SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 número1Review article: Jesus' resurrection in Joseph's garden índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


HTS Theological Studies

versión On-line ISSN 2072-8050
versión impresa ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 no.1 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.4683 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die Fresh Expression beweging en die Hervormde Kerk - 'n nuwe manier van kerkwees?

 

 

André G. UngererI, II

IReformed Theological College, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa
IINetherdutch Reformed Church of Africa, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

The Fresh Expression movement is well-known in Great Britain and other Western countries like the USA, Australia and lately South Africa. During 2013, a task team launched two pilot courses in Cape Town and George that marked the beginning of Fresh Expressions in South Africa. The Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (Netherdutch Reformed Church of Africa - NRCA) exposed 125 of her pastors to the Fresh Expression movement by means of the annual continuous theological training program during 2015. Three of the pastors underwent the 'Train the Trainer' course and are currently involved in the presentation of courses in the Pretoria region. The Fresh Expression movement hold the possibility for pioneers in church planting to reach the people who have no ties with the established church. By entering a certain context, faith communities are established by means of listening to the people in their context, serving them in a loving way, creating a community, evangelise and discipling them and starting their own unique way of worshipping. The new faith communities are not in competition with the established church but it is rather a question of a mixed economy where different types of church exists alongside each other in mutual respect and support. This study tries to establish basic criteria to distinguish a Fresh Expression from random missional outreaches by a congregation. Two potential Fresh Expressions in the NRCA were evaluated by the set criteria.


 

 

Die Fresh Expression beweging en die Hervormde Kerk - 'n nuwe manier van kerkwees?

Die Hervormde Teologiese Kollege (HTK) het sedert sy ontstaan in 2000 sporadies openbare gespreksgeleenthede gefasiliteer oor sake rakende Godsbeskouing, Skrifverstaan en ander kwessies. Een só 'n gespreksgeleentheid was op 31 Oktober 2012 toe prof. A.G. van Aarde1 oor sy boek Fatherless in Galilee: Jesus Child of God gesels het. Die geleentheid het wye belangstelling ontlok en daar moes, vanweë die groot aantal mense wat opgedaag het, inderhaas na 'n groter lokaal geskuif word. Hierdie suksesvolle geleentheid het die vraag laat ontstaan of hierdie gespreksgeleenthede nie op 'n meer gereelde basis moet plaasvind nie. Dr J.C. van der Merwe2 het die saak per skrywe (Van der Merwe 16 Oktober 2013) aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (verder aan verwys na Kommissie) voorgehou om breëre instemming en deelname van die Kerk te verseker. Die Kommissie het op 07-08 November 2013 (NHKA 2014) toestemming verleen dat die HTK onder leiding van Van der Merwe 'n Bybelskool vestig met Skrifverstaan en Skrifhantering as eerste fokusarea. Die Bybelskool het op 'n maandelikse basis, uitgesonderd vakansietye, plaasgevind. Later het die naam van die Bybelskool na 'Gesprek met die Bybel' verander.3

Op 13 Mei 2015 het ek 'n Gesprek-met-die-Bybel-aanbieding met die tema: Nuwe maniere van kerkwees, aangebied wat uitsluitlik oor die Fresh Expression beweging gehandel het wat in Suid-Afrika sedert 2012 posgevat het.4 Hierdie aanbieding is in die onderhewige artikel verwerk en vorm deel van die 'Spesiale Kolleksie Hervormde Teoloë in Gesprek' as deel van die HTK se deelname aan eeufeesviering van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.

 

Die Hervormde Kerk en Fresh Expression

Enkele leiers in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (hierna verwys na as NHKA) het vroeg in 2015 van die Fresh Expression beweging kennis geneem en besluit om die kursus wat oor tien geleenthede strek en waarin 25 modules behandel word, by te woon (NHKA 2016a:644). Die kursusinhoud is weldeurdag en teologies goed begrond en lewer 'n waardevolle bydrae tot die gesprek oor missionale kerkwees. Die vraag kan egter gevra word in watter mate insigte uit die Fresh Expression beweging op die NHKA van toepassing gemaak kan word en of dit 'n werkbare kombinasie is. Hierdie studie het ten doel om:

  • 'n oorsig te bied oor die ontstaan van die Fresh Expression beweging en die onderliggende beginsels waarop die beweging geskoei is

  • kriteria te identifiseer waaraan Fresh Expression in die NHKA beoordeel kan word

  • vas te stel of insigte uit die Fresh Expression beweging op 'n werkbare wyse op die NHKA van toepassing gemaak kan word.

 

Faktore wat tot die ontstaan van die Fresh Expression beweging aanleiding gegee het

Hoewel 'n groot meerderheid Britte (87%) oordeel dat kerkgeboue, kapelle en ander plekke van aanbidding 'n aanwins vir hulle land is omdat dit ruimte vir aanbidding bied, argitektoniese waarde het en 'n bepaalde identiteit aan die land bied (Field 2017), blyk dit by die meeste van hulle bloot 'n postiewe assosiasie te wees sonder substansiële betrokkenheid. Die Church of England [Anglikaanse Kerk] het soos oral in Europa, die afgelope dekades geweldige verliese aan lidmate gehad. Goodhew, Roberts and Volland (2012:44) dui daarop dat navorsers eenstemmig is dat 'n afwaartse kurwe gedurende die 1960's begin plaasvind het. Hierdie afwaartse kurwe gaan voort. In 2001 het 72% van die mense in Brittanje hulleself as Christene beskou. In 2011 was dit slegs 55% van die bevolking. Slegs 38% mense in die ouderdomsgroep 18 tot 34 jaar beskou hulleself as Christene, wat meebring dat die Christelike geloof vir hierdie ouderdomsgroep in die minderheid is - ' for young adults in Britain, Christianity is now clearly a minority faith' (Goodhew et al. 2012:45).

Die Anglikaanse Kerk het die afgelope 30 jaar in oënskou geneem en verskeie redes word vir die tendens (veral die daling in die Sondag-erediensbywoning) aangevoer, soos onder andere (Mission Shaped Church 2004:1-12):

  • Meer mense het tot die huismark toegetree wat meebring dat daar meer tyd op Sondae aan die opknapping van huise spandeer word.

  • Die eise aan werknemers gestel, het toegeneem. Daar het ook meer vroue tot die arbeidsmark toegetree wat mense se vrye tyd verminder.

  • Die mobiliteit het verbeter deurdat meer gesinne 'n motorvoertuig kan bekostig. Meer uitstappies vind plaas en besoeke aan familie word op Sondae afgelê.

  • Die egskeidingsyfer het verhoog wat 'n verhoging in enkelouer-gesinne tot gevolg het. Kinders besoek veral oor naweke die ander ouer wat 'n effek op erediensbywoning het.

  • Vryetydsbesteding en televisie neem veral op Sondae tyd in beslag.

  • 'n Gefragmenteerde gemeenskap veroorsaak dat kinders verder van hulle ouerhuise bly, toenemend aan ander aktiwiteite meedoen terwyl die bywoon van erediens laer op die lys van prioriteite is.

  • Netwerke speel 'n al hoe belangriker rol. Geografiese ligging is nie meer die primêre basis vir gemeenskap nie. In 'n bepaalde woongebied kan daar verskillende netwerke vir verskillende belangegroepe wees. Mense in dieselfde straat sal dalk in geen relasie tot mekaar staan nie omdat hulle verskillende leefstyle en gewoontes het. Heel boaan die lys van netwerke is mense wat dieselfde stokperdjies deel, dan familie, dan kollegas by die werk. Onderaan die lys is diegene wat in dieselfde area woon (bure).

  • Die verbruikersamelewing veroorsaak dat mense hulle identiteit vind in wat hul verbruik. Ons is wat ons koop. Die kernwaarde van die samelewing het van 'vooruitgang' na 'keuse' verander. Die absolute reg van vryheid lê daarin om keuses uit te oefen. Keuses maak die hart van die verbruikersamelewing uit. Die vryheid van keuse gaan nie net oor verbruiksmiddele en lewenstyl nie maar jaag ten diepste ook plesier na. Plesier lê aan die hart van verbruikerisme. Hierdie vryheid van keuse het implikasies vir die kerk soos die kultuur van 'church shopping' en 'church hopping' wat só deel van die kerklike toneel geword het.

  • Voorheen was die Britse kultuur aan hul Christelike identiteit gekoppel. Met die kerk wat kwyn vind daar ook 'n afname in Christelike bewussyn plaas. Niemandt (2007:14) gebruik die term 'Christenheid' en noem dat mense hulleself op dié wyse as Christene op grond van geboorte sien, en nie op grond van eie keuse nie.5

 

Die totstandkoming van die Fresh Expression beweging

Die Fresh Expression beweging het 'n omvangryke beweging geword wat reeds na baie lande versprei het. Tik gerus https://www.freshexpressions.org.uk/ by 'n soekenjin in en jy word weggevoer na tientalle webtuistes wat breedvoerig oor hierdie beweging berig. In Suid-Afrika is daar in Februarie 2016 'n internasionale Fresh Expression konferensie aangebied wat deur entoesiaste dwarsoor die wêreld bygewoon is. In die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) het bykans 125 predikante tydens die 2015 Voortgesette Teologiese Toerustingsgeleenthede (VTT) vir predikante 'n voorsmakie van die Fresh Expression beweging gekry. Tydens die 71ste Algemene Kerkvergadering (AKV) wat gedurende 02-07 Oktober 2016 plaasgevind het, was daar 'n uitgebreide studiestuk oor Fresh Expression in die agenda opgeneem. Enkele gemeentes het reeds aksies geloods wat as 'n tipiese Fresh Expression van kerkwees getipeer kan word (NHKA 2016:636-645).

Die Fresh Expression beweging het nie in 'n eilandsituasie tot stand gekom nie. Wêreldwyd en ook in Brittanje, het verskillende kerke en Christelike groeperinge op verskillende wyses hul beywer om soveel as moontlik mense aan die evangelieboodskap bloot te stel en by 'n geloofsgemeenskap in te skakel.

Moynagh in sy boek met die titel 'Church for every context' (2012), praat van die 'New Contextual Church'. Dit is 'n sambreelterm wat die geboorte en groei van Christelike gemeenskappe beskryf - wat veral mense buite die kerk dien, deel van hulle kultuur word, wat van dissipelskap 'n prioriteit maak en kerke vorm midde-in die konteks waarin hulle dien. Hy (Moynagh 2012:x-xiii) beskryf dan kortliks 4 strome, onder andere die Fresh Expression beweging, wat hulle beywer vir:

Kerkplanting

Hy noem dat kerkplanting 'n lang geskiedenis in Brittanje het. Hierdie strategie het die konsep van 'come' na 'go' evangelisasie geïmpliseer (Moynagh 2012:x). In 1994 is 'n verslag Breaking New Ground, gepubliseer. Hierdie publikasie het oor kerkplanting as 'n missionale strategie gehandel en was 'n eerste vir die Church of England. In 2002 is 'n nuwe werkgroep (Board of Mission) byeengeroep om die oorspronklike verslag (Breaking New Ground) te evalueer. Daar is gevind dat die gemeenskap só verander het dat kerkplanting as aanvullende missionale strategie, soos vervat in Breaking New Ground, nie meer voldoende is nie (Mission Shaped Church 2004:xii).

Die emerging church-gesprek

Hierdie beweging het sy ontstaan in die VSA en is veral op die Gen X en Gen Y generasies gemik. Daar is 3 basiese praktyke wat hierdie kerke kenmerk: identifisering met die lewe van Jesus, die transformasie van sekulêre spasie (eerder as om die heilige en sekulêre van mekaar te skei) en om as gemeenskap te lewe. Alternatiewe wyses van aanbidding word bevorder om kerkvervreemdes terug te wen en in die algemeen bevind hierdie beweging hulself buite hoofstroom denominasies en is daar baie kritiek teenoor hulle.

Fresh Expressions of church

Dit word veral in die 2004 verslag, Mission Shaped Church (voortaan verwys na MSC) beskryf. Sedert die verslag gepubliseer is, is feitlik alle vernuwende inisiatiewe as Fresh Expressions beskryf. Moynagh (2012:xii) rig 'n implisiete waarskuwing dat nie alles wat met vernuwing verband hou, soos byvoorbeeld die herontwerp van 'n kerk se kennisgewingbord, as 'n Fresh Expression inisiatief getipeer kan word nie. Dit is daarom nodig om kennis te neem van die Fresh Expression span se definisie. Hierdie span is in 2006 in die lewe geroep deur die aartsbiskop van die Church of England en die Metodiste Kerk om Fresh Expressions [vars uitdrukkinge] van kerkwees aan te moedig en te ondersteun. Die definisie volgens die amptelike webtuiste van Fresh Expression (verwys hierna na webtuiste as FE) lui soos volg: A Fresh expression is a form of church for our changing culture established primarily for the benefit of people who are not yet members of any church:

  • It will come into being through principles of listening, service, incarnational mission and making disciples.

  • It will have the potential to become a mature expression of church shaped by the gospel and the enduring marks of church and for its cultural context. (FE 2009-15; kyk ook Moynagh 2012:xii; Goodhew et al. 2012:75)

Missionale gemeenskappe

Moynagh (2012:xii) gebruik die term Communities in mission. Dit is waar ware koinonia met 'n missionale leefwyse gekombineer word. Hulle streef vereenvoudigde kerkwees na, wat hoofsaaklik op kleiner huisgemeentes neerkom en radikale kerkwees impliseer. Daar word meer op die relasionele aspek van kerkwees gefokus waarin minimum struktuur gehandhaaf word. Bande met die institusionele kerk is van mindere belang.6

 

Wat is Fresh Expressions?

Naas die definisie van Fresh Expressions of church wat hierbo verskyn, bied die amptelike webtuiste (FE 2009-15) aan die hand van 4 sleutelterme 'n verdere verduideliking aan.

Missionaal7

'Fresh expressions of church are primarily for the unchurched'. Dit is vir diegene wat nooit aan 'n kerk behoort het nie of vir diegene wat opgehou het om kerk toe te gaan en nie bereid is om terug te keer na dit wat hul voorheen ervaar het nie (FE 2009-15). Moynagh (2012:139-143) stel dit dat die kerk 'n gemeenskap in sending (community-in-mission) is naamlik: 'Gathered for worship, scattered for mission'.

Om te bepaal wie die sogenaamde unchurched is, het MSC (2004:36-40) gesteun op die werk van Richter en Francis, Gone but not Forgotten (1998). Hieruit word die volgende kategorieë aangetoon:

  • 10% (regular attenders) woon eredienste op 'n gereelde basis by (ten minste een keer per maand).

  • 10% (occasional attenders) woon eredienste sporadies by.

  • 20% word as ontvanklik maar buitekerklik (open de-churched) beskou.8

  • 20% word as nietoeganklike buitekerklikes (closed de-church) beskou.9

  • 40% is gewoon diegene wat nog nooit eredienste bygewoon het nie (non- or never-churched), behalwe dalk enkele kere waar 'n begrafnis of huweliksdiens bygewoon is.

Dit is belangrik om die verskil tussen de-churched en non-churched te verstaan. Die de-churched het 'n mate van blootstelling aan die kerk en sy boodskap gehad wat gunstige of ongunstige gevoelens by hulle gelaat het. Die non-churched het geen konneksie van enige aard met die kerk nie en verstaan ook nie mooi waaroor alles gaan nie (MSC 2004:39). Mense van ander godsdienstige oortuigings is nie by hierdie persentasie-indeling gereken nie.

Figuur 1 bied met 'n oogopslag 'n samevatting van die verskillende kategorieë.

 

 

In 2007 is die Tearfund-verslag (Goodhew et al. 2012:78) uitgereik waarin bevind is dat die 40% 'kerkvriendelikes' in Brittanje na 32% verminder het. Dreyer (2016:146) noem dat gemeentes internasionaal in verskillende kerklike tradisies besig is om lidmate te verloor. Dit blyk ook dat die Protestantse Kerk die swakste vaar wat bywoning van eredienste betref. Verder noem hy dat Suid-Afrika een van die min lande is waar ongeveer die helfte (56%) van die bevolking eredienste bywoon. Die 56% kan egter vanweë die beginsel van social desirability bias bevraagteken word omdat mense dikwels vraelyste voltooi soos wat hulle dink dit behoort te wees terwyl hul antwoorde nie altyd eerlik is nie. Hy meen dat die 56% mense wat in Suid-Afrika eredienste bywoon eerder nader aan 30% kan wees. Ter wille van die gesprek en ook ter wille van die feit dat die Fresh Expression beweging nog nie die verdeling aangepas het nie, word daar by die 40/60 verdeling gehou.

'n Strategiese probleem

Die 40% segment regs reflekteer dié mense wat deur die kerk bereik word terwyl die 60% aan die linkerhelfte (sien diagram) diegene is wat nie deur die kerk bereik word nie. As ons reken dat die Kerk in die Weste oor die algemeen hierdie 40/60 persent verdeling het, hou dit 'n strategiese uitdaging vir die kerk in. As daar geredeneer word dat 40% van mense deur die kerk bereik word, meen dit dat 60% nie deur die kerk bereik word nie. In die Fresh Expression beweging word daar van Kerk A gepraat wat dié 40% mense as lidmate akkommodeer - dit is nou as die 20% 'open de-church' wel suksesvol ingeskakel word. Die probleem is dat 95% van alle kerke, Kerk A-kerke is - en die Kerk A-kerke bereik slegs 40% mense. Wie bereik dan die 60 persent? Kerk B sou dan die Missionale Kerk wees wat fokus op die 60% wat nie deur Kerk A bereik word nie.

Die beginsel van gemengde ekonomie

Die term 'gemengde ekonomie' (mixed economy) is die eerste keer deur Aartsbiskop Rowan Williams gebruik. Dit verwys na die oorgeërfde tradisionele kerk (Kerk A) en die missionale kerk (Kerk B) wat elkeen 'n status van sy eie het. Die tradisionele kerk word op geen manier bedreig nie - inteendeel, Kerk A baat dikwels by die werksaamhede van Kerk B. Met ander woorde die tradisionele kerk word steeds gekoester terwyl daar ruimte gelaat word vir die missionale kerk om die 60% te bereik wat nie deur die tradisionele kerk bereik word nie. Kerk B is dan missionaal, kontekstueel en inkarnerend (beliggaam). Sonder dat Niemandt (2017:2-3) na Fresh Expressions verwys, bied sy terme 'traders' en 'gatekeepers' 'n aanvullende insig op die begrip 'gemengde ekonomie'. Hy gebruik die metafoor van 'n muur wat grense af forseer en veiligheid verseker, soos byvoorbeeld die muur wat Nehemia en sy volksgenote gebou het, die groot muur in Sjina, die Berlynse muur en 'n muur wat deur groot gedeeltes van Palestina loop om Israeli's en Arabiere van mekaar te skei. Alle mure het egter hekke, deurgange en selfs kontrolepunte soos die bekende Checkpoint Charlie in die tyd van die koue oorlog. In die geval van baie mure wat grense afdwing kry jy hekwagters (gatekeepers) en handelaars (traders). Die hekwagters is meestal simbolies van mag, handhaaf orde en dissipline, is staties, verseker die status quo en hou gewenste inwoners veilig en ongewenste mense buite. Handelaars is diegene wat in die omgewing van die hekke handeldryf en in 'n sekere sin die vloei fasiliteer terwyl hulle in die skadu van die muur leef. Handelaars is aan die voorpunt van verandering, die vroeë innoveerders They find gateways and alleys that can circumvent or break through barriers so that interaction and exchange can happen. Die verhouding tussen hekwagters en handelaars is belangrik. The life and actions of a complex system, such as denominations and universities, are influenced by the relationship between 'traders' and 'gatekeepers' in the system (Niemandt 2017:2).

Die gevestigde kerk neig om institusioneel te wees en is meestal daarop ingestel om die status quo te handhaaf. Daarteenoor sou Fresh Expressions met die handelaars vergelyk kan word wat innoveerders en early adaptors is.

Kontekstueel en inkarnerend

Volgens Moynagh (2012:xvi, 152-153) het die klem op kontekstualisering (die term inkulturasie word ook soms gebruik) by Vatikaan II begin toe teoloë vanaf die Rooms-Katolieke tot evangeliese kerke die belang van kontekstualiserende teologie beklemtoon het. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (NGK) het 'n raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG Kerk op hul Algemene Sinode van 2013 ter tafel geneem. In hierdie dokument word gestel dat 'n missionale kerk altyd haar konteks in ag moet neem en haar bediening voortdurend in die lig van 'n veranderende en dinamiese konteks moet herbedink (NGK 2013:201).

Kok en Niemandt (2009:6) argumenteer dat die kerk eerder inkarnerend moet werk as wat dit op aantreklikheid (attractional) fokus. Jesus se sending op aarde was inklusief en Hy het grense afgebreek en brûe gebou om oop kommunikasie en interaksie te bewerkstellig (Niemandt 2017:4). Niemandt (2017:4-5) noem verder dat daar 'n noue verband tussen inkarnasie en kontekstualisering is. Hy verwys ook na die terme 'deep contextualization' en 'deep incarnation' wat as't ware op 'n intensivering van beide terme neerkom. Diep kontekstualisering poog om die goeie nuus van die evangelie vir elke geleentheid te aktualiseer om sodoende die hele skepping te heroriënteer. Diep inkarnasie wil veel dieper as net 'n antropologiese fokus werk, deur die hele skepping voor oë te hou: God se vleeswording in en deur Jesus impliseer dat Hy met die mees kwesbare wesens inskakel the most high and the very lowest as united in the process of incarnation (Niemandt 2017:4-5).

Daar is drie benaderings wat in die Fresh Expression beweging gevolg word om die 60% onbereikte mense in hul konteks te probeer betrek (Moynagh 2012:xvii):

1. Kom (attractional). Die tradisionele kerk wend allerlei pogings aan om nie-kerk mense te bereik en by die plaaslike gemeente in te skakel. In wese is dit uitnodigend - kom na ons toe!

2. Gaan, en kom dan (engaged). Dit beteken dat daar vanuit die kerk gegaan word om 'n bepaalde konteks binne te dring en dan die uitnodiging te rig om na ons toe te kom.

3. Gaan en bly (emerging). 'n Geloofsgemeenskap word gevestig wat dan in 'n bepaalde konteks in stand gehou word. Die betrokke geloofsgemeenskap raak nooit direk deel van die gevestigde kerk nie.

Daar word soms in die wandelgange die vrees uitgespreek dat Fresh Expressions tot independentisme kan aanleiding gee, veral as dit by die gaan en bly (emerging) benadering kom. Daar kan seker geen waarborge gelewer word dat dit nie sal gebeur nie hoewel daar geredeneer kan word dat waar die fokus op die 60% val, dit ieder geval diegene is wat nie 'n affiniteit vir die gevestigde kerk het nie. Daar kan natuurlik altyd gepoog word om 'n band met die gevestigde kerk te handhaaf wat betref die verskaffing van hulpbronne soos studiemateriaal, Bybelstudies, kategesehandleidings, hulp met die bediening van sakramente, ens. Kerk A-kerke kan voortdurend op 'n niebedreigende manier met Kerk B-kerke bemoeienis maak en ondersteuning bied wat bogenoemde en nog meer betref.

Vormend (Formational)

Die Fresh Expression beweging gaan vormend te werk. Dissipels word gevorm, leiers word gevorm en gemeenskappe word gevorm (Goodhew et al. 2012:93). Hoewel Moynagh (2012:333-336) nie die woord formational soos Goodhew et al. gebruik nie, vermeld hy onder dissipelskap twee basiese benaderings tot die vorming van dissipels, naamlik 'n worship-first journey of 'n serving-first journey. Figuur 2 is 'n voorbeeld van die serving-first journey.

Die tradisionele benadering in die verlede was dié van belief-behave-belong. 'n Mens het op een of ander wyse tot geloof gekom (belief) en is in 'n plaaslike gemeente se kategeseprogram opgeneem (behave). Naas die grondliggende geloofswaarhede is die Christelike lewenswyse aan die katkisant voorgehou. Eers na belydenisaflegging word die behoort (belong) volkome wanneer die nuwe lidmaat se besonderhede in die lidmaatregister ingeskryf word (kyk Butler 2012, hoofstukke 3-6; NHKA 2016:642).

Butler (2012, hoofstuk 7) beskryf die omgekeerde van bogenoemde volgorde naamlik belong-behave-belief. Die serving-first journey benadering volg die ritme van belong-behave-belief, veral waar daar op die emerging manier te werk gegaan word. 'n Bepaalde konteks word binnegedring en 'n gemeenskap van potensiële gelowiges word op 'n innoverende manier byeengebring (kyk Moynagh 2012:334-335). Die vreugde van 'behoort' word ervaar terwyl die Christelike lewenswaardes voorgeleef word. In die proses vind geloofsdeling plaas en kom mense tot geloof. Hierdie benadering is meer indirek en nie-bedreigend van aard as die tradisionele draai-of-braai benadering wat soms gevolg is.

Al biddende word enige uitreik of aksie benader en aangepak. Die Here is lank reeds aan die werk en sy wil moet onderskei word. Enige aksie wat in eie wil en eie krag aangepak word, loop gevaar om doodgebore te wees (NHKA 2016:642).

Luister en gehoorsaam wees is sekerlik die moeilikste dinge vir die moderne prestasiegedrewe mens om te doen. Ons benader so graag enige situasie met ons vooropgestelde idees en volg dit op met 'n hele reeks oplossings wat ons implementeer. Meer dikwels kom ons bedroë daarvan af omdat dit nie die werklike behoeftes was wat ons in 'n bepaalde konteks aangespreek het nie. 'n Klassieke voorbeeld is 'n bepaalde geloofsgemeenskap wat êrens in die wêreld besluit het om in 'n informele nedersetting krane aan te lê wat in hul watervoorsieningbehoeftes sou voldoen. Nadat dit gedoen is, is gevind dat daar nie heeltemal die dankbaarheid was wat hul voorsien het nie. By navrae blyk dit toe dat daar 'n meer akute behoefte was naamlik, 'n behoefte aan spoedhobbels. Dit blyk toe dat spelende kinders gereeld deur motoriste raakgery word en dat die gemeenskap al raadop met die probleem was (NHKA 2016:642).

Daar is reeds na kontekstualisering en inkarnering verwys. 'n Bepaalde konteks word luisterend (op 'n kontekstualiserende en inkarnerende wyse) binnegedring. Hierdie proses kan selfs etlike maande duur. Daar word na plaaslike koerante gekyk om op hoogte te kom met gebeure en behoeftes. Daar kan onderhoude met belangrike rolspelers gevoer word. Daar kan informeel met mense in verskillende situasies gesels word. Geleidelik vorm 'n prentjie van wat die grootste behoeftes in 'n bepaalde konteks is. Davies (2015) beskryf hoe Barbara Glasson, 'n pastor in die Metodiste Kerk gesetel in die middestad van Liverpool, op 'n dag ingeroep is om te hoor dat die kerkgebou waar sy gesetel is, verkoop gaan word. So het sy 'n pastor sonder 'n gebou en sonder 'n gemeente geword. Sy het vir twee jaar lank die strate van Liverpool bewandel en haar op observasie en werklike luister toegespits.

Commuting into the city from her suburban home, for two years Barbara spent each day walking the streets getting to know the homeless people, sitting in coffee shops getting to know the office workers there on their breaks, popping into the university refectories to get alongside students and staff, spending not money, but time with people in the city centre shops, chatting with taxi drivers waiting at their ranks. (Davies 2015)

Op 'n dag het die woord 'brood' haar te binne geskiet en die uiteinde was The Bread Church (wat eintlik Somewhere Else geheet het), 'n informele bakkery wat deur vrywillige straatmense (die mense wat sy die vorige twee jare op die straat leer ken het) bedryf is.

Daar is brode met verskillende bedoelinge gebak. 'n Derde van die brode is vir werklike behoeftiges gebak en uitgedeel, 'n derde is verkoop om die bedryfskoste te dek en nog 'n derde het in dié betrokke geloofsgemeenskap se eie behoeftes voorsien. Saam met die een keer 'n week se broodbak het daar 'n lewende geloofsgemeenskap ontstaan wat op verskillende tye gedurende die week byeengekom het (NHKA 2016:642).

Dit mag wees dat 'n betrokke hoorder met die beste bedoelings na 'n konteks luister en uiteindelik 'n behoefte ontdek maar dit te vergesog vind om verder te ontgin. Dit is hier waar gehoorsaamheid inskop. Luister sonder gehoorsame aksie lei tot niks en was 'n futiele poging (NHKA 2016:642).

Liefdevolle diens volg op gehoorsame luister. Soos reeds vermeld, is die vertrekpunt by die serving-first journey liefdevolle diens en nie aanbiddingsgeleenthede nie (Moynagh 2012:208). In 'n kusdorpie in Cornwall het sewe oorblywende lede van 'n kerkie tevergeefs probeer om jong branderplankryers na hul eredienste te lok. Niks wou werk nie. Uiteindelik besluit hulle om by die jongmense te hoor wat hulle behoeftes behels. Die antwoord was nou nie juis geestelik van aard nie. Hulle wou graag na die branderplankry stort, koffie drink en 'n plek hê om oor branderplankry te gesels. Die paar lidmate het stortgeriewe by hulle kerkgebou aangebring, kuiergeriewe ingerig en koffie en verversings bedien. Kort daarna het 'n versoek vir Bybelstudie gekom, waaraan voldoen is. Die res is geskiedenis. Deesdae word daar van Tubestation (www.tubestation.org) gepraat waar daar verskeie dienste in piekseisoen gehou word. Die model word tans na ander kusgebiede in Noord-Cornwall uitgebrei (Goodhew et al. 2012:83).

'n Gemeenskap kry gestalte waar liefdevolle diens verrig word. Soms het 'n gemeenskap reeds gestalte gekry vanweë 'n gesamentlike belangstelling soos byvoorbeeld 'n stokperdjie wat saam beoefen word of waar ouers by hulle kinders se skoolaktiwiteite betrokke is. Die Wesley Playhouse (www.freshexpressions.org.uk/stories/playhouse) in Howden Clough (Goodhew et al. 2012:83) bied 'n goeie voorbeeld van waar liefdevolle diens en gesinne se belange 'n suksesvolle sinergie gevorm het. Voor hul playhouse-dae was daar 'n skamele tien mense wat gereeld die eredienste bygewoon het. Hulle het onder die leiding van 'n pionier besluit om hulle oorblywende fondse te gebruik om die kerkgebou in 'n playhouse te omskep omdat daar 'n groot behoefte daaraan in die gemeenskap was. Binne slegs vier jaar na die ingebruikneming het meer as 53 000 mense deur die deure van hierdie kerkgebou gestap. Eredienste is toenemend beter bygewoon waar ouers en kinders op klein stoeltjies en die apparaat van die playhouse saam met hul kinders gesit en kerkhou het. Sakramente is deur geordende kerkleiers in 'n anders-as-die-gewone kerkgebou bedien. Die handjievol lidmate het uit die staanspoor diens gelewer en tans word daar aan 'n tweede playhouse in die noorde van Engeland gewerk (Goodhew et al. 2012:83).

Evangelisasie en dissipelskap is onlosmaaklik aan mekaar verbind. In die serving-first journey is die benadering tot evangelisasie dié van belonging-believing-behaving. Soos wat individue 'n groeiende ervaring het dat hulle behoort, raak evangelisasiemerkers soos liefdevolle diens wat vrae oor Jesus ontlok, getuienislewering, Bybelstudies en missionale eredienste minder bedreigend. Om te behoort (belonging) kan op hierdie wyse tot geloof (belief) lei wat weer tot verandering in gedrag (behave) lei, soos wat die gemeenskap van geloof (kerk) vorm aanneem (Moynagh 2012:335).

Die volgorde behaving-belonging-believing bied ook moontlikhede. Die gemeente Essence in Histon naby Cambridge voorsien op Woensdae-oggende 'n crèche vir jong moeders. Met die kinders eenkant versorg, word daar koffie en verversings aan die moeders voorsien terwyl 'n kort Bybelse boodskap gelewer word. Die jong ma's kry geleentheid om te vertel hoe hulle eie lewe met die Bybelse vertelling verband hou. Na nog 'n rondte verversings kry hulle geleentheid om na 'n quiet space (stilte is gewoonlik 'n luukse vir jong ma's) op die tweede verdieping te gaan. Teen alle verwagtinge lewer die stiltyd goeie resultate deurdat baie van hulle diep geraak word. 'Fruitful connections are being made between people's immanent lives and the transcendent' (Moynagh 2012:335).

Wanneer vars uitdrukkinge van kerkwees (kerke/gemeentes in spesifieke konteks) in die lewe geroep word, moet daar altyd die intensie wees dat geloofsgemeenskappe tot groter geestelike volwassenheid begelei word. Daar moet altyd gewaak word teen numeriese groei ten koste van geestelike diepte (Moynagh 2012:329-330).

Ontwikkeling van aanbidding het dalk, veral by die gaan- en bly daar (emerging) benadering 'n eiesoortige styl wat deur die unieke konteks bepaal word. Onthou dit is dié geloofsgemeenskap wat na alle waarskynlikheid geen behoefte het om direk by die gevestigde kerk betrokke te raak nie. 'n Voorbeeld van só 'n eiesoortige aanbiddingstyl is die Street Church in Northampton wat ongeveer 90 hawelose mense weekliks in 'n aanbiddingsgeleentheid bymekaarkry. Dit vind op 'n weeksdag plaas vanaf 13:30 tot 15:00. Die interessante is dat lidmate van verskeie denominasies die hawelose mense vanoor die hele stad na die betrokke byeenkoms toe aanry (Goodhew et al. 2012:81). Behalwe die feit dat hierdie geleentheid op 'n gewone weeksdag en nie op 'n Sondag plaasvind nie, is die eiesoortigheid van die aanbiddingsgeleentheid vanselfsprekend.

Kerklik (Ecclesial)

Volgens die amptelike webtuiste van die Fresh Expression beweging is Fresh Expressions 'n kerkplantingsaksie of 'n nuwe gemeente. Dit is nie 'n nuwe manier om mense te bereik of om hul aan 'n bestaande gemeente te koppel nie:

It is not an old outreach with a new name ('rebranded' or 'freshened up'). Nor is it a half-way house, a bridge project, which people belong to for a while, on their way into Christian faith, before crossing over to 'proper' church. This is proper church! (FE 2009-15)

Daar is ook nie 'n standaard model van 'n Fresh Expression kerk wat gekloon kan word nie. Die hele proses wat onder die punt 'Vormend' behandel is, is ter sprake waar daar by luister begin word en by 'n vorm van aanbidding geëindig word. Dit beteken ook nie dat 'n kerk geplant word met 'n bepaalde voorkeur aanbiddingstyl van die kerkplanters wat hoop dat ander mense daarvan sal hou nie. 'Listening comes first, decisions about worship styles last.' Dit neem ook tyd vir 'n Fresh Expression kerk om wasdom te bereik. 'But maturity will not mean they become like the churches which planted them. They must remain relevant to their cultural context.'

Die volgende aanhaling bied verdere insig in die filosofie wat agter die Fresh Expression beweging lê:

No one local church can fully express Christ and his gospel. Each needs to be related to others, which have different gifts or contexts. In particular the fresh expressions of church are not meant to replace existing forms of church, and they are certainly not in competition with them. We use the expression 'the mixed economy church' as a way of saying that the one economy of God's church need both our inherited approaches and fresh ones. (FE 2009-2015)

 

Fresh Expressions en die Hervormde Kerk

Soos reeds genoem, het die Fresh Expression beweging reeds in Suid-Afrika grondgevat. Die eerste twee kursusse is gedurende Maart en April 2013 in Kaapstad en in George geloods (Crowther 2014:11). Hierdie kursus strek oor 10 geleenthede waarin 25 modules behandel word. Drs. André Ungerer, Frikkie Labuschagne en ds. C.J. van Wyk het die kursus in 2015 en 2016 voltooi en al drie het ook 'n opleierskursus (Train the Trainer) voltooi en is tans deel van 'n span aanbieders in Pretoria en Johannesburg.

Die vraag is in welke mate die beginsels van Fresh Expressions die Hervormde Kerk tot hulp kan wees - veral as die fokus op die 60% onbereikte mense gerig word. Natuurlikerwys sal die fokus veral by die kom- (attractional) en gaan, en kom dan (engaged) benadering lê. Die talle innoverende voorbeelde wat die Fresh Expression beweging aanbied, is die moeite werd om te ondersoek. Maar dit is dalk nodig om die gaan, en bly daar (emerging) benadering te ondersoek wat op die vestiging van geloofsgemeenskappe buite die gemeente neerkom. Dit is hier waar die siening van Hirsch ernstig geneem moet word:

All great missionary movements begin at the fringes of the church, among the poor and the marginalized, and seldom, if ever, at the center. It seems that when the church engages at the fringes, it almost always brings life to the center. (Hirsch 2006:30)

Gemeentes van die NHKA kan dalk huiwerig wees om by gemarginaliseerdes betrokke te raak. Die vraag kan dalk gevra word of diesulke betrokkenheid enige voordeel vir die gemeente inhou. Behalwe dat so 'n vraag getuig van 'n gebrek aan missionale insig en tekenend is van die na-binne gerigte instandhoudingsmodus waarin gemeentes vasgevang is, lewer betrokkenheid by randfigure tog die dividend van 'n lewegewende energie inspuiting in die gemeente. Dit bring lewe na die sentrum toe. Gemeentes kan dalk ook put uit die kennis en ervaring van organisasies soos MES in Johannesburg (en elders), PEN in Pretoria en Vision of Hope in Rustenburg en Polokwane (NHKA 2016:644).

 

Kriteria waaraan Fresh Expressions in die Hervormde Kerk gemeet kan word

Wanneer is 'n Fresh Expression gemeenskap 'proper church' en wanneer is dit bloot 'n missionêre aksie? Die volgende kriteria ten opsigte van die Suid-Afrikaanse konteks kan moontlik rigtinggewend wees.

Missionaal versus missioner

Daar is 'n definitiewe onderskeid tussen die terme missionaal en missionêr (kyk Hancke (2005:26), Van der Merwe (2009:1) en Ungerer en Nel (2011:4)). Missionaal dui op 'n denk- en bestaanswyse waar die apostolaat 'n integrale deel van 'n gemeente uitmaak. Dit dui allereers op 'n interne saak wat ten diepste met die spiritualiteit van lidmate en die gemeente te doen het, maar tweedens ook uitmond in diensbaarheid in die wêreld. Met die term missionaal word gehoop dat daar iets van 'n hartsverandering by lidmate sal plaasvind van 'hoe maak ons 'n verskil met wat ons is waar ons is.' Dreyer (2016:169-170) meen dat missionale kerkwees nie in die eerste plek om aktiwiteite en programme draai nie, maar eerder 'n bepaalde ingesteldheid of manier van dink oor kerkwees verteenwoordig. Dit gaan ten diepste oor identiteit en die vraag oor wie ons as die kerk van Christus is. Wie ons is, bepaal wat ons doen. Dit gaan dus oor wat die gemeente is, eerder as wat die gemeente doen (Dreyer 2016:169). Missionêr dui op 'n eksterne gerigtheid, waar die fokus val op projekte of sending- en evangelisasiewerk wat elders gedoen word. Barmhartigheidsprojekte soos 'n sopkombuis en die uitdeel van noodsaaklike middele kan as missionêre aksies getipeer word.

Die wese van 'n Fresh Expression geloofsgemeenskap sal primêr die produk van missionale denke wees. Missionêre aksies kan dalk iewers in die begin van die Fresh Expression proses 'n rol speel. Wanneer dit bloot by barmhartigheidsdiens bly en nie ontwikkel in 'n geloofsgemeenskap met 'n eiesoortige wyse van aanbidding nie, kan dit nie as 'n Fresh Expression geloofsgemeenskap/gemeente geklassifiseer word nie.

Die beginsels van gemengde ekonomie

Is die beginsels van gemengde ekonomie (mixed economy) soos Rowan Williams dit gemunt het, onderskeibaar? Kan Kerk A (oorgeërfde tradisionele kerk) van Kerk B (missionale kerk) onderskei word waar 'n Fresh Expression gemeente ontstaan het. Bestaan daar 'n wisselwerking tussen Kerk A en Kerk B (hekwagters versus handelaars)?

Was daar 'n serving-first journey benadering van belong-behave-belief?

Hoewel hierdie sekerlik nie 'n Alfa en Omega-beginsel hoef te wees nie, bied dit tog 'n aanduiding van die uitgangspunte wat gevolg is in die totstandkoming van 'n Fresh Expression geloofsgemeenskap. Was die fases van luister en gehoorsaamheid, liefdevolle diens, 'n gemeenskap wat begin gestalte kry, evangelisasie en dissipelskap en die uiteindelike ontwikkeling van 'n aanbiddingstyl in die proses te onderskei? Laasgenoemde proses word onderskei van 'n aksie vanuit Kerk A waarin vooropgestelde idees op 'n konteks afgedwing word net om die belange van Kerk A te bevorder. Hoewel kerkplanting die wese van Fresh Expressions uitmaak, mag dit nie daaroor gaan om Kerk A net klakkeloos te dupliseer nie. Dit is daarom dat die eerste fase van luister en gehoorsaamheid van kardinale belang is. Dit wat 'n pionier, met die nodige gawe van onderskeiding en onder leiding van die Heilige Gees, luisterend en gehoorsaam in 'n bepaalde konteks begin waarneem, mag dalk hemelsbreed van Kerk A se vooropgestelde opvattings verskil.

Is die Fresh Expression geloofsgemeenskap uitnodigend (inviting), aanvaardend (accepting) en word mense uitgedaag (challenging)?

Nell en Grobler (2014:751-752) reflekteer oor drie Fresh Expressions in Brittanje wat Grobler in 2013 besoek het aan die hand van die volgende vraag: Wat is daar vanuit 'n prakties-teologies perspektief te leer uit die Fresh Expression beweging betreffende toepaslike vorme van Christelike byeenkomste en aanbidding in 'n post-denominasionele en Christelike konteks? Die kerke wat besoek is, is Springfield Church in Wallington, Re: Generation in Gidea Park wat die outcasts en down-and-outs van die gemeenskap bedien en Moot in Londen wat hulself as 'n 'new monastic community' beskou. Die drie kriteria waaraan die kerke se byeenkomste gemeet is, was of dit uitnodigend (inviting), aanvaardend (accepting) en uitdagend (challenging) van aard was (Nell & Grobler 2014:753-759). Die kriteria 'uitnodigend' en 'aanvaardend' verg nie veel verduideliking nie. By 'uitdagend van aard' gaan dit oor die gehoorsame bereidwilligheid om Jesus te volg, waarheen dit ook al sou lei. Dieselfde uitdaging geld ook wanneer mense hulself definitief tot een van die kerke verbind en of hulle hulself tot die proses van dissipellering sal verbind.

In 'n sekere sin geld bogenoemde kriteria ook vir alle Kerk A-kerke, maar soos elders vermeld, het Kerk A 'n probleem met dalende lidmaatgetalle. Dit sou goed wees om Fresh Expression geloofsgemeenskappe by uitstek hieraan te meet omdat dit 'n aanduiding sal wees in welke mate Kerk B-kerke, veral ook in Suid-Afrika, missionaal suksesvol is.

 

Voorbeelde van Fresh Expressions in die Hervormde Kerk

Daar is nie naasteby soveel Suid-Afrikaanse voorbeelde soos in Brittanje en ander lande nie, daarvan getuig talle skriftelike insetsels en videogrepe op internasionale webbladsye. In Suid-Afrika is 'n DVD in 2016 vervaardig waarin voorbeelde van Fresh-Expression geloofsgemeenskappe uitgebeeld word. In die Hervormde Kerk is daar enkele voorbeelde wat as Fresh Expression geloofsgemeenskappe sou kon dien. Die een is die Lantern-gemeente in Klerksdorp wat deur Ungerer (2016) beskryf is en dan die geloofsgemeenskap wat deur ouderling Gert Oosthuizen in Ruyterwacht (kyk NHKA 2016:645) gevestig is. Die verhaal van die Lantern-gemeente lui soos volg:

Die Lantern-gemeente

In die Hervormde gemeente Klerksdorp Doringkruin is daar 'n lidmaat, Nico Botha, wat 'n aantal jare gelede uitgenooi is om saam met 'n klomp manne sendingwerk in Indië te gaan doen. Vir hom het dit nie sin gemaak om in die vreemde te gaan sendingwerk doen terwyl 'n stad soos Klerksdorp soveel sendingpotensiaal bied nie. In sy woorde: 'Toe stap ek maar oor die straat en begin 'n bediening by die Lantern-hotel.' Die Lantern (soos algemeen bekend in Klerksdorp) bied laekostebehuising aan minder gegoede mense van alle agtergronde. Daar is baie misdaad, dwelmmisbruik en prostitusie in daardie area. Sy bediening by die Lantern sluit multikulturele 'eredienste' in op Woensdagaande, algemene hulpverlening en 'n bediening onder die prostitute. Daar vind ook spesifieke kinderbediening tydens die erediens plaas, en na afloop van die erediens word daar altyd saam geëet. Die gemeente staan hom op 'n beperkte skaal by deur middel van fondse wat gegee word en 'n kleingroep wat hulp verleen.

Die Lantern-gemeente beskou hulleself as 'n gemeente met Nico as hulle dominee. Daar het ook betroubare leiers uit eie geledere na vore gekom wat hom in die bediening bystaan. Die Lantern-gemeente voel hulle is tuis waar hulle is en Doringkruin-gemeente is vir hulle net 'n naam. Die enigste verbintenis tussen die twee gemeentes is Nico Botha, hulle bewus wees van mekaar, sporadiese stoflike hulpverlening en die betrokkenheid van 'n kleingroep. Uiteraard kan daar groter skakeling plaasvind, hoewel die verskille tussen die twee kontekste spontane oor en weer besoeke inhibeer (Ungerer 2016:9).

Die kriteria toegepas op die Lantern-gemeente

Die ontstaan van die Lantern-gemeente het vanuit 'n missionale perspektief plaasgevind. In 'n persoonlike gesprek met Nico Botha het dit geblyk dat 'n bepaalde gebeurtenis die Lantern-bediening voorafgegaan het. Dit was naamlik toe hy 'n vrou in 'n rolstoel gehelp het om in haar motor te kom. Daarna het hy haar na die Lantern Hotel vergesel waar daar verskeie gesprekke, toe en daarna plaasgevind het. Uit hierdie gesprekke het dit geblyk dat daar 'n behoefte aan Bybelstudie was. Hierdie behoefte was skynbaar ook by enkele ander inwoners aanwesig. Daar het toe Bybelstudie op 'n weeklikse basis plaasgevind wat later na multikulturele byeenkomste uitgebrei is.

Die beginsel van gemengde ekonomie is duidelik sigbaar. Met die uitsondering van beperkte skakeling, is daar 'n duidelike afstand tussen die Lantern-gemeente (Kerk B) en die NHKA gemeente Doringkruin (Kerk B). Dit blyk ook dat elk 'n duidelike onderskeibare identiteit het.

Die serving-first journey en die benadering van belong-behave-belief is ook redelik te bespeur. Daar is luisterend en gehoorsaam opgetree, daar het liefdevolle diens plaasgevind, 'n gemeenskap het gestalte gekry, evangelisasie en dissipellering het beslag gekry en uiteindelik het eiesoortige aanbidding vorm aangeneem. Met die uitsondering van die aanvanklike gesprekke met die vrou in die rolstoel (sy en enkele rolspelers in die begin) was daar tog in die verdere ontwikkeling duidelik sprake van die belong-behave-belief proses. Die enkele besoeke wat ek aan die Lantern-gemeente (2013-2014) afgelê het, bevestig hierdie waarneming.

In die besoeke aan Lantern-gemeente afgelê was daar duidelike bewyse van voortdurende uitnodigings aan al die inwoners asook byvoorbeeld dwelmafhanklikes en prostitute. Daar was 'n besliste aanvaarding van enigeen wat die byeenkomste begin bywoon het - my gesprek met 'n gerehabiliteerde dwelmafhanklike wat voorheen ook 'n prostituut was, bevestig dit. Tydens die 'eredienste' op Woensdagaande is almal uitgedaag tot dissipelskap. Vir diegene wat in een of ander greep van afhanklikheid verkeer het, was die oproep veral akuut.

Die Ruyterwacht Senior Sentrum

Ouderling Gert Oosthuizen met die bynaam van 'Gert-groente' vertel soos volg:

Ongeveer 10 jaar gelede het Ds. Ettienne Verhage my na De Waveren Laerskool toe gestuur omdat die skoolhoof het 'n vrieskas nodig gehad het. Binne 'n week het die Bellville Hervormers die nodige kontant geskenk waarmee ek die vrieskas aangekoop en afgelewer het. Mnr Gert van Tonder, die skoolhoof het my toe na die Ruyterwacht Senior Sentrum verwys wat op daardie stadium naby Hoërskool Florida gesetel was - dit is mense wat swaar kry! Ek is toe soontoe (was gepensioeneerd) om te gaan sien wat aangaan, hoe dit werk en of dit die moeite werd was om betrokke te raak. Omdat hulle ooglopend bitter swaar geleef het, het ek ons Kerkkantoor genader om hulp! Die Sinodale Kerkkantoor het toe fondse geskenk vir 'n paar maande waarmee ek vars groente en vrugte by die Epping mark gaan aankoop het. Ons het in sinvolle pakkies opgemaak wat ek weekliks volgens 'n kontrolelys uitgedeel het. Ek het besef dat ek die groente en vrugte kan opmaak in R5 pakkies om aan die behoeftiges te verkoop. My aankope tot op hede strek al vêr oor R1 miljoen rand. Ek het toe ook begin met baie basiese kruideniersware soos melk, koffie, suiker, sout, rys, kookolie ensovoorts wat ek by 'n groothandelaar aankoop om dit dan teen basies kosprys beskikbaar stel.

Die sentrum volg die Badisa program wat nou al vir 28 jaar bestaan en is die mees suksesvolle program waaroor hulle beskik. Ons het 300 lede, waarvan so ongeveer 265 dames is. Die res is 'n paar manne wat 60 jaar en ouer moet wees om lid te wees. Ons het ook kleurlinglede en dit maak absoluut geen verskil aan die onderlinge verbintenisse nie. Ons het elke Dinsdag en Donderdag 'n sentrumdag in die skoolsaal met ongeveer 240 mense wat die dag saam deurbring. Diegene wat nie kan kom nie is sogenaamde 'tuislede' wat te oud en sieklik is om by uit te kom. Ons het twee bussies wat die lede aanry vanuit die omliggende areas. Met hul aankoms kry hulle pap vir ontbyt asook 'n gesubsidieerde middagete met koffie en tee. Daar is godsdiensoefeninge tydens elke sentrumdag met verskillende predikante wat uithelp. Ds. Kathleen Smith van Kaapstad (my predikant) is een keer per maand daar, so ook NGK predikante, of bestuurslede wat self die godsdiensoefening lei.10 (Oosthuizen 2017)

Kriteria toegepas op Ruyterwacht

Uit die korrespondensie blyk dit dat hierdie inisiatief vanuit 'n missionêre betrokkenheid gegroei het. 'n Mens sou wel kon redeneer dat daar tans 'n missionale dimensie bestaan maar daar heers myns insiens onsekerheid of daar van 'n gemengde ekonomie van kerkwees sprake is. Daar is wel verskillende predikante (en ander) wat eredienste op Dinsdae en Donderdae lei. Wat die serving-first-journey en die benadering belong-behave-belief betref, is dit nie so duidelik soos by die Lantern-gemeente aan te dui nie. Daar is aanvanklik ook nie so direk-luisterend opgetree nie hoewel daar definitiewe gehoorsaamheid was wat tot aksie gelei het. Daar het wel liefdevolle diens plaasgevind en 'n gemeenskap wat gestalte gekry het. Waarskynlik het daar evangelisasie deur middel van die eredienste en persoonlike gesprekke plaasgevind. Oor definitiewe dissipellering heers daar onsekerheid. Daar het wel 'n eiesoortige styl van aanbidding ontwikkel. Na alle waarskynlikheid was daar by sommige van die lede 'n belong-behave-belief geloofsproses gewees.

 

'n Nuwe manier van kerkwees?

Soos blyk uit die studie het ruim 125 predikante in die NHKA blootstelling aan die basiese uitgangspunte van Fresh Expressions gehad. Die agenda van die 71ste AKV wat in Oktober 2017 plaasgevind het, het ook 'n goeie onderbou gebied. Hoeveel van die beginsels in die NHKA neerslag gevind het, is vanweë die Kerk se kort blootstelling aan Fresh Expressions, moeilik om vas te stel. Daar het vanjaar ongeveer 6 predikante uit die NHKA vir die Fresh Expression ingeskryf en daar word tans vertaalwerk aan 'n kursus vir gemeentes gedoen wat oor 6 geleenthede strek. Alles in ag genome kan die volgende punte as uitkomste van die studie dien:

  • Insigte uit die Fresh Expression beweging bied opwindende moontlikhede om veral die 60% mense te bereik wat neutraal of selfs antagonisties teenoor die oorgeërfde tradisionele kerk staan.

  • Die beginsel van 'n gemengde ekonomie hoef nie die oorgeërfde tradisionele kerk te bedreig nie. 'n Gesonde wisselwerking tussen Kerk A en Kerk B kan help om oordrewe independentisme teen te werk.

  • Die Fresh Expression proses van 'n serving-first journey mag vir die Hervormde Kerk aanvanklik vreemd op die oor val maar bied stof tot nadenke en breek nuwe moontlikhede oop om kerkvervreemdes te bereik.

  • Die Hervormde Kerk sal waarskynlik meer gemaklik met 'n kom (attractional) en 'n gaan, en kom dan (engage) benadering wees. Die Lantern-bediening en die bediening by Ruyterwacht as voorbeelde van gaan, en bly daar (emerging) is in die absolute minderheid en daar is meer sulke suksesverhale nodig om die emerging benadering as beduidende rolspeler in die Kerk te eien.

  • Dit is veral die Lantern-bediening wat aan die kriteria van 'n Fresh Expression gemeente voldoen het. Hierdie kriteria kan dien om nuwe Fresh Expressions in die toekoms aan te meet.

  • Breedweg beskou kan die beginsels van Fresh Expressions op 'n werkbare wyse in gemeentes van die Hervormde Kerk van toepassing gemaak word. Dit kan veral realiseer wanneer daar minder gemeente-sentries te werk gegaan word en daar 'n groter missionale dimensie openbaar word. Gemeentes sal ook bereid moet wees om, soos vroeër na verwys, minder van 'n hekwagter-mentaliteit te koester en meer soos die handelaars te wees wat grense deurbreek en innoverend te werk gaan.

Die vestiging van Fresh Expression geloofsgemeenskappe mag waarskynlik in die korttermyn nie direkte voordeel vir NHKA-gemeentes inhou nie hoewel missionale gerigtheid en gepaardgaande geloofsgemeenskappe wat gevorm word, dividende met ongekende vreugde kan oplewer. Deur by die randakker van die Kerk se normale verwysingsraamwerk betrokke te raak, kan daar energie na die sentrum van die NHKA stroom wat goeie gevolge vir Koninkryk en Kerk mag inhou.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiele of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beinvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Barna, G., 2005, Revolution. Worn out on church? Finding vibrant faith beyond the walls of the sanctuary, Christian Art Publishers, Vereeniging.         [ Links ]

Church of England, 1994, Breaking New Ground: Church planting in die Church of England, Church House Publishing, Westminster, London.         [ Links ]

Butler, B.D., 2012, Christianity after religion. The end of church and the birth of a new spiritual awakening, [Kindle] Harper Collins Publishers, New York.         [ Links ]

Cole, N., 2005, Organic church. Growing faith where life happens, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

Croft, S., Dalpra, C. & Lings, G., 2006, Starting a fresh expressions, fresh expressions, Church House Publishing, Westminster, London.         [ Links ]

Crowther, G., 2014, The story of church reshaping, Fresh Expressions SA, Communitas, Kaapstad.         [ Links ]

Davies, J., 2015, The bread of life 1: Barbara uses her loaf, viewed 20 March 2017, from http://johndavies.typepad.com/blog/the-bread-of-life-barbara-uses-her-loaf.html        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2016a, 'Praktiese ekklesiologie - Kerkwees in die 21ste eeu', HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 72(5 Suppl 10), a4376. https://doi.org/10.4102/hts.v72i5.4376        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2016b, 'Historiese perspektief op kerkwees', in 'Praktiese ekklesiologie - Kerkwees in die 21ste eeu', HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 72(5 Suppl 10), a4378. https://doi.org/10.4102/hts.v72i5.4378        [ Links ]

Dreyer, W.A., 2016c, 'Empiriese perspektief op kerkwees', in 'Praktiese ekklesiologie - Kerkwees in die 21ste eeu', HTS Teologiese Studies/Theological Studies, 72(5 Suppl 10), a4379. https://doi.org/10.4102/hts.v72i5.4379        [ Links ]

Field, C.D., 2017, British Religion in numbers, February 2017, viewed 20 March 2017, from http://www.brin.ac.uk/2017/counting-religion-in-britain-february-2017/        [ Links ]

Fresh Expressions, 2017, What is a Fresh Expression? viewed 06 January 2017, from http://www.freshexpressions.org.uk/about/whatis        [ Links ]

Goodhew, D., Roberts, A. & Volland, M., 2012, Fresh! An introduction to Fresh Expressions of Church and pioneer ministry, SCM Press, London.         [ Links ]

Hancke, F.J., 2005, Factors influencing comprehensive personal witness and enlarging missional involvement in the local church, PhD, University of the Free State.         [ Links ]

Hirsch, A., 2006, Forgotten ways. Reactivating the Missional Church, Brazos, Grand Rapids, MI.         [ Links ]

Hirsch, A. & Cathim T., 2012, The permanent revolution, Jossey-Bass, San Francisco, CA.         [ Links ]

Kok, J. & Niemandt, C.J.P., 2009, '(Re) Discovering a missional-incarnational Ethos', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 65(1), Art. #274. https://doi.org/10.4102/hts.v65i1.274        [ Links ]

Mission Shaped Church, 2004, Church planting and Fresh Expressions of Church in a changing context, Church House Publishing, London.         [ Links ]

Moynagh, M., 2012, Church for every context, SCM Press, London.         [ Links ]

Nell, I. & Grobler, R., 2014, 'An exploration of fresh expressions as missional church: Some practical-theological perspectives', NGTT is Now Stellenbosch Theological Journal (STJ) 55(3-4 Suppl l), viewed 18 February 2017, from http://ngtt.journals.ac.za/pub/article/view/663/679        [ Links ]

NGK, 2013, Raamwerkdokument oor die missionale aard en roeping van die NG kerk, viewed 18 February, from http://www.ngkerk.org.za/AS2013/wp-content/uploads/2013/09/A.12.7-MISSIONALE-AARD-EN-ROEPING-VAN-DIE-NG-KERK.pdf, Algemene Sinode, 6-10 Oktober 2013, Port Elizabeth.         [ Links ]

NHKA, 2014, Handelinge van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering op 7-8/11/2013, NHKA Argiewe, Pretoria, pp. 4-5.         [ Links ]

NHKA, 2016a, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, NHKA Argiewe, Pretoria.         [ Links ]

NHKA, 2016b, Handelinge van die Algemene Kerkvergadering gedurende 2-7 Oktober 2016, NHKA Argiewe, Pretoria.         [ Links ]

Niemandt, C.J.P., 2007, Nuwe drome vir nuwe werklikhede, geloofsgemeenskappe in pas met 'n postmoderne wêreld, Lux Verbi, B.M, Wellington.         [ Links ]

Niemandt, C.J.P., 2017, 'Mission as breaking down walls, opening gates and empowering traders: From contextualisation to deep contextualisation', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), 4621. http://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4621        [ Links ]

Niemandt, D., 2015, 'n Evaluasie van teologiese opleiding in die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in die lig van missionale ekklesiologie, MA verhandeling, Departement Godsdiens- en Sendingwetenskap, Universiteit van Pretoria.         [ Links ]

Richter, P. & Francis, L., 1998, Gone but not Forgotten, DartonLongman & Todd, London.         [ Links ]

Steenkamp, P., 2015, Die volhoubaarheid van kerkwees in die toekoms. 'n Memorandum in opdrag van die Kernkomitee Finansies en Administrasie en die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Ongepubliseerde Kerkdokument, Pretoria.         [ Links ]

Ungerer, A.G., 2016, 'Hou Christus die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in stand?', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(3), a3205. https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3205        [ Links ]

Ungerer, A.G. & Nel, M., 2011, 'Die verband tussen gemeentebouprosesse en missionale gemeente-ontwikkeling', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(2), Art. #931, 11 pages. https://doi.org/10.4102/hts.v67i2.931        [ Links ]

Van der Merwe, J.C., 2009, 'Nuwe koers vir apostolaat', Die Hervormer Mei 2009, p.1.         [ Links ]

Van der Merwe, J.C., 2013, Skrywe aan die Kommissie gedateer 13/10/2013, opgeneem in die notule van die notule van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 7-8/11/2013, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, Pretoria.         [ Links ]

Viola, F. & Barna, G., 2008, Pagan Christianity? Exploring the roots of our Church practices, Tyndale House Publishers, Carol stream, IL.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Andre Ungerer
andre.ungerer@up.ac.za

Received: 01 June 2017
Accepted: 06 Sept. 2017
Published: 05 Dec. 2017

 

 

1. Prof. A.G. van Aarde is 'n eertydse hoogleraar in Nuwe-Testamentiese Wetenskap aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook die jarelange redakteur van die Hervormde Teologiese Studies (HTS).
2. Dr J.C. van der Merwe was die hoof van die HTK gedurende die tydperk 01 Januarie 2012 tot 31 Desember 2014.
3. Die naam 'Gesprek met die Bybel' het op 'n terloopse wyse iewers ontstaan en presiese dokumentasie in dié verband is nêrens te vind nie.
4. In daardie stadium was ek reeds enkele maande 'n ingeskrewe lid van die Fresh Expression kursus wat maandeliks vir 'n 10-maande tydperk in Gauteng aangebied is.
5. Daar is sekerlik nog oorsake vir 'n dalende tendens, veral by hoofstroomkerke wêreldwyd. Kyk byvoorbeeld die werk van enkele skrywers soos Butler (2012), Niemandt (2015), Steenkamp (2015), Ungerer (2016), Dreyer (2016a).
6. Die volgende skrywers, is myns insiens, voorstanders van hierdie beweging: Barna (2005), Cole (2005), Hirsch (2006), Hirsch en Cathim (2012) en Viola en Barna (2008).
7. Die resente werk van Dreyer (2016:161-210) bied 'n goeie oorsig oor missionale ekklesiologie.
8. Hierdie mense het steeds 'n bepaalde openheid jeens die kerk maar het as gevolg van verhuising, verandering in kerkleierskap, nuwe werksomstandighede of ander omstandighede, opgehou om eredienste by te woon (MSC 2004:38).
9. Mense in hierdie kategorie het voorheen 'n band met die kerk gehad maar faktore soos verveling, 'n gebrek aan relevansie, 'n gevoel van verwerping, persoonlike vetes, 'n verandering in leierskap of ongelukkigheid met bepaalde besluite kon tot vervreemding gelei het. Persoonlike omstandighede kon ook die verwydering aangehelp het. Mense in hierdie kategorie is van die mees weerstandige groepe in die samelewing. Hulle het kerkwees ervaar en 'n bewustelike keuse gemaak om nie langer met die kerk geassosieer te word nie (MSC 2004:38-39).
10. Hierdie verhaal is geneem uit korrespondensie tussen die outeur en ouderling Gert Oosthuizen.

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons