SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.29 issue1 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Acta Theologica

Print version ISSN 1015-8758

Acta theol. vol.29 no.1 Bloemfontein June 2009

 

Dr. Andries Albertus Odendaal SNR., evangeliedraer in 'n multi-dimensionele konteks. 'N kort historiese oorsig en sendingkundige evaluering van sy lewe en werk (deel 1)

 

Dr. Andries Albertus Odendaal SNR., bearer of the gospel in a multi-dimensional context. His life and work a brief historical sketch and missiological assessment (part 1)

 

 

Phil Robinson

 

 


ABSTRACT

The events in Parts 1 and 2 of this article cover the period from July 1917 to April 2004. Part 1 briefly introduces the life and work of a so-called "local missionary" of the Dutch Reformed Church in South Africa.The advantage of such an autobiographical approach is that it unlocks valuable information, which would otherwise be passed unnoticed, leaving an incomplete if not skewed portrayal of some developments in the past. Part 1 discusses the following aspects:The hardships of life on a small farm in South Africa during the 1920s and 1930s; the difficulty in obtaining thorough school education; the demands of training as a DRC missionary; challenges of running a so-called "mission congregation" within the same geographical borders as the sending church or churches; language acquisition in multi-language situations, and the lonely road of improving academic qualifications.


 

 

Every Christian is a witness; but not every Christian is a missionary in the professional sense of the term. Missionaries are made, not born, and as in every worthwhile vocation the making process is long and difficult - J.H. Kane (1978:15).

 

1. INLEIDEND

Ter verduideliking: Tydens die opstel van 'n huldeblyk ná die afsterwe van dr. A.A. Odendaal het dit vir my duidelik geword dat hier 'n ryke bron van inligting in die verskillende dokumente opgesluit lê wat waardevolle perspektiewe bevat op die sendingbeleid en -praktyk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, asook op verskeie ontwikkelinge in die destydse "Nederduitse Gereformeerde Sendingkerke" en die verskillende fases in die proses van kerkvereniging. Na hierdie breë ontwikkelinge word gekyk vanuit die lewe en werk van 'n binnelandse sendeling en dan meer bepaald vanuit sy optekening van hierdie geskiedenis.1 Kennelik het 'n groot verskeidenheid faktore meegewerk in Odendaal se motivering, vorming, toerusting, indiensstelling en betrokkenheid by die konkretisering van die evangelie van Jesus Christus in 'n multi-dimensionele konteks soos Suid-Afrika. Hierdie benadering word gevolg in die hoop dat die verhaallyn iets van die dinamiek van die daaglikse lewe sal kan weergee. Die nadeel van dié metode is dat die interpretasie of verstaan van die gebeure 'n eensydige en subjektiewe karakter mag hê omdat hoofsaaklik uit die hoek van een mens se lewe na die gebeure in 'n verwikkelde wêreld gekyk word. My persoonlike uitgangspunt is egter dat sending meer is as net sekere gestruktureerde kerklike aktiwiteite of beleide. 'n Wesenlike deel van die kommunikasie van die evangelie sentreer juis in die "belewe" en "voor-lewe" van dit wat gepreek word. Hopelik kan hierdie kort oorsig bydra om sommige van die vrae, bedenkinge, kritiek, misvattinge en mites omtrent die "sending" in Suid-Afrika op te klaar.

Andries Albertus Odendaal Snr., in die gewone omgang bekend as "A.A.", het in verskeie opsigte 'n belangrike rol in veral die Ned. Geref. Sendingkerk onder die Sotho-sprekendes vervul. Soos uit die oorsig duidelik sal word, het hy die N.G. Sendingkerke in sowel Transvaal as die Vrystaat met intense belangstelling, kundigheid en toewyding gedien. Van hom kan immers getuig word dat hy met inset van al sy krag en vermoë in diens gestaan het van die gestaltegewing van die evangelie van Jesus Christus op elke terrein waarop hy beweeg het.

Laasgenoemde opmerking beklemtoon in 'n besondere sin die belangrikheid van 'n grondige en doelgerigte vorming en voorbereiding. Daarvoor is egter meer as 'n formeel-gestruktureerde opleidingsprogram - en allermins 'n "kitsoriëntering" - nodig, want dit gaan om meer as intellektuele ontwikkeling en kennis. Dit gaan om meer as net Bybelkennis en 'n spontane getuienis. Dit gaan om 'n vormingsproses van groter omvang en diepte as wat 'n akademiese leerplan kan bybring. Hierdie waarheid word treffend beklemtoon in die Kaneaanhaling bo aan hierdie artikel.

Die geskiedenis van die onderskeie "Nederduitse Gereformeerde Sendingkerke"2 in die Oranje Vrystaat (gestig 1910) en die Transvaal (gestig 1932) kan vir die grootste deel van die 20ste eeu, te wete 1939-2000, nie geskrywe word sonder om kennis te neem van die besondere plek wat "eerwaarde", later "doktor" en "professor" A.A. Odendaal daarin gehad het nie. Dié oorsig kyk dus eers na die vormings- en toerustingsfase wat voorafgegaan het aan die dag toe die een-en-twintigjarige Andries Odendaal op die Randfonteinstasie van die trein afgestap het as voornemende "hulpleraar" van die sendinggemeente "Compounds".

 

2. VORMING EN VOORBEREIDING 1917-1939

2.1 Kinderjare op die plaas 1917-1924

Andries Albertus Odendaal is op 'n ysige wintersoggend, 12 Julie 1917, te Standerton as tweede seun van Wessel en Miemie Odendaal gebore. Die landskap was sprokiesagtig met 'n sneeukleed bedek. Die situasie in die land was egter alles behalwe 'n sprokie, want die gevreesde Groot Griep was besig om dood en verwoesting te saai. Die Odendaal-gesin, wat op die plaas Optima geboer het, het die griep gelukkig vrygespring. Boerderyomstandighede was egter in daardie gebied uiters swak en het die familie gedwing om in 1919 na die plaas Doornhoek, 17 km noord van Soekmekaar, te trek. Hierdie tipiese bosveldplaas was vir die opgroeiende kaalvoet-seun 'n ware paradys. Hier het hy die veld - die verskillende soorte bome, struike, grasse en veldkosse sowel as die ryke verskeidenheid voëls en kleinwild - leer ken.

Belangrike rolspelers in Andries se "veldskoling" was seuns van ouers wat op die plaas gewerk het. Dié drie vriende was bekend as Mabuku, Madua en Kaletjane. Hulle het hom ingewy in die jag van hase met knopkieries asook die rites wat vir suksesvolle jag nagekom moes word. Vir voortgaande sukses in hasejag moet die getrefde haas vinnig oopgesny en die lewer rou geëet word! Spelender- en geselsenderwys het sy drie maats hom ook geleer om "Sedokwa" ('n Noord-Sotho-dialek) vlot te praat - iets wat later in sy lewe besonder waardevol sou blyk te wees. Al kon hy op daardie stadium nie die taal skryf nie, het hy dit so goed verstaan en gepraat dat hy dikwels vir sy pa as tolk opgetree het. Ook sy broer Bernard, agt jaar ouer en reeds op skool, het 'n belangrike rol in sy vorming gespeel. Soos genoemde drie seuns, het Andries ook sekere take op die plaas gehad wat uitgevoer moes word voor daar gespeel of in die veld gejag kon word.

Andries het grootgeword in 'n ontwikkelde gesin. Sy ouers was toegewyde Christene wat op kerklike en kulturele gebied sterk leiding geneem het. Van besondere belang was die lees- en boekklub wat hulle gestig het. Daardeur is boeke en tydskrifte in die gemeenskap gesirkuleer, gelees en bespreek. Daar was ook gereelde Bybelstudie- en gebedsbyeenkomste. Die gesin was egter, soos die meeste ander Afrikaanse gesinne, arm, en die lewe op die plaas was gestroop van luukses soos elektriese beligting, elektriese apparate soos stowe en yskaste, lopende water binnenshuis en spoeltoilette. Water vir huishoudelike gebruik is van 'n put met 'n handpomp verkry, ongeveer 300 meter van die huis.

Boerdery was vanweë wisselvallige klimaatstoestande en die destydse kleinplaas-stelsel, toenemend onvoldoende om bestaansekuriteit te voorsien. Ná aanvanklike suksesvolle mielie-oeste, het tydperke van droogte en allerlei teenspoede aangebreek en het die gesinsinkomste ernstig gekrimp. Die hoofbron van inkomste was later beperk tot die verkoop van room en eiers wat twee keer per week na Soekmekaar-stasie geneem is om weggestuur te word.

2.2 Skooljare 1925-1934

Toe Andries op agtjarige leeftyd (1925) na die skool te Daviesville met sy vier leerkragte is, was hy meer as skoolgereed. Sy moeder wat 'n onderwyseres en belese persoon was, het hom leer lees en skryf. Die gevolg was dat hy Graad 1 en 2 (vroeër Sub A en B) in ses maande voltooi het. Vanweë sy vaardigheid is hy ook van Graad 5 direk na Graad 7 (St. 3 na St. 5) bevorder. Sy ouers was egter nie gelukkig met die gehalte van die skool se werk nie. Aan die ander kant was hulle te arm om hom na die skool op Pietersburg (Polekwane vandag) te stuur waar hy in die koshuis sou moes inwoon. Die oplossing het egter uit 'n ongewone oord gekom. Sy ma se broer, Ds. Albert van Schalkwijk en sy vrou Margie, pastoriepaar te Smithfield (Suid-Vrystaat), het op dié stadium by hulle kom kuier. Hulle bied aan dat Andries by hulle in die pastorie kan kom bly en daar graad 8 tot 12 (St. 6 tot Matriek) voltooi. Van hierdie geleentheid getuig A.A. in sy ongepubliseerde "Herinneringe" (1995-98): "Dit was 'n beskikking van die Here dat ek Smithfield toe moes gaan. Dit het my lewe ingrypend verander" (Her.:56).

Die treinreis van Soekmekaar na Smithfield het drie dae geduur met 'n oorstap op Pretoria én Edenburg in die Vrystaat. Van Edenburg na Smithfield moes die reis voortgesit word per passasiersbus van die SA Spoorweë of 'n privaat oplaai-geleentheid. Gelukkig was die twaalfjarige nie op sy eerste reis alleen nie. Sy broer Bernard was op pad na die Sendinginstituut te Wellington. Hulle kon dus saam reis tot op Edenburg. Die vyf skooljare op Smithfield was volgens sy eie evaluering 'n kosbare vormingstyd. Hy moes hard werk aan al ses vakke (Afrikaans, Duits, Engels, Matesis, Chemie, Geskiedenis), maar het dit geniet.

Behalwe die akademiese sy het die skool ook aandag gegee aan verskeie kulturele en sportbedrywighede. Tydens 'n konferensie van die CSV wat deur lede van die Oxford-beweging gelei was, het verskeie kinders tot bekering gekom. Ook A.A. se lewe is diep geraak deur die boodskappe en soos hy getuig, het dit in hom die opregte begeerte geplant om ander te begelei in hulle soeke na geloofsversekering. 'n Verdere uitvloeisel van dié geestelike gebeurtenis was dat gereelde byeenkomste deur kinders gehou is met besondere aandag aan Bybelstudie, gesprekke oor geestelike sake, gebed, sang en getuienis.

Die jong Andries het egter nog geen duidelikheid oor sy toekomstige beroepslewe gehad nie. Hy het aanvanklik beplan om onderwyser te word. Gedurende sy matriekjaar is 'n beurs vir dié doel, deur bemiddeling van sy oom, Ds. A.A. van Schalkwijk, van die Helpmekaar Studiefonds bekom. Gedurende die Oktober-vakansie het hy vir 'n week by sy broer, toe sendeling van die NG Gemeente Theunissen en leraar van die NG Sendinggemeente aldaar, gaan kuier. Daar het hy kennis gemaak met die verskillende fasette van sy broer se werk, te wete pastoraat, jeugwerk, evangelisering en prediking. Van hierdie besoek getuig hy: "Dié besoek het my hele lewensloop bepaal" (Her.:75a). Dit het vir hom daar duidelik geword dat dít die werk is wat hy wil doen!

Hoewel niemand téén sy keuse vir die sending was nie, het hulle verskil oor die roete daarheen. Sy oupa Van Schalkwijk se keuse was: eers predikantsopleiding aan die Kweekskool te Stellenbosch. Sy oom Albert het gemeen 'n onderwyskursus aan die Normaalkollege te Bloemfontein sou 'n beter toerusting vir die sending wees. Daar was immers reeds die Helpmekaarbeurs! Uiteindelik het sy eie voorkeur die deurslag gegee. Hy gaan direk na die Sendinginstituut te Wellington. Aangesien die jaar byna verby was, moes reëlings haastig getref word. Groot was sy blydskap toe die Sendinginstituut sy aansoek om toelating aanvaar en die Helpmekaar bereid was om hulle beurs van £253 na die nuwe studierigting te verander. Die NG Gemeente op Smithfield het onderneem om hom met £25 per jaar te help.

2.3 Naskoolse opleiding 1935-1938

Pas nadat die goeie nuus van sy toelating tot die Sendinginstituut en die Helpmekaarbeurs hom bereik het, het daar ook 'n brief van ene eerwaarde J.S. Louw namens die Hugenote Universiteitskollege (HUK) te Wellington, hom bereik met die mededeling dat hy 'n verdere £10 per jaar as voorskot sou ontvang om ook sy B.A.-graad aan die Kollege te voltooi. Dit was naamlik moontlik om saam met die teologiese studies aan die Sendinginstituut ook vir die BA-graad in te skryf aan die Hugenote Universiteitskollege.4

2.4 Wellington

Die treinreis van Soekmekaar tot in Wellington het ses dae geneem. Op 14 Februarie 1935 om ongeveer 14h00 het A.A. op Wellington-stasie aangekom. Dit was "'n snikhete dag ... Die teer op die strate het gesmelt en dit het gelyk of die lug bewe" (Her.:82). 'n Huurmotor het hom by die manskoshuis "Samuel, 'n imposante dubbelverdiepinggebou met kloktoring en horlosie," afgelaai. Een van die finalejaars het hom na sy kamer geneem waar hy sy kamermaat ontmoet het. Die lewe as "donkie" - 'n naam wat verkleinerend bedoel was, maar deur die studente as "erenaam" toegeëien is omdat Jesus op 'n donkie Jerusalem binnegery het - het in alle erns begin. Aan die begin van Maart het hy ook by die HUK vir die B.A. ingeskryf met as hoofvakke Afrikaans III (Hollands genoem) en Etiek II. Een vak uit die natuurwetenskappe was verpligtend. A.A. het Biologie I gekies. Die ander eerstejaarsvakke was: Geskiedenis, Sosiologie, Sosiale Antropologie, Etniese Geskiedenis van Afrika en "Naturellereg."

Die eerste jaar teologiestudie aan die Sendinginstituut, bekend as die Admissiekursus, was vir hom 'n teleurstelling. Hulle het slegs drie dae per week klas gehad en die teologiese inhoud van die lesings was skraal. Indien hy nie die B.A-.kursus geneem het nie, vertel hy, sou die eerstejaar 'n mors van tyd gewees het. Wat die res van die teologiekursus betref, was sy groot beswaar dat alle aantekeninge gedikteer is en dat hulle baie min werksopdragte en selfstudie gegee is. Ten spyte daarvan het hy hoë waardering vir elkeen van die drie dosente (Dr. G.B.A. Gerdener, Ds. C.F. Kies en Dr. J.H.J. Greyvenstein) gehad. Hy was dus baie dankbaar oor die uitdaging wat die B.A.-kursus, veral in sy admissiejaar, gebied het.

A.A. het 'n wye belangstelling in studentebedrywighede gehad. Hy het hokkie en tennis gespeel, aan die Strewersbeweging, die CSV en die Afrikaanse Studentebond behoort. In sy laaste jaar was hy voorsitter van die Studenteraad. Hy het soms byeenkomste van die debatsvereniging, "Praatgraag", bygewoon. Sondae het hy in Dal Josafat dienste gehou; dít ten spyte van sy aanvanklike gebrek aan behoorlike kennis van die teologie! Verrykend was die talle konferensies wat oor geloofsake gehandel het.Verskeie Amerikaanse predikers het Wellington besoek. A.A. getuig dat hy vanuit sowel die Kerkgeskiedenis as die Dogmatiek 'n besondere belangstelling en aangetrokkenheid tot die Piëtisme ontwikkel het. Veral die Piëtiste se vroomheid en hulle uitlewing daarvan het hom geboei. Hieroor skryf hy: "Ek het myself as 'n gereformeerde piëtis (as so iets moontlik is) bestempel" (Her.:109).

'n Onvergeetlike ondervinding het hom gedurende die eerste Junie-vakansie te beurt geval tydens 'n besoek aan sy broer op Theunissen. Die leraar van die plaaslike NG gemeente het hom gevra om die aanddiens te hou. Hy het verwag om soos gebruiklik vir "sendelinge" voor die kansel by die kateder te staan, maar die dominee sê: "Nee, jy gaan staan op die preekstoel!" A.A. maak hieroor die volgende opmerking:

En daar staan ek, 'n sewentienjarige seun, op die preekstoel en preek! Ek wonder of dit al met enigiemand anders gebeur het. Ek preek dus nou (1995)5 alreeds sestig jaar lank. Sjoe, ek het baie om voor verantwoording te doen! (Her.:91).

Die merkwaardige is dat hy ná hierdie aantekening nog nege jaar van gereelde preekbeurte bygevoeg het. In totaal was dit dus nege-en-sestig jaar se prediking. Om te kan/mag preek het deur al die jare sy een groot passie gebly. Hy kon en het nooit nee gesê vir 'n preekbeurt nie.

2.5 'n Lewensmaat

'n Saak wat hom in sy finalejaar al meer begin kwel het, is dat hy nog nie iemand ontmoet het met wie hy kon trou nie. Ná verskeie mislukte pogings om die regte persoon te vind, het hy teen die einde van die jaar kennis gemaak met Elise Palm. Sy was besig met haar finalejaar onderwys-kursus aan die Hugenote Kollege en sou dus dieselfde tyd as hy haar studies voltooi. Die feit dat beide studielenings moes terugbetaal en dit onseker was wanneer en waar hulle werk sou kry, het gemaak dat hulle besluit het om nie dadelik ná die studies te trou nie. Elise sou gaan skoolhou en Andries sou na die huis vertrek in afwagting van 'n beroep. Gevolglik het die blye huweliksdag eers ná vier-en-'nhalf jaar op 10 Julie 1943 te Robertson plaasgevind.

2.6 Legitimasie

A.A. het hard gewerk aan sy studies en slaag aan die einde van 1938 sy kandidaatseksamen in teologie aan die Sendinginstituut (met lof), sowel as die B.A.-graadkursus aan die HUK met eerste klas in Afrikaans III (Hollands).6 Die legitimasie het op 29 November 1938 in die gemeente NG Wellington plaasgevind. Op die "Akte van Toelating" staan:

Daar voor die Kommissie tot die afneem van die Sendelingseksamen, vergader op Wellington, verskyn het Andries Albertus Odendaal, versoekende om as Sendling (sic) van die Nederduits-Gereformeerde Kerk tot bediening van die Woord onder die Heidene toegelaat te word ...7

Tydens die skryf van sy "Herinneringe" kommentarieer A.A. terugskouend op hierdie bewoording: "Wel, ek het aan baie heidene die Woord bedien, maar sekerlik baie meer aan Christene, onder andere aan gelowiges in die ses gemeentes wat ek bedien het" (Her.:100). Daar was duidelik 'n spanning tussen die legitimasieverklaring en die praktyk waarin binnelandse sendelinge hulle uiteindelik bevind het.

2.7 Na watter arbeidsveld?

Self het A.A. geen idee gehad waar hy sou gaan werk nie. Hy het egter geglo dat hy gelei sou word na die plek waar die Here wou hê dat hy moet werk. Dit sou gou duidelik word dat dit nie so eenvoudig was nie. Net ná afloop van die legitimasie het 'n lid van die Kommissie van Toelating hom genader met die moontlikheid van 'n beroep na Port Nolloth (Richtersveld). Hierdie navraag is gevolg deur twee beroepe na gemeentes van die NG Sendingkerk van Kaapland, te wete Suider-Paarl en Colesberg. Laasgenoemde sou 'n deelpos wees tussen die Sendinggemeente en die plaaslike Skoolraad waarvan hy die sekretaris sou wees - 'n "tentmakerspos" dus. Hy het beide van die hand gewys, want skryf hy: "My roeping het by die Swartmense gelê" (Her.:106).

Vanweë die feit dat hy slegs een-en-twintig jaar oud was, kon hy volgens kerklike reglement nog nie in 'n gemeente bevestig word nie. Daarvoor moes hy twee-en-twintig jaar oud wees. Dit het hom ook 'n aanbod van Vredefort en 'n beroep na Warden laat bedank omdat die prosedurevoorstelle van die kerkrade met betrekking tot die ouderdomsprobleem vir hom nie bevredigend was nie.

'n Brief van 'n eertydse vriend aan die Sendinginstituut sou egter rigting aan hom gee. Eerw. P.P. Stander van die NG Sendinggemeente "Compounds" in Johannesburg, het geskryf om hom te pols of hy sou belangstel om as sendeling van die NG gemeente Randpoort onder die swart mense binne die grense van genoemde gemeente te werk. Randpoort sou sowel A.A. se salaris as dié van die evangelis voorsien.Volgens Stander was daar reeds 'n proses aan die gang om 'n nuwe "NG Gemeente Randfontein" van die gemeente Randpoort af te stig. Die verstandhouding was dat ook die nuwe gemeente saam met Randpoort vir die salarisse verantwoordelik sal wees. Terselfdertyd was beplanning aan die gang om die gebied binne die grense van genoemde twee NG gemeentes as 'n nuwe "sendinggemeente" van die bestaande "Compounds"-gemeente af te stig. Tot tyd en wyl dit gebeur, sou A.A. soos reeds genoem, diens doen as "hulpleraar" in die gemeente Compounds saam met reeds gesoute werkkragte soos eerwaardes P.H.A. Fouché, P.P. Stander, S.S. Tema en A.P. Segoete.

Vreemd genoeg was dit hierdie navraag (beroep!) wat onmiddellik 'n greep op hom gekry het sodat hy oortuig was dat hy daarop positief moet reageer. Dit was vreemd omdat hy tydens sy vroeëre treinreise na Smithfield en Wellington juis deur hierdie gebied gereis het. Wanneer hy die rye klein en enerse huisies en die armoede gesien het, het hy vir homself gesê dat hy enige plek, behalwe hier, sal wil werk! Sy aanname van die aanbod is opgevolg deur 'n amptelike onderneming van die NG gemeente Randpoort om sy salaris, verblyf- en reiskoste te betaal. Die vergoedingspakket was soos volg saamgestel: Salaris £300 p.j., huistoelae £60 p.j., reistoelae £60 p.j.

Op 3 Februarie 1939 stap A.A. op die Randfontein-stasie van die trein, ingewag deur die legendariese Ds. Coenie Mouton, leraar van die NG Gemeente Randpoort. In sy Herinneringe maak hy die opmerking dat Ds. Mouton hom beslis nie kon miskyk nie. Nie net omdat hy lank van postuur was nie, maar ook omdat hy, soos in daardie tyd gebruiklik, geklee was in 'n swart pak en wit das, 'n tradisie soos hy sê, waarvan hy baie gou afskeid geneem het!

 

3. AMPTELIKE GEMEENTELIKE BEDIENING 1939-1947

3.1 Hulpleraar NG Sendinggemeente Compounds, Maart-September 1939

Daar is reeds daarop gewys dat A.A. nie bevestig kon word nie omdat hy nog onder die ouderdom van twee-en-twintig jaar was. Die kerk se Wette en Bepalinge vereis dat kandidate vir die gemeentelike bediening minstens twee-en-twintig jaar oud moet wees. A.A. is gevolglik met ingang Maart 1939 as "hulpleraar" van die NG Sendinggemeente Compounds in diens gestel. Die gemeente het op daardie tydstip die hele Witwatersrand beslaan - van Springs aan die Oosrand tot Randfontein aan die Wesrand. Hierdie enorme gemeente is bedien deur vier leraars - ná A.A. se koms vyf leraars - en 16 evangeliste. Tereg vra hy die vraag of dit nie die eerste "makro-gemeente" in Suid-Afrika was nie. A.A. sou saam met een evangelis verantwoordelik wees vir die gebied wat resorteer binne die grense van die NG Gemeente Randpoort.

Sy eerste losies was gereël by die Marneweck-gesin in Randgate. Alhoewel die gesin vir hom baie goed was, was dit ver van sy bedieningsgebied. Hy moes gevolglik ver met die trein en die fiets ry om by al die besoekpunte te kom. By sommige op- en afklimpunte moes hy baie vinnig spring om sy fiets betyds in of uit die bagasiewa te kry! Die uitgestrekte area wat binne die grense van die NG gemeente Randpoort geval het, het byvoorbeeld die volgende gebiede ingesluit: Randgate, Homelake, Randfontein, Robinson, Venterspos, Libanon, Western Area, Kocksoord, asook verskeie plase en landbouhoewes ("plotse" genoem). A.A. en die evangelis se arbeidsveld het bestaan uit die inwonende huiswerkers verspreid oor genoemde gebiede, die inwoners van twee woonbuurtes vir swart mense, asook die inwoners van nege kampongs met elk tussen 3000-4000 inwoners, heelwat werkers op plase en plotte, en verder die pasiënte in die groot hospitaal vir mynwerkers. Dit was dus 'n dubbele uitkoms toe die Fürstenberg-gesin in Randfontein, wat meer sentraal geleë was, vir hom losies aangebied het teen slegs £3 per maand, alles ingesluit (Her.:134). Vir iemand wat nog studieskuld moes afbetaal, was dit 'n welkome meevaller. Hy getuig dat hy eg spartaans geleef het om sy studieskuld so gou moontlik af te betaal.

3.2 Aan die diep kant ingegooi

Om as een-en-twintigjarige "groentjie" in so 'n onoorsigtelike arbeidsveld in gestoot te word, was voorwaar 'n "vuurdoop". A.A. was egter bevoorreg om goeie samewerking en ondersteuning te geniet van alle instansies en persone betrokke by sy werk. Ná ses maande skryf hy sy eerste verslag8 aan die NG kerkraad van Randpoort (Her.:138-141).Hy maak daarin spesiale melding van die stewige fondament wat sy wyse raadsman en getroue medewerker, evangelis Obed Lehoede gelê het. Hy was reeds 28 jaar in die gebied werksaam. Hy het A.A. ingelei in die gemeentelike werk sowel as in die werk in die kampongs. Elke werker moes byvoorbeeld stiptelik hou by die "metode" soos neergelê deur eerw. P.H.A. Fouche, koördineerder van al die "sending"-werkkragte van die enorme Compounds-gemeente.

A.A. skryf in sy verslag oor die uitgestrektheid van die gebied, die tydsprobleem vanweë lidmate se werksomstandighede, die sleutelbetekenis van huis- en siekebesoeke, die probleem van die groot verskeidenheid tale wat gepraat word. Hulle as werkkragte was in staat om in drie tale te bedien terwyl op sommige punte tot 15 verskillende tale gepraat is. Hy wys ook op die tyd wat aan voorbereiding bestee word en sê dan: "Ek is oortuig daarvan dat my voorbereiding altyd die beste moet wees" (Her.:141). Hy maak met waardering melding daarvan dat die werklas aansienlik verlig is deur die indiensstelling van 'n tweede evangelis, te wete Samuel Phoshoko.

Wat die "vuurdoop" was waarna hierbo verwys is, word duidelik uit die volgende vertelling: Obed en A.A. is die eerste Sondag met sonsopgang met die fietse na die kampongs. Obed, met A.A. as "leerling," het by elke kamer met so ongeveer 30-50 inwoners geklop en gevra of hy vir hulle 'n diens kan hou. Die inwoners het gewoonlik gretig ingestem. Dié proses van klop, groet, Bybellees, boodskap en bid, het ongeveer 15-20 minute geduur. Dit is by elke kamer herhaal. Na ongeveer agt tot tien kamers besoek is, moes hulle haastig fietstrap om betyds vir die diens om 11h00 in die kerkgebou te wees. Ná afloop van die diens in die kerk, het Obed vir A.A. gesê:

Moruti (Leraar), nouhetjygesien hoeons in die kampongswerk.Vandag het jy saam met my gegaan en ek het gepreek. Volgende Sondag gaan ek saam met jou, dan moet jy preek.

Toe A.A. huiwerig hiertoe instem op voorwaarde dat evangelis Lehoede dan vir hom moet tolk, was laasgenoemde se kort en saaklike antwoord: "O nee, as jy in die kampongs met 'n tolk wil werk, kan jy net so goed by die huis bly" (Her.:136). Evangelis Lehoede was hoogstens bereid om A.A. se preek, wat in Sotho geskryf moes word, te help korrigeer. Met behulp van die bietjie Noord-Sotho (Sedokwa) wat hy sedert sy kinderjare geken het en die evangelis se korreksies, het A.A. met groot gestoei 'n prekie van een-en'n half bladsy op skryfblokpapier oor Psalm 16:11 voorberei: "U sal my die pad van die lewe bekend maak" (S.Sotho: O tla ntsebisa tsela ya bophelo). Alhoewel hy die preek gememoriseer het, het hy dit veiligheidshalwe eers voorgelees. So ná die derde, vierde kampongkamer was A.A. meer op sy gemak en "preek ek met groot vrymoedigheid soos 'n wafferse kenner van Sotho," skryf hy (Her.:136). Dieselfde patroon is gevolg met die preke in die kerkgebou sowel as twee verdere dienste die middag en die aand.

Dit was dus vir hom van die begin af duidelik dat kennis van Suid-Sotho noodsaaklik was. Hy skryf gevolglik by die Universiteit van Suid-Afrika in vir die Diploma in Bantoeïstiek met Sotho as hoofvak. Met volhardende studie, slaag hy Sotho III.

3.3 Eerste leraar van nuutgestigte NG Sendinggemeente Randfontein, 1939-1942

Intussen is die afstigting van die NG Sendinggemeente Randfontein van die NG Sendinggemeente Compounds afgehandel en is A.A. beroep as eerste leraar van die nuwe gemeente. Op 29 September 1939 is hy deur sy broer in die gemeenskapsaal van die woonbuurt bevestig. Die harde werk van gemeente-opbou vir die volgende drie jaar het vir A.A. en die twee evangeliste voorgelê. In sy verslag in 1942 maak hy met dankbaarheid melding van 'n verdubbeling van lidmate en 'n toename in offergawes. Die gemeente was nou in staat om self hulle twee evangeliste se salarisse te betaal.9 Soos verder-aan sal blyk, was dit nie vir A.A. beskore om lank in hierdie gemeente te werk nie.

Gedurende sy dienstyd in Randfontein het A.A. ook sy eerste Sinodevergadering belewe, te wete die Vierde Sinode van die NG Sendingkerk in Transvaal, Maart 1940. Tot sy, en soos hy opmerk, ook ander se verbasing, is hy deur die moderatuur benoem as sameroeper van die sinodale Drukwerk- en Redaksiekommissie én as redakteur van die kerkblad wat nog tot stand gebring moet word. Die eerste redaksievergadering is tydens die sinode gehou.

Hierdie nuwe verantwoordelikhede het die jong leraar aan 'n totaal nuwe wêreld blootgestel (Her.:149). Eerstens moes talle onderhoude gevoer word met die Staatskontroleur oor die oprigting van 'n tydskrif, die getal intekenaars toelaatbaar en hoe dikwels dit mag verskyn. Hierdie toestemming was nodig vanweë die staat se rantsoenering van papier as gevolg van die oorlog. Tweedens moes 'n drukker gevind word wat bereid sou wees om elke tweede maand 'n blad die lig te laat sien wat uit 20 persent Afrikaans, 40 persent Sotho en 40 persent Zoeloe-artikels bestaan. Met baie opoffering en deursetting het die eerste uitgawe van Die Boodskapper Lengosa Umsebe in die loop van 1941 verskyn en daarna elke tweede maand. Alle versendings is deur A.A. persoonlik vanuit sy kamer hanteer. Ná sy huwelik het sy vrou hom hiermee gehelp. Hierdie taak het hy in deeltydse hoedanigheid bly behartig tot in 1947. Op die ontwikkelinge rondom die kerkblad word verder-aan teruggekom.

A.A. was ook 'n aktiewe lid van die Mannesendingbond (MSB) van Transvaal. Hy dien selfs vir 'n hele paar jaar as sekretaris en tesourier. As bestuurslid het hy talle besoeke aan takke gebring. Die uitdra van die evangelie van Jesus Christus was vir hom 'n roeping en daartoe wou hy soveel mense as moontlik aanspoor.

'n Onverwagte uitdaging het egter vir hom voorgelê. Eerw. P.H.A. Fouche het aftree-ouderdom bereik en A.A. is in sy plek beroep. A.A. se vertrek uit die gemeente Randfontein is as 'n groot verlies belewe. In die verskillende afskeidsadresse en -toesprake is van die besondere sukses van sy werk getuig. Daar is veral gewys op die feit dat hy, in die kort tyd waarin hy leraar was, baie gedoen het om aan die jong gemeente 'n duidelike struktuur te gee.

Verder het hy ook deur talle optredes in die NG gemeentes besondere meelewing en deelname van NG lidmate aan die sending bewerk. Allerweë is ook met waardering getuig van sy nederige en toegewyde optrede wat die twee gemeenskappe (swart en wit) met liefde en begrip nader na mekaar laat beweeg het. Hy het konsekwent opgetree as 'n besondere brugbouer tussen die verskillende gemeenskappe. Aan die waarheid dat 'n brug aan albei kante stewig in die bodem ingegrawe moet wees, het hy onvoorwaardelik uitdrukking gegee. Hiervoor is deur beide gemeenskappe waardering uitgespreek. So het beduidende getalle wit mense sy dienste tydens nagmale besoek en aan die nagmaal deelgeneem. Hy spreek dit as wens uit dat die omgekeerde ook moontlik mag word naamlik, dat van sy lidmate aan die nagmaal in sogenaamde wit gemeentes ewe spontaan sou mag deelneem. Daarmee het A.A. duidelik standpunt ingeneem teen die skerper-wordende polarisering en vervreemding tussen swart, bruin en wit gemeenskappe.

3.4 Leraar van die NG Sendinggemeente Compounds 1942-1945

Alhoewel A.A. 'n redelike begrip gehad het van die werk wat op hom wag, het die volle omvang en aard daarvan in Compounds hom tog laat opmerk dat dit nie eenvoudig was om 'n eie werkstrategie hier te ontwikkel nie. Sy heel eerste bekommernis was 'n geskikte woonplek.Soos vir sy voorganger, Eerw.P.H.A.Fouche, was daar geen pastorie nie, maar wel 'n huistoelaag van £100 (pond) per jaar. Hy moes self 'n blyplek vind. Gelukkig het Eerw. T.C. Esterhuysen (oom Essie) vir A.A. gehelp om by Ds. en mev. J.D. van Niekerk in Langlaagte 'n ruim kamer te bekom. Middagetes het hy by die Du Toit-gesin, 'n paar huise verder, gekry. Hier het hy baie aangenaam gewoon en kon sy vrou, ná hulle troue op 10 Julie 1943 ook by hom intrek. Hulle het toe twee kamers tot hulle beskikking gehad.

Die tweede bekommernis was die omvang en aard van die werk. Sy eerste oriëntering het hom laat opmerk: "Dit was asof jy in 'n groot see ingegooi is en nie weet watter kant toe jy moet swem nie" (Her.:158). In die eerste plek het die gemeente oor 'n geweldige gebied gestrek. Die grense was dié van Germiston in die ooste, Roodepoort en Krugersdorp in die weste, Eikenhof in die suide en die Jukskeirivier in die noorde. In hierdie gebied was daar sewe groot woonbuurtes vir swart mense, te wete Oostelike Naturelledorp, Westelike Naturelledorp, Sophiatown, Alexandra, George Goch, Pimville en Orlando. Laasgenoemde het toe reeds 105 000 inwoners gehad. Verder was daar 'n groot aantal kampongs, verskeie hospitale, die Diepkloof Verbeteringskool waar gereelde dienste gehou is, asook 'n aantal plase waar nog geen werk gedoen is nie. Daar was toe sewe evangeliste in diens wat geplaas was by kerkgeboutjies wat oral in die woonbuurtes gebou was. Daar het elkeen 'n klein gemeentetjie opgebou en versorg.

Die NG Sendinggemeente Compounds het dus gestrek oor dieselfde geografiese gebied as 20 NG gemeentes waar 22 NG leraars werksaam was. A.A. se pos was 'n gesamentlike sendelingspos van die 20 NG gemeentes. Dit het meegebring dat gereelde skakeling met genoemde gemeentes gedoen moes word. Hy het ook dikwels opgetree by Vrouesendingbond-, Kerkjeug-vereniging- en Kindersendingkranstakke. Behalwe die vroeg-oggenddienste in die kampongs, was daar twee dienste om 11h00 en 15h00 in die kerkgeboue in die verskillende gebiede en 'n garagediens in die aand in een van die woongebiede. A.A. moes ook elke Sondag nagmaal bedien en terselfdertyd doop, "aanneming" van nuwe lidmate, bevestiging van kerkraadslede en huwelike waarneem. Verder het hy 'n maandelikse Bybelstudie met al die evangeliste gehad en gesprekke oor die verskillende aspekte van die werk gevoer.

Hy is dikwels gevra om eredienste in die NG kerke waar te neem. Sy tongin-die-kies opmerking hieroor was dat NG leraars hom geskakel het om die aanddiens waar te neem aangesien hulle reeds die oggend moes preek en dus 'n bietjie moeg was! Hy het in elk geval altyd positief gereageer en elke geleentheid aangegryp, al het dit soms fyntrap gekos om betyds vir genoemde diens te wees. Elke ontmoeting was belangrik om sodoende wedersydse belangstelling en deelname te bewerk.

Derdens was daar die kwessie van 'n reeds gevestigde werkwyse waaraan aandag gegee moes word. Om in die plek van dié legendariese "vader van die kampongsending" te tree, was geen gemaklike taak nie. Eerw. P.H.A. Fouche was bekend vir sy unieke werksmetode in die kampongs. "Oom PHA" het hierdie werk met groot liefde en ywer gedoen. Met mense van oor die hele Afrika in die kampongs was dit volgens hom 'n sleutelgeleentheid vir die evangelie en dus 'n prioriteitswerk vir die sendingwerkkragte op die Witwatersrand.

Wat die gemeentelike werk betref, het hy met die oprigting van kerkgeboutjies in die verskillende woongebiede en die plasing van evangeliste aldaar, volstaan. Dit was egter nie genoeg om die komplekse gemeente tot 'n funksionerende eenheid saam te bind en op te bou nie. Die saambinding en toerusting het nie veel verder as die amptelike werkkragte gereik nie.

Dit was vir A.A. gou duidelik dat 'n bedieningspatroon ontwikkel het wat helaas beperkende implikasies op die leraarswerk gehad het. Dit het byvoorbeeld na vore gekom toe hy begin met huisbesoek by lidmate. Die evangeliste het onmiddellik sterk beswaar gemaak omdat sy huisbesoek hulle "seriti" (status, outoriteit, populariteit) wegneem (Her.:159). Dié beswaar het nie A.A. se twee medeleraars, Eerw.A.P.Segoete in Sophiatown en Eerw.S.S.Tema in Orlando, op dieselfde manier geraak nie. Hulle werksaamhede was naamlik toegespits op die woongebiede waarin hulle gewoon het. Alhoewel die opskorting van sy aandeel aan die huisbesoek vir hom 'n leemte was, was dit immers nie 'n doodloopstraat nie. Daar was meer as genoeg werk in hierdie uitgestrekte en veeleisende gemeente. Net die besoeke aan die hospitale het reeds al die middae van die week beset.

'n Taak wat ook baie van sy tyd geneem het, was sy superintendentskap van 'n aantal skooltjies vir kinders uit die bedieningsgebied. Destyds was kerke verantwoordelik vir die onderwys van swart kinders en van aspirant-onderwysers. Sendelinge is as superintendente aangestel en was verantwoordelik vir die hele administrasie van die skool, die aanstelling van onderwysers, die voorsiening van lokale. Die staat het slegs die salarisse van onderwysers betaal. Sendelinge was dus die onbetaalde amptenare van die regering! Ten opsigte van sy werkgebied skryf A.A.:

Op die Rand was die situasie wat skole onder beheer van die NG Kerk betref, haglik. Ander kerke het mooi en groot skole gehad, maar die NG Kerk het geen skool gehad nie. Die skole wat wel onder sy beheer was, was in die kerkgeboue gehou. Dikwels met meer as een onderwyser in dieselfde lokaal. Ons kerk is verwyt dat ons nie in die onderwys van swart kinders belangstel nie (Her.:163).

A.A. het geoordeel dat dit nie so kan voortgaan nie. Soos te wagte was daar nie fondse nie. Sy besluit om persoonlik by die Departement van Naturellesake (sic) te gaan aanklop, het bo verwagting 'n positiewe reaksie gehad. Die Direkteur het die bedrag van £2000 bewillig. A.A. moes egter self al die organisasie vir die verkryging van die terrein, 'n bouer en materiaal behartig. Hy het nietemin deurgedruk en die eerste skool van die NG Kerk op die Rand het langs die kerkgebou in Orlando in 1942 verrys. Dit het ook die mooi naam van die ou skooltjie wat in die kerkgebou gehuisves was, oorgeneem, te wete "Tembalihle" (Letterlik: Hoop wat mooi/goed is, dus - "Goeie Hoop") met mnr. Samson Mota, 'n oudleerder, as eerste prinsipaal.

Vanweë die kampong- en hospitaalwerk, het A.A. besef dat hy ook Zoeloe moet aanleer. Hy skryf in vir Zoeloe I en Sosiale Antropologie II by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Programdrukte het hom gedwing om later in die jaar Sosiale Antropologie, ten spyte van die waardevolle perspektiewe wat dit gebied het, te staak. Met die Zoeloe het hy volhard en die eksamen geslaag. Dit, tesame met sy daaglikse blootstelling aan die swart gemeenskap sowel as sy gereelde lees van die Rand Daily Mail en Bantu World, het hom laat besef dat die Afrikaanssprekende wit mense nie 'n idee gehad het van wat in die swart samelewing gedink en nagestrewe word nie. Sy kritiese opmerkings in dié verband het daartoe gelei dat die redakteur van Inspan (blad van die Reddingsdaadbond en die FAK) hom genooi het om 'n artikel te skryf oor "Politieke strominge in die Naturellewêreld" (sic). Daarin belig hy kortliks die proses van vervreemding en probeer hy aan Afrikaanssprekende wit mense 'n begrip gee van 1) die verenigende sowel as verdelende kragte in die swart samelewing; 2) die negatiewe siening en belewing van swart mense van wit Afrikaners en watter magte hierdie persepsie aanblaas en 3) die verengelsing van die swart mense en die redes daarvoor.10

3.5 Twee gebeurtenisse wat die dienstyd in Compounds afgerond het

Die eerste gebeurtenis was toe A.A. tydens die vyfde Sinodevergadering van die NG Sendingkerk van Transvaal, April 1943 te Middelburg, vanuit die Drukwerk- en Redaksiekommissie voorgestel het dat sukkelende kerkblaaie Serumula (Die Fakkel) en Lengosa (Die Boodskapper) moet verenig. Dit is reeds so deur die Vrystaatse Sinode besluit. In die eenparige voorstel is opdrag gegee dat Umkhuthazi (Die Bemoediger) van Ds. J.C. Oosthuysen (Transkei) en Die Garage- en Kombuisboodskapper van Willie Theron in Pretoria ook genooi moet word (Crafford 1982 I:490). Die twee Odendaal-broers, B.J en A.A., is aangewys as eerste mede-redakteurs van die nuwe verenigde blad, "Die Ligstraal Lehlasedi Umsebe Umtha" (Her.:212). Crafford se weergawe dat B.J. Odendaal die eerste redakteur was (1982 I:490), is egter foutief. Die feitelik korrekte posisie is dat twee broers "mede-redakteurs" was van 1944-1947. 'n Volledige en korrekte weergawe hiervan is opgeteken deur W.F. Loots in sy Kruislig oor Afrika.

