SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.29 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.29 no.2 Bloemfontein Dec. 2009

 

Die verhouding tussen "poort" en "pad" in Matteus 7:13-14. 'N oorsig van die moontlikhede

 

The relationship between "gate" and "road" in Matthew 7:13-14. An overview of the possibilities

 

 

H.C. van Zyl

 

 


Trefwoorde: Eksegese, Matteus 7:13-14, Pad Poort


ABSTRACT

The relationship between "gate" and "road" in Matthew 7:13-14 has always been a crux interpretum. There are basically three options in viewing the relationship. In the case of the first two the point of departure is that the metaphors differ in meaning; each metaphor therefore makes a unique contribution to the text. The two options are: the gate is at the beginning of the road, and the gate is at the end of the road. The third option regards the metaphors as synonyms, thus both conveying the same meaning. This option renders the relationship as of secondary importance.

Keywords: Exegesis, Matthew 7:13-14, Road Gate


 

 

1. INLEIDING

Een van die kernprobleme in die verstaan van Matteus 7:13-14 is die verhouding tussen die metafore "poort" en "pad". Die artikel wil die kollig laat val op hierdie verhouding. Die aanpak is die volgende: Eers word die wording van die teks ondersoek, waarop die agtergrond van die metafore in die destydse Umwelt bepaal word. Daarna volg 'n oorsig van hoe die metafore moontlik met mekaar verband hou.

 

2. WORDING

'n Ondersoek na die wording van die teks help ons in die rigting van hoe die metafore in Matteus 7:13-14 met mekaar verband hou.

Ter wille van goeie vergelyking kan die parallelle tekste van Matteus en Lukas soos volg voorgestel word.1 (Die ooglopende woordelikse parallelle is onderstreep.)

 

 

Daar is aansienlike verskille tussen die parallelle wat soos volg gelys kan word:

Verskille ten opsigte van konteks

Matteus 7:13-14 vind sy plek binne die afsluiting van die Bergrede waar gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid ten opsigte van die onderrig van Jesus gekontrasteer word. Lukas 13:23-24 vorm die inleiding tot die metafoor van die feesmaal, 'n heenwysing na die koninkryk van God.

Verskille ten opsigte van bewoording

Eerstens: Lukas 13:23-24 is Jesus se antwoord op die vraag van die dissipels: "Is dié wat gered word min?" By Matteus ontbreek die vraag; 7:1314 is deel van Jesus se Bergrede-uitsprake. Tweedens: Lukas bevat die opdrag: stry hard om in te gaan deur die smal deur. Matteus het bloot: Gaan in deur die nou poort. Derdens: Lukas bevat net een metafoor - "deur". Matteus het twee metafore: "poort" en "pad". Vierdens: Lukas se Grieks vir "ingang" is (deur); Matteus het (poort), waarskynlik omdat beter by "pad" pas as .

Verder is daar 'n belangrike tekskritiese kwessie by Matteus wat kortliks aangesny word. Sommige manuskripte laat die tweede van v. 13, en die van v. 14 weg. Dan is die kontrastering uitsluitlik tussen die breë en smal pad in 7:13-14; is gevolglik slegs 'n oproep aan die begin. Hoe moet ons oor hierdie weglating oordeel? Afgesien van die eksterne getuienis wat daartéén spreek,2 is daar ook twee interne oorwegings wat pleit vir die behoud van die teks soos in Nestle-Aland27: Eerstens: indien die tweede wegval in v. 13, pas die sin: "en daar is baie wat daardeur ingaan" nie goed by pad nie (vgl. Gnilka 1986:269); "daardeur" veronderstel eerder 'n voorafgaande "breë poort". Tweedens: Die afwesigheid van by sommige manuskripte is eerder te verklaar uit 'n doelbewuste weglating weens gebrek aan begrip by kopieerders van die beeld wat hier voorkom - dat dit gaan om 'n pad wat na 'n poort lei (Metzger 1975:19).

Ten spyte van die verskille in kontekste en bewoording tussen Matteus en Lukas aanvaar ek saam met Denaux (1982:315-329) en Luz (1985:395) dat Matteus, soos Lukas, die q-Vorlage benut het.3 Dit is egter uiters moeilik om q se presiese bewoording te rekonstrueer, omdat beide evangeliste q waarskynlik redaksioneel verwerk het.4 Maar dit gooi nie die basiese aanname omver dat q Mt. 7:13-14 en Lk. 13:23-24 ten grondslag lê nie. Die vernaamste redes vir hierdie aanname kan soos volg opgesom word: Eerstens: Matteus benut q 13:23-29 deurlopend in Mt. 7:13v, 22v en 8:11v. Dit is 'n aanduiding dat Lukas die q-volgorde bewaar en dat Matteus hierby aansluit. Tweedens: Hoewel dit moontlik is dat "pad" ook in q voorgekom het en deur Lk. weggelaat is omdat hy kontekstueel net nut van "deur" gehad het, is dit waarskynliker dat q net "poort/deur" gehad het. Matteus is dus verantwoordelik vir die byvoeging van die bekender metafoor "pad" (so Gnilka 1986:269; Luz 1985:396) omdat dit sy konteks (kontrasterende spreke) en teologie beter pas.5 Dit verklaar dan die ongewone volgorde by Matteus: poortpad.6

Vir doeleindes van hierdie artikel kan dus die volgende uit die wording van die teks aanvaar word:

1. Die Griekse teks soos weergegee deur Nestle-Aland27 word aanvaar.

2. Matteus maak gebruik van q, en is verantwoordelik vir die byvoeging van die "pad"-metafoor. Die vreemde volgorde: poortpad kan hieruit verklaar word.

3. Matteus is verantwoordelik vir die kunstige antiteties-parallelle opbou van die metafore: wye en nou poort en breë en smal pad. (kyk verder by 4.1 hieroor.)

 

3. AGTERGROND

Vir die goeie verstaan van die metafore "poort" en "pad" in Matteus 7:13-14 is dit nodig om kortliks op hulle voorkoms en aanwending in die destydse Umwelt te let.

3.1 Poort

"Poort" is die relatief minder bekende van die twee metafore, maar is nogtans ook tradisioneel aktief. Daar is oorvleueling van betekenis tussen en , maar oorwegend is die poort of hek van 'n stad of tempel, en die deur van 'n huis (soos Lk. 13:22 se 'n huis of feessaal veronderstel).

Daar is verskillende assosiasies rondom "poort" moontlik uit tradisiekringe in die Ou Testament, Judaïsme en (Joods-Christelike) apokaliptiek. Eerstens is daar die ingaan deur die poorte van die tempel (veral Ps 24:7-10; 118:19-20) en die hemelstad (Op 22:14). Verder is daar die poorte van: die paradys, die lewe (Test Abraham Resensie B 8; Pesikta 179b), en die doderyk (Job 38:17; WysSal 16:13; Mt 16:18). Die twee kontrasterende poorte en nou poort is egter terminologies nie goed betuig nie. Van twee poorte is sprake in 4 Esra 7:1-16.7 Van groot en klein poorte is sprake in TestAbr, maar Christelike glosses word vermoed. Ander probeer 'n verband lê tussen die nou poort en die kleiner ingang wat ingebou was in die groot stadspoort, wat dit vir bepaalde verkeer soos hooggelaaide kamele moeilik gemaak het om deur te gaan (so Mattill 1979:543-546), maar dit word nie algemeen as agtergrond vir Mt. 7:13-14 aanvaar nie.

Van besondere belang is die eskatologiese assosiasies verbonde aan (nou) poort. Daar is die eskatologiese vistas wat geopen word deur die bestemmings waartoe die poorte toegang verleen, soos in die vorige paragraaf genoem. Verder, die Pastor van Hermas (HermSim 9.12.5-6) trek 'n parallel tussen die poort wat toegang verleen tot 'n stad, en die Seun van God, wat as "poort" toegang verleen tot die koninkryk van God. Hoewel die Pastor van Hermas beïnvloed kon gewees het deur Nuwe-Testamentiese uitsprake soos Joh 10:7 ("Ek is die deur"), was die konsep van poort/deur goed genoeg bekend dat Hermas as onafhanklike getuie kan dien.

Ons kan dus die volgende gevolgtrekkings maak oor die moontlike agtergronde van "poort":

1. Die gedagte van twee kontrasterende poorte is moontlik oorspronklik van Jesus (so Michaelis 1967:71), of gewoon 'n literêre konsekwensie van Matteus op voetspoor van die twee kontrasterende paaie. Laasgenoemde is wel 'n tradisionele gedagte.

2 Die hoofgedagte van "poort" is dié van verlening van toegang - óf tot die lewe óf tot die dood.

3. Die eskatologiese moment is prominent.

3.2 Pad

Die teenstelling van twee paaie kom meer verbreid voor as poort. Dit kom in Egiptiese, Ou-Testamentiese, Joodse en Griekse literatuur (religieus én filosofies) as wysheidsmotiewe voor. Ek volstaan met voorbeelde uit die Ou Testament, Judaïsme en vroeë kerk as die mees voor die handliggende intertekstuele bron vir en invloedsfeer van Matteus.

In die Ou Testament is die gedagte van twee paaie ingebed in die kontrasterende weë van die goddelose en die regverdige, byvoorbeeld Dt. 11:26-28; 30:15-20; Job. 38:17; Pss. 1:6; 119:29-30; 139:24; Spr. 4:18-19; 12:26,28; 28: 6,18; Jer. 21:8. In die Judaïsme kom dit voor in WysSal 5:6-7; TestAser 1-6; TestAbr 11-13. By Qumran in 1qS 3-4. En in die vroeë kerk tref ons dit aan in Did. 1-6;8 Barn 18-20.

Hoe staan dit met die gedagte van die breë en smal pad? Hierdie konsep is nie goed betuig nie, behalwe in 4 Esra 7:1-16 (die lewe as 'n smal pad), wat nie 'n goeie parallel bied nie. Derrett (1986:153) is egter van mening dat die konsep van "breë weg" as aanduiding van die weg van verderf te vinde is in Jes. 42:2, aangehaal in Mt. 12:19. Hier word gesê dat die kneg van die Here se stem nie "buite" (, Jes. 42:2LXX), dit wil sê, "in die strate" (, Mt. 12:19), gehoor sal word nie. Hoekom nie? Omdat die strate of openbare ruimtes (markplein) die plek van handel, knoeiery en verdrukking is, die toneel van ongeregtigheid. Dit is egter te betwyfel of Jes. 42:2 in die streng sin van die woord as literêre agtergrond vir Mt. 7:13-14 kan dien.

Die slotsom is dat die metafoor "pad" wyd voorkom as lewenskeuse of lewensweg op aarde. Die eskatologiese moment is nie sterk op die voorgrond nie; die klem lê eerder op die regte etiese keuse hier en nou.

 

4. MATTEUS

Vervolgens moet die verhouding tussen die metafore in Matteus bekyk word. Die kontekstuele plasing in Matteus 7 geniet dus nou aandag.

4.1 Opbou

Dit is duidelik dat Matteus sy materiaal tot 'n kunstige geheel opbou, en wel so dat die metafore as antitetiese parallelle aangebied word (vgl. Van Zijl 1991: 202). Daar is verskillende voorstellingsmoontlikhede, maar onderstaande maak goeie sin:

 

 

4.2 konteks

Die meeste geleerdes verstaan Mt. 7:13-14 as deel van die afsluiting (7:13-29) van die Bergrede (Mt. 5-7) (so bv. frankemölle 1994:271). Die afsluiting bestaan uit drie groepe vermaninge9 wat elk aan die hand van kontrasterende metafore die leser oproep om lewenskeuses te maak:10 Eerstens vv. 13-14: die nou vs wye poort; smal vs breë pad maan die leser om nie die verderf nie maar die lewe te kies. Tweedens vv. 15-23: met die goeie vs slegte vrugte word die leser gewaarsku teen die vals profete (die bewerkers van wetteloosheid) en aangespoor om die wil van die Vader te doen. Derdens vv. 24-27: met die twee tipes fondamente (sand vs rots) word die leser vermaan om sy/ haar lewe op die woorde van Jesus te bou.

Elkeen van hierdie kontraste beklemtoon die ernstige eskatologiese gevolge wat die lewenskeuse inhou: vv. 13-14: lewe vs verderf; vv. 15-23: vuur, ingaan in die koninkryk van die hemel, gaan weg van my/Ek het julle nooit geken nie; vv. 24-27: toetsing deur vloedwaters.

Dit is duidelik dat die afsluiting (7:13-29) ten nouste in verband staan met die boodskap van die Bergrede. Die leser word opgeroep om die sentrale gedagtes van die Bergrede sy/haar eie te maak. Die Bergrede handel immers oor mense wat geseënd is omdat hulle deel het aan die koninkryk van God en daarom doen wat reg is. Sleutelwoorde en -konsepte wat reg deur die Bergrede belangrik is, is dus ook in die afsluiting prominent, naamlik: Ingaan (in die koninkryk) (v. 13, 21); die doen van die Vader se wil/Jesus se woorde (v. 21, 24); wetteloosheid (teenpool van die doen van die Vader se wil) (v. 23).

Uit bostaande is dit duidelik dat die metafore "poort" en "pad" in vv. 13-14 met die sentrale konsepte in die Bergrede in verband gebring moet word. Die vraag is net hoe.

4.3 Relasie

Vervolgens word probeer om 'n antwoord te vind vir die probleemstelling aan die begin genoem, naamlik hoe "poort" en "pad" met mekaar in verband staan in 7:13-14. Meer uitgebreid kan die probleem soos volg geformuleer word:

• het elke metafoor sy eie geskiedenis en betekenis sodat die metafore se plasing ten opsigte van mekaar 'n probleem word, of

• is die metafore sinonieme wat dieselfde betekenis bydra ten opsigte van die argument van die teks?

Die literatuur bied hoofsaaklik drie opsies, elk met variasies:

1. Die poort is aan die begin van die pad.

2. Die poort is aan die einde van die pad.

3. Die metafore is sinonieme wat dieselfde sê.

Die eerste twee opsies interpreteer "poort" en "pad" as twee verskillende beelde wat elk 'n unieke bydrae tot die teks lewer. Ons gee nou aan elke opsie aandag.

4.3.1 Poort aan begin van pad

Hierdie opsie wordondersteundeurbv. Grosheide(1954:118),Carson (1984:189) en Bruner (2004:349). Dit het die voordeel dat die natuurlike volgorde van die teks gehandhaaf word: Gaan in deur die nou poort, waarop dan volg: wyd is die poort/pad wat lei na die verderf; ens. Dit sluit ook aan by die manier waarop die tradisie deur Matteus aangewend word: "Poort" is die primêre beeld (q), wat uitgebrei word met die sekondêre beeld, pad. Baie eksegete wys egter op die vreemdheid van hierdie volgorde, want die normale in die ervaring van antieke lesers is dat 'n pad lei na 'n bestemming, waar daar 'n poort is wat toegang verleen tot daardie bestemming (bv 'n stad). Die normale volgorde is dus pad poort.

