SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 número5  suppl.11 índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


HTS Theological Studies

versão On-line ISSN 2072-8050
versão impressa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 no.5 supl.11 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i5.4516 

HOOFSTUK 9

 

Mistifikasie en geloof: Dekonstruksie van geloofsverstaan in kategesemateriaal van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika

 

 

Gabriël M.J. (Gafie) van Wyk

Department Church History and Church Polity , Faculty of Theology, University of Pretoria. South Africa

 

 


OPSOMMING

Die voortgesette proses van implementering van nuwe materiaal wat gebruik word vir katkisasie in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika vertoon 'n besondere trajek. Die proses het, in terme van geloof, begin met die formalisering van sowel die geloofsbegrip as die beskrywing van die inhoud van geloof. Dit is voortgesit deur 'n proses van die objektivering van die inhoud van geloof tot feite wat geleer kan word en is uiteindelik voltrek deur die implementering van 'n pragmatiese opvoedkundige doelwit waarin geloof bloot 'n middel tot 'n doel geword het. Die trajek kan kortliks soos volg beskryf word:
Die Heidelbergse Kategismus Geloof is die aanneming van die beloftes van God wat vertroue in die lewende God skep.
'Kortbegrip': Geloof is sekere kennis van God en sy beloftes en 'n hartlike vertroue dat al my sondes om Christus ontwil vergewe is.
Die belydenis van die Hervormers: Ek glo in God beteken dat ek al my vertroue op God stel en Hom op sy woord neem.
Geloofsleer: Geloof is kennis van die Woord van God en vertroue in die God van die Woord.
Geloof en Lewe 11: Geloof is die toe-eiening van kenbare geloofoorleweringe wat in die Bybel opgeneem is. Die kerk kan daarom kinders deur 'n proses van kategese begelei tot geloofsvolwassenheid.
Vandag is die uitgangspunt van katkisasie en die motivering daarvoor in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika die oortuiging dat die kerk kinders deur 'n proses van kategese tot godsdienstige volwassenheid kan lei.
Van Selms se kategismus pas nie in die trajek wat hier beskryf word nie. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika sou vandag heeltemal anders gelyk het as meer as een generasie van die lidmate van die Kerk aan hierdie kategeseboek blootgestel was.


 

 

Inleiding

In die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het die Apostoliese Geloofsbelydenis waarskynlik die hoogste gebruiksfrekwensie van al die belydenisdokumente wat in die Kerk gebruik word. Vanselfsprekend is dit van besondere belang vir die Kerk. Die Symbolum Apostolicum is in die ware sin van die woord 'n belydenis - 'n dokument met die performatiewe funksie167 om dit wat geglo word in woorde te bely.168 Die dokument is geskep en word gebruik om die Christelike geloof te bely. Dit definieer of omskryf nie geloof as 'n objektiewe entiteit (fides qua creditur, [geloofshandeling]) nie, maar maak 'n geloofsuitspraak. Die credo-uitspraak van die Symbolum Apostolicum betrek nie alleen die gelowige wat geloof bely by die belydenis wat afgelê word nie, maar bepaal ook die hegte verband tussen al die dele van die geloofsbelydenis as uitspraaksamehang wat 'n beskrywing bied van die inhoud van die geloof (fides quae creditur [geloofsonderwerp of geloofsinhoud]). Wat bely word, geld in die geheel as geloofsuitspraak, en alleen as geloofsuitspraak is wat gesê word legitiem (Ebeling 1975a:251-252; Van Wyk, G.M.J. 2016b:4 van 9). Die teks van die Apostolicum kan daarom nie geld as 'n reeks geloofsvoorskrifte waarvan die belydenisuitsprake oor die fides quae creditur as 'n lys van objektiewe feite169 verstaan word wat elkeen afsonderlik histories bewys kan word nie (Ebeling 1975a:249, 1975b:282; Van Wyk, G.M.J. 2016b:4 van 9).170 Reeds vanuit 'n sintaktiese oogpunt is dit duidelik dat dit in die uitsprake van die Apostolicum oor 'n ondeelbare geheel handel en nie oor die som van die afsonderlike aangeleenthede wat ter sprake kom nie. In wese bely ons byvoorbeeld met die tweede artikel van die Apostolicum 'Ek glo in Jesus Christus' of selfs net 'Ek glo in Jesus'. Daarmee word wesentlik alles van belang uitgespreek. Alles wat verder in die tweede artikel bely word, moet as verheldering van hierdie geloofsuitspraak dien, anders is dit illegitiem. Alles wat in die tweede artikel van die Apostolicum naas die woorde 'Ek glo in Jesus' bely word, het alleen relatiewe reg in soverre dit op die sentrale uitspraak van die artikel betrekking het. Die neweskikkende aaneenryging van die uitsprake in belydenis is nie moontlik nie. Gelowiges glo byvoorbeeld nie in die maagdelike geboorte en daarnaas ook in die opstanding en dan ook nog in die hemelvaart of die wederkoms nie. Gelowiges glo in Jesus Christus, wat (<jui) ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria. Die relatiewe uitbreidings in die belydenis het egter nie blote dekoratiewe waarde nie. Dit bied verstaanshulp oor die intensie van die belydenis en dien ook as kriteria om die verwatering of die vervalsing van die primêre uitspraak van die artikel teë te werk. Die samehang waaroor dit in die belydenis gaan, word nie deur 'n idee bepaal nie, maar deur historiese gebeure (Ebeling 1975a:253). Christelike geloof is geloof in die persoon Jesus Christus en nie geloof in 'n kanon van heilsfeite nie. In hierdie verband verskil Reformatoriese teologie van sowel Rooms-Katolieke teologie (wat die kerklik uitgelegte uitsprake van die Skrif as leerstellings van die kerklike amp aanbied wat nie krities hanteer mag word nie, omdat dit ondersteun word deur die onfeilbaarheidsaanspraak van die kerk) as van ortodokse Protestantse teologie (wat die uitsprake van die geloofsbelydenis verselfstandig tot afsonderlike abstrakte dogmatiese formulerings van 'n aantal waarhede) (Ebeling 1979:30-33). In Suid-Afrika verwyt ortodokse Protestante kritiese gelowiges voortdurend daarvan dat hulle ontrou sou wees aan die 'reformatoriese erfenis' omdat hulle nie 'n volledige kanon van 'heilsfeite' sou aanvaar nie - dit, terwyl Luther self net een kriterium gebruik het om die geloofsinhoud te toets, naamlik: 'Ob sie Christum treiben oder nicht' (Ebeling 1979:32).171 Regverdiging deur geloof alleen bied daarom die inherente struktuur of onderbou wat die teologiese uitsprake van die belydenis tot 'n eenheid saambind, hoewel die segging self glad nie as 'n formulering in die belydenisteks opgeneem is nie (Ebeling 1979:28). Die Symbolum Apostolicum fokus op die inhoud van die geloof (fides quae creditur) as 'n samehangende geloofsuitspraak, wat ruimte bied vir en aanleiding gee tot die skeppende en lewendige formulering van die evangelie in die eietydse verkondiging.

 

Heidelbergse Kategismus

Friedrich III wat in 1559 die keurvors van die Paltz (Pfalz) geword het, het uit die staanspoor hom beywer om religievrede in dié gebied te bevorder waar spanning onder die bevolking geheers het vanweë uiteenlopende godsdienstige oortuigings. Die ou kerklike simbole kon nie meer as basis dien vir eensgesindheid onder die gelowiges nie. Friedrich III het deur intensiewe studie van die Bybel probeer om selfstandige insig in die verdelende teologiese vraagstukke te kry. 'n Verskeidenheid kategeseboeke was in die Paltz gebruik vir onderrig in skole en kerke. Dit het aanleiding gegee tot verwarring oor die waarheid van die evangelie. Om 'n einde te maak aan die verwarring en eenheid in leer tot stand te bring, het Frederick III aan die hele teologiese fakulteit van Heidelberg en verskeie kerklike strukture opdrag gegee om 'n taakspan te vorm met die oog daarop om 'n kategismus op te stel. Die verloop van die proses is nie meer in besonderhede bekend nie, maar dit word aanvaar dat Zacharias Ursinus, professor in dogmatiek, die leidende rol gespeel het in die opstelling van die konsepdokumente wat aan 'n kommissie voorgele was vir beoordeling en goedkeuring.172 Veranderinge wat aangebring is tydens die evaluasieproses, is nie in besonderhede bekend nie. Die keurvors het self ook sommige wysigings aangebring. In Februarie 1563 is die eerste uitgawe van die Kategismus gepubliseer. Reeds in dieselfde jaar verskyn vertalings daarvan in Latyn en Nederlands. Die goed gedokumenteerde en omvangryke teksgeskiedenis van die Kategismus getuig van verskeie verwerkings daarvan. Sedert 1571 het die Kategismus sinodale sanksie in Nederland gekry (Bakhuizen van den Brink 1976:29-39; Doekes 1979:72-79).

Die Heidelbergse Kategismus (Oberholzer 1986:7) is sedert 1652 gebruik vir kerklike onderrig in Suid-Afrika. Volgens Oberholzer (1986:7) is dit sedert 1806 as katkisasieboek geleidelik op die agtergrond geskuif en is ander boeke eerder gebruik. Hoewel die Kategismus in die kerklike praktyk op die agtergrond geskuif is, het die Nederduitsch Hervormde Kerk tog probeer om deur middel van die katkisasieboeke wat later in gebruik geneem is die Kategismus steeds indirek te laat geld in die kerklike onderrig (Barger 1972:3; Beukes 2008:35; Van der Westhuizen 1982:i, 2). As belydenisskrif het dit egter status behou tot vandag toe, soos blyk uit die onderskeie kerkordes wat in die Kerk gebruik is.

Histories-kritiese (diakroniese) ondersoek na die ontstaan van die Heidelbergse Kategismus neem in ag dat verskeie geskrifte wat as kategesemateriaal ingespan was, in die Paltz in omloop was, wat invloed op die inhoud van die Kategismus kon gehad het, onder andere 'n konsep van Casper Olevianus, en die kategismusse van Genève, ä Lasco, Zürich, Emden en Beza (Bakhuizen van den Brink 1976:29; Dreyer & Van Rensburg 2016:2 van 6). Teksvergelyking toon egter dat met sterk indirekte invloed van Melanchthon gereken moet word. Dit is nie verrassend nie, want Ursinus het sedert 1550 in Wittenberg by Melanchthon studeer, Melanchthon het Frederick III van advies bedien met die oog daarop om religievrede in die Paltz te bewerkstellig en hy was die opsteller van die offisiële nagmaalsleer van die Paltz (Doekes 1979:73).

Melanchthon ([1521] 1997) gee in sy Loci Communes van 1521 aandag aan die geloofstema. Op die vraag wat geloof is, antwoord hy dat dit is om in te stem met die ganse Woord van God (naamlik wet en evangelie) - iets wat net kan gebeur wanneer die Heilige Gees ons harte vernuwe en verlig. Volgens die Skrif wek die vermanings van die wet vrees by ons, maar die evangelie of die goddelike beloftes (promissionibus divinis) wek geloof in ons harte. 'n Mens kan nie deur die vrees van vertwyfeling of die vrees vir verdoemenis geregtigheid by God vind nie. 'n Mens vind wel geregtigheid by God deur die beloftes van God te glo. Geloof is daarom niks anders as vertroue op God se barmhartigheid wat om Christus se ontwil aan ons belowe word nie. Die vertroue wat spruit uit die toe-eiening van God se barmhartigheid bewerk vrede in ons harte, sodat ons die wet spontaan en met blydskap nakom. As ons nie glo nie, is daar geen spoor van God se barmhartigheid in ons harte nie; en wanneer dit die geval is, verag of haat ons God (Melanchthon [1521] 1997:217-219).

In sy Heubartikel Christlicher Lere, of dan die Loci theologici van 1553 beskryf Melanchthon ([1553] 2010) geloof as dat dit veel meer as net historiese kennis alleen is. Geloof kom daarop neer om die hele Woord van God wat aan ons gegee is met sekerheid as waar te aanvaar en om daarom ook die beloftes van genade te aanvaar. Verder behels dit om 'n hartlike vertroue in die Heiland Christus te hê, wat veronderstel dat God, ter wille van sy Seun, genadig ons sonde vergewe ons aanneem en ons erfgename maak van die ewige saligheid. Met verwysing na Romeine 4, stel Melanchthon, is dit duidelik dat hulle wat glo die beloftes van God sal aanneem. Daarom is geloof vertroue in die Heiland Christus. Die inhoud van die geloof wat ter sprake is, is die Symbola in geheel; dit bring troos en vrede vir die gelowiges. Christus bewerk vrede vir die gelowiges deur die werking van sy Gees. Dat 'n mens deur geloof vergewing en geregtigheid ontvang, moet 'n mens nie verstaan as dat jy deur die geloofsdaad (umb dises werks willen, welchesgenent ist 'gleuben) dit ontvang nie, maar ter wille van die Here Christus, op wie se gehoorsaamheid en verdienste die vertroue gegrond is (Melanchthon [1553] 2010:329-332). Die hoofmotiewe van Melanchthon se denke kom duidelik na vore in die Heidelbergse Kategismus.173

'n Sistematies sinkroniese analise van die Kategismus toon aan dat die Symbolum Apostolicum aan die een kant tot 'n groot mate die struktuur van 'n substansiële deel van die Kategismus bepaal,174 maar dat dit aan die ander kant die Apostolicum uitlê binne die raamwerk van die makrostruktuur van die Kategismus. Die Apostolicum word sistematies behandel in die tweede deel van die Kategismus wat oor die verlossing van die mens handel. Die Symbolum Apostolicum word in die Kategismus in Sondag 7 ter sprake gebring en dan in Sondae 8 tot 22 verklaar. Sondag 23 en 24 rond die gedagtegang oor die inhoud van die Apostolicum af deur te besin oor die mens se regverdiging deur geloof (alleen). Die Kategismus se geloofsverstaan kan nie alleen afgelees word uit vraag en antwoord 21 waarin die dokument geloof formeel beskryf in terme van die antropologiese onderskeiding van notitia [kennis of insig], assensus [toestemming] en fiducia [vertroue]175 nie, want die Kategismus gee uitvoerig aandag aan geloof in terme van die inhoud van die geloof (fides quae creditur, geloofsonderwerp of geloofsinhoud) in Sondae 8 tot 22. 'n Mens sou ook nie aan die hand van vraag en antwoord 20 kon redeneer dat die Kategismus die klem van die reformatoriese sola fide [geloof alleen] na 'alleen gelowiges' verskuif het nie. Die uitleg van die Apostolicum as die uitleg van die inhoud van die geloof (fides quae creditur) mond uit in vraag en antwoord 60 waarin die Kategismus oor sola fide [geloof alleen] handel as die sluitstuk van die hele argument wat gevoer is.

In lyn met die Apostolicum definieer of omskryf die Kategismus nie geloof bloot as 'n objektiewe entiteit (fides qua creditur, [geloofshandeling]) nie, maar maak 'n geloofsuitspraak om die inhoud van die geloof aan te dui. Die formele beskrywing van geloof dien as inleiding tot die behandeling van die inhoud van die Apostolicum maar in die beskrywing as sodanig staan die inhoud van die geloof (fides quae creditur) ook reeds sentraal.176 Die kennis, vertroue en toestemming word gerig daarop (Oberholzer 1986):

[D]at God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het. (bl. 42-43)

Die lewens- en persoonsgerigte benadering van die Kategismus is opvallend. Gemeenskap met die persoon Christus staan voorop en daarna word gevra wat Hy aan gelowiges gee. Die geloofsweg loop van die persoon na sy weldade toe (Van't Spijker 1993:63). Net so kom Christus se weldade nie as 'n algemene aangeleentheid te sprake nie, maar as weldade wat aan elke gelowige persoonlik geskenk word. Hoewel die Kategismus kennis177 as 'n struktuurmoment (Bultmann 1961:426) van geloof verstaan, maak dit ook duidelik dat Bybelse geloof nie primêr met die relasie 'ken-weet' te make het nie, maar wel met die relasie 'vertrou-bestaan' (Lochman 1982:27).178 Dit gaan in die geloof wel oor verstaan, want geloof is nie 'n blinde redelose daad nie. In hierdie verband het die Kategismus 'n polemiese ondertoon (Calvyn [1559] 1982: boek III, hfst. 2.2; Haitjema 1962:48, 51; Miskotte 1947:97-98; Van't Spijker 1993:56). Ursinus ([1602] 1989) skryf:

Dit dient tot weerlegging van het 'ingewikkelde' geloof van het pausdom, waar men beweert te geloven hetgeen 'de kerk' gelooft, zonder het geloof van die kerk te kennen of te verstaan. (bl. 148)

Die waarheid waarom dit vir die gelowiges gaan, is egter nie alleen 'n verstaanswaarheid in die sin van beskrywende kennis nie, maar wel kennis in die sin van persoonlike ervaring wat in liefde en trou ingebed is. Die Kategismus verstaan geloof nie as kennis van 'n aantal waarhede nie, maar as kennis van die waarheid - en dié waarheid is Christus (Miskotte 1947:99). Die veelheid van die geloofsartikels van die Symbolum Apostolicum wat die Kategismus behandel, word byvoorbaat as 'n eenheid ter sprake gebring en benoem: dit is die evangelie. Net so word geloof ook uit die staanspoor gekenmerk en gewaarmerk as geloof in die beloftes van God (Miskotte 1947:104).179Die waarheidsbegrip van die Kategismus fokus nie in die eerste plek op die ontoeganklike geheimenisse van die kerklike leer nie, maar op vertroue in die lewende God180 teen die agtergrond van voortdurende versoekings en aanvegtinge van die geloof. Die geloof is in God se verbond van trou met die mens geanker. By die geloof gaan dit om standvastigheid, nie in die sin van geloof as besit of lewensversekering nie, maar in die sin van vertroue, gerigtheid en oriëntering. Geloof is nie die securitas [onbesorgdheid] van die kenner nie, maar die certitudo [sekerheid] van die persoon wat vertrou.181Radikale vertroue op God is niks anders nie as om jou eie besorgdheid en mag prys te gee en gehoorsaam jou sorge voor die voete van God te lê nie. Geloof is daarom nie algemene vertroue op God nie, maar vertroue wat spesifiek in God se heilsdaad (die kruis van Christus) gewortel is (Van Wyk 2015:6 van 9). Ursinus ([1602] 1989:148) stel die saak soos volg: 'Dit vertrouwen is een toeëigening van de genadige kwijtschelding der zonden door en om Christus' wil.'

Vraag en antwoord 60 handel oor die regverdiging voor God deur geloof alleen (solafide). Al kla my gewete my aan dat ek teen God gesondig het en dat ek gedurig tot kwaad geneig is, het God aan my slegs deur geloof in Jesus Christus, sonder enige verdienste van my kant, uit louter genade volkome geregtigheid geskenk. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gedoen het nie en asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met 'n gelowige hart aanneem (Oberholzer 1986:85-86). Die vrug van die geloof is met ander woorde nie alleen die mens se regverdiging voor God nie, maar ook 'blijdschap in het hart en vrede in de consciëntie (Ursinus [1602] 1989:150).182 Die Kategismus gooi self wal teen die objektivering en instrumentalisering van geloof deur te stel dat ek nie op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar slegs omdat die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (Oberholzer 1986:86-87). Die aksent word nooit op die Christene met hulle geloof geplaas nie, maar op die krag van die evangelie (Van't Spijker 1993:64). Die geloof is nie die fondament van die gelowiges se behoud nie, maar die instrument waardeur die Heilige Gees gelowiges deel gee aan die genade van God (sola gratia). In geloof word die eksklusiwiteit van God se genade vir die regverdiging van die mens herken en eerbiedig. Gelowiges word geregverdig deur geloof, maar nie vanweë geloof nie (Mink 1993:219). Die geloof moet nie wetties misverstaan word as die vernaamste goeie werk nie en die gelowiges met hulle geloof moet nooit die plek van Christus inneem nie (Van't Spijker 1993:62). Geloof is nie moraal of religie nie, maar wonder, gawe van God, werk van die Heilige Gees en deelname aan die ewige, kreatiewe skeppingswerk van God (Miskotte 1947:96). Geloof is nie 'n menslike eienskap of 'n psigiese krag nie, dit het geen ander substansie as die daad van glo nie (Miskotte 1947:105).

 

Kortbegrip

Barger (1972:3) was saam met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika besorgd oor die feit dat baie katkisante wat vir 'aanneming' (die amptelike aflegging van geloofsbelydenis in 'n gemeente) aangemeld het, 'zeer weinig verstaan van 'de betekenis en inhoud der vragen van die Kategismus, ondanks die feit dat hulle die vrae en antwoorde uit die hoof geleer het. Die kerk se antwoord op die dilemma was die gebruik van 'een verkorte bewerking van de Heidelbergse Katechismus (Barger 1972:3). Terugskouend was die Kerk se benadering tot die saak baie simplisties. Die argument was eenvoudig dat 'korter' noodwendig beter verstaanbaar is. Geen oorweging word geskenk aan die moontlikheid dat die metodologie wat gevolg word of 'n veranderde verwysingsraamwerk wat die gevolg was van tydsverloop of kulturele veranderinge moontlik vervreemding in die hand kon werk nie. Die vraag waarop hier gefokus word, is of die verkorte bewerking, wat geloofsverstaan betref, getrou gebly het aan die Heidelbergse Kategismus. Word oor dieselfde geloof anders (korter) geskryf, of het ons dalk met 'n verandering van geloofsverstaan en eventueel met 'n ander geloof te make? Die vraag is net so akuut soos Paulus se vraag aan die Galasiërs in Galasiërs 1:6-7 of hulle die een (met ander woorde die enigste) evangelie verruil het vir 'n ander evangelie (wat net in naam bestaan en nie werklik evangelie is nie).

Die 'Kort Begrip der Christelijke Religie, gesteld in vragen en antwoorden, tot onderwijzing dergenen die zich eerst begeven tot het gebruik van des Heren Avondmaal' (Van Selms 2016b:1) is vermoedelik in opdrag van die kerkraad van Middelburg, Nederland, in ongeveer 1607 deur ds. Hermanus Faukelius opgestel. Heelwat dopers, wat vroeër die opvattings van veral Menno Simons gedeel het, wou in daardie tyd na die Hervormde Kerk oorgaan. Die kerkraad van Middelburg was nie geneë om 'n lang tyd van katkisasie vir hierdie volwassenes voor te skryf nie. 'n Kort samevatting van die geloofsleer van die Hervormde Kerk moes vir dié katkisasie opgestel word. Besondere aandag is aan die punte gegee waar die doper en die Hervormde se opvattings van mekaar verskil het. Die 'Kort Begrip' is in hoofsaak 'n verkorte verwerking van die Heidelbergse Kategismus (Barger 1972:3; Van Selms 2016b:1-2).

Die 'Kort Begrip' is nooit amptelik deur die Nederlandse Hervormde Kerk as kategeseboek aanvaar nie. Die behandeling daarvan was op die agenda van die Dordtse Sinode van 1618-1619 geplaas, maar geen formele besluit is oor die saak geneem nie. Hoewel dit in die praktyk algemeen gebruik is, het dit nooit amptelike sanksie van die Kerk gekry nie. Dit is wel later in die Kerkboek opgeneem, maar sonder dat 'n gesaghebbende instansie ooit daaroor besluit het (Van Selms 2016b:2).

Die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het in 1922 besluit om die Nederlandse verwerking van die 'Kort Begrip' deur ds. A.J. Barger as kategeseboek van die Kerk uit te gee (Barger 1972:3). Dit sou na die publikasie van die Afrikaanse Bybelvertaling ook in Afrikaans verwerk en uitgegee word. Reeds in 1932 word dit in Afrikaans gepubliseer as 'Kortbegrip van die Christelike godsdiens met verklaringe.'

Die opset van die 'Kortbegrip' is dieselfde as dié van die Heidelbergse Kategismus, want dit wil 'een verkorte bewerking van de Heidelbergse Katechismus' wees (Barger 1972:3). Dit geld onverkort ook vir die dele van die 'Kortbegrip' wat oor geloofsverstaan handel. Daar bestaan gevolglik nie struktuurverskille in terme van die makrostruktuur van die dokumente wat 'n aanduiding sou kon gee van teologiese klemverskuiwings tussen die twee dokumente nie. Moontlike aksentverskuiwings in die teologie van die twee dokumente wat ter sprake is, kan slegs afgelees word uit semantiese veranderinge soos retoriese variasie, verandering van die tekstuele en buite-tekstuele kontekste wat geskep word, kenmerkende nuwe aksentuering van spesifieke aspekte van die saak wat ter sprake is, verskuiwing in metaforiese referensie of selfs die betekenisse wat aan begrippe toegeskryf word, sowel as aspekte van die Heidelberger se teologie wat verswyg of oor die hoof gesien word in die 'Kortbegrip' (Louw & Nida 1988:xv-xx).

Vraag en antwoord 19 van die 'Kortbegrip' beskryf 'n opregte geloof (Barger 1972:29) as: ''n [S]ekere kennis van God en sy beloftes, wat vir ons in die evangelie geopenbaar is, en 'n hartlike vertroue dat al my sondes om Christus ontwil vergewe is.'

'n Vergelyking met die Kategismusteks (vraag en antwoord 21) toon aan dat die 'Kortbegrip' sekere aspekte uitlaat wat in die Kategismus se antwoord tereg gekom het, naamlik (1) dat ek nie alleen kennis dra van alles (die beloftes van God) wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het nie, maar dit ook vir waar aanvaar, en (2) dat die Heilige Gees die vaste vertroue wat ter sprake kom deur die evangelie in my hart werk. Dit is 'n vraag of die gedagte van assensus [toestemming] hier doelbewus uitgeskryf is en of dit onnadenkend in die slag gebly het. Die lewens- en persoonsgerigte klem wat tot uitdrukking kom in die frase (Oberholzer 1986):

[N]aamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het. (bl. 42)

word getemper met die formulering 'dat al my sondes om Christus ontwil vergewe is.' Met dié formulering word die beskrywing van die omvang van die verdienste van Christus se heilswerk vir die gelowiges ook grootliks verswyg. Die klemverskuiwing in teologie wat die gevolg is van die verskille wat hier uitgewys is, neig in die rigting dat die (fides qua creditur, [geloofshandeling]) groter klem kry teenoor die inhoud van die geloof (fides quae creditur, [geloofsonderwerp of geloofsinhoud]) en dat die pneumatologiese dimensie van geloof op die agtergrond geskuif word.183 Wat egter positief is, is dat die noue verband tussen geloof en die beloftes van God behoue bly in die 'Kortbegrip'. Hierdie verband word ook beklemtoon in vraag 20 wat as oorgangsstuk tot die behandeling van die Apostlicum dien: 'Wat is die hoofsom van wat God ons in die evangelie belowe en beveel het om te glo?' (Barger 1972:30).

Barger (1972:29-30) se verklaring van vraag en antwoord 19 beskryf die sekere kennis as 'n noukeurige kennis. Hy oordeel: 'Gebrekkige, eensydige en halwe kennis voer tot bygeloof en dwaalleer.' Kennis word deur Barger self verstaan as 'n funksie van die ratio (verstand), terwyl vertroue 'n saak van die hart is. 'n Proses waarin die fides quae creditur [geloofsinhoud] geobjektiveer word tot feite of inligting skemer deur. Die beloftes van God en die kenverhouding tussen God en die mens bepaal nie meer die karakter van die fides quae creditur nie. Dit is wel positief dat Barger in sy verklaring 'die genade van God' wat in vraag en antwoord 21 van die Kategismus ter sprake gekom het, maar in die 'Kortbegrip' se vraag en antwoord 19 oor die hoof gesien is, weer byhaal.

Net soos wat die uitleg van die Apostolicum as die uitleg van die inhoud van die geloof in die Kategismus uitmond in vraag en antwoord 60 waarin oor sola fide [geloof alleen] gehandel word as die sluitstuk van die hele argument wat gevoer is, mond dit in die 'Kortbegrip' uit in vraag en antwoord 44. Dié vraag en antwoord bring die geloofstema net in 'n relatiewe sin tot 'n hoogtepunt, want geloof kom weer ter sprake in vrae en antwoorde 45 en 48-50. Vraag 44 lui: 'Hoe is jy regverdig voor God?' Die antwoord is: 'Alleen deur 'n opregte geloof in Jesus Christus.' Barger (1972:58) se verklaring oorwoeker egter die antwoord. Hy probeer die saak ophelder deur 'n uitvoerige verduideliking aan die hand van eietydse regspleging, sonder om rekening daarmee te hou dat ons met beeldspraak te make het wat ons besonder versigtig moet uitlê (Mink 1993:220). Die antwoord op vraag 45 (Hoe is dit te verstaan dat jy alleen deur die geloof geregverdig is.?) is treffend (Barger 1972:59):

So, dat alleen die genoegdoening en geregtigheid van Christus my toegereken word deur God, waardeur my sondes my vergewe en ek 'n erfgenaam van die ewige lewe word, en dat ek dit nie anders as deur die geloof kan aanneem nie. (bl. 59)

Die verklaring 'Die geloof is die leë hand wat die mens uitsteek om Gods gawe te ontvang' verduidelik die saak goed.

 

Geloofsleer

In 1973 betree die Kerk 'n nuwe fase in die kategetiese onderrig met die ingebruikneming van die Geloofsleer (Van der Westhuizen 1982). Die doelstelling met die implimentering van die nuwe leerboek is lofwaardig - om katkisante reeds op 'n jonger ouderdom aan die onderrigstof bloot te stel wat hulle dan oor 'n langer tydperk kan bemeester. Om die katkisante hiermee te help, lees ons in die voorwoord van die boek: 'moet (daar) meer sin en gang wees in die stofaanbieding' (Van der Westhuizen 1982:i). Die kategese bly egter binne die raamwerk van die Heidelbergse Kategismus (Van der Westhuizen 1982):

Na die oordeel van die Raad vir Kategese kan dit nie beter geskied as aan die hand van die Heidelbergse Kategismus nie. Met hierdie belydenisskrif gee die kerk sy onderrig al belydende. So staan die onderrigte lidmaat midde in die onderrig van die kerk. So leer hy saam-bely, ja mee-leef. (bl. i)

Die inhoud van die onderrigstof word 'wortelfeite' of 'radikale' genoem (Van der Westhuizen 1982:1). In die inleiding tot die Geloofsleer word verder soos volg oor hierdie feite geskryf (Van der Westhuizen 1982):

Die kerk van die Hervorming het hierdie feite reeds gesistematiseer, beter as wat iemand anders kan, in 'n handboek; so goed dat hierdie boek vandag nog as 'n belydenisskrif vir ons geld. Ons kerk kan nie toesien dat sy kategese buite dié Heidelbergse Kategismus omgaan nie! (bl. 1)

Soos die 'Kortbegrip' gebruik die Geloofsleer ook die makrostruktuur van die Heidelbergse Kategismus as raamwerk vir die aanbieding van die onderrigstof. Dieselfde kriteria geld dus in die geval van die 'Kortbegrip' om moontlike klemverskuiwings in die teologiese benadering teenoor die Kategismus aan te dui.

Die Geloofsleer vra in vraag 13: 'Wat is geloof?' Die antwoord op die vraag lui: 'Geloof is kennis van die Woord van God en vertroue in die God van die Woord.' Dié vraag word opgevolg met die vraag 'Waar kom die geloofsvertroue vandaan?', waarop geantwoord word: 'Geloofsvertroue kom slegs deur die werking van die Heilige Gees deur die Woord van God' (Van der Westhuizen 1982:18-19).

Die Kategismus se antwoord op 'n variant van die eersgenoemde vraag hierbo stel dat kennis én vertroue aspekte van geloof is - kennis 'waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar' en vertroue 'dat God ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het' (Oberholzer 1986:42). Op die vraag (65), 'waar kom so 'n geloof dan vandaan?', antwoord die Kategismus: 'Die Heilige Gees werk dit in ons harte deur die verkondiging van die heilige evangelie'(Oberholzer 1986:90). Die Kategismus verstaan geloof dus as vertroue op die beloftes van God wat die Heilige Gees deur die verkondiging van die evangelie in die mens se hart werk.

Die verklaring van die twee tersake vrae en antwoorde in die Geloofsleer (Van der Westhuizen 1982) is verwarrend. Die gang van die argument wat gevoer word, is die volgende:

Geloof is die sekerheid in 'n mens dat die Bybel waar is.

Dié sekerheid (van geloof) is 'n vertroue in Jesus Christus (soos die Bybel hom aan ons bekendstel).

Hierdie sekerheid spruit voort uit die beloftes van God (wat hy in sy Woord tot ons troos geopenbaar het).

Om te kan glo moet mens die Bybel se uitleg hoor waardeur God se Gees ons sal oortuig dat wat ons ken, die Waarheid is.

Hierdeur word die oortuiging in ons hart dat Jesus die Verlosser is, deur die Heilige Gees gewerk.

Die Geloofsleer opereer baie duidelik met 'n ander waarheidsbegrip en geloofsverstaan as die Heidelbergse Kategismus. Dit gaan nie meer net oor geloof as vertroue op die beloftes van God wat die Heilige Gees deur die verkondiging van die evangelie in die mens se hart werk nie, maar ook en veral oor sekerheid in 'n mens dat die Bybel waar is. Verder word daar ook 'n voorwaarde vir geloof gestel, naamlik dat mens die Bybel se uitleg moet hoor waardeur God se Gees ons sal oortuig dat wat ons ken, die waarheid is. Wanneer hierdie klemverskuiwing saam met vraag en antwoord 15 van die Geloofsleer (Watter feite veral moet ons ken in die Woord van God? Die hooffeite van die Bybel is ...) (Van der Westhuizen 1982:20) oorweeg word, is dit duidelik dat die Bybelse waarheidsbegrip dat Christus self die Waarheid is in die Geloofsleer vir 'n positivistiese waarheidsbegrip verruil is dat wat ons ken, die waarheid is, en dat vertroue in God se beloftes moes plek maak vir sekerheid in die mens wat op feitekennis gegrond word. Die karakter van die Geloofsleer is ortodoks en nie meer reformatories nie. Geloof as vertroue op God se beloftes word op die agtergrond geskuif om plek te maak vir sekerheid omdat jy die regte geloofskennis het.

 

Geloof en Lewe 11

In 2002 verskyn die eerste uitgawe van Geloof en Lewe 11 as twee boeke, een vir die katkisant en een vir die kategeet (Beukes 2007, 2008). Die motivering wat aangebied word vir die nuwe kategeseboeke is dat dieper teologiese insigte, nuwe opvoedkundig sielkundige ontwikkeling, verandering van die katkisant se leefwêreld en verbetering van die tegnologie die nuwe boeke noodsaaklik gemaak het (Beukes 2008:3).184Agtergrondmateriaal oor die lestemas uit al die teologiese vakdissiplines is aan opvoedkundiges voorsien wat die inligting tot lesse verwerk het. Die doel van die kategese word beskryf as 'die kerk se begeleiding van sy kinders tot geloofsvolwassenheid' (Beukes 2008:4). Die moderne ideaal van die mondige mens word die uitgangspunt van die kategese, al staan dit in skrille kontras teenoor geloof as volkome (kinderlike) afhanklikheid van God.185 In terme van die geloofstema verander die sentrale vraagstelling van 'wat glo ek?' af, na 'wat dit vir my persoonlik beteken dat ek glo' toe (Beukes 2008:5). Hierdie verskuiwing bepaal die wesentlike karakter van die eietydse kategese in die geheel. Die boek vir die kategeet wy meer as 150 bladsye aan die geloofstema. Op die oog af kry die temas 'die geloof wat ek bely' (fides quae creditur) en 'die geloof waarmee ek glo' (fides qua creditur) min of meer gelyke aandag, net soos wat dit hoort in 'n polities korrekte omgewing. 'n Proses van objektivering van geloof en God, wat sedert die dae van die 'Kortbegrip' onderliggend aanwesig is in die kategesemateriaal van die Kerk, word in Geloof en Lewe 11 voltrek in die sin dat na die betekenis en die funksie van die mens se gelowigheid gevra word eerder as om troos te vind in die inhoud van die geloof. 'n Mens sou maklik les vir les die proses van objektivering kon aantoon. Een voorbeeld (sommer een van die eerstes) sal egter die saak genoegsaam demonstreer. Die uitkoms van les 2 lui: 'Om oortuig te wees dat die inhoud en die maatstaf van ons geloof in die Drie-enige God alleen in die Bybel te vinde is' (Beukes 2007:21). Die antwoord werk Biblisisme in die hand, maar verswyg Christus en die beloftes van die evangelie as die enigste inhoud en maatstaf van geloof. Die verkondiging van die evangelie dien geen doel indien die Bybel en slegs die Bybel as die uitsluitlike bron dien vir die inhoud en maatstaf van die geloof nie. Bybellees sou dan die enigste sinvolle apostolêre handeling wees. Kan die dele van die Bybel wat nie evangelie is nie (en dalk selfs die evangelie weerspreek) ook as inhoud en maatstaf van geloof geld, soos wat uit die uitkoms van les 2 afgelei kan word, slegs op grond daarvan dat dit in die Bybel opgeteken staan? Sekerlik nie. Geloof is nie die toe-eiening van kenbare geloofsoorleweringe wat in die Bybel opgeneem is nie. Die mens word as hoorder deur die evangelie aangespreek, in die hart en die gewete daardeur getref, sodat 'n antwoord op die evangelie nodig is. Hierdie antwoord is geloof, indien God op sy woord geneem word (Ebeling 1971:304).

 

Die belydenis van die Hervormers

In die vyftigerjare van die vorige eeu het prof. Adrianus van Selms (2016a) 'Die belydenis van die Hervormers: 'n Katkisasieboek oor die Christelike Geloofsleer' opgestel (Van Selms 2016a). Die 53ste Algemene Kerkvergadering van 1961 het die konsep aanvaar en opdrag gegee dat die Katkisasieboek, plus 'n toeligting, gepubliseer moes word. Die droewige geskiedenis wat vertel waarom dié besluit van die Algemene Kerkvergadering nie uitgevoer is nie, is elders gedokumenteer (Van Wyk 2016b:1-9). Die motivering om 'n nuwe katkisasieboek op te stel wat in die plek van die 'Kortbegrip' gebruik kon word was weereens dat dit duidelik was dat die leerlinge dikwels moeilikhede met die verstaan van die leerstof wat in gebruik was ondervind het (Van Selms 2016b:1). Van Selms (2016b:2) meen 'dat die gedagteklimaat van ons teenwoordige tyd [ wat] anders is as die waarin die Hollanders van 1600 gelewe het' die oorsaak is dat die onderrigstof van die 'Kortbegrip' moeilik verstaanbaar geword het. Van Selms verantwoord die metodologie wat hy in die katkisasieboek volg in die 'Toeligting' op die boek (Van Selms 2016b:7-12).

Van Selms (2016a) neem as invalshoek vir die behandeling van die Apostolicum die eerste belydenisvraag:

Bely u, dat u glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde, en in Jesus Christus, sy eniggebore seun, onse Here, en in die Heilige Gees? (bl. 10)

Hy vra in die 6de vraag van die katkisasieboek 'Waarvan is die eerste belydenisvraag 'n samevatting?' en antwoord dan 'Van die twaalf artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof (Van Selms 2016a:11). Met Vraag 8 'Hoe lui hierdie twaalf artikels?' (Van Selms 2016a:11) gaan hy dan daartoe oor om die Apostolicum aan die orde te stel en dit inhoudelik te behandel. Wat die geloofstema betref is Van Selms (2016a:11-12) se aanslag soos volg:

9de vraag: Wat bedoel jy met hierdie woord: Ek glo in God?

Antwoord: Ek glo in God beteken: Al my vertroue stel ek op God en neem Hom op sy woord. (Ps 62:9, 73:25; Jak 1:17).

10de vraag: Mag 'n mens ook in iemand of iets anders as God glo?

Antwoord: Nee, want 'niemand is goed nie, behalwe een, naamlik God.' (Matt 19:17; Mark 10:18; Luk 18:19).

11de vraag: En as 'n mens nou tog al sy vertroue op iemand anders as God stel?

Antwoord: Dan maak hy 'n afgod van daardie iemand of iets anders en sal hy uiteindelik

teleurgestel raak.

(Ps 115:8; Jes 45:16).

Oor die woorde 'Ek glo' skryf Van Selms (2016b) in die 'Toeligting' soos volg:

Daar is talle omskrywings van die woord geloof. Die meeste is verwerplik omrede hulle uitgaan van 'n formele bepaling van die werkwoord 'om te glo', sonder om onmiddellik aandag te skenk aan die inhoud van die geloof. In werklikheid kan 'n mens nie oor geloof in die formele sin praat nie; die geloof word deur sy inhoud en voorwerp bepaal [...]. Waar Christus gepredik word, daar sal volgens sy belofte die Heilige Gees die geloof in die harte wek [...]. Op grond van hierdie oorweging het ons ook nie na 'n sielkundige omskrywing van die woord 'geloof' gesoek nie, maar dit onmiddellik met sy inhoud en enigste legitieme voorwerp verbind, en gevra: wat bedoel jy met 'Ek glo in God?'. Ons wil die geloof nie van God skei nie. Ons wil dit ook van die begin duidelik stel dat die geloof in God heeltemal iets anders is as die geloof aan God. Die laaste is 'n verstandelike oortuiging, die eerste die oorgawe van die hele persoonlikheid. Gewoonlik word die geloof in God net as 'vertroue' omskrywe en dit is sekerlik ook waar; maar ook hier dreig weer die gevaar dat die geloof as 'n prestasie en verdienste gesien kon word. Dikwels verloor die gemeentelede, en selfs die leraars, uit die oog dat ons nie om die geloof nie maar deur die geloof geregverdig word. Daarom was dit gewens om as omskrywing ook 'n woord te gebruik wat onmoontlik 'n menslike prestasie kan aandui. Vandaar dat ons sê: Ek neem Hom op sy woord. (bl. 26)

Die feit dat Van Selms dan ook dadelik die daad by die woord voeg en daartoe oorgaan om geloof te bespreek as geloof in God getuig van die voortreflike dogmatiese insig en kennis van dié Ou-Testamentikus. Soos hy self uitwys, vind hy hier nie net aansluiting by die Reformasie nie, maar is die teologie wat hy die katkisante leer dan ook suiwer Reformatoriese teologie en nie die objektiverende leerstellings van die Gereformeerde ortodoksie nie. Van Selms (2016b) skryf:

Sodra ons al ons vertroue op iemand of iets anders as God stel, maak ons 'n afgod. Hier dink ons aan daardie voortreflike uitsprake van Luther in sy Kleine Kategismus: 'n God is die Een waarop 'n mens al sy vertroue stel; dit is die vertroue van die mens wat God en afgod maak. (bl. 29)

 

Slot

Die voortgang in die proses van implementering van nuwe kategesemateriaal in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika vertoon 'n bepaalde trajek. Die trajek begin met die formalisering van sowel die geloofsbegrip as die beskrywing van die geloofsinhoud, wat oorgaan in 'n proses van die objektivering van die geloofsinhoud tot leerbare feite, en wat uiteindelik voltrek word deur die implementering van 'n pragmatiese opvoedkundige doelwit waar geloof nog net 'n middel tot 'n doel is. Die trajek sou in kort soos volg beskryf kon word:

Heidelbergse Kategismus: Geloof is die aanneming van die beloftes van God wat vertroue in die lewende God skep.

'Kortbegrip': Geloof is sekere kennis van God en sy beloftes en 'n hartlike vertroue dat al my sondes om Christus ontwil vergewe is.

Die belydenis van die Hervormers: Ek glo in God beteken dat ek al my vertroue op God stel en Hom op sy woord neem.

Geloofsleer: Geloof is kennis van die Woord van God en vertroue in die God van die Woord.

Geloof en Lewe 11: Geloof is die toe-eiening van kenbare geloofoorleweringe wat in die Bybel opgeneem is. Die kerk kan daarom kinders deur 'n proses van kategese begelei tot geloofsvolwassenheid.

Van Selms se katkisasieboek 'Die belydenis van die Hervormers' pas nie in die trajek soos hierbo beskryf nie. Die Hervormde Kerk sou beslis vandag anders gelyk het, indien 'n geslag of meer Hervormers aan die hand van dié boek kon leer wat dit behels om in God te glo.

 

Literatuurverwysings

Bakhuizen van den Brink, J.N., 1976, De Nederlandse belijdenisgeschriften in authentieke teksten met inleiding en tekstvergelijkingen, Uitgeverij Ton Bolland, Amsterdam.         [ Links ]

Barger, A.J., 1972, Kortbegrip van die Christelike Godsdiens met Verklaringe, HAUM, Pretoria. (Uitgegee op las van die Algemene Kerkvergadering A.D. 1932).         [ Links ]

Beukes, M.J.P., 1994, 'Beskrywing en evaluering van verskillende kategetiese beskouings met die oog op die formulering van basisteorieë vir die kategese', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 50(1 & 2), 211-235.         [ Links ]

Beukes, M.J.P., 1997, 'Die plek en funksie van belydenisskrifte in die kategese van die Nederduitsch Hervormde Kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 53(4), 1266-1289. https://doi.org/10.4102/hts.v53i4.1791        [ Links ]

Beukes, M.J.P. (red.), 2007, Geloof en Lewe 11, Katkisant Graad elf, Sentik, Pretoria.         [ Links ]

Beukes, M.J.P. (red.), 2008, Geloof en Lewe 11, Kategeet Graad elf, Sentik, Pretoria.         [ Links ]

Bultmann, R., 1961, Theologie des Neuen Testaments, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Bultmann, R., 1980, 'Zur Frage der Christologie', in R. Bultmann (Hrsg.), Glauben und Verstehen, 1. Bd., S.85-113, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Bultmann, R., 1984, 'Die fides quae creditur als Gegenstand der Theologie', in E. Jüngel & K. Müller (Hrsg.), Theologische Enzyklopädie, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen, S. 13-34.         [ Links ]

Calvyn, J., [1559] 1982, Institutie of onderwijzing in de Christelijke Godsdienst, vert. A. Sizoo, W.D. Meinema B.V., Delft.

Doekes, L., 1979, Credo, Handboek voor de Gereformeerde symboliek, Uitgeverij Ton Bolland, Amsterdam.         [ Links ]

Dreyer, W. & Van Rensburg, A., 2016, 'Oorsprong van die drievoudige struktuur van die Heidelbergse Kategismus', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(3), a3349, 6 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3349        [ Links ]

Ebeling, G., 1960, 'Die Bedeutung der historisch-kritischen Methode für die protestantische Theologie und Kirche', in G. Ebeling (Hrsg.), Wort und Glaube, Bd. 1, S. 1-49, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1969, 'Gewissheit und Zweifel. Die Situation des Glaubens in Zeitalter nach Luther und Descartes', in G. Ebeling (Hrsg.), Wort und Glaube, Bd. 2, S. 138-183, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1971, 'Luthers Glaubensverständnis - Vergangenheit oder Zukunft?', in G. Ebeling (Hrsg.), Lutherstudien, Bd. 1, S. 302-307, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1975a, 'Der Aussagezusammenhang des Glaubens an Jesus', in G. Ebeling (Hrsg.), Wort und Glaube, Beiträge zur Fundamentaltheologie, Soteriologie und Ekklesiologie, 3. Bd, S. 246-269, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1975b, 'Was heisst: Ich glaube an Jesus Christus?', in G. Ebeling (Hrsg.), Wort und Glaube, Beiträge zur Fundamentaltheologie, Soteriologie und Ekklesiologie, 3. Bd., S. 270-308, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1979, Dogmatik des christlichen Glaubens, 1. Bd., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1983, 'Usus politicus legis - usus politicus evangelii', in G. Ebeling (Hrsg.), Umgang mit Luther, S. 131-163, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 2012, Studium der Theologie: Eine enzyklopädische Orientierung, 2. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Gollwitzer, H., 1978, Befreiung zur Solidarität, Chr. Kaiser Verlag, München.         [ Links ]

Habermas, J., 1979, Erkenntnis und Interesse, Suhrkamp Verlag, Frankfurt am Main.         [ Links ]

Haitjema T.L., 1962, De Heidelbergse Catechismus als klankbodem en inhoud van het actuele belijden onzer kerk, H. Veenman & Zonen, Wageningen.         [ Links ]

Kant, I., [1784] 1983, 'Beantwortung der Frage: Was ist Aufklärung? ; in W. Weishedel (Hrsg.), Kant, Werke , Bd. 9, Schriften zu Antropologie, Geschichtsphilosophie, Politik und Pädagogik, 1. Teil S. 53-61, Wissenschaftliche Buchgesellschaft, Darmstadt.

Lochman, J.M., 1982, Das Glaubenbekenntnis: Grundriss der Dogmatik im Anschluss an das Credo, Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.         [ Links ]

Louw, J.P. & Nida, E.A. (eds.), 1988, Greek-English Lexicon of the New Testament based on Sematic Domains, vol. 1, Introduction & Domains, United Bible Societies, New York.         [ Links ]

Melanchthon, P., [1521] 1997, Loci Communes, Lateinisch - Deutsch, übersetzt mit kommentierenden Anm. H.G. Pöhlmann, Lutherisches Kirchenamt der Verenigten Evangelisch-Lutherischen Kirche Deutschlands (Hrsg.), Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.

Melanchthon, P., [1553] 2010, Heubartikel Christlicher Lere, Melanchthons deutsche Fassung seiner Loci theologici, nach dem Autograph und dem Originaldruk von 1553, R. Jenett & J. Schilling (Hrsg.), Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.

Mink, G.J., 1993, 'Zondag 23 en 24', in J.H. Van de Bank, G. Bos, F.G. Immink, A. Noordegraaf, M.J.G. Van der Velden & W. Verboom (red.), Kennen en Vertrouen: Handreiking bij de Prediking van de Heidelbergse Catechismus, S. 216-222, Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Miskotte, K.H., 1947, De Blijde Wetenschap: Toelichting op de Heidelbergse Catechismus Zondag I - XII, Uitgeverij T. Wever, Franeker.         [ Links ]

Oberholzer, J.P., 1986, Die Heidelbergse Kategismus in vier teksuitgawes, met inleiding en teksvergelyking, Kital, Pretoria.         [ Links ]

Ott, H., 1981, Die Antwort des Glaubens. Systematische Theologie in 50 Artikeln, Kreuz Verlag, Stuttgart.         [ Links ]

Pannenberg, W., 1993, Systematische Theologie, Bd. 3, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Pont, A.D., 1991, Kategese, kategismusse en die belydenis van geloof in Genève in die dae van Calvyn, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), 431-441.         [ Links ]

Sauter, G. & Stock, A., 1976, Arbeitsweisen systematischer Theologie. Eine Anleitung, Chr. Kaiser Verlag, München.         [ Links ]

Ursinus, Z., [1602] 1989, Het schatboek der verklaringen van de Heidelbergse Catechismus, uit de Latijnse lessen van Zaharias Ursinus, opgemaakt door David Pareus, vertaald door Festus Hommius, vervolgens overzien door Johannes Spiljardus en Joan van den Honert, nu in het hedendaags Nederlands hescheven en van een inleiding voorzien door ds. J. Van der Haar, Deel I, Den Hertog B.V., Houten.

Van der Westhuizen, H.G., 1982, Geloofsleer, HAUM, Pretoria. (In opdrag van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika onder leiding van die Raad vir Kategese deur Dr. H.G. van der Westhuizen in medewerking met prof. Dr. B.J. Engelbrecht en ds. G.C. Velthuysen).         [ Links ]

Van Selms, A., 2016a, 'Die belydenis van die Hervormers. 'n Katkisasieboek oor die Christelike Geloofsleer', Tydskrif vir Hervormde Teologie 4(1), 10-46. (Opgestel en uitgegee in opdrag van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika).         [ Links ]

Van Selms, A., 2016b, 'Toeligting op die belydenis van die Hervormers. 'n Katkisasieboek oor die Christelike Geloofsleer', Tydskrif vir Hervormde Teologie 4(4),1-259. (Opgestel en uitgegee in opdrag van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika).         [ Links ]

Van 't Spijker, W., 1993, 'Zondag 7', in J.H. Van de Bank, G. Bos, F.G. Immink, A. Noordegraaf, M.J.G. Van der Velden & W. Verboom (red.), Kennen en Vertrouen: Handreiking bij de Prediking van de Heidelbergse Catechismus, bl. 56-64, Boekencentrum, Zoetermeer.         [ Links ]

Van Wyk, G.M.J., 2015, 'Rudolf Bultmann - Evangelie en geloof, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), Art. #3039, 1-9. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.3039        [ Links ]

Van Wyk, G.M.J., 2016a, 'Ek glo en amen', in Agenda van die 71ste Algemene Kerkvergadering, bylae W, Kernkomitee. Kerk en Teologie. Apostoliese Geloofsbelydenis, S. 678-687, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.         [ Links ]

Van Wyk, G.M.J., 2016b, 'Gerhard Ebeling oor geloof, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(3), a3279, 9 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3279        [ Links ]

Van Wyk, I.W.C., 2013, 'The first commandment in the Heidelberg Catechism. Theological insights of Philipp Melanchthon and Zacharias Ursinus', In die Skriflig/In Luce Verbi 47(2), Art. #710, 1-9. https://doi.org/10.4102/ids.v47i2.710        [ Links ]

Van Wyk, I.W.C., 2016a, 'Die funksie en doel van die Apostoliese Geloofbelydenis', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(4), a3497, 7 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v72i4.3497        [ Links ]

Van Wyk, I.W.C., 2016b, 'Inleidende opmerkings: Die belydenis van die Hervormers: 'n Katkisasieboek oor die Christelike Geloofsleer', Tydskrif vir Hervormde Teologie 4(1), 1-9.         [ Links ]

Venter, C.J.H., 2011, 'Kategeet en geloofsvorming: Perspektiewe vanuit die Praktiese Teologie', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art. #1052, 1-8. https://doi.org/10.4102/hts.v67i3.1052        [ Links ]

Weber, O., 1977, Grundlagen der Dogmatik, 2. Bd., Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn.         [ Links ]

 

 

Project Leader: W.A. Dreyer
Project Number: 77370920
Project Description: Dr Gafie van Wyk is participating in the research project, History of Reformed theology and theologians', directed by Dr Wim Dreyer, Department of Church History and Church Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria.
167 Belydenisdokumente is gebruikstekste wat binne 'n begrensde situasie met die oog op die gebruik vir spesifieke geleenthede ontstaan het. Die ontstaansgeskiedenis van die Symbolum Apostolicum dui aan dat ouer geloofsbelydenisse waaruit die Apostolicum ontwikkel het, gebruik is by geleenthede van openbare geloofsbelydenis - veral by die bediening van die doop aan mense wat die Christelike geloof aangeneem het. Ons sou die dokumente ook kon tipeer as geleentheidsliteratuur (Sauter & Stock 1976:86). Die gevolg is dat ons dié dokumente altyd binne die konteks van hulle ontstaansgeskiedenis en met inagneming van die ontstaanssituasie sal moet interpreteer.
168 Belydenis van geloof kan gestalte vind in verskeie uitdrukkingsvorms, soos dade (erediensvierings, doop, nagmaal, kerklike huweliksbevestigings en begrafnisse), beelde (kruise, liturgiese ruimtes en kerklike kuns) en woorde (geloofsbelydenisse en ander liturgiese tekste). Enige geloofsbelydenis kan meer as een moontlike funksie vervul, onder andere om simbolies gestalte aan geloof te gee, psigologies mense se diepste oortuigings uit te druk, sosiaal as identiteitsmerkers te dien, of kommunaal onderlinge solidariteit te skep. Wanneer 'n geloofsbelydenis geïnterpreteer word (veral met die oog daarop om dit as artikulasie van jou eie geloof in te span) sal die kontekstualisering van die belydenis binne die oorspronklike kerklike en historiese ontstaansbodem in ag geneem moet word. Geloofsbelydenis is nie afsydige mededeling van koue feite oor 'n saak nie, maar eksistensiële uitdrukking van jou diepste oortuigings vanuit 'n konkrete lewenssituasie. 'n Noue verband sal gelê moet word tussen die histories gesitueerde teks en die persoon wat geloof bely (Van Wyk, G.M.J. 2016a:679). I.W.C. van Wyk (2016a:1 van 7) skryf: 'Geloof is nie net 'n saak van die hart, die emosie en die gevoel nie, maar is ook iets wat beskryf, daargestel en in woorde verduidelik kan word. Hiermee word nie gesê dat die gemeentes 'n belydenis het nie, maar net dat die gemeentes geloof bely. Die belydenis van die gemeentes is nie 'n selfstandige woord nie, maar 'n antwoord op God se openbaring. Die belydenis van die gemeentes maak Jesus nie die Heer nie, maar is die antwoord op die feit dat Hy die Heer is.' Verder sal spesifieke nuanses van 'n algemene begrip in ag geneem moet word wat ter sprake is. Sauter en Stock (1976:154) beskryf geloof (fides) met die antropologiese onderskeidings notitia, assensus en fiducia maar verwys ook na geloof as 'n normatiewe teologiese begrip (onderskeie van topiese, organiserende en metodologiese begrippe) en onderskei tussen fides quae creditur [geloofsonderwerp of geloofsinhoud], fides qua creditur [geloofshandeling], fides implicita [geloof as onderwerping aan die kerklike leer], fides infusa [geloof as absolute heilsekerheid] fides apprehensiva [geloof wat God se beloftes van heil begryp] en fides generalis [godsdienstig omvattende gelowigheid].
169 Venter (2011:2) kan as voorbeeld dien dat objektiverende denke ten opsigte van geloofsinhoud in Suid-Afrika gereeld aan die orde is: 'Op dogmatiese vlak word in omskrywings van geloof veelal tussen fides quae creditur en fides qua creditur onderskei. Met eersgenoemde word bedoel die objektiewe geloofsinhoud.'
170 Met betrekking tot die metodologie wat gebruik word vir teksinterpretasie, het die saak ook implikasies. Sauter en Stock (1976:39) stel die saak soos volg: 'Was sie [in hierdie geval die belydenisdokumente] aussprechen, muß als zusammengehörig mit den Sachverhalten erkannt werden, auf die sich theologische Aussagen richten. Urteilsfindung beschreitet also einen Erkenntnisweg, der immer einzelne Aussagen einander zuordnet.' Die vernaamste interpretasiereël is daarom (Sauter & Stock 1976:45): ' Weil jeder systematisch-theologische Diskurs auf Argumente angewiesen ist, müssen aus Texten Argumente erhoben werden, wenn diese Texte nicht bereits argumentativ aufgebaut sind; in solchen Fällen ist die systematische Organisation des Textes aufzuzeichen! In terme van die strukturele tekssemantiek sou 'n mens kon redeneer dat die afsonderlike tekselemente as 'n komplekse betekeniseenheid geïnterpreteer moet word (Sauter & Stock 1976:65).
171 Ebeling [2012:137-138] verduidelik die saak soos volg: 'Jede echte Glaubensaussage ist in nuce vollständig [...]. Daß trotzdem ein auf seinen Zusammenhang zu bedenkendes Nebeneinander von Aussagen in Betracht zu ziehen ist, bringt der Begriff des Glaubensartikels zum Ausdruck der von vornherein auf eine Pluralität hin angelegt ist. Aber auch dafür gilt: Es ist der eine unteilbare Glaube, der sich in verschiedener Hinsicht artikuliert.' Ebeling [1983:140-141] stel die saak ook goed soos volg: 'Evangelium weist uns nicht an einen Katalog von Satzungen, sondern an die Person Jesus Christus [...]. Es gibt deshalb nur einen einzigen usus evangelii: den Glauben.'
172 As literatuursoort is die kategismus eiesoortig, hoewel dit raakpunte mag hê met Laat-Middeleeuse onderrigmateriaal. Dit het raakpunte met die skolastieke summa sowel as met die latere Protestantse leerstukke, maar daar bestaan ook wesentlike verskille (Sauter & Stock 1976:88-96). Vir meer besonderhede oor die verskillende teorieë oor die ontstaansproses van die Kategismus kyk Van Wyk (2013:1 [voetnoot 1]).
173 Die ontwikkeling van die skematiese triade notitia, assensus en fiducia as die drie aspekte van geloof wat as 'n suksessie in die ortodokse Protestantse tradisie onderskei word, word dikwels op die rekening van Melanchthon geplaas as sou hy die tradisie geïnisieer het (kyk Bultmann 1984:33; Pannenberg 1993:171-174; Weber 1977:300). Melanchthon se fokus is egter op die evangelie as die promissionibus divinis wat aanvaar word en waarop vertrou word en nie op 'n stel feite of abstrakte waarhede waarvan jy eers kennis neem, dit dan as waar aanvaar en laastens daarop vertrou nie (Bultmann 1984:33).
174 Dit was reeds van vroeë tye af algemene praktyk dat die oudkerklike geloofsbelydenisse (saam met die Tien Gebooie en die Onse Vader-gebed) oriëntasie gebied het aan latere belydenisdokumente (Sauter & Stock 1976:88).
175 Die Kategismus beskryf geloof nie alleen in terme van kennis en vertroue, soos wat Barger (1972:29) en Van der Westhuizen (1982:18) dit wou hê nie, maar in terme van notitia [kennis of insig], assensus [toestemming] en fiducia [vertroue]. Die aspek van assensus [toestemming] lees in die Afrikaanse vertaling van die Kategismus wel moeilik af uit die formulering 'wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk', maar uit die frasering van die Latynse vertaling van die Kategismus (Spiritu Sancto per Euangelium in corde meo accensa) en die verklaring van Ursinus (primêre outeur) ([1602] 1989) van die Kategismus soos verwoord in HetSchatboekis dit duidelik dat dit die intensie van die Kategismus was om die aspek van assensus ter sprake te bring - wel nie asof deur die vermoeë van die mens as menslike prestasie nie, maar deur die werking van die Gees (Bakhuizen van den Brink 1976:162; Ursinus [1602] 1989:148).
176 Van't Spijker (1993:56-64) beredeneer die aangeleentheid treffend: 'Fides qua (het geloof waarmee] en fides quae (het geloof dat we geloven] zijn op elkaar betrokken [...]. Ze dienen beide volstrekt tot hun recht te komen. Wij belijden ons geloof [...]. Maar de concentratie op de éne geloofsdaad waardoor wij ons in de beloften van het evangelie aan Christus toevertrouwen, betekent nimmer een reductie van de geloofsinhoud [...].'
177 Voor die Verligting was die gesagvolle mededeling van kennis, en veral historiese kennis, deur die Bybel en die leerstukke van die kerk vanselfsprekend. Ursinus [[1602] 1989:145] beskryf die saak soos volg: Het (geloof] is een zekere kennis van bepaalde sluitreden, die wij voor waar houden vanwege de verzekering van ware getuigen, aan wie men in geen geval twijfelen moet.' Die betroubaarheid van kennis hang dus volkome af van die betroubaarheid van die getuienis wat ter sprake kom. Sedert die Verligting het die konsep van toegang tot historiese kennis [en ook kennis as sodanig] egter problematies geword. Nie alleen is besef dat historiese mededelings in terme van denke en uitdrukkingswyse histories bepaald is nie, maar ook dat kritiese denkvorms wat in die histories-kritiese wetenskap ingespan word eweneens tydsgebonde en kultuurgebonde is. Die geskiedenis is alleen nog deur rekonstruksie vir ons toeganklik en alle bronne wat in die rekonstruksieproses gebruik word, word in dieselfde mate aan kritiese toetsing onderwerp. Dit geld ook vir Bybelse uitsprake. Wanneer dit oor geskiedenis en historiese kennis gaan, kan ons net voorlopig in terme van waarskynlikhede praat en alles wat ons sê, kan hersien word [Ebeling 1960:1-9; Pannenberg 1993:165-176]. Ons moet verder ook in gedagte hou dat kennis altyd binne 'n bepaalde raamwerk van belange ontgin word. Historiese gebeure het binne 'n bepaalde belangeraamwerk afgespeel en dit word binne 'n ander raamwerk van belange ondersoek [Habermas 1979:15].
178 Ebeling [1979:84] skryf oor geloof: '[D]ass er nicht nur Erkenntnis vermittelt oder gar blosser Erkenntnissatz ist, sondern die Lebenssituation entscheidend verändert' Pannenberg [1993:161-162] bespreek die saak met verwysing na Luther soos volg: 'Der die Verheissung annehmende Glaube ist als Zustimmung notwendigerweise auch schon fiducia, nämlich Vertrauen darauf dass Gott durch Christus uns gnädig sei.'Hy wys ook daarop dat Melanchthon in hierdie verband by Luther aansluiting vind: 'Aber Melanchthon stimmte mit Luther darin überein, dass der Glaube als Vertrauen auf die Verheissung die dem Verheissungswort allein angemessene Form seiner Annahme durch den Menschen als Empfänger der Verheissung ist [Pannenberg 1993:162]. Die twee reformatore bring geloof veral in verband met vertroue en hoop op God in terme van God se beloftes. Teen hierdie agtergrond noem Pannenberg [1993:164] fiducia vertrauende Sicheinlassen. Van't Spijker [1993:60] stel die saak soos volg: 'Dit kennen heeft de diepte van het Hebreeuwse taaleigen, dat de kennis immers zeer persoonlijk opvat en tegelijk kan verstaan als de innigste en meest vruchtbare relatie die zich laat denken, die tussen man en vrouw. Het 'voor waar houden' ziet dan ook niet op een actie van de ratio, die door redenering zo ver komt dat er met zekerheid iets gezegd kan worden. De waarheid doet zich zó krachtig aan ons voor, zij dringt zich met zulk een innerlijk gezag aan ons op, dat we ons gewonnen geven en "amen"zeggen. We stemmen toe en we stemmen in.'
179 Calvyn verstaan dit ook so. Kyk Pont (1991:439).
180 In hierdie verband kan verwys word na die formulering van Bultmann (1980:88-89): 'Wenn die Theologie ihren eigentlichen Gegenstand, die fides quae credito, preisgegeben hat, so kann sie die fides qua creditor überhaupt nicht mehr verstehen; so nimmt sie dann al seine menschliche Haltung, die man sehen kann, ohne ihren Gegenstand zu sehen. Sie verkennt die Intentionalität des Glaubens. Die fides qua creditor ist das, was sie ist, nur in Beziehung zu ihrem Gegenstand, der fides quae creditor [...]. Der Glaube ist gar nicht Glaube als menschliche Haltung, als geistige Funktion, als frommer Gemütszustand, als numinoses Gefühl und dgl. Er ist Glaube nur als Glaube an, an seinen Gegenstand, an Gott in der Offenbarung! Kyk ook Bultmann (1961:92). Ebeling (1979:83) formuleer 'n volgende aspek van die saak bondig: Der Glaube ist auch in seiner Objektivierung zur fides quae creditor nicht ablösbar von der fides quae credit'
181 ' Aber als hörender Glaube findet er seine Sicherheit nicht in sich selbst, sondern in dem, woran er glaubt (Ebeling 1979:132). Geloofsekerheid is nie sekerheid oor jou eie geloof, of selfversekerde geloof nie, want in geloof gaan dit oor die sekerheid van jou heil en hierdie sekerheid vind gelowiges nie in hulleself nie, maar in God en sy beloftes (Pannenberg 1993:188). Gollwitzer (1978:215) wys daarop dat geloof nie met gelowigheid verwar moet word nie, want geloof is nie 'n toestand nie, maar 'n daad wat altyd opnuut voltrek word.
182 Ebeling (1979:107) problematiseer die tradisionele opvatting dat die psigologiese oorsprong van geloof in kennis geleë is. Hy redeneer aan die hand van Schleiermacher wat die oorsprong van geloof nie in kennis of handeling vind nie, maar in die religieuse gewaarwordingsvermoë, dat kennis nie die mees omvattende lewensfenomeen is wat in ag geneem kan word wanneer na die oorsprong van geloof gevra word nie. Hy kom tot die volgende konklusie: 'Wenn man einen antropologischen Begriff für die Ortsbestimming des Glaubens in Dienst nehmen will, so wäre m.E. dafür am ehesten der Begriff des Gewissens geeignet.. Hy gaan voort: 'Der Vorzug des Gewissensbegriff könnte bei rechter Interpretation einmal darin betehen, dass ihm die Ausrichtung auf das Personsein selbst eigen ist; ferner darin, dass sich in ihm das ganze Leben versammelt, nicht etwa der gegenwärtige Moment isoliert wird; und schliesslich darin, dass ihm der Externbezug eigen ist, das Angesprochensein, das Gehörsein, das einer Urteilsinstanz Ausgesetztsein' (Ebeling 1979:107). Tillich handhaaf 'n vergelykbare standpunt: 'Das häufigste Missverständnis des Glaubens besteht darin, dass man ihn als einen Akt der Erkenntnis auffasst, einer Erkenntnis, die einen geringeren Grad von Evidenz hat als die wissenschaftliche Erkenntnis.' Hy beskryf geloof eerder as 'Zustand des Ergriffenseins von dem, was unbedingt angeht (aangehaal uit Ott 1981:319-320). Pannenberg (1993:191-194) vind met waardering aansluiting by die gedagtes van Ebeling (1969:138-183). Kennis is altyd situasiegebonde, daarom kan sekerheid oor 'Gott als die Frage im radikalen Sinn, die Frage nach dem Ganzen, dem Ersten und Letzten' nie in kennis gevind word nie, maar wel in die gewete, want' im Gewissen geht es um das Ganze, weil um die Frage nach dem Letztgïltigen (Pannenberg 1993:191). Hy meen dat alle mense in verhouding tot hulleself op meer aangewese is as konkrete ervarings om heil te kan ervaar. Hy skryf: 'Erst von der Gottesvorstellung her werden jedoch der Mensch und die Welt als ganz ausdrüklich in den Blick gebracht (Pannenberg 1993:192). Elke enkele gebeurtenis in enige mens se lewe kry alleen betekenis in samehang met die lewe as geheel. Geloofsekerheid staan dus altyd in spanning met die voortgaande proses van nuwe ervarings wat mens opdoen en bly daarom altyd aanvegbaar. God se beloftes van nuwe lewe en heil skep egter rus in die gemoed van gelowige mense.
183 Die tema van pneumatologie en geloof kom wel in vraag en antwoord 48 van die 'Kortbegrip' ter sprake: 'Wie werk daardie geloof in jou? Die heilige Gees.' Vraag en antwoord 45 bring weer die omvang van die verdienste van Christus se heilswerk vir die gelowiges in meer besonderhede ter sprake. Dié twee vrae en antwoorde korrespondeer met vrae en antwoorde 65 en 61 van die Kategismus. 'n Didaktiese oorweging vir die aanpassings wat die 'Kortbegrip' gemaak het ten opsigte van die Kategismus se hantering van hierdie sake kon moontlik wees om herhaling uit te skakel. Die ringkomposisie van die Kategismus waar die behandeling van die Apostolicum ingebed word binne die raamwerk van die pneumatologie en die tema van die beloftes van God bly egter in die slag met die aanpassings van die 'Kortbegrip'. Die gevolg is 'n klemverskuiwing waar die geloof van die mens groter prominensie kry teenoor die heilswerk van God ten behoewe van die mens.
184 Vir 'n omvattende beskrywing van die teoretiese onderbou vir die benadering tot kategese wat hier gevolg word kyk [Beukes 1994:211-235, 1997:1266-1289].
185 Kant [[1784] 1983:53 [A 481]] het die moderne [verligte] ideaal van volwassenheid of mondigwording treffend verwoord: 'Aufklärung ist der Ausgang des Menschen aus seiner selbst verschuldeten Unmündigkeit. Unmündigkeit ist das Unvermögen, sich seines Verstandes ohne Leitung eines anderen zu bedienen. Selbstverschuldet ist diese Unmündigkeit, wenn die Ursache derselben nicht am Mangel des Verstandes, sondern der Entschließung und des Mutes liegt, sich seiner ohne Leitung eines andern zu bedienen. Sapere aude! Habe Mut, dich deines eigenen Verstandes zu bedienen! ist also der Wahlspruch der Aufklärung.'

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons