SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.75 número4A dangerous pedagogy of discomfort: Redressing racism in theology educationForgiveness and politics: Reading Matthew 18:21-35 with survivors of armed conflict in Colombia índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.75 no.4 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v75i4.5200 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die bittereinderstandpunt van President M.T. Steyn tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 - 'n Etiese beoordeling

 

 

Piet J. Strauss

Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

The die-hard viewpoint of an influential figure like President M.T. Steyn of the Republic of the Orange Free State (1896-1902) led to the lengthening of the Anglo-Boer War by more than a year. The reasons for Steyn leading the Free State into this war, the reasons for his call not to surrender and the effect of the war on the Afrikaner, is discussed in this article. An ethical discussion of factors indicating a bitter end, is also on the cards. There was a strong realisation among the representatives of the Republics of the Free State and the Transvaal in 1902 that this is the end of the war.


 

 

Inleiding en probleemstelling

Die laaste president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (Rep van OVS), President M.T. Steyn (1896-1902), wat deur historici as die 'siel van die vryheidstryd'1 (Van der Merwe 1921b:1vv; Meintjes 1969:111) en 'bittereinder van die bittereinders' (Oberholster & Van Schoor sa:14; Van Schoor 1997) beskryf is, verklaar op 22 September 1899 voor die Vrystaatse Volksraad (toespraak verbatim in OVS Volksraadsnotule 1899:15-24; vgl. verbatim in Van der Merwe 1921a:250-256; vgl. verbatim in Oberholster & Van Schoor sa:75-82; vgl. verbatim in Van Schoor 1997:155-162)2, kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (ABO) op 11 Oktober 1899, dat 'n oorlog van die twee 'zwakke' republieke (die Rep van OVS en Zuid-Afrikaansche Republiek of ZAR) teen Brittanje as 'het machtigste rijkk dat de wereld ooit gekend heeft', nie 'n 'lichtvaardig' saak is nie.3 Daarom het sy voorstel dat die Rep van OVS aan die kant van die ZAR aan 'n moontlike oorlog teen Brittanje deelneem, hom 'dagen van nadenking en nachten van gebed gekost'.

Steyn wou daarmee aandui dat sy voorstel nie ligtelik opgeneem moet word nie. Al sou hy later in lofterme beskryf word, was hy onder geen illusie nie: 'n oorwinning vir die Republieke in só 'n oorlog sou nie maklik wees nie. Daarom dat hy in dieselfde toespraak sy bekende woorde besig: 'Ik verlies liever die onafhanklijkheid van de Vrijstaat met eer dan die te behouden door oneer of ontrouw'. Volgens hom moet die Rep van OVS sy defensiewe verbond of belofte van 1889, soos hersien in 1897, met die ZAR nakom. As die ZAR - soos Steyn die situasie lees - deur 'n imperialistiese Brittanje as aggressor bedreig of aangeval word, kan die Rep van OVS nie neutraal of afsydig staan nie: 'Kan de eene Afrikaner neutraal bijven wanneer de andere voor Afrika sterft?' (OVS Volksraadsnotule 1899:23; Van der Merwe 1921a:255; Oberholster & Van Schoor sa:81-82; Van Schoor 1997:162). Die Vrystaatse President sluit sy betoog af met 'n kort belydenis van die voorsienigheid van God; 'n voorsienigheid waaruit die Afrikaner volgens hom ook leef: Zijn wil geschiede (OVS Volksraadsnotule 1899:24; Oberholzer & Van Schoor sa:82; Van der Merwe 1921a:256; Van Schoor 1997:162). Hierdie woorde vorm, ná die onthulling daarvan in 1913, 'n sleutelsin op die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. 'n Monument ter herinnering aan die dood van meer as 26 000 vroue en kinders wat in konsentrasiekampe 'en elders' in die ABO omgekom het, en waarvan President Steyn allerweë as die vader beskou word (Strauss sa:15-20; Van Schoor 1993:1, 6).

Op 27 September verwys Steyn na hierdie - moontlik - laaste sitting van die volksverteenwoordiging van sy dierbare vaderland omdat sy onafhanklikheid hom in 'n oorlog met Groot Brittanje ontneem kan word. Hierteenoor word die handelinge van die Regering van die Rep van OVS deurgaans deur 'n 'edele gedragslijn' gekenmerk. Omdat hy die effek van 'n ABO op die Vrystaat nie onderskat nie, sien hy met 'n swaar gemoed die Volksraad uiteengaan (OVS Volksraadsnotule 1899:145-146; Van Schoor 1997:164-165).

Omdat die saak van die Republieke voor God reg is en hulle aan die onreg van Brittanje blootgestel is (Steyn neem voorbeelde uit die verlede), versoek hy die lede van die Volksraad om eensgesind na die burgers van die Vrystaat te gaan en hulle te vra om met heldemoed te stry tot die bittereinde. 'n Stryd teen 'n vyand wat die uitdelging van die Afrikaner,4 wat hy glo die Here sal verhoed, beoog. 'n Stryd tot die bittereinde sodat die vyand respek vir die kinders van die Afrikaner sal hê.

Ter wille van hulle selfrespek én respek vir hulle van ander, kan die Boere-republieke nie voor Brittanje, met sy 'mag is reg', gaan lê nie. Met selfverdediging as 'n eties geregverdigde laaste uitweg, kan hulle tot die Here bid om vir hulle te sorg in die ABO.5 'n Onafhanklike staat mag vanuit sy struktuur as staat sy onafhanklikheid uit noodweer met die wapen verdedig. Dit is op grond van sy monopolie oor die swaardmag - die polisie en die weermag - in sy bepaalde gebied dat 'n regering hierdie mag ook internasionaal kan aanwend. Hoewel nie in dieselfde terme en met presies dieselfde argumente nie, werk Steyn op 'n nie-wetenskaplike, populêre vlak met die strukturele gelykwaardigheid van state wat later eksplisiet as 'n Christelike benadering in die volkereg erken sou word (Wessels 1977:205).

In hierdie gedagtes van President Steyn kom daar elemente na vore wat sy houding as 'n bittereinder tot by die Vrede van Vereeniging in Mei 1902 sou kenmerk.6

In die eerste plek neem hy hiermee vanaf 'n publieke platform die voortou in 'n stryd tot die bitter einde (naamwoord 'bittereinde'). Daarmee munt hy waarskynlik hierdie term wat deur Afrikaners vir die laaste fase van die ABO gebruik is en deur Loe aan Steyn toegeskryf word (Lou 1985:209). In die tweede plek dui 'bittereinde' as 'n begrip hier op twee dinge: die einde van 'n bitter, ongevraagde stryd van die Republieke as die spreekwoordelike Dawid teenoor die Goliathagtige Brittanje, én 'n bittereinde7 waarvoor daar nie duidelike kriteria onder die Boere in die ABO was nie. 'n Einde met kenmerke wat deur die mense in die situasie herken word. 'n Vraag wat die verteenwoordigers van die Republieke in Mei 1902, in hulle besluit oor die einde van die ABO en vrede, moes beantwoord (vgl. Kestell & Van Velden 1982:83, 85, 135, 160; kyk vir die voorwoord van waarnemende president S.W. Burger in Kestell & Van Velden 1982:10).

Die bittereinde of laaste tydvak in 'n situasie word eties bepaal deur hulle wat die besluitneming in die situasie het en, ná deeglike oorweging, tot die slotsom kom dat dit nou die einde of laaste uitweg is. 'n Besluit wat vra vir 'n fyn ontleding en aanvoeling. Soos die medikus wat moet kies tussen die lewe van die moeder of ongebore kind, of die bedreigde burger wat moet besluit dat dit sy lewe of die lewe van die rower in 'n gewapende roof is - die burger wat ageer uit selfverdediging. President Steyn sou immers, soos reeds uitgewys, uit 'n staatsregtelike oogpunt die maatstaf van 'n geregverdigde selfverdediging uit noodweer gebruik om die oorlogspoging van die twee Republieke te regverdig (Oberholster & Van Schoor sa:87; OVS Volksraadsnotule 1899:145-146; Van Schoor 1997:31,168vv).

Hierdie bittereinderstandpunt van Steyn in die ABO word in hierdie artikel eties ontleed. Die ontleding konsentreer op sy regverdiging van die oorlogspoging van die Boere-republieke, sy verantwoording van 'n stryd tot die bittereinde in ABO-konteks, en die antwoord op die vraag van die verteenwoordigers van die twee Boere-republieke by die Vrede van Vereeniging in Mei 1902. Wat 'n historiese aanpak uit primêre bronne vergemaklik, is verbatimverslae van Steyn se redes en standpunte wat uit amptelike of ander bronne kom en ooreenstem: OVS Volksraadsnotules van 1899, Van Merwe I en II 1921 (met weergawes uit die privaatversameling van mev. Tibbie Steyn), Oberholster en Van Schoor sonder jaar van uitgawe, en Van Schoor 1997. Die korrektheid van hierdie verslae is baie waarskynlik as hierdie bronne in bewoording ooreenstem.8

 

'n Statistiese voëlvlug oor die kante van die ABO

Gemeet aan die mense betrokke by die afloop en gevolge van die oorlog, staan sake in die ABO - in afgeronde syfers uitgedruk - breedweg soos volg.

Die totale aantal troepe wat Brittanje in Suid-Afrika vir die ABO gemonster het, was ongeveer 450 000. Op geen stadium was daar meer as 250 000 tegelykertyd in Suidelike Afrika nie. Hierdie getal was die getal teen die einde van die oorlog. Saam met Britse soldate (365 693) was daar troepe uit die res van die Britse Ryk (82 742) en gewapende swartes (ongeveer 30 000) wat deur die Britte in diens geneem is. Laasgenoemde sou spoorsny én aan gevegte deelneem. Meer as 22 000 Engelse soldate, of Kakies, sou weens oorlogsverwante voorvalle in die ABO omkom.

Aan Boerekant was die hoogste aantal burgers die ongeveer 55 000 man wat die twee Republieke aan die begin van die oorlog in die veld gestoot het. Die Boere is deur die loop van die oorlog bygestaan deur 2120 Wes- en Oos-Europiërs en rofweg 13 300 Kaapse en Natalse Rebelle of koloniale Afrikaners. Omdat die Boere die ABO beskou het as 'n 'witmansoorlog', is swartes wat met hulle geassosieer het slegs gebruik as agterryers of vir ander dienste. Die getal Boere is algaande uitgedun deur ongeveer 20 000 krygsgevangenes, 5464 Joiners wat aktief in Britse diens was, en 'n onbekende getal Hensoppers wat uit eie oorweging ophou veg het. Die getal bittereinders in die laaste maande van die oorlog was 20 779, waarvan daar 11 232 Transvalers (ZAR), 5833 Vrystaters, 3574 Rebelle en 140 vreemde vrywilligers was. Aan Boerekant het 3990 burgers gesneuwel en 924 burgers weens siekte op kommando gesterf. Die verskynsel van Hensoppers en Joiners asook ongehoorsaamheid aan offisiere deur indiwiduele of groepe Boere spruit uit ten minste twee oorsake: die Boerekommando's was nie 'n gedissiplineerde staandemag nie en die gekommandeerde Boer nie 'n beroepsoldaat nie. Inteendeel, die wil van die enkeling as baas op sy plaas, was aanvanklik 'n faktor om mee rekening te hou (Pakenham 1981:584-592; Pretorius 2001:21; Scholtz 1998:15-17).

Blake kom tot die slotsom dat 'n gees van moedeloosheid en defaitisme 'die burgers' (die presiese getal wat so gevoel het, is vanweë hulle besluitloosheid en 'n wisseling in optrede moeilik om te bepaal; Grundlingh 1979:20-25) veral by drie geleenthede gepak het: Cronje se oorgawe met ongeveer 4000 burgers by Paardeberg op 27 Februarie 1900 (Majubadag in 1881), en die Britse inname van die twee hoofstede: Bloemfontein op 13 Maart 1900 en Pretoria op 05 Junie 1900. 'n Gees wat verskil het van die houding van President Steyn en talle die wapens laat neerlê het. 'n Gees wat soms omgeswaai het in 'n nuwe optimisme ná Boereoorwinnings op die slagveld en gelei het tot nuwe aansluitings by kommando's. Die getroues of bittereinders het die gedemoraliseerde ontroues egter geminag - 'n minagting wat tot lank ná die ABO sou voortduur (Blake 2010:45-48; Grundlingh 1979:11).

In sy persoonlike vertellinge van die ABO, meld President Steyn dat hy en President Kruger op versoek van die kommandant-generaal van die ZAR, Generaal Piet Joubert, ná die oorgawe van Generaal Cronje by Paardeberg, 'n telegram aan Lord Salisbury in London gestuur het met die versoek aan die Britse Regering om vredesonderhandelinge met behoud van die onafhanklikheid van die Republieke. Dit is gedoen 'om de geest onder de burgers goed te houden' (Van der Merwe 1921b:54). Hierdie verhaal illustreer Steyn se verbandlegging van volharding in die ABO met die gewilligheid of goeie gees van die burgers te velde. Hy wou volhard, maar nie sonder die burgers nie.

Grundlingh sonder drie redes uit waarom indiwiduele Boere die wapen neergelê het: (1) daar was hulle wat geen redelike hoop vir die saak van die twee Boerepublieke gekoester het nie; (2) sommige het strydmoeg geword en hulle van die oorlog gedistansieer; en (3) sommige het uitsluitlik in hulle eie stoflike welvaart belang gestel en wou nie opoffer nie. Sommige wat die wapen neergelê het, was van meer as een van hierdie redes oortuig. Hy wys op Vader Kestell, volksfiguur en veldprediker, se mening dat die ongelyke stryd met Brittanje en die onsekerheid oor die toekoms van die Republieke sommige neerslagtig en moedeloos gestem het. Die hoop dat 'n Europese moondheid tot die ABO kan toetree en die Republieke kan bystaan, het ook gaandeweg verdwyn. Nie noodwendig hieraan gekoppel nie, sou die kans op welslae teen Brittanje mettertyd ook verminder en verdwyn (Grundlingh 1979:135-138).

Teenoor hierdie swartgalligheid het Generaal Jan Smuts, aldus Grundlingh, in Januarie 1902 aan W.T. Stead geskryf dat die Boerebittereinders in die ABO anders voel. Hulle houding (Grundlingh 1979):

which will seem strange and unintelligible to matter-of-fact politicians, is today held by the bulk of the Boers in the field and explains much which must otherwise forever remain inexplicable the true cause of their unique persistence has become a Boer religion, adversity has converted their political creed into a religious faith; and thus hope and faith and strength have been wrung from weakness and despair itself. (p. 138)

Smuts vermeng 'n geregverdigde oorlog as 'n etiese saak of 'n konsekwensie van die Christelike geloof met geloof in God-Drieënig as 'n hartsaak wat hierdie soort kwessies voorafgaan. Hy maak van eties-bepaalde gedrag 'n burgerlike godsdiens wat hy op die brood van sy volksgenote smeer. Tog raak hy hiermee aan die oortuiging van Steyn dat die Boere in die ABO op God se voorsienigheid kan reken: 'moge 'n rechtvaardige Voorzienigheid vergelding brengen op degenen die dezelve verdienen'. In sy oorlogsmanifes op 11 Oktober 1899 aan die begin van die ABO, voeg die Vrystaatse President hieraan toe: 'Burgers van de Oranje-Vrijstaat, staat op als EEN man tegen de verdrukker en de schender des rechts'. Hulle saak is reg en die ABO, as 'n geregverdigde defensiewe oorlog, moet deur elke burger geveg word met gedrag wat hom as Christen en burger van die Vrystaat 'betaamt'. Selfs in só 'n abnormale of oorlogsituasie moet God geëer en gedien word (Van der Merwe 1921b):

Laat ons met vertrouwen vooruitzien op 'n voorspoedig einde van die strijd, vertrouwende op die Hoger Kracht, zonder Wiens bijstand mensewapens niets vermogen. Aan de God onzer vaderen dragen wij ootmoedig de rechtvaardigheid onzer zaak op: Hij beskerme het recht, Hij zegene onze wapenen; onder zijne banier trekken wij ten strijde VOOR VRIJHEID EN VOOR VADERLAND! (bl. 3-4)

Hoewel Steyn onder die invloed van die rasionalisme van die Verligting uit die 18e eeu na God as 'n onpersoonlike Hoë Krag en 'die Voorsienigheid' verwys (wat vreemd aan die Bybel is), noem hy Hom in Ou Testamentiese terme óók die - persoonlike - God van ons vaders. Daarmee drink hy uit dieselfde bronne as sy geestelike en fisiese voorgangers - die Voortrekkers - wat die totale lewe, ala Calvyn, wou voer onder die reformatoriese vaandel Soli Deo Gloria - tot eer van God alleen (Strauss 1994:30-32). Wat die President betref, kon die Rep van OVS in sy oorlogspoging op die Here vertrou omdat sy saak regverdig was. God in sy voorsienigheid het aan die Afrikaner sy bestaansreg gegee; God in sy voorsienigheid sal hom bewaar van uitwissing (OVS Volksraadsnotule 1899:23; Van der Merwe 1921a:255). Steyn, soos hoofkommandant C.R. de Wet,9 het die ABO in die geloof aangepak (kyk rede van De Wet by Vereeniging in Mei 1902, Kestell 1920:120). En Smuts was reg, vir politici met 'n 'matter-of-fact' houding, is só 'n motivering onbegryplik. Na Steyn se kommentaar oor die feite (facts) van die ABO, feite wat hy vanuit die hoek van 'n Boerebittereinder bekyk het, kom ons terug.

 

ABO in twee fases

Vanaf Oktober 1899 tot ongeveer Junie 1900 met die Britse inname van die hoofstede, Bloemfontein en Pretoria (Pakenham 1981:453), was dit die konvensionele of, soos die Boere dit genoem het, defensiewe fase. Hier was dit linie teen linie vir die besetting van gebied. Dié fase is gekenmerk deur Boere-suksesse tot in Januarie 1900. Daarna volg die Britse inname van dele van die twee Republieke, waaronder die hoofstede. Tydens 'n vergadering van Vrystaatse Boereleiers onder die voorsitterskap van President Steyn te Kroonstad op 17 Maart 1900, word die Vrystaatse strategie egter gewysig: die kommando's moes beweeglik raak vir 'n guerilla-oorlogbenadering en van stadige wa-laers afsien (Breytenbach 1983:159). Die ZAR sou ook tot die guerillabenadering oorgaan. Die Britte moes deur menseverliese, kostes en 'n voortslepende oorlog sielkundig en fisies uitgemergel word (De Wet 1959:44-49; Scholtz 2008:45, 46). Teen die einde van die ABO staan die Britse verliese aan troepe deur oorlogverwante faktore op ongeveer 22 000 en word die Britse belastingbetaler meer as 2 000 000 pond sterling, in destydse terme, uit die sak gejaag (Pretorius 2001:21; Strauss 2015:43).

Die einde van die ABO sou volgens sommige aanhitsers van die oorlog, soos Sir Alfred Milner10 (die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika sedert Mei 1897) ná 3 maande bereik word. Vanweë die sogenaamde Boerebittereinders met hulle guerillastrategie sou die einde egter eers ná 32 maande kom (Schoeman 1983:38).

Lord Kitchener wat in September 1900 by Lord Roberts as die Britse opperbevelvoerder in die ABO oorneem, beantwoord die guerillafase met die intensivering van 'n beleid van verskroeide aarde. Enige bron van stoflike en voedselvoorrade vir die Boerekommando's moes hulle ontneem word. In hierdie proses word Boervroue en -kinders van hulle plase verwyder deur ontoereikende vervoer en in (aanvanklik) swak toegeruste konsentrasiekampe gestop. Plaashuise word gebrand, gesaaides en vee vernietig en die Republieke bykans verwoes. Tot die einde van die ABO in Mei 1902, word ongeveer 30 000 of 80% van die plaashuise in die twee Republieke afgebrand. Eiendomme in sommige dorpe, waaronder kerkgeboue, loop ook deur. In die OVS is die skade aan Afrikaanse gereformeerde kerke R83 461 en in die ZAR R70 000 (Strauss 2015:43). In wit Britse konsentrasiekampe is die sterftesyfer 34 051 (Raath 2012:13; Reynolds 2013:122) en in swart kampe (werksmense van boerplase) ongeveer 20 000 (Pretorius 2001:21; Strauss 2015:43). Die effek hiervan in 1902 is ongeveer 20 000 Afrikaanse wesies (Strauss 2015:43).

Die groot vraag wat hieruit ontstaan, is die vraag of die offers van die twee Republieke, uit 'n bittereinderoogpunt gesien, eties verantwoord was? Weeg die nut van die byna drie jaar lange stryd op teen die verlies aan menselewens - wit en gekleurd - in Britse konsentrasiekampe, die verwoesting van die Boerepublieke waaronder 80% van boerplase, 4000 slagveldverwante sterftes onder die Boere, en 22 000 Britse sterftes in oorlogsverwante voorvalle? Soos President Steyn voor die oorlog verklaar het, kan dit immers beweer word dat die Britse besware wat tot hulle saamtrekking van troepe op die grense van die ZAR gelei het, deur onderhandeling en arbitrasie opgelos kon word. Dat dit nie gebeur het nie en ná die Bloemfonteinkonferensie van Mei 1899 net 'n hersenskim was, beteken egter dat dit uit die hande van die vroeëre vredesoeker én latere bittereinder, M.T. Steyn, geneem is. Teen Oktober 1899 het dit gelyk asof die ABO 'n voldwonge feit voor die Republieke was. 'n Feit wat sou lei tot die lyding en verwoesting waarna verwys is. Met die oorlog 'n onontwykbare feit, blyk die volgende vraag: wat moes die twee Republieke in die ongelyke stryd inboet voordat die eties-verantwoorde (vir hulle) einde kom om eervol kop te gee? Dat die syfers van verwoesting en lyding in die situasie relatief is, blyk uit die gebrek aan norme daarvoor in die Christelike etiek. In soortgelyke etiese kwessies moet die deelnemers in die situasie hierdie vraag beantwoord. Daarop word terug gekom.

'n Oorlog van hierdie omvang sou sy merk op Suid-Afrika laat. Die gevegte was nie tot die Rep van OVS en ZAR beperk nie, maar sou na die Kaapkolonie en Natal oorspoel. Die oorlog het nie net Boer en Brit getref nie, maar ook mense uit ander bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Ongeveer 'n tiende van die Afrikaners in die ZAR en die Rep van OVS sou in die ABO omkom. Die Republieke was hulle onafhanklikheid kwyt, is ekonomies platgevee en die Afrikaner-ideaal van 'n onafhanklike republiek wat reeds in die Groot Trek in 1835-1840 geleef het (Strauss 2015:30-31), is gesmoor. In hierdie omstandighede sou President Steyn en sy mense 'n bittereinde tegemoet gaan. 'n Einde wat moed en volharding vra, en 'n volharding wat respek afdwing. 'n Bittereinde waarop ook terug gekom word.

Die ABO het die politieke kaart van Suid-Afrika verander, maar ook ingrypende sosio-kulturele gevolge gehad. Daarvan was die nasionale ontwaking onder Afrikaners prominent: 'n ontwaking met politieke, taal-kulturele én sosiaal-kerklike gevolge. 'n Ontwaking waarin die geestelike navolgers van Steyn of bittereinders moreel die hef in die hand gehad het en in die twintigste eeu telkens suksesse sou boek (Loe 1985:210;11 Strauss 2015:40-4912).

 

President Steyn en die oorsake van die ABO

Daar heers 'n mening onder historici dat die ABO die kulminasiepunt van 'n groeiende botsing tussen Afrikaner-nasionalisme en Britse imperialisme was. Hierdie botsing was reeds sigbaar tydens die Groot Trek van 1835-1840 (Strauss 2015:26vv), maar 'n verandering in die Britse Regering sou lei tot sy erkenning van die onafhanklikheid van die ZAR in 1852 en die Rep van OVS in 1854. President Steyn sou kort voor die ABO hierna verwys as Brittanje wat ten opsigte van die erkenning van die ZAR en die Rep van OVS sy woord gegee het. 'n Beloftewoord wat nagekom en nie verbreek moes word nie (Breytenbach 1978:107; Van der Merwe 1921b:1-4).

Die handhawing van die onafhanklikheid en gebiedsintegriteit van die twee Republieke deur Brittanje as 'n magtige wêreldmoondheid, sou in die tweede helfte van die negentiende eeu onder druk kom. Die eerste geleentheid was met Kimberley en die diamantveldkwessie in 1871 toe hierdie gebied deur Brittanje die Vrystaat ontneem is en by die Britse Kaapkolonie ingelyf is. Die tweede geleentheid was die Britse anneksasie van die ZAR of Transvaal in 1877. Die ZAR wat by die Konvensie van London 1884 aan die Boere teruggegee is, maar met 'n beperkte seggenskap oor sy buitelandse beleid - dit moes geskied onder Britse susereiniteit of toesig en goedkeuring. Daarna volg die mislukte Jameson-inval van 1895 in die ZAR; 'n inval met simpatie uit die Britse Regering. In 1899 kom die Britte boonop met 'n vernederende eis vir die ZAR as 'n onafhanklike staat dat Brittanje die ZAR-wette vir die stemreg van Uitlanders ('n interne ZAR-saak) moet goedkeur. Die uitlanderkwessie ontwikkel ná die ontdekking van goud aan die Rand in 1886, en vertoon verskille tussen Britsgesinde uitlanders wat vra vir Britse inmenging en nie-Britse uitlanders wat tevrede is met die regering van die ZAR (Pretorius 1998:7vv).

In sy redes voor die Vrystaatse Volksraad in September 1899 en sy oorlogsmanifes op 11 Oktober 1899 waarin President Steyn die Rep van OVS versoek om in geval van 'n oorlog met Brittanje sy defensiewe verdrag van 1897 met die ZAR na te kom, noem Steyn Brittanje se terugkom op die erkenning van die onafhanklikheid van die Boere-republieke 'onrecht en schandelijk geweld gedurige verdrukking en inmenging'. Volgens hom is Brittanje se regverdiging van die genoemde gevalle 'n skending van goeie trou onder valse voorwensels (oorlogsmanifes verbatim in Van der Merwe 1921b:1-4).

Wat President Steyn betref, gaan dit vir Brittanje nie om Uitlanderstemreg in die ZAR nie, maar om die 'theorie' van 'n Britse 'Paramount power' in Suid-Afrika13 wat die hele gebied onder sy beheer wil kry. Dat Uitlanderstemreg net 'n dekmantel vir Britse inmenging in die ZAR is, blyk uit 'n aantal faktore. Die nie-Engelse uitlanders hou nie van Britse inmenging nie, die Britte het nou by herhaling redelike voorstelle van die ZAR oor Uitlanderstemreg verwerp,14 en Brittanje vrees dat die Afrikanerbond wat in die Kaapkolonie aan bewind gekom het, sy inspirasie uit die republieke in die noorde kry. Die ZAR en die Rep van OVS is die plekke waar die 'Afrikaander geest levend' gehou word. Daarby is die Britse vertolking van die susereiniteitsklousule oor die buitelandse beleid van die ZAR oordrewe. London-1884 bepaal slegs dat Brittanje die verdrae van die ZAR met ander state as die Vrystaat moet goedkeur (OVS Volksraadsnotule 1899:20: Breytenbach 1978:107). Steyn uiter sy bekende uitspraak: al is die Rep van OVS 'klein en zwak', is hy 'sterk genoeg' om te staan by sy woord wat hy in 1889 en 1897 deur verdrae aan die ZAR gegee het. Die Vrystaat sal sy broers help as hulle tot selfverdediging gedwing word. Afrikaners moet hulle selfrespek behou (OVS Volksraadsnotule 1899:23).

President Steyn sou hom tot die laaste oomblik inspan om oorlog te vermy.15 Maar, het hy gesê, as die Rep van OVS eers op oorlog besluit, moet dit tot op die bittereinde wees (OVS Volksraadsnotule 1899:23; Van Schoor 1997:4-5; 2009:134). Hy het geglo dat die Britse probleme oor Uitlanderstemreg in die ZAR en die kwessie van Britse susereiniteit oor die buitelandse beleid van die ZAR deur arbitrasie en nie oorlog nie opgelos kan word. Oorlog hieroor is 'n belediging vir godsdiens en beskawing, en 'n misdaad teen die mensheid (OVS Volksraadnotule 1899:10; 26:09:1899:113).

'n Voorbeeld van President Steyn se ywer vir vrede is die Bloemfonteinse Konferensie van Mei tot Junie 1899 wat op inisiatief van Steyn tussen President Kruger en Lord Milner, die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, gereël word: 'n poging om 'n oorlog te vermy (Van Schoor 2009:106-107). Die konferensie word egter beëindig met die bekende, onthutste uitroep van die bejaarde President: 'Dis nie die stemreg nie, maar my land wat jy wil hê!' (Van Schoor 2009:107).

 

Britse imperialiste soek 'n rede vir oorlog

Ná die konferensie skryf Milner op 06 Junie 1899 aan Roberts, die latere Britse opperbevelhebber in Suid-Afrika (Pakenham 1979):

I precipitated the crisis, which was inevitable, before it was too late. It is not very agreeable, and in many eyes not a very creditable piece of business to have been largely instrumental in bringing about a big war (p. 115)

Pakenham, wat hierdie korrespondensie in 1979 opspoor, kry ook getuienis dat Milner 'n informele alliansie met die pro-Britse mynfirma aan die Rand, Wernher-Beit, gehad het. Dit het die Britse Hoë Kommissaris moed gegee om 'n oorlog te verhaas (Pakenham 1981:iii).

Waarvan presidente Kruger en Steyn voor die ultimatum van die ZAR op 09 Oktober 1899 aan Brittanje om sy troepe op die grense van die ZAR te onttrek, onbewus was, was dat Chamberlain in London met die ontvangs van die ZAR-ultimatum verheug uitgeroep het: 'They have done it!' Daarmee het die ZAR syns insiens na vore getree as die aggressor en insieerder van die ABO en het Brittanje sy casus belli of rede vir 'n oorlog met die Republieke gevind (Kemp 1946:184-185). Maar, om die valsheid van sy optrede te illustreer, het Brittanje reeds op 22 September 'n eie ultimatum aan die ZAR gereed gehad wat hy teruggehou het om meer van sy troepe kans te gee om hulle posisie op die grense van die ZAR in te neem (Pretorius 1998:13).

Presidente Steyn én Kruger - die ZAR en Rep van OVS - was dus nie bewus van elke beweging agter die skerms aan Britse imperiale kant wat afstuur op 'n ABO nie. Tog het hulle die boom aan sy vrugte herken. In die ZAR het staatsprokureur Smuts die Jameson-inval van 1895 as 'n Britse oorlogsverklaring beskryf (Pakenham 1981:9). Dit is bekend dat die twee Boere-republieke hulle militêre weerbaarheid ná hierdie inval verskerp het (Pretorius 1998:9). Steyn verklaar op 27 September 1899 in die Vrystaatse Volksraad dat 'n 'onregverdige en misdadige' oorlog aan die Republieke opgedring word. Hy praat ná die mislukte Bloemfonteinse Konferensie in Mei tot Junie, maar vóór die ZAR-ultimatum van 09 Oktober 1899 (Van Schoor 1997:165).

President Steyn sou sy argumente vir die stryd vanaf die aanvang van die ABO tot die bittereinde op die volkeregtelike oorweging baseer dat 'n soewerein onafhanklike staat soos die Rep van OVS - afgesien van sy grootte of militêre vermoë - die reg het om homself teen aggressiewe imperialisme te verdedig. 'n Benadering wat deur sommige in sy tyd as agterhaal beskou is (Loe 1985:209).16 Vir Steyn was sy houding oor die ABO as die Vrystaatse president Christelik én volkeregtelik verantwoord. Die Rep van OVS se onafhanklikheid en gebiedsintegriteit was vir hom 'n gegewe in die voorsienigheid van die Driemaal Heilige God - 'n naam vir die Here wat Steyn graag gebruik het (Van Schoor 1997:176,197). Steyn is hierin gesteun deur ander Vrystaatse leiers wat in die ABO na vore sou tree: C.R. de Wet en J.D. Kestell. Saam sou hulle uit die ABO tree as die Vrystaatse driemanskap: President M.T. Steyn, die staatsman; Generaal C.R. de Wet, die krygsman; en Ds J.D. Kestell, die 'Kerkman' (CA Van Niekerk in Van Schoor et al. 1954:7).

 

Die karakter van Steyn as 'n bittereinder

Daar is reeds gewys op titels soos die 'siel van die vryheidstryd' en 'bittereinder van die bittereinders' wat aan President M.T. Steyn gegee is (Strauss 1996:559). Deur sy bemiddeling of prosesse waarvan hy die spilpunt was, is die ABO na bewering met meer as 'n jaar verleng (Van Schoor 2009:185vv).

Voordat daar op voorbeelde van sy bemiddeling én sy teuelsvat in die oorlogspoging van die twee Republieke gewys word, moet die vraag beantwoord word of hy 'n gemiddelde man, maar met 'n sin vir vasbyt was ('dogged courage')? 'n Man wat kon volhard met 'n saak al sou die meriete verdag voorkom? Hoe het die karakter van hierdie man by die mense wat hom in die jare van die ABO beleef het, oorgekom?

Selfs buite sy eie mense is daar waardering vir die persoon van Steyn. Joernaliste praat van 'n 'man of decided views and high character' (Schoeman 1983:27), 'ready, tactful and diplomatic', 'n 'professional politician in no unpleasant sense'. 'Evenals zijn daden overweegt hij zorgvuldig zijn woorden', met 'n 'open en innemend uiterlijk' wat 'vertrouwen inboezemt' (Schoeman 1983:31). Lord Kitchener sê dat Steyn bo sy volksgenote uitstaan, 'n man van 'great influence' en 'ponderous' (SABW II 1972:732; Schoeman 1983:32).

President Steyn was 'n Boerebittereinder - nie omdat hy blindelings anti-Brits was nie, maar omdat hy as 'n oorwoë, natuurlike leier gestry het vir die bestaansreg van die Rep van OVS as 'n onafhanklike republiek sowel as vir die Afrikanergemeenskap. Hy was 'n uitgesproke Christengelowige, wat besluite ná deeglike oorweging geneem het. Daarom kon hy praat van die Vrystaatse toetrede tot die ABO wat hom dae van nadenke en nagte van gebed gekos het.

In sy gedikteerde verhaal oor die ABO en sy pogings vir vrede, verwys Steyn na die beskuldiging van koppigheid wat teen hom gebruik is (Van der Merwe 1921b):

Hadden de vrienden toch maar kunnen weten hoe ernstig ik had gebeden om staande gehouden te worden totdat op Gods tijd de vrede zou komen, en dat als die tijd mocht komen en ik in de weg van vrede mocht staan, dat God dan zelve mij uit de weg moest nemen (bl. 85)

'n Ernstige siekte het die President egter van sy taak ontneem om namens die Rep van OVS die Vrede van Vereeniging te debatteer en te onderteken. Weer was sy geloof in die voorsienigheid van God relevant: Uw wil geschiede (Strauss sa:4).

 

Steyn, die bittereinder van die bittereinders

As bittereinder-president moes Steyn sy invloed veral op twee fronte gebruik: hy moes sy eie burgers motiveer en hy moes die telkens weifelende Transvalers aan boord hou. Daarby het hy dit as sy plig beskou om as staatshoof namens die Rep van OVS te reageer as omstandighede dit noodsaak. In alle gevalle was sy geloof in die regverdige saak van die Boere-republieke voor God die Allerhoogste - nog 'n term wat hy gebruik het (Van der Merwe 1921b:1-4 vir die oorlogsmanifes van Steyn op 11 Oktober 1899) - die spilpunt van sy motivering. Die Afrikaner moes nie vernederd uit die ABO kom nie, maar deur sy geregverdigde saak die morele oorwinning behaal. Daarom het hy na die triomferende martelaarskap van vrou en kind in die konsentrasiekampe verwys (Strauss 2014:7), en kon Emily Hobhouse in haar voorgelese toespraak by die onthulling van die Vrouemonument, 'n beroep op Afrikaners doen om te vergewe: 'for you can afford it' (Van Schoor 1993:31).

Steyn sou persoonlike ongerief in die ABO nie systap nie. Twee voorbeelde staaf die stelling. Tydens Generaal De Wet se militêre inval in Januarie 1901 in die Kaapkolonie neem die President die voortou om deur die Garieprivier te swem (Van Schoor 2009:207). Vroeër is die President die enigste lid van die Vrystaatse Regering wat die Engelse inval in Reitz op 10 Julie 1900 ontsnap. Hy doen dit deur met 'n ontblote hoof en net die klere aan sy lyf te perd teen die suidwestelike heuwel van die dorp uit te jaag (Van Schoor 2009:215-220). Kestell beweer dat Steyn deurgaans optimisties en vol moed was. Volgens hom het Steyn en De Wet hulle nooit aan 'twyfel oorgegee nie' (Van Schoor 1992:111).

'n Ander probleem wat Steyn as bittereinder moes hanteer, was sy weifelende Transvaalse broers en strydgenote. Die bittereinders Steyn en De Wet het egter in die bittereinder Generaal De la Rey van Wes-Transvaal 'n gees- en strydgenoot gevind (Van Schoor 2009:201, 239).

Volgens President Steyn sou elke vredesinisiatief van die Boere-republieke by die Britte die indruk skep dat hulle weerstand verswak. Sulke inisiatiewe sou die Britte aanspoor om die oorlog met groter krag voort te sit. Daarom het hy so iets ná Cronje se oorgawe by Paardeberg vermy.

Reeds sewe weke ná die aanvang van die oorlog telegrafeer die Transvaalse Kommandant-Generaal, Piet Joubert, aan President Kruger dat vrede gesoek moet word weens die 'akelige en onaangenaam toestand' waarin daar geveg word. Kruger wys die voorstel af, maar toe Joubert in Februarie 1900 versoek dat vrede met behoud van die onafhanklikheid van die twee Republieke gesoek word, stel Kruger aan Steyn voor dat Brittanje ingelig word. Steyn is egter nie daarvoor te vinde nie. Sonder verwyt bemoedig hy die Transvaalse Regering om die stryd voort te sit (Van Schoor 2009:240-241).

Ná die inname van Pretoria in Junie 1900 kom daar 'n versoek van die krygsraad uit die ZAR dat die ABO tot 'n einde kom. Steyn word versoek om hom hiervoor na Pretoria te haas. Die Vrystaatse President antwoord dat dit onmoontlik is om Pretoria nou te besoek, én dat hy en President Kruger pas twee weke vantevore besluit het om die oorlog voort te sit. Steyn raak driftig as hy wys op 'een lafhartige wijze de strijd die wij in den Naam des Heren hebben begonnen, op te geven'. Noudat die ZAR die Engelse op hulle eie bodem voel, en die Vrystaat en die Kaapkolonie geruïneer is, wil die ZAR vrede sluit. As dit moet, sal die Vrystaat die stryd tot die bittereinde alleen voortsit. Generaal J.H. de la Rey uit Wes-Transvaal en die jong Generaal C.F. Beyers uit Noord-Transvaal distansieer hulle openlik van hulle mede-Transvalers. Soos Steyn, dreig De la Rey om die stryd alleen voort te sit as sy landgenote volhou met hulle flouhartigheid (Van Schoor 2009:243-244).

 

Kitchener beantwoord

'n Belangrike antwoord met betrekking tot die volharding van die Republieke in die stryd, is President Steyn se antwoord op Lord Kitchener, Britse opperbevelhebber, se proklamasie (die Boere sou praat van sy 'papierbom') vir die oorgawe van die Republieke op 07 Augustus 1901. In sy antwoord reageer Steyn op Kitchener se verstaan van die 'feite' van die ABO (vgl. die verbatim proklamasie en antwoord in Van der Merwe 1921b:25-33): hy verantwoord sy bittereinderwees dus met meer as sy geloof in die God wat in die daaglikse behoeftes van die strydende Boere voorsien.

Kitchener maak sekere stellings waardeur hy te kenne te gee dat 'n Boere-oorgawe net 'n bevestiging van die feite is: die twee Republieke is grootliks deur Brittanje ingeneem en onder sy beheer; die setels van regering en publieke kantore, die werktuie van administrasie en die spoorweë is in Britse hande; die 'groote meerderheid' burgers van die 'gewezene' Republieke, ongeveer 35 000, woon rustig in dorpe of kampe; diegene wat in die veld teen die Kakies is, is min (hy noem nie syfers nie) met min krygstuig en organisasie en kan geen reëlmatige oorlog voer of 'n georganiseerde verset teen die Britte volhou nie; die burgers se tref-en-trap-benadering rig net skade aan, verhinder landbou en nywerheid, hou die land in opskudding én weerstaan die vrede. Daarom proklameer Kitchener dat alle lede van 'gewapende benden' wat teen 15 September 1901 nog nie oorgegee het nie, 'voor altijd' uit 'Zuid-Afrika' verban sal word, en dat die onderhoud van hulle families teen hulle eiendomme belas sal word. Vir hom gaan dit nie om die republieke wat hulself kragtens die volkereg verdedig nie, maar gewese republieke met, daarom, gewapende bendes. Hy handhaaf die houding van mag is reg.

President Steyn antwoord op 15 Augustus 1901 'te velde'. Ten aanvang wys Steyn op die 'vrijbuiter' Jameson se staatsregtelik onwettige en mislukte inval in die ZAR in 1896 - 'n inval wat deur Rhodes, met die medewete van lede in die Britse Regering, georkestreer is. Daarna was dié Regering vasbeslote om die twee Republieke in te val en uit te wis. Lord Lansdowne erken dat hy oor die beste tyd hiervoor in Junie 1899 met Lord Wolseley, die destydse bevelvoerder van die Britse troepe in Suid-Afrika, gepraat het. Volgens Steyn het die Boere nie as die aggressors die swaard vir die ABO getrek nie, maar moes hulle die swaard wat hulle op die keel gelê is, wegstoot. Oorlog uit selfverdediging is 'een van de heiligste rechten van den mensch'. 'n Reg wat verbind word aan sy reg op bestaan. Daarom 'dat wij recht hebben op een rechtvaardigen God te vertrouwen'. Die Boere het tevergeefs gehoop dat die 'beschaafde wereld' hulle teen die misdade van die Britte in Suid-Afrika sal verset. Hulle is egter van voorneme om 'met vast vertrouwen op een genadige God onze uiterste krachten in te spannen om onzelven te verdedigen'. Marthinus Prinsloo, wat in Julie 1900 in die Brandwaterkom met 4000 man oorgegee het, het sy onvoorwaardelike oorgawe in 'n kort brief aan hoofkommandant C.R. de Wet met 'n enkele sin gemotiveer: 'die groot oormag van vyand' (brief in De Wet 1959:101) - 'n brief wat kort en kragtig sy onverskilligheid oor die saak illustreer.

Behalwe dat die Britse oormag nog altyd 'n faktor was en die Republieke desnieteenstaande met die oorlog begin het, is die toestand van nou en 'n jaar gelede volgens Steyn onvergelykbaar. Sake lyk tans baie beter vir die Boere. In die Kaapkolonie is groot gebiede 'tijdelijk' in besit van Boerekommando's. Daar sluit van 'onze stamverwanten' gedurig by hulle aan. Uitgesonderd die hoofstad, die dorpe aan die spoorlyn en enkele ander dorpe, is die Vrystaat in Boerebesit. Hulle handhaaf wet en orde deur hul eie magistrate. Dieselfde situasie bestaan in die ZAR. Kitchener se 'jurisdictie strekt slechts zoo ver als UEx kanonnen kunnen bereiken'. Uit 'n militêre oogpunt en teen die argument van Prinsloo van 'n oormag, het die Boereweerstand die afgelope jaar 'verbazend vooruitgegaan'. Van hopeloosheid is daar nie sprake nie. Kitchener se proklamasie dra minder gewig as wat dit 'n jaar gelede sou kon dra. Steyn erken dat daar krygsgevangenes, Hensoppers en Joiners is - die getal oorlopers het egter skerp afgeneem - maar die 'oorgroote meerderheid van de strijdende burgers' is onder die wapen. Britse aanvalle op vroue en kinders, die lyding van sy mense en 'ons geloof in een rechtvaardigen God' is faktore wat die Boere aanspoor. Oorgawe nou sal lei tot selfveragting.

 

Die bittereinder bly homself getrou

In Februarie en Maart 1901 onderhandel die ZAR se bevelvoerder en die opvolger van Generaal Joubert, Generaal Louis Botha, op eie houtjie met Lord Kitchener oor vrede, sonder om die Rep van OVS te verwittig. Hy verontagsaam dus die ooreenkoms tussen die Republieke wat so iets verhoed. Kitchener se weiering om die twee Republieke se onafhanklikheid te waarborg, laat die inisiatief skipbreuk lei. Toe Steyn en De Wet hiervan hoor, versterk dit hulle wantroue in die standvastigheid van hulle oorvaalse bondgenote (Van Schoor 2009:245-246).

Op 15 April 1901 moet Steyn weer vergadering hou met mismoedige Transvaalse Regeringslede wat die ABO wil 'opgeven'. Weer kom hulle ooreen om die oorlog voort te sit. Tot Steyn se groot verbasing besluit dieselfde Regering op 08 Mei om met President Kruger in Europa oor die voortsetting van die oorlog te gaan beraadslaag. Kitchener weier egter om aan hulle meer as 'n kodetelegram toe te staan. Staatsekretaris Reitz se brief wat die besluit vergesel, is 'n teleurstelling vir President Steyn. Volgens hom het niks ná April verander om die ZAR van besluit te laat verander nie. Die 'regering vir wie ons die wapen opgeneem het, [wil] ons in die steek laat'. Hy is daarvan oortuig dat die stryd voortgesit moet word. Al moet die Rep van OVS saamwerk met mense soos De la Rey, Beyers en Muller wat van hulle Regering verskil. Die vooruitsigte nou verskil nie wesenlik van toe die Republieke die oorlog teen die Britte begin het nie. Hulle het toe op God vertrou; waarom nie nou nie? Moenie dat 'ons' vertroue op die God van 'ons' vaders 'n bespotting word nie. Die ZAR mag die Rep van OVS wat sy goed, bloed en vryheid vir sy susterrepubliek op die spel plaas, nie in die steek laat nie. Hy mag die koloniale Afrikaners wat vir hom veg, nie vir die wolwe gooi nie. As die twee Republieke nou oorgee, sal dit volksmoord wees. Die lyding en stryd van die verlede was nie tevergeefs nie.

Kruger reageer per telegram uit Europa waarin hy daarop staan dat die stryd voortgesit word. Na 'n ontmoeting tussen Steyn en die ZAR-regering op 22 Junie 1901 naby Standerton, kom laasgenoemde weer aan boord (Van Schoor 2009:246-250).

In September 1901 laat weet waarnemende President Burger uit die ZAR vir Steyn van verslegtende omstandighede in die ZAR wat hulle noop om vir vrede te onderhandel. Steyn se reaksie is dat daar gewag moet word op die Britse Parlement wat oor geld vir die oorlog moet stem. 'n Oorlog waarvoor die Britse volk volgens berigte moeg is. 'n Soortgelyke versoek van Burger in Januarie 1902 en Steyn se negatiewe reaksie daarop laat die inisiatief vir toekomstige onderhandelinge - volgens afspraak - in laasgenoemde se hande (Pakenham 1979:586).

Die ZAR sou egter opnuut sonder die Rep van OVS in Maart en April 1902 met Kitchener oor vrede begin onderhandel. President Steyn word met sake gekonfronteer waartoe hy nie die inisiatief geneem het nie en waarvan hy nie kennis dra nie. Hoewel hy nie die ABO wil beëindig nie, besluit hy en die Rep van OVS om saam met die ZAR aan die onderhandelinge deel te neem; 'n proses wat eventueel uitloop op die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 (Van Schoor 2009:251).

By die beraad van die verteenwoordigers van die twee Republieke vanaf 15 Mei 1902 te Vereeniging oor vrede, verhoed Steyn se verslegtende gesondheid dat hy meer as twee sittings bywoon. Omdat hyself buite aksie is, voel hy ongeneë om daarop aan te dring dat die oorlog voortgesit word. Ná sy bedanking as president van die Rep van OVS, verlaat hy die beraad op 30 Mei 1902 om in Krugersdorp behandeling te ontvang. Hy versoek sy opvolger en die waarnemende president van die Vrystaat, Generaal C.R. De Wet, om te streef na Afrikaner-eenheid oor die ABO. Daarmee laat hy ruimte vir vrede, maar sy siekte verhoed dat Steyn self die onafhanklikheid van die Rep van OVS met die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 by Melrosehuis in Pretoria afteken (SABW II 1972:732). Só neem die Here in Sy voorsienigheid die besluit oor die einde van die bittereinde uit die hande van Steyn. Hy moes in God se voorsienige wil berus.

 

Die bittereinde?

President Steyn kon weens 'n ernstige ongesteldheid nie saam met die verteenwoordigers van die Rep van OVS en ZAR by Vereeniging daaroor besluit nie, maar was die twee Republieke in Mei 1902 by die einde van die ABO?

In die verduideliking van sy redes om 'n bittereinder te wees, gee Steyn 'n aanduiding van maatstawwe vir die bittereinde. Vir hom is die ABO uit onreg gebore en afgeforseer op die ZAR en Rep van OVS - onafhanklike state binne die wil van die voorsienige God. Die oorlog is geïnisieer deur 'n imperialistiese Brittanje wat die einde wou sien van die Republieke én die Afrikaner. Die 'Afrikandergeest' opponeer Brits-imperialisme en is vir hom 'n struikelblok in Afrika. Hierdie redes was genoeg vir Steyn om sy burgers in 1899 te vra om te stry tot die 'bitter einde'. 'n Bittereinde wat sin maak omdat die saak - die reg van state en Afrikaner-selfrespek - waarvoor gestry word, sin maak. Boonop was daar 'n sterk opinie in Europa dat die twee republieke 'n goeie saak het en dat leiers soos Steyn, Kruger, De la Rey en De Wet die helde van die ABO is. Daarmee is ten minste een mikpunt van Steyn as 'n bittereinder bereik: die Afrikaner - in die oë van Europa - kon met selfrespek uit die ABO tree (Strauss 2015:46).

Dieselfde rede - selfrespek - het Steyn en Kestell teen die einde van die ABO oortuig dat 'n neerlaag van die ZAR en Rep van OVS in die ABO nie die gees van die Afrikaner en die Afrikaner self sal uitwis nie. Uit die nasionale ontwaking van die Afrikaner ná die oorlog (Van Schoor 1992:141) sou spreuke op monumente verskyn soos 'Uw wil geschiede', 'Gewond maar onoorwonne' 'Voor vryheid, volk en vaderland' (Van Schoor 1993:2vv; Strauss sa:4). In dieselfde gees op dieselfde spoor sou die geestelike erfgename van die bittereinders in 1961 met 'n nuwe Republiek van Suid-Afrika kom.

Op Kitchener se verbasing by die vredesamesprekings in 1902 dat Steyn steeds na die onafhanklikheid van die ZAR en Rep van OVS vra, antwoord die Vrystaatse President dat sy 'volk' nie sy 'selfrespek' moet verloor en in die oë van die Britte verneder moet voel nie (Kestell & Van Velden 1982:42). Daarom Steyn se onwilligheid gedurende die ABO om vrede by die Engelse met die Engelse te soek. Sy volharding in die belofte van die Vrystaat aan Transvaal in 1897 sou deur die wêreld agting ontlok. Uit die ABO sou Steyn - volgens Kestell - as 'n held tree.17

Die besluit van die Boere te Vereeniging om die Britse vredesvoorstelle te aanvaar, is ná 'n lang intense bespreking met 54 stemme teenoor 6 geneem. Vir die Republieke en die groot meerderheid van hulle afgevaardigdes was die bittereinde van die ABO daar (Kestell en Van Velden 1982:171). Selfs bittereinder De la Rey was oortuig dat 'n eervolle einde vir die ABO aangebreek het. Vir hom moes dit gaan om 'Laat U wil geskied' en nie 'my wil om 'n oorwinnaar te wees nie' (Kestell & Van Velden 1982:136).

Soos Steyn het De la Rey sy geloof in die voorsienige God bely.

 

Slotsom

Natuurlik skep 'n etiese beoordeling van President M.T. Steyn se bittereinderstandpunt in die ABO - vir sover dit die Republieke van die Oranje-Vrystaat en Transvaal (die Zuid-Afrikaansche Republiek) betref - die geleentheid tot argumente daarvoor en daarteen. Sulke argumente word meer as 'n eeu na afloop van die oorlog steeds gehoor.

Vir Steyn het dit in die ABO gegaan om die behoud van die selfrespek van die Afrikaner, 'n respek wat ook by nie-Afrikaners waarneembaar moes wees, én om sy stryd om politieke onafhanklikheid deur die ABO, wat volkeregtelik verantwoord is. Hy het die soort Britse imperialisme wat tot die ABO gelei het (breedweg die idee van mag is reg) verfoei. As 'n kind van die geestes- en nasionaal-kulturele klimaat onder Afrikaners in die negentiende eeu moes die Boere-republieke, wat hom betref, stry vir dit wat reg is en vir die reg van Afrikaners om 'n eie kultuurgroep in die wêreld te wees. Steyn en medestanders soos Kestell het mettertyd egter besef dat politieke onafhanklikheid nie die enigste faktor is waaronder Afrikaner-nasionalisme sal oorleef nie. 'n Neerlaag in die ABO sou nie tot die uitwissing van die Afrikaner lei nie. Inteendeel, uit die kleiner burgermag van die twee Republieke - teenoor die Britse oormag - sou die wêreldwyd aanvaarde helde van die ABO tree. Daarby sou die bittereinders ná die ABO die pas onder Afrikaners in die twintigste-eeuse politiek van Suid-Afrika aangee. Uit 'n etiese hoek was die reg immers aan hulle kant.

Die fisiese en politieke verliese gely in en deur die twee Boere-republieke in die ABO was groot en omvangryk. Geestelik-kultureel het die oorlog die Afrikaner egter tot nuwe hoogtes gevoer. Was die prys wat daarvoor betaal is te hoog? Nie wat Steyn - die sogenaamde held van die vryheidstryd onder die burgers, die vroue en die kinders - betref nie. Die Vrede van Vereeniging van 31 Mei 1902 is deur ernstige liggaamlike kwale uit die hande van Steyn geneem. Hy, wat 'n sterk belyde geloof in die voorsienigheid van God gehad het, moes erken: die mens wik, maar God beskik in Sy voorsienigheid.

Die kernsin op die Vrouemonument, soos aangebring onder leiding van President Steyn as die een wat die inisiatief vir die oprigting daarvan geneem het, lui gepas: 'Uw wil geschiede ' (Van Schoor 1993:2).

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Blake, A., 2011, Boereverraaier. Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Breytenbach, J.H., 1978, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902. Deel I, Staatsdrukker (2e druk), Pretoria.         [ Links ]

Breytenbach, J.H., 1983, Die geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika 1899-1902. Deel V, Staatsdrukker, Pretoria.         [ Links ]

De Wet, C.R., 1959, Die stryd tussen Boer en Brit, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Grundlingh, A.M., 1979, Die Hensoppers en Joiners, HAUM, Kaapstad.         [ Links ]

Kemp, J.C.G., 1946, Vir vryheid en reg, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Kestell, J.D., 1920, Christiaan de Wet. 'n Lewensbeskrywing, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Kestell, J.D. & Van Velden, D.E., 1982, Die vredesonderhandelinge, Human en Rouseau, Kaapstad.         [ Links ]

Loe, E., 1985, To the bitter end, Butler & Tanner, London.         [ Links ]

Meintjes, J., 1969, President Steyn, Nasionale Boekhandel, Kaapstad.         [ Links ]

Oberholster, J.J. & Van Schoor, M.C.E. sa. President Steyn aan die woord, Sacum, Bloemfontein.         [ Links ]

OVS Volksraadsnotules, 1899, Pretoria, 21-27 September.         [ Links ]

Pakenham, T., 1979, The Boer War, Jonathan Ball, Johannesburg.         [ Links ]

Pakenham, T., 1981, Die Boere-oorlog, Jonathan Ball, (Afrikaanse vertaling deur Leon Rousseau), Johannesburg.         [ Links ]

Pretorius, F., 1998, Die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, Struik, Kaapstad.         [ Links ]

Pretorius, F. (red.), 2001, Verskroeide aarde, Human & Rousseau, Kaapstad.         [ Links ]

Raath, A.W.G., 2012, Onthou, Kraal, Brandfort.         [ Links ]

Reynolds, C., 2013, Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, FAK, Brandfort.         [ Links ]

Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek (SABW) II, 1972, Tafelberg/RGN, Kaapstad.         [ Links ]

Schoeman, K., 1983, In liefde en trou, Human & Rousseau, Kaapstad.         [ Links ]

Scholtz, G.D., 1998, Die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902, Protea, Pretoria.         [ Links ]

Scholtz, L. v R., 2008, 'Anglo-Boereoorlog', in F. Gaum (eds.), Christelike Ensiklopedie, bl. 45-46, BM, Wellington.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1994, Geloftedag in die 'nuwe' Suid-Afrika, Drufoma, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1996, 'Aantekeninge oor lewensbeskoulike aspekte in die openbare standpunte van president MT 18896-1902', Ned Geref Teologiese Tydskrif xxxvii, 558-571.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2014, 'Vroue se triomferende martelaarskap', Volksblad, 14 Januarie, bl. 7.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis. 1652-2011, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J. sa. Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonument geweeg, Drufoma, Bloemfontein.         [ Links ]

Van der Merwe, N.J., 1921a, Marthinus Theunis Steyn I, Naionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Van der Merwe, N.J., 1921b, Marthinus Theunis Steyn II, Nasionale Pers, Kaapstad.         [ Links ]

Van Niekerk, C.A., 1954, 'Voorwoord', in M.C.E. Van Schoor, et al. Christiaan Rudolph de Wet 1854-1922, Nasionale Vrouemonumentkommssie, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., 1992, John Daniel Kestell 1854-1941, Oorlogsmuseum, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., 1993, Die Nasionale Vrouemonument, Oorlogsmuseum, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., 1997, 'n Bittereinder aan die woord, Oorlogsmuseum, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., 2009, Marthinus Theunis Steyn - Regsman, staatsman en volksman, Protea, Pretoria.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., Malan, S.I. & Oberholzer, J.J., 1954, Christiaan Rudolph de Wet 1854-1922, Nasionale Vrouemonumentkommissie, Bloemfontein.         [ Links ]

Wessels, F.J.H., 1977, 'Ongeloof en wêreldgebeure', in D.F.M. Strauss (ed.), Woord en Wetenskap, VCHO, Bloemfontein.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 23 July 2018
Accepted: 13 Nov. 2018
Published: 21 Feb. 2019

 

 

1 . Van der Merwe, die biograaf en skoonseun van President Steyn, stel dit dat Steyn 'onverbiddelik in sy besluit was om tot die bittere einde toe te veg' en dat hy by meer as een geleentheid veroorsaak het dat die stryd met nuwe moed en 'erns voortgesit' is (Van der Merwe 1921b:33).
2 . Vier bronne in die bibliografie van hierdie artikel, naamlik die OVS Volksraadsnotule van 1899; Van der Merwe 1 en 11 1921; Oberholzer en Van Schoor sa; en Van Schoor 1997, gee Steyntoesprake woord vir woord gedruk of verbatim aan lesers weer. Die Volksraadsnotule is 'n amptelik-erkende weergawe van gebeure in die destydse Volksraad van die Rep van OVS tot en met die uitbreek van die ABO in Oktober 1899. Die historiese bruikbaarheid van Van der Merwe se tweeledige biografie oor President M.T. Steyn lê daarin dat Van der Merwe vir sy werk sekere primêre bronne by mev. Rachel Steyn in haar persoonlike besit gekry het. Van der Merwe skryf ná die President se dood in November 1916 en publiseer in 1921. Kopieë van sommige van die President se toesprake word afgedruk in hierdie werk én Van der Merwe kon sommige hoofstukke inwerk as President Steyn se eie verhaal soos gedikteer aan mev. Steyn. Daarom dat hierdie hoofstukke in die eerste persoon - President Steyn - geskryf en waarskynlik deur hom gekontroleer is. Die diktaat kom uit 1912 toe President Steyn as gevolg van 'n spierverlamming nie 'n pen kon hanteer nie. Volgens Van der Merwe wou hy die werklike, eie woorde van sy rolspelers gebruik om so 'objektief' moontlik te wees. Daarom het hy - in sy eie woorde - die ipsissima verba van die redes en vertellings van die President self weergegee (Van der Merwe 1921a:i-iii). Beide Oberholzer en Van Schoor, in hulle gesamentlike publikasie sonder die jaar van uitgawe en Van Schoor in sy publikasie van 1997, trag om Steyntoesprake verbatim uit geloofwaardige bronne weer te gee. Waar hierdie bronne saamstem, versterk dit die moontlikheid van 'n geloofwaardige aanbieding van Steyn se woorde.
3 . In sy werk oor Die Hensoppers en Joiners (1979), wys Grundlingh daarop dat sekere 'vooraanstaande' inwoners van Bloemfontein soos J.G. Fraser, 'n lid van die Volksraad, B.O. Kellner, burgemeester, Landdros H.F.D. Papenfus en Balju Raaff by die inname van Bloemfontein op 13 Maart 1900 vir die Britse bevelhebber, Lord Roberts, tegemoet gery het om die sleutels van die stadsaal as 'n blyk van die stad se volle oorgawe aan hom te oorhandig. Fraser het homself aan die Britse gesag onderwerp omdat hy uit die staanspoor daarvan oortuig was dat die Republieke 'n 'hopelose' stryd teen die magtige Brittanje aangeknoop het. Hy sou Steyn ten minste op dié punt ondersteun dat die Republieke se aandeel aan die ABO nie 'n 'ligvaardige' saak was nie. So seker was hy van 'n neerlaag vir die Republieke dat hy, 'n presidentskandidaat teen Steyn in 1896, hier aan die begin van die ABO, landsverraad teenoor sy regering pleeg (Grundlingh 1979:12). Daarby het hy as 'n Engelssprekende inwoner van die Vrystaat die moontlike uitkoms van die ABO bloot militêr bereken en geen begrip getoon vir die trots op die Rep van OVS, die eerste landseun wat president geword het en Afrikaners in hierdie Republiek om nie stert tussen die bene te kruip voor die bedreigende imperialisme van Brittanje in Suider-Afrika nie. Die Britse norm van 'mag is reg' in sy hantering van die twee Republieke het Fraser nie - saam met Steyn en sy mede-burgers - tot verset aangespoor nie. Fraser sou ná die ABO waarskynlik ook nie kon verstaan waarom Steyn na die triomferende martelaarskap van duisende lydende vroue en kinders in die konsentrasiekampe of hulle geestelike oorwinning oor onreg, verwys nie (vgl. Strauss sa:8; en voetnota 7).
4 . Vgl. Loe se soortgelyke opmerking op 1985:26: 'The Great Trek had created the Boer nation; the war was about to destroy it'. President Steyn was daarvan oortuig dat die oorwinning van die 'Afrikander partij' of Afrikanerbond in die Kaapse verkiesing vir die imperialiste 'n naald in die oog was en dat die bestaan van die twee noordelike republieke die oorwinning bevorder het (Van der Merwe 1921a:253).
5 . In Mei 1900 telegrafeer President Steyn aan President Paul Kruger dat hy vrede met die Engelse verkry op 'n lafhartige wyse afwys omdat die twee Republieke die stryd 'in den naam des Heren hebben begonnen' (Van Schoor 2009:243).
6 . Schoeman verwys na 'n seun van President Steyn se voorganger, President F.W. Reitz, wat President Steyn met 'n 'sekere terughoudendheid beskryf as "a burly, heavily bearded man, not brilliant, but possessed of a dogged courage"' (Schoeman 1983:17). Die 'dogged courage' klink ten minste in die kol.
7 . Vgl. die fases van die ABO uitgebeeld by die Nasionale Vrouemonument met die beeld van die Bittereinder verteenwoordigend van die laaste fase (Van Schoor 1993:25).
8 . Vgl. voetnota 3 vir 'n meer volledige verduideliking.
9 . By die begrafnis van De Wet in 1922, verwoord Ds P.S. van Heerden, die moderator van die Vrystaatse Ned Geref Kerk, hierdie gedagte só: 'Die oortuiging dat sy weg die eervolle weg was en sy saak regverdig, het hom besiel met moed wat geen moeilikheid gesien het en wat oor elke hinderpaal geseëvier het' (Van Schoor, Malan & Oberholzer 1954:160).
10 . Pakenham merk ironies op dat Afrika hom later op Milner as ideologies-gedrewe, strydlistige Britse imperialis sou wreek. Tydens 'n herinneringsbesoek aan Suid-Afrika in 1924 word hy deur 'n tsetsevlieg gebyt, kry hy slaapsiekte en beswyk hy (Pakenham 1981:601).
11 . Loe verwys na die opening van die Nasionale Vrouemonument op 16 Desember 1913, 'n monument waarvan President Steyn die onteenseglike vader en inisieerder was (Strauss sa:6), as 'n geleentheid wat die openbare mening van Afrikaners ten gunste van die 'hard-liners' (bittereinders) beïnvloed het (Loe 1985:209).
12 . Vir iemand wat President Steyn sy vriend, geesgenoot, mentor en 'beminnelijken en volhardende president' (bittereinder van die bittereinders) noem, het die ABO, volgens J.D. Kestell, gesorg vir 'n geestelike en sosio-politieke ontwaking onder Afrikaners. In Augustus 1902 skryf Kestell aan Nico Hofmeyr 'The armies of England have overthrown us by force, but the Afrikander spirit lives!' (Van Schoor 1992:141). As 'n buitestaander kom Loe tot die gevolgtekking dat 'the events of the Boer War had guaranteed that Afrikaner nationalism would survive' (Loe 1985:210).
13 . President Steyn haal die paramount-begrip waarskynlik uit toesprake van die Britse imperialis en minister van Kolonies, Joseph Chamberlain (Breytenbach 1978:112-113). Pakenham toon met verwysings aan dat Chamberlain Jameson bewustelik gesteun het met sy inval van die ZAR in 1895 (Pakenham 1979:28-30).
14 . Die ZAR sou eventueel afkom na stemreg vir Uitlanders ná 'n inwoning van 5 jaar (Van Schoor 1997:153).
15 . Steyn sou tot die uitbreek van die ABO in die Westerse wêreld hulp soek (langs vreedsame weg) om 'n oorlog te vermy (Van Schoor 2009:240). Die mislukking hiervan sou sy mening onderstreep dat buitelandse hulp teen Brittanje buite die kwessie was.
16 . Steyn verwys in 1900 na die internasionale reg en traktate of ooreenkomste soos die Geneefse Konvensie met sy 'beschaafde oorlogsrecht' wat deur die 'groot' moonthede gehandhaaf moet word, maar deur Brittanje geïgnoreer en verbreek word (Van Schoor 1997:196).
17 . Kestell noem Steyn se geestelike krag, vergesigte oor die toekoms van die Afrikaner en insig in nasionale kwessies 'verbluffend' (Van Schoor 1992:342).

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons