SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.29 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.29 no.1 Bloemfontein June 2009

 

Dr. Andries Albertus Odendaal SNR., evangeliedraer in 'n multi-dimensionele konteks. 'N kort historiese oorsig en sendingkundige evaluering van sy lewe en werk (deel 2)

 

Dr. Andries Albertus Odendaal SNR. Bearer of the gospel in a multi-dimensional context. His life and work. A brief historical sketch and missiological assessment (part 2)

 

 

Phil Robinson

 

 


Trefwoorde: Suid-Afrika, Kerkgeskiedenis, Sendingwerk, Dr. A.A. Odendaal.


ABSTRACT

This is the second of two articles which briefly introduce the life and work of a socalled "local missionary" of the Dutch Reformed Church in South Africa. This second part of the article discusses Odendaal's involvement in theological and pastoral training, as well as his continued contributions on synodical level, in particular his endeavour for church unity, his appreciation of and working in the vernacular, his appointment as Bible translator, his passion for preaching the gospel, a testing experience in his life, and the way in which he was honoured by old students and the University of the Free State. The article concludes with a short missiological assessment of Odendaal's life and work.

Keywords: South Africa, Church History, Missions, Dr. A.A. Odendaal.


 

 

Every Christian is a witness; but not every Christian is a missionary in the professional sense of the term. Missionaries are made, not born, and as in every worthwhile vocation the making process is long and difficult - J.H. Kane (1978:15).

 

1. HEROORWEGING VAN ROEPING

Terug in Suid-Afrika het die program in volle tempo hervat. Met nog enkele maande voor die volgende Sinodesitting in 1955, is A.A. deur Dr. H. F. Verwoerd versoek om hom by sy kantoor te kom spreek. By dié geleentheid is die pos van Direkteur-Generaal vir die Godsdiensonderrig in skole vir Swartkinders vir A.A. aangebied. A.A. het verkies om die saak eers goed te deurdink, met sy vrou te bespreek en daaroor te bid. Dit word hom vergun. Alhoewel die nuwe pos allerlei voordele, veral finansieel sou meebring, was dit vir A.A. van die begin af duidelik dat sy huidige werk sy eerste liefde was. "My roeping het by die opleiding van evangeliste en leraars gelê," skryf hy (Her.:241). Hierdie oortuiging het sy vrou volledig met hom gedeel. Hy het gevolglik die aanbod van die hand gewys.

Tydens die Sinode van die NG Sendingkerk te Dewetsdorp, September 1955, word A.A. tot die moderatuur verkies en wel as Assessor. Dit gebeur toe dat dié sinodesitting juis deur Dr.Verwoerd toegespreek word.Tydens een van die verdagingsessies het A.A. die geleentheid geneem om aan Dr.Verwoerd sy besluit te verduidelik. Daarop het hy die gerusstellende antwoord ontvang: "Ek verstaan dit baie goed" (Her.:242).

 

2. VERKIESING TOT DIE MODERATUUR

A.A. se verkiesing tot die moderatuur het nuwe verantwoordelikhede meegebring. Drie beskrywingspunte van hom dien voor die vergadering:

Die eerste het gehandel oor die kabelo-stelsel van verpligte en voorgeskrewe kerklike bydraes Volgens hom het dié nie-Bybelse stelsel tot allerlei onwenslike en selfs bygelowige gebruike gelei. Hy stel dus voor dat dit afgeskaf en vervang word met vrywillige bydraes volgens vermoë. Byna 40 jaar later merk hy ietwat lakonies op: "Die voorstel is aanvaar, maar ek is bevrees die gemeentes het dit nie toegepas nie en dat ons vandag nog die kabelo-stelsel met ons het" (Her.:242).

Die tweede beskrywingspunt het gevra dat die sinode die Bybelgenootskap versoek om 'n nuwe vertaling van die Bybel in Suid-Sotho te maak. Ook dié voor-stel is aanvaar. A.A. wys daarop dat hierdie besluit sy lewe redelik ingrypend sou raak. Gedurende 1957 het die Bybelgenootskap die Stofberg Teologiese Opleidingskool se Bestuur genader met die versoek dat A.A.van sy doseerverpligtinge vrygestel word vir voltydse Bybelvertaling in Suid-Sotho. Plaasvervangers sou deur die Bybelgenootskap betaal word. A.A. was verantwoordelik vir die Nuwe Testament en Ds. R.A. Paroz van die Franse sending in Lesotho vir die Ou Testament. Die resultaat ná twee jaar was egter onbevredigend en in 1959 beveel A.A. by die Bybelgenootskap aan dat (i) die werk deur 'n vertalingskommissie behartig en (ii) die grondvertaling deur moedertaalsprekers en -kenners gedoen moet word. Dit was egter nie die einde daarvan nie. Twintig jaar later sou dieselfde saak sy beplanninge ingrypend verander (Her.:242).

Die derde beskrywingspunt het gehandel oor die vereniging van die drie NG Sendingkerke van die Vrystaat, Transvaal, Natal en die NG Bantoekerk (sic) van Kaapland. Dit is eenparig deur die sinode aanvaar. Daar is besluit om die voorstel en aanbevelings na die ander NG Sendingkerke deur te stuur.

 

3. POGINGS OM EENHEIDSTREWE TE STUIT

Téén alle verwagtinge is laasgenoemde besluit deur die Sinodale Sending kommissie van die NG Kerk OVS onderskep en geveto. Die gevolg was dat die ander NG Sendingsinodes nie die voorstel en aanbevelings oor kerkver eniging ontvang het nie. Die teleurstelling vir die NG Sendingkerk in die OVS was soveel groter omdat die NG Kerk OVS sonder inagneming van die lank gevoelde behoefte en groeiende denke in die verskillende NG Sendingkerke opgetree het. Ten einde die omvang van die teleurstelling weer te gee, plaas A.A. dit teen die agtergrond van die groeiende strewe vir eenheid in die NG Sendingkerke sedert 1929. Hy skryf:

3.1 Die behoefte aan skakeling tussen die verskillende Sendingkerke gaan terug na 1929. In daardie jaar het die NG Sendingkerk in Kaapland (1881) (Kleurlinge) en die NG Sendingkerk in die OVS (1910) (Suid-Sotho) besluit dat hulle moderature drie-jaarliks moet saam vergader. Dié byeenkoms is die Moderature-konferensie genoem. Ná die totstandkoming van die NG Sendingkerk van Transvaal (1932), die NG Bantoekerk in Kaapland (1951) en die NG Sendingkerk in Natal (1952) het hulle moderature ook bygekom (Her.:244-246). Tydens sy dienstyd in Voortrekkerhoogte, het A.A. een van die vergaderings van die Moderature-konferensie in Johannesburg bygewoon.

Op daardie stadium was daar ook 'n ernstige debat in die NG Kerke aan die gang oor vereniging. Dit, tesame met sy bywoning van die Moderature-konferensie, het A.A. aangemoedig om dieselfde gesprek in die NG Sendingkerke te laatplaasvind.Diedroomvindsyeersteneerslagin'nartikel"Dieherindeling van die NG Sendingkerke" in "Op die horison",1946. Dit ontlok gunstige kommentaar van sowel die redakteur,1 as Dr. Willem Nicol, destydse moderator van die NG Kerk van Transvaal. A.A. se visie was egter ruimer as net die grense van die eie kerk. Sy ideaal was "die vereniging van al die Gereformeerde Kerke in SA én ook die Presbiteriaanse kerk".

3.2 Aangesien die "Moderature-konferensie" bloot 'n adviserende liggaam sonder enige magte was, het die verskillende NG Sendingkerk-sinodes besluit om 'n meer verteenwoordigende liggaam in die lewe te roep, te wete die Federale Raad van NG Sendingkerke in SA. Hierdie Raad het sy eerste vergadering in 1957 in Bloemfontein gehou. Al die moderatuurslede van die verskillende sinodes van die NG Sendingkerke het op die liggaam gedien. Die Raad het opgehou om te bestaan in 1963 ná die totstandkoming van die Algemene Sinode van die verenigde NG Kerk in Afrika. A.A. se assessorskap sedert 1955 het hom in staat gestel om vir die volle duur van die Federale Raad se bestaan daarop te dien.

Teen hierdie agtergrond is dit begryplik dat A.A. nie in die verloop van sake kon berus nie. Hy maak die veelseggende opmerking dat daar "meer as een manier is om 'n kat dood te maak!" (Her.:246). Hy was vasberade om die veto te omseil en die eenwordingsvoorstel voor die ander drie NG Sendingkerksinodes te laat dien. Hy besluit om as lid van die moderatuur die saak direk na die Federale Raad van NG Sendingkerke te neem.

Die Federale Raad verwys die saak na sy Studiekommissie met die versoek dat 'n "konsepreglement vir kerkvereniging" opgestel en aan die Raad voorgelê word. Die Studiekommissie versoek A.A. as voorsitter om die verlangde konsepreglement op te stel. Die konsep is ná enkele wysigings aanvaar en deur-gestuur na al drie sinodes van die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika (Kaapland). Een van die wysigings was die weglating van die woorde "al die Gereformeerde Kerke in SA, asook die Presbiteriane". Dit ontlok jare later van A.A. die opmerking: "Ek was vir destyds nog te ekumenies ingestel en ook te vroeg vir so iets" (Her.:249).

