SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.29 número2 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Acta Theologica

versão On-line ISSN 2309-9089
versão impressa ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.29 no.2 Bloemfontein Dez. 2009

 

Huldigingswoord prof. S.J.P.K. Riekert

 

 

Dit is my voorreg om namens die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat hierdie uitgawe van Acta Theologica op te dra aan Prof. Fanie Riekert, een van ons gewaardeerde kollegas, wat aan die einde van hierdie jaar emeriteer.

Prof. Riekert se lewensverhaal is vir langer as 40 jaar vervleg met die verhaal van die Universiteit van die Vrystaat. Hy het reeds in 1966 die B.A.-graad aan hierdie universiteit behaal (destyds nog bekend as Universiteit van die Oranje-Vrystaat). Dit is gevolg deur 'n B.A. Honneurs in Grieks in 1971, 'n D.Th. in Ou Testament in 1983; asook 'n M.A. Grieks in 1996. Sy teologiese opleiding met die oog op die bediening het hy aan die Universiteit van Stellen-bosch voltooi. (Destyds was daar nog nie 'n Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat nie.)

Wat Prof. Riekert se akademiese loopbaan betref, was hy vanaf 1966 tot 1971 deeltydse dosent in Grieks en Hebreeus aan die Universiteit van die Vrystaat. In 1979 is hy permanent aan hierdie universiteit aangestel: eers as vakkundige beampte in Antieke Tale en later as navorser in die Departement Grieks. In 1987 het hy dosent in die destydse Departement Bybelkunde geword; hy is mettertyd bevorder tot medeprofessor en later tot professor. Hy dien ook vanaf 1997 as departementshoof van die Departement Bybel- en Godsdienskunde (later bekend as Religiekunde).

Met hierdie bundel huldig die Fakulteit Prof. Riekert vir al die belangrike bydraes wat hy oor baie jare tot die Universiteit van die Vrystaat en spesifiek tot die Fakulteit Teologie gemaak het.

Die Fakulteit huldig hom as akademikus. In 'n tyd waarin soveel dosente en navorsers op 'n klein area binne hulle navorsingsterrein spesialiseer, het Prof. Riekert dit reggekry om met gemak tussen verskillende teologiese dissiplines te beweeg: Hebreeus, Grieks, Ou Testament, Nuwe Testament, die Septuagint en Religiekunde. Hy het meer as 30 navorsingsartikels oor temas binne hierdie verskillende akademiese dissiplines gepubliseer. Ons sien ook saam met hom uit na die kulminasie van sy jarelange navorsing oor die boek Hooglied in die publikasie van twee akademiese kommentare oor dié verwaarloosde Bybelboek.

Prof. Riekert het verder 'n belangrike bydrae as departementshoof gelewer. Hy het die Departement Bybel- en Godsdienskunde met kundigheid bestuur en met versiendheid die nodige aanpassings aan die aard van die departement en die akademiese kurrikula binne die departement gemaak - veranderings waarin die Universiteit van die Vrystaat danksy sy insig dikwels die voortou onder universiteite in Suid-Afrika geneem het. Die huidige opset en struktuur van die departement - nou bekend as die Departement Religiekunde - is byvoorbeeld aan sy leiding te danke.

As programdirekteur het Prof. Riekert vir baie jare waardevolle diens aan die Fakulteit Teologie gelewer. Hy het die leiding geneem tydens verskeie herkurrikulerings en 'n onbepaalbare aantal ure in akademiese advies aan en registrasie van studente spandeer. Ten spyte van 'n baie vol program het sy deur altyd vir studente oopgestaan en het hy altyd baie meer vir hulle gedoen as wat van hom verwag word.

Die Fakulteit Teologie huldig Prof. Riekert ook as mens en vriend. Sy kollegas het hom leer ken as 'n nederige persoon wat nooit sy eie basuin geblaas het nie; hy het stil-stil en pligsgetrou sy werk gedoen en altyd sy woord gestand gedoen. Die Fakulteit het hom ook leer ken as iemand wat lief is vir diere en die buitelewe en - laaste, maar nie die minste nie - iemand wat ten spyte van die feit dat hy akademies ver gevorder het, altyd 'n kinderlike gelowige gebly het. Met hierdie bundel wil die Fakulteit sê "Hartlik dank vir alles wat jy oor baie jare gedoen het, Faan! Ons is dankbaar dat ons nog steeds ná jou aftrede jou kundigheid as navorsingsgenoot gaan behou!"

Prof. Francois Tolmie
Dekaan: Fakulteit Teologie
Universiteit van die Vrystaat

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons