SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.79 issue1An exegesis of the parable of the Good Samaritan (Lk 10:25-35) and its relevance to the challenges caused by COVID-19 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.79 n.1 Pretoria  2023

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v79i1.8720 

ORIGINAL RESEARCH

 

God, vertroue en twyfel: Die vroue in die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog

 

God, trust and doubt: The women in the concentration camps of the Anglo-Boer or South African War

 

 

Ignatius W.C. van Wyk

Department of Historical and Systematic Theology, Faculty of Theology an Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Many books and articles have been written on the religious concept of the Afrikaner women who suffered in and survived the concentration camps during the Second Anglo-Boer War (1899-1902) in South Africa. It seems as if nothing has been written, though, on their image and understanding of God. This article is an attempt to close the gap in the research. These women's understanding of God was mainly shaped by the Old Testament. They saw the two Boer republics as the new people of God, elected to exist in freedom, as independent states. To them, God was the God of justice and righteousness, who will defend his chosen people from oppression. The defeat on the battlefield caused a crisis of faith among many women. The war diary of Johanna Brandt (née Van Warmelo) offers useful information about the women's faith and the shattering of their faith. In the second part of this article, Lutheran perspectives on the God of the Bible and man-made idols are provided as a Christian alternative to the faith of our forefathers. The Psalms and the prophets are also revisited to point out the presence of God, as well as the ethical consequences of the Jewish-Christian religion.
CONTRIBUTION: This is probably one of the first articles written on women's understanding of God, women who were confined to the concentration camps during the Anglo-Boer War of 1899-1902. The main emphasis falls on Johanna Brandt (née Van Warmelo), who was an assistant nurse in the Irene camp, on the outskirts of Pretoria. She formulated her and the other women's belief in the God of justice. Their understanding of God motivated them to endure the hardships and thousands of deaths in the camps

Keywords: Anglo-Boer war; concentration camps; faith; first commandment; doubt; God's presence Psalms.


 

 

Inleiding

Die Afrikaners, wat die Groot Trek meegemaak het, en hulle nasate, wat hulle in die twee ou Boere-republieke van die Transvaal en Vrystaat gevestig het, was oor die algemeen diep gelowige mense. Godsdiens, veral in ʼn bepaalde 'Calvinistiese gestalte'1 (Grobler & Grobler 2013:I), was ʼn wesenlike aspek van hulle bestaan. Dit is interessant dat daar, na die beste van my wete, nie artikels of boeke spesifiek oor hulle Godsbegrip geskryf is nie. Oor hulle godsdienstige lewe is daar natuurlik baie geskryf. Die Suid-Afrikaanse Oorlog, ofte wel die Anglo-Boereoorlog (11 Oktober 1899 - 31 Mei 1902) was ʼn traumatiese gebeure wat nie uit die geheue van die Afrikaner gevee sal word nie. Dit is veral die konsentrasiekampe met hulle nagenoeg 35 000 slagoffers van ouer mans, vroue en kinders wat nie vergeet sal word nie.

Die vraag wat hier bespreek word, is die volgende: Wat het die Boerevroue oor God geglo, en hoe het die bittere lyding in die kampe, die oorgawe aan die vyand, asook die verlies van hulle vryheid, hulle geloof in God geraak? Was daar twyfel, kritiese refleksie oor die inhoud van hulle geloofsoortuigings en pogings om hulle Godsbegrip te verruim? Dit word afgesluit met ʼn alternatiewe aanbod vanuit die Bybels Reformatoriese teologie, aangesien die vorige heuristiek problematies is.

 

Die lyding van die vroue en kinders

ʼn Volledige beskrywing van die lyding voor, tydens en na die konsentrasiekampe (1901-1902) is vanselfsprekend nie hier moontlik nie.2 Nogtans is enkele kort opmerkings nodig om iets van die onmenslikheid van die oorlog en die kampe3 te belig.

Die konsentrasiekampe4 was deel van die 'verskroeideaardebeleid'.5 Die huise en plase van die Boerekrygers is afgebrand, die diere is doodgemaak, en die vroue en kinders is weggevoer na die konsentrasiekampe toe. Die onmenslikheid van die hele strategie is ʼn Britse skandaal, en volgens Johanna Brandt (née Van Warmelo) (red. Grobler 2007:429), ʼn hoogtepunt in barbarisme.6 Daar was selfs gerugte van ʼn vrou en haar sewe kinders naby Krugersdorp wat lewend binne-in die huis verbrand is (Brandt in red. Grobler 2007:72). Nog ʼn onmenslikheid was die ritueel om foto-albums ten aanskoue van die plaasbewoners te verbrand, ʼn doelbewuste wrede daad om alle herinneringe aan geliefdes uit te wis (Brandt in red. Grobler 2007:94). Die doelwit van die Britse soldate met die verbranding van al die bale wol en implemente op die plase, was om boere vir geslagte lank te verarm (Brandt in red. Grobler 2007:132, 186). As ʼn daad van ontmensliking is talle vroue en kinders doelbewus in vuil en oop beestrokke weggevoer. In die kampe is kinders se troeteldiere wreedaardig geslag (Grobler & Grobler 2013:101). Volgens Johanna Brandt was die vroue se toestand van aanhoudende vernedering, gepaardgaande met hulle plig tot liefde vir die vyand, ʼn onmoontlike eis, wat hulle lyding as gelowiges net vererger het. Die stryd teen die haat en drang tot vergelding, was ʼn daaglikse marteling (Brandt in red. Grobler 2007:74 en 94). Die rituele verkragting van talle vroue, selfs met behulp van gehuurde swart mense, was so dierlik dat min vroue die moed gehad het om hieroor te skryf (Brandt in red. Grobler 2007:258). In die kampe was ondoelmatige tente, gebrekkige ablusiefasiliteite, onvoldoende medikasie, en dan was daar ook die soldate se gedurige spotterny met die vroue se godsdiens (Grobler & Grobler 2013:3). Vanselfsprekend was daar ʼn verlange na vrede, maar slegs vrede in eer. Oorgawe sou vrede in oneer wees, en daarom het die vroue martelaarskap gekies (Brandt in red. Grobler 2007:108).

Die vaste geloofsvertroue van die Boervroue

Die meeste van die oorlewendes getuig dat hulle godsdiens hulle deur al die beproewinge heen gedra het. Daar moet egter nie aanvaar word dat alle vroue en krygers gelowiges was nie. Daar is talle getuienisse dat ʼn hele aantal vroue en mans geen waarde aan godsdiens geheg het nie. Die vraag is egter wat hierdie 'Afrikaner-godsdiens' behels het? Die belangrikste aspekte van hulle verstaan en beoefening van godsdiens was die volgende:

  • Die lees van die Bybel, en hoofsaaklik die Ou-Testamentiese Psalms en profete. Johanna Brandt het byvoorbeeld Psalm 88 as haar eie persoonlike klaaglied gelees (red. Grobler 2007:77). Brandt wys egter ook daarop dat haar broer Dietlof een van die min krygers was wat ʼn Bybel by hom gehad het (red. Grobler 2007:152).

  • Selde word daar na die Nuwe Testament verwys. Direkte verwysings na Jesus Christus is seldsaam. Johanna Brandt (red. Grobler 2007:416) wys wel daarop dat Kersfees drie keer onder krygswet plaasgevind het, maar selfs vir haar was die rusdag die Sabbat en nie ʼn Sondag nie. Die begrafnisgangers het dikwels die lied 'En het eind zal zeker zalig zijn' gesing (red. Grobler 2007:271). In hoe ʼn mate die vroue hierdie lied Christologies verstaan het, is nie seker nie, maar die Nederlandse teologiese tradisie suggereer dat daar wel ʼn mate van Christologiese denke teenwoordig moes gewees het.

  • Daar is ook wel gehoop op die eindoordeel as troosmotief en die versugting na uiteindelike geregtigheid. Hierdie motief het egter sy wortels in die profeteboeke wat graag deur die vroue gelees is. In die gesange is daar oor die eskatologiese saligheid gesing.

  • Die orale tradisie rakende Bloedrivier was ook ʼn belangrike aspek van hulle godsdiens. Hulle het geglo dat die Afrikanerstryders van die twee Boererepublieke die nuwe uitverkore volk was, en dat hulle daarom wel die oorlog sou wen. Die God van reg was hulle God, en Hy was die waarborg dat hulle as oorwinnaars uit die stryd sou tree. Hulle hoop was gemik op die voortsetting van hulle politieke vryheid, en hierdie vryheid kon slegs deur ʼn militêre oorwinning verseker word. Die lyding en doodsmarte in die kampe was vir hulle draaglik, aangesien hulle dit as hulle liefde-offers in die vryheidstryd van die twee Boererepublieke beskou het. Hulle het vas geglo dat die vryheid en onafhanklikheid van die republieke deel van God se goeie wil is, en dat Hy hulle uiteindelik die oorwinning sal laat smaak.

  • Daar is, merkwaardig genoeg, baie godsdienstige aktiwiteite in die kampe toegelaat. Eredienste en Sondagskool is gereeld gehou. In sommige kampe is mense selfs toegelaat om eredienste op die naaste dorp by te woon. Die beoefening van godsdiens het dus ʼn groot deel van hulle bestaan in die kampe gevul (vgl. Changuion 2022:112-126; Grobler & Grobler 2013:88-89). Teen die einde van die oorlog sou die gereelde begrafnisse hulle dae in beslag neem.

 

Geloof en die hantering van lyding

Die uitstaande kenmerk van die vroue se godsdiensverstaan was dat hulle geloof hulle gehelp het om die swaar lyding te verduur. Ondanks al die smarte, het hulle bly glo dat die God van hulle vertroue vir hulle goed was, en dat daar geen rede is om hulle vertroue in Hom prys te gee nie. Kritiese denke oor hulle Godsbegrip het nie juis voorgekom nie. Hulle vroomheid het inderdaad min ruimte gelaat vir wantroue en kritiese denke. Die volgende aanhalings dien as illustrasie: In ʼn brief, waarskynlik uit die eerste helfte van 1901, skryf generaal Smuts (in Wessels & Raath 2012) aan president Steyn:

Wat my egter die meeste verwonder, is die onbreekbare volharding van die mishandelde vroue; hierdie volharding, so tragies, so verhewe skoon, spruit nie alleen uit ʼn onwankelbare geloof in die groot toekoms wat ons volk tegemoet gaan nie, maar ook ʼn vaste vertroue op God. Iemand het my vertel dat terwyl ʼn Britse offisier besig was om ʼn huis met alles wat daarin af te brand, die vrou haar kinders bymekaar geroep het en buite 'Prijs den Heer met blijde galmen' gesing het. (p. 130)

Kort na die oorlog skryf A.S. du Toit (in Wessels & Raath 2012) oor haar wedervaringe, soos die afbrand van die huis en die lang ritte in beestrokke die volgende:

Baie moeilikhede het voor ons gelê, maar na al die bitterheid en droefheid wat ons deurgemaak het, dank ek die Here vir al sy seëninge en die krag wat ek ontvang het om alles te dra en te volhard. (p. 148)

C.J. Bronkhorst (in Wessels & Raath 2012:90) vertel dat 'die liewe Heer het my wonderlik geseën. Geen enkele kind moes ek deur die dood afgee nie, hoewel twee van my kleinkinders in die kampkerkhof lê'. Ook E. Wepener (in Wessels & Raath 2012) het oor die verskriklike lyding en dood van die kinders geskryf, maar stel dan nogtans:

Dit was vir ons verskriklik om die lyding en droefheid van so baie te sien. Vir ons het die Here wonderlik geseën; ons was ook siek, maar deur sy goedheid het almal herstel. (p. 159)

M. Els (in Wessels & Raath 2012:102) skryf na aanleiding van die uithongering van die kampinwoners in Brandfort dat al wat hulle kon doen, was 'om saam te huil, te bid en Psalms te sing'. Die bede van A. de Jager (in Wessels & Raath 2012:252) ná die oorlog lui: 'Die treurige tyd is nou verby Die Here gee dat vir ons as volk die verdrukking ons nader tot Hom mag bring en inniger aan Hom verbind'.

 

Geloofsvertroue en die stryd met vergifnis en wraak7

Die vroue is veral deur die dood van hulle kinders beproef. Hulle was in ʼn stryd gewikkel om te vergewe en die emosie van wraak te onderdruk. B. Greyling (in Wessels & Raath 2012) skryf, nadat haar laaste oorlewende kind, Anna, op 24 Januarie 1901 gesterf het:

O, die leë tent! Solank ek leef, sal ek dit nooit vergeet nie. Glo vir my, daar is baie genade nodig om te sien dat jou laaste kind in die graf gelê word. (p. 192)

H. Jacobs (in Wessels & Raath 2012) berig soos volg oor die begrafnis van die seuntjie van T. Niemand wat in die kamp doodgeskiet is:

Van die lippe van die moeder het hierdie woorde geval: 'O God, my kind! Jou onskuldige bloed roep om wraak!', en ons het maar veilig in Jezus armen gesing. (p. 195)

Die oorsprong van hulle lyding en die dood van hulle kinders, het die vroue nie by God gesoek nie. Die teodiseeprobleem, in terme van ʼn aanklag teen God se goedheid, was totaal afwesig. Die oorsprong en rede vir al die lyding is na die boosheid van die Britse regering en soldate teruggevoer. Hulle is as 'boos' en as die 'kinders van Satan' beskryf (vgl. Steenkamp 1941:71-73). Selfs heelwat later berig E.M. van der Walt dat daar ná die oorlog beloftes van skadevergoeding was. Sy het aansoek gedoen, maar niks ontvang nie; dan skryf sy (in Wessels & Raath 2012:72): 'Wel, as die Engelsman in vredestyd nie kan doen wat reg is nie, hoe kan dit van hom verwag word om in oorlogstyd reg te doen?' Die dood van die kinders is slegs deur enkelinge bedink, aangesien die gedagte van die verlossing uit die lyding wat deur die Engelse veroorsaak is, vir hulle voldoende was.

Daar was ook onder die vroue vreugde oor die 'terugsteel' van die beeste van 'hands-uppers'. Weerwraak teen hierdie tweede vyand is nie as ʼn oortreding gesien nie, aangesien hulle blameer is vir die uitgerekte oorlog (vgl. red. Grobler 2007:223, 239, 443). Die intense haat teenoor die verraaiers is as geregverdig beskou, en glad nie as ʼn oortreding van die liefdesgebod nie.8

 

Die vryheidstryd en die God van reg en geregtigheid

Die vaste geloofsvertroue van die vroue het op die God van reg en geregtigheid berus. Hulle was absoluut seker dat die Britse inval in die twee republieke ʼn daad van onreg9 was. Hulle militêre weerstand is begrond in die edel deug van stryd om reg en geregtigheid, en hulle God, die God van reg en geregtigheid, sou aan hulle die oorwinning oor die destydse supermoondheid gee. Kritiese vrae oor God, voor en tydens die oorlog, was daarom nie ʼn denkmoontlikheid nie.10

Johanna Brandt (née Van Warmelo)11 was die persoon wat die Godsbegrip van die Boerevroue die beste geformuleer het. Haar uitsprake geniet daarom voorkeur in die daarstelling van die Godsbegrip van die Boerevroue. In Januarie 1901 maak sy die eerste belangrike uitspraak oor die boere se motivering vir die oorlog, asook haar en haar volksgenote se Godsbegrip. Sy betwis die aanklag dat die oorlog gevoer word op grond van valse hoop en beloftes, en stel haar saak (in red. Grobler 2007) soos volg:

Ah, dear diary, I can tell you what is keeping them in the field - faith in a God of Justice, love of independence and a determination to have it, and a bitter hatred of British rule, to which they will never bow after all that has happened Our hearts may bleed for the innocent victims of England's 'drastic measures' but we and our children will thank God for them in the years to come, for nothing can wipe out the bitter feeling now. (pp. 64-65, outeur se beklemtoning)

Op 23 April 1901 vertroos sy haarself en ander (in red. Grobler 2007:167-168) deur Jesaja 41:10-14. In hierdie woorde kry sy opnuut die waarborg dat die God van geregtigheid haar volk sal bewaar en beskerm. In Jesaja 37:31 kry sy die versekering dat die res12 wat oorbly na die oorlog wortel sal skiet en nuwe vrugte sal dra. Selfs na talle ontstellende berigte van veldslae wat verloor is, skryf sy (in red. Grobler 2007) op 01 Mei 1901:

But these things I store away in my heart of hearts and it is just because they are so bad that I take courage and remember that it is darkest before dawn and that crimes like these will not be allowed to go on for ever. There is a God of Justice still - I know it, I feel it though everything is so dark and incomprehensible to me just now. (p. 183)

 

Die eindoordeel as troosmotief

Iemand wat op die God van reg en geregtigheid steun, sal noodwendig ook op die finale oordeel van God steun. Die eindoordeel is as troosmotief hanteer, as troos dat die onreg wat hulle en hulle kinders aangedoen is, uiteindelik wel gestraf sou word. A.M. du Toit (Wessels & Raath 2012:109) roep uit ná die verwoesting van die konsentrasiekamp van Bethulie sodat net die grafte oorgebly het: 'God weet daar alles van!', en hierdie wandaad sal nie ongestraf gelaat word nie. M. Ferreira (in Wessels & Raath 2012) skryf na aanleiding van hulle verskuiwing na Volksrust in Februarie 1901:

Waarlik, as ek so sit en nadink oor al die dinge, dan wil ek nie glo dat die Here die gruweldade ongestraf sal laat bly nie In die kamp is ons afgelaai sonder kos om te eet en sonder iemand wat hom oor ons bekommer. Ek het nie geweet wat van ons sou word nie, maar ons liewe Heer sien alles: Ons God slaap nie. (p. 217)

Johanna Brandt het soms gekla oor die skynbare afwesigheid van God, maar het dan tog ook haar toevlug tot die eindoordeel geneem. Sy was oortuig dat die God van oordeel nie net finaal oor die Engelse wandade sal oordeel nie, maar dat die magtige Engeland as sodanig ten gronde sal gaan weens hulle onreg en ongeregtigheid (vgl. red. Grobler 2007:391).

 

Is God se straf regverdig?

Die vroue het deurgaans aan die motief van straf aandag gegee. Hierdie Bybelse motief het die denkraamwerk vir hulle worsteling met hulle lyding gevorm. Hulle was oortuig dat hulle lyding, onder meer, aan God se straf toegeskryf moet word. Redes vir die straf kon hulle nie juis vind nie. Die enigste rede wat ter sprake gekom het, was hulle ontrouheid aan die geloftes wat hulle voorgeslagte afgelê het. Hulle het met ander woorde nie volhardend genoeg aan hulle uitverkorenheid geglo, en die God van reg en geregtigheid nie met oorgawe gedien nie. God se straf het dus swaar op hulle gerus, en hulle kon slegs om versagting bid. Hulle kon só bid, aangesien hulle ook die liefde en genade van die God van die toorn geken het. Alie Badenhorst (1939) het op 31 Maart 1901 soos volg in haar dagboek oor hierdie tema geskryf:

Om die smart wat ek in hierdie dae ondergaan het te beskrywe, is my onmoontlik Ja, die Heer lê sy straffende hand nie meteens so swaar op ons dat ons dit nie kan verdra nie, maar Hy giet die onheile druppel vir druppel op ons uit. Daardeur toon Hy Sy liefde, selfs wanneer hy ons ʼn bitter beker laat drink. Dan smeek sy tog met die Psalmis: 'O God! Straf U ons in U grote toorn? Kasty U ons in U grimmigheid? Wees ons tog genadig en verdoem ons nie van die aarde af nie!' (pp. 167 en 249)

Of die meeste vroue (buiten Johanna Brandt) die liefde en die genade van God ook vanuit die Nuwe Testament bedink het, is onseker. Verdere argiefnavorsing sal nodig wees om hierdie vraag te beantwoord.

 

Oorlogsverliese en die begin van vertwyfeling

Teen die einde van die oorlog, nadat talle veldslae verloor is, het Johanna Brandt (née Van Warmelo), as bittereinder en Christen, ook die verliese aan Engelse kant betreur, aangesien dáár ook weduwees en weeskinders gaan wees. Nogtans bid sy vir groot, wonderbaarlike suksesse op die slagvelde sodat die oorlog spoedig kan eindig. Enduit het sy geglo dat God hulle sal help, al blyk dit dat alles verlore sou wees (red. Grobler 2007:419). Oorgawe was by haar nie ʼn denkmoontlikheid nie, aangesien die oorlog oor die vryheid van land en volk gegaan het, waarvoor God borg gestaan het. Daarom wou sy eerder met eer in ʼn onbekende graf lê, as ná die oorlog oneervol in ʼn huis sit (red. Grobler 2007:356).

Op 11 April 1901 skryf sy (in red. Grobler 2007) teen die agtergrond van berigte oor ballingskap en verliese in die oorlog:

[O]ne cannot help wondering how such things can be permitted. It is not easy to keep one's faith in these dark and dreadful days but please God, I shall not yield to these sinful doubts that assail me now and then. It would be sad indeed if my great love of fatherland had to be the cause of my disbelief - and that is what it would be, for only those who really love their country feel its desolation and ruination enough to lose faith in a God of Justice. (p. 142)

Soos alreeds gestel, het Brandt die Ou Testament goed bestudeer en geweet dat die motief van die 'res' as ʼn 'troosmotief' by die eksiliese en na-eksiliese profete ʼn belangrike rol gespeel het, en dat hierdie 'troosmotief' ook vir haar volk waarde kon inhou. Namate die besef toegeneem het dat die oorlog verloor gaan word, het haar denke op die 'res-gedagte' gefokus, aangesien sy daarin die hoop gesien het wat opgesluit lê in die verborgenhede van die toekoms. Op 22 April 1901 skryf sy (in red. Grobler 2007) na aanleiding van ʼn massamoord op 30 boere en hulle gesinne:

O God, O God, where is it all to end? We call upon God, but in our heart of hearts we know it is in vain. The hand of the Lord is against us - there is no hope for us, no help in Heaven or on Earth - struggle as I will I am beginning to realize the bitter truth. The enemy will triumph over us but - by the Lord we shall rise again - ten, twenty, fifty years hence perhaps, but I shall live to see it. I shall live to send my husband and sons as I have sent my brothers, to fight for land and people and independence. (p. 164, outeur se beklemtoning)

Johanna Brandt se vertroue het stadig maar seker begin plek maak vir wanhoop. As wanhopige het sy, onder meer, op grond van Habakuk 2:2-3 na visioene begin gryp, wat boodskappe van wonderbaarlike ingrypings deur God kon waarborg (red. Grobler 2007:366-367). Teen die einde van die oorlog sou sy, soos wat sy op 22 April 1902 self skryf, haar toenemend op die spiritisme, drome, openbarings en beskermengele verlaat (vgl. red. Grobler 2007:448-452).

In die lig van wat sy as 'die hel van die konsentrasiekamp van Irene, 12 Mei 1901 tot 07 Junie 1901' beskryf, het sy aan die probleem van teodisee begin raak. Sy vra dieselfde vraag as dié een wat Fjodor Dostojefski13 gevra het, naamlik hoekom die kinders ook moet ly? Volgens Brandt (in red. Grobler 2007:212), is die lyding van grootmense nie so erg soos dié van kinders nie, aangesien hulle geleer het om lyding deur geduld14 te hanteer. ʼn Moontlike antwoord op die vraag hoekom God die lyding van kinders toelaat, het sy egter nie gebied nie. Die mees merkwaardige van Johanna Brandt was dat sy op 02 Februarie 1902 so te sê bely het dat die God van liefde en genade hulle nie in die steek sal laat nie. So het sy deur al die warboel van emosies in die konsentrasiekamp van Irene uiteindelik nie vertroosting in die God van reg en geregtigheid gevind nie, maar in die God wat liefde is (red. Grobler 2007:434).

 

Alles verlore: Die vrees vir die moontlikheid van ʼn afwesige God

Daar was naas Johanna Brandt tog ook enkele vroue wat kritiese vrae oor God gevra het.15 Hierdie kritiese vrae was nie filosofies van aard nie, aangesien hulle, op voetspoor van die wanhoopsvrae wat hulle in die Psalms raakgelees het, die vrae gestel het. Tant Miem Fischer was, sover vasgestel kon word, een van die min vroue wat twyfelend geloofsvrae gevra en geloofskritiese opmerkings16 in die konsentrasiekamp gemaak het. In haar Kampdagboek: Mei 1901 - Augustus 1902 (2000) kan die volgende gelees word:

2.6.1902: Ek wil en móét nog lewe, en lewe om te sien of die woorde 'My God, my God, waarom het U ons verlaat' waarlik op ons kinders van toepassing sal wees. (pp. 119-120)

3.6.1902: Kan dit wees dat die God wat ons vaders uit soveel ellende gehelp het, nou nie meer barmhartig wil wees nie? Wat van al die gebede, die smekinge wat al die maande opgestuur is al die ellende in hoop en vertroue op ʼn séker verlossing? Niks, niks van dit alles. As die Heer Hom nie oor al die duisende wil ontferm nie, hoe sal Hy dan een ellendige soos ek gedenk? O, hoe sou die behoud van ons land my geloof versterk het! En nou, nou sê ons vyande: 'Waar is u God op wie u gebou het?' (p. 120)

Ná die oorgawe en vredesluiting was daar vanselfsprekend groot teleurstelling, en was daar kritiese vrae oor die tradisionele Godsbegrip te wagte. J. Kriegler (in Wessels & Raath 2012) skryf wat deur haar en haar dogter Janie se gemoed gegaan het nadat visepresident Schalk Burger hulle ingelig het oor die uitkoms van die oorlog:

My arme dogter Janie! Wat ʼn swaar slag was dit vir haar! Sy was altyd so vol moed en so seker dat die Here ons sou verhoor. En nou? Was daar wel ʼn God? ʼn Lang tyd kon sy nie bid of haar Bybel lees nie, en ek het gevrees dat sy ʼn volslae ongelowige sou word. So was dit met baie mense. Die Here wou vir ons leer dat ons wil nie altyd sy wil is nie en ons moes in sy wil berus, hoe swaar dit ook al was Sou al die opofferings, al die offers tevergeefs wees? Ons kan en wil dit nie glo nie. Op sy tyd sal die Here weer ten goede aan ons dink. (pp. 180-181)

Dit is duidelik dat die geloof van mense soos Fischer en Kriegler, instrumentele geloof was. God is gebruik as instrument om bepaalde kultureel politieke doelwitte te bereik. Wanneer God die volk beloon vir hulle geloof en diens, dan is daar sprake van voortgesette geloof en diens. Wanneer hulle begeertes en verlange nie vervul word nie, dan is daar rede vir twyfel en selfs ongeloof. Die vraag is of die Christelike geloof op hierdie wyse verstaan moet word?

 

ʼn Bybels Reformatoriese besinning oor God en lyding

Dit sal onvanpas wees om nou, ná meer as 120 jaar, op ʼn meerderwaardige wyse oor die geloof en ongeloof van die Boerevroue te oordeel. Om hulle óf lof te besing, óf hulle te kritiseer, is nie die doelwit nie. Wat wel gedoen kan word, is om na aanleiding van hulle roemryke verhaal vir onsself Bybels Reformatoriese riglyne uit te werk waarvolgens ons lyding en onreg vanuit die geloof kan hanteer. Die vraag na regte en verkeerde geloof moet opnuut gestel word sodat valse hoop en vertroue vermy kan word. Om die Boerevroue nou, na al die jare, te probeer teregwys, is nie die bedoeling nie. Ons generasie moet vir onsself duidelikheid kry oor hoe die Psalmboek en die profete gelees moet word sodat die volle rykdom van insig en troos benut kan word in tye van beproewing. Die twee aspekte rakende die Godsvraag wat die vroue in vertwyfeling gelaat het, naamlik God se afwesigheid en teenwoordigheid, sowel as die vraag na sy reg en geregtigheid sal ook deurgaans in hierdie kort besinning aandag geniet. Die tema wat die vroue agterweë gelaat het, naamlik die Christelike etiek, sal noodwendig ook aangeraak word.

Die eerste gebod as maatstaf van regte Godsvertroue

Om ʼn kousale band tussen wense, begeertes, ideale, aspirasies en geloof in God te postuleer, is ʼn resep vir geloofsverlies. Beloningsgeloof, die spel van ek glo en aanbid terwyl God my aspirasies bevredig, is nie ʼn Reformatoriese aanslag nie. Om van God te verwag om aan sekere mense ʼn spesifieke staatsmodel te skenk, en die behoud daarvan te waarborg, is nie met die eerste gebod versoenbaar nie. Martin Luther ([1529] 2014:930-947) het hierdie geloofstrategie krities beredeneer in sy uitleg van die eerste gebod in sy Groot kategismus. Afrikaners (en ander groeperings) sal goed doen om sy uitleg deeglik te oordink, aangesien dié teks die Godsbegrip en die verstaan van vryheid vir hierdie groepering ten diepste raak. Ter wille van die historiese belang van dié teks, word die eerste gedeelte uit die oorspronklike teks, in ʼn vertaalde vorm, aangehaal. Luther ([1529] 2014) beweer:

Vraag: Wat beteken dit om ʼn God te hê, of wat is God? Antwoord: Om ʼn God te hê beteken, om iemand te hê van wie jy alle goeie dinge verwag en in tye van nood toevlug kan neem; verder beteken dit om ʼn God te hê niks anders nie as om Hom van harte te vertrou en te glo; en wel soos ek alreeds dikwels gesê het, dat alleen die vertroue [fiducia] en die geloof [fides] van die hart, beide God en afgod produseer. Wanneer die geloof en vertroue reg is, sal die God ook eg [sincera] wees. En omgekeerd: wanneer die vertroue verkeerd is, sal daar ook nie ʼn egte God wees nie. Dié twee gaan hand aan hande, naamlik geloof en God. Dit waaraan jy jou hart hang, en dit waarop jy jou geheel en al verlaat, dít sal jou God ook wees. (pp. 930-933, [outeur se vertaling])

Luther argumenteer dus dat vertroue en Godsbegrip met mekaar saamhang. Waarop mense hulle vertroue plaas, bepaal of hulle die één ware God, Vader, Seun en Heilige Gees vertrou, en of hulle nie dalk ʼn afgod vertrou nie. Indien die diepste vertroue eintlik ʼn bepaalde staatsmodel is, flikker die rooi ligte. Indien die God van reg en geregtigheid die waarborg vir die voortbestaan van ʼn politieke bedeling sou wees, dan kan die verlies daarvan die geloof in God bedreig. Indien die gewenste politieke bestel verlore is, kan die verwagting wees dat die teenwoordigheid van God betwyfel sal word. In die lig van Luther se waarskuwende woord, moet ons vandag ook vra: Wat en wie vertrou ons werklik? Is dit die God waarna ons belydenis verwys, of is dit ook maar ʼn maatskaplik politieke bestel? Elke indiwidu moet hierdie vraag self beantwoord.

Die eintlike vraag bly egter, wie is die God op wie ons vandag en môre ons vertroue kan plaas? Die insiggewende Eksodus 3:14 (אֶֽהְיֶ֑ה אֲשֶׁ֣ר אֶֽהְיֶ֖ה) kan al ʼn ent help. Die Afrikaanse vertaling van Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2020) lees: 'Ek Is Wie Ek Is'. Die hersiene Luther-vertaling van Deutsche Bibelgesellschaft (2017) lui egter: 'Ich werde sein der ich sein werde17 [Ek sal wees wie Ek sal wees]. Die groot Joodse geleerde Martin Buber het volgens Härle (2022:62) soos volg vertaal: 'Ich werde dasein, als der ich dasein werde / [Ek sal daar wees, soos wat Ek daar sal wees]. Indien Buber korrek sou wees, beteken dit dat God Hom bekend stel as dié Een wat dáár is, en in die toekoms, op sý wyse, ook weer dáár sal wees. Hy sal daar in die toekoms, in die nood, ook weer teenwoordig wees. God se wese lê in sy teenwoordigheid, en in die Deus praesens kan en moet ons ons vertroue stel.

Ons moet God dus nie bind aan ons lewensverwagtings nie. Ook wanneer die lewe anders verloop as wat ons begeer, sal Hy daar wees. Ons moet Hom nie net vertrou as die waarborg vir ons drome nie. God is vry om aan ons die goeie te gee, buite ons menslike aspirasies en drome om.

Die Psalmboek en die teenwoordigheid van die God van reg, geregtigheid en billikheid

Die Psalms was deur al die eeue heen die kosbaarste Bybelboek van gelowiges. Athanasius (295-373 nC) was die eerste invloedryke teoloog wat die waarde van die Psalms besef het. Ook Augustinus, in Boeke IX en X van sy belydenisse, en Calvyn in sy Psalmkommentaar van 1557, het die lof van die Psalms besing (Janowski 2017:3). Martin Luther ([1528] 1991) se tweede voorrede tot die Psalms in 1528, staan egter uit. Hy noem die Psalmboek die 'kleine Biblia', ʼn boek waarin die ganse Bybel saamgevat word, met ander woorde, ʼn 'Enchiridion' of ʼn handboek vir die geloof en lewe. Luther ([1528] 1991:36) verstaan die Psalms as ʼn 'spieël van die menslike eksistensie' en ʼn 'getuienis van die gemeenskap van die heiliges'. In die Psalmboek vind ʼn mens die kerk wat glo, bid, juig en kla; ja, ʼn mens vind jouself met al jou lewensprobleme in hierdie boek opgeteken.

Die Psalms was ook vir die vroue in die kamp ʼn kosbare bron van troos, bemoediging en gebedshulp. In die Psalms kon hulle jubel oor die suksesse van hulle mans op die slagveld, maar daarin kon hulle ook rou by die begrafnisse van hulle kinders. Aan die hand van die Psalms, kon hulle hul verwagtinge in oorlogsukses verwoord, maar ook hulle verslaentheid, vrees en verbittering aan die einde van die oorlog uitspreek. Deur die Psalms kon hulle dus al die emosies verwoord wat ʼn wrede oorlog ontlok. Die vraag wat hier beantwoord word, is die vraag na die teenwoordigheid van die God van reg en geregtigheid in die Psalms, aangesien talle vroue aan die einde van die oorlog met dié vraag geworstel het, en mense vandag en in die toekoms weer hiermee sal sukkel.

Die inleiding tot die Psalmboek (Ps 1 en 2), begin met die sekerheid dat God ʼn regsgeding, of ʼn byeenkoms van regverdiges gaan hou waartydens die goddeloses nie hulle saak sal kan aanbied en verdedig nie, aangesien hulle reeds deur die 'wind weggewaai is', of reeds onder God se toorn vergaan het. Die God van reg en geregtigheid tree met beslistheid op teen 'konings' wat onregmatig teenoor ander optree. Met hierdie eerste sekerheid moet die Psalms gelees word.

Die eerste Psalm van die tweede boek, Psalm 42:12, begin met die uitspraak dat die persoon wat smag na die lewende God, Hom uiteindelik sal loof, aangesien Hy 'deur sy teenwoordigheid verlossing sal skenk' (Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020, outeur se beklemtoning).18 Dieselfde uitspraak word in Psalm 43:5 herhaal. Hierdie vertaling open nuwe en opwindende insigte. Psalm 44:27 volg met ʼn belangrike uitspraak oor God, naamlik dat Hy deur sy liefde hulp en bevryding verskaf. Die vraag wat die God van liefde doen, en vir wie Hy dit doen, word in Psalm 68:6-7 beantwoord: ' ʼn Vader vir vaderloses, ʼn regter vir die weduwees is God in sy heilige woonplek. God laat eensames weer in ʼn huisgesin woon, Hy lei gevangenes uit na voorspoed, maar hardkoppies woon in ʼn verskroeide land'. Sou die verbitterde en twyfelende vroue ná die oorlog hierdie Psalm gelees het, kon daar soveel meer hoop en vertroue gewees het.

God se liefde kom tot openbaring in sy reg, geregtigheid en billikheid. Die 'regverdiges' kan met dié sekerheid lewe en sterwe dat God se reg, geregtigheid en billikheid die menslike bestaan tot ʼn finale punt bring. Die versugting van die vroue in die kamp dat reg aan hulle gedoen moes word, is ʼn belofte wat wel in vervulling gegaan het, of in vervulling sal gaan. Hierdie trooswoorde word, onder meer, in boeke 4 en 5, en wel in Psalms 92:13-16, 94, 97:2, 98:1-2 en 99:2 gevind. God se handeling is verborge (Ps 102:3),19 maar verborgenheid beteken nie dat God en sy reg afwesig is nie. Saam met die Psalmis kan die gelowige altyd sing oor God se troue liefde en sy regspraak, wat deur geregtigheid en billikheid gekenmerk word. Die rede vir die gejubel is dat die God van reg wat verborge handel, ook die Teenwoordige20 is (Ps 99:4, 101:1, 103:6 en 105:4).

Die profete, reg en geregtigheid en die etiese konsekwensies

Die vroue in die kampe het naas die Psalmboek, ook swaar gesteun op die profetiese literatuur, aangesien hulle daarin verdere uitsprake oor die God van die reg, wat met geregtigheid en billikheid oordeel, kon vind (byvoorbeeld Jes 45:18-25). Wat hierdie verontregte vroue, te midde van geweldige lyding en swaarkry, nie kon regkry nie, was om die etiese konsekwensies van die godsdiens van reg en geregtigheid, ernstig op te neem. Vir die huidige geslag is daar geen verskonings om by die etiek van die profete verby te gaan nie. Dieselfde gebrek aan belangstelling in die etiek van die profete mag nie herhaal word nie. Ons en ons nuwe maghebbers behoort kennis te neem van gedeeltes soos Jeremia 7:3-9. Daar word verwag dat almal se doen en late 'goed moet wees', en 'goed' beteken dat reg en geregtigheid op alle terreine van die lewe moet geskied. Die inhoud van reg en geregtigheid val binne die raamwerk van die dekaloog. Word dít nie besef nie, kan daar nie sonder gewetenswroegings in God se teenwoordigheid gekom word nie (Jer 7:10, 15). Die 'teenwoordigheid van die Here' is dus ook in hierdie literatuur ʼn sentrale tema wat nie misgekyk mag word nie, maar die teenwoordigheid van God gaan gepaard met etiese gedrag, waarvan reg en geregtigheid die spilpunt is. Vanselfsprekend kan die Nuwe Testament nie geïgnoreer word nie. Ons sluit af met ʼn verwysing na 2 Petrus 1:3-11. Petrus wys daarop dat ʼn 'deugdelike lewe' by die Christelike geloof gevoeg moet word. ʼn 'Deugdelike lewe' sluit 'broederliefde en ʼn liefde vir alle [ander] mense' in. ʼn Moeilike opgawe, veral wanneer mense van hulle vryheid ontneem word, maar dít is wat binne die Joods Christelike godsdiens verwag word!

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

I.W.C.v.W., was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel voldoen aan alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Alberts, P. (samesteller), 2005, Die smarte van oorlog: Verontregting van Boerevroue en -kinders tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, Kraal-Uitgewers (Die erwe van ons vaad're, nr. 1), Brandfort.         [ Links ]

Badenhorst, A., 1939, Tant Alie van Transvaal: Die dagboek van Alie Badenhorst, M.E. Rothmann (vert.), Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Brits, E., 2016, Emily Hobhouse: Geliefde verraaier, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Die Bybel, 2020-vertaling, Bellville.         [ Links ]

Changuion, L., 2022, Vasgevang! Die lewe van die Boere in die Suid-Afrikaanse krygsgevangekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog. 1899-1902, Kraal-Uitgewers, (Kraal Histories, nr. 4), Centurion.         [ Links ]

Dalferth, I., 2021, Deus Praesens: Gottes Gegenwart und christlicher Glaube, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Die Bibel nach Martin Luthers Übersetzung, Revidiert, 2017, Rat der Evangelischen Kirche Deutschland (Hrsg.), Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart.         [ Links ]

Ebeling, G., 1983, 'Die Toleranz Gottes und die Toleranz der Vernunft', in Umgang mit Luther, pp. 101-130, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Fischer, M., [1964] 2000, Tant Miem Fischer se kampdagboek: Mei 1901 - Augustus 1902, manuskrip verskaf deur M.A. Coetzee, Protea Boekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Grobler, J. (ed.), 2007, The war diary of Johanna Brandt, Protea Book House, Pretoria.         [ Links ]

Grobler, J. & Grobler, M., 2013, Vroue-Kampjoernaal: Die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog, Heroloda, Pretoria.         [ Links ]

Härle, W., 2022, Vertrauenssache: Vom Sinn des Glaubens an Gott, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.         [ Links ]

Janowski, B., 2017, 'Die "Kleine Biblia": Der Psalter als Gebetsbuch Israels und der Kirche', Jahrbuch für Biblische Theologie: Beten 32, 3-25.         [ Links ]

Jansen, E. & Jonckheere, W. (saamgestel), 1999, Boer en Brit: Afrikaanse en Nederlandse tekste uit en om die Anglo-Boereoorlog, Protea Boekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Jüngel, E., [1984] 1990, 'Die Offenbarung der Verborgenheit Gottes. Ein Beitrag zum evangelischen Verständnis der Verborgenheit des göttlichen Wirkens', in Wertlose Wahrheit: Zur Identität und Relevanz des christlichen Glaubens. Theologische Erörterungen III, pp. 163-182, Kaiser Verlag, München.         [ Links ]

Kaiser, O., 1998, Der Gott des Alten Testaments: Theologie des Alten Testaments. Teil 2, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Luther, M., [1529] 2014, 'Der groβe Catechismus / Catechismus maior', in I. Dingel & R. Von Kolb (Hrsg.), Die Bekenntnisschriften der Evangelisch-Lutherischen Kirche, Vollständige Neuedition, herausgegeben im Auftrag der Evangelischen Kirche in Deutschland, pp. 912-1162, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Luther, M., [1528] 1991, 'Vorrede zum Psalter', in K. Aland (Hrsg.), Luther Deutsch, Die Werke Luthers in Auswahl, Band 5, Die Schriftauslegung, pp. 32-37, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Moltmann, J., 2008, 'Sein Name ist Gerechtigkeit': Neue Beiträge zur christlichen Gotteslehre, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.         [ Links ]

Pretorius, F.J. (red.), 2001, Verskroeide aarde, Human & Rousseau, Kaapstad.         [ Links ]

Preuss, H.D., 1992, Theologie des Alten Testaments. Band 2. Israels Weg mit JHWH, Kohlhammer, Stuttgart.         [ Links ]

Steenkamp, E., 1941, Helkampe, Voortrekkerpers, Johannesburg.         [ Links ]

Wessels, E. & Raath, A.W.G. (samestellers), 2012, Onthou! Kronieke van vroue- en kinderlyding, 1899-1902, Kraal-Uitgewers (Die erwe van ons vaad're, nr. 5), Pretoria.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Ignatius van Wyk
natievanwyk123@gmail.com

Received: 29 Mar. 2023
Accepted: 28 June 2023
Published: 11 Sept. 2023

 

 

Research Project Registration:
Project Leader: W.A. Dreyer
Project Number: 77370920
1. Die begrip 'Calvinisties' word egter nie self deur die vroue of digters soos J.D. Kestell en C.L. Leipoldt gebruik nie. Daar word hoogstens na die 'Christelike volk' (Jansen & Jonckheere 1999:203) verwys, maar soos gesien sal word, is die Nuwe Testament amper nooit aangehaal nie.
2. Belangstellendes kan na die omvangryke publikasies, met talle foto's, van Alberts (2005), Grobler en Grobler (2013) en Wessels en Raath (2012) kyk vir indrukwekkende oorsigte oor die lyding wat hierdie oorlog meegebring het.
3. Die barbaarse behandeling van die vroue en kinders, sowel as die onregmatige ontneming van die vryheid van die twee republieke, het die oortuiging laat ontstaan dat hier nie met reg van
ʼn 'oorlog' gepraat kan word nie, maar eerder van 'onregmatige besetting van onafhanklike gebiede' (Grobler & Grobler 2013:47, 59).
4. Met goeie reg word daar na 'konsentrasiekampe' verwys. Om na hierdie kampe as 'vlugtelingkampe' of iets soortgelyks te verwys, is nie akademies volhoubaar nie (vgl. die grusame inligting in Grobler & Grobler 2013).
5. FJ Pretorius (red. 2001) se omvangryke publikasie, met baie beeldmateriaal, kan in hierdie verband gelees word.
6. Die onreg van die Britse inval en die barbaarsheid van hulle oorlogstrategie het baie simpatie in Europa gewek. Dit was veral die Nederlanders, Duitsers en Franse wat die Boere op allerhande maniere gehelp en ondersteun het. Vir die hartlike ondersteuning uit die Lae Lande, kyk na die saamgestelde tekste in Jansen en Jonckheere (1999).
7. Dit is vanselfsprekend dat wraakgedagtes
ʼn dominante emosie onder die vroue was. Selfs ná die oorlog was die soeke na wraak ʼn drif en drang wat moeilik getem kon word. Emily Hobhouse het die Afrikanervroue by talle geleenthede ná die oorlog gewaarsku dat die soeke na wraak hulle geesteskragte gaan uitput. Hulle moes, volgens haar, eerder op ekonomiese en kulturele herstel fokus. Kyk na Elsabé Brits (2016) se monumentale werk vir talle aanhalings en verwysings.
8. C. Louis Leipoldt het in sy gedig 'Vandag' gewaarsku dat die wraakgedagtes uiteindelik plek sal moet maak vir die naasteliefde (in Jansen & Jonckheere 1999:87-88).
9. Die boere is in hierdie opsig ondersteun deur die Europeërs. Eugeen van Oye se gedig 'Aan de Vorsten' is
ʼn klassieke voorbeeld (Jansen & Jonckheere 1999:119).
10. Die vaste Godsvertroue en voorbeeld in godsdiens word veral in gedigte besing. F.W. Reitz se gedig Die vrouekampe (Grobler & Grobler 2013:78) is een van die treffendste wat nog gedig is.
11. Johanna Brandt (1876-1964) was die dogter van ds NJ van Warmelo,
ʼn Nederlander, wat later in sy lewe ʼn prominente predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika was. Sy het ná die oorlog in Augustus 1902 met ds Louis Ernst Brandt in Nederland in die huwelik getree. Ds Brandt sou ook later predikant van die Hervormde Kerk word, en ʼn leidende rol op sinodale vlak speel. Hy sterf op 23 Junie 1939. Johanna was ʼn uitstekende pianis wat graag Beethoven se musiek gespeel het. Sy het tydens die oorlog in die konsentrasiekamp van Irene, in Pretoria, as verpleegster diens gedoen. Haar dagboek van 30 September 1899 tot 30 April 1902, soos verwerk en opgeneem in Grobler (red. 2007), is die waardevolste bron tot my beskikking. Die boek is gesaghebbend, aangesien Brandt een van die min vroue was wat in daardie tyd oor ʼn behoorlike skoolopleiding beskik het. As Hollandse predikantskind het sy die Bybel ook veel beter as die ander dagboekskrywers geken. Sy was met hart en siel toegewy aan die saak van die Boere, en tot die einde van die oorlog ʼn 'vryheidsvegter'. Sy het ook skoolonderrig in Engeland ontvang, en het daarom die Engelse gees geken en verstaan. Brandt lewer ʼn bydrae tot die Godsbegrip van die Boerevroue, wat in terme van diepte, nie elders gevind kan word nie. Om hierdie rede word daar besondere aandag aan haar uitsprake gegee.
12. Die motief van die 'res' is
ʼn profetiese motief wat selde gebruik is. Waar dit wel gebruik is, funksioneer dit as ʼn 'brugmotief' tussen God se oordeel en die beloofde heil: die terugkeer uit die ballingskap. Dit is dus hoofsaaklik ʼn troosmotief wat tydens die ballingskap gebruik is (vgl. Preuss 1992:292-293 vir die teksverwysings). Dit is merkwaardig dat die jeugdige Brandt die profetiese literatuur so goed geken en verstaan het dat sy hierdie redelik onbekende troosmotief in haar dagboek aangewend het.
13. Die Russiese romanskrywer, Fjodor Dostojefski (1821-1881), worstel in Die Karamazof-broers, met die vraag na die onskuldige lyding van kinders weens die wreedheid van mense. Volgens die een karakter kan God, in die lig van die kinderlyding, nie bestaan nie. Volgens
ʼn ander een moet God se bestaan egter gepostuleer word. Sou Hy nie bestaan nie, sou alles en nog wat toelaatbaar wees, wat die lyding in die wêreld net sal laat toeneem. Die bestaan van God, plaas ook ʼn verpligting op die mens om wreedaards te straf (vgl. Härle 2022:71 vir die verwysings). Daarmee word die vraag na kinderlyding egter nog nie beantwoord nie. Hoekom (die teïstiese) God toelaat dat kinders wreed sterf, kan Dostojefski egter nie beantwoord nie. ʼn Trinitariese kruisteologie bied egter moontlikhede om op ʼn hoopvolle wyse oor God, mens en ʼn onmenslike wêreld te praat (vgl. Moltmann 2008 as voorbeeld).
14. Navorsers sal goed doen om haar gebruik van die terme 'geduld' en 'toleransie' in haar latere werke na te gaan, aangesien dit
ʼn belangrike tema in die Reformatoriese teologie is. Ek is seker dat sy na hierdie oortuiging sou terugkeer. Vir ʼn Lutherse hantering van 'God se toleransie en die toleransie van die rede', kyk na Ebeling (1983).
15. Die vraag na die Godsbegrip word selde in die Afrikaanse literatuur gestel. Onlangs het Changuion (2022:112) weer gestel dat die burgers se wêreldbeskouing bedreig is teen die agtergrond van die verlore stryd. Hierdie 'wêreldbeskouing' is na my mening, nie noodwendig dieselfde as die Christelike geloof nie. Wanneer geloof met
ʼn wêreldbeskouing vervang word, kan twyfel en vertwyfeling maklik gesystap word.
16. Daar is egter wel na God se wil gevra. Die vredesluiting is byvoorbeeld verwerp as God se wil (Grobler & Grobler 2013:139).
17. Hierdie vertaling vind ondersteuning by Kaiser (1998:97-100).
18. Die Deutsche Bibelgesellschaft (2017) Luther-vertaling vertaal nog '
dass er meines Angesichts Hilfe und mein Gott ist'. Die bedoeling van die Luther-vertaling stem egter met Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2020) ooreen.
19. Die motief van God se verborgenheid is een van Luther se sentrale begrippe waarmee hy gewerk het. Vergelyk Jüngel ([1984] 1990).
20. Die monumentale werk van Ingolf Dalferth (2021) is die deeglikste oor hierdie tema.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License