SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 issue5  suppl.11 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 n.5 suppl.11 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i5.4562 

HOOFSTUK 5

 

Adrianus van Selms as reformatoriese teoloog

 

 

Piet B. Boshoff

Reformed Theological College, Faculty of Theology , University of Pretoria South Africa

 

 


OPSOMMING

Adrianus van Selms as protestantse Teoloog. Van Selms het in 1938 vanaf Nederland na Suid-Afrika toe gekom om Semitiese Tale te doseer in die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria. Hy het ook deeltyds in die Fakulteit Teologie doseer. Die Universiteit van Pretoria het hom as een van denkleiers van die 20ste eeu aan die universiteit erken. Hy het geslagte van teologiese studente beïnvloed tydens sy amptelike dienstydperk aan die universiteit, vanaf 1938 tot 1971. Meer as 300 publikasies staan agter sy naam. Behalwe vir werk wat hy op die terrein van die Semitiese Tale gelewer het, het hy ook verskeie kommentare oor Ou-Testamentiese boeke geskryf. Verder was hy ook aktief as prediker in die kerk en het ook 'n uitsonderlike bydrae tot die kategesemateriaal van die Kerk gelewer. As teoloog het Van Selms aansluiting gevind by die reformatoriese tradisie van die 16de eeu. As eksegeet het hy die uitdaging aanvaar om die Bybelse tekste te lees in die erkenning van die historiese afstand wat die hedendaagse leser van die oorspronklike tekste skei. Hy is sodoende gekonfronteer met die knaende probleem van die benadering tot die Bybelse tekste: dogmaties of histories-krities? Deur as eksegeet sy eie dogmatikus te word, het hy die twee benaderings nie apart gehou nie, maar tot 'n eenheid gebring en op die manier 'n hervorming in die beoefening van die teologie verteenwoordig. Hy aanvaar met hierdie werkswyse die verantwoordelikheid vir die erfenis van die Kerkhervorming vir die kerk van sy dag. Die hoofstuk ontwikkel langs die verwagtinge wat aan die amp van predikant in die reformatoriese tradisie gestel word: teologie, prediking, kategese en herdelike sorg.


 

 

Inleiding

Adrianus van Selms (1906-1984) het in 1938 uit Nederland na Suid-Afrika toe gekom as lektor in Semitiese Tale aan die Universiteit van Pretoria. Hy is dadelik betrek om Bybelse Argeologie en soms Ou-Testamentiese Wetenskap vir teologiestudente van die Hervormde Kerk te doseer. Die Hervormde Kerk het hom ook hartlik as prediker ontvang. Hy het gereeld gepreek en ten minste by twee geleenthede inwydingsdienste gelei, Vanderbijlpark en Brakpan.

Van Selms het uit baie oorde erkenning geniet. Hy was volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat in 1976 die Stalsprys vir Teologie aan hom toeken; en korrespondent van die Nederlandse Koninklike Akademie van Wetenskappe. In 1959 word hy benoem tot Offisier in die Orde van Oranje-Nassau en in 1975 tot erelid van die British Society of Old Testament Study. Die Universiteit van Suid-Afrika het hom met 'n eredoktoraat in Teologie vereer en die Universiteit van Pretoria met 'n eredoktoraat in Lettere. Hy is ook aangewys as een van die honderd grootste presteerders op akademiese gebied, gedurende die 20ste eeu, aan die Universiteit van Pretoria.

Na sy afsterwe op 30 April 1984 het mev. Van Selms en die kinders sy hele akademiese boekery en sy versameling van 17de-eeuse Nederlandse poësie aan die Universiteit van Pretoria geskenk. Tot sy nagedagtenis het die Fakulteit Teologie die 'Van Selms Leeskamer' ingerig en word daar jaarliks in Suid-Afrika 'n Van Selms Gedenklesing gehou.

As verantwoordelike teoloog kon Van Selms nie afsien van die ontdekking van die evangelie deur die Kerkhervorming van die 16de eeu nie. Om kers op te steek by Reformatore soos Martin Luther, Philipp Melanchthon, Johannes Calvyn beteken om hulle te waardeer in soverre hulle Jesus Christus vir hulle tyd uitgelê het en uit te kom by die grondslag waarop hulle gebou het: Die lotgevalle van Jesus Christus soos wat Hy in die Bybelse tradisie oorspronklik betuig word.

In 'n tydperk wat gekenmerk is deur die onopgeloste metodeprobleem, toe eksegete en dogmatici oorhoops met mekaar lê en die dogmatikus, Ben Engelbrecht ([1962] 1982:59), kon opmerk: 'Salig is ook die eksegeet indien hy presies weet wat hy doen' naamlik oor hoe die Bybel gelees moet word: dogmaties of histories krities?, was Van Selms een van die wat as eksegeet ook sy eie dogmatikus was en so 'n eenheid van eksegeties historiese en sistematiese wetenskap kon beoefen. In hierdie sin verteenwoordig hy 'n uiters noodsaaklike en belangrike hervorming in die teologie. 'n Hervorming, 'n verandering van denkgewoontes wat nog nie behoorlik ingesink het nie. Op die manier het hy verantwoordelikheid vir die Kerkhervorming vir sy tyd aanvaar. Die krisis waarin die kerk verkeer is die krisis van sy verkondiging en daarom is Kerkhervorming in die eerste plek 'n teologiese opgawe.

Volgens die reformatoriese tradisie beweeg die amp van predikant heen en weer oor die terreine van die teologie, prediking, kategese en herderlike sorg. Terreine wat onderskei, maar nie geskei word nie. In die teologie gaan dit om 'n verstaansproses om 'n Bybelse teks hier en nou te verstaan wat kan lei tot 'n verstaanbare preek. Kategese is kerklike onderrig in meer algemeen verstaanbare terme aan die jeug met die oog op die aflê van die geloofsbelydenis. In die herderlike sorg word raad gegee oor geloofsake en lewenswandel.

 

Teologie

Reformasie

Tydens koning Josia se bewind is daar in 622 v.C. 'n boek, 'verbondsboek' genoem, wat vermoedelik Deuteronomium 12-26 bevat het, in die tempel in Jerusalem ontdek. Josia maak die vergete woord openlik bekend. En waar godsdiens vantevore rondom die tempel eredienste met bedevaarte daarheen en offerandes daar gesentreer het, word dit nou weer by vernuwing 'n lees en luister na die goddelike Woord met gebed en sang as antwoord daarop (2 Kon 22:8-23:3; 2 Kron 34:14-33; Van Selms 1947:190, 1969:99-100, 1978:75). Die mens moet die waarheid hoor, dit word aan hom gegee, geopenbaar; hy hoef dit nie te gaan uitvind nie. Plegtig lees die koning die eise wat die Here stel voor en die volk moet daarop bevestigend of ontkennend antwoord. Die hervorming word deurgevoer, die afgodsbeelde word verwyder en uiterlik word almal verplig om getrou aan die verbond te bly.

Die verbondsverhouding kan na aanleiding van 'n huweliksverhouding of 'n vasalverdrag uitgewerk word. Tussen God en sy volk bestaan daar nie 'n vanselfsprekende verhouding nie, dit berus op 'n wilsdaad van God wat vir Hom, as eggenoot 'n vrou kies of as meerdere 'n mindere kies en aan hulle 'n bepaalde gedrag oplê (Van Selms s.a.:122-123, 1972:66). 'Verbond' vul die 'verkiesing' aan deurdat van die verkosenes 'n bepaalde gedrag verwag word (Van Selms 1967a:177, 184, 190-191; 1978:73). Israel sien hulleself nie as bloot 'n sosiologiese grootheid nie, maar wil volgens hulle verstaan van hulleself meer as dit wees. God staan by sy woord en Hy begelei sy volk, soos dit nodig mag wees, met oordeel en genade. Die Nuwe-Testamentiese verkondiging van die lotgevalle van Jesus Christus brei die verbond uit na alle mense en is gemaklik daarmee om hierdie Ou-Testamentiese voorstelling te inkorporeer. Almal word uitgenooi om die reëlings van die verbond te gehoorsaam en deel daarvan uit te maak.

Die gebeure rondom die ontdekking en ingebruikneming van die verbondsboek maak duidelik wat onder reformasie of Kerkhervorming verstaan word. Wat sou daar aan die kerk wees om hervorm te word? Die maatstaf wat by so 'n herformasie aangelê word moet sekerlik 'n kriterium wees waaraan die kerk homself meet en dit is die evangelie, die woord wat van buite die mens, van God af, na hom toe kom. Hervorming beteken om na die oorspronge toe terug te gaan, na die fundamentele, die blywende, wat verloën kan word, maar nie uitgedien kan raak nie. Daar kan natuurlik ook ander maatstawwe vir die kerk aangelê word, byvoorbeeld uit die verwagtinge wat die samelewing sou stel aan die kerk op grond van die morele hoë grond wat die kerk sou hê of watter nut godsdiens nog kan hê vir die moderne mondige wêreld. Die kerk moet sulke vrae van buite sekerlik uitstaan, maar self moet kerk en teologie aan sy eie saak en eie opdrag getrou bly of andersins homself ophef.

Dat die woord moet klink en gehoorsaam moet word staan daarvoor in dat die verhouding vir die mens nie maar net altyd beskikbaar is nie. Geskied dit wel, kom die uiteindelike, eskatologiese verhouding tot stand: God en mens ten diepste versoen. God word erken in sy oneindige voorsorg vir die mens en die mens wat uitkom in die regte ontsag vir God en so goddelik begenadig. Die uiteindelike is ook net teenwoordig deurdat dit verkondig word en die teologie bly aan hierdie verkondiging diensbaar. Hier waar die uiteindelike ter sprake gebring word lê die beslissing vir of teen teologie. As teoloog het Van Selms die moed gehad om die getuienis van die handeling van God aan die wêreld te bedink en uit te lê. Sy eksemplaar van die 'verbondsboek', wat ons in die klas gesien het, was voos geblaai soos hy die getuies opgesoek het.

 

Die histories-kritiese metode

Met die opkoms van die historiese bewussyn was dit nie meer moontlik om die Bybelse tekste aan die historiese navorsing te onttrek nie. Sedert die twintigerjare van die 20ste eeu wek die dialektiese teologie 'n nuwe belangstelling daarin wanneer dit die Reformatoriese teologie herontgin (Ebeling [1950] 1976:1-2). Ebeling ([1950] 1976:35) teken aan dat die merkwaardigste verskynsel van die nuwere tyd se teologiebeoefening is dat dit veral die teoloë self was wat onverskrokke en onverbiddelik die histories-kritiese metode toegepas het sonder om, op enkele uitsonderings na, vervreemd van die saak van die teologie geraak het. In beginsel het die Protestantisme die gevaarlike pad van die histories-kritiese metode gekies. En dit met reg, want daarmee is die reformatoriese beslissing van die 16de eeu teenoor die Rooms-Katolisisme gehandhaaf (Ebeling [1950] 1976:40-41).

Die uitdrukking 'histories krities' laat die indruk dat hier gekritiseer, afgebreek word, maar die bedoeling is dat daar op historiese vlak 'n onderskeid gemaak moet word tussen die hede waarin die teks gelees en verstaan word en die verlede waarin die teks geskryf is. Hierdie benadering staan teenoor die dogmatiese metode waarvolgens die Bybeltekste gelees word asof dit vir vandag geskryf is. Die Bybel word dan beskou as in beginsel sondermeer toeganklik vir die toegewyde leser.

Die eksegeet wat die Bybelteks histories krities benader kan dit egter nie doen sonder om ingebed te wees in die resultate wat sy voorgangers langs die dogmatiese metode bereik het nie. Die reformatore het sonder veel historiese ondersoek die saak van teologie gereeld getref en dit sou onverantwoordelik wees om die egte stryd om te verstaan wat in die dogmatiese tradisie geleë is, verby te gaan. In aansluiting hierby verduidelik Van Selms (1936) dat die Ou Testament benader moet word vanuit die dogma van die kerk:

Wij zijn immers niet anders dan dienaars der kerk, ook en vooral by het lezen en verklaren van de Schrift. Het ware onwerkelijk, te ontkennen dat het kerkelijk dogma de sfeer is, waarin wij leven en ons bewegen. Zelfs de gemiddelde atheïst maak zich er feitelijk niet los van. (bl. 10)

Hy voeg by dat dit vanself spreek om die kerklik dogmatiese insigte tot grondslag van die studie van die Nuwe Testament te maak. Reformatories uitgedruk kom die kerklik dogmatiese besit neer op die regverdiging van die goddelose, iustificatio impii.

Van Selms (1936) beskryf die sistematies teologiese ontwerp:

Het essentieele van heel de Bijbelsche boodschap, zowel in O. as in N.T., is onbestreden dit, dat het leven van den mensch er in wordt bepaald door oordeel en genade Gods. Deze zingeving

van buiten af, waarvan de dogma's van verkiezing en rechtvaardiging de uitvloeisels zijn, is de grondtoon van Genesis tot Openbaring. Het wezenlijke aan een mensch is zoowel in O. as in N.T. niet hetgeen in hem is, maar tot hem wordt gesproken. (bl. 20-21)

So is Jeremia nie 'n profeet wat swael en vuur afroep oor sy volk en daarna 'n koppie koffie by die huis gaan drink nie. Nee, sonder dat hy dit hoog opgee, vereenselwig hy hom met die daad en lot van die volk. Hy ondergaan saam met hulle die regverdige oordeel van God. En, voeg Van Selms (1972:158) by, hierin lê 'n boodskap vir ons. Al wat hom van sy volk onderskei, is dat hy God se regverdigheid aanvaar. Dit maak hom, volgens Van Selms, die 'denkende riet' van Pascal.

Dit kan egter nie ontken word dat die histories-kritiese metode uit 'n ondogmatiese grondhouding stam nie. Om te verhoed dat hy in hierdie rigting deur sy metode meegevoer word herinner Van Selms (1951) homself aan die riglyne vir sy arbeid:

Een plichtsgetrouw historicus en philoloog behoort van tijd tot tijd een dogmatiek te lezen. In de eerste plaasts wel, omdat hij anders mischien vergeten mocht, waarom hij zich aan de studie van de oud-Israelitische letterkunde gewijd heeft. Voorts heeft het zijn belang, nu en dan eens na te gaan, wat de systematici doen met de goudkorrels, die zijn arbeid hun bood. (bl. 76)

Hierdie voorverstaan wat die eksegeet rigting gee, moet nie eng intellektualisties verstaan word nie. Hy kom om seker te maak of dit nog so is, soos hy geleer het. Hy is die betrokkene, die soekende, die vraende. Hoekom word daar so 'n ophef van die sola scriptura, die Skrif alleen gemaak? Juis daarom vra hy of dit waar is dat God hier spreek, soos ons geleer het.? Mense verwag van die eksegeet om sonder voorveronderstellings sy uitleg te benader, omdat die teks self rigting aan die verklaring daarvan sal gee. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Want die teks word benader met sekere vrae wat daaraan gestel gaan word. Maar die teks moet ook toegelaat word om sy eie antwoorde te gee. Dogmatiese uitgangspunte mag nie die eksegese oorheers nie (Van Selms 1967a:Voorberig). Wanneer die teks die bedoeling het om, nie net inligting oor te dra nie, maar om 'n aanspraak op die leser te maak, moet die leser hom die geleentheid daartoe gee om daarvan te hoor hoe dit met hom, met sy lewe gesteld is.

Van Selms tree toe tot die debat oor die sleutelmag wat telkens tussen Rooms-Katolieke en Protestante opvlam en kom met 'n geslaagde kinkel in sy uitleg wat hom aan die einde van sy opstel oor 'De sleutelmacht (Van Selms 1970:260) laat uitroep: 'Hoe fundamenteel is exegese, niet ondanks maar dank zij haar taalkundig en archeologisch gepeuter, voor theologie en kerk, voor kerk en wêreld!.'

In die opstel vind hy (Van Selms 1970:258) 'n parallel van Matteus 16:19 'Ik zal u de sleutels geven van het Koninkrijk der hemelen in Lukas 12:42. In sy voorafgaande vraag het Petrus wou vasstel of Jesus spesifiek leidinggewende figure in die gemeente in gedagte het, of dalk die hele gemeente. Jesus antwoord met 'n vraag: 'Wie is eintlik die getroue en verstandige bestuurder vir wie die eienaar oor sy ander slawe sal aanstel om hulle op tyd hulle kos te gee?' Dit word duidelik dat Jesus nie net Petrus bedoel nie, maar die apostels in die algemeen. Van 'n uitsonderingsposisie van Petrus is geen sprake nie. In die lig moet ook die toekenning van die sleutelmag in Matteus 16:19 gesien word.

Vir die 'deel' wat die mededienaars van die huisbesorger moet ontvang, verwys Van Selms (1970:258) na hoe Paulus in 1 Korintiërs 4:1-2 die apostels beskryf as 'dienaren van Christus en uitdelers der verborgenheden Gods.' Verder (Van Selms 1970):

Dat het bij de sleutelmacht om het uitdelen, om de verkondiging van het evangelie gaat, blijk ook uit het tweede deel van Matth 16:19: wat gij op aarde binden zult, zal gebonden zijn in de hemelen, en wat gij op aarde ontbinden zult, zal ontbonden zijn in de hemelen. (bl. 259)

Met 'bind' en 'ontbind' word Petrus en alle ampsdraers verseker dat hulle uitleg van die Skrif gesaghebbend sal wees, solank as wat hulle ware uitdelers van God se voorrade bly (Van Selms 1970:259).

Op grond van sy aanbieding bevraagteken Van Selms (1970:260) dan die uitleg van die Heidelbergse Kategismus vir Sondag 31 wat die sleutels van die hemel nie net op die prediking betrek nie, maar dit ook 'die Christelike ban' laat insluit. Hy wat in beheer van die paleisvoorrade is kan tog nie self besluit aan wie hy die daaglikse rantsoen gaan uitdeel en aan wie nie.

 

Evangelie en wet of indikatief en imperatief

Die verhouding van evangelie en wet is vir Van Selms (1938b:99-101) werklik dialekties: Elkeen van die twee begrippe word deur die ander een bepaal en moet saam daarmee verstaan word. Wat geloof is, word in hulle eenheid beskryf. Hy beveel as vertaling van die eerste van die Tien Gebooie aan; 'Naast Mij, de Heere uw God, die u uit Egipteland, uit het diensthuis, uitgeleid heb, zult gij geen ander goden hebben (Van Selms 1938b:99). Die dekaloog stel dus die evangelie of indikatief waarin daar verlossing plaasgevind het. Die Israeliete is nie meer slawe nie. Die imperatief of bevel wil hulle help om vry te bly, deur hulle by hulle bevryder te laat hou. In hierdie dialektiese sirkel is die een nooit sonder die ander nie. Die een volg nie in tyd op die ander nie, hulle bly as paar saam (Van Selms 1938b):

Het gebod tot geloof brengt tot dit geloof; het is te vergelijken met het lokken van de kuikens door de hen: de geluiden, die de hen maakt, zijn niet enkel een objectieve mededeling: daar is gevaar en hier ben ik - neen, ze doen wat, ze brengen de kuikens naar de moeder. Maar niet als stok en blok: Jeruzalem, Jeruzalem, hoe menigmaal heb Ik uw kinderen willen bijeenvergaderen, gelijkerwijs een hen hare kiekens onder de vleugelen vergadert, en gijlieden hebt niet gewild. (bl. 100-101)

Vir Van Selms berus die gedrag nie op bepaalde gevolgtrekkings wat uit die verlossingsgebeure gemaak moet word nie, maar op die bly by die Verlosser. En hy neem waar dat die kerk wel die evangelie wil hoor, maar tog huiwerig is om deur te druk tot by die werklike goddelike genade toe. Dit is asof die kerk te swak is vir sy eie verkondiging. Kerke is bang dat dit onverskillige en roekelose mense tot gevolg sal hê en verkies in die plek daarvan 'n mengsel van soveel persent evangelie plus soveel persent wet (Van Selms 1940):

Die kerklike prediking is gewoonlik versigtiger as die Bybelse. Daar is die Roomse versigtigheid: dit bind die vergewing van God aan die goeie werke, wat die boeteling in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die kerk moet volbring; en daar is ook Protestantse versigtigheid: daar word die vergewing gebind aan 'n sekere staat van die siel, aan bepaalde belewenisse, of ten minste aan die verlange van die hart. (bl. 82-83)

Na aanleiding van die Latynse weergawe van die openingswoorde van die Johannes-evangelie In principio erat verbum bou Van Selms (1959-1960:69-70) sy argument dat die woord wat in die begin was nie sommer enige woord was nie, maar spesifiek 'n werkwoord. Dit word algemeen aanvaar dat Johannes hiermee die 'en God het gesê' van Genesis 1 ophaal. Die Hebreeuse woord wat daar sou kon staan, dra, behalwe 'sê' ook die betekenis van 'beveel'. In Psalm 33:9 vul die 'sê' en die 'gebied' mekaar aan (Van Selms 1959-1960):

Want Hij sprak en het was er,

Hij gebood en het stond er.

Het spreken van God is dus iets anders dan het spreken van Adam. Deze gaf de dieren namen: hij sprak in naamwoorden; hij constateerde wat was. Gods spreken is een gebieden, waardoor de dingen, die niet waren, in het aanzijn geroepen worden. Menselijk spreken beweegt zich binnen analytische oordelen; het goddelijk spreken is een synthetisch oordeel. Door het spreken van God komen de dingen in het aanzijn, en worden mensen tot het rechte handelen opgeroepen. (bl. 70)

 

Ander godsdienste

Van Selms (s.a.:31) vra nie na ander openbaringe van God naas die openbaring in Christus nie. Iemand wat dit sou wou doen, verstaan nie dat die openbaring as werklike openbaring nie aangevul kan word nie, of hy staan nog buite die geloof, of hy vra bloot uit nuuskierigheid en nie werklik as betrokkene nie.

 

Luthervergessenheit

Teen die agtergrond van die verskynsel dat Martin Luther se lewenstryd en teologie tot 'n groot mate vermy en op die agtergrond geskuif bly, waarskynlik omdat mense daarvan terugdeins om hulle met so 'n groot saak in te laat, noem Van Selms dat hy aan Luther gedink het en haal van sy 'voortreflike uitsprake' aan: ''n God is dit waarop 'n mens al sy vertroue stel; dit is die vertroue van die mens wat God en afgod maak' (Van Selms s.a.:29).

Hoewel hy dit 'voortreflik' noem, wil hy Luther hierin nie volg nie, omdat die uitspraak maklik misverstaan word in die sin dat 'God' dan niks meer as die projeksie van die menslike verlange sou wees nie.

Luther het geloof met die gewaagde uitdrukking creatrix Dei, 'skepper van God' beskryf. Deur hom in die geloof aan God toe te vertrou, laat die mens God toe om God te wees. Net in die geloof het God sy Godheid. Hy ontvang sy Godheid nie van my nie, maar deur sy skeppende woord laat Hy my glo en word Hy teen alle weerstand in, God vir my, deurdat ek glo. Vir Luther skep die geloof nie die werklikheid nie, dit is eerder die gebeure waardeur die mens toegelaat word in die werklikheid van God en van sy eie lewe. Van Selms (s.a.:26) se waarskuwing dat 'n mens nie om die geloof nie, maar deur die geloof geregverdig word, sluit myns insiens goed by Luther se standpunt aan. Deur die geloof gebeur dit: Ek neem God op sy woord. Net die geloof laat reg aan God geskied, maar dit beteken nie dat Hy buite die geloof nie bestaan nie.

 

Die twee-ryke-leer

Soos bekend het Martin Luther onderskei tussen die geestelike en wêreldlike regimente. Vir hom hang hierdie belangrike onderskeid saam met die hele saak van die regverdiging van die sondaar. Hierdie onderskeid korrespondeer met die onderskeid tussen wat mense doen, aan die een kant, en wat God doen, aan die ander kant. Mensewerke gaan mank aan dwaling, foute, onvolmaaktheid en word deurtrek van menslike skuld en val onder die oordeel van God. Aan sy kant bly God besig om sondaars te vergewe en met sy genadewoord te regverdig.

Dit moet met genoeë wees dat Van Selms (1952:8, 10) vertel van die volksplanter, Jan van Riebeeck, wat in die Culemborg Hervormde Kerk gedoop is, waar Van Selms self as predikant jare later gewerk het, se bestuurstyl, wat hy kontrasteer met dié van sy eweknie, Jan Pieterzoon Coen in Batavia. 'Van die teokratiese trekke, wat sy bestuur van Batavia soms kenmerk, is aan die Kaap geen spoor te ontdek nie'(Van Selms 1952:10).

Van Selms (s.a.) onderskei tussen die staatsgesag, wat nie sonder geweld kan funksioneer nie en die heerskappy van Jesus Christus, wat Hy deur sy woord en Gees uitoefen:

Die manifestasie van die koningskap van Christus word dus gevind in die bekering van sondaars. Dit is sy wesenlike glorie. Ons moet nie probeer om die eer van God êrens anders as in die verkondiging van die evangelie te soek nie. (bl. 58)

'n Treffende voorbeeld waarmee Van Selms illustreer hoe aan God die eer gegee word, kom na vore in die woorde van Josua aan Akan, nadat die orakel hom as die skuldige aangewys het: 'My seun, maak tog die Here, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het' (1948a:161). Hier word om aan God die eer te gee gelykgestel daaraan om belydenis van skuld te doen. Van Selms (s.a.:149) wys daarop dat 'skuldbelydenis' en 'lofprysing' in Hebreeus deur een woord 'tdh' uitgedruk word.

 

Prediking

Erkenning

Van Selms ontwikkel die reformatoriese verstaan van die formule exstra nos, 'buite ons self' deur geloof met die woord 'erkenning' te beskryf: 'Die geloof is 'n erkenning, en die erkenning rig hom altyd op 'n werklikheid wat reeds daar is' (Van Selms s.a.:117). Erken beteken dat dit ons eie insigte oorskry. Met die erkenning word dit wat buite ons gebeur in ons opgeneem.

Geloof is nie gerig op die eie lewensmoontlikhede van die mens nie, maar gerig tot God, oor wie die mens nie beskik nie, maar wat die mens tegemoet kom. Hy is buite my deur my te bevraagteken. As Hy my nie sou bevraagteken nie, sou Hy nie van my verskil nie en bloot 'n verlengstuk van my self wees. Erkenning van die ander en om Hom toe te laat om my te bepaal is een en dieselfde saak.

Dit kan lonend wees om aandag te gee aan Van Selms se gebruik van 'erkenning'. Vir hom hou dit verband met erkentlikheid, dankbaarheid en aanvaarding. Deur die verkondiging van God se weldade word 'n mens tot die geloof gebring. Die mens luister na die verkondiging nie as die mededeling oor een of ander geheim of saak nie, maar dat God homself meedeel as die een wat gedagtes van vrede oor hom het, en hy luister of ontkennend of erkennend. In die luister het die hoorder al klaar beslis hoe hy luister. Gebeur dit instemmend, ontstaan die erkenning by die besef van die oordeel en genade waarin God in Jesus Christus aanspraak op die mens maak. En die erkenning van God korreleer met die selfverstaan van die mens as sondaar wat vergifnis ontvang. Dit gebeur nie so dat die mens eers verstaan en daarna vanuit 'n neutrale oorweging sy keuse maak nie. Luisterend word sy bestaan vir homself deursigtig of verwerp hy die boodskap as 'n hindernis in sy strewe na selfverwesenliking. Dit gebeur voor hy nog enigiets anders doen, in geloof of ongeloof. Die erkenning kom nie uit 'n natuurlike erkenningsvermoë wat neutraal sou staan teenoor geloof en ongeloof nie, maar uit die geloof self, wat oor die hindernisse heen die woord van God hoor.

Die oproep 'bekeer julle!' wat Johannes die Doper en Jesus ook gemaak het, laat die indruk dat die mens wel in staat moet wees om homself te bekeer, anders sou so 'n oproep mos sinneloos wees. Die mens kan besluit om hom, na deeglike oorweging tog te bekeer. Van Selms meen dat dit 'n al te rasionele en oppervlakkige verstaan sou wees, wat nie rekening hou met (Luk 13:34; Van Selms s.a.):

[D]ie feit van die werking van die gebod 'Bekeer julle' self nie. Die feit dat die Here dit vir die mense sê, maak kragte in hul vry waarvan hulle tevore nie geweet het nie. Die gebiedende wys in die mond van die Here is self die groot krag tot bekering. Wanneer 'n hoenderhen haar kuikens roep is dit die werking van haar lokgeluide wat die kuikens na haar toe laat kom. Jesus het self hierdie beeldspraak gebruik. (bl. 168-169)

Die woord van die kerklike verkondiging tree op as die mag van die verandering van die menslike werklikheid wat hom spontaan oorkom.

Van Selms (s.a.:115, 1948b:10) toon aan dat geloof 'n sonderlinge werkwoord is. Uiterlik kom dit voor as 'n aktiewe werkwoord, maar dit is net skyn. Dit kan vergelyk word met 'n woord soos bewonder. Dit is nie my werk, my prestasie om te bewonder nie. Dit gebeur eerder so dat mense en dinge so 'n houvas op my kry dat ek my in bewondering gewonne moet gee (Van Selms s.a.):

Ek word oorweldig deur die goedheid van God wat uit vrye genade, om niks, vir my my sondes vergewe. Die sondevergewing volg nie op die geloof nie, maar gaan daaraan vooraf. In die geloof word ons bewus van wat van ewigheid reeds was: 'Die guns waarmee Hy ons wou gadeslaan'. (bl. 115)

Die heilsgebeure, hier geformuleer as 'sondevergewing', maak die voorveronderstelling uit vir die geloof, maar sonder die geloof gaan die heil ook nie gebeur nie.

Genade

Die woord 'genade' het volgens Van Selms (s.a.:33-34) die nadeel dat dit al 'n aanduiding van 'n menslike kwaliteit, 'n menslike eienskap geword het. Die mens neem as 't ware die genade by God oor en word self genadig. 'n Ander misverstand het van die goddelike genade 'n selfstandige saak tussen God en die mens gemaak. Dit kan byvoorbeeld gebeur wanneer in Koos du Plessis (2012) se bekende gebed gesing word 'Wat ek is, is net genade. Volgens Van Selms se antropologie dat die mens is wat vir hom gesê word, kan die wete om God se genade nie die karakter van 'n tydlose waarheid, 'n teorie aanneem nie. Dit kan net geskied in die toesegging daarvan en die erkenning van God se aanspraak op die mens. Dit is net waar wanneer dit werklik geskied: 'waar God genadig, dit wil sê teenoor my genadig is en ek hierdie genade erken' (Bultmann [1928] 1972a:117). Van Selms vervang daarom die drielettergrepige 'genade' deur een wat ongelukkig swaar trek aan ses lettergrepe 'vergewingsgesindheid'. Hy ag dit nodig omdat 'vergewingsgesindheid' 'n persoonlike verhouding veronderstel. En die persoonlike verhouding wat hier na vore kom, bestaan in die sondaar wat deur God vergewe word. Verderaan verduidelik van Selms (s.a.) dat die vergewing nie net die skuld van die verlede delg nie, maar ook:

[D]ie drang tot herhaling wat uitgaan van daardie skuld in die verlede. Die ontdekking dat sonde geen noodlot is nie, is 'n belangrike stap op die pad van die heiliging. (bl. 113)

Martin Luther ([1521] 1931:372) se uitspraak pecca fortiter, sed crede fortius [sondig dapper, maar glo nog dapperder] hou in dat ons toekomstige mislukkings nie die einde van die wêreld is nie, want op grond van die verkondigde woord word dit vooruit vergewe. My vryheid gaan ek weer en weer verloor, maar ek glo dat ek dit weer gaan terugkry in die genade wat my vooruitgaan.

Tot volmaaktheid kom ons in hierdie lewe nie. Die vergewing van sondes wat ons ontvang het, sterk ons egter in die vertroue dat ook dié sondes wat ons nog bedrywe nadat ons onsself in die arms van die Heiland gewerp het, vir ons nog vergewe sal word, en ons sien uit na dié dag waarop deur die dood die laaste spore van die sondige aanleg in ons vernietig sal word. (bl. 113)

In sy besinning oor Luther se rol as hervormer kom Anton van Niekerk (2017:18) tot die gevolgtrekking dat hoewel Luther nog relevant is, het die huidige omstandighede so verander dat ons nie meer soos Luther moet vra 'waar vind ek 'n genadige God.?' nie, maar eerder 'waar vind ek 'n genadige mens?' So vra 'n mens wat bevrees is dat hy aan ander mense uitgelewer is. Maar vra hy dan nie heeltemal te min nie?

Nou is dit so dat die manier hoe God optree, ook deur ons mense nagevolg behoort te word. 'Die Here is regverdig. Hy het mense lief wat regverdig en opreg handel' (Ps 11:7). As Hy genadig is, moet ons dus ook genadig wees. Maar wat tussen mens en mens afspeel, omvat nie ons hele bestaan nie. Hier gaan dit om enkele, eventueel begane sondes. Ons kan mekaar net die skuld vergewe waardeur ons aan mekaar skuldig geraak het, terwyl ons verhouding tot God ons hele bestaan betrek en Hy ons geheel wil begenadig.

Van Niekerk vra die beperkende vraag van die etiek, wat bepaalde dade betref. Byvoorbeeld: Ek oortree en jy sien dit oor. Luther se benadering is egter meer radikaal, noem dit metaeties. Dit raak alle dade. Waaraan ontleen ons die reg om te handel? En die Bybel antwoord: 'Op grond van die groot ontferming van God' (Rom 12:1).

In sy kommentaar op Jeremia 1:18b 'wees nie vir hulle verskrik nie, dat Ek jou nie vir hulle laat skrik nie' stel Van Selms (1972:34) dat Jeremia deur hierdie 'manlike manier van bemoediging' bevry word van mensevrees deur godsvrees by hom in te boesem. Net 'n groter vrees, die vrees vir God, kan 'n kleiner vrees, dié vir mense, oorwin. Behalwe eggo's daarvan in die Nuwe Testament laat Van Selms vir Plato toe om sy insig mee te deel: 'Moed is een recht inzicht in welke dingen wel en welken niet gevreesd moet worden (Van Selms 1972:34).

Vergewing

Van Selms (1940:79-86) verkondig die evangelie met die hulp van die 'Pauliniese' Psalm 130 se vierde vers: 'Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word.' Hy ontken dat die goddelike vergewing gemotiveer sou word deur die sedelike aanvaarbaarheid van die mens of deur een of ander kernwaardigheid wat hy sou hê. Die vergewing is nou eenmaal 'by U'. Die beweegrede daarvoor moet nie by die mens gesoek word nie. Die mens kan God op geen manier onder 'n verpligting stel nie.

Verder verwag die goddelike vergewing ook nie 'n onderneming van die sondaar om homself te verbeter nie. So 'n verwagting sou die vergewing net voorwaardelik maak: 'dit sou God in sy verhouding tot die mens van die mens afhanklik maak, en dis Gods eer dat Hy vry is' (Van Selms 1940:81; vgl. Van Selms 1974:107, 1982:75).

Die Psalm sing nie van 'n halwe of 'n nog kleiner vergewing nie, nie van vergewing vir 'n paar dinge of vir baie dinge nie. Dit gaan oor volle vergewing wat die mens ophef en hom met God verenig.

Van Selms (1940:84) vra na die verband tussen die tweede helfte 'dat U gevrees mag word' en die voorafgaande goddelike vergewing. Die verband lê hy dan daarin dat die vergewing 'die volstrekte vrymag van die Here openbaar.' Die Here hoef aan niemand rekenskap te gee nie en dit moet ons vul met vrees en bewing, want ons besef dat niks Hom kan dwing om so en so te vergewe nie (Van Selms 1940):

Daar is 'n regstreekse verband tussen vergewing en uitverkiesing, en daar is niks wat 'n mens soseer leer om God te vrees as die vergewing, wat die openbaring van die uitverkiesing is. (bl. 85)

In die dogmengeskiedenis van die kerk was die saak van die uitverkiesing nog altyd omstrede. Miskien raak dit minder omstrede wanneer ons die sondige opstandigheid teen die Here van alle mense as uitgangspunt neem. Dit is die staat van verwerping waarin almal hulself gestel het. En in hierdie situasie besef die psalmdigter en psalmsinger dat hulle op 'n wonderbaarlike wyse uit hierdie verlore massa uitgehaal word omdat die Here die werk van sy hande nie wil laat vaar nie. Die goddelike Woord (Van Selms 1940):

[B]ring iets tot stand. Dit werk in die mens die gevoel van afhanklikheid van God, en daarmee die diepe, alles oorweldigende dankbaarheid, 'n dankbaarheid wat geen deug van die mens is nie, maar 'n werking van God deur sy vergewing. (bl. 85)

Die wonderbaarlike is dat die Here hoegenaamd uitkies. Ons moet die paradoks uitstaan en vashou aan die vryheid van die mens voor God en tegelyk die beskikkingsmag van God oor die mens erken. Logies is dit nie. Die Christelike bestaan is nie logies nie. Maar daarmee word dit nie afgeskryf nie. In sy opstel 'Filosofeer' beskryf Van Wyk Louw juis die streng en omvattende denke waar dit probeer om in een verband saam te bring 'dinge wat werklik uiters verskillend is' (Van Wyk Louw 1986:38). Van Selms (1948b:12) self meen: 'Het is geen verdienste, bang te zijn voor helder denken.' Op sy beurt wonder Bultmann ([1948] 1968:158) of dit werklik so moeilik is om vryheid en genade saam te dink en te verstaan. Want analoë verhoudings in vriendskap en liefde bestaan ook tussen mense. Jy voel aangetrokke tot iemand, iemand trek jou dus aan en van jou kant kan jou toewyding aan die verhouding net as 'n vrye oorgawe eg wees. Dat iemand glo is te danke aan die werk van die Heilige Gees (Van Selms s.a.). Maar sy werk maak nie van die mens 'n willose voorwerp nie.

Die Heilige Gees is waarlik Gees: Dit wil sê nie 'n natuurkundige krag nie, nie 'n mag wat eers regtig lekker werk wanneer sy voorwerp magteloos is nie, maar 'n sedelike krag wat as sodanig juis vra om die sedelike en geestelike kragte van sy voorwerp, en dit daarom oproep en in stand hou. (bl. 120)

Van Selms (1940) het dit nodig geag om in sy preek die saak vir 'n tweede keer tuis te bring met 'n Christologiese kurwe:

As ons sien op die kruis van Golgota en die stem van die Heilige Gees hoor wat ons hart verseker: Dis ook vir jou volbring! - dan kan dit nie anders of ons hart word oorstelp en vervul met dankbaarheid jeëns God. (bl. 85)

Myns insiens was dit nie regtig nodig nie, want die teks betrek die hoorder verby die bloot menslike bestaansmoontlikheid en so kan die teks 'direk' gepreek word. Op grond van die struktuurmomente van sonde en vergifnis, menslike diepte en vrees vir die Here bevat dit 'n implisiete Christologie. Die hele Christelike heil as omvattende lewensmoontlikheid word deur die teks ter sprake gebring.

Sonde

Van Selms (s.a.:51-52, 1974:107) beklemtoon ten regte die soewereiniteit van God deur die mens sy eie heil te laat uitwerk 'met vrees en bewing', dit wil sê deur dit uit genade te ontvang, want 'dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae' (Fil 2:12-13). Hierdie boodskap konfronteer die mens wat egter self sy heil wil uitwerk en nie 'n rol aan God daarin kan toeken nie. Vir Van Selms is dit die wesensbepaling van die konkreet eksisterende mens, so dat alles wat hy doen - goed of sleg - daaronder val (Van Selms s.a.):

Waar die Jodedom opgaan in uitwendige wetsopvolging; waar die Christendom verword tot 'n stelsel van gedragsreëls; waar monnike probeer om deur selfopoffering en onthouding die hemel te verdien; waar mense dink dat die ewige saligheid afhanklik is van die vraag of hulle lewe aan 'redelike eise' voldoen het - waarby hulle natuurlik self uitmaak wat 'redelike' en wat 'onredelike' eise genoem word - in al hierdie dergelike gevalle probeer die sondaar om homself te verlos. (bl. 52)

Sonde is vir Van Selms 'n godsdienstige begrip. Dit beteken dat dit inhoudelik in stryd kom met die kern van die Christelike geloof; en verder dat die erkenning van sonde saamhang met die erkenning van God. Vir die gelowige verdwyn sonde nie, want geloof is 'n voortdurende oorwinning oor die sonde. 'In die Christelike leer kom die sonde net as vergeefde sonde voor' (Van Selms s.a.:49). Wat sonde is weet 'n mens nie uit homself nie, want ons weet nie hoe God ons beoordeel nie. As 'n mens van sonde, werklike sonde as twyfel aan en wantroue in God, weet, erken hy dit net deur openbaring. In die kerklike prediking word dit saam met vergewing uitgelê en in die reformatoriese kerk word daar voortdurend nagedink oor wat sonde en die vergewing daarvan behels. Die sondaar wantrou God, glo nie in Hom nie en bly hoogmoedig (Van Selms s.a.):

Daar is in die verlede baie getwis oor wat nou eintlik die hoofelement in die sonde is: die ongeloof, die hoogmoed of iets anders. Die waarheid omvat vermoedelik dit alles: die wilsverset van die mens teenoor God se liefde kom nie sonder ongeloof en hoogmoed tot stand nie. (bl. 45)

'n Verandering kan net by die mens intree wanneer die Woord van die Here tot hom deurdring. Daarom stel Van Selms dit dat 'n sondaar homself nie kan verlos nie. Revolusionêre vermy die sonde, want om dit ter sprake te bring sal neerkom op 'n lastige versteuring van hulle utopistiese toekomsdrome.

Here

'Here' is die vertaling van twee woorde in die Ou Testament. Baäl is die een en dui gewoonlik die besitter aan van lewelose dinge, soos landstreke, en diere. Adon is die ander een en kom gewoonlik voor met die agtervoegsel 'my' as aanduiding van die God van Israel: my Here (Van Selms s.a.:61). By Adon lê die klem nie soseer op besit nie, maar op outoriteit. Tussen die Here en sy volk bestaan 'n gesagsverhouding, ''n sedelike verhouding'. Dit hou in dat die gesag waarmee die Here se woord na sy volk toe kom, hulle nie onder dwang plaas nie, dit word 'n sedelike gesag. Wie Hom nie wil hoor nie, hoor Hom nie. So iemand is nog nie ryp daarvoor nie. Maar dit beteken nie dat so iemand vry is nie, hy is maar net gehoorsaam aan ander magte, magte wat tussen hom en die Een wat regtig met gesag na hom kan omsien, inskuif. Aan sulke mense bied die Here sy genadige heerskappy aan. Die erkenning van gesag in geloofsake staan teenoor die opvatting wat geloof opvat as 'n soort wete wat die mens verwerf asof hy die eerste persoon is. Hy is egter die tweede persoon in die geestelike rangorde naas God wat die eerste persoon is.

 

Belydenis of keuse

Na aanleiding van Josua se afskeidswoorde aan Israel (Jos 24:15; Van Selms 1958):

Maar indien het kwaad is in uw ogen, den Here te dienen, kiest dan heden, wien gij dienen zult: of de goden, die uw vaderen aan de overzijde der rivier gediend hebben, of de goden der Amorieten, in wier land gij woont. (bl. 212)

stel Van Selms (1938a:44-45, 1958:216), sover ek kon vasstel - man alleen, dat die vryheid van 'n keuse net moontlik word nadat die volk sy rug op die Here gedraai het. Hulle kan dan kies tussen die gode van die Eufraatvlakte of die van Kanaän. Hulle keuse kan dan val of op die afgode van hulle voorouers of op die afgode van hulle nuwe omgewing. 'n Mens kies nie om die ware God te dien nie, jy gehoorsaam Hom wie se weldade jy nie vergeet nie. Die Nuwe Testament sluit hierby aan, waar Jesus sê: 'Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies' (Joh 15:16). Van Selms vra homself af waarom die Protestantse Nederlander keuse en belydenis so graag met mekaar verbind.

 

Kategese

Die ou rympie

In ons studentedae het ons so nou en dan 'die ou rympie' soos Van Selms (s.a.:11) dit noem moes hoor: 'Hy wat nie studeer nie is nie bekeer nie.' Vir 'n aanstaande predikant aan die universiteit maak dit dadelik sin. Soos wat van enigiemand anders verwag kan word om sy vak te ken, moet jy tog ook jou vak ken. Hoewel jy nie oor jou eie bekering beskik nie, moet jy darem dit wat jy aan jou eie toerusting kan doen met oorgawe aanpak. Die bekerings sal vir hulleself sorg. Ek het so gedink en dit het in daardie omgewing ook so geklink dat dit veral vir teologiestudente sou geld: Hy wat nie studeer nie is nie bekeer nie. Maar ek was verkeerd. In sy toeligting op die Katkisasieboek haal Van Selms (s.a.:11) die rympie weer aan en hierdie keer in die geselskap van kategete. Die katkisasie is ook 'n verstandsaangeleentheid. By 'n Sondagskoolkongres verduidelik hy die woord 'studie', dit beteken eintlik en oorspronklik: 'liefde'.

En om die saak nog nader aan die huis te bring stel Rudolf Bultmann ([1927] 1972b:87) dat die gelowige, elke gelowige, tog wil weet in wie hy glo en nie soseer of hy glo nie. Die ouer teologie het gefokus op die inhoud van die geloof, op die voorwerp waarop die geloof gerig is en het dit gedoen ter wille van die geloof waarmee 'n mens glo. Intussen het daar 'n verskuiwing gekom, so radikaal dat daar nou in die nuwere teologie meestal gefokus word op die geloof waarmee 'n mens glo en raak die inhoud van die geloof in die proses verlore. Geloof word beskryf as 'n menslike houding wat in alle godsdienste van toepassing is. Populêr gesproke kom dit daarop neer dat iemand glo, en nie wat iemand glo nie. Hierdie verandering kan nie as 'n hervorming beskou word, 'n terugkeer na wat was nie, dit is eerder 'n revolusie wat breek met die oue. Om hierdie ontsporing aan te dui en te vermy formuleer Van Selms na aanleiding van die 'ek glo' in die aanhef van die geloofsbelydenis (Van Selms s.a.:26; vgl. 1948b):

In werklikheid kan 'n mens nie oor geloof in die formele sin praat nie; die geloof word deur sy inhoud en voorwerp bepaal. Daarom is ook so baie preke wat oor die geloof handel, tot onvrugbaarheid gedoem; hulle wek die indruk dat die geloof 'n besondere oorgaan van die menslike persoonlikheid sou wees. (bl. 10-11)

Nog 'n manier om die inhoud van die geloof te vermy en by die aard daarvan vas te steek, kom na vore waar mense verklaar dat hulle soos 'n kind glo. In so 'n naïewe geloof gaan dit glad nie om in wie of wat geglo word nie. Die waarheidsvraag word opgeoffer aan 'n gevoel van sekerheid.

Veronderstel Onkunde

Die Hervormer het berig dat Van Selms tydens 'n naweekkursus te Krugersdorp in sy referaat oor die Studiemateriaal van die Sondagskoolonderwyser daarop gewys het dat dit die beste is om, veral in die begin, by die kinders onkunde te veronderstel (Van Selms 1950):

Dit geld veral waar dit die persoon van God en van Jesus Christus betref. Moenie begin met 'n beskrywing van God te gee nie, maar laat die begrip voortvloei uit die handelinge van God. God word verstaan uit sy werke. (bl. 9)

Daarmee sit Van Selms die reformatoriese insig wat in Philipp Melanchthon ([1521] 1890:79), Martin Luther se vriend en medewerker, se formulering hoc est Christum cognoscere, beneficia eius cognoscere, [om sy weldade te ken, dit is om Christus te ken], bekend en beroemd geword het, op die tafel. Die uitspraak dat ek sondaar is en dat God Hom oor die sondaar ontferm, praat van die weldaad wat God doen juis in soverre dit van my praat. As ek nie in die uitspraak betrek sou word nie, bly dit blote spekulasie. Dit hou in dat geloof nie bloot vroomheid is nie, ook nie 'n godsvertroue oor die algemeen nie, maar gegrond is in die verkondiging van die heilsdaad van God. Die aanvoorwerk in die katkisasie moet dit in ag neem en daarmee in gedagte aangebied word om te verhoed dat die mens as sondaar uit eie krag en volgens sy eie maatstawwe met God probeer handel. Hy sal uit sy eie wil bepaal wie en hoe God is en volgens watter patrone hy optree en daaruit sy eie gedrag teenoor God aflei. Daarmee beland hy by 'n godsdiens van werkgeregtigheid en selfregverdiging.

Die belydenis van die Hervormers

As egte Bybelse eksegeet was Van Selms in voortdurende dogmatiese nadenke. Toe die geleentheid hom voordoen, met die opstel van 'n nuwe katkisasieboek, het Van Selms 'n manuskrip voorberei as 'Toeligting by die belydenis van die Hervormers' (Van Selms s.a.). Daarin verdedig hy die dubbelsinnigheid van die titel waarin die 'Hervormers' kan slaan op sowel die reformatore van die 16de eeu en op die lidmate van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, wat in die volksmond 'Hervormers' genoem word. Tussen wat die leiers van die 16de-eeuse Hervorming geleer het en wat die Hervormde kerk in die 20ste eeu bely, is daar geen wesenlike verskil nie. Hy verduidelik sy gebruik van 'wesenlik' in die sin dat die evangelie, die dogma, die boodskap ewig is, maar dat dit aan elke geslag nuut gebring moet word.

Die benaming 'Hervormer' het by ons op goeie bodem geval, want dit is 'n eg Nederlands-Afrikaanse woord. Anders as wat die Engelse, Franse en Duitsers het in 'Reformers', 'Reformateurs', 'Reformierten', wat regstreeks uit die Latyn kom. Dat Nederlands en Afrikaans die taaleie term 'Hervormer' kon ontwikkel is vir Van Selms 'n bewys van hoe vertroud met die saak van die Reformasie die Nederlandse en Afrikaanse volke geraak het. Daar was pogings om 'n inhoudelike verskil tussen die Latynse woordvorm en die Nederlands-Afrikaanse 'Hervormd' af te dwing, maar, meen Van Selms (s.a.), die Hervormde Kerk sal nie daarvoor val nie.

Wel sal ons erken, en ons doen dit baie graag, dat die term 'Hervormd' iets beteken, wat spesifiek Nederlands-Afrikaans is, en in ander lande, wat nie onder Nederlandse Kerklike invloed gestaan het nie, eintlik nie aangetref word nie. Die gang van die geskiedenis het veroorsaak dat die Nederlandse vorm van die Calvinisme sy eie karakter dra. Hierdie karakter kan moeilik noukeurig omskryf word, juis omdat een van sy karaktertrekke 'n sekere gemoedelikheid is wat al te skerpe omlyninge wil vermy. (bl. 6)

Vir Van Selms (1952) lê die krag van die Hervormde Kerk juis in die gemoedelikheid wat gekenmerk word deur die afwesigheid van die duidelike bepalings wat met die term 'Calvinisties' geassosieer word.

In die Hervormde Kerk van die eerste helfte van die sewentiende eeu was daar 'n veelheid van geestelike strominge. So was dit tevore: so sou dit ook later altyd wees. Dit behoort tot die rykdom van die Hervormde geesteslewe: dat dit plek bied vir uiteenlopende konsepsies. Hierdie vryheid, wat altyd weer deur bepaalde groepe, eers binne, later ook buite die Hervormde Kerk, misken, bespot en aangeval is, behoort in werklikheid tot die kosbaarste erfgoedere van die voorgeslag. Eenvormigheid is geen ideaal nie. Die openbaring Gods in Jesus Christus is te ryk dan dat een mens, of een groep, dit in sy breedte en diepte kan deurgrond. (bl. 8)

Van Selms toon met voorbeelde uit die geskiedenis aan dat die onderlinge eenheid sterker na vore kom, waar mense toegelaat word om na hul beste wete en gewete hulle opvattinge te vorm, as waar die eenheid deur uitwendige invloed en oorlewering gevorm sou wees.

Jan van Riebeeck, stigter van die volksplanting aan die Kaap, tipeer Van Selms (1952) as 'n Calvinis, maar nie een van die 'presieses' nie, eerder van die 'rekkelike' soort:

Afkerig van te grote invloed van die Kerk op die Staatsbestuur, contraremonstrant sonder om tot fanatisme te neig, nie beroer deur die opkomende puriteinse en piëtistiese bewegings nie. Feitlik verteenwoordig hy dus in 1652 reeds 'n ouere tipe van Calvinis, wat later soseer deur die nuwere tipe aangeval is, dat baie van sy soort die naam Calvinis maar liewerste losgelaat het, hoewel daar geen noodsaak voor was nie. (bl. 10)

Hoewel 'Hervormd' en 'Gereformeerd' van dieselfde Latynse werkwoord reformare stam, het 'Gereformeerd' in die 17de eeu die oorhand gehad, te danke aan die sterk Franse invloed. Die opbloei van Nederlands in die 18de eeu besorg toe weer aan 'Hervormd' die botoon. In die 19de eeu ontwikkel teoloë, wat hulle verset teen wat hulle die 'gees van die tyd' noem, 'n voorliefde vir die woord 'Gereformeerd'. Daarmee sou hulle hul skaar by die ouer en beproefde geloofsoortuigings (Van Selms s.a.):

Terwyl dit in sy oorsprong die van misbruike en wanvoorstellings bevryde kerk in teenstelling tot die misvormde kerk van Rome aangedui het, dien dit die laaste honderd jaar as 'n middel om die eie kerk teenoor minder aggressiewe kerkformasies te stel. Die teenstelling van 'Gereformeerd' word dan liberaal sonder dat 'n dergelike teenstelling enige historiese regte kan laat geld. Vandaar is dit nog maar net een stap na die bewering dat die Hervormde Kerk liberaal sou wees. Die gronde daarvoor kom neer op die skrandere betoog dat as die Hervormde Kerk nie liberaal sou wees nie, dit homself Gereformeerd sou noem. (bl. 220)

Skrifbeskouing

Van Selms (s.a.:121) erken die drievoudige gestaltes van die Woord van God: Christus is die eintlike Woord; die Heilige Skrif getuig omtrent Christus; die kerklike prediking vertolk die Skrif. Die inhoud van die prediking moet die openbaring van God in Christus wees en daarteen waak om nie die Skrif as inhoud naas Christus te stel nie. Die Christelike openbaringsbegrip verskil van die van die Islam. By die Islam neem die Koran die plek in wat Christus by die Christendom inneem.

Dat mense in Christelike kringe na hulself as 'Skrifgelowiges' verwys, is vir Van Selms uiters bedenklik. Hy beleef dit as tekenend van 'n baie gevaarlike kettery omdat dit listig die skyn van regsinnigheid en konserwatisme bewaar. Op 'n subtiele manier word egter sodoende die Islamse skrifbeskouing die kerk ingedra en dit vereis in hoë mate die gawe van onderskeiding om dit agter te kom. Van Selms se duidelike aanduiding van dié gevaar sluit aan by Martin Luther se besef van die aanslag van die Islam op die Christendom, toe die Turke voor Wene te staan gekom het. Hy het dit in sy bekende lied 'Ein feste Burg ist unser Gott verwoord, en dit kan selfs in die Afrikaanse weergawe aangevoel (Die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk 2001):

Al kom die Bose aan

in sy oorwinnaarswaan,

ons weet by al sy lis,

sy lot is reeds beslis -

God self stel aan hom perke. (Gesang 476)

Jesus Christus

Wanneer 'n mens jou, soos Van Selms, tuis voel by Melanchthon se benadering dat om Christus te ken, beteken om sy weldade te ken, maak die tweede artikel van die Twaalf Artikels dit nie vir jou maklik nie, want hier gaan dit hoofsaaklik oor wat Jesus Christus is en nie direk oor wat Hy doen nie. Dit verbaas ons dan nie dat Van Selms (s.a.:56-58) die Heidelbergse Kategismus navolg in verband met die drievoudige amp wat Jesus Christus beklee om aan die hand daarvan te verduidelik wat Hy aan ons doen: die hoogste profeet, die enigste hoëpriester en die ewige koning. Dat Hy die hoogste profeet is, beteken nie dat ons die ander profete nou nie meer reken nie, maar dat Hy die hoogste gesag oor ons het. As enigste hoëpriester het Hy homself geoffer vir die sondes van die wêreld. As ewige koning regeer Hy sy gemeente met sy woord en Gees.

Die Twaalf Artikels

Van Selms (s.a.:22-26) hou van die kerklike reeling dat ouderlinge die Twaalf Artikels in die erediens voorlees. Ons kerk word volgens die presbiteriale sisteem georganiseer waarin ouderlinge die leiding neem. Om aan hulle 'n funksie in die Sondagse liturgie toe te ken gee in die erediens uitdrukking aan die belangrike rol wat hulle in die kerklike lewe speel. Van die reëling behoort daar nie afgewyk te word nie, al mag dit wees dat ouderlinge huiwerig is om die taak te behartig. Van Selms gee selfs raad aan voorlesers. Hy versoek dat daar na 'Ek glo in die Heilige Gees' nie 'n onnodige pouse moet wees nie, maar dat oorgegaan moet word na 'ek glo 'n heilige, algemene, Christelike kerk.' Die vinniger oorgang moet dit illustreer dat dit wat volg uit die werking van die Heilige Gees spruit.

Van Selms (s.a.:25, 72) bring klarigheid oor 'n frase wat al baie misverstand veroorsaak het, naamlik waar van Jesus Christus bely word dat Hy 'gely het onder Pontius Pilatus.' In baie eredienste word dit aangepas om te lui: 'wat gely het; onder Pontius Pilatus gekruisig, gestorwe en begrawe is.' Van Selms wys daarop dat die oorspronklike vorm van die belydenis inderdaad die 'gekruisig' by die 'onder Pontius Pilatus' gehad het. En hy gaan voort om te verduidelik dat 'ly' in Grieks ook 'lyfstraf ondergaan' kan beteken, soos wat die bedoeling van die woord in die Twaalf Artikels is. Die belydenis wil dus sê 'wat lyfstraf onder Pontius Pilatus ondergaan het.'

Hy wys ook op die onafrikaanse woordvolgorde van die middeldeel van die belydenis wat oor Jesus Christus, ons Here gaan. Dit is beter Afrikaans om te sê 'wat onder Pontius Pilatus gely het' as die huidige vorm met 'wat gely het onder Pontius Pilatus.' Hy doen aan die hand dat die drie Afrikaanse kerke daaroor besin. 'n Ander saak waaroor die Afrikaanse kerke kan besin is die woord 'hel' in 'ter helle neergedaal.' Want die Afrikaanse weergawe van die Twaalf Artikels is nie uit die Grieks vertaal nie, maar uit Nederlands. In Nederlands het die woord 'hel' vir die toenmalige hoorders die 'doderyk' beteken, wat elke mens se bestemming is, waarin Jesus Christus dan deel. Intussen het die woord 'hel' egter die betekenis van die gevangenis vir die goddeloses aangeneem. Van Selms (s.a.:78-79) stem nie saam met die Heidelbergse Kategismus wat die neerdaling na die hel as deel van die smarte aan die kruis, veral van die godverlatenheid verklaar nie.

Die Heilige Gees

Martin Luther het die werk van die Heilige Gees verbind geag aan die woord. Hy het dit gedoen in teenstelling tot die oorentoesiastiese mense wat die Gees as aan hulleself gebonde geag het en daarop kon roem dat hulle sonder en nog voor die woord, die Gees al ontvang het. Die pous sou hom ook verbeel dat hy die Gees in die heiligdom van sy eie hart huisves (Luther 1538:245). Van Selms waarsku daarteen dat die Gees nie as 'n besitting van 'n mens beskou moet word nie. Dat die Vader die Heilige Gees 'gee' (Luk 11:13) dui nie op besitname nie, maar dat Hy hom gee 'soos Hy vir my onderwysers en leraars gee: hulle werk aan my' (Van Selms s.a.:93). En deur te stel dat: 'Tussen prediking en geloof lê die verborge werk van die Heilige Gees in die hart van die hoorder' (Van Selms s.a.:96) behou Van Selms die extra nos van die Christusgebeure. Hy beklemtoon ook dat 'hart' in die Bybelse spreekwyse nie net of veral op gevoel dui nie, maar dat verstand en wil ook die kamers van die hart vul (Van Selms s.a.:92).

Getuienis

Van Selms (s.a.:133) waarsku teen die verskynsel van 'n domineeskerk, dit wil sê gemeentes waarin die lidmate hulleself terughou en toelaat dat die predikant doen wat eintlik deur die hele gemeente gedoen behoort te word. 'Die Christen moet altyd bereid wees om waar die geleentheid hom voordoen, in woord en daad as getuie van Christus op te tree' verklaar van Selms (s.a.:229). Hy wil egter nie dat hierdie saak geforseerd gedryf word nie. Die geleenthede hoef nie gesoek te word nie, die Here sal sorg dat hulle vanself kom. Baie mense meen dat dit die opdrag aan veral jong Christene is om voortdurend as getuies in die wêreld rond te loop en dit by almal moet oopbreek dat hulle Christene is. En die gevolg is dat hulle dan ly onder die dwang om te presteer wat sodoende op die belydenis gelê word. Dit bedoel Van Selms nie. Hy bedoel dit meer realisties, meer beskeie, en daarmee ook nader aan wat ons as mense kan doen.

Wat die uiterste vorm van getuienis, martelaarskap betref, verduidelik Van Selms dat 'n mens jouself ook nie vooraf daarop sou kon voorberei nie. Die sekerheid van die geloof kry jy eers in die stryd, nie vooraf nie. 'As ons vooraf vra: Sou ek in staat wees om my ter wille van die evangelie te verbrand? Sal die antwoord altyd ontkennend uitval' (Van Selms s.a.:229). Dit gebeur nie so dat 'n mens 'n sterk gevoel van sekerheid ontwikkel en dan kans sien vir die stryd nie. Eers in die stryd self kom die krag spontaan by martelare, daar ontstaan die sekerheid van die Here se teenwoordigheid.

 

Herderlike sorg

Sielsorg

Hoewel die term 'herderlike sorg' ingeburger geraak het, verkies Van Selms die term 'sielsorg' omdat dit meer toegespits is en byvoorbeeld die predikant vrywaar om hom as deskundige op allerhande gebiede te moet voordoen. Die term 'sielsorg' kom uit die Statevertaling van Psalm 142:5 Niemand zorgde voor mijn ziel' (Van Selms s.a.:225-226). Van Selms gee 'n pluimpie vir die Afrikaanse vertaling as 'n beter weergawe van die Hebreeus: 'niemand vra na my nie.' Maar die weglating van die woord 'siel' het tot gevolg dat niemand meer weet waar die uitdrukking 'sielsorg' vandaan kom nie. Dit lyk asof die hele saak van sielsorg daarmee saam verdwyn het. Vroeëre geslagte was nog bekommerd oor hulle siele en het die aandag wat 'n predikant daaraan kon gee, verwelkom. Deesdae deel mense nie meer daardie bekommernis nie. Die kerkganger meen dat sy kerkgang hom die guns van God laat geniet en die niekerkganger bekommer hom nie oor God nie. Wanneer iemand met innerlike probleme worstel, besoek hy 'n sielkundige wat hom van sy sieklike skuldkomplekse bevry. Maar in ons brawe gemeenskap loop daar baie mense rond wat graag met iemand sal wil praat wat werklik luister. Na iemand wat van mense hou en daarom die vermoë het om te luister word gevra: 'Daardie liefde kan geen sielkunde bybring nie, en daardie liefde alleen is die geheim van elke sielsorg' (Van Selms s.a.:226). Die doel van pastorale sorg kan nie wees om die depressies, vertwyfeling en sosiale verhoudinge uit te pluis nie, maar om weg daarvan te beweeg na die kontak met God toe wat elke klagte opvang (Van Selms 1982:198). So word daar ook in die praktyk gehou by die sentrale voorwerp van die reformatoriese dogma - die heilsdaad van God in Christus. Die diens van 'n sielsorger kan net volgehou word deur iemand wat die evangelie glo.

Die voorsienigheid

Van Selms (s.a.:87) word nie beïndruk deur die openbare verwysing van mense na 'die Voorsienigheid' nie. Hy noem dit 'n 'vae abstraksie' waarop mense terugval deur 'n gebrek aan persoonlike geloof. Die Hervorming het juis klem gelê op die priesterskap van die gelowiges waarvolgens elke mens direk voor God gestel word.

Die begrip 'voorsienigheid' staan vir die doelmatigheid van die wêreldgebeure. Daar word voorsien dat alles met 'n doel gebeur. Die een wat die doel voor oë het, is die mens self. Hy maak homself die doel en hy beoordeel die gebeure vanuit sy verwagting van die goddelike verloop wat die gebeure stuur, so dat die goeie naderhand die oorhand sal kry. Maar so 'n algemene vertroue in die doelmatigheid van die wêreldorde is nog nie Christelik nie. Vir die Christen word die lewe moeiliker gemaak. Gebeure wat vir hom sinvol lyk, aanvaar hy met dankbaarheid, maar daar gebeur ook baie dinge wat hy nie verstaan of kan kleinkry nie. En dit aanvaar hy met vertroue dat hy ook deur die raaiselagtige gebeure nêrens anders sal uitkom as daar waar die Here op hom wag nie (Van Selms 1967b:48).

Die erediens

Van Selms (s.a.:137) stel dit dat die doel van kategese is om die erediens te verstaan. Om deel te neem aan die gemeenskaplike handeling moet elkeen die afspraak daaroor nakom. Daarmee word die ring voltooi wat begin het met die verduideliking van Reformasie aan die begin van die hoofstuk. Want die gebeure van die ontmoeting tussen God en sy gemeente in die erediens loop parallel aan die lewe van die geloof. In die erediens gaan dit nie om die verdienste van die mens nie, dit berus ook nie op die geloof van die mens nie, maar op God se belofte en genade. Van Selms (s.a.:136) illustreer met die liturgiese gebruik om na die Skriflesing en na die prediking te bid, dat die gebed op die woord van die Here antwoord. Die volgorde gee erkenning daaraan dat die inisiatief by die Here lê. Die gebed word daarom ook nie gerig tot 'n onbekende God nie, maar tot Hom wat homself aan ons openbaar. Ons moet onsself dus nie oorgee aan 'die ondeurgrondelike dieptes van die Onbekende' (Van Selms s.a.:137) nie. Die erediens is eg en werklik wanneer en vir sover God in en deur die diens van mense aan mense 'n verandering aanbring. Die erediens as 'n heropname, as 'n waaragtige hervorming bedreig nie ons identiteit nie, maar bevestig dit eerder. Van Selms (1937:46) vind die veel beklaagde Protestantse gemeentesang, die stem van die kerk, statig en verheffend en gee die raad: 'De kerk is de eenige plaats, waar men u als mensch neemt; op zulk een plaats moet men zuinig zijn.'

 

Literatuurverwysings

Bultmann, R., [1948] 1968, 'Gnade und Freiheit', in R. Bultmann, Glauben und Verstehen, 2.Bd., 5. erw. Aufl., S. 149-161, Mohr, Tübingen.

Bultmann, R., [1928] 1972a, 'Die Bedeutung der "dialektischen Theologie" für die neutestamentliche Wissenschaft', in R. Bultmann, Glauben und Verstehen, 1. Bd., 7. Aufl., S. 114-135, Mohr, Tübingen.

Bultmann, R., [1927] 1972b, 'Zur Frage der Christologie', in R. Bultmann, Glauben und Verstehen, 1. Bd., 7. Aufl., S. 85-113, Mohr, Tübingen.

Du Plessis, K., 2012, 'Gebed', in FAK-Sangbundel, vol. II: n Versameling van Afrikaanse musiek in ses verskillende rubrieke, Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, Parow.         [ Links ]

Ebeling, G., [1950] 1967, 'Die Bedeutung der historisch-kritischen Methode für die protestantische Theologie und Kirche', in G. Ebeling, Wort und Glaube, 3. Aufl., S.1-49, Mohr, Tübingen.

Engelbrecht, B.J., [1962] 1982, 'Wat is die reg en vryheid van die eksegeet?' in B.J. Engelbrecht, Versamelde opstelle, deel 2, bl. 51-67, Universiteit van Pretoria, Pretoria. [Ook gepubliseer in HTS, 1986, 42(3), 485-501.]

Luther, M., [1521] 1931, Luther an Melanchthon, Wartburg, 1. August 1521 in O. Clemen (Hrsg.) D. Martin Luthers Briefwechsel, 2. Bd., S. 370-372, H. Böhlaus, Weimar.

Luther, M., [1538] 1914, Die Schmalkaldischen Artikel in J.K.F. Knaake et al (Hrsg.) D. Martin Luthers Werke, Kritische Gesamtausgabe, 50. Bd., 160-254, H. Böhlaus, Weimar.

Melanchthon, P., [1521] 1890, Die Loci communes in ihrer Urgestalt, 2. Aufl., besigtig 24 Februarie 2017, by https://ia800306.us.archive.org/9/items/dielocicommunes00plitgoog/dielocicommunes00plitgoog.pdf

Die Nederduits Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk, 2001, Liedboek van die Kerk vir gebruik by die erediens en ander byeenkomste, NG Kerk-Uitgewers, Goodwood.         [ Links ]

Van Niekerk, A., 2017, 'Kerk moet altyd hervorm', Beeld, 11 Februarie, p. 18.         [ Links ]

Van Selms, A., 1936, 'Hoe Lezen wij het Oude Testament?' Onder eigen vaandel 11(1), 10-27.         [ Links ]

Van Selms, A., 1937, De Zondag tusschen Farizeïsme en Libertinisme, Callenbach, Nijkerk. (Onze Tijd, 3).         [ Links ]

Van Selms, A., 1938a. De Bijbel in het gezin, Ploegsma, Zeist. (Het Boek der Boeken: Een serie monografieën over den levensinhoud van den Bijbel, V).         [ Links ]

Van Selms, A., 1938b, 'Evangelie en Wet in die eksegese van het Oude Testament', Onder eigen Vaandel 13, 88-104.         [ Links ]

Van Selms, A., 1940, 'Ps. 130:4. Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word', in T.F.J. Dreyer (red.), Die blye Boodskap: n Bundel preke van verskillende predikante en professore van die Nederduits Hervormde Kerk van Afrika, bl. 9-86, Afrikaanse Pers, Johannesburg.         [ Links ]

Van Selms, A., 1947, II Kronieken, Wolters, Groningen.         [ Links ]

Van Selms, A., 1948a, 'Geregtigheid as 'n Bybelse begrip', HTS 4, 152-163.         [ Links ]

Van Selms, A., 1948b, Licht uit Licht: Het Christelijk geloof naar de Belijdenis van Nicea, Ploegsma, Amsterdam.         [ Links ]

Van Selms, A., 1949, 'Die noodsaaklikheid van voortgesette studie', Die Hervormer, Desember, 8.         [ Links ]

Van Selms, A., 1950, 'Studiemateriaal van die Sondagskoolonderwyser', Die Hervormer, Julie, 9.         [ Links ]

Van Selms, A., 1951, 'Tekskritiek en exegese in de behandeling der Psalmen', Kerk en Theologie 2, 76-96.         [ Links ]

Van Selms, A., 1952, 'Die Calvinisme van die eerste nedersetting', Die Hervormer April, 8 & 10.         [ Links ]

Van Selms, A., (s.a.), 'Toeligting op die Belydenis van die Hervormers: 'n Katkisasieboek oor die Christelike Geloofsleer', Tydskrif vir Hervormde Teologie 4 (4), besigtig 26 Julie 2017, by http://www.nhka.org/images/stories/THT/THT%20Jaargang%204,%20nommer%204.pdf        [ Links ]

Van Selms, A., 1958, 'Kiest u heden wie gij dienen zult', Kerk en Theologie 9(4), 210-218.         [ Links ]

Van Selms, A., 1959-1960, 'Theologie van de filoloog', Kerk en Theologie 10(11), 65-76.         [ Links ]

Van Selms, A., 1967a, Genesis, deel I, De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Van Selms, A., 1967b, Genesis, deel II, De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Van Selms, A., 1969, Jerusalem door de eeuwen heen: Van voor koning David tot generaal Dayan, 2e druk, Hollandia, Baarn.         [ Links ]

Van Selms, A., 1970, 'De sleutelmacht: Een exegese van Matth. 16:19', Kerk en Theologie 21, 247-270.         [ Links ]

Van Selms, A., 1972, Jeremia, deel I, De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Van Selms, A., 1974, Jeremia, deel II, De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Van Selms, A., 1978, Die God van die Ou Testament, Unisa, Pretoria.         [ Links ]

Van Selms, A., 1982, Job, deel I, De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Van Selms, A., 1983, Job, deel II, De Prediking van het Oude Testament, Callenbach, Nijkerk.         [ Links ]

Van Wyk Louw, N.P., 1986, 'Filosofeer', in Versamelde prosa, 2, pp. 37-40, Human & Rousseau, Kaapstad.         [ Links ]

 

 

Project Leader: A. Ungerer
Project Number: 82329542
Project Description: Dr Piet Boshoff is participating in the research project, 'Contextualised Reformed Theology in South Africa', directed by Dr André Ungerer of the Reformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License