SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.30 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.30 no.2 Bloemfontein Dec. 2010

 

Drome kan waar word

 

 

J. Janse van Rensburg

Prof. J. Janse van Rensburg, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein. E-pos: jjvanr@yebo.co.za

 

 

My teologiese loopbaan het begin met 'n eksamen by prof. Johan Heyns. Die eksamen het gehandel oor Karl Barth se boek Evangelical Theology. Ek was skerp en prof. Heyns was beïndruk. Die akademiese gogga het gebyt.

Om die lesings van prof. Heyns aan te hoor, was 'n belewenis en 'n betowering. Dit het gevoel of ek elke woord indrink. Sy gebede aan die begin van elke lesing was aangrypend. Heyns het my mentor en my teologiese ideaal geword. Ná my eerste klaspreek het my medestudente vir die professor gevra wat hy van my Heynsiaanse preekstyl dink!

Geleidelik het die ideaal in my gegroei om 'n akademiese loopbaan te volg. Die hoop was skraal, aangesien daar maar net soveel poste en vakatures op 'n gegewe tydstip is en die kompetisie wat om 'n enkele vakature meeding, baie sterk was. Ek huldig die nagedagtenis van prof. Dawid de Villiers, wat, toe ek nog 'n student was en daar nog nie eers sprake van 'n teologiese fakulteit op Bloemfontein was nie, vir my gesê het dat wanneer die Vrystaatse Universiteit 'n fakulteit kry, hy wil hê dat ek as dosent daarheen beroep moet word.

Na my eerste doktorsgraad onder die promotorskap van die gerespekteerde professor Willie Jonker by Stellenbosch het ek gehoop dat ek êrens in die sistematiese teologie tereg sou kom. Tydens 'n vakansie by Durban loop ek 'n boek oor hipnose raak en word onmiddellik beïndruk deur die terapeutiese moontlikhede vir die pastoraat. Ek het professor Murray Janson as promotor gekies en ook onder dr. David Fourie, dosent in sielkunde en wêreld-erkende kundige op die gebied van hipnoterapie gewerk. Daarmee was my betrokkenheid by Praktiese Teologie gevestig.

Nadat ek die eerste keer vir 'n pos by die UV benoem is, was die teleurstelling groot toe die keuse op iemand anders geval het. Ek het besluit om my nog verder in die Praktiese Teologie te bekwaam. 'n Derde
doktorsgraad onder leiding van prof. Kobus Kellerman het gevolg.

Die volgende benoeming het van prof. Willie Jonker gekom vir 'n pos in sistematiese teologie by die Universiteit van die Noorde (toe nog nie met Potchefstroom verenig nie). Ook hierdie benoeming het misluk, waarvoor ek later oneindig dankbaar was vanweë die opstande en klasontwrigting wat destyds aan die orde van die dag was.

'n Derde en vierdie benoeming het gelyktydig gekom. Met die aftrede van prof. Heyns is ek benoem vir sy pos in Sistematiese Teologie en terselftertyd ook vir die pos in Praktiese Teologie by die UV. Pretoria wou my nie hê nie, ek vermoed omdat ek te veel die klem op my gereformeerde ingesteldheid geplaas het. Uiteindelik is ek toe na die fakulteit in Bloemfontein beroep. My droom het waar geword!

Ten spyte van my drie doktorsgrade en 'n paar wetenskaplike artikels was daar 'n weiering om my as mede-professor te beroep. Kort nadat ek as senior lektor in 1994 bevestig is, het ek 'n uitnodiging ontvang om tydens die teologiese skool van die Presbyteriaanse kerk in Brisbane, Australië, se "Pastoral week" klas te gee. Hieruit het 'n beroep gevolg na Annerley, 'n Presbyteriaanse gemeente in Brisbane met opdrag teologiese opleiding. Vanweë my eerste vrou se ernstige siekte kon ek dit nie oorweeg nie.

Die aanpassing in die akademiese wêreld was vir my groot. Lesings moes voorberei word, administrasie het soveel tyd en aandag geverg en vergaderings het dit al hoe moeiliker gemaak om tyd vir die voorbereiding van lesings en die vereiste kwota navorsing te vind.

Die uitdaging van die Praktiese Teologie het vir my veral gelê rondom die vraag na 'n teorie vir die praksis. Schleiermacher se poging om aan die vakgebied 'n wetenskaplike karakter te gee, het die noodsaaklikheid beklemtoon om van die "Hoe doen ek dit?" praktiese benadering van die vakgebeid weg te beweeg. Die vak is immers deel van 'n nagraadse kurrikulum aan 'n universiteit. In retrospek het die wetenskaplike aanpak van die vak waarskynlik te sterk by my gefigureer. Ek wou hê ons studente moes weet van die vakgebied as hulle met studente aan die ander fakulteite praat. Dit het ongelukkig weinig tyd gelaat vir die praktiese voorbereiding vir die bediening en menige student het seker tydens die eerste kennismaking met die bediening gevoel dat ek hulle in die steek gelaat het.

'n Tweede worsteling binne die vakgebied wat my aandag gevra het, was die epistemologiese diskoers tussen Diakoniologie en Praktiese Teologie. Kuyper se benaming van die vakgebied, die amptelike vakke, het veld verloor. Tereg is daar ingesien dat die vakgebied nie net oor die ampte kan handel nie. Ook die benaming van Herderkunde (Poimeniek) het steun verloor. Na mate die liggaamsmetafoor van 1 Korintiërs 12 veld in die Prakties-Teologiese ekklesiologie gewen het, het die herdermetafoor al hoe minder klem verkry en by sommige praktiese teoloë selfs uit die gesigsveld verdwyn.

Die verskil in benadering tussen Diakoniologie en Praktiese Teologie het in die diskoers nogal hewig geraak met wedersydse oorvereenvoudiging van beide uitgangspunte. In die vakgebied het die Kommunikatiewe Handelingsteorie van Habermas in gewildheid toegeneem met die invloed van Paul Ricouer baie sterk ondersteunend. Al hoe minder studente het die Diakoniologiese epistemologie vir navorsing gekies, waarskynlik omdat daar verkeerdelik veronderstel is dat só 'n benadering net met Bybeltekste werk. Ek het uit my pad gegaan en ook met verwysing aangetoon dat 'n diakoniologiese benadering nooit die kennis van die meta-teoretiese wetenskappe ontken of geïgnoreer het nie. Diakoniologie, soos ek dit beoefen het en ook aan my voor- en nagraadse studente oorgedra het, is 'n wetenskaplike metode van navorsing wat vanuit die beginsels van die Skrif (nie net teksverse nie) en met die hulp van ander wetenskaplike insigte navorsing doen. Dit was vir my een van die groot teleurstellings in die Praktiese Teologie dat daar kollegas in die vakgebied is wat hierdie benadering as naïef en selfs onwetenskaplik bestempel het, en dit terwyl een van die vooraanstaande praktiese teoloë van Suid-Afrika met 'n diakoniologiese benadering gewerk het, naamlik Daniël Louw.

Die diakoniologiese benadering het aan my die geleentheid gegee om die verbond as grondmotief (proprium) vir die vakgebied te kies. In my eerste praktiese-teologiese bydrae ná my aanstelling het ek uitvoerig aangetoon dat die verbond (met verwysing na Heyns se dogmatiek) die mees fundamentele beginsel saam met die uitverkiesing is. Ek het van Heyns se formulering gehou: Die uitverkiesing is die inwendige grond van die verbond; die verbond is die uitwendige gestalte van die uitverkiesing. Alle grondmotiewe wat reeds as proprium in die Praktiese Teologie gefigureer het (koninkryk; pneumatologie) is in die beginsel van die verbond vervat.

Dit wil voorkom of ek bestem was om die stryd te voer. 'n Derde en nog groter verwikkeling in die Praktiese Teologie het my onrustig gemaak. Die daeraad van die postmodernisme het nuwe uitdagings aan die Praktiese Teologie gestel. Om met 'n postmoderne epistemologie te werk was "in" en wie nie met die stroom wou meegaan nie, is heimelik laat voel dat hulle "nie by" is nie. In my boek The Paradigm Shift het ek probeer aantoon wat die konsekwensies van 'n postmoderne benadering is. Veel van wat ek toe veronderstel het, het intussen wáár geword. Die relatiwisme wat tans in die kerk heers, kan myns insiens sonder twyfel aan die invloed van die postmodernisme toegeskryf word. Ek beleef dit uiters traumaties dat onsekerheid aangeprys word en dat vaste sekerhede met allerlei subtiele aanvalle bedreig of belaglik gemaak word. Fundamentalisme het 'n handige
hamer geword om die teenstanders van relatiwisme by te kom.

Een van ons doktorale studente het in sy proefskrif aangetoon dat die postmodernisme die vertoonvenster van die New Age Movement is. Tans het die Emerging Church op die toneel verskyn as 'n hulp-arm van die postmodernisme (of is dit dalk omgekeerd?). Oor niks mag ons seker wees nie, skryf Brian McKlaren. Die gevolg is nie alleen 'n nuwe evangelie waarin die verlossing van sonde deur Christus ontken word nie, maar ook 'n nuwe ekklesiologie. Nuwe drome vir nuwe werklikhede, word dit genoem. Byna elke beginsel van 'n Prakties-teologiese ekklesiologie wat tot dusver in die vakgebied gegeld het, word daarmee bevraagteken, bedreig of verwerp.

Ek is bewus daarvan dat ek kollegas met my klem op die belang van epistemologiese invloed op die teologiese wetenskap in die algemeen en die Praktiese Teologie in die besonder moeg en moedeloos gemaak het. 'n Skandering van die navorsing in die vakgebied sal egter aantoon dat my uitgangspunt nie verkeerd was nie. Is die epistemologie dan nie juis die wyse waarop ons kies om inligting bymekaar te maak, te sif en te interpreteer nie?

Intussen moes die postmoderne epistemologie ook alweer plek maak vir 'n post-fundamentalistiese benadering wat, as ek dit reg verstaan, probeer om 'n matige korrektief op die relatiwisme van die postmodernisme te wees. Dit is ironies dat sowel die postmodernisme as die post-fundamentalisme (by gebrek aan 'n beter vertaling vir die Engelse begrip wat, meen ek, sy oorsprong by Wentzel van Huysteen het) die moontlikheid van absolute vertrekpunte verwerp, maar dat protagoniste wat met hierdie epistemologieë werk, dit as die enigste moontlike keuse en metode voorhou! Daar is min wat met 'n groter ywer en entoesiasme kan aantoon dat jy absoluut verkeerd is om die postmodernisme te kritiseer!

In die diskoers oor epistemologiese keuses het ek altyd gevoel dat die debat soms vanuit 'n oppervlakkige kennis van die filosofiese onderbou van die postmodernisme gevoer is. Vergewe my as dit hofvaardig klink, maar ek het moeite gedoen om in die filosofiese denkraamwerk van die leidende postmoderniste, Derrida. Baudrillard, Rorty en andere te kom. Dit het my frustreer dat teoloë enersyds hulleself met 'n postmoderne benadering vereenselwig maar dan tog aandring op 'n presies-korrekte en enigste verstaan van hulle vakgebied. Daar is ongelukkig nie altyd 'n greep op die onderskeid tussen Modernisme en Postmodernisme nie en natuurlik word die diskoers bemoeilik deur die feit dat die twee inderdaad parralelle bane is wat mekaar wedersyds beïnvloed. Postmoderniste maak byvoorbeeld op 'n strukturele (sic!) wyse van argumente gebruik en benut só die voordeel van die modernisme om hulle postmoderne idees uiteen te sit.

Ek was egter ook bevoorreg om oor meer onderwerpe as die epistemologiese diskoers navorsing te doen. Ek het probeer om soveel as moontlik van die veld van die vakgebeid te dek en het artikels oor pastoraat (verskeie artikels), okkultisme (plus 'n boek), prediking (plus 2 boeke), liturgie, pastoraat, ens. gepubliseer.

Ja, my droom om teoloog te wees, hét waar geword. Maar drome kan soms in nagmerries ontaard. Omdat ek steeds aan die Woord en die Belydenis vashou, was die afgelope paar jaar vir my uiters moeilik. Ek het gedurig besef dat my verstaan van die Skrif en die belydenis, die prediking en die bediening, soms radikaal verskil van kollegas wat meer oop en inklusief dink. Ek is tans besig met navorsing oor die Emerging Church met die oog op die publikasie van 'n boek. Ek bekommer my geweldig oor die invloed van hierdie nuwe beweging waaroor prominente Suid-Afrikaanse teoloë opgewonde raak terwyl ek tussen die lyne en deur die lyne van wat ek lees, die dreigende gevaar vir ons gereformeerde teologie en spiritualiteit sien. Ek ervaar die ongeduld en selfs heftige teenstand as jy iets negatief durf sê oor wat hierdie teoloë gesê of geskryf het. Ek en elke ander navorsingstudent is gewoond om teologie te bedryf deur standpunte te identifiseer en te evalueer. Daarom wemel 'n proefskrif van name en standpunte wat weerspreek en weerlê word.