Volgens hierdie volgorde sou die betekenis van die onderskeie beelde dan kon wees dat die poort aanduiding is van die ingaan in die koninkryk van die hemele, dit wil sê dat die deelname aan die koninkryk reeds 'n werklikheid is (vgl. die saligsprekinge van 5:3, 10), waarop dan die moeilike pad van geregtigheid () en dissipelskap volg (vgl. Bruner 2004:349). Dit sou ook pas by die oproep in 6:33: "Soek eers die koninkryk" (Grosheide 1954:118). Carson (1984:189) is egter van mening dat die poort nie nou toegang tot die koninkryk verleen nie, maar bloot die toegang tot die pad van dissipelskap, van verdrukking (= die smal weg) op aarde is. Aan die einde hiervan vind die konsummasie van die koninkryk plaas. Die bydrae van die metafoor van die nou poort is dus slegs om te sê dat selfs die begin van die lewenspad van verdrukking beperk is.

4.3.2 Poort aan einde van pad

Weens die onnatuurlike volgorde van poortpad dink baie geleerdes dat ons hier met 'n husteron-proteron (laaste-eerste) stylfiguur te doen het.11 Die volgorde van die metafore in die teks is dus omgekeerd tot die werklike of bedoelde volgorde, naamlik padpoort. Jeremias (1968:923), Gundry (1982:127)12 en Luz (1985:398) steun hierdie argument, en is gevolglik voorstanders van die standpunt dat die poort aan die einde van die pad is (so ook Betz 1985:3; 1995:521; frankemölle 1994:273). Hierdie siening sluit goed aan by die manier waarop die metafore in die wêreld van destyds gefunksioneer het, naamlik "pad" as lewenskeuse op aarde, en "poort" wat toegang verleen tot die (eskatologiese) bestemming (kyk bo: 3. Agtergrond).

Volgens hierdie siening word die smal pad gesien as die lewenspad van geregtigheid (dit is die doen van God se wil), soos aangebied in die Bergrede, wat terselfdertyd vol uitdagings, swaarkry en verdrukking is. Mattill (1979) het oortuigend aangetoon dat (pf. pass. van ) hier nie soseer "smal" beteken nie, maar herinner aan die verwante woord van Hand 14:22 ("ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voor ons in die koninkryk van God kom"). Op sy beurt koppel dit met die wat Matteus vir die eindtyd beskryf (24:9,21,29; vgl. 13:21), en wat ook inpas by die vervolginge ter wille van die geregtigheid wat die dissipels in die wêreld te beurt sal val (5:10,12). Baie geleerdes volg hom hierin (bv. Gundry 1982:127; Luz 1985:397; en keener 1999:250-251). Aan die einde van hierdie pad volg dan die nou13 poort wat toegang verleen tot die koninkryk van God as eskatologiese bestemming. Dit pas goed by Matteus se gebruik van (kyk 5:20; 7:21; 18:8-9; 19:16-17, 29; 25:46) wat uitdrukking is van die ingaan in die koninkryk van die hemel, of die ingaan tot of beërwing van die lewe/ewige lewe ("lewe" is ook 'n eskatologiese begrip by Matteus). Omgekeerd pas die verkeerde lewenskeuse, naamlik die breë pad, by die ander eskatologiese bestemming, naamlik (verderf, vernietiging). Deur middel van die beelde "pad" en "poort" verbind Matteus dus etiek en eskatologie respektiewelik met mekaar (vgl. Luz 1985:398).

4.3.3 Pad en poort is sinonieme

Weens die sterk antiteties-parallelle opbou van vv. 13-14 (kyk bo: 4.1 Opbou), hanteer baie geleerdes die metafore as sinonieme (so bv. Grundmann 1971:230-231; Gundry 1982:127; Nielsen 1978:151; Ridderbos 1965:153; Schweizer 1978: 185; Patte 1987:99; Michaelis 1967:71; Gnilka 1986:270). Die invloed van die opbou behels naamlik die volgende: Die verskillende elemente in die parallel word uiters minimalisties aangebied. Daar is naamlik geen uitbreidings by die metafore nie en dit bemoeilik eksakte afleidings. Verder, die elemente se koppeling met die werkwoorde help ook nie veel om 'n logiese volgorde te suggereer nie. So byvoorbeeld word aan die begin genoem, logies gekoppel aan poort, maar die tweede in v. 13 kan volgens sommige geleerdes beide op poort of pad slaan. Dieselfde kan ten opsigte van genoem word (vv. 13 én 14): regeer dit slegs pad, of ook poort (vgl. Betz 1995: 525)? En die aan die einde van v. 14 - waarop slaan dit: poort, pad of lewe?14

Met hierdie problematiese koppeling tussen selfstandige naamwoorde en werkwoorde het ons waarskynlik met die stylfiguur zeugma te doen. Dit is die verskynsel dat twee woorde, gewoonlik selfstandige naamwoorde, verenig ("saamgejuk") word deur 'n derde, gewoonlik 'n werkwoord, hoewel die werkwoord logies net met een van die twee selfstandige naamwoorde gebruik kan word. Die punt is: die gedronge, selfs poëtiese15 styl van die parallelle opbou is so oop vir interpretasie dat die enigste afleiding is: Matteus dwing die leser om die twee metafore as gelykwaardig in betekenis te hanteer.16

Hoewel baie geleerdes die metafore as sinonieme hanteer, is dit ook duidelik dat hulle moeite het om presies te sê waarin die sinonimie bestaan (soos uit die volgende paragraaf sal blyk). Schweizer (1978:184) sê reguit: die deurmetafoor is "opaque in Matthew because it has been confused with the image of the two ways". Die meeste geleerdes probeer daarom naas die gemeenskaplike betekenis ook nog iets behou van die krag van die oorspronklike metafore.

Indien die metafore as sinonieme geneem word, ontstaan die vraag vervolgens: Watter betekenis wil dit oordra? Daar moet dus na 'n gemene deler tussen poort en pad gesoek word. (Ek konsentreer vervolgens hoofsaaklik op die nou poort en smal pad.) Grundmann (1971:230-231) is van mening dat toegang die gemeenskaplike betekenis is, en wel toegang tot die lewe. En lewe is vir Matteus dieselfde as koninkryk van die hemele (kyk bo). En waarin bestaan die toegang prakties? Grundmann koppel dit aan die voorafgaande verse, 7:7-12, want die oproepe "vra/bid", "klop" en "soek" hou verband met die metafore van poort en pad. Verder, die goue reël van 7:12 (wat weer in Did. 1:2 met "die weg tot lewe" verbind word) is op sy beurt die samevatting van die Bergrede. Hierdie verweefdheid van die metafore "poort" en "pad" met 7:7-12 dui dus daarop dat "poort" en "pad" se gemeenskaplike gedagte, naamlik "toegang", veral slaan op die wil van God soos dit in die Bergrede na vore tree. Laasgenoemde is die toegang tot die lewe. Volgens Grundmann se interpretasie sou mens 7:13-14 dus nie-metafories soos volg kon parafraseer:

Span alles in om die wil van God, soos uitgedruk in die Bergrede, jou lewenskeuse te maak, want dit verleen toegang tot die koninkryk van God. Gundry (1982:127) het 'n interessante manier om poort en pad te verbind. Hy is enersyds van mening dat die pad na die poort van oordeel lei (kyk bo 4.3.2), maar andersyds dat beide metafore slaan op die lewe van dissipelskap op aarde (so ook Michaelis 1967:74). Die feit dat mens die smal weg bewandel, impliseer dat jy reeds deur die nou poort beweeg het. Poort kan dus beide vir die eskatologiese oordeel (poort aan die einde van die pad) én vir die aanvang van die aardse lewe van dissipelskap staan. So plaas Matteus die teenswoordige en toekomstige aspek van die koninkryk langs mekaar (so ook in 6:10-11,13).17 Patte (1987:98) redeneer in dieselfde trant. Volgens hom meng Matteus die metafore van poort en pad sodat beide na die implementering van die dissipel se roeping verwys. Maar "poort" verteenwoordig die aanvang van 'n lewe van dissipelskap, en "pad" die verloop daarvan. Anders gestel, 'n lewe van dissipelskap hou in dat jy nie net 'n geseënde is nie (aanvang - poort), maar ook 'n seën moet wees vir ander (lewe as dissipel - pad). Vir Ridderbos (1965:153) wys "poort" en "pad" beide heen na 'n lewe van gehoorsaamheid aan God se wil, soos geëis deur Jesus in die Bergrede. Mens kan hierdie gehoorsaamheid egter onder twee gesigspunte bekyk: dié van die poort, dan druk dit die kwalitatiewe uit - die lewe van gehoorsaamheid as eenheid. Maar daar is ook die gesigspunt van die pad, die kwantitatiewe - daar is meerdere uitinge van gehoorsaamheid. Mens moet dus nie vra of die poort aan die einde of die begin van die pad staan nie; die pad is self 'n poort, en die poort 'n pad.

 

5. SLOTSOM

Dit is moeilik om kategories slegs een van bostaande opsies as die aller-antwoord uit te sonder, met absolute uitsluiting van die ander. Daarvoor is die teks te gedronge. Verder word mens se keuse ook beïnvloed deur jou voorkeur aan 'n bepaalde eksegetiese benadering. Byvoorbeeld, vir iemand wat prioriteit verleen aan die volgorde van metafore soos dit in die teks aangebied word, sal opsie een dalk die swaarste weeg (die poort aan die begin van die pad). Iemand wat groot gewig toeken aan die tradisie waaruit Matteus put (q en die tradisionele betekenisse van die metafore), mag dalk meer neig na opsie twee (die poort aan die einde van die pad). En vir iemand wat aan die opbou en konteks van vv. 13-14 voorrang gee, mag opsie drie die aantreklikste wees. Maar hierdie metodologiese voorkeure is slegs relatief, want mens tref eksegete vanuit verskillende skole by alle opsies aan. Tog kan mens nie help om op te merk nie dat navorsers soos Betz en Luz (wat sterk histories-krities ingestel is) by opsie twee lê, en Patte (strukturalis) by opsie drie. 'n Mens moet dié argument egter nie te ver voer nie. Die eksegetiese resultate hang nie altyd so netjies saam met watter metode voorrang geniet nie. Baie eksegete maak deesdae doelbewus gebruik van meer as een benadering.

Tog, as daar 'n keuse gemaak moet word, neig myne na opsie drie. Dat Matteus gebruikgemaak het van die tradisie, staan vir my vas. Maar dit is ewe duidelik dat Matteus se sterk hand in die opbou van vv. 13-14, binne sy wyer konteks, nie geïgnoreer kan word nie. Ek kies dus ook vir die benadering waar die metafore nie te sterk van mekaar afgegrens word nie. Hulle maak basies dieselfde punt. Die volgorde (poortpad of padpoort) is dus nie so belangrik nie. Maar tog moet die oorspronklike krag van die metafore (soos dit in die tradisie gefigureer het) steeds 'n rol speel.

My slotsom sou dus wees dat Matteus met die nou poort en smal/moeilike pad, wat deel vorm van die afsluiting van die Bergrede (7:13-29), verwys na Jesus se onderrig in die Bergrede as die nuwe, gesagvolle interpretasie van die wet of wil van God. Daar moet 'n doelbewuste lewenskeuse gemaak word om volgens die eise van die Bergrede te leef (dit is die gedagte vervat in: "Gaan in deur die nou poort").18 Hierdie keuse rus egter ook in die genade van God, soos uitgedruk in die wyer konteks van die Bergrede, naamlik die saligsprekinge, en die gedagte dat ons moet rus in die Vader se versorging, soos dit veral na vore kom in Mt. 6. Verder is dit nie 'n maklike keuse nie, want "daar is min19 wat die poort/pad vind". En hierdie lewenskeuse behels ontbering en vervolging (dit is die gedagte vervat in die "smal/moeilike pad"). Uiteindelik is dit egter die enigste weg wat na die (ewige) lewe/die koninkryk van God lei (die gedagte opgesluit in die poort wat toegang verleen tot die hemelstad).20 Verder kan gesê word dat die min waarskynlik na die volgelinge van Jesus verwys (hetsy die aardse dissipels hetsy latere volgelinge) wat hierdie moeilike keuse vir Christus gemaak het.

Hoewel hierdie artikel konsentreer op die nou poort en smal/moeilike pad, kan by wyse van afsluiting en volledigheid kortliks gelet word op die wye poort en breë pad. Dit kan verwys na die aanslag van die vals profete (vv. 15-23), van binne die gemeente op die gemeente (vgl. Luz 1985:398-399). Wat dit so verleidelik maak, is dat dit die skyn van godsdienstigheid het (hulle sê: Here, Here - v. 21). Hulle profeteer, dryf demone uit, en doen magtige dade in Jesus se Naam (v. 22), maar hulle doen nie die wil van die Vader nie (v. 21), dit is: hulle leef nie volgens die eise van die Bergrede nie; hulle lewer nie die regte vrugte nie (vv. 16-20). Verder, dit is ten diepste 'n aanslag van wetteloosheid (v. 23) (dit is dieselfde as die liefdeloosheid van 23:23). In wyer verband sou dit ook na die Jode in die algemeen kon verwys wat bloot uit hoofde van hulle kindskap van Abraham gedink het dat hulle deel het aan God se komende ryk (so keener 1999:251). Al hierdie groeperinge is deel van "die baie" wat op die breë pad is en deur die wye poort die verderf sal ingaan. Hieruit blyk ook die stryd van die gemeente. Die gemeente is nie 'n gesuiwerde gemeenskap nie, maar 'n corpus permixtum (13:24-30, 36-43) waar die bedreigde minderheid (die min wat die poort en pad vind) voortdurend die suigkrag wat daar van die baie uitgaan, moet weerstaan.

 

BIBLIOGRAFIE

ALAND, K. 1967. Synopsis Quattuor Evangeliorum. Stuttgart: Württembergische Bibelanstalt.         [ Links ]

ALLEN, W.C. 1977. A critical and exegetical commentary on the Gospel according to St. Matthew. Edinburgh: T. & T. Clark. ICC.         [ Links ]

BETZ, H.D. 1985. Essays on the Sermon on the Mount. Philadelphia: fortress.         [ Links ]

BETZ, H.D. 1995. The Sermon on the Mount. A commentary on the Sermon on the Mount, including the Sermon on the Plain. Mt. 5:3-7:27 and Lk. 6:20-49. Minneapolis: fortress. Hermeneia.         [ Links ]

BRUNER, F.D. 2004. Matthew. A commentary. Volume 1: The Christbook. Matthew 1-12. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

CARSON, D.A. 1984. "Matthew". In: f.E. Gaebelein (ed.), TheExpositor'sBible Commentary.Volume 8 (Grand Rapids: Zondervan), pp?.         [ Links ]

CATCHPOLE, D.R. 1993. The quest for Q. Edinburgh: T. & T. Clark.         [ Links ]

DENAUX, A. 1982. Der Spruch von der zwei Wegen im Rahmen des Epilogs der Bergpredigt (Mt. 7, 13-14 par Lk. 13, 23-24). Tradition und Redaktion. In: J. Delobel, Logia. Les Paroles des Jésus - The Sayings of Jesus. Mémorial Joseph Coppens (Leuven: Peeters, Bibliotheca Ephemeridum Theologicarum Lovaniensium. LIX), pp?.         [ Links ]

DENAUX, A. & VERVENNE, M. 1989. Synopsis van de Eerste Drie Evangeliën. Leuven: Vlaamse Bijbelstichting.         [ Links ]

DERRETT, J.D.M. 1986. Studies in die New Testament. Volume 4. Leiden: Brill.         [ Links ]

DREWERMANN, E. 1992. Das Matthäusevangelium. Erster Teil: Mt. 1,1-7,29. Olten: Walter Verlag.         [ Links ]

FLEDDERMAN, H.T. 2005. Q - A reconstruction and commentary. Leuven: Peeters. Biblical Tools and Studies.         [ Links ]

FRANKEMÖLLE, H. 1994. Matthäus. Kommentar 1. Düsseldorf: Patmos.         [ Links ]

GNILKA, J. 1986. Das Matthäusevangelium. I. Teil. freiburg: Herder.         [ Links ]

GROSHEIDE, F.W. 1954. Het Heilig Evangelie volgens Mattheus. Tweede druk. kok: kampen. CNT.         [ Links ]

GRUNDMANN, W. 1971. Das Evangelium nach Matthäus. Berlin: Evangelische Verlaganstalt. (ThHkzNT I.         [ Links ])

GUNDRY, R.H. 1982. Matthew. A commentary on his literary and theological art. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

HARE, D.R.A. 1993. Matthew. Louisville: John knox Press. Interpretation.         [ Links ]

JEREMIAS, J. 1968. . TDNT.         [ Links ]

KEENER, C.S. 1999. A commentary on the Gospel of Matthew. Grand Rapids: Eerdmans.         [ Links ]

LUZ, U. 1985. Das Evangelium nach Matthäus (Mt. 1-7). Zürich: Benziger Verlag. Ekk 1/1.         [ Links ]

MATTILL, A.J. 1979. The way of tribulation. JBL 98:531-546.         [ Links ]

MEYER, H.A.W. 1883. St. Matthew. Edinburgh: T. & T. Clark. Meyer.         [ Links ]

METZGER, B.M. 1975. A textual commentary on the New Testament. Third edition. New York: UBS.         [ Links ]

MICHAELIS, W. 1967. . TDNT.         [ Links ]

NIELSEN, J.T. 1978. Het Evangelie naar Mattheüs. I. Nijkerk: Callenbach. PNT.         [ Links ]

PATTE, D. 1987. The Gospel according to Matthew. A structural commentary on Matthew's faith. Philadelphia: fortress.         [ Links ]

RIDDERBOS, H.N. 1965. Mattheüs I. kampen: kok. korte Verklaring van de Heilige Schrift.         [ Links ]

ROBINSON, J.M., HOFFMANN, P. & KLOPPENBORG, J.S. 2000. The critical edition of Q. Minneapolis: fortress. Hermeneia.         [ Links ]

SCHULZ, S. 1972. Q. Die Spruchquelle der Evangelisten. Zürich: Theologischer Verlag.         [ Links ]

SCHWEIZER, E. 1978. The Good News according to Matthew. London: SPCK.         [ Links ]

SCHWEIZER, E. 1980. Gesetz und Enthusiasmus bei Matthäus. In: J. Lange (Hrsg.), Das Matthäus-Evangelium (Darmstadt: Wissenschaftliche Buchgesellschaft. Wege der forschung 525), pp. 350-376.         [ Links ]

VAN ZIJL, H.J. 1991. Die Bergrede as "Littérature engagée". Universiteit van Stellenbosch: Ongepubliseerde proefskrif.         [ Links ]

 

 

Prof. Hermie C. van Zyl, Fakulteit Teologie, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

 

 

1 Ek volg die voorstelling van Aland 1967 en Denaux &Vervenne 1989 se sinopsisse. fledderman 2005:677 het ook 'n soortgelyke voorstelling.
2 word weggelaat deur sekere Ou Latynse manuskripte en 'n paar kerkvaders, maar die oorweldigende meerderheid manuskripte, insluitende kodeks Sinaiticus en kodeks Vaticanus, bevat .
3 Betz 1995:524 is minder seker hiervan.
4 Vir pogings tot 'n rekonstruksie van q, kyk Robinson, Hoffmann en kloppenborg 2000:406-407, Denaux 1982:327 en fleddermann 2005:679. Robinson het: . Die deel tussen hakies kan volgens Robinson ook met Lukas se vervang word. Denaux: Ten spyte van kleiner verskille is daar merkwaardige ooreenstemming tussen dié twee rekonstruksies. fledderman se rekonstruksie is identies aan dié van Denaux. Hoewel Catchpole (1993:113,324) q op hierdie punt nie rekonstrueer nie, aanvaar hy Lk 13:(23-)24 wel as q 13:(23-)24.
5 kyk Luz 1985:396-7 vir nog redes waarom "pad" as 'n Matteus-byvoeging verstaan moet word.
6 Schulz 1972:310-311 huldig presies die teenoorgestelde standpunt, naamlik dat Matteus die oorspronklike bewoording van q bewaar, en dat die pad-metafoor gevolglik in q voorgekom het en deur Lukas weggelaat is. Shulz het egter nie baie ondersteuners vir sy standpunt nie.
7 Die nou poort word as metafoor vir die teenswoordige lewe gebruik, waardeur mens noodwendig moet gaan om die wye poort van onsterflikheid te bereik. Die metafore word dus enigsins anders aangewend as in Mt. 7 en kan nie as direkte parallelle dien nie. Maar ten minste word aangetoon dat die metafore bekend was.
8 Merkwaardig is die samevoeging van die "weg van die lewe" en die goue reël (doen aan ander ...) in Did. 1:2 (Grundmann 1971:229).
9 Mens sou dit ook tot vier groepe kon uitbrei: 7:13-14,15-20,21-23 en 24-27 - so Denaux 1982:307 en die ander geleerdes wat hy daar noem.
10 Volgens Hare 1993:81 is "doen" () 'n sleutelwoord in Mt. 7:15-27. Dit kom nie minder as 9 keer voor nie. In 7:13-14 is dit implisiet teenwoordig. Bloot hierdie sleutelwoord lê die klem op 'n bepaalde lewensweg wat gekies moet word (so ook frankemölle 1994:271).
11 Aanvanklik deur Jeremias 1968:923 voorgestel.
12 kyk egter onder vir verdere interpretasie van Gundry.
13 Die nou poort kan moontlik verwys na die kleiner hek wat in die groter stadspoort ingebou is. Dit het moeiliker toegang verleen as die groot hek. Mattill (1979) probeer 'n saak daarvoor uitmaak dat dit ook die oog van die naald was waardeur kamele soms kon beweeg, hoewel met groot moeite. Min geleerdes volg hom egter hierin. Moontlik was dit bloot Matteus se manier om 'n parallel te verskaf vir smal pad. Die betekenis lê dan in die nou en smal self: dit is die teenpool vir wyd en breed.
14 Meyer 1883:232 is adamant daaroor dat dit slegs na verwys, maar dit kan nie grammatikaal bewys word nie.
15 Betz (1995:525) vermeld alliterasie () en homoioteleuton (gelyke einde van woorde): .
16 Indien Matteus dus, soos die wording van die teks suggereer, die poort-metafoor by q gekry het, het hy die pad-motief bygevoeg vanuit sy voorliefde daarvoor (kyk 3:3; 9:2; 21:32; 22:16 [Gundry 1982:127]) en nie omdat hy 'n bykomende betekenis tot die teks wou voeg nie. Daar is ook ander plekke waar Matteus twee metafore aanwend om slegs een betekenis oor te dra, bv. 7:9-10 (brood/klip, vis/slang); 13:31-33 (mosterdsaad, suurdeeg) (Schweizer 1978:185).
17 Betz 1995:523 ondersteun hierdie gedagte: "... the disciple is from one point of view already in the kingdom of God (see ... the Beatitudes [5:3-12]), but from another point of view the disciple is still seeking it (see ... 6:33; 7:7-8)."
18 Volgens Schweizer 1980:62 roep beide beelde hierdie lewenskeuse op.
19 Drewermann 1992:616-617 bied 'n interessante psigologiese interpretasie deur "die min" wat die smal poort en weg vind te kontrasteer met "die baie" van die breë poort en pad. Vir hom is dit aanduiding daarvan dat nie die weg van die massas gevolg sal word nie, maar dat mens as unieke, egte enkeling voor God moet staan. Die moeilike van hierdie pad lê dan daarin dat mens nie verlei sal word tot selfverheerliking nie, maar deur die geloof in die regte verhouding tot God en mens sal lewe. Dit is egter te betwyfel of hierdie interpretasie die bedoeling van die teks weergee.
20 Allen 1977:68 is van mening dat "poort" in Lk. 13:24 beslis eskatologiese betekenis het, maar nie noodwendig by die Matteusparallel nie. Tog moet dit na sy mening vanuit Mt. 7:21-23 ook eskatologies verklaar word. 'n Mens sou egter wou byvoeg dat onder invloed van "pad" die eskatologiese moment van "poort" beide aan die begin en einde van die Christelike reis gesoek moet word, soos in hierdie paragraaf (hoofteks) gesuggereer.