Die tweede gebeurtenis was die versoek van Christelike Vrouevereniging dat die gemeente Compounds hulle kongres van 1944 moet ontvang. Die pastorievrou (Elise Odendaal) wat maar pas 'n jaar daar was, was daarmee aan die diep kant ingegooi. Dit was 'n groot verantwoordelikheid. Talle reëlings moes getref word vir verblyf, etes, verversings en vervoer van kongresgangers. Een voordeel was dat Elise, aan die hand van 'n handboek wat A.A. vir haar gestuur het toe sy nog onderwys gegee het, op haar eie "Sesotho" aangeleer het. Sy kon dus met gemak kommunikeer en is dan ook as ondervoorsitter op die bestuur verkies (Her.:212).

Die pastoriepaar se verbintenis met Compounds was egter baie kort. Nie lank ná die Sinode en die CVV-kongres, is A.A. na die NG Sendinggemeente Voortrekkerhoogte (nie-militêr) beroep. Téén alle verwagtinge in was hy oortuig dat hy die beroep moet aanvaar. Ná net meer as drie jaar is afskeid geneem van Compounds en het die gesin na Pretoria vertrek.

3.6 Leraar van die NG Sendinggemeente Voortrekkerhoogte 1945-1947

Op 5 Augustus 1945 is A.A. in die NG Sendinggemeente Voortrekkerhoogte bevestig en kon die gesin intrek in 'n pas voltooide pastorie.Vir die eerste keer in sy bediening het hulle 'n doelmatige woning gehad met 'n ruim maar nog onontwikkelde erf. Omheiningsmateriaal is deur die NG Gemeente geskenk. A.A. het met die hulp van Joseph, die gesin se Malawiër huis- en tuinhulp, die omheining aangebring en toe die erf vol vrugte- en sierbome geplant.

Ná die byna oewerlose werksgebied in Compounds was dit 'n voorreg om 'n meer behartigbare bedieningsgebied te hê. Die gemeente is in 1942 gestig en het reeds 300 lidmate gehad. Hulle is tot met A.A. se koms deur die konsulent bearbei. A.A. was dus die eerste voltydse leraar. Evangelis Jan Mathabathe was sy medewerker. Die gemeente het gestrek van Sesmylspruit in die suide, daarvandaan links van die teerpad tot by die grens van Pretoria. Aan die westekant het dit Rooihuiskraal ingesluit. Die lidmate van die gemeente het in twee woonbuurtes gewoon. Verder was daar die gevangenis met tussen 400-500 gevangenes. A.A. is aangestel as kapelaan vir dié gevangenis en was verantwoordelik vir twee dienste per week wat Woensdae ná werk en Sondagoggende gehou is. Wat vir hom besonder waardevol was, was dat hy hier weer huisbesoek kon doen. Dienste is op verskillende punte in die gebiede gehou.

Benewens die gemeentelike werk het twee projekte van die breë kerklike verband hom ook besig gehou. As deeltydse mede-redakteur van die verenigde kerkblad was hy besig met redaksiewerk vir die volle duur van sy verbondenheid aan die gemeente Voortrekkerhoogte. Daarbenewens was hy nog voorsitter van die Drukwerk- en Redaksiekommissie van die sinode van die NG Sendingkerk van Transvaal.Sy betrokkenheid by die lektuur vir die lidmate van die NG Sendingkerke het die behoefte aan 'n eie boekwinkel waar die kerk se lektuur gestoor, verkoop en versprei kon word, beklemtoon. Hy het hom dus vroeg beywer vir die daarstelling van so 'n fasiliteit. Die interessante verhaal van dié boekwinkel kan gelees word by W.F. Loots.11 A.A. is aangewys as die eerste "bestuurder" van die boekwinkel en was verantwoordelik vir die administrasie en korrespondensie. Mej. Wolhuter was die eerste voltydse personeellid. In dié verband skryf hy: "Ek het agterna dikwels gewonder waarom die Here my net vir twee jaar na Voortrekkerhoogte gestuur het. Miskien was dit hoofsaaklik om hierdie boekwinkel te begin" (Her.:221).

Uit sy Herinneringe is dit egter duidelik dat in die groter beskikking van die Here meer as net die boekwinkel ingesluit was. Een van die ouderlinge van Voortrekkerhoogte, Obed Molope, het by geleentheid aan A.A. gesê dat hy nog 'n groot present vir hom wil gee. 'n Paar jaar later - A.A. was al op Stofberg - daag ouderling Molope daar op met die aankondiging dat hy A.A. se geskenk, soos hy belowe het, vir hom gebring het. A.A. skryf:

Die present was toe al die tyd sy seun, Kerneels! Kerneels het toe vir etlike jare by ons op Stofberg gebly waar hy eers graad 8 (st. 6) voltooi het en later die evangeliste-kursus. Hy was by almal bekend as Kerneels Odendaal! Nadat hy enkele jare as evangelis gewerk het, het hy in 1966 sy leraarskursus by Turfloop voltooi en leraar van Mamelodi-Oos geword. In 1983 is hy na Saulspoort ... (Her.:223).

Daar is reeds meermale opgemerk dat A.A.elke geleentheid wat daar was om homself in een of ander rigting verder te bekwaam, sonder versuim aangegryp het. So was hulle Pretoria-verblyf vir hom 'n goeie geleentheid om verder te kon gaan met sy taalstudies en het hy aan die begin van 1947 by die Universiteit van Pretoria ingeskryf vir die MA Bantoetale (sic). Terwyl hy nog met die teoretiese deel daarvan besig was, is hy beroep na die Stofberg Teologiese Opleidingskool vir evangeliste en leraars. Ten spyte van die feit dat hy skaars twee jaar in die gemeente was, was dit vir hom duidelik dat hy die beroep moet aanneem. Hy was altyd aangetrokke tot die akademie en die teologiese opleiding in besonder.

Een van die vereistes van sy kursus aan die UP was egter dat die nagraadse lesings bygewoon moes word ten einde te kwalifiseer vir die eksamen aan die einde van die jaar. Die verskuiwing na Stofberg het dit egter onmoontlik gemaak. A.A. het dus geen ander keuse gehad as om, tot sy spyt, die kursus te staak nie.

Met hulle afskeid is besondere waardering vir beide A.A. en Elise se werk in die gemeente en gemeenskap uitgespreek. In die afskeidsadres word spesifiek verwys na die

.. uitgebreide en baie vrugbare werk wat met toegewyde ywer, planmatig en deeglik gedoen was. Uit feitlik niks het die huidige Sendinggemeente dan ook soos 'n Phoenix in die kort tydjie verrys ... (Her.:229).

Met die gesin se vertrek uit Pretoria, het 'n gemeentelike bediening van agt-en-'n half jaar in die stad (Randfontein, Johannesburg en Pretoria) tot 'n einde gekom. Nou het 'n totaal nuwe fase vir hulle voorgelê.

Dit is belangrik om hier te wys op 'n ontwikkeling wat 'n direkte invloed op A.A. se mederedakteurskap van die kerkblad sou hê. Sy broer en mederedakteur, B.J. Odendaal, is van sy gemeentelike verpligtinge losgemaak om voltydse saakgelastigde van die NG Sendingkerke van Transvaal, Vrystaat en Natal te word, sowel as eerste voltydse hoofredakteur van die verenigde blad, Die Ligstraal Lehlasedi Umsebe Umtha. Sub-redakteurs waaronder A.A., sou saam met hom die pos behartig. B.J. sou ook later bestuurder van die NG Sendingpers te Bloemfontein word. In die lig van sy nuwe pos, het A.A. egter uit die posisie bedank, maar voortgegaan as getroue medewerker.

 

4. DOSENT AAN STOFBERG TEOLOGIESE OPLEIDING-SKOLE 1947-1979

4.1 Stofberg 1947-1959

Die gesin se aankoms te Stofberg (naby Oranjeville) was in die hartjie van die winter en boonop in die nag. Wat die intrekkery aansienlik bemoeilik het, was dat die huis nie oor elektrisiteit beskik het nie. Lampe en kerse was die beligting. Warm water moes van die koolstoof in die kombuis na die badkamer gedra word. Die toilet, 'n putlatrine, was so 70 meter buite die huis. Die huis was baie koud. Die enigste vertrek wat son gekry het, was die kombuis. Desondanks kon A.A. in sy Herinneringe aanteken dat hulle as gesin vir die volgende twaalf-en-'nhalf jaar "baie gelukkig en aangenaam" hier gewoon het (Her.:232).

Hy is op 25 Junie 1947 in sy amp as dosent bevestig.Sy broer, B.J.Odendaal, het die rede gelewer.Wat die akademiese werk betref, het 'n redelike uitdaging vir hom voorgelê. In die eerste plek kon sy vooraf navraag na sy verpligtinge nie verder vorder as die kort antwoord: "Ons sal daaroor besluit as jy hier is." In die gesprekke die eerste paar dae ná hulle aankoms te Stofberg is Kerkgeskiedenis en die Amptelike vakke (Praktiese Teologie) aan hom toegewys (Her.: 233). Sy voorbereiding moes dus op 'n daaglikse basis gedoen word.

4.2 Moedertaal

A.A. het hom voorgeneem om van die begin af al sy lesings en notas aan die studente in Suid-Sotho, die studentesemoedertaal,tedoen.Ditwasegtergeen geringe opgawe nie. Behalwe vir die uitwerk van die vakinhoude was die vind van die moedertaalekwivalente vir vakkundige begrippe 'n besondere uitdaging. Interessante voorbeelde in die soektog na die Sotho-ekwivalente is in sy Herinneringe opgeteken (Her.:233). As eerste voorbeeld noem hy die woord "teologie." Die oplossing het in die variante begrip "godgeleerdheid" gelê waarvoor daar wel 'n Sothowoord gemaak kon word, te wete "Thutamodimo" letterlik "die leer of wetenskap aangaande God." Nog 'n voorbeeld wat selfs 'n uitgebreider soektog meegebring het, was die bestaande vertaling van die woord "teks", die Skrifgedeelte vir 'n preek. Die tot op datum gebruikte "Themana ya thuto", letterlik "die vers van die preek," was na sy mening lomp en onnoukeurig. Gevolglik is die woord "mohlodi-thero" (letterlik "preekbron") geskep.

In hierdie soektogte na "die regte woord" het hy die studente as medewerkers betrek. Daarmee is 'n belangrike proses begin wat later by alle Stofberg Teologiese Skole ingestel is, naamlik om driekolom woordelyste saam te stel met teologiese terme in Afrikaans, Engels en die betrokke moedertaal (Zoeloe, Xhosa, Sotho, Noord-Sotho, ens.). Verskeie van hierdie terme uit A.A. se klasnotas het deel van die algemene gebruikstaal geword. Heelwat is ook opgeneem in die hersiene uitgawe van Paroz se Sotho-woordeboek, waaraan hy genooi was om mee te werk.

4.3 Opgradering van die Stofberg Teologiese Opleiding

Gedurende A.A. se tyd het die opgradering van die teologiese opleiding deurlopend aandag gekry. Hy, Ds. Attie van Niekerk en Dr. Lex van Wyk het hulle beywer om veral die leraarsopleiding op universiteitstandaard te bring. Op 'n stadium is selfs oorweeg om die leraarsopleiding te skuif na die "Kolege ye Bana ba Afrika" te Pretoria.

Ook is uitvoering gegee aan 'n lank gevoelde behoefte om nouer skakeling te bewerk tussen die bestaande drie Stofberg Teologiese Skole, te wete Stofberg, Dingaanstat en Decoligny. 'n Komitee bestaande uit Di. Hofmeyr, W. Brits en A.A. is benoem om 'n konstitusie hiervoor op te stel. A.A. is versoek om so 'n konsep op te trek. Daarin is voorsiening gemaak vir 'n Sentrale Bestuur, drie Plaaslike Besture, asook amptelike status vir die Vergadering van Dosente. Volgens die nuwe bepaling is gelyke verteenwoordiging aan die NGK en NG Sendingkerke op albei besture toegeken. A.A. het dit tereg as 'n deurbraak beskou. Die nuwe konstitusie is deur al die liggame en kerke aanvaar.

Die eerste vergadering van die Sentrale Stofbergbestuur het op 23, 24 Oktober 1957 te Stofberg plaasgevind. Ds. Hofmeyr is as eerste skriba en A.A. as notulerende sekretaris gekies. Met Ds. Hofmeyr se aftrede in 1969 is A.A. as skriba en tesourier gekies. Dié pos het hy beklee tot met sy aftrede in 1979. Hy wys daarop dat die boekhouding, verslae, ontmoetings met ministers, kerklike leiers en universiteite heelwat tyd in beslag geneem het, maar trouens ook verrykende ondervindings was (Her.:329, 560-562).

4.4 Meestersgraad in Teologie

A.A. se worsteling om die korrekte teologiese terminologie in die moedertaal van sy studente te vind, is in sy navorsing vir die meestersgraad in teologie voortgesit. Hierdie navorsing het gehandel oor "Die vertaling van die Nuwe Testament in Suid-Sotho met besondere verwysing na die vertaling van die Evangelie volgens Mattheus." Hy bespreek agtereenvolgens: a) 'n Kort geskiedkundige oorsig oor die vertaling van die Bybel in sewe van die Afrikatale binne die Unie van Suid-Afrika; b) Beginsels van Bybelvertaling; c) Die vertaalbaarheid van die Griekse Nuwe Testament in Suid-Sotho; d) Vertaling van begrippe in die Nuwe Testament wat aan die Basotho onbekend was; e) Aantekeninge oor die vertaling van die Evangelie volgens Mattheus.Op 4 Desember 1952 is die graad "Theologiae Magistrum" cum laude, deur die Teologiese Seminarium te Stellenbosch aan hom toegeken.12

Hierdie waardevolle studie is opgevolg met verskeie artikels oor die belangrikheid van die moedertaal in die kommunikering van die evangelie. In die sendingwetenskaplike tydskrif Op die horison van 1954, skryf hy 'n artikel oor "Die kerk en die taal van sy lidmate." Daarin beklemtoon hy die noodsaaklikheid van die erkenning en gebruik van die inheemse taal in alle fasette van die gemeentelike en breë kerklike werk. Hy wys ook op die negatiewe gevolge van 'n geringskatting van die moedertaal. Twee verdere artikels oor die gebruik van die inheemse taal, in sy geval Suid-Sotho, sou eers byna twee dekades later volg. In die eerste van die artikels handel hy oor "'n Homiletiese ontdekkingstog" (1972). Daarin wys hy op die belangrike homiletiese beginsels en stappe in die soektog na geskikte Suid-Sotho-terme. Die tweede artikel handel oor "The translation of the name of God in Southern Sotho" (1973). Met sowel sy M.Th. -verhandeling as die artikels en resensies van woordeboeke in Op die horison, Missionalia, Ned. Geref. Teol.Tydskrif, Testimonium en Die Sendingblad het A.A. 'n waardevolle bydrae tot die wetenskaplike sendingliteratuur in Suid-Afrika gelewer.

4.5 Volgehoue betrokkenheid by gemeentelike en breë kerklike aktiwiteite

Met sy beroep na die Teologiese Skool is die moontlikheid aan A.A. gestel dat hy ook na die plaaslike gemeente Oranjeville van die NG Sendingkerk in die Vrystaat beroep kon word. Dit was in lyn met sy begeerte om die verband met die gemeente, ring en sinode van die kerk te behou. Hy is gevolglik na genoemde gemeente beroep met evangelis J. Morobe, wat op Oranjeville gewoon het, as medewerker. A.A. het dienste in die kerkgebou en op van die plase waargeneem en voorgesit by die kerkraadsvergaderings. Vir sy dienste is hy £5 per maand betaal, plus reiskoste per myl (5 myl = 8 km).

Met A.A. se bevestiging was 'n proses reeds aan die gang om 'n nuwe gemeente van Oranjeville af te stig met Stofberg Gedenkskool as sentrum. Dit het die gebiede Viljoensdrif en Taaiboskragstasie sowel as die steenkoolmyn ingesluit. A.A. is kort daarna na die nuutgestigte sendinggemeente "Stofberg-Gedenkskool" beroep. Gevolglik is hy binne 'n kort tyd vir die derde keer in dieselfde kerkgebou bevestig.

Die gemeentelike verantwoordelikhede was egter gou meer as wat op 'n deeltydse basis behartig kon word. 'n Mate van verligting het gekom toe Ds. Attie van Niekerk, wat pas as dosent by die Teologiese Skool aangesluit het, bereid was om as medeleraar in te skakel. Ook hy is beroep en in 1950 bevestig. 'n Volledige werksprogram is opgestel waarby ook van die studente ingeskakel is. Dit het die werkslading meer hanteerbaar gemaak. Mettertyd is 'n voltydse leraar beroep. A.A. en Ds. Van Niekerk het egter as medeleraars aangebly.

Vanweë sy erns met die moedertaal het A.A. ook in hierdie gemeente vanweë die aansienlike getal Malawiërs, Chichewa aangeleer sodat hy minstens die formuliere in hulle taal kon lees en standaardsinne kon gebruik.

As lid van die kerkraad kon en het A.A. ook op die liggame van die breër kerkverband gedien. Hy het gereeld ringsittings bygewoon en ook op die ringskommissie van Kroonstad gedien. In 1951 het hy sy eerste sinodesitting van die NG Sendingkerk in die Oranje Vrystaat te Kroonstad bygewoon. Op daardie stadium het die sinode uit 3 swart leraars (Di. M.L. Maile, W.J. Lebone en A.D. Tlholwe) en 40 wit sendelinge bestaan. Wat hom dadelik gepla het, was die bepaling dat slegs sendelinge tot die moderatuur verkies kon word. Hy het hom hierteen sterk uitgespreek met die hoop dat hierin spoedig verandering sou kom. By die eersvolgende konferensie van die Sendelingevereniging van die NG Kerk stel hy sy standpunt hieroor baie duidelik in 'n referaat oor "Die ontwikkeling van die leraarsamp in die inheemse kerke".13 Hy betreur dit dat die swart leraars gevolglik nog nie tot hulle reg kon kom nie.

4.6 Doktorale studie oorsee

Net minder as twee jaar ná sy meestersgraad was daar 'n geleentheid vir A.A. om sy doktorale studie aan die Vrye Universiteit te Amsterdam te kon gaan doen. Tydens 'n besoek van Prof. J.H. Bavinck van die Vrije Universiteit aan Suid-Afrika, het A.A. die geleentheid geneem om met hom die moontlikheid van doktorale studies te bespreek. Die uitkoms daarvan was dat die VU bereid was om hom tot die doktorale program toe te laat op grond van sy voorafgaande studies. Die Vrije Universiteit het sy doktorale program soos volg saamgestel:Sendingwetenskapashoofvak,vier tentamensby Prof.J.H.Bavinck; Dogmageskiedenis, een tentamen by Prof. G.C. Berkouwer en Algemene en Suid-Afrikaanse Kerkgeskiedenis, twee tentamens by Prof. D. Nauta en verder 'n finale eksamen en die spoedskripsie wat binne een week geskryf moet word. Saam met die twee vakansiemaande, Desember en Januarie, sou hy agt maande tot sy beskikking hê vir die heen en terugreis per boot sowel as vir die afhandeling van sy sewe tentamens, die finale eksamen en spoedskripsie. Met die oog op dié studie het die Bestuur van die Stofberg Skool vir Teologiese Opleiding aan A.A. studieverlof vir 6 maande (September 1954-Mei 1955) toegestaan ten einde sy doktorale eksamens aan die Vrije Universiteit te Amsterdam, Nederland, te gaan doen.

In die lig van dié beperkte studieverlof, het A.A. die bogenoemde dosente versoek om die lys van voorgeskrewe werke reeds voor die tyd aan hom beskikbaar te stel. Teen die tyd dat hulle in September 1954 vertrek het, het hy reeds al die boeke deurgewerk en opsommings gemaak. Dit was sy redding, aangesien die eksamenprogram slegs twee weke tussen die tentamens toegelaat het. A.A. het baie hard gewerk en daarin geslaag om die tentamens, die doktorale eksamen voor die fakulteit asook die spoedskripsie in die "swart week" te voltooi. Soms was die hekkie byna te hoog, veral toe'n verlammende griep hom vir 'n paar dae in die "swart week" platgetrek het. Met die eksamens agter die rug kon die nodige gesprekke en beplanning van sy tesis met Prof. Bavinck ook nog ingepas word.

Bibliografie en trefwoorde aan die einde van die volgende artikel (p. 129).

Bibliography and keywords at the end of the next article (p. 129).

 

Prof. Phil Robinson was dosent in Sendingwetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaap van 1976 tot 1997. Sedert Augustus 2004 is hy navorsingsgenoot in die Departement Sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat. Adres: Posbus 2757, Durbanville, 7551.

 

 

1 A.A. Odendaal het sy herinneringe in 1995 begin skryf. Hierdie handgeskrewe aantekeninge, toegelig met foto's, gedeeltes uit dokumente en briewe, beslaan 1088 bladsye en is in drie ringlêers ingebind. Verwysings na dié bron word gemaak deur die afkorting "Her." gevolg deur die bladsynommer.
2 Die kerke wat ontstaan het uit die binnelandse sendingwerk van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in SA het in drie van die destydse vier provinsies van die Unie van Suid-Afrika, aanvanklik bekend gestaan as "Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk ... in die Oranje Vrystaat, ... van Transvaal, ... van Natal." Die kerk wat egter in 1951 onder die Xhosasprekendes in Kaapland gestig is, is "Die NG Bantoekerk in Suid-Afrika" genoem in onderskeiding van die "Nederduits Gereformeerde Sendingkerk in Suid-Afrika" wat in 1881 onder die "Kleurlinge" (sic) gestig is. Met die vereniging van genoemde vier kerke in 1963 is die naam, op voorstel van die leraars, verander na "Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika" (Her.:252). Genoemde verenigde kerk het veral die taalgroepe Noord-Sotho, Suid-Sotho, Tswana, Xhosa en Zoeloe bedien. In 1994 is 'n verdere stap in die verenigingsproses geneem en het die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk in SA besluit om te verenig as die "Verenigende Gereformeerde Kerk in SuiderAfrika" met as uiteindelike doel die vereniging van al die NG Kerke.
3 Die presiese waarde van die pond op daardie stadium is moeilik te bepaal volgens die huidige geldwaarde. Met die omskakeling na die desimale stelsel in 1960 was een Suid-Afrikaanse pond gelyk aan twee rand (£1 = R2).
4 Die HUK was een van die konstituerende kolleges van die Universiteit van Suid-Afrika en nie te verwar nie met die Hugenote Kollege vir Onderwys-opleiding, bekend as die HK.
5 Die datum waarop hy sy herinneringe begin skryf het.
6 'n Afdruk van die sertifikaat is ingeplak in die Herinneringe, p. 102.
7 Die afdruk is ingeplak op p. 101 van die Herinneringe.
8 Sendelinge as gelegitimeerdes en gestuurdes van die NG Kerk kon dus deur plaaslike NG gemeentes beroep word wat dan as sendende instansie verantwoordelikheid geneem het vir die onderhoud (besoldiging, huisvesting) van die sendelinge en dikwels ook van hulpkragte soos evangeliste. Sendelinge was verantwoordelik vir gereelde verslag van hulle werk aan die betrokke sendende instansie.
9 Dit was 'n "algemene sendingbeginsel" dat "sendinggemeentes" gelei moet word om so gou moontlik finansiële verantwoordelikheid vir werkkragte uit hulle eie geledere te aanvaar.Die hooffokus van die NG Kerk se sendingwerk in die binne- en buiteland was die stigting "onder die heidene van 'n selfstandige Kristelike Kerk." Van hierdie "nadere doel" van die sending gee J. du Plessis in sy boek Wie sal gaan? (1932:174-182; 233-251), 'n uitvoerige uiteensetting. Hy sluit hierin, volgens sy voorwoord, grootliks aan by die gedagtes van die Duitse sendingkundige, Gustav Warneck, in sy driedelige Evangelische Missionslehre: Ein missionstheoretischer Versuch, 1897-1903.
10 'n Afdruk van die artikel is opgeneem in sy Herinneringe, pp. 160-162.
11 Sien sy Kruislig oor Afrika (1966:14-15).
12 Die vreemde was dat geen kopie van die M.Th.-tesis in die biblioteek van die Fakulteit Teologie te Stellenbosch opgespoor kon word nie. 'n Kopie is uit A.A. se persoonlike boekery tot my beskikking gestel. 'n Afdruk van die graadsertifikaat sowel as 'n foto waarop hy en twee ander "donkies", te wete C.J. Kriel en J.H. van Wyk, hulle M. Th.grade, ook cum laude, by dieselfde geleentheid ontvang, verskyn in sy Herinneringe, p. 245. J.H. van Wyk het saam met A.A. in Nederland studeer en was ook teenwoordig op A.A. se begrafnis.
13 Verskeie referate is gelewer oor die aktuele tema van die tyd: Die kweking van selfstandige inheemse kerke. 'n Publikasie onder dié titel is deur die Sendelingevereniging in 1951 die lig laat sien.