Maar in hierdie nuwe diskoers wat die toekoms en identiteit van die kerk raak, mag jy nie name noem en standpunte aanvat nie. Dan is jy persoonlik, negatief en vyandig. As jy egter nie name noem nie, is jy vaag en jou standpunte wollerig. Hoe op aarde moet jy dan teologie bedryf? Blykbaar is die enigste ander opsie om maar te swyg en te laat gaan. Dit kan ek egter nie doen nie, al is die alternatief om te praat en te waarsku 'n waarborg dat jy jouself al hoe meer ongewild maak en isoleer.

Tóg is ek innig dankbaar dat ek die pad van die teologie kon loop. Ek is beskeie genoeg om te weet dat my bydrae tot die Praktiese Teologie nie aardskuddend was nie. Maar ek het eerlik probeer om 'n praktiese teoloog van die Woord te wees, wat nie net op die akademie van die vakgebied konsentreer nie, maar altyd ook die oog op die praxis van die teorie gevestig hou. Praktiese Teologie wat per slot van rekening nie die Here Jesus se kerk dien nie, mag wetenskaplik wees, maar dit lewer nie 'n bydrae om die kerk te help aan sy diens aan die koninkryk nie.

Ek groet my kollegas in die vakgebied en wens hulle almal die Here se seën toe. Ek groet eweneens my kollegas wat aan ons Fakulteit 16 jaar van my lewe met my gedeel het. Ek het die hoogste respek en waardering vir u akademiese vermoë en dank elkeen wat 'n bydrae tot hierdie feesbundel gelewer het.

 

KORT CURRICULUM VITAE

1. PERSOONLIKE BESONDERHEDE
Naam   JOHAN JANSE VAN RENSBURG
Geboortedatum   1946-03-21
Geboorteplek   Wepener
Huwelikstatus   Getroud met Magdalena Johanna Karsten
Kerk   Nederduitse Gereformeerde Kerk
Gesin   Een dogter, Johanna, gebore 1972-04-11
2. UNIVERSITEITSGRADUASIES
2.1 GRADE
1966   B.A. (UVS) (Filosofie: Cum laude)
1969   B.Th. (US) Cum laude
1972   M.Th. (US)
1979   D.Th. (US)
1987   D.Th. (UNISA)
1982   D.Th. (UVS)
2.2 DIPLOMAS
Lisensiaat in Teologie   (US) Cum laude
2.3 PROFESSIONELE KWALIFIKASIE
Kand. S. Teol.   1969 (US)  
Deur die NRF gegradeer as 'n gevestigde navorser (C3).

2.4 PROFESSIONELE REGISTRASIE

Georden as 'n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk: 1970

3. VORIGE WERKSONDERVINDING
1971-1974   Leraar van die NGK Rosendal
1974-1984   Leraar van die NGK Townsview
1984-1993   Leraar van die NGK Sasolburg-Fonteine
1994-2009   Senior dosent en Professor Universiteit van die Vrystaat
2001-2008   Hoof van die Departement Praktiese Teologie
1996-   Deeltydse leraar van die NGK Andrew Murray (Engels)

4. LIDMAATSKAP VAN ORGANISASIES

Lid van die werkswinkel vir Sistematiese Teologie (1980-1983)

Lid van die werkswinkel vir Praktiese Teologie (1993- )

Lid van die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns (1996- )

Lid van die Societas Homiletica (2006- )

5. LIDMAATSKAP VAN UNIVERSITEITKOMITEES

Lid van die raad van die Fakulteit van Teologie

Voorsitter van ENOG (nou beëindig)

Biblioteekkomitee

Beurskomitee

Fakulteitkomitee

Hoof van die Departement Praktiese Teologie

Lid van die Senaat van die UV

6. GEMEENSKAPSDIENS

6.1 KERKLIKE WERK

Johan het op verskeie kerkkomitees gedien, nie noodwendig op dieselfde tydnie.

Aktuaris van die NGK (VS)

Vise-voorsitter (Assessor) van die Vrystaatse Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Lid van die Moderamen (VS)

Skriba: Sinodale Komitee vir Kerkregering (VS)

Skriba: Sinodale Komitee vir Dogmatiek/Aktuele Sake (VS)

Lid van die Jeugkomitee van die Algemene Sinode

Lid van die Sinodale Komitee vir Begrotings en Finansies (VS)

Lid van die Algemene Sinodale Komitee vir Kerkregering

Lid: Algemene sinodale Komitee Dogmatiek en Algemene Sake

Lid van die Sinodale Komitee (VS)

Lid: Algemene Sinodale Komitee vir die herskryf van handboeke vir Christelike opvoeding (vise-voorsitter)

Lid van die Sinodale Komitee vir Erediens en Liturgie

6.2 GEMEENSKAPSDIENS

Christelike leierskapskursusse vir kerkleiers van verskillende denominasies en kulturele groepe

Huweliksberadingseminaar vir swartmense

Gratis pastorale berading vir mense buite die werkverantwoordelikheid

Spreker by kerkkonferensies en seminare

7. AKADEMIESE AKTIWITEITE
7.1 WETENSKAPLIKE REFERATE BY VERSKEIE KONFERENSIES EN SEMINARE
7.2 STUDIELEIDING: NAGRAADSE STUDENTE
Promotor:   17 doktorale studente
    26 Meestersgraadstudente
    12 Honneursstudente
Voltooid:   15 Doktorale studente
    10 Meestersgraadstudente
    9 Honneursstudente

7.3 AANBIED VAN LESINGS

15 jaar van lesings aanbied in 8 verskillende vakke van Praktiese Teologie.

Gasdosent oor pastorale sorg vir 'n week by die Presbyterian Theological Seminary, Brisbane (1996).

Gasdosent oor die Paradigmaskuif vir 'n week by NETS, Namibië (2002).

Bybelskool oor die Huwelik (2002).

Uitnodiging om 'n lesing te gee oor Navorsingsmetodologie by die Teologiese Skool, Potchefstroom.

Lesings oor verskillende temas by kongresse en seminare.

8. NAVORSING

8.1 VOORTGAANDE NAVORSING

Die belangrikheid van die verbond in Pastorale Sorg

Die paradigmaskuif van Modernisme na Postmodernisme en die impak daarvan op Praktiese Teologie

Die Okkultedebat - 'n wetenskaplike benadering (Boek gepubliseer 1998)

Voortgaande navorsing oor Pastorale Berading

Voortgaande navorsing oor Christelike Leierskap

Voortgaande navorsing oor Homiletiek

Voortgaande navorsing oor Liturgie

Navorsingsprojek vir die NRF (4-jaar projek) oor armoede en pastorale berading.

8.2 VOLTOOIDE NAVORSING

Die teologie van revolusie

Die etiese evaluasie van geweld

Die gebruik van hipnose in pastorale terapie

Moralisme in die prediking

Etiek en pastorale sorg

Die onderwerp van pastorale sorg

Regterbreinstrategieë vir pastorale terapie

8.3 PUBLIKASIES

44 geakkrediteerde artikels

9 akademiese boeke

Meer as 40 populêre teologiese artikels

8.4 INTERNASIONALE AKADEMIESE KONTAKTE

Uitnodiging om lesings te gee gedurende die Pastorale Week oor Pastorale Berading by die Presbyterian Theological School, Brisbane, Australië.

Ontvang 'n aanbod om aangestel te word as leraar van die Annerley Presbyterian Church, Brisbane (Australië) met spesifieke verantwoordelikheid as professor van Praktiese Teologie en Sistematiese Teologie by die Presbyterian Theological Seminary, Brisbane.

In Australië is met waardering kennis geneem van die publikasie van die boek The Paradigm Shift.

Bydraes oor prediking is goed aanvaar by die Wêreldkonferensie van Societas Homiletica oor prediking (Pretoria, 2006).

9. STOKPERDJIES

Skilder

Tuinmaak

Fotografie