3.3 Nadat al vier kerke dit aanvaar het, is A.A. versoek om vir die Federale Raad se vergadering van 1960 'n meer omvattende memorandum voor te lê wat sou handel oor "Grondbeginsels vir Kerkvereniging." A.A. het 'n konsepreglement opgestel wat in breë lyne die samestelling, belangrikste funksies en die prosedure vir vereniging uitgestippel het (Her.:250-252). Genoemde dokument is weer deurgestuur na die betrokke sinodes wat dit almal aanvaar het. Op basis daarvan het die Federale Raad die kerke opgeroep om te Kroonstad te vergader met die oog op die vorming van een algemene sinode. Op 7 Mei 1963 is die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika amptelik gekonstitueer. Die naam is deur die leraars van die kerk onder leiding van Moruti (Ds.) S.S. Tema voorgestel.

'n Hernude poging van die kant van die NG Kerk in die OVS deur sy pasverkose Sendingsekretaris, Ds. Dawid Snyman om ook dié proses te veto, het op 'n tegniese punt misluk. Die verlange wat reeds sedert 1929 herhaaldelik in die Sendingkerke ter sprake gebring was, het in vervulling gegaan! Vir A.A. self was dit die verwesenliking van die droom soos verwoord in sy artikel van 1946. In sy "Herinneringe" skryf hy: "Nou moet daar nog 'n droom verwesenlik word: die vereniging van al die NG Kerke. Of ek dit nog sal beleef, wonder ek. Dis in die Here se hande" (Her.:255).

 

4. ANDER PROJEKTE VAN DIE FEDERALE RAAD

Voordat die verhaal van A.A. se betrokkenheid by die teologiese opleiding hervat word, moet net kortliks verwys word na verskeie ander projekte wat ook deur die Federale Raad geïnisieer is en waarin hy 'n belangrike aandeel gehad het.

Lidmaatskap van die World Presbyterian Alliance: A.A. ontvang opdrag om die moontlikheid/wenslikheid te ondersoek en 'n aanbeveling hieroor te maak. Sy aanbeveling was dat die Federale Raad daarby aansluit. Dr. M.L. Maile is as afgevaardigde gekies.

Skryf van 'n katkisasieboek: A.A. is aangewys as sameroeper van die kommissie hiervoor. By die volgende vergadering van die Federale Raad (8 April 1958) is die skema vir die katkisasieboek voorgelê en aanvaar. 'n Poging om die samewerking van die Gereformeerde en Hervormde kerke te kry, was onsuksesvol. 'n Jaar later kon rapporteer word dat die Afrikaanse weergawe voltooi is. Die verskillende sinodes moes elkeen toesien dat die boek in hulle bedieningstaal vertaal word. Besondere dank is teenoor die sameroeper uitgespreek. Die Sotho-vertaling, Thuto ya Bokreste, waarin A.A. 'n beslissende aandeel gehad het, was die eerste wat voltooi is. Dit is in 1963 in die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat in gebruik geneem.

'n Teologiese blad vir leraars en evangeliste van die NG Sendingkerke: Die blad Kerugma is tot stand gebring. Die dosente van die vier Stofberg Teologiese Skole (Turfloop, Witsieshoek, Decoligny en Zoeloeland) het die redaksie op 'n rotasiebasis behartig. Die blad het 68 uitgawes beleef voor dit uiteindelik vanweë finansiële oorwegings en gebrek aan belangstelling gestaak is.

'n Reeks Bybelkommentare wat rekening hou met die lewensomstandighede van die gebruikers, toeganklik sal wees vir lidmate, en veral aandag gee aan woordverklaring, is begin: 'n Redaksiekommissie is benoem waaronder ook A.A. Verskeie kommentare het die lig gesien. 'n "Verklaring van die Brief van die apostel Paulus aan die Filippense" verskyn in 1978 in Suid-Sotho uit die pen van A.A. 'n Vertaling verskyn in Noord-Sotho in 1980 en 'n verwerkte weergawe in Afrikaans in 1991. A.A. het lid van die redaksie gebly tot 1979.

Kerkboek met die belydenisskrifte en liturgiese formuliere: A.A. noem hierdie saak om twee redes 'n veeleisende en moeilike taak. Eerstens is in 'n tydrowende proses die samewerking van die Nederduitse Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in SA gesoek. Slegs laasgenoemde het uiteindelik saamgewerk. Tweedens was pogings om konsensus oor sekere formulerings en vertalings te kry eweneens tydrowend. Daar is vasgesteek by die bewoording in die Geloofsbelydenis "en ter helle neergedaal het." In Suid-Sotho het dit gelui: "a utliswa mohloko a dihele." A.A. het in aansluiting by die Heidelbergse Kategismus vertaal: "Hy is laat voel die smarte van die hel." Die Gereformeerde lid het egter geoordeel dat die woord "neergedaal" behou moet word. Gevolglik is vertaal: "a theohela mahlokong a dihele," letterlik: "Hy het neergedaal in die smarte van die hel."2 Derdens was die vertaling in Suid-Sotho redelik ingewikkeld. 'n Eerste vertaalpoging deur Ds. S. Ntilane was te direk (woordeliks) en gevolglik nie oral duidelik nie. A.A. moes van nuuts af vertaal. In sy eie woorde: "Dit was 'n formidabele taak" - vanweë die styl en terminologie. Uiteindelik was die Buka ya Kereke, 'n boek van 189 bladsye, gereed. Dit is op 18 Junie 1979 tydens die Sinodevergadering te Umgababa in gebruik geneem.

 

5. ONDER DIE WOLK VAN DIE GROEPSGEBIEDEWET

Sedert die middel vyftigs het 'n wolk oor die voortbestaan van die Teologiese Opleiding van die NG Sendingkerke te Stofberg gehang. Volgens die afgekondigde Groepsgebiedewet het die Stofberg Gedenkskool vir onderwysers en teologiestudente 'n "swart kol" in 'n wit gebied gevorm en sou gevolglik moes skuif na een van die gebiede vir swart mense. Die bestuur het besluit om 'n ontmoeting met die betrokke kabinetsminister aan te vra en vir dié inrigtings 'n verslapping van die wet te beding.Ten einde meer gewig aan hulle afvaardiging te gee, is die NG Kerk in Kaapland genader om die afvaardiging te vergesel. Die uitkoms van dié versoek was 'n diepe teleurstelling. In 'n brief deur Ds. W.A. Landman, Scriba Synodi, aan Ds. P.E.S. Smith, gedateer 18 April 1955, verklaar hy dat die moderatuur wel die afvaardiging kan vergesel maar hulle

... is nie gewillig om iets te doen wat die uitvoering van die beleid (van die regering) sou dwarsboom nie. Die kerk het hom ten gunste van hierdie beleid van die regering uitgespreek, en as die kerk self nie gewillig is om hierdie beleid in die praktyk te steun nie, dan sal ons 'n swak figuur slaan, nie net by die regering nie, maar ook by die ander kerke wat hierdie beleid opponeer (Her.:330).

Die afvaardiging is dus sonder die "NG Kerk se ondersteuning" na die betrokke minister. Die poging was futiel! Die sluiting en verskuiwing van Stofberg was finaal. Kennis is ontvang dat dit aan die einde van 1959 afgehandel moet wees. Volgens die Staat moet die teologiese opleiding na die Universiteit van die Noorde skuif waar dit aan die Fakulteit Teologie tereg sou kom en die Hoërskool en Normaalskool van die Stofberg Gedenkopleiding moes na Witsieshoek (Tshiya). Verder sou die staat die twee plase waarop die skole gevestig is, oorneem vir £120 000, heelwat minder as wat die waardeerders bereken het.

 

6. PROBLEME MET VERSKUIWING

6.1 Ideaal op die spel

Vir die Teologiese Skool was die verskuiwing nie eenvoudig nie. Daar was 'n sterk oortuiging dat die teologiese opleiding van leraars, ter wille van die eenheid van die kerk, slegs op een plek moet plaasvind. Dit was ook die rede waarom die vroeëre aansoeke van Decoligny en Dingaanstat om leraars aldaar op te lei, nie goedgekeur is nie. Hierdie lofwaardige ideaal het nou onder al groter druk gekom. Veral die skuif na Pietersburg was toenemend onbevredigend vir die Vrystaat, Kaapland en Natal. Dit het beteken dat die opleiding vir die meerderheid studente verder wegskuif van hulle tuisgemeenskappe. A.A. self was ook nie gewillig om na die Universiteit van die Noorde te gaan nie aangesien dit die beëindiging van sy gemeentelike en breë kerklike betrokkenheid in die NG Sendingkerk van die Vrystaat asook die opskorting van die gebruik van sy Suid-Sotho-kennis sou beteken. Hy was ten gunste van 'n beroep na een van die Sendinggemeentes in die Vrystaat. "Ek het lief vir die Basotho en hulle taal geword en my begeerte was om end-uit onder hulle te werk" (Her.:331).

6.2 Verdeling laaste uitweg

'n Gebeurtenis wat egter die skaal finaal in die rigting van 'n verdeling van die opleiding sou swaai, was die besluit van die Sendingkommissie van die NGK in die Vrystaat om 'n teologiese skool vir die opleiding van leraars en evangeliste vir die NG Sendinggemeentes in die Vrystaat te Witsieshoek te open. Daarmee is 'n wens wat eerwaarde J.S. Minnaar reeds in 1884 uitgespreek het en daarna telkens op kerklike agendas verskyn het, verwesenlik. Dit het ook A.A. se probleem opgelos. Hy kon ook nie nalaat om in sy laaste rektorsverslag (1979) op hierdie sameloop van gebeure te wys nie. Dit was trouens dieselfde tyd wat die Sentrale Bestuur van die Stofbergskole besluit het dat die teologiese opleiding in twee moet verdeel. Die een deel (25 studente) moes skuif na die Universiteit van die Noorde en die ander deel (40 studente) sou na Witsieshoek gaan waar 'n nuwe skool opgerig sou word. Die probleem was dat teen die tyd dat hieroor finaliteit bereik is, daar skaars ses maande oor was om alles te Witsieshoek gereed te kry. Die weke wat gevolg het, was besaai met krisisvergaderings en -besluite. Verblyf vir studente en dosente, lesinglokale, die nodige personeel, was veronderstel om alles in plek te wees met die aanvang van die nuwe akademiese jaar. Trouens, die bestuur het besluit dat die skool op 6 Februarie 1960 móét open!

Die groot trek het einde 1959 plaasgevind.Daarmee is 'n unieke en vrugbare gedagtewisseling tussen werkkragte en studente uit die verskillende taalgroepe sowel as dié tussen toekomstige kerklike leiers en onderwysers beëindig.

 

7. WITSIESHOEK 1960-1979

Die eerste drie dosente wat vir die nuwe skool beroep was, te wete Di. Deon R. de Villiers, Nico Basson en A.A. Odendaal, is tydens die openingsgeleentheid bevestig met A.A. as rektor. Die plegtigheid het besonder groot belangstelling geniet. Nie minder nie as 2 000 persone uit die NG Sendingkerk en plaaslike gemeenskap asook 700 persone uit die NG Kerk het daarvoor opgedaag. Wanneer A.A. dus na 20 jaar terugkyk, getuig hy dat dié belangstelling en ondersteuning deur al die jare onverminderd gebly en die skool gedra het. Deur al die jare was dit nooit nodig om fondse te kollekteer vir enige van die uitbreidingsprojekte van die skool nie (Her.: 488). Gereelde bydraes tot die skool se fondse het hiervoor gesorg (Her.: 486).

Die beginjare was besonder veeleisend. 'n Deel van die dosente se pligte, kragtens die beroepsbrief, was medeleraarskap in die plaaslike NG Sendinggemeente, Witsieshoek. A.A. en Deon de Villiers was dus ook beroep na en bevestig as medeleraars van dié gemeente terwyl Ds. Nico Basson ook gehelp het as dosent. Dié reëling is egter na 'n paar jaar eensydig deur Ds. Basson beëindig. Die dosente is losgemaak van die gemeentelike verpligtinge terwyl Ds. Basson se doseerverpligting beëindig is. Daarmee het die dosente hulle direkte verband as ampsdraers met die kerk in wie se diens hulle gestaan het, verloor. Dit was vir A.A. 'n bron van diepe teleurstelling en gemis. Kontak met die kerk op gemeentelike vlak was vir hom deurgaans 'n prioriteit.

Ten einde die dosente se lesingverpligtinge te verlig, is Ds. Gerrie Olivier as deeltydse dosent aangestel. Sy gesondheid het egter toenemend probleme gegee sodat hy nie lank kon help nie. In sy plek is Ds. Andrew Hofmeyr en in Ds. Basson se plek Ds. Hans Scheepers beroep. Laasgenoemde het slegs 'n paar jaar gebly voordat hy oorsee is vir verdere studie. Daarna is Ds. Wouter van Velden beroep.

By die Teologiese Skool het A.A. vir die eerste paar jaar geen administratiewe hulp gehad nie en moes hy alles self doen. Soos wat verder aan sal duidelik word, het sy vrou Elise hierin die leeue-aandeel geneem, sonder enige vergoeding. Benewens A.A. se rektorsverpligtinge en lesingdrag, was hy ook verantwoordelik vir die gereelde kommunikasie met donateurs, belangstellendes en gemeentes asook met oudstudente. Vir eersgenoemde doel het hy 'n gereelde nuusbrief, Fonteinnuus, uitgestuur en vir die oudstudente 'n kwartaalbrief, Sedibeng (By die fontein) (Sesde Jaarverslag, Her.:555).Terugskouend beskryf hy dit as "twintig vol en vrugbare jare" waarin verskeie ideale verwesenlik kon word.

 

8. TELEURSTELLING MET DOKTORALE STUDIE

Nadat A.A. en sy gesin reeds gevestig was op Witsieshoek, het hy die teleurstellende nuus ontvang dat sy promotor, Prof. J.H. Bavinck, afgetree het. Reëlings is getref dat A.A. sy tesiswerk onder die opvolger, Dr. H. Bergema, kon voortsit. Dié studie-verbintenis het egter 'n vreemde en ongelukkige verloop gehad. A.A. kry geen terugvoering op sy briewe en eerste gedeeltes van sy tesis wat na Nederland gepos word nie. Deur middel van 'n vriend is by Dr. Bergema navraag gedoen hieroor. Dit blyk dat Dr. Bergema ewe ontsteld was omdat A.A. nie reageer op sy briewe en aanbevelings nie. Dringende navraag by die plaaslike poskantoor en hulle ondersoek het aan die lig gebring dat die posbesteller oor 'n periode van byna 'n jaar die ontvange posstukke gaan begrawe het. Daarmee is baie geld en kosbare tyd in die water gegooi. Sy poging om met die navorsing voort te gaan, het hiermee 'n ernstige terugslag gekry. Die wenslikheid om aan 'n oorsese instelling met die studie voort te gaan, moes ernstig heroorweeg word. Faktore soos afstand en koste het A.A. laat besluit om liewer aan 'n plaaslike universiteit in te skryf.

Hy het die Universiteit van Stellenbosch in die verband genader.'n Vreemde reaksie wat selfs aan die ironiese grens, het hom hier ingewag. Ten spyte van sy teologiese opleiding aan die Sendinginstituut, sy B.A.-graad aan die Hugenote Universiteitskollege, sy Meestersgraad (cum laude) aan die Kweekskool te Stellenbosch sowel as sy doktorale eksamen aan die Vrye Universiteit in Nederland en die feit dat hy by die VU ingeskryf en besig was met die skryf van die doktorale tesis, kon hy nie toelating kry tot die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch nie. Van hom is verwag om eers Grieks II en Hebreeus II te doen en dít vir 'n tesis oor die Sendinggeskiedenis van die NG Kerk in die OVS! Daar was geen ander alternatief nie as om die vereiste na te kom. Dit sou hom 'n paar jaar besig hou aangesien hy dié studies deur Unisa moes inpas in 'n baie vol program.

 

9. WITSIESHOEK: 'N VERNUWINGSGELEENTHEI

As rektor het A.A. die geleentheid gebruik om uit die staanspoor 'n aantal wysigings aan te bring aan die bestaande Stofberg-model.

Eerstens is groter erkenning aan die dosentevergadering gegee en is hulle besluite as bindend beskou. By Stofberg was dit slegs adviserend.

Verder is daarna gestrewe om 'n eweredige lesingdrag tussen die dosente te bewerk, waarin A.A. sy volle deel geneem het bó en behalwe sy werk as rektor. Ten einde die deeltydse lesinghulp van Ds. Olivier te akkommodeer, het A.A. die dosering van Kerk-en Sendinggeskiedenis aan hom opgedra en self oorgeskuif na die Nuwe Testament. Hy was voortaan verantwoordelik vir Nuwe Testament, Homiletiek en Liturgiek.

Die rooster is herontwerp sodat sake wat van teologiese en kerklike belang is, elke weeksdag aan die beurt kon kom. Maandae: Studente en dosente luister saam na 'n Bybelboodskap. Dinsdae: Inligting oor Kerklike gebeure word meegedeel. Woensdae: Tyd word gewy aan gebed en voorbidding. Donderdae: Bybelstudie in groepe.Vrydae:Die hele Teologiese Skool woon die gemeentelike biduur by.

Studente se inspraak en verantwoordelikheid is verhoog met die instelling van 'n studenteraad, 'n koshuisraad en 'n dorpsraad. Die rantsoen-stelsel waardeur basiese items aan studente voorsien is, is vervang met die toewysing van 'n maandelikse bedrag wat deur elke student na eie keuse aangewend kon word (Her.:348-9).

'n Ideaal wat A.A. reeds op Stofberg gehad het maar min entoesiasme voor kon vind, was die uitbreiding van die personeel met twee dosente uit die geledere van die NG Kerk in Afrika. Dié ideaal kon verwesenlik word toe die sinode van die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat (1964) en 'n paar jaar later die Phororosinode (Tswana) aangebied het om elkeen 'n pos van 'n dosent finansieel te ondersteun. Twee leraars is in die poste beroep, te wete Ds. E.S. Nchephe in 1974 en Ds. J.M. May in 1977. Wat dié gebeurtenis besonders gemaak het, was die feit dat albei oudstudente van A.A. te Stofberg was. In die geval van Prof. John May het die verhaal selfs 'n aangrypende voorgeskiedenis. In sy lewensbeskrywing, Diobe wa Thaba ("Diobe van die berg") vertel Prof. May dat hy eenkeer by 'n vriend 'n boekie, Die oë van die Here, as geskenk gekry het. Dit was in Sotho geskryf deur A.A. Makhethe. Die lees daarvan het hom diep getref sodat hy besluit het om sy lewe aan die Here te gee en om predikant te word. Groot was sy verrassing om te ontdek dat genoemde "Makhethe" niemand minder as A.A.self was nie. "Makhethe"was sy bynaam onder die studente.Die woord beteken "netjies." Hy het die naam gekry omdat hy knaend aangedring het op netheid in persoon, klaswerk, drag en gedrag (Her.:357).

'n Besondere hoogtepunt was die bou van die saal en biblioteek. Met die inwyding op 26 November 1975 was die volledige bedrag betaal met nog 'n batige saldo in die bank.

Nog 'n lang gekoesterde ideaal uit sy Stofbergdae wat verwesenlik kon word, was die bereiking van 'n ooreenkoms met die Universiteit van Zoeloeland (Her.:489). Aanvanklik is verskeie pogings aangewend om akkreditasie as 'n verwyderde kampus by die Universiteit van die Noorde te kry. Die pogings het egter op niks uitgeloop nie en was 'n bron van groot teleurstelling (Her.:489). Met die hulp van Prof. Eddie Brown van die Universiteit van Zoeloeland is 'n bevredigende werksooreenkoms gesluit en die eerste twee studente het die graad Baccalareus Theologiae in 1979 aan die UZ ontvang.

 

10. OPTREDES NA BUITE

Neem 'n mens A.A. se dubbele werklading as dosent en rektor in ag, moet jy aanvaar dat hy 'n besondere werksvermoë gehad het om aan soveel dinge na buite ook deel te neem. Die volgende, nie in kronologiese volgorde, word net kortliks genoem.

Alhoewel A.A. geen verwysing daarna maak nie, voltooi hy in 1969 sy doktorale proefskrif onder leiding van Prof. Dr. W.J. van der Merwe van Stellenbosch. Die onderwerp van die lywige 593 bladsye proefskrif is: Die Nederduitse Gereformeerde Sending in die Oranje Vrystaat (1842-1910). Die doktorsgraad word op 6 Maart 1970 aan hom toegeken.

Hy dien van 1961 tot 1985 op die SAUK se Adviesraad vir Radio en TV Godsdiensuitsendings in Afrikatale. Vir die vergaderings reis hy vier keer per jaar na Johannesburg (Her.:508).

A.A. dien sedert die stigting van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Vrystaat op hulle Eksamenkommissie. Hy was verantwoordelik vir die eksaminering van talle skripsies asook van die doktorale tesis van Dr. Danie Bantom in Praktiese Teologie.

Hy beding by die SAUK 'n TV-mas vir Witsieshoek, opgerig 1974 (Her.:533).

Deur sy toedoen open Volkskas 'n tak aldaar.

Mnr. T.K. Mopeli, hoofminister van die Qwa-Qwa regering, en sy kabinet word genooi om die Teologiese Skool te besoek. A.A. suggereer die moontlikheid van 'n eie universiteit vir Witsieshoek met die Teologiese Skool as Fakulteit Teologie. Die gedagte word met entoesiasme opgevolg. A.A. word benoem op 'n regeringskommissie om met die SA regering en universiteite te onderhandel. Die resultaat is dat 'n tak van die Universiteit van die Noorde daar tot stand kom met die Teologiese Skool as Fakulteit Teologie wat vanaf 1981 klasse aangebied het. A.A., toe reeds afgetree, was benoem om vir 'n tyd in die Universiteitsraad te dien.

Uit hoofde van sy rektorskap kon hy sinodesittings met adviserende stem bywoon. Sy laaste sinodevergadering was die te Umgababa in 1978. Veral drie sake het vir hom in die vergadering uitgestaan. Eerstens het van die verwagte breukspul tussen die NGK in Afrika en die NG Kerk niks gekom nie. Tweedens is die radikale voorstelle van die sinode te Worcester, almal met 'n twee-derde meerderheid verwerp. Derdens is Ds. E.M. Mataboge se sterk oproep dat "nagvergaderings moet end kry en dat alle sake in die Sinode bespreek moet word" met 'n groot meerderheid stemme goedgekeur (Her.:562). Tydens dié vergadering is die Kerkboek, die Buka ya Kereke, ook amptelik in gebruik geneem.

In 1977 verskyn daar van hom 'n artikel in Die Kerkbode onder die titel "Alles is nie pluis met ons prediking" waarin hy 'n aantal preke wat in genoemde blad verskyn het, ontleed. Sy slotsom was dat die onderhawige preke nie voldoen het aan die basiese eksegetiese en hermeneutiese beginsels nie. Die Kerkbode plaas die artikel egter met 'n klein redaksionele wysiging in die opskrif om te lees: "Alles is nie pluis met NG prediking." Hierdie "klein wysiging" sorg vir 'n heftige reaksie. In plaas daarvan dat dit predikers tot selfondersoek lei, word sy verwaandheid om ander se preke te kritiseer, aangeval. Een van die felste kritici was Dr. J.D. Vorster. Daar was wel één positiewe reaksie! Dié dominee het erken dat die kritiek tereg van toepassing was op sy betrokke preek.

 

11. GESINS- EN GEMEENSKAPSMENS

As familievaste persoon onderhou A.A. 'n weeklikse korrespondensie met sy ouers en elkeen van sy vier kinders. Hierdie persoonlike korrespondensie reflekteer deurlopend kerklike en landsake. Kort uittreksels uit gestuurde sowel as ontvange briewe vorm 'n waardevolle deel van sy Herinneringe. Dié deel beslaan ongeveer 252 bladsye.

In die gemeenskap te Witsieshoek het hy ywerig meegedoen aan kulturele en sosiale bedrywighede. Hy was lief vir musiek en sang, toneel en debat. Sy blymoedige geaardheid en fyn humorsin het hom in alle gemeenskappe 'n geliefde persoon gemaak. In sy geselskap is hard en lekker gelag!

 

12. UITTREDE AS REKTOR

Aangesien A.A. sedert 1960 elke keer herkies is as Rektor vir termyne van vyf jaar, het hy in 1979 die wens uitgespreek om vir die oorblywende jare van sy dienstermyn - hy was toe 62 jaar - rustiger te kon werk. Prof. Deon de Villiers is as rektor aangewys.Van rustiger leef en werk het egter niks gekom nie. A.A. is naamlik deur die Bybelgenootskap van SA en die Sinodale Sendingkommisie van die NG Kerk in die Oranje Vrystaat gevra om met ingang 1980 oor te neem as voltydse "Projekkoördineerder van die Vertaling van die Bybel in Suid-Sotho." Sy broer, Dr. B.J. Odendaal van Bloemfontein, wat die eerste projekkoördineerder was, het onverwags versoek om aan die einde van 1979 uit diens te tree.

Hierdie nuwe wending het A.A. se planne ingrypend verander. Hy het pas, op uitnodiging, aansoek gedoen vir die pos van Professor in Nuwe Testament aan die Universiteit van Zoeloeland. Dié aansoek moes haastig teruggetrek word. Die aanvaarding van die Bybelgenootskappos, het vir A.A. die einde van twee belangrike verbintenisse beteken. Dit was naamlik die beëindiging van sy bediening van 41 jaar en ses maande in die NGK in Afrika. Tweedens was dit die afsluiting van 32 jaar gewy aan die teologiese opleiding van leraars en evangeliste.

 

13. SLUITINGSREDE - OOK AFSKEIDSREDE

Al dié nuwe ontwikkelinge het meegebring dat A.A. se sluitingsrede as rektor van die Teologiese Skool aan die einde van 1979 tegelyk sy afskeidsrede geword het. In hierdie rede getitel "Twintig jaar Teologiese Opleiding tot eer van God" (Her.:574-593) het hy 'n waardevolle oorsig gegee oor die vestiging, uitbouing, werksaamhede en sake verwant aan die Teologiese Skool. 'n Verkorte weergawe het in Die Sendingblad van Augustus 1980 verskyn. Die grootste deel van sake in dié verslag is reeds in die voorafgaande afdeling aangespreek.

Aangesien die Odendaals die huis moes ontruim, het dit ook afskeid beteken van Witsieshoek met die asemrowende natuurskoon, van die studente en kollegas sowel as van die breër geloofsgemeenskap met wie hy en sy gesin oor twintig jaar heg verbind geraak het.

