SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.73 issue1A scriptural, theological and historical analysis of the concept of the Zambian Christian nationhoodThe Laos tou Theou - an orthodox view of the 'people of God' author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


HTS Theological Studies

On-line version ISSN 2072-8050
Print version ISSN 0259-9422

Herv. teol. stud. vol.73 n.1 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.4102/hts.v73i1.4671 

ORIGINAL RESEARCH

 

Die lewe en werk van Gerhard Ebeling (06 Julie 1912 - 30 September 2001): ʼn Leksikografiese bydrae tot Reformasie 500

 

 

Gabriël M.J. (Gafie) van Wyk

Department of Church History and Polity, Faculty of Theology, University of Pretoria, South Africa

Correspondence

 

 


ABSTRACT

Focusing on Ebeling's own account of his 'theological path', autobiographical notes in his publications and a gold mine of information in the biography of Albrecht Beutel on Ebeling published in 2012 the article describes important events with theological significance in life of Gerhard Ebeling. Ebeling is often portrayed in theological literature as a representative of the so-called New Hermeneutic. For many people the name Ebeling is synonymous with hermeneutics, as if his only contribution to theology was the development of 'a new hermeneutical theory'. This is a misconception. The article introduces the reader to another and more important point of view to value the life and work of Ebeling - his interest in the Reformer Martin Luther, that not only had profound influence on Ebeling's own theological thinking, but also resulted in many ground breakingpublications on Luther. The article celebrates Ebeling as one of the most important Luther scholars of all times.


 

 

Inleiding

Die vraag sou met reg gevra kon word of die publikasie van nog 'n oorsigartikel in Suid-Afrika oor die lewe en werk van Gerhard Ebeling werklik nodig is so kort nadat twee soortgelyke publikasies van dr Tanya van Wyk (Van Wyk 2015; Van Wyk & Van Aarde 2016) die lig gesien het. Hoewel daar noodgedwonge beperkte oorvleueling is in die stof wat hanteer word, is die opset en doel van Van Wyk se twee artikels en hierdie een verskillend. Dr Tanya van Wyk is geïnteresseerd in die biografiese elemente wat kan help om 'n beeld te vorm van die mens Gerhard Ebeling en hoe aspekte van sy lewe bepalende invloede gehad het op sy teologie (Van Wyk 2015:1). Sy skryf: 'In this article, "snapshots" of his life story will be considered, which had defining influences on him and affected his direction with regard to his paradigm and theology' (Van Wyk & Van Aarde 2016:1). Omdat Ebeling se refleksie in Mein teologischer Weg (Ebeling 2006b) oor die pad wat hy as teoloog gestap het as uitgangspunt vir Van Wyk se artikels dien, fokus sy op die teologiese vorming en akademiese loopbaan van Ebeling wat in 1979 tot 'n einde gekom het met emeritaatsaanvaarding. Die artikel wat hier aangebied word se benadering is leksikografies. Die klem val dus op 'n ewewigtige oorsig oor die lewe en werk van Ebeling eerder as op insig in die vorming van sy denke. Die klemverskuiwing het saaklike gevolge. Anders as in Van Wyk se artikels kom Luther se teologie nie aan die orde as een van die vernaamste vormgewende invloede op die denke van Ebeling nie, maar die fokus verskuif na Ebeling se enorme bydrae tot die Luther-navorsing en gevolglik tot sy publikasies oor Luther, waarvan verskeie omvattende werke eers laat in sy lewe na emeritaatsaanvaarding afgehandel is. So verskuif die fokus ook na Ebeling as reformatoriese denker, en verder weg van Ebeling af as eksponent van die sogenaamde nuwe hermeneutiek. Die onderskeie bydraes oor Ebeling staan nie in teenspraak met mekaar nie, maar kan komplimenterend tot mekaar saam gelees word. Trouens dit gee 'n aanduiding van die ryke skakering van Ebeling se lewe en werk.

Vanjaar word die 500-jarige herdenking van die Reformasie van die 16de eeu gevier. Die simboliese gedenkdatum is 31 Oktober. Tydens die 400-jarige viering van die Reformasie op 31 Oktober 1917 het die Berlynse kerkhistorikus Karl Holl uit die skadu van sy leermeester en kollega Adolf von Harnack na vore getree met 'n voordrag1 wat die begin was van die sogenaamde Luther-Renaissance.2 'n Eeu van indringende Luther-navorsing het gevolg waarvan ons vandag die vrugte kan pluk.3 Ebeling se bydrae tot hierdie navorsing was beduidend.4 Volker Leppin (2010:24) skryf oor Ebeling in die tweede uitgawe van die toonaangewende Luther Handbuch: 'Zu ihnen gehörte auch der Mann, dem die moderne Lutherforschung wohl so viel verdankt wie sonst höchstens noch Holl selbst' (kyk ook Beutel 2006:331).

 

Lewe

Die titel van die afskeidsvoorlesing wat Ebeling in Tübingen gehou het, was: Ein Leben für die Theologie - eine Theologie für das Leben ['n Lewe vir die Teologie - 'n Teologie vir die Lewe] (Ebeling 1998:158-166). Dié titel vat Ebeling se lewe en werk treffend saam. Vanselfsprekend was sy lewe nie beperk tot die beoefening van teologie nie, maar teologie het elke faset van sy lewe deurdrenk (Ebeling 1983:3). Getrou aan sy teologiese oortuigings, het hy nie weggeskram van lewenservarings nie, en sy lewensreis getuig van 'n lewe gevul met uiteenlopende ervarings - ervarings wat invloed op sy teologie gehad het (Ebeling 1979:106-110; 1983:85; Van Wyk 2016:6-7). Sy teologie put dan ook uit twee bronne: die Woord van God, en die ervaring (Ebeling 1983:59-81). Hier word nie op Ebeling se lewe in die algemeen gefokus nie, maar op sy bydrae tot die reformatoriese teologie.

Gerhard Ebeling wou 'n predikant word (Ebeling 2006b:5). Hy het sy lang lewe van 89 jaar grootliks aan die evangelie gewy - wel nie as 'n gemeentelike predikant nie, maar as teoloog wat deur middel van nougesette histories-kritiese navorsing en hermeneutiek die waarheidsaanspraak van die evangelie uit die Bybelse bronne vir sy eie tyd ontsluit het (Jüngel 2001:1). Hy was een van die vernaamste leermeesters van sy tyd - nie net vir 'n groot aantal studente nie, maar ook vir die kerk as sodanig (Jüngel 2001:1). Ebeling het die kerk op so 'n wyse tot verantwoording geroep, dat dit vir sy kerklike kollegas nodig was om weer te gaan nadink oor sake en dit grondiger te doen as voorheen. Eberhard Jüngel (2001:1) beskryf die saak goed: Gerhard Ebeling was 'n evangeliese doctor ecclesiae (uitsonderlike leermeester van die kerk).5

As jong teologiestudent in Marburg (Beutel 2012:11-16; Ebeling 2006b:6; Werbick 2012:1) word Ebeling beïndruk deur die outoriteit van die Nuwe-Testamentikus Rudolf Bultmann wat hom teologies voorberei om die politieke krisisse en katastrofes, wat vir die Duitsers gewag het, later die hoof te kon bied (Beutel 2012:12-15; Ebeling 2006b:7; Jüngel 2001:1). Die Marburgse geleerde het Ebeling se oë oopgemaak vir die bygelowigheid van die deutsche Christen [Duitse Christene - die kerklike lidmate wat die ideologie van Adolf Hitler onderskryf en ondersteun het], en die leemtes in die weerstand wat die Bekennende Kirche [Belydende Kerk] daarteen gebied het (Ebeling 2006b:7). Marburg is nie net die plek waar Ebeling se liefde vir teologie beslag gekry het nie, dit is ook die plek waar hy aan sy eintlike leermeester, Martin Luther, se teologie blootgestel is (Beutel 2012; 11-12; Ebeling 2006b:7).

In 1932 lok Emil Brunner vir Ebeling met 'n studiebeurs na Zürich (Beutel 2012:17-25; Ebeling 2006b:8), maar weens die gespanne situasie in Duitsland keer hy gou weer terug na Berlyn (Beutel 2012:25-30; Ebeling 2006b:13). Hy lê egter nie die eksamen wat hom tot die evangeliebediening toelaat by die Kirchenleitung [gemagtigde kerklike outoriteit] af nie, maar wel by die Bruderrat der Bekenntnissynode [Broederlike Raad van die Sinode van die Belydende Kerk] (Beutel 2012:30-36). So word hy 'n Illegaler ('n onwettige [nie-amptelike] predikant - wat volgens die oordeel van die Duitse Christene dan ook 'n onwettige [onware] evangelie sou verkondig) (Ebeling 1995a:III-VI, 162-167, 2006b:28). Vanaf Oktober 1934 woon hy as Vikar [proponent] die Finkenwalder Predigerseminar van die Bekennenden Kirche [die Teologiese Seminarium van die Belydende Kerk] by, wat onder leiding van Dietrich Bonhoeffer bedryf is (Beutel 2012:46-54; Ebeling 2006b:15; 19; Werbick 2012:1). Bonhoeffer besef gou Ebeling se wetenskaplike begaafdheid en stel die tema vir sy Dissertation [proefskrif] voor as Evangelische Evangelienauslegung [Evangeliese Evangelieuitleg] (Ebeling 1991:546; 2006b:25). In 1938 promoveer Ebeling in Zürich met dié Dissertation wat oor die hermeneutiek van Luther gehandel het (Beutel 2012:54-62; Ebeling 1991:IX; 545; Werbick 2012:1). Met sy navorsing het Ebeling reeds op 'n jong leeftyd 'n geweldige impuls aan die internasionale Luther-navorsing gegee. Luther se teologie sou ook voortaan die aard en karakter van Ebeling se eie teologie bepaal (Beutel 2012:62).

Na die einde van die Tweede Wêreldoorlog sou Ebeling se loopbaan hom om die beurt na Tübingen en Zürich neem (Beutel 2012:131-435; Werbick 2012:2). Sy hele akademiese loopbaan was gekoppel aan sy werk aan die publikasie van verskeie bande van die Weimarer Ausgabe [die versameling van alle beskikbare tekste van Luther] - 'n projek wat met staatsbefondsing gedoen is (Ebeling 1983:208-221; Heckel 2003:18-20). Ebeling was vir 'n lang tyd die president van die kommissie wat verantwoordelik was vir die projek (Heckel 2003:18-19). Hy het die projek gelei deur self intensiewe historiese navorsing oor die tekste te doen en die redaksionele werk nougeset af te handel (Heckel 2003:19-20). Reeds vroeg in sy loopbaan het Ebeling as dosent in kerkgeskiedenis vir homself uitgemaak dat kerkgeskiedenis as teologiese dissipline die geskiedenis van die uitleg van die Skrif as sistematiese vertrekpunt moet neem (Beutel 2012:144-150; Ebeling 1947:3-28, 1954:5-93). Sy uitgangspunt met die historiese navorsing oor die tekste van Luther is dat dit die eietydse verantwoording van die waarheidsaanspraak van die Bybelse tekste moet dien (Ebeling 1983:III). Luther se sensitiwiteit vir 'n hele aantal lewensbepalende teensprake waarmee ons in die werklikheid gekonfronteer word, het die struktuur van Ebeling se eie denke bepaal. Teologiese denke moet altyd onderskeidende denke wees (Beutel 2006:327-329; 2010:450-454; Ebeling 1988:219-258; Werbick 2012:3). Dit moet kan onderskei tussen dít wat mense net dankbaar kan ontvang en dít wat hulle plig teenoor ander mense is. Hierdie eenvoudige waarheid het Ebeling lewenslank op 'n meesterlike wyse nie alleen vir sy studente geleer nie, maar ook vir die kerk waarin hy gedien het. Slegs denke wat reg kan onderskei tussen evangelie en wet, sal die Christendom kan oortuig van die gevare wat die evangelie bedreig, en wat die Reformatore alreeds gediagnoseer het, naamlik om nie vas te val in 'n antikwariese fundamentalisme aan die een kant, of om weg te dryf na 'n polities korrekte Protestantisme wat met alles en nog wat in die samelewing konformeer aan die ander kant nie. Dit is vanuit hierdie perspektief dat Ebeling krities gestaan het teenoor sowel Karl Barth as die navolgers van Dietrich Bonhoeffer (Jüngel 2001:1-2).

Ebeling se waardering vir Luther se lewendige, lewensgetroue taalgebruik hou verband met die hoë waardering wat hy self vir die woord gehad het (Ebeling 1966:5-91; 1983:4). Deur die woord word mense deur God aangespreek, en deur die woord word hulle vertrouende geloof in God verwoord. Soos Bultmann, verstaan Ebeling teologie ook as wetenskap van God se Woord (Ebeling 2012:172-174; Jüngel 2001:2). Dit is die taak van teoloë om die waarheidsaanspraak van die Woord te verifieer in die lig van die teensprake van die lewe teenoor die aansprake van die Woord (Ebeling 2012:174-175; Jüngel 2001:2). Met hierdie benadering bring Ebeling die dimensie van ervaring (wat dikwels oor die hoof gesien word) weer ter sprake in die teologie. Die ervaringsvrye teologie wat fundamentalistiese teoloë probeer beoefen, is werklikheidsvreemd. Vanuit die perspektief van lewensgetrouheid bemoei Ebeling homself opnuut met die vraagstuk na die historiese Jesus en die oordragtelike betekenis van die gewete vir menswees. Ebeling se hermeneutiese benadering tot teologiebeoefening werk 'n lang vriendskap met die Nuwe-Testamentikus Erns Fuchs in die hand, wat sterk skeppende impulse aan Ebeling se werk sou gee. Ebeling en Fuchs het vir ongeveer twee dekades die Duitstalige teologiese toneel oorheers en selfs ook invloed uitgeoefen op die Angel-Saksiese teologie (Beutel 2012:162-166; Jüngel 2001:2). Na die Tweede Wêreldoorlog het Ebeling veral in die Zeitschrift für Theologie und Kirche [Tydskrif vir Teologie en Kerk] gepubliseer. Die tydskrif het 'n forum gebied vir die kritiese bespreking van sy teologie. Die lesers van die tydskrif het egter ook gou sy teologiese vernuf leer ken (Siebeck 2003:15).

Met die publikasie van sy proefskrif in 1942, het Ebeling Luther se teologie die uitgangspunt van sy eie teologiese denke gemaak (Ebeling 1991), en met sy laaste gepubliseerde boek in 1997, wat oor die pastoraat van Luther handel (Ebeling 1997), sluit hy sy loopbaan as skrywer af deur Luther weer eens op die voorgrond te plaas. Sy skrywersloopbaan wat oor meer as 50 jaar gestrek het, was 'n ontdekkingsreis oor uiteenlopende navorsingsterreine. Van Schleiermacher tot Franciskus van Assisi, van Lavater tot Ludwig Feuerbach het in sy visier gekom (Jüngel 2001:2). Ebeling het nie alleen die selektiewe werklikheidsblindheid van die kritiese rasionalisme aan die kaak gestel nie, maar homself daarvoor beywer om die volheid van die lewe tereg te laat kom in sy eie denke. Hy het veral aangetoon hoedat God se Woord bevrydend ingryp in ons ambivalente lewenswerklikheid (Jüngel 2001:2). Sy liefde vir God en die lewe lei uiteindelik tot die publikasie van Dogmatik des christlichen Glaubens [Dogmatiek van die Christelike Geloof] in drie bande, waarin sy teologie sistematies saamgevat word (Ebeling 1979). Die doel van die werk is om konsensus te bevorder oor teologiese kwessies. Om konsensus te bevorder, is iets heeltemal anders as om na kompromieë te soek met diegene wat van jou verskil. Die doel van konsensus is om saam te kan stem oor die waarheid, en nie om deur 'n proses van gee en neem relatiewe tevredenheid te bewerk oor die uitkoms van 'n proses by al die deelnemers daaraan nie (Jüngel 1982:18; 2001:2). Ebeling het nie tyd gehad vir die kerkpolitieke getjommel van die ekumeniese organisasies waar die akkommodasie van onversoenbare standpunte aan die orde van die dag is nie. Egte ekumeniese konsensus is, volgens hom, net moontlik wanneer mense bereid is om die werklike konfessionele verskille sonder voorbehoud uit te klaar (Jüngel 2001:2). Uit die aard van die saak moes hy, deur middel van sy eie teologie, in hierdie verband 'n voorbeeld stel. Hy wou met sy teologie aantoon dat die fundamentele insigte van die Reformatore blywende relevansie en betekenis het, omdat dit binne ons huidige konteks 'n raamwerk kan bied vir egte teologiese dialoog. Teologie het alleen bestaansreg indien dit ware lewe kan ontsluit, en mense uit onwaarheid kan bevry (Jüngel 2001:2). Solank as wat die Christendom versplinter bly in kerke wat mekaar weerspreek, is onderwysing nodig wat gelowiges tot die waarheid kan bevry. Ons kán wel leer om te lewe, maar ons kan dit alleen leer indien ons ook leer hoe om aan die evangelie in ons lewens ruimte te bied (Jüngel 2001:2).

 

Belangrike momente in Ebeling se lewe6

  • 1912 Gebore op 06 Julie in Berlyn en gedoop op 22 September.
  • 1927 Aflegging van geloofbelydenis op 11 September.
  • 1930 Voltooi skoolloopbaan. Studeer in Marburg.
  • 1933 Studeer in Berlyn.
  • 1934 Lidmaat van die Belydende Kerk (Berlin-Steglitz).
  • 1935 Aflegging van die eerste teologiese eksamen op 10 April. Toelating as proponent.
  • 1936 Studie aan die Finkenwalder Predigerseminar van die Bekennenden Kirche.
  • 1938 Aflegging van die tweede teologiese eksamen. Ordening as predikant op 18 November.
  • 1939 Predikant in Berlyn. Tree in die huwelik met Kometa Richner op 23 Mei.
  • 1940 Geboorte en dood van hulle seun Martin. Diensplig in die Duitse weermag tot 1945.
  • 1942 Afhandeling van sy proefskrif oor Luther se hermeneutiek.
  • 1944 Geboorte van sy dogter Charitas in Zürich.
  • 1945 Internering en ontslag uit die weermag gedurende Mei. Assistent in Tübingen vanaf 20 Augustus.
  • 1946 Toelating as dosent aan die Duitse universiteite (Habilitation).
  • 1947 Professor in kerkgeskiedenis, Tübingen.
  • 1950 Redakteur van die Zeitschrift für Theologie und Kirche.
  • 1951 Dekaan van die teologiese fakulteit.
  • 1952 Eredoktorsgraad aan hom toegeken deur die Universiteit in Bonn.
  • 1954 Wisseling vanaf kerkgeskiedenis na sistematiese teologie.
  • 1955 Neem 'n beroep aan na Zürich as dosent.
  • 1963 Ontvang sy lisensie om motor te kan bestuur. Tree as gasdosent op in New York.
  • 1965 Neem 'n beroep aan na Tübingen.
  • 1968 Keer terug na Zürich.
  • 1969 President van kommissie van die Weimarer Ausgabe (die versamelde werke van Martin Luther).
  • 1970 Eredoktorsgraad deur die Universiteit van Uppsala, Swede.
  • 1971 Eredoktorsgraad deur die St Louis Universiteit, Michigan.
  • 1974 Lid van die kommissie vir die publikasie van Schleiermacher se werk.
  • 1979 Aanvaar emeritaat.
  • 1980 Gasdosent in Tübingen en Bethel.
  • 1981 Eredoktorsgraad deur die Universiteit van Edinburgh, Skotland.
  • 1983 Gaslesings in Noorweë, Portugal en Hongkong.
  • 1985 Voorsitter van die kuratorium van die Luther-Akademie, Ratzeburg.
  • 1987 Sigmund Freud-prys vir wetenskaplike prosa.
  • 1993 Eredoktorsgraad toegeken deur die Universiteit van Neuchâtel, Switserland.
  • 1997 Eredoktorsgraad toegeken deur die Universiteit van Tübingen.
  • 2000 Opname in 'n diakonale verplegingsinrigting.
  • 2001 Ebeling sterf op 30 September en word begrawe op 08 Oktober.

 

Ebeling se bydrae tot die reformatoriese teologie

Oorsig

Ebeling se verhouding met die uitgewery Mohr Siebeck wat hy gereeld persoonlik besoek het, was só goed dat hy na die uitgewery verwys het as sy uitgewery, en dat dit feitlik al sy werk uitgegee het. Die verhouding is van belang omdat die samewerking tussen die twee partye goeie vrug vir die Duitse teologie in die algemeen opgelewer het. Ebeling kies die uitgewery met die publikasie van sy professorale intreerede Kirchengeschichte als Geschichte der Auslegung deur Heiligen Schrift [Kerkgeskiedenis as Geskiedenis van die Uitleg van die Heilige Skrif] by die Universiteit van Tübingen wat in 1947 verskyn het. Hy was nie net vir 'n tyd die redakteur van die belangrikste teologiese tydskrif Zeitschrift für Theologie und Kirche wat deur die uitgewery uitgegee is nie, maar het ook opgetree as redakteur van twee invloedryke publikasiereekse: Beiträge zur Historischen Theologie [Bydraes tot historiese teologie] en Hermeneutischen Untersuchungen [Hermeneutiese ondersoeke] wat deur Mohr Siebeck gepubliseer is (Siebeck 2003:14-17).

Ebeling se skrywersloopbaan is uniek, omdat hy 'n baie breë spektrum van onderwerpe behandel in sy publikasies. Hy het deur middel van kritiese historiese navorsing diep gedelf in die teologiese tradisie om die fynste detail te ontgin wat vir ander mense dalk al vergete geraak het. Terselfdertyd was sy eietydse verwysingsraamwerk ruim. Ebeling (2012:174-175) verstaan teologie nie as 'n konglomeraat van gefragmenteerde vakwetenskappe nie, maar as 'n ondeelbare geheel. Ter wille van die organisasie van die universiteitswese en die spesialisasie van navorsing, kan teologiese vakwetenskappe ensiklopedies onderskei word, maar teologie bly een geheel met die doel dat die onderskeie vakwetenskappe mekaar oor en weer kontroleer en korrigeer. Die kriterium waaraan alle teologie getoets word, is die prediking van die evangelie (Ebeling 1963:6).

Ebeling se belangrikste bydraes tot die reformatoriese teologie is sy navorsing oor Luther se teologie. Evangelische Evangelienauslegung. Eine Untersuchung zu Luthers Hermeneutik [Evangeliese uitleg van die evangelie. 'n Ondersoek na Luther se hermeneutiek] lei Ebeling se Luther-navorsing in (Ebeling 1991). Dit word later opgevolg met 'n bondige werk Luther, Einführung in sein Denken (Luther, 'n Inleiding tot sy denke) (Ebeling 2006a). Die werk is geskryf in 'n tyd waarin nuwe belangstelling in Luther se teologie ontwikkel het. Die publikasie van die boek was egter nie bloot deel van 'n getygolf wat oor die Duitstalige teologie gespoel het nie. Ebeling gee reeds met dié werk die toon aan deur 'n hele nuwe benadering in te lei tot die uitleg van Luther se teologie. Twee bande (1 en 3) van sy Lutherstudien (Lutherstudies) (Ebeling 1971b; 1985) en die bundel Umgang mit Luther (Omgang met Luther) (Ebeling 1983) bestaan uit saamgebundelde artikels wat Ebeling oor Luther se teologie geskryf het. Die tweede band van sy Lutherstudien bestaan uit drie omvangryke boeke waarin Ebeling 'n kort teks van Luther, Disputatio de Homine [Kritiese gesprek oor die mens], uitvoerig bespreek (Ebeling 1977; 1982; 1989). Hierdie boeke is gevul met detailinligting oor die filosofiese en teologiese tradisies wat die agtergrond vorm van Luther se teologie. Ebeling se heel laaste gepubliseerde boek is Luthers Seelsorge. Theologie in der Vielfalt der Lebenssituationen an seinen Briefen dargestellt [Luther se pastoraat. Teologie binne die verskeidenheid van lewensituasies uit sy briewe opgestel] (Ebeling 1997).

Ebeling se skryfwerk oor Luther se teologie het hand aan hand gegaan met sy werk aan die Weimarer Luther-Ausgabe (die versamelde werke van Luther; Luther 1883-2009). Hy het in 1955 lid geword van die kommissie wat vir die redaksionele versorging van die tekste verantwoordelik was. In 1969 neem hy die presidentskap van die kommissie oor by Hanns Rückert, en dien in dié hoedanigheid tot op 25 Februarie 1989, toe die projek na die Heidelbergse Akademie van die Wetenskappe verskuif word, en die fokus van die projek ook verskuif na die opstelling van die registerbande van die reeks. Ebeling dien ook tot sy dood in die nuwe kommissie wat in die lewe geroep is om die projek te voltooi. Vir 47 jaar het Ebeling baie van sy tyd aan werk vir die projek gewy (Heckel 2003:18-20).

Die oortuigingskrag van Ebeling se Lutherinterpretasie blyk nie alleen uit die groot getal aaneensluitende publikasies van Ebeling oor Luther nie, maar ook uit die groot getal begaafde studente wat hy getrek het. Leppin (2010:24) oordeel dat enige ernstige historiese of teologiese interpretasie van Luther die werk van Ebeling nie kan systap nie. Ebeling se Lutherinterpretasie het 'n vername bydrae gelewer om die Wirkungsgeschichte van Luther te bevry van die vervreemding van nasionalistiese, konfessionele, verligte en politieke beelde van Luther, sodat hy as 'n belangrike, maar komplekse oorgangsfiguur tussen die Middeleeue en die Moderne waardeer kan word (Zur Mühlen 2010:485).

As sistematiese teoloog het Ebeling ook 'n enorme bydrae tot die Reformatoriese teologie gelewer. Sy Dogmatik des christlichen Glaubens [Dogmatiek van die Christelike geloof] wat drie bande beslaan (Ebeling 1979), en die groot aantal artikels wat in vier bande onder die titel Wort und Glaube (Woord en Geloof) uitgegee is (Ebeling 1967; 1969; 1975, 1995b), getuig hiervan.

'n Klompie korter werke het ook uit Ebeling se pen verskyn: 'n boek waarin hy in gesprek tree met sy leermeester Bultmann (Ebeling 1962), 'n boek wat handel oor die wese van die Christelike geloof (Ebeling 1959), een oor die Ons Vader-gebed (Ebeling 1963), een oor die Psalms (Ebeling 1968), een oor die tien gebooie (Ebeling 1973), en na sy aftrede een wat die Brief aan die Galasiërs sistematies behandel (Ebeling 1981). Verder het hy geskryf oor die hermeneutiek van die onderskeie kerklike konfessies (Ebeling 1964), die uniekheid van teologiese taal (Ebeling 1966, 1971a), en die ensiklopedie van teologiese studie (Ebeling 2012). 'n Paar van sy preke in die Belydende Kerk is in 'n bundel gepubliseer (Ebeling 1995a), en dan is daar natuurlik ook sy twee vroeë werke oor die kerkgeskiedenis wat meesterlik aandui hoe dié vakgebied as 'n teologiese dissipline bedryf kan word (Ebeling 1947; 1954).

Ebeling se belangrikste publikasies in kronologiese volgorde7

Die werke van Ebeling wat onder die 'Literatuurverwysings' gelys word, bied 'n kronologiese oorsig oor sy belangrikste publikasies - volgens die datum van eerste publikasie. Die drie onderstaande werke is egter uitsonderings en die datum van eerste publikasie word hier aangedui:

  • 1942 Evangelische Evangelienauslegung. Eine Untersuchung zu Luthers Hermeneutik (proefskrif gepubliseer deur Albert Lempp, München) (Ebeling 1991).
  • 1960 Wort und Glaube. Band1 (Ebeling 1967).
  • 1964 Luther. Einführung in sein Denken (Ebeling 2006a).

Ebeling se nalatenskap

Ebeling se nalatenskap behels meer as net sy gepubliseerde werk. Waar ons oor sy nalatenskap berig, moet ons dink aan sy bydraes by die volgende instellings:

  • Evangelisch-theologische Fakultät Tübingen (Bühler 2003:4-6).

  • Evangelisch-theologische Fakultät Zürich (Herms 2003:7-10).

  • Institut für Hermeneutik Zürich und Tübingen (Dalferth 2003:11-13).

  • Verlag Mohr Siebeck, Tübingen (Siebeck 2003:14-17).

  • Weimarer Luther-Ausgabe (Heckel 2003:18-20).

  • Luther-Akademie Ratzeburg (Bayer 2003:21-22).

  • Löwensteiner Kreis (Lange 2003:23-25).

Situasies waarin ons met vrug van Ebeling se teologie oor die breë spektrum kan leer, sluit die volgende in:

  • Waar kerk en teologie van mekaar vervreem.

  • Waar teologie versplinter tot 'n konglomeraat van losstaande en eiesoortige vakwetenskappe.

  • Waar goeie onderskeidingsvermoë oor sake van teologiese belang ontbreek.

  • Waar die saaklike relevansie van die kerklike tradisie verdag geword het.

 

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

 

Literatuurverwysings

Bayer, O., 2003, 'Würdigung im Namen der Luther-Akademie Ratzeburg', in P. Bühler (Hg.), Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S. 21-22, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Beutel, A., 2006, 'Nachwort', in G. Ebeling (Hg.), Luther: Einführung in sein Denken, 5. Aufl., S. S., 311-333, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Beutel, A., 2010, 'Theologie als Unterscheidungslehre', in A. Beutel (Hg.), Luther Handbuch, 2. Aufl., S. 450-454, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Beutel, A., 2012, Gerhard Ebeling: Eine Biographie, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Bühler, P., 2003, 'Begrüssung im Namen der Theologischen Fakultät', in P. Bühler (Hg.), Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S. 4-6, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Chapman, J., 1909, 'Doctors of the Church', in The Catholic Encyclopedia, Robert Appleton Company, New York, viewed 20 April 2017, from New Advent, http://www.newadvent.org/cathen/05075a.htm        [ Links ]

Dalferth, I.U., 2003, 'Würdigung im Namen der Institut für Hermeneutik Zürich und Tübingen', in P. Bühler (Hg.), Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S. 11-13, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Ebeling, G., 1947, Kirchengeschichte als Geschichte der Auslegung der Heiligen Schrift, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1954, Die Geschichtlichkeit der Kirche und ihrer Verkündigung als theologisches Problem, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1959, Das Wesen des christlichen Glaubens, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1962, Theologie und Verkündigung: Ein Gespräch mit Rudolf Bultmann, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1963, Vom Gebet, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1964, Wort Gottes und Tradition. Studien zu einer Hermeneutik der Konfessionen, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1966, Gott und Wort, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1967, Wort und Glaube, 1. Bd., 3. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1968, Psalmenmeditationen, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1969, Wort und Glaube, 2. Bd., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1971a, Einführung in theologische Sprachlehre, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1971b, Lutherstudien, 1. Bd., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1973, Die Zehn Gebote in Predigten ausgelegt, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1975, Wort und Glaube, Beiträge zur Fundamentaltheologie, Soteriologie und Ekklesiologie, 3. Bd., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1977, Lutherstudien, 2. Bd., Disputatio de Homine, 1. Teil, Text und Traditionshintergrund, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1979, Dogmatik des christlichen Glaubens, 3. Bde., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1981, Die Wahrheit des Evangeliums: Eine Lesehilfe zum Galaterbrief, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1982, Lutherstudien, 2. Bd., Disputatio de Homine, 2. Teil, Die philosophische Definition des Menschen. Kommentar zu These 1-19, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1983, Umgang mit Luther, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1985, Lutherstudien, 3. Bd., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1988, 'Das rechte Unterscheiden: Luthers Anleitung zu theologischer Urteilskraft', Zeitschrift für Theologie und Kirche 85(2), 219-258.         [ Links ]

Ebeling, G., 1989, Lutherstudien, 2. Bd.,Disputatio de Homine, 3. Teil, Die theologische Definition des Menschen. Kommentar zu These 20-40, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1991, Evangelische Evangelienauslegung: Eine Untersuchung zu Luthers Hermeneutik, 3. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1995a, Predigten eines »Illigalen« aus den Jahren 1939-1945, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1995b, Wort und Glaube, Theologie in den Gegensätzen des Lebens, 4. Bd., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1997, Luthers Seelsorge: Theologie in der Vielfalt der Lebenssituationen an seinen Briefen dargestellt, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 1998, 'Ein Leben für die Theologie - eine Theologie für das leben', Zeitschrift für Theologie und Kirche 95, 158-166.         [ Links ]

Ebeling, G., 2006a, Luther: Einführung in sein Denken. Miteinem Nachwort von Albrecht Beutel, 5. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Ebeling, G., 2006b, Mein theologischer Weg, viewed 17 Julie 2015, from http://www.hermes.uzh.ch/publikationen/Hermeneutische-Blaetter/HB2006_Ebeling.pdf        [ Links ]

Ebeling, G., 2012, Studium der Theologie: Eine enzyklopädische Orientierung, 2. Aufl., J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Heckel, M., 2003, 'Würdigung im Namen der Kommission zur Herausgabe der Weimarer Luther-Ausgabe', in P. Bühler (Hg.), Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S., 18-20, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Herms, E., 2003, 'Würdigung im Namen der Evangelisch-theologischen Fakultät Tübingen', in P. Bühler (Hg.) Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S., 7-10, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Holl, K., 1948, 'Was verstand Luther unter Religion?' in K. Holl (Hg.), Gesammelte Aufsätze zur Kirchengeschichte, 1. Bd. Luther, S. 1-110, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen, viewed 19 April 2017, from http://digitale-bibliothek-mv.de/viewer/image/PPN767838831/15/        [ Links ]

Jüngel, E., 1982, 'Karl Barth', in E. Jüngel (Hrsg.) Barth-Studien, S., 15-21, Benziger Verlag, Zürich-Köln.         [ Links ]

Jüngel, E., 2001, Doctor ecclesiae: ZumTode des Theologen Gerhard Ebeling, viewed 17 Julie 2015, from http://www.kirchen.ch/pressespiegel/nzz/2001100265.pdf        [ Links ]

Lange, D., 2003, 'Würdigung im Namen des Löwensteiner Kreises', in P. Bühler (Hg.) Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S., 23-25, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Leppin, V., 2010, 'Lutherforschung am Beginn des 21. Jahrhunderts', in A. Beutel (Hg.), Luther Handbuch, 2. Aufl., S., 19-34, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

Luther, M., [1529] 1985, Der Große und der Kleine Katechismus, 2. Aufl., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.         [ Links ]

Luther, M., 1883-2009, D. Martin Luthers Werke, Weimar, viewed 20 April 2017, from http://www.lutherdansk.dk/WA/D.%20Martin%20Luthers%20Werke,%20Weimarer%20Ausgabe%20-%20WA.htm        [ Links ]

Siebeck, G., 2003, 'Würdigung im Namen des Verlages Mohr Siebeck', in P. Bühler (Hg.) Hermeneutische Blätter, Sonderheft Juli 2003: Gerhard Ebeling, S., 14-17, Institut für Hermeneutik & Religionsphilosophie, Theologische Fakultät Universität Zürich, Zürich.         [ Links ]

Van Wyk, G., 2016, 'Gerhard Ebeling oor geloof', HTS Teologiese Studies/ Theological Studies 72(3), a3279. https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3279        [ Links ]

Van Wyk, T., 2015, 'ʼn Evangeliese "doktor van die kerk": Enkele biografiese opmerkings by die lewe en teologie van Gerhard Ebeling', in N. Van Wyk (Red.), Tydskrif vir Hervormde Teologie, vol. 3(3), viewed 18 April 2017, from http://www.nhka.org/publikasies/THT        [ Links ]

Van Wyk, T. & Van Aarde, A., 2016, '"Doctor of the Church": Gerhard Ebeling', HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(1), a3353. https://doi.org/10.4102/hts.v72i1.3353        [ Links ]

Werbick, J., 2012, Wie Gottes Wort zu sprechen anfängt: Vor 100 Jahren wurde der bedeutende Theologe Gerhard Ebeling geboren, viewed 9 Julie 2015, from http://www.muenster.de/~angergun/werbick-ebeling100.pdf        [ Links ]

Zur Mühlen, K.-H., 2010, 'Wirkung und Rezeption, IV. Im 20. Jahrhundert', in A. Beutel (Hg.), Luther Handbuch, 2. Aufl., S., 482-489, J.C.B. Mohr (Paul Siebeck), Tübingen.         [ Links ]

 

 

Correspondence:
Gafie van Wyk
gafievw@mweb.co.za

Received: 07 Apr. 2017
Accepted: 05 July 2017
Published: 18 Aug. 2017

 

 

1. Die voordrag is opgeneem in Holl (1948).
2. Kyk Beutel 2006:313 en Leppin 2010:20-22 vir meer besonderhede in verband met die Luther-Renaissance.
3. Dit is van belang dat die Luther-Renaissance in dieselfde tyd as die dialektiese teologie op die been gekom het. Die eerste uitgawe van Karl Barth se Der Römerbrief het in 1919 verskyn en die tweede uitgawe in 1922. Leppin (2010:23) skryf dat Barth bekanntlich alles andere als ein Luther-freund war. Barth se polemiese uitleg van Luther se teologie het sy verhouding met Ebeling laat verbrokkel, soveel so dat Barth neerhalend en veragtend na Ebeling se groot getal studente en die komiese Instituut vir Hermeneutiek in Zürich verwys het. Hy het Ebeling se hermeneutiese teologie afgemaak as 'n gepraat oor 'n gepratery (Beutel 2012:504). Ebeling het op sy beurt 'n groot deel van Barth se teologie as journalistiek afgemaak en hom as deur en deur as 'n politieke denker bestempel (Beutel 2012:505).
4. Ebeling vra na die Gegenwartsbedeutung Luthers (Ebeling 1983:III). Dit gaan vir hom daaroor om Luther unter dem Anspruch heutiger Verantwortung zu lessen (Ebeling 1983:III). Dit gaan nie net vir hom oor die geschichtlichen Wirkungen Luthers nie, want sy aanslag getuig van eksistensiële betrokkenheid: was man sich von einer Begegnung mit Luther selbst duch das lesen seiner Schriften versprechen darf. Lesen kann man nur mit seiner eigenen Augen, mit der Bemühung um Verstehen, mit der Bereitschaft zu lernen (Ebeling 1983:1).
5. The Catholic Encyclopedia beskryf die titel Doctores Ecclesiae soos volg: Certain ecclesiastical writers have received this title on account of the great advantage the whole Church has derived from their doctrine. In the Western church four eminent Fathers of the Church attained this honour in the early Middle Ages: St. Gregory the Great, St. Ambrose, St. Augustine, and St. Jerome
There are [therefore] now thirty-three Doctors of the Church, of whom eight are Eastern and twenty-four Western. They include three Carmelites, two Jesuits, three Dominicans, three Franciscans, a Redemptorist, and five Benedictines (Chapman 1909:1, met die opdatering van die inligting deur die webmeester van The Catholic Encyclopedia). Met die verering Gerhard Ebeling war ein evangelischer doctor ecclesiae wil Jüngel (2001:1) Ebeling onderskei as een van die heel belangrikste teoloë wat die kerk opgelewer het.
6. Kyk Beutel 2012:539-542 vir 'n omvattende tydtafel van Ebeling se lewe.
7. Kyk Beutel 2012:545-570 vir 'n omvattende bibliografie van argiefstukke, gesprekke en onderhoude, skriftelike en telefoniese opnames, en publikasies in 'n kronologiese volgorde.

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License