel aan die begin 'n belangrike keuse te maak, naamlik: gaan dit in die pastoraat om mense se verhouding met God of gaan dit bloot om mense se ervaring van die lewe ... Gaan dit in die pastoraat om "teo"-logie of gaan dit om "psigo"-logie? (1998:1.)

Hierdie (vraag)stelling verwoord die vraag wat die huidige teologiese debat aan die pastorale teologie poneer heel akkuraat. Pastorale teoloë sowel as pastors binne die pastorale praktyk van gemeentes en andersins moet in hierdie tyd opnuut sensitief wees vir die mate waarin hulle teologies besig is. Louw (2002:35) merk voorts op dat

[p]astors are so obsessed with attaining counselling skills and immediate results that they do not realise the value of hope3 as a new state of being which determines every vision and act.

Die postmoderne milieu met sy snelveranderende landskap plaas inderdaad baie druk op pastors om effektief te wees. In hierdie verband is die narratief 'n aantreklike antwoord. Dit verreken die postmoderne filosofie en praat die postmoderne milieu na die mond. Konsekwent toegepas, werk dit egter nie met sekerhede nie, maar met sosiaal gekonstrueerde waarhede. As sodanig verloor dit egter die vermoë om waarlik rigting en hoop te bied. Bo alles gaan dit mank aan 'n toekomsverwagting wat berus op die hoop wat in die Woord ontsluit word.

Die pastoraat moet egter pastoraat bly; met ander woorde, dit moet ook in 'n nuwe era as geloofshulp gedefinieer word. Hierdie geloofshulp word uiteindelik lewenshulp wanneer die transenderende elemente van die Woord, naamlik die pneumatologie en eskatalogie, deel van die proses bly. Hierdie transenderende elemente vra uiteraard na verantwoordelike (eksegetiese en hermeneutiese) gebruik, sonder dat die pastor toegee aan die een of ander "-isme" en sonder dat pastorante onseker is oor wat die pastoraat aan hulle wou bemiddel. Hieroor meen Louw (2002:35):

The only skill needed to generate hope, is the ability to expose the parishioner to the faithfulness of God ... this change can be generated when the person is challenged by God's promissio and the sacramental character of biblical counselling.

Die implikasie hiervan is dat die pastoraat steeds ten doel moet hê om 'n ontmoeting met God in die lewens van mense te bewerkstellig. Hierdie doelwit is egter nie haalbaar buite die teologiese vertrekpunte van die Woord, Gees en gebed nie.

4.2 Konteks

Die huidige teologiese debat noop die pastorale teologie voorts om die konteks waarbinne dit opereer, krities te verreken. Dit wil immers voorkom of die paradigmatiese verandering van 'n moderne paradigma na 'n postmoderne paradigma 'n nuwe lewenskonteks met hom saamgebring het. Die somtotaal van die proses van postmodernisering en globalisering is gevolglik dat pastors hulleself grootliks binne 'n nuwe milieu bevind. Veranderinge op 'n makro-, meso- en 'n mikrovlak het bo alles die mense van hierdie era nie ongeskonde gelaat nie. Van die grootste leemtes binne hierdie nuwe omgewing wat direkte eise aan die teologie (pastoraat) stel, lê op die terreine van lewensin en waarheid (Steyn & Lotter 2006: 539, 541). 'n Nuwe pastorale bewoënheid het nodig geword om met die probleme van mense binne hierdie nuwe konteks te werk. Aan die grond hiervan lê 'n antropologiese sensitiwiteit dat die mens in die algemeen nie onaangeraak deur postmodernisering gelaat is nie. Pieterse (2002:80-86) verwys in hierdie verband na die voorrang wat subjektiewe ervaring, pluraliteit, relasionele waarheidsverstaan asook meervoudige beskouinge rondom spiritualiteit in die postmoderne mens se denke geniet. In die lig hiervan word pastors gedwing om die Woord van God op 'n nuwe en kreatiewe wyse vir mense in 'n postmoderne era te verwoord. In dié verband moet die postmoderne kritiek teen absolutisme en onsensitiewe toepassing van Bybelse beginsels ernstig geneem word (Janse van Rensburg 2000:36) sodat die kerk se pastorale stem binne 'n nuwe konteks relevant kan bly.

4.3 Strategie

'n Teologies verantwoorde(like) pastoraat sal in hierdie tyd baat by 'n kritiese onderskeiding tussen epistemologie en strategie. In hierdie navorsing is aangedui dat 'n groot deel van die teologiese polarisasie wat tans bestaan toe te skryf is aan die feit dat teoloë nie duidelik genoeg onderskeid tussen strategie en epistemologie tref nie. In hierdie tyd dien onthou te word dat die pastoraat oor jare as 'n eklektiese wetenskap ontwikkel het. Naas die teologiese basisteorie het dit nog nooit geskroom om van sogenaamde metateorie gebruik te maak nie. Vroeë pastorale teoloë soos Hiltner (1958), Brillenburg-Wurth (1955) en De Klerk (1978) het reeds 'n simbiotiese verhouding tussen die pastorale teologie en metawetenskappe bepleit, met die voorbehoud dat die onderskeie wetenskappe se grense nie oorskry moet word nie. Die nut van strategieë wat deur die narratiewe terapie verfyn is (en die bydraes van ander dissiplines), moet dus allermins eenkant toe geskuif word, maar moet binne die kader van geloofshulp ontgin word. Dit moet egter só gedoen word dat dit steeds sal uitloop op 'n pastoraat wat aan 'n diakoniologies- of praktiesteologiese epistemologie getrou bly en wat vashou aan die Woord as die basis binne daardie vertrekpunt ten einde teologiese integriteit te behou.

 

5. KONKLUSIE

Die teologiese toneel in Suid-Afrika is tans onstuimig en die poging om die Woord in 'n postmoderne milieu te verwoord gaan by tye mank aan teologiese integriteit en kongruensie. As gevolg hiervan vra teoloë oor en weer dat sake van teologiese aard met mekaar uitgeklaar word. In hierdie artikel het hierdie debat as katalisator gedien vir 'n kritiese refleksie op die narratief wat tot dusver as die pastoraat se antwoord vir die postmoderne tyd gedien het. Na my mening het die narratief aan sy grond egter 'n postmoderne epistemologie wat nie noodwendig met die oogmerke van die pastoraat versoen kan word nie, hoofsaaklik omdat postmoderne filosofie waarheid relasioneel beskou en poog om dit sosiaal te konstrueer. In hierdie verband neem dit kritiese elemente van die pastoraat weg - veral wanneer die pastor poog om konsekwent postmodern in sy/haar aanpak te wees. Die huidige teologiese debat noop gevolglik ook pastorale teoloë om krities te besin oor hóé hulle die pastoraat in hierdie tyd bedien. Hierdie uitdaging kan voorlopig aan die hand van drie kritiese merkers aangepak word: Die pastor moet vir hom/ haarself uitmaak of hy/sy pastoraat as geloofshulp kan verantwoord; of hy/ sy die postmoderne konteks krities tot voordeel van die pastorant verreken het; en in welke mate die strategieë van die narratief (en ander dissiplines) binne 'n prakties-teologiese epistemologie aangewend kan word ten einde die hulpbehoewende in 'n postmoderne klimaat te bereik. In hierdie lig gesien, kan die huidige teologiese debat op 'n kreatiewe wyse aangewend word om pastorale denke te stimuleer wat op verantwoordelike wyse tussen die grense van fundametalisme (biblisisme) en liberalisme (relasionele waarheid) beweeg.

 

BIBLIOGRAFIE

Adams, J.E. 1979. More than redemption: A theology of Christian counseling. Philipsburg, New Jersey: Presbyterian and Reformed Publishing Company.         [ Links ]

Andersen, W.T. 1997. The future of the self: Inventing the postmodern person. New York: Putman.         [ Links ]

Anderson, H.D. & Goolishian, H. 1992. The client is the expert. A not knowing approach to therapy. In: S. McNamee & K. Gergen, Therapy as Social Construction. (London: SAGE), pp. 3-21.         [ Links ]

Brillenburg - Wurth, G. 1955. Christelijke zielzorg in het lig der moderne psychologie. Kampen: Kok.         [ Links ]

De Jongh Van Arkel, J.T. 1988. Die pastoraat: Noodsaaklike onderskeidings. 'n Posisiebepaling na 25 jaar. In: Smuts (red.), Praktiese Teologie in Suid Afrika 5. (Pretoria:NG Kerkboekhandel), pp. 1-13.         [ Links ]

De Klerk, J.J. 1978. Herderkunde. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Dreyer, J.S. 1998. The researcher and the researched: Methodological challenges for Practical Theology. Praktiese Teologie in Suid Afrika 13(1):14-27.         [ Links ]

Du Toit, B. 2000. God? Geloof in 'n postmoderne tyd. Bloemfontein:CLF Uitgewers.         [ Links ]

Gerkin, C.V. 1997. An introduction to pastoral care. Nashville: Abingdon.         [ Links ]

Grenz, S.J. 1996. A Primer on postmodernism. Grand Rapids, Michigan: Eerdmans.         [ Links ]

GrooThuis, D.G. 2000. Truth decay. Defending Christianity against the challenges of postmodernism. Leicester:Intervarsity Press.         [ Links ]

Heitink, G. 1979. Pastoraat als hulpverlening: Inleiding in de pastorale theologie en psychologie. Kampen:Kok.         [ Links ]

Heitink, G. 1993. Praktische theologie: Geschiedenis - teorie - handelingsvelden. Kampen: Kok.         [ Links ]

Heitink, G. 1998. Pastorale zorg. Kampen:Kok.         [ Links ]

Hiltner, S. 1958. Preface to pastoral theology. Nashville: Abingdon.         [ Links ]

Janse Van Rensburg, J. 2000. The paradigm shift. Pretoria:Van Schaik.         [ Links ]

Jonker, H. 1983. Theologische praxis. Problemen, peilingen en perspektieven bij kenterend getij. Nijkerk:Callenbach.         [ Links ]

König, A. 2009. Die Evangelie is op die spel. Wellington:Lux Verbi. BM.         [ Links ]

Kotzé, E & Kotzé, D.J. 1997. Social construction as a postmodern discourse: An epistemology for conversational therapeutic practice. Acta Theologica 17(1):27-50.         [ Links ]

Louw, D.J. 1998. Pastoraat as vertolking en ontmoeting. (3 de uitgawe). Kaapstad:Lux Verbi.         [ Links ]

Louw, D.J. 2002. What about "human soul" in cura animarum? The paradigmatic revolution in care, counseling and practical theology. Uitdeelstuk: Praktiese Teologie Werksgemeenskap, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Lyotard, I.F. 1979. The postmodern condition: A report on knowledge. Minneapolis: University of Minnesota Press.         [ Links ]

Mcminn, M.R. & Hall, T.W. 2000. Christian spirituality in a postmodern era. Journal of Psychology and Theology 28(4):251-253.         [ Links ]

Middleton , J.R. & Walsh, B.J. 1995. Truth is stranger than it used to be. Biblical faith in a postmodern age. Downers Grove, Illinois:Intervarsity Press.         [ Links ]

Milner, J & O'ByrnE, P. 2002. Brief counselling. Narratives and solutions. New York: Palgrave.         [ Links ]

Morgan, A 2000. What is narrative therapy? Adelaide: Dulwich Centre Publications.         [ Links ]

Mowrer, O.H. 1961. The crisis in psychiatry and religion. Princeton, New Jersey: Van Nostrand.         [ Links ]

Müller, J 2000. Reisgeselskap. Wellington:Lux-Verbi. BM.         [ Links ]

Muller, P. (Red.) 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria:Protea Boekhuis.         [ Links ]

O'Hanlon, B. 1994. The third wave. Can a brief therapy open doors to transformation? The Family Networker Nov/Dec, 19-29.         [ Links ]

Oosthuizen, J. 2006. Geen dwaalleer by Tukkie-dosente gevind. Die Kerkbode 11 Augustus, p. 3.         [ Links ]

Oosthuizen, J. 2008. EI beplan besige 2008. Die Kerkbode 25 Januarie, p. 4.         [ Links ]

Parry, A 1991. A universe of stories. Family Process, 30: 37-54.         [ Links ]

Payne, M. 2000. Narrative therapy. An introduction for counsellors. London: SAGE Publications.         [ Links ]

Piehl, R.O. 2001. Narrative therapy and the Christian counselor. Neccesary precautions. Christian Counseling Today vol 9 (3):25-28.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C. 1993. Praktiese teologie as kommunikatiewe handelingsteorie. Pretoria:RGN Uitgewery.         [ Links ]

Pieterse, H.J.C. 2002. Prediking in 'n postmoderne lewensgevoel. Praktiese Teologie in Suid Afrika 17(2): 76-102.         [ Links ]

Rossouw, P.J. 1986. Enkele terminologiese keuses in die gereformeerde diakoniologie. Tydskrif vir Christelike Wetenskap vol 1 & 2: 73-98.         [ Links ]

Rossouw, P.J. 1991. Die diakoniologie - Teologiese basisvrae. Tydskrif vir Christelike Wetenskap vol 3: 120-133.         [ Links ]

Schweitzer, F. 2001. Practical theology and postmodern life. Do we need a new paradigm? International Journal of Practical Theology vol 5(2):169-183.         [ Links ]

Stwyn, R.S & Lotter, G.A. 2006. Veranderende tendense en die implikasie vir jongmensverhoudings. Koers 71 (2, 3, 4):535-555.         [ Links ]

Strauss, D.F.M. 2002. Voorvrae rondom die geloofwaardigheid van die Bybel in 'n "postmoderne tyd". Ned Geref Teologiese Tydskrif 43(3-4):570-592.         [ Links ]

Theron, F. 2002. Klaarpraat met Bybel? Die Kerkbode 15 Junie, p. 1.         [ Links ]

Thurneysen, E. 1957. Der lehre von der seelsorge. Zürich:Theologischer-Verlag         [ Links ]

Thurneysen, E. 1963. A Theology of pastoral care. Richmond, Virginia: John Knox Press.         [ Links ]

Thurneysen, E. 1968. Seelsorge im vollzug. Zürich:EVZ-Verlag.         [ Links ]

Van Den Berg, J.A. 2006. 'n Verandering in tongval...? 'n Verwoord-(-beelding)ing van pastoraal-teologiese perspektiewe. Praktiese Teologie in Suid-Afrika 21(2):164-181.         [ Links ]

Van Niekerk, A. 2005. Geloof sonder sekerhede. Besinning vir eietydse gelowiges. Wellington:Lux Verbi BM.         [ Links ]

Viljoen, F.P. 2003. Wat sê die Nuwe Hervormers? En watter ooreenkomste is daar met die Jesus Seminaar? Die Kerkblad. Oktober, p. 18-19.         [ Links ]

Vorster, J.M. 1996. Is die kerk funksioneel? Gedagtes oor gereformeerde kerkvernuwing in 'n post moderne konteks. Potchefstroom:Potchefstroomse Teologiese Publikasies.         [ Links ]

White, M & Epston, D. 1990. Narrative means to therapeutic ends. New York: W.W.Norton & Company.         [ Links ]

 

 

1 Die Nuwe Hervormers en die Evangeliese Inisiatief kan as die twee uiterste pole binne die huidige teologiese debat beskou word. Eersgenoemde is 'n groep eendersdenkende Suid-Afrikaanse akademici wat groot ooreenkomste met die sogenaamde Jesus Seminar van Robert Funk van die VSA vertoon (Viljoen 2003:19). Deur ondersoeke na die historiese Jesus word gepoog om te onderskei wie Jesus werklik was. in teenstelling met sienings van Sy vroeëre navolgers en soos dit neerslag in die Nuwe Testament gevind het (sien Muller 2002). Hulle bevindinge het groot opslae gemaak onder behoudende teoloë sowel as die algemene publiek (Theron 2002:1). Aan die ander kant van die spektrum staan die Evangeliese Inisiatief, wat in 2007 deur ontevrede teoloë en lidmate van die NGK gestig is, om onder meer 'n terugkeer na die suiwer leer te bepleit. Volgens die Evangeliese Inisiatief "moet die vlag van die evangelie hoër gehys word juis as die winde van ons tydsgees teen die waarhede van die Skrif en die uniekheid van Christus woed" (Oosthuizen 2008:4). Klagtes van beweerde leerdwaling teen teoloë van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria deur die teologiestudent Ferdi Muller in 2006 het die teologiese water net verder vertroebel. Alhoewel al die aangeklaagdes vrygespreek is, het die aangeleentheid die hele kwessie van teologiese diversie verder onderstreep (Oosthuizen 2006:3).
2 Vergelyk in dié verband Janse van Rensburg (2000:38-46) se kritiek op onder andere Steenkamp, Van Aarde en Dill se aanspraak op postmoderne epistemologieë vir die teologie in die lig van die onversoenbaarheid tussen teologiese en postmoderne vertrekpunte en die gevolglike epistemologiese diskrepansies.
3 Hoop funksioneer in dié stelling as teologiese konsep as deel van Louw se pleidooi dat pastorale terapie steeds die unieke eiegoed van die pastoraat - onder andere God se getrouheid - tydens die pastoraat moet kommunikeer, selfs te midde van paradigmatiese en kontekstuele skuiwe.