SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.78 número4Te Deum Laudamus - Grosser Gott, wir loben dich. A discussion of translations in Afrikaans índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.78 no.4 Pretoria  2022

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v78i4.7840 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die mislukte sinodale eenwording van die NG Kerk in 1911

 

Synodical unity in the Dutch Reformed Church in 1911 - an attempt that failed

 

 

Pieter J. Strauss

Department of Systematic and Historical Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

In 1862 the Supreme Court of the Cape Coloy terminated the synodical unity of the Dutch Reformed Church in South Africa. Delegates of congregations outside the Colony could no longer represent them in the Cape or Mother Synod. The court used Ordonnance 7 of 1843 of the Colony. In 1907 the newly founded Federal Council of Dutch Reformed Churches decided to lead an effort in the Church to replace this federal bond with a closer synodical bond. The Council was a combined body of the four Dutch Reformed Churches of respectively the Transvaal, Free State, Natal and Cape. However, to achieve this, they needed the help of the state authorities of the Union of South Africa to scrap all legal obstacles in the way of the Dutch Reformed Church. After consultations with the authorities, the Church was asked to formulate a concept act to replace these hindrances. The act was accepted by Parliament, but the Church could not get the required three quarters of a majority in three quarters of its consistories for the bill to be accepted. Thus, the effort for a new synodical unity failed.
CONTRIBUTION: This article adds to the history of the synodical structure in the Dutch Reformed Church. In doing so it concentrates on the failed attempt in this church in 1911 to form an all-inclusive - as far as congregations are concerned - synodical bond with attention to the required church political principles behind such a structure. This is also relevant to the present efforts for unity in the family of Dutch Reformed Churches, as well as other reformed churches in Southern Africa. The approach is a reformed perspective on the relationship between state and church

Keywords: Dutch Reformed Church; synodical unity; Ordonnance 43 Cape Colony; synodical structure; concept act; Parliament accepted; synods approved; consistories not required majority.


 

 

Inleidend

Die mislukte sinodale eenwording van die vier (staatkundig provinsiaal begrensde) Sinodes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) in die jaar 1911, moet kerkhistories en kerkregtelik nog fyn ontleed en geëvalueer word. Hierdie sinodes was dié van die NG Kerk in Suid-Afrika (Kaap), die NG Kerk van Natal, die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat en die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Transvaal (Gerdener 1930:iii-xi; Kleynhans s.a.:326-329; NG Kerk 1911:13). Van der Watt (1987:6) wys op reaksies in die NG Kerk van destyds oor die mislukte eenwording: ''n byna verbitterde toon by sommiges tot gelate aanvaarding by ander'.

Sedertdien is die belangstelling van kerkhistorici hierin slegs beperk (Brown 2002:162-163; Kleynhans s.a.:333; Van der Watt 1973:149-156).1 'n Moontlike rede is dat die vereiste meerderheid vir die vereniging nie by die NG Kerkrade verkry is nie en die saak daarmee in die sand weggesypel het.

Die Federale Raad van NG Kerke (Raad van Kerke) wat uit 1905 dateer en sy eerste vergadering in 1907 hou (vgl Nederduitse Gereformeerde Kerk 1907), stel in 1909 voor dat hereniging in sinodale verband in die plek van die pas ingestelde federale verband tussen die NG gemeentes gevestig moet word. Die aanbevelings van die Raad aan die vier gefedereerde NG Sinodes soos aangetoon, kom uit die verslag van 'n kommissie vir sinodale eenheid wat die Raad in 1907 benoem het. Die Raad aanvaar die voorstelle van die kommissie eenparig op 05 Maart 1909 en die sinodes oorweeg hulle in die loop van 1909. Die Transvaalse en Natalse Sinodes keur die kommissie se aanbevelings eenparig goed, terwyl die Vrystaat 'n minderheid van 16 uit 83 en die Kaap 32 uit 263 daarteen aanteken. Al vier sinodes stem egter met 'n 'groote meerderheid' vir sinodale eenheid in die NG Kerk (Kleynhans s.a.:333; NG Kerk 1907:17-19, 1909:6-16, 1911:15, 18).

Omdat dié herenigingsaksie met die Kaapse Ordonnansie 7 van 1843, soos gewysig deur Ordonnansie 16 van 1845, die 'Emendatie Akte' van 1898 én daarby bots met Wet 36 van 1909 van Natal (De Kerkbode Bijvoegsel 28:12:1911:1-18 met die Vereenigingsakte 1911) - Ordonnansie 7 was die rede vir 'n uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof in 1862 wat die Kaapse Sinode van die NG Kerk van NG gemeentes buite die Kolonie geskei het - wys al die sinodes in 1909 'n kommissie aan om gesamentlik 'n nuwe akte van die vier sinodes vir die Parlement voor te berei: 'n privaat wet wat van staatsweë die hindernisse vir sinodale eenheid waarby al die NG gemeentes betrokke is, uit die weg ruim. Die 'Nederduitsche Gereformeerde Kerken Vereenigingsacte' soos geïnisieer vanuit die NG Kerk, word daarna deur die Volksraad en die Senaat geloods. Die eerste lesing van die akte (De Kerkbode 09/02/1911:83) dien op 08 November 1910 in die Volksraad en word na 'n gekose komitee verwys. Na enkele veranderinge deur die Volksraad soos aanvaar deur die vier sinodes, kom die tweede lesing aan die bod. Die derde lesing volg 01 Maart 1911. Daarna dien dit voor die Senaat. Eventueel word die Verenigingsakte 1911 van die NG Kerk as 'n wet van die Parlement op 12 Mei 1911 geproklameer. Die Akte wat vir sy ontstaan na die Raad van Kerke terug te voer is, kon nou deur die NG Kerkrade oorweeg word, waarna dit, na die omskrewe goedkeuring van die kerkrade en sinodes, in werking sou tree (Van der Watt 1987:2 en 3).

Die Raad van Kerke bestaan teen 1911 uit 30 lede: 14 uit die Kaapse, 7 uit die Transvaalse en Vrystaatse en 2 uit die Natalse NG Kerk.2 Die besluite van die Raad moes handel oor sake wat die sinodes wat hom saamstel, aan hom opdra en sou dien as advies aan hierdie sinodes. Advies wat die vier sinodes self moes aanvaar voordat dit vir hulle kon geld (NG Kerk 1911:14; Van der Watt 1973:149). Die 'bestuur' - soos daar destyds in die NG Kerk daarna verwys is - van die beoogde 'Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika'3 (die voorgestelde naam vir die beoogde nuwe sinodale verband) sou by die kerkrade, ringe en eene Synode berus. 'n Sinode wat uit alle dienstdoenende Predikanten in die NG Kerk en een ouderling uit elke gemeente bestaan en die Federale Raad van Kerke vervang (Nederduitse Gereformeerde Kerk 03/03/1909:10, 1911:16).

In hierdie artikel word die historiese verhaal en gevolge van die voorstel van die Raad van Kerke van 1909 oor organiese of sinodale eenheid vir die NG Kerk ontleed. Aangesien dit kerkhistories en kerkregtelike aangepak word, is sommige kerkregtelike beginsels of konstantes in kerkverband ook ter sprake. Die saak word uit 'n gereformeerde hoek na die NG Kerk as 'n - so sê sy naam - gereformeerde kerk benader.

 

Federaal en sinodaal

Kerkregtelik beskou, wou die Federale Raad van NG Kerke die federale aard van die NG Kerk in sy breedste verband - 'n verband waarby alle NG gemeentes betrek word - verander na 'n sinodale verband. Die Raad wou dus nie oorgaan tot die vereniging van die NG Kerk gemeentes nie; hulle was reeds in naam, belydenis, kerkregering en federale verband een (Van der Watt 1987:1, 2), maar die herstel van die sinodale verband van voor 1862 (Kleynhans s.a.:333). In die gebruikstaal van die NG Kerk destyds, is sinodale eenheid of 'n sinodale verband organiese eenheid4 genoem (Oberholzer & Van Schoor s.a.:15). In die inligtingspamflet opgestel deur 'n kommissie van die Raad van Kerke5 wat kontak met 'n soortgelyke kommissie van die Kaapse Sinode gehad het (NG Kerk 1911:3, 4)6 én wie se verslag deur die Raad van Kerke aanvaar word, vang die term organiese eenheid telkens die oog. Die besluit waarmee die Raad hierdie kommissie taak om 'n 'pamflet' oor die 'Vereenigingsacte 1911'7 aan kerkrade deur te gee, begin met die kennisname van die positiewe besluit van die vier gefedereerde NG sinodes oor die 'Organische Vereeniging dier Kerken' (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:2). In die pamflet lig die kommissie die sluier oor sy verstaan van die - belangrike terminologie in die NG Kerk - 'Organische Vereeniging dier Kerken' (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:2, 5, 7, 8, 15, 18, 21).

Volgens die pamflet is alle NG Kerke of gemeentes wat uit die vestiging van die NG Kerk aan die Kaap met 1665 die stigtingsjaar van die eerste gemeente, naamlik Kaapstad (NG Kerk Jaarboek 2016:164) ontstaan het, ook na die Emigrasie of Groot Trek van 1835-1840, formeel kerklik in die Kaapse Sinode opgeneem (Van der Watt 1977:67-788). NG gemeentes buite die Kaapkolonie wat uit die verhuising van lidmate uit bestaande NG gemeentes in die Kolonie - 'n soort uitbreiding - ontstaan het, wou by die Kaapse of 'Moedersinode' inskakel. Hierdie gemeentes is in 1850 formeel deur dié sinodes aanvaar en by die Ring van die Transgariep ingedeel (Van der Watt 1977:115). Organiese eenheid in die NG Kerk het, aldus die pamflet, bestaan van 1652 tot 1862 -'niet minder dan 210 jaren'. Hierdie organiese of sinodale eenheid in die NG Kerk is in 1862 verbreek deur die uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof dat die Kaapse Sinode vanweë Ordonnansie 7 van 1843 nie vir gemeentes buite die Kaapkolonie toeganklik is nie (NG Kerk 1911:5; Van der Watt 1973:104, 1987:1). Dié 'kerkvreemde' uitspraak van 'n burgerlike hof9 wat so aan die NG Kerk as kerk 'n staatkundig beperkte trefwydte én geografiese ruimte opgedwing het, het hierdie Kerk met sy eerbied vir Gods gebod en dus die staatsgesag voor 'n voldonge feit geplaas. 'n Feit wat die NG Kerk met sy reg op vryheid van godsdiens, nie begeer het nie (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:7, 8).

Volgens die pamflet is organiese eenheid soos geskets 'eene volkomene vereeniging'. Op 'n ander plek lui die pamflet dat die NG Kerk op soek is na die 'nauwste vereeniging' in die omstandighede. Op sy vergadering van 1907 kies die Raad van Kerke organiese of sinodale eenheid vir die hele NG met 'unanieme stemmen []' (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:9, 15). In 1962 op die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk, noem ondervoorsitter P.S.Z. Coetzee die pas gevormde sinodale verband 'n organisatoriese kerkverband of -eenheid (Van der Watt 1987:15). Teenoor die losser federale vorm van eenheid, is sinodale of organiese eenheid 'n nouer vorm van eenheid: meerdere vergaderings (van 'meer' gemeentes) soos ringe en sinodes neem bindende besluite vir die gemeentes wat deur hulle verteenwoordig word én verantwoordelikheid vir hulle gesamentlike wersaamhede neem. Met so 'n verband keer die NG Kerk in 'n proses van hereniging terug na sy manier van bestaan in 1652-1665 met die gemeente Kaapstad as die eerste gemeente in 'n toekomstige sinodale verband, tot met die uitkoms van die Loedolffsaak in 1862. Sinodale verband wat in 1862 nie deur 'n kerklike besluit nie, maar die dwang van 'n niekerklike hofbeslissing verbreek word (NG Kerk 1911:7). Dwang is prinsipieel die tipiese werkswyse van staatsinstellings (Strauss 2010:129). In hulle reaksie op die aanbeveling oor die sinodale hereniging van die NG Kerk deur die Raad van Kerke in 1909, stem al vier die NG Sinodes, soos aangetoon, óf eenparig óf met 'n groot meerderheid vir 'organische vereeniging' (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:18, 20).

 

Die vier sinodes op pad na die Verenigingsakte van 1911

Na die teenstrydige kerkvreemde hofuitspraak in die Loedolffsaak op 26 November 1862, is die ideaal van organiese sinodale eenheid tussen die vier sinodes van die NG Kerk nog lank nie geblus nie. Die pamflet noem die aanvaarding van die uitspraak deur die NG Kerk nie vrywillig of as die vrug van 'n begeerte nie, maar as gevolg van 'n 'vreemde, buiten haar staande macht daartoe gedwongen' hofuitspraak. Volgens dieselfde staatkundig geografiese norm soos weerspieël in Ordonnansie 7 van 1843 van die Kaapkolonie en weens die hofuitspraak, ontstaan 'min of meer gelijktijdig' in 1865-1866 (vgl. Van der Watt 1973:130-131, 1977:119) die NG Kerke (of Sinodes) van Transvaal, die Vrystaat en Natal (Van der Watt 1973:135). In herlewing of voortsetting van die gestrande Kaapse Sinode na die hofuitspraak van 1862, besluit 'dezelfde maar verdaagde Vergadering' in 1863 dat die herroeping van Ordonnansie 7 van 1843 in die omstandighede 'ondoenlijk is'. Die Kaapse Sinode beywer hom egter vir die nouste eenheid tussen die vier NG Kerke wat mekaar nou, na 1862, as susterskerke beskou. Susterskerke wat lidmaatskap oor en weer erken, predikante wedersyds beroep en gesante na mekaar se vergaderings stuur (NG Kerk 1911:8-10). Na hierdie besluite van die Kaapse Sinode, bevestig die Transvaalse, Vrystaatse en Natalse Sinodes dat hulle elkeen in 'n afsonderlike kerk (die NG-terme van destyds) verenig het en as susterkerke deur die Kaapse Sinode erken moet word (Kleynhans s.a.:325; NG Kerk 1911:9).

In hierdie omstandighede kon die Kaapse NG Kerk nie berus in die bestaan van Ordonnansie 7 van 1843 nie. Behalwe dat die Ordonnansie die NG Kerk in sy uitbreiding gestrem en 'n foutiewe aanduiding van sy belydenisskrifte gegee het,10 is die 'Emigrant Boere' noord van die Grootrivier wysgemaak dat inskakeling by die Kaapse Sinode hulle kerklik - deur die Ordonnansie - onderwerp aan die Britse koloniale owerheid. Boonop het die onontvanklikheid van buitekoloniale afgevaardigdes op die Kaapse Sinode die gereformeerd behoudende stem op die Sinode verswak en die NG Kerk in sy Bybelgebonde koers gesteur (Van der Watt 1973:140).

Volgens Van der Watt het daar tot 1897 in byna elke Kaapse Sinode stemme opgegaan vir die herroeping van die 'mislukte konkordaat oor die verhouding tussen kerk en staat' in Ordonnansie 7. 'n Voorbeeld is die stem van die predikant van Lady Grey in 'n beskrywingspunt aan die Sinode van 1867-1870. Hierdie leraar vra vir 'n 'herziening der ordonnantie [] de formele afschaffing van het kroonpatronaat' om aan die sinode die vryheid te gee om sy eie samestelling na die behoefte van die tyd te bepaal. Die vergadering kom egter nie tot 'n besluit nie. Van der Watt glo dat onkunde oor die gevolge vir die NG Kerk as die ordonnansie geskrap sou word, die rede vir die huiwering by die sinode was (Van der Watt 1973:139-140). Gevolglik sorg die onsekerheid oor die voor- en nadele van Ordonnansie 7 van 1843 vir die NG Kerk dat hierdie Ordonansie teen 1911 nog op die wetboek staan (Van der Watt 1973:146).

By die eerste ringsitting na die Anglo-Boereoorlog in 1902, versoek die Ring van Utrecht die Natalse NG Kerk om hulle by die Transvaalse NG Kerk te voeg en die gemeentes van Utrecht en Vryheid by die Ring van Natal in te deel. Die Sinode van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Transvaal besluit hierna om die beweging ten gunste van vereniging so uit te brei dat dit die hele NG Kerk of - na 1862 - alle erkende NG Susterskerke insluit 'zoodat ook de andere Zuster-Kerken daarin konden deelen' (Gerdener 1934:368). Op 15 Mei 1903 besluit die Sinode van die Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Transvaal eenparig om te 'onderhandelen over vereeniging' met die NG Kerk van Natal, die Vrystaat en die Kaap. By die ontvangs van die telegrafiese berig van die Nederduitseß Hervormde of Gereformeerde Kerk, stel die Vrystaatse Sinode 'n kommissie aan om aan die saak aandag te gee. Die Kaapse Sinode aanvaar 'n beskrywingspunt van ds Andrew Murray (jr) wat as voorsitter van die Kaapse Sinode - dit was een van ses kere dat hy die funksie vervul (Olivier, Hofmeyr & Hofmeyr 2008:765-766) - van 1862 'n getuie was van die 'gedwongene afscheiding der Kerken'. Murray vra dat die Kaapse Sinode 'n kommissie aanwys om die saak met die ander drie sinodes te bespreek en 'te vernemen op welke voorwaarden eene Vereeniging kan worden bewerkt'. Sy voorstel word op 15 Oktober 1903 eenparig aanvaar (NG Kerk 1911:13).

Hiermee was die vier NG Kerke deur middel van hulle verteenwoordigers op pad na hulle eerste 'officieele conferentie' sedert hulle skeiding na die uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof in 1862.

Op 09 Oktober 1905 trek die konferensie op Colesberg saam. So sterk is die behoefte aan die vereniging van die NG Kerk - die NG Kerk as 'n kerk waarin veral Afrikaners na die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 kerklik wou verenig (Gerdener 1934:368) - dat die konferensie 'met eenparige stemmen besloten' om aan die vier sinodes voor te stel dat hulle saam 'n federale verband vorm. Sinodes wat so 'n band smee, behou hulle selfstandigheid betreffende geestelike leiding, kerklike uitsprake en administrasie. Die hantering van die gemeenskaplike sake as advies aan sy lidkerke lê by 'n gesamentlike vergadering, soos voorgestel, 'De Raad der Nederduitsche Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika'. Hierdie Raad sal bestaan uit die genoemde 30 lede soos saamgestel uit die toegekende getal afgevaardigdes na elke sinode (NG Kerk 1911:13, 14) en hanteer daardie sake wat deur sy vier deelnemende sinodes, of hulle sinodale kommissies aan hom opgedra, of deur een of meer van sy lede ter tafel gelê word.

Twee opmerkings is in hierdie stadium ter sake

In die eerste plek, haas hierdie groep NG Kerk-voormanne hulle langsaam, nie met rewolusionêre spronge nie. Hulle torring nie aan staatkundig provinsiaal begrensde sinodes met sinodale selfstandigheid nie. Deur die losser federale verband, erken hulle die sinodale selfstandigheid van elk van die vier sinodes of Kerke. Hulle is waarskynlik sensitief vir dwang in kerklike verhoudinge én versigtig vir die soort dwang wat die hofuitspraak van 1862 op die NG Kerk uitoefen. Soos uit die gebeure blyk, is die herstel van organiese sinodale eenheid (Gerdener 1934:368) 'n mikpunt én 'n logiese uitvloeisel van hulle eenheid én eendersheid in Woord, belydenis en kerkinrigting. Vanweë die ooreenstemming van hulle belydenisskrifte én hulle homogeniteit in kerkinrigting, is die eerste trappie van strukturele eenheid aanvaarbaar, naamlik 'n losser federale verband, sonder dat 'n sinodale verband, soos voor 1862, uitgesluit is. Hulle sinodale eenheid wat byna 'n halfeeu gelede verbreek is, is glad nie vergete nie. Dié punt word bevestig deur die verhaal van die Raad van Kerke met die Verenigingsakte van 1911. 'n Verhaal wat streef na 'n sinodale band tussen al die gemeentes van die NG Kerk: binne en buite die Kolonie (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:16).

Wat die voorstel oor 'n Federale Raad van NG Kerke betref: dit erken die kerklike selfstandigheid wat sedert 1862 in die vier provinsiaal begrensde Sinodes ontwikkel het. 'n Kerklike selfstandigheid wat 'n parallel vind in die politieke selfstandigheid wat Afrikaners in die Republieke van die Vrystaat en Transvaal - tot aan die einde van die Anglo-Boereoorlog in Mei 1902 - en in die selfregerende Britse Kolonies van die Kaap en Natal. En, na 1902, in die koloniale bestuur van vier provinsies, en na 1910, in vier Provinsiale Rade uitgeleef het. Vir Gerdener (1934:368) was die Raad van Kerke ''n regstreekse vrug' van die Anglo-Boereoorlog.

In die tweede plek vertoon die naam van die NG Kerk soos verbind aan die voorgestelde sinode, die nalewing van die naamtradisie van die Moeder- of Kaapse Sinode van die NG Kerk. Aan die naam van die NG Kerk, soos aanvaar deur die eerste Algemene Sinode in 1962, as kortweg die 'NG Kerk' - sonder 'n geografiese agtervoegsel - is elders uitvoerig aandag gegee. 'n Naam wat wou afwyk van 'n staatkundig geografiese bepaling van kerkgrense (NG Kerk 1962:232; Strauss 2016, 2019). Die voorstel van die Raad van Kerke in 1911 vir 'n naam vir die beoogde sinodale verband van 'Nederduitsche Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika', put uit die geskiedenis van die naam wat vroeër vir die Kaapse NG Sinode gebruik is. Behalwe dat die Kaapse Sinode van 1842 'Nederduitsche Gereformeerde Kerk in Zuid-Afrika' kies teenoor die wisselterm 'Nederduitsche Hervormde', in Suid-Afrika, word die handelinge van die eerste sewe Kaapse Sinodes van 1824-1847 in 1857-1858 in 'n bundel opgeneem. Hierin verskyn dit as die handelinge van die, soos die drukker sê, 'Algemeene Synode der Nederduitsch Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika' (NG Kerk 1858:192): 'n naam wat die Raad van Kerke nou, in 1911, aanvaar. Natuurlik is hierdie naam in die voorstel van die Raad van Kerke in 1909-1911 nog nie amptelik nie, maar 'n naam wat in die omgang vir die NG Kerk as 'n eenheid gebruik is. Anders gesê, in die wandel word hierdie naam geassosieer met die NG Kerk en saam met die kommissievoorstel aan die Raad van Kerke en deur die Raad aan die vier sinodes voorgelê (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:14).

 

Organiese kerkeenheid in 1911: 'n Kerklike voorstel

Soos reeds vermeld, wys die Raad van Kerke reeds op sy eerste gewone vergadering op 13 Maart 1907 in Pretoria, 'n kommissie aan om die wenslikheid van organiese of 'eene volkomene vereeniging' van die vier NG Kerke te ondersoek. Die herstel van sinodale eenheid in 'n verdeelde kerk na 1862, is 'n sterk dryfveer in hierdie liggaam. Die kommissie moet by die volgende vergadering 'n voorbereide voorstel oor die saak indien. By sy tweede vergadering, op 03 Maart 1909 op Stellenbosch, lê die kommissie sy verslag aan die Raad voor. Na 'n 'lange en ernstige' bespreking besluit die vergadering 'met eenparig stemmen' om die 'Organische Vereeniging der Kerken' by die vier Sinodes aan te beveel (NG Kerk 1909:12-14, 1911:15; Van der Watt 1987:1). Die Raad van NG Kerke het so pas as 'n federale vergadering begin, maar beskou 'n gesamentlike sinode as meer verkieslik en die natuurlike uitkoms van die NG Kerkverband. Ten opsigte van belydenis en kerkinrigting is die NG Kerke immers een én - hoofsaaklik - eenders. Wat die Raad betref, is 'n gesamentlike sinodale verband die natuurlike uitkoms van organiese eenheid. Die term organiese eenheid is 'n natuurwetenskaplike term, maar word hier aangewend as 'n beskrywende naam en die logiese uitvloeisel van 'n eenheidsproses tussen gemeentes wat ten opsigte van belydenis en kerkinrigting eenders is: sinodale eenheid.

Die herstel van hulle sinodale of organiese verband is volgens hulle nou nodig

In sy voorstel vir die herstel van sy sinodale verband, noem die Raad van Kerke die NG Kerk 'feitelijk één': 'n eenheid in belydenis, kerkregering, die toepassing van sy kerkorde en die opleiding van sy predikante. Die geloofseenheid van die NG Kerk word gefasiliteer deur die gemeenskaplike afkoms, taal en vaderland van die lidmate. Die 'algemeene' drang na staatkundige eenheid in Suid-Afrika - rondom Uniewording in 1910 - versterk die behoefte aan 'meer geestelijke eenheid' in die land. Geestelike eenheid wat deur sinodale eenheid in die NG Kerk bevorder sal word. Boonop sal die sinodale eenheid van die NG Kerk 'n groter geestelik godsdienstige krag na binne teenoor lidmate en na buite teenoor die samelewing wees (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:15-16; Van der Watt 1987:1, 2). Daarom stel die Raad voor dat 'Het Bestuur der Vereenigde Kerk' by kerkrade, ringe en 'eene Synode' saamgestel uit alle predikante in diens van die kerk en een ouderling uit elke gemeente, sal berus (NG Kerk 1911:16; Van der Watt 1987:1, 2).

Soos genoem, aanvaar die vier gefedereerde sinodes in die loop van 1909 die besluit van die Raad van Kerke oor sinodaal organiese eenheid. Dit beteken nie dat die nee-stemmers almal teen sinodale eenheid gekant is nie. Op die Vrystaatse Sinode dien 'n alternatiewe voorstel wat verwerp word, naamlik dat die gemeentes die saak eers moet bespreek en dat die 'onoplosbare bezwaren' van 'velen' meebring dat die saak tot die volgende Sinode uitgestel moet word (NG Kerk 1911:18-19).

Twee ander punte lok ernstige bespreking uit: die voorstel van die Raad dat bruinmense wat aan Kaapse gemeentes behoort, daarmee kan voortgaan, maar soos die gebruik is, in die ander drie sinodale gebiede hulle eie kerkverbande vorm (De Kerkbode 09/02/1911:83; 16/03/1911:165-166) én die moontlikheid van die gesamentlike sinode as 'n verkleinde sinode of 'n synodus contracta. Waar eersgenoemde in die bespreking gelykstelling noem en as die standpunt van die Raad van Kerke aanvaar word, word 'n verkleinde sinode nie 'n voorstel nie, slegs 'n moontlikheid (NG Kerk 1911:20).

De Kerkbode van 16 Maart 1911 berig dat die 'Vereenigingsbill van de N.G. Kerken' oor die 'lengte en breedte' van die Unie 'opspraak' verwek. Die NG Kerk se hantering van die 'kleurkwestie' word nie oral begryp nie: hetsy opsetlik, hetsy deur onkunde (De Kerkbode 16/03/1911:165).11 Hoe dit ook al sy, die kleurkwessie en 'n verkleinde sinode blyk die enigste bronne te wees van groot verskille in die Sinodes.

 

Die Suid-Afrikaanse parlement aanvaar 'n wet

Een dwingende faktor met staatsgesag staan - op die oog af - in die pad van sinodale eenheid: die Kaapse Ordonnansie 7 van 1843. Nie net het hierdie Ordonnansie veroorsaak dat die Kaapse Sinode én die ander drie sinodes volgens provinsiale en staatkundige grense verdeel nie, maar dat grense in die NG Kerk daarna nie volgens kerklike behoeftes nie, maar staatkundige norme getrek word. Sinodale grense is nie aan hulle diens vir die opbou van die NG Kerk getoets nie. 'n Ander skeeftrekking is dat sinodes as gereformeerd kerkregtelike en strukturele gelykes, soos kerkrade en ringe, ongelyk in die Raad van gefedereerde Kerke verteenwoordig word. Hoewel die metode waarvolgens die berekening gedoen is, nie verduidelik word nie, is die vastelling van die getal afgevaardigdes na die Raad klaarblyklik op die getalle in elk van die vier sinodes bereken. Die ongelykheid in die verteenwoordiging op die Raad toon 'n oorwig van stemme - byna die helfte van die vergadering - van die Kaapse Sinode. So word die antihiërargiese gereformeerde beginsel geïgnoreer wat van dieselfde soort kerkvergaderings strukturele gelykes met gelyke seggenskrag in meerdere vergaderings maak. Boonop vorm dit 'n kerklike keuse vir die soort politieke demokrasie waarin lidmaatgetalle en nie kerklike strukture nie, verteenwoordiging bepaal (vgl Strauss 1989:1-14). Die Raad van Kerke vat raak met sy kerklik prinsipiële redes vir sinodale eenheid, maar vertoon 'n onkerklike wasigheid by die voorgestelde inkleding daarvan.

Die Raad het intussen sy voorstel oor sinodale eenheid uitgebrei met medeseggenskap in die goedkeuring daarvan deur kerkrade. Uit 'n gereformeerde hoek is kerk- of sinodale verband ten diepste 'n band tussen gemeentes as komplete kerke waarin kerkrade - bestaande uit die ouderlinge, diakens en predikante van die gemeente - die bevoegdheid kry om te regeer en namens die gemeente te besluit. Die beoogde sinodale verband van 1911 as 'n verhouding waarin al die NG Kerkgemeentes hulle bevind - dit is die voorstel - bestaan uit afgevaardigdes van al die NG Kerkgemeentes en moes deur 'n aanvaarbare aantal kerkrade goedgekeur word. Kerkrade kan nie in elke saak voor die Sinode geken word nie, dit sou die besluitnemingsproses oneindig verleng, maar die aard en inkleding van die struktuur van die band met ringe en sinodes, moet vir die kerkrade wat daarby inskakel, aanvaarbaar wees. Deur hulle aanvaarding van die sinodale verband as 'n struktuur van geloofseenheid delegeer kerkrade sekere besluite - nie af nie maar meer uitgebreid - via die gemeenskaplike, sinodaal aanvaarde kerkorde na 'n ring of sinode. Interessant genoeg, is hierdie kerkregtelike beginsel ook gebruik in besware in die NG Kerk van 1911-1912 teen 'n synodus contracta of verkleinde sinode. Gemeentes en kerkrade wil nie hulle inspraak in meerdere vergaderings (die 'meer' dui op die getal gemeentes daarin verteenwoordig) aan buitemense delegeer nie, maar regerende ouderlinge uit eie kring. Ewenwel, die voorstel tot kerkhereniging van die Raad van Kerke in 1911 moes by die kerkrade draai (Strauss 1999:43-46). En omdat die vier sinodes, elkeen as die mees algemene vergadering van die betrokke gemeentes, uit vier sinodale verbande, in die nuwe sinodale verband opgeneem word, moes die nuwe sinodale verband byna vanselfsprekend die goedkeuring van die kerkrade wegdra (vgl Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:20; NGKO 1964:7 vir artikel 36 en 37). In albei gevalle, by kerkrade en sinodes, beveel die Raad van Kerke aan: 'n meerderheid van 'n driekwart by 'n driekwart van die Sinodes en kerkrade geraadpleeg (NG Kerk 1911:42).

Die kwessie van kerkrade, as die besluitnemers van gemeentes, wat die aard en struktuur van die sinodale verband moet goedkeur, waartoe hulle as gemeentes toetree, kom byna 'n eeu later weer voor in die NG Kerk se benadering tot groter eenheid in die NG Kerkfamilie. Hierdie proses word geloods aan die einde van die 20ste en die begin van die 21ste eeu. Oberholzer en Van Schoor beweer - hulle skryf nie vanuit 'n teologiese raamwerk nie - dat die Raad van Kerke by die mislukte sinodale eenwording in 1911 die kerkrade betrek het omdat hy 'meer demokraties' wou wees deur die voorstelle aan die kerkrade voor te lê, terwyl dit eerder lyk asof die Raad die beginsel dat die gemeentes 'n kerkverband vorm, in die proses verreken het (Oberholzer & Van Schoor s.a.:146). In die gebeure rondom die wisseling van die 20ste en 21ste eeue is die steun van tweederdes van tweederdes van die kerkrade die gevolg van die beginsel dat kerkverband waaronder 'n sinodale verband, 'n verband tussen gemeentes as komplete kerke is. Daarby is 'n tweederde meerderheid in die NG Kerk 'n erkende, sterk genoeg meerderheid (NGKO 1964:9, 16; Strauss 1999:43-44).

Na die aanvaarding deur die Raad van Kerke van sy voorstel oor sinodale eenwording, kry die Kaapse Kommissie opdrag om 'tezamen' met die verteenwoordigers van die 'betrokkene Kerken' of Sinodes 'n konsepakte vir die Parlement op te stel op grond waarvan die NG Kerk die reg op sinodale hereniging kry. Die Raad vra dat die owerheid hierdie reg verleen op vier voorwaardes: (1) die verenigde kerk ontvang alle regte en voorregte vervat in Ordonnansie 7 van 1843 soos gewysig in 1898; (2) Die vereniging word tot stand gebring op voorwaardes deur die Raad van Kerke aanbeveel en deur die vier Sinodes aanvaar; (3) die regte van 'kleurling-lidmate' word deur genoemde besluit van die Raad van Kerke bepaal - dit bly dus soos dit in die vier sinodale gebiede is en (4) die verenigde kerk sal die reg hê om sy kerkorde of 'Constitutie' (destyds praat die NG Kerk van 'n kerkwet vir elkeen van die vier sinodes, Strauss 2010:8) te wysig met die oog op 'n synodus contracta of verkleinde sinode (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:22). Hierdie bepaling laat dus die moontlikheid oop van 'n verkleinde sinode in die NG Kerk.

Die konsepakte vir hereniging in die NG Kerk word deur die goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika geteken en op 12 Mei 1911 geproklameer (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:24).

In die inligtingsbrosjure van genoemde kommissie van vyf van die Raad van Kerke waarin D.F. Malan en G.M. Pellisier hulle ook bevind (kyk voetnoot 3; De Kerkbode 16/03/1911:172), lui die voorwoord dat daar aan die besluite tot hereniging van NG Kerk deur die staat, op grond van die 'Vereenigingsacte van 1911', regsbeskerming verleen sal word. Hierdie beskerming word moontlik gemaak deur 'n 'Staatswet'. Nie omdat 'n bepaalde kerk in 'n samelewingskring in eie reg, alleen deur 'n wet van die staat vir die spesifieke kerk met 'n ander kerk kan verenig nie, maar omdat die politieke geskiedenis van die Kaapkolonie van die Kaapse NG Kerk die slagoffer van Ordonnansie 7 van 1843 gemaak het. Die Verenigingakte van 1911 moes nou as 'n geproklameerde wet alle wetlik staatkundige hindernisse in die Kolonie en elders12 oor sinodale eenheid vir die NG Kerk uitskakel (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:2). Kerkhereniging per se is immers nie 'n staatkundige kwessie nie, maar 'n saak wat uit die NG Kerk self moet kom 'op de door haar zelve vastgestelde voorwaarden'. Hereniging is 'n kerklike saak waarvan die reg deur die staat as die juridiese integrator van die wettige regsbelange van almal in Suid-Afrika, op die kerk se eie voorwaardes beskerm moet word (De Kerkbode 16/03/1911:165). Die Akte, soos aanvaar deur die Parlement, maak hiervoor ruimte en maak van die versoek van die NG Kerk dat 'n driekwart van sy kerkrade & vier sinodes die Verenigingsakte met 'n driekwart meerderheid moet goedkeur, 'n wet (Van der Watt 1987:4). Sonder die goedkeuring van hierdie kerkvergaderings en die praktiese implementering daarvan deur die NG Kerk bly die Akte van 1911 'n dooie letter (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:2). Ordonnansie 7 van 1843 wou die NG Kerk wetlik van staatsbemoeienis bevry, maar het in sy beskrywing van hierdie Kerk in die Ordonnansie die Kaapse Sinode dwangmatig beperk tot binne die grense van die Kolonie. Hiermee is 'n staatsbeperking op die uitbreiding van die NG Kerk gelê. Van der Watt oordeel dat 'n kerklike goedkeuring van hierdie konsepakte op die gestelde voorwaardes en die deurvoer van sinodale hereniging in die NG Kerk ook daartoe kon gelei het dat Kerkrade en gemeentes wat nie saamstem nie, van hulle eiendom ontneem word. So 'n houding kon hulle buite die NG Kerk en sy geregistreerde eiendom plaas, maar die konsepakte voorkom dit (De Kerkbode 16/03/1911:165; Van der Watt 1973:104, 139, 1987:3).

 

Argumente teen en vir sinodale eenwording

Die brosjure of pamflet verdedig dus die bestaan van die Verenigingsakte 1911 as 'n staatswet vir die NG Kerk. In 'n moderne regstaat of 'n ordelike samelewing, reël kerke normaalweg hulle eie interne sake sonder 'n staatswet. Daarom moes 'n driekwart van die kerkrade en sinodes van die NG Kerk as kerkvergaderings, die konsepakte met 'n driekwart meerderheid goedkeur. Die outeur van Ordonnansie 7 van 1843, die destydse Kaapse prokureur-generaal sir William Porter, gee in 1870 advies dat 'n eie wet vir 'n besondere kerk soos die Kaapse NG Kerk, hierdie kerk vryer maak as die NG Kerk in die Boererepublieke waarin geloofsvryheid net in die algemeen erken word (Van der Watt 1973:151). Hy is skynbaar nie op hoogte van kerklike gebeure in die Kaapkolonie in 1862 nie. Al sou die NG Kerk sy eie wet opstel en aan sy staatsowerheid besorg wat dit 'n wet maak, soos in 1911 probeer is, kan so 'n wet nie sy kerkorde vervang wat tot suiwer kerklike beheer moet lei nie. Na sekere verwikkelings kan 'n dwingende staatswet vir die betrokke kerk 'n probleem skep en van hom 'n gevangene van die wet maak.

In 'n afsonderlike hoofstuk brei die pamflet as 'n inligtingstuk van die Raad van Kerke aan gemeentes en kerkrade op die argumente teen én vir sinodale hereniging uit - soos in die konsepakte. Hierdie is argumente wat in die debat wat al 'n paar jaar duur in gemeentes, kerkrade en sinodes gehoor en by die verenigings- of pamfletkommissie uitgekom het. Dit is argumente wat sonder 'n mening oor die invloed daarvan onder lidmate, weergegee word (NG Kerk 1911:75-79; Van der Watt 1987:5-6).

Onder die argumente teen die voorgestelde sinodale eenheid word verskeie sake geopper

'n Teenargument is dat die behoefte aan sinodale eenheid nie uit gemeentes kom nie, maar 'grootendeels uit sentiment en onder den invloed van den geest der Vereeniging []' wat op politieke en ekonomiese gebied in Suid-Afrika aanwesig is. Van der Watt haal die argument aan van sinodale eenheid as 'n saak tussen die predikante en nie die gemeentes nie (Van der Watt 1987:6).13 Die vraag word gevra: waarom hierdie vereniging as die kerke betrokke reeds 'feitelijk één' is? Die vier NG Kerke besit dieselfde belydenis en vorm van kerkregering en werk saam waar nodig. Boonop beskik die NG Kerk oor federale eenheid en kan hy deur die Raad van Kerke optree. Hierdie eenheid kan 'langsamerhand' tot 'n hegter eenheid ontwikkel indien dit wenslik word (NG Kerk 1911:75). Die streke het hulle eie beskouings, gewoontes en belange en dit kan wrywing veroorsaak. So iets - dit kom skynbaar in Transvaal voor - kan skeuring en verbrokkeling in gemeentes en in kerkverband veroorsaak. Die reiskoste van die voorgestelde sinode 'zullen enorm zijn', want afgevaardigdes sal van die verste punte na een punt moet ry. Hierdie situasie kan tot 'n verkleinde sinode lei wat die regering van die kerk aan te min lidmate - 'n pouslike oligargie - oordra (Oberholzer & Van Schoor s.a.:149). Die kwessie van Kleurlinglidmate kan tot onenigheid lei wat 'ons zendingwerk zeer stremmen'. Die laaste teenargument wat die kommissie noem, is dat verskille oor sinodale eenheid 'n hindernis in die kerklike lewe van 'ons volk' kan veroorsaak. Wat dié verskille behels, word egter nie gesê nie14 (De Kerkbode Bijvoegsel 28/12/1911:7; NG Kerk 1911:76-77). De Kerkbode (De Kerkbode 23/03/1911:183) wys daarop dat die meerderheid van 'n driekwart in kerkrade en sinodes waarskynlik groot genoeg is om die mening van lidmate ook te verteenwoordig. Vir hierdie spreekbuis van die NG Kerk gaan dit dus - hoewel bykomstig - wel om die demokratiese aanvaarding van sinodale eenheid.

Hoewel daar gesonde kerklike argumente onder hierdie sake voorkom, skep sommige die indruk van oordrewe en ongemotiveerde negatiwiteit. Eie houdings, gewoontes en belange kom ook in effektiewe sinodale verbande voor terwyl die las van geldelike koste verminder kan word deur goeie bestuur. Dit wil voorkom asof die moontlikheid van 'n verkleinde sinode swaar op die gemoed van sommige NG-lidmate lê. Hierdie moontlikheid word egter net genoem, nie voorgestel nie. Die teenbetoog gebruik nie argumente oor getalle of vergelykings met ander gereformeerde kerke wat die 'te veel lede vir 'n sinode' in die konteks van die NG Kerk verduidelik nie. Gewigtige hindernisse of teenargumente in die kerk, om ernstig opgeneem te word, moet Bybels verantwoord wees. Die woordjie 'kan' wat in baie argumente voorkom, skep vrees én weerlê nie die meriete van die redes ten gunste van sinodale eenheid nie.

Die pamflet stel ook redes ten gunste van sinodale of organiese eenheid

In die pamflet word geoordeel dat die steun vir organiese eenheid in die kerk ouer is as die behoefte aan politieke eenheid in Suid-Afrika (De Kerkbode 23/03/1911:183). Volgens die skrywers is die hand van die Here sigbaar in die groeiende oortuiging in die NG Kerk dat sinodale eenheid die wil van God is. Dit is 'n Bybelse voorskrif uit Johannes 17 en die vrug van die werk van die Heilige Gees. Waarom moet die vier NG Kerke met dieselfde belydenis en vorm van kerkregering halfpad aan die uiterlike kant van hulle innerlike eenheid halt roep? Die verwerping van die voorgestelde eenheid sal aan kwaadstokers 'n stok gee om die NG Kerk te slaan. 'n Sinode met gesag (sinodaal) sal beter voorkom op geestelike, godsdienstige, opvoedkundinge en nasionale gebied as die Raad van Kerke (federaal). So 'n vergadering kan - as die lidmate so voel - 'in naam van 't geheele Afrikaner volk spreekt'. Die NG Kerk kan vanuit een sinode ook sterkter optree in sy sendingwerk. 'De Vereeniging zal onzen blik verruimen - ons van provincialisme verlossen': provinsialisme met eie sinodale belange, gebruike en menings wat die algemene geestelike belang kan aantas. Tug oor provinsiale grense heen kan opgeskerp word. Organiese eenheid as innerlik geestelike eenheid sal ook die eenheid van 'ons Hollandsch Afrikaancsh volk' waarborg (De Kerkbode Bijvoegsel 28:12:1911:7-8; NG Kerk 1911:77-78; Van der Watt 1987:5).

Hierdie argumente gebruik dus die Skrif én moontlike emosies by lidmate. Die argumentasie getuig van 'n getemperde optimisme vir die verwesenliking van organiese of sinodale eenheid in die NG Kerk en beskou dié kerk as 'n kerk met merkbare invloed in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskappe.

Daar is op die vereiste gewys dat 'n driekwart van die kerkrade met 'n driekwart meerderheid in elkeen van die vier sinodes die Verenigingsakte van 1911 moes goedkeur. Hierdie meerderheid kon egter nie verkry word nie.15 Van der Watt se verwysing na 'n verbitterde of gelate aanvaarding daarvan in die NG Kerk, is opgehaal. Motivering vir 'n hernude poging tot sinodale eenheid na die mislukking daarvan in 1911-1912, het aanvanklik ontbreek. Die eerste stap in hierdie rigting kom eers 'n dekade later van die Raad van Kerke in 1921 as hy opnuut 'n kommissie met die oog op sinodale hereniging aanwys (NG Kerk 1921:18). Hierdie ideaal sou egter eers in 1962 in vervulling gaan (Van der Watt 1987:10-17).

 

Slot

Drie besware teen sinodale hereniging in die NG Kerk in 1911 kan op grond van hierdie artikel uitgelig word: die moontlikheid dat bruin mense tot wit gemeentes toegelaat kan word, 'n verkleinde algemene sinode en die persepsie dat sinodale hereniging in die NG Kerk van 1911 nie uit die gemeentes nie, maar uit die staatkundig nasionale klimaat in Suid-Afrika én die opinie van die predikante - 'n domineesaak - gespruit het. Die positiwiteit vir sinodale eenheid op die sinodes waar al die diensdoenende predikante teenwoordig is, is nie uit die kerkraadsbanke gereflekteer nie.

'n Ou kwaal in die NG Kerk het weer sy kop uitgesteek: sinodes en kerkrade praat nie altyd dieselfde taal nie.

Van die kant van die Raad van Kerke en die vier sinodes wat die saak gedryf het, was daar ook hanteringsfoute: 'n omslagtige akademies getinte inligtingspamflet wat nie tot die gemiddelde kerkraadslid spreek nie; 'n gebrek aan insig in die noodsaak van 'n sinodale, in plaas van die pas aanvaarde, federale verband én 'n kloof tussen die oortuigings (en belewing) van dominees en van kerkraadslede.

Die sinodale hereniging van die NG Kerk in 1911 het misluk. Die saak sou in die toekoms met groter kerklik pastorale insig, mensekennis en berekening van die omstandighede, benader moes word.

 

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.J.S. is die enigste outeur betrokke by die skryf van dié artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel het geen befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore ontvang nie.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

 

Literatuurverwysings

Brown, W., 2002, 1907, Die strewe na kerklike eenheid, G. Hofmeyr (red.), NG Kerk 350, pp. 162-163, Lux Verbi BM, Wellington.         [ Links ]

De Kerkbode, 09:02:1911; 16:03:1911; 23:03:1911; Bijvoegsel 28:12:1911.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A., 1930, Boustowwe vir die geskiedenis van die Nederduits-Gereformeerde Kerk, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Gerdener, G.B.A., 1934, Ons kerk in die Transgariep - Geskiedenis van die Ned. Geref. Kerke in Natal, Vrystaat en Transvaal, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Kapp, P.H., 2008, 'Malan, Daniël Francois (1874-1959)', F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, p. 692, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Kleynhans, E.P.J., s.a., Die kerkregtelike ontwikkeling van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika 1795-1962, s.n., s.l.         [ Links ]

Nederduitsch Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, 1858, Handelingen der zesde vergadering van de Algemeen synode der Nederduitsch Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika, Van de Sandt De Villiers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1907, Handelingen Raad der Kerken, Volkstem Drukkery, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1909, Handelingen Raad der Kerken, Pro Ecclesia, Stelllenbosch.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1911, Handelingen Raad der Kerken, Paarl Drukpers, Paarl.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1921, Handelingen Raad der Kerken, Paarl Drukpers, Paarl.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1962, Handelinge van die eerste vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, Nasionale Handelsdrukkery, Elsiesrivier.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO), 1964, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, N.G. Kerk-Uitgewers, Pretoria.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGKO), 2019, Die Kerkorde, s.n., s.l.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerke, 2016, Jaarboek 2016, TM, Wellington.         [ Links ]

Oberholzer, J.J. & Van Schoor, M.C.E., s.a., Die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat, NG Kerk-Uitgewers, Bloemfontein.         [ Links ]

Olivier, A.R., Hofmeyr, J.W. & Hofmeyr, G.S., 2008, 'Murray, Andrew jr. (1828-1917)', F. Gaum Red. Christelike Kernensiklopedie, pp. 765-766, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1989, 'Geen kerk oor 'n ander', Acta Theologica 9(1), 1-14.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1999, 'Goedkeuring van kerkrade vir 'n nuwe verband in die NG Kerkfamilie?', Acta Theologica 19(2), 32-54.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2008, 'Kuyper, Abraham (1837-1920)', F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, p. 634, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2016, Die naam 'Nederduitse Gereformeerde Kerk', Acta Theologica 36(1), 213-228. https://doi.org/10.4314/actat.v36i1.12        [ Links ]

Strauss, P.J., 2019, '"Hervormd" of "gereformeerd?" - Die keuse voor die Algemene Kerkvergadering van die NG Kerk in die Suid-Afrikaanse Republiek in 1866', Tydskrif vir Geesteswetenskappe 59(3), 367-381.         [ Links ]

Van der Watt, P.B., 1973, Die Loedolffsaak en die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1862-1962, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Van der Watt, P.B., 1977, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1834-1866, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Van der Watt, P.B., 1987, Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1905-1975, NG Kerkboekhandel, Pretoria.         [ Links ]

Van der Watt, P.B. & Hofmeyr, J.W., 2008, 'Pellisier, George Murray (1881-1954)', F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, p. 858, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Pieter Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 13 June 2022
Accepted: 22 Aug. 2022
Published: 08 Dec. 2022

 

 

1 . Oberholzer en Van Schoor (s.a.:137-150) brei in hulle geskiedenis van die NG Kerk in die Oranje-Vrystaat uitvoerig hierop uit.
2 . Die Kaapse Sinode het teen 1911 uit 263 lede, die Natalse uit 16, die Vrystaatse uit 83 en die Transvaalse Sinode uit 100 lede bestaan. Omdat 'n gereformeerde sinode nie 'n permanente kerkvergadering is nie en slegs bestaan terwyl hy vergader, is hierdie getalle aanduidings van hoe groot die betrokke sinodes kon wees met die aantal gemeentes wat hulle verteenwoordig (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:18). Hierdie syfers is ook 'n aanduiding van die grootte van elke sinode se verteenwoordiging op die Raad van Kerke. Die getalle spruit uit die aantal gemeentes soos verteenwoordig deur hulle predikant(e) en een ouderling per gemeente op die sinode. Nederduitse Gereformeerde Sinodes bestaan tradisioneel uit al die 'diensdoenende' gemeentepredikante en een of meer ouderlinge (vir elke dominee 'n ouderling) uit elke gemeente, (NGKO 1964:7, 2019:20).
3 . Die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk wat eers in Oktober 1962 plaasvind, kies 'n sinodale verband wat nie deur staatsgrense beperk word nie. Die effek van die Kaapse Ordonnansie 7 van 1843 en die kerklik berugte Loedolffsaak wat daarop gebaseer is, is in Maart 1961 nietig verklaar deur die Suid-Afrikaanse Parlement. Die NG Kerk in algemene sinodale verband word in 1962 net die NG Kerk, sonder 'n geografiese agtervoegsel (Van der Watt 1987:15; Strauss 2016:215).
4 . Oberholzer en Van Schoor (s.a.:144-145). Populêre sinonieme vir sinodale eenheid in die NG Kerk is destyds 'n 'algehele' en 'organiese' vereniging. Sinodale eenheid in gereformeerde kerke is 'n voor die handliggende struktuur vir gemeentes wat in belydenis, kerkregering en kerkinrigting ooreenstem. Hoewel sake soos dieselfde geografiese gebied en kulturele eendersheid nie as deurslaggewende norme vir die inrigting van 'n kerk beskou kan word nie, word ooreenstemming in belydenis, kerkregering en kerkinrigting daardeur vergemaklik: 'n bepaalde geografiese area en kulturele eendersheid is albei faktore wat onder destydse NG gemeentes aanwesig was. 'n Sinodale struktuur koester dieselfde belydenisse, maak voorsiening vir kerkrade, klasse of ringe, asook sinodes, en gebruik in hoofsaak dieselfde kerkinrigting waaronder kerkregering en liturgie. Sinodale eenheid is die hegste eenheid tussen gemeentes wat wesenlik eenders is of tussen lidmate in verskillende gemeentes wat in dieselfde gemeente(s) sou gewees het as hulle binne dieselfde gemeentegrense was. Teen hierdie agtergrond het die NG gemeentes in die Kaapkolonie van meet af verenig in die Kaapse Sinode waar hulle saam oor sekere sake besluit het. Kerkhistories het nuwe NG gemeentes in ander gebiede in Suider-Afrika na die Groot Trek van 1835-1840, verenig gebly in die Kaapse Sinode omdat eenheid in die kerk, as 'n eenheid in die geloof, nie bepaal kan word deur staatsgrense nie. Aan hierdie sinodale eenheid het die Loedolffsaak van 1862 - dit kom in hierdie artikel aan die bod - 'n einde gemaak. Anders gestel: die 'organiese' eenheid van die NG Kerk is deur 'n uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof in 1862 verbreek en moes nou, in 1911, herstel word (Oberholzer & Van Schoor s.a.: 146-147; Van der Watt 1977:104-120). Om een of ander rede, miskien omdat kerkreg in die geledere van die destydse NG sinodes 'n relatief onbekende terrein was, het sinodale eenheid sinoniem met 'n NG term van hierdie tyd geword: organiese eenheid. By watter kerk of teoloog die NG Kerk die term geleen het, vra vir verdere ondersoek. 'n Naam wat in die omgang opduik, is dié van Abraham Kuyper (1837-1920), gereformeerde dogmatikus, kerkvoorman en eerste minster van Nederland. Twee faktore verminder egter die moontlikheid van Kuyper as die bron vir organiese eenheid in die NG Kerk: sy invloed syfer eers in die 1930's meer in die algemeen in die NG Kerk deur - meer as twee dekades nadat hierdie organiese eenheid by sinodes en by die Raad van Kerke, dus in die algemeen, gebruik is - én hy gebruik die term 'organiese' groei vir die ontwikkeling of biotiesbepaalde uitgroei van verskillende volke en nie vir kerk of staat nie. Boonop plaas hy die kerk onder God se besondere genade, terwyl hy die ontwikkeling van volke onder sy algemene genade of 'gemeene gratie' plaas. Vir hom spuit organiese groei uit God se 'gemeene gratie' aan die hand van 'n natuurwetmatige ontplooiing, maar spruit die kerk uit die besondere genade van Christus. In die kerk as 'n geloofsverband, is daar nie die moontlikheid vir natuurwetmatige, organiese groei of eenheid nie (Strauss 1993:323-335, 2008:634).
5 . Die lede van hierdie tydelike kommissie sluit bekende predikante, dosente en gemeenskapsleiers in. 'n Jong D.F. Malan is die skriba en 'n toekomstige Eerste Minister in Suid-Afrika van 1948-1954 (Kapp 2008:692), terwyl G.M. Pellissier in 1938 die eerste dekaan van die Teologiese Fakulteit van die NG Kerk aan die Universiteit van Pretoria word (De Kerkbode 16/03/1911:172; Van der Watt & Hofmeyr 2008:858). Die kommissie word op 06 Maart 1911 deur die Raad in die lewe geroep en vyf lede benoem. Hierdie kommissie moes in oorleg met die moderature van die vier gefedereerde Kerke ook die tyd bepaal 'waarin de kerkeraden' op die verenigingsakte antwoord, Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:23. Die primêre doel van die pamflet, volgens die Raad van Kerke, was om die Verenigingsakte waaroor hulle moes stem, aan kerkraadslede te verduidelik (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:23-24).
6 . Volgens die pamflet het die argumente van Kommissie van die Raad van Kerke oor kerkvereniging die opsomming van die Kaapse Kommissie 'voor en tegen de voorgestelde Kerkvereeniging' in sy verslag - die pamflet - opgeneem. Weens besware van 'n 'tegniese' aard, kon die Kommissie van die Raad egter nie met die Kaapse Kommissie oorleg pleeg én 'n gesamentlike rapport lewer nie (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:3, 4).
7 . Hierdie pamflet verander die hedendaagse betekenis van die begrip 'pamflet' omdat dit 'n stewige 86 bladsye uitmaak: een van die redes waarom die pamflet - behalwe die akademiese trant waarin dit geskryf is - geslote kon gebly het vir byvoorbeeld ouderlinge, Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:86. 'n Kommissie aangewys deur die Raad van Kerke om die redes vir die mislukte sinodale eenwording te ondersoek, verklaar in 1921 dat die pamflet of 'boekske' nie vir die gewone kerkraadslid 'bevatlik genoeg' was nie (Oberholzer & Van Schoor s.a.:149).
8 . In 1852 versoek Transvaalse gemeentes soos dié van Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg en Soutpansberg om by die Ring van die Transgariep in te skakel (Van der Watt 1977:98). Na 1852 sou sekere gemeentes in Transvaal so optree dat hulle mettertyd deel word van die Nederduitsch Hervormde Kerk wat in hierdie gebied gevorm is (Strauss 2019; Van der Watt 1977:67-78).
9 . In sy pamflet oor sinodale hereniging van die NG Kerk in 1911-1912 som die betrokke kommissie die gevoel onder ingeligte lidmate van die NG Kerk goed op wanneer hy na die uitspraak en gevolge van die Loedolffsaak verwys as 'die gewelddadige verbreking van hare organische eenheid' (Nederduitse Gereformeerde Kerk 1911:8).
10 . Vir nadere besonderhede, kyk Van der Watt (1973:40, 188).
11 . Die redakteur van De Kerkbode wyt kritiek teen die NG Kerk in die parlement en openbare lewe aan mense wat die 'officieele taal' van die Kerk nie verstaan en die argumente nie kan volg nie (De Kerkbode 16/03/1911:165-166). In die stuk word daarop gewys dat die afsonderlike sendingkerke vir 'gekleurde lidmaten' in die Vrystaat, Natal en Transvaal 'n nou band met hulle moederkerk, dieselfde 'Calvinistiese' leer en 'n selfregerende presbiteriaanse kerkregeringstelsel het. 'n Soort regering waarvoor hulle nie in die Moederkerk sal kwalifiseer nie.
12 . Vgl die verwysing na Natal in die inleiding.
13 . Oberholzer en Van Schoor (s.a.:149) noem die beswaar dat organiese vereniging deur die vier Sinodes waarop al die gemeentepredikante dien, op kerkrade afgedwing is en daarom nie geslaag het nie.
14 . De Kerkbode (23:03:1911:183) wys daarop dat 'n gemeentevergadering of 'n vergadering waar die 'volk' gehoor word, geen kerkregtelike gewig by besluitneming in die NG Kerk dra nie. Die kerkraad wat moet besluit, sal egter 'wijselijk handelt' om die 'gemeenteleden' soms te raadpleeg. Moontlik is die inspraak van die gewone lidmaat in besluite oor kerkhereniging in 1911 - 'n kongregasionalistiese demokrasie - in die loop van die debat geopper om skeuring in die gemeentes te voorkom.
15 . In die Vrystaatse NG Kerk het 36 uit 49 kerkrade organiese vereniging afgewys (Oberholzer & Van Schoor s.a.:147).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons