SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.75 número4 índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.75 no.4 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v75i4.5543 

ORIGINAL RESEARCH

 

Martin Luther en gebed

 

Martin Luther and prayer

 

 

Ignatius W.C. van Wyk

Department Church History and Church Polity, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria, Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

For decades, not many theologians published on the theme of prayer. The philosophical critique on religion is one reason. A sensible thing to do in times of uncertainty and disorientation is to fall back on the advice of theologians of name who guided the church in the past. Martin Luther is one such theologian. He was a theologian of prayer. Prayer was a pivotal element in his understanding of spirituality. It was also a constitutive factor for his theology. In Luther, we find a respected and reliable teacher on Christian prayer. Luther himself prayed often in the privacy of his home and in public spaces. His life is an example of a praying Christian. He left behind many sermons and publications on prayer. The research on Luther's theology of prayer is vast. Unfortunately, we have no publications on Luther and prayer in Afrikaans. This is hopefully the first of many to come. The article concentrates on Luther's practical advice regarding prayer to congregants who joined the Reformation. The advice could also be useful to the South African community that is becoming more and more secularised. In the second part of the article, his theology of prayer is discussed and his Rogationtide sermons are emphasised. His introductions and theology on, especially, John 16 receive attention. Thirdly, as an example of his expositions on prayer, we look at the second petition of the Lord's Prayer. The relationship between the kingdom and the church is explained.

Keywords: Martin Luther; Prayer; Second Petition; Sunday Rogate; Morning and evening prayers.


 

 

Inleiding

Dit was gedurende die laaste dekades vir Protestantse teoloë baie moeilik om oor gebed te skryf - ten spyte van die feit dat godsdiens en gebed sinoniem is. Volgens Gerhard Ebeling (1975 [1973]:405-416) is moderne mense skaam om oor gebed te teologiseer, aangesien die gedagte van God in die lig van die Westerse lewenservarings uiters problematies geraak het. Die filosofiese godsdienskritiek het egter al die laaste twee eeue gebed geteiken as 'n saak wat nie met redelikheid en wetenskap versoenbaar is nie. In hierdie tye van onsekerheid en verwarring sal dit goed wees om Martin Luther se gebedsteologie vir die Afrikaanse leserspubliek daar te stel. Hy het waardevolle insigte in die Christelike gebed gehad, en lesers behoort sy bydrae tot die nadenke oor gebed insiggewend te vind.

Martin Luther se lewe was een van gebed. Hy het in sy ouerhuis geleer om gereeld te bid. Sy skoolloopbaan en studentetyd in Erfurt is gekenmerk deur deelname aan kerklike aktiwiteite wat in 'n groot mate met gebede te make gehad het. Vanselfsprekend was sy lewe in die klooster deur vaste gebedsure en -rituele gereguleer. As jong dosent in filosofie en latere professor in teologie, het hy voortgegaan om lang ure in gebed deur te bring. Dit is daarom nie vreemd dat hy reg deur sy hele loopbaan gereeld oor die tema gebed gepreek en geskryf het nie. Vandat hy in 1519 sekere Roomse gebedspraktyke krities verwerp het, het hy ook begin om 'n Reformatoriese gebedspraktyk en -teologie te ontwikkel. Hy het van die begin af besef dat sy primêre verpligting by die gemeentelede berus. Hiervan getuig sy Duitse uitleg van die Onse Vader vir die gewone lidmate (WA 2, 81-130; 1991b [1519]) en sy Gebedeboekie (WA 10.2, 331-406; 1907 [1522]). Teologiese besinnings oor gebed sou later vanselfsprekend nie agterweë bly nie. Volgens Lindberg (2016:417), is daar in die twintigste eeu 'n enorme hoeveelheid navorsing oor Luther en gebed gedoen (en tragies genoeg, niks in Afrikaans nie). Die resultate het in slagspreuke soos 'Luther se teologie is 'n teologie van gebed', 'gebed is 'n kernelement in Luther se teologie' en 'Luther se teologie is geaktualiseerde gebed' uitgemond. Dit is dus duidelik dat, indien daar tot die hart van sy teologie deurgedring wil word, 'n Afrikaanse Luther-resepsie deeglike aandag aan sy gebedsteologie moet gee.

In hierdie artikel word daar eerstens aan Luther se advies vir die vestiging van 'n Protestantse gebedspraktyk aandag gegee. Tweedens word daar aan Luther se gebedsteologie aandag geskenk, en derdens word daar eksemplaries na sy uitleg van die tweede bede van die Onse Vadergebed gekyk. Die rede vir hierdie keuse het te make met die konjunktuur wat die idee van die 'koninkryk' tans in kerk en teologie geniet.

 

Die vestiging van 'n Protestantse gebedspraktyk

In die inleidende gedeelte tot die Duitse uitleg van die Onse Vader vir die gewone lidmate (WA 2, 81-83; 1991b [1519]:204-207) het Luther 'n aantal praktiese adviese neergepen wat lidmate wat van die Roomse Kerk vervreemd geraak het, kon help met die vestiging van 'n gebedspraktyk. Sy (WA 2, 81, 11-16; 1991b [1519]) eerste advies is dat wanneer daar gebid word, daar:

min woorde gebruik moet word, maar [dit moet gepaard gaan met] baie en diepe besinning. Hoe minder woorde gebruik word; des te beter is die gebed. Hoe meer woorde gebruik word; hoe slegter is die gebed. Min woorde en diep besinning is Christelik; baie woorde en min besinning is heidens. (bl. 204)

Luther se tweede advies (WA 2, 81, 22-82, 29; 1991b [1519]:204-206) is dat gebed 'in die gees' gedoen moet word en nie as 'n blote 'liggaamlike aksie' afgehandel moet word nie. Luther het dit teen die Roomse gebedsrituele wat sonder denkende en sprekende erns, sinneloos, herhaal word. Ware gebed is 'n saak van erns en werklike verlange om met God deur Christus te kommunikeer. Die uiterlike gebedsritueel word gekenmerk deur die voorlees van skriftelike gebede deur 'n priester waarna byna niemand luister nie. Tweedens word die ritueel deur traagheid, lusteloosheid en geldgierigheid gekenmerk. Dit is 'n 'werk' wat beloon wil word. Derdens word dit deur die herhaling van baie woorde gekenmerk wat uiteindelik niks vir niemand beteken nie. Volgens Luther moet daar nadenkend en met min woorde omgegaan word. Mense moet besef wat hulle bid, en wat gebid word moet met erns gedoen word. In die lig hiervan, beveel Luther aan dat daar aan hand van die Onse Vader gebid moet word - maar die bidder moet verstaan wat gebid word. Onderrig oor die inhoud van die Onse Vader (en die Psalms) is daarom van uiterste belang.

Luther het tussen 1519 en 1535 talle adviese oor die gebedslewe gegee en geskryf. Uit hierdie adviese blyk dit dat Luther homself nie net as 'eksegeet' en 'sistematiese teoloog' beskou het nie, maar ook as 'pastorale teoloog'. Sy pastorale advies aan mense was dikwels in die vorm van besinnings oor gebed. In 1535 het hy 'n pastorale advies aan die haarkapper, Peter Beskendorf,1 gelewer. Hierdie advies (WA 38, 358-375; 2012c [1535]) staan bekend as 'n Eenvoudige wyse van gebed: Vir 'n goeie vriend. Luther (2012c [1535]:602-612) se praktiese aanwysings en riglyne vir die gebedslewe in hierdie advies, skets 'n vollediger beeld van sy verstaan van gebed. Opsommend kan die volgende kortliks genoem word: 'n Mens behoort die oggend te begin en die aand met 'n gebed af te sluit; harde, getroue arbeid is ook 'n gebed, en wie hard werk, bid ook gereeld; daar moet gereeld gebid word, aangesien daar gereeld gesondig word; gebed word in vertroue op die belofte en in die naam van Jesus afgesluit; die Onse Vader moet gereeld gebid word, maar is nie die enigste gebed wat gebid moet word nie; kennis van die betekenis van die onderskeie bedes is essensieel vir 'n ernstige gebed; gebed is 'n saak van vreugde; wanneer daar gebid word, moet dit in erns en met konsentrasie gedoen word. Onbekend (meen ek) is dat Luther (2012c [1535]:612-630) ook aanbeveel dat daar aan hand van die dekaloog gebid kan word. Hiervoor kan vier riglyne gevolg word: Eerstens moet daar by elke gebod gevra word wat God van my verwag; tweedens moet God hiervoor gedank word; derdens moet daar aan hand van die spesifieke gebod skuld bely word; en vierdens kan aan die gebed méér inhoud gegee word op grond van meerdere kennis oor die spesifieke gebod. Deur dít te doen, sal die gebedslewe nie tot 'n eindelose herhaling van dieselfde gedagtes verstar nie.

Sy advies dat daar vroeg in die oggend en in die aand vóór slaaptyd gebid moet word, is volledig in sy Klein Kategismus opgeneem. Sy voorgestelde gebede (WA 30, 320-326; 2012a [1529]:594) word vir kennisname aangebied:

Hoe die huisvader sy mense moet leer om soggens en saans te bid.

Soggens, wanneer jy uit die bed opstaan, moet jy die kruis maak [of 'n kruis om jou nek hang], en sê: God, Vader Seun en Heilige Gees het oor my die wag gehou. Daarna moet jy gekniel of staande die Geloofsbelydenis opsê en die Onse Vader bid. As jy wil, kan jy ook hierdie gebed byvoeg:

Ek dank U, my hemelse Vader, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, dat U my deur hierdie nag van alle skade en gevaar bewaar het, en bid U, dat U my ook deur die loop van hierdie dag sal bewaar van sonde en allerhande euwels, sodat al my doen en late, ja my hele lewe U sal geval. Ek gee my lewe en my siel en alles [wat ek het en besit] oor in u hande. U heilige engel is met my, en daarmee het die bose vyand geen houvas op my nie. Amen.

Dan spring jy met vreugde aan die werk en sing miskien 'n lied soos die Tien Gebooie, of wat ook al in jou gedagtes mag opkom.

Saans, wanneer jy bed toe gaan, moet jy weer die kruis maak en sê: Mag God, Vader, Seun en Heilige Gees oor my die wag hou. Amen. Daarna moet jy gekniel of staande die Geloofsbelydenis en die Onse Vader opsê. As jy wil, kan jy hierdie gebed ook bid:

Ek dank U, my hemelse Vader, deur Jesus Christus, u geliefde Seun, dat U my hierdie dag deur u genade beskerm het, en bid U dat U al my sondes sal vergewe, [oral] waar ek onreg gepleeg het, en dat U my genadiglik deur die nag sal bewaar. Ek gee my liggaam en siel en alles [wat ek is en besit] oor in u hande. Mag u heilige engel met my wees, sodat die bose vyand geen houvas op my kan kry nie. Amen.

En dan val jy om, om vrolik te slaap.

Luther se gebedsonderrig was nie tot oggend- en aandgebede beperk nie. Ewe belangrik was vir hom (WA 30, 320-326; 2012a [1529]:596) gebede aan tafel:

Hoe 'n huisvader sy mense moet leer om tafel- en dankgebede te doen.

Tafelgebed:

Die kinders en die res van die huishouding moet met gevoude hande en met volle eerbied voor die tafel gaan staan en sê: 'Alle oë wag op U, Here, en U gee u kinders voedsel op die regte tyd. U maak u hand oop en versadig alles wat lewe in welgevalligheid.' Welgevalligheid beteken hier: Alle diere ontvang soveel kos dat hulle vrolike en goeie dinge word, want besorgdheid en gierigheid verhinder sodanige welgevalligheid.

Hierna volg die Onse Vader en die volgende gebed: 'Here God, hemelse Vader, seën ons en hierdie gawes van u, wat ons uit u empatiese goedheid aanneem. Deur Jesus Christus onse Heer. Amen.'

Die dankgebed:

Net só moet u ná die ete eerbiedig en met gevoude hande sê: 'Ons dank die Here want Hy is vriendelik en sy goedheid duur tot in ewigheid. U gee aan alles wat lewe voedsel, U gee die vee voer, en ook aan die jong rawe wat daarna roep. U verlustig U nie in die krag van 'n perd, of die mag van 'n mens nie. Die Here het 'n welbehae in diegene wat Hom vrees en diegene wat op sy goedheid wag.'

Hierna volg die Onse Vader en die volgende gebed: 'Ons dank U, Here God, Vader deur Jesus Christus, ons Here, vir al u weldade. U leef en regeer tot in ewigheid. Amen.'

 

Die teologie van gebed

Talle van Luther se teologiese uitsprake oor gebed word in inleidende gedeeltes en preke gevind wat met die sesde Sondag van die Paaskring (Sondag Rogate) verband hou. Die vyfde Sondag van die Paaskring, Sondag Kantate [die Sondag van jubelende kerkmusiek], word deur die Sondag van gebed opgevolg.2 Op hierdie Sondag word die gemeente nie net vermaan om te bid nie, maar ook aangemoedig om te bid (rogate!), aangesien gebed 'n aktiwiteit is wat met die opgewekte en verhoogde Heer verband hou.3 Luther se gebedsteologie het hierdie liturgiese konteks altyd in gedagte gehou.

Luther se teologie van Sondag Rogate

Martin Luther het sedert 1520 gereeld (1886 [1520]; 1899 [1524]; 1912 [1538]; 2018b [1540] om enkele voorbeelde te noem) op hierdie Sondag oor Johannes 16 met toespitsing op verse 23b-24, gepreek:

Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.

Luther (1884 [1519]) se erns met die Rogate-preke, volg op sy kritiek in 1519 op die Roomse Kerk se afwatering van die gebedslewe op Sondag-Rogate en die eerste drie dae van die Rogate-week wat in daardie tyd as die drie dae van die kruis bekend gestaan het. Volgens Luther was die aanvanklike bedoeling goed, naamlik om die kruis selfs tydens die Paaskring prominensie te gee. Tydens die Rogate-week is daar gebid en die gebede is met prosessies aangevul waartydens kruise die dorpe en stede ingedra is. Eventueel het die prosessies die gebede verdring (vgl. Luther 2018b [1540]:538). Luther wou, as bybelse teoloog, die gebed, kort voor Hemelvaart en Pinkster, in die sentrum van die gemeentelike lewe ruk. Vanselfsprekend het Luther se bemoeienis met die gebed nie net met Roomse polemiek te make gehad nie, maar ook met sy eksegetiese insigte dat Jesus sy dissipels nie net vóór sy kruisiging nie, maar ook vóór sy hemelvaart oor die gebed onderrig het. Luther, wat Christus in die sentrum van teologiese nadenke geruk het, het dit as 'n noodwendigheid beskou om oor Christus se gebedsonderrig te besin.

In die voorwoord tot die uitleg van die Onse Vader in sy Groot Kategismus van 1529 (wat op 10 jaar se Rogate-prediking berus) vind 'n mens vier pilare waarbinne Luther die gebed bedink. Hierdie pilare (vgl. WA30(I), 193-198; 1991a [1529]:94-99) is die volgende: Gebed berus op die bevel (praeceptum) van Christus en gaan hand aan hand met Christus se belofte (promissio) van verhoring van gebede. Gebed ontspring uit die menslike noodsituasie (necessitas) en vind vertroosting in die sekerheid van verhoring (desideratio). In die inleidende gedeelte van sy Rogate-preek van 13 Mei 1520 vind 'n mens egter 'n omvangryker raamwerk vir sy denke oor die gebed. Hierdie raamwerk is in latere preke en traktate oor die gebed ligweg aangepas en verdiep sonder om van die oorspronklike skema afstand te doen. Volgens Luther (WA 4, 622-624; 1886 [1520]:622-624; 2018b [1540]) moet gebed (oratio) aan vyf kenmerke voldoen - andersins sal dit te tevergeefs wees: Eerstens, elke gebed word gebid met die belofte van God (promissio Dei) dat dit aangehoor en verhoor sal word. Die belofte spruit voort uit sy goedheid en sy betroubaarheid om sy woord te hou. Die belofte van God bevry die mens van die vermoede dat God 'n toornige God is. Die belofte van gebedsverhoring bevestig sy liefde en barmhartigheid. Die belofte-karakter van gebed bevry die mens ook van misplaaste selfvertroue en/of wantroue oor die eie waardigheid4 om te bid. Geestelike hoogmoed en/of minderwaardigheidsgevoelens bepaal nie die verhoring van 'n gebed nie. Die barmhartige toewending van God is die waarborg van gebedsverhoring. Sekerheid van geloof en gebedsekerheid is twee kante van dieselfde muntstuk; en albei is in die barmhartigheid van God begrond.5 Die tweede kenmerk van ware gebed is dat 'n bepaalde behoefte (rei necessariae) geopper word. In gebed kan daar nie 'n warboel van ongestruktureerde wense geuiter word nie. Die Heilige Gees identifiseer die één saak uit 'n versameling van gedagtes (animi collectio) wat voor God gebring word. Gebede wat aan rooskranse en willekeurige lyste van behoeftes gekoppel is, het niks met die identifiseringswerk van die Heilige Gees te make nie. Die derde kenmerk is geloof in die belofte van God (fides opus est). Die geloof van die bidder is egter nie die waarborg vir aanhoring en verhoring nie, maar die betroubaarheid (veritas) van God. Geloof is vertroue (fiducia) in die trouheid en betroubaarheid van God wat aan die mens die belofte van verhoring gee. Weereens: Geloof as sodanig, verseker nie verhoring nie, maar vertroue dat God getrou aan sy belofte bly. Luther kritiseer 'n houding van geloofs-selfversekerdheid met sy argument. Gebedsverhoring berus nie op die selfversekerdheid van die bidder nie, maar alleen op God se genadige toewending tot die onwaardige mens. 'n Retories-voortreflike gebed bied geen waarborg vir verhoring nie - die waarborg lê in die deernis van God met die mens in nood. Die vierde kenmerk is dat gebed in erns gedoen word. Dít waarvoor gebid word, moet 'n saak van dringende verwagting (magnopere desiderante) wees. Daar kan nie 'n houding van kom en kyk maar wat gebeur wees nie. Dit sal oneerbiedigheid teenoor God uitstraal, aangesien daar met Hom in gebed gespeel word. Vanselfsprekend sal dit ook op 'n sinnelose mors van tyd neerkom. Die vyfde kenmerk is dat gebed in die naam van Jesus geskied. Hy beveel (iussu) dat daar in sy Naam gebid moet word, aangesien 'n gebed in sy Naam verhoor sal word (Matt 7:7; Joh 16:23). Daar bestaan geen moontlikheid dat 'n gebed in sy Naam nie verhoor sal word nie6 (non potest non fieri exauditio). Christus bid namens my in die hemel. My nood is sy saak. My sonde neem Hy op Hom en sy geregtigheid word deel van my. 'n Ongelyke ruiltransaksie (inaequalis permutatio) vind plaas - sy geregtigheid vir my ongeregtigheid - en só vergaan my sonde danksy Christus sodat ek waardig voor God se troon staan en gereed is om deur Hom aangehoor te word. Gebed word afgesluit met 'Amen'7 - die versekering dat dít wat gebid word, wel verhoor sal word. In die laaste verwerking van sy postil oor gebed, het Luther (2018a [1540]:548) iets bygevoeg oor die wyse en die wagperiode van die verhoring van 'n gebed. Hy vermaan dat daar nie beperkings vir God gestel moet word nie - nie ten opsigte van die manier hoe die gebed verhoor word nie, en ook nie ten opsigte van die tydstip van verhoring nie. Daar moet slegs in vreugdevolle uitsig op die Here gewag word, en onder geen omstandighede kan Hy aan opdragte en ultimatums onderwerp word nie.

'n Akkurate opsomming van Luther se gebedsteologie8 word in Lindberg (2016) gevind:

He asserted that Christians pray because God has commanded them to pray and promised to hear them. For this reason, Christians pray to God, not to Mary or the saints. Prayer was the proper response to God; it never originated the relationship with God. Luther rejected the idea that prayer was a good work and rejected practices - such as repetition of prayers and the use of prayers as works of satisfaction - that might lend support to the idea that prayer was a good work. Prayer was not based in the Christian's worthiness to pray. Need drives her to pray, and she brings all her needs to God, trusting God's promise to hear her. As every Christian is a priest, every Christian should pray. One should not trust in others' prayers and should not leave prayer to the clergy. Prayer should come from the heart and be simple. (p. 418)

 

Die tweede9 bede: Laat u koninkryk kom10

In die Duitse uitleg van die Onse Vader vir gewone lidmate (WA 2, 81--130; 1991b [1519]) word een van Luther se oudste interpretasies van die Here se gebed gevind. Soos hier onder sal blyk, het Luther verskillende invalshoeke deur die jare gebruik om die onderskeie bedes te verduidelik. Sy uitleg van die tweede bede in hierdie geskrif (WA 2, 95, 15-99, 15; 1991b [1519]:224-229) is daarom uniek en is nie in latere geskrifte net so herhaal nie. Volgens Luther doen hierdie gebed twee dinge aan 'n mens: Dit verneder ons; en dit verhoog ons. Dit verneder ons deur die besef dat die koninkryk nog nie tot ons gekom het nie. Hierdie besef ontstaan wanneer daar met werklike erns oor die koms van die ryk gebid en besin word en daar besef word dat die ryk nog ver van ons verwyderd is. Die gevaar van Turkse besetting is één bewys van hierdie werklikheid. Nie dat God hiervoor blameer kan word nie; dit is ons skuld alleen. Ná die vernedering, verhoog hierdie gebed ons. Dit troos ons dat die toekoms aan die 'vriendelike Meester', Jesus Christus, behoort. Om hierdie dubbelslagtigheid te verstaan, moet daar 'n besef van die werklikheid van 'twee ryke' ontwikkel. Die een ryk is dié van die Duiwel - die vors van hierdie wêreld, die ryk van sonde, ongehoorsaamheid en die dood. Die ander ryk, die ryk van God, is die ryk van genade en lewe. Hierdie twee ryke voer stryd met mekaar, maar daar is gewis net een wenner. Die ryk van die sonde sal altyd aanloklik wees, maar die ryk van God moet in ons lewe die oorhand kry. Die ryk van God is 'n 'ryk van geregtigheid en waarheid' (Matt 6:33). Die 'geregtigheid van Christus' wys heen na 'n ryk van sondevergewing en lewe. Die gebed 'laat u koninkryk kom' beteken dat daar gebid word om bevryding van die ryk van die Duiwel en die aanbreek van die ryk van barmhartigheid.

Mense maak die fout om te dink dat die koninkryk kom wanneer kerke ter ere van Petrus en Jakobus gebou word en daar mooi rituele plaasvind. Die koninkryk kom egter wanneer wet en evangelie in ons harte woon.

Die koninkryk kan nie in uiterlike dinge gesien word nie, maar in die innerlike dinge - die nederige en dankbare lewe wat uit die geloof van die hart voortspruit. Hierdie gebed is nie 'n gebed dat ons toegelaat word om na die ryk van God te beweeg nie. Dit is 'n gebed dat die ryk na ons toe moet kom. Dit is egter ook 'n gebed dat ons volgens die kenmerke van die koninkryk sal lewe, want die koninkryk kom ook deur ons liefde vir die medemens. Die koninkryk kom egter nie op grond van ons medemenslike liefde11 nie, maar naasteliefde is 'n bewys dat die koninkryk na ons gekom het en nou in ons harte lewe.

In 1520 het Luther in sy Kort vorm van die Onse Vader (WA 7, 222-223; 2012b [1520]:351, 1-43),12 die volgende betekenis aan die tweede bede gegee: Volgens Luther, bevind hierdie wêreld hom in 'n ellendige toestand. Dit is vol van sonde en boosheid en staan onder beheer van die Duiwel. Daarenteen is God se ryk een vol van genade en deugsaamheid, en staan onder beheer van die Heer Jesus Christus. In die tweede geval word daar gebid om geloof dat Christus se genade en barmhartigheid ons ten goede sal kom. Die gebed om die koms van die koninkryk is 'n bede dat ons van ongeloof en aardse nyd weerhou sal word. Dit is 'n gebed dat ons van onkuisheid, tweedrag en oorlog bewaar sal word. Dit is 'n gebed dat toorn en bitterheid nie in ons 'n koninkryk sal opbou nie, maar dat ons deur Christus se genade redelike liefdevolheid, broederlike getrouheid, vriendskap en sagmoedigheid sal opbou. Dit is die bede dat droefnis en swaarmoedigheid nie in ons die oorhand sal kry nie, maar dat ons 'n vreugde en lus aan die barmhartigheid van die Here sal ontwikkel. Dit is die bede dat ons deur die vergewing van Christus oorweldig sal word, sodat ons in vreugdevolle gehoorsaamheid aan al die gebooie sal lewe. Dit is 'n bede dat ons nie traag sal word in die diens aan die Here nie, sodat ons uiteindelik deel aan die ewige erediens kan kry. Dit is 'n gebed dat ons nie aan hierdie lewe verknog sal bly nie, maar die dood sonder vrees sal nader en na die toekomstige lewe sal uitsien.

In sy Klein Kategismus van 1529 het Luther (WA 30(I), 300-302; 2012a [1529]) die tweede bede soos volg uitgelê:

Wat is dit? Antwoord:

God se ryk kom vanself, ook sonder ons gebed, maar ons bid met hierdie gebed, dat dit ook na ons mag kom.

Hoe gebeur dit? Antwoord:

Wanneer die hemelse Vader ons sy Heilige Gees gee, sodat ons sy heilige Woord deur sy genade glo en God-welgevallig lewe, hier tydens ons aardse tyd en dáár in ewigheid13. (bl. 586, 36-588, 2)

In sy uitleg van die tweede bede in Die Groot Kategismus, beklemtoon Luther (WA 30(I), 199-201; 1991a [1529]:102-104) aspekte wat nie elders aandag geniet nie. Volgens Luther kan die ryk van God niks anders beteken nie as dat God sy Seun na die wêreld gestuur het om ons te verlos van die geweld van die Duiwel, en om Hom toe te laat om in geregtigheid te regeer sodat die lewe sonder sonde, dood en boosheid gekenmerk kan word. Hiervan lees ons in die Woord, en die Heilige Gees skep geloof in hierdie belofte. Die bede impliseer ook dat diegene wat die evangelie glo, se lewenshouding daarvan sal getuig, sodat die ryk van genade ook by ander mense byval sal vind. Ook húlle sal deel aan die verlossing kry, sodat almal saam aan die één ryk deel sal kry en daarin bewaar sal word.

Die ryk van God kom na ons toe op twee maniere: Eerstens, tydelik deur die Woord en die geloof; en tweedens, deur die openbaring by die wederkoms. Ons bid dat albei gestaltes ook na diegene sal kom wat nog nie daarin glo nie. Die bede kom dus daarop neer dat daar gebid word dat die Here ons sy Woord sal gee sodat die evangelie oral oor in die wêreld getrou gepreek sal word. Verder impliseer hierdie bede dat mense die gepredikte Woord sal aanneem en daarvolgens sal lewe sodat die ryk van die Duiwel in die proses vernietig sal word.

Vir Luther is die 'koninkryk van God' geen kleinigheid nie. Dit is nie iets wat uit die menslike verbeelding of hartsverlange voortspruit nie, maar dit is God se geskenk aan ons. Hierdie geskenk is véél groter as wat ons verbeelding toelaat, aangesien dit uit God se liefde voortspruit wat groter is as menslike voorstellings van skenkende liefde. Die 'koninkryk' kan daarom nie 'n produk van ons morele skeppingsdrang wees nie, aangesien dit méér is as wat ons uit ons eie goedheid kan voortbring.

In die tweede strofe van sy gesang Onse Vader in die hemelryk14 (tussen 1539 en 1544) kry ons 'n kernagtige samevatting van sy denke oor die tweede bede. Hy belig die volgende aspekte van die koninkryk: Die praesentiese en futuristiese eskatologie; die Heilige Gees wat met sy talle gawes by ons inwoon; die verbreking van die Satan se toorn en groot geweld; en die bewaring van die kerk. Die oorspronklike digwerk (Heidrich & Schilling 2017) lui:

Es kom dein reich zu dieser zeit

Vnd dort hernach ynn ewigkeit

Der heilig geist vns wone bey

Mit seinen gaben Mancherley

Des Satans zorn vnd gros gewalt

Zerbrich fur yhm dein kirch erhalt. (p. 122)

Koninkryk en kerk

Volgens albei kategismusse kan die tweede bede nie van die derde artikel van die Credo ontkoppel word nie. Koninkryk en kerk moet saam bedink word. Die 'eine heilige Christenheit, die Gemeine der Heiligen' vorm 'n tematiese eenheid met 'Gottes König- und Gnadenreich'. Luther se uitleg van kerk en koninkryk het egter met die Middeleeuse uitlegtradisie gebreek. Volgens Luther het die koninkryk reeds in Christus se kruis en opwekking deur die werking van die Gees aangebreek. Die eskatologiese openbaring van dít wat nou nog verborge is, sal niks nuuts aan die lig bring nie. Die oorlog wat reeds gewen is, sal slegs as segetog waargeneem kan word. Deurdat Luther die praesentiese dimensie van die heerskappy van God beklemtoon, breek hy met die uitlegtradisie wat deur Tertullianus en Augustinus begin is en wat stel dat die koninkryk in al sy majesteit eers by die eindoordeel aan die lig sal kom. Hierdie benadering is egter die bedding vir die werkgeregtigheid. Om met 'n goeie gewete die eindoordeel tegemoet te tree, moet die koninkryk in die harte aankom. Verder moet daar sigbaar volhard word tot en met die wederkoms en eindoordeel. Hierdie futuristies-eskatologiese aanslag, dompel gelowiges in die onsekerheid van werkgeregtigheid en verdienste-vroomheid. Luther het besef dat dit beter is om by Origenes en Gregorius van Nissa aan te sluit wat oortuig was dat die ryk van genade in die hart van die gelowige, danksy geloof, aanbreek. Die heerskappy van God is sy saak alleen - dit breek nie met ons toedoen daaraan nie. Die almag van sy genade breek nou in die kerk aan en sal in die toekoms by die wederkoms weer aanbreek. God se ryk is daarom alreeds deel van die aardse bedeling, alhoewel dit eers in die toekoms ten volle sal aanbreek. Die genaderyk van die Vader is hier op aarde egter slegs te vinde waar die evangelie van die gekruisigde Heer verkondig word. Luther se insig kom dus op die volgende neer: Die kerk is 'creatura verbi' en God se koninkryk is 'n heerskappy deur die woord van die kruis. Aangesien die koninkryk nie net genade is nie, maar ook reg, stel Luther dat die koninkryk ook alreeds aangebreek het toe God sy barmhartige reg in Jesus se kruisiging en opstanding aan die wêreld kom toon het. Ook dít moet vandag verkondig en geglo word. 'n Koninkryksverlange sonder 'n liefde vir die kerk waar die genade en barmhartigheid reeds teenwoordig is danksy die prediking, sou vir Luther 'n totaal vreemde aangeleentheid gewees het. 'n Koninkryk sonder die verkondiging van die heil in Christus, verplaas die Christendom terug in die Middeleeue. Kerk en koninkryk moet saam bedink word, aangesien albei 'n heerskapsgebied van die barmhartige Vader verteenwoordig (vgl. Peters 1992:78-83 met tientalle verwysings na die kategismusse).

 

Slotopmerkings

Luther (WA 5, 127, 35-37; 1892 [1519-1521]:127) het vroeg in sy lewe in sy Voorlesing oor Psalm 5 entoesiasties gesê: 'U wil, sê ek, dat die mens erken dat hy 'n sondaar is en om daardie rede toesien dat sy ganse lewe niks anders sal wees as 'n gebed, met 'n verlange en begeerte na u barmhartigheid nie.'15 Hy het trouens 'n bietjie later (WA 8, 360, 29; 1889 [1521]:360) beweer 'dat geloof pure gebed is'. Geloof sonder gebed, en gebed sonder geloof is dus nie denkbaar nie. 'Ware geloof maak gretig en dors na regte gebed' (WA 8, 356, 1; 1889 [1521]:356). Luther (WA 51, 455, 10-12; 1991c [1540]:203) het egter laat in sy lewe erken dat ' regte gebed die hoogste [maar ook] die swaarste werk op aarde is; [maar dat] dit tegelyk ook die belangrikste erediens en oefening van die geloof is'. Hierdie dialektiek van vreugde aan gebed en onvermoë om te bid, is 'n algemene probleem in die lewe van gelowiges. Trouens, dit is die grondstruktuur van egte teologie! Volgens Luther (WA 50, 659; 2012d [1539]:662) is oratio, meditatio en tentatio [gebed, meditasie en aanvegting] die hoekstene van outentieke teologie. Hy (WA 38, 363; 2012c [1535]:611) het aan sy vriend, Peter Beskendorf, gesê dat 'hyself dikwels méér uit gebed geleer het [wat die evangelie behels] as uit die lees van boeke', aangesien gebed (in samehang met meditasie oor die bybelse tekste en worsteling met God) die leerskool vir goeie teologie is (vgl. Barth 2009:476-479 vir talle aanhalings oor die band tussen gebed, geloof, meditasie, aanvegting en teologie). In die lig hiervan sal ons goed doen om op voetspoor van Luther meer dikwels oor gebed te publiseer.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

I.W.C.v.W. was die enigeste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

 

Literatuurverwysings

Barth, H-M., 2009, Die Theologie Martin Luthers: Eine kritische Würdigung, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.         [ Links ]

Bieritz, K-H., 2014 [1986], Das Kirchenjahr: Feste, Gedenk- und Feiertage in Geschichte und Gegenwart, Neu bearbeitet und erweitert von C. Albrecht, CH Beck, München.         [ Links ]

Cobb, P., 2004 [1992], 'The history of the Christian year', in C. Jones, G. Wainwright, E. Yarnold & P. Bradshaw (eds.), The study of Liturgy, rev. edn., 6th impression, pp. 455-472, Society for Promoting Christian Knowledge (SPCK), London.         [ Links ]

Connell, M., 2006, Eternity today: On the liturgical year: Sunday, lent, the three days, the easter season, ordinary time, vol. 2, Continuum, New York.         [ Links ]

Ebeling, G., 1975 [1973], 'Das Gebet', in G. Ebeling, Wort und Glaube, Band 3. Beiträge zur Fundamentaltheologie, Soteriologie und Ekklesiologie, pp. 405-427, Mohr (Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

EG 2004 kyk Evangelische Kirche im Rheinland, Westfalen und Lippische Landeskirche        [ Links ]

Engelsberger, G., 2013, Gemeinde auf dem Weg durch das Kirchenjahr: Andachten, Meditationen und Gottesdienste für die Zeit von Ostern bis Ewigkeitssontag, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.         [ Links ]

Evangelische Kirche im Rheinland, Westfalen und Lippische Landeskirche, 2004. Evangelisches Gesangbuch, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh        [ Links ]

Goldschmidt, S., 2018, Denn du bist unser Gott: Gebete, Texte und Impulse für die Gottesdienste des Kirchenjahres, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

Heidrich, J. & Schilling, J. (Hrsg), 2017, Martin Luther: Die Lieder, Carus-Verlag, Stuttgart.         [ Links ]

Hiller, D., 2015, s.v. 'Gebet', in V. Leppin & G. Schneider-Ludorff (Hrsg.), Das Luther-Lexikon, pp. 236-237, Bückle & Böhm, Regensburg.         [ Links ]

Jüngel, E., 1990, 'Der evangelisch verstandene Gottesdienst', in E. Jüngel (Hrsg.), Wertlose Wahrheit: Zur Identität und Relevanz des christlichen Glaubens., pp. 283-310, Kaiser Verlag, München. (Theologische Erörterungen III).         [ Links ]

Liedboek van die Kerk, 2001, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Lindberg, C., 2016, 'Piety, prayer, and worship in Luther's view of daily life', in R. Kolb, I. Dingel & L. Batka (eds.), The Oxford handbook of Martin Luther's Theology, pp. 414-426, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

Luther, M., 1884 [1519], 'Eyn sermon von dem gepeet und procession in der Kreuz wochen', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 2. Band, pp. 172-179, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 2, 172-179). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1886 [1520], 'In secunda adventus dominica. Orationis verae conditiones', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 4. Band, pp. 622-624, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 4, 622-624). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1889 [1521], 'Evangelium von den zehn Aussätzigen vordeutscht und ausgelegtt', in J.K.F. Knaake et al. (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 8. Band, pp. 340-397, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 8, 340-397). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1892 [1519-1521], 'Operationes in Psalmos: Psalmus V', in J.K.F. Knaake et al. (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 5. Band, pp. 125-199, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 5, 125-199). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1897 [1526], 'Der Prophet Jona ausgelegt', in J.K.F. Knaake et al. (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 19. Band, pp. 169-251, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 19, 169-251). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1899 [1524], 'Predigt am Sonntag Dominica Vocem Iocunditatis (Sonntag Rogate) Ioh. XVI am 1. Mai 1524. Nr 28' in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 15. Band, pp. 546-550, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 15, 546-550). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1907 [1522], 'Betbüchlein', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 10. Band, Zweite Abteilung, pp. 331-406, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 10(II), 331-406). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1912 [1538], 'Das XVI Kapitel S. Johannis gepredigte und ausgelegt' in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, 46. Band, pp. 1-113, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar (WA 46, 1-113). (Kritische Gesamtausgabe).         [ Links ]

Luther, M., 1991a [1529], 'Der Groβe Katechismus', in K. Alant (Hrsg.), Luther Deutsch: Die Werke Luthers in Auswahl, 4. Band 3, erweiterte Aufl, pp. 11-150, Vandenhoeck, Göttingen (WA 30(I), 123-238, 17). (Der neue Glaube).         [ Links ]

Luther, M., 1991b [1519], 'Deutsche Auslegung des Vaterunsers für die einfältigen Laien', in K. Alant (Hrsg.), Luther Deutsch: Die Werke Luthers in Auswahl, Die Schriftauslegung, 5. Band 5, 4. Aufl., pp. 204-273, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen (WA 2, 81-129).         [ Links ]

Luther, M., 1991c [1540], 'Ein kurzer Trostzettel für die Christen, dass sie sich im Gebet nicht beirren lassen', in K. Alant (Hrsg.), Luther Deutsch: Die Werke Luthers in Auswahl, Kirche und Gemeinde, 6. Band 6, 3. Aufl., pp. 203-204, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen (WA 51, 455-456).         [ Links ]

Luther, M., 2012a [1529], 'Der kleine Katechismus für die gemeine Pfarherr und Prediger', in D. Korsch (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche Studienausgabe, Glaube und Leben, Band 1, pp. 574-597, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig (WA 30(I), 264-326).         [ Links ]

Luther, M., 2012b [1520], 'Eine kurze Form der Zehn Gebote, eine kurze Form des Glaubens, eine kurze Form des Vaterunser', in D. Korsch (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche Studienausgabe, Glaube und Leben, Band 1, pp. 317-361, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig (WA 7, 204-229).         [ Links ]

Luther, M., 2012c [1535], 'Eine schlichte Weise zu beten, für einen guten Freund', in D. Korsch, (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche StudienausgabeGlaube und Leben, Band 1, pp. 599-631, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig (WA 38, 358-375).         [ Links ]

Luther, M., 2012d [1539], 'Vorrede zum ersten Band der Wittenberger Ausgabe der deutschen Schriften', in D. Korsch, (Hrsg.), Martin Luther: Deutsch-Deutsche Studienausgabe, Glaube und Leben, Band 1, pp. 657-669, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig. (WA 50, 657-661).         [ Links ]

Luther, M., 2016 [2014], Aus der Tiefe rufe ich, HeRR, zu Dir: Andachten über das Gebet, zusammengestellt C. van der Woerden, 2. Aufl., Christliche Literatur-Verbreitung, Bielefeld.         [ Links ]

Luther, M., 2017, Die Bibel nach Martin Luthers Übersetzung: Lutherbibel. Revidiert 2017. Jubiläumsausgabe: 500 Jahre Reformation, mit Sonderseiten zu Martin Luthers Wirken als Reformator und Bibelübersetzer, Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart.         [ Links ]

Luther, M., 2018a [1540], 'Another sermon, on prayer', in B. Mayes (ed.), A year in the gospels with Martin Luther: Sermons from Luther's Church Postil, transl. J. Langebartels, pp. 546-548, Concordia Publishing House, Saint Louis, MO.         [ Links ]

Luther, M., 2018b [1540] 'Gospel for the fifth Sunday after Easter', in B. Mayes (ed.), A year in the gospels with Martin Luther: Sermons from Luther's Church Postil, transl. J. Langebartels, pp. 538-545, Concordia Publishing House, Saint Louis, MO.         [ Links ]

Peters, A., 1992, Kommentar zu Luthers Katechismen: Das Vaterunser, Band 3, Hrsg. G. Seebaß, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Sauter, G., 2015, Schrittfolgen der Hoffnung: Theologie des Kirchenjahres, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.         [ Links ]

Senftleben, M., 2019, 'Informationen zu jedem Sonn- und Festtag im Kirchenjahr', viewed 8 April 2019, from https://www.daskirchenjahr.de.         [ Links ]

Schwarz, R., 2016 [2015], Martin Luther - Lehrer der christlichen Religion, 2. Aufl., Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Ignatius van Wyk
hto@mweb.co.za

Received: 05 May 2019
Accepted: 03 July 2019
Published: 11 Dec. 2019

 

 

Project Leader: Wim Dreyer
Project Number: 77370920
Description: Natie van Wyk is participating in the research project, 'Justice and Human Dignity. A Reformed perspective', directed by Prof Wim Dreyer, Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria.
Note: HTS 75th Anniversary Maake Masango Dedication.
1 . Die haarkapper, Peter Beskendorf, was 'n ouer vriend van Luther. Op Stil Saterdag in 1535 het hy in 'n twis met sy skoonseun betrokke geraak en het hom per ongeluk doodgesteek. Luther het in die hofsaak voor die 'adjunk-regterpresident' van Sakse, Franz Burkhard (1503-1560), vir hom voorspraak gemaak. Beskendorf se lewe is gespaar, maar hy is verban en het in Dessau asiel gevind. Luther bied pastorale ondersteuning aan Beskendorf deur hom van advies te bedien oor 'n lewe van gebed. Die eerste weergawe is twee keer uitgegee. Luther het spoedig daarna 'n uitgebreide weergawe geskryf wat agt keer gedruk is en deur Johann Freder in Latyn vertaal is. Soos ander traktate uit die oeuvre van sy stigtingsliteratuur, was ook hierdie een uit die gebedspraktyk in sy eie huishouding gevoed (vgl. inleiding van D. Korsch tot Luther 2012c [1535]:601).
2 . Sondag Rogate vorm deel van die Paaskring. Die wortels van die 50 dae Paasfeesvierings gaan terug na die tweede eeu. Die liturgiese struktuur van die Paaskring was waarskynlik teen die vierde eeu gefinaliseer (vgl. Bieritz 2014 [1986]:229-247; Cobb 2004 [1992] en Connell 2006:158-178 vir inligting oor die ontstaansgeskiedenis). In hoogs-gesekulariseerde gebiede in Duitsland, staan hierdie Sondag al meer bekend as 'Sendingsondag'. Die Sondag van gebed moet, volgens die inisieerders van die projek, op voorbidding vir die sendingprojekte onder die kerk-vervreemde Duitsers konsentreer (vgl. Senftleben 2019). Tóg word die nuwe uitgawe van Luther (2016 [2014]) se gebede-dagboek in groot oplaes in boekwinkels verkoop wat daarop dui dat duisende Duitsers nog steeds graag Luther se gebede wil lees en bid. Engelsberger (2013:59-63) en Goldschmidt (2018:184) konsentreer weer eerder op die krisis wat gebed vir moderne mense inhou. Die riglyne vir die erediens sowel as die aanbevole gebede (Goldschmidt 2018:180-184) het te make met die twyfel of geëmansipeerde mense vandag nog kan bid. Die twyfel oor die sinvolheid van gebed behoort, volgens hierdie twee Duitsers, aandag te geniet op hierdie Sondag. Teoloë van die Afrikaanse kerke kan hiermee identifiseer, aangesien dieselfde probleme in hierdie kerke ondervind word.
3 . In die evangelie van Johannes is daar 'n eng band tussen die hemelvaart van Christus, gebed en gebedsverhoring. In Johannes 14:1-12 volg 'n hele gedeelte oor sy weggaan na die Vader toe - en dán, in verse 13 en 14, volg hierdie woorde oor gebed: Wat julle ook al in my Naam vra, sal ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal ek dit doen. Johannes 15:1-6 gaan oor die wingerdstok en die lote. Jesus sluit sy betoog in vers 7 af met die woorde: As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. Hierna in Johannes 15:9-17 gaan dit oor die onderlinge liefde in sy afwesigheid. Hy sluit af met die woorde: So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra
Julle moet mekaar liefhê! In Johannes 16:16-24 gaan dit weer oor sy weggaan na die Vader toe en weer sluit die gedeelte af met onderrig oor die gebed (vv. 23-24): Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees. Gerhard Sauter (2015:173) is korrek as hy beweer dat die hemelvaartserediens jaarliks plaasvind omdat die kerk die rede vier waarom Jesus Christus as Here en as God se erbarming aangeroep word.
4 . Die mense van die sestiende eeu moes gesukkel het met minderwaardigheidsgevoelens voor God. Luther moes meermale lidmate en predikante oortuig dat hulle waardig genoeg is om tot God te bid. 'n Goeie voorbeeld is sy Kort troos-nota vir die Christene sodat hulle hul nie in sake die gebed laat mislei nie (WA 51, 455-456; 1991c [1540]:203-204). In hierdie nota uit 1540 bekla Luther die feit dat lidmate en predikante hulle van gebed weerhou, aangesien hulle vermoed dat hulle nie waardig genoeg is om te bid nie of dat hulle gebede op grond van hulle onwaardigheid nie verhoor sal word nie. Hy hou aan hulle agt argumente voor waarom elke gelowige waardig genoeg is om, veral in moeilike tye, self tot God te bid. Hulle is waardig omdat hulle deur God geskape is; deur sy Seun verlos is; deur die Heilige Gees geleer word; deur God self uitverkies is tot predikant en of lidmaat; op grond van God se wil moet ly; deur God bygestaan word in tye van beproewing; dat hulle dít alles mag glo; en dat hulle deur Christus nie aan die genadige Vaderhart hoef te twyfel nie.
5 . Luther (WA 2, 175, 5-17; 1884 [1519]:175) het die saak van minderwaardigheidsgevoelens, gebedsekerheid en God se barmhartige toewending klassiek in 'n Leer-preek oor gebed en prosessies tydens die kruisweek van 1519 omskryf. God verwag niks van die waardigheid van die bidder en/of die gebed nie, maar slegs vertroue in sy toegesegde barmhartigheid. In sy eie woorde: [Das] erste, Das man von gott eyne vorheyssung odder zu sage habe unnd die selbe zuvor bedencke, gott der selben vormane, und sich dadurch bewege trostlich [zuversichtlich] zu bitten, dan [denn] ßo gott nit hette heyßen pitten und erhorung zugesagt, mochten alle creaturen mit allen pitten nit eyn kornleyn erlangen. Darauß dan folget, das niemant ettwas von gott erlanget seyner oder seyns gepeets wirdickeit halben, sondern alleyn auß abgrund gottlicher gutickeit, der [
] durch seyn gnedig zusagen unnd heyßen [Gebieten] unß bewegt zu pitten und begeren, auff das wir [] kuhn werden, trostlich zu bitten'. Hierdie gemoderniseerde weergawe word by Schwarz (2016 [2015]:383) gevind.
6 . Dit was vir Luther belangrik om aan te toon dat gebed in die naam van Jesus Christus nie 'n totale breuk met die Ou Testament impliseer nie. Die eenheidsband tussen Ou en Nuwe Testament het hy in die metafoor genadestoel gevind. In hierdie verband speel sy Kommentaar op Jona (WA 19, 169-251; 1897 [1526]) 'n belangrike rol. In Jona 2:8 sê Jona: 'Toe my siel in my verbreek het, het ek aan die Here gedink, en my gebed het tot U gekom in u heilige tempel' (volgens die Luther-Bybel - Luther 2017:911). In die Ou Testament is gebede in plekke waar God 'liggaamlik' teenwoordig is, aangehoor. Die plek waar die dekaloog deur die engele op die ark bewaar is, is deur Luther as die 'genadestoel van God' geïnterpreteer. Dáár is gebede verhoor. Volgens Luther bly die 'genadestoele' van die Ou Testament in plek, maar Christene het nou 'n nuwe 'genadestoel' in Jesus Christus. God is nou 'liggaamlik' teenwoordig in Christus, en só is Hy nou vir alle mense toeganklik. Gebed deur Jesus Christus tree in ontmoeting met die genade van die enigste ware God. Hiervan kan gelowiges seker wees! Sy kommentaar (WA 19, 230, 12-20; 1897 [1526]:230) op hierdie vers is van besondere waarde vir die Luther-navorsing: Also musten auch alle die ym lande odder ausser dem lande, wenn sie beten wolten, yhr gebet dahin richten und yhr hertz hefften, an die stet, da Gott leyblich wonete durch sein wort, Auff da sie keynen andern Gott anbetten, denn den, der uber den Cherubin sass auf dem gnaden stuel [vgl. Ex 25:17; Heb 9:5]. Dahin musten alle gebet komen. Gleich wie nu zu unser zeit ym newen testament alle unser gebet mussen zu Christo komen, wilcher ist unser gnaden stuel [Rom 3:25; Heb 4:16], das wyr auch keynen andern Gott widder wissen noch anbeten noch anruffen sollen on [außer] den, der ynn dem menschen Jhesu Christ wonet leyblich. Denn es ist auch sonst keiner mehr. (Schwarz 2016 [2015]:386 se verbeterde teks)
7 . In Luther se advies aan Peter Beskendorf (WA 38, 229; 2012c [1535]:360, 18-22), verklaar hy die 'Amen' soos volg: Mag God ons help dat wat ons vra, ons werklik wil hê; en laat ons nie daaraan twyfel dat Hy ons gehoor het en ons sal verhoor nie; dat dit ja en nie nee beteken nie en dat dit nie twyfelagtig is nie. Daarom sê ons in vrolikheid 'Amen. Dit is waar en verseker. Amen.
8 . Vir 'n kort sistematiese oorsig, kan na Hiller (2015) gekyk word.
9 . Luther self sou nie tevrede gewees het met hierdie keuse van my nie. Dit was vir hom uiters belangrik dat gebede en nadenke oor gebede met 'Onse Vader' sal begin. Die ander bedes moet in die lig van die naam van die Here uitgelê word (vgl. Barth 2009:476 vir tientalle verwysings na hierdie oortuiging). Luther was van mening dat die aanroep van die Vadernaam 'n belangrike aspek is van die vervulling van die eerste bede ('laat u Naam geheilig word'). Dit dra ook by tot gehoorsaamheid aan die tweede gebod - om die Naam van God te eer (vgl. Schwarz 2016 [2015]:380-385 vir die samehang van gebed en die eer van God se Naam).
10 . Volgens Peters (1992:70-71) het Luther tot en met sy kategismusse van 1529 die Middeleeuse tradisie gevolg deur op grond van die Vulgaat 'Adveniat regnum tuum' hierdie bede as 'Zu komme Dein Reich' te vertaal. 'n Mens sou op grond van sy eie teologie verwag dat hy soos volg sou vertaal: 'Zu uns komme Dein Reich' of 'Zukomme uns Dein Reich' ['Mag u ryk na ons kom' of 'Mag u ryk ons toekom']. Die latere vertalings in die kategismusse is waarskynlik deur die Boheemse Broeders en Phillip Melanchthon beïnvloed.
11 . Luther weerhou hom van wat Eberhard Jüngel (1990:306) die 'tirannie van die etiek en spesifiek die tirannie van die politieke doelstellings en waardes' noem. Die 'ontvangskarakter van die evangelie' bly in bewaring.
12 . Van die begin van Luther se skryfonderneming, het hy die verpligting aanvaar om die kerkmense oor die Christelike geloof te onderrig. Alle Christene moes die vermoë ontwikkel om krities oor prediking en leer te oordeel. Hierdie onderrigtaak (of kategese) is aan die gemeente opgedra. Om die gemeentes hierin te ondersteun, het Luther vir kerklik-bruikbare verklarings van die credo, die dekaloog en die Onse Vader gesorg. Die Kort vorm van die credo, die dekaloog en die Onse Vader (1520) was Luther se eerste kategetiese geskrif. Dit het as basis vir sy kategismusse van 1529 gedien. Die Kort vorms van 1520 is voorafgegaan deur dekaloogprediking tussen Junie 1516 en die begin van die Lydenstyd in 1517, sowel as kort traktate oor die dekaloog in 1518 en die Onse Vader in 1519. Aan die credo het hy deurentyd gewerk. Hierdie Kort vorms was nie alleen kategese nie, maar ook pastoraat. Dit is daarom die eerste Protestantse stigtingsliteratuur (evangelische Erbauungsliteratur) wat meditasie en praktiese gebruik in die oog gehad het (vgl. inleiding van Korsch tot 2012b [1520]:319).
13 . Luther se oorspronklike formulering: Dein Reich kome. Was ist das? Antwort: Gottes reich koempt wol on vnser gebet von yhm selbs / Aber wir bitten ynn diesem gebet / das auch zu vns kome. Wie geschicht das? Antwort: Wenn der hymlische Vater vns seinen heiligen geist gibt / das wir seinem heiligen wort / durch seine gnade / gleuben / vnd Goettlich leben / hie zeitlich vnd dort ewiglich.
14 . Luther het die gebed van die Here onder die opskrif Vater unser im Himmelreich gestel. Die opskrif van die Afrikaanse weergawe in Gesang 267 (Liedboek van die Kerk 2001) lui 'Ons Vader op die hemeltroon'. Die motief van die koninkryk is ongelukkig met die motief van mag vervang. Dit is heeltemal teenstrydig met Luther se verstaan van gebed. Die Liedboek van die Kerk (2001) volg die Duitse Evangeliese Gesangeboek (EG 2004: lied 344) deur te stel dat Luther die teks in 1539 geskryf het en dat die melodie, afkomstig van die Boheemse Broeders, uit die jaar 1531 stam. Volgens die onlangse navorsing van Heidrich en Schilling (2017:120-121), bestaan daar geen histories-betroubare bewyse vir hierdie aannames nie. 'n Teks in Luther se handskrif wat in bewaring gebly het, is nie gedateer nie. 'n Kopie van Johann Walters se Gesank Buchleyns (1544) meld wel dat die melodie sedert 1539 in gebruik was. Dít is egter nie waar nie, aangesien die melodie sedert 1519 in Boheme bekend was en reeds in 1531 in Duitsland gebruik is.
15 . Luther se woorde: 'Vis inquam, ut homo se peccatorem agnoscat et totam vitam suam aliud nihil esse ducat, quam orationem, desyderium, gemitum, suspirium ad misericordiam tuam.'

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons