SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.79 número1An exegesis of the parable of the Good Samaritan (Lk 10:25-35) and its relevance to the challenges caused by COVID-19 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


HTS Theological Studies

versão On-line ISSN 2072-8050
versão impressa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.79 no.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v79i1.8877 

ORIGINAL RESEARCH

 

Eerherstel aan Cas Labuschagne - Goed genoeg, betyds genoeg?

 

Rehabilitation for Cas Labuschagne: Good enough, timely enough?

 

 

André G. Ungerer

Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

During the General Church Assembly of 2010, the Netherdutch Reformed Church of Africa (NRCA) confessed her previous justification of apartheid as wrongdoing. It led to serious dissatisfaction in the more conservative part of the Church, eventually ending in the painful church schism of 2011. Afterwards, the leadership had to handle several related issues. And then, out of the blue, an outstanding matter arose from the past's nebulae - unfinished business between the Church and prof. Cas Labuschagne. He was a dissident with prof. Albert Geyser who acted against the church's justification of apartheid during the sixties. After a fierce struggle and much desperation, he left South Africa for the Netherlands in 1967. Almost 40 years later, in 2008, correspondence occurred between the NRCA and Labuschagne to see if reconciliation was possible, but without any positive results. Labuschagne distrusted the Church's motives and argued that only a public excuse would settle matters. Due to the run-up to the decision in 2010 and the church schism in 2011, the case gathered some cyber dust. Professors A.G. van Aarde, J. Buitendag and W.A. Dreyer played a prominent role in bringing the outstanding matter of Cas Labuschagne to the attention of the author of this article. It led to a visit in 2017 and more correspondence to clarify issues. Eventually, reconciliation had occurred only a few months before he died in 2019.
CONTRIBUTION: This article contributes to revealing an untold story in which different leaders of the NRCA played a prominent role. It is about a struggle for reconciliation, events behind the scenes, and a story with a good end - events the church and the academic community should know about

Keywords: Cas Labuschagne; rehabilitation; Albert Geyser; justification of apartheid; reconciliation; accusation of heresy; dissidents; Christian Institute; Adriaan Pont; NRCA and apartheid.


 

 

Inleiding

Wanneer is genoeg, goed genoeg en wanneer is betyds, betyds genoeg? Ek is deur twee verskillende persone, elk met een van hierdie vrae gekonfronteer. Die goed-genoeg-vraag het van prof. AG van Aarde gekom in LitNet waar prof. PGR de Villiers 'n onderhoud met hom gevoer het (Van Aarde 2021):

Dit verbly my dat die Hervormde Kerk amptelik in 'n skrywe deur middel van die huidige moderator, André Ungerer, en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering formeel verskoning teenoor Albert Geyser en die medeverwondes aangeteken het. Ek sal aanvaar dat dit 'n opregte gebaar was indien die huidige kerkleiers bereid sou wees om hierdie skrywe as sinodale besluit voor te lê. Dit sal ook eers werklik persoonlike waarde vir my kan kry wanneer die kerkleiding1 die politieke dryfveer agter die ketterjag teen my kan ontmasker en met hart en mond en hand die keuse vir die goddelike wysheid, geregtigheid en deernis uitoefen. (n.p.)

Die betyds-genoeg-vraag was deel van 'n reeks e-pos-skrywes2 tussen my en prof. CJ Labuschagne. Ek het byna 'n jaar na my besoek (02 Julie 2018) aan hom en sy gade in Groningen, na hul welstand verneem. Op dieselfde dag antwoord hy oor hulle verswakkende gesondheid en vra dan die volgende vraag3: 'Het die AKV al 'n offisiële besluit geneem oor die rehabilitasie van die dissidente uit die sestigerjare, onder wie ekself?' My antwoord op 05 Julie 2018 het, onder meer, die volgende woorde bevat: 'Die volgende AKV vind gedurende die Oktober reses in 2019 plaas. Daar is dus nog geleentheid om die saak aan te voer'. Hy reageer dieselfde dag met 'n betyds-genoeg-vraag (Kyk Bylae NHKA September 2019):

Waarom is die saak nie by die vorige vergadering aan die orde gestel nie? Gesien my hoë leeftyd, dring die tyd.

 

'n Reis met Cas Labuschagne gedurende sy laaste jare

Ek het as jonger predikant nooit van Casper Jeremiah Labuschagne kennis geneem nie. Was dit nie vir proff. AG van Aarde, J Buitendag en WA Dreyer en die feit dat ek sedert Oktober 2016 as Voorsitter van die Algemene Kerkvergadering (AKV) verkies is nie, sou die lewe van prof. CJ Labuschagne vir my onbekend gebly het. In gesprekke met bogenoemde kollegas het veral prof. Van Aarde die moontlikheid geopper dat ek my deelname aan die World Communion of Reformed Churches (WCRC) met 'n besoek aan Labuschagne kon laat saamval. Die algemene vergadering van die WCRC is vanaf 29 Junie tot 07 Julie 2017 in Leipzig gehou. Dieselfde jaar waarin die vyfhonderdste herdenking (REFO 500) van die Hervorming, onder leiding van Martin Luther, gevier is.

My besoek aan die Labuschagne-egpaar het op die middag van 06 Julie 2017 te Haren, digby Groningen, plaasgevind. Ek is hartlik ontvang en met koffie en die gebruiklike Hollandse gebak getrakteer. Die professor se vrou, Lenie, het selfs 'n foto van my en prof. Labuschagne geneem waarna ek 'n foto van hulle geneem het. Ek het 'n brief van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (KommAKV) aan hom voorgelees waarin die hoop uitgespreek word dat versoening wel kan plaasvind, en gewonder wat sy reaksie sou wees.

Na afloop van die besoek het ek skriftelik aan die KommAKV verslag gelewer. Ek het my wedervaringe verhaal, waarin ek aanvanklik op die verkeerde trein na Groningen was, gelukkig in Halle op die regte trein kon oorklim, vriende uit Nederland wat my by die Labuschagnes besorg het, die gesprek wat plaasgevind het en my terugreis wat ook sy kwota voorvalle opgelewer het (NHKA 2017:34-35).

 

Cas Labuschagne - 'n oorsigtelike lewenskets

Casper Jeremiah Labuschagne is op 04 April 1929 in die distrik van Heilbron gebore. Sy kinderjare was op die plaas buite Heilbron en sy vader, wat baie konserwatief was, wou gehad het hy moet eendag die boerdery oorneem. Hy was die enigste seun in 'n gesin van sewe kinders. Met dié dat die egpaar so graag 'n seun wou gehad het, het sy moeder die 'Hanna-gelofte' (kyk 1 Sam 1:11) afgelê met die belofte dat sy haar seun aan die bediening sou wy. Hy vertel dat sy moeder hom as jong seun dikwels oor sy hare gestreel het en dan gesê het: 'My Samuel'. Hy het toe nie geweet wat sy bedoel het nie (NHKA 2017:35; vgl. Labuschagne 2011).

In sy hoërskooljare is Albert Geyser gedurende 1941 as predikant van die NHKA gemeente Heilbron georden en het hulle 'n goeie verhouding opgebou. Dit was dan ook Geyser wat Labuschagne aangemoedig het om teologie te gaan studeer - iets wat hy toe wel gedoen het sonder te veel argwaan van sy vader se kant af (NHKA 2017:35).

Labuschagne skryf in 1947 in by die Universiteit van Pretoria vir die graad BA in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte en behaal die BA-graad cum laude met Grieks, Hebreeus en Latyn as hoofvakke. Gedurende 1950 - 1952 studeer hy aan die Fakulteit Teologie, Afdeling A vir 'n BD-graad waarna hy as proponent van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika gelegitimeer word (Labuschagne 2011).

Gedurende Desember 1952 tree hy met 'n Hollandse medestudent Lenie Spruyt in die huwelik. Haar ouers het in 1947 na Suid-Afrika geëmigreer. Hy werk die daaropvolgende jaar as pastorale medewerker in die Hervormde gemeente Brits terwyl hy hom vir sy MA-graad se eksamen in Semitiese tale (Hebreeus, Aramees, Akkadies en Ugarities) by prof. A van Selms voorberei. In September vertrek hy na Nederland vir verdere studie met 'n beurs van die Nederlands Suid-Afrikaanse Vereniging. Met die aanvang van die akademiese jaar 1953/1954 skryf hy by die Rijksuniversiteit van Groningen in vir sy doktorale studie. Gedurende November 1955 skryf hy sy doktorale skripsie met die titel: 'Het gebruik van de godsnamen in die geschriften van die Profeten' en slaag sy 'doctoraalbul'4 met lof.

Aan die einde van 1956 keer hulle met 'torenhoge' studieskuld terug na Suid-Afrika waar Labuschagne as predikant van die NHKA gemeente Wolmaransstad in Wes-Transvaal bevestig word. Gedurende die twee jaar op Wolmaransstad skryf hy sy MA-verhandeling oor Semitiese tale met die titel: 'Die seggenskap van die koning oor eiendom in Ugarit' en behaal in 1959 die graad met lof. In dieselfde jaar verhuis die egpaar na Pretoria waar Labuschagne op 01 Februarie 1959 as junior lektor aan die Departement Semitiese Tale, Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria begin. Terselfdertyd word hy ook deur die NHKA as dosent in Bybelkunde aan die Normaalkollege benoem. Hierdie benoeming is in 1962 deur die NHKA op abrupte wyse beëindig toe Labuschagne oor die radio van sy aflegging hoor vanweë sy verset teen die beleid van apartheid en sy vereenselwiging met proff. Geyser en Van Selms (Labuschagne 2011; vgl. Labuschagne 2014 vol. II:5).

In Maart 1962 word die graad Doctor Divinitatis aan Labuschagne toegeken. Die proefskrif is onder promotorskap van prof. ES Mulder geskryf met die titel: 'Die onvergelyklikheid van Jahwe in die Ou Testament'. In April word die egpaar se eerste kind, Bart, gebore. Dr Labuschagne word ook in hierdie tyd tot senior lektor bevorder. Hulle dogter Trudy is Oktober 1963 gebore (Labuschagne 2011).

Labuschagne (2011) skryf in die Beyers Naudé-lesing oor sy laaste jare in Suid-Afrika soos volg:

De laatste acht jaar van mijn loopbaan in Zuid-Afrika, 1960 - 1967, stonden in het teken van de strijd tegen apartheid, die juist in de Hervormde Kerk voor die dissidenten bijzonder bitter was.

As een van die medestryders van Geyser teen apartheid, bevind Labuschagne hom in 'n doodloopstraat en aanvaar hy op 01 Desember 1967 as lektor diens by die Rijksuniversiteit te Groningen waar hy later hoogleraar word en sou werk tot met sy aanvaarding van emeritaat in 1991 (vgl. Dreyer 2016:9). Saam met sy navorsing in die Bybelwetenskap het hy hom ook kerklik beywer om sy insigte met mense op 'n pastoraal verantwoordbare manier te deel, soos hy dit stel: ' door ze een helder alternatief te bieden voor de traditionele, naieve, fundamentalistsche Bijbelopvatting en ze te helpen inzichten te integreren in hun geloofsleven' (Labuschagne 2011).

