SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.74 issue4Aspects of political theology in the spiritual autobiography of Dag HammarskjöldReformed theology and 'decolonised' identity. Finding a grammar for peaceful coexistence author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.74 n.4 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v74i4.4764 

ORIGINAL RESEARCH

 

Onderweg na inklusiewe taalgebruik in die Afrikaanse kerklied (2): Die heteroseksuele witman as god

 

 

Ockie C. Vermeulen

Department of Music, North-West University, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRAKTE

In 2016, I published an article in which I explained the purpose and benefits of using inclusive and expansive language in the Afrikaans Dutch Reformed Church's (DRC) hymns which, to this day, remain notably exclusive in gender references and when addressing God. I hoped that my article would inspire the workgroup responsible for the creation of new Afrikaans hymns to consider the possibilities and advantages of inclusive language. When I submitted a new melody and text to said workgroup earlier this year, the melody was accepted, but the text rejected on grounds that it was seen as a 'forced adaptation of how the Father chooses to reveal himself to us'. This blatant and continuing aversion to incorporate some form of inclusive or expansive language in their hymns, despite my research article I sent them, lead me to investigate this apparent opposition in the DRC context even further. After exploring the comparative stance of the three biggest reformed churches in America with regard to inclusive and expansive language, I come to the conclusion that the DRC's reservation towards inclusive and expansive language cannot be explained on sober theological objections alone. In fact, I show that these reservations are the direct consequence of protecting the interests of the church's ingroup, the heterosexual white male. I identify this ingroup based on the discriminatory way the DRC treated women, non-whites and the LGBTIQ community in the recent past. I conclude that when a church continues to protect and promote the interests of an exclusive ingroup the use of inclusive language in their songs of faith would indeed seem to be 'forced'. The title refers to Mary Daly's statement in 1973: 'If God is male then the male is god.'


 

 

Inleiding

In 'Agter elke man: Onderweg na inklusiewe taalgebruik in die Afrikaanse kerklied' (Vermeulen 2016) ondersoek en bepleit ek die gebruik van inklusiewe taal in liedere vir die Afrikaanse reformatoriese erediens. My pleidooi het sy ontstaan te danke aan Flam en Vonkk1 se reaksies op my skrywe aan hulle om vas te stel wat beide se standpunte teenoor die inklusiewe taalgebruik in die nuwe Presbyterian hymnal (Eicher 2013) is. Nommer 620 in hierdie liedboek verskyn as 'Praise, my soul, the King of heaven' (Ps 103) en gebruik die volgende teks:

Fatherlike He tends and spares us;

well our feeble frame He knows.

In his hand He gently bears us,

rescues us from all our foes.

Alleluia, alleluia!

Widely yet his mercy flows!

Lied 619 is 'n alternatiewe weergawe, getiteld 'Praise, my soul, the God of heaven', met die volgende (aangepaste) teks:

Like a loving parent caring,

God knows well our feeble frame;

gladly all our burdens bearing,

still to countless years the same.

Hallelujah! Hallelujah!

All within me, praise God's name!

Flam sowel as Vonkk is nie ten gunste van hierdie inklusiewe aanpassing nie, maar is van mening dat 'om God as Vader weg te vertaal [dien] nie regtig die saak van vroueregte nie' en vra: 'Waarom sou dit nodig wees om die beeld van 'n vader hier te verander?' (Vermeulen 2016:2). Laasgenoemde vraag word uiteindelik my hoofnavorsingsvraag in die 'Agter elke man'-artikel (hierna slegs '2016-artikel' genoem) waarin ek die inklusiewe benadering motiveer (ter wille van volledigheid sal ek noodwendig deur die loop van hierdie artikel na die 2016-artikel verwys).

'n Jaar na die publikasie van die artikel het my pad weereens met Vonkk s'n gekruis. Ek was voorheen (2010-2013) by dié werkgroep betrokke en het 'n melodie voorgelê wat, indien hulle daarmee tevrede sou wees, van lirieke voorsien kon word. Jacques Louw (voorsitter van Vonkk) het my verwittig dat Thinus van Staden 'n omdigting van Matteus 6:26-34 by my melodie gevoeg het wat as volg daar uitsien:

Kommer jou nie oor môre nie, lewe vir vandag.

Jy kan jou lewe nie verleng, daardeur iets vermag.

Sien die Vader sorg vir die lelies van die veld

en hoor die voëls wat die Heer se sorg vermeld.

Ons Vader weet wat ons daagliks nodig het.

Vader, leer ons leef in u koninkryk. (Louw 2017a)

Hoewel ek beïndruk was met die teks, het ek kommentaar op die ontbrekende dubbele negatief van die tweede versreël gelewer, sowel as op die ietwat onduidelike betekenis van 'daardeur iets vermag'. My grootste bron van kommer was egter die afwesigheid van inklusiewe taal en gevolglik het ek die volgende aanpassings voorgestel:

Kwel jou nie oor môre nie, lewe vir vandag;

jy kan jou lewe nie verleng of daardeur iets vermag nie.

Sien die Skepper sorg vir die lelies van die veld

en hoor die voëls wat die Een se sorg vermeld.

Ons Ouer weet wat ons daagliks nodig het.

Heerser, leer ons leef in u koninkryk.

Louw (2017b) se repliek daarop was die volgende:

Ek het al die teoloë2 van Vonkk gekontak i.v.m. jou voorstelle vir die wysiging van Thinus van Staden se teks by Vonkk 368. Hulle kommentaar was deurgaans dat ons die teks so moet hou. Die teoloë voel dat dit geforseerd is om af te wyk van die Bybel se teks ter wille van inklusiewe taal en hulle is ook tevrede met [versreël] 2 soos wat dit is.

Ten spyte van die feit dat ek verlede jaar die 2016-artikel vir Louw aangestuur het, het ek my desnieteenstaande in 'n identiese (onveranderde) gesindheid vasgeloop wat my destyds genoop het om die genoemde artikel te skryf. Dit is dan die rede vir die ontstaan van die huidige artikel.3

 

Navorsingsontwerp

Net soos in die geval van die 2016-artikel maak ek ook in hierdie artikel van kritiese kwalitatiewe navorsing gebruik wat nie alleen ten doel het om te verstaan wat die probleem is nie ('what is going on'), maar ook om die huidige stand van sake te kritiseer met die hoop om groter geregtigheid in die (kerk)samelewing tot stand te bring (Merriam 2009:35). Na gelang van Merriam se verduideliking wil ek dus die ooglopende verset4 teen die gebruik van inklusiewe taal verstaan. Ten spyte daarvan dat ek reeds verduidelik het hoekom dit soms nodig is om Bybeltekste in die 21ste eeu aan te pas (Vermeulen 2016:6-7), bly die Afrikaanse kerklied opmerklik eksklusief in inhoud en telkemaal word aanpassing van die Bybelteks as 'geforseerd' (Louw 2017b) afgemaak. Dit is nie die doel van hierdie artikel om (weer) te motiveer wat die nut van inklusiewe taal vir die Afrikaanse reformatoriese erediens is nie - daarvoor verwys ek die leser na my 2016-artikel.

Vanweë my betrokkenheid by die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) sal die artikel hoofsaaklik op hierdie instansie fokus. Ter wille van volledigheid sal ek ook kortliks na die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) verwys, hoewel hulle nie die hooffokus van hierdie artikel is nie.

In terme van metodologie beplan ek om kortliks die teologiese meriete van inklusiewe taal op te som (en dan slegs in beknopte vorm, omdat ek baie aandag hieraan geskenk het in die 2016-artikel). Hierdie afdeling sluit ook 'n ondersoek na die gebruik van inklusiewe taal in Protestantse kerke in Amerika in om die Suid-Afrikaanse konteks in perspektief te stel.5 Die U-draai wat tydens verlede jaar se buitengewone Sinode (2016) plaasgevind het, het my verder laat dink oor die NG Kerk se hantering van minderheidsgroepe. Dit het my oorreed om aan te toon dat die NG Kerk nie 'n oorwegend inklusiewe gemeenskap is nie, maar eerder 'n geloofsklub waarin die belange van sogenaamde 'ingroepe'6 voorkeur geniet. In só 'n geval sal die gebruik van inklusiewe taal anomalies wees en kan dit as 'n verklaring dien vir die waargenome verset teen die gebruik daarvan.

Daar sal noodgedwonge diegene wees wat nie erg het aan die gebruik van die eerste persoon in die artikel nie. Hierdie navorser verkies dit egter, eerstens vanweë sy agtergrond in die geesteswetenskappe waar die gebruik van die eerste persoon aangemoedig word, en tweedens omdat hy so intens by die debat oor inklusiwiteit betrokke voel dat hy daarop aandring om in die eerste persoon daaroor te skryf.

Ook, vermoed ek, sal daar lesers sal wees wat meen ek het die artikel geskryf omdat ek nie my sin gekry het met die voorgestelde tekswysigings van my melodie nie en dat hierdie artikel dus uit suur druiwe geskryf is. Ek kan diesulkes verseker dat dit nie die geval is nie en daarop wys dat die melodie reeds aanvaar was en met Van Staden se teks gepubliseer sou word, gegewe my finale goedkeuring. Ek kon dit egter nie met 'n nugtere gewete toelaat nie en het gevolglik die melodie onttrek. Ek herhaal onomwonde dat hierdie artikel die doel het om te verstaan hoekom inklusiewe teks steeds as 'geforseerd' afgemaak word en die gevolglike verset daarteen te verwoord.

Vergun my voorts 'n paar woorde oor die titel van hierdie artikel. Dit is ontleen aan Mary Daly (1973:19) se reeds bekende uitspraak: 'If God is male, then the male is god'. Soos aangetoon in die 2016-artikel, redeneer eksponente van feminisme dat indien daar aangedring word om God eksklusief manlik te beskou, gemarginaliseerdes in die kerk progressief onwelkom sal voel en uiteindelik 'n ander heenkome sal soek of geheel en al afvallig van die kerk sal word (Boyce-Tillmann 2014:1-2; Klopper 2002:424; McIntosh 2007:238). Na aanleiding van die kerk se besluite oor dieselfde geslagverhoudings, apartheid en die rol van die vrou, neem ek dit 'n stap verder in die titel en verander ek Daly se uitspraak na die volgende: 'As God manlik is, is die heteroseksuele witman god.'

 

Teologiese verantwoordbaarheid en vergelyking

Omdat ek nie myself hier wil herhaal nie, bied ek kortliks, in een paragraaf, 'n opsomming aan van teologiese argumente ten gunste van inklusiewe taal soos wat dit in detail in my 2016-artikel bespreek is. God is nie manlik nie. God is nie vroulik nie. God is nie manlik en vroulik nie. God is Gees en het nie 'n menslike vorm nie (McIntosh 2007:238; Ross 2004:14; Spencer 2010:6). Enige aanspreekvorm wat ons vir God het, is menslike pogings om God te beskryf en is in wese gebrekkig (Bingemer 1989:56-57; Groothuis 1997:98; Mollenkott 1983:8-13). Die eensydig manlike beskrywings van God in die Bybel is kenmerkend van die sosiokulturele wêreld van die antieke Midde-Ooste (Klopper 2002:425; Le Roux 2010). Dit is ook bloot 'n grammatikale verskynsel (Landman, soos aangehaal deur Jackson 2002:13). Barton (2009:144-165) asook Spencer (2010:7-8) bespreek hierdie sake verder in diepte en die leser word met vrymoedigheid na hulle werke verwys ter wille van die woordbeperking van hierdie artikel.

Om die Afrikaanse kerklied in perspektief tot die internasionale kerklied te stel, ondersoek ek vervolgens die standpunte rakende inklusiewe taalgebruik van die drie grootste hoofstroom Protestantse kerke in Amerika7 as 'n oefening in vergelyking. Die grootste van hierdie kerke is die United Methodist Church (UMC) wat in 2014, 7 700 000 lidmate gehad het (People of the United Methodist Church 2015). Die Evangelical Lutheran Church in America (ELCA) volg met nagenoeg 4 000 000 lidmate in 2016 (Evangelical Lutheran Church in America 2017), en die Presbyterian Church (PC) met 2 800 000 lidmate in 2016 (Presbyterian Church [USA] 2016).

Die UMC het reeds in die 1980's 'n beleid (wat in 1990 aangepas is) oor die gebruik van inklusiewe taal in die erediens gepubliseer en dit is Words that hurt, words that heal genoem (United Methodist Church 1990). 'In the 1980s, it was the church's signature statement on inclusive language, and that has not changed, it remains a significant document', sê Harriett Olson (hoof uitvoerende beampte van UMC in 2015 (People of the United Methodist Church 2013) Die UMC is gekant teen die gebruik van eksklusiewe manlike terme: 'Exclusively masculine images distort the way we look at God', beaam Olson.

Die inleidende paragraaf van hoofstuk 2 in Words that hurt, words that heal stel die standpunt van die UMC onomwonde:

We will not reach full humanity as women and men as long as our language and images continue to limit us, often in unconscious ways. A five-year-old playing with friends argued that boys are better than girls. When they asked why, he responded, 'Because God is a boy, isn't he?' (United Methodist Church's task force on language guidelines 1990:5)

En uiteindelik verskyn hierdie woorde (United Methodist Church 1990) wat uiters gepas is in verband met die ooglopende verset waarna ek in die inleiding van hierdie artikel verwys (my eie kursiverings belig die 'ingroep' fenomeen wat later bespreek sal word):

Furthermore, language reflects power in relationships and in institutional structures. The use of exclusive language is one way in which one group maintains power over another. The words 'sound all right' to them. Unfortunately, many persons still think the use of inclusive language is only a matter of concern to a few people. Significant change will occur only when more of us realize how important language is in shaping the lives of our children and the future of our society. (p. 5)

In hulle geskrif How is language used in worship? (2013) is die ELCA ook baie duidelik oor hulle voorkeur vir inklusiewe taal:

Newly composed songs are not exempt from this issue, as many still use exclusive language for God and humankind. Many songs come from theological traditions that do not see inclusive language as a priority or concern. Such songs may not be best means of proclaiming the gospel in a Lutheran setting.

Ek het reeds na die PC se gebruik van inklusiewe taal verwys. Hieroor skryf die redakteur van die 2013 Presbyterian hymnal die volgende:

[The use of inclusive language] is informed by an awareness that much of the received language of religious traditions enshrines social values that obscure the goodness of God, which far transcends all our labels and categories and hierarchies. (Eicher 2013:777)

Die PC maak ook gebruik van sogenaamde 'uitbreidende taal' wanneer daar oor God gesing of gepraat word:

Recognizing, therefore, that our hymnal is intended for a vast body of believers whose positions on such questions differ, we adopted a policy of expansive language for God. In other words, the full array of biblical metaphors for God is retained, including references to God as Father, Lord, and King. But also in this array appear images in which God is the 'womb of life and source of being' (#3) and the 'mothering' one who gave us birth (#7). There are also images that have no gendered connotations at all: 'Rock of Ages' (#438). (Bringle 2013:5; [my kursiverings])

Die teks vir my melodie wat ek aan Vonkk voorgestel het, maak van uitbreidende taal gebruik en ek sluit graag by Bringle aan: dit is nie enigsins nodig om alle verwysings na God die Vader uit die kerklied te verwyder nie. Ek bepleit egter 'n meer gebalanseerde (en genuanseerde) omdigting in die Afrikaanse kerklied om sodoende die heersende eksklusiewe benadering na 'n meer inklusiewe een te verander waarin ons onbeskryflike God nie eendimensioneel uitgebeeld word nie.

Na aanleiding van hierdie bespreking vind ek dit moeilik om te glo dat Flam en Vonkk se verset teen die gebruik van inklusiewe (óf ten minste uitbreidende) taal op nugtere teologiese besware berus. Om 'sien die Vader sorg vir die lelies van die veld' met 'n meer uitbreidende 'sien die Skepper sorg vir die lelies van die veld' (sien Inleiding) te vervang, kan nouliks enige teologiese besware ontketen, behalwe die gewone 'geforseerdheid'-beswaar teen die aanpassing van Bybeltekste volgens Flam se mening soos onder andere deur Engelbrecht (2014) verwoord: 'God is aan ons geopenbaar as Vader - dit is hoe Hy dit gekies het.' Indien ons by sulke argumentasie sou berus, kan ek net sowel redeneer dat God gekies het om die Bybel in Hebreeus te skryf en dat ons geen reg het (gehad het) om dit in Afrikaans aan te pas nie. Voorts het ek juis die betrokke sosiale omgewing asook inherente taalverskynsels van die antieke Bybelskrywer in die 2016-artikel aangespreek. Ten spyte hiervan loop ek my (weer) vas teen die Vonkk-teoloë se mening dat dit 'geforseerd' is om die Bybelteks aan te pas (Louw 2017b).

'n Beswaar wat op die geforseerdheidargument van hierbo gebaseer is, dwing my om hierdie volgehoue verset teen inklusiewe taal te verstaan, nie in die lig van verantwoordbare teologie nie, maar eerder as 'n ingesteldheid, 'n uitkyk wat op doelbewuste eksklusiwiteit gebaseer is; dit sal vervolgens bespreek word.

 

Die ingroep

Gaertner et al. (1997:167-169) beskryf diskriminasie as die voorkeur en bevoordeling van sogenaamde 'ingroepe'. Hulle redeneer dat 'n betrokke ingroep se netwerke en belange eerder die rede vir die instandhouding en vermeerdering van ongelykhede is as die interaksie met en vyandigheid gerig tot sogenaamde 'uitgroepe'. Dixon et al. (2012:420) wys op die ongeldige standpunt dat diskriminasie die gevolg is van negatiewe interaksie tussen in- en uitgroepe, terwyl die voortdurende instandhouding van ingroepbelange eerder gesien kan word as die oorsaak van sulke diskriminasie. Greenwald en Pettigrew (2014:669-670, 680) is van mening dat ingroepbevoordeling die primêre meganisme tot diskriminasie is.

Ek is oortuig daarvan dat heteroseksuele witmans die ingroep van die NG Kerk (sowel as dié van die GKSA en NHKA) vorm. Indien dit wel die geval is, kan die instandhoudende kragte van die heteropatriargale ingroep van die NG Kerk waarskynlik gesien word as 'n verklaring vir die uitsluiting van (of diskriminasie teenoor) gemarginaliseerde groepe soos vrouens, anderskleuriges en die LGBTIQ-gemeenskap.8 Hierdie eksklusiwiteit onder die heteroseksuele witman kan moontlik deur die Afrikaner se sogenaamde 'laermentaliteit' verklaar word:

Afrikaners have often felt threatened by their circumstances and have come to protect and close ranks against outside influences and thoughts - the laager mentality which they became known for. (Klopper 2002:193)

Die 'laermentaliteit' binne die NG Kerk teenoor, byvoorbeeld, die LGBTIQ-gemeenskap word ook dikwels vroom verwoord met 'wees lief vir die sondaar, maar haat die sonde' (Jackson 2015:7) en is in lyn met Brewer (1999) se beskrywing van so 'n tipe diskriminasie:

Ultimately, many forms of discrimination and bias may develop not because outgroups are hated, but because positive emotions such as admiration, sympathy, and trust are reserved for the ingroup and withheld from outgroups. (bl. 438; [my kursivering])

As voorbeeld is dit waarskynlik waar dat die LGBTIQ-gemeenskap nie gehaat word nie en dat hulle selfs welkom is in die liefdesgemeenskap van die NG Kerk, maar dat hulle steeds nie die volledige regte en voorregte van die heteroseksuele lidmaat gegun word nie - hulle word uit die laer uitgesluit omdat hulle nie deel van die ingroep is nie. Insgelyks kan vrouens in die GKSA ook nie die roeping as predikant aanvaar nie omdat hulle nie deel van die heteropatriargale ingroep vorm nie en nie noodwendig omdat hulle gehaat word nie.

Indien die kerke op ingroepbelange berus, sou die gebruik van inklusiewe taal in wese 'n paradoks wees en sou ek die verset daarteen beter kon verstaan as die geykte 'dit is hoe Hy dit gekies het' argument.

Dit is nodig dat ek my standpunt aangaande heteroseksuele witmans as die ingroep in die NG Kerk verdedig. Ek doen dit vervolgens aan die hand van die NG Kerk se hantering van vrouens, anderskleuriges en die LGBTIQ-gemeenskap.

Die vrou in die NG Kerk

'n Skamele 21 jaar gelede vra Du Pisani (1996:242-243) in sy navorsing aangaande die vrou se posisie in die NG Kerk: 'Hoe onderdanig is die Afrikaanse vrou in vergelyking met haar landgenote van ander kultuur- en godsdiensgroepe en in vergelyking met vroue elders in die wêreld?' Ek vind die woordkeuse en formulering van hierdie vraag aanduidend van die tydsgees en die meeste mans in die NG Kerk se siening oor die vrou binne dié se strukture, naamlik 'onderdanig'. Ook Christina Landman (1994:119) is daarvan oortuig dat die vrou van die 1990's steeds nie bevry staan van patriargale oorheersing nie en waag dit om in haar navorsing na die 'motherhood of God' te verwys. Gevolglik is haar boek onder konserwatiewe Afrikaners as 'byna ketters' beskryf (Du Pisani 1996:243).

In die NG Kerk se soeke na klarigheid oor die vraag of 'n vrou as predikant mag dien al dan nie, lees 'n mens dieselfde struikelblok van 'teenstrydige Bybelse interpretasies' (Du Pisani 1996:247) raak wat dikwels ook in die debat oor homoseksuele gebruik word:

It is clear that the differences between those pro and contra the admission of women to the special offices boil down to a different approach to the way in which we should apply the relevant biblical data to our own time and in our own situation. (Jonker 1975:10)

Hier wil ek die leser graag na my 2016-artikel verwys en spesifiek na die afdeling wat 'Jesus en die gemarginaliseerdes' (Vermeulen 2016:4) gemerk is. Die voortgesette (kerk)besprekings 'oor mense asof hulle objekte is' (Niemandt, soos aangehaal in Jackson 2013) as gevolg van teenstrydige bybelse interpretasies staan in direkte kontras met Jesus se inklusiewe teologie en aardse bediening.

In die NG Kerk se volgehoue bespreking en hantering van vroue ('asof hulle objekte is') in die vorige eeu is die patriargale strukture van die Afrikaner in die kerk se konstitusie gehandhaaf en lidmate dienooreenkomstig gekondisioneer (Buchner 1991:7). Eers in 1986 is daar finaal besluit om die vrou tot die diakenamp te bevestig en eers in 1990, na intense debatvoering en dikwels sterk teenkanting en beswaarskrifte, is vrouens tot die ampte van ouderling en leraar toegelaat (Du Pisani 1996:258, 260, 261). Die NHKA laat vroue sedert 1973 tot die amp van diaken toe en sedert 1978 as ouderlinge en leraars (Nadel 1985:34-36) terwyl die GKSA in 2015 nog steeds geweier het om vroue as leraars en ouderlinge te bevestig (Jackson 2016a) (sien Tabel 1).

Tydens die 2015 Algemene Sinode van die NG Kerk was slegs 30 van die 200 afgevaardigdes vroulik, van wie 6 van die genoemde 30 leraars was. Daar is slegs een vrouemoderator en 219 vroue onder die 2172 predikante en proponente van die NG Kerk - dit wil sê slegs 10% (Lüneburg 2015).

Dit is duidelik dat vroue in die NG Kerk nie deel van die heteroseksuele, wit, manlike ingroep is nie en dat dit laasgenoemde groep baie lank geneem het (eers teen die einde van die 20ste eeu) om oor eersgenoemdes se rol in die erediens te beslis. Die GKSA sien tans geen rol vir die vrou in die erediens buiten dié van diaken nie.

Ander rasse

Die rol wat die NG Kerk gespeel het in die regverdiging en onderhoud van apartheid kan nie ontken word nie:

The Dutch Reformed Church was one of the pillars that provided ideological backing for apartheid. It was very important in justifying apartheid. It was also important in that it in some ways during the worst excesses acted as a check on apartheid atrocities so that it could maintain its Christian veneer. However, in other cases it justified human rights abuses. It had a mild inhibitor affect at times but many times it made crimes acceptable. The Dutch Reformed Church (DRC) helped apartheid tie the Black and Red threats together as a challenge to white, Christian and western values. The DRC chaplains blessed soldiers before they went into Angola and then days later when they committed human rights abuses did little to stop them. They then later turned their backs on them and washed their hands of them. (Du Toit, soos aangehaal deur Cooper & Klocek 2009)

Na die dood van 69 mense in Sharpeville wou die Wêreldraad van Kerke (WRK) weet wat die NGK gaan doen om die plofbare politieke situasie te ontlont. Daar is 'n beraad in Cottesloe, Johannesburg, gereël waarop die WRK onder andere verklaar het dat gesamentlike aanbidding, gemengde huwelike, reg op algemene grondbesit en verteenwoordiging van ander rasse in die parlement nie op grond van bybelse beginsels belet kan word nie. Dit was natuurlik lynreg in botsing met Suid-Afrika se apartheidsbeginsels van daardie tyd en gevolglik het die NG Kerk kontak met die WRK verbreek. Ander rasse is eers weer in 1986 in die NG Kerk se eredienste verwelkom (Jackson 2016b).

'n Dekade later, in 1997, berig Thiel (1997) in die Mail & Guardian: 'NGK still not really sorry for Apartheid'. In die berig wys Thiel daarop dat Freek Swanepoel (moderator van die Algemene Sinode van 1994) van mening is dat niks in die Bybel rasse daarvan weerhou om in segregasie te lewe nie. Swanepoel was deel van 'n afvaardiging wat weer lidmaatskap met die WRK wou bewerkstellig. Laasgenoemde het egter versoek dat die NG Kerk apartheid moes verwerp en as sondig en verkeerd bestempel, nie alleen die instandhouding en effekte daarvan nie, maar ook die fundamentele beleid in sy volle omvang. Swanepoel se reaksie daarop was om daarop te wys dat 'n kommissie aangestel is om die saak te ondersoek. Beyers Naudé word in die artikel aangehaal:

[NGK] must apologise for everything connected with apartheid, but I fear this might not happen. This could lead to another split in the church and could harm its standing. Some members of the church might join the Afrikaanse Protestantse Kerk.

Van Wyk (1999:204) wys daarop dat die NG Kerk, NHKA en GKSA besluit het om nie 'n openbare skuldbelydenis aangaande apartheid te doen nie, hoewel sekere individue in hulle persoonlike hoedanighede dit wel gedoen het. In 2002 het die NG Kerk ''n Jaar van hoop-veldtog' ten opsigte van versoening, armoede en moraliteit geloods, maar dit was steeds nie 'n eksplisiete skuldbelydenis oor die NG Kerk se aandeel in apartheid nie en die sinodebesluit aangaande die veldtog het glad nie na 'apartheid' verwys nie (Van Niekerk 2002:164). In 2010 het slegs 58.8% van die afgevaardigdes van die NHKA gestem dat apartheid 'strydig met die evangelie' is en dit het in 2013 tot kerkskeuring gelei met die stigting van die Bond van Onafhanklike Hervormde Kerke (Dreyer 2013). Die GKSA het hulle stilswye rondom apartheid regverdig met die feit dat:

[D]aar in 'n bepaalde sin tog aangevoer [kan] word dat van die drie Afrikaanse kerke, die GKSA die meeste daarin geslaag het om die grootste distansie tussen kerk en apartheid te handhaaf.9 (Van Wyk 2003:562)

Die NG Kerk het ook 'n pad met die belydenis van Belhar gestap wat uiteindelik in 2015 nie met 'n meerderheid van stemme as 'n vierde belydenisskrif deur die Algemene Sinode aanvaar is nie. Daar is wel ruimte gelaat vir streeksinodes om die belydenis te aanvaar, mits daar met 'n meerderheid stemme ten gunste daarvan besluit word. Helaas was daar appèlle teen hierdie vergunning van die Algemene Sinode (Jackson 2016c).

Tans sluit die breë NG Kerk-familie die NG Kerk in Afrika, die NG Sendingkerk (wat in 1986 verenig het tot die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika) en die Reformed Church in Africa in. Hoewel die NG Kerk die kerkherenigingsproses as 'n 'hoë prioriteit' beskou in Wie is ons (Nederduits Gereformeerde Kerk 2017), ag die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGKSA) die NG Kerk se aanvaarding van die Belhar-belydenis as die eerste stap tot kerkhereniging. Die uitgebreide stemproses wat in die NG Kerk vereis word om Belhar te aanvaar maak egter hierdie hereniging onmoontlik (Jackson 2016c).

Gevolglik is dit nie vergesog om uit die bespreking hierbo af te lei dat ander rasse nie deel het aan die heteroseksuele, wit, manlike ingroep van die NG Kerk nie.

Die LGBTIQ-gemeenskap

Dit is interessant dat die NG Kerk homself hoofsaaklik op die bestudering van homoseksualiteit toespits. Oor die BTIQ-gemeenskap swyg die kerk - miskien beter so, gesien in die lig van die kerk se optrede teenoor gay persone. Die besluite van die Algemene Sinode wissel van veroordelend (1986) tot aanvaarding (2015) en uiteindelik weer uitsluiting (2016) (sien Figuur 1).

Tydens die Algemene Sinode van 2015 (Bybel-Media 2015a) is besluit dat gaypredikante wat in 'n gayverhouding is wel gelegitimeer kan word (voorheen is vereis dat hulle selibaat moet lewe). Predikante wat hulle weg oopsien, sou ook selfdegeslagverbintenisse in die kerk kon voltrek. Na verskeie appèlle is hierdie besluite eers uitgestel. 'n Buitengewone Algemene Sinode is in 2016 belê waartydens 2015 se besluite ter syde gestel is. Die NG Kerk het dus binne die bestek van 'n jaar 'n U-draai gemaak in sy besluitnemingsproses (Steyn 2015).

Na die Sinode se besluite van 2016 stuur Dirkie van der Spuy 'n brief aan die Moreletapark Gemeente waarin hy die wonderwerk beskryf waarin God die ongelukkige besluite van 2015 kom regstel het. Verskeie leraars het hierteen gereageer en Van der Spuy se brief as 'roekeloos' beskryf, veral omdat die skrywe impliseer dat die besluite van die 2015-Sinode 'in stryd is met God en sy Woord' (Steyn 2016). Hierop het die voorsitter, ondervoorsitter en algemene sekretaris van die moderamen van die Algemene Sinode (wat Van der Spuy insluit) gereageer dat dit Van der Spuy se vrye reg was om sy opinie aan sy eie ondersteuningsgroep uit te spreek (Claassen, Van der Spuy & Janse van Rensburg 2016).

Dit is heel duidelik dat die LGBTIQ-gemeenskap nie deel van die heteroseksuele, wit, manlike ingroep van die NG Kerk vorm nie. Miskien som Landman (2015) die situasie in die Afrikaanse reformatoriese kerk die beste op:

Dis of 2015 hom in die Teater van die Absurde afgespeel het. Eers het die NG Kerk besluit gays is mense. Asof 'n kerk daaroor kan besluit. En toe wonder die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) hoe die NG Kerk gays so gemaklik kan aanvaar, maar glad nie regkom met Belhar nie. En toe draai die gay-saak teen die NG Kerk en byt hom. Nou appelleer die kerk teen homself om te besluit of gays wel siele het. En die Doppers voel nog steeds dat vroue se siele te suiwer vir die rowwe wêreld van die kansel is.

Die NG Kerk se hantering van vroue, ander rasse en die LGBTIQ-gemeenskap is sonder twyfel diskriminerend. In alle besprekings rondom mense, hulle lewenstyl en insluiting in die ingroep van die kerk is dit die heteroseksuele witman (as ingroep) wat 'oor mense praat asof hulle objekte is' en die finale besluite aangaande diesulkes neem.

 

Gevolgtrekking

Dit is vir my duidelik dat die NG Kerk - ek het soms na die NHKA en GKSA ook verwys - nie 'n inklusiewe benadering tot alle mense handhaaf nie. Hierdie instansie se hantering van gemarginaliseerdes soos vroue, ander rassegroepe en die LGBTIQ-gemeenskap is sprekende voorbeelde hiervan. Die nimmereindigende debatte 'oor mense asof hulle objekte is' wat nie aan die inherente eienskappe van die heteroseksuele, wit, manlike ingroep voldoen nie, is op kontrasterende Bybelverklarings gebaseer. Selde was die bevoordeling van die ingroep se belange so opsigtelik as in die U-draai van die buitengewone Sinode van 2016 se besluite. Tydens hierdie gebeure is selfs God se wonderbaarlike ingryping gebruik om die ingroep se belange te regverdig en te verdedig (sien Dirkie van der Spuy se brief in Claassen et al. 2016). (Per implikasie is die heteroseksuele witman en God se visie vir sy kinders identies.)

Die handhawing en bevoordeling van die ingroep se belange vorm die basis van diskriminasie in die NG Kerk (na aanleiding van Greenwald & Pettigrew 2014) en kortwiek dus 'n inklusiewe benadering in die kerk se strukture en teologie - iets wat in skerp kontras teenoor Jesus se aardse bediening staan. Soos reeds aangetoon in my 2016-artikel is die gebruik van inklusiewe taal júis van waarde wanneer 'n inklusiewe gemeenskap bedien word.

Die verset van Flam en Vonkk om inklusiewe en uitbreidende taal te gebruik is vir my nou duideliker. Ek is van mening dat die twee werkgroepe se verset teen die gebruik van inklusiewe taal verstaan kan word in die lig van die eksklusiewe belange van die NG Kerk se ingroep. Die diskriminerende aksies van die ingroep maak die gebruik van inklusiewe taal oneffektief en onlogies, aangesien dit nie die ingroep se belange dien nie.

In so 'n eksklusiewe geloofsklub waarin die eensydige belange van die ingroep voorkeur geniet, stem ek saam met Flam en Vonkk dat inklusiewe taal 'geforseerd' is.

 

Epiloog

Ek is al daarvan beskuldig dat ek nie sensitief staan teenoor die standpunte van die sogenaamde konserwatiewe teologie nie, moontlik omdat ek laasgenoemde progressief met diskriminerende ekslusiwiteit assosieer. My verweer is gewoonlik: 'Ek het konserwatiewe teologie vir meer as dertig jaar met respek benader, sou die konserwatiewe teoloë my uiteindelik dieselfde sensitiwiteit gun?'

Maar ek wil in alle eerlikheid baie meer sê. Miskien as volg:

The Church at large has a lot of work to do. It needs to figure out how to understand and express morality in a way that doesn't always revert to people's bedrooms and bathrooms, one that transcends body parts and personal plumbing. It needs to find a way to de-weird sex in its own corporate head, so that it can begin to figure out how to talk about these things in responsible, reasonable, and emotionally healthy ways - or it will continue its steady march toward irrelevance and continue to do incredible damage in the process.

Conservative Christian men in particular, need to own their unhealthy preoccupation with sex and their proclivity toward policing the world. They need to learn how to respect, encourage, and defer to strong women in their midst. They need to learn how to move in respect and not fear toward the LGBTQ community. Regarding sex, gender, and sexuality, they need to jettison a heavy, cumbersome burden of dangerous theology, guilt-peddling, and shame-throwing.

For their own sake and for the sake of those their lives impact, these men need to get their hands off of other people's private parts, their noses out of other people's bedroom business, and their minds out of the gutter. Then they, like Jesus - might be free to actually major in love and to do something beautifully redemptive here. (Pavlovitz 2017)

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Barton, M., 2009, 'Gender-bender God: Masculine or feminine?', Black Theology 7(2), 142-166. https://doi.org/10.1558/blth.v7i2.142        [ Links ]

Bingemer, M.C., 1989, 'Reflections on the Trinity', in E. Tamez (red.), Through her eyes: Women's theology from Latin America, pp. 56-80, Orbis, New York.         [ Links ]

Boyce-Tillman, J., 2014, In tune with heaven or not: Women in Christian liturgical music, Peter Lang, Bern.         [ Links ]

Brewer, M.B., 1999, 'The psychology of prejudice: Ingroup love or outgroup hate?', Journal of Social Issues 55, 429-444. https://doi.org/10.1111/0022-4537.00126        [ Links ]

Bringle, M.L., 2013, 'Decisions about language in glory to God', viewed 24 March 2017, from http://www.pcusastore.com/Content/Site119/Basics/7432Decisionsab_00000083924.pdf        [ Links ]

Buchner, E.P., 1991, 'Die vrou as predikant: Enkele konsekwensies in die gereformeerde bediening', BTheol.-skripsie, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.         [ Links ]

Bybel-Media, 2015a, 'Algemene Sinode 2015', geraadpleeg 07 April 2017, by www.bybelmedia.org.za/sinode/        [ Links ]

Bybel-Media, 2015b, 'Die pad met selfdegeslagverhoudings', geraadpleeg 07 April 2017, by http://atlas.bybelmedia.org.za/wpcontent/uploads/sites/73/2015/10/PadMetInfographic.jpg        [ Links ]

Claassen, G., Van der Spuy, D. & Janse van Rensburg, N., 2016, 'Dirkie se e-pos sy vrye reg', e-Kerkbode, 18 November, geraadpleeg 07 April 2017, by http://kerkbode.christians.co.za/2016/11/18/dirkie-se-e-pos-sy-vrye-reg/        [ Links ]

Cooper, I. & Klocek, J., 2009, 'A discussion with Fanie du Toit of IJR on the role of the Dutch Reformed Church in South Africa's history', Berkley Center for Religion, Peace & World Affairs, 22 May, viewed 07 April 2017, from https://berkleycenter.georgetown.edu/interviews/a-discussion-with-fanie-du-toit-institute-for-justice-and-reconciliation-on-the-role-of-the-dutch-reformed-church-in-south-africa-s-history        [ Links ]

Daly, M., 1973, Beyond God the Father: Toward a philosophy of women's liberation, Beacon, Boston, MA.         [ Links ]

Dixon, J., Levine, M., Reicher, S. & Durrheim, K., 2012, 'Beyond prejudice: Are negative evaluations the problem and is getting us to like one another more the solution?', Behavioral and Brain Sciences 35, 411-425. https://doi.org/10.1017/S0140525X11002214        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2013, 'Die Hervormde Kerk en apartheid', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(1), Art. #1944, 7 bladsye. https://doi.org/10.4102/hts.v69i1.1944        [ Links ]

Du Pisani, J.A., 1996, 'Die Afrikaanse vrou se posisie in kerk en samelewing: Evolusie van die Nederduits Gereformeerde Kerk se standpunt', Koers 61(3), 241-269. https://doi.org/10.4102/koers.v61i3.598        [ Links ]

Eicher, D. (ed.), 2013, Glory to God: The Presbyterian hymnal, Presbyterian Publishing Corporation, Louisville, KY.         [ Links ]

Engelbrecht, F., 2014, 'Flam', e-pos, 02 Oktober faani.engelbrecht@gmail.com        [ Links ]

Evangelical Lutheran Church in America, 2013, How is language used in worship?, viewed 24 March 2013, from http://download.elca.org/ELCA%20Resource%20Repository/How_is_language_used_i n_worship.pdf        [ Links ]

Evangelical Lutheran Church in America, 2017, About, viewed 24 March 2017, from https://www.elca.org/en/About        [ Links ]

Gaertner, S.L., Dovidio, J.F., Banker, B.S., Rust, M.C., Nier, J.A., Mottola, G.R. et al., 1997, 'Does racism necessarily mean anti-Blackness? Aversive racism and pro-Whiteness', in M. Fine, L. Powell, L. Weis & M. Wong (eds.), Off white: Readings on race, power, and society, pp. 167-178, Routledge, Londen.         [ Links ]

Greenwald, A.G. & Pettigrew, T.F. 2014, 'With malice toward none and charity for some: Ingroup favoritism enables discrimination', American Psychologist, 69(7) Oktober, viewed 24 March 2017, from https://faculty.washington.edu/agg/pdf/Greenwald&Pettigrew.MaliceTowardNone.AP.2014.pdf        [ Links ]

Groothuis, R.M., 1997, Good news for women: A Biblical picture of gender equality, Baker, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Jackson, N., 2002, 'Seksistiese taal in "Liedboek" sluit uit, sê Landman', Die Beeld, 19 Julie, bl. 13.         [ Links ]

Jackson, N., 2013, 'G'n besluit oor homoseksueles', Die Burger, 11 Oktober, geraadpleeg 23 Oktober 2014, by http://www.netwerk24.com/nuus/2013-10-11-gn-besluit-oor-gays?redirect_from=dieburger        [ Links ]

Jackson, N., 2015, 'Gaymening dui op skuif', Volksblad, 09 Julie, bl. 7.         [ Links ]

Jackson, N., 2016a, 'GKSA sê weer nee vir vrouepredikante', e-Kerkbode, 05 Februarie, geraadpleeg 06 April 2017, by http://kerkbode.christians.co.za/2016/02/05/gksa-se-weer-nee-vir-vrouepredikante/        [ Links ]

Jackson, N., 2016b, 'NG Kerk word volle lid van die Wêreldraad', e-Kerkbode, 27 Junie, geraadpleeg 06 April 2017, by http://kerkbode.christians.co.za/2016/06/27/ng-kerk-word-volle-lid-van-die-wereldraad/        [ Links ]

Jackson, N., 2016c, 'Belhar bly die lakmoestoets vir eenheid', e-Kerkbode, 06 Oktober, geraadpleeg 07 April 2017, by http://kerkbode.christians.co.za/2016/10/06/belhar-bly-die-lakmoestoets-vir-eenheid/        [ Links ]

Jonker, W.D., 1975, Die Bybel en Gods wil vir ons lewe, NG Kerk Uitgewers, Kaapstad.         [ Links ]

Klopper, F., 2002, 'Women, monotheism and the gender of God', In die Skriflig 36(3), 421-437. https://doi.org/10.4102/ids.v36i3.516        [ Links ]

Landman, C., 1994, The piety of Afrikaans women, diaries of guilt, Institute for Theological Research, Unisa, Pretoria.         [ Links ]

Landman, C., 2015, 'Hoe kan die kerk nóg 'n jaar lank stilbly?', Netwerke 24, 30 Desember, geraadpleeg 07 April 2017, by http://www.netwerk24.com/Stemme/Menings/christina-landman-hoe-kan-die-kerk-nog-n-jaar-lank-stilbly-20151230        [ Links ]

Le Roux, E., 2010, ''n Johannese perspektief op die huwelik, geslagsrolle en seksualiteit in 'n postmoderne konteks', Verbum et Ecclesia 31(1), geraadpleeg 24 Maart 2017, by http://www.ve.org.za/index.php/VE/article/view/347/330        [ Links ]

Louw, J., 2017a, 'Vonkk', e-pos, 03 Februarie, jacques.louw@absamail.co.za        [ Links ]

Louw, J., 2017b, 'Vonkk', e-pos, 19 Februarie jacques.louw@absamail.co.za        [ Links ]

Lüneburg, L., 2015, 'Algemene Sinode van die NG Kerk gekenmerk deur Rubicon-besluite', Maroelamedia, 13 Oktober, geraadpleeg 06 April 2017, by http://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/algemene-sinode-van-die-ng-kerk-gekenmerk-deur-rubicon-besluite/        [ Links ]

McIntosh, E., 2007, 'The possibility of a gender-transcendent God: Taking Macmurray forward', Feminist Theology 15(2), 236-255. https://doi.org/10.1177/0966735007072034        [ Links ]

Merriam, S.B., 2009, Qualitative research: A guide to design and implementation, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

Merriam-Webster.com, 2017, 'Ingroup', viewed 05 April 2017, from <https://www.merriam-webster.com/dictionary/in-group>         [ Links ]

Mollenkott, V.M., 1983, The divine feminine: The biblical imagery of God as female, Crossroad, New York.         [ Links ]

Moorhead, J.H., 1999, World without end: Mainstream American Protestant visions of the last things, 1880-1925, Indiana University Press, Bloomington, IN.         [ Links ]

Nadel, B.A., 1985, 'Die posisie van die vrou in die kerk met betrekking tot die ampte', BTh.-skripsie, Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein.         [ Links ]

Nederduits Gereformeerde Kerk, 2017, Wie is ons?, geraadpleeg 07 April 2017, by http://ngkerk.org.za/geskiedenis        [ Links ]

Pavlovitz, J., 2017, 'Conservative Christian men's weird sexual addiction' [Blog-inskrywing], in Stuff that needs to be said, viewed 08 April 2017, from http://johnpavlovitz.com/2017/03/31/conservative-christian-mens-weird-sexualaddition/?utm_campaign=coschedule&utm_source=facebook_page&utm _medium=John+Pavlovitz        [ Links ]

People of the United Methodist Church, 2015, 'Data Services', viewed 24 March 2017, from http://www.umc.org/gcfa/data-services        [ Links ]

Presbyterian Church (USA), 2016, 'News and announcements', viewed 24 March 2017, from https://www.pcusa.org        [ Links ]

Ross, S.A., 2004, 'Can God be a bride?', America, 01 November, 12-15.         [ Links ]

Snyman, G.D., 2007, Om die Bybel anders te lees: 'n Etiek van Bybellees, Griffel Media, Pretoria.         [ Links ]

Spencer, A.B., 2010, 'Does God have gender?', Priscilla Papers 24(2), 5-12.         [ Links ]

Steyn, P., 2015, 'NG dominee bedank ná kerk kleitrap oor gays', Netwerke 24, 18 November, geraadpleeg 07 April 2017, by http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/ng-dominee-bedank-na-kerk-kleitrap-oor-gays-20151118        [ Links ]

Steyn, P., 2016, 'Steun vir brief teen Dirkie van der Spuy groei tot 654', Netwerke 24, 18 November, geraadpleeg 7 April 2017, by http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/steun-vir-brief-teen-dirkie-van-der-spuy-groei-tot-654-20161118        [ Links ]

Thiel, G., 1997, 'NGK still not really sorry for apartheid', Mail & Guardian, 12 September, viewed 7 April 2017, from https://mg.co.za/article/1997-09-12-ngk-still-not-really-sorry-for-apartheid        [ Links ]

United Methodist Church's task force on language guidelines, 1990, Words that hurt, words that heal: Language about God and people, Graded Press, Nashville, TN.         [ Links ]

Van Niekerk, A., 2002, 'Apartheid en armoede: Wat moet die NG Kerk bely?', Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 43(1&2), 164-176.         [ Links ]

Van Wyk, J.H., 1999, 'Skuldbelydenis in teologiese perspektief', In die Skriflig 33(2), 203-224. https://doi.org/10.4102/ids.v33i2.624        [ Links ]

Van Wyk, J.H., 2003, '350 Gereformeerd: Gestaltes en uitdagings - 'n blik vanuit die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika', In die Skriflig 37(3), 557-573. https://doi.org/10.4102/ids.v37i3.482        [ Links ]

Vermeulen, O., 2016, 'Agter elke man: Onderweg na inklusiewe taalgebruik in die Afrikaanse kerklied', HTS Teologiese Studies 72(1), a3043:1-9.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Ockie Vermeulen
ockievermeulen@yahoo.com

Received: 10 Aug. 2017
Accepted: 16 Dec. 2017
Published: 30 Apr. 2018

 

 

1 . Flam (sien www.flam.co.za) en Vonkk (sien www.vonkk.co.za) is werkgroepe wat belas is met die skep van nuwe Afrikaanse kerkliedere.
2 . Wanneer ek op Vonkk se webwerf na die ledesamestelling (soos op 04 April 2017) kyk, is dit opmerklik dat 'al die teoloë' witmans is.
3 . Omdat hierdie 'n opvolgartikel is, sou die lees van die 2016-artikel aanbeveel word, voordat die leser die nuwe artikel aanpak.
4 . Ek het lank nagedink oor 'n alternatief vir 'verset' en woorde soos 'boikot', 'huiwering', 'halsstarrigheid', 'onwilligheid', en andere het by my opgekom. Van al die woorde, dink ek, is 'verset' die beste keuse.
5 . Ek het besluit om my ondersoek tot Amerika te beperk ter wille van die artikel se omvang, aangesien ek meer vertroud met die Amerikaanse situasie is as met dié van Europa, alhoewel laasgenoemde op sigself 'n interessante studie behoort te wees.
6 . Merriam Webster se aanlynwoordeboek beskryf 'ingroep' ('ingroup') as: 'a small group of people who share a particular interest or activity and who do not allow other people to join their group' (Merriam-Webster.com 2017). Daarteenoor verwys die woord 'uitgroep' na diégene wat deur die ingroep uitgesluit word.
7 . Die term 'Mainstream American Protestant' is deur Moorhead (1999:22) genuanseer.
8 . LGBTIQ: lesbian, gay, bisexual, trans, intersexual, questioning or queer. Kyk na http://www.uas.alaska.edu/juneau/activities/safezone/docs/lgbtiq_terminology.pdf vir verdere begripsverklarings.
9 . So 'n passiwiteit laat 'n mens onwillekeurig dink aan die gesegde 'All that is necessary for the triumph of evil is that good men do nothing' ('n aanhaling wat meestal aan Edward Burke toegeskryf word, maar ewenwel deur John Stuart Mill gekonseptualiseer kon wees).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License