SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 issue5  suppl.11Adrianus van Selms as reformatoriese teoloogVerskuiwing van teologiese denke oor die huwelik vanaf Luther tot vandag author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 n.5 suppl.11 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i5.4556 

HOOFSTUK 6

 

Om vryelik asem te haal in die lewensruimte van die trinitariese God: Jürgen Moltmann se bydrae tot 'n Reformatoriese teologie van solidariteit109

 

 

Tanya van Wyk

Department of Dogmatics and Christian Ethics, Faculty of Theology, University of Pretoria. South Africa

 

 


OPSOMMING

In hierdie hoofstuk word Jürgen Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie ondersoek. Sy teologie kan beskryf word as 'n teologie wat Bybels gegrond is, 'n eskatologiese gerigtheid en 'n politieke verantwoordelikheid het. Dit is juis om hierdie rede dat sy teologie ook 'reformatories' is. Dit is 'n beskrywing waarvoor hy ook doelbewus kies, omdat die begrip 'reformatories' die dinamiese, voortgaande en profetiese karakter van Reformatoriese teologie aandui. Hierdie teologiese karakter kom veral na vore in Moltmann se verstaan van die Triniteitsleer en sy trinitariese teologie, wat beskryf kan word as 'n 'Trinitariese teologie van solidariteit en sosiale geregtigheid.' Die lewensruimte van die Triniteit word deur Moltmann as 'wye ruimte' beskryf, en as 'n 'uitnodigende ruimte' waarin daar nie beknoptheid is nie. Binne die hoofstuk word dit geargumenteer dat Moltmann se Triniteitsteologie die hartklop is van sy bydrae tot Reformatoriese teologie. Dit is baie nou verbind aan sy politieke teologie en word geïllustreer op die wyse waarop sy Triniteitsteologie en sy politieke teologie van inklusiwiteit en geregtigheid met mekaar verweef is.


 

 

Weer vir die eerste keer: Die soeke na 'n reformatoriese identiteit

Die vraag

'Wát is Reformatoriese teologie?' Dit is 'n vraag wat in 2017 reeds vir 500 jaar gevra word. In 'n sekere sin is hierdie vraag na die kenmerke en identiteitsmerkers van Reformatoriese teologie, 'n 'verleentheid' (Busch 2003:20). Die verleentheid ontstaan as gevolg van die fenomeen dat 'n vraag wat se doel is om die eiesoortigheid van Reformatoriese teologie te bepaal, se antwoorde dikwels só uiteenlopend of selfs teenstellend is, dat in plaas van eiesoortigheid aan te dui, dit voorkom asof daar onsekerheid is oor wat dit presies is wat Reformatoriese teologie van byvoorbeeld Rooms-Katolieke teologie onderskei. Die meerdimensionaliteit van die vraag neem toe as daar in ag geneem word, dat 'reformatories', 'hervormd' en 'gereformeerd' nuanseverskille inhou. In hierdie hoofstuk word daar van 'reformatories' gebruik gemaak as 'n doelbewuste beklemtoning van 'n dinamiese verstaan van Hervormde teologie, wat in staat is om op die veranderende verhouding tussen kerk en wêreld op elastiese wyse te kan reageer. Die redes vir hierdie beklemtoning sal weldra blyk. Hierdie meerdimensionaliteit, aldus Busch 'n verleentheid, is egter juis die setelpunt van reformatoriese of hervormde krag. Die 'probleem' van reformatoriese, hervormde of gereformeerde identiteit is ingebed in tradisie waarbinne die vrae ontstaan (Busch 2003):

[I]t belongs to the structure of the Reformed tradition itself to question its confessional identity. Maybe one is no longer Reformed110 if the problem of Reformed identity is no longer an embarrassment. (bl. 20)

Dit is die aard van Reformatoriese teologie om vrae oor eie identiteit te vra (vgl. Alston & Welker 2003:xi). Die ruimte (kerk en wêreld) waarin Reformatoriese teologie beoefen en geleef word verander konstant. Dit is die taak van Reformatoriese teologie om vrae oor eie identiteit te vra as die verhouding tussen kerk en wêreld op ideologiese wyse in diens van identiteitspolitiek ('-ismes') skeefgetrek word. Die 'reformatoriese verleentheid' is dus in 'n sekere sin reformatoriese 'ewige waaksaamheid' - 'n waaksaamheid wat ten doel het om te verseker dat die ruimte waarin teologie beoefen word, vir alle mense toeganklik is. Vir hierdie rede word 'Reformatoriese teologie' herhaaldelik en opnuut beskryf.

Die karakter van die soektog en die 'reformatories' in Reformatoriese teologie

Hierdie voortgaande soektog is nie te wyte aan onsekerheid of hulpeloosheid nie (Alston & Welker 2003:xii). Dit is 'n soektog wat plaasvind as reaksie op die inhoud van die Woord van God te midde van die uitdagings van die wereld. Hierdie soektog is 'n konstante leergeleentheid. Dit is die bereidheid om telkens gereed te wees om rekenskap te gee en getuienis te lewer oor eie (reformatoriese) oortuigings en sekerhede. Reformatoriese teologie bestaan in 'n konstante dialektiese toestand: Vertroue oor die inhoud van die teologie, maar tegelyk ook kritiese refleksie op die teologie. In die wisselwerking tussen individu en geloofsgemeenskap is dit 'n voortgaande toets van eie en gemeenskaplike sekerhede wat soms tot nadeel van kerk en gemeenskap eensydig vertroetel word. Dit is egter ook die rentmeesterskap van tradisie as 'n basis vir die vervulling van 'n gemeenskaplike roeping.

Die soektog staan in diens van die opbou van die geloof en lewe van die kerk. Dit streef na 'n omvattende en begryplike kennis van hoe God se verhouding met die kosmos neerslag vind. Die soektog staan ook in diens van menslike gemeenskappe en kulture wat dikwels tevrede is met reduserende of ideologiese voorstellings van 'sekerheid' en 'waarheid' (Alston & Welker 2003:xi). Te midde van die moderne verskynsel van die samesmelting van waarheid en sekerheid wat 'n universele en eensydige ideologiese beklemtoning van rede, wetenskap, etiek of politiek meegebring het, het Reformatoriese teologie individue, verenigings, gemeenskappe en kulture uitgedaag om 'n kritiese waaksaamheid te beoefen jeens enige van die bogenoemde aspekte se 'waarheidsaansprake' en beklemtoon dat dit getoets moet word aan die beginsels van die lewende Woord van God. Reformatoriese teologie het individue, gemeenskappe en kulture uitgedaag om totalitêre wêreldbeskouings en wêreldmag te weerstaan.

Hierdie konstante uitdaging wat deur Reformatoriese teologie gerig word, is nie 'n totalitaristiese poging om voor te skryf waar en hoe na waarheid gesoek word nie. Dit is veel eerder 'n kritiese en selfkritiese meedoen aan 'n waarheid soekende gemeenskap - die kerk (Alston & Welker 2003:xi). Dit is die kerk wat ander menslike instellings en gesamentlike menslike ondernemings uitnooi en uitdaag om waarheid soekende gemeenskappe te wees te midde van magswanbalanse wat ontstaan as bepaalde groepe se belange en sekerhede ten koste van ander vooropgestel word.

Die soektog en die bevestiging van 'reformatoriese identiteit' het volgens Alston en Welker (2003:xii) 'n ambivalente en dialektiese karakter, waarin daar gemeenskaplike kultuur, dog verskillende kulture en tradisies bestaan; waarin daar 'n gedeelde teologiese onderbou, dog voorkeure ten opsigte van teologie bestaan; waarin dieselfde sistematies teologiese (dogmatiese) loci (sistematiese afdelings of temas) benadruk word, dog verskillende loci beklemtoon word; en dat daar gemeenskaplike etiese kwessies en 'n etiese besorgdheid bestaan, dog verskillende, soms botsende etiese kwessies ook ter sprake kom (vgl. Rohls 2003:34-35). Dit is die innerlike pluraliteit of meervoudigheid van die vraag na Reformatoriese teologie. Trouens, Van den Brink en Smits (2015:336) meen dat wanneer dit by die meervoudigheid van die identiteit van Reformatoriese teologie kom, dit gepas is om eerder van Reformatoriese teologieë melding te maak. In die soeke na die omtrek van unieke identiteit, word ook ooreenkomste met ander religieuse en kerklike tradisies gevind (Van den Brink & Smits 2015:325). Die soektog na reformatoriese identiteit het dus 'n karakter van versoenende verskeidenheid.

'n Soektog na die identiteit van Reformatoriese teologie111 het ook die uiteindelike doel om die adjektief 'reformatories' in 'Reformatoriese teologie' te kwalifiseer en nader te omskryf. Dit gaan egter ook daaroor om die 'etiket' 'reformatories', verantwoordelik aan te wend (Van den Brink & Smits 2015:325). Hiervolgens is die 'reformatories' van 'Reformatoriese teologie' nie 'n toevallige adjektief nie. Van den Borght (2015:323) beskryf die 'reformatories' van 'Reformatoriese teologie' as 'n teologiese tradisie wat 'n historiese beginpunt het in die Reformasie van die 16de eeu in Straatsburg, Zürich en Genève, en katoliek van aard is - naamlik, dit het 'n katolieke (algemene) reikwydte en is 'n uitdrukking van Christelike geloof op verskillende tye en plekke. Volgens Van den Brink en Smits (2015:326) verwys dit egter nie nét na tradisie nie. Dit is veel meer komprehensief: dit is 'n houding (stance) of miskien letterlik vertaal, 'n staanwyse. Die filosoof, Bas Van Fraassen (2002:47; vgl. Van den Brink & Smits 2015:339) beskryf hierdie 'stance as 'n 'attitude, commitment, approach, a cluster of such! Hierdie houding (stance) word gekenmerk deur spesifieke verbintenisse (toewyding) en belange, eerder as 'n stel proposisionele oortuigings.

Met verwysing na die reformatoriese tradisie se sogenaamde slagspreuk, ecclesia reformata quia semper reformanda secundum verbum Dei - ['n hervormde kerk behoort altyd in ooreenstemming met die Woord van God te hervorm]; of in verkorte vorm, ecclesia reformata semper reformanda - ['n hervormde kerk moet altyd weer hervorm] (kyk Koffeman 2015:2 van 5; vgl. Haffner 2007:117), argumenteer Van den Brink en Smits (2015:347) dat die meervoudigheid van die identiteit van Reformatoriese teologie as 'n houding (stance) gekarteer kan word deur hierdie slagspreuk as vertrekpunt te neem. Daar is 'n inherente dinamiese beweging in die slagspreuk - dit roep 'n beeld op van 'n dinamiese beweging waarin verskillende sfere van lewe onder heerskappy van God se wil ingebring word.

Ecclesia reformata semper reformanda het egter twee kante. Dit rig 'n uitdaging aan beide sogenaamde konserwatiewe en liberale lede van die reformatoriese liggaam of tradisie (Case-Winters 2006:xxix). Dit is nie behoud om die onthalwe van behoud nie en dit is ook nie verandering om die behoud van verandering nie. In hierdie sin is dit 'n oproep tot Christene om nie met die status quo tevrede te wees nie (Atherstone 2009:31).

Koffeman (2015:3 van 5), sowel as Van den Brink en Smits (2015:344-346), is egter van mening dat 'secundum verbum Dei, die 'ecclesia reformata quia semper reformandaa kwalifiseer - met ander woorde, die laaste gedeelte van die hele frase verskaf die beginsel waarvolgens die eerste gedeelte van die frase geïnterpreteer word. Die saak, die hartklop van Reformatoriese teologie is Bybelse hermeneutiek, of Bybels reformatoriese hermeneutiek. Ecclesia reformata semper reformanda as 'n Bybels reformatoriese hermeneutiek impliseer 'n werklikheidsverstaan waarin die inhoud van die kerk se verkondiging in ooreenstemming met die kerk se kennis op verskillende tye, krities in oënskou geneem word deur dit opnuut aan die Woord van God te toets. Dit is 'n interdissiplinêre en meervoudige onderneming. Dit is egter nie 'n uitsluitlike menslike onderneming nie. Case-Winters (2006:xxx) maan teen 'n onkritiese interpretasie van 'ecclesia reformata semper reformanda' wat sou neerkom op enersyds 'n 'biblistiese' kerkhernuwing of wat andersyds die kerk as agent van die reformasie en die reformasie as die resultaat van menslike optrede, sou teken (Koffeman 2015:5 van 5). Die mens is die objek van God se reformasie en transformasie.

Op grond van hierdie inleidende opmerkings oor die vraag, die karakter van die soektog na die identiteit van Reformatoriese teologie en diverse en dinamiese perspektiewe oor waarna 'reformatories' in Reformatoriese teologie kan verwys, word Jürgen Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie vervolgens ondersoek deur eerstens Moltmann se eie gedagtes oor 'reformatories' te bespreek.

 

Jürgen Moltmann oor die taak, inhoud en tradisie van Reformatoriese teologie: 'Reformatories' of 'gereformeerd'

Moltmann (1999b:120-121) kwalifiseer die breë konsep of begrip, 'gereformeerde teologie', spesifiek met 'Reformatoriese teologie'. Aangesien daar tot dusver in hierdie artikel van 'reformatories' melding gemaak is, kan hierdie opmerkings as mosterd na die maal beskou word. In Afrikaanse taalgebruik egter, en soos dit ook blyk uit Moltmann se teologie, is die gebruik van 'reformatories' bo 'gereformeerde' teologie as daar oor Reformatoriese teologie gepraat word, nie 'n vanselfsprekende of toevallige semantiese onderskeid nie. Dit is 'n keuse.112

Moltmann (1999b:120-121) kies vir 'Reformatoriese teologie' (Reformatory theology) bo 'gereformeerde teologie' (Reformed theology) omdat hierdie teologie (die teologie wat as beweging ontstaan het toe Martin Luther sy 95 stellings in 1517 teen die kerkdeur van Wittenberg vasgemaak het) 'n hernude vraag na transformasie op grond van die Woord is. Dit is nie 'n eenmalige handeling nie. Dit is nie 'n statiese handeling nie. Dit is 'n dinamiese handeling. Reformasie is 'a turbulant something (Van Ruler 1965:29; vgl. Koffeman 2015:1 van 5). Theologia Reformata et semper reformanda - Reformatoriese teologie is reformerende teologie.

Die herhaling van die vraag, 'Wat is Reformatoriese teologie', is volgens Moltmann juis 'wat' Reformatoriese teologie is: Om telkens in verskillende en veranderde situasies 'terug te keer' 'vir die eerste keer (vgl. Borg 2001) na die Skrif vir rigtingmerkers en aanduiders en weer deur die Woord getransformeer te word. 'Reformatoriese teologie' (teenoor gereformeerde teologie) het bepaalde 'identiteitsmerkers'.

Die eerste identiteitsmerker van Reformatoriese teologie is dat dit 'n teologie van 'permanente reformasie' is (Moltmann 1999b:120), waarin tradisie en innovasie één proses is. Die is nie 'n eenmalige geskiedkundige gebeurtenis of 'n eenmalige historiese handeling nie. Dit is 'n dinamiese gebeure (Moltmann 1999b):

[A]n event that keeps church and theology breathless with suspense, an event that infuses church and theology with the breath of life, a story that is constantly making history, an event that cannot be concluded in this world, a process that will come to fulfillment and to rest only in the Parousia of Christ. (bl. 121)

'n Tweede identiteitsmerker van Reformatoriese teologie, is dat dit 'n reformasie van die 'ganse' of hele lewe behels (Moltmann 1999b:121). Die oorsprong van die Reformasie het verband gehou met 'n reformasie van 'kerkleer' en 'n reformasie van 'lewe' het daardie 'eerste' Reformasie aangevul veral ten opsigte van die lewe van die kerk en die gemeenskap van gelowiges. 'n Reformasie van die lewe van die kerk behels die formulering van 'eienskappe' van daardie lewe, onder die leidende beginsel van die Woord. Mens sou miskien ook na hierdie eienskappe van kerklike lewe as 'kerklike dissipline' verwys. Dit was 'n bydraende faktor tot die kerkeenheid wat in en deur die reformatoriese kerk se belydenis(se) bewerkstellig is.

'n Derde karaktereienskap van Reformatoriese teologie is 'n reformasie van die wêreld. 'Reformatio mundi beskryf die doelstellings van die Reformasie ten opsigte van die regering (staat), gemeenskap, en kultuur. Alle aspekte van lewe word getransformeer volgens God se kreatiewe, bevrydende, verlossende en versoenende Woord van lewe. Dit is 'n allesomvattende reformasie en nie net beperk tot sekere aspekte van lewe nie (Moltmann 1999b:122, 1999a:191-207).

Volgens Moltmann (1999b:122) is Reformatoriese teologie belydende teologie. Die belydenis van geloof in kontemporêre tye is 'n waarmerk (kenteken) van reformatoriese kerke. In hierdie sin is belydenisse in 'n teenswoordige tyd en konteks geloofsantwoorde op die uitdagings van geskiedenis. Belydenisgeskrifte is bedoel as gids vir teenswoordige belydenis(se) van geloof en van hoop: 'Confessions are meant to express in concrete terms what needs to be said in the name of God concerning matters of faith here and now (Moltmann 1999b:123). Die woord van God en die kairos (oomblik) van die Woord se verkondiging is onlosmaaklik aanmekaar verbind. Daar is situasies wat herhaaldelik voorkom waarin politieke besluite, besluite téén Christus word. Dit is in sulke oomblikke wat die geloofsgemeenskap vir 'n gemeenskaplike belydenis as antwoord op die situasie soek - 'n belydenis wat die verantwoordelikhede van die gemeenskap ten opsigte van die situasie duidelik verwoord.

Dit is die taak en roeping van Reformatoriese teologie as belydende teologie om God se geregtigheid te verkondig in die lig van toenemende onreg en ellende waarin groot gedeeltes van die wêreld se bevolking verkeer. Moltmann maan dat dit nie neerkom op die reduksie van geloof tot bloot politiese of etiese besluite nie. Reformatoriese teologie is ook nie die staking van die tradisie van die kerk nie - dit is eerder 'n herhaalde en hernude 'terugkeer' na die fontein van tradisie. Vir Moltmann is reformerende teologie gerig op Bybelse teologie, eskatologiese teologie (Moltmann 2012:35-60, vgl. 2015b:73-80), ekklesiologiese teologie (vgl. Bauckham 1995:123; Moltmann 1993b) en politiese teologie (Moltmann 1999a; vgl. Moltmann [2006] 2008:97-176). Reformatoriese teologie is 'n teologie van hoop (Moltmann [1964] 1967; vgl. Bauckham 1995:121) en veral ook 'n ekumeniese teologie (Moltmann [2006] 2008:201-236).

Die breë raamwerk van die verskillende aspekte van Moltmann se teologie is die Drie-enige God en die oorkoepelende hermeneutiek van sy teologie, is 'n Triniteitsteologie, soos hy dit in God se verlossingsgeskiedenis met die mens sien ontvou (Moltmann [1980] 1981). Deurgaans fokus hy op 'n 'trinitariese perspektief van geskiedenis' (vgl. MüllerFahrenholz 2000:80-105, 137-150) en 'n 'trinitariese teologie van die kruis' (Moltmann 1992a). Die kern van hierdie gedagtes is die wyse waarop God, as 'versoenende verskeidenheid', as 'analogie' vir die etiek van die aardse gemeenskap van dissipels dien. Moltmann benader die Triniteitsleer nie as kerkleer of dogma nie. Vir hom is dit eerder die narratief van die geskiedenis van God se liefde. Sy verstaan van hoop, sy eskatologie, Christologie, Pneumatologie, ekklesiologie, ekumeniese arbeid en sy polities etiese teologie is alles vanuit sy formulering van sy geloof in 'n Drie-enige God begrond.

Dit vorm die raamwerk vir die bespreking van Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie, waarvan die identiteitsmerkers opsommenderwys gestel kan word as, dinamies, krities, 'n Bybelse hermeneutiek, meervoudig, en gerig op die ganse kosmos.

 

Die breë lewensruimte van die trinitariese God

Begronding: 'ervaring' en 'ekonomie'

Die lewe en teologie van Moltmann getuig van 'n teoloog wat in sy hele lewenstog sy teologie laat konsentreer het op die praktiese implikasies van trinitariese teologie. Joy Ann McDougall (2003:178) is van mening dat: 'no contemporary theologian has played a more decisive role in retrieving the practical significance of trinitarian theology than German Reformed theologian, JürgenMoltmann.'

Moltmann se oorlogservarings het 'n wesenlike invloed op sy teologie gehad. Sy ervarings van verlatenheid en moedeloosheid oor die gebroke menslike toestand en sy eie uitsigloosheid gedurende die Tweede Wereldoorlog het hy in talle van sy gepubliseerde werke beskryf (Moltmann [1964] 1967, 1997:1-3, 1999a:170-173, 2000:115, [2006] 2008:3-38, 97-118; vgl. Van Wyk 2013a:3-4 van 7). Die katalisator tot sy teologie was sy ervaring dat God hom gedurende sy oorlogservarings gesoek het en gevind het. Teenoor die benoude, vreesaanjaende en beklemmende ruimtes van die oorlog, het God vir Moltmann 'n 'breë Ruimte waar daar geen beknoptheid is nie' ('God's wide open space in which there is no more cramping- my vertaling)113 geword (Moltmann 2010:26). In hierdie opsig het die 'breë ruimte van die Triniteit - God-Drie-een' die hermeneutiese lens van Moltmann se ganse teologiese oeuvre geword. Op grond hiervan het Moltmann se teologie 'n radikaal inklusiewe karakter en dit blyk uit sy vele teologiese bydraes ten opsigte van die verstaan van die verhouding tussen versoening en verskeidenheid. Derhalwe is die Drie-enige God vir Moltmann 'n eksistensiële saak. Dit is nie bloot kerkleer of dogma nie - dit is eerder die narratief van die geskiedenis van God se liefde (vgl. Stockley 2011:142).

Sy groot werk oor die Triniteitsleer, The Trinity and the Kingdom (die oorspronklike Duits, Trinität und Reich Gottes) verskyn eers gedurende die laaste 15 jaar (1980-1994) van sy lewe as professor in teologie (Moltmann [1980] 1981, [2006] 2008:285). In die openingsbladsye van sy boek, betreur hy dit dat die teologiese leer van die Triniteit dikwels beskou word as 'n 'spesialis vakgebied' en dat dit dus met die werklikheid niks te doen het nie (Moltmann [1980] 1981:1). Hy sê dat meeste Christene in 'die Weste' se spiritualiteit en aanbidding weinig tot niks toon van geloof in 'n Drie-enige God nie. Hy betreur dit verder dat hierdie 'trinitariese geloof' (binne die Westerse Christelike tradisie ten tyde van die publikasie van sy boek) ook geen verskil aan gelowiges se etiek maak nie. Kortom betreur hy dit dat trinitariese geloof 'n abstrakte denkoefening geword het.

Die vertrekpunt van Moltmann se Triniteitsteologie hou verband met die onderskeid wat in die klassieke Triniteitsleer gemaak word tussen die 'ontologiese of immanente Triniteit' en die 'ekonomiese Triniteit'. Eersgenoemde verwys na God se syn, God se 'is', en laasgenoemde na God se optrede of handeling in die wêreld. Die eerste hou verband met teologiese nadenke oor die aard (wese) van God en die 'eienskappe' van God en berus op openbaring as bron van teologisering. Die tweede hou verband met mense se ervaring oor God en die wyse waarop God in die wêreld teenwoordig is en in die wêreld optree. In Moltmann se Triniteitsteologie is die ekonomie van God, en die wyse waarop God in die wêreld optree, en mense se ervaring en 'toegang' tot God, van kardinale belang.

In The Trinity and the kingdom, beredeneer Moltmann ([1980] 1981:2-5) die wyse waarop 'ervaring' kan dien as basis vir 'toegang' tot God. Hy verwys na Friedrich Schleiermacher en stel dit duidelik dat ervaring as legitieme vertrekpunt kan dien vir teologiese nadenke oor God. Hierdie ervaring is egter nie net 'my ervaring van God' nie, maar is ook 'God se ervaring' met ons. Dit berus op God se trinitariese geskiedenis met die mens, wat Moltmann die 'verlossingsgeskiedenis van God' (Moltmann [1964] 1967, 1992:xi-xix, [1995] 1996, 2015b:57, o.a.) noem. Dit is nie 'n subjektiewe refleksie op God se teenwoordigheid nie. Dit is egter duidelik dat 'ervaring' - dus 'die ekonomie' van God - die beginpunt vir Moltmann is vir enige teologisering oor God se wese.

Moltmann se 'korrelasie' tussen kerk, teologiese antropologie, ekumeniese teologie en politieke teologie berus in wese op sy nadenke oor die 'ekonomie' van die Triniteit. Hierin speel die klassieke Kappadosiëse Triniteitsleer (vgl. Van Wyk 2013b:1-9) 'n bepalende rol. Dit is geïnisieer deur invloede van die Oosters-Ortodokse Kerk op Europese teoloë na die Tweede Wêreldoorlog. Moltmann het die moontlike etiese implikasies van die Kappadosiërs se Triniteitsleer en die 'korrelasie' daarvan veral vir ekklesiologie, antropologie, eskatologie en etiek raakgesien en uitgewerk.

Die klassieke Kappadosiese Triniteitsleer bestaan uit die 'immanente Triniteit' as 'God ad intra' [God na binne] en die 'ekonomiese Triniteit' as 'God ad extra' [God na buite] (vgl. Gunton 1991:44-45; Robinson 2006:58; vgl. Van Wyk 2013b:4-6 van 9). In hierdie kombinasie is die Kappadosiese kerkvaders verryk deur bydraes vanuit die Griekssprekende gedeelte van die kerk (kyk Moreschini & Norelli 2005:258-260; vgl. Van Wyk 2013b). Hoewel Augustinus (1969), in sy werk De Trinitate, die klem op syn (immanensie of wese) laat val het, in aansluiting by die Kappadosiërs se anti-Ariaanse beklemtoning van die immanensie, het die Griekssprekende gedeelte van die kerk, benewens God se syn, ook God se aksie beklemtoon, dit wil sê die 'ekonomiese Triniteit', oftewel Deus ad extra (vgl. Lossky 1957:58; Papanikolaou 2006:91-128). Die beklemtoning van 'ekonomie' naas 'immanensie' het die belang van etiek bevestig.

'Perichorese' en 'n 'sosiale' Triniteit

The Trinity and the kingdom of God ([1980] 1981) se verskyning het 'n bepaalde hoofstuk in Moltmann se teologie afgebaken. In dieselfde tydperk (1980-1994), het hy 'n teologiese reeks begin skryf waarvan die hooftemas, 'dialoog', 'gemeenskap' en 'vryheid' was. Hy wou wegbeweeg van 'n 'ou denkpatroon' (Moltmann [2006] 2008:287) wat fokus op 'atome' (abstrakte) en wat subjekte isoleer, na 'n ander verwysingsraamwerk waar daar gedink word in terme van verhoudings, gemeenskappe en oorgange, by wyse van spreke, in terme van die verhouding tussen die atome as 'n dinamiese beweging. Hy begin hierdie nadenke en teologiese publikasies met 'sosiale kerkleer van die Triniteit', waarin sosiale 'verhoudings' in God die verwysingsraamwerk is. Hierdie sosiale Triniteitsleer is in sy boek uiteengesit (Moltmann [1980] 1981). In die voorwoord skryf hy:

[I]t is only in the unity with one another which springs from the self-giving of the Son 'for the many' that men and women are in conformity with the triune God. He understands that people only arrive at their own truth in their free and loving inclination towards one another. It is to this 'social' understanding of the doctrine of the Trinity that this book is an invitation. (bl. xvi)

Hiermee dui Moltmann aan dat sy verstaan van die Drie-eenheid fokus op die gemeenskap en die verhouding (relasies) wat tussen die drie Persone van die Triniteit bestaan. Die aard van hierdie gemeenskap en relasie is vir Moltmann die basis van die gemeenskap en die relasie tussen mense, veral ook in die kerk. Anders gestel, daar is 'n 'korrespondensie' tussen 'n relasionele Triniteitsbeskouing en 'n relasionele ekklesiologie en teologiese antropologie. Hierdie 'korrespondensie' is nie 'n direkte verband of 'n 'is-gelyk-aan-teken' nie, maar eerder 'n analogie.

Vanuit hierdie perspektief het hy kritiek gelewer op 'n sogenaamde Westerse114'latente' vorm van 'monargianisme' in verwysing na die vroegkerklike teologiese skeeftrekking waarin die Drie te onderskeie persone van die Vader, Seun en Gees ondergeskik gestel is aan die absolute monargie van God (Moltmann [1980] 1981:10-16, 129-148, 191-22, 131). Moltmann se kritiek was ten opsigte van die invloed daarvan op die ekklesiologie en ook teologiese antropologie, wat later uitdrukking gevind het in sy politiek teologie (vgl. Moltmann 2015b:3-22; vgl. Moltmann 1992a:1-80). Hierdie sake het hy in 'n versamelwerk, getitel History and the Triune God. Contributions to Trinitarian Theology (1992a), uitgewerk, wat omtrent 10 jaar na sy 'Trinity-boek' verskyn. Sy kritiek teen 'n 'hiërargiese' Triniteitsleer kom na vore as hy die probleem van patriargale taal oor God ondersoek, as hy die saak van sosiale geregtigheid benader en as hy die Christelike religie se dialoog met ander religieë beskou. Hy doen dit met 'n fokus op 'n 'Trinitariese perspektief van geskiedenis' en 'n 'trinitariese teologie van die kruis' (Moltmann 1992a:1-30).

'Ongehinderde dialoog' op die gronde van gemeenskap, vryheid en respek vorm die kontoere van Moltmann se verstaan van God as 'n sosiale Drie-eenheid. Dit kan eweneens gestel word dat 'ongehinderde dialoog', gegrond op wedersydse respek, die erkenning van mense se vryheid (en waarde) en die gemeenskap tussen mense (waarheid-in-ontmoeting) die kontoere van Moltmann se teologie vorm. Hierin is God as Drie-enig die oorsprong en verwesenliking van 'ongehinderde dialoog'. Vir Moltmann is dit die 'broadplace of the Trinity (Moltmann 2000:xi). Triniteit as 'sosiale verhoudings' berus op Moltmann se verstaan en beklemtoning van perichoresis115(vgl. Moltmann [1980] 1981:161-177, 2000:321-324, [2006] 2008:288-289, 2010:152-157). Dit is 'n bepalende begrip vir sy Triniteitsleer en derhalwe is dit ook bepalend vir die wyse waarop hy die werklikheid verstaan en etiese beslissings maak. Trouens, hy beskryf sy trinitariese denke as 'perichoretiese denke' (Moltmann 2010:149).

Die Griekse begrip perichoresi of perichorese, waarvan die Latynse ekwivalent circumincessio is, verwys na 'wedersydse verweefdheid', 'inlewing' of 'mutual indwelling' (kyk byvoorbeeld Disandro [1984:442-447]). Perichorese verwys na 'n dinamiese, maar simmetriese geheel in plaas van 'n asimmetriese, hiërargiese relasie. Die individualiteit van die persone van die Triniteit word gehandhaaf terwyl elke 'persoon' in die 'bestaan' (lewe) van die ander twee persone deel, en kan as 'n 'gemeenskap van bestaan' beskryf word (McGrath 2001:325). Dit dui op die aard van die relasie tussen die persone van die Triniteit. Hierdie relasie is een waarin die onderskeie persone, te wete Vader, Seun en Gees, tegelyk een wese, maar drie unieke (nie dieselfde) persone, is. Kortom, dui dit op 'n verhouding van 'versoenende verskeidenheid'. 'Perichoretiese' eenheid kombineer drieheid en een-heid op só 'n wyse dat een nie tot die ander gereduseer word nie, en nie 'oplos' in die ander nie. 'Perichoretiese' lewe kan nie gerealiseer word deur 'n enkele persoon nie en kan nie bedink word sonder al drie Persone nie. Gedeelde 'natuur' (aard), gedeelte 'bewussyn', gedeelde wil (nie een wil nie), word intersubjektief deur elkeen se persoonskap, elkeen se bewussyn, elkeen se wil gevorm (Moltmann 2000:321-323, 2010:155). Hierdie 'perichoretiese' eenheid is nie 'n selfomheinde eksklusiewe geslotenheid nie. Die eenheid is 'oop', uitnodigend en integrerend (Moltmann [1980] 1981:177). Moltmann ([2002] 2003) stel dit soos volg:

[ I ]n their perichoretic unity the Trinitarian persons are equal. There is no first, second or third Person in the Trinity ... every Person ek-sists in both the others - that is, it exists in and also out of (ek) the others [...] by virtue of their reciprocal indwelling, the Trinitarian Persons join themselves to a unity and differentiate themselves mutually: the Father differentiates between the Son and the Spirit through his different relations to them and so on [...] the Trinitarian Persons are not Persons only; they are 'spaces' for each other too [...] the divine Persons mutually cede the others life and movement, and make themselves inhabitable for one another [...] God becomes the dwelling place of His creation and creation becomes the dwelling place of God [...] the world lives in God in a world-like way, and God lives in the world in a God-like way [...] they interpenetrate each other mutually without destroying each other. (bl. 117-118)

Die aardse gemeenskap van dissipels 'korrespondeer' met die trinitariese perichoretiese gemeenskap (Moltmann [2006] 2008):116

Perichoretic theology therefore comprehends the Trinitarian unity of the eternal God, the community of believers in God and the community of those who love one another. The concept of reciprocal indwelling and the mutual opening of spaces for living describes both the community or fellowship of like with like, and the fellowship of the unlike. In this way, perichoretic thinking absorbs dialectical thinking into itself and goes beyond it. The contrasts become transitions, and the differences are preserved in the unities. (bl. 289)

Die 'perichoretiese' relasie is die 'aard' van God, die 'immanente Triniteit' (Moltmann [1980] 1981:161, 174). Hierdie 'aard' korrespondeer egter met die 'ervaring' van God, die 'ekonomiese Triniteit'. Die interaksie van goddelike genade, liefde en gemeenskap 'word' die trinitariese ervaring van God - Christus se onvoorwaardelike genade, God die Vader se onvoorwaardelike liefde en die Gees wat mense onvoorwaardelik gemeenskap bewerkstellig, skep saam 'lewe' (Moltmann 2010:160).

'n Trinitariese ekklesiologie

Aangesien hierdie navorsing fokus op Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie, word die wyse waarop sy Triniteitsleer neerslag gevind het in sy ekklesiologie, ook hier bespreek. Sy sosiale en 'perichoretiese' Triniteitsleer het implikasies vir die aard van verhoudings binne kerke en die verhouding tussen verskillende kerke en denominasies, sowel as die verhouding tussen die sogenaamde 'Oosterse' en 'Westerse' kerk (Moltmann [2006] 2008:201-265). Dit gaan gepaard met die verband tussen die aard van trinitariese gemeenskap en menslike vryheid, wat in meer besonderhede in die laaste afdeling van hierdie bydrae bespreek sal word.

Hy beskryf drie makroparadigmas wat in die geskiedenis van ekklesiologie geld (en gegeld het) (Moltmann 2010:19-24). Die eerste noem hy 'n 'hiërargiese paradigma'. Dit het ontstaan in die Grieks-Romeinse leefwêreld en het bestaan uit die 'heilige heerskappy' van die monargie van die Vader: één God, één biskop, één kerk. Die 'een politieke leier op aarde' het gekorrespondeer met die 'een God in die hemel'. Die 'een God in die hemel' het gekorrespondeer met die 'een biskop op aarde'. Die lyn van gesag loop vanaf God as Vader, na die biskop, na die leke. Die biskop 'gee' gawes, want hy is verteenwoordiger van Christus.

Die ander sigbare teken van die skeiding was die ordening van mans en nie vroue nie. Moltmann (2010:21) formuleer dit soos volg: West European laicism is a product of Roman-Catholic hierarchism [...] Laicist religious freedom is a negative freedom from religion.' Leke 'ontvang' die gawes en sê 'amen'. Teken van die onderskeid tussen die kerkleiers (biskopdom) en die leke was sigbaar in die nagmaalsviering: wyn vir die priester en brood vir die mense. Ná die Tweede Vatikaanse Konsilie verbreed die hiërargiese 'mistieke liggaam van Christus' wat vertikaal van bo na onder georganiseer is, na die 'totale volk van God' en die 'algemene priesterskap van die gelowige.'117 Vaticanum II het gepoog om die hiërargie te oorstyg maar het, volgens Moltmann (1978:10), net halfpad daarin geslaag. Die 'geheiligde priesterskap' is steeds van die 'algemene priesterskap' onderskei (in Kehl 1992:123-124, 2001:3-16, 2002:34). Om die vertikale en die horisontale met mekaar te verbind, word die term communio hierarchica in 'katolieke' teologie gebruik (Moltmann 2010:21). Binêre denke word nie heeltemal ontkom nie, want kerk-wees word steeds gesien in terme van kerkrade, sinodes, konsilies en hiërargie. Steeds word kerk-wees gekenmerk deur die (onder) skeiding tussen die ampte en die leke; die (onder) skeiding tussen mans en vroue en die (onder) skeiding tussen die plaaslike kerk en die universele kerk. Resiprositeit behoort die plek van eensydige outoritêre gesagstrukture in te neem. Moltmann meen dit is reeds besig om in die Rooms-Katolieke Kerk te gebeur: 'More and more cross-connections within the community are being introduced into the vertical structure of authority and obedience' (Moltmann 2010:22).

Die tweede moontlikheid is 'n Christosentriese paradigma wat in die tyd na die Reformasie na vore kom as 'n interpretasie van die aard en eenheid van die kerk. Hiervolgens korrespondeer Christus (as hoof van sy liggaam [Kol 1:18] en in broederen susterskap met baie [Rom 8:29]) met die eenheid van die liggaam van die kerk (Moltmann 1993b). Gemeenskap met Christus maak die kerk 'n 'broederlike' en 'susterlike' gemeenskap van gelykes (Gal 3:28). Die algemene (die 'gedeelde') priesterskap van alle gelowiges vervang die skeiding tussen 'klerikales' en 'leke' (Moltmann 2010:23). Die eenheid van die kerk word nou bepaal deur die 'broerskap' van Christus en nie deur 'n patriargale hiërargie nie. Die politieke eweknie van hierdie paradigma is nie monargie of aristokrasie soos in die vorige paradigma nie, maar demokrasie (Moltmann 2010):

The general priesthood of all believers thrusts toward a political community in which the human dignity and human rights of all are observed [...] the presbyterial-synodal principal of the Protestant churches pushed for the democratization of politics, and the social orders of Reformed congregations have inspired the social legislation of modern European democracies. To establish communities 'of the people, by the people, for the people' (to quote Abraham Lincoln) is a consistent part of the Christocentric faith. (bl. 23)

Die derde moontlikheid vir kerk-wees is charismatiese gemeenskap. Hierdie paradigma is gegrond op 1 Korintiërs 12-14 en vorm die 'bril' waardeur die werklikheid van kerk-wees verstaan en geleef word: Die aanvaarding van die gelyke gawes en bedieninge ('charismata') van elke individu tot opbou van die gemeente en die koninkryk van God; daar is 'n verskeidenheid van gawes, maar net één Gees. Kerk-wees gaan nie op in óf die individu óf die geheel nie (vgl. Moltmann [1991] 1992b:232; Moltmann 2010):

So there can't be any fear of pluralism, which is alleged to split up the church; there can only be trust in the one divine Spirit. God's life-giving Spirit is the inexhaustible wellspring of a plurality of original powers and forms of life, for it gives everyone what is his or hers. (bl. 24)

Moltmann is van oortuiging dat die eenheid van die kerk nie verwerklik sal word as kerk-wees teologies gebaseer word op slegs die monargie van die Vader nie; of op grond van die 'broederskap' van die Seun alleen; of in terme van slegs die krag van die Gees nie. Die kerk sal alleen één kan word indien kerk-wees onderbou word met die trinitariese eenheid van die Vader en die Seun en die Gees. Die eenheid van die kerk 'korrespondeer' nie net bloot met die eenheid van die Drie-enige God nie (vgl. Moltmann [2006] 2008:29-38), maar die eenheid van die kerk, vind lewensruimte in God (Moltmann 2010:26).

Die een Gees, Here en God vorm saam die 'charismatiese' gemeenskap (Moltmann 2010). Dit is nie 'n hiërargiese kerk waarin daar tussen 'priesters' en 'leke' onderskei word nie. In 'n Christosentriese kerk is almal as broers en susters gelyk. In 'n charismatiese kerk, word elkeen as 'kenner' beskou: 'n kenner van eie roeping en lewe. In hierdie gemeenskap word diversiteit en verskeidenheid ernstig bejeën en gemeenskap met God word ervaar, nie as 'die mag bokant' of 'bo-oor'; ook nie as mag van 'onder' nie; eerder is die gemeenskap van God die band tussen die lede van die gemeenskap, en die gevolg is, volgens Moltmann (2010:25), 'a community of respect and love, respect for the liberty of other people and affection for them.'

 

Implikasies van Moltmann se Triniteitsleer: 'n Trinitariese gemeenskap (kameraadskap) en menslike vryheid

Die trinitariese gemeenskap is vir Moltmann 'n model vir menslike gemeenskap. Meer spesifiek gestel, dit is die beeld van God in mens gesetel in menslike gemeenskap wat die interpersoonlike lewe en verhouding van die sosiale Triniteit reflekteer. Joy Ann McDougall (2003:186-188) beskryf Moltmann se 'drie eienskappe' van trinitariese 'fellowship' (kameraadskap), as volg:

Wedersydse selfgewende liefde. Die trinitariese gemeenskap beeld die gedeelde, gemeenskaplike communio (oftewel koinönia) tussen die drie Goddelike persone uit. Hierdie wedersydse liefde konstitueer die trinitariese gemeenskap.

Gelykheid is die tweede eienskap van trinitariese gemeenskap.

Die derde is oneindige vrygewigheid (infinite generosity) om uit te beeld dat God, God self 'vryelik' en 'sonder voorbehoud' aan die ganse kosmos 'gee'.

Vir Moltmann word die 'likeness' van 'n gemeenskap wat die spieëlbeeld van 'n trinitariese God is, in Handelinge 4:32-37 gevind (Moltmann 2000:330), naamlik dat die groot getal gelowiges wat in hart en siel 'een' was, hulle goed nie net vir 'hulleself' gehou het nie, maar 'alles' met 'mekaar' gedeel het. Moltmann kritiseer die gedagte dat hierdie neerkom op 'n 'Christelike kommunisme' (Moltmann 2010:331). Dit is vir hom eerder die uitdrukking van 'n nuwe trinitariese ervaring van gemeenskap, waarin gemeenskap bo die individu geplaas is. Die hoofdoel van die rigting wat hy in sy Triniteitsleer inslaan, is 'n kritiese poging om die naïewe selfgesentreerdheid van sy eie denke te probeer oorstyg. Hy erken sy wit, manlike, Europese gesitueerdheid, maar meen dat hierdie aspekte nie sy teologie behoort te bepaal nie. Onderliggend aan hierdie oortuiging is sy verstaan van 'waarheid' (Moltmann [2006] 2008):

Humanly speaking, truth is to be found in unhindered dialogue - dialogue which if it is not already domination free, is at least truth-seeking. In this dialogue, community and freedom are joined: community in mutual respect and reciprocal participation and freedom in the right to have one's own opinion and to give one's own assent. (bl. 285)

Een van die konsekwensies van 'n 'perichoreties' sosiale Triniteit is Moltmann se nadenke oor 'menslike vryheid'. Dit vloei voort uit die wyse waarop Moltmann oor 'God' nadink. Moltmann beklemtoon dat die kerkleer oor die Triniteit (en sy teologie daaroor) gegrond is op die Skrif se getuienis van die geskiedenis van God se trinitariese verhoudings van gemeenskap en kameraadskap (Moltmann [1980] 1981:119; vgl. Müller-Fahrenholz 2000:137). In hierdie verlossingsgeskiedenis (of heilsgeskiedenis), leer die gelowige vir God ken as aktief en dinamies betrokke by die menslike toestand. Die geskiedenis van Jesus word deur die Nuwe Testament vertel as 'n verhaal van verhoudinge tussen drie goddelike Persone (Moltmann 1993b:173): Jesus die Seun, 'Abba', sy Vader en die Gees (Moltmann [1975] 1993a:82). Dit is 'n persoonlike ontmoeting tussen die Vader wat die Seun liefhet, die Seun wat tot die Vader bid, en die Gees wat van die Seun en Vader getuig. Deel van hierdie verlossingsgeskiedenis is die geskiedenis van God met Israel en van God met die kerk.

'n Christelike leer oor die Triniteit begin dus vir Moltmann by die aktiewe, dinamiese en persoonlike verhouding van die trinitariese God met die mensdom en vir hierdie rede is Moltmann dikwels krities oor die leer van die sogenaamde onbeweeglikheid van God (Moltmann 1993b:171, vgl. [1980] 1981:140-141, 203; Bauckham 1995:173). 'n Christelike leer oor die Triniteit is vir hom die oplossing tot die probleem van die klaarblyklike teenstrydigheid van God se heerskappy en menslike vryheid, en wel in die volgende sin (Moltmann 1993b:173-175):

Die verhouding tussen God en die wêreld is 'n wedersydse verhouding waarin God deur die wêreld geraak word sowel as wat die wêreld deur God geraak word. Die kruisgebeure is vir Moltmann die sentrale getuienis hiervan.

God Drie-een bestaan as 'n interpersoonlike verhouding van drie goddelike Persone met mekaar - 'n gemeenskap van liefde. Dit is 'n lewende gemeenskap waarin die Persone wedersyds in mekaar tot uitdrukking kom.

God se trinitariese geskiedenis is 'n geskiedenis waarin die verhouding tussen die drie goddelike Persone mekaar en ook die wêreld wedersyds beïnvloed.

Hierdie lewende verhouding is een wat die wêreld uitnooi en insluit.

Die verhouding is nie 'n regerende een nie. Die 'perichoretiese' verhouding tusssen die drie goddelike Persone is gelyk. Die Persone leef en kom tot uitdrukking in en deur mekaar.

Hierdie Triniteitsleer wat uit die Bybelse getuienis voortkom, verslaan die gedagte van God as 'n hemelse monarg, 'n universele patriarg en so ook die gedagte van 'n hemelse patriarg se aardse adjudantpatriarge, in die vorm van heersers, monarge en diktators. 'n Trinitariese denkwyse, met ander woorde, 'n paradigma gegrond op verhoudinge van gelykwaardige belangrikheid, beteken noodwendig deelnemende, gemeenskaplike en dus demokratiese strukture. Dit is gegrond op die 'korrespondensie' of analogie wat Moltmann tussen goddelike gemeenskap en aardse gemeenskap tref (Müller-Fahrenholz 2000:149). Die misbruik van mag en strukture wat onderdruk, het in die lig van 'n geloofsbelydenis in die Drie-enige God en 'n gepaardgaande trinitariese gerigtheid, geen bestaansreg nie - ook nie en veral nie in die kerk nie. Vanuit 'n trinitariese paradigma word 'gesag en gehoorsaamheid' deur dialoog vervang.

Dit is dus nie moeilik om raak te sien dat Moltmann se leer oor die Triniteit, oorkoepelend beskou, in 'n trinitariese leer oor vryheid kulmineer (Müller-Fahrenholz 2000:149; vgl. Moltmann [1980] 1981:212, 1992a:19). Die vryheid wat hier ter sprake is, is nie 'n vryheid van 'n 'wenner' teenoor 'verloorders' nie, dit is nie die vryheid van 'n absolutistiese heerser wat met geweld regeer nie - dit is 'n paradoksale vryheid en dit is die uitdrukking van gemeenskap as 'n kreatiewe geesdrif vir die moontlike, die potensiële: 'Trinitarian thinking presents itself as the theological history of freedom' (Müller-Fahrenholz 2000:150). Die implikasies en betekenis van hierdie teologiese geskiedenis van vryheid en die betekenis en implikasies van 'menslike vryheid', word vervolgens ten slotte bespreek en in verband gebring met die aard van Reformatoriese teologie, sowel as Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie.

 

Slotopmerkings: Vryheid in God se 'wye ruimte'

Reformasie en die vryheid van die evangelie

Die Reformasie en 'reformatory theology' (vgl. Moltmann 1999b:122) speel 'n beduidende karakterrol in hierdie 'teologiese geskiedenis van vryheid.' Die leidende beginsel of gedagte agter die Reformasie was 'n eenvoudige een, aldus Moltmann (1999a:192). Dit was die erkenning van die geregtigheid van die evangelie ('the justifying gospel'). Ons, as mensdom, is geregverdig omdat God regverdig is. Hierdie kennis - geloof alleen - is die gronde van ons regverdigheid en geregtigheid. Die reformatore het God se 'ja en amen' en keuse vir die mens, beklemtoon (Moltmann 1999a:193). Geloof beteken dan om God se besluit (oordeel) te aanvaar, God se belofte te vertrou, en God se regverdigende genade te aanvaar en te bevestig - sola fide en sola gratia. Dit is hierdie geloof in 'n genadige en regverdige God, soos in Jesus en die Gees geopenbaar, wat die gronde vir menslike vryheid is (solus Christus) (Moltmann 1999a:194). Dit is die erkenning dat elke sfeer of aspek van lewe deurdrenk is met die teenwoordigheid van die Drie-enige God. Die Skrif getuig op omvattende wyse oor God se verlossingsgeskiedenis - dit bevat die getuienis van die wyse waarop Jesus die gebroke menslike toestand regverdig (sola scriptura). Hierdie vier 'evangeliese beginsels' (Moltmann 1999a:196) het 'n ander verstaan van Christelike bestaan in die wêreld begrond. Die eerste element van hierdie 'ander bestaan' was 'n niehiërargiese kerk, wat by die algemene priesterskap van alle gelowiges uitdrukking gevind het. Die niehiërargiese paradigma is vervolgens ook ten opsigte van 'roeping' beklemtoon - verskillende mense word op verskillende wyses geroep om werk vir die koninkryk van God te doen, en daar is nie 'n hoër roeping as 'n ander nie.

Vir Moltmann dui hierdie twee elemente ook egter op wat hy die 'onvoltooide Reformasie' noem (Moltmann 1999a:197). Al was die Reformasie gemik op 'n niehiërargiese en egalitêre kerk, het partikuliere en provinsiale en nasionale kerke op grond van die beginsel van cuius regio, eius regio [die 'eienaar' van die gebied bepaal die gebied se religie] ontstaan. En 'roeping' het op daardie stadium uitsluitlik op een vorm van roeping - binne die kerk - voorgekom. Moltmann argumenteer dat Christene se roeping behoort ook met hulle werk in die gemeenskap en politiek versoenbaar te wees en dat roeping behels om die 'goddelike alternatief' (Moltmann 1999a:197) te illustreer in 'n wêreld wat deur geweld en onreg gekenmerk word.

In hierdie opsig dus, waarna verwys die 'vryheid' van die Reformasie? Dit verwys na die 'bevrydende boodskap' van die evangelie, naamlik dat vryheid 'n moontlikheid is vir almal wat glo deur die bevrydende en regverdigende Woord van God. Dit is 'n dialektiese en ambivalente vryheid: 'Faith makes them free masters of all things. They are subject to no one. Love makes them the ministering servants of all things. They are subject to everyone (Moltmann 1999a:198). Die woord van Christus maak gelowiges vry tot deelname aan 'n ongehinderde, direkte en ewige gemeenskap met God. 'Geloof in vryheid' en 'vryheid in geloof', is 'n relasionele en teologiese konsep van vryheid: In God se verhouding met mense word God, die Een wat regverdig, die bevrydende God. In hulle verhouding met God, word die bevrydes ook geregverdigdes.

Politieke teologie: Geleefde vryheid in solidariteit

Vir Moltmann is 'n politieke teologie die uitvloeisel van 'n geloof in die Drie-enige God. Die verlossingsgeskiedenis van die trinitariese God is die geskiedenis van vryheid. Moltmann beklemtoon dus dat solank politieke onderdrukking, ekonomiese uitbuiting en kulturele vervreemding bestaan, 'bevrydende teologie' op die agenda van die gelowige moet bly (Moltmann 2015b:103). In hierdie opsig is die bevrydende teologie wat trinitaries begrond is, ook 'n Reformatoriese teologie (vgl. De Gruchy 1999:103-119). As trinitariese geloof die vertrekpunt is, word die dade van Christene in kerk en politieke lewe bepaal deur die dissipelskap van die gekruisigde God en lewe in die Gees van God. Moltmann sluit in hierdie verband by Erik Peterson (1951:45-148) aan: 'For Christians there can be political action only if the premise is belief in the triune God.' Hy is oortuig dat teologie in staat moet kan wees om die kragte en magte van die tyd die hoof te bied. Politieke teologie is dus vir hom 'n 'teologie met die gesig na die wêreld gedraai' (Van Wyk 2015:1 van 8). Politieke teologie wil die kerk van ongereflekteerde, ondeurdagte gebondenheid aan ideologie en konserwatisme bevry (Moltmann 1978):

It is only when the church's fixation on that basic choice in world politics is ended that Christianity can hopefully discover the political sphere as the place where responsibility for faith and life is accepted; and it is only then that it can decide freely and for freedom [...] political theology, is not an ideology of political religions, to which the church has often surrenderd. It is the critical ending of those unholy alliances made by the church. (bl. 16)

Meer as 40 jaar nadat Moltmann, saam met Johan Baptist Metz, die politieke teologiese agenda op die tafel geplaas het in reaksie op die verhouding tussen kerk en staat in Duitsland en die onderdrukking van gemarginaliseerdes (vgl. Metz 1997:87-103; vgl. Van Wyk 2015:1-2 van 8), dink hy steeds na oor die aard van 'menslike vryheid in God se wye ruimte' (Moltmann 2015b:59-63, 103). Moltmann definieer 'vryheid' as 'gemeenskap' (Moltmann 2015b:112). Vryheid bestaan in gemeenskap. Hy beskryf die verhoudings van vryheid as 'verteenwoordigende verhoudings' (Moltmann 2015b:113), waarin elkeen die reg het tot selfbeskikking, maar waarin mense die verantwoordelikheid vir mekaar wedersyds op hulleself neem. Dit kan ook kommunikatiewe vryheid genoem word (vgl. Huber 1983:133). Iemand is 'vry' en 'voel vry' as hulle gerespekteer en erken word deur ander, en wanneer hulle op hulle beurt, ander respekteer en erken. Die ander persoon is nie 'n beperking op my vryheid nie, maar 'n verlenging daarvan. Dit kan ook derhalwe 'perichoretiese' vryheid genoem word (Moltmann 2015b):

In mutual participation in the life of other people, individuals become free beyond the freedom of their own individuality. That is the social side of freedom. We call it solidarity. (bl. 113)

'n Vry gemeenskap is 'n gemeenskap van mense in solidariteit - mense wat omgee en deel.

In hierdie opsig is 'solidariteit' 'n kernaspek van Moltmann se teologie (Moltmann [1964] 1967, [1972] 1974). God se trinitariese verlossingsgeskiedenis bewys God se solidariteit met die mens. Dit is die gronde van 'n politieke teologie van solidariteit en sosiale geregtigheid. Politieke teologie is dus ook 'bevrydende teologie' en profetiese teologie (Moltmann 2013:11). Dit behels 'n gedeelde sosiaal kritiese etiek van die mensdom in 'n wêreld wat onder onreg en geweld gebuk gaan en 'n planeet wat onder misbruik gebuk gaan (Moltmann 2013:4).

Jürgen Moltmann se teologie as 'n 'Reformatoriese' (reformatory) teologie van solidariteit

Vanuit sy lewensverhaal soos dit in sy outobiografie, A Broad Place / Weiter Raum ([2006] 2008), vertel is, word dit duidelik dat Jürgen Moltmann die wêreld deurkruis het met hierdie boodskap van hoe die wye ruimte van God tegelyk 'n bevrydende indikatief én 'n imperatief is. Hy is ongetwyfeld een van die grootste teoloë van die 20ste en 21ste eeu. Die invloed van sy verreikende teologie strek oor kontinente, kulture (taal en ras), geslagte (ouderdom en gender), denominasies (Christelike kerklike tradisies) en religieë (godsdiens en geloof) heen. Sy teologie getuig van iemand wie se hele lewenstog gekonsentreer was op die problematiek van die relasie tussen eenheid en verskeidenheid. Sy 'teologie van hoop' se grootste nawerking is die appèl wat dit tot gelowiges rig. God se wye ruimte bied hoop. Dit bring gelowiges egter ook voor 'n beslissingsmoment ('n kairos oomblik) te staan: Die hoop bemagtig gelowiges om hulle te beywer vir 'n gesonder, gelyker en liefdevolle wêreld.

Sy teologiese inhoud is dikwels met kritiek begroet vanweë die sterk etiese en/of praktykgerigte inhoud daarvan. Soos bo geblyk het, is ervaring 'n belangrike bron vir spreke oor God in sy teologie. In 'n sekere sin is sy teologie 'outobiografiese teologie', omdat hy in al sy gepubliseerde werke 'n kort oorsig van sy konteks en ingesteldheid het ten tyde van die skryf van 'n bepaalde werk. Hy het 'outobiografiese ondersoek' beskryf as 'n noodsaaklike dimensie van teologiese insig (Moltmann 2000:xix) en beklemtoon dat 'biografiese subjektiwiteit' en 'selfvergetende objektiwiteit' belangrike elemente in Christelike teologie is. Om hierdie rede is Moltmann se teologie eksistensieel en toeganklik en dit is hoekom dit wêreldwye impak het. Sy lewe en teologie is 'n getuienis van die God wat Moltmann se voete 'n breë staanplek gegee het (in verwysing na Ps 31:8 op die titelbladsy van sy outobiografie). Hierdie breë staanplek het hom in staat gestel om in wye oop ruimte te kan asemhaal (Moltmann [2006] 2008:382).

Jürgen Moltmann se nalatenskap tot Reformatoriese teologie lê in sy Bybelse hermeneutiek, sy eskatologiese hoop en sy politieke betrokkenheid. Sy teologie is reformatories omdat hy daarin slaag om die spanning tussen eenheid en verskeidenheid, inklusiwiteit en eksklusiwiteit op die terrein (ruimtes) van kerk en ekumene, gemeenskap en politiek op krities solidêre wyse, versoenend, te laat ontvou. Hy is die toonbeeld van die verinnerliking van die kritiese en dinamiese vryheid van Reformatoriese teologie en derhalwe straal hy 'n deurleefde reformatoriese houding (stance) uit (vgl. Van den Brink & Smits 2015). Sy bewussyn en beklemtoning van ongehinderde asemhaling, oftewel, ongehinderde lewe, in die wye lewensruimte van die Triniteit is Moltmann se bydrae tot Reformatoriese teologie.

 

Literatuurverwysings

Alston, W.M. & Welker, M., 2003, 'Introduction', in W.M. Alston & M. Welker (eds.), Reformed theology. Identity and ecumenicity, pp. ix-xiii, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Atherstone, A., 2009, 'The implications of Semper reformanda', Anvil Journal of Theology and Mission 26(1), 31-41.         [ Links ]

Augustinus 1969, De Trinitate, W.J. Mountain & F. Glorie (eds.), Turnhout, Brepols (Corpus Christianorum Series Latina, 50).         [ Links ]

Bauckham, R., 1995, The theology of Jürgen Moltmann, T & T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Borg, M., 2011, Reading the Bible again for the first time, HarperCollings, San Francisco, CA.         [ Links ]

Buitendag, J., 2008, 'Ecclesia reformata semper reformanda - die ongemaklike eis', HTS Teologiese/ Theological Studies 64(1), 123-138.         [ Links ]

Busch, E., 2003, 'Reformed strength in its denominationl weakness', in W.M. Alston & M. Welker (eds.), Reformed Theology. Identity and ecumenicity, pp. 20-33, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Case-Winters, A., 2006, 'Ecclesia reformata semper reformanda: Reformed and always to be reformed', in R.H. Bullock, Jr. (ed.), Presbyterians being reformed: Reflections on what the church needs to be today, pp. xxix-xxxiii, Geneva Press, Louisville, KY.         [ Links ]

Cunningham, D.S., 1998, These three are one: The practice of Trinitarian theology, Blackwell, Cambridge.         [ Links ]

Davis, S.T., Kendall, D. & O'Collins, S.J., 1999, The Trinity: An interdisciplinary symposium on the Trinity, Oxford University Press, Oxford.         [ Links ]

De Gruchy, J., 1999, 'Toward a Reformed theology of liberation: A retrieval of Reformed symbols in the struggle for justice', in D. Willis & M. Welker (eds.), Toward the future of Reformed theology. Tasks, topics, traditions, pp.103-119, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Disandro, C.A., 1984, Historia semantica de perikhoresis', Studia Patristica 15, 442-447.         [ Links ]

Dreyer, W.A., 2014, 'Wanneer een twee word: 'n Perspektief op resente gebeure in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1), Art. #2054, 1-16. https://doi.org/10.4102/hts.v70i1.2054        [ Links ]

Dulles, A., 1989, 'A half century of ecclesiology', Theological Studies 50, 419-442. https://doi.org/10.1177/004056398905000301        [ Links ]

Gunton, C., 1991, The promise of Trinitarian theology, T&T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Haffner, P., 2007, Mystery of the Church, Gracewing Publishing, Leominster.         [ Links ]

Huber, W., 1983, Folgen christlicher Freiheit, Neukirchener Verlag, Neukirchen.         [ Links ]

Kehl, M., 1992, Die Kirche: Eine katolische Ekklesiologie, Echter Verlag, Würzburg.         [ Links ]

Kehl, M., 2001, 'Die eine Kirche und die vielen Kirchen', Stimmen der Zeit 219, 3-16.         [ Links ]

Kehl, M., 2002, 'The one church and the many churches', Theology Digest 49, 29-37.         [ Links ]

Kilby, K., 2000, 'Perichoresis and projection: Problems with social doctrines of the Trinity', New Blackfriars 81(956), 432-445. https://doi.org/10.1111/j.1741-2005.2000.tb06456.x        [ Links ]

Koekemoer, J.H. & Otto, J., 1994, 'Die filioque: Ekumeniese speelbal of reformatories teologiese noodsaaklikheid', HTS Theological Studies/Teologiese Studies 50(3), 633-654.         [ Links ]

Koffeman, L., 2015, '"Ecclesia reformata semper reformanda" Church renewal from a Reformed perspective', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 71(3), Art. #2875, 1-5. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.2875        [ Links ]

Letham, R., 2009, 'The Trinity between East and West', Journal of Reformed Theology 3, 42-56. https://doi.org/10.1163/156973109X403714        [ Links ]

Lossky, V., 1957, The mystical theology of the Eastern Church, James Clark Publishing, Cambridge, MA.         [ Links ]

McDougall, J.A., 2003, 'The return of Trinitarian praxis? Moltmann on the Trinity and the Christian life', The Journal of Religion 83(2), 177-203. https://doi.org/10.1086/491276        [ Links ]

McGrath, A.E., 2001, Christian Theology: An introduction, Blackwell Publishers, Oxford.         [ Links ]

Metz, J.B., 1997, Zum Begriff der neuen politischen Theologie, 1967-1997, Grünewald, Main.         [ Links ]

Moltmann [1964] 1967, Theology of hope/ Theologie der Hoffnung, transl. M. Kohl, SCM Press, London.

Moltmann, J., [1972] 1974, The crucified God/Der gekreuzigte Gott, transl. R.A. Wilson & J. Bowden, SCM Press, London.

Moltmann, J., 1978, The open church: invitation to a Messianic life-style/Neuer Lebensstil. Schritte zur Gemeinde, transl. M.D. Meeks, Fortress Press, London.         [ Links ]

Moltmann, J., [1980] 1981, The Trinity and the kingdom: The doctrine of God/Trinität und Reich Gottes, transl. M. Kohl, SCM Press, London.

Moltmann, J., 1992a, History and the Triune God. Contributions to Trinitarian Theology/In der Geschichte des dreieinigen Gottes. Beiträge zur trinitarischen Theologie, transl. M. Kohl, Crossroad, New York.         [ Links ]

Moltmann, J., [1991] 1992b, The Spirit oflife - A universal affirmation/Der Geist des Lebens, transl. M. Kohl, SCM Press, London.

Moltmann, J., [1975] 1993a, The church in the power of the Spirit/Die Kirche in der Kraft des Geistes, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Moltmann, J., 1993b, The Trinity and human freedom, T & T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Moltmann, J. [1995] 1996, The coming of God: Christian Eschatology/Das Kommen Gottes: Christliche Eschatologie, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Moltmann, J., 1997, The source oflife. The Holy Spirit and the Theology of life/Die Quelle des Lebens. Der heilige Geist und die Theologie des Lebens, transl. M. Kohl, SCM Press, London.         [ Links ]

Moltmann, J., 1999a, God for a secular society: The public relevance of theology/Gott im Projekt der modern Welt, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Moltmann, J., 1999b, 'Theologica Reformata et Semper Reformanda', in D. Willis & M. Welker (eds.), Toward the future of Reformed Theology. Tasks, topics, traditions, pp. 120-135, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Moltmann, J., 2000, Experiences in theology. Ways and forums of Christian theology/Erfahrungen theologischen Denkens, transl. M. Kohl, SCM Press, London.         [ Links ]

Moltmann, J., [2002] 2003, Science and wisdom/Wissenschaft und Weisheit, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Moltmann, J, [2006] 2008, A broad place: An autobiography/Weiter Raum: Eine Lebensgeschichte, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Moltmann, J., 2010, Sun of righteousness, Arise! God's future for humanity and the earth, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Moltmann, J., 2012, Ethics of hope/Ethik der Hoffnung, transl. M. Kohl, Fortress Press, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Moltmann, J., 2013, 'Political theology in ecumenical contexts', in F. Schüssler Fiorenza, K. Tanner & M. Welker (eds.), Political theology: Contemporary challenges and future directions, pp. 1-12, Westminster John Knox Press, Louisville, CY.         [ Links ]

Moltmann, J., 2015a, 'European political theology', in C. Hovey & E. Phillips (eds.), The Cambridge companion to Christian political theology, pp. 3-22, Cambridge University Press, Cambridge.         [ Links ]

Moltmann, J., 2015b, The Living God and the fullness of life/Der lebendige Gott und die Fülle des Lebens, transl. M. Kohl, Westminster John Knox Press, Louisville, KN.         [ Links ]

Moreschini, C. & Norelli, E., 2005, Early Christian Greek and Latin literature: A literary history, vol. 2, From the Council of Nicea to the beginning of the Medieval period, transl. M.J. O'Connell, Hendrickson, Peabody, MA.         [ Links ]

Müller-Fahrenholz, G., 2000, The kingdom and the power: The theology of Jürgen Moltmann, Fortress, Minneapolis, MN.         [ Links ]

Oberholzer, J.P. (ed.), 2010, Honderd jaar Kerk en teologiese opleiding: 'n Kroniek van die Hervormde Kerk', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 66 (3 suppl. 9), Art. #942, bl. 1. https://doi.org/10.4102/hts.v66i3.942        [ Links ]

Papanikolaou, A., 2006, Being with God. Trinity, Apophaticism, and divine human communion, University of Notre Dame Press, Notre Dame, IN.         [ Links ]

Peterson, E., 1951, Theologische Traktate, Kösel, München.         [ Links ]

Robinson, P.M.B., 2006, 'The Trinity: The significance of appropriate distinctions for dynamic relationality', in P.L. Metzger (ed.), Trinitarian soundings in systematic theology, pp. 49-62, T&T Clark, London.         [ Links ]

Rohls, J., 2003, 'Reformed theology - Past and future', in W.M. Alston & M. Welker (eds.), Reformed theology. Identity and ecumenicity, pp. 34-45, Eerdmans, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Schindler, A., 1978, Monotheismus als politisches Problem? Erik Peterson und die Kritik der politischen Theologie, Gütersloh Verlagshaus, Gütersloh.         [ Links ]

Sore, C., 1998, 'Die perichoretischen Beziehungen im Leben der Trinität und der Gemeinschaft der Menschen', Evangelische Theologie 58, 100-118.         [ Links ]

Sore, C., 2004, Entwürfe einer perichoretischen Theologie, Lit Verlag, Münster.         [ Links ]

Stockley, M., 2011, 'By comparing and contrasting two twentieth century theologians, critically assess how a Trinitarian doctrine of creation might contribute to theological engagement with modern science', besigtig 28 Februarie 2017, by Becoming whole, Worldpress.com, becomingwhole.files.wordpress.com/2011/07/creation.pdf        [ Links ]

Torrance, A.J., 1996, Persons in communion: Trinitarian description and human participation, T&T Clark, Edinburgh.         [ Links ]

Van Aarde, A.G., 2013, ''n Postliberale perspektief op 'n ekklesiologiese modaliteit as 'n ecclesiola in ecclesia - heroriëntasie in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 69(1), Art. #2012, 1-14. https://doi.org/10.4102/hts.v69i1.2012        [ Links ]

Van Aarde, A.G. & Geyser, P., 2004, 'Om nie te dink bo wat in die Skrif geskrywe staan nie - konsistensie en ontwikkeling in die teologie van Piet Geyser', HTS Theological Studies/Teologiese Studies 60(1&2), 7-28. https://doi.org/10.4102/hts.v60i1/2.501        [ Links ]

Van den Borght, E.A.J., 2015, 'What is Reformed theology? Editorial', Journal of Reformed Theology 9, 323-324. https://doi.org/10.1163/15697312-00904014        [ Links ]

Van den Brink, G. & Smits, J., 2015, 'The Reformed stance. Distinctive commitments and concerns', Journal of Reformed Theology 9, 325-347.         [ Links ]

Van Fraassen, B.C., 2002, The empirical stance, Yale University Press, New Haven, CT.         [ Links ]

Van Ruler, A.A., 1965, Reformatorische opmerkingen in de ontmoeting met Rome, Paul Brand, Hilversum.         [ Links ]

Van Wyk, I.W.C., 2011, 'Wat is reformatoriese teologie?: Nadenke na aanleiding van 'n kerklike beswaarskrif, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art. #1156, 1-11. https://doi.org/10.4102/hts.v67i3.1156        [ Links ]

Van Wyk, T., 2013a, 'Die heuristiese potensiaal van narratiwiteit vir sosiaal relevante Sistematiese Teologie: Jürgen Moltmann se oorlogservarings as voorbeeldstudie', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 69(1), Art. #2043, 1-7. https://doi.org/10.4102/hts.v69i1.2043        [ Links ]

Van Wyk, T., 2013b, 'Transformasie, partisipasie en pluraliteit - die Kappadosiese erfenis vir die Sistematiese Teologie in die derde millennium', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(1), Art. #2040, 1-9. https://doi.org/10.4102/hts.v69i1.2040        [ Links ]

Van Wyk, T., 2015, 'Political theology as critical theology', HTS Theological Studies/Teologiese Studies 71(3), Art. #3026, 1-8. https://doi.org/10.4102/hts.v71i3.3026        [ Links ]

 

 

Project Leader: T. van Wyk
Project Number: 22153145
Project Description: This research is part of the project, 'The legacy of the 16th century Reformation and the South-African democratic ideal', directed by Dr Tanya van Wyk, Department of Dogmatics and Christian Ethics, Faculty of Theology, University of Pretoria.
109 Die navorsing en befondsing van hierdie hoofstuk is moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Deur hierdie ondersteuning te bied, word verseker dat Afrikaans as akademiese taal uitgebou word.
110 Binne Busch se verwysingsraamwerk, sal die Reformed hier na 'gereformeerd' verwys
111 Van den Brink en Smits (2015:327) verwys na 'n onderskeid tussen reformatoriese tradisie en Reformatoriese teologie. Met verwysing na Abraham Kuyper, argumenteer hulle dat reformatoriese tradisie 'n spesifieke etos en werklikheidsverstaan insluit. Vir die doeleindes van hierdie hoofstuk, word 'Reformatoriese teologie' beskou as verweef met, maar nie 'gelyk aan' reformatoriese tradisie nie.
112 Die gebruik van 'reformatories' om 'gereformeerd' te kwalifiseer of die keuse om 'reformatories' in plaas van 'gereformeerd' te gebruik, is 'n kenmerk van die teologiese tradisie van die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHKA), waarvan ek 'n lid is (kyk Van Aarde 2013:4, 5 van 14; vgl. Buitendag 2008; Dreyer 2014; Koekemoer & Otto 1994; Oberholzer 2010; Van Wyk 2011; Van Aarde & Geyser 2004, - om enkeles te noem).
113 The unity of the triune God is an open, inviting unity. It is the spiritual living space in which the church exists. God is not just a personal counterpart. He is also the 'broad place' in which there is no cramping (Moltmann 2010:26).
114 Theodore De Régnon het vir die eerste keer paradigmaties tussen Oosterse en Westerse Triniteitsbeskouings onderskei (vgl. ook Davis, Kendall & O'Collins 1999:143-176; Letham 2009: 42-56).
115 Die semantiese agtergrond van die woord is deeglik gedokumenteer en word nie hier herhaal nie. In hierdie verband, kyk Disandro (1984:442-447); Sorc (1998:100-118, 2004).
116 Daar is ook kritiek op Moltmann se verstaan van 'n 'sosiale' Triniteit en die korrelasie daarvan met kerk-wees. David Cunningham vind Moltmann se korrelasie tussen die Triniteitsleer en politieke en sosiale kwessies oortuigend, maar kritiseer sy 'social trinitarian programme' as abstrak en onduidelik en 'too unspesific to engage the challenging issues of today (Cunningham 1998:43). Torrance (1996:310-313) kritiseer egter juis die korrelasie wat Moltmann in die eerste plek daarstel en beskuldig hom van "immanentalizing the trinitarian life.' Kilby (2000:432-445) kritiseer ook hierdie korrelasie omdat sy meen dat antropomorfiese taal gebruik word om sosiale analogieë vir goddelike lewe te skep en dan die rigting van hierdie analogieë omdraai en dit as norm vir menslike verhoudings gebruik. Dus meen Kilby dat Moltmann terme wat eintlik na die immanente Triniteit verwys 'misgebruik' om dit 'ekonomies' toe te pas.
117 Vir die verskil tussen Pius XII [1943] se pouslike brief, Mystici corporis Christi en Vaticanum II se Constitution on the Church (Lumen Gentium [1965], kyk Dulles (1989:421-423, 424-430).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License