 

Albert Geyser

Labuschagne se lewe is onherroeplik deur prof. Albert Geyser en ander stryders teen apartheid verander. Geyser begin sy doktorale studie in 1944, aanvanklik in Kerkgeskiedenis waarna hy dit na Nuwe Testament verander, en op 15 Maart 1946 ontvang hy die graad Doctor Divinitatis. Op 27-jarige ouderdom word hy as dosent in die Departement Nuwe Testamentiese Wetenskap (Afdeling A) aan die Universiteit van Pretoria aangestel en in dieselfde jaar word hy tot heeltydse professor en as hoof van die departement bevorder, 'n posisie wat hy 15 jaar lank tot in 1961 beklee (Van Aarde, De Villiers & Buitendag 2014:2). Hy het later Meestersgrade in Grieks, Latyn en Frans behaal. Hy het 'n grondige kennis van Hebreeus, Siries, Aramees, Grieks, Latyn, Frans, Duits, Nederlands en Engels gehad en het oor 'n leeskennis van tien tale beskik (Dreyer 2016:1).

Geyser het aanvanklik die saak van apartheid ondersteun. In die biografie van Anton Rupert word Albert Geyser as teologiese student van die Nederduitsch Hervormde Kerk vermeld. Geyser was die voorsitter van die Verenigde Studente Raad (VSR) by UP en in daardie tyd was daar toenemend weerstand teen Engelstalige dosente wat net in Engels klas gegee het. Prof. Du Toit wat die rektor was, het opdrag gegee dat teen die einde van 1932 daar 'n 50/50-verdeling van klasse in Engels en Afrikaans moes wees. 'n Engelssprekende dosent John Agar-Hamilton het steeds net in Engels volhard, en Geyser het sterk kritiek teen hom uitgespreek. 'n Mosie van wantroue het teen Geyser gevolg en dit is op Rupert geprojekteer wat 'n gematigde standpunt van die Afrikaner teenoor ander bepleit het. Uit wrewel het Geyser, sy broer Hendrik en enkele medestudente een aand vir Rupert (toe al 'n dosent) by sy motor voorgelê om hom te teer en veer. 'n Mede-insittende het ontvlug en Rupert se vriendin, Huberte, by die biblioteek gaan roep om die polisie in kennis te stel. Die polisie het op Geyser en meelopers in 'n nabye gebou afgekom waar hulle besig was om Rupert van sy klere te stroop om hom te teer en veer. Die aksie is afgeweer en Rupert het die keuse gehad om 'n saak aanhangig te maak of nie. Hy het daarteen besluit, en al die aandadiges het Rupert om verskoning gevra. Geyser het eers jare later by geleentheid tot daardie punt gekom (Dommisse 2005:52-53).

Geyser het geleidelik van sienswyse verander wat veral te doen gehad het met die onderrig wat hy in die buiteland ontvang het, asook blootstelling aan die ekumeniese beweging en interaksie met leidinggewende Europese teoloë soos Karl Barth, Oscar Cullmann en Hendricus Berkhof (Van Aarde et al. 2014:4). Volgens Dreyer (2016:2) het Geyser sedert 1955 (ouderdom 37) 'n uitgesproke kritikus teen die stelsel van apartheid geword. Sy kritiek het veral na die Sharpeville-slagting op 21 Maart 1960 en die Cottesloe-beraad van Desember 1960 verskerp.

Geyser het begin om eendersdenkende kerklui byeen te bring wat eers as die Ekumeniese Studiekring en later as die Christelike Instituut bekend gestaan het. Hy en 10 ander teoloë het 'n boekie met die titel Vertraagde aksie (red. Geyser & Keet 1960) gepubliseer. Geyser se ekklesiologie in Vertraagde aksie was 'n kritiese teologiese refleksie op aparte etniese kerke, asook kritiek teen die Kerk wat gelykvormig met die wêreld geword het deur die politieke strukture en ideologieë in kerklike strukture te dupliseer. Uiteraard het sy standpunte hewige kritiek uit kerklike oord ontlok. Geyser se kritiek teen apartheid, en die Kerk se teologiese regverdiging daarvan het gedurende Oktober 1961 tot die aanklag van leerdwalings gelei (Labuschagne 2014 vol. I:10). Uiteindelik is hy in Mei 1962 deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aan dwaalleer vir sy eksegese van Filippense 2:6-11 skuldig bevind (NHKA 1962:1-18; Labuschagne 2014 vol. I:69; Dreyer 2016:7). Geyser het op 01 Mei 1963 'n saak teen sy skuldigbevinding by die Hooggeregshof van Suid-Afrika aanhangig gemaak en in 'n dramatiese wending het die hof op 15 Mei 1963 verneem dat die NHKA die skuldigbevinding opgehef en Geyser in sy amp herstel het (Dreyer 2016:9).

Buitendag (Van Aarde et al. 2014:9) bied verdere perspektief op dié gebeure wanneer hy verwys na die ongepubliseerde 'memoirs' van regter CF Eloff wat ten tye van bogenoemde hofverrigtinge as een van die advokate vir Geyser opgetree het (vgl. Labuschagne 2014 vol. II:10) deur die volgende aanhaling uit die 'memoirs' voor te hou:

Na ongeveer twee weke van verhoor was dit redelik duidelik dat die Hervormde Kerk op die afdraande pad was. Op 'n dag nader Adv Tienie de Kock ons om te verneem of die verhoor vir 'n wyle kan oorstaan sodat 'n skikking bespreek kan word. Ons het ingewillig, en Tienie versoek regter Ludorff om tyd af te staan sodat ''n broederlike samespraak' kan geskied. Die Regter het ingestem, en ons het in die kantore van die Hervormde Kerk vergader. Sy eerste voorstel was dat Geyser as predikant herstel word. Ons antwoord was ''n duidelike "nee"', Geyser moet nie herstel word nie; die Kerk moet instem tot 'n bevel dat Geyser se skuldigbevinding aan kettery van meet af nietig was. En die Kerk moet al sy gedingskoste, op die skaal van prokureur/kliënt, betaal.

Buitendag som die gebeure soos volg op (Van Aarde et al. 2014:9):

It is quite clear: Prof. Geyser was not reinstated in his office as if he were the recipient of a favour, but in the sense that he had never been found guilty. It is not a question of a post hoc reinstatement, but rather an ante hoc reinstatement. The defence was successful in showing that the Hervormde Kerk was biased in its examination and trial of Prof. Geyser and that the suggestion to 'scrum' him out of the Faculty came from as high a level as that of the rector.

Bovermelde inligting laat geen twyfel dat Geyser se verwydering uit sy posisie vir sekere kerkleiers baie belangrik was nie (vgl. Dreyer 2016:2-3). Enkele jare later is Geyser weer in die nuus toe Dagbreek op 14 Augustus 1966 berig dat 'n lastereis deur Geyser en Beyers Naudé teen prof. AD Pont aanhangig gemaak gaan word en meld dat die saak op 17 Oktober 1966 in die Randse Afdeling van die Hooggeregshof sou begin (Labuschagne 2014 vol. II:71). Die saak het wel op 15 Februarie 1967 'n aanvang geneem (vgl. Van Aarde 2017:1). Die hofsaak het 39 sittingsdae geduur en op 21 April 1967 het regter WG Trollip uitspraak voorbehou (Labuschagne 2014 vol. II:71-72). Die uitslag was agt weke later op 9 Junie 1967 in die guns van Geyser en Naudé, terwyl 'n bedrag van R20 000 aan skadevergoeding toegestaan is - in daardie stadium die hoogste bedrag wat nog in 'n lastersaak toegesê is.

Regter WG Trollip het die getuienis van vier persone namens die eisers (Geyser en Naude), waaronder dr C.J. Labuschagne, as betroubaar aanvaar. Wat die verweerder betref, het regter Trollip gesê dat Pont redekawelend en omslagtig getuig het en dat hy 'n onbevredigende getuie was. Hy het dikwels vrae probeer ontwyk en kon nie as 'n betroubare getuie beskou word nie. Die Burger van 10 Junie 1967 het die volgende opskrif gedra: 'Prof. Pont het grofste laster gepleeg' (Labuschagne 2014 vol. III:126-127, 132, 136).

Die naam van Labuschagne, as medestryder van Geyser, het veral sedert 1967 op gereelde basis in die dagpers verskyn waarin nagenoeg 21 keer op verskillende wyses oor hom berig is (Labuschagne 2014 vol. III:91-169). Die Transvaler dra op 12 Junie 1967 die nuus dat Labuschagne besluit het om uit die NHKA te bedank (Labuschagne 2014 vol. III:141). Dagbreek berig op 18 Junie 1967 dat Labuschagne sy eerste diens in die Afrikaanse gemeente van Presbiteriaanse Kerk in Pretoria gelei het. Prof. A van Selms was ook teenwoordig.

Op 03 September 1967 het Geyser sy bedankingstoespraak aan die KommAKV voorgelees. Die toespraak het oor drie sake gehandel (Van Aarde 2017:1-2):

1. Die KommAKV se leierskap aan die NHKA;

2. Die KommAKV se aksies met betrekking tot die Pont-saak;

3. Geyser se posisie met betrekking tot beide bogenoemde kwessies.

Soos voorheen vermeld, aanvaar Labuschagne op 01 Desember 1967 diens by die Rijksuniversiteit te Groningen en werk hy daar tot en met sy emeritaat in 1991.

 

Eerste poging tot versoening vier dekades later

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het onder leiding van die voorsitter, prof. J Buitendag besluit om 'n versoenende skrywe aan Labuschagne te rig. Die sekretaris, dr SP Pretorius rig op 07 September 2008 (NHKA 2017:37) 'n skrywe waarin hy meld dat die Kommissie en die NHKA na verloop van baie jare 'n behoefte het om 'n hand van vriendskap uit te reik. Pretorius handhaaf deurentyd 'n vriendelike gemoedelike trant en skryf onder meer die volgende:

Die doel van hierdie skrywe, nadat ek al die bogenoemde as agtergrond gestel het, is om die hand van vriendskap na u uit te reik. Die Kerk is jammer dat u so seer moes kry dat u 'n ander kerklike heenkome moes gaan soek. Daar is geen manier waarop u vir jare se hartseer en pyn gekompenseer kan word nie. Die Kerk sou graag die saak met u wil probeer regstel. Dit sal goed wees om te verneem of u die sake al agter u kon stel, dat daar by u vergiffenis is en dat u vrede in u hart en lewe het.

 

Labuschagne se antwoord

Hierop antwoord Labuschagne in 'n skrywe gedateer 11 Oktober 2008. Sy eerste paragraaf verskaf 'n tikkie hoop dat versoening moontlik is, maar in die daaropvolgende paragrawe opper hy sy bitterheid oor die gebeure en stel hy pertinent sekere eise.

Die volgende bied enkele grepe uit die res van die skrywe (kyk NHKA 2017:38-39):

  • Labuschagne noem dat dit nie primêr oor die pyn en leed gaan wat hy deur die toedoen van die Kerk ervaar het nie, maar eerder oor die vraag: ' hoe die ketterjag op dissidente ontstaan het en daar met 'n hele groep kritiese teoloë omgegaan is'. Hy wil ook weet hoe die NHKA met 'die swarte bladsye in sy geskiedenis omgaan en wat die jonger generasie doen om sake in die reine te bring'.

  • Hy verwys daarna dat hy verneem het dat prof. Van Selms wel in een of ander stadium 'gerehabiliteer' is en dat 'ekskuse' aan prof. Stoop aangebied is, maar, vervolg hy: ' wat van die ander slagoffers van die kerklike ketterjag?'

  • Hy meld dat prof. Albert Geyser verdien om gerehabiliteer te word, al is dit ook postuum, aangesien hy die drywende krag was wat teen die 'gepolitiseerde leiding' van die Kerk in verset gekom het.

  • Labuschagne verwys ook na persoonlike leed wat Geyser vanuit sy familiekring moes verduur, naamlik dat hy in 'n vergadering moes aanhoor hoe sy broer hom 'uitmaak vir 'n duiwel in die gedaante van 'n engel van die lig'. Hy verwys ook na Geyser se vrou wat in 'n inrigting beland het en dat een van sy seuns selfmoord gepleeg het.

  • Die gebeure rondom prof. Adriaan Pont word in 'n lang paragraaf uiteengesit, onder meer, dat Pont na die medestanders van Geyser op minagtende wyse as die 'Geyserdissipeltjies' verwys het.

  • Labuschagne bied ook aan om fotokopieë van 14 plakboeke5 met persberigte uit die sestigerjare aan te stuur. Daarby verklaar hy sy bereidheid om die Kommissie persoonlik te woord te staan indien hy vir so 'n gesprek opgeroep word.

 

Verdere korrespondensie sedert 2009

Op 14 Maart 2009 rig Labuschagne 'n skrywe aan die KommAKV waarin hy sy vreugde betuig oor die verklaring van vyf dosente van die Fakulteit Teologie rakende die Kerk se teologiese regverdiging van apartheid in die verlede. Pretorius se antwoord op 16 Maart 2009 volg op Labuschagne se skrywe van 11 Oktober 2008. Die skrywe is kort en hy stel dat die Kerk in die verlede ook foute gemaak het in die hantering van die saak met Labuschagne en dat daar 'daarom teenoor mekaar en teenoor God gesondig is'. Hy doen vervolgens 'n oproep tot versoening:

Die Kommissie het namens die Kerk in die lig tot sy beskikking in 'n gees van liefde en versoening na u uitgereik en versoek en verwag dat u dieselfde sal doen. Laat ons tot versoening kom terwyl ons nog saam onderweg is.

Labuschagne antwoord op 08 Mei 2009 in 'n onversetlike toonaard met, onder meer, dié woorde (kyk NHKA 2017:40).

U vage en dubbelsinnige spytbetuiging, dat daar teenoor mekaar (sic!) en teenoor God gesondig is, is in die verste verte nie oortuigend nie. Daarom is u handreiking vir my volstrek ontoereikend om tot versoening te kom.

Hy spreek sy teleurstelling uit dat die Kerk nie op sy skrywe van 14 Maart 2009 gereageer het nie, want dit kon die NHKA geïnspireer het om soortgelyke openbare verklarings af te lê. Hy noem ook dat dit nie vir hom oor persoonlike ekskuse teenoor hom gaan nie, maar dat die Kerk rekenskap moet gee van hoe die kerklike leiding omgegaan het met die teoloë soos Albert Geyser en sy medestanders. Hy stel dan ook pertinente eise (NHKA 2017:40):

  • Dat die kerk 'n Kommissie van Waarheid en Versoening aanstel (na analogie van die Waarheidskommissie van die negentigerjare) om grondig te ondersoek wat daar presies gebeur het sedert die kontroverse rondom apartheid in die kerk losgebars het.

  • Dat daar ondubbelsinnig afstand geneem word van, en skuld bely word oor, die kerklike instemming met die ideologie van apartheid en sy onkritiese goedkeuring van die wrede en gewelddadige toepassing daarvan in die praktyk.

  • Dat die kerk dit doen in 'n openbare sitting van die Algemene Kerkvergadering en dat by dié geleentheid eerherstel verleen word aan prof. Albert Geyser en sy medestanders uit die sestiger jare.

Labuschagne volg in 'n onverbiddelike trant en noem dat as daar nie aan die drie eise voldoen word nie, hy nooit sake in die reine kan bring en daar ook geen sprake van versoening kan wees nie. Hy bring ook die posisie van die NHKA in 'mondiale verband', spesifiek betreffende sy hertoelating tot die WARC in spel. Labuschagne sluit die skrywe af met die volgende woorde: 'Die hand wat ek hiermee na u toe as AK uitsteek word vergesel van 'n dringende appèl om u hand in eie boesem te steek en aksie te onderneem' (NHKA 2017:40-41).

Op 11 Junie 2009 rig die skriba, dr J.M.G. Storm 'n skrywe waarin hy noem dat die KommAKV volstaan by die uitreik van die hand van vriendskap en die saak daarby gaan laat. Labuschagne reageer op 13 Julie 2009 en spreek sy bittere teleurstelling uit. Hy skryf soos volg (kyk NHKA 2017:41):

Intussen moet ek konkludeer dat u Kommissie hom solidêr verklaar met die handelwyse van u voorgangers in die jare vyftig en sestig, en geensins bereid is daar krities na te kyk en afstand van te neem nie.

Labuschagne en prof. JA Loader korrespondeer aan die einde van Januarie 2012 op aangrypende wyse oor die gebeure rakende die kerkskeuring. Loader stel sy siening en rig 'n ernstige pleidooi aan Labuschagne om tog maar te versoen. In een van die argumente verwys Loader na Pretorius se skrywe van 26 September 2008 en merk toe soos volg op: 'Die toon van die brief is so buitengewoon deemoedig soos wat ek nog nooit van 'n Algemene Kommissie beleef het nie' (kyk NHKA 2017:41-46). Ook my (Ungerer se) besoek aan Labuschagne was 'n ernstige lewende-lywe-versoek tot versoening. Nadat ek die brief daardie middag van 06 Julie 2017 aan hom voorgelees het, was die verwagting groot dat hy wel tot versoening sou instem. Hoewel hy die besoek hoog op prys gestel het, het hy vriendelik, dog ferm aangedui dat hy steeds by sy eise van die verlede betreffende eerherstel by 'n sinode van die NHKA volstaan.

Na sy e-pos-skrywe met dié woorde: 'Waarom is die saak nie by die vorige vergadering aan die orde gestel nie?' en 'Gesien my hoë leeftyd, dring die tyd', het die vraag ontstaan of 'n skrywe met 'n volledige opgaaf van gebeure hom nie tot 'n ander insig sou bring nie. Dalk was daar betekenisvolle gebeure waarvan hy gewoon nie kennis geneem het nie. Sou hy bly leef tot die 72ste Algemene Kerkvergadering van 22-26 September 2019 - indien die KommAKV wel sou besluit om 'n beskrywingspunte rakende Labuschagne op die vergadering te laat dien?

 

Rehabilitasie aan Labuschagne en ander dissidente uit die Geyser-saak van die sestigerjare

Op 26 Maart 2019 rig die Kommissie 'n skrywe aan Labuschagne met die opskrif: 'Rehabilitasie aan u en ander dissidente uit die Geyser-saak van die sestigerjare'. Die skrywe is deur die skrywer en ds Willem Kok, die skriba, onderteken.

Die Kommissie het tydens die vergadering die korrespondensie tussen u en dr Fanie Pretorius sedert September 2008 en veral gedurende 2009 bestudeer. Soos u weet het die korrespondensie tussen u en die Kommissie sporadies plaasgevind, en het daar soms dooie punte ontstaan wat die proses laat stol het. Ek bied vervolgens 'n kort oorsig van die gebeure gedurende 2009 en daarna wat die Hervormde Kerk se diepste wese blootgelê het, ons van selfregverdiging gestroop het en ons soos 'n Jakob van ouds na die gebeure by Pniël mank gelaat het (Gn 32:31).

Omdat die skrywe baie lank is, word van die inhoud puntsgewys weergegee:

1. Die kerklike afskeiding beslaan meer as 'n 1000 woorde van die brief en breedvoerig word aandag gegee aan die aanloop tot Besluit 54 van 2010, die buitengewone Algemene Kerkvergadering van 2011, die pynlike kerkskeuring wat families en vriende van mekaar vervreem het, die totstandkoming van die steedsHervormers-beweging, die Status Confessionis teen die NHKA, die stigting van die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GBHG), asook die uitgerekte litigasieproses met 'n hofdatum ten tye van die skrywe wat op 17 Februarie 2020 vasgestel is.

2. Die hertoelating tot die WCRC en die gepaardgaande opheffing van hul Status Confessionis wat sedert 1982 teen die NHKA gestaan het, word vervolgens behandel. Al die voorwaardes wat die WCRC gestel het en hoe die NHKA daaraan voldoen het, word uitgestippel. Uiteindelik word genoem hoe die KommAKV op 16 Mei 2014 'n verslag van die WCRC behandel waarin die NHKA tot die WCRC toegelaat is.

3. Ter wille van die feit dat Albert Geyser 'n prominente plek in hierdie artikel het, word die gebeure met Geyser-gedenklesings meer breedvoerig weergegee. Op 17 Februarie 2014 het prof. JA Loader, dekaan en emeritusprofessor van die Universiteit van Wene, die eerste Geyser-gedenklesing as gas van die Departement Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria aangebied. Die tweede gedenklesing oor spiritualiteit is deur prof. Pierre de Villiers aangebied - wat niks met Geyser direk te doen gehad het nie. Dr WA Dreyer, Hervormde kerkhistorikus aan UP en in daardie stadium voorsitter van die Kommissie van die AKV, het by dié geleentheid kortliks die historiese agtergrond van prof. Geyser se lewe en werk beskryf. Dit is die daaropvolgende jaar (2015) in uitgebreide formaat gepubliseer onder die titel In pursuit of justice: Albert Geyser's story as told by the media.6 Die derde Geyser-gedenklesing is deur dr WA Dreyer op 12 Maart 2017 as deel van die Eeufeesviering van die Fakulteit Teologie aangebied. Dit is in HTS Teologiese Studies gepubliseer (sien Dreyer 2017). Tydens hierdie geleentheid lewer die voorsitter van die AKV, dr A.G. Ungerer, 'n groeteboodskap.7

4. Die voorlaaste gedeelte van die skrywe geskied onder die opskrif 'uitstaande kwessies' waarin daar na die skrywes sedert 2008 verwys word en die eise wat daarin verwoord is. Daar word verwys na die opheffing van Artikel III en dat daar vir mense van ander rassegroeperinge geen belemmering is om eredienste by te woon en lidmate van die NHKA te wees nie. Verder word die besluite van die 69ste AKV, die Buitengewone Algemene Kerkvergaderingvan 2011, asook die ekumeniese handelinge met die WCRC genoem. Daar word voorbeelde genoem van hoe die NHKA op ekumeniese vlak met kerke in die RSA en Afrika saamwerk.

Dan volg die laaste paragrawe onder die opskrif 'Rehabilitasie en eerherstel' wat net so weergegee word:

Uit u skrywes blyk dit dat u instem dat proff. Van Selms, Stoop en Loader gerehabiliteer is. Uitstaande is dus prof. AS Geyser en ander medestanders waaronder uself tel.

Die Kommissie het op sy vergadering van 7 en 8 Maart 2019 besluit om onvoorwaardelik en ondubbelsinnig proff. AS Geyser, CJ Labuschagne en alle ander medestanders (ook lidmate en predikante van die NHKA) uit die sestigerjare om verskoning te vra vir die leed wat die Kommissie van die AKV u aangedoen het Die Kommissie besef dat u almal in terme van u gewete en verstaan van die evangelie van Jesus Christus gehandel het. U het nie geskroom om die Kerk aan te spreek en kerklike besluite te kritiseer nie. Daarvoor moes u persoonlik 'n hoë prys betaal. Die Kommissie het geen twyfel dat u as reggeaarde dienaars van die Woord gehandel het nie, en wil u as sodanig in ere herstel. Dit beteken dus dat wat die NHKA en die Kommissie betref, prof. AS Geyser en uself, prof. CJ Labuschagne, volledig gerehabiliteer is.

Met die skryf van die woorde in bostaande paragraaf het daar vir my 'n kairosoomblik aangebreek wat my diep geraak het. Die intensiteit en betekenisvolheid daarvan is byna oorweldigend - die hoopvolle versugting dat u hierdie skrywe sal ontvang en werklik vredevolle berusting sal vind in die wete dat hierdie gebeure van die verlede nou agter die rug is.

 

Versoening

Op 03 April 2019, 'n dag voor Labuschagne se negentigste verjaarsdag, word die volgende skrywe ontvang (NHKA 2019b:35):

In die tussentyd het ek julle uitvoerige skrywe van 26 Maart met blydskap en ontroering gelees. Nou kan ek die betreffende hoofstuk in my lewe definitief afsluit.

Ek is groot dank verskuldig aan die kollegas wat die afgelope tien jaar gedurende die kerk-krisis alles in hul vermoë gedoen het om de (sic) eerherstel van die dissidente uit die jare sestig ernstig te neem. Daarin het jy 'n prominente plek ingeneem.

Vir my kom die rehabilitasie net op tyd omdat my lewe nou onomkeerbaar ten einde begin te loop. Die verbittering het plek gemaak vir versoening en vergewing.

Op dieselfde dag (03 April 2019) sluit sy dogter Trudie Labuschagne by sy dankbetuiging aan met 'n e-pos wat van haar ontvang word: 'Fijn dat mijn vader op zijn oudjaarsdag voor zijn negentigste verjaardag dit hoofdstuk kan afsluiten. En wij met hem!'

 

Goed genoeg en betyds genoeg?

Die betyds-genoeg-vraag word eerste beantwoord.

Casper Jeremiah Labuschagne, gebore op 04 April 1929 te Heilbron in Suid-Afrika sterf op 05 Oktober 2019 te Haren in Nederland. Die 'Dankdienst voor zijn leven en werk' het in die Dorpskerk te Haren op 12 Oktober 2019 plaasgevind en in sy begrafnisbrief verskyn, onder meer, die volgende beskrywing van sy loopbaan:

  • Voormalig senior lektor Semitiese Tale, Universiteit van Pretoria

  • Emeritus hoogleraar Oude Testament, Rijksuniversiteit Groningen

  • Voormalig predikant van de Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ontslagen in 1967, eerherstel in 2019

  • Emeritus predikant van de Presbyteriaanse Kerk van Zuid-Afrika

  • Emeritus predikant van de Protestantse Kerk in Nederland

Die goed-genoeg-vraag wentel om die versugting dat die eerherstel tydens 'n Algemene Kerkvergadering moes geskied het. Synde die tydraamwerk van die gebeure sou die 72ste AKV van Oktober 2019 die aangewese geleentheid hiervoor wees. In 'n skrywe aan die KommAKV van 28 Februarie 2019 wat in die agenda van Maart geplaas is, het ek versoek dat die Kommissie dit sou oorweeg (NHKA 2019a:29): ' dat ons die saak met die 72ste AKV aan die orde sal stel om dr Labuschagne en ander oorlewendes/oorledenes se name in ere te herstel'. Daarvoor was die KommAKV nie te vinde nie, hoewel daar tog met groot dankbaarheid vermeld kan word dat die Kommissie wel in Maart besluit het dat 'n versoenende skrywe aan Labuschagne gestuur kon word. Die skrywe van 26 Maart 2019 is tydens die vergadering van Junie 2019 bekragtig (NHKA 2019b:29-35).

Oor die goed-genoeg-vraag kan daar dalk steeds 'n verskil van mening wees. Van Aarde se appèl staan steeds dat die skrywe aan Labuschagne 'n sinodale besluit moet wees. Dit sou nog steeds kon gebeur - veral in reaksie op 'n artikel soos dié waarin die vergrype van die verlede, asook die versoenende gebeure met Labuschagne onder die aandag van enkele belangstellendes gebring is. Die Kerkorde (2022:43) onder Ordinansie 4.4.4. maak ruim voorsiening vir, onder meer, rade van die Kerk om beskrywingspunte in te dien. Dit geld ook vir Van Aarde se pleidooi betreffende die ketterjag teen hom. In welke mate een of beide van hierdie kwessies in die notule van komende Algemene Kerkvergaderings gaan reflekteer, sal net die tyd leer.

 

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

A.G.U. is die enigste outeur betrokke by die skryf van dié artikel.

Etiese oorwegings

Die artikel voldoen aan alle etiese vereistes vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel het geen befondsing van enige befondsingagentskap in die openbare, kommersiële of niewinsgewende sektore ontvang nie.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing nie, aangesien geen nuwe data in die studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Dommisse, E., 2005, Anton Rupert, 'n lewensverhaal, Tafelberg-Uitgewers Beperk, Kaapstad.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2016, 'Heretic or rebel? The heresy trial of Albert Geyser', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 72(4), a3745. https://doi.org/10.4102/hts.v72i4.3745        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2017, 'There is only one Church! Albert Geyser's ecclesiology in delayed action', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 73(1), 4598. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4598        [ Links ]

Geyser, A.S., 1960, 'Die eerste evangelie oor die eenheid van die kerk as Christusgetuienis', in A.S. Geyser & B.B. Keet (reds.), Vertraagde aksie: 'n Ekumeniese getuienis vanuit die Afrikaanssprekende kerk, pp. 5-11, uitgegee deur die redakteurs, Pretoria.         [ Links ]

Kerkorde van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 2022, Gewysig en vasgestel volgens die besluite van die 73ste Algemene Kerkvergadering van 2022, viewed 24 July 2023, from https://nhka.org/wp-content/uploads/2023/04/Kerkorde-73ste-AKV-3.pdf.         [ Links ]

Labuschagne, C.J., 2011, Beyers Naudé-Lesing, Rijksuniversiteit, Groningen.         [ Links ]

Labuschagne, C.J., 2014, Koerantuitknipsels, vol. I, II & III, NHKA Argief, Pretoria.         [ Links ]

NHKA, 1962, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 8 Mei 1962, Bevindinge en uitspraak met betrekking tot die klag teen Prof A.S. Geyser, pp. 1-18, NHKA Archives, Pretoria.         [ Links ]

NHKA, 2017, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Agenda van 7 - 8/09/2017, NHKA Argief, Pretoria.         [ Links ]

NHKA, 2019a, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Bylae L, 7 - 8/03/2019, NHKA Argief Pretoria.         [ Links ]

NHKA, 2019b, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, Agenda 6/7 Junie 2019, NHKA Argief Pretoria.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., 2017, 'Albert Geyser's resignation speech on 03 September 1968', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 73(1), a4647. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4647        [ Links ]

Van Aarde, A.G., 2021, Andries van Aarde se geestelike reis na iewers: Bybelgesag, spiritualiteite en politiekerye, LitNet, besigtig 04 April 2023, van https://www.litnet.co.za/andries-van-aarde-se-geestelike-reis-na-iewers-bybelgesag-spiritualiteite-en-politiekerye/.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., De Villiers, P.G.R. & Buitendag, J., 2014, 'The forgotten struggle of Albert Geyser against racism and apartheid', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1), 2820. https://doi.org/10.4102/hts.v70i1.2827        [ Links ]

 

 

Correspondence:
André Ungerer
andre.ungerer@up.ac.za

Received: 12 Apr. 2023
Accepted: 21 June 2023
Published: 01 Dec. 2023

 

 

Research Project Registration:
Project Leader: A. Ungerer
Project Number: 82329542
Description: This research is part of the project, 'Contextualized Reformed Theology in South Africa', directed by Dr Andre Ungerer of the Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria.
1. Prof. WA Dreyer is sedert Oktober 2022 moderator van die NHKA en dalk sou 'n versoek soos dié byval vind.
2. Tipies van baie sulke skrywes waarop daar heen en weer 'reply' word met die voordeel dat al die korrespondensie ter insae is.
3. Die strekking van hierdie vraag word later in die artikel behandel.
4. Het doctoraalexamen, kortweg het doctoraal, was het examen waarmee in de regel studenten in het Nederlandse wetenschappelijk onderwijs die voor 2003 begonnen, hun studie afsloten. Het behalen van dit examen hield veelal in dat men aan een serie studie-eisen moest voldoen. Hierna kreeg de student bij een openbare plechtigheid de bul (https://nl.wikipedia.org/wiki/Doctoraalexamen).
5. Prof. Wim Dreyer het by geleentheid by prof. Labuschagne besoek afgelê en drie van die plakboeke wat onder meer met die oog op hierdie artikel bestudeer is, aan die argivaris van die NHKA oorhandig.
6. https://www.upjournals.co.za/index.php/SHE/article/download/396/459.
7. https://www.researchgate.net/publication/318714521_Third_AS_Geyser_Commemorative_Lecture_on_30_March_2017_Welcoming_addre ss_by_the_moderator_of_the_executive_of_the_General_Assembly_of_the_Netherdutch_Reformed_Church_of_Africa

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons