SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.76 número4At the potter's workshop. Jeremiah 18:1-12: A narrative that reveals more than meets the eye índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


HTS Theological Studies

versão On-line ISSN 2072-8050
versão impressa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.76 no.4 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v76i4.6146 

ORIGINAL RESEARCH

 

Te Deum Laudamus - Grosser Gott, wir loben dich. 'n Ondersoek na vertalings in Afrikaans

 

Te Deum Laudamus - Grosser Gott, wir loben dich. A discussion of translations in Afrikaans

 

 

Elsabé Kloppers

Department of Philosophy, Practical and Systematic Theology, School of Humanities, University of South Africa, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The German hymn 'Grosser Gott, wir loben dich', written by the Catholic priest, Ignaz Franz (1719-1790), is based on the 'Te Deum', one of the oldest hymns in the Christian tradition. The 'Te Deum' and the original German text of 'Großer Gott' are discussed and a short overview of the reception of the text is given. It is followed by a discussion of translations into Afrikaans: a text in a Lutheran hymnal, the two versions included in the second official hymnal of the Dutch Reformed Churches in South Africa (1978), and another version, also included in the current (third) official hymnal, Liedboek van die Kerk (2001). Theological and hymnological aspects, as well as connections and similarities with the 'Te Deum' and the original text in German are investigated.
CONTRIBUTION: The background and reception history of the hymn Grosser Gott, wir loben dich are given, and various translations into Afrikaans are discussed with regard to differences and similarities to the original text. It is shown that changes to texts could contribute to hymns being used to promote strange issues.

Keywords: hymns; Te Deum; psalms; hymnology; translation; praise; theology.


 

 

Inleiding

Die geboorte van die digter van die Duitse teks, 'Großer Gott, wir loben dich', Ignaz Franz (1719-1790), priester in die Katolieke Kerk in Breslau, driehonderd jaar gelede, is in 2019 herdenk. 'n Artikel wat veral op die Wirkungsgeschichte van die melodie fokus en wat die pleidooi rig dat eensydige sienings ten opsigte van 'protestant' en 'katoliek' oorkom moet word, het in 2019 verskyn (Kloppers 2019). Die 'Te Deum', as basisteks van 'Grosser Gott', die resepsie van die teks van 'Grosser Gott' in verskillende gesangboeke, asook verskillende vertalings van die lied in Afrikaans, word hier bespreek.

 

Agtergrond van die himne: 'Te Deum Laudamus'

Die teks van 'Großer Gott, wir loben dich' is gebaseer op die himne 'Te Deum Laudamus'1- 'n feestelike, lof-, dank- en gebedsteks in Latyn. Dit het waarskynlik in die vierde eeu ontstaan en is naas die 'Gloria in excelsis Deo' en 'Phos hilarion' (beide oorspronklik in Grieks) een van net drie stukke wat uit die tyd van die sogenaamde 'martelaarskerk' behoue gebly het. Dit het deur die eeue 'n sterk uitwerking op liturgiese, musikale en politieke gebied gehad (Franz & Schäfer 2019:12), en het vandag steeds 'n plek in die liturgie van die Katolieke, Lutherse, Anglikaanse en ook ander kerke.

Aan die begin van die himne word die naam van God direk aangeroep: 'U, God, loof ons; U, Heer, prys ons'. Dan volg drie dele wat duidelik van mekaar geskei is:

Deel een verbind die sangers van die lied direk met die erediens in die hemel. Dit verplaas die sangers na die heiligdom van die hemelse Jerusalem, in die teenwoordigheid van die geskapenes van die Ewige, wat om die troon lof aan die Ewige betoon. Die visie waarin Jesaja in die allerheiligste van die tempel geroep word (Jes 6), vermeng in dié deel met die openingsvisie van Johannes op Patmos (Op 4). Die middelpunt van hierdie deel is die 'Driemaalheilig' (Jes 6:3; Op 4:8) (Sanct us) wat om die troon van God gesing word. Die troon word omkring in konsentriese sirkels van die roepende engele enersyds, en van die lofprysende mense andersyds. Interessant is die beskrywing van Franz en Schäfer (2019:14) wat aantoon dat die nabyheid tot God as die ordeningsbeginsel geld: Die binneste kring word gevorm deur die troonengele, naamlik die serafs en gerubs aan die een kant, met die koor van die apostels en die profete aan die ander kant - die kant van die mense; dan volg die spesifieke engelsoorte van hemel en magte aan die kant van die engele, met die martelaars aan die kant van die mense. Die buitenste kring bestaan uit alle engele en die hele kerk. Die hele kosmos, hemel en aarde is na die Ewige gerig, aan wie die 'Driemaalheilig' gesing word. Alle werkwoorde staan hier in die teenwoordige tyd. Dit gee die toneel 'n dimensie wat ruimte en tyd oorstyg. Hierdie strofe word deur 'n trinitariese doksologie afgesluit.

Deel 2 bring 'n duidelike wending. Die aangesprokene word 'U, Christus' (vs 14); die tempus van die werkwoorde verander na die verlede tyd ('U het ' vs. 16). Die titel 'Koning van die heerlikheid', kom uit Psalm 24, waar dit die intog van die oorwinnende Heer in die tempel-heiligdom besing. Waar deel 1 die statiese, tydoorstygende toneel van voortgaande lof beskryf, gaan dit in deel 2 oor die redding van die mensegeslag, beskryf in vier stappe deur Jesus Christus se menswording, sy lyding en dood, sy opstanding en verheerliking aan die regterhand van God - met die verwagting van sy wederkoms. Aan die einde van die tweede deel praat die sangers weer van hulself, soos reg aan die begin: 'Ons bid U laat ons ' (vs. 20-21) en soos aan die begin, praat hulle met God. Daarmee word beide tonele omraam: Die sangers plaas hulself konsentries in die heel buitenste sirkel rondom die gegroepeerde engele en mense wat die 'Driemaalheilig' sing - dus ook rondom al die engele en die hele kerk wat die buitenste sirkel vorm. Die 'heerlikheid' (gloria) is die sleutelbegrip wat beide tonele bymekaarhou: Dit motiveer die gesang van die 'Driemaalheilig' (vol is die hemel en aarde van die heerlikheid van u roem); dit karakteriseer die oorwinnende Christus (Koning van die heerlikheid; verhoog in die heerlikheid van God); dit is ook die doel van die bede van die sangers: laat ons deel kry aan die ewige heerlikheid (Franz & Schäfer 2019:14).

Die himne eindig in deel 2. Deel 3 is 'n latere byvoeging van aanhalings uit die Psalms, wat tot 'n gebedslitanie saamgevoeg is. Dit voer die slotbede van deel 2 verder: 'Help u volk, Heer, en seën u erfenis; lei hulle en dra hul in ewigheid' (Psalm 28, 9); 'Ek wil u prys dag vir dag' (145,2); 'Ontferm, o Heer, ontferm u oor ons!' (123,3); 'O Here, verlig ons met u genade, want ons hoop is op U'. (33,22); 'Op u, o Here, vertrou ek; laat my nooit in skande kom' (31,2).

 

Die gebruik van die 'Te Deum'

Die oudste bekende bron wat die liturgiese plek van die 'Te Deum' aandui, dateer uit die sesde eeu met die 'Reël van Benediktus' (11,8), waarvolgens die lied Sondae en op feesdae tydens die oggendgebed in die kloosters gesing sou word. Daarvandaan kom ook die Middeleeuse gebruik by die Paasspele op Paasmôre (Franz & Schäfer 2019:15). Sedert die negende eeu is die 'Te Deum' in verskillende weergawes in Duits vertaal. Martin Luther toon hoë waardering vir die teks en bestempel dit as die 'derde Geloofsbelydenis', naas die Apostolicum en dié van Nicea-Konstantinopel (325/381). Luther vertaal die 'Te Deum Laudamus' teksgetrou in 1529 en voorsien die teks, 'Herr Gott, dich loben wir', van 'n sterk vereenvoudigde weergawe van die gregoriaanse melodie wat vir die Te Deum gebruik is (Egerer, in Egerer & Marti 2003). Dié weergawe is opgeneem in die Evangelisches Gesangbuch (EG 191).

 

'Grosser Gott, wir loben dich: Te Deum' in Duits

Ignaz Franz (1719-1790) skryf die teks 'Grosser Gott', gebaseer op die 'Te Deum' en dit word opgeneem in die versameling, Die christlich-katholische Lehre in Liedern (Franz 1768 nr 53). Die lied ontstaan binne die sfeer van die Katolieke Verligting (Aufklärung), wat volgens die ideale van die algemene Aufklärungsbewegung, religieuse hervorming met lewenspraktiese impulse wou verbind (Fischer 2012:152). Die wil om die volk te onderrig in religie en moraal was vir Franz die aansporing om eenvoudige, begryplike liedere te maak. Van die ongeveer 350 liedere wat Franz geskryf het, het net hierdie gesang bekend gebly. Dit behoort tot van die gewildste kerkliedere in die wêreld.

Die oorspronklike teks in Duits het twaalf strofes.2 Dit is opgebou uit drie dele en het dus dieselfde struktuur as die 'Te Deum'. Die eerste deel bestaan uit 'n lofprysing aan God die Vader en God Drie-enig (strofes 1-6). Deel twee fokus op die verlossingswerk van Jesus Christus (strofes 7-9). Die derde en laaste deel (strofes 10-12) bestaan uit lof- en smeekgebede wat opgeneem is uit die Psalms.

Strofe 1 is 'n sterk lofgesang - 'n gloria wat dien as opskrif van die lied as geheel. Dit weerspieël 'n liturgiese struktuur en funksie daarin dat die strofe eindig met 'n belydenis dat God die ewige Heer is (Ps 90:2; 103:17; Heb 1:8; Op 4:8). Elke segging in dié strofe word versterk deur parallelismes, soos algemeen in die Psalms voorkom. Die Sanctus in strofe 2, met die 'Driemaalheilig' van die lofprysende engele (Jes 6,3) volg op die gloria van strofe 1. Die lofsang wat in die hemel aangehef word, word daarmee verder gedra. In strofe 3 word God se krag geroem (soos in strofe 1), maar in dié strofe word God se hulp oor tyd en plek heen - God se universaliteit in tyd en ruimte - beklemtoon. In strofe 4 word die 'heilige koor' van die apostels, profete en martelare in die hemelse aanroep van die 'Heilig' ingetrek.

Strofes 5 en 6 sluit die eerste deel af met die trinitariese lof aan die Vader, Seun en Heilige Gees. In strofe 7 verskuif die fokus na die verlossing deur God se Seun, Jesus Christus. Dit word deurgedra tot aan die einde van strofe 9. Die bedes in die drie strofes van die laaste deel (strofes 10 - 12) bevat verwysings na die verkiesing van God se volk, die vergewing van sonde, redding van die dood, God se seën, hoop op God en hoop op die ewigheid. Soos in die 'Te Deum', is van die verwysings ontleen aan die Psalms (bv Ps 123:3; 33:2 en 31:2).

Volgens Thust (2012:126) bevat hierdie teks, as omdigting van die 'Te Deum', die liturgiese stukke Gloria, Sanctus en Kyrie (in hierdie volgorde), asook die formele handelinge van aanbidding, lof, belydenis, dank, smeekbede en selfverpligting. Teen die einde kom die lof nog herhalend en versterkend na vore. Die gebed om ontferming, die roep om bystand en die bede om seën in die laaste strofe, versterk myns insien die konsep van 'n liturgiese orde met 'n bepaalde, logiese verloop. Die lied as geheel vorm ook 'n geloofbelydenis (soos die 'Te Deum') en dien dus as die Credo in die orde van die erediens.

Elke strofe bestaan uit ses reëls (verse) met die lettergreep-skema 7-8-7-8-7-7. Die metrum is trogeïes met vier heffings (klemtone). Die rymskema is ababcc. Parallelismes, anafoor, herhalings, tweelingformules (lof- en dankgesange; lof en prys) en reekse (hemel, aarde, lug en see; ere, lof en dank) kom ryklik voor. Hierdie stylmiddele het deurgaans 'n versterkende funksie ten opsigte van die inhoud en die segging. Die alliterasie en assonansie val ook op; dit gee die lied 'n inherente musikaliteit, wat dui op die vakmanskap van die digter.

 

Die opname van die lied in gesangboeke en die verdere verspreiding

Die huidige weergawe van die lied word veral bekend deur die tweede weergawe van Ignaz Franz, opgeneem in die katolieke gesangboek van Maria Theresia uit 1774 (Franz & Schäfer 2019:16). Om estetiese redes, méér as uit konfessionele oorwegings, is dit in protestantse kringe beskou as 'n 'geestelike volkslied' van die Aufklärungsperiode en is daarom ook met vyandigheid bejeën (Fischer 2007, 2012:154). Die Evangelisches Gesangbuch vir die streek Brandenburg (Königliches Konsistorium 1886) neem die lied op in 'n aanhangsel genaamd 'Geestelike Volksliedere' (nr 11), waar dit net ses strofes bevat, naamlik strofes 1 tot 3 en 10 tot 12 van die oorspronklike (Franz & Schäfer 2019:19).

Eers in die 20ste eeu word dit algemeen in protestantse gesangboeke opgeneem, maar anders as in die meeste Rooms-Katolieke bundels waarin al die strofes opgeneem is, bevat protestantse gesangboeke meestal net 'n seleksie van strofes - ná strofe een, is dikwels net die laaste drie strofes opgeneem. Die sametrekking van die aanvangstrofe en die slotstrofes (en die gevolglike verlies van die Christologiese middeldeel) het veroorsaak dat die volk se lof aan God aan die begin onmiddellik opgevolg word met: 'Sien u volk in genade aan'. Dit beteken dat die 'volk'-strofe die 'doelstrofe' van die teks geword het. Volgens Franz en Schäfer (2019:19-20) is dit die rede dat 'volk' in die tyd van die nasionaal-sosialisme in Duitsland as 'Duitse volk', eerder as 'volk van God', verstaan is. Hulle toon ook hoe die deel oor Christus se verlossing in die liedteks van Ignaz Franz aan Verligtingsdenke onderworpe was en daarmee afgewater is, in vergelyking met die fyn gestruktureerde en poëtiese teks van die 'Te Deum' - die verlossingsdrama van die oorspronklike 'Te Deum'- himne is in die Duitse liedteks opgebreek tot blote kategismusreëls. Franz en Schäfer (2019:17-18) vind dit dus nie vreemd dat dié deel in baie gesangboeke weggelaat is nie - en dat selfs waar die teks volledig in gesangboeke opgeneem is, hierdie strofes min gesing word. Hulle wys egter op die geliefdheid van die drie slotstrofes oor die tyd heen, wat tog uitstyg bó enige politieke toeëiening.

Die weergawe wat in die nuutste Duitse gesangboeke in Duitsland, Oostenryk en Switserland opgeneem is, is dié wat goedgekeur is deur die Arbeitsgemeinschaft für ökumenisches Liedgut im deutschen Sprachbereich (AöL) - dit is die werksgemeenskap vir die ekumeniese liedereskat in die Duitse taalgebied, bestaande uit himnoloë in katolieke en protestantse kerke wat hulle daarvoor beywer dat dieselfde weergawes van liedere wat die kerke gemeenskaplik het, in gesangboeke opgeneem word. Meer as 500 liedere is reeds goedgekeur. Die ekumeniese weergawe van die Duitse teks van die lied sluit aan by die oorspronklike teks uit 1768. Dit het egter net elf strofes omdat die oorspronklike strofes 5 en 6 tot een strofe saamgevoeg is. Deur die samevoeging is die oorspronklike voorstelling, tipies aan die tyd van die Verligting, vermy dat die Heilige Gees 'ons met sy léring kragtig voed'. Daarmee het egter ook die titel vir die oorwinnende Christus verlore gegaan, naamlik 'Koning vol van eer' (rex gloriae) wat die tweede strofe van die 'Te Deum'- himne ten grondslag lê (Franz & Schäfer 2019:427). Die oorblywende strofes is op verskillende plekke gewysig. Die ekumeniese teks kan op die internet gevind word, onder meer by: https://www.liederdatenbank.de/song/230.

In Switserland is die lied so gewild dat daar in die sestigerjare van die 20ste eeu ernstig oorweeg is om die lied tot die nasionale volkslied van dié land te verklaar. Die ekumeniese weergawe is opgeneem in die gesangboeke van die Reformierte Kirche (Reformiertes Gesangbuch 1998, Nr. 247), die Rooms-Katolieke Kerk en dié van die Christkatholische Kerk. In die laaste strofe is die teks egter só verander:

11. Herr, erbarm, erbarme dich;

auf uns komme, Herr, dein Segen; [oorspronklik: Lass uns deine Güte schauen]

deine Güte [oorspr. Treue] zeige sich

allen der Verheissung wegen. [oorspronklik: wie wir fest auf dich vertrauen.]

Auf dich hoffen wir allein:

lass uns nicht verloren sein.

In die oorspronklike teks bevat reël 2 die bede van die 'ons': 'Heer, laat ons u goedheid sien!' Die Heer moet die passiewe 'ons' iets maak doen, 'ons' net 'laat sien' - ons dus help om self iets te doen, naamlik 'om te sien'. Die veranderde teks is 'n bede dat die Heer sy seën op ons 'sal laat kom'. God is die handelende, God se seën sal iets aan die 'ons' doen - die 'ons' verander, dus sonder die 'ons' se medewerking.

'Ons' sal dus 'geseënde mense' wees. Die 'transformasie deur God se seën', wat deur die veranderde teks aangedui word, is veel sterker as om bloot God se goedheid te mag sien (soos verwoord in die oorspronklike teks). In reël 3 word Güte, die 'goedheid van God' wat in reël 2 weggeval het, opgeneem in die plek van 'God se trou' (Treue). In strofes 3 en 4 lees die sin as geheel dus: 'Wys u goedheid aan almal op grond van u belofte'. In die oorspronklike teks word God se trou (wat God moet bewys) egter bloot met ons trou vergelyk. Dit lees só: 'Wys ons u trou - so vas, soos ons op U vertrou'. Neem 'n mens in ag hoe swak 'ons' vertroue op God in werklikheid is, sou 'n mens wou hê dat God se trou ook só moet lyk? Teologies gesien, is die oorspronklike segging dus nié aanvaarbaar nie en is die verandering na 'op grond van die belofte' 'n verbetering. Enige vertaling uit die Duitse teks, behoort dié wysiging dus in ag te neem, eerder as om streng by die oorspronklike teks te hou.

Die lied is in baie tale vertaal en is opgeneem in liedereboeke oor die wêreld. In Colours of grace (GEKE 2006) is dit opgeneem in sewe tale: Duits, Engels, Frans, Nederlands, Pools, Sweeds en Sloweens. Dit is ook in vele nie-kerklike gesangboeke, soos jeugsangbundels, militêre liederebundels, skoolliederebundels en bundels vir kore en vir solosang opgeneem (Fischer 2012:155-156).

 

Die tekste in Afrikaans (LvdK 190, 191 en 192)

'n Vertaling van die teks verskyn reeds in 1934 in 'n gesangboek vir die Lutherse kerk van Johannes Baumbach - 'n vertaling in Afrikaans, gepubliseer tien jaar vóór die eerste 'amptelike' gesangboek in Afrikaans (1944). Dié lied word egter nié in hierdie amptelike bundel opgeneem nie - waarskynlik omdat dit ook net as 'geestelike lied' beskou is. In die Psalm- en Gesangboek (Nederduitse Gereformeerde Kerk en Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1978) verskyn twee weergawes: Gesang 10 (LvdK 190) (wat eintlik net die melodie benut) en Gesang 23 (LvdK 192), met twee strofes van Baumbach en 'n derde wat bygevoeg is. 'n Verdere weergawe, gebaseer op die 'Te Deum', is ook in die Liedboek van die Kerk (2001, nr 191) opgeneem. In twee van die weergawes in Afrikaans word die oorspronklike rymskema, ababcc (wat by die musiek pas), geïgnoreer. In plaas van kruisrym in die eerste deel, kom paarrym deurgaans in die teks voor (LvdK 190 en 191). Min van die stylmiddele wat in die oorspronklike teks voorkom, naamlik parallelismes, anafoor, herhalings, tweelingformules (lof- en dankgesange; lof en prys) en reekse (hemel, aarde, lug en see; ere, lof en dank) kom in die tekste in Afrikaans voor - grootliks ook vanweë die feit dat al drie weergawes slegs drie strofes bevat.

Liedboek van die Kerk 190 (Psalms en Gesange 1978, Gesang 10)

Die teks is deur Attie van der Colf (1932-2002) geskryf. Dit is 'n baie vrye teks wat bykans geen verband met die oorspronklike Duitse teks, óf met die 'Te Deum' het nie. Die assosiasie met die Duitse teks word grootliks gevorm deur die eerste reël en die musiek wat met 'Großer Gott' geassosieer word.

Strofe 1:

Grote God aan U die eer! Heerlik is waar U regeer;

God gesien as 'heerser' wat regeer, kom nié voor in die 'Te Deum' of die Duitse teks nie. 'Koning' kom wel voor in die tweede strofe van die 'Te Deum', maar as verwysing na die oorwinnende Christus, en daarom as Koning van die heerlikheid wat aan God se regterhand sit - dus nié as 'regeerder' nie. In strofe een gaan dit egter oor God die Skepper as die 'een wat alles onderhou'. Dit beteken dat die 'onderhouer van die skepping', hier verander is na 'die een wat daaroor regeer'. Dit kom neer op 'n vermenging, enersyds van die funksies en die benamings van God, die Skepper, wat sonder meer ook regeerder word (in die woordveld van koning of heerser), en andersyds die beskrywing vir Jesus Christus as 'koning van die heerlikheid' soos in die 'Te Deum'. Iets van heerlikheid is wel behou, maar is omgewerk en vereenvoudig tot 'heerlik' as beskrywing 'van hoe dit is' [waar God regeer]. 'Regeer' is waarskynlik gekies om te rym met 'eer' - 'n prominente rympaar in gesange, omgedigte psalms en geestelike liedere in Afrikaans. Die keuse van 'n rymwoord is egter nie onskuldig nie. Dit kan teologiese afwykings veroorsaak en selfs ideologiese of politieke ondertone aan 'n teks gee - te meer in kontekste waar magspolitiek 'n sterk rol speel.

hemels is U majesteit; heilig U Geregtigheid.

Die beskrywende voornaamwoord 'hemels' vir 'majesteit' as beskrywing van grootheid is niksseggend - so ook 'heilig' as adjektief vir geregtigheid, alhoewel minder steurend as die adjektief 'hemels'. In dié weergawe van die lied is daar geen Sanctus opgeneem nie - die 'Driemaalheilig', die engelelied ontbreek! 'Heilig' word slegs as prosaïese adjektief gebruik.

U wat alles onderhou, U is Ewig en getrou.

Tussen hierdie twee slotreëls bestaan 'n mooi verband, maar die reëls hou inhoudelik min verband met die voorafgaande. Die hele strofe bestaan trouens grootliks uit losstaande reëls wat nié met mekaar of met die oorspronklike Duitse teks verband hou nie. Die progressie van 'getrou' as 'n kenmerk wat kom ná die hoogste tipering 'Ewig', is 'n onlogiese progressie, hoewel dit natuurlik met die oog op die rym gedoen is. 'n Beskrywing van God wat meer in die betekenisveld van 'getrou' staan, sou beter gewerk het.

Wat in hierdie strofe tot mens spreek, is die klankrykheid, die assonansie en die rym. Eerstens begin dit met die alliterasie van 'grote' en 'God'. Dan kom die klankrym van 'eer', (re)geer, heer(lik), he(mels) en e(wig); (majes)teit, hei(lig) en (geregtig)heid; asook: (hei)lig, (e)wig, ge(reg)tig en aan die einde: onderhou en getrou.

Strofe 2:

In genade, groot en ryk, bou U, Heer, u koninkryk.

Die gedagte van die Heer wat 'n koninkryk 'bou', is vreemd. In die teks van die 'Te Deum' word verwys na die Heer wat vir dié wat glo, die Ryk van die hemel (reeds) geopen het. Met 'koninkryk bou' word (soos in strofe 1) geïmpliseer dat hier sprake is van 'n heerser of koning wat regeer. 'Groot en ryk' beskryf 'genade', maar in die sing van die lied, kan ook 'n verbintenis gehoor word tussen 'groot en ryk' en 'bou U, Heer, u koninkryk', wat die byklank van magspolitiek versterk. Teologies sou mens kon sê dat God alles in stand hou (soos bely in die slotreël van strofe 1), maar 'bou' God werklik God se koninkryk? Uit genade is die Ryk van die hemel tog reeds geopen. Die slagrym 'ryk' en 'koninkryk' verswak hierdie reël nog verder. 'n Beter openingsreël sou wees: 'In genade, groot en ryk, laat U, Heer, u liefde blyk'. Dit stem meer ooreen met die inhoud en toonaard van die oorspronklike teks en dit sluit veel sterker aan by die reël wat daarop volg:

Voordat ek kon kies, kon vra, het u Seun my vloek gedra.

Die teks begin met die Heer wat die Heer se koninkryk bou. Daarvandaan beweeg die teks onmiddellik oor na 'ek' en 'my'. Die progressie is abrup - die persoonlike dimensie kom te onverwags en is boonop 'n heel sterk persoonlike dimensie. Reëls 3 en 4 hou geen sigbare verband met reëls 1 en 2 nie. Weer eens losstaande reëls wat bymekaar gevoeg is, net soos in strofe 1.

Met 'my vloek' word waarskynlik 'my sonde' bedoel. Die segging is egter vreemd en argaïes vir 'n eietydse lied. In 1978 sou ons nie van 'my vloek' gepraat het nie, sou dit miskien vroeër so gewees het.

Ek kon vind: U 't my gekry voor ek nog my skuld bely.

Die eerste persoon enkelvoud (ek) is oordrewe in fokus in hierdie strofe. Die segging 'Ek kon vind', is ook vreemd - dit het 'n argaïese klank en is swaar teenoor die bykans oppervlakkige, alledaagse register van 'U 't my gekry'. 'n Sterk vermenging van register is dus merkbaar in dié strofe. Daar is ook geen logiese verloop tussen die aanvangsreëls en die res van die strofe nie. Hier het die teksskrywer gewoon die tematiek van een van sy ander liedere 'Genade onbeskryflik groot' oorgeneem, met God wat my, 'verlore kind', 'vind', en dies meer.

Die paarrym tussen die eerste twee reëls wyk reeds van die kruisrym van die oorspronklike teks af, maar dit word boonop hinderlike slagrym met 'ryk' en 'koninkryk', soos aangedui. Daar is verder die twee rympare: gekry/bely en die minder goeie 'kon vra'/'gedra'. Die klankrykheid van die eerste strofe ontbreek hier volledig.

Strofe 3:

U, oor alles God en Hoof, open oë van geloof,

dat ons sien, geen goed of kwaad word aan toeval oorgelaat:

Bokant ons begrip, verstand, hou U al wat is in stand.

In die eerste reël van dié strofe kom mooi assonansie voor: die oo-klank in oor, hoof, o(pen), oë, (ge)loof, maar buiten die rymwoorde, ontbreek die musikaliteit wat in strofe 1 voorkom. God en Hoof vorm egter 'n vreemde, direkte newestelling en is simplisties. 'Hoof' word aan niks verbind nie. Dus die vraag: Hoof van wie, van wat? Hoof oor alles, ja - maar 'God oor alles'? 'Heer oor alles' sou reeds beter gewees het omdat dit dui op 'beheers / beheer'. Die woord-toonverhouding is egter ook minder goed met die kort a van 'alles' wat verleng tot 'aales'. Die volgende formulering sou dalk 'n verbetering kon gewees het: 'God, oor al wat is, die hoof! Open oë van geloof' Dié strofe is 'n gebed waarin gevra word om met geloofsoë te sien en daardeur te aanvaar dat niks per toeval gebeur nie - ook nie die kwaad nie. As God álles in stand hou, hou God nie ook die kwaad in stand nie? Word die ingewikkelde teodisee probleem hier nie te simplisties hanteer nie? Myns insiens is die punktuasie hier wesenlik, veral die dubbelpunt ná 'oorgelaat'. Dit dui daarop dat daar goed en kwaad in die wêreld is, maar 'toeval' het nie die laaste sê nie - die dubbelpunt sê die beheer lê elders: Die beheer lê by God. Dit gaan ons begrip, ons verstand te bowe, maar ons geloofsoë oortuig ons en gee ons vertroue in God. Die probleem word hier dus in kompakte vorm goed hanteer. Dié strofe het sekerlik 'n sterk vertroostende werking op die sangers en hoorders van die lied.

Die onmiddellike gewildheid van die lied kan myns insiens toegeskryf word aan die krag van die melodie en die klankrykheid van die teks in die eerste strofe. Alhoewel dit algemeen as lofsang kan funksioneer, maak die vermenging van tematiek en die teologiese probleme in sommige seggings dit moeilik om 'n gepaste plek daarvoor in die liturgie te vind.

Liedboek van die Kerk 192 (Cantate 1934, nr 154; Psalms en Gesange 1978, Ges 23)

Teks deur Johannes Baumbach (1875-1961), gewysig deur Izak de Villiers (1936-2009) in 1978 en 2001. Die oorspronklike vertaling van Baumbach:

1. Grote God! u skeppershand/Word verheerlik deur u werke:

Son en sterre, see en land/Prys, o Ewige en Sterke!

U wat is [en] was altyd/[En] sal wees in ewigheid.

2. Heiliges daar voor u troon/Sing [U toe] vol vreug en vrede.

Ons [wat nog op aarde] woon/Roem [van] u weldadighede.

Eng'le, mense, altesaam/Heer! aanbid en vrees u naam.

3. Sterke God! Heer Sebaot!/Hemelkoning, driemaal heilig!

Troue helper in die nood!/Laat u almag ons beveilig,

Ons, u volk en eiendom,/Wat om hulp na U toe kom.

4. Sien u erfdeel vriend'lik aan,/Laat ons nooit u guns verloor nie;

Haas U om ons by te staan,/Laat geen vyand ons verstoor nie;

Lei ons langs die regte pad/Na die goue hemelstad.

Die huidige strofe 1 is Baumbach se teks as geheel - slegs twee heel klein redaksionele wysigings (in die slotreëls is die verbindings en vervang met U).

Strofe 1:

Grote God, u skepperhand word verheerlik deur u werke;

'n Sterk verband met die oorspronklike Duitse teks en die 'Te Deum' word hier getoon.

son en sterre, see en land.

Dit vorm 'n reeks wat goed aansluit by die oorspronklike teks. Die 'werke' van God (wat God prys), word by die naam genoem en werk só versterkend.

prys U, Ewige en Sterke.

'Ewige en Sterke' vorm 'n tweeling-benaming vir God, soos in die oorspronklike teks.

U wat ís, U wás altyd, U sal wéés in ewigheid.

Hier 'n opname van die Niceense belydenis. 'Ewigheid' werk ook versterkend ten opsigte van 'Ewige' as benaming in die voorafgaande deel.

Strofe 2:

Heiliges daar voor u troon

sing voor U vol vreug en vrede.

Ons in wie u Gees reeds woon,

roem u groot weldadighede.

Hier is 'n sterk verband met die oorspronklike teks, maar die Sanctus of Driemaalheilig-roep van die oorspronklike is ongelukkig nié opgeneem nie - slegs die melding van 'die heiliges' voor die troon. Die reëls kom net so uit Baumbach se teks. (In sy derde strofe verwys hy egter na driemaal heilig en daarom is dit nié in die tweede strofe nie - net reeds die melding dat dit kom. Baumbach se derde strofe, wat uiters teksgetrou by die 'Te Deum' en die oorspronklike Duitse teks aansluit, is in 1978 en 2001 gewoon weggelaat. By Baumbach is die taal van die derde strofe dinamies - slegs 'Sebaot' kan as vreemd beskou word. Om so 'n goeie strofe egter oor één Hebraïsme weg te laat en boonop te vervang met 'n swak derde strofe is onsensitief teenoor die lied, die oorspronklike vertaling én teenoor alle huidige en toekomstige sangers van die lied).

'Heiliges dáár, voor u troon, Geesvervuldes (soos ons, in wie u Gees reeds woon), engele, mense, almal saam' vorm 'n reeks wat gesamentlik werk om die gebed en lof te versterk. Tog kom die eerste persoon meervoud hier te gou en te onverwags ná die benoeming van die heiliges voor die troon - te meer as mens al die konsentriese sirkels wat ter sprake is in die 'Te Deum-teks' in ag neem. Iets klink gewoon te selfbelangrik, te eiegeregtig: Die Gees woon reeds in ons - nie in ander nie? 'Hul in wie u Gees reeds woon', sou definitief al beter gewees het. Hierdie kommentaar was reeds geskryf toe ek Baumbach se vertaling bekom het en besef het hoeveel beter laasgenoemde is. In Baumbach se vertaling (soos in die oorspronklike teks) kom 'u Gees' nié voor nie. Die reël in Baumbach se teks is soos volg: 'Ons wat nog op aarde woon'. De Villiers het met die wysiging van die teks in 1978 die teks geskend en in 2001 nog verdere skade gedoen. Baumbach se teks sluit mooi aan by die 'Te Deum' (en die oorspronklike Duitse teks), met die heiliges voor die troon en ons wat nog op aarde woon - wat ook met die engele, en uiteindelik met almal gesamentlik, die Heer se naam roem.

Eng'le, mense, almal saam,

Heer, aanbid en roem u Naam.

Dié reëls sluit ook nou aan by die oorspronklike teks. Die woord-toon-verhouding en uitbeelding van die teks deur die melodie, sou beter gewees het met die progressie 'mense, eng'le', waar die melodie opwaarts beweeg en die eng'le dus hoër staan. Die 'eng-' wat die klem sou kry, sou ook groter musikaliteit te weeg bring. Verder werk die progressie van 'eng'le' na 'almal' (met die oop e, die oop a en die l-klank) veel mooier as met 'men-se' wat tussen-in kom en die klankskakel verbreek.

Strofe 3 is volledig uit die pen van Izak de Villiers. Dit vervang die uitstekende derde strofe van Baumbach. Die frase 'Sien u volk in liefde aan', kom wel in die Duitse teks by strofe 9 voor, maar nié in Baumbach se teks nie. Interessant dat in strofe 2 so onverskillig met die Duitse teks en Baumbach se vertaling omgegaan is (asof De Villiers dit nooit onder oë gehad het nie), maar dat meteens, óór Baumbach se vertaling heen, één frase uit die Duitse teks oorgeneem is. 'U volk' verwys na die geloofsvolk oor die wêreld - só het die meeste mense dit sekerlik gehoor en bedoel. Die lied het egter 'n sterk rol in die Nazi-tyd gespeel - in 'U volk' is gehoor: die 'Duitse volk'. Dit bring die vraag of daar nie ook hiér, in dié land, iets bykomends gehoor is nie - náás die gebed vir die geloofsvolk, ook 'n gebed vir die eie volk, die eie land? Ek is seker dit sou vroeër 'n rol gespeel het en dat dit selfs onbewustelik, in baie mense se gedagtes steeds 'n rol speel:

Strofe 3:

Sien u volk in liefde aan,

laat ons nie ons stryd verloor nie;

In die Gesangboek van 1978 het die teks gelui: laat ons nie 'die stryd' verloor nie - waarom dit verander is in die Liedboek, weet ek nie. Die 'ons' grens alles in op die stryd wat 'ons' voer - wat dalk heel klein of kleinlik kan wees. 'Die' maak die saak oop: die universele stryd teen onreg, ongeregtigheid, selfgeregtigheid, maar inderdaad óók die individuele stryd teen die donkerte in 'ons'.

help ons Satans mag weerstaan -

laat sy lis ons nie bekoor nie.

Die segging is argaïes: 'Satansmag' en 'lis' - wat nogal 'bekoor'? Daarmee word die skuld verplaas na iets buite onsself: na Satan - wat ons met sy lis bekoor! Beteken dit as Satan ons nie bekoor nie, alles reg sal wees - dus geen probleem by die self, of in ons te vind nie? Ek vind die stelling teologies problematies.

U, van alles, Heer, die bron,

laat die nuwe aarde kom!

' bron' is 'n opname van God as skepper/Skepperhand in reël 1; verwysing na Openbaring: nuwe hemel en nuwe aarde. Eskatologiese perspektief.

Soos aangedui, sluit die eerste reël aan by die aanvangsreël van strofe 9 van die Duitse teks, maar wyk verder volledig van die oorspronklike af. In die oorspronklike teks word alles aan God toevertrou wat moet sorg dat die vyand die erfenis/erfdeel van God nie vernietig nie - soos ook mooi verwoord in Baumbach se strofe 4. Hiér word die mag en die wil egter na 'ons' verplaas: dat óns die stryd nie sal verloor nie; dat óns die mag van Satan sal weerstaan; dat sy lis(!) óns nie sal bekoor nie. God se funksie as 'akteur'/'doener' wat moet keer, word dus verplaas na 'ons': Ons doen, God moet ons nét 'help'. Die eskatologiese perspektief in die slotreëls is wel sterk: Dit gaan om die roep dat die Heer, die bron, die skepper, ook die hele aarde nuut sal skep. Dit is mooi, maar daar is geen verband met die voorafgaande deel nie - ook geen direkte verband met die oorspronklike teks nie. Vanweë die vele probleme in dié strofe, het die Kommissie vir die Liedboek van die Kerk aanbeveel dat hierdie strofe moet verval. (Op 'n vreemde wyse is dit wel in die Liedboek van die Kerk opgeneem.)

Liedboek van die Kerk 191

Teks geskryf deur Louwrens M Strydom (1933-2001) (gebaseer op 'Te Deum').

Strofe 1:

Grote God, ons bring U eer, ons aanbid U, Koning, Heer.

U kom toe die lof alom - U wat wás, wat ís, wat kóm.

Voor U buig die skepping neer - U wat ewig sal regeer.

In die 'Te Deum' word die Koningsbeeld uit Psalm 24 vir Christus gebruik. In hierdie strofe is daar egter 'n vermenging van beelde en funksies: God die Skepper is hier ook die koning én die Heer. Dit is dus 'n afwyking van die oorspronklike gegewe.

Strofe 2:

Om u troon bring eng'le eer: 'Heilig, heilig, heilig, Heer'.

Die opname van die 'Driemaalheilig' is goed (teenoor die ander), maar die feit dat die reël op die mediant begin en eindig, maak dit as't ware 'n 'deurgangsfrase' - dus wat melodie betref, is die plek in die strofe daarvoor nie effektief nie. Ook wat toonhoogte betref, val die teks in die middelregister. 'Heer' (He-her) op die melisme in dalende toon, is minder effektief. Die frases in omgekeerde posisie sou beter gewerk het:'Heilig, heilig, heilig, Heer' - om u troon bring eng'le eer!', met 'heilig' wat deur herhaling van die aanvangsnoot, sterk klem kry, 'Heer' wat op die hoogste noot van die reël val en sterk klem kry (sonder melisme), asook die verdere opwaartse progressie om 'troon' en 'verhewenheid' uit te beeld.

Hier op aarde word 'n lied deur die eeue aangebied:

Die getuies van u Naam jubel in hul lofsang saam.

Die teks sluit aan by die oorspronklike waar dit gaan om engele om die troon, die lied hier op aarde en al die getuies wat saam die lofsang sing. My voorstel tot wysiging van reël 3 sou wees: 'Óók op aarde word 'n lied deur die eeue aangebied'. Dit is immers wat bedoel word, terwyl 'hier' dit begrens. Dus: Lof op die troon en ook op die aarde en uiteindelik, almal saam.

Strofe 3:

Vader, ewig, goed en groot, hoor ons lof uit elke oord.

Seun van God in ewigheid, ons is tot u diens bereid.

Heil'ge Gees, Vertrooster, Heer, ons, u kerk, wil U steeds eer.

'n Trinitariese doksologie, maar in losse aansluiting by die oorspronklike teks. 'Lof uit elke oord', boonop op halfrym, is ietwat gedwonge. Uiteindelik word die lofsang begrens tot 'ons, u kerk', wat minder bevredigend is. Die sterk 'ons'-aksie staan ook direk teenoor die oorspronklike, waar gevra word om God se aksie.

 

Werksvertaling as kort illustrasie van prosesse van vertaling

Om aan te toon dat vertaling nooit afgesluit is nie, en veral met die oog op verdere gesprek, word kortliks 'n werksvertaling in aansluiting by die oorspronklike Duitse teks gebied - helaas ook verkort tot drie strofes. Soos die oorspronklike teks, word by kruisrym gehou (benewens halfrym in 'n enkele geval). Verskillende moontlikhede word aangetoon en redes vir keuses gebied.

1. Grote God, ons bring U eer;/prys u Heer, die ewig-sterke;

voor U buig die skepping neer/en bewonder al u werke.

Soos u was in elke tyd,/so bly u in ewigheid.

Die oorspronklike beskrywing, hier in Afrikaans weergegee, kan dalk as 'romanties' beskryf word, maar ek vind dit 'n mooi beeld dat 'die skepping' op God se werke reflekteer en dit 'bewonder'. Die segging wen aan aktualiteit, soos wat die krisis in die ekologie toeneem.

2. Hulle wat U almal dien,/eng'le, elke aardse wese;

elkeen wat u grootheid sien,/loof U met die volle lewe - [halfrym]

sing 'n loflied tot u eer: 'Heilig, heilig, heilig, Heer.'

Die werk aan die tweede strofe het begin deur die slotreël vas te lê: die 'Driemaalheilig', soos in die oorspronklike Duitse teks, moes behou word. Die eerste 'Heilig', die hoogtepunt van die teks, val ook op die hoogste toon van die melodie, dus op die klimaks. Dit dui op 'verhewe lof'.

3. Neem ons, Heer, in liefde aan,/as ons bid om hulp, verhoor ons;

As moontlikheid is oorweeg: 'as ons bid, o God, verhoor ons'. Die melisme sou egter 'Go-hod' op 'n hoë toon te weeg bring. Die aangesprokene sou ook te veel te berde gebring word - 'n algemene probleem in tekste en vertalings, is dat die aangesprokene (Heer, Here of God) as 'vulsel' gebruik word.

laat ons weet u trou bly staan,/hou u hand van goedheid oor ons;

Ons hoop net op U alleen - gee ons, Here, géé u seën.

As moontlikheid is eers oorweeg: 'gee, o Heer, gee óns u seën', maar dit is gewysig sodat die klem op die oop klank van 'gee' val, teenoor die onmusikale (en eiegeregtige) 'ons' in 'n sterk beklemtoonde posisie. Hiermee is die bede van 'gee' ook versterk. 'Heer' as die aangesprokene reg aan die begin en 'Here', aan die einde, dien myns insiens ook as versterking, eerder as 'vulsel': 'Neem ons, Heer Gee ons, Heer.' 'Neem' aan die begin rym implisiet ook óór die geheel met die rymwoorde 'alleen' en 'seën' aan die einde en gee só binding deur die klank.

 

Gevolgtrekking

Die resepsiegeskiedenis van die lied wêreldwyd toon dat dit 'n ekumeniese lied by uitstek is. In vele tale en in kerke oor die wêreld word dit as feestelike lofsang en ook as geloofbelydenis tydens verskillende geleenthede in die openbare erediens gesing, maar funksioneer ook tydens dank- en gedenkdienste buite die (kerklike) openbare erediens. Dit is selfs in tye van oorlog en by politieke byeenkomste gebruik. Die drastiese verkorting van die oorspronklike teks het daartoe bygedra dat dit vir nasionalistiese doeleindes aangewend is, soos aangetoon (Franz & Schäfer 2019:19-22). Deur veranderings aan bestaande tekste en deur swak vertalings, kan vreemde gebruike dus bevorder word. Verkortings en ander ingrepe verander dikwels die grondstruktuur, die samehang van 'n teks en veroorsaak leë plekke wat met nuwe betekenis gevul kan word. Dit is veral die teologiese en poëtiese swak plekke in 'n liedteks wat die deur open vir veranderings en verkortings wat tot nuwe probleme kan lei. Dit is dus vanselfsprekend dat goeie tekste geskryf en vertalings goed gedoen moet word (Franz & Schäfer 2019:22). Hieruit blyk ook die belang van 'n artikel soos dié, waarin verskillende vertalings aan die hand van die oorspronklike teks(te) bespreek en die teologiese inhoud van vertalings met die oog op die resepsie, of die náwerking van 'n lied in spesifieke gemeenskappe, krities ondersoek word. Met hierdie ondersoek is getoon dat van die vertalings in Afrikaans die oorspronklike tekste nie genoegsaam in ag neem nie, dat dit soms uit 'n aaneenryging van gemeenplase bestaan, en dat dit ook seggings bevat wat teologies bevraagteken kan word.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

E.K. was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie

 

Literatuurverwysings

Baumbach, J., 1934, Cantate d.i. sing!: Gesange en geestelike liedere in Afrikaans vry oorgesit, Berlynse Sendinggenootskap, Edendale.         [ Links ]

Egerer, E.-D. & Marti, A. 2003, 'Großer Gott, wir loben dich', in Ökumenischer Liederkommentar, Band 2, Theologischer Verlag, Zürich.         [ Links ]

Evangelisches Gesangbuch (EG), 1993, Evangelisch Lutherische Kirche Deutschlands (EKD) Vandenhoeck, Göttingen.         [ Links ]

Fischer, M., 2012, 'Beliebt und verdammt. Das geistliche Volkslied im 19. und 20. Jahrhundert', in P. Bubmann & K. Klek (Hrsg.), Davon ich singen und sagen will: Die Evangelischen und ihre Lieder, pp. 150-156, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.         [ Links ]

Fischer, M., 2007, Großer Gott, wir loben dich, In Populäre und traditionelle Lieder, Historisch-kritisches Liederlexikon, viewed 05 November 2019, from http://www.liederlexikon.de/lieder/grosser_gott_wir_loben_dich.         [ Links ]

Franz, A. & Schäfer, C., 2019, 'Te Deum Laudamus - Grosser Gott, wir loben dich', in Macht und Ohnmacht. Kirchenlied und Politiek, pp. 12-22, Liturgie und Kultur, Zeitschrift der Liturgischen Konferenz für Gottesdienst, Musik und Kunst.         [ Links ]

Franz, I., 1768, Die christlich-katholische Lehre in Liedern, Uitgewer onbekend, Sagan.         [ Links ]

Gemeinschaft Evangelischer Kirchen in Europa (GEKE), 2007, Colours of grace, Strube, München.         [ Links ]

Kloppers, E., 2019, 'Grosser Gott, wir loben dich/Grote God, ons bring U eer - katoliek, protestants, ekumenies', Vir die Musiekleier 39, 104-121.         [ Links ]

Königliches Konsistorium (Hrsg.), 1886, Evangelisches Gesangbuch zur Einführung in der Provinz Brandenburg, Trowitzsch und Sohn, Berlin.         [ Links ]

Liedboek van die Kerk, 2001, Nederduitse Gereformeerde Kerke en Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika, NG Kerk Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Nederduitse Gereformeerde Kerk en Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, 1978, Psalms en Gesange. Die Evangeliese Gesange om saam met die berymde Psalms by die openbare erediens gebruik te word, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Reformiertes Gesangbuch (RG), 1998, Evangelisch-reformierten Kirchen der Deutsch-sprachigen Schweiz, Theologischer Verlag, Zürich.         [ Links ]

Thust, K.C., 2012, Die Lieder des Evangelischen Gesangbuchs, Band 1: Kirchenjahr und Gottesdienst (EG 1-269). Kommentar zur Entstehung, Text und Musik, Bärenreiter, Kassel.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Elsabé Kloppers
kloppec@unisa.ac.za

Received: 19 May 2020
Accepted: 18 July 2020
Published: 21 Dec. 2020

 

 

1 . Die teks is beskikbaar in Latyn by: http://www.kathpedia.com/index.php/Te_Deum en in verskillende vertalings in Engels by: https://en.wikisource.org/wiki/Te_Deum Besoek op 29 Desember 2019. 'n Duitse vertaling verskyn in Franz en Schäfer 2019:13-14.
2 . Beskikbaar by https://de.wikisource.org/wiki/Gro%C3%9Fer_Gott,_wir_loben_dich. Besoek op 29 Maart 2019.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons