SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.29 issue2 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.29 no.2 Bloemfontein Dec. 2009

 

"Soos 'n hamer wat 'n rots vermorsel": die afrikaanse bybel van 1933 as vertaling1

 

"Like a hammer crushing a rock": the afrikaans bible of 1933 as a work of translation

 

 

J.A. Naudé

 

 


Trefwoorde: Ou Afrikaanse, Bybelvertaling, Sosiokulturele invloed, Vertaalproses, Vertaalspan, Bronteks, Deskriptiewe vertaalkunde


ABSTRACT

The first complete Bible translation in Afrikaans was published in 1933. This article describes and analyses this translation. Given the new developments in translation studies, one should not evaluate a translation normatively, but rather describe it. Any new translation constructs a domesticated representation of a foreign text and culture, which simultaneously keeps intelligibility and ideology in mind. The representation refers to the linguistically inscribed preferences regarding the selection and construction of discourses in the Bible translation. The 1933 translation is analysed and explained in terms of the formation of particular cultural, political and religious identities. Some of the fixed perceptions of the 1933 translation are revisited by dealing with issues like the context of the translation, its source text, the translation team, the translation process and the sociocultural impact of the translation.

Keywords: Old Afrikaans, Bible translation, Sociocultural impact, Translation process, Translation team, Source text, Descriptive translation studies


 

 

1. INLEIDING

Die eerste gepubliseerde vertaling van 'n Bybelboek in Afrikaans - Genesis deur S.J. du Toit - het reeds in 1893 verskyn, maar die vertalings van Matteus (1895), Openbaring (1898), Hooglied (1905), Psalms (1907), Handelinge en Markus (1908) het nooit inslag gevind nie. Die Nederlandse Statevertaling, wat vir die eerste keer in 1637 gepubliseer is, is in daardie stadium deur Afrikaanse Bybellesers gebruik. In 1916 besluit die Vrystaatse Sinode van die Nederduits Gereformeerde kerk dat die tyd ryp is vir 'n Afrikaanse vertaling. In 1917 gee die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap (BfBS) sy goedkeuring en bied aan om die koste van die vertaling en publikasie te dra. Die vertaalproduk moes met die Statevertaling ooreenstem. Die Statevertaling sou die bronteks wees en gekontroleer word aan die hand van die Hebreeuse en Griekse Bybeltekste. "Die Vier Evangelië en die Psalme" is as proefvertaling in 1922 gepubliseer, maar is deur lesers verwerp met die kritiek dat die vertaling nie die Afrikaanse taalgebruik van sy lesers respekteer nie. Die projek is weer gekonseptualiseer en in 1929 verskyn "Die Vier Evangelies en die Boek van die Psalms". Die volledige Bybel in Afrikaans is in 1933 in gebruik geneem, en in 1953 verskyn 'n hersiene uitgawe.

Die kontekstuele raamwerke waarbinne die 1933-vertaling tot stand gekom het, is nog nooit voorheen ondersoek of beskryf nie en gevolglik poog dié artikel om 'n bydrae in hierdie verband te lewer. Die hoofdoel van hierdie artikel is om die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 as vertaling te beskryf en te analiseer. 'n Verdere doel is om wanpersepsies en -opvattinge oor die 1933-Bybelvertaling reg te stel. Die artikel is nie 'n geskiedkundige oorsig van die vertaalproses onderliggend aan die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 nie. Nienaber (1934) gee in hierdie verband 'n volledige beskrywing. Die benadering wat in die ondersoek gevolg word, is die narratiewe raam-model (vergelyk Wilt 2003; Baker 2006; Wendland 2008), wat in die volgende afdeling in meer detail uiteengesit word. Daarna word die verskillende kontekstuele raamwerke van die 1933-vertaling agtereenvolgens beskryf.

 

2. TEORETIESE RAAMWERK VIR VERTALING-BESKRYWING

Gideon Toury (1980:13, 37, 43-45) se definisie van vertaling, naamlik dat dit enige doeltaalteks is wat as sodanig (dit wil sê as vertaling) aanvaar word deur die doeltaalgebruikers self, stem ooreen met die standpunt dat vertaling 'n klusterkonsep (oordrag, realisering, transkodering, interpretasie, ens.) is. Dit maak voorsiening vir selfdefiniëring en selfrepresentasie. Dit is belangrik vir 'n vertaalspan dat hul vertaling aanvaar word, en in die geval van die 1933-vertaling het dit op 27 Augustus 1933 gebeur met die amptelike ingebruikneming van die Bybelvertaling deur die betrokke kerke. Die vraag is nou: Watter kenmerke van die vertaling het tot die aanvaarding daarvan as vertaling gelei? Die antwoord op hierdie vraag hang dikwels af van die heersende teoretiese benaderings tot en sienings van vertaling. Gegewe die jongste tendense in vertaalkunde, kan die benadering nie normatief (korrek/ goed/betroubaar teenoor verkeerd/swak/onbetroubaar) wees nie, maar eerder funksionalisties en deskriptief (m.a.w. dit aksentueer die wyse waarop die vertaling gedoen is). Die analise behoort te beskryf en te verklaar hoekom die 1933-vertaling lyk soos dit lyk en wat die impak daarvan is/was.

Tot in die negentigerjare van die vorige eeu is die bronteks beskou as die maatstaf waaraan vertalers hulle vertalings moes meet. Hierdie benadering was normatief en voorskriftelik. Na aanleiding van die opkoms van tekslinguistiek en sosiolinguistiek is probeer om die konsep ekwivalensie op verskeie maniere te herdefinieer deur weg te beweeg van sinsgebaseerde benaderings tot vertaling. Dit het twee verskillende benaderings tot gevolg gehad, waarvan die eerste teksgeoriënteerde vertaalmodelle is (let wel: vertaling is 'n semantiese en pragmatiese herkonstruksie van die bronteks) (House 1981; Neubert & Shreve 1992; Hatim & Mason 1990). Die ander benadering beklemtoon die funksie van linguistiese strukture in kommunikasie en het sosiolinguistiese vertaalmodelle tot gevolg (De Waard & Nida 1986). Spoedig is besef dat hierdie benaderings tot ekwivalensie te beperkend is omdat dit 'n ontoereikende verklaring bied van wat werklik by vertaling plaasvind. Dit is onmoontlik om, in ooreenstemming met die ekwivalensiegebaseerde voorskriftelike teorieë, 'n vertaalde teks te produseer wat 'n presiese weergawe van die oorspronklike is. Sedert die tagtigerjare het vertaalkunde as wetenskaplike dissipline merkwaardig gegroei. Ekwivalensie het tot verskeie problematiese kwessies aanleiding gegee. Geleerdes soos katherina Reiss en Hans Vermeer (1984) het tot die slotsom gekom dat die deurslaggewende vraag is of 'n vertaling sy beoogde funksie vervul al dan nie, en nie of die bronteks getrou weergegee word al dan nie. Christiane Nord (1991; 1997; 2005) se funksionele benadering, met die klem op die funksie of bedoeling (intensie) van die vertaling, het hierop gevolg. Die waarde van elke vertaling van byvoorbeeld die Bybel moet volgens haar in terme van die funksie wat dit moet vervul, beoordeel word. Die opdraggewer moet dus duidelik stel wat die vertaalopdrag van die projek is.

Korpusgebaseerde navorsing het as nuwe navorsingsterrein in vertaalkunde aangetoon dat die taal van vertaling onderskei kan word van gewone taal. Die konfrontasie tussen brontaal en doeltaal tydens die vertaalproses het as gevolg hiervan uitgeloop op die skepping van 'n 'derde kode'. Dit is 'n soort kompromis tussen die norme of patrone van die brontaal en die van die doeltaal. Hierdie vertaalspesifieke eerder as taal- of kultuurspesifieke elemente is deur Baker (1993:243-247) gekategoriseer as universele elemente van vertaling, en wel as 'n neiging tot eksplisering, 'n neiging tot die uitskakeling van dubbelsinnigheid, en 'n neiging tot konvensionalisering. Steiner (1998) se benadering tot taal en vertaling behels dat alle begrip van gesproke of geskrewe taal interpretasie behels. In vertaling is daar altyd onvermydelik 'n sekere mate van subjektiwiteit en herformulering betrokke (Bassnett-McGuire 1991[1980]; Bassnett & Lefevere 1990[1984]). Theo Hermans (1985) konstateer in The manipulation of literature dat vertaling een van die primêre literêre hulpmiddels is wat groter sosiale instellings, onderwysstelsels, kunsterade, uitgewersmaatskappye en selfs regerings tot hulle beskikking het om 'n gegewe samelewing se kultuur te manipuleer. kerke sou die opdragte vir Bybelvertalings kon gee, regerings sou die vertaling van nasionale epiese verhale kon ondersteun, skole sou die vertaalde weergawes van groot werke kon onderrig, konings sou die beskermhere van vertalings oor heldhaftige oorwinnings kon wees en sosialistiese regimes sou die vertalings van sosiale realisme kon onderskryf - en elke entiteit sou sy eie oogmerke ten opsigte van ideologie en kulturele mag kon hê. Die manipulasie-hipotese wat in 1985 voorgestel is, het in die volgende dekade tot die kulturele wending in vertaalkunde gelei. Mary Snell-Hornby (1995) het die wending van vertaling as teks na vertaling as kultuur en politiek as die kulturele wending gedefinieer. Die kulturele wending het met die publikasie van Susan Bassnett en Andre Lefevere (1990 [1984]) se bundel, Translation, history and culture, saamgeval. Hulle fokus op die interaksie tussen vertaling en kultuur, op die manier waarop kultuur vertaling beïnvloed en beperk, en gevolglik ook op die wyer kwessies soos konteks, geskiedenis en konvensie. In gevalle waar tekste nie in die konteks van hul kulturele omgewing oorweeg is nie, wys hulle noukeurige vergelykings tussen daardie oorspronklike tekste en hul vertalings van die hand. Hulle wou eerder die prosesse wat tydens vertaling of herskryfwerk plaasvind verduidelik, veral aan die hand van ideologiese kragte. Lawrence Venuti (1995:1, 19-20) skep daarom die konsep van die (on)sigbaarheid van die vertaler om die vertaler se situasie en werk in kontemporêre Anglo-Amerikaanse kultuur te beskryf. Dit impliseer dat 'n vertaling vlot moet lees. Venuti se siening is dat die onsigbaarheid tipies tot stand kom deur die manier waarop vertalers self vertaal, naamlik die skep van vertalings wat vlot in Engels lees en die voorkoms van die oorspronklike het. Venuti (1995:19-20) koppel derhalwe die onsigbaarheid van die vertaler aan die vertaalstrategie van verinheemsing, wat 'n etnosentriese reduksie van die vreemde teks ten gunste van doeltaalkultuurwaardes behels. Dit impliseer dat die vertaling in 'n deursigtige, vlot, onsigbare styl geskryf word, met die doel om die vreemdheid van die doelteks te minimaliseer. Dit hang saam met Schleiermacher se beskrywing van vertaling as die beweging van die vreemde teks na die leser.

Die narratiewe raam-model (Wilt 2003; Baker 2006; Wendland 2008) dien dus as teoretiese vertrekpunt vir die beskrywing en verklaring van die 1933-Bybel as vertaling. Die uitgangspunt is dat geen spesifieke vertaalkeuses as willekeurig, as sonder implikasies vir die werklikheid, beskou kan word nie. Inteendeel, die narratiewe raam-model dwing ons om individuele keuses te interpreteer as ingebed in en as 'n bydrae tot die beliggaming van 'n konkrete sosiale werklikheid. Elke keuse in vertaling tree op as 'n indeks wat 'n narratief of verhaal is van die wêreld, of 'n aspek daarvan. Die proses om die gebeure (die vertaling) van 'n raamwerk te voorsien, impliseer dat strukture opgestel word om die gebeure te interpreteer. In hierdie ondersoek word van 'n sosiokulturele raamwerk, 'n vertaalkundige raamwerk en 'n organiserende raamwerk gebruik gemaak. Om die aard van die ideologiese dominansie van die Afrikaanse doelkultuur in die Afrikaanse Bybelvertaling te bepaal, is die volgende tegnieke vir die veldondersoek aangewend: die vertaling is in terme van die vertaal- en werkmetode op makro- en mikrostrukturele vlak ontleed, en relevante kritiese tekste, soos artikels in joernale en literêre historiografieë, is ook onder die soeklig geplaas.

 

3. SOSIOKULTURELE RAAMWERK VAN DIE 1933-VERTALING

3.1 Oorgangstydperke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis

Die vertaling van die Bybel in Afrikaans uit die Hebreeuse en Griekse brontekste is nie 'n geïsoleerde gebeurtenis nie, maar geheel en al konteks-spesifiek. Hierdie konteks kan kortliks soos volg beskryf word. Suid-Afrika se koloniale en postkoloniale geskiedenis word in vier hooftydperke verdeel. Die Nederlandse Statebybel is gebruik gedurende die Nederlandse tydperk (1652-1795), wat gekenmerk is deur skeepshandel en indiensneming van slawe. Die voorlopervertalings in Afrikaans is gedoen gedurende die Britse koloniale tydperk (1795-1924/1948), met sy beleid van emansipasie. Die 1933/1953-vertaling in Afrikaans en die Nuwe Afrikaanse Bybel van 1983 is onderskeidelik aan die begin en einde van die Afrikanertydperk (1924/1948-1990) gedoen, terwyl die tydsgees modernisties was en menseregte benadruk is. Bybels soos die Afrikaanse Bybel vir Dowes en die Boodskap is vertaal tydens en ná die tot standkoming van die demokratiese tydperk (sedert 1994), wat gekenmerk is deur 'n nuwe wêreldorde en globalisering.

3.2 Sosiopolitieke omgewing

Die Suid-Afrikaanse samelewing van die 20ste eeu het sy wortels in die kompanjiestydperk aan die Wes-kaap, waar 'n halfwegstasie deur die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese kompanjie opgerig is met die doel om voedsel te voorsien aan verbygaande skepe op pad na die Ooste. Die halfwegstasie kon kwalik in sy eie behoeftes voorsien en Van Riebeeck het amptenare toegelaat om as vryburgers voedsel te produseer. Giliomee (2004:16) beskryf in The Afrikaners hoe die kompanjie reeds in die 17de eeu predikante, sieketroosters en onderwysers aangestel het, en beveel het dat die Hollandse taal en die Gereformeerde geloof in kerk en skool onderrig moes word.

Teen 1706 het die totale bevolking (wat onafhanklike khoi-khois uitsluit) tot sowat 3500 mense toegeneem. Die burgers het hulle identiteit uit verskeie bronne geput, naamlik hul Europese afkoms (wat nou gekoppel was aan hulle Christelike geloof), die Hollandse taal en hul status as burgers.

Met die Britse bewindsoorname in 1795 het die geprivilegieerde burgerstatus verval, maar die koloniste van Duitse, franse en Hollandse afkoms het voortgegaan om hulself as mense met besondere pligte en voorregte te beskou. Toe die regering in die middel-1830's beplan het om boere vir militêre diens op te roep, het die boere geprotesteer omdat hulle nie as iets anders as vryburgers beskou wou word nie. Ná ordonnansie 50 van 1828 was die burgers en die khoi-khois gelyk voor die gereg, maar omdat die khoi-khois min op kommando uitgegaan het en nie baie belasting betaal het nie, het die koloniste na hulle as "knapsakburgers" verwys. Die regering het tot 1891 in amptelike dokumente van burgers gepraat wanneer hulle na die Hollands- of Afrikaanssprekende wit onderdane verwys het. 'n kommissie van ondersoek het later die regering se onderwysbeleid beskryf as een wat "die burgers Engels sou leer". Daar kan betoog word dat die apartheidsbeleid wat in die twintigste eeu gevolg het, sy wortels reeds in die kompanjiestyd gehad het, met 'n geprivilegieerde burgerstatus as die kern van die bestel (Giliomee 2004:17-18, 54).

Volgens Giliomee (2004:85) het die burgers goed aangepas by twee veranderings in die maatskaplike orde gedurende die tydperk 1806-1853, naamlik die bevryding van die khoisanmense en die vrystelling van die slawe. Die Afrikaner-elite het in die middelste tydvak van die negentiende eeu ook al hoe meer die idee van vooruitgang aanvaar. Die klem het geval op nierassige stemreg, verteenwoordigende demokrasie, skeiding tussen kerk en staat, sekulêre onderwys en die waarde van wetenskaplike ondersoek. Gelykheid voor die gereg en universele stemreg is aanvaar, maar gelykstelling is verwerp. Hierdie teenstand was steeds gewortel in die ou statushiërargie van die kompanjiestyd.

Twee heeltemal verskillende soorte verhoudings het tussen burgers en swart mense ontstaan. Die een soort verhouding was wreed en soms onmenslik, met een van die ergste vorme hiervan die handel in sogenaamde "swart ivoor". In teenstelling hiermee was daar die paternalistiese verhouding, wat veral in die geval van swart huisbediendes of ingeboekte kinders gegeld het. Die werkgewers het dikwels geglo dat hulle beskawing na die swart mense kon bring deur hulle te leer hoe om te werk, hulle te straf wanneer hulle oortree en hulle te prys wanneer hulle iets reg doen. Die liberale denker Alfred Hoernlé, 'n professor in die 1930's, het genoem dat die werkers kultureel geassimileer geraak het met hulle werkgewers en dat Afrikaans letterlik ook hul moedertaal geword het (Giliomee 2004:152-153).

Die onderlinge stryd tussen drie ideologieë, naamlik republikanisme (verpersoonlik deur kruger), imperialisme (Milner) en kolonialisme (Hofmeyr) is in 1889 deur sir Hercules Robinson, goewerneur van die kaapkolonie, beskryf. Republikanisme het ná die Suid-Afrikaanse Oorlog (1899-1902) tydelik van die toneel verdwyn. Teen 1910 het imperialisme gesneuwel. Onder die sambreel van die Britse ryk het Suid-Afrika sy eie gevoel van nasieskap ontwikkel en self sy vryhede beskerm. Genl. Smuts en genl. Hertzog het in die dekades daarna die idee van kolonialisme saam verder ontwikkel. 'n Driedeling het egter bly voortbestaan, te wete die Engelse, die Afrikaners en die inheemse bevolking (Giliomee 2004:250-280). Onder die Afrikaners het 'n vorm van nasionalisme begin posvat wat nou met die 1914-Rebellie saamhang en 'n gunstige teelaarde vir die Bybelvertaling geskep het.

Afrikaans is tot en met die 20ste eeu nie as kultuurtaal aanvaar nie. Dit was grotendeels weens die persepsie dat Afrikaans sosiale prestige gekort het en daarom nie aanpasbaar, gepas of aanvaarbaar in amptelike kontekste was nie. 'n Deel van die probleem was dat Afrikaans op daardie tydstip hoofsaaklik as mondelinge vorm van kommunikasie gebruik is. Teen 1872 was dit duidelik dat die Nederlandse Bybel betekenisloos geword het vir Afrikaanssprekendes. So is die behoefte aan 'n vertaling van die Bybel in Afrikaans gebore. Dit het die vernaamste oogmerk van die Genootskap van Regte Afrikaners geword - wat juis gestig is met hierdie doelwit voor oë. 'n kerkverbod is geplaas op die gebruik van Afrikaans vir Bybelvertalings en preke. Dit is hierdie verbod op Afrikaans wat die vorming van 'n Afrikaanse identiteit en kultuurtaal gestimuleer het. S.J. du Toit het sy novelle Di Koningin fan Skeba (1898) gebruik om te illustreer dat Afrikaans dieselfde rolle/funksies as die ander dominante tale in Suid-Afrika, naamlik Engels en Nederlands, kan vervul. Du Toit het hiermee eiehandig 'n identiteit vir Afrikaans as kultuurtaal geskep (Naudé 2008). Om hierdie rede is die roman in die Afrikaans van die tyd geskryf en nie in Nederlands soos sy Sambesia (1894) of Engels soos Rhodesia Past and Present (1897) nie. Hierdie narratief is ruimtelik en kronologies verwyderd van Suid-Afrika. Dit speel af in die destydse Rhodesië soos Du Toit dit onthou het, en beweeg selfs verder terug na die dae van die Ou Testament en Antieke Egipte. Hiermee bewys Du Toit dat dit moontlik is om oor enige onderwerp in Afrikaans te skryf en vanuit enige taal na Afrikaans te vertaal, maak nie saak hoe ver dit verwyder is van die algemene spreektaal nie. Dieselfde kan gesê word van sy reisverhale oor sy twee reise na Europa en sy reis na die Nabye Ooste (meestal Egipte en Israel/Palestina) (Du Toit 1881; 1883; 1886; Du Toit & Du Toit 1945). Hy betrek die Bybel in sy geskrifte sonder om die kerklike verbod op die gebruik van Afrikaans vir Bybelvertaling en preke teen te staan. Die direkte invloed van S.J. du Toit op G.S. Preller, een van die groot rolspelers in die bevordering van Afrikaans, is deur D'Assonville (1999:329-335) aangetoon. Daar is bewyse van direkte korrespondensie tussen hulle, beginnende op 30 Maart 1905, oor die posisie van Afrikaans.

Die grootste motivering vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans hou verband met die amptelike posisie van Afrikaans. J.D. du Toit (Totius) het in 1914 reeds geskryf dat Bybellesers nie meer die Nederlands verstaan het nie (Du Toit s.a.; Venter 1977). Ook in die inleiding tot sy beryming van die Psalms beklemtoon hy die moontlikhede en belang van Afrikaans in hierdie verband (Du Toit 1923). Die vraag bestaan of enige Afrikanerorganisasies 'n rol gespeel het in die totstandkoming van 'n Afrikaanse Bybelvertaling en moontlik so die vertaling kon beïnvloed het.

Volgens Mariana kriel (2008) het die Broederbond (tans Afrikanerbond) as organisasie (waarskynlik) 'n klein of niksseggende rol in die Bybelvertaling gespeel. Teen 1928 het die organisasie 263 lede gehad, met 11 takke in die Transvaal en een in die Vrystaat. Daar was nie 'n enkele een in die kaap of in Natal nie. kriel (s.a.) se tematiese analise van Bondsraadtemas en Broederbondprojekte maak dit duidelik dat godsdiens nooit 'n tema van die Bondsraad (by die groter kongresse) was nie. Die fokus was volgens die beskikbare inligting eerder op sport gerig as godsdiensverwante projekte. Volgens Zaaiman (2008) noem die voormalige hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Naudé Botha, dat die bond versigtig was om op die kerk se terrein te oortree. Daar kan wel met reg gesê word dat die Broederbond 'n belangrike bydrae gelewer het tot die skepping van 'n kultuur en die bewuswording van Afrikaans as taal. Interessant genoeg was die twee hoofeindvertalers, Totius en kestell, op daardie stadium nie lede van die organisasie nie en het hulle ook nie enige direkte verbintenisse daarmee gehad nie.

Die Akademie vir Wetenskap en kuns het wel 'n rol in die Bybelvertaling gespeel. In 1923 het die Akademie vir Wetenskap en kuns steun verleen deur twee taaladviseurs aan te stel om die twee voltydse vertalers by te staan. In November 1925 het die Raad van die Akademie besluit dat daar 'n gebrek aan koördinering tussen die taaladviseurs is en dat eenvormigheid in die slag gebly het. Hulle (die taaladviseurs) is dus aangemoedig om beter saam te werk. In februarie 1926 is 'n konferensie in Bloemfontein gehou met die doel om groter eenvormigheid betreffende die bydraes van die verskillende adviseurs in die hand te werk. By die jaarlikse vergadering in September 1927 is 'n besluit geneem ten gunste van geldelike steun. Die Raad het bepaal dat die Akademie die reiskostes van die adviseurs sou betaal, sowel as 'n bedrag per persoon per dag vir solank as die werk voortgegaan het (Nienaber 1934: 153-154; 157; 159; 161).

3.3 Vorming van politieke identiteite

Die publikasie van die twee volledige en amptelike Afrikaanse Bybelvertalings val saam met 'n oorgangsfase in die geskiedenis van Suid-Afrika. Die eerste vertaling (1933) en die hersiening (1953) (Ou Afrikaanse Vertaling) daarvan het geskied te midde van die oplewing van Afrikanernasionalisme, terwyl die tweede vertaling in 1983 (Nuwe Afrikaanse Vertaling) voltooi is in 'n tyd wat beskryf kan word as die oorgangstyd van Afrikanernasionalisme en die aanloop tot die eerste demokraties-verkose regering van Suid-Afrika. Dit het min of meer ooreengestem met twee epistemologiese tradisies wat sedert 1920 in die NG kerk geïdentifiseer is, naamlik naïewe realisme en kritiese realisme (Deist 1994:63). Naïewe realisme of Calvinisme, soos verteenwoordig deur die konserwatiewe stroom in die Bybelwetenskap, het sy oorsprong in die fundamentalistiese teologie van Amsterdam en Princeton. kritiese realisme is 'n meer gesofistikeerde benadering, wat teologie sien as 'n wetenskap wat krities bestudeer moet word. Die vertalers van die eerste volledige Afrikaans vertalings was verteenwoordigers van beide tradisies.

 

4. VERTAALKUNDIGE RAAMWERK VAN DIE 1933-VERTALING

In hierdie afdeling word die keuse van die vertaalmetode vir die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 binne 'n groter raamwerk geplaas. Tot en met die vyftigerjare van die vorige eeu is Bybelvertaling oorheers deur ekwivalensie op woordvlak. Die Engelse King James-vertaling, die American Standard Version en die Nederlandse Statevertaling is goeie voorbeelde van woord-vir-woordvertalings oftewel letterlike vertalings uit die oorspronklike teks. Sedert die vyftigerjare het 'n klemverskuiwing plaasgevind en is vertaalkunde as 'n nuwe dissipline gevestig. Eugene Nida (1960; 1964; 1972) word beskou as een van die pioniers van die siening van vertaalkunde as wetenskaplike dissipline. Nida se model was om die boodskap van sinne (eerder as die woorde) te vertaal sodat die doeltaal dieselfde effek op hedendaagse lesers/hoorders sou hê as wat dit op die oorspronklike lesers/hoorders van die brontaalteks gehad het. Die meeste nuwe vertalings van die Bybel sedert 1970 was sogenaamde doeltaalgerigte of betekenisgeoriënteerde Bybelvertalings. Voorbeelde hiervan is The Good News Bible, Der gute Nachricht en De Grootnieuws Bijbel. In Suid-Afrika is die 1983-vertaling in Afrikaans aangepak binne die raamwerk van Nida se dinamies-ekwivalente benadering.

Die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 is gedoen gedurende die preteoretiese tydperk van vertaalkunde as dissipline, wat die aard daarvan verklaar. Die Nederlandse beplanning oor die toekoms van die Statevertaling het 'n groot rol in die beplanning van die Afrikaanse vertaling gespeel. Die Statevertaling het in onbruik begin raak en daar is gewonder of 'n hersiening of nuwe vertaling nodig is. Studies oor hierdie kwessie is in Nederland onderneem deur onder andere f.W. Grosheide (1916). J.D. du Toit (Totius) het die studies verwerk en in verskeie aflewerings gepubliseer (Venter 1977:93-185).

Volgens Nienaber (1934:96-97; 118) was die vertalers se doel om die teks van die Afrikaanse 1933-vertaling vir die lesers werklik verstaanbaar te maak deur die betekenis van die Hebreeuse woorde korrek weer te gee. Dit was ook nodig om die estetiese waarde, die gevoelstoon, die bewoënheid en die ritme van die Hebreeuse woord in die Afrikaanse taal oor te dra.

Bybelvertalings kan in drie stadia verdeel word, naamlik begeleidende vertalings, outoritatiewe vertalings en korrektiewe vertalings (Swanepoel 1987: 10-24). Gewoonlik is daar net een outoritatiewe vertaling, maar 'n groeiende aantal korrektiewe vertalings. Die Afrikaanse Bybelvertalings kan ook in hierdie drie groepe ingedeel word. Die begeleidende vertalings het ten doel om die hoorders te begelei wanneer die bestaande weergawe nie meer goed in die doelkultuur verstaan word nie. Voorbeelde hiervan is C.P. Hoogenhout se verhaal van Josef in Afrikaans: Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse Kinders en Huisvrouwens, in hulle eiige taal geskrijwe deur een vriend (1873) en die eerste Afrikaanse kinderbybel (1912) deur W.J. Conradie, wat onder die titel Bybelgeskiedenis vir Ons Volk (Wegener 1985:223-224) verskyn het. S.J. du Toit se vertalings en die 1922-vertaling kan ook hieronder geklassifiseer word omdat hulle doel nie was om die Statevertaling te vervang as amptelike vertaling wat deur die kerk gebruik word nie. Die outoritatiewe vertaling neem die plek in van die vorige vertaling of bronteks en die 1933-vertaling verteenwoordig hierdie soort vertaling. Die derde groep is korrektiewe vertalings wat volg op die kritiese evaluering van die bestaande en aanvaarde outoritatiewe Bybelvertalings. Die 1953-hersiening is 'n korrektief op die doeltaal en die 1983-vertaling 'n korrektief op die vertaalbeginsel. Al die Afrikaanse vertalings daarna is korrektiewe op die doeltaal van die 1983-vertaling, met die oog daarop om dit bruikbaar te maak vir persone met besondere leesbehoeftes. Een relevante voorbeeld is die Afrikaanse Bybel vir Dowes.

Die letterlike vertaalmetode vrywaar nie 'n vertaling teen die ideologiese dominansie van die doelkultuur nie. So is die Bybelhebreeuse "mamzer" in Deut 23:2 in die letterlike 1933/53-vertaling met baster vertaal, wat in Afrikaans verwys na iemand wat gebore is van ouers wat aan verskillende bevolkingsgroepe behoort. Referente vir die term word in Lev 18:6-20 gevind en sluit bogenoemde verhouding uit. Die teks was 'n belangrike bron van motivering om afsonderlike aanbidding te regverdig. Die 1983-vertaling vertaal dit met 'n persoon wat gebore is uit ontoelaatbare geslagsgemeenskap, met 'n voetnoot wat na Lev 18:6-20 verwys.

Die 1933-vertalers wou nie radikaal afwyk van die Statebybel nie uit vrees dat die nuwe vertaling nie aanvaarbaar sou wees nie. Gevolglik is die vertroude godsdienstige begrippe wat in die Statevertaling voorkom, behou. Dit is die geval met begrippe soos "welgeluksalig", "geregtigheid van God" en "goedertierenheid". Die 1983-vertaling benut nie meer hierdie terme nie.

 

5. ORGANISERENDE RAAMWERK: BRONTEKS, VERTAALSPAN EN VERTAALPROSES

5.1 Bronteks

Die strewe van die Bybelvertalers was deurgaans na onsigbaarheid (byvoorbeeld skryfwyse volgens uitspraak by S.J. du Toit se vertaling), die navolging van die styl van die Statevertaling in die 1922-vertaling, die navolging van die bronteks (Textus Receptus) en die woordkeuse van die Statevertaling. Die vertalers het gemeen dat dit nie wenslik sou wees om die nuutste bronteks te gebruik nie. Afwykings van die aangenome teks sou kon meebring dat daar gepraat word van 'n nuwe Bybel en dit kon gebeur dat die lesers weier om dit te aanvaar. Die Bybelvertalers het daarom doelbewus die Textus Receptus as Griekse bronteks vir die Nuwe Testament van die 1933-vertaling gekies (Smit 1970:229). Daar was wel belangrike uitgawes van die Nuwe Testament op daardie tydstip beskikbaar, soos byvoorbeeld die van Westcott en Hort en Nestle. Die seleksie van die bronteks het uitgegaan van die foutiewe aan name dat die Textus Receptus die grondteks van die Nederlandse Statevertaling was (Nienaber 1934:117).

Hierdie standpunt is gehandhaaf ten spyte van ernstige kritiek. Prof. keet het volgehou dat die geesdriftige ontvangs van die 1933-vertaling deels aan die brontekskeuse te danke was. C.f. kies het in 1935 aangedui dat hierdie besluit oor die bronteks die vernaamste fout by die vertaling was.

Wat die Hebreeuse bronteks van die Ou Testament betref, is besluit om die Massoretiese teks te gebruik en na alle waarskynlikheid die tweede uitgawe van Rudolf kittel se Biblia Hebraica, wat gebaseer is op die tweede Rabbynse Bybel van Jacob Chayyim, uitgegee deur Daniël Bomberg in Venesië in 1524-1525. Dieselfde besware kan teen hierdie teks geopper word as teen die Textus Receptus. Op daardie stadium was daar egter nie 'n beter uitgawe beskikbaar nie, anders as in die geval van die Nuwe Testament, en daarom het hierdie keuse geen kritiek tot gevolg gehad nie.

5.2 Die vertaalspan

In die algemene omgang word die vertaling gewoonlik aan J.D. du Toit (Totius) toegeskryf. Daar word egter nie rekening gehou met die vertaalspan wat bestaan het uit 'n Bybelvertalingskommissie, sekretaris, voorvertalers, eindvertalers, hersieners en taaladviseurs nie.

Die Vrystaatse Sinode was in 1916 die eerste sinode om 'n besluit ten gunste van 'n Afrikaanse Bybelvertaling te neem en het ook 'n vertalingskommissie benoem. Ten tye van die vertaalwerk aan die 1933-vertaling was daar 'n tekort aan vertalers met die nodige vaardighede. Die kommissie het die volgende vertalers benoem: Ou Testament: Prof. J.D. du Toit (Totius), prof. B.B. keet en dr. T.B. Muller; Nuwe Testament: prof f. Postma, prof. G.B.A. Gerdener en ds. N.J. van der Merwe. Later is heelwat veranderings aan die paneel aangebring (Van der Watt 1987:316-317). Weinig is tans bekend oor die werk van die voorvertalers. Dit is so omdat Nienaber (1934), die vernaamste bron van inligting oor die Afrikaanse Bybel, slegs aandag skenk aan die eindvertalers, wat eers in 1923 aangestel is. Hierdie leemte in die beskikbare kennis behoort verder ondersoek te word.

In Julie 1923 het die Breë kommissie besluit om twee "eindvertalers" vir die hele Bybel aan te stel, wat as vakkundige teoloë hul voltyds aan die werk kon wy, naamlik prof. J.D. du Toit en prof. B.B. keet. Totius is onthef van sy professorale pligte, maar die kuratorium van die Stellenbosse kweekskool kon dr. keet nie heeltemal losmaak nie. Einde 1923 is dr. J.D. kestell benoem as eindvertaler (Smit 1970:229; Oberholzer 1958: 50). Die Raad van Grey Universiteitskollege (nou die Universiteit van die Vrystaat) in Bloemfontein het toestemming verleen dat hy hom voltyds aan die Bybelvertaling kon wy. Op 73-jarige ouderdom het hy afgetree om al sy aandag op die vertaling toe te spits. Sy bydrae tot die 1933-vertaling, veral ten opsigte van die vertaling van die Nuwe Testament, word soms onderskat (Nienaber 1946; Van Schoor 1992).

Mettertyd is ook die hulp ingeroep van drie deeltydse eindvertalers, naamlik H.C.M. fourie (Hervormde kerk) en prof. E.E. van Rooyen (NG kerk) wat dr. Du Toit met die Ou Testament moes help, en dr. keet wat dr. kestell met die Nuwe Testament moes help. Vanaf 1926 was al vyf besig met hierdie groot werk wat hulle dan uiteindelik ook sou voltooi (Smit 1970:229; Oberholzer 1958:52). Die eindvertalers het ook 'n vaste sekretaris gekry in die persoon van prof. L.J. du Plessis van Potchefstroom (Oberholzer 1958:52).

Intussen is reviseurs (hersieners) aangestel, wat tot op daardie stadium nog nie veel gedoen het nie. Hulle het eers op 'n latere stadium dele van die vertaling onder oë gekry. Tydens 'n vergadering van die Breë kommissie op 16 Junie 1925 in Bloemfontein is die lys van reviseurs wat vroeër aangewys is, weer nagegaan (Oberholzer 1958:52). Terugskouend lyk dit of daar 24 reviseurs was. Prof. Van Gelderen van die Vrije Universiteit in Amsterdam het ook vir 'n tydperk reviseurswerk in Suid-Afrika kom doen. Hoewel sommige van die reviseurs nie by die werk kon uitkom nie weens hulle kerklike verpligtinge, blyk dit tog dat andere hul taak ernstig opgeneem het. Hoe groot hulle invloed op die vertaling was, is egter nie duidelik nie. Hulle het nooit saam vergader nie, maar bloot individuele opmerkings aan die vertalers gestuur. Die eindbeslissing het by die vertalers gelê (Nienaber 1934:144).

In hierdie periode is die vertalers ook deur taaladviseurs bygestaan, naamlik proff. D.f. Malherbe, S.P.E. Boshoff, J.J. Smith en T.H. le Roux. Die invloed wat hulle tydens die eerste jare uitgeoefen het, kan nie gepeil word nie, want geen spore van hulle werk het oorgebly nie. Die prosedure was om Bybelboeke aan die taaladviseurs te stuur nadat dit vertaal is. Die adviseurs het dan bymekaargekom om algemene indrukke te bespreek en hulle aantekeninge te vergelyk (Nienaber 1934:153-154, 157, 159, 161).

Die vertaalspan van die Afrikaanse Bybel van 1933 het slegs uit wit mans bestaan en die eindvertalerspan slegs uit professore van die Nederduits-Gereformeerde kerk, Gereformeerde kerk en Hervormde kerk.

5.3 Die vertaalproses

Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling kan tradisioneel in drie tydperke verdeel word. Die eerste periode begin met die brief van Arnoldus Pannevis aan die Nederlandse koerant De Zuid-Afrikaan op 7 September 1872 (Oberholzer 1958:21) en eindig met die dood van ds. S.J. du Toit in 1911 (Nienaber 1934:15). Die tweede periode neem 'n aanvang met die lesing van dr. B.B. keet op Stellenbosch in 1914 voor die Afrikaanse taalvereniging en die Sinodebesluit van die Vrystaatse Sinode van 16 Mei 1916 (Nienaber 1934:43-50). Die derde periode strek vanaf 7 Augustus 1924 toe die besluit geneem is om ná die kritiek teen die proefvertaling (uitgegee in 1922 onder die naam Vier Evangelië en Psalme) eerder uit die Hebreeuse (Ou Testament) en Griekse (Nuwe Testament) brontekste te vertaal en nie meer bloot die Nederlandse Statevertaling te verafrikaans nie (Nienaber 1934:108).

Nienaber (1946:85; 1934:119-120) skryf dit was nodig dat die twee eindvertalers eers die metode vasstel waarvolgens hulle sou werk. Prof. Du Toit het die Ou Testament vertaal en prof. kestell die Nuwe Testament. Die vertalers het besluit om elkeen afsonderlik te vertaal, stukke heen en weer vir mekaar te stuur, en dan van tyd tot tyd saam te kom.

Prof. kestell het byvoorbeeld in 'n brief aan prof. Du Toit genoem dat hy hom van alles probeer losmaak het en net die Grieks voor hom gehad het. Hy het hom dan ingeleef in die bronteks, en begin vertaal. Hy sou 'n bladsy of vier vertaal, waarna hy weer eers na die Statevertaling terugverwys het. Bronne wat geraadpleeg is, is woordeboeke en grammatikas sowel as bestaande vertalings in ander tale. Hieronder is die Revised Version, Moffat, Weymouth, die Leidse vertaling, ens. (Nienaber 1934:120-121). Die werk van die voorvertalers is ook hier vergelyk.

Die vertalers van die 1933-vertaling moes soveel moontlik met die Statevertaling rekening hou. Dit het betrekking op die keuse van die woorde en die bou van sinne. Aansluiting by die Statevertaling was noodsaaklik, omdat dit as 'n gesaghebbende vertaling beskou is en omdat die woorde en klanke daarvan by baie mense bekend en geliefd was. Dit was egter nodig om op sekere punte af te wyk, omdat die Statevertaling op baie plekke verouderd was (Nienaber 1934:121-122).

Met die vertaling van die Bybel is sover moontlik gepoog om 'n letterlike oorsetting van die brontekste te gee. Sommige Nederlandse vorme is vereenvoudig, bv. "heerschappy voeren" is as "heers" vertaal (Genesis 1:28). Sommige woorde van die Statevertaling kon ook nie oorgeneem word nie, omdat hulle óf 'n verkeerde opvatting in die hand werk óf onbekend is, bv. "afgrond" in Genesis 1:2.

Sekere oudheidkundige begrippe, name van diere, plante, ens. was soms vir die Statevertalers nie duidelik nie. Soms moes verse, gedeeltelik of in geheel, ook op gesag van navorsing anders vertaal word as wat in die Statevertaling staan. Daar moes ook 'n duidelik onderskeid getref word tussen wat verstaan is en wat nog as opinie van enkele geleerdes bekend was. Die vertalers het ook nie té puristies te werk gegaan nie. Die woord versoendeksel is byvoorbeeld in die 1933-vertaling behou.

Met betrekking tot die werkswyse het elke vertaler sy werk in sy eie handskrif aan die sekretaris gestuur. Die metodiek het baie nou aangesluit by die van die Statevertalers. Die sekretaris het die manuskrip van elke individuele vertaler getik. Hierdie dele is dan aan die vertalers voorgelê en gewysig, en weer oorgetik. Aan die taaladviseurs en kerklike reviseurs is ook elkeen 'n afskrif gestuur vir opmerkings en kommentaar. Die eindbeslissing het egter by die vertaler self berus. Nadat die hele Bybel vertaal en getik is, het die werk van die redigeerders begin. Die vertalers van die Ou en Nuwe Testament moes die werk van die ander noukeurig saam met die oorspronklike teks lees. Daarna het die betrokke vertalers bymekaargekom om 'n gemeenskaplike lesing vas te stel. Hierna is die verskillende stukke na die volle vergadering van vertalers gestuur, waar die vertaling uiteindelik sy finale beslag gekry het.

Onmiddellik na die verskyning van die Afrikaanse Bybelvertaling in 1933 is besluit dat die eindvertalers moet voortgaan met hersiening en verbetering. Die tydperk tot en met 1953 word as die vierde periode in die vertaalproses beskou. Die twee langslewendes, prof. Du Toit en prof. keet, het hierdie werk voortgesit. Die voltooide werk is in Augustus 1953 gepubliseer. Daar is nie besonder ingrypende veranderings aangebring nie. In enkele gevalle is die vertaling verbeter en die woordkeuse gewysig, met die bedoeling om van die Statevertaling weg te beweeg.

Hierna het 'n oorgangstydperk gevolg en in Julie 1967, tydens 'n seminaar oor die Bybelvertaling, is daar besluit om op grond van Eugene Nida ('n vertaaldeskundige in diens van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe) se aanbevelings, eerder in die rigting van 'n nuwe vertaling as 'n voortgesette hersiening te werk.

 

6. DIE SOSIO-KULTURELE IMPAK VAN DIE

1933-VERTALING Die jaar 1933 beklee in verskeie opsigte 'n belangrike posisie in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit val byvoorbeeld saam met die afstap van die goudstandaard teen die einde van 1932; die pogings tot samesmelting tussen die twee vernaamste politieke partye; en deurdringende reën teen die einde van die jaar na een van die strafste droogtes ooit. Tog word die verskyning van die Bybel in Afrikaans in 1933 as die belangrikste mylpaal beskou (Smit 1970:65). Onder die leiding van ds. H.P.M. Steyn is die Afrikaanse Bybel tydens 'n Bybelfees op 27 Augustus 1933 in elke gemeente van die drie Afrikaanse kerke amptelik in ontvangs geneem. Die sentrale Bybelfees is in Bloemfontein gehou, met 'n skare van 5000 mense wat die Marksaal vol gesit het (Smit 1970:66-67). Die vertaling van die Afrikaanse Bybel het beslis 'n impak op die ontwikkeling, verryking en bevordering van Afrikaans en die erkenning daarvan as nasionale taal gehad (sien Ponelis 2002; Steyn 2009).

'n Vergelyking van aanhalings in die dokument oor volkereverhoudinge verskaf veelseggende getuienis dat die aard van die 1933-vertaling Bybelse regverdiging vir apartheid verskaf het (sien Naudé 2005 vir 'n verteenwoordigende lys van voorbeelde). Die vertaalstrategie van intensivering of eksplisering is toegepas. 'n Voorbeeld hiervan is in Genesis 11:1 waar die Toring van Babel beskryf word. 'n Direkte vertaling van die Bybelhebreeuse bronteks lees: "Die hele aarde het een taal en een stel woorde gehad." Die 1933-vertaling lees: "En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde," terwyl die 1983-vertaling lees: "Die hele wêreld het net een taal gepraat". Die 1933-vertaling behels 'n eksplisering, terwyl die gedeelte in die 1983-vertaling vereenvoudig is. Die belangrikste afleiding wat lesers uit die 1933-vertaling gemaak het, is dat differensiasie deel was van God se doel vir die skepping en op grond hiervan is die beginsel van apartheid geregverdig. In vroeëre dokumente het die konsep van diversiteit ook baie steun gekry, veral soos dit in die Bybel onder woorde gebring is, naamlik dat alles volgens hulle soorte geskep is (Genesis 1:11) in die 1933-vertaling.

 

7. GEVOLGTREKKING

Die uitgangspunt van hierdie ondersoek was dat indien 'n vertaling as vertaling aanvaar word, dit reeds van hoë gehalte is. Verder is argumente aangevoer dat 'n vertaling nooit 'n spieëlbeeld van die bronteks kan wees nie. Daarom behoort 'n ondersoek na die aard van die vertaling van die Afrikaanse Bybel van 1933 nie normatief te wees nie, maar eerder te verduidelik hoe die vertaling gedoen is. Die narratiewe raam-model (Wilt 2003; Baker 2006; Wendland 2008) is as teoretiese benadering vir die beskrywing en verklaring van die Bybelvertaling van 1933 gebruik. Die sosiokulturele raamwerk, die vertaalkundige raamwerk en die organiserende raamwerk is geanaliseer.

Betreffende die sosiokulturele raamwerk is aangetoon dat die 1933-vertaling aan die begin van die Afrikanertydperk (1924/1948-1990) van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedoen is. Onder die Afrikaner het 'n vorm van nasionalisme begin posvat wat bevorderlike omstandighede vir die Bybelvertaling geskep het. Alhoewel Bybellesers nie meer Nederlands verstaan het nie, is Afrikaans tot in die twintigste eeu nie as kultuurtaal aanvaar nie. Die grootste motivering vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans was die amptelike posisie van Afrikaans. Die eerste vertaling (1933) en die hersiening (1953) (Ou Afrikaanse Vertaling) is te midde van 'n oplewing van Afrikanernasionalisme voltooi. Dit het min of meer ooreengestem met twee epistemologiese tradisies wat sedert 1920 in die NG kerk geïdentifiseer is, naamlik naïewe realisme en kritiese realisme. Die vertalers van die eerste volledige Afrikaanse vertalings was afkomstig uit beide tradisies.

Vertaalkundig is die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933 gedoen gedurende die preteoretiese tydperk van vertaalkunde as dissipline, toe formele ekwivalensie op woordvlak die vertaalstrategie was wat gevolg is. Die woordkeuse van die Statevertaling is gevolglik by die 1933-vertaling in ag geneem.

Die vertalers van die 1933-Bybel het deurgaans gestreef na onsigbaarheid (byvoorbeeld die keuse van die Textus Receptus as bronteks). Afwykings van die aangenome teks sou kon meebring dat daar gepraat word van 'n nuwe Bybel, en die lesers sou kon weier om dit te aanvaar. In die algemene omgang word die vertaling gewoonlik aan J.D. du Toit (Totius) toegeskryf en word nie rekening gehou met die vertaalspan wat bestaan het uit 'n Bybelvertalingskommissie, voorvertalers, eindvertalers, sekretaris, hersieners en taaladviseurs nie. J.D. kestell se bydrae tot die 1933-vertaling, veral ten opsigte van die vertaling van die Nuwe Testament, word soms onderskat. Die vertaalproses het deur die fases van voorvertaling, kontrolering en hersiening deur medewerkers en taalkundiges beweeg.

Die vertaling van die Afrikaanse Bybel het 'n impak op die ontwikkeling, verryking en bevordering van Afrikaans en die erkenning daarvan as nasionale taal gehad. 'n Vergelyking van aanhalings in die dokument oor volkereverhoudinge bied veelseggende getuienis dat die 1933-vertaling gebruik is vir die Bybelse regverdiging van apartheid.

 

BIBLIOGRAFIE

BAKER, M. 1993. Corpus linguistics and translation studies: implications and applications. In: M. Baker, G. francis & E. Tognini-Bonelli (eds.), Text and technology: In honour of John Sinclair (Amsterdam: John Benjamins), pp.         [ Links ] ??.

BAKER, M. 2006. Translation and conflict: A narrative account. London & New York: Routledge.         [ Links ]

BASSNETT-MCGUIRE, S. 1991 [1980]. Translation studies. 2nd rev. ed. London: Methuen.         [ Links ]

BASSNETT, S. & LEFEVERE, A. (eds.) 1990 [1984]. Translation, history and culture. London: Pinter.         [ Links ]

D'ASSONVILLE, V.E. 1999. SJ du Toit van die Paarl (1847-1911). Weltevredenpark: Marnix.         [ Links ]

DEIST, F.E. 1994. Ervaring, rede en metode in skrifuitleg : 'n Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk, 1840-1990. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing.         [ Links ]

DE WAARD, J. & NIDA, E.A. 1986. From one language to another. Functional equivalence in Bible translating. Nashville: Thomas Nelson Publishers.         [ Links ]

DU TOIT, J.D. s.a. Die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Bloemfontein: N.P.B.         [ Links ]

DU TOIT, J.D. 1923. 36 Psalme in Afrikaans. kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. 1881. Op reis door Duitsland, Zwitserland, Italië, Egypte, Palestina, Turkije, Hongarije, Oostenrijk, Frankrik, België, Holland en Engeland. Paarl: D.f. du Toit & Co.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. 1883. Bijbellanden dooreisd. Egypte en Palestina. Paarl: D.f. du Toit & Co.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. 1886. Alweer op reis. Paarl: Paarl: D.f. du Toit & Co.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. 1894. Sambesia, Salomo's goudmjinen bezocht in 1894. Paarl: D.f. du Toit & Co.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. 1897. Rhodesia past and present. London: Heinemann.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. 1921 [1898]. Di koningin fan Skeba, of Salomo se ou goudmyne in Sambesia. Cape Town: National Press Limited.         [ Links ]

DU TOIT, S.J. & DU TOIT, J.D. 1945. Bybellande deurreis. kaapstad: Nasionale Pers Beperk.         [ Links ]

GILIOMEE, H. 2004. Die Afrikaners: 'n Biografie. kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

GROSHEIDE, F.W. 1916. Bijbelvertalen. Amsterdam: Van Bottenburg.         [ Links ]

HATIM, B. & MASON, I. 1990. Discourse and the translator. Longman: London & New York.         [ Links ]

HERMANS, T. (ed.) 1985. The manipulation of literature. London: Croom Helm.         [ Links ]

HOUSE, J. 1981. A model for translation quality assessment. Tübingen: Gunter Narr.         [ Links ]

KRIEL, M. 2008. Persoonlike kommunikasie en briefwisseling, 16 Julie 2008.         [ Links ]

KRIEL, M. s.a. Manuskrip van onvoltooide Ph.D.-proefskrif.         [ Links ]

NAUDÉ, J.A. 2005. Translation and cultural transformation. The case of the Afrikaans Bible translations. In: E. Hung (ed.). Translation and cultural change: Studies in history, norms and image-projection. John Benjamins Translation Studies Series 61 (Amsterdam: Benjamins), pp. 19-42.         [ Links ]

NAUDÉ, J.A. 2008. The role of pseudo-translations in early Afrikaans travel writing. A corpus-based translation analysis. Southern African Linguistics and Applied Language Studies 26(1):97-106.         [ Links ]

NEUBERT, A. & SHREVE, G.M. 1992. Translation as text. kent, Ohio: kent State University Press.         [ Links ]

NIDA, E.A. 1960. Message and mission. The communication of the Christian faith. New York: American Bible Society.         [ Links ]

NIDA, E.A. 1964. Toward a science of translating. Leiden: Brill.         [ Links ]

NIDA, E.A. 1972. Communication and translation. The Bible Translator 23:309-316.         [ Links ]

NIENABER, P.J. 1934. Die geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling en 'n hoofstuk oor die vertaling van die Psalm- en Gesangboek en die Formuliere. kaapstad: Nasionale Pers.         [ Links ]

NIENABER, P.J. 1946. Dr. J.D. Kestell. Vader van de Reddingsdaad. Opgestel op versoek van die Reddingsdaadbond. kaapstad: Nasionale Pers Beperk.         [ Links ]

NORD, C. 1991. Text analysis in translation.Theory, methodology and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

NORD, C. 1997. Translating as a purposeful activity. Manchester: St. Jerome.         [ Links ]

NORD, C. 2005. Text analysis in translation.Theory, methodology and didactic application of a model for translation-oriented text analysis. Amsterdam: Rodopi.         [ Links ]

OBERHOLZER, J.A. 1958. Die Bybel in Afrikaans. kaapstad: NG kerk-Uitgewers.         [ Links ]

PONELIS, F. 2002. The language ecology of a new Afrikaans Bible. In: J.A. Naudé & C.H.J. van der Merwe (eds.), Contemporary translation studies and Bible translation. A South African perspective. Acta Theologica Supplementum (Bloemfontein: University of the free State), pp. 280-289.         [ Links ]

REISS K. & VERMEER, H.J. 1984. Grundlegung einer Allgemeinen Translationstheorie. Tübingen: Niemeyer.         [ Links ]

SMIT, A.P. 1970. God het laat groei. kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.         [ Links ]

SNELL-HORNBY, M. 1995. Translation studies. An integrated approach. Amsterdam: John Benjamins.         [ Links ]

STEINER, G. 1998. After Babel. Oxford: Oxford University Press.         [ Links ]

STEYN, J.C. 2009. Die Afrikaans van die Bybelvertaling van 1933. In: J.A. Naudé (ed.), The Bible and its translations: colonial and postcolonial encounters with the indigenous. Acta Theologica Supplementum (Bloemfontein: University of the free State).         [ Links ]

SWANEPOEL, F.A. 1987. Teologiese implikasies in enkele vertalings van die Ou Testament. DD-tesis, Universiteit van Pretoria, Pretoria.         [ Links ]

TOURY, G. 1980. In search of a theory of translation. Tel Aviv: The Porter Institute for Poetics and Semiotics.         [ Links ]

VAN DER WATT, P.B. 1987. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk. 1905-1975. Deel Vier. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.         [ Links ]

VAN SCHOOR, M.C.E. 1992. John Daniel Kestell. 1854-1941. Bloemfontein: Oorlogsmuseum van die Boererepublieke.         [ Links ]

VENTER, H. 1977. Totius versamelde werke. Volume 1: Die Bybel. kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

VENUTI, L. 1995. The translator's invisibility: A history of translation. Londen: Routledge.         [ Links ]

WEGENER, G.S. 1985. In die begin was die Woord. kaapstad: Human & Rousseau.         [ Links ]

WENDLAND, E.2008. Contextual frames of reference in translation. A coursebook for Bible translators and teachers. Manchester, U.k.: St. Jerome Publishing.         [ Links ]

WILT, T. 2003. Bible translation. Frames of reference. Manchester, U.k.: St. Jerome Publishing.         [ Links ]

ZAAIMAN, R. 2008. Persoonlike kommunikasie en briefwisseling, 23 Julie 2008.         [ Links ]

 

 

Prof. Jacobus A. Naudé, Departement Afro-Asiatiese Studies, Gebaretaal en Taalpraktyk, Universiteit van die Vrystaat, Posbus 339, Bloemfontein 9300.

 

 

1 Me Marlie van Rooyen word bedank vir haar insette met die tegniese versorging en redigering van hierdie artikel.