 

14. LEWE EN WERK OP HARRISMITH 1980-2004

Die egpaar het 'n funksionele huis in Harrismith bekom en hulleself daar so goed as moontlik ingerig vir die gewigtige taak van die Bybelvertaling in Suid-Sotho. Die opset te Harrismith was vir hulle gelukkig nie vreemd nie omdat hulle dikwels vir gewone en by geleentheid kerklike sake daarheen moes gaan.

 

15. PROJEK: BYBELVERTALING IN SUID-SOTHO

Die feit dat A.A. gevra is en ingewillig het om die Projekkoördineerder van die vertaling van die Bybel in Suid-Sotho te word, was in verskeie opsigte merkwaardig. Eerstens het dit beteken dat twee broers gekies is om agtereenvolgens hierdie diens te lewer. Hoe besonders dit was, is treffend uitgelig in 'n kort berig deur Dr. J.M. Cronje in Die Kerkbode van 28 Mei 1970 onder die opskrif "Twee begenadigde broers". Hy skryf: Altwee het op die plaas Doornhoek naby Soekmekaar opgegroei. Albei het ter wille van hulle gemeentelike werk Suid-Sotho by moedertaalsprekers geleer en mettertyd goed geken. Albei was redakteurs van hulle onderskeie kerke se amptelike kerkblad en ná die samesmelting van die kerkblaaie, mede-redakteurs van die verenigde kerkblad. Beide broers het verskeie sleutelrolle in die kerklike lewe vervul. By die voltooiing van die vertalingsprojek skryf Ouboet (B.J.) aan A.A.:

Wat 'n groot genade van Bo!! Dit is net 'n wonderwerk van die Here dat Hy die twee kaalvoet seuntjies van Doornhoek geroep het vir hierdie wonderlike werk en dat ons altwee dit kon belewe om die afhandeling daarvan te sien.3

15.1 Beplanning van 'n eie werksmetode

Ruimte ontbreek om hierdie belangrike werksaamhede in meer besonderhede te bespreek. Dit was die Projekkoördineerder se taak om die projekprogram te bepaal. Die volledige proses sou in 13 stappe verloop waarin vier vaste kommissies (redaksie-, hersienings-, breë hersienings- en eindredaksie) asook 'n paneel van 50 konsultante verskillende fases moes hanteer. Volgens Eugene Nida van die United Bible Society, behels dié afrondingswerk die oorblywende 40% van die totale projek.

'n Belangrike verandering wat A.A. in die werkwyse aangebring het, was om die eerste twee stappe in die vertalingsproses volledig aan die vier Sothomoedertaalsprekers op te dra. Daarmee het hy voldoen aan die belangrike sendingkundige en hedendaagse Bybelvertalingsbeginsel dat 'n vertaling van die Bybel nie aan 'n taalgemeenskap gegee moet word deur persone van buite nie, maar deur persone uit die taalgemeenskap self gedoen moet word. Dit moet van binne-uit groei (Her.:878). Hy getuig dan ook meermale van die kundigheid, professionaliteit, vriendelikheid en toewyding van die vier persone, te wete Mnr. B.M. Khaketla namens die Anglikaanse Kerk (letterkundige, skrywer, digter, komponis, en uitmuntende kenner van Sotho); Mnr. T.M. Thakgodi namens die Lesotho Evangelical Church (Franse Sending) (onderwyser en kenner van Sotho en Engels); Biskop Dr. I.M. Phakoe namens die Rooms-Katolieke Kerk (kenner van Grieks, Hebreeus, Latyn, Frans, Duits, Italiaans en Engels) en Prop. M.J. Mopeli (B.A., B.D.) van die NG Kerk in Afrika (kenner van Grieks, Hebreeus, Afrikaans en Engels).

Toe A.A. by B.J. as koördineerder oorgeneem het, was die vertaling van die hele Nuwe Testament en die Ou Testament tot en met Kronieke voltooi. Onder A.A. se leiding is die res in net meer as vyf jaar voltooi. Benewens die koördinering en deurwerk van elke stap, het die A.A. ook 'n hele lys eie take gehad wat tussendeur verrig moes word. Dit het onder andere die volgende behels: 1) Bepaling van die skryfwyse van plek- en eiename; 2) Die vertaling van plant- en dierename; 3) Beskrywing en vertaling van musiekinstrumente wat in die Bybel voorkom; 4) Die opstel en vertaling van die verklarende woordelys; 5) Kontrolering van alle Ou-Testamentiese aanhalings in die Nuwe Testament; 6) Opstel van lys van kaarte en vertaling van inligting daarop; 7) Vertaling van name van edel- en half-edelgesteentes. Die taaleie van Sotho het vereis dat die onbekende "v" met 'n "f" (bv. "Efa", "Dafida") vervang word en dat 'n vokaal tussen twee konsonante ingevoeg word. Nadat hierdie besluite geneem is, het A.A. al die name, waarvan daar meer as 4000 is, nagegaan en met die hand die veranderinge aangebring. Die Bybelgenootskap het nie die gebruik van rekenaars toegelaat nie! Gedurende die afhandeling van die finale redaksionele fase het Mnr. Thakgodi A.A. 'n regte "mokgerehlanyi" genoem, dit is iemand wat 'n wa oor 'n slegte pad dryf dat dit so hop-hop, dit is, so "kgerekgere" maak! (Her.:891)

A.A. se eggenote, Elise, is aangestel as tikster. Sy het stappe twee en vyf gedoen en ten slotte die hele Bybel in die ortografie van die Republiek van SA oorgetik. Die vertaling is in die Lesotho-ortografie gedoen. Elise is dikwels geprys vir haar pynlik korrekte werk. Sy is onverwags op 3 Oktober 1987 oorlede sonder om die ingebruikneming van die eindproduk te beleef.Wel was die getikte manuskrip wat ten grondslag van die gedrukte Bybel in Suid-Sotho gelê het, 'n sprekende monument van die talent en toewyding van Elise Odendaal (geb. Palm).

15.2 Ingebruikneming van nuwe Suid-Sotho Bybel

Die nuwe Bybel in Suid-Sotho is by twee spoggeleenthede ingebruik geneem. Die eerste was te Maseru in Lesotho op 15 Oktober 1989 waar die koningin van die Basothovolk self teenwoordig was. Die tweede geleentheid was te Bloemfontein op 12 November 1989. In sy Herinneringe het A.A. volledig oor elkeen van die ingebruiknemingsplegtighede geskryf met afdrukke van foto's, programme, sy preek en ander toesprake (Her.: 899-922). A.A. se tweede huweliksmaat, Miemie Benecke, met wie hy intussen getroud is, kon hom na beide hierdie hoogtepunte vergesel.

 

16. KERKLIKE BETROKKENHEID TE HARRISMITH

A.A. is kort na hulle aankoms op Harrismith by die NG Gemeente ingeskakel as ouderling en het in dié hoedanigheid die jaarlikse ringsittings bygewoon. In 1983 is hy genader om as "hulpleraar" saam met die twee leraars te dien. Hy het eers drie en later ses wyke as sy verantwoordelikheid gehad sowel as drie preekbeurte per kwartaal. Hy is ook elke keer gekies om die vierjaarlikse sinodevergadering by te woon. Hy is by elk van die geleenthede aangewys as lid van die Sinodale Kommisie. By drie geleenthede is hy aangewys as afgevaardigde na die Algemene Sinodevergadering van die NG Kerk in SA, te wete dié te Kaapstad (1986), Pretoria (1994), Pretoria (1998). Hy het besondere waardering vir die kollegialiteit van die plaaslike leraars gehad.

Hy kon aan die plaaslike gemeente se werksaamhede deelneem sonder inbreuk op die Bybelvertaling waaraan hy daagliks van 08h00 tot 17h00 aandag gegee het. Huisbesoek is beperk tot een aand per week met drie besoekpunte per keer. Hy het die gemeentelike werk baie geniet. Daar is ook allerweë met lof gepraat van sy werk in die wyke asook oor sy boodskappe.

Soos vroeër reeds genoem, was die prediking vir A.A. altyd 'n wonderlike voorreg. "Dit klink miskien snaaks om te sê dat ek dit geniet het - vir ander mag dit 'n las wees. As ek dit sê, beteken dit nie dat dit vir my maklik was of dat ek selfvoldaan daaroor voel nie. Inteendeel! Preekmaak bly (nou éérs) harde werk, maar dis lekker werk," skryf hy (Her.:930-1). Dit sou egter juis in verband met die prediking wees dat A.A. een van die veeleisendste versoeke van sy lewe ontvang het.

Ds. Daniël Lekota van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie het hom in 1992 geskakel en gevra of hy nie vir die Sotho-sender vir elk van die 52 Sondae sowel as die twee kerklike feesdae, GoeieVrydag en Kersdag, 'n boodskap wil voorberei nie.Hieroor skryf A.A.:"Dit was nogal 'n hele taak om binne die bestek van 'n paar weke 54 preke, van vier A4 bladsye elk (handgeskrewe) gereed te kry, want hulle moes almal tegelyk ingedien word." By die aflewering daarvan is hy versoek om dieselfde te doen vir die volgende jaar (Her.:932). Ds Lekota het hom onder meer ook meegedeel dat die Sondagoggend-uitsending van die Christelike boodskap die populêrste program op die Sotho-sender was en dat 'n gemiddeld van 1,1 tot 1,3 miljoen Sothosprekers daarna geluister het. A.A. maak die sydelingse opmerking dat dit die "grootste gemeente" was waarvoor hy nog opgetree het.

A.A. was bevoorreg om vir 64 jaar te kon preek. Enkele van sy preke asook preekreekse by spesiale geleenthede soos Pinkster het in druk verskyn. Sy laaste taak in die week waarin hy siek geword het en na die hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is, was om 'n boodskap voor te berei vir sy beurt by die aftree-oord. Dit was hom egter nie beskore om dit self te lewer nie. Die preek is in die Harrismith Chronicle gepubliseer. Sy hartewens om tot aan die einde van sy lewe,'n draer van die evangelie te wees, is vervul.

 

17. PRODUKTIEF IN EIE TAAL

A.A. was lief vir sy moedertaal Afrikaans en het dit geniet om daarin te preek en te skryf. Hy besing die taal in sy briewe aan familie en vriende. In 1959 neem hy deel aan 'n wedstryd wat deur die NG Kerk Uitgewers uitgeskryf is vir 'n jeugroman. Sy Man van blydskap wen die eerste prys. Dit is egter veral sedert 1980 dat hy 'n konstante reeks bydraes veral op die gebied van geestelike literatuur in Afrikaans lewer. Ruimte ontbreek om hieraan reg te laat geskied. Dit word in elk geval volledig in die bibliografie weergegee. Die lys dek sowel akademiese as meer populêre bydraes. A.A. het oor die gawe beskik om in kort verstaanbare hoofstukkies diepsinnige leerstukke so te verduidelik dat mense dit maklik kon verstaan.

 

18. 'N ONTWRIGTENDE ONDERVINDING

Terwyl A.A. met die Bybelvertaling besig was, het Prof. Deon de Villiers hom gevra om tydens sy studieverlof met die doseer van een van die vakke te help. A.A. moes daarvoor na Witsieshoek reis en een nag daar oorbly om die lesings oor twee dae aan te bied. Tot A.A. se verbasing was die houding van die studente afsydig en krities. Groot was sy verleentheid toe hulle hom versoek om die lesings nie in Sotho nie, maar wel in Engels aan te bied. Skielik was hy gekonfronteer met die vraag na die relevansie van sy volgehoue beklemtoning van die moedertaal in alle fasette van sy gemeentelike en teologiese werk. Was dit ook 'n streep deur die nuwe vertaling van die Bybel in Suid-Sotho? Vir die eerste keer in sy lewe was A.A. diep ontwrig en onseker oor hoe hy dié verwikkeling moes hanteer.

'n Tweede hou in sy wind was 'n studentebetoging aan die plaaslike Universiteit te Phuthaditjhaba teen die bestaan van 'n Fakulteit Teologie van die NG Kerke aan die inrigting. Hulle het daarop aangedring dat die fakulteit gesluit en die betrokke kerk van die Universiteitskampus moet onttrek. Dit wat vir hom eens 'n hoogtepunt was, is in die stormwind van "struggle"-politiek omgebuig tot 'n laagtepunt.

 

19. OUDSTUDENTE GROET

Ná die voltooiing van die Bybelvertaling het sy oud-studente op 21 Augustus 1990 te Wesselsbron vir hom 'n afskeidsfunksie gereël. By die geleentheid is 'n skildery en adres aan hom oorhandig. Agter op die skildery was 'n inskripsie (in Suid-Sotho) met onder meer die volgende woorde:

Met hierdie geskenk wil al u oudstudente van die Teologiese Skool te Witsieshoek aan u hulde bring en dank betuig vir alles wat u vir ons beteken het as studente en vandag nog as leraars en evangeliste.

U het 'n onuitwisbare indruk op elkeen van ons se lewens en bediening gelaat. Nie net deur die inhoud van u onderrig nie, maar ook deur u persoon en lewe. Om aan u voete te kon sit, was 'n voorreg.

In die adres word onder andere gesê:

Toe u in 1947 begin het om bedienaars van die Woord op te lei, het u nie geweet dat toe u in 1979 die ploeg neergesit het, u reeds meer as 500 van hulle, wat nog steeds op die land vrug dra, sou geplant het nie ... Vandag kom hulle byeen en sê: Kyk Banna (Kyk "Manne" - A.A. se aanspreekvorm vir hulle), A.A. o rotse meja (letterlik "A.A. het die toue [tuig] uitgetrek") ... Kyk, die manne het vandag saamgekom en hulle sê: Rus in vrede, geëerde saaier (Jes. 55:11).

 

20. BEGRAFNIS

Op 29 April 2004 is aan Andries Odendaal se laaste wens voldoen: "Begrawe my in die goedkoopste kis wat beskikbaar is." Onder blyke van groot belang stelling en deelname uit die gemeenskap en veral van sy oudstudente, is die stoflike oorskot in die begraafplaas van Harrismith ter ruste gelê. Aan die teen woordiges is verduidelik dat die greinhoutkis sonder enige beslag en met tou lusse vir dra, sy wens gerespekteer het. Verskillende persone het met diepe eerbied en dankbaarheid na hom verwys as "waarlik 'n man van God."

 

21. SENDINGKUNDIGE EVALUERING

• Die verhaal van die lewe en werk van Andries Albertus Odendaal snr. verteenwoordig 'n waardevolle deursnit van omstandighede en gebeure in sowel die gewone as die kerklike lewe en meer spesifiek soos dit die NG Sendingkerke geraak het. In A.A. se geval was daar deurgaans 'n dialektiese verhouding met sy leefwêreld. Enersyds het hy kreatief daarop ingewerk en andersyds erken hy dikwels dat sekere ervarings sy lewensloop bepalend beïnvloed het. Dit bevestig die aangehaalde gesegde van Kane dat 'n ware sendeling nie gebore word nie, maar in 'n lang en moeilike proses gevorm word. Neem 'n mens die omvangryke taakdrag in ag wat A.A. in sy dienstyd van 65 jaar voltooi het, is 'n kartering van hierdie wederkerige dinamiek byna onbegonne. Wat alles soveel merkwaardiger maak, is dat hy kon doen sonder hulpmiddele soos die rekenaar, selfoon en ander spoeddienste. Min mense het besef dat hy al die werk met die gebruik van slegs een oog gedoen het.

Sendeling as leerling van Christus: Twee uitstaande kenmerke van A.A. se sendelingskap was (a) sy ondubbelsinnige navolging van Jesus Christus en (b) sy beskeie bereidheid om van ander te leer.

Sendelingskap het vir hom volgelingskap van Christus beteken. Sy sendelingskap was gefundeer in sy Christenskap. Met die jare het die besef selfs duideliker kontoere aangeneem in alles wat hy gedoen het. Sy grootste vreugde was om Christus te verkondig. Dit was die hooffokus van sy lewe.

Die tweede kenmerk van A.A. se sendelingskap was sy bereidheid om van ander te leer. Dié besef loop soos 'n goue draad deur sy optredes. Daarom kon hy met dankbaarheid die lesse aanteken wat hy by sy ouers, sy drie Sedokwa-sprekende speelmaats, sy onderwysers, dosente, sending kollegas, evangelis-medewerkers, gemeentelede, studente, vakgenote, gesinslede, familie en vriende geleer het.

Optrede in 'n verwikkelde en uitdagende konteks: Die gemeentes waarin A.A. as jong sendeling in Johannesburg en op die Rand begin werk het, het hom gekonfronteer met situasies en uitdagings waarvoor hy beslis nie aan die Teologiese Skool te Wellington voorberei kon word nie. Onbuigsame politieke en ekonomiese faktore het hierdie intrekkende mensemassa omskep in 'n smeulende kookpot. Terwyl baie mense in magtelose armoede verval het, het ander steeds ryker geword. Skerp verskille het die gemeenskap verdeel in stande en botsende belangegroepe. Rondom ras en klas het sensitiewe verdelingslyne ontstaan wat die samelewing tot in sy hart vermink het. Dit het die posisie van sendelinge in die algemeen en in besonder vanuit die wit samelewing ernstig geproblematiseer. Beweging oor die swart-wit kleurskeidslyn het met diepliggende agterdog, afkeer en vyandigheid te doen gekry. Hoe problematies dié situasie vir die kerke aan beide kante geraak het, is in verskeie studies aangedui.4 Vir A.A. as brugbouer was die wyerwordende kloof tussen swart en wit gemeenskappe 'n bron van diepe kommer.5 Beide magsblokke het toenemend van Christene verwag om hulle met die oplaaiende emosies rondom groepsdoelwitte te vereenselwig.Vir baie mense het dit 'n óf - óf keuse geword. A.A. daarenteen was lojaal teenoor swart en wit. Hy het dan ook nêrens vir wit teen swart of swart teen wit gekies nie. Sy kortstondige betrokkenheid by die Ossewabrandwag en latere lidmaatskap van die Afrikaner Broederbond was gerig op die Afrikaners se stryd teen Engelse oorheersing en die herstel van die Afrikaner se eie identiteit en sy gelyke geleentheid op elke vlak van die samelewing.6 Die problematiese is dat A.A. in hierdie geval die lyn van kritiek nie deurgetrek het na die rol van die AB in die vormgewing van die land se politieke beleid wat juis ten grondslag was van die oplaaiende opstand onder die swart mense. Selfs toe die Groepsgebiedewet die verskuiwing van die Teologiese Skool geëis het, het A.A. geen kritiek teen die wet uitgespreek nie.Hy het net die gevolge beween.Wat hy dus gedink het of moontlik op ander plekke gesê het, bly sy geheim.

Teenoor die swye staan sy lewe van diens in die swart samelewing en sy herhaalde keuses om juis daar te wil werk en nêrens elders nie. In sy hele lewensloop was daar geen sweem van rassisme of 'n afkeer of verwerping van swart mense nie. Hy het hulle onvoorwaardelik aanvaar en lief gehad.

Sy betrokkenheid in die gemeentelike en breër kerklike werk in sowel die swart as die wit gemeenskappe het aan hom grondvlakkontak en toegang gegee. Die twee persone wat 'n sleutelrol in die afbreek van die agterdog aan beide kante gespeel het, was sy eerste begeleiers, te wete evangelis Obed Lehoede en Ds. Coenie Mouton. Danksy hulle kon A.A. uit die "drumpelposisie" van liminaliteit tree as "binne-genooide" in elk van die gemeenskappe. Daarsonder bly 'n sendeling 'n betreder en dus onder verdenking.7 A.A. moes baie hard werk om hierdie vertrouensverhouding aan beide kante te vestig veral omdat hy 'n brug wou wees wat die twee groepe na mekaar kon laat beweeg.

Kerklike fokuspunte: Waarom het dit vir A.A. as gestuurde (sendeling) gegaan? Wat het hy as doel vir sy bediening gesien? Uit die oorsig oor sy lewe en werk, kan die volgende uitgelig word.

* Die bediening van die Woord : Dié enkellynige bewoording op die Akte van Toelating omlyn vir A.A. die kerntaak van die gestuurde. Dit moet prioriteit geniet in die werksprogram en bied die basis vir prediking, pastoraat, kategese en sang. A.A. het hieraan uitvoering gegee deur die Woord aan "heidene" en veral aan gelowiges te bedien. Hy het 'n passie vir die prediking gehad.

* Die organiseer en opbou van die gemeente : By elke geleentheid waar A.A. uit 'n gemeente vertrek het, is spesiaal melding gemaak van die uitnemende wyse waarop die gemeente binne 'n kort tyd tot 'n goed funksionerende eenheid georganiseer was. Daarsonder val alle opbouprogramme plat. A.A. het geglo dat persoonlik kontak met lidmate gemaak moes word. Hy het ernstig werk van huisbesoek gemaak. Die opbou van gelowiges was vir hom belangrik omdat hy hulle as 'n verlengstuk van sy roeping beskou het. Hulle was die draers en waarmakers van die Woord. In elkeen van A.A. se gemeentes het die evangeliste 'n belangrike rol vervul.

* Die gebruik van die moedertaal was vir A.A. onontbeerlik . Dit was die sleutel na mense se harte. Geloofstaal - so het hy geglo - is hartstaal en lidmate moet in hulle eie taal kan kommunikeer en bedien word.

* A.A. was 'n onvermoeide yweraar vir kerkeenheid . Afsonderlike kerke vir verskillende taal- en kultuurgroepe was vir hom nie 'n einddoel nie. Eenheid moes voortdurend gesoek word. Die totstandkoming van die een "Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika" was die bereiking van 'n droom. Hy het egter ook steeds groter eenheid gevisualiseer en daaroor bly praat.

* Die evangelie moet geleef word . A.A. het die Woord wat hy bedien het, eerstens in sy eie lewe toegepas. Die oortuigingskrag daarvan het deurgewerk na almal wat hom geken het. Dit is treffend verklank in die huldigingswoorde van sy oudstudente sowel as van die breë gemeenskap wat sy begrafnis bygewoon het:

U het 'n onuitwisbare indruk op elkeen van ons se lewens en bediening gelaat. Nie net deur die inhoud van u onderrig nie, maar ook deur u persoon en lewe. Om aan u voete te kon sit, was 'n voorreg.

 

BIBLIOGRAFIE

Du Plessis, J. 1932. Wie sal gaan? Die sending in teorie en praktyk. Kaapstad: SA Bybelvereniging.         [ Links ]

CrAfford, D. 1982. Aan God die dank. Deel 1. Pretoria: NG Kerkboekhandel.         [ Links ]

Cronje, J.M. 1970. Twee begenadigde broers. Die Kerkbode. 20 Mei 1970, p. 710.         [ Links ]

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Biography of a people. Cape Town: Tafelberg.         [ Links ]

Giliomee, H. & Mbenenga, B. 2007. Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.         [ Links ]

HaasbroeK, D.J.P. 1971. The origin of Apartheid in South Africa. Historia 16(1):9-29.         [ Links ]

Hope, M. & Young, J. 1981. The South African churches in a revolutionary situation. Maryknoll NY: Orbis.         [ Links ]

Jonker, W.D. 1962. Die Sendingbepalinge van die Ned. Gereformeerde Kerk van Transvaal. Potchefstroom: Studie-Groep: Kerk en Wêreld. Studiereeks No. 4. Teologiese Studies oor die Sending van die Kerk in die Wêreld.         [ Links ]

Kane, J.H. 1978. Understanding Christian missions. Grand Rapids: Baker Book House.         [ Links ]

Loots, W.F. 1966. Kruislig oor Afrika. Die verhaal van die ontstaan en werk van die NG Sendingpers in Bloemfontein. Bloemfontein: NGSP.         [ Links ]

Robinson, P.J. 1961. Die verhouding van die NG Kerk tot sy Bantoe Dogterkerk. B.D.-verhandeling 1959, Universiteit van Stellenbosch. Uitgegee deur Sendelingevereniging van die NG Kerk. Bloemfontein: NGSP.         [ Links ]

Robinson, P.J. 1986. Matteus 28:16-20 in die ontwikkelende sendingdenke van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. In: J. du Preez, C.M. Pauw & P.J. Robinson (reds.), Sendinggenade. Feesbundel vir W.J. van der Merwe (Bloemfontein: NGSP), pp. 86-101.         [ Links ]

Robinson, P.J. 1987.The church and its witness. In: H.L.Pretorius, A.A.Odendaal jnr., P.J.Robinson, G. van der Merwe (reds.), Reflecting on mission in the African context (Bloemfontein: Christo Publications), pp. 82-101.         [ Links ]

Roxburgh, A.J. 1997. The missionary congregation, leadership & liminality.Trinity Press International.         [ Links ]

Die Sendelinge Vereniging van die ng Kerk. 1951. Die kweking van selfstandige inheemse kerke. Bloemfontein: NGSP.         [ Links ]

Thielicke, H. 1974. Notwendigkeit und Begrenzung des politischen Auftrags der Kirche. Tübingen: J.C.B. Mohr. SgV 259/260.         [ Links ]

 

ARGIVALE BRONNE

Notules van Sinodes en Sinodale Kommisies van die NG Sendingkerk van Transvaal 1932-1950.         [ Links ]

Notules van die Sinodes en Sinodale Kommissies van die NG Sendingkerk in die OVS 1950-1980.         [ Links ]

Notules van Sentrale Bestuur, Stofberg Teologiese Skole 1950-1980.         [ Links ]

 

WERKE UIT DIE PEN VAN A.A. ODENDAAL

Boeke

1951. Selallo le Kolobetso (Die Nagmaal en Doop). Bloemfontein: NG Sendingpers. (NGSP.)

1952. Die vertaling van die Nuwe Testament in Suid-Sotho met besondere verwysing na die vertaling van die Evangelie van Mattheüs (sic). M. Th.-verhandeling, Univ. Stellenbosch. Ongepubliseer.

s.j. Boprista ba Dumeli (Die priesterskap van die gelowige). Bloemfontein: NGSP.

s.j. Thomo ya Kreste e tsoana lethomo iya Krestu. Bloemfontein: NGSP.

s.j. Tshebeletso ya lapeng (Huisgodsdiens). Bloemfontein: NGSP.

1956. Litaba tsa Kereke ea Ned. Geref. Bloemfontein: NGSP. (Kort geskiedenis van die Ned Geref. Kerke: NGK, NGSK, NGKA.) 'n Resensie hieroor het verskyn in Op die Horison 18(4):39-40 (1956).

1959. Man van blydskap. 'n Christelike jeugroman. Kaapstad: NGKU. (Wenner van die eerste prys in NGK-Uitgewers se Feeswedstryd.) Vertalings hiervan: Mona wa Thabo. In Suid Sotho vertaal deur Mnr. Eddie Molinguane van Qwa Qwa. Ulisa Wenjabulo. In Zoeloe vertaal deur D. Ngconwane, later professor aan Univ. Zoeloeland.

1963. Thuto ea Bokreste (Die Christelike leer). Bloemfontein: NGSP.

s.j. Moleli keng Kerekeng ea NG (Wat is die rol van die Evangelis in die NG Kerk?). Bloemfontein: NGSP. s.j. Sotho-deel van Genade in Oorvloed. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

1970. Die Nederduitse Gereformeerde sending in die Oranje-Vrystaat (1842-1910). D.Th.-proefskrif. Universiteit van Stellenbosch. Ongepubliseer.

1974. Saam met B.J. Odendaal: Dihlolo tsa Kreste ka NGK-OVS. Bloemfontein: NGSP.

1974. Saam met B.J. Odendaal: Triomfantelike handelinge van Jesus Christus in die NGK-OVS. Bloemfontein: NGSP.

1979. Die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Skool Stofberg te Witsieshoek. NGSP.

1978. Phuthullo ya Lengolo la Moapostola Paulosi ho Bafilipi (Verklaring van die Brief van die apostel Paulus aan die Filippense). Bloemfontein: NGSP. Phuthullo ya Bibele (Reeks: Verklaring van die Bybel).

1979. Buka ya Kereke. Vertaling in Suid-Sotho van "Die Kerkboek met belydenisskrifte en liturgiese Formuliere." Bloemfontein: NGSP.

1979. Al die seëninge van die Gees. Besinning oor die Heilige Gees aan die hand van die Efesiërsbrief. Pretoria: NGKB.

1983.Tsâ kua Godimo: Bafilipi.Bloemfontein:NGSP.(Noord-Sotho vertaling van Filippensebrief.)

1991. Betekenis en boodskap van Filippense. Bloemfontein: Pro Christo.

1997. Bergpad deur die Bybel. Wellington: Protea Uitgewers.

2000. Here, ek begeer U meer. Jesus se EK IS - uitsprake. Wellington: Bybelkor.

2002. Niemand soos Hy nie. Bybelse uitsprake oor Jesus Christus. Wellington: Bybelkor.

2005. Luister na die Gees. Die Heilige Gees in die Evangelies en Handelinge. Wellington: Bybelkor. Postuum.

 

Bydraes tot bundels

1951. Die ontwikkeling van die leraarsamp in die Inheemse Kerke. In: Die kweking van selfstandige Inheemse Kerke (Bloemfontein: NG Sendingpers), pp. 19-29 plus besprekingsbylae 29-32. Referaat tydens kongres van die Sendelingevereniging van die NG Kerk op 22-24 Mei 1951 te Wellington.

1959.Die Godsbegrip.In: Die heidendom in die Sendingkerk en die weerlegging daarvan (Bloemfontein: NGSP), pp. 50-54. Kerk en Wêreldreeks, No. 2. Teologiese studies oor die sending van die kerk in die wêreld. Studiegroep Kerk en Wêreld.

1960. Christus sal ons liggame verheerlik. In: A.J. Greyling (red.), Om te lewe - al sterwe jy. Begrafnispreke (Kaapstad: NGKU), pp. 33-36.

1960. Lewe en sterwe tot eer van Christus. In: A.J. Greyling (red.), Om te lewe - al sterwe jy. Begrafnispreke (Kaapstad: NGKU), pp. 37-41.

1961. Medewerker by die hersiene uitgawe van die Southern Sotho - English Dictionary onder redaksie van R.A. Paroz. A.A. Odendaal dra by tot die lys van leenwoorde uit Afrikaans sowel as tot die nuwe teologiese vakterme.

1986. Ds Charles Petrus Theron (1844-1924) - sendingman by uitnemendheid. In: J. du Prees, C.M. Pauw & P.J. Robinson (reds.), Sendinggenade. Sendingwetenskaplike opstelle aangebied aan Prof. W.J. van der Merwe by geleentheid van sy tagtigste verjaardag (Bloemfontein: NG Sendingpers), pp. 58-68.

1993. Handelinge 1:2; Johannes 29:21.In: G.H.van Rooyen (red), Die belange van die stad. Oordenkings en Bybelstudies oor die getuienistaak van die kerk in 'n veranderende Suid-Afrika.

 

Artikels in tydskrifte

1944.Politieke strominge in die Naturellewêreld (sic). Inspan (Mei):7.(Blad van Reddings daad Bond en FAK. Artikel op uitnodiging van die redakteur.)

1946. 'n Herindeling van die Sendingkerke. Op die Horison 8(40):142-148.

1947. Die stadsending. Op die Horison 9(3):102-108. (Oorspronklik gelewer tydens die Sendingfees van die Ringe van Pretoria en Elofsdal op Hemelvaartsdag 15 Mei 1947.)

1949. Die selfstandigwording van ons Sendingkerke. Op die Horison 12(1):5-15.

1952. Die voordele van sendingwerk vir blank en gekleurd. Op die Horison 14(1):24-30. Toespraak by sendingkonferensie te Randfontein op 26 Mei 1951.

1952. Beswaarbrief. A.A. Odendaal, A.S. van Niekerk en A.J. van Wyk maak beswaar teen die redakteur van Op die Horison se hantering van J.C. Hoekendijk se kritiek teen die Suid-Afrikaanse rassebeskouinge. Op die Horison 14(2):76-77.

1954. Die kerk en die taal van sy lidmate. Op die Horison (16:1):29-35.

1956.Teorieë in verband met die ontstaan van 'n Godsgeloof by primitiewe volke. Op die Horison 18(2):18-29. (Referaat gelewer voor die Studiekring van die Stofberggedenkskool [Personeel].)

1956. Verblydende nuwe tendense in ons kerk se sending. Op die Horison 18(3):13-21.

1963. 300 Sendinggemeentes verenig. Die Voorligter (Junie):32.

1963. Sendingkerke verenig. Die Voorligter (Julie):12-13, 30.

1964. Sendingtaak in 'n veranderende wêreld. Die Voorligter (April):23-24.

1965. Getrouemanne bekwaamom ander teleer. Opleiding van leraars vir die Dogterkerke. Die Sendingblad (Desember):25-28. (Teologiese Opleiding van die Stofbergskole.)

1968. Witsieshoek se nuwe 'buitnemers.' Die Sendingblad (April):126-127. (Oor die oor sprong van die naam "Witsieshoek.")

1968. Die Reformatoriese standpunt van Thomas Cranmer. NGTT 9(1):8-28.

1972. 'n Homiletiese ontdekkingstog. NGTT 13(1):29-35. (In dié artikel word gewys op be langrike homiletiese beginsels en stappe in die soektog na geskikte SuidSotho terme.)

1973. The translation of the name of God in Southern Sotho. Missionalia 1(3):138-141.

1977. Alles nie pluis met NG prediking. Die Kerkbode. 25 Mei 1977. In twee aflewerings. (Dié artikel het heelwat reaksie ontlok.)

1980. Twintig jaar Teologiese Opleiding tot eer van God. Die Sendingblad 16:8 (Aug. 1980):278-279. (Verkorte weergawe van rede gelewer by uittrede as dosent en rektor.)

1984. The Holy Spirit as originator of meaningful change in revelation history. Part 1. Testimonium 2(1):1-12.

1985. The Holy Spirit as originator of meaningful change in revelation history. Part 2. Testimonium 3(2).

1960-1979. Gereelde preekstudies, Bybelstudies, boekbesprekings en redaksionele artikels in Kerugma nrs. 1-68. (Kwartaalblad vir leraars in die NG Kerk in Afrika.)

 

Boekbespreking

1948-1958. Verskeie insiggewende boekbesprekings in Op die Horison.

 

Ongepubliseerde manuskrip

1995-98. Herinneringe. 1088 pp. (Hierdie aantekeninge, ingebind in drie ringlêers, is vir die grootste deel handgeskrewe, aangevul met getikte stukke en foto's.)

 

 

Prof. Phil Robinson was dosent in Sendingwetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaap van 1976 tot 1997. Sedert Augustus 2004 is hy navorsingsgenoot in die Departement Sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat. Adres: Posbus 2757, Durbanville, 7551.

 

 

1 Die redakteur (G.B.A. Gerdener) maak op p. 121 melding van die waardevolle bydrae van "een van ons jongste sendelinge." Die redakteur gebruik egter die term "hergroepering" van die Sendingkerke.
2 Gedagtig aan hierdie worsteling, was dit vir skrywer hiervan veelseggend om gedurende 'n onlangse besoek aan 'n gemeente van die Gereformeerde Kerk in SA die volgende formulering te hoor: "... en al die angste van die hel tot die dood gely het."
3 Brief gedateer 7 Julie 1989 en aangehaal in Her.:874.
4 'n Byna onoorsigtelike hoeveelheid literatuur is beskikbaar wat hierdie polarisering in besonderhede beskryf. Die volgende werke bied egter genoegsame stof om 'n goeie begrip van die situasie te vorm: Hope & Young (1981), Giliomee (2003). Vgl. ook Giliomee & Mbenga (2007 - veral hoofstukke 12 en 13).
5 Vgl. sy vroeër genoemde artikel in Inspan.
6 Hierdie betrokkenheid van A.A. was vir hom nie in botsing met sy werk as sendeling nie.
7 Die belangrike studies oor die "drumpel-fase" behoort indringend bestudeer te word deur alle mense wat in kruis-kulturele situasies moet optree. Veral Westerlinge openbaar 'n gebrek aan aanvoeling vir die dikwels tydrowende toelatingsrites. Besonder nuttig is die werk van Roxburgh (1997).