SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 issue5  suppl.11 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 n.5 suppl.11 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i5.4821 

VOORWOORD

 

Voorwoord

 

 

Protestante vier in 2017 met vreugde die kerkhervorming wat 500 jaar gelede op 31 Oktober 1517 begin het. Predikante van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wat navorsers aan die Universiteit van Pretoria is, lewer met hierdie publikasie 'n bydrae tot die feestelike herdenking van die Reformasie. Die Hervormde Kerk het nog altyd waardering vir die Lutherse Reformasie gehad. Om hierdie rede word daar deeglik aan die teologie van Martin Luther aandag geskenk. Luther se Wittenbergse kollega, Philipp Melanchthon, kry ook sydelings aandag. Die Reformasie van die 16de eeu het nie in Wittenberg geëindig nie en daarom word daar ook aan Johannes Calvyn aandag geskenk.

Die latere onreformatoriese slagspreuk dat die kerk voortdurend moet hervorm, dwing ons vandag in 'n debat oor die voortgaande hervorming van die kerk. Die teologiese vraag oor voortgaande hervorming kom neer op die vraag hoe die Reformatoriese grondoortuigings binne nuwe uitdagings verwoord kan word? Hier word aandag gegee aan teoloë vir wie daar 'n besondere waardering in die Hervormde Kerk is, naamlik Adrianus van Selms, Jürgen Moltmann en Gerhard Ebeling.

Reformatoriese teologie skenk aandag aan eietydse uitdagings. Die huwelik en die realiteit van 'n multigodsdienstige samelewing geniet aandag. Oor beide temas bestaan daar geen kerklike en teologiese konsensus nie. Ons vertrou dat hierdie publikasie dialoog sal stimuleer.

Die eerste hoofstuk handel oor een van die vraagstellings waarmee die jong monnik Martin Luther geworstel het, naamlik die vraag of God 'n toornige God sonder barmhartigheid is.? Luther het as monnik getwyfel of hy ooit genoeg goeie werke sou kon doen en was gevolglik bang dat hy nie by God genade sou kon vind nie. Danksy sy noukeurige bestudering van Paulus se briewe het hy ontdek dat God, die Vader van Jesus Christus, nie die toornige God is wat net wil straf nie, maar die barmhartige Vader is wat genade wil betoon. Die boodskap oor God se barmhartigheid sien Luther saamgevat in die begrip 'geregtigheid van God'. God se geregtigheid bestaan in sy wil om sondes te vergewe sodat gelowiges voor Hom as geregverdigde mense kan bestaan. In hierdie hoofstuk verduidelik Natie van Wyk God se drie gestaltes van geregtigheid aan die hand van die drie gestaltes van sonde. Aangesien daar voortdurend misverstand is oor Luther se erns jeens goeie werke, word daar in diepte aan die samehang tussen geloof en werke in sy denke aandag gegee. Die vraagstelling word op die doen van liefde toegespits. Van Wyk wys daarop dat Luther se betoog daarop neerkom dat slegs persone wat goeie bome (deur die geloof) gemaak word in die doen van die liefde, kan volhard.

Volgens Natie van Wyk is vryheid naas regverdiging een van die belangrikste temas van die Reformatoriese teologie. Luther se geskrif Oor die vryheid van n Christenmens (1520) is een van sy hoofgeskrifte. In hierdie geskrif beskryf hy die vryheid van die innerlike en die uiterlike mens. Die innerlike mens is vry en niemand se onderdaan nie. Die uiterlike mens is weer elke ander mens se onderdaan en dienskneg. Die Christen dien sy medemens deur die liefde. Luther se verstaan van naasteliefde word vanuit ander geskrifte toegelig. Johannes Calvyn se verstaan van vryheid volgens sy Institusie van 1559 word ook bespreek. Daar word op die groot ooreenstemming tussen Luther en Calvyn gewys. Die verskille tussen die twee Reformatore is minimaal. Calvyn het egter wel groter aandag aan die adiafora-vraagstuk gegee. Daar word ook deurgaans na Philipp Melanchthon se invloed op Calvyn gewys. Van Wyk betoog dat die relevansie van die vryheidsvraagstuk nie in die instrumentalisering van die Christelike vryheid lê nie, maar in die hernude bestudering van die klassieke tekste met die bedoeling om die belangrike Reformatoriese motiewe te herontdek. Hierdie motiewe is relevant - ook in ons samelewing.

In hoofstuk 3 konsentreer Wim Dreyer op Johannes Calvyn se werksaamhede tussen 1532 en 1536. Dít is die tydperk voordat hy in Genève begin werk het. Gedurende hierdie tyd het hy drie belangwekkende publikasies gelewer, te wete 'n kommentaar op Seneca se De dementia, die Psychopannychia en die eerste uitgawe (1536) van sy Institusie. Calvyn het met hierdie publikasies as geleerde en skrywer naam gemaak. Hy het getoon dat hy binne nuwe sosiaal-politieke kontekste aan die basiese Reformatoriese oortuigings getrou kon bly.

Die na-Reformatoriese aandrang tot aanhoudende hervorming laat die vraag ontstaan wat daarmee bedoel word? Wim Dreyer kyk na drie invloedryke tekste in 'n poging om hierdie vraag te beantwoord. Hy begin met Calvyn se De necessitate reformandae ecclesiae van 1543. Vir Calvyn was kerkhervorming 'n noodwendigheid, maar nie 'n aanhoudende noodsaaklikheid nie. Nadat die liturgie en die kerklike leer bevredigend vasgestel is, verdwyn die dwang tot verandering. Dreyer kyk ook na die tekste van Jodocus van Lodenstein - Beschouwinge van Zion - en Karl Barth - Die Botschaft von der freien Gnade Gottes. Albei stem saam dat voortgaande kerkhervorming noodsaaklik is, maar verskil ten opsigte van die teologiese en praktiese implikasies van hierdie appèl. Dreyer sluit sy bydrae af met enkele eie insigte.

In Hoofstuk 5 bespreek Piet Boshoff Adrianus van Selms se bydrae as reformatoriese teoloog. Van Selms was 'n Nederlander wat Semitiese Tale aan die Universiteit van Pretoria doseer het. Hy is bekend vir sy kommentare op die Ou Testament. Dit is egter minder bekend dat Van Selms 'n katkisasieboek vir die Hervormde Kerk opgestel het en dat hy 'n omvattende begeleidende kommentaar daarvoor geskryf het. Hierdie werke wat nooit gepubliseer is nie, is onlangs in die kerkargief in Pretoria ontdek en gepubliseer. By nadere betragting blyk dit dat Van Selms Luther en Melanchthon goed geken het.

Uit vrees vir 'Calvinistiese ontsteltenis' het hy nie met verwysings gewerk nie. Boshoff toon aan dat Van Selms onder normale politieke omstandighede die geestelike vader van die Hervormde Kerk sou word.

In Hoofstuk 6 ondersoek Tanya van Wyk Jürgen Moltmann se bedrae tot Reformatoriese teologie. Sy teologie kan beskryf word as 'n teologie wat Bybels gegrond is en 'n eskatologiese gerigtheid en 'n politieke verantwoordelikheid het. Dit is juis om hierdie rede dat sy teologie ook 'Reformatories' is. Dit is 'n beskrywing waarvoor hy ook doelbewus kies omdat die begrip 'Reformatories' die dinamiese, voortgaande en profetiese karakter van sy teologie aandui. Die teologiese uniekheid van sy teologie kom veral in sy verstaan van die triniteitsleer na vore. Sy trinitariese teologie kan as 'n 'Trinitariese teologie van solidariteit en sosiale geregtigheid' beskryf word. Die lewensruimte van die Triniteit word deur Moltmann as 'wye ruimte' beskryf, en as 'n 'uitnodigende ruimte' waarin daar nie beknoptheid is nie. Moltmann se Trinitariese teologie is baie nou aan sy politieke teologie verbind. Daar word aangetoon hoe sy Triniteitsteologie en sy politieke teologie van inklusiwiteit en geregtigheid met mekaar verweef is.

Annelie Botha gee in die sewende hoofstuk 'n oorsig oor Martin Luther se teologiese denke oor die huwelik, wat sy nadenke oor seksualiteit insluit. Die invloed van Luther se teologiese denke oor die huwelik op latere Reformatoriese teoloë, word aangetoon. Hierdie bydrae toon aan dat seksuele verskille en die klem op die 'teenoorgestelde' nature van mans en vroue sedert Luther se tyd beklemtoon word wanneer daar oor die huwelik gedebatteer word. Wanneer daar teologies oor die huwelik nagedink word, word die skeppingsordeteologie en die tradisionele begrip 'mens as geskape na die beeld van God' dikwels ingespan om 'n spesifieke manier van dink oor die rol van die huwelik asook die rolle van vrou en man in die huwelik te regverdig. Botha bepleit 'n nuwe kyk na die huwelik en seksualiteit. Vir hierdie doel doen sy voorspraak vir 'n hermeneutiek van suspisie. Hierdie hermeneutiek kyk vanuit 'n feministies-kritiese teologie van bevryding na die huwelik en seksualiteit. Voortgaande dialoog gaan nodig wees om 'n nuwe konsensus te vorm.

Gafie van Wyk behandel Gerhard Ebeling se formule 'usus politicus evangelii' [die politieke gebruik van die evangelie] waarmee hy sy kommer oor die politieke misbruik van die evangelie uitgespreek het. Hy wys op die radikale meningsverskil tussen Jürgen Moltmann en Ebeling oor die tema politiek en evangelie. Volgens Van Wyk is daar 'n status controversiae tussen hierdie twee toonaangewende teoloë op die spel. Vir albei teoloë vorm begrip van die funksie en inhoud van die evangelie van Jesus Christus die fokuspunt van hulle benadering tot die tema. Volgens Van Wyk is die hantering van die tema 'n toets wat bepaal of ons werklike oplossings vir die kwynende relevansie van die Reformatoriese teologie in die huidige burgerlike samelewings het. Wat mense van die politiek kan verwag en hoe die gebruik en misbruik van die evangelie moontlik tot dié verwagtinge kan bydra, is nie hier op die tafel nie. Die vraag wat hier bespreek word, is hoe God se evangelie in ons tyd die mens as homo politicus aanspreek. Binne die Suid-Afrikaanse konteks mag die kerk nie deelneem aan die instrumentalisering van die evangelie vir politieke gewin nie. Die doel van hierdie artikel is om, met die teologiese posisies van Ebeling en Moltmann as uitgangspunt, die vraag te beantwoord oor wat die relevante kriteria vir teologiese uitsprake oor die politiek is, maar nou binne 'n totaal ander situasie as die een waarin die twee Duitsers hulle gedurende die tagtigerjare van die vorige eeu bevind het.

In die negende hoofstuk toon Gafie van Wyk aan dat die voortgesette proses van implementering van nuwe materiaal vir kategese in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 'n besondere trajek vertoon. Die proses het, in terme van geloof, met die formalisering van sowel die geloofsbegrip as die beskrywing van die inhoud van geloof begin. Dit is voortgesit deur 'n proses waarin die inhoud van geloof verobjektiveer is tot feite wat geleer kan word en is uiteindelik voltrek in die implementering van 'n pragmatiese opvoedkundige doelwit waarin geloof bloot 'n middel tot 'n doel geword het. Die trajek begin by die Heidelbergse Kategismus en eindig by die leerboek Geloof en Lewe 11. Volgens Van Wyk pas Adrianus van Selms se Katkisasieboek nie in die trajek wat beskryf word nie. Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika sou vandag heeltemal anders gelyk het as meer as een generasie van die lidmate van die Kerk aan hierdie kategeseboek blootgestel was.

In die laaste hoofstuk bespreekJaco Beyers inter-godsdienstige verhoudings. Teologie van godsdiens en teologie van godsdienste is die wyse waarop die Christendom oor die teenwoordigheid en aard van ander godsdienste besin. Die kerkhervormers het ook 'n bepaalde verstaan van die bestaan van en verhouding tussen die Christendom en nie-Christelike godsdienste gehad. Sy bydrae toon aan hoe die kerkhervormers in hulle benadering tot ander godsdienste van mekaar verskil het. Martin Luther en Philipp Melanchthon het die moontlikheid van goeie verhoudinge met ander godsdienste, in die besonder die Jode en Moslems, voorgestaan al was dit dan ook net 'n momentele mening van Luther. Daarmee verteenwoordig hulle 'n kategorie van 'moontlikheid'. Johannes Calvyn was meer afwysend teenoor die gedagte van die moontlikheid van heil binne ander godsdienste en behoort daarom tot die kategorie van 'geslotenheid'. Die kerkhervormer Theodore Bibliander was oop vir gesprek en positief oor verhoudinge met Moslems alhoewel hy nie gedink het dat heil en verlossing buite die Christendom moontlik is nie. Vir Bibliander het 'n verhouding met ander by kennis van die ander begin. Hy verteenwoordig die kategorie van 'openheid'. Die kerkhervormers se verstaan van die verhouding met ander godsdienste lewer 'n bydrae tot 'n huidige besinning oor inter-godsdienstige verhoudinge.

 

Prof. Ignatius W.C. (Natie) van Wyk

Departement Kerkgeskiedenis en Kerkreg, Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License