SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 issue3Deur die voorsitter van die Kuratorium vir Teologiese OpleidingHoofstuk 1: Die aanloop 1909-1916 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 n.3 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i3.3580 

ORIGINAL RESEARCH

 

Lewensbeskoulike aspekte in die openbare standpunte van twee presidente

 

 

Piet Strauss

Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The last two presidents of the Zuid-Afrikaansche (South African) Republic (1852-1902) and the Republic of the Orange Free State (1852-1902), S.J.P. Kruger and M.T. Steyn, both stood in the tradition of the Christian Afrikaner. Kruger as the symbol of Afrikaner republicanism in the 19th century and Steyn as a younger and more modern Afrikaner, tried to base their policies openly and clearly on Biblical and Christian principles. Kruger as a member and recognised minister of the Reformed Churches in South Africa formulated his views in a typical Dutch neo-Calvinistic way, while Steyn used Reformed concepts combined with his academic background in jurisprudence and the law of nations to foster the same ideas. Kruger and Steyn trusted one another, agreed on core issues and worked together rather well. Each strived to maintain the independence of his republic.


 

 

Inleiding en probleem

Tussen die laaste twee presidente van die Zuid-Afrikaansche (Transvaalse) Republiek (die ZAR van 1852-1902) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (die Rep van OVS van 1854-1902) was daar deurgaans groot begrip en samewerking (Van Schoor & Van Rooyen 1960:74-146).

Die ouer S.J.P. (Paul) Kruger (1825-1904; Gaum et al. 2008:629) was van 1883 tot 1900 vir vier opeenvolgende termyne die staatspresident van die ZAR (Grobler 2007:ii). Op sy beurt was die jonger M.T. (Theunis) Steyn (1857-1916; Gaum et al. 2008:1049) vir die laaste ses jaar van die bestaan van hierdie republiek, van 1896 tot 1902, die staatspresident van die Rep van OVS (Grobler 2007:ii). Beide republieke het op 31 Mei 1902, met die Vrede van Vereeniging na die Anglo-Boereoorlog (die ABO van 1899-1902) ontbind. Op hierdie stadium was Kruger 'n grysaard van 76 jaar en Steyn 44 jaar oud, maar met 'n verlammende spierkwaal wat hy op kommando opgedoen het (Van Schoor & Van Rooyen 1960:152-153; SABW II:732).

As presidente was daar 'n noue samewerking tussen Kruger en Steyn. Hierdie samewerking is 'veramptelik' deur die sluit van 'n offensiewe en defensiewe verbond tussen die ZAR en die Rep van OVS in 1898 in Pretoria (Grobler 2007:105) - 'n verbond wat op die vooraand van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899, as 'n vervolg op 'n soortgelyke verbond in 1889, onderteken is (Du Plessis 1952:133); 'n verbond wat dus geldig was met die toetrede van die Rep van OVS in 1899 aan die kant van die ZAR teen Brittanje in die ABO (SABW II:728).

Beide Kruger en Steyn sou prominente figure in die politieke en kultuurgeskiedenis van die Afrikaner word. In die spreektaal word daar gepraat van die ZAR as Kruger se republiek (Louw 1969:156) waarin die Krugermiljoene versteek is - 'n republiek waarvan die 'Die Groot Gryse' van Anna M. Louw vir meer as twee dekades die onbetwiste leier was (Grobler 2007:102; Louw 1969). Verskeie waarderende publikasies het sedertdien oor Kruger verskyn.1 Hierin word daar na hom verwys as 'Suid-Afrika se mees geliefde staatsman', 'n Afrikanervolksleier (Uys 1955:3-4) en die grootste figuur wat die 'Boereras' tot op daardie stadium opgelewer het (J.C. Smuts in die taal van destyds soos aangehaal in Grobler 2007:137).

Hoewel sommige geskiedskrywers meen dat Steyn in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis misken word (Oberholster & Van Schoor n.d.:7; Van Schoor 1997:i), is daar ook oor hom talle publikasies.2 Sekere erename of -titels word na die ABO vir hom gebruik: 'Die siel van die vryheidstryd', 'Die Bittereinder van die Bittereinders' en 'Afrikaner van die Afrikaners' (Strauss 1996:559). Die eerste Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika, van 1910 tot 1918, Louis Botha, noem Steyn by sy afsterwe in 1916 die land se grootste seun (SABW II:733). 'n Aartsvyand in die ABO, Lord Kitchener, meen dat hy 'head and shoulders above the others' met 'great influence' uitgestaan het (brief op 20 April 1902 verbatim in Van der Merwe 1921:I.72-75).

Kruger en Steyn sou hulle nie net saam aan die kant van die Boere tydens die ABO bevind nie. Beide was gebore en getoë in tipiese Afrikanerfamilies van daardie tyd. Kortweg kan die leefwyse van hierdie families beskryf word as gereformeerd-Afrikaans - 'n leefwyse gebou op 'n lewensbeskouing wat na die eer van die God-Drieënig in alle dinge gesoek het.3 Met 'n rigtinggewende Christelike geloofs- en lewensoortuiging wat ook in hulle standpunte as staatsleiers sigbaar was. Beide wou hulle openbare standpunte oor sake soos staatsgesag, volkereg, demokrasie of die volkstem, Christelike beskaafdheid en die aard van Afrikanerwees Bybels-Christelik begrond. Beide was uitgesproke eksponente van die Voorsienige God wat hulle daaglikse lewenspad bepaal.4

Hierdie artikel wil tot die kern van hierdie begronding by Kruger en Steyn deurdring. Die volgende vrae kan hieruit beantwoord word: waarin lê hulle ooreenkomste wat van hulle Christelik-Afrikaanse, republikeinse ABO-bondgenote gemaak het? Was daar verskille tussen hulle? En as daar verskille was, was hierdie verskille van 'n prinsipiële of/en van 'n persoonlike en omgewingsaard?5

 

Tipering van lewensbeskouings

Wat so 'n ondersoek met sy behoefte aan primêre bronne vergemaklik, is verbatimverslae van Kruger- en Steyntoesprake wat gepubliseer en dus gekontroleer is6 - 'n kontrole wat bevestig word deur kruisverwysings van temas en motiverings uit redes by verskillende geleenthede.7 Die fokus val op lewensbeskoulike aspekte of trekke in hierdie standpunte.

Die standpunte van Kruger en Steyn oor genoemde sake kom eerste aan die beurt. Hiermee geïntegreer word hierdie standpunte binne die denkraamwerk van beide presidente geplaas. Die aanpak word voltooi met 'n tipering van hierdie standpunte.

In 'n inleiding tot J.S. du Plessis se President Kruger aan die woord (1952) maak D.W. Kruger die stelling dat die president se 'lewensbeskouing en opvattinge' in sy talle openbare standpunte deurkom (Du Plessis 1952:11). In sy 'n Bittereinder aan die woord (1997) sê M.C.E. van Schoor dat Steyn se 'dinamiese persoonlikheid, intellek, heldersiendheid, idealisme en profetiese blik' soos blyk uit sy openbare standpunte, nie misgekyk kan word nie (Van Schoor 1997:iii).

Juis omdat beide Kruger en Steyn van 'n omvattende Christelike lewensbeskouing uitgaan, moet aspekte van hierdie beskouing in hulle opvattinge oor staatkundige temas deurwerk.

Kruger

In Augustus 1882 in sy antwoord op versoekskrifte dat hy hom as staatspresident vir die ZAR verkiesbaar stel, erken Paul Kruger, soos vertaal: 'Ook op staatkundige terrein bely ek die ewige beginsels van Gods Woord' (Du Plessis 1952:22). In 1898 herhaal Kruger dieselfde formulering onder soortgelyke omstandighede (1952:36).

Teen die agtergrond van sy beskouing van die lewe kan daar uit hierdie enkele sinnetjie reeds gevolgtrekkinge gemaak word. Eerstens dui 'ook' daarop dat dit hier oor die hele lewe (en samelewing) gaan waarby die staat ingesluit word. Tweedens oordeel Kruger na alle waarskynlikheid - bewustelik of onbewustelik - soos gereformeerdes of neo-Calviniste elders én uit later tye dat die Bybel nie alles oor alles sê nie, maar iets oor alles; dat die Bybel genoeg beginsels of riglyne bevat sodat die hele lewe aan die hand daarvan aan die eise van God kan voldoen; dat die Christelike geloof jou uitdryf om op grond van die Skrif na die wil en eer van God op alle lewensterreine te soek. Sy bewoording kom ooreen met die woorde van die Nederlandse neo-Calvinistiese teoloog, wysgeer en staatsman van die laat negentiende vroeg twintigste eeu, Abraham Kuyper (1837-1920; Gaum et al. 2008:634). In Ons Program, 'n beleidstuk van sy Anti-Rewolusionêre Party in 1879, bely Kuyper, soos Kruger 'n jaar of twee later, die ewige beginsels van Gods Woord vir alle lewensterreine. Du Plessis (1952:118) wy 'n bespreking van homself en G.F. de Vos Hugo aan die vraag of Kruger deur Kuyper beïnvloed kon gewees het - 'n moontlikheid wat nie met vers en kapittel bewys kan word nie. Derdens gaan dit hier om die Calvinistiese en Reformatoriese sola naamlik soli Deo gloria (Gaum et al. 2008:159).

Hierdie tipering getuig van 'n Calvinistiese of neo-Calvinistiese lewensbeskouing by Kruger. Sy stelling soos genoem gesels saam met erkende Calviniste wêreldwyd. Wat sy formulering merkwaardig maak, is dat Kruger dit formuleer nadat hy net 3 maande op skool was. As onopgeleide was hy natuurlik ook 'n predikant - onder die Dordtse Kerkorde artikel 8 wat in hierdie opsig vir mense met buitengewone gawes voorsiening maak - in die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika of GKSA (Kruger et al. 1966:82). Du Plessis verwys na De Vos Hugo wat praat van die 'genadewerking van Gods Gees in die hart van hierdie eenvoudige man' en die 'dapperheid van 'n ongeletterde man' om hom in ''n sogenaamde verligte eeu' as selfstandige denker te midde van geleerde regters en staatslui te onderskei (Du Plessis 1952:151). Kruger het sy lewensbeskouing in staatsake onderskeidend en bepalend aangewend.

Dit is so dat Kruger in sy toesprake gereeld uit die Bybel aanhaal en sy Christelike beskouing van die lewe dikwels met 'n soort biblisisme - 'n op-die-klank-af benadering - begrond. Sy gedistilleerde gevolgtrekkings en toepassings getuig egter van 'n goed omlynde Christelike lewensbenadering. So het Moses in Kruger se identifisering van die Christen-Afrikaner met die Ou-Testamentiese verbondsvolk, 'besonderlik' tot hom gespreek (Du Plessis 1952:135). Juis omdat hy, soos in die geval van die Gelofte by Bloedrivier in 1838, 'n Bybelse appél kon maak op al sy burgers as erkende Christengelowiges (Strauss 1994:32), het hy Ou-Testamentiese gedeeltes en gedagtes op 'n vrye manier in sy toesprake gebruik. Byvoorbeeld: op grond van Deuteronomium 12:8 wat handel oor - vir oud-Israel - aangewese bidplekke, noem Kruger vryheid iets anders as bandeloosheid, wetteloosheid en eiewilligheid. Wat hom betref funksioneer vryheid binne die raamwerk (beginsels) van Gods Woord. In die ZAR kom hierdie vryheid neer op wetsgehoorsaamheid (Du Plessis 1952:129).

Du Plessis wys daarop dat Kruger vir 'feitlik' elke saak wat hy bespreek het, tekste uit die Bybel aangehaal het. 'Ongelukkig het hy nie altyd gesê vanwaar hy die tekste kry nie' en baie tekste 'vry' aangehaal. Hy kon soms aanhalings uit verskillende dele sonder motivering met mekaar verbind (Du Plessis 1952:125).

Dat Kruger 'n konserwatief gereformeerde, goed geartikuleerde 'Dopper' van sy tyd was, blyk duidelik uit hierdie vertrekpunt van sy lewensbeskouing. Hy kon die implikasies van dié beskouing verwoord met 'n sterk appél op ander gereformeerde Afrikaners.

Steyn

By M.T. Steyn staan sake 'n bietjie anders.8 Giliomee bestempel hom as die eerste moderne Afrikanerleier (Giliomee 2014:47).9 Daarby was hy 'n juris wat sy opleiding by die Inner Temple in Londen voltooi het. Hy toon dat Steyn tuis was in die Engelse kultuur deur sy omgang met die Engelse elite van Bloemfontein: die Brands, Fichardts, Fischers en Frazers. As 'n oortuigde republikein het hy aansluiting by die ZAR gesoek, maar kultureel baie in gemeen gehad met die tweetalige blanke gemeenskap in die Kaapkolonie. Sy korrespondensie met sy verloofde, Tibbie Frazer, die dogter van die Skotse NG-predikant van Philippolis, ds Colin Frazer, was ook in Engels (2014:31).

Die biograaf van Steyn, M.C.E. van Schoor, wys daarop dat Steyn deur een groot ideaal beheers is: 'n verenigde Afrikanervolk onder 'n republikeinse vlag wat van die Kaap tot aan die Limpopo wapper.10 Hy was 'nooit negatief' teenoor ander rasse of volke nie, maar positief ingestel op Afrikanereenheid en selfrespek (Oberholster & Van Schoor n.d.:11; Van Schoor 1997:1).

Hoewel Steyn die vertrekpunt van sy beskouing oor die lewe nie in dieselfde terme as Kruger giet nie, maak hy, in die algemeen en meer spesifiek in sy uitsprake oor die betrokkenheid van die Rep van OVS by die ABO, opmerkings wat nou aansluit by die grondtrekke van Kruger se beskouings.

In 'n presidensiële proklamasie met die uitbreek van die oorlog op 11 Oktober 1899 sê Steyn in 'n Buitengewone Gouvernements Courant dat die 'Allerhoogste' dit nie sal duld dat die vryheid en onafhanklikheid van die Rep van OVS deur 'n onregverdige oorlog in gedrang kom nie.11 'Mag 'n regverdige Voorsienigheid vergelding bring' oor hulle wat sulke oorloë voer (Van Schoor 1997:168, 170). Na die Britse inname van Bloemfontein as Vrystaatse hoofstad in Maart 1900, sê Steyn op 'n spesiale sitting van die Vrystaatse Volksraad te Kroonstad op 2 April 1900 dat die republiek sy 'heilige' stryd vir vryheid en reg in die naam van die 'Driemaal Heilige God' met volharding moet voortsit (Van Schoor 1997:176). Syns insiens staan die Rep van OVS in hierdie oorlog aan die kant van die reg en kan hy - met reg - staatmaak op die hulp van die Here. By implikasie moet die hele lewe dus op die regte lewe voor God geskoei wees. 'n Maand vroeër, op 5 Maart 1900, verklaar Steyn dat die handhawing van die onafhanklikheid van die ZAR en die Rep van OVS as 'soevereine internationale Staten' voor die 'Drie-enige God' verantwoord is.12 Van die kant van die Boererepublieke gesien, is die ABO 'n oorlog uit selfverdediging teen 'n aggressiewe, imperialistiese Brittanje wat hierdie soewereiniteit wil vernietig (Van Schoor 1997:197). Die oorlog soos aangeblaas deur Britse imperialiste soos Joseph Chamberlain (Britse Minister van Kolonies vanaf 1895) en Alfred Milner (Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika sedert 1897; vgl. Pakenham 1979:115), bring groot ellende vir die twee republieke. Tog is weerstand teen Britse imperialisme én daarmee saam die behoud van hulle selfrespek, vir hierdie state 'n onvermydelike saak13 (Oberholster & Van Schoor n.d.:84; Van Schoor 1997:197).

Steyn praat dus nie van die beginsels van Gods Woord vir alle lewensterreine nie. Tog soek hy na die wil van die Here òòk op staatkundige terrein. Hy soek na die wil van God-Drieënig wat hy ook deurtrek na 'n oorlog tussen state met al die ellende wat dit meebring. Vir hom is dit die konsekwensie van die geldigheid van die 'iets' van die Bybel vir alles. In dieselfde trant eindig hy sy proklamasie van 11 Oktober 1899 met die gedagte dat die burgers van die Rep van OVS in die komende oorlog niks moet doen wat hulle as Christene en burgers nie 'betaam nie. Laat ons met vertroue uitsien na 'n voorspoedige einde van die stryd vertrouende op die Hoër Krag sonder wie se bystand mensewapens niks kan vermag nie' (Van Schoor 1997:170).

In die kern van die saak is Steyn en Kruger dit dus met mekaar eens. Waar Kruger egter direk van neo-Calvinistiese terminologie gebruik maak, gebruik Steyn òòk terme wat hy waarskynlik aan die Angelsaksiese-juridiese wêreld ontleen: die onpersoonlike, onsydige Allerhoogste, die Voorsienigheid en Hoër Krag. In sy vertrekpunt vir 'n lewensbeskouing gebruik Steyn ook nie soveel direkte verwysings na die Bybel soos Kruger nie. Tog sou hy, konsekwent op sy standpunt geneem, waarskynlik instem met die eer van God op alle lewensterreine: met Soli Deo Gloria (vgl. dieselfde gevolgtrekking by Oberholster & Van Schoor (n.d.:45) na aanleiding van Steyn se rede in 1898 met die 50 jarige bestaan van die Ned. Geref. Kerk Bloemfontein by die lê van die hoeksteen van die Sinodale Gedenksaal).

In die tradisie van gereformeerde Afrikaners soos Paul Kruger verklaar Steyn voor sy verkiesing tot president in 1896 dat 'n 'ellendige vrybuiter' soos Leander Jameson wat die ZAR in 1895 inval om die staat met wapengeweld oor te neem, die Afrikaner nie tot 'rassehaat' (teenoor die Engelse as 'n ander 'ras') sal dryf of hulle ''n duimbreed van die weg [sal] afbring wat ons vaders ons aangewys en voor ons bewandel het' nie (Oberholster & Van Schoor n.d.:25). Hoewel Steyn in meer algemene terme as Kruger formuleer, wil hy uitdruklik getrou bly aan die oortuigings van sy voorgeslagte as erkende Christen- of gereformeerde Afrikaners. By die hoeksteenlegging van die Ned. Geref. Kerk Bethlehem in Februarie 1910, identifiseer Steyn met die mans en vroue van sy volk in wie se are die bloed van 'ou Hollanders en Hugenote' stroom. Die voorkoms van misdaad en armoede onder sulke Afrikaners maak hom rooi van skaamte. Die Afrikaner moet die stem van die 'reine Jesus' volg en die skape van sy eie kudde versorg en oppas (n.d.:122).

Steyn se regverdiging van 'n oorlog uit selfverdediging is uit 'n etiese hoek ook Calvinisties. Hiermee stuit hy op 'n wyd aanvaarde houding by Christene in 'n situasie van noodweer - 'n houding wat in die Suid-Afrikaanse strafreg erken word. In 1896 verklaar die president in die Vrystaatse Volksraad: 'Die politiek van die twee Republieke was steeds, en is nog, om hulle slegs te verdedig en hulle kan toon dat hulle nog nooit die swaard aanvallend uitgetrek het nie' (Van Schoor 1997:30).

Hierdie benadering van Steyn hou verband met sy opmerking dat die Republieke die Bybel moet ken as die leerboek van die lewe én hulle gewere moet reghou (De Gouvernements Courant OVS 17.01.1896; Oberholster & Van Schoor n.d.:30). By die opening van die Meisieskool Oranje in Bloemfontein waarvan hy die stigter is, noem Steyn die Bybel in 1907 die 'enigste gids van die lewe'. Hy bepleit 'n vrye Christelik-nasionale skool wat nie 'sektaries' is of 'n onderdeel van die Christendom oordryf nie (Oberholster & Van Schoor n.d.:110, 111).

 

Die voorsienigheid van God

Beide Kruger en Steyn verwys na die voorsienigheid van God as 'n realiteit in die daaglikse lewe - 'n voorsienigheid wat blyk uit die regering en onderhouding van die skepping deur die Here.

Vir Kruger is die onafhanklikheid van die ZAR as 'n Boererepubliek 'n geskenk van God in Sy voorsienigheid. Hy as staatspresident moet dit handhaaf as sy 'hoogste plig'; anders sal daar 'n vloek op hom rus want die Afrikaner het sy vryheid nie vanself verwerf nie. Dit is 'n geskenk van die Here wat as 'n 'kleinood' bewaar moet word. Kruger as president is 'n middel in Gods hand om Sy wil in die ZAR uit te voer (Du Plessis 1952:12). Juis omdat hierdie vryheid 'n geskenk van God is, moet dit in die verhoudinge tussen state eerbiedig word. Die Britse imperialisme wat hierdie beginsel misken, moet geopponeer word. Al is Brittanje dié supermoondheid van daardie tyd. In antwoord op versoekskrifte van burgers van die ZAR dat hy hom weer verkiesbaar stel, bevestig President Kruger in 1888 dat hy as staatshoof 'alleen maar' 'n middel in die hand van die Here is. Hy stel homself vir 'n tweede termyn verkiesbaar, vertrouende op die 'hulp en bestier' van God (1952:30). Hy glo dat die Here in sy voorsienigheid staatspresidente voorsien - presidente wat geroep word om die Here deur hulle regering te eer.

Teen hierdie agtergrond word Kruger in 1893 herkies as hy in die 'roepstem van die volk' die 'roepstem van God' hoor. Volgens hom kry hy al die wysheid, krag en hulp vir die taak in biddende opsien tot die Here. Die Here as Verbondsgod het 'ons' tot hier sigbaar gelei en hy wat Kruger is, aanvaar die amp 'in die vrese van God'. As president wil hy die onafhanklikheid van die ZAR as 'n reg op geen manier in gevaar stel nie. Die besit van die onafhanklikheid as 'n gawe van God in sy voorsienigheid word na die ontvangs daarvan 'n reg. 'God [het] ons [in sy voorsienigheid] so sigbaar gelei dat die blindste heiden en mees ongelowige skepsel moes erken dat dit God was wat aan ons ons onafhanklikheid geskenk het' (1952:49).

Op 16 Desember 1891 sê Kruger by Paardekraal in Krugersdorp dat die hand van die Here 'ons' uit die Kaapkolonie gelei en in Transvaal gevestig het (1952:92-93). Sy 'almag, bestier en wysheid' vra gehoorsaamheid naamlik dat 'ons ons' verbondsbeloftes aan die Here betaal. Psalm 25 vers 2 kan gesing word waarin God gevra word om deur Sy Woord en Gees sy weë aan sy volk bekend te maak (1952:98-99).

Om Kruger se houding oor hierdie kwessie op te som: God in sy voorsienigheid het gesorg vir die vryheid en onafhanklikheid van die ZAR. Die Here beskik staatspresidente, presidente en republieke wat handel in die vrees van die Here.

Du Plessis oordeel dat die onafhanklikheid van die ZAR en die Rep van OVS vir beide 'n kwessie van die lewe en Godgegewe voorreg was - 'n voorreg wat beskerm en bewaar moes word (ibid:132).

Met verwysing na die vryheid en onafhanklikheid van die Rep van OVS, handhaaf President Steyn dieselfde standpunt.

Vir Steyn is staatkundige en volksvryheid - gelees teen die agtergrond of mode van destyds, naamlik volkstate - 'n geskenk van die voorsienige God (OVS Volksraadsnotule 02.09.1899:10, 15-24) - God wat in sy voorsienigheid ook die reg van volke en state beskerm (afgedruk in Van der Merwe 1921:II.3).

Voor sy verkiesing as staatspresident van die Rep van OVS in 1896 belowe hy, soos Kruger, op versoeke van burgers dat hy hom verkiesbaar stel, om die onafhanklikheid van die Vrystaat soos 'n 'kleinood' te bewaar. Dit is immers 'n geskenk van die 'Voorsienigheid'. As 'n jong 38 jarige glo hy dat God die 'smekeling' in die amp sal help (De Gouvernements Courant OVS 27.12.1895; Van Schoor 1997:9). Later verwys hy na die gebeure wat lei tot die Unie van Suid-Afrika in 1910 as komende van die 'Voorsienigheid' en nie die noodlot nie (Oberholster & Van Schoor n.d.:111). By die onthulling van die Nasionale Vrouemonument op 16 Desember 1913, roep Steyn die bykans 20,000 aanwesiges op om die ABO met sy stryd en bitterheid te vergeet. As hulle hulle die oorlog en alles daarom heen herinner, mag hulle die genade kry om sonder enige verwyt, wrewel of haat - 'daar wij de diepe wijsheid van de Almachtige niet kunnen peilen' - hulle hoofde te buig en ootmoedig te bely 'Vader, Uw wil geschiede' (afgedruk in Van der Merwe 1921:II.173). Hierdie gebed staan sentraal op die Vrouemonument (Strauss n.d.:15).

Hoewel Steyn dit nie direk aantoon nie, kom hierdie vertolking van hom by die gedenkteken vir duisende gestorwe Boervroue en -kinders14 in die ABO ooreen met artikel 13 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) oor die voorsienigheid van God. In hierdie artikel word die mag en goedheid van God bely wat in Sy voorsienigheid alle dinge volgens Sy wil so regeer dat niks sonder Sy beskikking gebeur nie. Hierdie waarheid is 'n onuitspreeklike troos vir alle gelowiges omdat God as Vader so sorg vir Sy gelowige kinders dat geen haar van hulle hoof buite Sy wil om val nie. Hy dra nie die skuld vir die sonde of kwaad wat die gelowiges teister nie, toegepas op die ABO, maar doen soms dinge bo die vermoë van die menslike verstand omdat Sy almag groot en onbegryplik is (NGK 1982:16).

Steyn bely dus: God is wys en goed en alles gebeur binne Sy wil. Ons kan nie alles van Sy wil verklaar nie, maar omdat Hy in Sy voorsienigheid goed en wys is, bely ons saam met die Onse Vader in Matteus 6: U wil geskied.

Hierdie geloof in die voorsienigheid van God, maak Steyn se invloed op die Vrouemonument onvergeetlik. Hy word immers as die inisieerder en vader van die monument beskou met sterk aanduidings dat hy die bewoordings op die monument geïnisieer het (Strauss n.d.:19).

 

Staatsgesag en die volkstem

'n Vraag wat gevra word, is of Kruger met sy bekende stelling dat hy in die roepstem van die volk die roepstem van God hoor, 'n slagoffer van die humanisties-liberalistiese idee van volksoewereiniteit was (Du Plessis 1952:117). Het Kruger, en Steyn soos weldra aangetoon, hiermee die oppergesag van die staat uit die hande van God probeer neem om dit aan die staatsvolk oor te dra?

'n Biograaf van Kruger, D.W. Kruger, noem hom 'n gelowige staatsman en die draer van definitiewe 'fundamentele Calvinistiese staatsopvattinge'. Opvattinge wat hy 'nie soseer' deur die geskrewe woord nie, maar deur 'n mondelinge tradisie en 'huislike opvoeding' ingekry het (voorwoord in Du Plessis 1952:14). Postma stel dit pront en saaklik: vir Kruger was die Bybel die rigsnoer vir sy private, maatskaplike, kerklike en staatkundige lewe (Postma 1944:19). Kapp wys op Kruger se Calvinistiese opvoeding en voorliefde vir die Ou-Testamentiese patriargale instellings (in Gaum et al. 2008:628).

Hierdie tiperings én Kruger se vermoë om hom as staatsleier deeglik te verantwoord, bring mee dat sy stelling oor die volkstem as die stem van God dieper ontleed moet word.

By sy tweede inswering as staatspresident, op 8 Mei 1888, stel hy dit in Ou-Testamentiese terme dat sy hart bewe as hy dink dat hy ingestem het om oor God se volk (hier Boeregelowiges) te regeer. Daarmee het hy immers ingestem 'om rekenskap te gee van die bewaring van alle regte en voorregte wat deur God aan die volk van hierdie land geskenk is'. Hy wil die Republiek deur sy regering dien in biddende opsien tot die Here (Du Plessis 1952:44). In antwoord op versoekskrifte dat hy hom opnuut verkiesbaar stel, sê Kruger dat die Here getoon het dat Hy in die 'onafhanklikheid van ons land 'n welbehae het, sodat selfs ongelowiges en heidene moes erken dat dit sy hand was wat ons vrygemaak het' (1952:32). By sy inswering vir 'n vierde termyn as president, in 1898, verklaar Kruger dit as sy 'innigste begeerte en wens' om vir die Here te lewe en 'die volk na sy wil te regeer' (1952:56).

Die begrippe van God wat skenk, wat vrymaak, aan Wie rekenskap vir regering gegee moet word en volgens Wie se wil daar geregeer moet word, druis lynreg in teen 'n idee van volksoewereiniteit. In sy kommentaar op Kruger se opvatting van die 'suiwer' volkswil, wys Du Plessis daarop dat volksvryheid in Kruger se denke nie 'n vryheid is wat deur die soewereine mens self bepaal word nie. Inteendeel, dit is 'n vryheid 'gegrond op Gods Woord, vryheid binne die wet van God'. Met ander woorde, die volk het vir sy vryheid (ook om te kan stem) Gods Woord as gids. Hy moet deur sy stem 'n owerheid daarstel wat die wet van God tot 'positief geldende reg positifeer' (1952:148).

By Kruger vervang die volkstem nie die stem van God of sy oppergesag nie, maar funksioneer dit as die instrument waardeur die Here 'n bepaalde staatsowerheid daarstel - 'n instrument wat daarin aan die wil van God onderworpe is. Daarom kan Du Plessis verklaar dat Kruger tog oordeel dat die volk nie die bron van gesag vir die staat is nie, maar die Here God Self. Die volk is nie gesaghebbers nie, maar onderdane - onderdane wat die regering as hulle verteenwoordigers in daardie sake moet gehoorsaam wat klop met die Woord van God (1952:128-129).

Binne hierdie raamwerk - die stemreg van verantwoordelike burgers - hoor Kruger die stem van God. Aan hierdie roepstem gee hy gehoor omdat hy dit sien as uit die hand van God (Kruger by sy inswering as president in 1893; vgl. Du Plessis 1952:49). En juis omdat Kruger die beginsels van Gods Woord vir die staatsterrein bely (Du Plessis 1952:21), moet die leuse van 'reg en geregtigheid vir almal' die grondslag vir staatsoptredes wees (Kruger in 1898; vgl. Du Plessis 1952:36). Die eerbiediging hiervan maak van Kruger as staatspresident 'n middel in die hand van die Here (Kruger in 1888; vgl. Du Plessis 1952:30).

Die volkstem as die stem van God gaan by Kruger nie om 'n gesagsdraer wat aan die staatsowerheid sy gesag verleen nie. Dit gaan nie om 'n gesagsreg nie, maar 'n blote plasingsreg (Strauss 2010:31) - 'n plasingsreg wat soos alle ander regte en Bybels beskou in verantwoordelikheid aan God uitgeoefen moet word. Kruger handhaaf dus Bybelse beginsels vir die funksionering van die staat. Anders gestel, dit gaan by Kruger waarskynlik daarom dat hy as staatspresident in sy soeke na leiding eerstens na die Here God se beginsels vir geregtigheid vra as na die wil van die volk.

Hoewel die ywer van president Steyn met die verloop van die ABO minder raak vir die volkstem as die koningstem (Visser 1977:48, 140, 150), is hy as president 'n sterk pleitbesorger daarvoor. Reeds by sy verkiesing in 1896 pleit hy dat volksoewereiniteit deur die koningstem van die volk in die Vrystaatse grondwet erken moet word (Van Schoor 1997:47). Daarom is hy 'n voorstander van 'n referendum as die finale arbiter in staatsake. Die enigste probleem hiermee is dat die volkstem stadig beweeg en vooruitgang kan strem. Hyself wil egter liewer stadig en met die volk beweeg as haastig en sonder die volk. Daarom sou hy wou sien dat elke verandering aan die grondwet of elke ongepubliseerde wet of besluit van die Volksraad eers aan die goed- of afkeuring van die volk voorgelê word. Die Vrystaatse Volksraad deel egter nie sy entoesiasme hiervoor nie (Oberholster & Van Schoor n.d.:12, 50, 51; Van Schoor 1997:47, 50, 51).

Tog sien Steyn in die feit dat die Volksraad hom in 1896 as presidentskandidaat voorstel 'n vingerwysing van God (Oberholster & Van Schoor n.d.:24-25). Mag dieselfde God gee dat hy, indien hy verkies word, 'tot nut en heil van my vaderland mag wees' (n.d.:27). Waaraan Steyn hierdie heil koppel, word later duideliker as hy 'n Britse staatsman loof omdat hy, teenoor die aartsimperialis Lord Alfred Milner, vrede, voorspoed en geluk in Suidelike Afrika sien as die gevolg van regverdige optrede deur die betrokke staatsowerhede (n.d.:145-146).

Steyn meet die volk en owerheid vir hulle nut dus aan die Bybelse beginsel vir die koning in sy optrede as koning: die reg soos God dit wil (Ps 72:1, 2).15 By hom is volksoewereiniteit en die volkstem as die koningstem belangrike instrumente - hy noem dit nie eksplisiet nie - waardeur God gedien moet word en nie absoluut nie.

Hierdie houding blyk ook uit Steyn se proklamasie met die uitbreek van die ABO op 11 Oktober 1899. Hy sluit immers sy verklaring af met die versoek dat die burgers van die Rep van OVS in die ABO niks moet doen wat hulle as Christene nie betaam nie (Van Schoor 1997:170).

 

Volkereg

In beskouinge met implikasies vir die volkereg handhaaf Kruger en Steyn die Godgegewe vryheid en onafhanklikheid van die ZAR en Rep van OVS ook as 'n reg (die betrokke staatsvolk se reg) wat deur die Here aan hulle gegee is. Kruger betuig sy geloof in hierdie saak by meer as een geleentheid (Du Plessis 1952:32, 49, 64, 92) Op 5 Maart 1900 verklaar Steyn dat die onafhanklikheid van die twee Boererepublieke as 'soevereine internationale Staten' voor God-Drieënig verantwoord is. Hulle voer die ABO uit selfverdiging teen Brittanje wat hierdie soewereiniteit wil vernietig (Van Schoor 1997:197).

In 'n rede by die historiese Paardekraal in 1896 wys Kruger daarop dat die Voortrekkers op pad na 'n eie staat iets van hierdie universele reg, dus ook 'n reg van swakkes of swak stamme, erken het deur niks van laasgenoemde met geweld weg te neem nie. Die 'natuurstaat' wil dat die sterkes oor die swakkes heers, maar sy voorouers (en die jonge Kruger) het die Bybelse reël van God dat regverdigheid almal laat toekom, hoe swak hulle ook al mag wees, toegepas (Du Plessis 1952):

Wat ons van die nasies wou hê, moes ons met vrede en vriendskap probeer om van hulle te verkry deur middel van onderhandeling, en niks het ons gewelddadig geneem nie Die vernaamste voorneme van die Voortrekkers was om 'n vry land te verkry om hulle aldaar te vestig, en het hulle deur die Vrystaat getrek, sonder om egter die swakke stamme daar iets te ontneem, maar alleen in vrede en vriendskap handel gedryf. (bl. 102)

Die Here het ''n land' aan hulle gegee omdat selfs Silkaats en Dingaan in hulle aanvalle ook nie die Voortrekkers in hulle vreedsame, regmatige oogmerke kon stuit nie (Du Plessis 1952:103-104).

Steyn dink op dieselfde lyn as hy tydens sy verkiesing as staatspresident op 19 Februarie 1896 verwys na die Brits-imperialisties gedrewe Jamesoninval in die ZAR in 1895. Hy noem dit 'n oortreding van die eerste beginsels van die volkereg. 'n Militêre ingrype in die huishoudelike sake van 'n onafhanklike staat is 'n misdaad (gedikteer aan Mev. Steyn en afgedruk in Van der Merwe 1921:I.142, 144). Volgens Steyn kan sulke state met reg aanspraak maak op nie-inmenging in hulle eie sake en respek vir hulle landsgrense (kyk Steyn in Van der Merwe 1921:I.66-69). Die oud-president gebruik dieselfde argument in 1914 teen die Suid-Afrikaanse inval in Duitswes-Afrika (tans Namibië, SABW II:734). Staatkundige vryheid binne geografiese grense is volgens hom 'n gawe van die voorsienige God (Rompel n.d.:83).16 Daarom kon die ZAR en die Rep van OVS hulle in die jare 1899-1902 teen die militêrgedrewe Britse imperialisme verdedig.

Wat opvallend is, is dat Steyn hier vanuit 'n algemene volkereg argumenteer wat hy by implikasie met sy Christelike lewensbeskouing versoen. Boonop bevind hy hom met sy volkeregtelike argumente in 'n geselskap wat nie tot die Boererepublieke beperk word nie.

Hoewel beide Kruger en Steyn, soos die Afrikanertradisie17, 'n aggressiewe imperiale oorlog verwerp en 'n defensiewe oorlog aanvaarbaar vind, gebruik hulle nie dieselfde terme nie. Kruger verwoord die sake vanuit 'n lewensbeskoulike oriëntasie terwyl Steyn blyke gee van 'n volkeregtelike agtergrond. Hulle gevolgtrekkings is egter dieselfde en hulle sou mekaar ook kon verseker dat hulle dit hierin met mekaar eens is.

Die aanvaarding van reg en geregtigheid aan almal as 'n maatstaf vir die binne- en buitelandse politiek, werk ook deur in die presidente se opvatting van die staat en beskawing. Sy pleidooi vir die volkstem as 'n 'republikeinse beginsel' én sy standpunt dat state nie in die binnelandse sake van ander state moet inmeng nie, noem Steyn die 'groot beginsel' van vryheid en reg - 'n beginsel wat die Republieke aanvaar as deel van 'n Christelike, beskaafde vryheid en wat die Afrikaner in die verlede ook in sy verhouding tot gekleurdes in Suid-Afrika toegepas het (Oberholster & Van Schoor n.d.:68).18 Op sy beurt sê Kruger in 1882 dat hy van die gekleurdes in die ZAR 'gelukkige en tevrede' onderdane wil maak. Dit wil hy doen deur middel van orde, werksaamheid en godsvrug. In 1888 voeg hy hieraan toe dat die gekleurdes 'reël en orde onder hulle' moet laat heers. Dan sal hulle in beskawing toeneem, dit goed gaan en God se seën op hulle rus. Dit gaan vir hom dus oor 'n beskaafde orde waarbinne mense hulle aan sekere standaarde onderwerp en nie stemreg of regte as eerste opsie nie (Du Plessis 1952:31, 122). Steyn vind hierby aansluiting as hy die oplossing vir die Suid-Afrikaanse bevolkingsvraagstuk met sy 'duisende kleurlinge' nie in 'gelykheid' sien nie, maar in 'n 'strenge' regverdigheid aan almal - 'n regverdigheid waarbinne die verskillende groepe leer om mekaar te respekteer (Oberholster & Van Schoor n.d.:179).

Volgens Kruger is alle vreemdelinge welkom in die ZAR mits hulle die wette van die land gehoorsaam. Hulle vryheid lê in die wet en nie in losbandigheid en ongehoorsaamheid nie (Du Plessis 1952:13). In 1882 verklaar hy dat barbaarsheid deur regverdigheid en beskawing in toom gehou en bestuur moet word (1952:24).

 

Afrikanerwees

Vir beide Kruger en Steyn was die taal van die 'volk' belangrik. In hulle openbare uitsprake staan dit uit as dié onderskeidende kenmerk van Afrikaners.

Kruger beywer hom vir die welsyn van Nederlands of die 'Hollandse taal' onder sy volksgenote. Dit is immers die taal wat hulle voorouers deur stryd en worsteling liefgekry het; die taal waarin die Woord van God - in die Nederlandse Statevertaling van 1637 (Gaum et al. 2008:1043) - tot hulle kom. Volgens hom maak onverskilligheid teenoor hulle taal mense ook onverskillig oor hulle voorouers, Bybel, godsdiens en nasionaliteit (Du Plessis 1952:13). Na afloop van die Eerste Vryheidsoorlog sê Kruger tydens 'n besoek in Maart 1884 aan Amsterdam in Nederland dat die Boere 'Hollands in die woestyn deur alle storms heen' behou het. 'Ons hele stryd lê daarin opgeslote'. Hoewel die Nederlanders hom 'hier en daar' dalk nie verstaan nie, het die Boere die grondslae van Nederlands behou. Die bande met Nederland en dus Nederlands, gee hom hoop (Du Plessis 1952:111).

Steyn is eweneens 'n stryder vir die volkstaal. Tydens sy verkiesing as staatspresident in 1896 verklaar hy: 'Die taal is die volk'. Indien sy mense dit verwaarloos, sal hulle volksbestaan langsamerhand kwyn en te gronde gaan. Sy mense moet soveel tale leer as wat hulle kan, maar hulle moedertaal liefhê 'bo alles' (Oberholster & Van Schoor n.d.:44; Van Schoor 1997:42). Op 22 September 1899 in sy pleitrede voor die Vrystaatse Volksraad dat die Rep van OVS in die onafwendbare ABO sy defensiewe ooreenkoms met die ZAR gestand doen, beskuldig hy Britse imperialiste dat hulle die twee Republieke wil uitwis omdat die Afrikanergees hier lewendig gehou word. So wil hulle die Afrikanervolk vernietig en 'indien moontlik uitroei' (Van Schoor 1997:159). Die president herhaal die woorde in sy proklamasie met die uitbreek van die ABO op 11 Oktober 1899 (Van Schoor 1997:167). In 1907 noem hy die nuutgestigde Meisieskool Oranje as 'n plek waar kinders liefde vir hulle volk, tradisies en gewoontes 'ingeboesem' word (Oberholster & Van Schoor n.d.:110).

As gevolg van hulle leefperiodes is Steyn meer as Kruger na die ABO in 1902 by die Afrikaanse taalstryd betrokke. Vir beide is die gewig van die volks- of moedertaal egter vanselfsprekend. By Steyn gaan dit in sy redes ook om ruimte vir ander groepe in 'n republiek of staatsbestel waarin die Afrikaner as Afrikaner 'n volwaardige plek kry (Gaum et al. 2008:1049).

Vir beide is die erkenning van die eie taal en 'nasionaliteit' 'n verantwoorde reg.

Steyn gebruik die begrippe 'volk', 'nasionaliteit' en 'ras' nie deurgaans in dieselfde verband en vir dieselfde saak nie. Soms funksioneer dit by hom as 'n kultuurverbintenis en soms as burgerskap of 'n staatsverbintenis. Sy gebruik van hierdie terme moet dus in die konteks waarin hy dit gebruik, gelees word. Steyn was 'n voorstander van die behoud van die moedertaal binne 'n republiek as staatsvorm sonder om negatief oor ander taalgroepe of volke - ook in die republiek - te wees. Daarby wou hy elke volksgenoot én 'vreemdeling' regverdig behandel (Strauss 1996:568-570).

 

Slot

In die openbare standpunte van presidente Kruger en Steyn kom daar lewensbeskoulike aspekte voor wat beide in die breë gereformeerd-Afrikaanse tradisie plaas. Paul Kruger werk met 'n onderskeibare Nederlandse neo-Calvinistiese visie, terwyl Theunis Steyn met duidelike gereformeerde (Calvinistiese) oortuigings teen die agtergrond van sy ervaring van 'n breër wêreld, werk. In die kern van alles was hulle dit met mekaar hartlik eens - 'n eensgesindheid wat waarskynlik bygedra het tot hulle onderlinge begrip en samewerking, tot hulle vertroue in mekaar. Hulle ouderdomsgaping en onderlinge respek het moontlik hulle samewerking gestimuleer. Hulle kon in mekaar voorbeelde vind van dié mense vir wie se toekoms hulle ywer. Elkeen was op sy manier 'n eietydse Afrikaner van die ou Nederlandse stam. Paul Kruger was die prototipe van 'n ervare gereformeerde Afrikaner, van 'n 'Dopper' wat as 'n openbare figuur en leier daaraan gewoond was om sy saak te stel en mense - sy mede-Afrikaners - vir die saak te monster. Hy kan met reg as dié simbool van die Christelik-Afrikaanse of Boererepublikanisme van die 19e eeu beskou word. As Steyn van Kruger se 'diepe doorzicht, grote geestkracht, ware patriotisme en innige godsvertrouwen' praat, praat hy as eerstehandse getuie, as een wat gesien en gehoor het.

In sy gehegtheid aan sy lewensbeskouing was Theunis Steyn 'n spreekwoordelike bittereinder. In sy styl was hy moontlik meer diplomaties en afgerond as sy ouer eweknie van die ZAR, maar net so onwrikbaar as hy sy penne eers ingeslaan het. Met sy regsagtergrond en ervaring van die wêreld buite die Boererepublieke kan hy beskou word as 'n moderne Afrikaner. As 'n bittereinder in die ABO het hy selfs sy eie gesondheid én negatiewe militêre ontwikkelinge na 1900 vir die twee Republieke, nie ontsien nie.

Hoewel die afloop van die ABO die presidentskap van beide beëindig het, het hulle nooit mekaar se vasbeslotenheid om die onafhanklikheid van die ZAR en Rep van OVS te handhaaf, betwyfel nie. Kruger was by die ondertekening van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902 in Pretoria 'n banneling in Europa (Gaum et al. 2008:629) terwyl Steyn hom weens gesondheidsredes aan die beraadslagings moes onttrek (Van Schoor 2009:285).

Beide was Christenstaatslui met 'n openbare belydenis van God-Drieënig en 'n duidelike poging om 'n Christelike beskouing in staatsake uit te leef.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

De Gouvernements Courant OVS 17.12.1895; 17.01.1896.

Du Plessis, J.S., 1952, President Kruger aan die woord, Sacum, Bloemfontein.         [ Links ]

Gaum, F. et al., 2008, Christelike Kernensiklopedie, Lux Verbi, Wellington.         [ Links ]

Grobler, J., 2007, Uitdaging en antwoord: 'n Vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners, Grourie, Brooklyn.         [ Links ]

Giliomee, H., 2014, ''n Ideale gemenebes in Afrika-omstandighede: die Vrystaatse Republiek 1854-1900', in D. Langner et al. (red.), Die Republiek van die Oranje-Vrystaat, pp. 15-49, FAK, Pretoria.         [ Links ]

Kruger, D.W., 1961, Paul Kruger I, Dagbreek, Johannesburg.         [ Links ]

Kruger, D.W., 1963, Paul Kruger II, Dagbreek, Johannesburg.         [ Links ]

Kruger, L.S. (red.), 1966, Handleiding by die Kerkorde, Pro Rege, Potchefstroom.         [ Links ]

Louw, A.M., 1969, Die Groot Gryse, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Ned. Geref. Kerk (NGK), 1982, Die drie formuliere van eenheid en ekumeniese belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.         [ Links ]

Oberholster, J.J. & Van Schoor, M.C.E., n.d., President Steyn aan die woord, Sacum, Bloemfontein.         [ Links ]

Pakenham, T., 1979, The Boer War, Jonathan Ball, Johannesburg.         [ Links ]

Postma, F., 1944, Paul Kruger die Christenvolksman en -staatsman, Pro Ecclesia, Stellenbosch.         [ Links ]

Reynolds, C., 2013, Konsentrasiekampsterftes gedurende die Anglo-Boereoorlog 1899-1902, FAK, Brandfort.         [ Links ]

Rompel, F., n.d., Marthinus Theunis Steyn, Veen, Amsterdam.         [ Links ]

Strauss, P.J., n.d., Uitdrukkings op die Nasionale Vrouemonument geweeg, Druforma, Bloemfontein.         [ Links ]

Strauss, P.J., 1996, 'Aantekeninge oor lewensbeskoulike aspekte in die openbare standpunte van President MT Steyn 1896-1902', NGTT XXXVI(4), 558-571.         [ Links ]

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.         [ Links ]

Schoeman, K., 1983, In liefde en trou, Human & Rousseau, Johannesburg.         [ Links ]

SABW (Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek) II 1972, Tafelberg, Kaapstad.         [ Links ]

Uys, C.J., 1955, Paul Kruger van die wieg tot aan die graf, Balkema, Kaapstad.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E. & Van Rooyen, J.J., 1960, Republieke en republikeine, Nasionale Boekhandel, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., 1997, 'n Bittereinder aan die woord, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Schoor, M.C.E., 2009, Marthinus Theunis Steyn - regsman, staatsman en volksman, Proteaboekhuis, Pretoria.         [ Links ]

Van der Merwe, N.J., 1921, Marthinus Theunis Steyn I en II, Nasionale Pers, Bloemfontein.         [ Links ]

Van Oordt, J.F., 1898, Paul Kruger en de opkomst der Zuid-Afrikaansche Republiek, HAUM, Kaapstad.         [ Links ]

Visser, G.R., 1977, President MT Steyn se rol in die Anglo-Boereoorlog, UOVS ongepubliseerde MA-verhandeling, Bloemfontein.         [ Links ]

Wessels, F.J., 1977, 'Ongeloof en wêreldgebeure', in D.F.M. Strauss et al. (red.), Woord en wetenskap, pp. 202-211, VCHO, Bloemfontein.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Piet Strauss
straussp@ufs.ac.za

Received: 27 June 2016
Accepted: 05 Oct. 2016
Published: 21 Feb. 2017

 

 

1 Ek noem enkeles: Van Oordt (1898), Postma (1944), Kruger (1961; 1963), Uys (n.d.).
2 Ek noem die belangrikste: Van der Merwe I en II (1921), Schoeman (1983), Van Schoor (2009).
3 Van Oordt (1898:379) wys op Kruger wat die 'eeuwige beginselen van Gods Woord' op staatkundige terrein bely en kom tot die gevolgtekking dat hierdie stelling die karakter van die twee Boererepublieke goed tipeer. Hy noem die stelling Calvinisties en teokraties.
4 Vergelyk Nederlandse Geloofsbelydenis art 13 (NGK 1982:16); vergelyk ook Strauss (n.d.:19) vir Steyn se hantering van die inhoud van hierdie belydenis op hierdie punt.
5 D.W. Kruger erken dat Kruger 'n besondere leier was, maar noem hom ook ''n tipiese Boerefiguur, die produk van sy tyd en omgewing. Sy opvattinge ten opsigte van die probleme van die lewe is wesenlik dieselfde as die van die meeste van sy volksgenote van die regte ou stempel. Dit is deel
van die geestelike erfenis wat hy van die voorgeslagte ontvang het daardie lewensbeskouing wat natuurlik en eie is aan 'n pioniersgeslag met 'n oud-Hollandse en Hugenote historiese agtergrond' (inleiding in Du Plessis 1952:11-12).
6 Die skrywers van President Steyn aan die woord (n.d.) en 'n Bittereinder aan die woord (1997) toon aan dat hulle die openbare toesprake van hierdie president soos verbatim vervat in die OVS Gouvernements Courant, Notulen der Verrichtingen van den H. Ed. Volksraad, De Express en The Friend of the Free State as primêre bronne oorgeneem en vertaal het. Boonop vorm die werk uit 1997 'n natuurlike kontrole op die eerste werk wat met die eeufeesvieringe van die Rep van OVS in 1954 uitgegee is; vergelyk Oberholster & Van Schoor (n.d.:7); Van Schoor (1997:ii).
7 Vergelyk die vergelykende kruisverwysings in Du Plessis (1952:117-156) waarin hy aantekeninge en kommentaar op President Kruger se openbare redes lewer.
8 In sy opgetekende herinneringe soos meegedeel aan Mev. Steyn, wys Steyn daarop dat hy die vertroue van Kruger by hulle eerste ontmoeting, na sy eie verkiesing as president van die Rep van OVS in 1896, 'had gewonnen'. Hy kon dit tot aan die einde van Kruger se lewe behou. Hulle was altyd openhartig teenoor mekaar en verskille het ontstaan vanweë verskillende standpunte en nie 'n wantroue in mekaar nie. 'Hoe meer ik met hem werkte, hoe hoger rees mijn respekt voor zijn diepe doorzicht, grote geestkracht, ware patriotisme en innig godsvertrouwen. Ik zal het dan ook altijd als een van mijn grootste voorrechten beschouwen dat het mij gegeven was met hem samen te werken
' (Van Schoor 1997:59).
9 Giliomee (2014:47-49) oordeel dat Kruger 'n premoderne ideologie daarop nagehou het waarin patriargale leiers oorheers het. Hierteenoor het Steyn as 'n republikein 'n 'grondwettige regering of konstitusionalisme' voorgestaan waarin die gedagte van 'n volksreferendum by 'n verandering van die grondwet die finale sê moes hê. Sodoende wou Steyn aan die sogenaamde 'soewereiniteit van die volk' 'n sterker praktiese inslag gee (vgl. ook Van Schoor 1997:47). In die taal van die een en twintigste eeuse Suid-Afrika: hiermee was Steyn die voorloper van 'n regstaatsidee vir die ryk geskakeerde bevolking van Suid-Afrika. Giliomee gee egter 'n vereenvoudigde wanbeeld van die grondtrekke van Kruger se oortuigings met betrekking tot die staat. Daarop word teruggekom.
10 Van Schoor (1997:5) wys op gebeure na die Slag van Graspan naby Reitz op 6 Junie 1901 waartydens die bloed van 'n Vrystaatse, Transvaalse en Kaapse Afrikaner ineengevloei het as 'n simbool, vir Steyn, van hierdie eenheid (vgl. Oberholster & Van Schoor n.d.:15).
11 Vergelyk Steyn se argument in die Vrystaatse Volksraad op 25 September 1899 as hy antwoord op reaksie op sy rede dat die Rep van OVS die ZAR moet bystaan in die komende oorlog. Volgens die president is die burgers van die Boererepublieke volgens 'Goddelike en menslike wette' 'regmatiglik
geregtig' op hulle vryheid as state (Oberholster & Van Schoor n.d.:87). Weer koppel Steyn die vryheid van die Rep van OVS aan die wil van die God wat alles beheer.
12 Steyn is hiermee 'n eksponent van die later ontwikkelde norm vir die onderlinge verkeer tussen onafhanklike state as strukturele gelykes in 'n maatskapsverhouding by Christen-akademici soos F.J.H. Wessels (vgl. Wessels 1977:205) - 'n norm wat in die gereformeerde kerkreg ooreenstem met die anti-hiërargiese stelreël van geen kerk of gemeente oor 'n ander nie (Strauss 2010:51).
13 Oor Steyn en die oorlogspoging van die Republieke in die ABO, laat Oberholster en Van Schoor hulle positief uit. Volgens hulle was hy die simbool van 'onvermurfbare' weerstand teen die Britse imperialisme wat hierin bo ander leiers uitgestyg het. Vir hom was dit duidelik dat die Republieke dit op die lang duur nie teen Brittanje kan volhou nie. Die ZAR en Rep van OVS se morele oorwinning was egter belangriker. Uit die oorlog as loutering moes hulle met 'n geesteskrag kom wat spruit uit 'n morele meerderwaardigheid. Die ABO moes vir 'sy volk' 'n bron van inspirasie wees en nie 'n vernedering nie (Oberholster & Van Schoor n.d.:14). Die geskiedenis het Steyn hierin reg bewys. Boere soos C.R. de Wet en J.H. de la Rey was agterna die helde in Wes-Europa ens. Na die oorlog keer president Steyn in Maart 1905 na die Vrystaat terug. Hy verwys na die afloop van die ABO: 'Toe die Afrikaner in die oorlog oënskynlik in doodsweet gelê het, maar weer gebore is
' (Van Schoor 1997:6).
14 Die nuutste navorsing dui op 34 051 sterftes onder hierdie vroue en kinders (Reynolds 2013:122).
15 Die Britse staatsregkundige, Lord Bryce, bestempel die Rep van OVS na 'n besoek in 1895 as 'n modelrepubliek (Oberholster & Van Schoor n.d.:50).
16 Steyn handhaaf dus die strukturele gelykwaardigheid van onafhanklike state, in 'n maatskapsverhouding, as 'n Christelike benadering in die volkereg (Wessels 1977:205) - 'n strukturele gelykwaardigheid wat op die staat as 'n selfstandige struktuur bou en nie sekere ekonomiese, militêre en bevolkingseise stel voordat die integriteit van die staat erken word nie.
17 Na afloop van die Jamesoninval in die ZAR in 1895 verklaar Steyn in 1896 voor die Vrystaatse Volksraad dat dit die politiek van die twee Boererepublieke is 'om hulle slegs te verdedig en hulle kan toon dat hulle nog nooit die swaard aanvallend uitgetrek het nie' (Van Schoor 1997:30).
18 Die Britse imperialiste wat 'n oorlog teen die ZAR en Rep van OVS in 1899 aanblaas, maak volgens Steyn daarvan 'n belediging vir 'godsdiens en beskawing'. Internasionaal erkende, beskaafde gebruike soos arbitrasie of 'n gesamentlike kommissie kon die oplossing gewees het (Van Schoor 1997:155).

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License