SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.74 issue4Unification and peace: How were the German churches involved in the search for unity to overcome conflicts of the last decades of the last century?Eastern Orthodox Churches and Ecumenism according to the Holy Pan-Orthodox Council of Crete (2016) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.74 n.4 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v74i4.5034 

ORIGINAL RESEARCH

 

Wolfhart Pannenberg se ekumeniese bydrae tot die debat oor kerkeenheid en die regverdigingsleer

 

 

Ignatius W.C. van Wyk

Department Church History and Church Polity, Faculty of Theology and Religion, University of Pretoria

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Wolfhart Pannenberg would have been 90 years old in 2018. This article is a tribute to his excellent contribution to the ecumenical debate on church unity and the importance to reach an agreement on the doctrine of justification. The first step is to explain Pannenberg's Lutheran understanding of church unity. Secondly, Pannenberg's contribution to mobilise understanding for the ecumenical efforts in coming to an agreement on the doctrine of justification is discussed. His efforts in convincing theologians that one cannot work towards church unity while churches continue to condemn one another for having different views on doctrinal matters, receive special attention. Pannenberg's effort to convince his colleagues that one should approach these sensitive ecumenical matters from the perspective of present-day historical-critical thinking is also mentioned. The article concludes with a judgement on his approach and his success in these matters.


 

 

Inleiding

Wolfhart Pannenberg (1928-2014) sou 90 jaar oud geword het op 02 Oktober 2018. Die jonger Pannenberg het in Suid-Afrika heelwat aandag geniet terwyl die ouer Pannenberg nog baie min, indien enige aandag binne die land geniet het. Wentzel van Huyssteen van die Universiteit van Princeton, word hier buite rekening gelaat. Ek vermoed hy is die enigste Afrikaanssprekende met 'n lewenslange verbintenis met Pannenberg. As student het ek Pannenberg ywerig bestudeer. Ek voel verplig om hom te vereer met 'n bydrae oor sy ekumeniese arbeid as ouer teoloog.

Pannenberg was een van die leidinggewende Duitse ekumeniese teoloë. As lid van die 'Geloof en Orde Kommissie' (Faith and Order Commission) van die Wêreldraad van Kerke1 en as verteenwoordiger van die Raad van die Evangeliese Kerk in Duitsland, het hy 'n invloedryke rol gespeel in die talle ekumeniese gesprekke tussen Lutherse en Rooms-Katolieke teoloë. Hy was direk betrokke by gesprekke oor die sakramente en die ampte, asook die verstaan van die Skrif. Sy belangrikste insette was egter by debatte oor die regverdigingsleer. Hierdie artikel konsentreer daarom op sy bydrae tot die poging om ekumeniese konsensus te bereik oor die regverdigingsleer. Ek (Van Wyk 2001) het 17 jaar gelede iets oor die 'Gemeenskaplike Verklaring oor die Regverdigingsleer' geskryf, sonder om die fyn nuanseverskille tussen die Duitsers te begryp. Trouens, ek meen dat die heftige kritiek op die ekumeniese ooreenkomste ook met 'n gebrek aan die noukeurige lees van die tekste te make gehad het. Met die aandagtige deurlees van Pannenberg se voordragte en artikels, besef 'n mens dat emosies dalk hier en daar die oorhand oor presiese, versigtige formulerings gekry het.

 

Die regverdigingsleer binne Pannenberg se verstaan van die eenheid van die kerk

Talle van Pannenberg (2000) se voordragte en artikels gedurende die tagtiger- en negentigerjare oor ekumeniese vraagstukke is saamgebundel in band 3 van sy reeks van drie boeke, 'Bydraes tot Sistematiese Teologie', onder die titel, 'Kerk en Ekumene'.2 Die seleksie van bydraes wat Pannenberg hier byeengebring het, gee 'n goeie aanduiding van sy denke oor die eenheid van die kerk en aanverwante temas. In hierdie artikel word slegs gekonsentreer op sy verstaan van kerklike eenheid en die rol wat konsensus oor die regverdigingsleer hierin kan speel.

Kerklike eenheid

Pannenberg was 'n Lutherse teoloog. Vanselfsprekend het hy vanuit 'n Lutherse perspektief na die kerk en kerklike eenheid gekyk. Hy ([1986] 2000m:160) herinner daaraan dat Luther ([1522] 1910:140; WA 10 I/1, 140, 8) in 'n Kersfeespreek in 1522 gesê het: 'Wie Christus wil vind, moet eers die kerk vind'. Onder 'kerk' verstaan Luther nie net die plaaslike gemeente nie, maar ook die ganse kerk oor die hele aarde. Alreeds in 1520 het hy in 'n kort uitleg van die Onse Vader ([1520] 1897; WA 7, 219, 1-4) gesê:

Ek glo dat daar op aarde, en so wyd die wêreld is, nie méér as een heilige, algemene Christelike kerk is nie en niemand salig kan word wat nie aan hierdie kerk behoort nie, [en] die eenheid van die geloof, Woord, sakrament, hoop en liefde bewaar nie. (bl. 219)

Volgens Luther3 staan die kerk onder die leiding van 'n herder, en dit is die predikant(e) se verantwoordelikheid om toe te sien dat die band van eenheid onder die lidmate bewaar word. Hierdie eenheidsband word sigbaar in die handhawing van die gemeenskaplike belydenis van die kerk.4 Die logiese afleiding is dat die predikante (in hulle vergaderings en funksies) daarom moet toesien dat daar eenheid in belydenis en kerklike leer sal wees. In die lig hiervan is 'n voortgaande soeke na konsensus oor die regverdigingsleer van kardinale belang. Die ekumeniese opgawe om eenheid in die leer te bewerk, is daarom 'n kerklike plig. Pannenberg ([1986] 2000m:167) was optimisties dat konsensus gevind kon word, aangesien hy daaraan herinner het dat Luther van mening was dat die kerk as geheel nie kan dwaal nie - slegs gedeeltes van die kerk kan dwaal wanneer daar van die Woord afgewyk word.5 Konsensus moet gewoon ontdek word.

Pannenberg ([1975] 2000l:173-174; [1986] 2000m:171-172) se ekumeniese ywer het te make gehad met sy aanvaarding dat die Reformasie die (onbeplande) oorsaak was vir die kulturele en godsdienstige verdelings in Europa. Luther wou nooit die kerk verdeel nie, maar die konsekwensies van die Reformasie het daartoe gelei. Lutherse teoloë het daarom die plig om alles moontlik te doen om die kerklike verdeeldheid te oorkom binne die kultuur van sekularisme. Groter kerklike eenheid met die Rooms-Katolieke Kerk is ook moontlik, aangesien hierdie Kerk nie meer die mismaaksel van die 16de eeu is nie. Om die Reformasie te verheerlik, sonder om die plig te aanvaar om die wonde van die verlede te genees, is vir Pannenberg nie aanvaarbaar nie.

Pannenberg ([1996] 2000c:264-267) argumenteer merkwaardig genoeg dat Martin Luther as die 'vader in die geloof' deur die onderskeie konfessionele groeperinge beskou kan word. Om hierdie stelling te begrond, verwys hy na Luther se verstaan van die Christelike vryheid. Indien teoloë uit beide die Lutherse en die Rooms-Katolieke Kerk die konsekwensies wat uit Luther se uitleg van die Christelike vryheid voortgespruit het, aanvaar, dan sal daar 'n goeie kans wees dat daar 'n nuwe gees van eensgesindheid kan ontstaan. Die konsekwensie van Luther se vryheidsverstaan was die ontwikkeling van die toleransie-gedagte. Die idee van godsdienstige toleransie het veral in 1572 gestalte gekry met die vrede tussen Willem van Oranje en die kontra-Reformatoriese Spaanse heerser. Toleransie impliseer geduld met ander gestaltes van die Christelike geloof. Die geduld met pluralisme binne die Christendom is die lewenshouding wat eenheid in die kerk van Christus kan bevorder. Luther, wat vir die kerkskeuring verantwoordelik was, kan daarom tog ook die stimulus wees vir die vordering met kerkeenheid.6

Die strategie om konsensus te bereik oor die regverdigingsleer

Pannenberg ([1975] 2000l:178-185) was een van die eerste Protestantse teoloë wat daarop gewys het dat die verskille met die Rooms-Katolieke Kerk in sake die regverdigingsleer eintlik nie meer bestaan nie. Op grond van hierdie waarneming was hy positief oor groter eenheid tussen die kerke. Sedert 1968 was daar entoesiasme vir kerkeenheid aangesien die Roomse Kerk die uitspraak gemaak het dat kerklike eenheid ''n teken en werktuig vir eenheid onder die mensdom - 'n sacramentum unitatis' kan wees. Die Wêreldraad vir Kerke het in sy vergadering in Uppsala in 1968 min of meer dieselfde uitspraak gemaak. Die gedagte was dat eenheid onder kerke 'n eksemplariese voorbeeld vir die strydende volke van die wêreld kon wees. Wat in die sewentigerjare nog uitstaande was, was 'n amptelike standpunt deur die Roomse Kerk oor die regverdigingsleer wat nie veroordelend teenoor die Lutherse posisie sou wees nie.

Om die Rooms-Katolieke Kerk oor te haal om amptelike uitsprake oor leeraangeleenthede te maak wat onder debat staan, is nie maklik nie. Pannenberg se strategie in die onderhandelingsproses was om die edele 'prinsiep van die Protestantisme' in die ekumeniese onderhandeling te stel, in die hoop dat die Roomse kollegas ook hierdie 'prinsiep' sal aanvaar, sodat daar vordering kan kom. Binne die Protestantisme is die Skrif nog altyd as ons belangrikste prinsiep (primum principium nostrum) beskou. Pannenberg ([1991] 2000a:189-191) meen egter dat dit in samehang met 'n ander prinsiep verstaan moet word, naamlik die 'vryheid in geloof'. Die vryheid van eksegese - die vryheid om die Skrif te bestudeer sonder die dwang van amptelike leeruitsprake - kan die ruimte vir Roomse teoloë en lidmate skep om in konsensus met hulle Protestantse broers en susters die Nuwe-Testamentiese boodskap in vryheid nuut te ontdek. Sou die Roomse Kerk nie amptelik saam beweeg nie, sou die teoloë en die lidmate minstens aanbeweeg na groter begrip en samewerking. Vir Pannenberg ([1989] 2000h:234) was organisatoriese, regsgeldige strukture nie 'n voorwaarde vir kerklike eenheid nie. Wat minstens opgehef moes word, was die ou leerveroordelings. Wanneer mense mekaar nie meer ekskommunikeer nie, kan daar 'n nuwe gees van samewerking en samehorigheid ontstaan.

Pannenberg het al vroeg in die debat oor 'n moontlike konsensus oor die regverdigingsleer besef dat daar aangedui moet word dat Luther en die Roomse skolastiek nie só ver van mekaar verwyderd was as wat nog altyd vermoed is nie. Hy (Pannenberg [1978] 2000b) het daarom probeer aantoon dat Luther, wat in Erfurt binne die Ockhamistiese tradisie opgelei is, nie in alle opsigte radikaal van Ockham en sy geesgenoot, Duns Scotus, verskil nie. Hy toon aan dat Luther se 'imputatiewe regverdigingsleer' en Scotus se 'akseptasieleer' nie radikale teenpole is nie, aangesien beide gedagtegange by albei geleerdes voorkom. Luther het egter 'n nuwe insig ontdek waartoe Roomse teoloë instemming behoort te toon. Beide Luther en Scotus betoog dat sondevergewing - óf noukeuriger gestel, die nie-toerekening van die sonde - identies is met die toekenning (imputatio) van geregtigheid, wat neerkom op die beoordeling (reputatio) van die mens as 'n regverdige wese. Wat Scotus egter nie ingesien het nie, is dat die geregtigheid van God in Christus 'n 'vreemde geregtigheid' is wat nie filosofies bereken kan word nie (Pannenberg [1978] 2000b:274).

Die ooreenkomste oor die regverdigingsleer

'Die Gemeenskaplike Verklaring oor die Regverdigingsleer' van 31 Oktober 19997 (saamgestel deur die Lutherse Wêreldbond en die Pouslike Raad vir die Bevordering van Eenheid onder Christene)8 het nie ewe skielik uit die lug geval nie. 'n Proses van ekumeniese debatvoering van 32 jaar het hierdie verklaring voorafgegaan.9 In 1967 het die Rooms-Katolieke Kerk en die Lutherse Wêreldbond 'n studiekommissie aangestel om die moontlikhede te ondersoek om tot 'n konsensus te kom in sake die regverdigingsleer. In 1973 het hierdie Kommissie 'n verslag onder die titel 'Die evangelie en die kerk' vrygestel. Hierdie verslag is ook bekend as die 'Malta-verklaring'. Volgens hierdie verslag bestaan daar vandag 'n 'wydreikende konsensus' oor die regverdigingsleer. Hierdie oordeel (Pannenberg ([1991] 2000f.) is soos volg begrond:

Ook die Katolieke teoloë argumenteer in die regverdigingsleer, dat die heilsgawe van God vir die gelowiges, aan geen menslike voorwaardes gekoppel is nie. Die Lutherse teoloë argumenteer dat die regverdigingsleer nie tot die individuele sondevergewing beperk is nie, en sien in hierdie gawe nie 'n suiwer uiterlik-blywende regverdigverklaring van die sondaar nie. (p. 275)

Die 'konsensus' berus dus op die gemeenskaplike aanvaarding dat die heilsgawe nie afhanklik is van goeie werke nie en dat regverdiging die regverdigmaking van die sondaar insluit. Daar is verder ooreengekom (Pannenberg [1991] 2000f:276) dat 'die geregtigheid van God teenoor die sondaar, wat danksy die Christusgebeure gerealiseer het, 'n werklikheid is wat hom algeheel omgewe, en op hierdie wyse 'n nuwe lewe begrond'. Met hierdie formulering is daar afstand gedoen van die Konsilie van Trente se gedagte dat regverdiging 'n 'proses van regverdigmaking' impliseer. Daar is ook afstand geneem van die Lutherse gedagte dat die 'sondaar in die omvattende werklikheid van God se geregtigheid ingetrek word'.

In 1986 word die studie 'Leerveroordelings - kerkskeurend?' gepubliseer, saamgestel deur die Duitse ekumeniese werksgemeenskap van Evangeliese10 en Katolieke teoloë. In hierdie studie is daar baie versigtiger geformuleer as in vorige dokumente. Die belangrike punt was dat daar gestel is dat, ten spyte van diepliggende leerverskille, kerklike leerveroordelings wat kerkskeurende gevolge het nie in alle gevalle geregverdig is nie. Die studie kom tot die gevolgtrekking dat daar nie 'n konsensus oor die regverdigingsleer bestaan nie. Daar is egter wel gestel dat die ekumeniese dialoog 'nie net in die fundamentele belydenis oor Jesus Christus nie, maar ook in sentrale temas van die Christelike leer, 'n hoë mate van wedersydse begrip ontwikkel het'. Hierdie wedersydse begrip is nie 'n basis vir kerkvereniging nie, maar wel vir voortgaande leergesprekke11 (Pannenberg ([1991] 2000f:277).

Verskillende reaksies op die ekumeniese ooreenkomste en Pannenberg se verweer

Die 'Malta-verklaring' was duidelik buite orde en Pannenberg het nie probeer om hierdie 'konsensus' te verdedig nie. Die 'Verslag van die Studiekommissie' was egter 'n ander saak. Daar is vanuit Lutherse kringe heftig teen hierdie 'verslag' uitgevaar12 (vgl. Hamm 1986). Pannenberg ([1991] 2000f:279) het egter daarop gewys dat die versigtige ekumeniese proses nie begryp is nie. Die kring van ekumeniese teoloë het nie die bedoeling gehad om 'leerkonsensus' te bereik nie, maar om onnodige 'leerveroordelings' te staak. Die staking van 'leerveroordelings' is die voorwaarde vir vordering in ekumeniese gesprekke. In plaas daarvan om 'maksimale konsensus' oor die regverdigingsleer te bereik, moet daar eerder 'n proses van 'bewerkstellende konsensus' in werking kom, waarvan die staking van leerveroordelings die eerste stap is. 'n 'Leerkonsensus' in terme van 'n gesamentlike verklaring is egter die doelwit waarna gestreef word. Pannenberg ([1991] 2000f:288) herinner albei konfessionele groeperinge dat hulle leermenings nie identies is met die heilswaarheid wat in Jesus Christus geopenbaar is, óf met die getuienisse van Paulus nie. Beide leermenings moet oop wees vir korreksies vanuit die Bybel. Om hierdie rede moet daar in ons tyd afstand gedoen word van maklike leerveroordelings. Die drang om ander se geloof en belydenis onder verdenking te bring, moet gestaak word. 'Ons is voor God geregverdig deur ons geloof alleen, nie deur ons onderskeie teologieë nie'.

Een jaar later het Pannenberg ([1992] 2000i) in 'n lang voorlesing in Göttingen weereens 'n poging aangewend om die Lutherse teoloë te oortuig dat die staking van wedersydse leerveroordelings die eerste stap is om gesamentlike ekumeniese eredienste, pastorale sorg vir konfessioneel-gemengde huwelikspare en gasvryheid by die Nagmaal moontlik te maak. Hierdie ideaal gaan terug na die pous, kardinaal Joseph Ratzinger, se eerste besoek aan Duitsland in 1980. Hy en biskop Eduard Lohse was die inisieerders van hierdie poging. Lohse was van mening dat die Rooms-Katolieke Kerk in haar teologie in só 'n mate vernuwe het, dat die ou leerveroordelings hierdie Kerk nie meer tref nie. Ratzinger was bereid om die leerveroordelings van die Konsilie van Trente te laat hersien. Hierdie twee kerkleiers het ''n ekumeniese werksgemeenskap van Roomse en Lutherse teoloë' aangestel wat hierdie saak moes ondersoek. Die apologeet Pannenberg ([1992] 2000i:318-319) verduidelik aan 'n vyandige gehoor13 die ses hermeneutiese probleme waarmee die werksgemeenskap moes worstel: (1) om die onderskeie leerveroordelings te verduidelik en te verklaar hoe die opstellers dit verstaan het; (2) die teologie onderliggend aan die veroordeling te verduidelik; (3) hoe die veroordeelde leer verstaan is, en hoe daartoe gekom is om dit te veroordeel; (4) om te verklaar of die beskuldigde party begryp het waarom daar tot 'n leerveroordeling gekom is; (5) om te ondersoek of die veroordeling saaklik was al dan nie; (6) en om te verduidelik hoe daar vandag oor die stryde van die 16de eeu geoordeel word. Pannenberg pleit vir begrip dat histories-kritiese ondersoeke nie die gesag van die belydenisskrifte relativeer nie, maar eerder versterk. Hy pleit vir begrip vir hierdie lang-uitgerekte en moeisame ekumeniese proses, en versoek die lede van die Fakulteit om die lede van die werkskomitee te vertrou.

Oor die regverdigingsleer het Pannenberg ([1992] 2000i:326-327) een belangrike opmerking gemaak, wat die konserwatiewe Lutherse teoloë14 verder ontstel het. Hy bevestig dat die band tussen die regverdigingsleer en die Christologie een van die kernaangeleenthede in die ekumeniese debat bly. Hy verwys egter na die resultate van die histories-kritiese ondersoeke rakende die Nuwe Testament, en wys daarop dat nie alle uitsprake rakende geloof in Jesus Christus binne die denkraamwerk van die regverdigingsleer verduidelik word nie. Dít raak die gedagte dat die regverdigingsleer die hart en kern van die Nuwe Testament is.15 Juis hierdie uitspraak het Pannenberg ongewild in sy eie Kerk gemaak.

Drie jaar vóór die ondertekening van die 'Gesamentlike verklaring oor die regverdigingsleer' het Pannenberg ([1996] 2000g:304-305) weer in 'n artikel verduidelik hoe belangrik die opheffing van die leerveroordelings vir die ekumeniese proses is. Indien die uiteindelike doelwit gesamentlike Nagmaalsdienste sou wees, is dit ondenkbaar dat die leerveroordelings van die 16de eeu gehandhaaf kan word. Die stryd om teoloë van beide konfessionele groeperings te oortuig om die leerveroordelings op te hef, is geen maklike taak nie. Alreeds in 1981 het die studiekommissie van die Evangelische Kirche in Deutschland (EKD) en die Duitse Biskopskonferensie aanbeveel dat die leerveroordelings opgehef moet word aangesien die ou leermenings nie meer geldig is nie. Dit tref nie meer die leermenings van die kerk vandag nie. Nogtans wil teoloë nie toegee dat die kerklike toneel dramaties verander het nie. Mense wil vasgevang bly in die leermenings van die verlede. Pannenberg ([1996] 2000g:305-307) en sy geesgenote se oorredingstrategie was om mense te beweeg om die verskillende leermenings, soos verwoord in die Lutherse belydenisskrifte, en die besluite van die Konsilie van Trente te verstaan as 'twee skoolmenings'. Die leermenings word dus nie opgehef nie, maar word wel gerelativeer. Nie een kerk moet aanspraak maak op 'die enigste korrekte leermening nie', en nie een kerk moet oordeel dat die ander kerk se leermening geen bestaansreg het nie. Albei kerke se leermenings kan geduld word in die een kerk van Christus. Met ons huidige eksegetiese kennis behoort alle ingeligte teoloë te weet dat die menings van die 16de eeu nie dié waarheid as sodanig is nie. Hierdie standpunt beweer nie dat daar nie meer divergente menings bestaan nie. Hierdie divergente moet egter in die toekoms deur saaklike teologiese debatvoering opgeklaar word.16 'n Groot groep Lutherse teoloë het egter volgehou dat bepaalde leerveroordelings nog steeds die Roomse Kerk tref. Volgens hulle kan daar nie net sprake wees van 'leerverskille' nie, aangesien sekere 'leerveroordelings' die huidige Roomse Kerk nog steeds tref. Boonop is daar 'n reeks leerveroordelings deur die Roomse Kerk, soos byvoorbeeld dié oor die amp, wat gesamentlike Nagmaalsdienste onmoontlik maak. Pannenberg ([1996] 2000g:310-316) gee uiteindelik maar toe dat dit om méér as maar net leermenings gaan. Hyself gooi verdere olie op die vuur deur te meen dat die ekumeniese ideaal nie bereik gaan word nie, alvorens die kwessie van die vrou in die amp (en spesifiek as biskop) uitgeklaar word nie. In die lig hiervan was dit van uiterste belang om tog vordering te maak in één leerkwessie, naamlik die regverdigingsleer.

Die 'Gemeenskaplike verklaring oor die regverdigingsleer' van 30 October 1999 en 31 Oktober 1999 het in Duitsland heftige reaksie van Lutherse teoloë17 ontlok. Daar het 160 vooraanstaande teologieprofessore18 alreeds in Januarie 1997 hulle van die voorgestelde verklaring gedistansieer. Hulle het radikale kritiek teen feitlik alles in die verklaring uitgespreek.19 Pannenberg het in twee artikels kommentaar gelewer op die kritiek van sy kollegas. Hy het (weereens) daarop gewys dat die teks nie noukeurig bestudeer is nie en dat belangrike Lutherse gesigspunte in ander woorde en uitdrukkings ter sprake kom, en dat daar geen sprake kan wees van verraad teenoor die eie konfessie nie (Pannenberg [1998] 2000g:299). Die angs vir identiteitsverlies binne 'n nuwe ekumeniese situasie is volgens hom totaal misplaas. Verder het hy (Pannenberg [1998] 2000j:295) by sy kollegas gepleit dat daar afstand gedoen word van 'n identiteitsoeke wat bestaan in afgrensing teen Rome. Binne die nuwe ekumeniese tydvak moet identiteit op 'n positiewe, samewerkende wyse geskep word.

Die uitsprake in die 'Gemeenskaplike Verklaring' oor geloof en regverdiging is heftig gekritiseer.20 Volgens Pannenberg ([1998] 2000e:289-290) begryp die Lutherse kollegas nie hoe ver die Roomse teoloë van hulle tradisionele posisie wegbeweeg het nie. In die 'Verklaring' word gestel: 'Ons bely gesamentlik dat die sondaar deur die geloof aan die heilshandeling van God in Christus geregverdig word'. Hierdie belydenis is ver verwyderd van die posisie van die Konsilie van Trente. In 1547 is daar in die dekreet oor regverdiging gestel dat die gedagte van regverdiging deur die geloof alleen verwerp word. Die vaders van die Konsilie het geloof verstaan as instemming met die leer van die kerk soos verwoord in die belydenisse van die kerk. Geloof is vir hulle die begin van die proses van regverdiging wat eindig in die ontvangs van die sakrament van die doop. Geloof word egter ook verstaan as 'fundamentum et radix omnis iustificationis' ['fondament en wortel van die ganse regverdiging'] - maar tot die geloof moet nog hoop en liefde toegevoeg word aangesien die geloof nie volledig (perfecte) met Christus verenig nie. Geloof is dus eintlik slegs voorbereiding tot regverdiging; regverdiging volg dus op geloof en word voltrek in die doop (vgl. Pannenberg [1998] 2000e:290). Wanneer na die bewoording van die 'Verklaring' gekyk word, moet daar tog besef word dat die Roomse teoloë 'n dramatiese denkskuif gemaak het. Hierdie radikale verandering in standpunt is te danke aan die feit dat die Roomse teoloë die beginsels van 'die geloof alleen en die Skrif alleen' aanvaar het. Volgens Pannenberg het die Roomse teoloë toegegee dat die werke op die geloof volg en dat dit nie voorwaarde vir die regverdiging is nie. Pannenberg ([1998] 2000e:291) pleit daarvoor dat die Lutherse kollegas begrip sal toon vir die 'gedifferensieerde konsensus' wat tot stand gekom het. Die 'Verklaring' maak nie aanspraak op 'n 'algehele konsensus' nie - dít is iets wat hopelik in die toekoms nog bereik sal word.

Die uitsprake oor die heilsekerheid het ook onder heftige kritiek deurgeloop.21 In die 'Verklaring' word gestel dat die gelowiges ten spyte van hul eie swakheid 'hulle op die barmhartigheid en die beloftes van God kan verlaat, en só sekerheid kan kry oor sy genade'. Hierdie formulering vermy die Lutherse oorskatting en die Rooms-Katolieke onderskatting van heilsekerheid. Volgens Pannenberg ([1998] 2000e:292) is daar in hierdie tema volle konsensus bereik, en daarom is dit geregverdig om van 'konsensus in grondwaarhede van die regverdigingsleer' te praat. Aangesien daar nie by ander temas konsensus bereik is nie, kan daar nie van 'konsensus in die grondwaarhede van die regverdigingsleer' gepraat word nie (dit wat die kritici verkeerdelik in die 'Verklaring' wil inlees).

Die derde punt van kritiek het te make met die funksie van die regverdigingsleer as 'kriterium vir die oriëntering van die ganse leer en praktyk van die kerk'. Hierdie finaal-bewerkte bewoording22 is ongelukkig, aangesien daar in vroeëre proefweergawes van 'die omvattend-kritiese en normatiewe funksie van die regverdigingsleer' gepraat is. Die Roomse teoloë het daarop aangedring dat daar wel van 'n 'onvervangbare kriterium' gepraat kan word, maar dat daar ook na 'meerdere kriteria' verwys moet word. Hierdie 'meerdere kriteria' is nie genoem nie en daarom was die onmiddellike vraag of die 'dogma van die onfeilbaarheid van die pous' (1870) hier ingesleep is. Pannenberg ([1998] 2000e:293-294; [1998] 2000j:297-298) gee toe dat hierdie verandering aan die teks jammerlik is. Hy pleit egter dat die hele 'Verklaring' nie om hierdie rede verwerp moet word nie. Die deurbraak van die 'Verklaring' is dat die Rooms-Katolieke teoloë erkenning gee aan die regsinnigheid en die belangrikheid van die Lutherse regverdigingsleer. Dit is dus nie waar dat die belangrikste aspek van die Reformatoriese leer ondergrawe is nie. Hierdie ooreenkoms is vir Pannenberg 'n eerste stap in die rigting van 'kerkeenheid', wat 'n gesamentlike sit aan die tafel van die Here moontlik kan maak - ten spyte daarvan dat nie alle uitsprake in teks bevredigend is nie.23

Pannenberg ([1998] 2000n) het ter wille van duidelikheid onder die publiek 'n reeks maklik-verstaanbare stellings opgestel. In hierdie stellings stel hy wat besluit is en wat nie besluit is nie:

  • Die 'Verklaring' stel nie dat ooreenstemming in alle aspekte van die regverdigingsleer bereik is nie, maar slegs in 'sekere grondwaarhede' van hierdie leer.

  • Die 'Verklaring' stel dat daar 'n konsensus bereik is oor die gedagte 'dat ons deur die geloof alleen geregverdig word'. Die Rooms-Katolieke Kerk argumenteer nie meer dat 'die geloof die begin van 'n regverdigingsproses' is nie.

  • Die Lutherse Kerk erken dat die doop nie van die regverdiging deur die geloof geskei kan word nie.

  • Daar is ooreenstemming daaroor bereik dat regverdiging gemeenskap met Christus tot gevolg het.

  • Die werking van die regverdiging word in sowel as die vergewing van sondes as die geskenk van 'n nuwe lewe gesien.

  • Daar bestaan (ook binne Lutherse kringe) verskillende menings daaroor of die regverdigingsoordeel verkondig en in geloof ontvang word, en of die geloof in die Christusverkondiging onderwerp van die regverdigingsoordeel is en daarom die veronderstelling van die geloof is.

  • Die stryd van die 16de eeu oor 'heilsekerheid' is oorkom deurdat daar gesamentlik gestel word dat sekerheid begrond word in God se beloftes in Woord en sakrament. Daar bestaan geen twyfel meer oor die sekerheid van die genade nie.

  • Daar is eenstemmigheid dat die regverdigingsleer nie 'n aspek van die Christelike leer is nie, maar 'kriterium vir die hele leer en praktyk van die kerk'.

  • In die laaste weergawe van die teks het die Rooms-Katolieke egter daarop gestaan dat gesê moet word dat daar 'meerdere kriteria' bestaan.

  • Die saak waaroor daar nie konsensus bereik is nie, het te make met die mag van die sonde in gedoopte lidmate. Daar kon met ander woorde nie konsensus bereik word oor die gedagte van simul iustus et peccator nie. Die 'Verklaring' bevat dus geen konsensus oor die verhouding tussen doop, sonde en regverdiging nie.24

Ten spyte van al Pannenberg se pogings om positiwiteit te wek vir die ekumeniese dialoog oor die regverdigingsleer, het hy uiteindelik die stryd verloor. Entoesiasme vir hierdie debat het opgedroog.25 Hy het egter voortgegaan om vir ekumeniese gesprekvoering te pleit. Voor sy dood (as 76-jarige man) het hy weer gevra dat die Lutherane met Rome in gesprek sal gaan oor die ampsbegrip - aangesien die Lutherse verstaan van die amp die rede is hoekom die Rooms-Katolieke Kerk die Lutherse Kerk nie as kerk erken nie (vgl. Pannenberg 2004).

 

Die oordeel van 'n buitestander

Pannenberg het 'n baie groot en positiewe bydrae tot die ekumeniese debat gelewer. Hy was die groot bemiddelaar tussen die Lutherse en Rooms-Katolieke teoloë. Hy het 'n belangrike bydrae gelewer in die strategie wat gevolg is. Die feit dat die Roomse Kerk bereid was om die leerveroordelings van die Konsilie van Trente terug te trek, was 'n reuse vooruitgang in die ekumeniese proses. Hy was ook verantwoordelik vir die versigtige, stappie-vir-stappie proses wat gevolg is. Hy het dus verseker dat die twee konfessionele groeperinge met mekaar bly praat het, en dat een party nie voortydig die gesprek gestaak het nie. Pannenberg se volgehoue poging om die positiewe uitkoms van die uiteindelike 'Verklaring' te verdedig, was uiteindelik, minstens binne akademiese kringe, nie suksesvol nie. Wat ons, ook hier in Suid-Afrika, by Pannenberg moet leer, is dat volgehoue debatvoering oor teologiese sake tog uiteindelik 'n positiewe beeld skep by gewone lidmate. Hulle wil saam na die Woord luister en aan die Nagmaalstafel sit, en die teoloë moet dít nooit misken nie.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Baur, J., 1998, 'Die Rechtfertigungslehre in der Spannung zwischen dem evangelischen "Allein" und dem römisch-katolischen Amts- und Sakramentsverständnis', Evangelische Theologie 58(2), 140-155. https://doi.org/10.14315/evth-1998-0207        [ Links ]

Beintker, M., 1998, Rechtfertigung in der neuzeitlichen Lebenswelt: Theologische Erkundungen, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Brandt, R., 1998, 'Gemeinsame Erklärung - kritische Fragen', Zeitschrift für Theologie und Kirche 95(1), 63-102.         [ Links ]

Hamm, B., 1986, 'Was ist reformatorische Rechtfertigungslehre?', Zeitschrift für Theologie und Kirche 83(1), 1-38.         [ Links ]

Härle, W., 1998, 'Zur Gegenwartsbedeutung der "Rechtfertigungs"-Lehre', in Zur Rechtfertigungslehre. Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 101-139.         [ Links ]

Held, H.J., 1998, 'Ein neues Miteinander. Zur Einordnung der Gemeinsamen Erklärung zur Rechtfertigungslehre', Evangelische Theologie 58(2), 161-168.         [ Links ]

Hendrix, S., 1997, 'Offene Gemeinschaft: Die kirchliche Wirklichkeit der Rechtfertigung', Kerygma und Dogma 43(2), 98-110.         [ Links ]

Jüngel, E., 1997, 'Um Gottes willen - Klarheit! Kritische Bemerkungen zur Verharmlosung der kriteriologischen Funktion des Rechtfertigungsartikels - aus Anlaß einer ökumenischen "Gemeinsamen Erklärung zur Rechtfertigungslehre"', Zeitschrift für Theologie und Kirche 94(4), 394-406.         [ Links ]

Jüngel, E., 1998a, 'Amica Exegesis einer römischen Note', in Zur Rechtfertigungslehre, Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 252-279.         [ Links ]

Jüngel, E., 1998b, Das Evangelium von der Rechtfertigung des Gottlosen als Zentrum des christlichen Glaubens: Eine theologische Studie in ökumenischer Absicht, Mohr Siebeck, Tübingen.         [ Links ]

Kalinna, H., 1998, 'Einig in der Rechtfertigungslehre? Zur Gemeinsamen Erklärung des Lutherischen Weltbundes und des Päpstlichen Rates zur Förderung der Einheit der Christen', Evangelische Theologie 58(2), 156-161.         [ Links ]

Kandler, K-H., 1990, 'Rechtfertigung - kirchentrennend?' Kerygma und Dogma 36(3), 209-217.         [ Links ]

Luther, M., [1520] 1897, 'Eine kurze Vorm der zehn Gebote, des Glaubens und des Vaterunsers', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesamtausgabe, 7. Band, pp. 204-229, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar. [= WA 7, 204-229].         [ Links ]

Luther, M., [1530] 1909, 'Sequentes propositiones sustinet favente Christo D. Martinus Luther, adversus totam synagogam Sathanae & universas portas inferorum', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesammtausgabe, 30. Band, Zweite Abteilung, pp. 420-427, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar. [= WA 30 II, 420-427].         [ Links ]

Luther, M., [1522] 1910, 'Weihnachtspostille, Lukas 2:15-20, Das Evangelium in der Früh-Christmeβ', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesammtausgabe, 10. Band, Erste Abteilung, 1. Hälfte, pp. 128-141, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar. [= WA 10, I/1, 128-141].         [ Links ]

Luther, M., [1531/1535] 1911, In epistolam S. Pauli ad Galatas Commentarius ex praelectione D. Martini Lutheri (1531) collectus 1535, D. Martin Luthers Werke. Kritische Gesamtausgabe, 40. Band, Erste Abteilung, J.K.F. Knaake und Nachfolger (Hrsg.), Herman Böhlaus Nachfolger, Weimer. [= WA 40 I, 1-691].         [ Links ]

Luther, M., [1542] 1932, 'Die Promotionsdisputation Johannes Machabäus Scotus am 3. Februar 1542', in J.K.F. Knaake (Hrsg.), D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesamtausgabe, 39. Band, Zweite Abteilung, pp. 145-184, Hermann Böhlaus Nachfolger, Weimar. [= WA 39 II, 145-184].         [ Links ]

Meyer, H., 1985, 'Konsens und Kirchengemeinschaft: Am Ende der zweiten Phase des Dialogs zwischen römisch-katolischer Kirche und Lutherischem Weltbund', Kerygma und Dogma 31(3), 174-200.         [ Links ]

Pannenberg, W., 1993, Systematische Theologie. Band 3, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., 2000, Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1991] 2000a, 'Das protestantische Prinzip im ökumenischen Dialog', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 186-193, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1978] 2000b, 'Das Verhältnis zwischen der Akzeptationslehre des Duns Scotus und der reformatorischen Rechtfertigungslehre', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 268-274, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1996] 2000c, 'Der "Vater im Glauben" - Luthers ökumenische Aktualität', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 260-267, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1982] 2000d, 'Die Arbeit von Faith and Order im Kontext der ökumenischen Bewegung', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 205-216, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1998] 2000e, 'Die Gemeinsame Erklärung zur Rechtfertigungslehre aus evangelischer Sicht', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 289-294, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1991] 2000f, 'Die Rechtfertigungslehre im ökumenischen Gespräch', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 275-288, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1996] 2000g, 'Die Überwindung der gegenseitigen Verurteilung als Schritt zur kirchlichen Gemeinschaft', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 303-316, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1989] 2000h, 'Die zukunftige Rolle von Glauben und Kirchenverfassung" in einer säkularisierten Welt', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 234-244, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1992] 2000i, 'Müssen sich die Kirchen immer noch gegenseitig verurteilen?', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 317-337, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1998] 2000j, 'Neue Konsense, entschärfte Gegensätze und protestantische Ängste', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 295-299, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1995] 2000k, 'Projekt: Lehrverurteilungen. Eine Stellungnahme', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 338-341, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1975] 2000l, 'Reformation und Einheit der Kirche', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 173-185, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1986] 2000m, 'Reformation und Kirchenspaltung', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 160-172, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., [1998] 2000n, 'Thesen zur "Gemeinsamen Erklärung zur Rechtfertigungslehre"', in W. Pannenberg (Hrsg.), Beiträge zur Systematischen Theologie. Band 3. Kirche und Ökumene, pp. 300-302, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pannenberg, W., 2004, 'Ökumenische Aufgaben im Verhältnis zur römisch-katolischen Kirche', Kerygma und Dogma 50(4), 260-270.         [ Links ]

Ringleben, J., 1998a, 'Der Begriff des Glaubens in der "Gemeinsamen Erklärung zur Rechtfertigungslehre"', Zeitschrift für Theologie und Kirche 95(2), 232-249.         [ Links ]

Ringleben, J., 1998b, 'Heilsgewißheit: Eine systematische Betrachtung', Zur Rechtfertigungslehre, Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 65-100.         [ Links ]

Rytkönen, A. & Saarinen, R., 2007, 'Der Lutherische Weltbund und die Rechtfertigungsdebatte 1998-1999: Die Entstehung der "Gemeinsamen Offiziellen Feststellung" und des "Annex"', Kerygma und Dogma 53(4), 298-328. https://doi.org/10.13109/kedo.2007.53.4.298        [ Links ]

Sauter, G., 1999a, 'Rechtfertigung - eine anvertraute Botschaft: Zum unentschiedenen Streit um die "Gemeinsame Eklärung zur Rechtfertigungslehre"', Evangelische Theologie 59(1), 32-48. https://doi.org/10.14315/evth-1999-0106        [ Links ]

Sauter, G., 1999b, 'Die Rechtfertigungslehre als theologische Dialogregel: Lehrentwicklung als Problemgeschichte?', Ökumenische Rundschau 48(3), 275-295.         [ Links ]

Schwarz, R., 1998, 'Luthers Rechtfertigungslehre als Eckstein der christlichen Theologie und Kirche', Zur Rechtfertigungslehre. Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 14-46.         [ Links ]

Slenczka, R., 1987, 'Gerecht vor Gott durch den Glauben an Jesus Christus: Das Verständnis der Rechtfertigung in der evangelischen Kirche und die Verständigung über Rechtfertigung mit der römisch-katolischen Kirche', Neue Zeitschrift für Systematische Theologie und Religionsphilosophie 29(3), 294-316. https://doi.org/10.1515/nzst.1987.29.1-3.294        [ Links ]

Van Wyk, I.W.C., 2001, 'Die "Gemeenskaplike Verklaring oor die Regverdigingsleer" van 30/31 Oktober 1999', Hervormde Teologiese Studies 57(3&4), 835-867. https://doi.org/10.4102/hts.v57i3/4.1851        [ Links ]

Wainwright, G., 1999, 'Rechtfertigung: lutherisch oder katholisch?' Kerygma und Dogma 45(3), 182-206.         [ Links ]

Wallmann, J., 1998, 'Der Streit um die "Gemeinsame Erklärung zur Rechtfertigungslehre"', Zur Rechtfertigungslehre, Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 207-251.         [ Links ]

Wendebourg, D., 1996, '"Kirche und Rechtfertigung": Ein Erlebnisbericht zu einem neueren ökumenischen Dokument', Zeitschrift für Theologie und Kirche 93(1), 84-100.         [ Links ]

Wendebourg, D., 1998a, 'Anhang: Synopse der drei versandten Fassungen der "Gemeinsamen Erklärung"', Zur Rechtfertigungslehre. Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 168-198.         [ Links ]

Wendebourg, D., 1998b, 'Zur Entstehungsgeschichte der "Gemeinsamen Erklärung"', Zur Rechtfertigungslehre. Zeitschrift für Theologie und Kirche, Beiheft 10, 140-206.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Natie van Wyk
hto@mweb.co.za

Received: 17 Apr. 2018
Accepted: 21 June 2018
Published: 27 Aug. 2018

 

 

1 . Pannenberg ([1982] 2000d) het in een van sy voordragte daarop gewys dat die kritiek teen hierdie Kommissie ernstig opgeneem is en dat daar algaande van suiwer politieke uitsprake wegbeweeg is na bilaterale teologiese gesprekke. Hy staan egter daarby dat die eenheid van die kerk 'n belangrike impuls kan wees om die konflikte in 'n verdeelde wêreld te oorkom. In 'n latere voordrag voor die Algemene Vergadering van hierdie Kommissie, het hy ([1989] 2000h:241-244) aangevoer dat die Wêreldraad van Kerke op die regte pad is om eenheid tussen kerke te bevorder. Dit is trouens vir die verdeelde wêreld van absolute belang dat daar kerklike eenheid sal wees. Waarop hy aangedring het, was dat die debatte oor kerklike eenheid gevoer moet word met die bewussyn dat die sekularisme die wêreld oorspoel het. Aangesien godsdiens uit die openbare lewe gedruk is, moet daar met groter dringendheid gevorder word op die pad van kerklike eenheid. 'n Verdeelde kerk het duidelik geen invloed op die sekulêre samelewing nie. Sy aandrang om op die probleem van sekularisme te konsentreer, het hierdie Kommissie gehelp om weer met aandag op teologiese sake te konsentreer.
2 . Ek vertaal alle titels en aanhalings in Afrikaans sodat alle lesers van die artikel volle toegang tot die teks het.
3 . Luther ([1530] 1909:421; WA 30 II, 421, 19-21) het in 'n disputasie oor die 'sinagoge van die duiwel' die volgende belangrike uitspraak gemaak: 'Ecclesia est numerus seu collection baptizatorum et credentium sub uno pastore, sive sit unius civitatis sive totius provinciae, sive totius orbis' ['Die kerk is die somtotaal of die versameling van gedooptes en gelowiges onder {die leiding van} 'n predikant, of dit nou op die vlak van 'n plaaslike plek, 'n provinsie of die ganse aarde mag wees'].
4 . Luther ([1542] 1932:161; WA 39 II, 161, 8. 14) se eie woorde in een van sy laaste disputasies: 'Propter confessionem coetus Ecclesiae est visibilis
Ex confessione cognoscitur Ecclesia' ['Die gemeenskap van die kerk word sigbaar in haar belydenis op grond van haar belydenis word sy geken'].
5 . Pannenberg herinner aan Luther ([1531/35] 1911:132; WA 40 I, 132, 27-28) se woorde in sy kommentaar op Galasiërs: 'Nemo enim libenter dicit Ecclesiam errare, et tamen necesse est dicere Ecclesiam errare, si extra vel contra verbum Dei aliquid docet' ['Niemand beskuldig die kerk graag van 'n dwaling nie, en tóg is dit nodig wanneer sy iets sonder of teen die Woord van God leer']. Hy gee egter geen bewysplek vir sy bewering dat die kerk as geheel nie kan dwaal nie.
6 . Scott Hendrix (1997) wys daarop dat Luther se verstaan van regverdiging, nie van sy ekklesiologie geskei kan word nie. Sy verstaan van regverdiging verplig Lutherse teoloë tot 'n inklusiewe verstaan van die kerk.
7 . Die beste teks is te vinde by Wendebourg (1998a). Die voordeel van hierdie weergawe is dat die ontwerpe van 1995 en 1996, sowel as die finale teks van 1997 hier langs mekaar te vinde is.
8 . Dit is belangrik om daarop te wys dat die Rooms-Katolieke Kerk hierdie 'Verklaring' nooit amptelik ondersteun het nie. Op 25 Junie 1998 het die 'Kongregasie vir die Geloofsleer' hom van hierdie 'Verklaring' gedistansieer. Jüngel (1998a) het die teks van die 'Nota' (in Italiaans) onder oë gekry, en alarm gemaak. Ongelukkig het Pannenberg dít nooit erken nie.
9 . Harding Meyer (1985) gee 'n goeie oorsig oor die verloop van die eerste twee fases van die dialoog. Vir 'n oorsig oor die ganse proses, vgl. Wendebourg (1998b). Rytkönen en Saarinen (2007) bied naas 'n oorsig oor die hele ontstaansgeskiedenis ook 'n berig oor die ontstaan van die 'Anneks' (wat handel oor wet en genade), wat ook heftig gekritiseer is.
10 . 'Evangelies' beteken Protestants en, meer spesifiek, Luthers. Wanneer daar in Duits na Katolieke teoloë verwys word, word Rooms-Katolieke teoloë bedoel.
11 . Kandler (1990) het met Pannenberg se strategie saamgestem. Hy was egter oortuig dat die radikale verskil in die verstaan van die regverdigingsleer wel kerkskeurend van aard is.
12 . Die reeks temas wat Hamm (1986) geïdentifiseer het as sake waaroor daar nie maklik konsensus bereik sal kan word nie, is uiteindelik bevestig in die 'Verklaring' van 1999.
13 . Die teologiese fakulteit van Göttingen het in 1991 uiters negatief geoordeel oor die ekumeniese dokumente tot op daardie punt. Dit is as verraad teenoor die Lutherse teologie beskou. Die Fakulteit kon nie aanvaar dat die leerveroordelings nie meer geldig sou wees nie. Daar is verder gemeen dat daar met Roomse vooronderstellings gewerk is (vgl. Pannenberg [1992] 2000i:319-320).
14 . Reinhard Slenczka (1987) van Erlangen het Pannenberg en sy ekumeniese kollegas daarvan beskuldig dat hulle nie met 'n eg Lutherse verstaan van regverdiging die debat betree het nie. Die uitkoms van die debat was dus van die begin af verdoem tot mislukking.
15 . Pannenberg het in sy Sistematiese Teologie (1993:23-265) nie op 'n tipiese Lutherse manier met die regverdigingsleer omgegaan nie. Hy is van mening dat die regverdigingsleer deel uitmaak van die gedagte van 'God se kindskap'. In hierdie verband vind hy (1993:238-240) aansluiting by Schleiermacher, terwyl hy (1993:253-260) hom ook van Melanchthon se 'forensiese regverdigingsleer' distansieer.
16 . Pannenberg ([1996] 2000g:307; [1995] 2000k) polemiseer veral teen Dorothea Wendebourg. Hy beskuldig haar dat sy nie eerlik is in haar uitleg van die ekumeniese tekste nie. Sy veronderstel dinge wat nie in die dokumente staan nie en wil eintlik net 'n atmosfeer van wantroue skep in die hoop dat die ekumeniese arbeid gerem kan word. Wendebourg (vgl. 1996) was een van die hoofwoordvoerders van die beswaarde Lutherse teoloë. Sy was lid van die Lutherse afvaardiging en het ten nouste met Pannenberg saamgewerk. Dié twee het duidelik nie net teologiese verskille gehad nie, maar het ook negatiewe persoonlike gevoelens oor mekaar gehad.
17 . Dit is interessant dat teoloë uit die Amerikaanse Metodisme min probleme met die teks ondervind het; vgl. Wainwright (1999).
18 . Die basiese rede hoekom die professore só driftig gereageer het, is omdat die regverdigingsleer die hart van Luther se teologie was (vgl. Schwarz 1998) en dat dit vandag nog steeds (minstens deur die teoloë) as aktueel beskou word (vgl. Beintker 1998 en Härle 1998). Dit was nie net die professore wat kritiek uitgespreek het nie. Ook die kerkleiding was baie ambivalent oor hierdie 'ooreenkoms'. Held (1998) was aan die een kant verheug oor die vordering op die gebied van die ekumene, maar was aan die ander kant tog teleurgesteld dat daar slegs in sekere aspekte van die leer vordering gekom het.
19 . 'n Opsomming van die kritiek is te vinde by Brandt (1998). Johannes Wallmann (1998) het 'n uitvoerige artikel geskryf oor die redes hoekom daar so 'n driftige stryd in Duitsland onder die teoloë gewoed het, terwyl daar in ander lande skaars kennis geneem is van hierdie dokumente. Jüngel (1998b), een van die leiers van die groep beswaardes, het 'n hele boek oor die Lutherse posisie geskryf. Daar kan nie saaklik oor die 'Verklaring' gedebatteer word met die verbygaan van hierdie boek nie.
20 . By Ringleben (1998a) vind 'n mens 'n uiteensetting van die Lutherse verstaan van geloof en 'n aanduiding hoe dit van die Roomse verstaan verskil.
21 . Ringleben (1998b) bied omvattende inligting aan oor hierdie tema vanuit 'n Lutherse perspektief.
22 . Jüngel (1997) het al vóór die veranderde finale teks alarm gemaak oor die radikale verskil in die verstaan van die regverdigingsleer as kriterium vir alle teologie. Sauter (1999b) het ook later 'n artikel gewy aan die twee teenoorstaande verstaanmodelle van 'kriterium vir die teologie'.
23 . Die leier van die Lutherse Wêreldbond, Hermann Kalinna (1998), was gedwing om in sy openbare reaksie dieselfde aanslag te handhaaf.
24 . Jörg Baur (1998) wys daarop dat 'n ooreenkoms onmoontlik is aangesien verskillende antropologieë die wortels is van 'n verskillende verstaan van sakramente. Die feit dat die Reformatoriese antropologie gebou word op identiteit wat van 'van buite af' ontvang word, impliseer dat konsensus met Rome nie werklik moontlik is nie.
25 . Sauter (1999a) het uitvoerig aangedui hoekom hierdie debat misluk het en wat die voorwaardes is om uiteindelik werklike konsensus te bereik.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License